SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.63 issue1The changing world of Afrikaans drama translations and adaptations: A few remarks author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.63 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n1a1 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Deon Meyer se Koors en Fever: 'n Ondersoek na die romans se posisie in die (Suid-)Afrikaanse êre polisisteem

 

Deon Meyer's Koorsand Fever: An investigation into the novels' position in the (South) African

 

 

DJ CloeteI; Hercülene KotzéII

IDepartement Professionele Studies, Akademia, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: DJC@Akademia.ac.za
IISkool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: herculene.kotze@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Wanneer daar na misdaadfiksie gekyk word, kan die impak van vertalings as deel van die spanningsverhaalsubsisteem ondersoek word, veral in die geval van Deon Meyer wie se werke al in meer as 27 verskillende tale vertaal is. Vir die doel van hierdie artikel word daar gebruik gemaak van Deon Meyer se Fever en Koors ter illustrasie van die waarde en belang van teksposisionering binne 'n groter sisteem - in hierdie opsig, die Amerikaanse literêre poli-sisteem en die Suid-Afrikaanse (Afrikaanse) literêre polisisteem. Sodoende, word die groter sosiale konteks waarbinne beide hierdie tekste geskep maar ook ontvang is, ontsluit. Die primêre ondersoekmetode in hierdie studie is 'n sisteemteoretiese ontleding. In die lig van die data wat gebruik word, word dit ook as 'n resepsiestudie beskou en maak dit gebruik van 'n paratekstuele analise om die data te analiseer. Die ontvanklikheid vir hierdie roman van Meyer mag daaraan te danke wees dat hy in 2011 reeds een van die VSA se topboekpryse, die American Barry Prize for Best Thriller, gewen het en daarom reeds deel van die Amerikaanse literêre polisisteem vorm. Wanneer daar na die parateks van Fever gekyk word, funksioneer die roman as 'n vertaalde spanningsverhaal binne die Amerikaanse spanningsverhaalsubsisteem. Die aanlyn resensies van Fever het grootliks 'n positiewe ontvangs deur kritici en die algemene leserspubliek getoon, en die posisie wat Fever vervolgens in hierdie sisteem inneem, is hieraan te danke. Dit blyk te wees dat, alhoewel misdaadfiksie tipies nie as "kanoniserende literatuur" beskou word nie, dit inderdaad meer sentraal tot die betrokke literêre polisisteem geposisioneer kan wees en bestaande denke hieroor kan verander.

Trefwoorde: polisisteemteorie, literêre polisisteem, spanningsverhaal, misdaadfiksie, Deon Meyer, parateks, resepsie, sisteemteoretiese benadering, parateks-tuele analise, vertaling, literêre kanon


ABSTRACT

According to Hermans (1999:42), the polysystem theory approach (hereafter PST) promotes the functional and goal-oriented approach to translation. Such an approach means that the emphasis is on the search for explanations that are primarily aimed at the target culture. Shuttleworth (2009:200) explains that PST (as set out by Even-Zohar and other experts) is not a complete, waterproof package, but rather a starting point for further study. If the model is approached in this way, it will constantly add value to investigations of a theoretical as well as a descriptive nature.
When looking at crime fiction, the impact of translations can be examined as part of the suspense fiction/thriller subsystem, especially in the case of Deon Meyer whose works have been translated into more than 27 different languages. For purposes of this article, we have made use of Deon Meyer's Koors and Fever to illustrate the value and importance of text positioning within a larger system - more specifically, the American literary polysystem and the South African (Afrikaans) literary polysystem. Thus, the larger social context within which both these texts were created, but also received, is unlocked.
The primary research method in this study is a systems theory analysis. Considering the data used, it is also deemed a reception study and uses a paratextual analysis to analyse the data. Fever's position in the American literary polysystem is determined using the paratext, namely reviews by literary critics and online reviews by the public, as well as examining aspects in and around the novels. Looking at Fever's paratext, the novel functions as translated suspense fiction within the American suspense fiction subsystem. Fever has been received mostly positively according to the online reviews by critics and the general readership, and the position that Fever subsequently occupies in this system is mainly due to its positive reception. Furthermore, the reason why Fever is accepted into this particular system may most possibly be due to the fact that Meyer won one of the USA's top book prizes, the American Barry Prize for Best Thriller for Thirteen Hours (Malan, 2011; also Meyer, 2019) already in 2011, and has therefore already entered the American literary polysystem. Awarding Meyer with this prize shows that Meyer's translated English novels also form part of the American suspense fiction polysystem and serve as a good indication that his novels are no longer on the periphery of this system, but that his work is increasingly becoming part of the American context and that it also enjoys international recognition.
The preceding points do not yet include the aspects of the discussion related to the peritext. What is important here is the quote from Stephen King that is used on the front page, namely "Reminiscent of The Stand and The Passage. Great stuff." However, there is no indication (on the cover at least) that this novel is a type of post-apocalyptic novel and if the reader knows Meyer's other works, they may expect a typical crime novel. The American publishers decided to put Stephen King's quote on the front page and it is placed there strategically, because it gives the reader an indication ofwhat they can expect. The Passage by Justin Cronin is described by The Guardian (2010) as a post-apocalyptic vampire story and The Stand by Stephen King is described by Amazon (2011) as Stephen King's apocalyptic outlook on a world overwhelmed by a plague. If the reader is acquainted with these books, this quote will provide him with some insight into what to expect in Meyer's Fever.
The information provided by the paratext of the novel, Fever, is twofold. The first is that the novel is a translation (although it is not explicitly mentioned) and that the polysystem is receptive to translations from the source language, which is Afrikaans. The second is that, although Meyer is a crime fiction writer, this novel is also part of the literary polysystem that includes apocalyptic /post-apocalyptic novels.
In the discussion of the findings, it is shown that Meyer's novel occupies a central position in the aforementioned subsystem and may be an indication of the type of translation strategies used. The discussion of "repertoremes" and "textemes" emphasises the repertoire of a specific author or text. These repertoremes form a unique network of relationships in a text (Toury, 2012:304). The unique network of relationships can be seen in the way a novel is classified according to genre, but also includes typical linguistic and narrative elements and the process of translation can influence this network of relationships. The translator may decide to use more conventional repertoires, or more innovative repertoires - especially if these texts are closer to the centre of the literary system (Even-Zohar, 1990). When the genre or structure of Fever is considered, it seems that a more conventional repertoire was used (possibly the strong memory of The Stand), but when the text's narrative and linguistic elements are considered, a more innovative repertoire was used. The choices made by the translator about certain (South) African words that are included in the translation (and for which a glossary is provided), are relevant here, but also the fact that the translated novel takes place in South Africa, and not, for example, in America.
It seems that, although crime fiction is typically not considered as "canonised literature", it can indeed be considered that it takes a more central position in the literary system and change current schools of thought regarding crime fiction.

Keywords: polysystem theory, literary polysystem, suspense fiction, crime fiction, Deon Meyer, paratext, reception, systems theory approach, paratextual analysis, translation, literary canon


 

 

1. Inleiding

Volgens Hermans (1999:42) bevorder die polisisteemteoriebenadering (hierna PST) die funksionele en doelgeoriënteerde benadering tot vertaling. Dergelike benadering beteken dat die klem geplaas word op die soeke na verduidelikings wat primêr gerig is op die ontvangende kultuur.

PST maak voorsiening vir verskynsels op verskillende vlakke, sodat die polisisteem van 'n gegewe nasionale letterkunde beskou word as 'n element wat 'n groter sosiale sisteem ontsluit (Shuttleworth, 2009:197). In 'n groter sosiale konteks word letterkunde nie net as 'n stel tekste gesien nie, maar ook in 'n breër sin as 'n stel faktore wat die produksie, bevordering en ontvangs van tekste bepaal. Die waarde van die polisisteemteorie lê daarin dat dit die ou unilaterale verhouding tussen vertaling en die oorspronklike teks vervang met 'n multilaterale matriks geanker in die vertaalkultuur (Hermans, 1999:42). Bykomend laat PST die navorser toe om te kyk na die interaksie tussen gekanoniseerde sentrale sektore van die kulturele domein en minder gesogte, meer perifere sektore soos die speurverhaal. In die lig hiervan, noem Cawelti (1990:5) reeds meer as 30 jaar gelede dat 'n bykomende voordeel van die aanwending van PST is dat dit 'n kenmerkende manier is waarop ons ons gedagtes oor hoe die letterkunde met tyd verander, kan ondersoek. Die gebruik van PST laat ons dus toe om te kyk na die geleidelike assimilasie van ons idees oor letterkunde wat deel vorm van populêre genres wat pertinent geskei was van die letterkundige hoofstroom, soos misdaadfiksie.

Shuttleworth (2009:200) verduidelik dat PST (soos dit deur Even-Zohar en ander kundiges uiteengesit is) nie 'n volledige, waterdigte pakket is nie, maar eerder 'n vertrekpunt vir verdere studie. Solank as wat die model op hierdie wyse benader word, sal dit voortdurend waarde toevoeg tot ondersoeke van 'n teoretiese sowel as 'n deskriptiewe aard.

Wanneer daar na speurverhale gekyk word, kan die impak van vertalings as deel van die spanningsverhaalsubsisteem ondersoek word, veral in die geval van Deon Meyer wie se werke al in meer as 27 verskillende tale vertaal is. Met betrekking tot hierdie artikel word daar gebruik gemaak van Deon Meyer se Fever en Koors ter illustrasie van die waarde en belang van teksposisionering binne 'n groter sisteem - in hierdie opsig, die Amerikaanse sowel as die Suid-Afrikaanse (Afrikaanse) literêre polisisteem. Sodoende word die groter sosiale konteks waarbinne beide hierdie tekste geskep maar ook ontvang is, ontsluit.

 

2. Agtergrond

2.1 Die polisisteemteorie

Die polisisteemteorie behels verskeie komponente wat uiteindelik 'n invloed het op die literêre sisteem. Die polisisteem, 'n model van Even-Zohar (1990), is bedink as 'n heterogene, hiërargiese konglomeraat (of sisteem) van idees wat mekaar beïnvloed en ten doel het om 'n aaneenlopende, dinamiese proses van evolusie in die polisisteem as 'n geheel mee te bestudeer (raadpleeg ook Shuttleworth, 2009:197).

Die polisisteem van 'n gegewe nasionale letterkunde kan beskou word as 'n element wat 'n groter sosiale sisteem ontsluit (Shuttleworth, 2009:197). In 'n groter sosiale konteks word letterkunde nie net as 'n stel tekste gesien nie, maar ook in 'n breër sin as 'n stel faktore wat die produksie, bevordering en ontvangs van hierdie tekste bepaal. Even-Zohar (1990:14) noem dat die (uni-)sisteem uit alles bestaan wat as die sentrale stratum geïdentifiseer is, wat bestaan uit die "amptelike kultuur" wat in standaardtaal, gekanoniseerde letterkunde en gedragspatrone van die dominerende klasse gemanifesteer is; en waar periferieë kategories as ekstra-sistemies gesien is (indien dit enigsins gesien is), in ooreenstemming met die "inside view" van die "people-in-the-culture" (Even-Zohar, 1990:14, raadpleeg ook Lotman, 1975:57 en Voegelin, 1960:60).

Soos kulturele, politieke en ekonomiese elemente deel vorm van die vertaalproses, vorm dieselfde komponente ook deel van die polisisteem. Verskeie komponente wat deel vorm van hierdie sisteem wat uiteindelik 'n invloed het op die literêre sisteem, sluit onder andere die politieke, opvoedkundige, ideologiese en ekonomiese sisteme in (Barrow, 2016:20), maar hierdie verskillende komponente is egter nie die fokus van die onderhawige studie nie. PST het waardevolle insigte gebied in die manier waarop vertaalde literatuur binne die breër literêre en historiese sisteme van die doelkultuur funksioneer (Wolf, 2007:6) en binne die konteks van die studie kan daar gesien word hoe dit verband hou met deskriptiewe vertaalkunde waar die fokus ook meer op die doelteks en doelkultuur is (vergelyk die bespreking van Spies (2013:42)). Spies (2013:83) noem dat daar verskillende aspekte binne die literêre polisisteem "mag" uitoefen deur die produksie en resepsie van vertaalde literêre werke binne 'n bepaalde sisteem te beïnvloed, te bepaal en te beperk. "Hierdie magte kan abstrakte konsepte soos instellings, die patronaat1 en die mark, of persone (of groepe persone) soos die produsente en gebruikers van tekste insluit" (Spies, 2013:83). Net soos die tekste binne die literêre polisisteem, noem Spies (2013:83) dat hierdie magte in 'n gedurige stryd met mekaar is waar hulle om mags-posisies wedywer, maar tog ook saamwerk binne die literêre polisisteem. Hierdie wedywering en samewerking behels 'n netwerk (wat ook deur die literêre polisisteem geïmpliseer word) van verhoudings tussen rolspelers, soos agente en instellings.

Vervolgens word PST aangewend om Deon Meyer se tekste binne die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse literêre polisisteem te plaas, wat die teoretiese agtergrond bied om te verstaan watter keuses deur die verskillende rolspelers uitgeoefen word. Die rolspelers sluit onder andere diegene in wat deel vorm van die "instelling", soos kritici, uitgewers, skrywersgroepe, akademiese instellings, en so meer (Even-Zohar, 1990:37). Die keuses waarna hier verwys word, behels byvoorbeeld die tipe tekste wat gekies moet word vir vertaling, soos bepaal deur die rolspelers in Even-Zohar se model,2 en hoe so 'n vertaling binne 'n sisteem funksioneer en uiteindelik hoe dit die keuses op 'n tekstuele vlak beïnvloed (sien ook Barrow, 2016:18).

Die volgende afdeling fokus derhalwe op PST om Deon Meyer se Koors en Fever binne die twee verskillende sisteme te posisioneer. Daar kan aanvaar word dat die Engelse tekste van Meyer in verskeie polisisteme geplaas kan word, maar omdat dit so 'n komplekse sisteem met 'n groot aantal faktore is, sal slegs die Amerikaanse literêre polisisteem in hierdie artikel ondersoek en bespreek word.

2.2 Die komponente van die polisisteem

Weens die dinamiese aard van die polisisteem is dit nodig om te verstaan dat verskillende tekste meeding om die sentrale posisie van die polisisteem. Munday (2012:166) bevestig hierdie perspektief en verduidelik dat interaksie en posisionering van hierdie sisteme in 'n dinamiese hiërargie plaasvind. Barrow (2016:24) voeg by dat 'n literêre polisisteem gesien kan word as 'n hiërargie wat saamgestel word uit verskillende stratums, wat 'n ander konsep-tualisering is van die sentrum-periferie-verbande tussen die verskillende sisteme en subsisteme. Hierdie dinamiek het 'n noue verband met die proses van kanonisering (Barrow, 2016:24). Even-Zohar (1990:15) gee 'n oorsig van gekanoniseerde teenoor niegekanoniseerde strata en verduidelik hierin dat gekanoniseerd aandui dat 'n model of teks aanvaar word deur die dominante kringe binne 'n kultuur, terwyl niegekanoniseerd omgekeerd beteken dat die model of teks deur hierdie kringe verwerp word. Soos Barrow (2016:25) tereg verwys na Even-Zohar, beteken dit nie dat die teks beskryf kan word as "goeie" of "slegte" literatuur nie.

Om hierdie konsep beter te verduidelik, is dit nodig om die verskillende komponente van Even-Zohar (1990:31; vergelyk ook Kruger, 2012:100 en Barrow, 2016:20) se Skema van die Literêre Sisteem te verstaan. Hierdie skema is gebaseer op die bekende Kommunikasiemodel van Jakobson (1960), wat verwerk is om faktore oor die literêre (poli-)sisteem in ag te neem (Even-Zohar, 1990:31):

 

 

Even-Zohar gee die volgende beskrywing van die model, en soos Kruger (2012:101) aantoon, beklemtoon hy die feit dat al die faktore interafhanklik van mekaar is: 'n Verbruiker kan 'n produk "verbruik" wat deur 'n produsent geproduseer is, maar vir 'n produk (soos 'n teks) om gegenereer te word, is dit nodig dat 'n gedeelde repertoire bestaan. Hierdie repertoire se verbruik word deur 'n instelling bepaal. 'n Mark moet bestaan waar so 'n tipe produk oorgedra kan word. Geeneen van die faktore wat hierin vervat is, kan beskryf word asof dit in isolasie funksioneer nie en die tipe verbande wat gemerk kan word, kom oor al die moontlike asse van die skema voor.

Alhoewel al hierdie komponente interafhanklik is, vervul repertoire 'n kernrol. Even-Zohar (1990:39) beskryf die funksie van repertoire om die samevatting van reëls en elemente wat beide die maak en gebruik van enige gegewe produk (of te wel teks) behels, te identifiseer. Kalmer (2013:16) voer aan dat tekste die aktualisering van hierdie wette is: "Die polisisteem kan [...] nie tot blote teks of repertoire gereduseer word nie, maar na wisselwerking tussen die twee."

Toury (2012:303) omskryf ook die konsep van repertoire en sien dit as 'n stel gekodifi-seerde items wat deur sistemiese relasies beheer word. Verder kan daar gekyk word na die kleiner gedeeltes van 'n repertoire, wat ook as "repertoremes" (voortaan in Afrikaans repertoreme) beskou kan word en omskryf word as enige teken wat deel vorm van die repertoire ten spyte van rang of omvang (Toury, 2012:304). Verder vorm repertoreme deel van 'n unieke netwerk van verhoudings in 'n teks wanneer dit gebruik word in 'n spesifieke teks wat die repertoreem ook 'n teksteem maak (Toury, 2012:304).3

Hoe groter die gemeenskap wat spesifieke produkte maak en gebruik, hoe groter moet die ooreenkoms met so 'n repertoire wees (Even-Zohar, 1990:39). Alhoewel die graad van bekendheid ten opsigte van 'n spesifieke repertoire nie heeltemal dieselfde is vir gespreks-voerders (die bogenoemde produsent/spreker of ook skrywer; en die verbruiker/aangesprokene of ook leser) nie, sal daar in 'n spesifieke interaktiewe situasie (gesprek/kommunikasie) byna geen interaksie wees sonder 'n minimum gedeelde kennis nie (Even-Zohar, 1990:39). Verder beskou Even-Zohar (1990:16) die "voorafkennis" en "ooreenstemming" as sleutelterme vir die konsep van repertoire.

Na aanleiding hiervan merk Barrow (2016:24) die volgende op oor misdaadfiksie as 'n genre (of subsisteem) wat sy eie repertoire het, wat ook gesien kan word as die tipiese linguistiese en narratiewe elemente wat gebruik word om 'n teks te konstrueer:

Dit sluit moontlik in die verwagtinge en konvensies wat geassosieer word met narratiewe styl soos karakter, stel en plot, waarin kultuur noodwendig figureer. Daar kan aangeneem word dat in verskillende literêre sisteme (bv. Duits en Suid-Afrikaans), die subsisteem of genre tot 'n mate 'n ander repertoire sal hê. Die vertaaluitdaging is die verhouding tussen die brongenre-repertoire en die doelgenre-repertoire. Daar is moontlik motiverings om verskillende elemente te behou vanuit die bron-repertoire afhangende van die funksie van die vertaling in die ontvangende sisteem. Alternatiewelik kan daar 'n skuif wees na meer gereelde opsies ("habitual options") in die doelsisteem se repertoire. Verder beïnvloed vertaling ook die veranderinge op die verhouding tussen die teksteme in 'n bepaalde teks.4

Alhoewel 'n vertaling of 'n vertaalde werk gewoonlik in isolasie gesien word, blyk dit uit die voorgenoemde aanhaling dat die idee van repertoire na vertalings oorgedra kan word. Even-Zohar (1990:45) vra selfs waarom vertalings in isolasie gesien word en of daar dieselfde verbande getrek kan word soos wanneer daar oor die oorspronklike werke geteoretiseer word. Verder word die vraag gestel watter verbande daar is tussen vertaalde werke wat aangebied word as feite wat vanuit ander letterkundes kom en afgesonder is van hul tuiskontekste, en vervolgens geneutraliseer word van die sentrum-periferie-stryd (Even-Zohar, 1990:45).

Alhoewel Even-Zohar nie vertaalde werke gebruik in die verduideliking van sy konsep van repertoire nie, staan hy 'n volledige afdeling af aan vertaalde werke in Polysystem Studies, naamlik "The Position of Translated Literature within the Literary Polysystem". Hierin redeneer hy dat vertaalde werke ten minste op twee wyses ooreenstem met die teorie: (a) die manier waarop die vertaalde tekste se brontekste deur die doelliteratuur gekies word, die beginsels van seleksie wat altyd ooreenstem met die tuis-ko-sisteme ("home co-systems") van die doelliteratuur; en (b) die manier waarop die vertaalde werke spesifieke norme, gedrag en beleide aanneem wat afkomstig is van hul verbande met ander tuis-ko-sisteme (Even-Zohar, 1990:46). Dit word nie beperk tot die linguistiese vlak nie, maar vind ook op die seleksievlak plaas, en vertaalde literatuur kan ook 'n repertoire van sy eie besit en selfs tot 'n sekere mate eksklusief daaraan wees (Even-Zohar, 1990:46). Alhoewel die moontlikheid bestaan dat 'n vertaling as 'n teks op die periferie van enige gegewe polisisteem gesien kan word, is dit nie in alle gevalle so nie en Even-Zohar (1990:46) se argument is dat die posisie van 'n vertaalde teks bepaal word deur die spesifieke "konstellasie" van die polisisteem wat ondersoek word.

 

3. Metode

Die primêre ondersoekmetode in hierdie studie is 'n sisteemteoretiese ontleding. In die lig van die data wat gebruik word, word dit ook as 'n resepsiestudie beskou en dit maak gebruik van 'n paratekstuele analise om die data te analiseer.

Die posisie van Fever in die Amerikaanse literêre polisisteem word vasgestel deur gebruik te maak van die parateks, naamlik om resensies deur literêre kritici en aanlyn resensies deur die algemene publiek te analiseer, sowel as aspekte in en rondom die romans te ondersoek. Volgens Genette en Maclean (1991:264) is die parateks gelyk aan die periteks en die epiteks van 'n roman. Genette en Maclean (1991:264) verduidelik twee elemente van parateks. Periteks verwys hoofsaaklik na elemente wat verbandhou met die posisionering van items in verhouding met die teks self. 'n Voorbeeld is die titel of voorwoord. Daarenteen beskryf Genette en Maclean (1991:264) epiteks, die tweede element, as dit wat rondom die teks plaasvind, byvoorbeeld mediasteun of private kommunikasie.

Barrow (2016:63) stel dit op 'n eenvoudige manier: die parateks omring en verleng die teks. Die paratekstuele elemente is dit wat as waardevol of aanloklik gesien word rondom die teks. Hiermee word daar gefokus op die manier waarop tekste "vir die doelkultuur (ontvangerkultuur) verpak" word en hoe hulle dit ontvang (Barrow, 2016:63). Dit behoort 'n aanduiding te gee van wat op die voorgrond geplaas word omdat dit beskou word as belangrik ten opsigte van die funksie van die vertaalde teks in die doelsisteem (ontvangersisteem) (Barrow, 2016:63). Met inagneming van die aanhaling van Genette en Maclean hier bo, word daar aangetoon dat die paratekstuele elemente bydra tot die posisionering van die roman in die doelkultuur, maar dat dit ook die moontlikhede skep om die teks beter te posisioneer binne 'n spesifieke literêre polisisteem. Een voorbeeld hiervan is die grootte en posisie van die boek se titel en die outeur se naam op die voorblad, as 'n aanduiding van die outeur se bekendheid in die doel- literêre of polisisteem (Barrow, 2016:64).

Verskeie resensies word gebruik as deel van die epiteks om beide Koors en Fever binne die onderskeie polisisteme te posisioneer. Eerstens word aandag gegee aan resensies wat plaaslik in Suid-Afrika gepubliseer is oor die Afrikaanse roman, en daarna aan resensies wat in Amerika verskyn het oor die Engelse vertaling van die roman. Baie van die Engelse resensies is in Brittanje geskryf, maar na 'n noukeurige soektog kon daar bepaal word watter resensies wel in Amerika gepubliseer is. 'n Groot hoeveelheid inligting word voorsien deur aanlyn boekwinkels, byvoorbeeld 'n sinopsis van die roman en ook opsommende resensie; terwyl ander aanlyn platforms/winkels ook resensies deur die algemene leserspubliek bevat. Daar is ook op hierdie aanlyn resensies gesteun om Meyer se romans en sy posisie binne 'n spesifieke literêre sisteem te bepaal.

 

4. Paratekstuele analise

Die inligting wat verkry is uit die paratekste oor beide die Afrikaanse en Engelse (Amerikaanse) tekste is gebruik om te bepaal wat die funksie en doel van hierdie tekste in die onderskeie literêre sisteme is, veral wat betref speurverhale. Die parateks word ook in die groter polisisteembenadering gekontekstualiseer. Die paratekstuele analise steun op epitekste soos aanlyn resensies (resepsie) deur kritici en die algemene leserspubliek om te bepaal watter posisie hierdie tekste in die onderskeie polisisteme, naamlik die Afrikaanse spanningsver-haalsubsisteem en die Amerikaanse spanningsverhaalsubsisteem inneem, maar ook die peritekste soos die voorblad, titel, kolofon en so meer. As deel van hierdie bespreking word die debat rondom die posisie van misdaadfiksie in sy geheel ook bygetrek (vergelyk 4.2.1. hier onder).

4.1 Epiteks: Die Suid-Afrikaanse literêre polisisteem en Koors

4.1.1 Algemene literêre polisisteem

Volgens Barrow (2016:25) (sien ook Le Roux, 2013:145) lê misdaadfiksie5 se kulturele status tussen "high-brow" en "low-brow", oftewel gesofistikeerde letterkunde en middelmoot- of ontspanningsliteratuur, en daar word nog steeds gevra of 'n spanningsverhaal 'n kunsvorm is of nie. Le Roux (2013:145) merk wel op dat sommige titels gesien kan word as ontspanningsliteratuur ("low-brow"), maar die genre self kan as relevant en lewensvatbaar beskou word. Naidu (2013:130) beskou die Suid-Afrikaanse misdaadroman as formule-gedrewe, met 'n vinnige pas, plot-gedrewe, met meer aksie as speurwerk, gewelddadig, en gewoonlik met 'n einde in 'n klimaksagtige fase of fisiese magspel. Verder noem Naidu (2013:128) dat hierdie romans 'n wêreld van politieke intrige, toenemende transnasionalisme, glans, seks en globale korrupsie uitbeeld, en dat hulle aksiebelaaide en vinnige storielyne karakteriseer. Barrow (2016:57) voer na aanleiding hiervan aan dat die konvensies van die Suid-Afrikaanse misdaadroman voldoen aan die hardgebakte6 konvensies ("hard-boiled7 conventions") van misdaadfiksie: 'n misdaadsbestryder ondersoek 'n saak en raak betrokke in die onderwereld, waar dit moeilik is om onderskeid tussen reg en verkeerd te tref.

In Suid-Afrika is die Afrikaanse misdaadromans, en veral Meyer se boeke, topverkopers en hulle word daarom getipeer as 'n populêre genre (Nicol, 2015; sien ook Koors se buiteblad). Volgens Even-Zohar (1990:16) is populêre genres, soos niegekanoniseerde literatuur, egter dikwels tekenend van sekondêre of perifere sisteme, sodat populêre misdaadfiksie meesal geposisioneer word as 'n sekondêre of perifere sisteem binne die literêre polisisteem. Hierteenoor meen Cawelti (soos aangehaal deur Rolls, 2016) dat misdaadfiksie 'n groot dryfveer is om die literêre kanon te hersien en te demokratiseer:

As King's8 work on Crime Fiction as World Literature inevitably places translation at the heart of the transnational mobility of the genre, Crime Fiction, which, as John G. Cawelti has argued, is a great driver of literary canon revision and democratization, can now prepare itself to become the object of its own tendency to open borders. (Rolls, 2016: 446)

Die artikel, "Whose National Allegory is it Anyway? Or What Happens When Crime Fiction is Translated?" deur Rolls (2016) verskuif beide die misdaadfiksie en vertaling (in 'n beperkte mate) na 'n meer sentrale posisie in die literêre polisisteem. Waar Rolls (2016) verwys na die Franse konteks, fokus De Kock (2016) op die Suid-Afrikaanse politieke konteks en hoe dit tot die ontwikkeling en opkoms van misdaadfiksie aanleiding gegee het: "Postapartheid writing constitutes an investigation into, and a search for, the 'true; locus of civil virtue in decidedly disconcerting social conditions, in an overall context of transition" (De Kock, 2016:5).

Hy verwys na Anthony O'Brien se uitspraak oor die post-1994-jare, wat 'n normalisering van die politieke ekonomie beleef het wat hy tipeer as die neokoloniale uitkomste van 'n antikoloniale "struggle", na aanleiding van Graham Pechey (De Kock, 2016:3).

De Kock wys daarop dat die sogenaamde "nuwe" demokrasie die ruimte skep vir 'n postapartheid literêre kultuur waarin onder meer ondersoek ingestel word na die oorsake van die omkering (inversion), of selfs verdraaiing (perversion) van die eindbestemming van 'n land. Binne dergelike ontsporings, wat grens aan die kriminele, kan die merkwaardige groei in misdaadskryfwerk in die post-bevrydingstydperk verklaar word. Dit behels sowel fiksionele speurverhale as niefiksiewerke van "egte misdaad", met daarby inbegrepe ook nog die kritiese analise van hierdie werke.

De Kock (2016:4) dui aan dat hy ondersoek instel oor hoe verskeie skrywers, insluitende Deon Meyer, probeer om die lokus of posisie van publieke/openbare deugsaamheid te herdefinieer in 'n konteks waar die grense tussen reg en verkeerd nie duidelik is nie. Verder verwys De Kock (2016:36) ook na Warnes wat beweer dat Meyer (en Orford) "keep faith with some of the core features of 'serious' South African literature: its capacity to document social reality, to expose injustice, and to conscientise readers into different modes of thought and action".

Barrow (2016:57) argumenteer dat die meeste van Meyer se werk voldoen aan die beskrywing van die Amerikaanse hardgebakte misdaadfiksie, soos uiteengesit deur Wessels. Omdat Meyer se werk hieraan voldoen, word hy as 'n skrywer in die sentrum van die misdaadfiksie-subsisteem beskou. Hierdie perspektief mag egter verskil as Meyer in dieselfde subsisteem in Amerika geplaas word en wanneer daar na sy vertaalde werke gekyk word. Hierteenoor, noem Nicol (2015) wel dat Meyer se romans op dieselfde vlak is as internasionale misdaadfiksie wat plot en letterkundige effektiwiteit betref. Venuti (2008:154) meen ook dat die toename in verkope van misdaadromans nie beperk word tot werke wat oorspronklik in Engels geskryf is nie, maar vreemde/anderstalige misdaadromans insluit wat vertaal is in Engels. Venuti (2008:154) vra selfs die vraag of die toename in populariteit en breër lesersgemeenskap van hierdie genre toegeskryf kan word aan die vertalings wat moontlik die vreemdheid in hierdie genre beklemtoon en, of enige van die kulturele eienskappe werklik die vertaling en redaksieproses weerstaan.

Van Heerden (2018:6) som die uitings wat verskeie teoretici of kritici gemaak het oor Meyer se werk as volg op:

Naas Nicol is daar talle persone wat soortgelyke bewerings maak, byvoorbeeld dat Deon Meyer se werk die "pretensieuse" skeidslyn tussen "ligte leesstof' en letterkunde oorbrug (Gouws, 2004), dat sy romans gerus kan opskuif na 'n hoër kategorie as "blote spanningsverhale of ontspanningslektuur" (Van der Westhuizen, 2008), dat hy beskou moet word as een van ons "waardevolste literêre bates" (Wessels, 2008) en dat Meyer waarskynlik veel meer gesogte "literêre" pryse sou verower het as dit nie was vir die tradisionele snobisme jeens misdaadfiksie nie (Human, 2015).

Dit is hier belangrik om aan te toon dat verskeie teoretici en kritici reeds deelneem aan die debat oor die posisie van nie net misdaadfiksie nie, maar spesifiek ook Deon Meyer se werke.

4.1.3 Teks

Koors volg nie dieselfde resep as die tipiese Meyer-roman nie. 'n Sentrale gedeelte van hierdie roman handel oor die verhouding tussen pa en seun - Willem en sy seun Nico. Selfs die omslag dui aan dat hierdie verhouding aandag binne die roman geniet, met die aanhaling: "Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry." Hierdie verhouding is een van die kenmerke van 'n storie wat gekenmerk word deur geharde karakters en hulle optrede, wat deur Pronzini en Adrian (1997:3) geïdentifiseer word: die karakter en die probleme inherent aan menslike gedrag word beklemtoon en die karakterkonflik is van kernbelang, terwyl die misdaad of dreiging van misdaad waarmee die storie sigself besig hou, van sekondêre belang is. Steenkamp (2017) wys daarop dat die bogenoemde reklame-slagsin op die omslag die leser verlei en dat 'n mens sal kan dink dat hierdie 'n spanningsriller met 'n "vinnige pas, 'n paar ontploffings en grieselrige moord of twee" is, maar dit is nie die geval nie. Hierteenoor noem Steenkamp (2017) wel dat Koors al die kenmerke van die Meyer-treffer behou, maar die tema is onverken in 'n speurverhaal.

In sy bespreking van Koors verwys Van Heerden (2018:208) na Prins (2016), wat weer uitwys dat alhoewel Meyer met hierdie roman 'n nuwe koers ingeslaan het, dit steeds in die eerste plek spanningsfiksie is. Van Heerden (2018:208) beaam ook dat die roman genoegsame spanningsvolle episodes en subnarratiewe het om die sentrale misdaadgegewens op die agtergrond te hou tot met die dubbele onthulling in die slot. Hierbenewens sluit Koors wel ander elemente in, soos die Bildungsroman, elemente van romanse, krygsliteratuur en volskaalse oorlog (Van Heerden, 2018:209). Verder maak Van Heerden (2018:215) die samevattende opmerking dat Koors neig na die meer "mimetiese9" pool van Cawelti se literêre spektrum en dat dit aansienlike gewig verleen aan die idee dat Meyer, as skrywer van populêre misdaadfiksie, die tradisionele Afrikaanse literêre kanon sal kan oopbeur. Op grond van hierdie stellings kan daar aangevoer word dat Koors en ook Meyer nie net in die sentrum van die misdaadfiksiegenre in die polisisteem is nie, maar dat hy ook nader beweeg aan die sentrum van die Afrikaanse literêre kanon.

4.2 Epiteks: Die Amerikaanse literêre polisisteem en Fever

4.2.1 Algemene literêre polisisteem

Van Heerden (2018:3) toon aan dat daar 'n wending in die Westerse denkwêreld plaasgevind het en beweer dat dit meestal verband hou met die opkoms van kultuurstudies en met die idees van poststrukturalistiese denkers (ook Burger, soos aangehaal deur Van Heerden, 2018:3). Volgens Van Heerden (2018:4) het hierdie wending meegebring dat die bevoorregte posisie van "hoë kultuur" toenemend uitgedaag en bevraagteken word. Wanneer daar dan gekyk word na die debat wat geheers het oor wat in die literêre kanon betrek moet word, veral ten opsigte van Engelse en Amerikaanse literatuur, dui Cawelti (1990:5) aan dat 'n baie groot deel van hierdie debat gehandel het oor die verkenning van letterkunde wat geskep is deur vroue en minderheidsgroepe, en om juis hierdie groepe se werke meer in die literêre kanon te beklemtoon. Cawelti (1990:5) noem dat daar ook 'n kenmerkende manier is waarop ons gedagtes oor letterkunde verander het. Dit behels onder andere die geleidelike assimilasie van ons idees oor letterkunde wat deel vorm van populêre genres wat pertinent geskei was van die letterkundige hoofstroom, wat die speurverhaal insluit. Hadley (2017) gee op Oxford Research Encyclopedias 'n oorsig van die Amerikaanse speurfiksie in die twintigste eeu en dui aan dat Amerikaanse speurfiksie as genre grootliks verander het sedert die ontstaan daarvan. In hierdie oorsig word daar verduidelik dat die manlike protagonis, as die "held'' wat misdaad opgelos het met die minste geweld en met omgee vir die samelewingsomstandighede van die tyd, verander het in die taai, vuurwapen-swaaiende hardgebakte speurder wat altyd kommentaar lewer op alles wat verkeerd is om hom (Hadley, 2017). Vandag los dieselfde speurder, wat ook nou dikwels vroulik is, misdaad op vir vriende en familie en betoog oor verskeie diskriminerende praktyke (Hadley, 2017). Speurfiksie het wegbeweeg van 'n vertroostende afleiding na iets wat ons vertel oor die wêreld waarin ons lewe en die beste manier om in vrede saam te lewe (Symons, soos aangehaal deur Hadley, 2017).

Ten spyte van (moontlik te danke aan) die veranderinge in hierdie genre, is dit steeds 'n baie bekende genre en as gevolg van die populariteit daarvan laat die polisisteem van misdaadfiksie gereeld toe dat nuwe boeke en vertalings die sisteem betree. Werke van onder andere Deon Meyer en Karin Brynard vorm byvoorbeeld deel van die Amerikaanse spanningsverhaalpolisisteem. In die Amerikaanse literêre sisteme lê Meyer (en ook Brynard) se romans op die periferie van die polisisteem, veral wanneer daar gekyk word na die vertalings in Engels wat in Amerika gepubliseer word. Publishers Weekly se redakteur, Post (2019), lewer verslag oor die vertalings in Engels wat in Amerika gepubliseer is (hy sluit doelbewus die publikasies in die Verenigde Koninkryk en hervertalings uit) en dui aan dat daar in 2018 (die jaar waarin Fever deur Grove Atlantic gepubliseer is (Grove Atlantic, 2019)) slegs 495 titels vertaal is. Post (2019) berig ook dat die drie tale waaruit die meeste werke vertaal word, Spaans, Frans en Duits is. Afrikaans verskyn nie onder die top 10 van hierdie tale nie, en dit gee 'n aanduiding dat Meyer se werk op die periferie van daardie literêre polisisteem lê. Hierdie afleiding kan gemaak word na aanleiding van die aantal vertaalde werke wat gepubliseer word in vergelyking met die totale aantal publikasies in die VSA, waarvan misdaadfiksie voorts net 'n persentasie van die vertaalde werke is.

3.1.2 Outeur en vertaler in die polisisteem

Deon Meyer het al 'n groot hoeveelheid pryse vir sy werke ontvang, maar wat hier van belang is, is dat hy in 2011 reeds een van die VSA se topboekpryse vir Thirteen Hours gewen het (Malan, 2011; ook Meyer, 2019). Die toekenning van die American Barry Prize for Best Thriller toon aan dat Meyer se vertaalde Engelse romans deel vorm van die Amerikaanse spanningsverhaalpolisisteem en dien ook as 'n goeie aanduiding dat sy romans nie meer op die periferie van hierdie sisteem lê nie, maar dat sy werk toenemend deel begin word van die Amerikaanse konteks en ook internasionale erkenning geniet. Die etlike pryse wat sy romans al ontvang het, kan op Deon Meyer se webwerf gesien word: https://www.deonmeyer.com/bio.html#awards.

4.2.3 Teks

Stephen King (2017), die wêreldberoemde outeur van - onder andere - spanningsverhale, het onlangs getwiet oor Fever (die vertaling van Koors) wat in Amerika uitgegee is en gesê, "UK readers, you have a nice surprise coming. No, not Brexit, FEVER, by Deon Meyer. Reminiscent of THE STAND and THE PASSAGE. Great stuff." Hierdie uiting oor Meyer se roman is nie die enigste positiewe ontvangs wat Fever in Amerika ontvang het nie. Dit blyk dat Meyer se werk nie meer op die periferie van die misdaadfiksiepolisisteem geplaas word nie.

Die eerste resensie wat bespreek word, is geskryf deur Michele Leber en is geplaas op Booklist Online10 (die resensie is ook te sien op Deon Meyer se webwerf). In hierdie resensie skryf Leber (2017) soos volg oor Fever:

... a thought-provoking, postapocalyptic examination of the human condition, with two diverse views of our species: Willem's core empathy versus Domingo's assertion that men are animals. With its stunning final revelation, this is a remarkable literary achievement.

'n Ander resensie wat op Publishers Weekly11 gepubliseer is, geskryf deur Richard Pine (2017), beskryf Fever as "Meyer (Trackers) neatly integrates a whodunit into a sophisticated postapocalyptic thriller set in South Africa" en sê dat

Willem's tireless efforts are clouded by the reader's knowledge of how things will end for him, and Meyer effectively teases his ultimate reveal. Thoughtful character development complements the clever storytelling.

Albei hierdie resensies deur kritici dui op 'n positiewe ontvangs van Fever, maar hierteenoor bied Christopher Chan (2018) se resensie wat op The Strand Magazine12 se webwerf gepubliseer is 'n ander perspektief oor Fever en noem dat dit 'n lang reis in 'n post-apokaliptiese samelewing is, en al lys hy 'n paar positiewe aspekte oor die roman, kritiseer hy die boek se lengte, en is van mening dat die opbou na die klimaks stadig plaasvind en dat die afwyking na politiek en filosofie afbreuk doen aan die dramatiese spanning.

Die gebruik van aanlyn resensies van 'n spesifieke roman deur resensente sowel as die algemene leserspubliek bied die moontlikheid om die posisie van 'n roman binne 'n bepaalde literêre sisteem te plaas. Om te verseker dat resensies gebruik word wat spesifiek vir die Amerikaanse uitgawe van die roman geskryf is, moes daar noukeurig gesoek word vir spesifiek Amerikaanse platforms wat resensies plaas. Dit was ook nodig om die oorsprong vas te stel van resensies wat deur die algemene leserspubliek geskryf is. Sommige platforms is tipies Amerikaans, maar ander (soos Amazon) is internasionale aanlyn winkels wat 'n wyd verspreide leserspubliek bedien. Om te verseker dat resensies gebruik word wat wel deur Amerikaners geplaas is, is daar slegs gebruik gemaak van resensies waarvan die leser se profiel aangedui het dat hulle in Amerika woon. Op Amazon is daar in totaal 618 kliënteresensies,13 waarvan 28 deur Amerikaners geskryf is. Elkeen van die kliënte se profiele is nagegaan om te bepaal of hulle 'n aanduiding gegee het uit watter land hulle kom. Ag-en-twintig van hierdie kliënte is volgens hulle Amazon-profiel woonagtig in Amerika. Met die soektog het nie alle kliënte hulle stad of land bygevoeg nie en daar mag moontlik egter meer as net 28 Amerikaners wees wat 'n resensie geskryf het.

Amazon (2019) gebruik 'n staafgrafiek met 'n gradering ("rating") van wat elke leser aan die roman toeken. Met 618 lesers se gradering in ag genome, het hierdie roman 'n gemiddelde gradering van 4.5 uit 5 sterre ontvang. Twintig van die 28 Amerikaanse lesers het die roman 5 sterre gegee. Van hierdie lesers het die volgende opmerkings saam met hulle gradering gemaak:

 

 

Van die opmerkings ("resensies") wat die vier ander lesers gemaak het wat nie vyf sterre vir hulle gradering gegee het nie, lui soos volg:

"Much of the story is told from Nico's perspective and his trials over the next four years. Nico has some special physical skills but he is no more mature than your next door neighbor's teenager. He's annoying; I never got to a point where I cared for him nor for his issues. The story goes on and on and then with about 20 pages to go we get The Big Explanation. The Big Twist. I didn't like it all, I thought it was a bit silly." (Kenneth C. Mahieu, 11 November 2017). (Gradering: 2 sterre)

"I wish the last third (half) weren't wasted on war and battles. I can read that anywhere and it's formulaic and boring." (Barbara Morrell, 22 Februarie 2018). (Gradering: 3 sterre)

Uit hierdie aanlyn resensies van die algemene leserspubliek is daar verwysings na verskeie aspekte in die roman, onder andere die karakterontwikkeling, maar daar word ook klem gelê op die feit dat die roman in Suid-Afrika (of Afrika) afspeel. Die resensies verwys ook gereeld na Meyer se ander romans, wat as 'n aanduiding kan dien dat die leserspubliek ook met van sy ander werke vertroud is.

'n Resensent vanuit die geledere van die algemene leserspubliek het ook daarna verwys dat hierdie roman 'n vertaling is:

"The author, Deon Meyer, was born in South Africa and wrote the book in Afrikaans. So, to me, part of the price being charged is for the English translation of this very long book into English by Laura Seegers (and she did a brilliant job)." (Cheryl Stout, 28 Augustus 2019)

Hierin noem die persoon dat die vertaler goeie werk gelewer het. Verder het twee van die algemene leserspubliek se resensies oor Fever melding gemaak van top-Amerikaanse skrywers soos Stephen King en Cormac McCarthy en genoem dat Meyer se roman op dieselfde kerf as 'n roman soos The Stand14 geklassifiseer kan word. Alhoewel Meyer se werke deel van die vertaalde spanningsverhaal literêre sisteem vorm, is hier bewyse dat hy nader aan die sentrale posisie van spanningsverhale in die Amerikaanse literêre sisteem beweeg.

 

5. Periteks

Hieronder is die voorblad van die Afrikaanse e-boek, Koors:

 

 

Die voorblad van Koors kondig aan dat Deon Meyer "Die gewildste skrywer in Afrikaans" is. Verder is daar ook 'n lokfrase, "Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry", wat verskyn aan die onderkant van die roman om die leser nuuskierig te maak. Die beeld wat op hierdie voorblad verskyn, fokus op die gemeenskap wat hulle vesting langs die dam maak en die lokfrase dui op die pa-en-seun-verhouding wat in die roman voorkom. In vergelyking met Fever is die verhouding van die naam en titel se grootte ongeveer dieselfde (vergelyk Figuur 3 hier onder). Die manier waarop hierdie voorblad ontwerp is, is al deel van die Deon Meyer-handelsmerk.

 

 

Die voorblad van Fever soos dit deur Grove Atlantic (2019) voorsien word, is oorwegend oranje met bruin vlekke, wat herinner aan 'n ou foto - moontlik 'n uitbeelding van 'n tyd in die verlede. Aan die linkerkant van die voorblad sien die waarnemer die rugkant van twee manlike figure wat op 'n verweerde teerpad in die rigting van 'n huis stap. As die inhoud van die teks in gedagte gehou word, is hierdie manlike figure heel moontlik Nico en sy pa, Willem. Daar word in die openingsgedeeltes van die teks beskryf hoe Nico en sy pa probeer om te oorleef en hoe hulle in 'n huis wegkruip, en dit hou nou verband met die beeld wat die leser op die omslag/voorblad teëkom. Verder verskyn die titel ook op die omslag, tesame met 'n aanhaling van Stephen King (hierdie was vroeër ook voorsien as 'n twiet deur King): "Reminiscent of The Stand and The Passage. Great stuff." Stephen King word ook as een van die wêreld se suksesvolste skrywers beskou en hy het al meer as 50 boeke gepubliseer (Stephen King, 2019); dit is moontlik die rede waarom hierdie aanhaling op die voorblad verskyn. Onder die titel verskyn die literêre vorm wat hierdie boek aanneem, genaamd "a novel". Aan die onderkant van die voorblad verskyn die naam van die outeur, Deon Meyer, duidelik sigbaar, hoewel dit kleiner as die titel is.

Die volgende inligting oor die periteks van die roman is verkry uit 'n e-boek wat met spesiale vergunning van Grove Atlantic gebruik is. Die Amerikaanse gedrukte weergawe is nie vrylik in Suid-Afrika beskikbaar nie, waar boekwinkels die uitgawe verkoop wat deur Hodder en Stoughton uitgegee word. Die titelblad van die roman sluit die titel, Fever, met die beskrywing "The memoirs of Nicolaas Storm, concerning the investigation of his father's murder" in. Op 'n volgende bladsy verskyn daar ook 'n lys titels van ander werke deur Deon Meyer. Eers op die derde bladsy verskyn die titel, die literêre vorm, "a novel", die skrywer se naam, Deon Meyer, en dat hierdie roman uit die Afrikaanse weergawe deur KL Seegers vertaal is. Verder word die uitgewer se naam, "Grove Press" en "New York" aangedui. Op die volgende bladsy is die kolofon te vind en dui die kopiereg van die roman aan en ook dat daar kopiereg op die Engelse vertaling is. 'n Kennisgewing dat reproduksie van die boek verbied word, word ook voorsien. Inligting van ander uitgewers word aangebied, naamlik die oorspronklike uitgewer, Human & Rousseau, as die uitgewer van Koors in 2016; en die eerste uitgewer van die Engelse roman, Hodder en Stoughton, 'n Hachette VK Maatskappy in Groot Brittanje, in 2017. Meer besonderhede van Grove Press word voorsien en daar word aangedui dat hulle deel vorm van Grove Atlantic in New York en dat die roman versprei word deur Publishers Group West.

Nadat al die uitgewers se inligting en ander besonderhede voorsien is wat tipies op die kolofon van 'n roman verskyn, tref die leser die inhoudsopgawe aan. Dit toon hoe die roman verdeel is. Die inhoudsopgawe dui ook aan hoe die roman in spesifieke jare verdeel word, naamlik "The Year of the Dog" ("Die Jaar van die Hond"), "The Year of the Crow" ("Die Jaar van die Kraai"), "The Year of the Jackal" ("Die Jaar van die Jakkals"), "The Year of the Pig" ("Die Jaar van die Vark") en "The Year of the Lion" ("Die Jaar van die Leeu"). 15 In die roman self kan die leser sien dat elk van hierdie indelings ook onderverdeel word in hoofstukke met nommers van twee tot eenhonderd en twintig. Die eerste hoofstuk is voor die "jaar"-indelings geplaas. Na die inhoudsopgawe word die leser van 'n kaart van Suid-Afrika voorsien, wat die leser 'n aanduiding gee van die mees prominente plekke wat in die roman teëgekom word. Voor die eerste hoofstuk is daar ook aanhalings wat Meyer in die oorspronklike Afrikaanse weergawe ingesluit het, wat deel vorm van die periteks. Hierdie aanhalings hou verband met die formaat en inhoud van die boek. Voorbeelde hiervan in Meyer (2017) sluit die volgende in:

The initial mystery that attends each journey is: how did the traveller reach his starting point in the first place?

- Louise Bogan

Memories of mortification persist for decades...

- Oliver Burkeman, Help

Every autobiography is concerned with two characters, a Don Quixote, the Ego, and a Sancho Panza, the Self.

- W.H. Auden

Autobiography is usually honest but it is never truthful.

- Robert A. Heinlein, Friday

Down these mean streets a man must go who is not himself mean, who is neither tarnished nor afraid. The detective must be a complete man and a common man and yet an unusual man. He must be, to use a rather weathered phrase, a man of honour.

- Raymond Chandler

Op die laaste bladsy van die e-boek van dié Amerikaanse uitgawe sal die leser 'n erkennings-afdeling, bibliografie en glossarium aantref. Die glossarium is 'n interessante toevoeging tot die Engelse uitgawe. Hierdie glossarium sluit woorde in wat tipies in die roman gebruik word maar nie werklik 'n ekwivalent in Engels het nie. Daar is in totaal 24 woorde in die glossarium opgeneem. Daar is geen glossarium in die Afrikaanse uitgawe nie omdat al die woorde wat hierin gebruik word relatief bekend vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse, Afrikaanse leser is.

 

6. Bevindinge

6.1 Die funksie en doel van Fever binne konteks van die polisisteem

In die e-boek van Fever word die leser nie op die voorblad bewus gemaak van die feit dat die roman 'n vertaling is nie, maar wel binne die eerste drie bladsye van die boek. Hier word aangedui dat die roman uit Afrikaans deur KL Seegers vertaal is. Op die voorblad is daar geen aanduiding dat hierdie roman 'n tipe van postapokaliptiese roman is nie en indien die leser Meyer se ander werke ken, mag hulle moontlik 'n tipiese misdaadroman verwag. Die Amerikaanse uitgewers het besluit om Stephen King se mening oor die boek op die voorblad te plaas. Hierdie aanhaling is strategies daar geplaas omdat dit die leser 'n aanduiding gee van wat hy/sy kan verwag. The Passage deur Justin Cronin word deur The Guardian (2010) beskryf as 'n postapokaliptiese vampierverhaal en The Stand deur Stephen King word deur Amazon (2011) beskryf as Stephen King se apokaliptiese uitkyk op 'n wêreld wat deur 'n plaag oor-rompel is.

Die inligting wat deur die parateks van die roman, Fever, gebied word, is tweevoudig. Die eerste is dat die roman 'n vertaling is (alhoewel dit nie eksplisiet genoem word nie) en dat die polisisteem ontvanklik vir vertalings vanuit die brontaal is. Die tweede is dat alhoewel Meyer 'n misdaadfiksieskrywer is, hierdie roman ook deel vorm van die literêre polisisteem wat apokaliptiese/postapokaliptiese romans insluit. Die ontvanklikheid vir hierdie roman van Meyer mag daaraan te danke wees dat hy in 2011 reeds een van die VSA se topboekpryse, die American Barry Prize for Best Thriller, gewen het en daarom reeds deel van die Amerikaanse literêre polisisteem vorm. Verder mag die Amerikaanse polisisteem ook ontvanklik vir hierdie roman wees omdat dit 'n postapokaliptiese verhaal is en aansluit by ander romans wat in dieselfde kategorie geplaas word en bekend is onder lesers in Amerika. Hierdie punte toon dat Meyer se romans, en spesifiek dan Fever, die grense van misdaadfiksie en vertaalde werke se polisisteme oorskry en aanklank by die lesers in Amerika vind, en vanuit hierdie perspektief 'n verkooppunt word.

6.2 Die posisie van Meyer se roman in die Amerikaanse literêre sisteem

Even-Zohar (1990:46) voer aan dat die posisie van 'n vertaalde teks bepaal word deur die spesifieke "konstellasie" van die polisisteem wat ondersoek word, en dat dit nie beteken dat 'n vertaling van 'n teks in alle gevalle op die periferie van enige gegewe polisisteem gesien kan word nie. Voorts is Even-Zohar van mening dat populêre genres, soos niegekanoniseerde literatuur, dikwels beskou word as sekondêre of perifere sisteme en dat daar geargumenteer kan word dat populêre misdaadfiksie oor die algemeen 'n sekondêre of perifere sisteem is (en sodanige posisie inneem) in die literêre polisisteem. Op grond van die bostaande resensies deur beide literêre kritici en die algemene Amerikaanse leserspubliek, en veral ook omdat Meyer se romans naas bekende Amerikaanse skrywers genoem word, blyk dit dat Fever 'n meer sentrale posisie in die subsisteem, naamlik vertaalde spanningsverhale inneem.

So 'n sentrale posisie van Meyer se roman in die voorgenoemde subsisteem kan 'n aanduiding wees van die tipe vertaalstrategieë wat gebruik is. Vergelyk hier die bespreking van repertoreme en teksteme wat klem lê op die repertoire van 'n spesifieke skrywer of teks. Hierdie repertoreme vorm 'n unieke netwerk van verhoudings in 'n teks, aldus Toury (2012:304). Die unieke netwerk van verhoudings kan gesien word in die manier waarop 'n roman volgens genre geklassifiseer kan word, maar sluit ook tipiese linguistiese en narratiewe elemente in en die proses van vertaling kan hierdie netwerk van verhoudings beïnvloed. Die vertaler kan besluit om van meer konvensionele repertoires gebruik te maak, of van meer innoverende repertoires - veral as hierdie tekste nader aan die sentrum van die literêre sisteem is (Even-Zohar, 1990). Wanneer die genre of struktuur van Fever in ag geneem word, blyk dit dat daar van 'n meer konvensionele repertoire gebruik gemaak is (moontlik die sterk herinnering aan The Stand), maar wanneer die narratiewe en linguistiese elemente daarvan in ag geneem word, is daar van 'n meer innoverende repertoire gebruik gemaak. Die keuses wat die vertaler gemaak het ten opsigte van sekere (Suid-)Afrikaanse woorde wat in die vertaling ingesluit is en waarvoor daar 'n glossarium voorsien is, is hier ter sprake, maar ook die feit dat die vertaalde roman in Suid-Afrika afspeel en byvoorbeeld nie veramerikaans is nie.

 

7. Gevolgtrekking

PST het die geleentheid gebied om in hierdie artikel die doel, funksie en posisie van Koors en Fever in hul onderskeie literêre polisisteme te bepaal.

Die gekose metode - om aanlyn resensies van hierdie roman deur resensente sowel as die algemene leserspubliek te ontleed - situeer die roman binne 'n bepaalde literêre sisteem deur middel van 'n paratekstuele analise. Wanneer daar na die parateks van Fever gekyk word, funksioneer die roman as 'n vertaalde spanningsverhaal binne die Amerikaanse spannings-verhaalsubsisteem. Die aanlyn resensies van Fever het grootliks 'n positiewe ontvangs deur kritici en die algemene leserspubliek getoon, en die posisie wat Fever vervolgens in hierdie sisteem inneem, is hieraan te danke.

'n Uitvloeisel van die studie, wat ook verdere navorsing regverdig, is die bydrae wat dit kan maak tot die debat oor teksposisionering van verskillende tipe tekste, soos misdaadfiksie. Dit blyk dat, alhoewel misdaadfiksie tipies nie as "kanoniserende literatuur" beskou word nie, dit inderdaad meer sentraal tot die betrokke literêre polisisteem geposisioneer kan wees en bestaande opvattings hieroor kan verander.

 

 

DJ Cloete het sy MA in Algemene Taal- en Literatuurstudies met die titel, Die vertaling van kodewisseling in Deon Meyer se Koors, aan die NWU behaal en het in 2021 sy NGOS by Akademia verwerf. Hy tans is 'n dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia. Voor die aanvang van sy huidige pos was hy 'n dosent in Afrikaanse taalkunde by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus en was ook nou betrokke by projekte wat deur ICELDA en SADiLaR geloods is, insluitende 'n internasionale projek soos Skryfhulp Afrikaans (in same-werking met die KU Leuven). Hierdie projekte se doel is om hulpmiddels te ontwikkel wat studente kan ondersteun tydens hulle akademiese loopbaan en ook om meertaligheid binne die hoëronderwyskonteks te bevorder. DJ se navorsingsbelangstelling sluit onder meer variasie-taalkunde en rekenaargesteunde taalonderrig in.

DJ Cloete obtained his MA in Linguistics and Literary Theory at the NWU with the title, Die vertaling van kodewisseling in Deon Meyer se Koors, and obtained his PGCE at Akademia in 2021. He is currently a lecturer in the Faculty of Education at Akademia. Prior to taking up his current position, he was a lecturer in Afrikaans linguistics at the North-West University's Vander-bijlpark Campus and he collaborated on projects launched by ICELDA and SADiLaR, including international projects like Skryfhulp Afrikaans (in collaboration with KU Leuven). The aim of these projects is to develop tools that can support students during their academic careers and to promote multilingualism within the higher education context. DJ's research interests include linguistic variation and computer-assisted language learning.

 

 

Herculene Kotzé het haar BA (Taalpraktyk) en MA (Taalpraktyk: Tolking) onderskeidelik in 2003 en 2006 aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Gedurende daardie tydperk het sy by dieselfde instelling as navorsingsassistent en institusionele tolk gewerk. Sy aanvaar in 2006 'n pos as navorser en institusionele tolk by die Noordwes-Universiteit en registreer en werk vir die Institusionele Taaldirektoraat tot 2009. Gedurende 2009 aanvaar sy 'n pos by die Universiteit van Pretoria en werk daar as senior taal-praktisyn tot 2012. Sy keer egter in 2012 terug na die Noordwes-Universiteit, waar sy tans aan-gestel is as Adjunkdirekteur van die Skool vir Tale se Potchefstroomkampus.

Herculene Kotzé completed her BA (Language Practice) and MA (Language Practice: Interpreting) in 2003 and 2006 respectively at the University of the Free State. During that time she worked as a research assistant and institutional interpreter at the same institution. She accepted a position as researcher and institutional interpreter at the North-West University in 2006, where she registered for a PhD and worked in the Institutional Language Directorate until 2009. From 2009 to 2012 she was employed by the University of Pretoria as a senior language practitioner. She returned to the North-West University in 2012 where she is currently appointed as Deputy Director of the School of Languages on the Potchefstroom Campus.

 

BIBLIOGRAFIE

Amazon. 2019. Fever. https://www.amazon.com/Fever-Deon-Meyer/dp/0802126626#customerReviews [04 September 2019].         [ Links ]

Amazon. 2011. The Stand. https://www.amazon.com/Stand-Stephen-King/dp/0307743683 [27 August 2019].         [ Links ]

Barrow, WL. 2016. System, agent, process: The selection of translation strategies in the translation of crime novels from Afrikaans to German - a comparative study of two novels by Deon Meyer. Vanderbijlpark: NWU. (MA Dissertation).         [ Links ]

Booklist Online. 2019. Frequently Asked Questions. booklistonline.com/faq [04 September 2019].         [ Links ]

Cawelti, JG. 1990. Canonization, Modern Literature, and the Detective Story. In Delamater & Prigozy (eds). Theory and Practice of Classic Detective Fiction. New York: Doubleday.         [ Links ]

Chan, C. 2018. Review of the week: Fever by Deon Meyer. Strandmag. https://strandmag.com/review-of-week-fever-deon-meyer/ [12 February 2019].         [ Links ]

De Kock, L. 2016. Losing the Plot: crime, reality and fiction in postapartheid writing. Johannesburg: Wits University Press.         [ Links ]

Even-Zohar, I. 1990. Polysystem Theory in Polysystem studies. Poetics Today, 11(1). https://www.tau.ac.il/~itamarez/works/books/Even-Zohar_1990--Polysystem%20studies.pdf [15 Augustus 2018].         [ Links ]

Hermans, T. 1999. Translation in Systems. Descriptive and system-oriented approaches explained. Cornwall: St. Jerome.         [ Links ]

Genette, G & Maclean, M. 1991. Introduction to Paratext. New Literary History, 22(2):261-272.         [ Links ]

Gouws, A. 2004. Infanta is 'n meesterlike speurtog na die siel. LitNet, http://www.oulitnet.co.za/seminaar/infanta.asp [11 Julie 2022].         [ Links ]

Grove Atlantic. 2019. Fever. https://groveatlantic.com/book/fever/ [14 August 2019].         [ Links ]

Hadley, M. 2017. American Detective Fiction in the 20th Century. http://oxfordre.com/literature/view/10.1093/acrefore/9780190201098.001.0001/acrefore-9780190201098-e-585 [5 February 2019].         [ Links ]

Human, T. 2015. Kobra deur Deon Meyer. Tydskrif vir letterkunde, 52(1):249-251.         [ Links ]

Kalmer, H. 2013. Van Plaas tot Agterplaas: die uitbeelding van Afrikaners in Johannesburg in drie Hertzogpryswenners. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. (MA-verhandeling)        [ Links ]

King, S. 2017. Twitter post. https://twitter.com/StephenKing/status/847187112315248641 [12 February 2019].         [ Links ]

Kruger, H. 2012. Postcolonial Polysystems: the production and reception of translated children's literature in South Africa. Amsterdam: John Benjamins Publishing Company.         [ Links ]

Leber, M. 2017. Booklist Review: Fever. https://www.booklistonline.com/Fever-Deon-Meyer/pid=8867542 [04 September 2019].         [ Links ]

Le Roux, E. 2013. South African crime and detective fiction in English: a bibliography and publishing history. Current writing: text and reception in southern Africa, 25(2):136-152.         [ Links ]

Lotman, JM, Uspenskij, BA, Ivanov, VV, Todorov, VN & Pjatigorskij, AM. 1975. Theses on the Semiotic Study of Cultures (as Applied to Slavic Texts). In Sebeok (ed). The Tell-Tale Sign. Lisse: The Peter de Ridder Press, pp. 57-83.         [ Links ]

Malan, M. 2011. Deon Meyer wins top US book prize. https://www.channel24.co.za/News/Local/Deon-Meyer-wins-top-US-book-prize-20110919 [12 February 2019].         [ Links ]

Meyer, D. 2019. Biography. https://www.deonmeyer.com/bio.html [12 February 2019].         [ Links ]

Meyer, D. 2017. Fever [e-book]. Available: https://www.amazon.com/Fever-Deon-Meyer-ebook/dp/B074N898TJ/ref=sr_1_1?crid=3EFNLUFWFPG3S&keywords=fever+deon+meyer&qid=1657527851&s=books&sprefix=fever+deon+m%2Cstripbooks%2C411&sr=1-1 (USA edition made available with special use via Grove Atlantic via email.         [ Links ])

Meyer, D. 2016. Koors [e-boek]. Beskikbaar: https://www.amazon.com/Koors-Afrikaans-Deon-Meyer-ebook/dp/B01JIJKLS4/ref=sr_1_1?dchild=1&keywords=koors&qid=1585810974&sr=8-1        [ Links ]

Munday, J. 2001. Introducing translation studies: theories and applications. London: Routledge.         [ Links ]

Naidu, S. 2013. Crime fiction, South Africa: a critical introduction. Current writing: Text and reception in Southern Africa, 25(2):124-135.         [ Links ]

Nicol, M. 2015. A short history of South African crime fiction. Books live. Crime beat. http://crimebeat.bookslive.co.za/a-short-history-of-south-african-crime-fiction/ [26 July 2019].         [ Links ]

Pine, R. 2017. Fever. https://www.publishersweekly.com/978-0-8021-2662-7 [19 January 2022].         [ Links ]

Post, C. 2019. The Plight of Translation in America. https://www.publishersweekly.com/pw/by-topic/industry-news/publisher-news/article/79407-the-plight-of-translation-in-america.html [1 March 2019].         [ Links ]

Pronzini, B & Adrian, J (eds).1997. Hard-Boiled: An Anthology of American Crime Stories. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Rolls, A. 2016. Whose national allegory is it anyway? Or what happens when crime fiction is translated? Forum for Modern Language Studies, 52(4):434-448.         [ Links ]

Shuttleworth, M. 2009. Polysystems. In Saldanha & Baker (eds). Routledge encyclopedia of translation studies. 2nd ed. Abingdon: Routledge, pp. 197-200.         [ Links ]

Steenkamp, E. 2017. Koors deur Deon Meyer, 'n Litnet Akademies-resensie-essay. http://www.litnet.co.za/koors-deur-deon-meyer-n-resensie-essay/ [17 Mei 2018].         [ Links ]

Spies, C. 2013. Die wisselwerking tussen die agente betrokke by die publikasieproses van literêre vertalings. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. (PhD-proefskrif).         [ Links ]

The Guardian. 2010. The Passage: a post-apocalyptic vampire tale you can get your teeth into. https://www.theguardian.com/books/booksblog/2010/jun/11/justin-cronin-passage-hype [27 Augustus 2019].         [ Links ]

Toury, G. 2012. Descriptive translation studies and beyond: revised edition. Amsterdam: John Benjamins Publishing.         [ Links ]

Van der Westhuizen, G. 2008. Meyer se sewende stel weer eens nie teleur. Beeld, 25 November.         [ Links ]

Van Heerden, N. 2018. Misdaadfiksie en die literêre kanon in Afrikaans: 'n Ondersoek na aanleiding van die romans van Deon Meyer. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (PhD-proefskrif).         [ Links ]

Venuti, L. 2008. The translator's invisibility. A history of translation. 2nd ed. London: Routledge.         [ Links ]

Voegelin, CF. 1960. Casual and Non-Casual Utterances within Unified Structure. In Sebeok (ed). Style in Language. Cambridge: MIT Press, pp. 57-68.         [ Links ]

Wessels, A. 2008. Onsigbaar deur Deon Meyer. Tydskrif vir letterkunde, 45(2):230-233.         [ Links ]

Wolf, M. 2007. Introduction: the emergence of a sociology of translation. In: Wolf, M & Fukari, A. (eds). Constructing a sociology of translation. Amsterdam: John Benjamins Publishing, pp. 1-38.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2022-08-01
Goedgekeur: 2023-01-24
Gepubliseer: Maart 2023

 

 

1 Spies (2013:73) noem dat die patronaat ("patronage") die faktore, instellings of persone wat die vertaling van tekste kan beïnvloed, is. Lefevere (soos aangehaal deur Spies, 2013:73) noem dat die ideologie, politiek, sosiale kwessies, ekonomie en status (van die outeur, bronteks en vertaler) hieronder ressorteer.
2 Vergelyk die onderstaande model vir die uiteensetting van die verskillende komponente.
3 Verwys hier na Cloete, DJ. 2020. Die vertaling van kodewisseling in Deon Meyer se Koors. Noordwes-Universiteit: MA-Verhandeling wat hierdie deel verder uiteensit met behulp van voorbeelde uit die teks.
4 Eie vertaling.
5 Hierdie term word gebruik as die sambreelterm vir alle fiktiewe literatuur wat op misdaad fokus (dieselfde as Naidu, 2013:127).
6 Hierdie term word ontleen aan Van Heerden se proefskrif.
7 Die prominentste misdaadfiksie wat in Brittanje en Amerika ontwikkel het, word deur Wessels (soos genoem in Barrow, 2016:53) beskou as die fatsoenlike/beskaafde misdaadfiksie en die geharde speurroman.
8 Hier word daar verwys na die volgende werk van King soos bevind in Rolls (2016) se bronnelys: Stewart King, 'Crime Fiction as World Literature', Clues: A Journal of Detection, 32.2 (2014), 8-19 (p. 8).
9 Met hierdie term sluit Van Heerden (2018:217) die volgende in: etiese vrae oor misdaad, postkoloniale kommentaar, ekokritiek, ens.
10 Volgens die "FAQ" afdeling op Booklist Online (2019) word die volgende beskrywing oor hierdie webwerf gegee: "Booklist is a book-review magazine that has been published by the American Library Association for more than 100 years, and is widely viewed as offering the most reliable reviews to help libraries decide what to buy and to help library patrons and students decide what to read, view, or listen to." en "Booklist Online is the web version of the Booklist print magazine."
11 Volgens Publishers Weekly se "About"-afdeling word die volgende inligting voorsien: "Publishers Weekly, familiarly known in the book world as PW and "the bible of the book business," is a weekly news magazine focused on the international book publishing business. It is targeted at publishers, booksellers, librarians, literary agents, authors and the media. It offers feature articles and news on all aspects of the book business, bestsellers lists in a number of categories, and industry statistics, but its best known service is pre-publication book reviews, publishing some 9,000 per year."
12 Volgens die "About The Strand Magazine"-afdeling op The Strand Magazine (2019) se webwerf word hierdie tydskrif beskou as: "a quarterly which offers the best of both worlds - publishing previously unpublished works by literary masters such as John Steinbeck, F. Scott Fitzgerald, Joseph Heller, Mark Twain, Tennessee Williams and H.G.Wells, as well as new works of fiction by today's bestselling authors such as Alexander McCall Smith, Michael Connelly, Joseph Finder and Jeffery Deaver. Our reviews section looks at the latest mystery/thriller offerings, Sherlock Holmes pastiches, and anthologies, in addition to audiobooks and DVDs."
13 Aantal kliënteresensies soos op 02 Februarie 2023.
14 The Stand het op Amazon 'n gradering van 4.7 uit 5 sterre ontvang deur 31 781 lesers soos op 02 Februarie 2023.
15 In die Afrikaanse e-boek word die leser nie van 'n inhoudsopgawe voorsien nie en die tipiese kolofoninligting verskyn aan die agterkant van die roman. Ander titels van werke deur Meyer word ook aan die agterkant van die e-boek voorsien asook 'n lys van titels van werke wat as luisterboeke beskikbaar is.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License