SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue2NP van Wyk Louw: Opstelle vir 'n oorgangstyd ('n voorwoord) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.2 Pretoria Jun. 2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n2a1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1): GELOOF EN WETENSKAP

 

Redakteursnota

 

 

In hierdie afdeling word die eeu oue vraagstuk oor die verwantskap tussen geloof en wetenskap op 'n boeiende wyse beredeneer.

Elke artikel word ingelui met 'n verslag oor die mees resente natuurwetenskaplike navorsing - vanaf evolusieteorie tot die jongste "ontdekkings" met behulp van die James Webb-teleskoop. Die outeurs toon aan dat alhoewel die meerderheid kontemporêre wetenskaplikes steeds bewyse voorhou dat lewe 'n natuurlike oorsprong gehad het, daar ook 'n groeiende getal gesaghebbende navorsers is wat beweer "dat die voorwaardelike toestande vir lewe, sowel as die kompleksiteit daarvan, dui op fyn beplande, begeleide meganismes". In hierdie vier artikels bevraagteken en problematiseer die outeurs daarom 'n uitgangspunt wat by voorbaat enige metafisiese interpretasies oor die ontstaan van die skepping uitsluit.

In teenstelling met 'n uitsluitend-normatiewe materialistiese vertrekpunt, skaar die outeurs hulle by navorsers wat oop is vir ander verklarings en wat die data volg tot die mees waarskynlike, logiese gevolgtrekking, naamlik "die voortdurende betrokkenheid van 'n Skepper vanaf voor die beginmoment van die skepping, tot op hede".

Die sentrale uitgangspunt - wat stap-vir-stap uiteengesit word - is daarom "dat kontemporêre waarnemings in alle dissiplines van die natuurwetenskap, die beste verklaar word deur die bestaan en betrokkenheid van God in die skepping". Die outeurs redeneer dat daar steeds talle onbeantwoorde vraagstukke is wat nóg deur natuurwetenskaplikes, nóg deur teoloë afdoende verklaar kan word en dat dit daarom noodsaaklik is dat:

Natuurwetenskaplikes wat strewe na integriteit in hul wetenskapsbeoefening, ... alle moontlike verklarings vir empiriese data met 'n gelyke mate van respek en aandag [behoort] te oorweeg in hul soeke na die waarheid

Die redaksie nooi lesers hiermee uit om te reageer op die artikels, hetsy deur 'n (kort) meningstuk of'n volwaardige navorsingsartikel. Ons akkommodeer graag debat en diskoers oor belangwekkende vraagstukke vanuit verskillende uitgangspunte.

Ina Wolfaardt-Gräbe

Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe

E-posadres: publikasies@akademie.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License