SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3Poverty and human dignity: The magisterium of the Catholic Church on the interaction between the twoAnalysing the contributory role of the accounting profession to save our planet índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria Set. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a6 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

Prof Ernst F Kotzé: Sy rol as taalkundige in Die Bybel: 2020-vertaling

 

Prof Ernst F Kotzé: His role as linguist in the Afrikaans Bible translation of 2020

 

 

HJ Bernard Combrink

Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: hjbc@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Prof. Kotzé, voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2003-2012), was vanaf die beginfase van die projek betrokke by die identifikasie van taalkundiges en oorhoofse beplanning. Hy was voorsitter van die Taalkundige Advieskomitee, lid van die Begeleidingskomitee, die Redaksionele Komitees van die Ou Testament en die Nuwe Testament, asook taalkundige in verskeie boekspanne. Vanuit sy breë taalkundige en semantiese agtergrond het hy deurlopend 'n reusebydrae tot die vertaling gelewer. Hy was en bly steeds bereid om noukeurig enige navraag te beantwoord. Met sy talle bydraes op die radio, webblad van die projek en elders, het hy die taalkundige uitdagings verbonde aan die projek helder en verstaanbaar breër bekendgestel.

Trefwoorde: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Bybelvertaling, Begeleidings-komitee, Redaksionele Komitees, Taalkundige Komitee, huisstylgids, taalkundige, Fauna en Flora, sintaks, aanspreekvorms, Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Afrikaanse Woordelys en Spelreëls


ABSTRACT

It is a great privilege to highlight the important contribution of this internationally renowned and versatile linguist to the 2020-translation of the Bible in Afrikaans.
Initial phase
Since the beginning of the translation project prof. Kotzé, chair of the Language Commission of the South African Academy for Science and Arts (2003-2012), was involved in the planning of the manual for all collaborators, as well as the identification of language specialists to serve in various book teams as well as the linguistic advisory committee.
Linguistic advisory committee
The Bible Society invited Kotzé to chair a panel of linguistic advisers that eventually became a broader linguistic advisory panel and a smaller linguistic advisory committee respectively. In his capacity as chair, he played an essential role in the identification and placement of language specialists in the respective book translation teams, as well as the linguistic evaluation of the trial translations by language practitioners endeavouring to be part of the project. The linguistic advisory committee attended to various problematic issues such as punctuation, linguistic and textual features, etcetera. Kotzé then provided extensive guidelines to collaborators and proof-readers concerning various tricky issues. Since the beginning of the project, he was also a member ofvarious book teams, as well as at a later stage of the editorial committees of the Old and the New Testament. Whenever expedient, he consulted with members of the Language Commission of the South African Academy for Science and Arts.
Executive committee
At the executive committee (policy committee) his opinion carried great weight. He submitted proposals concerning Fauna and Flora emanating from deliberations in this committee to the Language Commission of the South African Academy for Science and Arts to be considered for inclusion in their planned CD Rom, and saw to it that the project remained in sync with the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (Afrikaans Glossary and Spelling rules). With respect to the vexing issue of second person pronouns as form of address in Afrikaans, he also provided clear guidelines with regard to the dynamic of power and the dynamic of solidarity, respectively.
Editorial committees
In the editorial committees of the Old Testament and the New Testament, he was responsible for the final linguistic editing. He could, furthermore, substantiate the suitability of a specific word with reference to the statistical frequency of its usage in the Afrikaans linguistic corpus. Given his broad linguistic and semantic background, he could often pose probing questions to the exegetes and source language specialists concerning a specific translation proposal that often led to an adaptation of the translation. In this respect, his self-acquired knowledge of the source languages (as a non-theologian) often took the source language specialists by surprise. When the discussion sometimes became a bit heated, his sense of humour and witty remarks would invariably defuse the situation.
Approachability
The executive committee and the project leader had great appreciation for the fact that Ernst Kotzé was always willing to answer any enquiry by colleagues or proof-readers speedily and in detail. Even at a late stage in the project, he was still willing to edit the Introduction, Glossary and Accountability for consistency. Even after the publication of the translation, he still remains selflessly willing to answer enquiries to the Bible Society arising from feedback by readers.
Public contributions
Prof. Kotzé often delivered addresses about Bible translation, speaking specifically about the linguistic aspects of the 2020 translation on Radio Sonder Grense (Radio Without Borders) and Radio Cape Pulpit. On the project's website (www.bybeldirektevertaling.co.za) he answered specific questions received from readers. He explained different ways of spelling as well as the issue of loan-words resembling the source languages.

Keywords: Bible Society of South Africa, Bible translation, steering committee, editorial committees, Linguistic Committee, style guide, linguist, Fauna and Flora, syntax, address forms, Language Commission of the South African Academy for Science and Arts, Afrikaanse Woordelys en Spelreëls


 

 

Dit is 'n besondere voorreg om in hierdie bundel ook enkele sake te kan uitlig ter huldiging van prof. Ernst Kotzé, 'n fenomenale en veelsydige linguis van wêreldgehalte, wat die projek van die Afrikaanse Bybelvertaling vereer het deur sy entoesiastiese medewerking asook sy kundige en uitmuntende insette van die begin tot die einde.

 

Beginfase

Sedert die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, op versoek van die kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, in 2005 besluit het dat daar weer 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans onderneem moet word, het prof. Ernst Kotzé 'n uiters belangrike rol gespeel as Afrikaanse taalkundige in die projek wat uitgeloop het op die publikasie van Die Bybel 2020-vertaling.

In Augustus 2005 neem die Loodskomitee vir die beplande vertaling daarvan kennis dat prof. Kotzé as taalkundige genomineer is, en betrokke is by die samestelling van 'n Werkboek.

Hy sou ook die Bybelgenootskap van Suid-Afrika adviseer oor medewerkers. Saam met ander benoemdes woon hy die eerste opleidingseminare by die Universiteit van Stellenbosch in 2006 en 2007 by.

Prof. Kotzé het gedurende 2003-2012 ook nog as voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns opgetree. Dit moet benadruk word dat, reeds vanaf die 1933/1953-Bybelvertaling, daar altyd die nouste samewerking tussen die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns was.

 

Taalkundige Advieskomitee

Aan die begin van 2006 versoek die Bybelgenootskap van Suid-Afrika prof. Kotzé om leiding te neem by die paneel van Taalkundige Adviseurs, wat mettertyd ontwikkel het in 'n breër Taalkundige Adviespaneel en die kleiner Taalkundige Advieskomitee onderskeidelik. Hy dien ook as voorsitter van beide komitees. Die eerste vergadering van die Taalkundige Advieskomitee het plaasgevind op 19 Junie 2006. Ernst Kotzé het in hierdie hoedanigheid 'n wesenlike rol gespeel deur die identifisering van Afrikaanse taalkundiges wat as medewerkers genader kon word om in al die boekspanne in die verskillende fases van die projek te dien. Intussen is hy ook benoem op die Begeleidingskomitee wat as die beleidskomitee van die projek sou dien. Van die eerste take van die Taalkundige Advieskomitee was die opstel van die Huisstylgids wat in die Werkboek opgeneem moes word en wat as handleiding vir alle medewerkers moes dien. Verder was hy verantwoordelik vir die formulering van 'n konsepbrief aan die taalkundiges oor hulle rol en taak in die boekspanne en die proses as geheel. Hy het ook leiding geneem in die taalkundige evaluering van die eerste hoofstukke wat as proeflopies deur die intravertalers gelewer is.

In vergaderings van die Taalkundige Advieskomitee daarna was die volgende sake op die agenda:

die rol van taalkundiges teenoor die rol van letterkundiges,

taal- en tekskenmerke,

aksenttekens,

"se" (as besitsaanduiding) teenoor die "van"-konstruksie,

die uitskryf van getalle,

afkortings,

solidus in voetnote,

inklusiewe taalgebruik,

prosodie-aanwysings,

die historiese presens,

voornaamwoordelike geslagsaanduiding by geselekteerde items (byvoorbeeld stede),

die bepaalde lidwoord by eienskappe soos waarheid, geloof, die seisoene, die gebruik van "pa" en "vader",

los en vas skryf van werkwoordverbindings,

Godsname in die Ou Testament.

Oor die meeste van hierdie sake het Ernst Kotzé spesifieke riglyne neergelê wat hy op verskillende maniere aan medewerkers en later ook vraestellers bekendgestel het. Ook oor leestekens verskaf hy leiding, soos dat die hoofoorweging by die plasing van leestekens in 'n teks optimale leesbaarheid is. Later in die proses verskaf hy breedvoerige riglyne aan proeflesers oor direkte en indirekte rede, oor kommas, dubbelpunte en die inbedding van aanhalings in 'n ontkenning. Van die begin af was hy self ook aktief betrokke as die taalkundige lid van verskeie boekspanne van die Ou Testament, die Nuwe Testament en die Deuterokanonieke boeke in fase 1 en 2 van die projek, en lewer hy daar waardevolle bydraes waarop later voortgebou kon word.

Wanneer hy dit nodig geag het, het Kotzé lede van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie geraadpleeg oor sake. 'n Netelige kwessie waaroor die Taalkommissie byvoorbeeld pertinent om advies gevra is, was die aanduiding van meervoudige vlakke van aanhalings in sommige profetiese uitsprake, sodat lesers beter kon verstaan wie in 'n bepaalde segging aan die woord is.

 

Begeleidingskomitee

Wanneer bepaalde sake by die Begeleidingskomitee (beleidskomitee) ter sprake gekom het, is daar telkens swaar gesteun op prof. Kotzé. Ten opsigte van Bybelse name en Fauna en Flora het hy dit bespreek met kundige lede van die Begeleidingskomitee, die nodige aanpassings gemaak en dit dan aan die Taalkommissie van die Akademie voorgele met die oog op opname op die CD Rom wat vir einde September 2011 deur die Taalkommissie in die vooruitsig gestel is. Hy was ook daarvoor verantwoordelik dat die Taalkundige Advieskomitee die Huisstylgids voortdurend hersien en aandag gegee het aan spesifieke sake na aanleiding van opmerkings deur die Redaksionele Komitees. Sintaktiese kwessies, asook moontlike aanvullings van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls het voortdurend sy aandag geniet. Hy gee ook duidelike riglyne oor die aanspreekvorme en pronominale persoonsverwysings. Dit behels sake soos die verstek-aanspreekvorm teenoor 'n vreemdeling, of van 'n eweknie onder volwassenes; verder ook in argumente en gesprekke waarin aan gespreksvoorwaardes (die sogenaamde Griceaanse gespreksvoorwaardes) vir samewerkende kommunikasie voldoen word. Dit sluit uitgebreide vrae in oor die aanspreekvorme "u" en "uself" teenoor 'n persoon van laer rang of posisie, en van 'n ouer persoon teenoor 'n kind, of waar 'n afwysende en aggressiewe verhouding ter sprake is. Daarby moes hy uitsluitsel gee oor baie gevalle waar Jesus as volwassene met ander mense, of iemand met of oor Jesus praat wanneer die spreker sy goddelikheid erken, of waar verwys word na die eie persoon wanneer God (Vader, Seun, Heilige Gees) aan die woord is. Dit is later breedvoerig beredeneer in 'n gepubliseerde artikel.1

 

Redaksionele Komitees

Toe die Redaksionele Komitees van die Ou Testament, die Nuwe Testament en die Deutero-kanonieke boeke later in die proses begin funksioneer het, dien prof. Kotzé aanvanklik as taalkundige in al drie hierdie komitees, totdat hy later (weens sy talle ander verpligtinge) op sy versoek by die Redaksionele Komitee van die Deuterokanonieke boeke deur prof. Jac Conradie vervang is. Teks wat deur die hele vertaalproses is, is by die Redaksionele Komitees van die Ou Testament en Nuwe Testament aan Ernst Kotzé voorgele vir taalkundige redigering. Wanneer daar tydens die sitting van die Redaksionele Komitees gesprek gevoer is oor die gepastheid van 'n bepaalde woord of uitdrukking, is daar swaar gesteun op sy taalkundige en semantiese insigte, maar veral ook op sy vermoë om uit die betrokke korpus aan te dui wat die gebruiksfrekwensie van 'n bepaalde woord is en of die betrokke woord of uitdrukking argaïes is al dan nie.

Prof. Kotzé se mening oor kwessies van spelling en skryfwyse is deur die verskillende komitees as deurslaggewend aanvaar, veral omdat hy daarmee saam gewoonlik 'n bykomende verduideliking en toeligting kon gee, wat die Redaksionele Komitees hoog op prys gestel het. Vanuit sy breë verwysingsraamwerk en deeglike taalkundige en semantiese onderlegdheid kon hy ook indringende vrae aan die eksegete en brontaalkenners stel oor die gepastheid van 'n voorgestelde vertaalopsie, wat dan dikwels tot wysigings van die vertaling gelei het. Die merkwaardige is dat sy selfverworwe kennis van Grieks en Hebreeus (synde 'n nie-teoloog) dikwels die brontaalkenners beïndruk het.

Wanneer daar tydens Redaksionele Komiteevergaderings soms ernstige meningsverskille was, het sy sin vir humor en sy spitsvondige opmerkings menigmaal die spanning ontlont. So het hy byvoorbeeld dikwels, te midde van 'n ernstige en indringende gesprek, die komitee op hoogte gehou van die jongste telling in 'n spannende krieket- of rugbywedstryd. In hierdie kring het hy hom deur die jare as 'n opregte en meelewende vriend betoon wat almal se lewens deur die kwaliteit van sy vriendskap en menswees verryk het. Dit het dan ook by komiteelede innige meelewing gewek met hom en sy huis in moeilike en uitdagende tye.

 

Toeganklikheid

Die Begeleidingskomitee en die projekleier het dit besonder waardeer dat prof. Kotzé altyd bereid was om op enige navraag deur kollegas en proeflesers, baie vinnig en uitvoerig te reageer. Hy het dikwels ekstra moeite gedoen om by voormalige en dienende kollegas van die Taalkommissie navraag te doen oor sake waaroor daar verskillende interpretasies moontlik was. Dit is juis gedoen om te verseker dat die 2020-Bybelvertaling in pas sou wees met die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, die riglyne wat die Taalkommissie stel en hedendaagse Standaardafrikaans.

Selfs in die laaste fase van die projek was hy bereid om die Woordelys, Inleiding en Verantwoording in die vertaling weer te kontroleer en seker te maak dat die spelling en skryfwyse in die korpus konsekwent is. Selfs ná publikasie is hy steeds besig om onbaatsugtig 'n bydrae te lewer in verband met enige navrae. Hy lees steeds die publikasie met 'n kennersoog en stuur dan, waar ter sake, opmerkings vir oorweging aan die Bybelgenootskap.

 

Optrede na buite

Ernst Kotzé se bydrae strek wyer as sy direkte rol in die vertaalprojek. Hy lewer talle voordragte oor Bybelvertaling waarin hy pertinent oor die 2020-vertaling en die taalkundige aspekte daarvan praat. As 'n gereelde deelnemer aan die radioprogram "Die tale wat ons praat" op Radio Sonder Grense (tans "Taaldinge"), gesels hy byvoorbeeld op 26 Maart 2017 oor die taalkundige en vertaalkundige aspekte van die 2020-vertaling, en op 9 April 2017 oor verdere uitdagings met betrekking tot die vertaling van die Bybel. In sulke bydraes, soos ook op Radio Kaapse Kansel (byvoorbeeld in 2019 en op 1 Julie 2020), wys hy onder meer op die uitdagings wat so 'n dokumentêre vertaling meebring, naamlik om die bronteks só weer te gee dat die beelde, metafore, styl en struktuur daarvan so ver moontlik behoue bly, maar dat dit tegelyk in vloeiende, idiomatiese Afrikaans is. In die RSG-program "Taaldinge" het hy ook op 15 November 2020, net voor die amptelike bekendstelling van die publikasie, oor die vertaalproses, die teoretiese begronding van die 2020-vertaling en die unieke eienskappe van dié vertaling gepraat.2

In die rubriek "Vraag en antwoord" op die Bybelgenootskap se webblad vir die projek (www.bybeldirektevertaling.co.za), beantwoord hy meermale pertinente vrae oor die vertaling. Hy verduidelik onder meer waarom die spelling van byvoorbeeld Martha, Athene en Thessalonika (in plaas van die spelling sonder -h-) weer in die vertaling terugkeer, maar die spelling Philippus nie behou word nie. Op die webblad verduidelik hy ook waarom Betlehem in die Bybel anders gespel word as BetMehem, die dorp in die Vrystaat. Wanneer daar vrae oor die gebruik van vreemde terme of leenwoorde, kultuur- en tydspesifieke woorde na vore gekom het, het Ernst Kotzé op die webblad verduidelik dat die Redaksionele Komitees die riglyn volg om wel woorde te gebruik wat reeds in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is. Hy wys dan daarop dat byvoorbeeld in Matteus 27:27 die woorde "prokurator" en "kohort" reeds in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is, en alhoewel die woord "pretorium" nie in dié woordeboek opgeneem is nie, kom die verwante terme "pretor(-s)" ('n Romeinse stadhouer, hoogste landdros), "pretoriaan" en "pretoriane" ('n lid van die Romeinse keiserlike lyfwag) en "pretoriaans" wel voor in Die Elektroniese Weergawe van Die Verklarende Handwoordeboek van Die Afrikaanse Taal (Odendal, 1994).

Gedagtig aan die besonder belangrike rol wat die Nederlandse en Afrikaanse Bybels gespeel het in die vestiging en ontwikkeling van Afrikaans, kan die kardinale rol wat prof. Kotzé in die 2020-vertaling vervul het met betrekking tot die voortbestaan en behoud van Afrikaans, moeilik oorskat word.

Dit was en is steeds 'n enorme voorreg om hierdie beskeie en nederige mens te kon leer ken as spesialis op talle terreine, maar ook as vriend.

 

 

Ontvang: 2023-05-01
Goedgekeur: 2023-06-20
Gepubliseer: September 2023

 

 

 

Bernard Combrink is emeritus professor in Nuwe Testament aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het aan die Universiteit van Pretoria en die Vrije Universiteit van Amsterdam gestudeer. Daarna was hy agtereenvolgens predikant in die NG Gemeente Wonderboom in Pretoria (1968-1970), senior lektor en voorsitter van die Departement Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit (tans Universiteit van Johannesburg van 1970 tot 1973) en senior lektor in die Departement Bybelkunde en Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria (19741975). Sedert 1976 het hy as senior lektor, medeprofessor en professor in die Departement Nuwe Testament, asook twee termyne as dekaan van die Fakulteit Teologie (1992-1994, 1998-2000) aan die Universiteit van Stellenbosch gedien. Hy was lid van die Algemene Taakspan vir Bybel-vertaling en Bybelverklaring van die NG Kerk sedert 1990, en voorsitter van 1994 tot 2005. Hy was ook lid van die Kerklike Advieskomitee (Bybelvertaling in Afrikaans) van die Bybelge-nootskap van Suid-Afrika sedert 1990, en voorsitter van 2004 tot 2007. Hy was ook lid van die vertalingspaneel van Die Bybel vir Dowes (1997-2005). Vanaf 2006 tot 2020 was hy die projekleier van Die Bybel 2020-vertaling.
Bernard Combrink is emeritus professor of New Testament at the University of Stellenbosch. He studied at the University of Pretoria and the Free University of Amsterdam. Thereafter, he served consecutively as minister in the Dutch Reformed congregation Wonderboom in Pretoria (1968-1970), senior lecturer and chair of the Department Biblical Studies at the Randse Afrikaanse Universiteit (currently University of Johannesburg from 1970 to 1973) and senior lecturer in the Department Biblical Studies and New Testament at the University of Pretoria (1974-1975). After 1976 he held the positions of lecturer, associate professor and professor in the Department New Testament, as well as Dean of the Faculty of Theology for two terms (19921994, 1998-2000) at the University of Stellenbosch. He was a member of the Algemene Taak-span vir Bybelvertaling en Bybelverklaring of the Dutch Reformed Church since 1990, and chair from 1994 to 2005. Hy was also a member of the Church Advisory Board (Bible Translation in Afrikaans) of the Bible Society of South Africa since 1990, and chair from 2004 to 2007. He was one of the translators of Die Bybel vir Dowes (1997-2005). From 2006 to 2020 he was the project leader of Die Bybel: 2020-vertaling.
1 Kotzé, Ernst F. Gesag en solidariteit: Aanspreekvorme en pronominale persoonsverwysings in die Afrikaanse Bybelvertaling van 2020. Authority and solidarity: Forms of address and pronominal personal references in the Afrikaans Bible translation of 2020. Tydskrif vir Geesteswetenskappe / Journal of Humanities, 60(4-1) (December 2020):1066-91.
2 In die rubriek "In die media" op die webblad www.bybeldirektevertaling.co.za is daar skakels na verskeie opredes van prof. Kotzé. Vgl ook Kotzé, Ernst. Die 2020-Bybelvertalingsproses as avontuur vir die taalkundige. Litnet: Seminare en Essays, https://www.litnet.co.za/author/ernst-kotze/ [9 Junie 2021].

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons