SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4What does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament posesTranslators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 Maccabees author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.4 Pretoria Dec. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a8 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Afrikaansstudente se gebruik van emoji's

 

Afrikaans students' use of emojis

 

 

Donovan Lawrence

Afrikaans & Neerlandistiek, Universiteit van Wes-Kaapland, Bellville, Suid-Afrika. E-pos: dlawrence@uwc.ac.za

 

 


OPSOMMING

In 'n era waar sosiale media soos WhatsApp toenemend as leerplatform gebruik word en studente se aanlyn kommunikasie gekenmerk word deur die toenemende gebruik van emoji's, is dit nodig om die rol van emoji's in die kommunikasie wat tydens aanlyn leer plaasvind, te ondersoek.
Die doel van hierdie navorsing is om vas te stel hoe studente se keuse van emoji's deur konteks beïnvloed word; hoe hulle aanlyn kommunikasie in informele en formele kontekste deur die gebruik van emoji's beïnvloed word; en watter rol emoji's speel in die skep van 'n sosiale teenwoordigheid tydens aanlyn leer.
Die bevindings dui daarop dat konteks inderdaad 'n invloed uitoefen en tot welke mate emoji's meer in informele interaksies gebruik word en minder in meer formele aanlyn leer kontekste. Emoji's beïnvloed aanlyn kommunikasie op verskillende maniere: dit maak dit meer pret; meer interaktief; bevorder korrekte interpretasie en sosiale teenwoordigheid. In studente se interaksie met medestudente en tutors help dit veral om 'n gemaklike atmosfeer te skep wat leer kan bevorder. Studente is egter huiwerig en onseker oor die gebruik van emoji's tydens interaksies met dosente. Hoewel sommige die moontlike waarde daarvan kan insien, beskou ander dit as onvanpas.

Trefwoorde: aanlyn leer, Afrikaansstudente, emoji's, emotikone, interaksie, leer-platform, rekenaarbemiddelde kommunikasie (RBK), sosiale teen-woordigheid, Sosiale Teenwoordigheid Teorie, teksgebaseerde kommunikasie, WhatsApp


ABSTRACT

Everyday five billion emojis are used on Facebook Messenger, one out of every five Twitter messages contains an emoji and half of all Instagram comments have an emoji (Emojipedia. org, 2022). The use of emojis in online text messages has become increasingly prevalent in not only informal online interactions between family and friends, but also in formal contexts such as WhatsApp messages used in online learning.
Over the last decade the use of WhatsApp has evolved from being used for informal interactions to being used as a platform for online learning and teaching in schools and universities. As a learning platform it has proved effective for using text messages to exchange information and knowledge and discuss lesson content.
In this article a group of undergraduate Afrikaans students ' use of emojis in three different contexts (interactions with friends and family, peers, and tutors; and lecturers) is examined to ascertain how the differentiation in context influences their use of emojis, how the use of emojis influences their online communication and how social presence in online learning is influenced using emojis.
To this end, a mixed-method approach in the form of a case study was used. Students ' experiences of and attitudes towards the use of emojis were measured quantitatively and qualitatively using an electronic questionnaire that consisted of twenty-two questions. The questionnaire allowed for two sets of data to be gathered: quantitative data about the use of ten different emojis in three different contexts and qualitative data about student's motivations for their use.
The findings are interpreted against the backdrop of existing research and within the framework of the Social Presence Theory (Short, Williams & Christie, 1976). In the modern-day context this theory acknowledges that computer mediated communication (CMC) has a lower social presence than face-to-face communication due to the absence of non-verbal cues. Furthermore, it states that different types of CMC have different degrees of social presence because of their varying capacities to convey socio-emotional information.
What follows is a summary of the most important findings.
Students ' use of emojis is influenced by context. More emojis are used in WhatsApp messages to friends and family, fewer in messages to peers and tutors and the least in messages to lecturers. There is also a differentiation in the type of emojis used in these interactions: face emojis tend to be used more in informal contexts whilst hand emojis are used more in formal learning contexts.
Findings further indicate that because emojis save time and are fun to use they impact on student's online communication in different ways. The use of emojis not only enhances the correct interpretation of messages but also creates social presence. However, in cases where emojis are interpreted differently it may lead to misunderstandings therefore hampering successful communication.
In communication between students, their peers and tutors the use of emojis results in the creation of a comfortable atmosphere and social presence conducive to learning. Fewer, if any, emojis are used in interactions between students and lecturers. When used it is mostly restricted to the use of the less emotive thumbs-up and praying hands emojis. Although students are not comfortable using emojis in their WhatsApp messages to lecturers (they regard online learning as a formal context and deem the use of emojis in this context as inappropriate) most respondents (41%) are undecided as to whether or not emojis have a role to play in enhancing online communication between students and lecturers during online learning. Students in favour of using emojis in this context, although in the minority, indicated that emojis might - just like in their interactions with peers and tutors - also help in this context to create a relaxed atmosphere and social presence conducive to learning. More research on this aspect of emoji use is necessary.

Keywords: Afrikaans students, online learning, emojis, emoticons, interaction, learning platform, computer mediated communication (CMC), social presence, Social Presence Theory, text-based communication, WhatsApp


 

 

1. Inleiding

Onlangse navorsing oor aanlyn leer dui onder andere daarop dat sosiale media soos WhatsApp toenemend as leerplatform in Suid-Afrikaanse skole (Jere, Jona & Lukose, 2019; Rwodzi, de Jager & Mpofu, 2020) en universiteite (Rambe & Chipunza, 2013; Naidoo & Kopung, 2016; Lawrence, 2021) gebruik word. Wanneer WhatsApp vir leer en onderrig gebruik word, maak studente, tutors, onderwysers en dosente veral gebruik van teksboodskappe om inligting en kennis uit te ruil en lesinhoude te bespreek.

In die navorser se ervaring van die gebruik van WhatsApp vir aanlyn onderrig het dit opgeval dat studente tydens aanlyn leer emoji's in hulle teksboodskappe gebruik. Oënskynlik is die gebruik van emoji's nie tot informele interaksies beperk nie, maar word dit ook in meer formele kontekste soos aanlyn leer gebruik.

Wêreldwyd is die gebruik van emoji's aan die toeneem en word dit deel van gebruikers se aanlyn leksikon. Die gewildheid van emoji's blyk uit die volgende statistiek van Emojipedia.org (2022):

Vyf miljard emoji's word daagliks op Facebook Messenger gebruik.

Een uit elke vyf Twitter-boodskappe bevat 'n emoji.

Die helfte van alle Instagram-kommentaar bevat 'n emoji.

In hierdie boodskappe en kommentaar word emoji's gewoonlik gebruik om woorde te vervang of om die konteks en betekenis van die teks toe te lig.

Daar bestaan uitgebreide internasionale navorsing wat die funksionele (Walther & D'Addario, 2001; Huang, Yen & Zhang, 2008; Thompson & Filik, 2016; Chen, Lu, Shen, Ai, Liu & Mei, 2017; Al Rashdi, 2018) en strategiese (Derks, Bos & Von Grumbkow, 2007; Lo, 2008; Lee, Hong, Kim, Oh & Lee, 2016; Chen et al., 2017; Veytia-Bucheli, Gómez-Galán & Vergara, 2020; Apriliani & Muslim, 2021) gebruik van emoji's ondersoek.

Plaaslik is daar slegs die magisterstudie van Du Plessis (2020) wat die gebruik van emoji's in organisatoriese kommunikasie ondersoek. Hierin word die verskillende interpretasies van emoji's aan die hand van veranderlikes soos ouderdom, geslag en ras ondersoek. Geen plaaslike navorsing oor die gebruik van emoji's in aanlyn leer is egter beskikbaar nie.

In die lig daarvan dat emoji's deel vorm van die kommunikasie wat tydens aanlyn leer plaasvind en in die afwesigheid van enige plaaslike navorsing hieroor is dit vir hierdie navorsing belangrik om vas te stel hoe studente emoji's in 'n aanlyn leerkonteks gebruik en tot watter mate dit verskil of ooreenstem met die gebruik daarvan in informele kontekste.

Die navorsingsvrae is soos volg:

Hoe word studente se keuse van emoji's deur konteks beïnvloed?

Hoe word studente se aanlyn kommunikasie in informele kontekste deur die gebruik van emoji's beïnvloed?

Hoe word studente se aanlyn kommunikasie in formele kontekste deur die gebruik van emoji's beïnvloed?

Hoe word studente se ervaring van sosiale teenwoordigheid in aanlyn leer deur die gebruik van emoji's beïnvloed?

As 'n gevallestudie is 'n groep voorgraadse Afrikaansstudente aan die Universiteit van Wes-Kaapland se gebruik van emoji's ondersoek. 'n Kwantitatiewe vergelyking word getref tussen studente se gebruik van emoji's in WhatsApp-teksboodskappe aan vriende en familie; medestudente en tutors; en dosente onderskeidelik. Daarbenewens word studente se ervaring van die gebruik van emoji's kwalitatief ontleed om enersyds die funksies van emoji's beter te verstaan en andersyds die rol van emoji's in die skep van 'n sosiale teenwoordigheid in aanlyn leer te peil.

Die bevindings bied insig in die funksionele en strategiese gebruik van emoji's om betekenis en interaksie te manipuleer sowel as die rol wat emoji's speel in studente se ervaring van sosiale teenwoordigheid in 'n aanlyn leeromgewing. Laasgenoemde is veral relevant in die lig daarvan dat studente heel dikwels aanlyn leer as verwyderd en geïsoleerd ervaar.

 

2. Emoji's

2.1 Ontstaan en ontwikkeling

Een van die opvallendste en mees besproke tekortkominge van rekenaarbemiddelde kommunikasie (RBK) in die algemeen en teksgebaseerde kommunikasie in die besonder, is die afwesigheid van nieverbale aanduiders (gesigsuitdrukkings, gebare, stemtoon en intonasie), wat dan heel dikwels 'n invloed op die suksesvolle oordrag van die boodskap het (Tu & McIsaacs, 2002).

Aanlyn gebruikers was nog altyd bewus van hierdie struikelblok en die invloed wat dit op suksesvolle aanlyn kommunikasie mag hê. Voor die bekendstelling en gebruik van sosiale media was daar reeds tekens hiervan in SMS-boodskappe: so byvoorbeeld kon leestekens soos hoofletters vir uitroepe gebruik word en veelvuldige uitroeptekens gebruik word om opgewondenheid aan te dui (Rodrigues, Prada, Rui, Garrido & Lopes, 2017). Later is emotikone ('n kombinasie van leestekens) gebruik om 'n gesigsuitdrukking te vorm (sien Tabel 1).

 

 

Emotikone is later met emoji's vervang. Anders as emotikone, stel emoji's nie net gesigsuitdrukkings, emosies en abstrakte konsepte voor nie, maar ook entiteite in die vorm van prentjies van diere, plante, aktiwiteite, gebare en voorwerpe (Rodrigues et al., 2017; Bai, Dan, Mu & Yang, 2019). Hierdie entiteite kan dan as plaasvervangers vir woorde gebruik word, terwyl gesig-emoji's die betekenis van die teks kan komplementeer (Ai et al., 2017). 'n Verdere ontwikkeling van emoji's is plakkers (stickers) oftewel geanimeerde emoji's. Behalwe dat plakkers bewegend is, is dit ook groter as statiese emoji's en bevat dit soms bygaande teks en word dit meestal tematies aangebied (sien Tabel 1). In hierdie navorsing word die begrip emoji generies gebruik en kan dit emotikone; sowel as statiese en geanimeerde emoji's (plakkers) insluit.

2.2 Gebruik

Emoji's word tipies op een van twee maniere tydens aanlyn kommunikasie gebruik: onafhanklik of as deel van die teks (Tu & McIsaacs, 2002). Wanneer dit onafhanklik gebruik word, staan dit gewoonlik in die plek van 'n woord of woorde wat ook die kommunikasie versnel: die boodskap word gouer oorgedra. So byvoorbeeld kan 'n enkele emoji gebruik word om hallo, totsiens, dankie of jammer te sê.

As deel van die teks komplementeer of verhelder emoji's gewoonlik die betekenis van die teks deur die oordra van 'n spesifieke emosie. Sodoende word die boodskap se betekenis meer akkuraat oorgedra. Volgens Chen & Siu (2017) is dit dan ook wanneer emoji's gebruik word om positiewe emosies (vriendelikheid, nederigheid, ordentlikheid, gemaklikheid) oor te dra, dat dit ook help om gebruikers tuis en gemaklik in die aanlyn omgewing te laat voel. Insgelyks kan die gebruik van negatiewe emoji's negatiewe reaksies ontlok.

Afgesien daarvan dat emoji's help om die boodskap gouer en meer akkuraat oor te dra, bevorder dit ook aanlyn interaksie op ander maniere: dit maak die interaksie meer prettig, meer vloeiend en meer interaktief. Daar is ook aanduidings dat hoe meer gebruikers hierdie tipe interaksie geniet, hoe meer emoji's gebruik hulle - wat dan die interaksie selfs nog meer kan bevorder ( Chen & Siu, 2017:645).

Hoewel die gebruik van emoji's meestal bevorderlik is vir aanlyn kommunikasie, kan dit ook soms belemmerend wees en tot misverstande lei. Dit gebeur veral in gevalle waar 'n emoji dalk nie goed ontwerp is nie en dan verskillend deur sender en ontvanger geïnterpreteer word (Chen et al., 2017; Miller, Thebault-Spieker, Chang, Johnson, Terveen & Hecht, 2016; Veytia-Bucheli et al., 2020). Eweneens het die oormatige gebruik van emoji's ook die potensiaal om ontvangers te verwar of ongemaklik te laat voel en kan dit dan kommunikasie negatief beïnvloed (Chen et al., 2017; Wolf 2000).

Individue maak nietemin meestal bewustelike keuses oor watter en hoeveel emoji's om in 'n boodskap te gebruik. Hierdie keuses berus gewoonlik op wie die ontvanger(s) is en wat die aard van die boodskap of interaksie is (Aull, 2019). So byvoorbeeld word meer emoji's in interaksies met vriende as vreemdelinge gebruik en het hoërskoolleerlinge byvoorbeeld meer emoji's gebruik toe hulle 'n geskenk vir 'n klasmaat bespreek het, maar aansienlik minder emoji's gebruik toe hulle die werksverdeling vir 'n klasprojek bespreek het (Derks et al., 2007). Die afleiding is dat emoji's meer in sosio-emosionele kontekste as in taakgeoriënteerde kontekste gebruik word (Derks et al., 2007).

 

3. Sosiale teenwoordigheid

Aanlyn leer word gekenmerk deur afstand en isolasie: studente voel heel dikwels geïsoleerd weens die afstand (fisies, geografies en psigologies) tussen hulle en medestudente, tutors en dosente. Die sentrale fokus van hierdie navorsing is die rol wat emoji's speel in die kommunikasie wat tydens aanlyn leer plaasvind en daarom word die teorie van Sosiale Teenwoordigheid as lens gebruik om hierdie rol van emoji's beter te verstaan.

3.1 Sosiale Teenwoordigheid as teoretiese vertrekpunt

Die teorie van Sosiale Teenwoordigheid (Social Presence Theory) is in 1976 deur John Short, Ederyn Williams en Bruce Christie in The Social Psychology of Telecommunications bekendgestel. Die oorspronklike doel van die teorie was om die effektiwiteit van maatskappye se gebruik van telekommunikasie-media (telefoon, videokonferensie, radio) te bepaal. Meer spesifiek wou hierdie teorie lig werp op hoe persone se gevoel van bymekaar wees (sense of being with another) deur verskeie tipes telekommunikasie-media beïnvloed word (Short, Williams & Christie, 1976).

Met die ontwikkeling van nuwe rekenaartegnologie is die definisie van sosiale teenwoor-digheid aangepas en deesdae word dit ook gebruik om te verwys na die gevoel van behoort (oftewel om deel te voel van 'n groter groep) (feeling of community) wat gebruikers in aanlyn omgewings ervaar (Tu & Mc Isaac, 2002).

Die uitgangspunte van hierdie teorie is eerstens dat rekenaarbemiddelde kommunikasie (voortaan RBK) 'n laer sosiale teenwoordigheid as aangesig-tot-aangesig-(face-to-face)-kommunikasie het en dat dit hoofsaaklik vanweë die afwesigheid van nieverbale aanduiders is. Tweedens beskik verskillende tipes RBK oor verskillende grade van sosiale teenwoordigheid omdat die kapasiteit van RBK om sosio-emosionele inligting oor te dra, verskil (Vergelyk die navorsing van Tu, 2002; Tu & McIsaac, 2002; Yamada & Akihori, 2007 in 3.3).

3.2 Onmiddellikheid (Immediacy) en Intimiteit (Intimacy)

Die oorsprong van die konsep sosiale teenwoordigheid lê in die begrippe direktheid (immediacy) en intimiteit (intimacy).

Die begrip direktheid verwys na die manier waarop nieverbale kommunikasie soos oogkontak en liggaamsbewegings gebruik word om 'n gevoel van "nabyheid" tydens interpersoonlike kommunikasie te bevorder. Nabyheid dui op die psigologiese afstand tussen die kommunikeerder en die aangesprokene(s) (Gunawardena & Zittle, 1997:9).

Die begrip intimiteit verwys na 'n kombinasie van oogkontak, fisiese nabyheid en glimlag wat 'n ekwilibrium vir intimiteit vorm. Hiervolgens kan 'n verandering in enige van die komponente veroorsaak dat die ander komponente veranderings maak om daarvoor te vergoed. So byvoorbeeld sal twee persone wat baie na aan mekaar staan se oogkontak aanpas en verminder (Argyle & Dean, 1965).

Die mate of graad van sosiale teenwoordigheid word bepaal deur die vermoë om fisieke en emosionele teenwoordigheid tydens interaksies te projekteer. In RBK byvoorbeeld gaan dit oor die manier waarop individue hulself in die aanlyn omgewing aanbied of projekteer. Dit bied gewoonlik 'n aanduiding of die individu beskikbaar en gewillig is om aan die interaksie deel te neem en word bewerkstellig deur die manier waarop aanlyn boodskappe geformuleer en gestuur word en deur ontvangers geïnterpreteer word (Cobb, 2009).

3.3 Sosiale teenwoordigheid in aanlyn leer

Navorsing oor die rol van sosiale teenwoordigheid in aanlyn leer fokus enersyds op die rol van die verskillende tipes RBK (Tu & McIsaacs, 2002; Tu, 2002; Yamada & Akihori, 2007) en andersyds op die invloed van sosiale teenwoordigheid op studente se ervaring van die aanlyn leer- en onderrigsituasie (Richardson & Swan, 2003; Russo & Benson, 2005; So & Brush, 2008; Caspi & Blau, 2008).

In een van die eerste studies ondersoek Tu & McIsaacs (2002) die verwantskap tussen sosiale teenwoordigheid en die teksgebaseerde interaksie wat tydens aanlyn leer plaasvind. Die bevindings dui daarop dat die sosiale konteks, die aanlyn kommunikasie en die interaksie wat plaasvind belangrike onderdele van sosiale teenwoordigheid is. Eweneens kon hulle navorsing uitwys dat studente emoji's gebruik om vir die gebrek aan nieverbale aanduiders in aanlyn kommunikasie te vergoed.

In die gelyksoortige navorsing van Tu (2002) word drie ander tipes RBK (e-pos, bulletinborde en intydse kletskamers) vergelyk om vas te stel watter invloed dit op die skep van 'n aanlyn sosiale teenwoordigheid het. Die bevindings wys dat e-pos 'n hoër sosiale teenwoordigheid as bulletinborde en kletskamers bied, aangesien e-pos 'n groter mate van "privaatheid" en 'n meer "persoonlike" gevoel bied.

In een van die eerste studies wat gedoen is oor die invloed van sosiale teenwoordigheid op aanlyn leer en onderrig, ondersoek Richardson en Swan (2003) die invloed van sosiale teenwoordigheid op 'n groep universiteitstudente se persepsies en ervaring van aanlyn lesings, notas, leeswerk, take, projekte, toetse en eksamens. In die bevindings is dit duidelik dat studente se persepsie van sosiale teenwoordigheid positief korreleer met hulle tevredenheid met die leer- en onderrigproses.

Russo en Benson (2005) ondersoek die invloed van sosiale teenwoordigheid op studente se persepsie van die mate waartoe die affektiewe en kognitiewe leeruitkomste bereik is. Die bevindings dui op 'n betekenisvolle korrelasie tussen studente se persepsie van medestudente (sosiale teenwoordigheid) en hulle houdings teenoor en tevredenheid met hulle eie aanlyn leerproses. Verder korreleer sosiale teenwoordigheid ook met studente se prestasie en selfassessering.

In die eksperimentele navorsing van Yamada en Akihori (2007) vergelyk hulle die sosiale teenwoordigheid in vier tipes sinchroniese RBK en die invloed wat dit op die aanleer van taal het. Leerders is in vier groepe verdeel: die eerste groep het deur middel van videokonferensie kommunikeer; die tweede groep het oudiokonferensie gebruik; die derde groep het teksbood-skappe gebruik wat 'n foto van elke deelnemer ingesluit het; en die vierde groep het slegs met behulp van teks (sonder 'n foto) gekommunikeer. Die bevindings dui op die positiewe invloed van sosiale teenwoordigheid op taalaanleer en wys ook op die positiewe rol wat video, klank en foto's speel in die skep van sosiale teenwoordigheid: veral deelnemers se foto's het sosiale teenwoordigheid bevorder; en sosiale teenwoordigheid het taalaanleer bevorder.

In So en Brush (2008) se navorsing word die verwantskap tussen sosiale teenwoordigheid en samewerkende leer (collaborative learning) ondersoek. Die ondersoekgroep vir hierdie navorsing het bestaan uit 48 universiteitstudente wat 'n groepsprojek as deel van 'n aanlyn kursus in gesondheidswetenskappe moes voltooi. Die bevindings dui op 'n positiewe korrelasie tussen studente se persepsie van samewerkende leer en hulle persepsie van sosiale teenwoordigheid. Studente wat 'n hoë vlak van samewerkende leer ervaar het, was meer tevrede met die kursus en het 'n hoë vlak van sosiale teenwoordigheid tydens die aanlyn kursus ervaar.

Die navorsing van Caspi en Blau (2008) vind aansluiting by die voorgenoemde navorsing en bewys dat sosiale teenwoordigheid belangrik is vir aanlyn leer, aangesien dit help om 'n gemaklike "klimaat" vir leer te skep. Dit wys veral daarop dat die manier waarop studente hulself tydens aanlyn leer projekteer en die persepsie wat hulle van ander groeplede het, sosiale teenwoordigheid definieer en aanlyn leer bevorder.

In die afwesigheid van sosiale teenwoordigheid word die leeromgewing derhalwe onpersoonlik, wat kan lei tot 'n afname in kommunikasie en uitruil van inligting tydens aanlyn leer. Wanneer daar wel sosiale teenwoordigheid is, laat dit deelnemers voel dat die aanlyn kursus toeganklik is; dat hulle deel is van die interaksie; dat hulle 'n mate van beheer het; en dat hulle teenwoordigheid waardeer word (Leh, 2001).

3.4 Emoji 's en sosiale teenwoordigheid

Voorbeelde van navorsing oor die invloed van emoji's op sosiale teenwoordigheid is dié van Gunawardena en Zittle (1997) en Tung en Deng (2007).

Gunawardena en Zittle (1997) ondersoek die verband tussen die gebruik van emoji's, sosiale teenwoordigheid en studentetevredenheid. Die ondersoekgroep het bestaan uit vyftig studente van verskillende universiteite wat 'n aanlyn konferensiefasiliteit gebruik het om 'n navorsingsprojek te voltooi. Hulle het hoofsaaklik asinchroniese, teksgebaseerde RBK gebruik om met mekaar te kommunikeer.

Die bevindings wys dat studente met hoër vlakke van sosiale teenwoordigheid hulle sosio-emosionele ervaring bevorder het wanneer hulle emoji's gebruik het om hulle emosies uit te druk. Daarbenewens is bevind dat lae vlakke van sosiale teenwoordigheid geen invloed op studentetevredenheid gehad het nie, maar dat die toenemende gebruik van emoji's wel lei tot hoë vlakke van sosiale teenwoordigheid en hoë vlakke van leerdertevredenheid.

In die navorsing van Tung en Deng (2007) vergelyk hulle die invloed van (statiese) emoji's en plakkers (bewegende emoji's) op sosiale teenwoordigheid tydens aanlyn leer. Voorts wou hulle ook vasstel of daar enige verskille tussen meisies en seuns ('n groep van 173 graad 6-leerders) se gebruik van emoji's en plakkers is. Hulle navorsing het bevind dat dinamiese emoji's (plakkers) 'n hoër graad van sosiale teenwoordigheid teweegbring, maar dat geslag geen invloed op die gebruik van emoji's of plakkers of die skep van 'n sosiale teenwoordigheid gehad het nie.

In hierdie afdeling is die oorsprong, definisie en die rol van sosiale teenwoordigheid in rekenaarbemiddelde kommunikasie en aanlyn leer ondersoek. Daarbenewens is die rol van emoji's in die skep van 'n sosiale teenwoordigheid tydens aanlyn leer ondersoek. Dit is duidelik uit die bevindings van bestaande navorsing dat sosiale teenwoordigheid 'n belangrike rol speel in die sukses van aanlyn leer; en dat die gebruik van emoji's nie net kan vergoed vir die afwesigheid van nie-verbale aanduiders nie, maar ook kan bydra tot die skep van 'n sosiale teenwoordigheid.

Vervolgens word die metodologie van hierdie navorsing uiteengesit.

 

4. Metodologie

Aangesien die gemengdemetode-navorsingsbenadering kwantitatiewe en kwalitatiewe data integreer om 'n meer volledige begrip van die navorsingsprobleem te bied en die geldigheid van die navorsing te verhoog (Creswell, 2009), word dit in hierdie navorsing gebruik. Twee stelle data wat met behulp van 'n vraelys ingesamel is, word gebruik. Studente se gebruik van verskillende emoji's in verskillende kontekste word kwantitatief gemeet en vergelyk. Daarbenewens word die redes vir spesifieke gebruik kwalitatief ontleed om studente se gebruik van emoji's in die drie verskillende kontekste beter te begryp.

As navorsingstrategie is 'n gevallestudie gebruik, aangesien hierdie studie 'n kontemporêre kwessie binne 'n werklikewêreldkonteks ondersoek (Rebolj, 2013) en dit meehelp om 'n groep studente se gebruik van emoji's in verskillende kontekste beter te ontsluit. Die gebruik van sosiale media vir aanlyn leer en die gebruik van emoji's in aanlyn kommunikasie is ongetwyfeld besig om toe te neem. Navorsing in die vorm van gevallestudies vervul dus 'n belangrike rol om insig in hierdie tendense en veral die pedagogiese implikasies daarvan te ontwikkel.

In hierdie gevallestudie word gebruik gemaak van 'n nie-waarskynlikheidsteekproef (Cohen & Marion, 2017:110) aangesien hierdie navorsing 'n indiepte-ondersoek is van 'n klein groep deelnemers en die resultate daarom nie veralgemeenbaar of verteenwoordigend van alle universiteitstudente is nie. Om te veralgemeen, is trouens ook nie die doel van hierdie ondersoek nie. Veel eerder wil dit as basis vir en aansporing tot toekomstige navorsing dien.

'n Vraelys wat op Google Forms ontwerp en versprei is, is gebruik om die data te versamel. Die vraelys het uit 22 items bestaan. Die kwantitatiewe inligting wat hiermee ingesamel is, is ontleed en word met behulp van grafieke en tabelle voorgestel. Die kwalitatiewe data is die vorm van verbatim kommentaar van studente wat tematies ontleed is. Toepaslike, geselekteerde voorbeelde uit studente se kommentaar word in die vorm van tabelle aangebied.

 

5. Bespreking van bevindings

5.1 Kwantitatiewe data: geslag en ouderdom

Die ondersoekgroep is 97 derdejaar Afrikaansstudente aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Elektroniese vraelyste is aan al 97 studente gestuur en 63 studente het dit voltooi; dus 'n respons van 64,9%.

Die oorgrote meerderheid (84%) van die ondersoekgroep is vroulik en die meeste (87%) is in die ouderdomsgroep 20-25 jaar (Figuur 1)

 

 

5.2 Kwantitatiewe data: gebruik van emoji's

Vervolgens 'n samevatting van die bevindings aangaande die ondersoekgroep se gebruik van elk van die tien emoji's in drie verskillende kontekste: WhatsApp-boodskappe aan vriende en familie; medestudente en tutors; en dosente. Tabel 2 bied 'n statistiese opsomming hiervan.

 

 

5.2.1 Emoji 1: gesiggie met trane van blydskap

Hierdie emoji word gewoonlik gebruik as 'n reaksie op iets lagwekkend. Dit is tans die gewildste emoji op verskeie sosialemediaplatforms en is in 2015 deur die Oxford Dictionary as Woord van die Jaar aangewys (Emojipedia, 2022). Die bevindings van hierdie navorsing bevestig die gewildheid van hierdie emoji. Respondente gebruik dit meestal in informele teksboodskappe aan vriende en familie (95% gebruik dit baie gereeld); minder in boodskappe aan medestudente en tutors (34% gebruik dit baie gereeld en 58% gebruik dit soms) en feitlik nooit in boodskappe aan dosente nie (82% gebruik dit nooit; 16% gebruik dit soms en 2% gebruik dit baie gereeld).

5.2.2 Emoji 2: duim in die lug

Hierdie emoji word gewoonlik gebruik om aan te dui dat die sender van iets hou; iets goedkeur of saamstem met iets (Emojipedia). Die ingesamelde data toon dat dit die meeste gebruik word in boodskappe aan medestudente en tutors (62% gebruik dit baie gereeld en 36% gebruik dit soms); dit word minder gebruik in boodskappe aan vriende en familie (39% gebruik dit baie gereeld en 52% gebruik dit soms); en die minste in boodskappe aan dosente (27% gebruik dit baie gereeld; 28% gebruik dit soms; en 45% gebruik dit nooit nie).

5.2.3 Emoji 3: die nadenkende gesiggie

Die ingesamelde data toon dat studente hierdie emoji baie gereeld gebruik in teksboodskappe wat hulle aan vriende en familie stuur (41% gebruik dit baie gereeld en 46% gebruik dit soms); aansienlik minder in teksboodskappe aan medestudente en tutors (10% gebruik dit baie gereeld; 52% gebruik dit soms; en 38% gebruik dit nooit nie); en feitlik nooit in boodskappe aan dosente nie (85% gebruik dit glad nie). In die lig van die meerduidigheid van hierdie emoji (Emojipedia) is die afleiding dat respondente dit gebruik om iemand of iets te bevraagteken of te berispe. Die toon kan ook wissel tussen ernstig, speels, verbaas, skepties en spottend.

5.2.4 Emoji 4: die gesiggie wat hardop huil

Respondente gebruik hierdie emoji die meeste in teksboodskappe aan vriende en familie (70% gebruik dit baie gereeld en 28% gebruik dit soms); aansienlik minder in boodskappe aan medestudente en tutors (25% gebruik dit baie gereeld; 50% gebruik dit soms; en 25% gebruik dit nooit nie) en feitlik glad nie in boodskappe aan dosente nie (90% gebruik dit glad nie; 6% gebruik dit soms; en slegs 4% gebruik dit baie gereeld). Omdat hierdie emoji verskillend geïnterpreteer kan word (Emojipedia) beteken dit dat respondente dit gebruik om óf ontroosbare hartseer óf onbeheerste lag, trots of oorweldigende vreugde aan te dui.

5.2.5 Emoji 5: die gevoude / biddende hande

Die data dui aan dat respondente hierdie emoji veral in boodskappe aan vriende en familie gebruik (67% gebruik dit baie gereeld en 33% gebruik dit soms); minder in boodskappe aan medestudente en tutors (45% gebruik dit baie gereeld; 42% gebruik dit soms; en 13% gebruik dit nooit nie); en die minste in boodskappe aan dosente (56% gebruik dit glad nie; 22% gebruik dit soms; 22% gebruik dit baie gereeld). Hierdie emoji het ook meer as een betekenis (Emojipedia) wat beteken dat respondente dit gebruik in kontekste waar dit asseblief, dankie of gebed sou kon aandui.

5.2.6 Emoji 6: die "see-no-evil"gesiggie

Hierdie emoji word gewoonlik gebruik om ongeloof aan te dui (Emojipedia). Die ingesamelde data wys dat respondente hierdie emoji meestal in boodskappe aan vriende en familie gebruik (67% gebruik dit baie gereeld; en 28% gebruik dit soms); minder gereeld in boodskappe aan medestudente en tutors (22% gebruik dit baie gereeld; 50% gebruik dit soms; en 28% gebruik dit nooit nie) gebruik; en die minste in boodskappe aan dosente gebruik (86% gebruik dit glad nie; 9% gebruik dit soms; en 5% gebruik dit baie gereeld).

5.2.7 Emoji 7: die glimlaggende gesiggie met hartjie-oë

Hierdie emoji word gewoonlik gebruik om 'n entoesiastiese gevoel van liefde, verliefdheid of bewondering aan te dui (Emojipedia, 2022). Respondente gebruik hierdie emoji die meeste in boodskappe aan vriende en familie (70% gebruik dit baie gereeld; en 28% gebruik dit soms); minder in boodskappe aan medestudente en tutors ( 10% gebruik dit baie gereeld; 22% gebruik dit soms; en 68% gebruik dit nooit nie); en die minste in boodskappe aan dosente (98% gebruik dit glad nie; en 2% gebruik dit baie gereeld).

5.2.8 Emoji 8: die smekende gesiggie

Hierdie emoji word gebruik om 'n liefdevolle gebaar van diepe bewondering of aangedaanheid aan te dui (Emojipedia). Die data wys dat hierdie emoji die meeste gebruik word in boodskappe aan vriende en familie (79% gebruik dit baie gereeld; en 19% gebruik dit soms); minder in boodskappe aan medestudente en tutors (29% gebruik dit baie gereeld; 37% gebruik dit soms; en 34% gebruik dit nooit nie); en die minste in boodskappe aan dosente (88% gebruik dit glad nie; 7% gebruik dit soms; en slegs 5% gebruik dit baie gereeld).

5.2.9 Emoji 9: die knorrige gesiggie

Hierdie emoji word gebruik om verskillende grade van woede aan te dui wat kan wissel tussen knorrigheid, irritasie, afkeur en verontwaardiging. Dit kan ook gebruik word wanneer iemand hom of haar voordoen as gehard of gemeen (Emojipedia). Die data dui daarop dat hierdie emoji nie baie gewild is nie en nie gereeld gebruik word nie. In boodskappe aan vriende en familie word dit meer gebruik (22% van respondente gebruik dit baie gereeld; 43% gebruik dit soms; en 35% gebruik dit glad nie); minder in boodskappe aan medestudente en tutors (2% gebruik dit baie gereeld; 10% gebruik dit soms; en 88% gebruik dit nooit nie); en die minste in boodskappe aan dosente (98% gebruik dit glad nie; en slegs 2% gebruik dit soms).

5.2.10 Die knipoog gesiggie

Hierdie emoji kan gebruik word om 'n grap aan te dui of as 'n teken van flirtasie gebruik word. Die toon kan wissel tussen speels, liefdevol, suggestief en ironies (Emojipedia). Die ingesamelde data dui daarop dat hierdie emoji die meeste gebruik word in boodskappe aan vriende en familie (47% gebruik dit baie gereeld; 44% gebruik dit soms; en 9% gebruik dit glad nie); minder in boodskappe aan medestudente en tutors (13% gebruik dit baie gereeld; 41% gebruik dit soms; en 46% gebruik dit nooit nie); en die minste in boodskappe aan dosente (90% gebruik dit glad nie; en 10% gebruik dit soms).

Ter samevatting kan genoem word dat die emoji's wat die meeste in WhatsApp-boodskappe aan vriende en familie gebruik word, is veral gesig-emoji's (smekende gesiggie; glimlaggende gesiggie met hartjie-oë; gesiggie wat hardop huil; en gesiggie met trane van blydskap), wat gebruik word om emosies oor te dra. In boodskappe aan medestudente en tutors word die twee hand-emoji's (duim in die lug en biddende/gevoude hande) en die gesiggie met trane van blydskap die meeste gebruik. In boodskappe aan dosente is die gebruik van emoji's beduidend minder as die vorige twee kontekste, maar dieselfde twee hand-emoji's word ook meestal gebruik.

Respondente gebruik dus meer emoji's in WhatsApp-boodskappe aan vriende en familie; minder in boodskappe aan medestudente en tutors; en die minste in boodskappe aan dosente. Hierdie bevinding ondersteun dié van Derks et al. (2007) en Aull (2019) wat uitwys dat emoji's meer in sosio-emosionele kontekste as taakgeoriënteerde kontekste gebruik word. Dit bevestig ook die waarneming dat die keuse en gebruik van emoji's nie net deur die ontvanger beïnvloed word nie, maar ook deur die aard van die boodskap en interaksie.

Wat voorkeur betref, verkies respondente en blyk hulle gemakliker te wees om hartjie-emoji's in informele kontekste met bekende persone te gebruik en liefs die meer neutrale hand-emoji's in meer formele kontekste met onbekendes soos medestudente, tutors en dosente te gebruik. Geen vorige navorsing kan hierdie bevinding bevestig of weerlê nie. Dit dui nietemin op die belangrike effek van konteks nie net op die gebruik van emoji's in die algemeen nie, maar ook die invloed daarvan op die tipe emoji wat gebruik word - 'n aspek wat in toekomstige navorsing ondersoek behoort te word.

5.3 Kwantitatiewe en kwalitatiewe data: emoji 's in verskillende kontekste

5.3.1 WhatsApp-boodskappe aan vriende en familie

Die oorgrote meerderheid van respondente het aangedui dat hulle óf beslis saamstem (74%) óf saamstem (23.8%) dat die gebruik van emoji's hulle help om hulle emosies oor te dra in boodskappe wat hulle aan vriende en familie stuur (Figuur 2). Wat betref die boodskappe wat hulle van vriende en familie ontvang, is die respons soortgelyk: 47,6% stem beslis saam; en 42,9% stem saam (Figuur 3).

 

 

 

 

Respondente het dus oor die algemeen 'n baie positiewe houding teenoor die gebruik van emoji's in boodskappe aan vriende en familie. In die ontleding van die kwalitatiewe data word die volgende aspekte duideliker:

Emoji's in boodskappe aan vriende en familie is veral gewild omdat dit nie net die betekenis van die boodskap verhelder nie, maar ook die toon. Nietemin word die moontlike negatiewe invloed van emoji's op toon en betekenis ook erken. Dit kan gebeur wanneer sender en ontvanger emoji's verskillend interpreteer ("Daar is baie mense wat emoji's verkeerd gebruik." - Tabel 3). Hierdie bevinding sluit aan by die navorsing van Chen et al., (2017); Miller et al., (2016) en Veytia-Bucheli et al., (2020) wat uitwys dat misverstande kan ontstaan wanneer emoji's verkeerd gebruik of geïnterpreteer word.

 

 

Die kwalitatiewe data bring ook aan die lig dat die gebruik van emoji's aan vriende en familie sodanige interaksie bevorder aangesien dit tydbesparend en pret is om te gebruik. Daarbenewens is daar ook tekens dat respondente 'n mate van sosiale teenwoordigheid ervaar wanneer emoji's in hierdie konteks gebruik word. Een van die respondente noem dat emoji's hierdie boodskappe meer persoonlik maak (Tabel 3).

Wat die effek van emoji's op interaksie betref, sluit hierdie bevindings aan by dié van Chen en Siu (2017: 645) wat beklemtoon dat die gebruik van emoji's interaksie nie net meer prettig maak nie, maar ook meer vloeiend en interaktief. Wat die effek van emoji's op die skep van 'n sosiale teenwoordigheid betref, is die bevindings van hierdie navorsing in lyn met dié van Cobb (2009) wat uitwys dat die graad van sosiale teenwoordigheid bepaal word deur die vermoë om fisieke en emosionele teenwoordigheid in 'n aanlyn omgewing te projekteer. Na aanleiding hiervan kan die afleiding gemaak word dat emoji's oor die potensiaal beskik om boodskappe meer persoonlik te maak en sodoende 'n sosiale teenwoordigheid te skep.

5.3.2 WhatsApp-boodskappe aan medestudente en tutors

Respondente vertoon 'n oorwegend positiewe houding teenoor die gebruik van emoji's in hierdie konteks. Wat kommunikasie met medestudente betref: 80% stem beslis saam of stem saam dat emoji's studente help om beter met mekaar te kommunikeer (Figuur 4). Wat kommunikasie met tutors betref: 60% van respondente stem saam of stem beslis saam dat emoji's studente en tutors help om beter met mekaar te kommunikeer (Figuur 5).

 

 

 

 

Die waarde van die gebruik van emoji's in hierdie kontekste is te vinde in die kwalitatiewe terugvoer van respondente wat verwys na die rol daarvan in die bevordering van interaksie en die skep van 'n sosiale teenwoordigheid. Die kommentaar dui daarop dat emoji's interaksies tussen studente kan verlewendig en interessant maak. Daarbenewens versnel dit ook die interaksie aangesien korter boodskappe gebruik kan word. Dit laat ook studente op hulle gemak voel. Hierdie bevinding ondersteun die navorsing van Chen en Siu (2011) en Leh (2001) wat aandui dat dit veral emoji's wat positiewe emosies oordra, is wat gebruikers help om gemaklik in die aanlyn omgewing te voel.

Wat die skep van 'n sosiale teenwoordigheid betref, is daar bewyse dat emoji's 'n rol kan speel om studente te laat voel dat hulle deel is van 'n groep. Volgens een van die respondente laat dit hom of haar voel asof "jy nog in 'n klas is en nie in 'n formele groep nie" (Tabel 4). Die gebruik van emoji's het dus die potensiaal om volgens die teorie van Sosiale Teenwoordigheid aan studente 'n "sense of being with another" te verskaf.

 

 

Die navorsing van Tu en McIsaacs (2002) wys juis daarop dat emoji's doelbewus gebruik word om te vergoed vir die afwesigheid van nieverbale aanduiders. Wanneer studente emoji's gebruik, probeer hulle as't ware 'n situasie skep wat herinner aan konvensionele lesings ("... dit laat mens voel ofjy nog in 'n klas is..." - Tabel 4).

Daar is nietemin ook negatiewe houdings teenoor die gebruik van emoji's in hierdie twee kontekste. Dit hou hoofsaaklik verband met die persepsie dat aanlyn leer 'n formele konteks is en dat emoji's nie daar tuishoort nie.

Die redes hiervoor word in die ontleding van die kwalitatiewe data gevind:

5.3.3 WhatsApp-boodskappe aan dosente

Volgens Tabel 3 is die duim-in-die-lug-emoji die een wat die meeste deur studente in hulle interaksie met dosente gebruik word. Hoewel dieselfde emoji ook die meeste gebruik is in die kommunikasie tussen studente en tutors, is die persentasies in hierdie konteks aansienlik laer: 27% gebruik dit baie gereeld en 28% gebruik dit soms.

Dieselfde geld die biddende-hande-emoji. Dit is ook die tweede gewildste emoji in hierdie konteks, maar anders as in die geval van studente wat met medestudente en tutors kommunikeer, is die persentasie vir die gebruik in interaksies met dosente aansienlik laer: 22% gebruik dit baie gereeld en 'n verdere 22% gebruik dit soms.

Dit is duidelik dat emoji's (hoewel minder as in die vorige twee kontekste) tog tydens aanlyn interaksies met dosente gebruik word en dat respondente se positiewe houdings verband hou daarmee dat emoji's ook in hierdie konteks betekenis kan verhelder; interaksie kan bevorder en 'n sosiale teenwoordigheid kan skep. Die kommentaar dui daarop dat die gebruik van emoji's 'n rol kan speel om die interaksie met die dosent minder intimiderend te maak en die student laat voel dat hy of sy met 'n persoon en nie 'n "vervelige masjien" kommunikeer nie. Hierdie bevindings sluit aan by die navorsing van Caspi & Blau (2008) wat ook bevind het dat die gebruik van emoji's in leer- en onderrigkontekste kan meehelp om 'n gemaklike atmosfeer te skep.

 

 

 

 

Respondente se negatiewe houdings hierteenoor het (net soos in die geval van interaksie met medestudente en tutors) ook te make met 'n persepsie dat die gebruik van emoji's nie geskik is vir hierdie konteks nie en voorts ook uit vrees dat dit tot misverstande kan lei as dosente dalk 'n ander betekenis aan 'n emoji heg. 'n Belangrike faktor is dat respondente met 'n negatiewe houding teenoor die gebruik van emoji's in hierdie konteks dit (net soos in die geval van interaksie met medestudente en tutors) ook baseer op die persepsie dat emoji's nie tuishoort in 'n aanlyn leerkonteks nie en dat dit beskou word as onprofessioneel en selfs 'n teken van minagting.

Dit is ook belangrik om daarop te wys dat die grootste persentasie (41.3%) van respondente onseker is of emoji's wel 'n rol kan speel of nie om kommunikasie tussen studente en dosente te bevorder. Meer indiepteondersoeke hierna is waarskynlik nodig.

 

6. Samevatting

Die fokus van hierdie navorsing is studente se gebruik van emoji's in WhatsApp-boodskappe. Die drie vrae wat hierdie navorsing gerig het, is:

(i) Hoe word studente se keuse en gebruik van emoji's deur konteks beïnvloed?

(ii) Hoe word hulle aanlyn kommunikasie in informele en formele kontekste deur die gebruik van emoji's beïnvloed?

(iii) Watter rol emoji's speel in die skep van 'n sosiale teenwoordigheid tydens aanlyn leer?

In ooreenstemming hiermee is die volgende bevind:

6.1 Die invloed van konteks op die gebruik van emoji's

Konteks het 'n bepalende invloed op studente se gebruik van emoji's. Dit is in teksboodskappe aan familie en vriende waar die meeste emoji's gebruik word; in boodskappe aan medestudente waar dit minder gebruik word; en in boodskappe aan dosente waar dit die minste of glad nie gebruik word nie.

Verder bepaal die konteks ook die tipe emoji wat gebruik word: gesig-emoji's word merendeels in boodskappe aan vriende en familie; minder in boodskappe aan medestudente en tutors; en glad nie in boodskappe aan dosente gebruik nie. Wanneer emoji's wel in boodskappe aan dosente gebruik word, is dit hoofsaaklik die twee hand-emoji's.

6.2 Die invloed van emoji 's op aanlyn kommunikasie

Die gebruik van emoji's in boodskappe aan vriende en familie is nie net tydbesparend nie, maar ook pret. Dit verhelder die toon en betekenis van boodskappe en dra by tot die korrekte interpretasie van boodskappe. In gevalle waar sender en ontvanger nie dieselfde betekenis aan 'n emoji heg nie, kan dit egter tot misverstande lei. Voorts help dit ook studente om beter met medestudente en tutors te kommunikeer aangesien dit 'n gemaklike atmosfeer skep en sodoende interaksie bevorder.

6.3 Die invloed van emoji 's op die skep van 'n sosiale teenwoordigheid

Die gebruik van emoji's speel 'n belangrike rol in die skep van 'n sosiale teenwoordigheid tydens aanlyn interaksie. In boodskappe aan vriende en familie dra dit by om die kommunikasie meer persoonlik te maak. In kommunikasie met medestudente en tutors laat dit studente minder verwyderd en meer "deel van die groep" voel, tot welke mate sommige studente dan voel "asof hulle in die klas is". Wat die skep van 'n sosiale teenwoordigheid tydens student-dosent-kommunikasie betref, is die bevindings ontoereikend. Die meeste respondente beskou dit as onvanpas om emoji's in teksboodskappe aan dosente te gebruik en 'n groot persentasie (41.3%) van respondente is onseker of emoji's wel 'n rol kan speel. Meer breedvoerige en uitgebreide ondersoeke hierna is waarskynlik nodig.

 

BIBLIOGRAFIE

Ai, W, Lu, X, Liu, X, Wang, N, Huang, G & Mei, Q. 2017. Untangling Emoji Popularity Through Semantic Embeddings. Proceedings of the International AAAI Conference on Web and Social Media, 11(1):2-11. https://ojs.aaai.org/index.php/ICWSM/article/view/14903 [30 October 2021].         [ Links ]

Al Rashdi, F. 2018. Functions of emoji's in WhatsApp interaction among Omanis. Discourse Context Media, (26):117-126. https://doi.org/10.1016Zj.dcm.2018.07.001 [15 September 2021].         [ Links ]

Apriliani, H & Muslim, AB. 2021. Grounding in Online Communication: Using Emojis to Support Electronic Discourse in the Chatroom. Proceedings of the Thirteenth Conference on Applied Linguistics (CONAPLIN2020). https://dx.doi.org/10.2991/assehri.210427.032 [3 November 2021].         [ Links ]

Argyle, D & Dean, J. 1965. Eye contact, distance and affiliation. Sociometry, 28(3): 2891304. https://doi.org/10.2307/2786027 [5 August 2021].         [ Links ]

Aull, B. 2019. A Study of Phatic Emoji Use in WhatsApp communication. Internet Pragmatics 2(2). 10.1075/ip.00029.aul [3 February 2022].         [ Links ]

Bai, Q, Dan, Q, Mu, Z & Yang, M. 2019. A Systematic Review of Emoji: Current Research and Future Perspectives. Frontiers in Psychology (10). https://doi.org/10.3389/fpsyg.2019.02221 [18 August 2021].         [ Links ]

Caspi, A & Blau, I. 2008. Social presence in online discussion groups: Testing three conceptions and their relations to perceived learning. Social Psychology of Education, 11(3):323-346. http://dx.doi.org/10.1007/s11218-008-9054-2 [15 February 2022].         [ Links ]

Chen, X & Siu, KWM. 2017. Exploring User Behaviour of Emoticon Use among Chinese Youth. Behaviour & Information Technology, 36(6):637-649. https://www.tandfonline.eom/doi/full/10.1080/0144929X.2016.1269199?journalCode=tbit20 [09 March 2021].         [ Links ]

Chen, Z, Lu, X, Shen, S, Ai, W, Liu, X & Mei, Q. 2017. Through a Gender Lens: An Empirical Study of Emoji Usage over Large-Scale Android Users. https://www.researchgate.net/publication/316985738_Through_a_Gender_Lens_An_Empirical_Study_of_Emoji_Usage_over_Large-Scale_Android_Users [27 August 2021].         [ Links ]

Cohen, L & Manion, L. 2007. Research methods in education. London: Routledge.         [ Links ]

Creswell, JW. 2009. Research design: Qualitative, quantitative and mixed methods approaches. Thousand Oaks, CA: Sage.         [ Links ]

Derks, D, Bos, AER & Von Grumbkow, J. 2007. Emoticons and social interaction on the Internet: The importance of social context. Computers in Human Behavior 23(1):842-849. https://doi.org/10.1016/j.chb.2004.11.013 [2 February 2022].         [ Links ]

Du Plessis, T. 2020. Interpretation of Emojis in Organisational Computer-Mediated Communication (CMC) Contexts. Unpublished Masters Thesis. University of Stellenbosch.         [ Links ]

Emoji Statistics. 2022. Emojipedia.org/stats/ [23 March 2022].         [ Links ]

Gunawardena, CN & Zittle, FJ. 1997. Social presence as a predictor of satisfaction within a computer-mediated conferencing environment. American Journal of Distance Education, 11(3): 8-26. https://doi.org/10.1080/08923649709526970 [16 January 2022].         [ Links ]

Huang, A, Yen, D & Zhang, X. 2008. Exploring the potential effects of emoticons. Information & Management, 45(7): 466-473. https://doi.org/10.1016/j.im.2008.07.001 [13 September 2021].         [ Links ]

Jere, NR, Jona, W & Lukose, JM. 2019. Effectiveness of using WhatsApp for grade 12 learners in teaching Mathematics in South Africa. 2019 IST-Africa Week Conference (IST-Africa). https://ieeexplore.ieee.org/document/8764822 [29 April 2020].         [ Links ]

Lawrence, D. 2021. Afrikaansstudente se persepsies en gebruik van WhatsApp as leerplatform vir (taal) leer: 'n nuwe norm(aal)? Litnet Akademies (Opvoedkunde) 18(1). https://www.litnet.co.za/afrikaansstudente-se-persepsies-en-gebruik-van-whatsapp-as-platform-vir-taal-leer-n-nuwe-normaal/ [20 Januarie 2022].         [ Links ]

Lee, JY, Hong, N, Kim, S, Oh, J & Lee, J. 2016. Smiley face: Why we use emoticon stickers in mobile messaging. Proceedings of the 18th International Conference on HCI with Mobile Devices and Services Adjunct. https://www.researchgate.net/publication/307574484_Smiley_face_why_we_use_emoticon_stickers_in_mobile_messaging [19 January 2022].         [ Links ]

Leh, Amy. 2001. Computer-Mediated Communication and Social Presence in a Distance Learning Environment. International Journal of Educational Telecommunications, 7 (2):109-128. https://www.learntechlib.org/primary/p/8470/ [16 May 2021].         [ Links ]

Lo, SK. 2008. The nonverbal communication functions of emoticons in computer-mediated communication. CyberPsychology & Behavior 11(5):595-597. https://doi.org/10.1089/cpb.2007.0132 [3 March 2022].         [ Links ]

Miller, H, Thebault-Spieker, J, Chang, S, Johnson, I, Terveen, L & Hecht, B. 2016. "Blissfully happy" or "ready to fight": varying interpretations of emoji. ICWSM. http://www-users.cs.umn.edu/~bhecht/publicationsZICWSM2016_emoji.pdf [29 January 2021].         [ Links ]

Naidoo, J & Kopung, KJ. 2016. Exploring the use of WhatsApp in Mathematics learning: a case study. Journal of Communication, (7):266-273.         [ Links ]

Rambe, P. & Chipunza, PRC. 2013. Using mobile devices to leverage student access to collaboratively generated resources: a case of WhatsApp instant messaging at a South African university. International Conference on Advanced Information and Communication Technology for Education (ICAICTE 2013). https://onlinelibrary.wiley.com/doi/abs/10.1111/bjet.12057 [6 June 2020].         [ Links ]

Rebolj, A. 2013. The case study as a type of qualitative research. Journal of Contemporary Educational Studies, (1):28-43. https://www.researchgate.net/publication/265682891 [9 February 2021].         [ Links ]

Richardson, J & Swan, K. 2019. Examining social presence in online courses in relation to students' perceived learning and satisfaction. Online Learning, 7(1). http://dx.doi.org/10.24059/olj.v7i1.1864 [3 October 2021].         [ Links ]

Rodrigues, D, Prada, M, Gaspar, R, Garrido, M & Lopes, D. 2018. Lisbon Emoji and Emoticon Database (LEED): Norms for emoji and emoticons in seven evaluative dimensions. Behavior Research Methods, (50):392-405 https://doi.org/10.3758/s13428-017-0878-6 [20 November 2021].         [ Links ]

Russo, T & Benson, S. 2005. Learning with Invisible Others: Perceptions of Online Presence and their Relationship to Cognitive and Affective Learning. Educational Technology & Society, (8):54-62. https://www.jstor.org/stable/jeductechsoci.8.1.54 [6 April 2021].         [ Links ]

Rwodzi, C, De Jager, L & Mpofu, N. 2020. The innovative use of social media for teaching English as a second language. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 16(1):1-7. https://www.researchgate.net/publication/339432039_The_innovative_use_of_social_media_for_teaching_English_as_a_second_language [1 June 2020].         [ Links ]

Short, J, Williams, E & Christie, B. 1976. The Social Psychology of Telecommunications. London: John Wiley & Sons, Ltd.         [ Links ]

So, H & Brush, T. 2008. Student perceptions of collaborative learning, social presence and satisfaction in a blended learning environment: Relationships and critical factors. Computers & Education, 51(1):318-336. https://doi.org/10.1016/j.compedu.2007.05.009 [29 October 2021].         [ Links ]

Thompson, D & Filik, R. 2016. Sarcasm in written communication: Emoticons are efficient markers of intention. Journal of Computer-Mediated Communication, 21(2):105-120. https://doi.org/10.1111/jcc4.12156 [10 October 2021].         [ Links ]

Tu, C. 2002. The Impacts of Text-based CMC on Online Social Presence. The Journal of Interactive Online Learning, 1(2):1-24. http://www.ncolr.org/jiol/issues/pdf/1.2.6.pdf [20 March 2022].         [ Links ]

Tu, C & McIsaac, M. 2002. The Relationship of Social Presence and Interaction in Online Classes. American Journal of Distance Education, 16(3):131-150. https://doi.org/10.1207/S15389286AJDE1603_2 [3 November 2021].         [ Links ]

Tung, F & Deng, Y. 2007. Increasing social presence of social actors in e-learning environments: Effects of dynamic and static emoticons on children. Displays (28):174-180. https://doi.org/10.1016/j.displa.2007.06.005 [10 October 2021].         [ Links ]

Veytia-Bucheli, MG, Gómez-Galán, J & Vergara, D. 2020. Presence of new forms of intercultural communication in higher education: Emojis and social interactions through whatsapp among graduate students. Education Sciences, 10(11):1-17. https://doi.org/10.3390/educsci10110295 [4 March 2022].         [ Links ]

Walther, JB & D'Addario, KP. 2001. The Impacts of Emoticons on Message Interpretation in Computer-Mediated Communication. Social Science Computer Review, 19(3):324-347. https://doi.org/10.1177/089443930101900307 [7 March 2021].         [ Links ]

Wolf, A. 2000. Emotional expression online: gender differences in emoticon use. CyberPsychology & Behaviour, 3(5):827-833. https://doi.org/10.1089/10949310050191809 [14 September 2021].         [ Links ]

Yamada, M & Akihori, K. 2007. Social presence in synchronous CMC-based language learning: How does it affect the productive performance and consciousness of learning objectives? Computer Assisted Language Learning, 20(1):37-65. https://doi.org/10.1080/09588220601118503 [13 March 2022].         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2022-04-04
Goedgekeur: 2022-09-07
Gepubliseer: Desember 2022

 

 

 

Donovan Lawrence is 'n senior lektor in taalkunde en hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy loopbaan as hoërskool Afrikaans-onderwyser begin in 1988, waarna hy doseer aan 'n onderwyskollege en verskeie universiteite, insluitende die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), Witwatersrandse Universiteit (Wits) en die Universiteit van Johannesburg (UJ). Sy voor-graadse en nagraadse kwalifikasies in Afrikaans verwerf hy aan die Universiteit van Wes-Kaap-land en die Universiteit van Johannesburg. Dit sluit in 'n BA in 1986; 'n Hoër Onderwysdiploma in 1987; 'n Honneursgraad in Afrikaans in 1993; 'n MA (Cum Laude) in 1998 en 'n PhD in 2004. Sy doktorale proefskrif handel oor: Rekenaar-gebruik vir die aanleer van Afrikaans.
Hy is tans Umalusi se nasionale, eksterne eksaminator vir Afrikaans EAT- en TAT-matriekvraestelle. Hy is die outeur van verskeie navorsingsartikels, medeskrywer van die boek Afrikaansmetodiek deur 'n nuwe bril (2014) en gereelde rubriekskrywer vir Beeld, Burger en Volksblad.
Donovan Lawrence is a senior lecturer in Afrikaans Linguistics and Head of the Department Afrikaans and Dutch Studies at the University of the Western Cape. His career as a high school Afrikaans teacher started in 1988. Subsequently, he lectured at a teacher's college and various universities including the University of South Africa (Unisa), the University of the Witwatersrand (Wits) and the University of Johannesburg (UJ). He received his undergraduate and postgraduate qualifications in Afrikaans from the University of the Western Cape and the University of Johannesburg.These include a BA in 1986; a Higher Diploma in Education in 1987; an Honours degree in Afrikaans in 1993; a MA (Cum Laude) in 1998 and a PhD in 2004. His doctoral thesis invesitigates the use of computers for teaching Afrikaans.
Currently, he is Umalusi's national external examiner for Afrikaans FAL and SAL matriculation papers. He is the author of various research articles, co-author of the book Afrikaansmetodiek deur 'n nuwe bril (2014) and regularly writes opinion pieces in the Beeld, Burger and Volksblad newspapers.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License