SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número1Max-Neef and the structural vulnerability of day labourers in Mbombela and Emalahleni, South AfricaSocial resilience, structural vulnerability and capabilities in Genadendal, South Africa índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n1a10 

TAALRUBRIEK

 

'n Soort taalcredo

 

 

Onlangs gee prof. Ernst Kotzé my 'n artikel te lese oor taalergernisse in Nederlands en taaladviesboeke wat sulke ergernisse probeer regstel. Ek het toe gedink dit is miskien goed om hier aan die begin van 'n nuwe jaar in 'n soort beleidsverklaring te sê wat ek (en die redakteur van die TGW) met hierdie taalrubriek probeer bereik, soos ook met die TGW se vereiste dat artikels behoorlik taalversorg moet wees.

Onthou egter asseblief dat ek en die TGW hoofsaaklik met die standaardvariëteit van Afrikaans gemoeid is.

Ek wil ook sê waar ek beroepsgewys vandaan kom: Ek is reeds net meer as 50 jaar met Afrikaans in die praktyk doenig, aanvanklik in 'n onderrigomgewing en goed meer as 40 jaar in die taalpraktyk (teksredigering/taalversorging en vertaling). In dié tyd - tot vandag toe - kry ek gereeld "taalnavrae": Wat is die regte Afrikaans vir XYZ? Hoe spel 'n mens dit of dat? Is sus of so een of twee woorde? En so meer en so voort. In die sewentiger- en tagtigerjare moes ek in 'n stadium in die Staatstaaldiens boekhou van die aantal navrae wat ek per maand beantwoord het, en ses tot agt per dag was nie vreemd nie.

In sowel die onderrig- as die praktyksomgewing moes ek dus aandui wat "reg" en wat "verkeerd" is, dus wat aan die taalnorme voldoen en wat nie daaraan voldoen nie.

Deur die jare het ek ook gesien hoe Standaardafrikaans in sommige opsigte verander het. Ek wil dus hoegenaamd nie aanvoer dat Afrikaans onveranderlik is of behoort te wees nie. Enige lewende taal is voortdurend aan die evolueer.

Ek weet goed dat baie taalteoretici hierdie soort normatiewe benadering tot taal (om te sê wat "reg" en wat "verkeerd" is, of wat moet en wat nie moet nie) veroordeel, want na hulle mening is daar nie iets soos "reg" of "verkeerd" in taal nie - hoogstens miskien "geskik" en "minder geskik". Op 'n sekere teoretiese vlak kan ek dit verstaan en selfs onderskryf, maar die praktyk het my geleer dat die "gewone mense" - die skrywende en pratende publiek - óf nie 'n duiwel omgee nie en doen wat hulle wil, óf wil weet wat reg of verkeerd is en dan ook nie 'n hand vol alternatiewe wil hê nie.

Vir my is dit logies om te dink dat as een standaardtaalnorm geld, 'n ander een eweneens kan geld, mits albei natuurlik min of meer redelik is. In die laat 19de en vroeë 20ste eeu was daar byvoorbeeld geen gestandaardiseerde spelvorm vir Afrikaans nie. Sommige het volgens die GRA-stelsel hoogs gefonetiseerd gespel, ander het nog so veel moontlik Nederlandse spelling gebruik en waarskynlik die meeste het 'n mengsel van die twee geskryf. In die eerste Afrikaanse woordelijs en spelreëls (1917) het die Woordelijs-Kommissie in die voorwoord geskryf dat die gebrek aan 'n algemeen erkende spelsisteem in Afrikaans belemmerend op die ontwikkeling van die taal en die publikasie van byvoorbeeld onderwysmateriaal ingewerk het (AWS 1917:vi).

In dieselfde voorwoord (AWS 1917:iv) sê die Kommissie: "Op baing punte heers daar nog heelwat onsekerheid. Maar die nodige vastheid kan ons alleen krij deur meer en meer ons taal als kultuurtaal [lees: standaardtaal] te gebruik."

Hierdie eerste AWS het dus 'n norm gestel en "die nodige vastheid" het inderdaad in die meer as 'n eeu daarna ontwikkel. Natuurlik is daardie en sulke norme nie in klip gegrif nie - dit het met verloop van tyd in sekere opsigte verander, hier byvoorbeeld die spellings baing en krij. Die punt is egter dat daar 'n norm gestel is wat 'n wesenlike bydrae tot die ontwikkeling van die standaardvariëteit van Afrikaans gelewer het. Mettertyd het taalkundiges al hoe meer norme, of dan "reëls" of reëlmatighede, uit die taal soos hy gebruik word, geabstraheer.

Hoewel die standaardvariëteit van Afrikaans vandag in sommige opsigte nie meer presies is soos wat dit in, sê maar, 1917 of1950 of 1985 was nie, is daar tog nog steeds norme (hoewel 'n mens dit soms kwalik kan glo as jy luister hoe mense praat en sien hoe mense skryf).

Een van die belangrikste norme is myns insiens die idioom van Standaardafrikaans. Met "idioom" bedoel ek hier wat die WAT noem die geheel van uitdrukkinge, segswyses, sinswendinge wat eie is aan 'n bepaalde taal of groep sprekers. Een van die groot taalghoeroes van die vorige eeu, prof. SPE Boshoff, het dit by geleentheid vergelyk met 'n mens se stem, wat dit meestal moontlik maak om, sonder jy die persoon sien, hom of haar aan sy of haar stem te identifiseer, byvoorbeeld 'n omroeper of sanger wat jy oor die radio hoor. Net so identifiseer 'n taal se idioom hom en onderskei dit hom van ander tale.

Om die heersende norme van Afrikaans (en enige taal) te ignoreer of te misken, toon disrespek vir die taal se sprekers, kan 'n blyk van onkunde wees, kan 'n lees- of begripsbelemmering word en kan 'n refleksie op die skrywer of spreker werp.

Die TGW wil Standaardafrikaans in tekste van wetenskaplike gehalte bevorder en hy doen dit deur die heersende taalnorme te handhaaf. My taak as taaladviseur vir die redakteur en as rubriekskrywer is om soms sekere norme uit te lig en te bespreek, te sê wat moet en wat liefs nie moet nie. My standpunt is dat indien 'n vaste norm soos spelreëls aanneemlik is en nut het, ander taalnorme, al is hulle nie noodwendig so vas gereglementeer soos die spelreëls in die AWS nie, ewe aanneemlik en nuttig behoort te wees.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons