SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue1An exploration of earth system vulnerability in the context of landfills in the AnthropoceneCreation of infrastructure during the Prime Ministry of BJ Vorster: Asset or liability for the South African economy? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n1a13 

BOEKBESPREKING / BOOK REVIEW

 

Vier skrywers met sterstatus

 

 

Titel: Blisverkopers, beeldvorming en bemarking
Outeurs: Joanita Erasmus-Alt en HP van Coller

Hierdie boek van Joanita Erasmus-Alt en HP van Coller handel oor 'n aspek van die letterkunde waaroor daar baie misverstand en selfs onkunde bestaan, naamlik die heel praktiese en pragmatiese aspekte van die boekebedryf as die bedryf waarbinne boeke en die letterkunde tot bestaan en sigbaarheid kom, waarbinne skrywers gedy of verdwyn. Die boekebedryf is 'n groot, omvattende en veelfasettige meganisme waarsonder boeke in die onlangse eeue nie geproduseer, bemark en versprei kan word nie. Die meeste skrywers is van hierdie instansies afhanklik om gelees te kan word, om bekend te word en om erkenning vir hulle werk te kry. Maar hier, soos oral in die werklikheid, is almal gelyk, maar sommiges is wel meer gelyk as ander (met apologie aan Orwell). Daar is nie bose opset nie, maar as 'n manuskrip raakgesien word deur die regte uitgewer, as die manuskrip duidelik talent en oorspronklikheid toon en handel oor die regte tema op die regte tyd, veral ook as die skrywer bemarkbaar is, word daardie manuskrip 'n boek met vlerke en die skrywer 'n ster. Die ander uiterste van hierdie situasie is die posisie van iemand soos Emily Dickinson wat haar verse gestuur het vir haar vriend/raadgewer/uitgewer wat haar bemoedig het, maar nie gedink het haar werk is publiseerbaar nie. En tot vandag weet almal wat letterkunde ken van haar en baie lesers dra een of meer van haar gedigte in die geheue saam as iets wat nie vergeet kan word nie.

Die navorsing wat Joanita Erasmus-Alt onder leiding van HP van Coller gedoen het vir haar proefskrif, is die basis van hierdie boek maar dit word hier in 'n "sterk gewysigde vorm" onder die titel Blitsverkopers, beeldvorming en bemarking aangebied. Die kernidee in die boek is dat boeke, meer of minder populêr en selfs "hoë" literatuur, nooit in 'n vakuum of in isolasie tot stand kom en bestaan nie, maar deel vorm van 'n veel groter tydgebonde werklikheid ten opsigte van ekonomiese aspekte soos produksie en bemarking en verspreiding asook ten opsigte van ideologiese en kulturele aspekte in 'n bepaalde tydsgewrig. Een van die doel-stelllings van die boek is om 'n manier te vind om hierdie komplekse interaktiewe terrein te verken, te beskryf en te ontleed en om die verworwe insigte dan aan die hand van gevallestudies te toets.

Hierin slaag die boek dan ook inderdaad. Na 'n inleidende hoofstuk volg daar drie hoof-stukke waarin 'n groot aantal teorieë verken word oor die rol en posisie van die skrywer, oor die plek van literêre (en populêre) tekste in die wyer veld of binne groter sisteme in die omwêreld van die teks en oor aspekte van beeldvorming in die geval van skrywers. Die teoretiese uiteensettings is deeglik en noukeurig gedoen. Dit is ook goed georden sodat die leser daar 'n greep op kan kry. Dit is wel heel tegniese teoretiese materiaal wat hanteer word maar vir studente wat navorsing wil doen oor verskillende veldteorieë en sisteemteorieë, kan dit besonder nuttig wees. Die uiteensettings is helder geformuleer sodat die kernkonsepte van belangrike teoretici uit verskillende tradisies op 'n bruikbare wyse en met inbegrip van historiese ontwikkelinge, verduidelik word, onder meer die formalistiese en strukturalistiese werk van Even-Zohar, die konstruktivisme van Schmidt en Luhman, die veldteorie van Bourdieu asook van die Nederlanders Van Rees en Dorleijn, Heinich se kunssosiologie en Meizos se siening van die postuur van 'n kunstenaar. Op dieselfde noukeurige manier word aspekte van beeldvorming van kunstenaars/skrywers behandel. Die boek se teoretiese gedeelte is dus omvattend en toon dat daar nie net wyd navorsing gedoen is nie (wat ondersteun word deur die besonder indrukwekkende uitgebreide bibliografie), maar dat die materiaal met insig hanteer word. As iemand helder kan skryf oor moeilike en abstrakte onderwerpe, beteken dit daardie teorieë en konsepte is deeglik bemeester.

Die volgende vier hoofstukke berus op net sulke deeglike en uitgebreide navorsing maar is baie interessant en sal selfs vir gewone lesers, wat nie in literêre teorieë geskool of daarin geïnteresseerd is nie, boeiend wees. Vier suksesvolle skrywers, Dalene Matthee, Marita van der Vyver, Francois Smith en Bibi Slippers, word ondersoek na aanleiding van omstandighede rondom daardie spesifieke boek wat 'n deurbraak was, wat 'n blitsverkoper geword het en die skrywers 'n huishoudelike naam gemaak het.

Trouens, op die buiteblad van die boek is daar lyntekeninge van die vier skrywers se gesigte, die meer besadigde gesigte van Dalene Matthee en Francois Smith aan die kante en Marita van der Vyver met haar guitige keps en Bibi Slippers met haar polkadot rok in die middel - 'n goeie weergawe van 'n kernaspek van elkeen van die vier skrywers se beeld of postuur om met die boeke se woorde te praat.

Van elke skrywer word 'n kort biografiese skets verskaf en daarna gefokus op relevante buitefaktore wat die aard van die skrywer en sy/haar werk bepaal of beïnvloed het. Ek gaan nou nie daardie argumente as sodanig hier weergee nie, maar dit kom daarop neer dat daar gekyk is na die skrywer se vorige publikasies en plek in die wêreld van woorde en skryf, met ander woorde die bestaande (of nie-) oeuvre en die aard daarvan, die ontdekking of ontwikkeling van die bepaalde manuskrip, die hantering daarvan, die publikasie en redaksionele werk daaraan en dan die bemarking, wat insluit die bemarking van die persona van die skrywer. Uiteindelik gaan dit ook op die resepsie van die boek in. Resensies en artikels asook die latere volhoubaarheid van die skrywer se statuur deur opvolgwerk en verdere bemarking en blootstelling. Al die verskynsels word beskryf in terme van die voorafgaande teorieë sodat dit duidelik word dat dit nie gaan om bloot persoonlike interpretasies van prosedures en strategieë nie, maar dat al hierdie sake in 'n wyer perspektief beskou word as algemene verskynsels hier en internasionaal.

Die boek sluit af met 'n hoofstuk waarin die stof ietwat anders maar verhelderend saamgevat word. En dan is daar die werklik omvattende bibliografie (75 bladsye) en 'n register van terme (byna 19 bladsye) wat uiters nuttig is. Die teks is goed versorg hoewel ek enkele setfoutjies raakgelees het. Veral in die inhoudsopgawe is foute, maar ek vermoed dit het met die rekenaarweergawe van diakritiese tekens te make. Oorsigtelik beskou is die boek 'n deeglike stuk werk.

Mens sou kon dink dat 'n studie soos hierdie 'n neerdrukkende uitwerking op skrywers kan hê. As jou werk nie op die regte tyd deur die regte persoon raakgesien word nie, kom daar geen magtige uitgewersbedryf in aksie om jou en jou werk te dra nie. Met jou keuse van uitgewer (en in Suid-Afrika is die keuses klein omdat die NB verskeie uitgewershuise in homself herberg met slegs enkele kleiner onafhanklike uitgewers) of meer nog, met die aanvaarding vanjou manuskrip deur 'n bepaalde uitgewer (en die groot uitgewerye kan bekostig om uit te soek en te besluit soveel van dit en soveel van dat) is jou pad as skrywer bepaal. Sterk magte in die bedryf kan bemark van voor publikasie af en dit volhou tot by kunstefeeste.

Mens moet egter onthou dat selfs intensiewe eksterne pogings nie 'n swak boek tot lewe kan bring nie. As die goeie boek (of die regte boek op die regte tyd) geskryf word, moet mens bly glo dat dit wel raakgesien sal word, selfs sonder al die hulp en stutte en konneksies.

Dit bring my by 'n ander punt: As mens lees hoe hierdie skrywers almal voor die verskyning van hulle blitsverkopers reeds verbind was aan óf die uitgewer self, die joernalistiek (van koerante en webblaaie verbonde aan die uitgewer of persmaatskappy), met kwalifikasies in Afrikaans (of ander letterkundes) óf selfs 'n dosent in Afrikaans is, en hoe daar verbintenisse bestaan tusssen resensente en artikelskrywers en joernaliste en die skrywers, kan jy twyfel aan die werklike waarde van en aan die waarde-oordele oor tekste.

Weer eens, moet mens verder dink. Die Afrikaanse letterkunde is 'n klein letterkunde en Afrikaans 'n klein en selfs krimpende taal. In Afrikaans het jy ook die verskynsel dat mense wat letterkunde of taalkunde in Afrikaans doseer, self ook skryf. In Nederland byvoorbeeld is die wêrelde van skryf en onderrig en navorsing absoluut geskei en hulle is agterdogtig oor 'n vermenging van funksies. Maar in Afrikaans was dit nog altyd so, Malherbe het klasgegee, Van Wyk Louw en Opperman het, Joan Hambidge en Henning Pieterse is dosente en so kan mens aangaan. Dit is gewoon die werklikheid vir 'n klein taal.

Dit is dan ook onvermydelik dieselfde groep mense wat in 'n bepaalde tydsperiode in die veld van die letterkunde werksaam is: dosente van Afrikaans, akademici en navorsers op die terrein van die Afrikaanse letterkunde en taalkunde asook Afrikaanse j oernaliste doen dikwels hulle werk om den brode en skryf ook, skryf ook resensies van mekaar se werk en bestudeer die tekste en doseer daaroor. Dit beteken nie dat hulle oordeel altyd skeefgetrek is nie: ek glo dit is soms wel skeef, want mens moet nugter ook wees (ons leef nog in die ondermaanse en sommige mense hou meer en minder van mekaar), maar die meeste van hulle probeer objektief en eerlik wees, ook omdat hulle weet dat hulle min van die ander kan flous. Hulle weet van mekaar se konneksies en hou mekaar ook maar dop. Die meeste van hierdie mense is egter ook belese in ander tale, Engels, Nederlands en Duits en Frans, en het darem 'n wyer verwysingsveld as net Afrikaans as hulle tekste beoordeel.

Die blote feit dat die moeilik hanteerbare maar onontkombare praktiese aspekte van die literêre veld so sterk op publikasies en die lewe ná publikasie inwerk, bly 'n aktuele onderwerp en hierdie boek maak 'n groot bydrae om die saak te verhelder en die kontoere daarvan aan te toon.

Heilna du Plooy

Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit
Potchefstroom, Suid-Afrika
E-pos: heilna.duplooy@nwu.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License