SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue1RedakteursnotaKing Kong adapatations (1959-2017): Transversing culture and society author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n1a2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die waarde van literêre teater in die bewussyns-opvoeding van psigoterapiestudente

 

The value of literary theatre in the consciousness education of psychotherapy students

 

 

Karlien ConradieI; Estelle SwartII

IDepartement Opvoedkundige Sielkunde Fakulteit Opvoedkunde Universiteit Stellenbosch Suid-Afrika. E-pos: karlienL@sun.ac.za
IIDepartement Opvoedkundige Sielkunde Fakulteit Opvoedkunde Universiteit Stellenbosch Suid-Afrika. E-pos: estelle.swart@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie konseptuele artikel word die waarde van literêre teater in die bewussynsopvoeding van psigoterapiestudente as beginnerterapeute toegelig. 'n Eerste uitgangspunt van die artikel is bewussynsopvoeding om die ontologiese ingesteldheid as singewende intensionaliteit te kultiveer wat gekenmerk word deur synsdenke en sensitiwiteit vir die gelyktydige teenstry-dighede eie aan die menslike bestaansproblematiek. Teen hierdie agtergrond word die betekenisvolheid van bewussynsopvoeding as geestelike ideaal of Bildung-strewe beskryf, eerder as die performatiewe ideaal van nuwe kennis gerig deur 'n gespesifiseerde doel. Twee moontlike eietydse dilemmas wat psigoterapiestudente se ontwikkelende vermoë tot bewus-synsmatige betrokkenheid soms bemoeilik, word terselfdertyd belig. Dit sluit in begin-nerpsigoterapeute se oormatige selfbewustheid en sentimentele emosionaliteit, asook die tegnokratiese aard van massasielkunde. In die daaropvolgende afdelings verduidelik ons aan die hand van enkele eksemplariese onderrigvoorbeelde hoe literêre teater vanweë die inherente beliggaming van die eksistensieel-fenomenologiese karakter daarvan moontlik kan bydra tot die verskerping en inoefening van psigoterapiestudente se vermoë tot groter bewussynsmatig-heid.

Trefwoorde: bewussynsopvoeding, psigoterapie, literêre teater, argetipes, psigotera-piestudent, opleiding, beginnerpsigoterapeute, eksistensieel-fenomeno-logiese disposisie, massasielkunde, simboliese taal


ABSTRACT

The capacity to comprehend experiences in a coherent way and attribute meaning to existence is unique to human beings. Through Dasein, being consciously concerned with the onto-phenomenological experience, thus interpreting what it means to exist amid that which is and is still becoming, human beings strive to connect with their Lebenswelt (a lived world). Only when individuals are consciously receptive to and involved in their own ontological being and becoming can they empathise with the very nature of another. Woven into this larger disposition characterised by continuous onto-phenomenological self-making-in-a-situation (Bildung) -the Nietzschean call - is the empathic attitude. In the context of psychology, in particular psychotherapy, the empathic attitude - that is, being sensitively aware of how we understand ourselves, others and the world we share - is undeniably part of the repertoire of qualities that a therapist ought to possess. Often, however, the attitude of novice therapists towards what is happening between them and their clients here and now involves inflated self-awareness that is devoid of ontological considerations. Frequently, this results in a clichéd form of empathy based primarily on sentimental emotionality. It seems to be true that, in a ubiquitous cyberculture characterised by self-absorption and the mere accumulation of simplistic explanations, the ability to be ontologically receptive - as the sine qua non of an empathetic attitude - is gradually becoming undervalued.
Art, in particular literary theatre, has the capacity to push psychotherapy students (as spectators) to the edge of what it means to be human beings; by implication, therefore, it constitutes an appeal for existential phenomenological involvement. Suddenly the spectators cannot escape the incantatory circle ofwhat is affectively transcendent and become participants in their own self-developmental needs and psychological yearnings.
This article seeks to illustrate how the existential phenomenological elements of literary theatre, including physicality (language, movement, actions and sound), time and spatiality, can be used to comprehend an embodied involvement (being with the client, here, now) and encourage ontological reflection in psychotherapy students. In this regard, literary theatre displays certain existential phenomenological characteristics that can be understood and applied as part of a pedagogical enterprise in psychotherapy teaching and training. Some core characteristics include inner stillness, a sensitive-receptive attitude, and an awareness of Jungian or depth-psychology archetypes. Of importance is therefore the existential phenomenological attitude of the psychotherapy student towards a child's being (onto-involvement) in the therapy room or clinical evaluation situation.
By way of a conceptual explication, we attempt to provide an understanding of the relationship between the psychological function of literary theatre and the existential phenomenological attitude of the educational psychology student. This attitude embodies a certain artistry or aesthetic disposition, characterised by qualities such as honed intuition, sensitive awareness and the formation of nuanced connections. Such artistry allows the psychotherapy student to explore the developmentally and contextually layered client, and to articulate den Zachen Zelbst meaningfully by way of contemplative, nuanced thought and language. Den Zachen Zelbst, ingrained in the Husserlian and Heideggerian vernacular of philosophy of phenomenology, refers to existence as intentional; to be consciously concerned with the meaning of being, therefore life-world experience, as opposed to merely registering and measuring impressions from the outside world. An existential phenomenological disposition cannot be assumed, however, nor can it be simply taught as part of a postgraduate module on psychotherapy skills. Instead, the existential phenomenological disposition ought to be fostered and developed through carefully crafted embodiment activities of an intersectional nature (the intersection of philosophy, psychology, literature and drama, for example) as part of the teaching and training of psychotherapy students.
This article attempts to cast light on the existential phenomenological disposition as an essential attitude of the psychotherapy student, especially in the context of an often unmindful, mechanistic and utilitarian society. At its core, the existential-phenomenological attitude presupposes a more embodied (as opposed to essentialist) psychotherapy, characterised by ontological awareness, deepening insight and symbolic language. These intellectual qualities need to be protected at all costs from the technocratic materialism of mass psychology.

Keywords: consciousness development, psychotherapy, literary theatre, archetypes, psychology students, training, novice psychotherapists, existential phenomenological disposition, mass psychology, symbolic language


 

 

Kuns, spesifiek literêre teater, beskik oor die inherente vermoë om die teaterganger te druk tot aan die rand van wat dit vereis om mens te wees, by implikasie dus 'n oproep tot ontologiese gemoeidheid. Meteens kan die teatergangers nie aan die inkanterende kring van ontroering ontkom nie en word hulle in der waarheid deelnemers aan hul eie begeertes en verlangens. Literêre teater lê die kroniek van die menslike psige bloot, juis omdat argetipiese inhoud en eksistensiële bestaanselemente soos liggaamlikheid, tyd en ruimtelikheid in die teks en regie veranker is. Die inkanterende tekensisteem (musiek, sang, klanke, poppe, akteurs, dialoog en handeling) kenmerkend van die teaterervaring werk mee om argetipiese inhoud te aktiveer. Implisiet aan argetipiese ervaringe is die beginsel van instinktiewe psigiese ordening. Dit is die aprioriese strewe daarna om teenoorstaande elemente te verenig, om tegelykertyd individualiteit én verbondenheid, goedheid én donker onderstrominge, lewe én dood te ervaar en te verreken. Literêre teater kan dus as 'n ordeningsmite beskou word, omdat dit dikwels op uitnemende wyse funksioneer as houer vir of uitdrukking of ontsluiting van argetipes, te wete die diaboliese, goedheid, dood, wedergeboorte, anima, animus, en so meer. Die artikel poog om die waarde van literêre teater in die student se verrekening van sy of haar eie wesensaard, as psigoterapeutiese eis, te illustreer. Uit hierdie bewussynsmatige ingesteldheid spruit empatie voort as kernvermoë wat die psigoterapeut uiteindelik in staat stel om die onvoltooide, die paradoksale, die vervloeide ingebindheid van alles, as ryk skakerings te artikuleer.

 

1. Inleiding

Die verwerwing van 'n geakkrediteerde magisterkwalifikasie in opvoedkundige sielkunde vorm deel van die veelvlakkige proses waardeur kandidate uiteindelik by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) as professionele opvoedkundige sielkundiges geregistreer kan word. Die MEd Psig-program van die Departement Opvoedkundige Sielkunde van die Universiteit Stellenbosch dien as voorbeeld van sodanige kwalifikasie en bestaan uit gestruktureerde kursuswerk. As deel van hul kursuswerk word magisterstudente in opvoedkundige sielkunde blootgestel aan psigoterapeutiese gevalswerk.

Hierdie nabetragtingsartikel spruit voort uit waardevolle praktykbegeleidingservaringe tydens die terapieonderrig en -opleiding van magisterstudente in opvoedkundige sielkunde oor 'n tydperk van agt jaar. Die onderrig en opleiding van magisterstudente sluit in die ontwikkeling van kennisteoretiese insigte, krities-dialektiese redeneervermoë, artikulasie-soepelheid en prakties-tegniese psigometriese, diagnostiese en psigoterapeutiese vaardighede.1Bogenoemde MEd Psig-program is derhalwe gerig op die kultivering van studente se vermoë om op intellektueel genuanseerde wyse om te gaan met die alomvattende leer- en ontwik-kelingsprosesse van die mens, en om agter te kom waardeur en hoe hierdie delikate prosesse beïnvloed en ontwikkel kan word. Eie refleksie oor literêre teater, sowel as beginnerpsigotera-peute se vermoë tot die bewussynsmatige, oftewel singewende intensionaliteit as antropologiese prinsipe, het mettertyd aanleiding gegee tot die koppeling tussen sommige eksistensieel-fenomenologiese beginsels van literêre teater en die bewussynsmatigheid van die psigo-terapiestudent.

Met literêre teater word bedoel opvoerings waarvan die fokus hoofsaaklik bewussyns-verruiming eerder as vermaak is. Dit beteken egter nie dat vermaak heeltemal uitgesluit of selfs ondergeskik aan die denkende ingesteldheid is nie. Wanneer teater egter in staat is om die kroniek van die menslike psige bloot te lê, kan dit dikwels sekere eienskappe van die persoonlike sowel as kollektiewe onbewuste in die teks en regie insluit en veranker, byvoorbeeld psigiese komplekse, projeksie en argetipes. Literêre (letterkundige) teater hou verder verband met die letterkunde en letterkundige genres soos drama, poësie en prosa. Dit veronderstel die tipe teks wat aan vasgestelde letterkundige kriteria voldoen en daarom vir ontledingsdoeleindes gepas is.

Hierdie artikel probeer aantoon hoe die waarde van literêre teater in die bewussynsopvoe-ding van psigoterapiestudente as pedagogiese onderneming begryp kan word. Vervolgens word die bewussynsmatige ingesteldheid afgegrens as die eksistensieel-fenomenologiese bewussyn van die psigoterapiestudent.

 

2. Eksistensieel-fenomenologiese bewussyn van die psigoterapiestudent

Tydens psigoterapeutiese gevalswerk kom dosente soms onder die indruk van studente se ontwikkelende fenomenologiese denkwyse, dit wil sê hulle bewustheid van en nadenke oor die oergerelasioneerdheid van die menslike bestaan: wat dit is om 'n mens, verwikkeld in die groter landskap en wêreld, te wees.

Die belangrikheid van die fenomenologiese denkwyse binne sielkundige konteks is daarin geleë dat dit, in vergelyking met die naturalistiese denkstrominge, 'n meer verdiepende deurskouing van menswees bied. Die klem val op die intensionele gerigtheid en oorspronklike (outentieke) leefwêreld van mense, in plaas van die bestudering van individue as nie-eksisterende objekte wat hoofsaaklik uit meetbare psigiese funksies en gedragsvorme bestaan. Voordat studente die kliënte ten opsigte van verskillende ontwikkelingsdomeine evalueer, word hulle dus aangemoedig om eers die veelheid en kompleksiteit van die kliënte se menswees in hulle verhouding tot die wêreld te probeer peil. Die fenomenologies-antropologies-eksistensiële mensbeeld2 is hier ter sake en veronderstel 1) dat 'n mens intensioneel gerig is op die wêreld deur middel van onder meer waarnemings, denke, fantasie en voorstellings om daardeur betekeniswêrelde te skep; 2) dat 'n mens, naas fisies-psigiese wese, ook 'n self-bewussynswese is wat hom van homself kan distansieer en homself, asook die verhouding met die wêreld, daardeur kan beskou en evalueer; en 3) dat daar van meet af aan 'n appèl tot individuele mense gerig word om voortdurend sin te maak van hul eie gesitueerdheid (voortdurende mens-wêreld-verhouding).

Bogenoemde antropologiese oriëntering geld nie slegs die opbou van kliënt- of gevalskonseptualiserings nie. Doelbewuste bemoeienis hiermee herinner studente dikwels ook aan hul eie bewussynsingesteldheid. Dit is slegs wanneer die psigoterapeute sensitief is vir en betrokke raak by hul eie eksistensieel-fenomenologiese problematiek dat hulle die moontlike wesensaard van 'n ander as't ware kan invoel. Binne die konteks van die praktiserende sielkunde is hierdie sensitief invoelende bewustheid, oftewel empatiese ingesteldheid, onteenseglik deel van die repertoire van kwaliteite wat deur die beginnerpsigoterapeut ontwikkel en verfyn behoort te word. In die volgende afdeling word daar aandag geskenk aan die besondere wyse waarop die eksistensieel-fenomenologiese bewussyn uitmond in empatie.

 

3. Empatie as uitvloeisel van die eksistensieel-fenomenologiese bewussyn

Die empatiese ingesteldheid bestaan uit twee domeine, naamlik die kognitiewe en die affektiewe (Zaki, 2014). Terwyl die kognitiewe domein die vermoë behels om insig te toon in die fyn genuanseerde psigiese belewenislandskap, dui die affektiewe domein op begrip vir emotiewe aspekte van ervaring, soos gevoel, emosie en gemoedsgesteldheid. Empatie het dus te make met 'n denkende, maar ook sensitief invoelende ingesteldheid. Hierteenoor staan die simpatieke ingesteldheid, wat hoofsaaklik meegevoel met iemand se lotsbedeling behels. Dit impliseer egter nie noodwendig insig in die persoon se emosies nie (Loewenstein & Small, 2007). Dikwels blyk dit dat die empatiese ingesteldheid bloot afgemaak word as 'n verbygaande eienskap wat terloops by die repertoire van professionele deugde van studente in die versorgingsberoepe ingesluit word (MacLeod, 2001; Srivastava & Das, 2016).

Vir 'n sielkundige om werklik empaties ingestel te wees, vereis inspanning en volgehoue dieptepeilings van menslike bestaanskwessies. Dit is welbekend dat mense se ervaring van die sielkundige of psigoterapeut se diepe meelewing en begrip aanleiding kan gee tot psigologiese genesing (Clark, 2010). Op die gebied van sielkunde, veral psigoterapie, is Carl Rogers (1902-1987) veral bekend vir sy deurgronding van die vermoë tot empatie (1961, 1975, 1980). Volgens hom behels die empatiese ingesteldheid die psigoterapeut se intuïtiewe vermoë om paradoks en deurleefdheid te identifiseer en om verbeeldingryke assosiasies te maak met wat moontlik deur 'n ander ervaar word.

Rogers (1975:4) versinnebeeld die empatiese ingesteldheid - 'n manier van wees saam met 'n ander - soos volg:

The way of being with another person which is termed empathic has several facets. It means entering the private perceptual world of the other and becoming thoroughly at home in it. It involves being sensitive, moment to moment, to the changing felt meanings which flow in this other person, to the fear or rage or tenderness or confusion or whatever, that he/she is experiencing.

Vir Rogers en andere, soos Feller en Cottone (2003) en Watson (2002), is die empatiese ingesteldheid terselfdertyd 'n intense dog subtiele manier van luister om bepaalde gevoelstoestande te identifiseer en dit korrek te reflekteer. Sowel die kognitiewe as die affektiewe domein van die empatiese ingesteldheid is onmiskenbaar in die sin dat die inhoud van psigoterapeute se respons net so belangrik is soos hulle vermoë tot sensitiewe bewustheid. Dit is die taak van die psigoterapeut om deur middel van taal wat die ryke repertoire van gevoelstoestande omspan, te poog om 'n dieptepeiling van die kliënt se innerlike, dikwels verborge, landskap te maak.

Die digteres Sheila Cussons (1922-2004) se beskrywing van woorde as die "ontsluitspier" (1990:20) versinnebeeld die rol van taal in die blootlegging, maar ook deurgronding, van menslike ervaring. Uiteindelik is die kontemplatiewe psigoterapeut altyd maar gemoeid met die segging van wat menslik is deur middel van "taal: die menslikste van wat ons menslik het" (Cussons, 1980:8). Die empatiese ingesteldheid is dus allermins 'n passiewe en onkritiese verskynsel wat geen intellektuele eise aan die psigoterapeut stel nie. Trouens, dit is eerder 'n aktiewe proses waarin die psigoterapeut se vermoë tot verskerpte intuïsie en diepsinnige nadenke en sy of haar verwoordingsvermoë 'n rigtinggewende rol in die psigiese groeiproses van die kliënt speel.

Ware empatie behels 'n sensitiewer antenne vir die verwikkeldheid van die ontologiese alles, subtiele wisselinge en gelyktydige teenstrydighede: die aanwesige afwesigheid, sigbare onsigbaarheid, ongewone gewone, die vreemde herkenbaarheid. Dit kom dus voor asof die kwaliteit van sensitiewe invoelendheid as beide sensories en intuïtief beskryf kan word: sensories vanweë die verskerpte sintuiglike liggaamlikheid van die ervaring en intuïtief vanweë die gevoeligheid vir synsmoontlikhede, betekenisse en -verhoudings. Die afleiding is dat empatie - met ander woorde om denkend sowel as sensitief-invoelend te handel - die uitvloeisel is van 'n veel groter vermoë, naamlik die eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid.

 

4. Die ontwikkelende eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid van die student as beginnerterapeut

Vanweë die aard van hul ontwikkelingsvlak word beginnerpsigoterapeute se eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid soms gekenmerk deur oordrewe selfbewustheid en sentimentele emosionaliteit (Skovholt & Ronnestad, 2003:49-50). Sulke eienskappe het te make met beginnerpsigoterapeute se reaksie op die inhoud van die kliënt se mededelings en optrede, eerder as met 'n ontoereikende vermoë tot empatie. Dit word dan soms verkeerdelik as 'n geykte vorm van empatie geïnterpreteer vanweë die sentimentele emosionaliteit daarvan.

Ineenvloeiing van die eie (persoonlike) en dit waarmee die student tydens gevalswerk gekonfronteer word, is 'n algemene uitdaging aan die begin van 'n psigoterapeut se professionele ontwikkeling (Corey, 2016:31). Praktykbegeleiding wat sensitief vir hierdie uitdaging is, kan egter aan studente die geleentheid bied om by 'n voortdurende proses van kritiese nabetragting (reflektiewe denke) en selfevaluering betrokke te raak. Dit voorkom veral die risiko dat die psigoterapeut in die kliënt se psigiese landskap opgeneem word en sodoende sy of haar eie identiteit prysgee. Goeie praktykbegeleiding kan die beginnerpsigoterapeut ondersteun in die identifisering van ontoereikende ervarings, vrese of onvervulde strewes wat andersins tot projeksie (oordra van eie houdings of gevoelens op die kliënt) en teenoordrag (eie onwelkome, dikwels onderdrukte gevoelens van die psigoterapeut wat op die kliënt gerig word) aanleiding kan gee. Projeksie en teenoordrag maak deel van mense se outomatiese verdedigingsresponse uit en het ten doel om mens teen gevoelens van angs, verleentheid, minderwaardigheid en skuld te beskerm. Omdat mense, beginnerpsigoterapeute inbegrepe, meestal onbewus is van hierdie veroordelende reaksiepatrone en dit nie kan eien of in bedwang kan bring nie, word die kliënt-psigoterapeut-verhouding belemmer. Dit gebeur natuurlik ook met gesoute psigoterapeute en daarom is bewustheid van eie reaksiepatrone noodsaaklik.

Die dimensie van die persoonlike speel nietemin 'n bepalende rol in die psigoterapeutiese ontmoeting en kan nie van die professionele dimensie geskei word nie; die twee is eerder verweef met mekaar. Corey (2016:17) beklemtoon die belang van die menswees, of menslikheid, van die psigoterapeut soos volg:

Because counseling is an intimate form of learning, it demands a practitioner who is willing to shed stereotyped roles and be a real person in a relationship. It is precisely within the context of such a person-to-person relationship that the client experiences growth. If as counsellors we hide behind the safety of our professional role, our clients will keep themselves hidden from us. If we become merely technical experts and leave our own reactions, values, and self out of our work, the result is likely to be sterile counseling.

In aansluiting hierby meen Egan (2012:16) dat 'n psigoterapeut se menswees selfs belangriker is as die keuse van teoretiese modelle en intervensiemetodes en tegnieke. Hier het dit betrekking op psigoterapeute se gestroopte betrokkenheid (sonder voorbehoud en voorafbepaling) en die inherente strewe om deurentyd met verdiepende insig tot die wesenlikheid van die mens binne sy of haar wêreldverhouding, oftewel synsrelasie, deur te dring. Dit is hierdie altyd sinsoekende ingesteldheid wat van 'n psigoterapeut 'n onmiskenbare krag in psigoterapie maak. Vanuit hierdie bewussynsmatigheid, oftewel intensionele deurleefdheid, blyk die vermoë tot empatie te ontspring. Met intensionele deurleefdheid word bedoel 'n spontane openheid vir die antropologiese synswerklikheid, in teenstelling met statiese waarnemings wat merendeels op meganistiese wyse ver-taal word as kategorieë, diagnoses en toestande.

Daar word vervolgens aandag geskenk aan die buitetalige - synsgerelasioneerdheid - as essensiële belewenis (voorvereiste) vir 'n meer bewussynsmatig georiënteerde psigoterapie.

 

5. Buitetalig en talig: Eksistensieel-fenomenologiese kunstenaarskap

'n Sensitiewe, ontvanklike ingesteldheid laat studente toe om bewus te wees van veral wat buite taal lê, en van hoe dit (die buitetalige) dikwels op fenomenologiese wyse as beliggaming van die Husserliaanse Sache selbst, oftewel deurleefde bestaanservaring, dien. Met deur-leefdheid word bedoel 'n verheffende of singewende bewustheid van die onlosmaakbare vervlegting, dus synsrelasie, van mens, omgewing en tyd binne 'n ontologiese totaliteit of werklikheid (Moran, 2013:298-299). Ter sake is die oorstyging van die sensoriese bestudering van 'n objek of saak tot 'n metafisiese vergeesteliking of verinnerliking. 'n Mens sou ook kon praat van die onsigbare, die sakramentele wat deur die gewone, die sigbare onthul (verbeeld, vertaal) word. Die buitetalige gewaarwording wanneer byvoorbeeld rotskuns bewonder word, kan só talig gemaak word: grofgeskuur van klip en kaalvoet inmekaar vereelt, versteen.3

Bogenoemde vertolking dien as voorbeeld van segging deur middel van die simboliese, die metaforiese: om die verborgene uit te sê, teenwoordig te stel. Anders gestel: Die poëtiese verleen toegang tot die eksistensieel-fenomenologiese synsgerelasioneerdheid. Binne die konteks van die psigoterapie is 'n spontane openheid vir die antropologiese synswerklikheid belangrik, want onderliggend aan enige tipe terapie is altyd die ontologiese vraag na wat dit is om te wees en te deurleef. Ingesluit is die fenomenologiese eienskap om met verwonderende bemoeienis om te gaan met wat nou ís, maar terselfdertyd steeds word.

Die kind in die terapielokaal wat "nie kan stilsit nie", word die kind wat "kwispel-kwispel tussen tafel en stoel". Die sensories-konkrete word ver-taal as reeds volledig mens (as totaliteit) en nie as diagnostiese cliché wat (in/binne taal) bestaan nie. Onderliggend hieraan is die vermoë tot die voortaalse (prelinguale) en die ver-taal-de (geartikuleerde/talige) wat doelbewus en op volgehoue wyse deur die student in opvoedkundige sielkunde in die psigoterapie verwerf en verfyn behoort te word. 'n Mens kan dit die sielkundestudent se eie eksistensieel-fenomenologiese kunstenaarskap noem, 'n deurgang na ware empatie in plaas van oppervlakkige emosionalisme.

 

 

Studente se vermoë tot die voortaalse betrek 'n verskerpte, gelyktydig sensoriese en intuïtiewe bewustheid van die vervloeide ingebindheid van 'n ganse bestaan. Voortvloeiend hieruit is die vermoë tot die talige (ver-taal-de), met ander woorde die vermoë om dit wat verinnerlik is - bewustelike inademing van 'n moment of indruk - deur middel van begripsraamwerke betekenisvol te artikuleer. Dit maak gevolglik aanspraak op die emotiewe, dit wil sê 'n student se beskrywende repertoire van gevoelsbelewenisse eie aan die menslike toestand. Só word ontnugtering en verlies byvoorbeeld in Peter Verhelst (2011:39) se Die geheim van die keel van die nagtegaal poëties ver-taal:

Maar pyn gehoorsaam nie normale wette nie. Pyn is soos verdriet. Verdriet swel op en maak jou moeg, eindeloos moeg. Ná 'n tyd is die verdriet so groot dat dit jou heeltemal bedek en dat jy nie meer daaronder kan uitkom nie, hoe jy ook al probeer. So groot is die verdriet dat daar niks anders meer is nie as Die Verdriet.

'n Mens hoor die fenomenologiese ingesteldheid eggo in bogenoemde beskrywing. Lange en Klaassen ((2021:750) beskryf dit binne die konteks van psigoterapie soos volg:

The phenomenological attitude is practiced by becoming inwardly empty, awake, and receptive; by experiencing what is happening, while removing myself and my concerns from the experience of the other; and receiving, experiencing, recognizing the other empathically.

Die afleiding is dat wanneer studente op intensionele wyse toelaat dat die wesenlike hulle deurspoel in 'n tipe inkantering soortgelyk aan ontroerende teater, hul beter in staat sal wees om die kliënt se verlangens tot stand te vertel en dus singewend te deurgrond.

Dit vereis egter diepgaande bemoeienis met en intensionele oorgawe aan gesteldhede of gebeure soos dit is, ten einde te poog om die wesenlikheid daarvan te peil. Hierdie eienskap, onderliggend aan die estetiese disposisie, stem ooreen met die Duitse konsep Einfühlung (Jeffers, 2009:3) en verwys na 'n sensitief invoelende ingesteldheid met betrekking tot gebeure en gewaarwordinge. Wanneer psigoterapiestudente in gebreke bly wat die vermoë tot verinnerliking betref, is 'n diepgaande deurgronding van die gelade innerlike landskap van die kliënt nie moontlik nie - alleenlik 'n oppervlakkige en miopiese waarneming.

 

6. Bewussynsdenke onder druk

In die vorige afdelings is die belangrikheid daarvan onderstreep dat beginnerpsigoterapeute tydens praktiese begeleiding 'n bewustheid van hul eie persoonseienskappe ontwikkel en dit telkens evalueer in die konteks van hul professionele optrede. Corey stel dit so: "By remaining open to self-evaluation, you not only expand your awareness of self but also build the foundation for developing your abilities as a professional" (2016:17). Alhoewel selfbewustheid en emosionaliteit deel van die normale ontwikkeling van die beginnerterapeut uitmaak, kan dit in samehang met die hedendaagse sosialemediakultuur gekenmerk deur oppervlakkige ekspressiwiteit en kitsoplossings, die vermoë tot bewussynsmatige betrokkenheid bemoeilik en selfs bedreig. Met bewussynsmatige betrokkenheid word bedoel die psigoterapeut se diepe bewustheid van en intensionele betrokkenheid by die saak van bepeinsing of staat van belewenis.

Die vermoë tot dieptepeilings, meervoudige denke en die singewende aanwending van taal, teenoor 'n oppervlakkige, instrumentalistiese benadering, is belangrike aangeleenthede in hierdie verband. Tog wil dit voorkom of die premie wat op goedontwikkelde komposisionele denke geplaas word, telkens onder druk kom in 'n wêreld wat sy ore uitleen aan die kitsklaar en ongenuanseerde verklarings wat die massasielkunde bied.

Die beoefening van die sielkunde in die breë word gekenmerk deur velerlei teorieë en modelle wat dikwels as raamwerke dien vir die diagnose, normalisering en genesing of regstelling van menslike worsteling. Die gevaar wat hierin skuil, is volgens Greenberg (2013) dat die psigiese gevoelighede inherent aan die menslike bestaan eintlik ontken word wanneer dit hoofsaaklik in mediese terme ontleed en omskryf word. Gevolglik word die verskrikking van mens te wees dikwels uitgebuit en gereduseer tot bemarkbare, pasklaar intervensiestrategieë en oorvereenvoudigde kennisuitsprake ontdaan van diepgaande denke en genuanseerde artikulering. Dit kan beskryf word as die outomatiese ideaal, oftewel die tegnokratiese materialisme van die massasielkunde. Hiervolgens gaan dit veral om die verarmde rol van kritiese denke en taal as noodsaaklike synsmiddele om die intensiteit van die lewe onder woorde te bring. Die tydsame, eksistensieel-fenomenologiese verwerwing van ontologiese historisiteit en synsbetekenis word vervang deur 'n tekstuurlose oppervlak (beroof van 'n oorspronklike leefwêreld) - 'n gladde vervoerband bestaande uit vinnig versamelde simptome, gebeure en gedrag wat algoritmies aan mekaar verbind is. In sy artikel waarin hy die filosofiese standpunte onderliggend aan die outomatiese samelewing ontleed, beskryf die filosoof Rossouw (2022:12) onder meer hoe magtige instellings, massas data en digitale media, sowel as kunsmatige algoritmes, snel meewerk om toenemend beheer oor die mens se inherente selfstandige optrede te verkry.

Die geoutomatiseerde wyse waarop die menslike leefwêreld vanuit 'n eksistensieel-fenomenologiese opsig bedreig word, impliseer 'n samelewing ontdaan van diepe denke, kritiese evaluering en omvattende ontleding. Dit hou ook 'n gevaar vir die ontwikkelende beginnerpsigoterapeut in, aangesien dit maklik sou kon lei tot blote onbevraagtekende navolging van wetmatighede, protokolle en kodes. In die konteks van die psigoterapie sluit dit in simplistiese afleidings en gevolgtrekkings, tegnokratiese lysting van simptome en voortydige, ondeurgronde diagnose. Gevolglik word studente verhinder om 'n meer bewussynsmatige ingesteldheid aan te kweek wat deur empatiese synsdenke, dus sensitiewe invoelendheid, gekenmerk word.

Die vermoë tot 'n eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid kan beskou word as die kunstenaarskap van die denkende sielkundestudent. Tog kom sodanige kunstenaarskap in die gedrang wanneer 'n samelewing merendeels aan meganistiese uitkomste en die onnadenkende opstapeling van inligting, oftewel "die vulgariteit van die massamens" (Jung, 2002; Versfeld, 1982:90), blootgestel word. Dit is immers deur middel van omvattende besinning oor die aard van sy bestaan midde-in dit wat is en steeds word, dat die mens hom probeer "bind aan die wêreld waarin hy hom bevind" (Van Niekerk, 2019:14). Ingeborduur in hierdie proses van selfontplooiing en betekenisskepping, wat deel van die psigoterapeut se eie wordingsproses uitmaak, is die vermoë tot empatie.

Bogenoemde appèl op die ontwikkeling van studente se eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid - met ander woorde sensitiwiteit vir die wesenlikheid van te bestaan, eie historisiteit (verandering oor tyd heen) en deurleefdheid van menslike ervarings - kan doelbewus en op praktiese wyse in die onderrig- en opleidingkurrikulum ingesluit word. In die volgende afdelings word die rol van literêre teater as deel van omsigtige praktykbegeleiding van psigoterapiestudente verduidelik, met die klem op bewussynsopvoeding.

 

7. Die betekenisvolheid van bewussynsopvoeding

Aan die kern van bewussynsopvoeding lê die kultivering van die ontologiese ingesteldheid, met ander woorde singewende intensionaliteit, sowel as bewustheid van die diepgang in die alledaagse. Dit word gekenmerk deur onder meer synsdenke en sensitiwiteit vir die gelyktydige teenstrydighede eie aan die menslike bestaansproblematiek. Bewussynsopvoeding gaan dus oor die vorming van studente se bewussynsmatige betrokkenheid by hul eie wordingsproses, maar ook dié van ander, soos tydens psigoterapie.

Die wordingsproses veronderstel 'n dialektiese beweging tussen student en wêreld: by wyse van kritiese nadenke - Sokratiese eksaminering (voortdurende vraagstelling wat mettertyd lei tot die integrasie van teenoorgestelde bewerings) inbegrepe - word die student genoop om dieper te delf, hom- of haarself te bevraagteken, en diverse sienings te ondersoek. Die verskerping van studente se vermoë tot bewussynsmatige betrokkenheid (sensitief invoelende bewustheid, synsdenke) kan moontlik die vertroebeling wat 'n onpersoonlike tegnokratiese kultuur bring, help teëwerk.

In sy diepste wese raak dit aan die klassieke ideaal van onderrig as opvoedingstaak. In die literatuur rakende die aard van opvoeding kom die Duitse woord Bildung gereeld voor, wat verwys na die proses van selfontplooiing of vorming, dit wil sê wording. Dit gaan hierin om met verwondering ingewy (of ingelei) te word in die strewe om iets van die diepte van die werklikheid te probeer verstaan. Om studente nederig en verwonderend te laat oopstaan vir die ontologiese dimensie, met ander woorde die groter bestaansgeheel, behoort dus vir die dosent allereers 'n opvoedingstaak te wees eerder as 'n onderrig- of opleidingsuitkoms. Hoewel steeds net ten dele, laat 'n vakgebied soos die sielkunde dosente en studente toe om deur middel van die eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid in die mens in sy totaliteit ingelei te word en opnuut daardeur gevorm te word. Gepas is die opvatting van Plato oor die aard van opvoeding en, by implikasie, leer as 'n "omkering van die siel" (in Schoeman, 2012:125), 'n inkanterende oorstyging na die werklikheid - die waarheid - van wat is.

Ten diepste strewe die psigoterapie as vakgebied en professie daarna om die dilemma van menswees, oftewel la condition humaine, te verken en beter te begryp. Van Deurzen en Adams, bekend vir hulle werk op die gebied van die eksistensiële sielkunde, beskryf die menslike toestand as 'n voortdurende spanningsveld van teenoorgesteldes - om te spoel tussen sekerheid en onsekerheid, intimiteit en eensaamheid, verdriet en vreugde, versugting en verrukking, vervulling en verlies, lewe en dood. Dikwels word psigoterapie egter bloot in verband gebring met die eensydige taksering van die mens, hoofsaaklik aan die hand van simptomatiese, sielkundige, sosiale of gedragseienskappe (Van Deurzen & Adams, 2011:8). Die klem is gevolglik - by afwesigheid van 'n deurtastende besinning van wat dit beteken om 'n mens te wees en 'n betekenisvolle lewe na te streef - meestal op intra-psigiese of interpersoonlike faktore. Hoewel alle psigoterapeutiese perspektiewe en modaliteite 'n filosofiese grondslag het, word dit in die skadu gestel wanneer 'n bio-mediese model oorbeklemtoon word. Opleidingsprogramme behoort dus moeite te doen om 'n waardering by studente te kweek vir beide die bewussynsmatige ingesteldheid, sowel as die prakties-konkrete metodes van intervensie. Tereg kan egter ook gevra word wat mettertyd kon lei tot 'n oordrewe funksio-nalistiese beskouing van die psigoterapie en miskien selfs die sielkundeprofessie in die algemeen. Moontlike invloede sluit in die praktiese aard van opleiding, wat die klem op die toepassing van diagnostiese kriteria, gedragsimptome en konkrete metodes as leeruitkomste lê. Gevolglik is studente nie noodwendig gewoond daaraan om die gevoelskante van die menslike toestand ook op filosofiese wyse te betrag en te verreken nie (Van Deurzen & Adams, 2011). Verdere ondermyning van die ontwikkeling van 'n bewussynsmatige betrokkenheid by studente word waarskynlik teweeg gebring wanneer die velde van psigiatrie en sielkunde gekenmerk word deur 'n oordrewe diagnosties-gefokusde benadering tot geestesgesondheid. Só 'n eng benadering word dikwels gevoed deur die farmaseutiese industrie se toenemende medikalisering van algemeen menslike leed, melankolie en onsekerheid as patologiese verskynsels, afhanklik van mediese behandeling (Patel, 2014:782, 783; Gardner, 2016:89).

Die unieke vermoë van die mens om bewustelik na te dink oor sy steeds veranderende en komplekse bestaan, bied aan hom 'n sin vir die self. Hierin lê tegelyk persoonlike vryheid én verantwoordelikheid opgesluit: om die intensiteit van te leef te erken en voortdurend daarvan sin te maak binne die beperkings van die eie bestaan. Die eksistensiële psigoterapeut openbaar 'n intuïtiewe sensitiwiteit vir die menslike toestand wat gekenmerk word deur teenstrydighede en onverwagse invloede - dit wat uitdaag, kan ook tot nuwe vreugdes lei; uit lyding verrys lewenskragtigheid. In aansluiting hierby meen Van Deurzen: "The quality of my work (as therapist) increases or decreases in accordance with the quality of my life" (1998:xii), bedoelende dat wanneer sy as psigoterapeut nie terugdeins van konfrontasie met en ondersoek van haar eie bestaanskwessies nie, sy beter daartoe in staat is om dieptepeilings van die psigiese landskap van 'n ander te maak.

 

8. Literêre teater as middel tot die eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid

Die bewussynsmatige ingesteldheid berus op 'n peinsende staat van belewenis, gekenmerk deur verskerpte intuïsie, verbeelding, 'n sensitief invoelende ingesteldheid en betrokkenheid by 'n eie ondersoek na die werklikheid, na die vervlegtheid van die self en die wêreld (Lãngle & Klaassen, 2021:746). Dit dui op die verskerpte bewustheid van die implisietheid van alles by wyse van subtiele wisselinge, meerduidighede, verwikkelde en gelyktydige invloede en moontlikhede. Die vermoë tot 'n bewussynsmatige ingesteldheid dui as 't ware op 'n eksis-tensiële ontvanklikheid om deur die menslike wesensaard ontroer te word.

Dit herinner aan die Griekse begrip aisthësis (in Stone, 2003), wat verwys na die bewustelike inademing van 'n moment of indruk, met ander woorde 'n verskerpte bewussyn, oftewel verinnerliking, van die vervloeide ingebindheid van 'n ganse bestaan: om dus sonder voorbehoud, intensioneel ontvanklik en besinnend met 'n gegewe werklikheid om te gaan (Gadamer, 2004:57). Verder betrek dit 'n tipe ingekeerdheid of innerlike stilte wat noodsaaklik vir ontledende, genuanseerde en verbandsoekende denke is (Feller & Cottone, 2003). Sensitiewe invoelendheid wat hieruit voortspruit, verskil gevolglik van blote emosionalisme, veral in 'n hipergeïndustrialiseerde samelewing waarin uitdrukking (ekspressiwiteit) en nimmereindigende plasingstipekommunikasie (post and share in die sosiale media) oorheers, eerder as genuanseerde ontleding en noukeurige verrekening. Die bewussynsmatige ingesteldheid blyk dus bevorderlik te wees vir die ontwikkeling van invoelende diepgang - die voorloper van empatie as kerneienskap van die beoefening van psigoterapie.

Kuns, insluitende teater, is 'n metafoor vir die mens se wesensaard omdat dit as ontologiese objek die proses van verinnerliking (vergeesteliking) voorstel. Kuns plaas die toeskouer in 'n outentieke, dikwels ongemaklike ruimte waarin verskrikkings soos weerloosheid, tragedie, leed, vrees en ontnugtering, of selfs verrukking in die vorm van ekstase en vervoering, blootgelê word (Dewey, 1958; Degenaar, in Van der Merwe & Duvenhage, 2008; Dalton, 2016). Meteens word die toeskouer 'n deelnemer aan 'n inkanterende ritueel of seremonie waartydens kontak met die lewe deurleef en bevestig word deur middel van die verbeelding. In kuns vind hierdie intense gebeurtenis op spontane, dikwels plotselinge wyse plaas. Ons voer aan dat die psigoterapiestudent deur middel van die invokatoriese funksie van literêre teater, en gevolglik eksistensiële ontstigting, in verbinding kan tree met sy eie argetipiese sisteme en menslike wesensaard. Die invokatoriese aard van toneelspel slaan op die rol van inkantasie en verbeelding in die potensiële prikkeling en verskerping van die student se bewussynsdenke. Bewussyns-denke beïnvloed op sy beurt die wyse waarop studente sin maak van die ontologies verwikkelde menseaard. Die klem val dus nie op taal en teater slegs as instrumente om 'n spesifieke werklikheid te konstrueer en te omskryf nie, maar eerder as "middele tot die geestelike" (De Beer, 2018:417), oftewel die intellektuele geesteswereld. In dié opsig word die onsêbare as subtiele wisselinge, onbestendighede, gelyktydige teenstrydighede - weer die aanwesige afwesigheid, sigbare onsigbaarheid, ongewone gewone, die vreemde herkenbaarheid - met die menslike wesensaard in verband gebring.

Vanweë die ingeboude eksistensieel-fenomenologiese funksie van literêre teater kan die insluiting daarvan by die onderrig en opleiding van psigoterapiestudente sekere kern bewussynsmatige vermoëns doelbewus aanwakker en bevorder. Dit sluit in die identifisering en evaluering van argetipes, ingekeerde stilte en sensitief invoelende handeling.

 

9. Die ingeboude eksistensieel-fenomenologiese funksie van literêre teater

9.1 Ingekeerde stilte as eksistensieel-fenomenologiese eienskap van literêre teater

Ingekeerde stilte behels die vermoë om met onbelemmerde ontvanklikheid en sonder die juk van voorafbepaalde kategorieë of dominante idees, dus gestroop, bewus te word van die niks, wat gelyktydig ook die alles is. Wanneer 'n student toelaat dat die toestand van ingekeerde stilte hom of haar deurspoel, ontstaan die moontlikheid om met groter openheid, geduld en verbeelding ag te slaan op wat nou is (en moontlik môre kan wees).

Dit kan by wyse van die volgende voorbeeld deur die dosent begelei word: Studente word aangemoedig om vir 'n aantal dae daagliks op dieselfde tyd na dieselfde kunswerk te gaan kyk (gebaseer op Ziegler, in Dalton 2016). Die gekose kunswerk (wat ook 'n gedig, skildery, musiek of verhaal kan wees) dien as simboliese medium en voorsien as 't ware die ingang na of oorgang vanaf die eksterne wêreld na die innerlike, psigiese landskap. Dit behoort dus oor evokatiewe en inkanterende eienskappe te beskik. Hoewel studente aanvanklik sal probeer fokus op die inhoud van die kunswerk, is dit belangrik dat hulle ag slaan op hul eie (veranderende) gewaarwordinge in die vorm van sensoriese waarnemings (sensasies), gedagtes, gevoelens en verbeelding tydens die oefening. Die aanwending van stimulusvrae kan studente help om hul gewaarwordinge te karteer (sien Tabel 1). Die kursiewe woord of gedeelte in elke vraag dui op die spesifieke aard van die gewaarwordingsvorm.

 

 

Studente sal by elke geleentheid aangemoedig word om aantekeninge te maak op grond van bogenoemde stimulusvrae. Om bogenoemde stimulusvrae ook in ontkennende vorm te vra, kan moontlik tot alternatiewe temas en ondersoeke lei (bv. "Wat kan ek nie sien/hoor/voel nie?") Ten slotte sal hulle aangemoedig word om die geïdentifiseerde patrone, verskuiwings, assosiasies en temas in 'n paragraaf of twee te integreer. Die verinnerliking van dit wat buite gestaan het, kan bydra tot studente se vermoë tot ingekeerde stilte.

9.2 Sensitief invoelende ingesteldheid as eksistensieel-fenomenologiese eienskap van literêre teater

'n Sensitief invoelende ingesteldheid verwys na 'n verskerpte bewussyn van die manier waarop iemand ontroer of onthuts kan word. Dit vereis 'n ingesteldheid gekenmerk deur ontvanklikheid, verwondering en intensionele betrokkenheid (Lângle & Klaassen, 2021:747-748). Die vermoë tot 'n sensitief invoelende ingesteldheid lei tot groter waardering van 'n mens se eie en andere se bestaanswêreld, en vorm die grondslag van die ondersoek van die self, en ook van die vermoë tot empatie.

Die ontwikkeling van 'n sensitief invoelende ingesteldheid moedig studente aan om in plaas van 'n oorwegend selfversonke disposisie, of dan oordrewe selfbewustheid, en oppervlakkige emosionalisme 'n meer empatiese disposisie aan te neem. Die vermoë tot 'n sensitief invoelende ingesteldheid kan gestimuleer en ontwikkel word wanneer studente blootstelling aan byvoorbeeld literêre teater as deel van hul onderrig en opleiding ontvang. Literêre teater dien dus as moontlike poort tot groter synsdenke en die menslike geesteswêreld.

Teateropvoerings, verhale en stories ontstaan binne bepaalde sosiokulturele en geskied-kundige kontekste (Burger, 2018). Gevolglik is dit meermale 'n interpretasie, maar ook 'n uitdrukking, van die eietydse samelewingsproblematiek - 'n hele gemeenskap se wense, versugtinge, ontoereikende ervaringe en verwonding. Wanneer teater en ander verhale oor hierdie tipe gelaagdheid in die vorm van betekenisraamwerke beskik, word teatergangers of lesers uitgenooi om hul eie historisiteit en psigiese landskap in oënskou te neem. Hieruit ontwikkel groter insig in en empatie met die breë kollektiewe saambestaan. Dit sou dus gepas wees om in die konteks van bewussynsopvoeding teaterbesoeke in te sluit by die onderrig en opleiding van sielkundestudente. Die volgende gedagteraamwerk (Tabel 2), gebaseer op die eksistensiële funksie van literêre, dikwels ook ontroerende teater, kan as hulpmiddel dien wanneer studente die teater besoek:

 

 

Wanneer studente die teater besoek, kan bogenoemde raamwerk hulle lei om bepaalde beginsels te identifiseer, betekenisvolle assosiasies te vorm, afleidings te maak en gewaarwor-dinge te formuleer. Die artikulasiekomponent, dit wil sê om opsommend te beskryf, dra boonop by tot die bevordering van studente se emotiewe geletterdheid. Dit sluit in hul vermoë om 'n wye repertoire van menslike gevoelsbelewenisse te beskryf.

Die kunste, veral ernstige teater wat dikwels ontstig, onthuts en uitdaag,4 bevorder die verskerping van sekere bewussynsvaardighede, te wete die vermoë tot sensitiewe bewustheid van subtiele verandering, die eindelose verweefdheid van alles en verrassende patrone, verwantskappe en verhoudings. In hierdie opsig funksioneer teater as 'n ordeningsmite omdat dit dikwels op uitnemende wyse as houer vir die uitdrukking of ontsluiting van sekere oor-geërfde temas, oftewel argetipes, dien. Om deur verwondering oorweldig te word (om ontroer te word), impliseer dat 'n mens nie allereers op epistemologiese wyses weet nie en dus geen verwagting het ten opsigte van wat jy behoort te weet of wil weet nie.

Wat nodig is, is 'n ontologiese oopheid wat 'n mens help om verby instrumentalistiese verklarings te kyk en sensitief ontvanklik te wees vir die direkte, ongedistilleerde ervaring van ander en die saak (lewe) self. Hiervolgens behoort die mens sy eie vraag te word en dus met die wesentlike aard van sy bestaan gekonfronteer te word. Literêre teater, vanweë die natuurlike spieël wat dit van die komplekse menslike psige ophou, kan waarskynlik as brug tot 'n eksistensieel-fenomenologiese bewussynsoriëntasie by die sielkundestudent benut word. Hierdie bewussynsgrondslag word in die volgende afdeling in groter besonderhede omskryf en verreken.

9.1 Die argetipiese as eksistensieel-fenomenologiese eienskap van literêre teater

Die self, in die Jungiaanse analitiese sielkunde, dien as kroniek van 'n reeds geïmpliseerde en dus volledige bestaan, 'n argetipiese bron waarin alles wat al ooit was en nog sal wees, verenig is en 'n groter kosmiese samehangendheid of orde weerspieël (Jung, 1953-1978). Hiervolgens bestaan die self as aprioriese ordeningsprinsipe en as vrugbare holte vir transliggaamlike bestaansinhoud eie aan la condition humaine. Nog vóór enige leerervaringe is die ingebore menslike strewe daarop gerig om deur middel van selfontplooiing (individuasie) psigies begrond te wees (Jung, 1953-1978:339, Frank, 2004:115). Sodanige begronding veronderstel geborgenheid, groei en vitaliteit, teenoor angs en chaos.

Die proses van individuasie of selfontplooiing is 'n lewenslange proses waartydens die menslike psige voortdurend pogings aanwend om die delikate balans tussen gelyktydige maar botsende bestaansfunksies soos lewe en dood, manlikheid en vroulikheid, individu en kultuur, en orde en chaos te handhaaf en te bewaar. Volgens die Jungiaanse analitiese sielkunde ontspring vitaliteit en geesteskreatiwiteit juis uit dié onopgehefde spanning. Die self besit dus die uitnemende potensiaal om dit wat tot die eenmalige tydruimtelike behoort, te oorstyg na 'n veelvoudige vergeesteliking of verinnerliking van gebeure en belewenisse, oftewel aisthësis (sien afdeling 8). Argetipiese ervaringe soos kreatiwiteit, selfbewussyn, verbeelding en liefde dien as bewyse van dié inherente strewe na selfbehoud.

Volgens die wêreldbekende psigoanalis Carl Gustav Jung (1875-1961) is die menslike psige op so 'n wyse saamgestel dat dit 'n verbinding met die transpersoonlike begeer ter wille van oorlewing. Binne die antroposentriese bestel, daarenteen, beskou die mens hom as onafhanklik van hierdie ingelyfde verbondenheid met dít wat sublimiteit en spirituele grootsheid veronderstel, dit wil sê 'n kosmosentriese oriëntasie. Dit gaan hiervolgens om kontak met die kollektiewe onbewuste deur middel van sprokies, mites,5 drome en seremonies (soos troues, begrafnisse, geboortes, doop, oorgangsrites, rituele). Argetipes bevat meestal algemeen menslike ervarings en tipiese verhoudingspatrone, dit wil sê universele psigiese inhoud. Verder behels dit ook die worsteling wat gepaardgaan met die strewe om menslike ontwikkelingstake (bv. die verwerwing van vertroue, outonomie en werksaamheid) tydens persoonlikheids-ontwikkeling af te handel (Elder & Cordic, 2009).

Jung se verheldering van die menslike psige as empiriese en lewende werklikheid het op radikale wyse die weg vir die analitiese sielkunde gebaan. Sy deurtastende blootlegging van parallelle tussen die kollektiewe onbewuste en oeroue universele motiewe wat in religie, mitologie, letterkunde en geskiedenis aangetref word, is steeds die mees omvattende tot op hede.

Hiervan word mens opnuut bewus by die bestudering van die oeuvres van indrukwekkende geleerdes in die Jungiaanse sielkunde, soos Von Franz (in Hall & Sharp, 2008) en Edinger (in Elder & Cordic, 2009). Jung was oortuig daarvan dat die moderne mens mank gaan aan gesonde mites, sprokies en volksvertellings as psigiese ordeningsbeginsel (noodsaaklik vir selfregu-lering), soos wat volop voorkom in die rituele, simboliek en mistieke elemente van die geesteswêreld van ouer, ortodokse beskawings.

Deur middel van simbole, inkantasie en ikone onthul gesonde mites dus argetipiese waarhede. Teater kan waarskynlik beskou word as 'n ordeningsmite omdat dit dikwels op uitnemende wyse funksioneer as houer vir en uitdrukking of ontsluiting van sekere oorgeërfde temas (argetipes), soos die held of ridder, die goeie moeder, die diaboliese, oorwinning, dood, wedergeboorte, ensovoorts. Die teaterervaring as ritueel beloof om die teaterganger met argetipiese bronne, waarvan die self die sentrale argetipe is, in verbinding te bring en sodoende fundamentele lewensoorgange te bewerkstellig. In die konteks van die oeroue mistieke word teater 'n seremonie waaraan die teaterganger aktief deelneem ten einde bewus te word van die wyse waarop sake, gebeure of situasies op simboliese wyse verbeeld word binne die raamwerk van 'n eie kultuurhistoriese verlede.

Vir Wigotski (1896-1934), 'n postmoderne sielkundige, is daar 'n duidelike koppeling tussen bewussynsontwikkeling en kuns (insluitende literêre teater): "[T]he development of personality is fundamentally dramatic, and the phenomenon of art is at its heart psychological, suggesting the necessity of both in the development of consciousness" (in Smagorinsky, 2011:335). In hierdie konteks beklemtoon Wigotski die kultuurhistoriese wyse waarop die mens se emotiewe responsgewoontes deur 'n kunsvorm soos teater bemiddel en verstaan kan word. Wigotski beskryf hierdie proses met 'n term wat hy ontleen aan die werk van die Russiese teaterpraktisyn Stanislawski, naamlik perezjiwanje (in Smagorinsky, 2011:337): die wyse waarop 'n spesifieke gevoelstoestand wat op die verhoog uitgebeeld word, die teaterganger tot kontemplatiewe besinning en inkeer dwing.

Hiervolgens word 'n katarsisoomblik bereik wanneer die teaterganger, ingebed in 'n spesifieke sosiokulturele verlede wat bestaan uit assosiasies, geheue en suggestie, weerklank vind in wat deur middel van aanduidende simbole op die verhoog uitgebeeld word. Die toeskouer vra dus: Wat gebeur nou met my? Onderliggend hieraan is perezjiwanje (emotiewe ervaring) wat deur die teaterganger se eie onbewuste skadukante,6 projeksies7 en komplekse8gekenmerk word. Wat teater betref, word dialoog en handeling uit die liggaam voortgebring deur middel van beelding en metaforiek as die sigbaarmaking van die onsienbare pneumatologiese.

Die handelinge van liggame op die verhoog is dus bepalend in die selfbetragtingsproses, met spesifieke verwysing na die ontbloting van die mens se primordiale psigiese behoeftes, verlangens en vertwyfelinge as deel van die dikwels ontroerende (literêre) teatergebeurtenis. Aan die kern hiervan is die universele kollektiewe onbewuste, die setel van argetipiese ervaringe eie aan menswees, soos byvoorbeeld vryheid, identiteit, ouerskap, vrees, eensaamheid en verlange, verrukking en dood, wat dikwels in veral literêre teater verskuil lê. Argetipes is dikwels sigbaar in die beelde, rituele, verhale en simbole van verskillende kulture oor die wêreld heen (Elder & Cordic, 2009).

Kenmerkend van argetipiese ervaringe is die beginsel van instinktiewe psigiese ordening in die fundamentele strewe daarna om teenoorstaande elemente te verenig, om tegelykertyd individualiteit én verbondenheid, goedheid én donker onderstrominge, manlikheid én vroulikheid, te ervaar en te verreken. In Peter Verhelst se drama Hotel Malaria, waarvan Marthinus Basson die vertaling, regie en ontwerp behartig het (Woordfees, Universiteit Stellenbosch, 2017),9 geskied die sigbaarmaking van argetipiese ervaringe deur middel van hoorbare taal en sigbare handelinge. Hotel Malaria lê onderwerpe soos die geweld van verlies, verdriet en die onsamehangendheid van die lewe bloot. Van die sake wat nooit uitgespel word nie, maar tog gesuggereer word, sluit in palliatiewe sorg, eutanasie, worsteling met die dood en die verganklikheid van die vleeslike. Dit is geensins in 'n tradisionele estetiese struktuur van mooiheid ingebed nie. Psigiese eise word deurentyd aan die gehoor gestel wanneer hulle, soos die karakter Vrou in Hotel Malaria, hulle in koorsagtige afwagting (vergelykbaar met die portaal van 'n hotel) voorberei op die rouheid van konfrontasie. Op reële vlak (handelingsvlak) kan dit vergelyk word met die aanmekaarsit, dus gereedmaking, van die vleismasjien deur die karakters Man en Vrou. Man en Vrou kan slaan op die mens se manlike en vroulike persoonlikheidsfasette, te wete die argetipiese anima (versorgingsfaset) en animus (daadkragtigheid).

In hierdie toneelstuk dui perezjiwanje onbepaald op die teaterganger se konfrontasie met aftakeling binne die raamwerk van sy eie psigiese en persoonlike mondering, en die groeiende hunkering om op primordiale wyse - deur middel van aanvaarding en erkenning - geken te word. Die evokatiewe stemming word bereik wanneer die koffer as houer van die argetipe, fisies oopgemaak word om die rou ingewande, oftewel die weerloosheid van mense en situasies, te ontbloot. Uiteindelik gaan Man en Vrou in mekaar op as simbool van die huwelik (psigiese balans) tussen teenoorstaande persoonlikheidsfasette, oftewel die psige se strewe na vitaliteit. Vir die deelnemende teaterganger word die grens tussen bewus en onbewus opgehef; die reële en die denkbeeldige is ononderskeibaar, lewe en dood weerspieël tegelyk weerloosheid én outonomie. Dit gaan dus om die bewussynsmatige aard van teater wat die delikate spanning tussen argetipiese teenpole uitbeeld, asook die wyse waarop die menslike natuur daarop reageer.

Psigoterapiestudente, net soos teatergangers, kan deur middel van perezjiwanje met hul eie argetipiese sisteme in verbinding tree. Dat dit bevorderlik is vir die ontwikkeling van 'n eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid - 'n noodsaaklike voorwaarde vir die empatiese opvoedkundige sielkundige - word bevestig deur die bewussynsmatige rol van kuns, spesifiek literêre teater (Smagorinsky, 2011). Soos reeds genoem (Afdeling 2 & 3), sluit sleuteleienskappe van die eksistensieel-fenomenologiese ingesteldheid die vermoë in tot sensitiewe invoelend-heid, intuïtiewe denke, bewustheid van ironie, argetipiese simboliek, die paradoksale, die subtiele, en synsdenke (ontologiese besinning). Bewussynsdenke, gevoelsmatigheid en die singewende rol van taal en die vermoë tot artikulasie is belangrike sake in hierdie verband.

In die kliniese evaluerings- en psigoterapeutiese konteks dink die kleuter wat teken, waarskynlik nie aan hom- of haarself as iemand wat op daardie oomblik besig is om te teken nie. Die betekenisvolheid van die ervaring is nie slegs geleë in die rasionele uitvoering of verklaring van die taak volgens ontwikkelingsmylpale en ouderdomsgepaste gedrag nie. Daardeur word kleuter en tekening 'n objek van bemeestering - dus eng utilitaristies en bloot funksioneel. In Nietzscheaanse terme veronderstel die tekenende kind ook die Sache selbst, 'n kosmiese saamlopendheid van alles teenwoordig op daardie oomblik. Gedãchtnis - die poëtiese ingesteldheid, intellektuele bemoeienis en noukeurige taalformulering - is uiteindelik nodig om la condition humaine voortdurend te omskryf en te omlyn (Wood, 2015:455). Juis daarom word die bevordering van 'n sensitief invoelende kurrikulum in die onderrig en opleiding van sielkundestudente aangemoedig wat, by wyse van die metaforiese, die simboliese en die verbeelde, toegang tot die menslike psige verleen.

Van belang is dus die eksistensieel-fenomenologiese, oftewel sensitief invoelende wyse waarop die beginnerterapeut oplet na die kind se handelinge in die terapielokaal of kliniese evalueringsituasie. Om 'n bewustheid te hê van die onopgehefde spanning, dit wil sê die aanwesigheid van paradokse en ambivalente ervarings eie aan die menselewe, is om sensitief invoelend te leef (Edinger, in Elder & Cordic, 2009:77). Stories, sprokies en verhale is natuurlike houers van argetipes. Ook in die teater dien die onderskeie eksistensiële elemente dikwels as simbole van en metafore vir 'n argetipiese bestaanswerklikheid (sien Tabel 2).

Die stimulering en inoefening van studente se bewustheid van argetipes kan in samehang met biblioterapieblootstelling gedoen word. Biblioterapie is 'n psigoterapeutiese benadering waarvan die hoofdoel is om sielkundige ondersteuning te gee deur die letterkunde (stories, gedigte, verhale, romans, ens.) te betrek (Suvilehto, 2019). 'n Sleutelkomponent van die biblioterapieproses is die identifisering met argetipiese karakters en gebeure wat 'n mens met jou eie konteks kan integreer (Hynes & Hynes-Berry, 1994). Studente se bewustheid van die argetipiese inhoud wat in verhale teenwoordig is, kan aan die hand van sekere vrae ontlok en aangewakker word, byvoorbeeld: Kom enige van die karakters voor 'n uitdaging te staan? Is die stryd wat gevoer moet word, binne die karakter self of tussen karakters, of is dit 'n kollektiewe (gesamentlike) stryd? Het die karakters, die interaksies en/of die omgewing enige simboliese waarde?

Wanneer studente op die inherent paradoksale attent gemaak word, leer hulle dat ingebind in die gelyktydigheid van ambivalente inhoude, oftewel argetipes, die begeerte opgesluit lê om iets van die menslike bestaan te begryp.

 

10. Slotopmerkings

Hierdie artikel toon aan hoe die eksistensieel-fenomenologiese funksie van literêre teater as poort kan dien tot die stimulering van psigoterapiestudente se vermoë tot groter bewussyns-matigheid. In hierdie opsig beskik literêre teater oor sekere bewussynseienskappe wat as deel van 'n pedagogiese onderneming binne die konteks van psigoterapieonderrig en opleiding begryp en toegepas kan word. Sommige kerneienskappe sluit in ingekeerde stilte, 'n sensitief invoelende ingesteldheid, en bewustheid van argetipes.

Hierdie bewussynseienskappe is ten nouste verwant aan die antropologiese prinsipe van singewende intensionaliteit, met ander woorde dat die mens, ontologies gesproke, daarop ingestel is om sin te maak. Die empatiese ingesteldheid as groter psigoterapeutiese aanleg hang trouens af van onder meer ontologiese besinning, deurleefde verwondering en doelbewuste betrokkenheid by die onvoltooide, die paradoksale, die vervloeide ingebindheid van alles. Dit impliseer 'n skeppende betrokkenheid deur middel van denke, intuïsie, simbole en taal -lewensmiddele wat tot elke prys beskerm moet word teen die vulgariteite van die massa-sielkunde, wat deur afstomping en materialisme gekenmerk word: 'n besete opstapeling van tegnokratiese inligting, clichés, kodes en metodes. Die waarde van literêre teater word sigbaar in die wyses waarop sekere konseptuele idees met mekaar saamhang ten einde die verbintenisse tussen ontroerende kuns, die bewussynsmatige, die ontwikkelende psigoterapiestudent en 'n eksistensieel-fenomenologies georiënteerde kurrikulum te verhelder.

 

ERKENNINGS

Die skrywers erken graag hiermee die waardevolle, ondersteunende rol wat Desmond Painter en Maureen Robinson vervul het in die ontwikkeling van die manuskrip van hierdie artikel.

 

BIBLIOGRAFIE

Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.         [ Links ]

Clark, AJ. 2010. Empathy: An integral model in the counseling process. Journal of Counseling and Development, 88(3):348-356.         [ Links ]

Corey, G. 2016. Theory and practice of counseling and psychotherapy (10th ed.). Boston: Cengage Learning.         [ Links ]

Cussons, S. 1980. Die Somerjood. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Cussons, S. 1990. Die knetterende woord. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Dalton, JE. 2016. Artfully aware: Contemplative practice in the classroom. The International Journal of the Arts in Society, Annual Review 11(1):33-40.         [ Links ]

De Beer, CS. 2018. Profesie, mite en delirium: Die dringende vraag na ware kennis in die eeu van informasionalisme en kennisaftakeling. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):411-431.         [ Links ]

Dewey, J. 1958. Art as experience. New York: Capricorn Books.         [ Links ]

Egan, G. 2012. The skilled helper: A problem-management and opportunity-development approach to helping (10th ed.). Belmont, CA: Brooks & Cole.         [ Links ]

Elder, GR & Cordic, DD. 2009. An American Jungian: In honor of EdwardF. Edinger. Toronto: Inner City Books.         [ Links ]

Feller, CP & Cottone, RR. 2003. The importance of empathy in the therapeutic alliance. Journal of Humanistic Counseling, Education and Development, 42(1):53-61.         [ Links ]

Frank, E. 2004. Die droomboek. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Gadamer, H-G. 2004. Truth and Method. (Vertaal deur J Weinsheimer & DG Marshall). London: Continuum Publishing Group. (Oorspronklike werk in 1975 gepubliseer.         [ Links ])

Gardner, L. 2016. Metamodernism: A new philosophical approach to counselling. Journal of Humanistic Counselling, 55(2):86-97.         [ Links ]

Giorgi, A. 2012. The descriptive phenomenological psychological method. Journal of Phenomenological Psychology, 43(1):3-12.         [ Links ]

Greenberg, G. 2013. The book ofwoe: The DSM and the unmaking ofpsychiatry. New York: Blue Rider Press.         [ Links ]

Hall, JA & Sharp, D. 2008. Marie-Louise von Franz: The classic Jungian and the classic Jungian tradition. Toronto: Inner City Books.         [ Links ]

Husserl, E. 1980. The phenomenology of internal time-consciousness. Bloomington: University Press. (Oorspronklike werk in 1911 gepubliseer.         [ Links ])

Hynes, A & Hynes-Berry, M. 1994. Biblio/poetry therapy: The interactive process: A handbook. St Cloud: The North Star Press of St Cloud.         [ Links ]

Jeffers, CS. 2009. On empathy: The mirror neuron system and art education. International Journal of Education and the Arts, 10(15):2-17.         [ Links ]

Jung, CG. 1953-1978. Collected works of CG Jung. Volumes 1-18. London: Routledge.         [ Links ]

Jung, CG. 1960. The transcendent function. The structure and dynamics of the psyche [Collected works of CG Jung]. (Vertaal deur RFC Hull). Vol. 8. New York: Pantheon Books, pp. 67-91.         [ Links ]

Jung, CG. 2002. The undiscovered self. Oxfordshire: Routledge.         [ Links ]

Lãngle, A & Klaassen, D. 2021. Phenomenology and Depth in Existential Psychotherapy. Journal of Humanistic Psychology, 61(5):745-756.         [ Links ]

Loewenstein, G & Small, DA. 2007. The Scarecrow and the Tin Man: The vicissitudes of human sympathy and caring. Review of General Psychology, 11(2):112-126.         [ Links ]

MacLeod, RD. 2001. On reflection: Doctors learning to care for people who are dying. Social Science and Medicine, 52(11):1719-1727.         [ Links ]

Nel, BF. 1968. Fundamentele oriëntering in die psigologiese pedagogiek. Stellenbosch: Universiteits-uitgewers en -boekhandelaars.         [ Links ]

Patel, V. 2014. Why mental health matters to global health. Transcultural Psychiatry, 51(6):777-789.         [ Links ]

Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika. 2019. Beroepsraad vir Sielkunde: Minimum opleidingstandaarde vir opvoedkundige sielkunde. Pretoria: RGBSA. http://www.hpcsa.co.za.         [ Links ]

Rogers, CR. 1975. Empathic: An unappreciated way of being. The Counseling Psychologist, 5(2): 2-10.         [ Links ]

Rossouw, J. 2022. Die industrialisering van mimese: In gesprek met die denke van René Girard en Bernard Stiegler oor outomatisering. LitNetAkademies (Geesteswetenskappe), 19(1).         [ Links ]

Schneider, KJ. 2008. Existential-integrativepsychotherapy: Guideposts to the core of practice. Abingdon: Routledge.         [ Links ]

Schoeman, M. 2012. Geesteswetenskap in 'n geeslose omgewing? 'n Besinning oor die hedendaagse universiteit en die verwaarlosing van sy opvoedingstaak. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 52(1):121-129.         [ Links ]

Skovholt, TM & Rennestad, MH. 2003. Struggles of the novice counselor and therapist. Journal of Career Development, 30(1):45-58.         [ Links ]

Smagorinsky, P. 2011. Vygotsky's stage theory: The psychology of art and the actor under the direction of perezhivanie. Mind, Culture, and Activity, 18(4):319-341.         [ Links ]

Sonnekus, MCH. 1968. Die leefwêreld van die kind as beleweniswêreld. Stellenbosch: Universiteitsuit-gewers en -boekhandelaars.         [ Links ]

Spinelli, E. 2007. The therapeutic relationship: A view from existential psychotherapy. Therapy Today, 11-14.         [ Links ]

Spinelli, E. 2015. Practicing existential therapy: The relational world (2nd ed.). London: SAGE.         [ Links ]

Srivastava, K & Das, RC. 2016. Empathy: Process of adaptation and change, is it trainable? Industrial Psychiatry Journal, 25(1):1-3.         [ Links ]

Stone, K. 2003. Image and spirit: Finding meaning in visual art. Minneapolis: Augsburg Books.         [ Links ]

Suvilehto, P. 2019. A study of animal characters as representations of humans: The animality/bibliotherapy test. Journal of Poetry Therapy, 32(2):95-108.         [ Links ]

Yonge, G. 2021. 'n Onwaarskynlike onderneming: 'n Ondersoek na die kritiek rakende fundamentele pedagogiek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4-2):1327-1345.         [ Links ]

Van der Merwe, WL & Duvenage, P. 2008. Tweede refleksie: 'n Keur uit die denke van Johan Degenaar. Stellenbosch: SUN PReSS.         [ Links ]

Van Deurzen, E. 1998. Paradox and passion in psychotherapy: An existential approach to therapy and counselling. New York: John Wiley & Sons.         [ Links ]

Van Deurzen, E. 2002. Existential counselling and psychotherapy in practice (2nd ed.). London: SAGE.         [ Links ]

Van Deurzen, E & Adams, M. 2011. Skills in existential counselling and psychotherapy. London: SAGE.         [ Links ]

Van Niekerk, D. 2019. Legkaart van 'n jong lewe: Essays oor wat was en geword het. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Ventimiglia, G. 2008. Martin Buber, God, and psychoanalysis. Psychoanalytic Inquiry, 28(5):612-621.         [ Links ]

Verhelst, P. (regisseur/dramaturg). 2017. Hotel Malaria [Teaterproduksie, vertaal deur M. Basson]. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch Woordfees.         [ Links ]

Versfeld, M. 1982. Tyd en dae. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.         [ Links ]

Watson, JC. 2002. Re-visioning empathy. In Cain, DJ & Seeman, J. (eds). Humanistic psychotherapies: Handbook of research and practice. Washington, DC: American Psychological Association, pp. 445-471.         [ Links ]

Wood, RE. 2015. The heart in Heidegger's thought. Continental Philosophy Review, 48, 445-462.         [ Links ]

Zaki, J. 2014. Empathy: A motivated account. Psychological Bulletin, 140(6):1608-1647.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2022-08-12
Goedgekeur: 2023-02-02
Gepubliseer: Maart 2023

 

 

 

Karlien Conradie is 'n dosent en akademikus in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is ook 'n geregistreerde opvoedkundige sielkundige. Deur haar navorsing poog sy om die estetiese disposisie as spesifieke psigoterapeutiese ingesteldheid binne die domein van onderrig en opleiding te verken en te bevorder. Sy stel belang in die benaderings van die persoonsgesentreerde, Gestalt- en eksistensiële psigoterapieë, en in die teoretiese beskouings van die eksistensiële en hermeneutiese fenomenologie.Sy is die outeur van 'n hoofstuk in die akademiese handboek Insigte uit Opvoedkundige Sielkunde (Juta), asook die vakkundige boek Teacher Education for Transformative Agency: Critical perspectives on design, content and pedagogy (Stellenbosch, SUN Media).
Karlien Conradie is a lecturer and academic in the Department of Educational Psychology, Stellenbosch University. She is also a registered educational psychologist. Through her research, she seeks to explore and promote the aesthetic disposition as a specific psychotherapeutic mindset within the domain of teaching and training. She is interested in person-centred, Gestalt and existentialist psychotherapies. Her main theoretical orientation draws on existential and hermeneutic phenomenology. She is the author of a chapter in the academic textbook Understanding Educational Psychology (Juta) as well as the scholarly book Teacher Education for Transformative Agency: Critical perspectives on design, content, and pedagogy (Stellenbosch, SUN Media).

 

 

Estelle Swart is 'n hoogleraar in opvoedkundige sielkunde aan die Universiteit Stellen-bosch. Sy het uitgebreide ervaring in opvoedkundige sielkunde en inklusiewe onderwys. Haar navorsings- en onderrigfokus sluit professionele leer, inklusiewe onderwys en kinders met leerprobleme en gestremdhede in. Sy is 'n NNS gegradeerde navorser, en outeur en mede-outeur van verskeie artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte, mederedakteur van twee boeke en outeur van verskeie boekhoofstukke. Sy het etlike referate by nasionale en internasionale kongresse gelewer.
Estelle Swart is a professor of educational psychology at Stellenbosch University. She has extensive experience in educational psychology and inclusive education. Her research and teaching focus includes professional learning, inclusive education and children with learning difficulties and disabilities. She is a NRF rated researcher, and author and co-author of several articles in national and international journals, co-editor oftwo books and author of several book chapters. She has delivered several papers at national and international conferences.
1 Vir 'n volledige uiteensetting en omskrywing van die minimumopleidingstandaarde vir opvoedkundige sielkunde, sien die hersiene RGBSA-dokument van 2019. Die betrokke dokument verskyn in die bibliografie van hierdie artikel.
2 Twee destydse Afrikaanse sleuteltekste - deur Sonnekus (1986:16-50) en Nel (1968:1-21) - bied 'n omvattende omskrywing en deurtasting van die Husserliaanse Lebenswelt, oftewel leefwêreld, as gedagtestroming binne die antropologiese synswyse (bestaanswyse). Die akademikus George Yonge (2021) het opnuut die kollig op hierdie tekste laat val in sy artikel wat handel oor onder andere die opvoedingsgebeurtenis as 'n fundamenteel fenomenologiese aangeleentheid.
3 Eksemplariese vertolking. Die bygaande foto is van 'n rotstekening op Gifberg, Vanrhynsdorp, en kom uit een van die skrywers se persoonlike fotoversameling (Desember 2019).
4 In die konteks van hierdie artikel dui teater wat ontstig, onthuts en uitdaag, op ernstige opvoerings waarvan die fokus hoofsaaklik bewussynsverruiming eerder as vermaak is. Dit beteken egter nie dat vermaak heeltemal uitgesluit of selfs ondergeskik aan die denkende ingesteldheid is nie. Wanneer teater egter in staat is om die kroniek van die menslike psige bloot te lê, sal dit dikwels ook sekere eienskappe van die persoonlike sowel as die kollektiewe onbewuste in die teks en regie insluit en veranker, byvoorbeeld psigiese komplekse, projeksies en argetipes.
5 Mites is die oorleweringe (verhale) wat handel oor die geskiedenis van volke en hul bestaans- en godsoortuigings, sowel as fundamentele vraagstukke rakende die lewe, en is nie illusies of verdigsels nie (Adams, 2019).
6 In die psigoanalise (Frank, 2004) het skadufasette betrekking op voorkeure, eienskappe en gevoelens wat dikwels as onaanvaarbaar en negatief ervaar word, soos woede, jaloesie, seksualiteit en aggressie.
7 'n Mens se eie skadufasette wat jy aan ander mense, situasies of handeling toeskryf, staan bekend as projeksies (Elder & Cordic, 2009).
8 Komplekse bestaan uit intense, ontstellende gevoelens wat op grond van sekere temas of trauma-tiese gebeurtenisse in die verlede met mekaar verband hou (Elder & Cordic, 2009).
9 Vir die oorspronklike dramateks, sien Verhelst se webruimte: https://www.peterverhelst.be/projecten/tekst-hotel-malaria.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License