SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue3Constitutional propriety in the 21st century author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.3 Pretoria Sep. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n3a1 

HULDEBLYKE EN NAVORSINGSARTIKELS / TRIBUTES AND RESEARCH ARTICLES

 

Woord vooraf

 

 

Van alles waarby Ernst Kotzé in sy loopbaan (en selfs ná sy aftrede) betrokke was, verdien óók sy verbintenis met die Tydskrifvir Geesteswetenskappe (TGW) besondere vermelding - hy is reeds jare lank 'n staatmaker in die redaksie en sedert 2021 is hy lid van die redaksiekomitee wat die redakteur moet bystaan met allerlei (kontensieuse) besluite. Dit is dus gepas dat sy 75ste verjaardag juis ook op hierdie platform gevier word. Vir my persoonlik is dit 'n voorreg om deel te hê aan hierdie klein huldiging wat deur vakgenote geïnisieer is.

Waar hy aanvanklik tydens sy voorgraadse en honneursstudie aan die Universiteit van Kaapstad Afrikaans-Nederlands bestudeer, fokus Ernst Kotzé daarna in sy nagraadse studie aan die Universiteit van die Witwatersrand op Algemene Taalwetenskap (MA-verhandeling) en die sosiolinguistiek (PhD-proefskrif). Later in sy loopbaan verbreed hy sy belangstellings-terreine deur die leksikografie, vertaalkunde, forensiese linguistiek, taalbeplanning en -beleid, historiese taalkunde en taalverwerwing in te sluit. Nie net lewer hy referate by nasionale en internasionale kongresse nie, maar sy grondige navorsing vind ook neerslag in 'n indrukwekkende publikasielys (kyk die aanhangsel aan die einde van hierdie uitgawe).

Ook sy merkwaardige kennis van tale brei hy deurgaans uit en, benewens die aanvanklike kennismaking met Afrikaans, Nederlands, Engels, Duits, Frans, en Italiaans as deeltydse student aan die Universiteit van Kaapstad, bestudeer hy later ook Linguistiek en Zulu aan Unisa. Nog later verken hy Portugees, Spaans, Xhosa, Japannees, Noorweegs, Russies, Moderne Grieks, Pools en Deens. Hierdie verstommende kennis van tale is raakgesien deur die teoloë en kenners van die Bybeltale tydens sy jare lange medewerking aan die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans (kyk die bydraes van Bernard Combrink en Herrie van Rooy in hierdie afdeling).

Sedert sy aftrede in 2008 is Ernst emeritus professor van die Nelson Mandela Universiteit, maar sy loopbaan as akademikus - ná enkele jare as Hansardverslaggewer en komiteeklerk en vertaler by die destydse Volksraad - begin in 1976 as assistentlektor aan die Universiteit van die Witwatersrand. Daarna beklee hy poste met toenemende akademiese en administratiewe verantwoordelikhede aan die Universiteit van Zoeloeland (senior lektor en professor en departementshoof vanaf 1980 tot 1994), en die Universiteit van Port Elizabeth - later hernoem tot die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit / die Nelson Mandela Universiteit - as departementshoof, visedekaan en adjunkskooldirekteur vanaf 1995 tot en met sy aftrede in 2008.

Dat Ernst Kotzé nie net 'n uitnemende akademikus was (en is) nie, maar ook sy teoretiese kennis prakties kon toepas, blyk onder meer uit die talle aktiwiteite buite sy navorsings- en onderrigverpligtinge waarin sy kundigheid benut is. Hy was redakteur, of het in die redaksie gedien, van 'n aantal vakwetenskaplike tydskrifte, waaronder wetenskaplike redakteur van die SA Tydskrif vir Taalkunde (1995-98), asook lid van redaksionele komitees van vakwetenskaplike tydskrifte soos Literator, Lexikos, Tydskrif vir Taalonderrig, SA Tydskrif vir Taalkunde, Southern African Linguistics and Applied Language Studies en Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Terwyl redaksiewerk aan akademiese tydskrifte en die skryf van 'n Afrikaanse grammatika vir die Internet as deel van VivA se werksaamhede nog beskou kan word as verbandhoudend met akademiese aktiwiteite aan tersiêre instellings, getuig sy deelname aan projekte soos die werk van die Taaikommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (waarvan hy van 2003 tot 2013 as voorsitter dien), die Tegniese Komitee vir Standaardisasie van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (PanSAT) en konvenor van die Taaladvieskomitee vir die Die Bybel: 2020-vertaling van die SA Bybelgenootskap van sy bereidwilligheid om sy kundigheid ver buite die grense van deursnee akademiese aktiwiteite beskikbaar te stel en aan te wend.

Noemenswaardig is verder Ernst Kotzé se betrokkenheid by akademiese aktiwiteite selfs ná sy aftrede - hy doen steeds navorsing en publiseer artikels en boek(dele); bring op uitnodiging navorsingsbesoeke aan buitelandse universiteite (bv. 'n verblyf van ses maande aan die Universiteit van Kioto); of lewer referate oor temas soos taalstandaardisering (Universiteit van Leiden), minderheidstale as onderrigmedia in Afrika (werkswinkel in Nairobi, gereël deur Duits-Afrika-netwerk van Alumni en Alumnae).

Enkele grepe uit die bydraes in hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe illustreer die hoë waardering vir die besonderse bydrae van 'n gerekende en meelewende akademikus, kollega en vriend. Tom McLachlan vestig die aandag op sy "verbysterende taal-, tale- en taalkundekennis" en Frikkie Lombard tipeer hom in 'n gedig as "... Ernst, die poliglot: / op tale totaal versot". Wannie Carstens huldig hom vir "die taalkundige 'boedel' wat hy nalaat" en wat volgens hom "'n kosbare nalatenskap aan en vir Afrikaans [is]: publikasies oor 'n verskeidenheid taalkundige onderwerpe (onder meer oor sintaksis, morfologie, sosio-linguistiek, kreolistiek, taalgeskiedenis en historiese taalkunde) en ook die baanbrekende woordeboeke waarby hy betrokke was: Afrikaans - Zoeloe, Afrikaans - Japannees)".

In aansluiting hierby stel Frank Hendricks ook onomwonde Ernst se betekenisvolle bydrae tot Afrikaans:

Jy het veel vir Afrikaans gedoen:

Jy stel 'n hoë premie op die heterogene aard van die Afrikaanse taal en jy het ook prominensie verleen aan die linguistiese verrekening van vorme van Afrikaans wat met persone van kleur geassosieer word. Van besondere betekenis in dié verband is jou keuse van die Afrikaans van Zulusprekendes as onderwerp vir jou magisterverhandeling en van Kaapse Moesliemafrikaans as onderwerp vir jou doktorale proefskrif (en dít in die jare van apartheidshoogkonjunktuur), jou artikels en referate oor hierdie twee vorme van Afrikaans, jou baanbrekerswerk betreffende die kensketsing van die talige aard van Kaapse Moesliemafrikaans, jou verkenning van Arabies-Afrikaanse geskrifte asook jou latere leeueaandeel en aanvoorwerk insake die opneem van 'n aantal leksikale items uit die skryftaal van Moesliemafrikaanssprekendes in die 2009- en 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

Sy bydrae tot Afrikaans vind ook gestalte in sy betrokkenheid by Die Bybel: 2020-vertaling in Afrikaans. Hieroor merk Bernard Combrink op: "Gedagtig aan die besonder belangrike rol wat die Nederlandse en Afrikaanse Bybels gespeel het in die vestiging en ontwikkeling van Afrikaans, kan die kardinale rol wat prof. Kotzé in die 2020-vertaling vervul het met betrekking tot die voortbestaan en behoud van Afrikaans, moeilik oorskat word." Herrie van Rooy vul hierdie mening aan deur te sê dat hy "'n groot bydrae gelewer [het] tot die goeie, verstaanbare Afrikaans wat 'n besondere eienskap van hierdie vertaling is".

Nie almal wat tot hierdie huldigingsuitgawe bygedra het, verwys noodwendig direk na Ernst Kotzé in hulle bydraes nie. Luan Staphorst was student aan die Nelson Mandela Universiteit nadat Ernst reeds vertrek het, maar hy toon deur sy bydrae aan dat Ernst se invloed nog lank ná sy vertrek aanvoelbaar was in die bestudering en onderrig van tale. Annél Otto het benewens haar artikel in hierdie uitgawe ook Ernst se uitgebreide CV beskikbaar gestel. My opsomming van Ernst se aktiwiteite hier bo en die lys van publikasies aan die einde van die uitgawe (kyk pp. 730-736) berus op hierdie uitgebreide CV Gerhard van Huyssteen en Theo du Plessis se bydraes kommunikeer, deur middel van hul eie belangstellingsvelde, hulle erkenning vir die innoverende werk van 'n medetaalkundige.

Ter afsluiting: ook my waardering, nie net vir Ernst se onbaatsugtige ondersteuning van die TGW nie, maar ook vir sy besonderse bydrae tot die uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal.

Ina Wolfaardt-Grãbe

Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe. E-pos: publikasies@akademie.co.za

Augustus, 2023

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License