SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número2NP van Wyk Louw: To walk in the shoes of the great ...Louw set free: A riff on a seam índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.2 Pretoria Jun. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n2a16 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Outeur: ELP Stals
Titel: Jagters, Slagters en Wildwagters in Suidwes-Afrika: Kroniek van Mens en Wild: Die verhaal tot 1960
Plek en uitgewer: Windhoek: Padlangs Publications, 2022.

Ernst Stals doen oor die afgelope ongeveer sestig jaar navorsing oor die geskiedenis van Suidwes-Afrika/Namibië. Sy werke getuig van 'n besondere aanvoeling vir die land, wat hy van hoek tot kant deurreis het, en sy mense. In sy navorsing laat hy hom nie lei deur die politieke gees van die tyd nie en gee hy erkenning aan elke volksgroep wat hierdie besondere land se geskiedenis help vorm het.

Stals se navorsing is geskoei op die lees van die Stellenbosse Geskiedenis-departement se tradisie van omvangryke primêre argivale navorsing. 'n Tradisie wat hy ook in hierdie publikasie voortsit.

Die 13 hoofstukke waarin Jagters, ens. ingedeel is, volg logies op mekaar en toon Stals se insig in die tema. Dit dek kortliks die volgende:

Van die voor-Duitse tyd toe die inheemse volksgroepe vir oorlewing gejag het, tot die fase waarin die gejaag na wins gedreig het om die wildbevolking uit te roei

Die Duitse bewind wat ten spyte daarvan dat dit eers sy voete in die koloniale wêreld moes vind, die eerste stappe - al was dit aanvanklik net op papier - geneem het om die land se wildstapel te beskerm

Die tydperk van militêre bewind ná die Eerste Wereldoorlog toe 'n raamwerk vir toekomstige wildbewaring daargestel is

Die Suid-Afrikaanse bewind tot die Tweede Wêreldoorlog toe wetgewing vir wild-bewaring in meer besonderhede uitgevaardig is wat onder andere gelei het tot die skep van wildreservate waarvan dié by Etosha die belangrikste was

Die politieke binnegevegte om te besluit watter departement eintlik vir wildbewaring verantwoordelik moet wees en die probleme wat dit geskep het

Die rol van persoonlikhede in die stryd om en die omskepping van wildbewaring tot 'n toeriste-aantrekkingskrag

Die wyse waarop Stals sy materiaal aanbied deur eers 'n kort hoofpuntsgewyse oorsig van die hoofstuk te gee; dit op te volg met 'n feitelike uiteensetting; en dit daarna af te sluit met 'n samevattende oorsig, dra baie daartoe by om die leser deurgaans betrokke te hou.

Die skrywer verskaf nie slegs feite oor wat gebeur het nie maar toon sy insig in waarom dit gebeur het.

In hierdie opsig verduidelik hy die rol van die land se geografie en demografie; die stryd tussen jag, uitwissing en handel; asook die konflik tussen die inkomende blanke boere, wat telkens weens die droogtes in 'n oorlewingstryd was, en die bewaring van die land se wildstapel. Tesame daarmee beskryf hy die mate waarin amptenaar en boer na oplossings vir hierdie probleem gesoek het. Terselfdertyd verwys die skrywer na die mate waarin die regering van die dag óf in die gees van internasionale standpunte opgetree het óf as gevolg van plaaslike omstandighede daarvan verskil het.

Jagters, ens. is ryklik geïllustreer met foto's en insette van byvoorbeeld oorspronklike briewe wat die gehalte van die publikasie aansienlik verhoog.

Wat die teks betref, is daar enkele opmerkinge.

Die skrywer het verkies om die gedetailleerde beskrywing van die wildsoorte in die teks te plaas (pp. 4-9). Sou dit die gang van die teks versteur het indien dit as 'n aanhangsel aangebied is?

Waarom sou "rietbokke" as grootwild én kleinwild aangedui word?

Waar die grense van die wildreserwes bespreek word, sou enkele kaarte ongetwyfeld die leser gehelp het om die probleem beter te verstaan (pp. 84,190).

Die drukkersduiwel het ook sy rol gespeel ten opsigte van paragrafering (pp. 13, en 94) en sinsnede-spasiëring (pp. vi en 112).

Met hierdie publikasie lewer Ernst Stals 'n gesaghebbende en noodsaaklike bydrae ten opsigte van die wetenskaplike navorsing en skrywe van Namibië se kleurryke geskiedenis en is 'n belangrike gaping in die land se geskiedskrywing gevul.

Dr. G Pool

E-pos: docpool@mweb.co.za

Maart 2023

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons