SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3The constitutional requirements and processes to remove a president of the USAfrom office: The case of president Donald Trump in a politically charged atmosphereDiamond jubilee of decimalisation: 60 years of South African rand and cent índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria Set. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a5 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

Op die spoor van vermeende letterdiefstal: Holografiese Argeologie, GR von Wielligh en die Bleek en Lloyd-argief

 

 

Luan Staphorst

Nelson Mandela Universiteit; Universiteit van Oxford, Suid-Afrika; Engeland. E-pos: luan.staphorst@mandela.ac.za

 

 

Inleiding

Toe die Universiteit van Kaapstad se Afrikanistiekbiblioteek in April 2021 in 'n vlammehel vasgevang was, het die vraag om verwoesting en oorlewing grootliks gewentel om Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd se |xam-argief. Sulke aandag is nie iets nuuts in die lewe van die argief nie. In 1998 het dit Suid-Afrika se eerste inskrywing in UNESCO se Memory of the World Registry geword. Daarin word beskryf hoe dit "an invaluable and unique insight into the language, life, religion, mythology, folklore and stories of a now-extinct African people" verskaf. Verder is dit by die ontwerp van die post-1994-landswapen ingespan, en dien dit as 'n fokuspunt in die herverbeelde Iziko Suid-Afrikaanse Museum, een van die nasionale museums in Kaapstad.

Hier moet twee belangrike dinge egter uitgelig word. Eerstens, die sigbaarheid van die argief strek terug tot ten minste 1911 - die jaar van Specimens of Bushman Folklore se publikasie. Hierna is die argief deur verskeie publikasies uitgebrei as gevolg van die arbeid van Dorothea Bleek, Wilhelm se dogter. Dit ontvang dan later, veral deur die werk van Roger Hewitt, Patricia Vinnicombe, David Lewis-Williams en Janette Deacon aandag in aanloop tot die Khoesanstudiesopbloei van die 1990's. Tweedens, die Bleek en Lloyd-argief is nie die enigste getuienis van die |xam nie. 'n Ander bewaarplek is dié van Gideon Retief von Wielligh, 'n minder bekende landmeter, skrywer, en amateurvolkskundige wat mites, dierestories en feitelike gebeure van die lewe van die |xam in die Kaapkolonie se noordelike grensgebied versamel het. Wanneer daar egter binne Khoesanstudies na sy werk verwys word, word een van die volgende argumente gebruik om sy optekenings as waardeloos te tipeer (vergelyk Van Vuuren (2016)):

1. Von Wielligh se opnames is in Afrikaans, nie |xam nie, en sluit dus by 'n Afrikaanse estetiese en literêre kanon aan (Biesele (1993)).

2. Von Wielligh wou arm en ongeletterde Afrikaners opvoed en motiveer om te lees, en sy versamelings is gevolglik om didaktiese uitgangspunte gestruktureer (Hewitt (2008)).

3. Von Wielligh wou nooit |xam-materiaal opneem nie, maar eerder Afrikaanse letterkunde skep (Schmidt (2013); De Prada-Samper (2017)).

4. Von Wielligh se bronne is betwyfelbaar (Schmidt (2013)).

5. Von Wielligh het materiaal uit Bleek en Lloyd se Specimens of Bushman Folklore gelig en verwerk, en nie oorspronklike navorsing gedoen nie (Schmidt (2013); De Prada-Samper (2017)).

Hierdie vyf aantygings kan as volg opgesom word: eerstens, daar is 'n aanname dat Afrikaans en die |xam onversoenbaar is, en daarby dat Von Wielligh se versamelings uitsluitlik Afrikaans met geen spore van die |xam-taal is nie; tweedens, Von Wielligh is skuldig aan letterdiefstal. Die res van die bespreking fokus op die weerlegging van hierdie aannames en aantygings. Eerstens word 'n oorsig van holografiese argeologie as oorspronklike benadering opgesom, waarna dit op 'n Von Wielligh-teks toegepas sal word.

 

Holografiese Argeologie

"[E]very language is an archive. Its documents are the thousands of words that make up its lexicon" (Ehret, 2011:3). En vanweë die feit dat dit 'n argief, met dokumente, inskrywings en ander tipes data is, kan dit bestudeer word. Taalargeologie is 'n benadering tot geskiedskrywing met taal as studieterrein. In die besonder herkonstrueer dit 'n "sociolinguistic context for ancient linguistic forms, that is, to make inferences from the language of ancient texts and/or linguistic reconstructions about the groups who spoke the language in question" (Southworth, 2005:2). Só 'n benadering is allermins iets nuuts, siende dat taal lank reeds 'n belangrike hulpbron vir geskiedskrywing vorm, veral in die Afrikakonteks (vergelyk Spear (2019)).

Benewens die belang van taal vir die geskiedkundige, is dit die spil van ondersoek binne die filologie. Alhoewel "filologie" swaar onder die las van uiteenlopende, en telkens teenstrydige, definisies en benaderings gebuk gaan, bly die sentrale fokus die "making sense of texts" (Pollock, 2015: 22). Dit sluit gedifferensieerde dog ewe verwikkelde benaderings tot die lees van tekste in, en betrek taalkundige, literêre, en historiese kennis by die "oopmaak" van tekste.

'n Subdissipline van filologie, naamlik tekskritiek, worstel in die besonder met die vas-stelling van 'n teks se outentisiteit. Die tradisionele tekskritiek is egter onbruikbaar in hierdie studie wanneer die "handtekening" in ag geneem word. Die handtekening, ook bekend as die holograaf, verwys na tekste waar die handskrif van die oospronklike skrywer duidelik herkenbaar is. In die filologie, wat tradisioneel op antieke tekste toegepas word, verteenwoordig die handtekening 'n besonderse uitdaging vir die navorser, siende dat beskikbare tekste meesal herskrywings en vertalings is. Daar moet dus tussen twee (of meer) handtekenlose tekste onderskei word ten einde te bepaal watter een die "ouer", oftewel meer outentieke, weergawe verteenwoordig.

Daarteenoor is daar in die konteks van Bleek en Lloyd en Von Wielligh aan die een kant 'n hiperhandtekeninghebbende teks, en aan die ander kant 'n handtekenlose teks teenwoordig. Dit lei maklik tot die volgende gevolgtrekking: Bleek en Lloyd is die oerteks; die bron waaruit die handtekeninglose Von Wielligh geput het. Om hierdie rede hou ek holografiese argeologie as benadering voor: 'n metode wat taalgebruik in die betwyfelbare bron "dateer" deur dit met die taal in die sekerheidsbron te vergelyk. Sodoende kan daar bepaal word of die betwyfelbare bron wel iets outentieks verteenwoordig al dan nie.

Die woorde 'holograaf' en 'argeologie' resoneer, egter, benewens die skakels met filologie en taalargeologie ook met twee ander begrippe. Die eerste is die 'holografiese paradigma' (vergelyk Wilber (1982) en Martinez (1988)): 'n wetenskapsparadigma wat die wetenskaplike metodiek probeer herdefinieer vanaf 'n streng, meganistiese en atomistiese oftewel Newtoniaanse begripsformulering van verskynsels na een wat die "wholeness through the multiple perspectives from which [an object of study] can be viewed" (Pitts, 1990:81) beklemtoon. In hierdie bespreking is die klem dus op 'n breër begrip van die |xam "argief" - een wat nie slegs Bleek en Lloyd as vertrek- en eindpunt het nie. Die tweede is "argeologie" se skakel met Michel Foucault (1972) as "kennisargeologie". Alhoewel dit na 'n benadering tot geskiedskrywing verwys, resoneer Foucault se begrip van "kennisargeologie" - wat die uitken en uitdaging van ontluikende "reëls" wat diskoerse tipeer, insluit - met holografiese argeologie se beklemtoning van 'n toespits op die ontluiking van taal in tekste, en wat daardie ontluiking van |xam-diskoers kan openbaar.

 

Von Wielligh se Boesman-stories Deel I

Die volgende tabel som die bevindings van die ondersoek op. Daar is tien |xam-woorde in Von Wielligh se andersins Afrikaanstalige Boesman-stories Deel I uitgeken, en hierdie tien woorde en hul vertaling/definisie is vergelyk met hul verskyning (al dan nie) in Specimens of Bushman Folklore. Dorothea Bleek se A Bushman Dictionary, wat in 1956 verskyn het, dien as kontrole vir die bevestiging van Von Wielligh se data waar dit nie in Specimens voorkom nie.

Wat hieruit afgelei kan word, is dat Von Wielligh se versameling met redelike sekerheid as oorspronklik bestempel kan word, en dat hy dus nie skuldig is aan letterdiefstal soos baie beweer nie.

 

Gevolgtrekking

Beide gedurende en na afloop van die brand van UK se Afrikanistiekbiblioteek is drie reaksies in my aangewakker: die eerste was weemoedigheid - weemoedigheid oor die verlies van herinneringe en stemme, en verlies van geleentheid vir toekomstige ondersoek en herdenking van daardie herinneringe en stemme. Die tweede was blydskap na nuus van die oorlewing van die Bleek en Lloyd-argief. Die derde, wat heel moontlik volkome my eie was, was frustrasie met die oorweldigende mag van die argief - gebelgdheid dat 'n ganse mensdom, hul geskiedenis, kultuur, en taal tot 'n enkele argief gereduseer word. In vele opsigte is die Bleek en Lloyd-argief die |xam; dit beliggaam die |xam volkome. Daarom is dit nie vergesog om van 'n argivale kultus te praat nie - 'n maklike gelykstelling van die argief met die |xam, en sodoende 'n vervanging van die |xam deur die argief. Dít terwyl soveel van die argief nog om aandag smeek, veral op 'n tekstuele (vergelyk Solomon (2009)) en talige vlak (vergelyk Du Plessis (2014)).

Dit is hier waar 'n begrip van die "holografiese" nuttig kan wees. Die verhouding tussen die Bleek en Lloyd-argief en Suid-Afrikaanse navorsing wys op die noodsaak vir 'n meer omvattende beeld van die |xam en hul erfenis. Die holografiese paradigma kan 'n teenwig verskaf deur die heelheid van die |xam-"argief", wat Von Wielligh en ander se optekenings naas dié van Bleek en Lloyd insluit, te beklemtoon. Dit kan die wurggreep van die "enkele", van die "uitsonderlike", op ons gedeelde intellektuele verbeelding uitdaag deur ander versamelings - daardie versamelings wat ge-Ander is - nader te trek en sodoende meer diepgaande begripsformulerings van verwikkeldheid in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, taallandskap, en literêre sisteem te openbaar. Die verstrengeling van Afrikaans en |xam is een só 'n verwikkeldheid, met Von Wielligh as 'n belangrike venster op daardie verhouding.

 

 

BIBLIOGRAFIE

Biesele, M. 1993. Women Like Meat: the folklore and foraging ideology of the Kalahari Ju/'hoan. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Bleek, DF. 1956. A Bushman Dictionary. New Haven: American Oriental Society.         [ Links ]

Bleek, WHI & Lloyd, LC. (eds). 1911. Specimens ofBushman Folklore. London: George Allen.         [ Links ]

De Prada-Samper, JM. 2017. G.R. von Wielligh and his Boesman-stories. Academia.edu Available at: https://www.academia.edu/39370786/G_R_von_Wielligh_and_his_Boesman_stories [Accessed 21 November 2021].         [ Links ]

Du Plessis, M. 2014. A century of the Specimens ofBushman Folklore: 100 years of linguistic neglect. In: Deacon, J & Skotnes, P. (eds). The Courage of Wkabbo: celebrating the 100th anniversary of the publication of Specimens of Bushman Folklore. Cape Town: University of Cape Town Press, pp. 275-302.         [ Links ]

Ehret, C. 2011. History and the Testimony of Language. Berkeley: University of California Press.         [ Links ]

Foucault, M. 1972. The Archaeology of Knowledge. London: Tavistock.         [ Links ]

Hewitt, RL. 2008. Structure, Meaning and Ritual in the Narratives of the Southern San. Johannesburg: Witwatersrand University Press.         [ Links ]

Martinez, ZN. 1988. From a Representational to a Holographic Paradigm: The Emergence of Female Power. Atlantis, 14(1):134-401.         [ Links ]

Pitts, ME. 1990. The Holographic Paradigm: A New Model for the Study of Literature and Science. Modern Language Studies, 20(4):80-89.         [ Links ]

Pollock, S. 2015. Introduction. In: S Pollock, BA Elman & KK Chang (eds). World Philology. Cambridge, Mass.: Harvard University Press, pp. 1-24.         [ Links ]

Schmidt, S. 2013. South African /Xam Bushman Traditions and Their Relationships to Further Khoisan Folklore. Köln: Rüdiger Köppe Verlag.         [ Links ]

Solomon, A. 2009. Broken strings: interdisciplinarity and |Xam oral literature. Critical Arts: South-North Cultural and Media Studies, 23(1):26-41.         [ Links ]

Southworth, FC. 2005. Linguistic Archaeology of South Asia. London: Routledge.         [ Links ]

Spear, T. 2019. The Oxford Encyclopedia of African Historiography: Methods and Sources. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Staphorst, Luan. 2022. "van die oorspronklike lippe" ("from the original lips"): The 19th Century Cape Colony, Holographic Archaeology and the Historicity of Gideon von Wielligh's |xam-Afrikaans Collection. Journal of Southern African Studies, 48(6):993-1011.         [ Links ]

Van Vuuren, H. 2016. A Necklace of Springbok Ears: /Xam orality and South African literature. Stellenbosch: SUN Press.         [ Links ]

Von Wielligh, GR. (red.). 1919. Boesman-Stories Deel I: Mitologie en legendes. Kaapstad: De Nationale Pers.         [ Links ]

Wilber, K. (ed.). 1982. The Holographic Paradigm and Other Paradoxes: Exploring the Leading Edge of Science. Boulder & London: Shambala.         [ Links ]

 

 

1 Hierdie bespreking is 'n opsomming van 'n artikel, "'van die oorspronklike lippe' ('from the original lips'): The 19th-century Cape Colony, Holographic Archaeology and the Historicity of Gideon von Wielligh's |xam-Afrikaans Collection", wat in Journal of Southern African Studies, 48(6):993-1011 verskyn het.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons