SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número3General CF Beyers: His world view as reflected in his public statementsSubstantive policy implementation and the erosion of voter trust as factors in the consolidation of the South African democracy índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.3 Pretoria Set. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a2 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

'n Persoonlike bekendstelling

 

 

Dit is vir my 'n eer en 'n voorreg om prof. Ernst F Kotzé kortliks bekend te stel.

In 1995 is ek tot die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies. Daar het ek 'n man raakgeloop wat ek so half en half geken het: Ernst Kotzé. In die 17 jaar dat ons saam in die TK gedien het, het my agting en waardering vir hom al hoe groter geword - nie net vanweë sy verbysterende taal-, tale- en taalkundekennis nie, maar veral dalk ook vanweë sy geaardheid. Ek is grootliks bevoorreg daardeur dat daardie halwe kennis van 1995 sedertdien vir my tot 'n baie verrykende vriendskap ontwikkel het.

Ernst is nogal iets besonders, want taalkundiges wat op soveel uiteenlopende terreine van die taalkunde op so 'n hoë vlak funksioneer, kom nie tiekie 'n bossie nie.

Hy is 'n formidabele poliglot wat nie slegs Afrikaans en Engels ken nie, maar ook Duits, Frans, Italiaans, Portugees, Spaans, Noorweegs, Japannees, Zulu en Xhosa, plus 'n teoretiese kennis van Russies, Moderne Grieks, Sweeds en Deens. As 'n mens daarby sy kennis van die linguistiek in die algemeen en sosiolinguistiek in die besonder voeg, is dit duidelik dat hierdie bron van kennis 'n besondere bate in die werk van die Taalkommissie was. Trouens, hy word steeds dikwels geraadpleeg om raad of uitsluitsel oor bepaalde kwessies te gee. Ek ken hom boonop as iemand wat nooit suinig is om sy kennis met jou te deel nie.

Uit hierdie kennis het twee uitsonderlike woordeboeke gespruit: 'n Afrikaans-Zoeloe-woordeboek met Engelse vertalings (saam met dr. Vusumuzi P Wela) en 'n Afrikaans-Japannese woordeboek met Engelse vertalings (saam met dr. Takashi Sakurai). Laasgenoemde woorde-boek gee aan die Afrikaanse gebruiker ook uitspraak- en leesleiding vir en 'n kort grammatika van Japannees. Hieruit blyk nie net Ernst se leksikologie- en leksikografiekennis nie, maar ook die wydheid van sy belangstellings- en kennisvelde.

Danksy sy doktorale proefskrif, wat oor aspekte van Maleierafrikaans gehandel het, het Ernst 'n deurslaggewende rol gespeel in die opname in die AWS van 'n seleksie van veel voorkomende woorde uit hoofsaaklik die standaardtaal van Moslem-Afrikaanssprekendes, waardeur nie net die belangrikheid van hierdie gemeenskap in die ontwikkeling van Afrikaans en in hedendaagse Afrikaans erken is nie, maar daardie Afrikaans uiteindelik sy regmatige plek in die breë Standaardafrikaans ingeneem het.

In die afgelope klompie jare was Ernst ook die grondlegger van forensiese linguistiek in Suid-Afrika, nie net akademies nie, maar ook in die praktyk. 'n Student of twee het reeds onder sy leiding in forensiese linguistiek gepromoveer, maar hy het ook reeds in howe as spesialisgetuie op die gebied van forensiese linguistiek opgetree, in een geval selfs virtueel in 'n Duitse hof.

Ernst het reeds verskeie eerbewyse ter erkenning van sy werk ontvang, ook van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 2006 word hy die eerste (en tot dusver die enigste) Suid-Afrikaner wat 'n Erepenning van die Belgiese diensorganisasie Marnixring ontvang vir sy internasionale bydrae tot die ontwikkeling van Nederlands (en Afrikaans).

In die jare lange werk aan die jongste Afrikaanse Bybelvertaling - Die Bybel 2020-vertaling - het Ernst 'n wesenlike rol as hoof- Afrikaanse taaladviseur gespeel. Van sy onmisbare bydrae hierin getuig almal wat aan daardie reuseprojek meegewerk het.

Dit sou nog etlike bladsye kos om Ernst se prestasies en publikasies te noem, maar hy sou dit waarskynlik nie wou hê nie, want ondanks alles wat hy bereik het en ondanks 'n buitengewone intelligensie is hy 'n beskeie mens sonder pretensie en vertoon. Hy is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.

Ek is dankbaar dat ek nog gereeld uit sy wye kennis kan put, maar ek is nog dankbaarder dat ek hom my vriend kan noem.

Tom McLachlan

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons