SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número2NP van Wyk Louw's Die pluimsaad waai ver, of Bitter begin revisitedThe theme of love in Tristia by NP van Wyk Louw and his "Groot ode" as a love elegy índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.2 Pretoria jun. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n2a15 

TAALRUBRIEK

 

Om te ge- of nie te ge- nie

 

 

I

Onlangs het die kop van 'n hoofartikel in 'n bekende Afrikaanse dagblad gelui: "Nehawu moet sy staking dadelik aflas in SA belang".

Dis 'n vreemde woord, dié "aflas". In hedendaagse Afrikaans ken ons die werkwoord las, gelas hoofsaaklik in die betekenis van byvoorbeeld 'stukke, dele (van iets) weer aan mekaar vasheg', en die selfstandige naamwoord las, laste is dan die plek of punt van vashegting. Daarom is die idee van "aflas", as 'n samestelling van af en las, moeilik om te konsipieer, want hoe "las" 'n mens iets "af, weg, tot niet, ondertoe"?

Nederlands, volgens die WNT, ken wel die werkwoord lasten in die betekenis van 'Aan iemand een last of opdracht geven, hem iets belasten; of ook, in eene iets sterkere opvatting, iemand iets gelasten, bevelen', maar so selfstandig gebruik, is lasten skynbaar nie baie algemeen nie. Vir alle praktiese doeleindes word las in dié betekenis nie in hedendaagse Standaardafrikaans gebruik nie, hoewel die WAT dit aanteken as "ww. het gelas. (ongewoon) Gelas".

Verskeie Afrikaanse en Nederlandse bronne merk aflas/aflasten eenvoudig as onjuis, minder juis, verkeerd, nie korrek nie, nie standaardtaal nie of iets dergeliks.

Die ooreenstemmende selfstandige naamwoord las word egter wel nog in Afrikaans gebruik, veral in die veel voorkomende (en meestal onnodig gebruikte) uitdrukking "Op las" onderaan allerlei kennisgewings, of saam met gee, bv. "Die hof het las gegee dat wat ook nie juis algemeen is nie.

Die werkwoord wat vandag verreweg die meeste in Afrikaans en Nederlands in hierdie betekenis van 'beveel, opdrag gee' gebruik word, is onderskeidelik gelas en gelasten. As iets dus afgelas word, dan beteken dit dat gelas of beslis word dat iets nie meer voortgaan nie en dus afgestel (moet) word.

In bogenoemde hoofartikelopskrif is die bedoeling dus dat die bestuur of 'n gesagsorgaan van Nehawu moet beslis of opdrag moet gee dat die beplande staking nie moet of mag voortgaan nie. As ek dit moes redigeer, sou ek geen oomblik gehuiwer het om dit te wysig tot "Nehawu moet sy staking dadelik afgelas in SA belang" nie.

Hoewel die voorvoegsel ge- so dikwels gebruik word om die verledetydsvorm van 'n werkwoord aan te dui, is dit nie altyd so nie, soos juis in die geval van gelas, want dié werkwoord behou in al drie tydsvorme die ge-:

Die vakbond gelas die staking af.

Die vakbond het die staking afgelas.

Die vakbond sal die staking afgelas.

Werkwoorde met ge- wat nie die verlede tyd aandui nie, is natuurlik nie tot gelas beperk nie. Dit is nogal vreemd dat gelas, volgens my ondervinding, die enigste werkwoord in dié groep is waarby dié ge-afkapping voorkom. Dink maar aan gevalle soos die volgende:

gebeur (dit gebeur; dit het gebeur; dit sal gebeur)

gebied (die hof gebied jou; die hof het jou gebied; die hof sal jou gebied)

gebruik (ek gebruik dit; ek het dit gebruik; ek sal dit gebruik)

gedenk (ons gedenk die gebeure; ons het die gebeure gedenk; ons sal die gebeure gedenk)

gedoog (ons gedoog die toestand; ons het die toestand gedoog; ons sal die toestand gedoog)

gedra (hulle gedra hulle; hulle het hulle gedra; hulle sal hulle gedra)

gedy (kinders gedy in 'n goeie skool; kinders het in 'n goeie skool gedy; kinders sal in 'n goeie skool gedy)

geluk (dit geluk haar; dit het haar geluk; dit sal haar geluk)

genees (die wond genees; die wond het genees; die wond sal genees)

geniet (hulle geniet dit; hulle het dit geniet; hulle sal dit geniet)

geraak (daar word tot die gevolgtrekking geraak; daar is tot die gevolgtrekking geraak; daar sal tot die gevolgtrekking geraak word)

gesels (ons gesels; ons het gesels; ons sal gesels)

geskied (dit geskied so; dit het so geskied; dit sal so geskied)

getroos (jy getroos jou die moeite; jy het jou die moeite getroos; jy sal jou die moeite getroos)

getuig (sy getuig in die hof; sy het in die hof getuig; sy sal in die hof getuig)

geval (dit geval hulle nie; dit het hulle nie geval nie; dit sal hulle nie geval nie)

Volgens die WNT versterk die voorvoegsel ge- die betekenis van die grondliggende werkwoord wat deur ge- afgelei word, maar soms het die grondwoord in onbruik geraak, byvoorbeeld by gebruik, gedoog, genees en geniet.

 

II

Baie mense het op skool geleer dat werkwoorde wat op -eer uitgaan, nie ge- in die verlede tyd kry nie. Dit is gedeeltelik waar, maar die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2017) sit in sy reëls 19.3 tot 19.5 die ware situasie mooi uiteen, naamlik:

Werkwoorde wat op -eer uitgaan, wat twee lettergrepe het en wat die hoofklem op die tweede lettergreep het, vorm die verlede tyd met of sonder ge-, bv. groepeer: het gegroepeer OF het groepeer; hanteer: het gehanteer OF het hanteer; waardeer: het gewaardeer OF het waardeer.

Werkwoorde wat op -eer uitgaan en wat drie of meer lettergrepe het, vorm die verlede tyd met ge-, byvoorbeeld fotografeer: het gefotografeer; herstruktureer: het geherstruktureer; identifiseer: het geïdentifiseer; restoureer: het gerestoureer.

Die verledetydsvorme van die werkwoorde word voltooide of verlede deelwoorde genoem en kan as byvoeglike naamwoorde voor selfstandige naamwoorde gebruik word. Dan word slegs die ge-vorme gebruik, ongeag die aantal lettergrepe, byvoorbeeld gegroepeerde dokumente; gehanteerde probleme; gewaardeerde vriend; geïllustreerde boek; gefotografeerde landskap; geïdentifiseerde patogeen.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

 

BRONNE GEBRUIK

Philippa, M. e.a. (red.). 2004-2009. Etymologisch Woordenboek van het Nederlands [A-R]. Amsterdam: AUP.         [ Links ]

Instituut voor de Nederlandse Taal. 2007-2018. Woordenboek der Nederlandsche Taal [aanlyn].         [ Links ]

Botha, WF (hoofred.). 2009. Aanlyn Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Stellenbosch: Buro van die WAT.         [ Links ]

Taalkommissie van die SAAWK. 2017. Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Kaapstad: Pharos.         [ Links ]

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons