SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número1The triumph of the silver screen: Christiaan Olwagen's film adaptation of The SeagullMax-Neef and the structural vulnerability of day labourers in Mbombela and Emalahleni, South Africa índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n1a8 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Van apartheid na 'n bedeling gegrond op fundamentele regte in Suid-Afrika: Het die politieke transformasie gelei tot 'n verbetering in onderrig en leer?

 

From apartheid to a fundamental rights dispensation in South Africa: Did political transformation result in an improvement in education?

 

 

Izak OosthuizenI; Hannes van der WaltII

INavorsingsgenoot, Edu-HRight Navorsingsfokusarea, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika E-pos: Izak.Oosthuizen@nwu.ac.za
IINavorsingsgenoot, Edu-HRight Navorsingsfokusarea, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika E-pos: hannesv290@gmail.com

 

 


OPSOMMING

Gedurende die Suid-Afrikaanse apartheidsbedeling het talle aspekte van die samelewing mank gegaan aan die erkenning en toepassing van fundamentele regte soos vryheid, gelykheid en menswaardigheid. In plaaslike wetgewende bepalings was daar geen gelyke beregtiging vir mense van kleur nie. Die gevolg daarvan was dat leerders uit hierdie gemeenskappe ontneem is van gelyke toegang tot onderwysgeleenthede. Gedurende die 20ste eeu het verskeie internasionale instrumente verskyn wat die belangrikheid van gelyke toegang tot die onderwys vir almal uitgestippel het. Weens die heersende apartheidsbestel het die Suid-Afrikaanse regering nie hierdie dokumente onderteken nie, en gevolglik is nie een van hierdie dokumente amptelik geratifiseer vir toepassing in Suid-Afrika nie. Die negentigerjare, met die promulgering van die nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet, het egter 'n drastiese verandering in onderwysbeleid teweeg gebring. Veral die hoofstuk oor fundamentele regte in die Grondwet het sterk klem gelê op waardes soos vryheid, gelykheid, gelyke beregtiging en menswaardigheid, met inbegrip van gelyke, vrye toegang tot primêre onderwys. Internasionaal-vergelykende opnames sedert die grondwetlike oorgang skyn egter daarop te dui dat hierdie oorgang nie ook die verwagte uitkomste meegebring het wat die geletterdheids- en gesyferdheidsvermoëns van die leerders betref nie.

Trefwoorde: fundamentele regte, gelykheid, apartheid, verandering, onderwys, onderrig en leer


ABSTRACT

During the years of apartheid governance in South Africa, insufficient emphasis was placed on the recognition of human values and fundamental rights such as freedom, equality, equity, and human integrity. In many respects, this neglect had a damaging effect on the South African society, in particular on the rights of people of colour to free and equal access to basic education. National educational provisions categorised education into four separate departments of education, one for each of the South African racial groups. This approach was in force for the best part of the 20th century, despite the fact that various international instruments such as the Universal Declaration of Human Rights of 1948 and the International Declaration of the Rights of the Child of 1959 strongly insisted on equality, and free access to education for all. The latter Declaration, in its preamble, placed special emphasis on the interests of the child, stating that all of mankind owed the child the best it was able to impart.
The aim of the research reported in this article was to identify the processes entailing a pendulum-swing from racial discrimination in education to the adoption of statutory mandates that would ensure equal access to education for every citizen in the country. The investigation also attended to case law that gave legal expression to this turnaround in education. The investigation culminated in the critical question of whether, in terms of some recent comparative international ratings of learners ' reading and numeracy skills, the quality and standard of teaching and learning in South African schools had benefited from the transition to a democratic dispensation, or whether teaching and learning had been neglected in the process. A hermeneutic-constructivist approach was followed in searching for answers to these questions.
The swing towards equal access to education in South Africa began in the 1990s. The first step was the promulgation of the Interim Constitution of 1993, followed by the final Constitution of the Republic of South Africa in 1996. The chapters on fundamental rights in both these Constitutions entrench equality, freedom and human dignity as core values. These values also appear as fundamental human rights in chapter two of the final Constitution. In both these contexts - as values and as fundamental rights - everyone is entitled to free and equal access to education. During 1996, and in the years immediately thereafter, several legislative decrees were promulgated, and several official policy documents based on these values and rights were published. The stipulations embodied in the National Education Policy Act and in the South African Schools Act, both promulgated in 1996, are of particular significance in the project of ensuring free and equal access to education in South Africa. A series of court cases subsequently followed that addressed incidences of unfair discrimination in education, among others discrimination based on race, cultural practices, religion, age, pregnancy, and citizenship.
Although it is still early days and there is still a lot of ground to cover, it is already evident that the seed of a fundamental rights culture in South African education has been sown and that the plant is on its way to maturity. One concern remains, however, and that is whether the very heartbeat of educational practice - the standard and quality of teaching and learning in the classroom - has benefited from the transition from an apartheid dispensation to a democratic one. Several recent comparative international ratings of learners ' numeracy and reading skills seem to point to neglect with respect to learners' prowess in reading with understanding, and acquiring numerical literacy.

Keywords: fundamental rights, equality, apartheid, change, education, teaching and learning


 

 

1. Inleiding en agtergrond

Onderwys speel in enige samelewingsbestel 'n belangrike rol in die opleiding en ontwikkeling van 'n gevestigde menseregtekultuur, veral met betrekking tot die opgroeiende jeugdiges van 'n gemeenskap. Kort na die promulgering van die finale Suid-Afrikaanse Grondwet (RSA, 1996) stel Devenish (1998:224) die standpunt dat 'n mens met behulp van onderwys bevry kan word van onkunde en bygeloof, en sodoende in staat gestel word tot onderlinge eerbied en menswaardigheid.

Tydens die apartheidsbedeling in Suid-Afrika, vanaf 1948 tot 1994, was die maatskaplik-juridiese bedeling geskoei op onbillike diskriminasie, en gevolglik op die ongelyke behartiging van die verskillende bevolkingsgroepe se belange en is daar onder andere ten opsigte van toegang tot onderwys- en opleidingsgeleenthede onbillik teen mense van kleur gediskrimineer. Toegang tot biblioteke en gehalte onderwysgeleenthede by vooraanstaande onderwysinstansies is verskraal. Hierdie maatreëls het nie slegs verspeelde kanse rakende die ontwikkeling en groei van die voorheen benadeeldes tot gevolg gehad nie, maar het hulle ook dikwels van potensieel belowende loopbane weerhou. Ook het die apartheids- of afsonderlike ontwikkelingsbeleid 'n negatiewe uitwerking op hulle materiële welvaart gehad. Dit het selfs gekleurde Suid-Afrikaners se gesondheidsgehalte en lewensverwagting geraak (De Waal, Currie & Erasmus, 2001:199).

Soos gestel, het hierdie diskriminerende beleid die ongelyke behandeling van mense en groepe mense se belange meegebring. In sy omskywing van gelykheid voor die reg stel Black (1983:244) dat al die burgers van 'n land enersyds die draers is of behoort te wees van dieselfde regte, voorregte en vryhede, en andersyds ook onderworpe is of behoort te wees aan dieselfde verpligtinge. Die versuim om al die inwoners van die land gelyk te behandel in omstandighede waar daar geen redelike gronde blyk te wees vir differensiasie nie kan gevolglik as onbillike diskriminasie beskou word. In die na-apartheids-Konstitusionele Hof-geding Harksen v Lane and others (1998) het regter Goldstone gevolglik, in ooreenstemming met hierdie beginsel, beslis dat onbillike diskriminasie in wese plaasvind wanneer 'n persoon se menswaardigheid aangetas word.

Ten spyte van talryke internasionale bepalings opgeteken in die annale van internasionale organisasies en van verklarings rakende die noodsaaklikheid van die erkenning van 'n mensregtekultuur in die onderwys was Suid-Afrika vir dekades lank vasgevang in 'n bedeling wat nie op 'n sodanige benadering van fundamentele menseregte geskoei was nie. Dié stand van sake het egter ná 1990 met die ineenstorting van die apartheidsbeleid verander. Kort ná die promulgering van die Tussentydse Grondwet van 1993 (SA, 1993) het regskenners voorspel dat die finale grondwetlike bedeling in Suid-Afrika 'n paradigmaskuif in die basiese onderwysbedeling van die land tot gevolg sou hê (Maree, 1995:(i)). Patel en Watters (1994:vii) het die Tussentydse Grondwet op sigself al gesien as die bou van

...a historical bridge of a deeply divided society characterised by strife, conflict, untold suffering and injustice, and a future founded on the recognition of human rights, democracy and peaceful co-existence and development oppportunities for all South Africans irrespective of colour, race, class belief or sex.

Die bepalings van die finale Grondwet van 1996 (SA,1996(a)) het hierdie profetiese woorde van Maree, Patel, Watters en andere bevestig. Veral hoofstuk twee van die finale Grondwet, waarin die fundamentele regte van alle Suid-Afrikaners, inderwaarheid 'n Handves van Regte, uiteengesit is, het 'n ingrypende verandering in die onderwystafereel van Suid-Afrika teweeg gebring.

 

2. Probleemstelling

Die verbetering van onderwys en opleiding word tans wêreldwyd erken as van kritieke belang vir die welstand van die opkomende geslag(te). Onderwys word beskou as die hartklop van die ontwikkeling van die individu sowel as van die samelewing as geheel (Oldfield, 2001:32). Die deurslaggewende rol wat onderwys in die lewens van mense en hulle ontwikkeling speel, of behoort te speel, vind weerklank in Smit (2013:218) se opmerking dat kinders se reg op onderwys gedurende die afgelope 60 jaar een van die kern-fokusse in die internasionale arena was. Die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte (VN, 1948) het teen die middel van die vorige eeu die nadruk sterk op die inherente menswaardigheid van alle mense, en op die belangrikheid van die onderwys, gelê.

Die aanhef tot hierdie Verklaring beklemtoon die mens se inherente waardigheid as die onvervreembare grondslag van vryheid, geregtigheid en vrede vir almal. In die aanhef tot die Verenigde Nasies se Verklaring van die Regte van die Kind (VN, 1959) word die klem weer uitdruklik daarop gelê dat die mensdom dit aan die kind verskuldig is om laasgenoemde se beste belange te soek. Weens sy apartheids- of afsonderlike ontwikkelingsbeleid, wat vanaf 1948 statutêre beslag gekry het, het Suid-Afrika nie hierdie twee Verklarings onderskryf nie. Onderskrywing daarvan sou nie versoenbaar gewees het met die apartheidsbeleid wat die destydse Nasionale Party-regering statutêr begin vestig het nie. Dit bly egter, vir die doeleindes van die argument wat in hierdie artikel ontwikkel word, belangrik om te let op die beginsels aangaande menswaardigheid en gelyke behandeling wat in hierdie twee Verklarings tot uitdrukking kom.

Beginsel 1 van die VN se Universele Verklaring van Menseregte beklemtoon dat kinders geregtig is op al die regte soos uitgespel in die Verklaring en dat hulle gevrywaar behoort te wees van diskriminasie op grond van ras, velkleur, geslag, afkoms, sosiale, politieke of gods-diensoortuigings, nasionale of sosiale afkoms, familiestatus, oriëntasie of afkoms, eiendom, of enige ander oorweging.

Die kind se reg op onderwys word in Beginsel 7 uiteengesit. Dit bepaal dat:

die kind daarop geregtig is om onderwys te ontvang;

sodanige onderwys gegrond moet wees op gelyke geleenthede; die kind die geleent-heid gegun moet word om sy/haar potensiaal te ontwikkel ten einde 'n doeltreffende burger van die samelewing te kan word, en dat

die beste belange van die kind 'n deurslaggewende rol moet speel in die verskaffing van die onderwys, soos uiteengesit in die kindklousule, naamlik Beginsel 1 van die dokument. Hiermee word "die beste belange van die kind"1 as 'n leidinggewende beginsel onderstreep.

In weerwil van al hierdie bepalings is die beste belange van die meeste kinders in Suid-Afrika verwaarloos weens die onbillike diskriminasiebeleide en -praktyke en gevolglike ongelykhede van die apartheidsbedeling van 1948 tot 1994. Suid-Afrika se destydse benadering tot kinderregte en die onderwys was diskriminerend en dus ongelyk, omdat dit op 'n rasgebaseerde beleid gegrond was. Die indertydse Wet op Onderwysaangeleenthede (Volksraad, 1988) was byvoorbeeld net op die onderwys vir blankes gerig. Volgens die woordomskrywings in artikel 1 van hierdie Wet beteken die term "onderwys" die "onderrig, opvoeding en opleiding" wat aan blanke leerlinge verskaf is. Afsonderlike wetgewing het die onderwys van Bantoes, Indiërs en Kleurlinge2 gereël, naamlik:

die Wet op Bantoe-onderwys

die Wet op Kleurlingonderwys (Huis van Verteenwoordigers) en

die Wet op Indiëronderwys (Huis van Afgevaardiges).

Dit blyk uit die voorgaande dat, omdat Suid-Afrika op die internasionale verhoog geweier het om 'n voorstander van mense- en dus kinderregte te wees, die plaaslike toegang van alle kinders tot gelyke onderwys tydens die apartheidsbedeling agterweë gebly het. Die owerheid se destydse benadering was inkonsekwent: aan die een kant die bevoorregting van blanke kinders, en aan die ander kant die verwaarlosing van die regte en dus die onderwys van alle ander kinders. Binford (2015:334) trek gevolglik tereg die volgende slotsom: "South Africa has inconsistently recognised children's rights over the past century".

Soos hier bo gestel, het die bedeling gegrond op fundamentele regte in Suid-Afrika in die afgelope drie dekades ingrypend verander. In die lig van die voorgaande uiteensetting van die onderwyssituasie in Suid-Afrika vóór en ná 1994 het die volgende twee vrae na vore gekom:

o Welke ommeswaai-momente het 'n meer vrye en gelyke bestel vir alle kinders in Suid-Afrika meegebring?

o Het hierdie oorgang 'n positiewe bydrae gelewer tot die verbetering van die gehalte van onderrig en leer in die onderwys?

'n Poging word in die res van hierdie artikel aangewend om antwoorde op hierdie twee vrae te verskaf. Met hierdie doel in die agterkop is die res van die artikel soos volg gestruktureer: die volgende afdeling bevat 'n kort uiteensetting van die metode van ondersoek; dit word gevolg deur 'n uiteensetting van die wetgewing wat gepromulgeer is om die nuwe onderwys-bedeling met fundamentele regte tot stand te bring; die bespreking van enkele hofsake lig die aard van die omwenteling gegrond op fundamentele regte prakties toe. Daarmee word die eerste vraag beantwoord. Die tweede vraag kom aan die orde in die laaste deel van die artikel waar kortliks besin word oor die vraag of die gehalte van die onderrig en leer ná afloop van die politieke wending in Suid-Afrika enigsins verbeter het.

 

3. Navorsingsmetode

Die navorsing wat hierna gerapporteer word is die resultaat van die toepassing van die interpretivisties-konstruktivistiese metode, soos uiteengesit deur Babbie en Mouton (2007:31) en Van der Walt (2020: passim). Die toepassing van hierdie metode kom daarop neer dat inligting wat uit bronnemateriaal verkry word deur die ondersoekers vertolk word teen die agtergrond van hulle eie voorwetenskaplike en wetenskaplike agtergronds- of raamwerkaannames (Baggini, 2017:21; Sacks, 2011:33). Daarmee poog hulle om sin te maak uit die waargenomene (Sacks, 2011:32). Die feit dat die proses van vertolking uiteindelik stuit teen wat die ondersoeker as "vaste" of "finale" uitgangspunte beskou (Frame, 2015:347) verhoed dat die ondersoek in relativisme verval.

Van hier af gaan die ondersoeker dan, volgens Vigil (2008:219), oor tot die konstruktivis-tiese fase van die ondersoek waarin hy of sy as "werklike persoon" volgens eie aard en vermoë, en binne eie konseptuele en kulturele raamwerk, en ook ooreenkomstig eie waarde- en beginselraamwerk, 'n eie standpunt of siening oor die onderhawige saak opbou. Aansluitend hierby is regsnavorsingmetodes, soos die regshistoriese metode, toegepas (Venter, Van der Walt, Van der Walt, Olivier, Pienaar & Du Plessis, 1991:161). Wetsuitlegtegnieke is ook aangewend om die inhoud en strekking van statutêre bronne te ontleed (Botha, 1996). Die inligting wat op al hierdie maniere versamel, ontleed en saamgevoeg is, is ten slotte aangewend om die onderwysimplikasies van die oorgang na 'n bedeling gegrond op fundamentele regte in Suid-Afrika vanaf 1996 te beskryf en te beoordeel.

 

4. Die oorgang na 'n bedeling gegrond op fundamentele regte met die oog op die uitwissing van die nalatenskap van apartheid

Gedurende die afgelope ongeveer drie dekades het die polities-staatkundige oorgang in Suid-Afrika stapsgewys plaasgevind: eers met die inwerkingstelling van 'n grondwetlike bedeling waarbinne die promulgering van 'n verskeidenheid van wette kon geskied. Daarna het talryke hofbeslissings ter bevestiging van die hervorminge in die algemeen, en toegespits op die onderwys, gevolg. Hierdie twee stappe word nou kortliks uiteengesit.

4.1 Wetgewende rigtingwysers

Die oorgang vanaf 'n onderwysbedeling gegrond op onbillike diskriminasie tot een gegrond op die erkenning van die fundamentele regte, en bygevolg die gelykheid van alle burgers (kinders), het grootliks te make met wysigings van die Grondwet en met die invloed wat hierdie wysiging op onderwyswetgewing en daarna op die regspraak oor onderwysaangeleent-hede gehad het.

4.1.1 Die Grondwet

Die inwerkingstelling van 'n nuwe grondwetlike bedeling het onder die leiding van 'n demokraties-verkose Grondwetgewende Vergadering geskied. Die promulgering van die finale Grondwet in 1996 word deur sommige regslui bestempel as 'n veelparty-onderhandelde "rewolusie" (De Waal, Currie & Erasmus, 2001:5). Dit is naamlik voorafgegaan deur vele standpuntinnames van politieke partye en groeperings, gevolg deur onderhandelings en kompromieë wat tussen 1991 en 1993 plaasgevind het, en aangegaan is, en waartydens 34 konstitusionele beginsels aanvaar is. Een van die besluite wat voortgespruit het uit die onderhandelinge was om 'n Tussentydse Grondwet op te stel wat onder andere die prosedures vir die formulering van die finale grondwet moes uitstippel. Die Tussentydse Grondwet het in 1993 die lig gesien.

Gedurende die volgende twee jaar is die finale Grondwet onder die wakende oog van die Grondwetgewende Vergadering geskryf, en op 8 Mei 1996 voltooi. Voordat die Grondwet egter finaal aanvaar kon word, moes dit eers aan die Konstitusionele Hof voorgele word om te bepaal of dit voldoen aan die ooreengekome 34 grondwetlike beginsels. Die Hof het die inhoud daarvan nie tydens sy eerste sertifiseringsuitspraak aanvaar nie, maar dit later wel aanvaar nadat die nodige veranderings aangebring is. Die nuwe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is op 4 Februarie 1997 deur President Nelson Mandela onderteken, en dit is vervolgens gepromulgeer.

Artikel 9 (1)-(3) van die Grondwet spel die betekenis van die begrippe "gelykheid" en "onbillike diskriminasie" soos volg uit (SA, 1996(a)):

(1) Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg

(2) Gelykheid sluit die volle regte en gelyke volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is

(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte

(4) Geen persoon mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde ingevolge subartikel (3) diskrimineer nie. Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet.

Ingevolge subartikel 9(4) van die Grondwet moes nasionale wetgewing verorden word om onbillike diskriminasie te belet en te voorkom. Heelwat nasionale wette is dienooreenkomstig gepromulgeer om wetgewing van die apartheidsbedeling te vervang en/of te wysig. Enkele voorbeelde van hierdie wette is:

4.1.2 Die Nasionale Gelykheidswet en die instelling van Gelykheidshowe

In 2000 word uitdrukking gegee aan die gemelde Grondwetlike verordening met die promul-gering van die sogenaamde Gelykheidswet (SA, 2000). Artikel 2 van die Wet spel onder andere die volgende doelstellings uit:

om die statutere bepalings van artikel 9(4) van die Grondwet te volvoer;

om uitvoering te gee aan die gees en rigting van die Suid Afrikaanse Grondwet;

om elke persoon gelyke genieting van die grondwetlike regte en vryhede te veroorloof;

om gelyke beregtiging te bevorder;

om die grondwetlike waardes van nie-rasssime en nie-seksisme, opgeneem in artikel 1 van die Grondwet, te bevorder;

om onbillike diskriminasie ingevolge artikel 9 te voorkom en om menswaardigheid volgens artikel 10 van die Grondwet te beskerm;

om maatreëls in te stel wat daarop gerig is om die Suid-Afrikaanse samelewingsbe-wussyn te omvorm en op te voed tot die bevordering van gelyke beregtiging en die ontworteling van onbillike diskriminasie, haatspraak en teistering

Daarbenewens bemoontlik artikel 2 van die Wet ook die oprigting van Gelykheidshowe. Hierdie howe het gespesialiseerde funksies wat deel uitmaak van die interne strukture van hoër howe en is belas met die taak, funksie en juridiksie om klagtes in verband met onbillike diskriminasie, volgens voorgeskrewe prosedures in die Gelykheidswet, aan te hoor en toe te sien dat gelyke beregtiging vir almal sal geskied (SA, 2000).

Ná die promulgering van die Grondwet het die wiele ook begin rol om onderwyswetgewing in ooreenstemming met die nuwe grondwetlike bedeling te bring. Die eerste vorme van nuwe en/of gewysigde nasionale wetgewing was die Wet op Nasionale Onderwysbeleid van 1996 (SA, 1996(b)) en die Suid-Afrikaanse Skolewet (SA, 1996(c)).

4.1.3 Die Wet op Nasionale Onderwysbeleid van 1996

Die Wet op die Nasionale Onderwysbeleid word op 14 April 1996 gepubliseer. Die lang titel van hierdie Wet spel die koers en rigting van die Suid-Afrikaanse onderwysbeleid soos volg uit:

Om voorsiening te maak vir die bepaling van nasionale beleid vir die onderwys; tot wysiging van die Wet op die Nasionale Beleid vir Algemene Onderwyssake, 1984, ten einde sekere woordomskrywings te vervang.

Die aanhef spel die (nuwe) doel van die fundamentele regte van die Wet uit:

Nademaal dit nodig is om wetgewing aan te neem om die demokratiese omskepping van die nasionale onderwysstelsel in 'n stelsel wat in die behoeftes voorsien en die belange dien van al die mense van Suid-Afrika ten einde hulle fundamentele regte te handhaaf.

Die rigtinggewende beginsels van die nasionale onderwysbeleid word in Artikel 4 van die wet uitgespel. Enkele van die tersaaklike beleidsbeginsels wat betrekking het op die tema van hierdie artikel is die volgende:

Die beleid waarborg die bevordering sowel as die beskerming van elkeen soos aangetoon in hoofstuk 3 van die Grondwet en (ook) daardie internasionale konvensies wat deur die Parlement goedgekeur is.

Die beleid is daarop gerig om die onderwysstelsel in staat te stel tot die volle ontwikkeling van elke leerder by te dra; ook om in die algemeen by te dra tot die morele, politieke, kulturele en ekonomiese ontwikkeling van die land - met inbegrip van die bevordering van demokrasie, menseregte en vreedsame geskilbeslegtiging.

Die verskaffing van billike onderwysgeleenthede vir almal en die regstelling van ongelykheid in die onderwysvoorsiening van die verlede - met inbegrip van die verhoging van die vrou se status en die bevordering van geslagsgelykheid.

Persone met liggaamsgestremdhede moet die kans gegee word om opvoedings-geleenthede tot die maksimum van hul vermoëns te kan benut.

In die besonder is die beleid gerig op:

o die beskerming van elke persoon teen onbillike diskriminasie (op welke gronde ook al) deur 'n onderwysdepartement of onderwysinrigting;

o die reg op die toegang tot basiese onderwys van elkeen asook die reg tot gelyke toegang tot onderwysinrigtings;

o die reg van toegang tot onderwys van elke kind;

o die reg van elke kind om onderrig te ontvang in sy of haar taal van keuse, waar redelikerwys doenbaar;

o die reg van elke persoon of instansie om onderwysinstansies wat gevestig is op 'n gemeenskaplike kultuur, taal, of geloof in te stel - op voorwaarde dat daar geen diskriminasie op grond van ras is nie, en waar uitvoerbaar. ('n Voorbeeld hiervan is die reg op die oprigting van onafhanklike skole);

o die reg van elkeen om die taal van keuse te gebruik asook die reg om aan die kultuurlewe van keuse binne die besondere onderwysinrigting te kan deelneem.

4.1.4 Die Suid-Afrikaanse Skolewet

Die Skolewet is op 15 November 1996 gepubliseer. Die lang titel daarvan toon dat hierdie Wet gerig is op die voorsiening van 'n eenvormige stelsel vir die organisasie, bestuur en finansiering van skole. Die aanhef tot die Wet beskryf die operasionele doelstellings van die skolestelsel soos volg:

Nademaal hierdie land 'n behoefte het aan 'n nuwe stelsel vir skole wat die onregte in die onderwysvoorsiening van die verlede sal regstel, onderwys van progressief hoë gehalte aan alle leerders sal voorsien en op hierdie wyse 'n hegte fondament vir die ontwikkeling van al ons mense se talente en bekwaamhede sal lê, die demokratiese transformasie van die gemeenskap sal bevorder, rassisme en seksisme en alle ander vorms van onregverdige diskriminasie en onverdraagsaamheid sal bekamp, tot die uitwissing van armoede en die ekonomiese welstand van die gemeenskap sal bydra, ons verskeidenheid van kulture en tale sal beskerm en bevorder, die regte van alle leerders, ouers en opvoeders sal handhaaf, en hul aanvaarding van verantwoordelikheid vir die organisasie, beheer en finansiering van skole in samewerking met die staat te bevorder.

4.2 Regspraak

Die wette hier bo bespreek is feitlik onmiddellik oral in die Suid-Afrikaanse howe getoets en toegepas. Enkele van hierdie hofsake rakende die onderwys word nou uitgelig om die oorgang tot die bedeling gegrond op fundamentele regte in die onderwys toe te lig.

4.2.1 Diskriminasie op grond van ras

In die Transvaalse Hoërhof-saak Matukane and others v Laerskool Potgietersrus (1986) het swart ouers, die applikante, beswaar gemaak teen die betrokke laerskool se toelatingsbeleid wat bepaal het dat daar slegs aan blanke leerders toegang tot die skool verleen word. Die hof het beslis dat die toelatingsbeleid van die skool ongrondwetlik is deurdat dit op grond van ras teen die swart leerders diskrimineer en dat die betrokke leerder tot die skool toegelaat moet word.

4.2.2 Diskriminasie op grond van swangerskap

In die Konstitusionele hofgeding Head of Department, Department of Education, Free State Province v Welkom High School and Others (2014) is bevind dat die skool se beleid om skooldogters wat swanger raak te verbied om skool by te woon gedurende die tydperk van hul swangerskap, ongrondwetlik is. Hierdie maatreël diskrimineer onbillik teen die betrokke dogters. Dit druis ook in teen die leerders se grondwetlike reg op privaatheid, menswaardigheid en hul liggaamlik-psigiese integriteit.

4.2.3 Diskriminasie op grond van kultuur en die vryheid van godsdienspraktyke

Die dispuut tussen 'n Hindoe-moeder in die hofgeding MEC for Education, Kwazulu-Natal and others v Pillay and others (2008) het gewentel om die toepassing van die skool se gedragskode. Die gedragskode het onder andere bepaal dat die dra van versierings deur meisies by die skool (byvoorbeeld 'n neusring) nie toelaatbaar was nie. Die applikant, mevrou Pillay, se verweer was dat dit deel van Hindoe-godsdiensgebruike en -kultuur is, en dat die skool se weiering om dit toe te laat, in die lig van artikel 9(3) van die Suid-Afrikaanse Grondwet (SA, 1996) neerkom op onbillike diskriminasie op grond van godsdiens, geloof, gewete, oortuiging en kultuuur. Die hof het die applikant gelyk gegee.

4.2.4 Diskriminasie op grond van burgerskap

In Larbi Odam v MEC for Education (North-West Province) (1998) het die Konstitusionele Hof bevind dat die Noordwes-onderwysdepartement onbillik teen die appellante gediskrimineer het op grond van hulle burgerskapstatus. Hoewel die drie appellante wat vir vakante, permanente onderwysposte aansoek gedoen het, permanente Suid-Afrikaanse verblyfsreg gehad het, het hulle nie oor Suid-Afrikaanse burgerskapstatus, soos vereis deur provinsiale regulasies, beskik nie. Die appellante het gevolglik nie gekwalifiseer vir permanente onderwysposte nie. Die Konstitusionele Hof het ten gunste van die applikante beslis en bevind dat die betrokke provinsiale regulasie onbillik op grond van burgerskap diskrimineer. Dit het ook beveel dat die betrokke regulasie ongeldig verklaar moet word en dat die appellante daarop geregtig is om aansoek te doen vir permanente onderwysposte.

4.2.5 Diskriminasie op grond van ouderdom

In die dispuut Harris v Minister of Education (2000) in die Transvaalse Hoërhof is aangevoer dat, ten spyte van 'n ondersteunende skoolgereedheidsverslag, Nancy, dogter van mev. Harris, op grond van 'n ouderdomsbeperking soos in die toenmalige onderwysbeleid3 opgeneem, toegang tot graad een by die betrokke laerskool geweier is. Die Onderwyshoof het aangevoer dat die regulasie gegrond was op deurvorste onderwysbeginsels. Hy voer ook aan dat leerders wat te jonk is wanneer hulle die onderwysbaan betree, geneig is om nie die mas op te kom nie, uit te sak en gevolglik daartoe bydra dat 'n bottelnek in die onderwysstelsel ontstaan, wat op sy beurt die gladde deurvloei van leerders in die stelsel belemmer. Regter Coetzee het beslis dat die betrokke regulasie ongrondwetlik is in die sin dat daar onbillik op grond van ouderdom gediskrimineer word, en dat die bepaling gevolglik geskrap moet word. Hy bevind ook dat dit, in die lig van die sielkundige se positiewe skoolgereedheidsverslag, in Nancy se beste belang sal wees om wel tot graad een toegelaat te word. Die Onderwyshoof se appél na die Konstitusionele Hof slaag nie en is met koste van die hand gewys.

 

5. Tot welke mate het die oorgang tot 'n bedeling gegrond op fundamentele regte gelei tot 'n verbetering van onderrig en leer in die onderwys?

Die nuwe grondwetlike bedeling was gemik op die uitwissing van die nalatenskap van die apartheidsbedeling in die samelewing in die algemeen, en in die onderwys in besonder. Die oorgang daartoe het voortgevloei uit 'n proses van veelparty-onderhandelinge en -skikkings op grond van kompromieë. Die aanvaarding van voormelde regsinstrumente het gelei tot 'n gedaanteverwisseling in die onderwys(stelsel), naamlik tot die aanvaarding van 'n bedeling gegrond op volledige fundamentele regte.

Die vraag kan egter geopper word of 'n skikking geskoei op 'n kompromie in die onderwyspraktyk in elke opsig wenslik was. Die Pharos Verklarende Woordeboek definieer die woord kompromis as " 'n Handeling waarby mens een deel van jou beginsels prysgee" (Labuschagne & Eksteen, 2010:534). 'n Engelse spreekwoord omskryf kompromis soos volg: "Compromise is but the sacrifice of one right or good in the hope of retaining another - too often ending in the loss of both" (Wikiquote, 2021). Oldfield (2001) het reeds in 2001 gevra of Suid-Afrikaners in staat sal wees om wel die verwagte onderwysuitkomste te kan lewer.4

Drie dekades na die inwerkingtreding van die nuwe konstitusionele bedeling in Suid-Afrika lê daar nog 'n lang pad voor vir 'n ten volle getransformeerde onderwysbedeling. Ten spyte van 'n veelheid van wette, beleidstukke, besprekingsdokumente, navorsingsverslae, en onderwyskonferensies is volledige transformasie nog nie 'n werklikheid nie. Vanuit opvoedkundige oogpunt is dit van belang dat transformasie ook, en miskien veral, gerig moet wees op die groei en ontwikkeling van elke individuele leerder (student), wat later as volwassenes hulself in 'n mededingende werksomgewing gaan bevind. Trouens, die korporatiewe bedeling in enige land is afhanklik van die gehalte van die onderwys en opleiding wat leerders ondergaan om die vereiste vaardighede en kundighede te bemeester (Motala & Pampallis, 2001:32).

Die vraag wat Oldfield (2001) twee dekades gelede gevra het, kan nou met reg weer gevra word:

"Does the state have the 'transformative' capacity to obtain developmental objectives such as an equitable and accessible education system?" (Weiss, 1998).

Hoewel dit wil voorkom of die na-apartheid-onderwysbedeling stadig maar seker getransformeerd raak in die sin dat dit al beter uitdrukking gee aan die nuwe, post-1994- (grond)wetlike waardes, kan gevra word of die gehalte van onderrig en leer in die skole nie dalk besig is om in die slag te bly, of die kreeftegang te gaan nie. Om die nadruk in die onderwyshervorming slegs op die polities-staatkundige raamwerk en die daarby horende onderwysregstruktuur te plaas is om, soos Blackburn (2009:186) dit gestel het, 'n vorm van "droë skolastiek" te beoefen: die siening dat die beginsels in onderwyswetgewing opgeneem voldoende vir transformasie sal wees, en goed en voldoende sal wees net omdat hulle in die Grondwet verskans is. 'n Mens moet waak, soos Nieuwenhuis (2010) gewaarsku het, teen "beleidsobsessie" ten koste van die gepaardgaande nougesette aandag aan die praktyk van die onderwys (onderrig en leer in die klaskamer/skool) tot die beswil van die opkomende geslag. Alexander Solzhenitsyn se siening hieroor is die moeite werd om aan te haal:

...'n samelewing sonder 'n objektiewe regskaal is werklik iets verskrikliks. Maar 'n same-lewing met geen ander maatstaf as die reg nie is die mensdom nie waardig nie. (Clancy, 1999:361; vertaal uit die Engels)

Onderwyswetgewing en hofuitsprake verskaf wel die voorwaardes en struktuur vir die onderwys, en is dus noodsaaklik dog nie noodwendig voldoende vir die verbetering in die gehalte van onderrig en leer in die praktyk van die onderwys nie. Die geldigheid van hierdie stelling blyk uit twee onderwystekortkominge op grondvlak in die nuwe (huidige) bedeling, naamlik hoe leerders in internasionale gesyferdheids- en geletterdheidsevaluerings vaar.

Ongeveer 'n dekade na die aanbreek van die apartheidsbedeling, in die vroeë 2000's, het Suid-Afrikaanse leerders onaanvaarbaar swak gevaar in internasionale gesyferdheids- en geletterdheidstoetse deurdat hulle die 45ste posisie onder die 45 deelnemende lande ingeneem het (Woolman & Fleisch, 2009:109). Meer onlangse evaluerings het dieselfde uitkomste opgelewer.

Suid-Afrikaanse leerders het ook baie swak gevaar op 'n internasionaal-vergelykende skaal vir Wiskunde en Wetenskap. Graad 9-leerders is naamlik in die 2019 TIMMS (Trends in International Mathematics and Science Scale)-evaluering van Wiskunde- en Wetenskapkundigheid in die heel laaste posisie uit 65 lande geplaas (TIMMS, 2020). Dit is ook kommerwekkend dat hoewel die Suid-Afrikaanse graad 9-leerders se persentasies op die TIMMS-skaal wel gedurende 2003 tot 2011 onderskeidelik met 7.4 en 7.1 verbeter het, hulle weer in 2011 en 2019 teruggesak het met onderskeidelik 4.6 en 4.8 persentasiepunte. Suid-Afrikaanse graad 5-leerders het in 2019 ook swak gevaar in die TIMMS-toetsing deur derde-laaste uit 374 deelnemende lande te kom (TIMMS, 2020).

Suid-Afrikaanse leerders het ook in relatief-onlangse internasionale geletterdheidstoetse swak gevaar. In die 2016-PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study)-geletterdheidsvaardigheidstoets het hulle die laaste posisie uit die 50 deelnemende lande ingeneem (Howie, Combrinck, Roux, Tshele, Mokoena, McLeod & Palane, 2017:49). Hoewel matriekuitslae van jaar tot jaar effens verbeter, is die syfers wat aangegee word bedrieglik weens die hoë uitvalsyfer voordat leerders die matriekeksamen skryf, en weens skole se maatreëls om slegs leerders die eksamen te laat skryf indien hulle 'n realistiese kans op 'n slaagsyfer het. In die lig hiervan het onderwysontleder Nic Spaull (2018:14) die volgende woorde na aanleiding van die 2017-matriekuitslae neergepen:

"So, 43% of youth in South Africa still get no qualification whatsoever. Not matric, not TVET, not university. Nothing. They enter the labour market ill-prepared and inherit lives of chronic poverty and sustained unemployment."

Benewens swak prestasies soos hier bo aangedui, bly die algemene situasie in Suid-Afrika op 'n veelheid terreine ongelyk, ook in die onderwys en die voorsiening daarvan (Christie, 2016: 435). Verder skyn baie skole geteister te wees deur 'n morele ineenstorting (Osman, 2017).

Al die voorgaande inligting dui daarop dat onderrig en leer in die onderwys op grondvlak nog hoegenaamd nie van die vereiste gehalte is nie - die mooi ideale wat in wetgewing en in ander tersaaklike onderwysdokumente gestel is en word ten spyt.

 

6. Slotsom

In die lig van die teleurstellende skolastiese prestasies van Suid-Afrikaanse leerders kan die vraag met reg gevra word of al die verwagtinge wat onder andere op aandrang van 'n groot aantal polities-begronde groeperings tydens die grondwetgewende onderhandelinge gestel is, nie besig is om daartoe te lei dat die kroonsnit van die onderwys - aandag aan die gehalte van onderrig en leer in die klaskamers - besig is om op die grond te val nie.

Miskien moet daar weer ag geslaan word op die woorde van voormalige president Nelson Mandela: "Onderwys is die kragtigste wapen om die wêreld mee te verander". Opvoedende onderwys kan beskou word as die hartklop van die ontwikkeling van die toekomstige burger sowel as van die hele toekomstige samelewing. Derhalwe behoort die hoofklem in die Suid-Afrikaanse onderwysbestel van nou af juis daarop te val.

 

BIBLIOGRAFIE

Babbie, E & Mouton, J. 2007. The Practice of Social Research. Kaapstad: Oxford University Press.         [ Links ]

Baggini, J. 2017. The edge of reason. New Haven & London: Yale University Press.         [ Links ]

Black, HC. 1983. Black's Law Dictionary. St Paul: West Publishers.         [ Links ]

Blackburn, S. 2009. The big questions/Philosophy. London: Quercus.         [ Links ]

Binford, W. 2015. The Constitutionalisation of Children's Rights in South Africa. New York Law School Review, vol. 60(2):333-363.         [ Links ]

Botha, CJ.1996. Statutory Interpretation. Juta & kie.         [ Links ]

Christie, P. 2016. Educational change in post-conflict contexts: reflections on the South African experience 20 years later. Globalisation, Societies and Education, 14(3):434-446.         [ Links ]

Clancy, T. 1999. State of siege. London: HarperCollins.         [ Links ]

Devenish, GE. 1998. Aspects of the Right to Education in the Constitution. De Jure, 31(2):224-240.         [ Links ]

De Waal, J, Currie, I & Erasmus, G. 2001. The Bill of Rights Handbook. Juta & kie.         [ Links ]

Frame, JM. 2001. A history of Western philosophy and theology. Phillipsburg: P & R Publishing.         [ Links ]

Howie, S, Combrinck, C, Roux, K, Tshele, M, Mokoena, G, Mc Leod Palane, N. 2017. PIRLS Report (Progress in International Reading Literacy Study). Pretoria: Pretoria University Centre for Evaluation Assessment.         [ Links ]

Labuschagne, FJ & Eksteen, LC. 2010. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Heerengracht: NB-Uitgewers.         [ Links ]

Maree, LM. 1995. Education under a New Constitution. Pretoria: Via Afrika.         [ Links ]

Mitchell, CB. 2013. Ethics and moral reasoning. Wheaton: Crossway.         [ Links ]

Moral Regeneration Movement. 2018. The history of the MRM. Mrm.org.za/about-us/history (Geraadpleeg op 18 Januarie 2018).         [ Links ]

Motala, E & Pampallis, H. 2001. Education and Equity: The Impact of State Policies on South African Education. Sandown: Heinemann Publishers.         [ Links ]

Nieuwenhuis, J. 2010. Social justice in education revisited. Voordrag aangebied tydens die Orebro-UNISA Internasionale Konferensie. Pretoria. 1-3 Februarie.         [ Links ]

Oldfield, S. 2001. The South African Sate in Transition: a Question of Form, Function and Fragmentation. In: Motlala, E & Pampallis J. Education and Equity. Kaapstad: Heinemann, pp. 32-52.         [ Links ]

Osman, R. 2017. Discipline problems in South African schools. Onderhoud, 12 September.https://www.wits.ac.za/news/latest-news/2017-09/discipline-problems-in-souh-african-schhool.html (Geraadpleeg 29 Oktober 2018).         [ Links ]

Pinker, S. 2012. The better angels of our nature. London: Penguin.         [ Links ]

Saunderson-Meyer, W. 2016. Time to ditch SA's failed Moral Regeneration Movement. Mail and Guardian. 16 April.         [ Links ]

Spaull, N. 2018. The real matric rate and the real site of failure in education. Sunday Times. 14 Januarie. (p. 14). Thoughtleader.co.za/williamsaundersonmeyer/2016/04/16/time-to-ditch-sas-failed-moral-regeneration-movement/ (Geraadpleeg op 18 Januarie 2018).         [ Links ]

SA: sien Suid-Afrika

Smit, MH. 2013. Fundamentals of Human Rights and Democracy in Education. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Steyn, H, Steyn, SC & De Waal, EAS. 1997. Die Suid-Afrikaanse Onderwysstelsel. Potchefstroom: Keurkopie Publikasies.         [ Links ]

TIMMS. 2020, https://businessinsider.co.za/heres-how-sa-pupils-maths-and-science-skills-compare-to-the-rest-of-the-world-2022, geraadpleeg op 20 Junie 2022.         [ Links ]

Statutere bronne:

Coloured Persons Education Amendment Act (House of representatives) 112 of 1992. https://www.gov.za/documents/coloured-persons-education-amendment-act-house-representatives-0.

Indian Education Amendment Act (House of Delegates) 50 of 1993 https://www.gov.za/documents/indians-education-amendment-act-house-delegatesSA: kyk South Africa

Sacks, J. 2011. The great partnership. London: Hodder.

Suid-Afrika. Wet op Onderwysaangeleenthede, 70 van 1988. Pretoria: Staatsdrukker.

Suid Afrika. 1993. Oorgangsgrondwet van Suid-Afrika, 200 van 1993. Pretoria: Staatsdrukker.

South Africa. 1996. Constitution of the Republic of South Africa, 108 of 1996. Pretoria: Government Printers.

Suid-Afrika. 1996(a). (Die oorspronkilke, onvertaalde Afrikaanse weergawe) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 108 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.

Suid-Afrika. 1996(b). (Die oorspronklike, onvertaalde, Afrikaanse weergawe) van die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 24 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.

Suid-Afrika. 1996(c). (Die oorspronklike, onvertaalde, Afrikaanse weergawe) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996. Pretoria: Staatsdrukker.

RSA Kyk Suid-Afrika SA, 2000. Gelykheidswet: Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination, Act, 4 van 2000. Pretoria: Staatsdrukker.

Van der Walt, JL. 2020. Interpretivism-constructivism as a research method in the humanities and social sciences - more to it than meets the eye. International Journal of Philosophy and Theology, 8(1): 59-68. DOI: 10.15640/ijpt.v8n1a5 URL: https://doi.org/10.15640/ijpt.v8n1a5.

Van Niekerk, A. 2020. Moraliteit, etiek en reg verskil so. Beeld 13 Okt. (p. 8).

Verenigde Nasies. 1959. Verklaring oor die Regte van die Kind. New York: 1959.

Venter, F, Van der Walt, AJ, Van der Walt, CFC, Olivier, GJ, Pienaar, G & Du Plessis, LM. 1991. Regsnavorsing: metode en publikasie. Kaapstad: Juta & Kie Bpk.

Vigil, JM. 2008. Theology of religious pluralism. Wene: Lit Verlag.

Wikiquote. 2021. https://quotepark.com/quotes/1885059-tryon-edwards-compromise-is-but-the-sacrifice-of-one-right-or-go/accessed on 23.06.2022.

Hofsake:

Harksen v Lane NO and others 1998(1)SA 300 (CC).

Harris v Minister of Education 2000 (case 30218/2000) (T) 14,48.

Head of Department, Department of Education, Free State Province v Welkom High School and Others 2014(2)SA 228(CC).

Larbi Odam v MEC for Education (North -West Province) 1998(1) SA745 (CC).

Matukane and others v Laerskool Potgietersrus 1996(3) SA 215 (T) 14, 30, 293474(CC) 87,90,92.

MEC for Education, Kwa Zulu-Natal and others v Pillay and others 2008 (1) SA 474 (CC).

 

 

Ontvang: 2022-10-17
Goedgekeur: 2023-01-24
Gepubliseer: Maart 2023

 

 

 

Izak Oosthuizen was vir die eerste 17 jaar van sy loopbaan 'n hoërskoolonderwyser, departe-mentshoof, adjunkhoof en waarnemende skool-hoof in Pretoria, waarna hy as mede-departe-mentshoof in Onderwysbestuur en Onderwysreg aan die Onderwyskollege vir Verdere Onderwys aangestel is. In 1989 word hy medeprofessor in die Departement Onderwysbestuur en Onder-wysreg aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir CHO, en later professor in die Onderwysreg. Na sy aftrede word hy aangestel as navorsingsprofessor in die Fakulteit Opvoedkunde, Mahikengkampus van die Noordwes-Universiteit en is tans 'n navorsingsgenoot in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit. Gedurende sy loopbaan het hy 42 Meesters- en Doktorsgraadstudente begelei, 85 artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte gepubli-seer, en was hy redakteur van 50 boeke. Hy het ook 'n hele aantal voordragte by nasionale en internasionale vakkonferensies gelewer.
Izak Oosthuizen was a high school teacher, head of department, deputy headmaster and acting headmaster in schools in Pretoria for the first 17 years of his career. Thereafter he became associate head of the Department of Education Management and Law at the College for Further Education. In 1989, he was appointed as associate professor, and subsequently as professor in Education Management and Law in the Faculty of Education of the former Potchefstroom University for CHE. After his retirement, he continued as a research fellow in the Faculty of Education, Mahikeng Campus of the Northwest University and is currently a research fellow in the Faculty of Education at the same university. During his career he supervised 42 Master's and Doctoral studies; published 85 articles in accredited journals, and edited 50 books. He also presented several papers at national and international conferences.

 

 

Hannes van der Walt, emeritus professor in die opvoedingsfilosofie en dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aan die destydse PU vir CHO, is tans 'n spesialisnavorser aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en ook betrokke by kapasit eitsbou-programme aan die NWU.
Hannes van der Walt, Emeritus Professor of Education and Dean of the Faculty of Education at the former PU for CHE, is currently a specialist researcher at the North-West University (NWU) and also involved in capacity building programmes at that university.
1 Principle 7: The best interest of the child shall be the guiding principle of those responsible for his education and guidance.
2 Ons besef dat hierdie terme sommige lesers aanstoot mag gee; hulle is egter só in die destydse wetgewing aangewend.
3 'A learner must be admitted to grade 1 if he or she turns seven in the course of that calender year. A learner who is younger than this age may not be admitted to grade 1'
4 Oldfield (2001): "Lastly the paper considers whether the post-apartheid state is in fact 'developmental'. Does the state have the 'transformative' capacity to mediate a balance between local and international forces that will enable it to pursue developmental objectives such as an equitable and accessible education system?"

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons