SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 número1King Kong adapatations (1959-2017): Transversing culture and society"Realness" in images: The adaptation of verbatim text to stage images with specific reference to tot stof | tot stilte - 'n paniekreaksie (2018) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n1a4 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Verskansing: Die voorkoms en gebruik van beperkings- en weerhoudingsmerkers in studente se argumentatiewe tekste

 

Hedging: The occurrence and use of restriction and restraint markers in students' argumentative texts

 

 

Zanétte Meintjes

Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: 13265369@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Metadiskoers word in twee kategorieë verdeel, naamlik tekstuele en interpersoonlike metadiskoers. Tekstuele metadiskoers behels die gebruik van woorde en frases om teksinligting op 'n koherente wyse te organiseer, terwyl interpersoonlike metadiskoers die skrywer in staat stel om 'n skrywer-leser-verhouding te bewerkstellig. Verskansers, as deel van die interpersoonlike metadiskoerskategorie, word spesifiek gebruik om skrywerstandpunte te kwalifiseer. Eerstens versag dit skrywerstandpunte tot 'n algehele moontlikheid, en skep sodoende ruimte vir die leser se mening rakende die onderwerp van bespreking. Tweedens toon dit aan wanneer 'n skrywer hom/haar van die standpunte en/of selfs die evaluering daarvan distansieer.
Die literatuur word gekenmerk deur verskeie studies rakende die gebruik van verskansing in akademiese tekste, maar daar bestaan 'n leemte oor die gebruik daarvan in Afrikaans-sprekende eerstejaarstudente se geskrewe tekste. As sodanig poog die onderhawige artikel om lig te werp op die tipe verskansers wat deur Afrikaanssprekende eerstejaarstudente gebruik word; die frekwensie in gebruik van verskansers oor al drie die dele van die tekste, naamlik die inleiding, die liggaam (inhoudelike gedeelte) en die slot; of die verskansers korrek en gepas gebruik word; en of daar 'n beduidende verskil is in die gebruik van verskansers tussen studente wat ondergemiddeld, gemiddeld en bogemiddeld presteer het in hulle geskrewe argumente. Die resultate van die ondersoek toon dat Afrikaanssprekende eerstejaarstudente met aanvang van hulle universiteitstudie nie noodwendig ervare is in die gebruik van verskansing nie. Beperkings- en weerhoudingsmerkers het selde in die argumente gefigureer. Derhalwe word aanbeveel dat Afrikaanssprekende eerstejaarstudente op universiteit in Akademiesegeletterdheidsmodules geakkultureer behoort te word ten opsigte van die belangrikheid én die gebruik van verskansing in hulle geskrewe argumente.

Trefwoorde: metadiskoers, tekstuele metadiskoers, interpersoonlike metadiskoers, Afrikaanssprekende eerstejaarstudente, geskrewe argumente, verskansing, beperkingsmerkers, weerhoudingsmerkers.


ABSTRACT

Metadiscourse is divided into two categories, namely textual and interpersonal metadiscourse. Textual metadiscourse involves the use of words and phrases to organise textual information in a coherent way, while interpersonal metadiscourse enables the author to establish a writer-reader relationship. Hedges that form part of the interpersonal metadiscourse category are specifically used to qualify author positions. First, hedging softens author points of view to a possibility, thus creating space for the reader's opinion regarding the topic of discussion. Secondly, it shows when a writer distances himself/herself from the views therein and/or even the evaluation thereof.
The literature is characterised by various studies regarding the use of hedging in academic texts, but there is a gap with respect to its use specifically in Afrikaans-speaking first-year students' written texts. This article sheds light on the type of hedges used by these students; the frequency in use of hedges over all three parts of the texts, namely the introduction, the body (content part) and the conclusion; whether the hedges are used correctly and appropriately; and whether there is a significant difference in the use of hedges between students who received below-average, average and above-average marks for their written arguments. The results of this investigation show that Afrikaans-speaking first-year students at the start of their university careers are not necessarily experienced in the use of hedging. Restriction and restraint markers rarely figured in the arguments. Therefore, it is recommended that Afrikaans-speaking first-year students at university should be acculturated in Academic literacy modules in the importance and use of hedging in their written arguments.

Keywords: metadiscourse, textual metadiscourse, interpersonal metadiscourse, Afrikaans-speaking first-year students, written arguments, hedging, restriction markers, restraint markers.


 

 

1. Inleiding en kontekstualisering

Die skryf van argumentatiewe tekste is 'n belangrike en noodsaaklike akademiesegeletterd-heidsvaardigheid (Dornbrack & Dixon, 2014:3). Dit is ook die mees uitdagende genre wat deur universiteitstudente geskryf word (Preiss et al., 2013:195; Yang & Zeng, 2021:412). Om 'n goeie argumentatiewe teks te produseer, moet die skrywer oor die vermoë beskik om tussen feite en opinies te onderskei, en om aannames op 'n kritiese wyse te evalueer. Derhalwe wys Yang en Zeng (2021:412) daarop dat die uitdrukking van vaste oortuiging en/of onsekerheid 'n uiters komplekse taak kan wees vir die skrywers van argumentatiewe tekste.

Metadiskoers word gesien as 'n belangrike hulpmiddel waarmee skrywers die voorgenoemde uitdrukkings in geskrewe argumente kan laat realiseer. Volgens Hyland (2005:37) moet metadiskoers gesien word as:

the cover term for the self-reflective expressions used to negotiate interactional meanings in a text, assisting the writer (or speaker) to express a viewpoint and engage with readers as members of a particular community.

Na aanleiding hiervan kan tereg beweer word dat metadiskoers 'n linguistiese kategorie is wat verband hou met teksinhoud en -betekenis (Hyland & Tse, 2004:156). Om dié rede bestaan metadiskoers uit woorde en frases wat tekstueel of interpersoonlik van aard is, en gebruik word om bepaalde verhoudinge in 'n geskrewe akademiese teks tot stand te bring (Kuswoyo & Siregar, 2019:297).

Tekstuele metadiskoers bewerkstellig teksstruktuur en hou verband met teksorganisasie en die gepaardgaande koherensie van 'n geskrewe teks (Hyland, 2005:26; Noorian & Biria, 2010:65). Daarom word hier spesifiek gebruik gemaak van linguistiese middele wat bepaalde semantiese verbande skep, tersaaklike teksdele aandui, asook die gebruik van bykomende akademiese bronne én relevante voorbeelde aantoon. Interpersoonlike metadiskoers, daaren-teen, word gebruik vir die daarstel van 'n skrywer-leser-verhouding. Dit behels die gebruik van woorde en frases wat nie net die leser deur die teks begelei en teksinterpretasie fasiliteer nie, maar ook die skrywer se houding, opinie en oordeel teenoor bepaalde standpunte uitdruk, die bedoeling van sekere uitinge aandui én sy/haar houding teenoor die leser aantoon.

Interpersoonlike metadiskoers hou terselfdertyd ook verband met die skrywer se vermoë om samehorigheid én selfrefleksie met die leser te skep. Derhalwe moet die skrywer oor die vermoë beskik om sekere inligting te verskans of te versterk, om 'n bepaalde skrywerhouding uit te druk, om verbande te bewerkstellig en om na die eie ek te verwys (Hyland, 1998:443; Hyland, 2005:219; Meintjes, 2015:99; Meintjes, 2021:77; Musa, 2014:5; Noorian & Biria, 2010:66; Takimoto, 2015:95).

Hyland (1996:433) wys daarop dat verskansing, wat onder die interpersoonlike metadis-koerskategorie ressorteer, sentraal staan tot akademiese skryfwerk. Alameddine en Mirza (2016:211), Karahan (2017:37), Demir (2018:75), Alonso (2019:60) en Ustyantseva (2019:84) argumenteer onder andere ook, soos Hyland (1996:433), dat verskansing integraal deel is van akademiese tekste en selfs onontbeerlik is vir die produsering daarvan, aangesien dit direk betrekking het op die suksesvolle bereiking van kommunikatiewe doelwitte. Verskansing is 'n pragmatiese fenomeen, en die suksesvolle gebruik en interpretasie daarvan gaan gepaard met 'n skrywer en leser se pragmatiese bekwaamheid. Indien dit nie korrek gebruik word nie, en die betekenis daarvan nie korrek geïnterpreteer word nie, kan dit kommunikasie tussen die sender en ontvanger skaad (Fraser, 2010:33; Musa, 2014:6).

Wanneer skrywers oor die vermoë beskik om verskansing korrek te gebruik, beteken dit dat hulle die kognitiewe proses bemeester het om te oordeel wanneer dit nodig is om hul te weerhou van die algehele verbintenis tot 'n bepaalde proposisie, en eerder sodanige inligting as 'n mening/moontlikheid voor te hou in plaas van 'n onbetwisbare feit (Hyland, 2005:178). Dusdanige skrywer beskik oor die vermoë om te onderskei tussen apodiktiese inligting, en inligting wat slegs op 'n moontlikheid dui. Definitiewe inligting moet aan die hand van ondersteunende bewyse gestaaf word, terwyl dit die doel van tentatiewe taal is om sterk standpunte te kwalifiseer tot 'n moontlikheid - met ander woorde om die illokusionêre krag daarvan te versag (Farrokhi & Emami, 2008:65; SulovskA, 2022:61).

Aangesien skrywers hulle soms op strategiese wyse distansieer van die waarheid en beslistheid van sekere standpunte, skep hulle ruimte vir alternatiewe standpunte wat die leser teenoor die proposisionele inhoud kan huldig. Hulle beskerm hulself ook daarteen om nie persoonlik aanspreeklik gehou te word vir hierdie standpunte nie. Verder toon die gebruik van verskansing aan dat 'n skrywer nie daarop aanspraak maak dat hy/sy die laaste woord oor die onderwerp van bespreking stel of voorgee om dit te stel nie. Verskansing is laastens 'n strategie waarmee skrywersbeleefdheid uitgedruk word, aangesien dit sterk apodiktiese stellings en menings versag en objektiwiteit verhoog (Akbas, 2014:39; Alonso, 2019:60; Karahan, 2017:37; Musa, 2014:5; Takimoto, 2015:95; Talati-Baghsiahi & Khoshsima, 2016:15-16; Ustyantseva, 2019:85).

Soos reeds genoem, impliseer verskansing die gebruik van tentatiewe taal wat moontlik-heid, versagting, vaagheid, modaliteit en beleefdheid uitdruk (Kazemi, 2016:110; Takimoto, 2015:95; Ustyantseva, 2019:85). Musa (2014:9) wys daarop dat die woorde en frases wat hiervoor gebruik word, multi-funksioneel van aard is. Derhalwe kan dit volgens Uysal (soos aangehaal deur Demir, 2018:78) sintaktiese, leksikale en retoriese funksies vervul. Enkele voorbeelde van tentatiewe taal, soos in die literatuur opgeneem is, sluit in: "it may seem", "it might be", "doubtfully", "likely", "may", "perhaps", "possible", "probably", "seems", "suppose", "quite" en "unlikely" (Farrokhi & Emami, 2008:65; Kondowe, 2014:216; Petchkij; 2019:95).

Demir (2018:75) wys egter daarop dat daar versigtig omgegaan moet word met verskan-singsmiddele. Hy beklemtoon dat die handhawing van balans in die gebruik daarvan belangrik is, aangesien die ondergebruik daarvan juis oorbeklemtoning tot gevolg kan hê, en dat die oorgebruik daarvan weer vrae by die leser kan aanwakker oor die geloofwaardigheid van bepaalde standpunte. Hieroor beweer Demir (2018:75) voorts dat: "Appropriate use of hedges in academic texts may keep criticisms away from writers, and may increase persuasive power on audiences."

Die literatuur word gekenmerk deur verskeie studies rakende die gebruik van verskansing in akademiese tekste. Hierdie studies fokus hoofsaaklik op die gebruik daarvan in voor- en nagraadse studentetekste (veral Engels L1 en L2), akademiese artikels, en die gebruik daarvan in tale soos Chinees, Frans, Thai, Russies, Spaans en Duits (Alonso, 2019; Farrokhi & Emami, 2008; Hinkel, 2005; Hu & Cao, 2011; Hyland, 2000; Kim & Lim, 2015; Livytska, 2019; Mills & Dooley, 2014; Musa; 2014; Omer, 2016; Petchkij, 2019; Siepmann, 2006; Takimoto, 2015; Tan, 2002; Ustyantseva, 2019; Wishnoff, 2000; Yang, 2018). Daar bestaan desnieteenstaande 'n leemte in die literatuur rakende die gebruik van verskansing in Afrikaanse akademiese tekste, en in die besonder in die geskrewe tekste van Afrikaanssprekende eerstejaarstudente. Die enigste studies wat in hierdie verband opgespoor kon word, is Jordaan (2014), Jordaan (2016), Meintjes (2015) en Meintjes (2016). Alhoewel verskansers in hierdie studies ter sprake kom, vorm dit nie as sodanig die hooffokus daarvan nie.

Gegewe die voormelde leemte in die literatuur, is die doel van hierdie artikel daarom om uitsluitlik verslag te doen oor die gebruik van verskansing in Afrikaanssprekende eerste-jaarstudente se geskrewe argumente.1 Op hierdie wyse poog die artikelskrywer om 'n bydrae te lewer om die bestaande leemte in die literatuur te vul, en terselfdertyd ook verdere navorsing oor die onderwerp aan te moedig. In hierdie artikel word spesifiek gefokus op:

die tipe verskansers wat deur Afrikaanssprekende eerstejaarstudente gebruik word;

die frekwensie in gebruik van verskansers oor al drie dele van die teks, naamlik die inleiding, die liggaam (inhoudelike gedeelte) en die slot;

of verskansers korrek en gepas gebruik word; en

of daar 'n beduidende verskil is in die gebruik van verskansers tussen studente wat ondergemiddeld, gemiddeld en bogemiddeld presteer het in hulle geskrewe argumente.

 

2. Metodologie

2.1 Raamwerk vir analise

Vir die doel van hierdie artikel word verskansers in twee kategorieë verdeel, naamlik (1) beperkingsmerkers wat die geldingsbereik van die skrywer se standpunte inkort, en (2) weerhoudingsmerkers wat die skrywer se standpunte tot 'n algehele moontlikheid versag. Meintjes (2015:128) wys daarop dat eersgenoemde nie die feitelikheid van standpunte beïnvloed nie, aangesien dit slegs die standpunte kwalifiseer om ruimte te skep vir die leser se mening rakende die onderwerp van bespreking. Daarenteen tas laasgenoemde volgens Meintjes (2015:127) wél die feitelikheid van standpunte aan, aangesien die skrywer dit gebruik om hom/haar heeltemal te distansieer en/of om die evaluering van die waarde van die betrokke standpunte te vermy.

Twee lyste met altesaam 20 Afrikaanse woorde en frases dien as raamwerk vir die analise van die genoemde verskansers. Hierdie lyste is uit die Afrikaanse en Engelse literatuur saamgestel. Die artikelskrywer het verder altesaam 100 studentetekste indringend nagegaan, ten einde die volledigheid van die twee raamwerke te kontroleer waarteen die korpusgebaseerde ondersoek kon plaasvind. Die beperkings- en weerhoudingsmerkers wat vir die analise gebruik is, word onderskeidelik in Tabel 1 en Tabel 2 vervat.

 

 

 

 

2.2 Die korpus

Die korpus is saamgestel uit argumentatiewe tekste wat deur Afrikaanssprekende eerstejaar-studente geskryf is. Dit beslaan 437 580 woorde. Die deelnemende studente was ten tye van die ondersoek ingeskryf vir die module Akademiese Geletterdheid. Daar is geen vooraf onderrig gebied nie, en die studente moes staat maak op dit wat hulle op hoërskool geleer het oor die skryf van argumente. Die rede hiervoor is dat daar vasgestel wou word tot watter mate eerstejaarstudente direk ná hulle skoolopleiding in staat is om verskansing in hulle geskrewe argumente te gebruik, alvorens hulle in die Akademiesegeletterdheidsmodule verder aan die skryf van akademiese argumente blootgestel sou word.

Die betrokke studente is deeglik ingelig rakende die aard en doel van die ondersoek, en het ook skriftelike toestemming daartoe verleen. Deelname was vrywillig en anoniem en enige student kon op enige stadium sy/haar teks aan die ondersoek onttrek.

2.3 Data-analise

2.3.1 Die korpusgebaseerde ondersoek

Die korpusgebaseerde variant van korpuslinguistiek is in hierdie ondersoek as eerste metode van ontleding betrek. Hierdie empiriese analise het geskied aan die hand van die vooraf-geïdentifiseerde woorde en frases (vgl. Tabel 1 en Tabel 2) deur gebruik te maak van WordSmith 5 se konkordansiefunksie.

Op hierdie wyse kon die frekwensie (aantal kere) wat elke beperkings- en weerhoudings-merker in die studentetekste voorgekom het, vasgestel word. Verder kon die gebruikspatrone en die presiese betekenis wat die voorgenoemde merkers in die korpus vervul, bestudeer word. Daar kon dus bepaal word of van die woorde en frases nie ook 'n ander funksie as slegs dié van 'n beperkings- of weerhoudingsmerker kan vervul nie.

Hierdie analise het plaasgevind oor al drie dele van elke studenteteks, naamlik die inleiding, liggaam en slot, en waarna die genoemde merkers in meer omvattende raamwerke (Tabel 3 en Tabel 4) geplaas is. Hierna is die gekwantifiseerde data ook kwalitatief geïnterpreteer en verduidelik (vgl. Meintjes, 2015).

 

 

 

 

Vervolgens word die frekwensie en verspreiding van die verskansers wat wel 'n beperkings-of weerhoudingsfunksie oor die drie dele (inleiding, liggaam en slot) van die studentetekste vervul het, in Tabel 5 en Tabel 6 aangedui.

 

 

 

 

2.3.2 Die nagesiende studentetekste

Al die studentetekste, altesame 731, is deur drie onafhanklike en ervare dosente nagesien. Hierdie tweede analiseproses het aan die hand van 'n analitiese nasienskema plaasgevind. Dié nasienskema het uit vier afdelings bestaan, waarvan die eerste drie afdelings gefokus het op die drie dele van die argumentatiewe teks, naamlik die inleiding, liggaam en slot, asook die organisasie van die verskillende komponente waaruit hierdie drie dele bestaan. Die vierde afdeling het op aspekte soos die taal en styl van geskrewe akademiese diskoers gefokus. Elkeen van die genoemde afdelings is volgens vyf kategorieë nagesien, naamlik swak, ondergemiddeld, gemiddeld, bogemiddeld en uitstekend.

Die interne betroubaarheid tussen die nasieners se punte is bepaal aan die hand van Cronbach alpha-waardes, en bereken deur middel van die Anova variansie-analisetoets. Die onderskeie punte wat die nasieners aan die inleiding, liggaam en slot van elke studenteteks toegeken het, asook die finale punt daarvan uit 20, is in drie groepe verdeel (bogemiddeld -65% en hoër, gemiddeld - tussen 50% en 64% en ondergemiddeld - 49% en laer). Hierna is die punte vergelyk met die data wat uit die korpusgebaseerde ondersoek na vore gekom het. Met behulp van hierdie korrelasie-analise kon daar vasgestel word wat kenmerkend was ten opsigte van die gebruik van beperkings- en weerhoudingsmerkers in die studentetekste, asook die aantal kere wat dit gebruik is deur die studente wat 'n bogemiddelde, gemiddelde en ondergemiddelde punt vir die nagesiende tekste ontvang het (vgl. Meintjes, 2015:133-134).

Beskrywende statistiek is gebruik om die gemiddeldes, standaardafwyking, en die frekwensie van die gebruik van die beperkingsmerkers (Tabel 3) en weerhoudingsmerkers (Tabel 4) tussen die drie studentegroepe aan te dui. Hierna is die verskil in die gebruik van beperking en weerhouding aan die hand van Cohen (1988:25-27) se d-waardes van 0.2, 0.5 en 0.8 vir interpretasie gebruik (vgl. Meintjes, 2015:282). Die data wat uit hierdie statistiek na vore gekom het, word in Tabel 7 weergegee.

 

 

3. Interpretasie van bevindinge

3.1 Die korpusgebaseerde ondersoek

3.1.1 Beperkingsmerkers

Beperkingsmerkers is 17 keer in die korpus gebruik. Alhoewel hierdie merkers reeds in die inleiding van 'n teks behoort te figureer, het dit glad nie in enige inleiding voorgekom nie. Dit is verder slegs in enkele gevalle in die liggaam (14 keer) en slotgedeeltes (3 keer) gebruik.

Die lae gebruiksfrekwensie van beperkingsmerkers kan daaraan toegeskryf word dat eerstejaarstudente dit moeilik vind of selfs nie bewus is daarvan nie dat skrywerstandpunte aanvanklik as voorwaardelik voorgehou behoort te word, en eers later aan die hand van voldoende navorsingsbewyse en ondersteuning as absoluut bevestig behoort te word. Verder kan dit gestel word dat hierdie studente ook nie daarvan bewus is dat indien die geldingsbereik van 'n feit deur 'n beperkingsmerker ingekort word, dit nie die feitelikheid daarvan beïnvloed nie (Meintjes, 2015:217).

Die onderstaande gedeelte uit Meintjes (2015) demonstreer die korrekte gebruik van 'n beperkingsmerker in die liggaam van die teks.

Voorbeeld A:

Kenners meen dat dit belangrik is om bedag te wees op dit wat kan lei tot depressie. Depressie en stres is iets wat almal van ons kan raak. Dit word gesien as 'n gonswoord en ieder en elk kla daaroor. Maar is dit nie deels te wyte aan ons eie swakhede nie?

Dit is duidelik dat hierdie skrywer van die standpunt uitgaan dat die mens se eie swakhede as die oorsaak van depressie en stres dien. Die student wil dus nie sy/haar standpunt as kategories voorhou nie, en daarom word die beperkingsmerker deels hier gebruik. Hierdie student gee toe dat daar ook ander faktore bestaan wat depressie en stres veroorsaak, maar dat daar in die betrokke teks spesifiek gefokus word op menslike swakhede. Aangesien daar dus ruimte gelaat word vir moontlike teenargumente, dien Voorbeeld A ook as 'n gepaste voorbeeld van die wyse waarop 'n skrywer-leser-verhouding tot stand gebring word (Meintjes, 2015:217).

In die onderstaande teksgedeelte uit Voorbeeld B word 'n beperkingsmerker in die slot van die teks gebruik. Hoewel dit hier gebruik word om 'n standpunt in te kort, het hierdie skrywer 'n heel ander doel voor oë as die skrywer van Voorbeeld A. Ter verduideliking van die voorgenoemde, word hier saam met die slot, ook 'n uittreksel uit die liggaam van die teks verskaf.

Voorbeeld B:

Ek bedoel dit nie lelik as ek sê ons moet eerder eers in ons eie land regmaak wat fout is voordat ons Haïti help nie, maar ek voel net dit help nie ons ignoreer die krisis waarin ons eie land gedompel is nie. Op die oomblik gaan dit regtig swaar in ons land, daar is in ons land net soveel mense wat hulp nodig het. Hoekom help ons nie eerder diegene in ons land wat sukkel nie?

Die groot probleem in ons land is dat niemand eintlik wil erken dat ons land ook 'n krisis in die gesig staar nie, ons maak maar asof alles reg is. Ons kyk verby dit wat fout is. Ons ignoreer die probleem en dit kan op die ou end slegte nagevolge vir ons land inhou. Suid-Afrika het soveel potensiaal, maar omdat ons eerder ander lande help wat sukkel, berokken ons ons self net skade.

In ons land is daar op die oomblik baie mense wat swaar kry as gevolg van die hoë pryse van kos, klere en brandstof. Al hoe meer mense kan nie die mas opkom nie. Daar is baie huise en arm woonbuurte waar die ouers en kinders honger moet gaan slaap. Deesdae sukkel selfs diegene waar geld nog nooit 'n probleem was nie. 'n Mens hoor ook al hoe meer van mense se eiendomme of voertuie deur die bank terug gevat word.

Die droogte in die Wes- en Oos-Kaap is ook 'n groot probleem. Dit gaan swaar met die boere, want daar is nie weiding of water vir hul vee nie en diegene wat met vrugte of groente boer sukkel net so. Daar is baie dorpe waar daar waterbeperkings is, want daar is eenvoudig nie water nie. Die verskillende moorde en verkragtings in ons land is ook 'n krisis en dan praat ek nog nie eens van al die vigswesies nie.

Dit is beslis 'n groot ramp wat Haïti getref het, ek verstaan dat daar baie mense is wat hul families verloor het, dat daar nou baie wesies is en dat baie mense dakloos gelaat is, maar ons land het ook 'n krisis, ons het min of meer dieselfde probleme in ons land. En juis daarom moet ons eerder eers ons eie land help.

Die skrywer van die teks in Voorbeeld B het van geen eksterne bronne gebruik gemaak om sy/haar standpunte in die liggaam te ondersteun nie. Die argument berus op subjektiewe menings en oortuigings, persoonlike aanval en veralgemenings. Die skrywer het dus weinig, indien enige, navorsing oor die onderwerp gedoen, en daarom persoonlike menings as feite probeer voorhou. In teenstelling met Voorbeeld A waar die student meer objektief te werk gegaan het, en beperking gebruik het om voorsiening te maak vir teenargumente, blyk dit dat die student van Voorbeeld B beperking gebruik om die geloofwaardigheid van sy/haar eie standpunte in twyfel te trek (Meintjes, 2015:219).

3.1.2 Weerhoudingsmerkers

Daar is altesaam 354 keer van weerhoudingsmerkers in die korpus gebruik gemaak. Die verspreiding daarvan oor die teksdele het soos volg daar uitgesien; 21 weerhoudingsmerkers in die inleidende gedeeltes, 276 in die liggaam van die tekste en 57 in die slotgedeeltes.

Weerhouding is min in die inleidings gebruik (slegs 21 trefgevalle in die 731 studentetek-ste), veral as daar in ag geneem word dat die tesisstelling wat hier verskaf word, nog nie beredeneer en aan die hand van voldoende bewyse ondersteun is nie. Derhalwe kan dit nie reeds in hierdie gedeelte van die teks as 'n voldonge feit deurgegee word nie (Meintjes, 2015:251).

Die onderstaande voorbeelde uit Meintjes (2015) illustreer die gebruik van weerhoudings-merkers wat nie die tesisstelling as absoluut voorhou nie.

Voorbeeld C:

Vandag se samelewing eis baie meer van jou as mens as in die verlede. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die spoedige ontwikkeling van tegnologie.

Voorbeeld D:

Wat is die werklike definisie vir lojaliteit? Is dit om getrou te wees teenoor persone met wie jy in aanraking kom of kan dit ook net dalk verwys na die manier hoe Suid-afrikaners oor hulle taal voel...

Dit is duidelik dat persoonlike menings/vermoedens oor die onderwerp van bespreking in Voorbeeld C en Voorbeeld D uitgedruk word. Aangesien hierdie studente nog nie oor die onderwerp navorsing gedoen het nie, was hulle wel bewus daarvan dat skrywerstandpunte verder in die teks aan die hand van bykomende inligting beredeneer en bewys moet word (Meintjes, 2015:251).

Daar kan verder geargumenteer word dat die lae voorkoms van weerhoudingsmerkers in die inleidings daarop dui dat die meeste van hierdie studente heel moontlik nie as oningelig wou voorkom nie, of selfs nie geweet het dat hulle persoonlike menings eers as 'n moontlikheid uitgedruk behoort te word nie. Daarom het hulle reeds in die inleiding van hulle tekste persoonlike standpunte as feite voorgehou deur gebruik te maak van die metadiskoerskategorie, sekerheidsmerkers, wat op algehele beslistheid dui (Meintjes, 2015:240-242, 251).

Die meeste weerhoudingsmerkers is in die liggaam van die korpustekste gebruik. Soos by die inleiding is die weerhoudingsmerkers ook hier gebruik om persoonlike standpunte, wat nie aan die hand van enige bewyse beredeneer is nie, te versag. Voorts is weerhouding gebruik om ingeligte menings in te kort, aangesien sodanige menings ook deur die nodige bewyse as waar bevestig moet word (Meintjes, 2015:252). Die voorgenoemde word aan die hand van die onderstaande aanhalings uit Meintjes (2015) geïllustreer:

Voorbeeld E:

Mense in langafstand verhoudings, families wat oorsee bly of selfs vriende maak konstant gebruik van moderne kommunikasie byvoorbeeld skype, email, facebook, ens. Dit mag dalk daartoe lei dat mense nie meer fisiese persoonlike kontak met ander mense deel nie, en dan antisosiaal word.

Voorbeeld F:

Sonder twyfel sal daar altyd rekenaars en selfone in ons toekoms wees. Die enigste media wat miskien nog 'n kans staan om met elektroniese media te kompeteer is koerante. Koerante is deel van talle mense regoor die wêreld se oggend roetiene.

Voorbeeld G:

Die Suid-Afrikaanse Regering se vinnige aanvaarding van geneties-aangepasde gewasse, hou moontlike gevare vir die gesondheid van die land se mense in. Hierdie waarskuwing kom van 'n vooraanstaande wetenskaplike, prof. Winston Hide. Hy is die hoof van die SA Nasionale Bio-informatika-Instituut aan die Universiteit van die Wes-Kaap. Sy bekommernisse oor geneties aangepaste (GM-) gewasse is dat hulle moontlik 'n uitwerking op menslike siektes kan hê.

Voorbeeld H:

Die verkoop van huise in Suid Afrika kan in die nabye toekoms verbeter om verskeie redes. Mnr. Tito Mbweni van die Reserwe Bank en sy span het gehelp met die verlaging van die rentekoers met 1% in Maart 2008. 'n Volgende rentekoers verlaging is moontlik in die nabye toekoms. Dit maak dus eiendom meer bekostigbaar vir kopers en beleggers

Die skrywer van die teks in Voorbeeld E is van mening dat moderne kommunikasiemiddele daartoe lei dat mense steeds minder persoonlike kontak met mekaar het en daarom kan dit verantwoordelik gehou word vir antisosiale gedrag. Die skrywer maak egter gebruik van die weerhoudingsmerker kan om die standpunt tot 'n moontlikheid te versag, omdat dit nog nie deur genoegsame begronding as die waarheid bewys kon word nie. In Voorbeeld F druk die skrywer sy/haar onsekerheid uit of dit werklik so is dat gedrukte media, spesifiek koerante, enigsins 'n noemenswaardige bedreiging vir elektroniese media inhou. Die merker miskien dui aan dat dit slegs 'n moontlikheid is, en dat die feitelikheid daarvan eers bewys moet word (Meintjes, 2015:253).

In Voorbeeld G haal die skrywer 'n kenner se mening direk aan. Die kenner gebruik self die weerhoudingsmerker moontlik, omdat dit nog nie wetenskaplik bewys is dat geneties gemanipuleerde voedsel die gesondheid van mense negatief beïnvloed nie. In die slotsin maak die skrywer weer van dieselfde merker gebruik om aan te dui dat die aanhaling slegs ' n ingeligte mening is, en waarvan die feitelikheid nog nie bewys is nie. In die laaste voorbeeld (Voorbeeld H) vorm die skrywer self 'n ingeligte mening op grond van die feit dat die rentekoers met 1% in Maart 2008 verlaag is. Die skrywer is dus van mening dat nóg 'n verlaging nie uitgesluit is nie. Die verlaging kan egter nie as die waarheid bevestig word nie, en daarom word dit slegs as 'n moontlikheid voorgehou (Meintjes, 2015:253).

Weerhoudingsmerkers is in die korpustekste se slotgedeeltes gebruik om ingeligte menings, wat op grond van die beredenering in die liggaam gevorm is, te versag tot 'n algehele moontlikheid. Hierna is daar dan tot 'n finale gevolgtrekking gekom. Verder is dit ook gebruik om persoonlike opinies te versag tot blote moontlikhede. Voorbeelde hiervan uit Meintjes (2015) is:

Voorbeeld I:

Dit mag wees dat hierdie vermenging van Afrikaans en Engels slegs 'n tydelike taalverskynsel is. Oor 'n paar jaar is daar moontlik weer 'n ander tendens. Studente en jongmense identifiseer met hierdie taalgebruik en praat heel waarskynlik in ander situasies meer formele of standaard Afrikaans. Tenspyte hiervan is dit duidelik dat daar gepoog moet word om die Afrikaanse taal meer suiwer te hou, maar dit kan vir seker nie voorgeskryf word nie. Afrikaners sal steeds praat of sing soos hulle wil, al is hulle hoe lojaal teenoor hul taal.

Voorbeeld J:

Is tegnologie nie veronderstel om ons te help nie? Miskien moet ons die manier hoe ons tegnologie in ons konteks gebruik probeer aanpas. Dit is sekerlik die uitdaging wat voor ons lê.

Die onderstaande dien as voorbeeld waar 'n skrywer sy/haar finale gevolgtrekking probeer versag, maar nie die weerhoudingsmerker korrek gebruik nie.

Voorbeeld K:

Die tempo waarteen elektroniese media ontwikkel is dus dalk oor die algemeen verdoemend vir die voortbestaan van die gedrukte media, maar wat gaan gebeur wanneer elektrisiteit nie meer bestaan nie? Wat van al die een-in-'n-leeftyd romanse wat slegs in biblioteke beskikbaar is?

Dit kom voor dat die skrywer hier onseker was of voldoende bewyse in die argument verskaf is, en daarom nie die tesisstelling teen die einde as 'n feit wou deurgee nie. Verder kan dit ook wees dat die skrywer aan die geldigheid van die gevolgtrekking getwyfel het, en daarom van weerhouding gebruik gemaak het.

Uit die ondersoek is dit dus duidelik dat eerstejaarstudente dit moeilik vind om beperkings-en weerhoudingsmerkers as vorm van verskansing by die formulering van hulle standpunte te gebruik. Die studente wat wél van weerhoudingsmerkers gebruik gemaak het, het dit oor die algemeen korrek gebruik. Daar was egter heelwat studente wat nie oor die vaardigheid beskik het om standpunte of ingeligte menings te versag tot 'n moontlikheid/onsekerheid alvorens dit as waarheid bewys is nie. Die lae voorkoms van verskansing in hierdie tekste dui daarop dat eerstejaarstudente eerder standpunte as voldonge feite probeer deurgee en derhalwe figureer die interpersoonlike metadiskoerskategorie, sekerheidsmerkers, oor die algemeen meer in hulle tekste. Die voorgenoemde word gestaaf deur Meintjes (2021:90) wanneer daarop gewys word dat eerstejaarstudente hoofsaaklik van sekerheidsmerkers gebruik maak om persoonlike standpunte op 'n subjektiewe wyse te versterk.

3.2 Die nagesiende korpustekste

Uit Tabel 7 blyk dit dat daar nie 'n statisties beduidende verskil was in die gebruik van verskansers deur studente wat 'n bogemiddelde, gemiddelde en ondergemiddelde punt vir hulle tekste ontvang het nie. Die studente het relatief min gebruik gemaak van weerhouding, terwyl beperking selde in hulle argumente aanwesig was (Meintjes, 2015:280). Aangesien beide hierdie kategorieë se d-waardes op 'n klein effekgrootte dui, beteken dit dat daar feitlik geen verskil was in die wyse waarop beperkings- en weerhoudingsmerkers in die korpustekste aangewend is nie. Verder is dit duidelik dat daar geen groot effekverskille in die gebruik van die merkers tussen die kategorieë van skrywers bestaan het nie, en derhalwe nie op 'n praktiese betekenisvolheid in die gebruik daarvan tussen die groepe dui nie (Meintjes, 2015:282).

 

4. Slot en aanbevelings

Hierdie artikel het lig gewerp op die gebruik van die interpersoonlike metadiskoerskategorie, verskansing, in die geskrewe argumente van Afrikaanssprekende eerstejaarstudente. In die ondersoek is daar spesifiek gefokus op beperkings- en weerhoudingsmerkers. Eerstens is aandag geskenk aan die tipe woorde en frases wat gebruik is, en tweedens aan die mate (frekwensie) waartoe dit in die tekste voorgekom het. Derdens is bepaal of die deelnemende studente oor die vaardigheid beskik het om die genoemde merkers volgens die juiste woordbetekenis te gebruik. Laastens is vasgestel of 'n noemenswaardige verskil aanwesig was in die gebruik van verskansing tussen studente wat 'n ondergemiddelde, gemiddelde of bogemiddelde punt vir hulle nagesiende tekste ontvang het.

Die resultate van die ondersoek dui daarop dat Afrikaanssprekende eerstejaarstudente by die aanvang van hulle universiteitstudie nie noodwendig ervare is in die gebruik van verskansing nie. Beperkings- en weerhoudingsmerkers het selde in die tekste voorgekom. Dit dui daarop dat die deelnemende studente oor die algemeen hulle standpunte eerder as voldonge feite aan die leser probeer voorhou het, alvorens dit aan die hand van voldoende bewyse as waar bewys kon word. Bykomend het die oorkoepelende lae voorkoms van beperkingsmerkers daarop gedui dat die meeste studente nie oor die vaardigheid beskik het om hulle standpunte te kwalifiseer nie; hulle kon oor die algemeen nie ruimte skep vir die leser se mening(s) rakende die onderwerp van bespreking nie.

Weerhoudingsmerkers het ook selde in die korpus voorgekom. Studente wat wel daarvan gebruik gemaak het, het dit korrek volgens die woordbetekenis gebruik. Die meeste studente het egter nie oor die vaardigheid beskik om weerhoudingsmerkers korrek in te span nie, en was dus nie in staat daartoe om hulle standpunte of ingeligte menings tot 'n algehele moontlikheid te versag alvorens dit as waarheid bewys is nie. Verder het dit ook uit die ondersoek na vore gekom dat Afrikaanssprekende eerstejaarstudente nie noodwendig oor voldoende woordeskatkennis beskik nie, aangesien van die merkers 'n geen tot 'n lae gebruiksfrekwensie in die korpustekste getoon het.

Die gebruik van verskansing in die geskrewe argumente van Afrikaanssprekende eerstejaarstudente blyk dus problematies te wees. Derhalwe word aanbeveel dat daar op universiteit in Akademiesegeletterdheidsmodules deurlopend aandag geskenk moet word aan die bevordering van studente se pragmatiese kompetensie. Deur gebruik te maak van byvoorbeeld bewusmaking- en ontwikkelingsaktiwiteite behoort eerstejaarstudente in staat gestel te word om betekenisvolle tekste te produseer én 'n bewustheid te kweek rakende die doel en funksionele gebruik van verskansing. Verder behoort dit hulle ook op 'n eksplisiete wyse bekend te stel aan die verskillende woorde en frases wat optree as hulpmiddels in die uitdrukking van verskansing. Op hierdie wyse kan woordeskatkennis ook met vrug uitgebrei word.

 

BIBLIOGRAFIE

Akbas, E. 2014. Commitment-detachment and authorial presence in postgraduate academic writing: a comparative study of Turkish native speakers, Turkish speakers of English and English native speakers. York: University of York. (Thesis - PhD).         [ Links ]

Alameddine, MM & Mirza, HS. 2016. Teaching academic writing for advanced level Grade 10 English. Procedia - Social and Behavorial Sciences, 232:209-216.         [ Links ]

Alonso, RA. 2019. A multicompetence perspective of hedging in second language academic writing. Onomázein, 45:58-78.         [ Links ]

Cohen, J. 1988. Statistical power analysis for the behavioral sciences. 2nd ed. Hillsdale: Lawrence Erlbaum.         [ Links ]

Demir, C. 2018. Hedging and academic writing: an analysis of lexical hedges. Journal of Language and Linguistic Studies, 14(4):74-92.         [ Links ]

Dornbrack, J & Dixon, K. 2014. Towards a more explicit writing pedagogy: the complexity of teaching argumentative writing. Reading & Writing, 5(1):1-8. http://dx.doi:10.4102/rw.v5i1.40.         [ Links ]

Farrokhi, F & Emami, S. 2008. Hedges and boosters in academic writing: native vs. non-native research articles in Applied Linguistics and Engineering. The Journal of Applied Linguistics, 1(2):62-98.         [ Links ]

Fraser, B. 2010. Pragmatic competence: the case of hedging. In: Kaltenböck, Mihatsch & Schneider. (eds). New approaches to hedging. United Kingdom: Emerald.         [ Links ]

Hinkel, E. 2005. Hedging, inflating, and persuading in L2 academic writing. Applied Language Learning, 15(1&2):29-53.         [ Links ]

Hu, G. & Cao, F. 2011. Hedging and boosting in abstracts of applied linguistics articles: a comparative study of English- and Chinese-medium journals. Journal of Pragmatics, 43:2975-2809.         [ Links ]

Hyland, K. 1996. Writing without conviction? Hedging in Science Research articles. Applied Linguistics, 17(4):433-454.         [ Links ]

Hyland, K. 1998. Persuasion and context: the pragmatics of academic metadiscourse. Journal of Pragmatics, 30:437-455.         [ Links ]

Hyland, K & Tse, P. 2004. Metadiscourse in academic writing: a reappraisal. Applied Linguistics, 25(2):156-177.         [ Links ]

Hyland, K. 2000. Hedges, boosters and lexical invisibility: noticing modifiers in academic texts. Language Awareness, 9(4):179-197.         [ Links ]

Hyland, K. 2005. Metadiscourse: exploring interaction in writing. London: Continuum.         [ Links ]

Jordaan, A. 2014. Die gebruik van metadiskoers in Afrikaans T1-skryfwerk van eerstejaar-universiteitstudente. Vanderbijlpark: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MA).         [ Links ]

Jordaan, A. 2016. Afrikaanse verbandsmerkers: uitbreiding en herkategorisering van voorbeeldwoorde. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 34(2):147-167.         [ Links ]

Karahan, P. 2017. Expression of epistemic modality in argumentative writing: a study based on learner corpora. Turkey: Anadolu University. (Dissertation - Doctorate)        [ Links ]

Kazemi, A. 2016. Hedging in academic writing: the case of Iranian EFL journals. International Journal of Language Studies, 10(4):109-130.         [ Links ]

Kim, LC & Lim, JM. 2015. Hedging in academic writing - a pedagogically-motivated qualitative study. Procedia - Social and Behavioural Sciences, 197:600-607.         [ Links ]

Kondowe, W. 2014. Hedging and boosting as interactional metadiscourse in literature doctoral dissertation abstracts. International Journal of Language Learning and Applied Linguistics World, 5(3):214-221.         [ Links ]

Kuswoyo, H & Siregar, RA. 2019. Interpersonal metadiscourse markers as persuasive strategies in oral business presentation. Lingua Cultura, 13(4):297-304.         [ Links ]

Livytska, I. 2019. The use of hedging in research articles on Applied Linguistics. Journal of Language and Cultural Education, 7(1):35-53.         [ Links ]

Meintjes, Z. 2015. Koherensie in die argumentatiewe skryfwerk van eerstejaarstudente: 'n teksgebaseerde ondersoek. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif - PhD).         [ Links ]

Meintjes, Z. 2016. Konjunksiemerkers: 'n indeling in Afrikaans vir die gebruik in geskrewe akademiese argumente op universiteit. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 23(1):81-102.         [ Links ]

Meintjes, Z. 2021. 'n Ondersoek na die gebruik van die interpersoonlike metadiskoerskategorie van sekerheidsmerkers in die geskrewe argumente van Afrikaanssprekende eerstejaarstudente. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 28(2):76-93.         [ Links ]

Mills, K & Dooley. K. 2014. Teaching persuasive texts: building a language of evaluation through hedging and moderated intensification. Literacy Learning: The Middle Years, 22(3):33-41.         [ Links ]

Musa, A. 2014. Hedging in academic writing: a pragmatic analysis of English and Chemistry masters' theses in a Ghanaian university. English for Specific Purposes World, 42(15):1-25.         [ Links ]

Noorian, M & Biria, R. 2010. Interpersonal metadiscourse in persuasive journalism: a study of texts by American and Iranian EFL columnists. Journal of Modern Languages, 20:64-79.         [ Links ]

Omer, TM. 2016. An exploration of modality and hedging in academic discourse: focusing on a Kurdish university context. International Journal of English Language Teaching, 4(3):67-77.         [ Links ]

Petchkij, W. 2019. Explicit teaching of hedges: bringing hedging in academic writing into the Thai EFL classroom. Electronic Journal of Foreign Language Teaching, 16(1):95-113.         [ Links ]

Preiss, DD, Castillo, JC, Flotts, P & San Martín, E. 2013. Assessment of argumentative writing and critical thinking in higher education: educational correlates and gender differences. Learning and Individual Differences, 28:193-203.         [ Links ]

Siepmann, D. 2006. Academic writing and culture: an overview of differences between English, French and German. Meta, 51(1):131-150.         [ Links ]

Sulovsk, ÁD. 2022. Selected topics from academic writing. Comenius University Bratislava: STIMUL.         [ Links ]

Takimoto, M. 2015. A corpus-based analysis of hedges and boosters in English academic articles. Indonesian Journal of Applied Linguistics, 5(1):95-105.         [ Links ]

Talati-Baghsiahi, A & Khoshsima, H. 2016. Improving linguistic and pragmatic knowledge of hedging strategies in EFL undergraduate students: a dynamic assessment approach. International Journal of English Language & Translation Studies, 4(2):13-28.         [ Links ]

Tan, H. 2002. Hedging in the discussion section of research articles written by native and non-native writers of English. Malaysia: University of Putra Malaysia. (Dissertation - PhD).         [ Links ]

Ustyantseva, AE. 2019. Hedging in academic writing. Issues of Applied Linguistics, 35:83-98.         [ Links ]

Wishnoff, JR. 2000. Hedging your bets: L2 learners' acquisition of pragmatic devices in academic writing and computer-mediated discourse. Second Language Studies, 19(1):119-148.         [ Links ]

Yang, D & Zeng, X. 2021. Epistemic modality and projection in argumentative writing: a corpus-driven comparison of Chinese English majors and native English speakers. Theory and Practice in Language Studies, 11(4):412-421.         [ Links ]

Yang, X. 2018. A corpus-based study of modal verbs in Chinese learners' academic writing. English Language Teaching, 11(2):122-130.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2022-09-27
Goedgekeur: 2023-02-06
Gepubliseer: Maart 2023

 

 

 

Zanétte Meintjes is 'n senior lektor in die Skool vir Tale aan die Noordwes-Universiteit (NWU) waar sy Akademiese Geletterdheid onderrig. Sy het haar PhD in 2015 aan die NWU verwerf. In haar proefskrif het sy gefokus op die koherensie in die geskrewe argumente van eerstejaarstudente. Haar navorsingsbelangstellings sluit Afrikaans, akademiese skryf, korpus-linguistiek en toegepaste linguistiek in.
Zanétte Meintjes is a senior lecturer in the School of Languages at the North-West University (NWU) where she teaches Academic Literacy. She obtained her PhD in 2015 at the NWU. In her thesis she focused on the coherence in the written arguments of first-year students. Her research interests include Afrikaans, academic writing, corpus linguistics and applied linguistics.
1 Hierdie ondersoek vorm deel van 'n groter studie wat dit het oor koherensie in eerstejaarstudente se geskrewe argumente (vgl. Meintjes, 2015).
2 Die voorbeelde wat hier verskaf word, is direkte aanhalings; geen aanpassings is gemaak nie. Vetdruk en/of onderstreping word wel gebruik om bepaalde verbande uit te lig.
3 Sien voetnoot 2.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons