SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4Problems with and after the direct translation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.4 Pretoria Dec. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a15 

BOEKBESPREKING / BOOK REVIEW

 

 

Titel: Beyond Diplomacy: My life of remarkable transitions and the moments that made the difference
Outeur: Riaan Eksteen
Uitgewer: Protea Boekhandel, 2022.

Riaan ("Koedoe") Eksteen woon sedert 1993 in Swakopmund, Namibië, waar hy permanente residensiële status het. Hierdie outobiografie som die belangrikste herinneringe uit sy loopbaan tot sover as beroepsdiplomaat, uitsaaibestuurder, konsultant en akademikus op.

Die boek fokus op vier afsonderlike temas. Die eerste is 'n oorsig oor sy ongeveer 27 jaar as in toenemende mate senior diplomaat betrokke by die interaksie tussen die Suid-Afrikaanse regering en veral die Verenigde Nasies (VN) in New York en Geneve, sowel as met lande soos Namibië, Turkye en ander. Die oorheersende fokus van sy werk gedurende hierdie periode was om as verteenwoordiger van die regering 'n oplossing vir die toekoms van Suidwes-Afrika (SWA) en vir die toenemende internasionale weerstand teen binnelandse apartheid in Suid-Afrika (SA) te help vind, te beding en te bestuur. Die tweede tema fokus op sy relatiewe kort maar kontroversiële ervaring van vyfjaar as Direkteur-Generaal (D-G) van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), en twee jaar as onafhanklike politieke en sakekonsultant. Dit word derdens gevolg deur 'n beknopte oorsig oor die hervatting van sy konsultasie-aktiwiteite op internasionale en sakevlakke. Die boek sluit vierdens af met 'n opsomming van sy huidige aktiwiteite in die akademiese wêreld.

Die boek is in 'n gemaklike geselstrant geskryf, maar bevat ook 'n magdom tegniese besonderhede oor sy uiteenlopende aktiwiteite en ervarings tot nou toe, insluitende beson-derhede oor noemenswaardige mense wat hy teengekom het, presiese datums, plekke en inligting oor belangrike besluite en dokumente waarna hy in die boek verwys. Die boek is dus ook 'n belangrike verwysingsbron vir navorsers oor die onderwerpe wat hy aanroer. Sy vertel-lings behels verder fassinerende eerstehandse verhale van hoe politiek alledaags op die hoogste vlakke ten opsigte van beide binnelandse en buitelandse vraagstukke, asook in demokrasieë en diktatorskappe, bedryf word. Hy skryf egter eksplisiet vanuit die perspektief van iemand wat vir baie jare ten nouste direk op die hoogste besluitnemingsvlakke saamgeleef het met politieke en ander transformasies wat veral die Suid-Afrikaanse en Namibiese regerings en mense se lotgevalle geraak en bepaal het.

Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, verduidelik in sy voorwoord tot die boek waar die bynaam "Koedoe" wat hy reeds by sy geboorte gekry het, en sy hele lewe lank al saamdra, vandaan kom. Vosloo beskou Eksteen se herinneringe as relevant en toepaslik vir die huidige tydsgewrig in Suid-Afrika. Hy is ook vol lof oor die verskillende bydraes wat Eksteen oor 'n lang periode onder baie moeilike omstandighede gemaak het om komplekse samelewingsvraagstukke te besweer en te probeer verbeter.

Een goue draad wat deur die boek loop, is die belangrike rol wat 'n kombinasie van geleenthede, netwerke en toeval, in samehang met 'n mens se eie vermoëns, in jou lewe kan speel. Dit bevestig Machiavelli se beklemtoning van hoe die wisselwerking tussen die noodlot (fortuna) en mense se goeie en slegte eienskappe (virtù en corruptio) jou lotgevalle kan beïnvloed. Eksteen het kort na sy aanstelling as jong diplomatieke kadet in die Departement van Buitelandse Sake in 1964, byvoorbeeld 'n toevallige ontmoeting met Pik Botha gehad. Botha was toe reeds 'n senior diplomaat, getaak met die voorbereiding en koördinering van Suid-Afrika se verweer in die internasionale geregshof in Den Haag teen klagtes van Ethiopië en Liberië oor Suid-Afrika se bestuur van Suidwes-Afrika, en hy het die jong rekruut betrek. Dit het die rigting wat die jong Eksteen se loopbaan daarna ingeslaan het, rigtinggewend bepaal. Hy het naamlik van toe af al meer begin spesialiseer op die verhouding tussen die Verenigde Nasies aan die een kant en Suid-Afrika en Namibië aan die ander kant.

In 1974 neem die 32-jarige Eksteen nog 'n deurslaggewende besluit. Hy weier 'n aanbod om hom as Nasionale Party (NP)-kandidaat in 'n veilige parlementêre setel in daardie jaar se verkiesing beskikbaar te stel, omdat hy verkies het om eerder sy loopbaan as beroepsdiplomaat voort te sit. Hy word in daardie hoedanigheid toenemend as een van Pik Botha se belangrikste vertrouelinge en adviseurs beskou. Botha was op sy beurt 'n vertroueling van eerste minister BJ Vorster, wat hom in 1975 as nuwe ambassadeur by die VN aanstel. Die belangrikste onderskeiding wat Eksteen gedurende sy loopbaan behaal het, was waarskynlik sy diplomatieke bydrae as Suid-Afrikaanse Missiehoof, later met volle ambassadeurstatus, by die VN (19761980). Hy het sy senior kollega, mentor en lewenslange vriend, Pik Botha, op 35-jarige ouderdom in 1977 as missiehoof daar opgevolg, toe Botha Dr. Hilgard Muller as nuwe Minister van Buitelandse Sake vervang het.

Eksteen was dus die "gesig" van Suid-Afrika in die VN tydens die hoogtepunt van die internasionale verdoeming van die land oor apartheid. Dit was 'n besonder moeilike pos om te beklee, maar is steeds een van die belangrikste diplomatieke poste vir enige land. In 1981 word Eksteen op 39 die Hoof van Beplanning in die Departement van Buitelandse Sake, wat hom invloed oor strategiese beleidsbepaling in daardie departement gee. Hy bly ook aan as ambassadeur by die VN, en word toenemend as toekomstige kroonprins D-G van die departement beskou, onder andere as gevolg van sy noue verbintenis met minister Pik Botha, sy akkurate politieke waarnemings en insigte, sowel as sy goeie menseverhoudings en bestuursvermoëns.

Sy volgende kritieke besluit verander sy toekoms egter dramaties. Pik Botha was naamlik, naas sy buitelandse sakeportefeulje, ook die minister verantwoordelik vir die SAUK. Waar-skynlik op grond van sy goeie samewerking met Eksteen en die vertroue wat Botha in hom gehad het, oorreed laasgenoemde hom in 1983 om 'n aanstelling as die nuwe D-G van die SAUK te aanvaar, ten spyte van sy gebrek aan ervaring in daardie veld. Hierdie aanstelling was polities kontroversieel, omdat dit vir kritici van apartheid nog 'n illustrasie van politieke inmenging in die media was. Dit was waarskynlik 'n selfs moeiliker en meer onstuimige periode in Eksteen se lewe as wat die VN was.

Hy verduidelik hoe hy van die begin af toenemende probleme met eerste minister (later president) PW Botha, sy familie en vriende sowel as ander ministers se persoonlike en direkte politieke inmenging in die redaksionele nuusbeleid en besluite van die SAUK ervaar het. Dit het uiteindelik in 1987 tot openlike konflik en 'n politieke en persoonlike vertrouensbreuk gelei tussen Eksteen aan die een kant en PW Botha sowel as sy voormalige D-G van Buitelandse Sake, Dr Brand Fourie, wat toe as voorsitter van die Raad van die SAUK gedien het, en die meerderheid van daardie Raad, aan die ander kant. Eksteen verlaat die SAUK in 1988 en tree vir 2 jaar op as onafhanklike politieke en sakekonsultant in Pretoria. Hy verduidelik in besonderhede in die boek wat aanleiding tot hierdie gebeure gegee het.

President FW de Klerk stel hom in 1990 egter weer as nuwe ambassadeur in Namibië aan en oor die volgende sewe jaar dien hy ook agtereenvolgens weer as ambassadeur by die VN in Geneve sowel as in Turkye en vier ander voormalige Sowjet-unierepublieke (Azerbaidjan, Kyrgyzstan, Turkmenistan en Uzbekistan). Daarna hernu hy weer sy konsultasiepraktyk, behaal 'n doktorsgraad in Internasionale Verhoudinge in 2018 toe hy 76 jaar oud was, en begin boeke en ander akademiese publikasies produseer. 'n Kort uittreksel uit sy curriculum vitae en 'n kernbibliografie van die belangrikste boeke waarna hy in hierdie outobiografie verwys, verskyn teen die einde van die boek. Sy meer volledige curriculum vitae is beskikbaar by https://www.riaaneksteen.com/cv-resume/.

Soos Eksteen aandui in hierdie outobiografie, het die professionele bydraes wat hy tot dusver gemaak het, baie wyer gestrek as die heersende siening van 'n diplomaat as bloot 'n amptelike politieke verteenwoordiger, boodskapper en woordvoerder ("spindokter") vir die regering van die dag. Die titel van die boek, Beyond Diplomacy, dui daarop dat diplomatieke werk ook in wese die beïnvloeding, fasilitering of katalisering van beleidmaking en die implementering van regeringsbeleid beide binnelands en internasionaal behels, en dat hierdie twee vlakke van beleid onlosmaaklik aanmekaar verbind is. Dis met ander woorde nie net 'n eng-omskrewe administratiewe uitvoeringsfunksie nie, maar impliseer ook 'n integrale politieke rol met wye diskresies oor wat om te doen en te sê. Hierdie en ander faktore veroorsaak dat die Buitelandse Sakefunksie seker die moeilikste funksie in enige regering is, as gevolg van die geweldige kompleksiteit en verpolitisering daarvan. Dit vereis goeie insig, oordeel en ervaring van verskeie samelewingsektore, tale en kulture, asook goeie interpersoonlike verhoudings en legitimiteit by beleidmakers.

Eksteen illustreer hierdie faset van sy werk met verwysing na sy advies aan sy minister, Pik Botha, sowel as aan ander topparty- en regeringsleiers oor allerlei netelige beleidskwessies terwyl hy in diens van Buitelandse Sake was. Nog 'n illustrasie hiervan is sy onthulling dat die D-G van die SAUK veronderstel was om vergaderings van die Werkskomitee van die Staatsveiligheidsraad (SVR) by te woon. Hieroor was hy erg ongemaklik. 'n Sydelingse opmerking wat hy in 1979 in 'n interne telegram aan minister Pik Botha gemaak het, het ook byvoorbeeld verreikende politieke gevolge gehad. Hy het naamlik bloot genoem dat die leier van die amptelike Progressiewe Federale Party-opposisie in die parlement, Colin Eglin, op 'n stadium direkte kontak met een van Suid-Afrika se felste kritici op daardie tydstip, mnr Don McHenry, die Amerikaanse Ambassadeur by die VN, gemaak het. Botha het dit as onaanvaar-baar beskou en politieke munt daaruit geslaan, wat gelei het tot Eglin se bedanking en sy vervanging deur dr. Van Zyl Slabbert as amptelike opposisiepartyleier.

Eksteen se ervarings bevestig ook Machiavelli se identifisering van politieke gedrag as speletjies wat gespeel word deur alle betrokkenes, en wat soms moreel of eties bevraagteken kan word. Diplomasie behels by uitstek sulke speletjies wat individue, groepe en regerings met mekaar speel. Hy verwys onder andere na die futiele pogings van die SA weermag om buitelandse beleid te probeer beïnvloed. Eksteen se subtiele defleksie van VN D-G Waldheim se navraag oor die vordering met die identifisering en instelling van 'n gedemilitariseerde sone tussen Angola en Namibië illlustreer dit ook. Ander voorbeelde van politieke speletjies wat regeringsverteenwoordigers speel, sluit in sy opdrag om die militêre betrokkenheid van die SA weermag in Angola in 1981 te ontken, sowel as Gen. Neil Knobel se uitdruklike leuen dat hy niks weet van chemiese oorlogvoering in die weermag nie, terwyl dit later onthul is dat hy die hoof van daardie program was. So het die hoof van die Nasionale Intelligensiediens, Niël Barnard, ook in 1987 ontken dat gesprekke met Mandela gevoer is. Hy was na bewering te "gevaarlik" daarvoor. Later bevestig Barnard self dat hy op daardie tydstip reeds in gesprek met Mandela was.

Ander interessante/belangrike onthullings in die boek sluit onder andere in dat eerste minister PW Botha in 1982 in 'n vergadering van die SVR Gen. Constand Viljoen opdrag gegee het om Maputo "plat te skiet" indien SA Vervoerdienste se werknemers wat na bewering in Maputo ontvoer was, iets sou oorkom. PW Botha het Eksteen verder persoonlik en doelbewus voor topgeneraals in die sekuriteitsdienste verneder, omdat hy nie gereeld as SAUK D-G, SVR-komiteevergaderings bygewoon het nie. Eksteen bevestig verder dat PW Botha teen die einde van 1986 vermoedelik reeds 'n eerste beroertetoeval gehad het,1 asook dat een van FW de Klerk se mees lojale binnekringministers (vermoedelik Kobie Coetsee) in 1992 beweer het dat De Klerk nooit van plan was om politieke mag prys te gee nie. Hy wou slegs 'n stelsel van magsdeling gehad het wat 'n vorm van wit minderheidsbeheer sou voortsit. Dit bevestig die jongste inligting wat hieroor beskikbaar is.2

Siniese lesers mag moontlik die vermelding van die vele name van hoogwaardigheidbe-kleërs wat Eksteen in die verloop van sy omswerwinge teëgekom het, insluitende die pous, regeringshoofde, ander beïnvloeders en glanspersoonlikhede, skepties vertolk as "name-dropping". Dit is egter die realiteit van daardie tipe werk, m.a.w. dis die mense met wie jy gereeld in daardie hoedanigheid kommunikeer en sake doen. Dis ongelukkig nie vir elke Jan Rap en sy maat beskore nie, en illustreer die elitistiese aard van enige agentskap wat met internasionale verhoudinge te doen het.

Eksteen erken ook dat hy 'n lid van die Afrikaner Broederbond was, maar ontken dat daardie lidmaatskap enige invloed op sy loopbaan, besluite en optredes gehad het. Hierdie standpunt mag ook deur sekere lesers bevraagteken word.

'n Ander belangrike vraag wat nie altyd heeltemal duidelik is uit Eksteen se herinneringe nie, is tot welke mate hy, as een van die mees invloedryke internasionale woordvoerders en verdedigers van Suid-Afrika se apartheidsbeleid, altyd persoonlik self saamgestem het met die amptelike standpunte wat hy namens die Nasionale Partyregering ingeneem het. Sy ongemak met sekere opdragte en versoeke van bo skemer soms wel deur, byvoorbeeld waar hy as nuwe D-G van die SAUK weier om te voldoen aan sy minister, Pik Botha, se versoek om hom in sy gesprekke met die Amerikaanse Adjunkminister van Buitelandse Sake vir Afrika, dr Chet Crocker, by te staan met die Namibiese vraagstuk. Nog 'n illustrasie hiervan is sy eksplisiete verwerping (in 'n formele vergadering van die SVR), van Gen. Magnus Malan se standpunt dat SWAPO "vernietig sal word".

As ambassadeur by die VN weier hy ook aanvanklik in 1992 om die huurkontrak vir die ambassadeurswoning in Geneve te hernu, omdat hy 'n goedkoper en beter opsie gehad het. Die eienaar van die eiendom was die skoonma van Tony Georgiades, wat op daardie stadium, saam met sy gade, Elita, persoonlike vriende van president en mev. Marike de Klerk was. Onder uitdruklike opdrag van sy departementshoof, Neil van Heerden, was hy egter verplig om dit te hernu. Hy beskou ook verskeie uitgesproke antagonistiese opponente van Suid-Afrika se apartheidsbeleid met wie hy te doene gehad het, as vriende. Dit sluit onder andere Joseph Lelyveld, verbanne New York Times verslaggewer in die 1960s in Suid-Afrika, in.

Hierdie enkele uiteenlopende gevalle illustreer persoonlike standpunte wat verskil van die amptelike standpunte wat hy ingeneem het. In ander gevalle is die antwoorde op hierdie vraag egter nie altyd duidelik nie. As beroepsdiplomaat is Eksteen meestal baie diskreet hieroor. Dit is egter nie 'n dilemma wat eiesoortig aan die diplomasie is nie. Besluite oor die mate waartoe 'n werknemer binne 'n organisasie of stelsel bereid is om saam te leef, en hom/haar te assosieer met aspekte van daardie organisasie of stelsel waarmee hy/sy in persoonlike hoedanigheid verskil, skep gewoonlik baie komplekse situasies. Hierdie moreel-etiese dilemma is veral akuut in professionele beroepe in die regte, godsdiens, politiek en ander sektore waar die uitlewing van normatiewe waardes baie prominent is. Dis potensieel relevant en problematies in enige beroep of situasie waarin mens jou kan bevind. Mens sou dus graag wou weet wat Eksteen se verduideliking hiervan sou wees.

Koedoe Eksteen se herinneringe handel oor sy ervarings gedurende 'n baie belangrike maar uiters onstuimige periode in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit gee die agtergrond vir sekere gebeure wat tot dusver nie duidelik was nie, en verklaar hoekom en hoe sekere goed waarby hy betrokke was, gebeur het. Die boek word aanbeveel vir enigeen wat belangstel in hoe regeringsbesluite geneem is en hoe internasionale verhoudinge gedurende daardie era gewerk het. Die meeste van daardie situasies is steeds in beginsel relevant vir en toepaslik op hedendaagse politieke regeringsprosesse en -besluitnemingsituasies.

Fanie Cloete

https://faniecloete.wordpress.com

Hoof, Staatkundige Beplanning (1986-1989), Staatkundige Ontwikkelingsdiens, Pretoria Emeritus professor in Openbare Beleid en Regeerkunde, Universiteite van Johannesburg en Stellenbosch

 

 

1 Sien ook Cloete, F. 2019. Resolving P.W. Botha's 1985 Rubicon riddle. Historia, 64(2):142.
2 Cloete, F. 2022. Die Nasionale Party se Machiavelliaanse strategieë vir demokratisering in die 1980s en 1990s in Suid-Afrika. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, in druk.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License