SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3Substantive policy implementation and the erosion of voter trust as factors in the consolidation of the South African democracyPoverty and human dignity: The magisterium of the Catholic Church on the interaction between the two índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria sep. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a4 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

A letter for Ernst / 'n Brief vir Ernst

 

 

Ernst

As jou vriend en as jou meeloper op die terrein van die Afrikaanse taalkunde ag ek dit 'n besondere eer om by geleentheid van die viering van jou 75ste verjaarsdag te kan sê: Van harte geluk! Soos vele ander is ek saam met jou dankbaar virjou grootse voorreg om hierdie mylpaal te kon haal en steeds sterk te kan staan.

Letterkunde spreek tot jou. Wat ek jou verderaan wil meedeel, wil ek derhalwe aanknoop by 'n gedig deur Uys Krige wat tydens die Tweede Wereldoorlog in sy hoedanigheid as oorlogskorrespondent die Geallieerde leër in Noord-Afrika gevolg het en later ook as militêre waarnemer in Italië, Frankryk en Engeland diens gedoen het.

In dié betrokke gedig met die titel "Die soldaat" het die spreker dit oor 'n soldaat wat hom ten tye van die Tweede Wereldoorlog in die "dorre verlatenheid" van die woestynwêreld van Noord-Afrika bevind en al met die stofpad langs stap in die rigting van Fort Wajier, die "enigste oase in dié woesteny". Die soldaat stap in die skemerte - in daardie tydgleuf wanneer die "dag hom meng met die nag" en "die lig hom gestadig oplos in die skaduwee".

Dwarsdeur dié gedig van dertien strofes val die aksent op die soldaat wat "stap", "al maar aanstap", dus op sy beweging, sy volgehoue voetval in die rigting van Fort Wajier, sy vergeleë eindbestemming:

En Fort Wajier lê ver, lê ver,

onderkant die eerste ster.

Hy word voorgehou as 'n mens met gevoelens, as een wat bewus is van die "lief en leed wat hy omdra in sy hart".

Dis nie duidelik of die soldaat die oase wel bereik het nie, of wel sou bereik nie; trouens die vae koördinaataanduiding van die oase as "ver, (...) ver" en "onderkant die eerste ster" laat die indruk dat die oase haas onbereikbaar sou wees, dat die lafenis wat die oase te bied het, dus 'n hoopvolle vooruitsig gebly het en nie rêrig verwerklik sou word nie.

Teen die einde van die gedig vestig die spreker die aandag op die skaduwee van die bewegende soldaat wat al hoe groter, al hoe langer raak, al hoe verder uitstrek: eers val sy skaduwee net oor die stofpad, en dan, in die gedagtewêreld van die spreker, ook oor die woestyn van Noord-Afrika en die Vasteland van Afrika, en, uiteindelik, oor die wêreld in die geheel:

(...) terwyl die soldaat aanstap,

aanstap,

al maar aanstap

langs die stofpad deur die woestyn,

rek sy skaduwee hom trapsgewyse uit,

trek dit skuins oor die pad,

oor 'n breë strook lawaklip heen

tussen die doringbome in.

Die skaduwee van die soldaat

val oor die pad.

Die skaduwee van die soldaat

val oor die woestyn.

Die skaduwee van die soldaat

val oor Afrika.

Vas en strak en swart en dreigend

val die skaduwee van die soldaat

wyd oor die wêreld.

In die mate waarin die gedig as 'n oorlogsgedig te beskou is, is die volgehoue voetval van die bewegende soldaat in eerste instansie te vertolk as 'n merkteken van 'n soldaat (soldate) se teenwoordigheid op die slagveld terwyl sy groeiende skaduwee aanduidend wil wees van die feit dat oorlog op 'n gegewe terrein in die reël uitkring en uitkring, en implikasies inhou vir die mensdom dwarsoor die wêreld.

Maar die gedig het vir mý ook 'n dieper en wyer simboliek. Vir my sou die volgehoue voetval en die groeiende skaduwee van die bewegende soldaat ook kon dien as merktekens van die mens se teenwoordigheid in die lewe, van sy loop deur die lewe, van sy soeke na die sin van sy eksistensie én, in die besonder, van die uitkringende invloed wat van hom uitgaan en wat hy nalaat.

Ernst, ek reken: elkeen het 'n voetval (letterlik of figuurlik) wat dien as merker van sy daarwees. Én: daar is skaduwees én skaduwees, invloede én invloede... Die skaduwees van invloed wat deur sommiges gewerp word, is soos dié van die soldaat in die gedig te beskryf as "vas en strak en swart en dreigend". Die skaduwee van invloed wat uitgaan van iemand soos jý, is egter te beoordeel as lewewekkend en verrykend omdat 'n persoon van jóú kaliber vergelykbaar is met 'n boom wat groei in helder son en skaduwees werp waarin blomme kan floreer omdat genoeg ligstrale hul weg tussen die takke en blare deur na benede vind.

Teen die agtergrond van die dieper en wyer simboliek van die voetval en skadubeeld in Krige se gedig wil ek graag enkele dinge vír en óór jou sê, en wel as een wat naby genoeg is om my in die kragveld van jou ryk gees te bevind én 'n getuie te kan wees van jou loop deur die lewe, van die invloed wat vanjou uitgaan, van die mooi binnekonstruk wat jy injou omdra en van die hoogstaande kwaliliteit van jou diens tot op hede.

Ek wil graag dank betuig:

Dankie dat jy reeds oor jare heen figureer as 'n taalkundige met 'n teenwoordigheid en dat jy jou plek met groot waardigheid in die voorste linie ingeneem het.

Dankie dat die skadu van jou invloed ver en wyd op vele terreine van die taalkunde geval het: Afrikaanse en algemene taalkunde, sosiolinguistiek, leksikografie, taalbe-planning en -beleid, historiese taalkunde, vertaalkunde, forensiese linguistiek, taal-verwerwing, e.d.m.

Dankie dat die skadu van jou invloed op talle mense en plekke geval het:

o op die talle voor- en nagraadse studente en kollegas in die ruimtes waarin jy werksaam was: die Universiteit van die Witwatersrand (1979-1979), Zoeloeland (1980-1994), Port Elizabeth (1995-2004) en die Nelson Mandela Metropoli-taanse Universiteit (2005-2008)

o op kampusse en konferensiesentra, plaaslik en oorsee, waar jy aangetree het om referate te lewer en as besoekende professor of navorsingsvennoot diens te doen: die Universiteite van Wes-Kaapland, Pretoria, Port Elizabeth, die Vrystaat, Kaapstad, Stellenbosh, Duisberg, Keio (in Tokio), Otago (in Dunedin, Nieu-Seeland), Leiden, e.d.m.

o op vakgenote (onder wie ekself) wat jy mildelik en gereeld van raad bedien en wat bevoorreg was om saam met jou in die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns te kon dien.

Hierdeur het jy bewys dat groei in die skaduwee van 'n groot boom wel moontlik is.

Jy verdien pluimpies vir jou akademiese insette:

Jou publikasies tot dusver beslaan 'n verskeidenheid boeke, hoofstukke in boeke, artikels in tydskrifte soos Literator, Lexikos, Tydskrif vir Taalonderrig, SA Tydskrif vir Taalkunde en Tydskrifvir Geesteswetenskappe, gepubliseerde kongresvoordragte-en internetbydraes waarvan 'n beduiende aantal ná jou aftrede in 2008 die lig gesien het. Daar blyk geen einde te wees nie!

Jy het nie alleen as outeur jou merk gemaak nie, maar o.m. ook as tydskrifredakteur, as lid van redaksiekomitees, as keurder van tydskrifartikels, as konvenor van advies-komitees, as begeleier van nagraadse navorsing en as eksterne eksaminator vir verskeie verhandelings en proefskrifte by verskillende universiteite.

Jy het veel vir Afrikaans gedoen:

o Jy stel 'n hoë premie op die heterogene aard van die Afrikaanse taal en jy het prominensie verleen aan die linguistiese verrekening van vorme van Afrikaans wat met persone van kleur geassosieer word. Van besondere betekenis in dié verband is jou keuse van die Afrikaans van Zulusprekendes as onderwerp vir jou magisterverhandeling en van Kaapse Moesliemafrikaans as onderwerp vir jou doktorale proefskrif (en dít in die jare van apartheidshoogkonjunktuur), jou artikels en referate oor hierdie twee vorme van Afrikaans, jou baanbrekerswerk betreffende die kensketsing van die talige aard van Kaapse Moesliemafrikaans, jou verkenning van Arabies-Afrikaanse geskrifte asook jou latere leeueaandeel en aanvoorwerk insake die opneem van 'n aantal leksikale items uit die skryftaal van Moesliemafrikaanssprekendes in die 2009- en 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

o Ook aspekte soos die volgende is as groot bates vir Afrikaans te bestempel: jou genuanseerde verkenning van die wordingsgeskiedenis van Afrikaans, jou en Cor de Ruyter se eksplisering van die rol van tuisvaarders in die ontstaan van Afrikaans, jou diepgaande besinninge oor Standaardafrikaans en jou teoretiese begronding van taalstandaardisasie met spesifieke verwysing na die vier stan-daardiseringstappe soos deur Haugen onderskei, t.w. normseleksie, formele kodifisering, funksie-uitbreiding en aanvaarding.

'n Mens sou tereg kon vra: Hoe kry jy dit reg om met groot élan aan so baie dinge uitvoering te gee en daarmee te volhard?

Dat jy sulke voortreflike diens kan lewer, sou in verband gebring kon word met die feit dat jy oor die wysheid beskik om toe te laat dat die skaduwees van invloed van gesoute voorgangers en eietydse vakgenote (onder wie J du P Scholtz, Edith Raidt, Einar Haugen, Fritz Ponelis en Hans den Besten) oor jou val én dat jy toegerus is met attribute wat oor die jare heen sinoniem met jou geword het: jou gebruiksvaardigheid in en/of teoretiese kennis van diverse tale (waaronder Afrikaans, Nederlands, Engels, Duits, Frans, isiXhosa, Italiaans, Portugees, Japannees, Noorweegs en Deens), jou teoretiese onderlegdheid, jou analitiese vaardigheid, jou kritiese bevraging van gevestigde paradigmas en jou passievolle aflees en afluister van taal.

Bygesê: jou betrokkenheid by die totstandbringing van die 2020-Bybelvertaling as konvenor van die Taaladvieskomitee van die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap en jou vernuftige artikel oor aanspreekvorme en pronominale persoonsverwysings in hierdie vertaling van die Bybel suggereer dat jy, in aansluiting by Psalm 91 vers 1, toegelaat het dat ook die skaduwee van die Almagtige oor jou sou val.

Daar is wyd kennis geneem van wat jy tot dusver vermag het. Ek is verheug dat instansies soos die SA Akademie van Wetenskap en Kuns (SAAWK), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Marnixring en die Alexander von Humboldt-Stiftung kennis geneem het van die diepte van jou akademiese spore en die reikwydte van jou skaduwee, en dit na waarde geskat het om jou heel gepas met prestige-toekennings soos die volgende te bekroon:

'n Kokertoekenning vir jou lewenslange bydrae as veelsydige en innoverende taalkundige

die Alexander von Humboldt-stipendium

die CJ Langenhovenprys

die CL Engelbrechtprestasieprys

die Jacques van der Elstprys en

die Marnixring Internationale Toekenning

In hierdie verband is dit vir my verblydend om te kan byvoeg dat die CL Engelbrechtprys by twee bekroningsgeleenthede van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken is vir publikasies oor taalvariasie ten opsigte waarvan ek en jy saam met ander persone as medeskrywers gefunksioneer het, d.i. die werk Veelkantiger Afrikaans: streeksvariëteite in die standaardvorming (onder redaksie van Kwesi Kwaa Prah) in 2015 en die werk Kaaps in fokus (onder redaksie van myself en Charlyn Dyers) in 2019.

Ek voorsien dat nog akkolades jou te beurt sal val!

Om mee af te sluit:

Soos genoem, is die soldaat in Krige se gedig op pad na 'n vergeleë, haas onbereikbare oase in die woestyn. Deur die spreker se herhaaldelike presisering van die ligging van die oase as "onderkant die eerste ster" groei die oase uit tot beeld van die verre toekoms waarin daar geluk en vrede sal heers, en wel geluk en vrede met 'n religieuse, hemelse stempel, asof komende van die Hand ágter die sterre, dus van Hom wat ook die sterre gemaak het. Sodoende word die vermoede gewek dat die soldaat se volgehoue voetval afgestem blyk te wees op die verkryging van hemelse geluk en vrede wat vórentoe op hom wag.

Ernst, ek vermoed dat jóú voetval, jóú loop deur die lewe nie soseer afgestem is op geluk en vrede wat jou vorentoe te beurt mag val nie, maar dat jóú loop, jóú diens reeds in die hier en nou met blydskap en vrede getint is. Ek reken dis die kwintessens van arbeidsvreugde en die handelsmerk van 'n opregte dienaar soos jy!

Nogeens hartlik geluk met jou 75ste verjaarsdag. Mag jou môres die stempel van voortgesette diensbaarheid dra en net so mooi en ryk wees soos vandag en die dae wat was!

Jou bevoorregte vriend

Frank

Julie 2023

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons