SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issuesWhat does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament poses author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.4 Pretoria Dec. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a6 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Oor die grense van taal

 

On the limits of language

 

 

Hercules Boshoff

Filosofie, Departement Sosiale Wetenskappe, Akademia, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: hercules@akademia.ac.za

 

 


OPSOMMING

'n Taal moet aanhou groei en vertak en daarom het dit 'n sterk stam en diep wortels nodig. 'n Taal se moontlikhede word deur 'n aantal interne werkinge sowel as eksterne invloede bepaal. Twee spanningsvelde van taal, naamlik die grammatika tekne, oftewel die grammatikale as sodanig, en wat Dante die vulgare eloquentia noem, die eiesoortige van elke afsonderlike taal, sal beskryf en dan met mekaar in gesprek gebring word. Leidrade vir 'n gesonde verhouding tussen hierdie twee aspekte sal by antieke sowel as moderne denkers gesoek word. 'n Gesonde verhouding tussen hierdie aspekte sal voorts enersyds 'n veredeling van die eie, en andersyds 'n geabstraheerde begrip van menslike uitdrukkingsvermoë kan teenwerk. Die eie taal moet derhalwe in verhouding tot die geskiedenis as erfgenaam maar ook as unieke gespreksgenoot gelees word, met erkenning van leengoed en gedeelde gevoel, maar steeds vol selfvertroue in sy eie seggenskrag.

Trefwoorde: geankerdheid, vertakking, grammatika tekne, inheemsheid, dialek, taalstudie, taal-imperialisme, politiek, plaaslike dialek, vertaling, oor-brugging, besieling, eiesoortigheid


ABSTRACT

A language that seeks to grow and branch out needs to keep itself rooted. The possibilities of a language are co-determined by external and internal factors. The balance between the grammatical as such, or the grammatica tecne, as it was called in earlier times, alongside the local dialect, or the vulgare eloquentia, as Dante called it, will be explored. It will be argued that rootedness and branching are concurrent forces pulling in different directions, both contributing to the growth of the language in substantial measure. On the one hand entrance into what is historical is informed by current topics; and, on the other, what is current forms part of an unfolding of history.
The relation between language studies and politics once again has become an issue featuring in the discussions regarding the indigenous status of Afrikaans. If a language were to be considered as authentic solely on account of its indigenous status, it would be difficult to forward an argument for English being authentically "English", given the fact that most of the vocabulary is borrowed from Frisian and Latin, and very little from Celtic. The real issue to be considered rather, is what purposes the speakers have in mind for the language, mere day-to-day communication or a distinguished literature? Should the latter be the preferred option, it follows that one will have to incorporate the development of the history of writing and study the fruits that were borne along with it. Dutch underwent similar developments during the so-called "Golden Age", developments from which Afrikaans has also been able to benefit to a certain extent.
Grammar is not merely an objective science that examines and describes languages from a distance, but it is also historically embedded. Learning not only the rules and the scientific side of grammar, but also studying some of the languages that innovated these developments benefits any language, it binds a language into history. In his Poetics, Aristotle compares the different kinds ofwords to parts of a body but goes beyond that to speak about the physiological effects that certain kinds of metre have. We form sounds as much as sounds form us. Poetry specifically has two purposes for Aristotle - on the one hand it exposes the reader or listener to me tapeinen or the unusual, which comprises of strange words or techniques; while on the other, it familiarises the reader with safe, the norms and words of the language with which people are familiar. Without a good balance between these dimensions, poetry will remain either decadent or too mundane. Ifwe accept the unfamiliar to be a key for unlocking meaning in our own language, it again raises the question of the relation between languages. Han interprets Heidegger's notion of the bridge in the latter's essay Building, Dwelling, Thinking to mean that both the domain of exchange and the divine horizon on the other side of the bridge are to remain intact. In the case of Afrikaans, Van Wyk Louw can therefore speak of the fundamental indebtedness of Afrikaans to Dutch, as a source from which it cannot separate itself, especially in the context of education, while simultaneously having been formed in South Africa, thus being a bridge language between the continents.
However great we judge our indebtedness to the development of grammar and the languages through which the history of literature was formed, we cannot neglect the particularity of our own language, and its ability to articulate what is universal in a unique manner, adding to the richness of the whole. In other words, the grammatical can become a hindrance in the development of language when a norm or a language dominates others to the extent that no more bridges can be extended. This was the case with Latin in the Middle Ages, and one might add with English today. Dante's essay Vulgare eloquentia laid the basis for a new appreciation for the local language and its ability to extend itself to universal heights, which Dante accomplished with his great Divine Comedy. Louw emphasises the importance of translation as a means whereby the speakers can extend their horizons to a world of meaning previously unknown to them. Translation does not necessarily mean that the speakers are motivated not to learn other languages, translation is itself not possible without building a bridge between languages, between the dwelling spaces of languages. The bridge allows one to dwell inside the limits of a world previously unknown.
To manage this complex relation of the localities within a language, as well as the languages with one another, institutions are needed. But the mere existence of an institution does not automatically lead to literature. Humboldt calls for "spirited" writers, poets and philosophers to add new meaning and nuance to a language. This implies the study of these fields within institutions. If this does not happen, languages will to a great extent fall victim to the "hastiness" of the "newspaper men" as Louw calls the media. The hastiness relegates words to immediate meaning leaving little room for interpretation. The frequency of the word is therefore no yardstick for the health of a language. The limit represents the possibility of understanding, of making concrete, while at the same time acknowledging itself as limit, as being in need of extending itself beyond itself to another modus of expression.

Keywords: rootedness, branching, grammatica tecne indigenous origin, dialect, language studies, language imperialism, politics, local dialect, translation, bridging, spiritedness, uniqueness


 

 

Inleiding: Oor die inheemsheid van 'n literêre taal

Die onlangse debatte met betrekking tot die inheemsheid van Afrikaans het die ou vraagstuk oor die verhouding tussen taalstudie en politiek opnuut op die voorgrond gebring. Moet teorie enersyds bloot aangepas word om die politieke vraagstuk van die dag op te los, of moet taalstudie andersyds onafhanklik van die politiek beoefen word, asof die politiek geen invloed daarop uitoefen nie? Tog tref die beheptheid om Afrikaans as inheems voor te stel mens as vreemd. 'n Mens sou binne dieselfde diskoers oor taal kon vra hoe inheems Engels tot Engeland is, gegewe die feit dat die woordeskat hoofsaaklik uit Latyn en Fries ontleen is, juis met die oog op die ontwikkeling van 'n volwaardige letterkunde in die taal - 'n doelwit wat met groot sukses bereik is. Daarbenewens het Engels skaars twee dosyn woorde uit die plaaslike Kelties oorgeneem (Bragg, 2003:5). Enige taal wat 'n mate van standaardisering ondergaan, ontleen uit die lang geskiedenis norme wat van buite die eie raamwerk van die taal gestalte daaraan gee.

Hierdie inheemse maatstaf wat ten grondslag van bogenoemde benadering lê, kan teruggevoer word na Herder in die 18de eeu, wat die verweefdheid van 'n taal met die milieu waarbinne dit ontstaan, benadruk het. Voorts kan die gebeurtenisse binne die milieu wat daaraan meewerk om aan 'n taal gestalte te gee, maklik tot die verdoeming of die verromantisering van 'n taal bydra, maar, soos ek hier onder sal betoog, nie tot begrip van die aard van taal, veral nie in die geskrewe vorm daarvan nie. Anders as Herder se bedoeling word die verskraling van taal tot produk van die milieu meermale bloot gebruik as instrument in die diens van ander doeleindes. In Herder se denke, soos geredeneer gaan word, is daar konstante wisselwerking tussen die eie en die geskiedkundige.

Terug by die tematiek van taal en politiek. Die begrippe van taal en politiek is uiteraard nie staties nie, en het ingrypende veranderings ondergaan wat ten diepste met mekaar verband hou. Dit beteken egter nie dat die verhouding nie tot 'n mate uitgekarteer kan word nie. Aristóteles se bekende beskrywing van die mens as "politieke dief' word gemotiveer deur te verwys na die wyse waarop die mens die kompleksiteit van bestaan binne die konteks van die stadstaat kan uitdruk deur middel van taal:

It is also clear why a human being is more of a political animal than a bee or any other gregarious animal. Nature makes nothing pointlessly, as we say, and no animal has speech except a human being. A voice is a signifier of what is pleasant or painful, which is why it is also possessed by the other animals (for their nature goes this far: they not only perceive what is pleasant or painful but signify it to each other). But speech is for making clear what is beneficial or harmful, and hence also what IS just or unjust. For it is peculiar to human beings, in comparison to the other animals, that they alone have perception of what is good or bad, just or unjust, and the rest. And it is community in these that makes a household and a city-state. (Aristoteles, 1998:1253a)

Blote kommunikatiewe vermoëns bemoontlik 'n mate van "politieke" organisering by talle spesies, maar die uitgebreide aard van menslike kommunikasie, wat as taal (logos) gekenmerk word, stel die mens in staat om die politiek in te rig volgens die beginsel van geregtigheid, en nie bloot oorlewing nie.

Die ontwikkeling van skrif en letterkunde was een van die groot stappe wat geneem is in die mens se taalvermoë, en bygevolg ook sy vermoë om die politiek te bedryf. As voorbeeld van die komplekse aard van 'n skryftaal kan ons wys op die ontwikkeling van moderne Nederlands, wat met behulp van vier revolusies 'n literêre taalgemeenskap daargestel het: 1) die drukpers; 2) die Kerkhervorming se klem op die Bybelvertaling; 3) die belangstelling in die klassieke: "in hun wedijver met de klassieken betrokken ze ook de volkstaal, die ze wilden bevrijden van willekeur en even rijk en regelmatig wilde maken als de klassieke talen."; en 4) die stryd teen die Spanj aarde waartydens suidelike inwoners noordwaarts na Holland beweeg het en vermenging van dialekte plaasgevind het (Burger, P; De Vries, JW; & Willemyns, R, 1994:56).

Voordat hierdie veranderinge plaasgevind het, het Nederlands 'n vereenvoudigde struktuur met minder verbuigings gehad, 'n vereenvoudiging wat Afrikaans waarskynlik geërf het. Afrikaans is dus tegelykertyd oud, maar tog uniek en modern. Hoe modern en eiesoortig die taal egter is, word dikwels oorhaastig bepaal sonder voldoende ondersoek. Omdat 'n verskynsel afwyk van Standaardnederlands, word te dikwels aangeneem dat alles wat uniek aan Afrikaans is, noodwendig hier te lande in Suid-Afrika ontstaan het. Die verhouding van Afrikaans tot Nederlands moet in die lig van die feit beskou word dat Nederlands in standaardvorm taamlik jonk was ten tyde van die VOC se bedrywighede, en mens sou kon sê dat die minderheid van die mense aan boord van hierdie skepe werklik onderlê was in hierdie reëls. Dit beteken dat sommige van die dialekte wat uiteindelik grootliks deur moderne Nederlands vervang is, hul weg steeds kon vind na Suid-Afrika. Die oorronding waarvoor Pretorianers byvoorbeeld bekend is, kan moontlik van die Limburgse dialek afkomstig wees: "Spesifiek Limburgs zijn de o in woorden alsjor 'jaar', het ontbreken van de slot-/ in woorden als nach 'nacht'" (Burger, 1994:49).

Die spesifieke dialekte van Nederlands waaruit Afrikaans saamgestel is, was ná 'n ruk nie meer aan die sprekers van Afrikaans bekend nie, deels vanweë die feit dat die belangstelling in die opteken van dialekte in Nederland eers na 1800 begin toeneem het (Burger, 1994:51).

'n Nederlandse outestamentikus wat lank in Suid-Afrika klasgegee het, en wat die oudste teks in Afrikaans ontdek het, prof. A. van Selms, het die volgende oor Afrikaans gesê: "in woordgebruik is het Afrikaansch conservatief in den besten zin van het woord. Allerlei zeventiende-eeuwsche woorden, die bij ons lang vergeten zijn, worden er nog geregeld gebruikt" (Van Selms, 1941:261).

Die koppeling van Afrikaans aan Nederlands is vir Van Wyk Louw nie onderhandelbaar nie: "Afrikaans is geen neweproduk van ons Suid-Afrikaanse tale-in-'n-proefbuis nie. Dit is die erfgenaam van die Salige Ruusbroec, Hadewijch, Bijns, Vondel, Hooft en Bredero. En net soos Engels volledig doseer kan word alleen as Chaucer en Shakespeare ingebring word, so kan Afrikaans volledig doseer word alleen as die grotes van sy lang voorgeskiedenis ook mag meepraat" (Louw, 1988: 12). Erfgenaam bedoel allermins dat dit bloot dupliseer wat dit voorafgaan; Afrikaans is immers "deur hierdie land gevorm". Gegewe die erfenis en die ontstaansgebeure van Afrikaans bly die taal vir hom dan 'n brug tussen die kontinente. Wat met brug bedoel word, is nie so eenvoudig as wat dit mag lyk nie. Heidegger se opstel, "Bou, woon dink" (Schoeman, 1989) het die tematiek van die brug sentraal gestel: "Heidegger emphasizes that a bridge is not simply built at an already existing site. Rather, it creates sites" (Han, 2022:41). Anders as Homi K Bhabha se interpretasie van die brug (en mens sou Breytenbach se begrip van die middelaarde ook hierby kon betrek), is Heidegger se begrip van die brug volgens Han nie geskoei op 'n blote hibriditeit nie: "the divine There, the divine bank, transcends the common and perhaps calamitous 'hither and thither' of the mortals" (Han, 2022:42). Die hibriede neig nie daartoe om kultuur te vernietig nie, maar om by wyse van hiperkultuur dit tot 'n blote verbruikersproduk te verskraal, iets wat in die algoritme verpak kan word en by implikasie die transendente horison van die anderkant waarheen dit wys, prysgee. Hiermee word bedoel dat die transaksionele aard van die hiperkultuur se skynpluraliteit afbreuk doen aan die outentieke interaksie waarin die ander nie bloot as middel tot 'n doel gebruik word nie.

 

Die betekenis in tekens

Hoewel dit te verstane is dat ons taal aanwend om ons lewens op die mees voordelige wyse in te rig, rus daar ook 'n verantwoordelikheid op ons om die aangeleenthede van taal en politiek nie ten volle te vervleg nie. Laat ons dan 'n paar oorsigtelike punte oor taal maak om daaruit te kan bepaal in watter mate dit tot ander vlakke van menswees deurdring.

Ons weet dat taal uit die basiese uitdrukkingsvorme van foneme of klanke en simbole bestaan, wat die uitbeelding van taal moontlik maak en oor 'n langer tyd as eersgenoemde ontwikkel het. 'n Simbool wys op een ding wat as 't ware die rol van 'n ander vertolk, terwyl die begrip simbool letterlik beteken saamgooi, met ander woorde saamvoeging. Die wyse waarop tekens saamgevoeg word, is deur die Grieke in terme van die werkinge van ledemate in die liggaam verduidelik: Die naamwoorde en werkwoorde verteenwoordig onderskeidelik die skelet en die spiere, terwyl, soos die ou Grieke dit beskryf het, die lidwoorde (syndesmos) en die voegwoorde (arthron) die ligamente en die gewrigte van die sin verteenwoordig. Die kleinste deel van die metrum in die digkuns word met nog 'n liggaamlike beskrywing, naamlik voet, benoem.

Die samewerking tussen simbool en klank in taal is nêrens meer treffend as in die digkuns nie. Aristoteles voer die vergelyking tussen taal en die liggaam 'n stap verder deur na die fisiologiese uitwerking van klank op die liggaam te verwys. 'n Bepaalde opeenvolging van voete in die digkuns kan sekere emosies in die menslike psige prikkel, en daarom pas sekere metriese patrone beter by tragedie terwyl ander beter by komedie pas. So 'n fyn bestudering van die tegniese aspekte van taal baat nie alleen die sprekers van 'n taal nie, maar die mensdom as sodanig. Sonder 'n mate van behendigheid in die tegniek wat uit duisende jare se ontwikkeling ontleen word, kan geen blywende letterkunde opgelewer word nie. By implikasie maak dit tale wat die tegniese vaardighede kweek en aanwend erfgename van hierdie insigte. Tog, soos ons Aristoteles ken, sal daar ook 'n doel wees met die vaardighede wat 'n digter opgebou het. Die doel van die goeie digkuns is dan tweeledig: Dit verleen aan die digwerk die karakter van onalledaagsheid, me tapeinen, asook deur die aanwending van die gepaste herkenbare woord duidelikheid, safe. Hy sit die onalledaagsheid as volg uiteen: "Als ongewoon beschouw ik de glosse, metaphoor, gerekt woord en alle andere die van het eigenlijke of normale afwijken" (Aristoteles, 2016:72/1458a18). Die mens bewonder van nature dít wat van ver af kom; dit gee aan hom genot, sê hy dan ook in die Retorika. Maar indien die digkuns nie met die duidelike woord en die norme, die kurion, wat hy afwissel met oikeion, die eie, gebalanseer word nie, kan dit volgens Aristoteles ontaard in 'n raaisel en die teendeel van gekultiveerdheid, naamlik vervreemding, tot gevolg hê.

 

Die verhewenheid in die alledaagse

Ofskoon studie van die ontwikkeling van taal as geheel en die prestasies wat tydens hierdie gang bereik is onontbeerlik vir die ontwikkeling van die plaaslike taal is, het dit dikwels gebeur dat sekere tale as inherent verhewe bo die plaaslike taal voorgestel is. Diegene wat hulle denke dogmaties onderwerp aan hierdie voorveronderstelling, die deur Herder beskryfde Schönwissen-schaftler en Schönkunstler, het tot dié toedrag van sake in sy konteks bygedra: "Das Leichte hat über das Schwerere gesiegt, die Einbildung hat vor dem Verstande Platz genommen" (Herder, deel 522). Dit gee daartoe aanleiding dat die skone in die wetenskappe verword tot louter "Colorit, nur Oberflãche, er pickt darnach wie der Vogel nach der Farbe, er hascht darnach wie nach einer schonen Wolke : die schöne Ansicht vergeht, und er hat nichts" (Herder, deel 522). Om eie verantwoordelikheid te neem vir die toekoms van 'n taal "wird nicht durch elogia fremder Zungen und Federn, nicht durch Schminke von auften, nicht durch Geschwãtz oder Schönkunstelei erworben: sie ist die Frucht der ernstesten Anstrengung, die höchste Wissenschaft und Kunst des Lebens" (Herder, deel 526).

Nie alle denkers is dit dus met Aristoteles eens oor die aard van die verhouding tussen die onalledaagse en die "laer" (tapeinen) aspek van taal nie. Dante beklemtoon in 'n vroeë opstel Vulgare eloquentia die bepalende rol wat die vulgare, die plaaslike taal, in die skepping van die digkuns moet speel. Die vulgare is natuurlik tot die mens, wat dit op 'n nieformele wyse aanleer tydens die grootwordjare. Daarteenoor tref ons die grammatica aan wat Dante as 'n "secondary language" beskryf, wat moeisaam aangeleer word en waarsonder geen groot letterkunde, soos reeds genoem is, opgelewer word nie. Dante se voorkeur vir die taaleie word as volg verwoord: "Of these two kinds of language, the more noble is the vernacular: first, because it was the language originally used by the human race; second, because the whole world employs it, though with different pronunciations and using different words; and third because it is natural to us, while the other is, in contrast, artificial" (Dante). Hiermee bedoel Dante nie dat die alledaagse woorde noodwendig slegs op alledaagse onderwerpe betrekking het nie; trouens, sy eie digkuns getuig van die teendeel. Insgelyks is die maatstaf van goeie taalgebruik vir Augustinus eenvoudig: "let our speech agree with our lives, our voice with our conscience" (aangehaal in Auerbach, 1993:28). Dante se werk is egter ook in diep gesprek met denkers uit die tradisie, terwyl dit die grammatika tekne verhef tot die trinitariese motief van sy tersines. Dus vind daar nie bloot nabootsing van bronne plaas nie, maar erkenning, opname, verskil en voortbeweging.

Ons weet dat die Griekse en die Romeinse beskawings die tegniek van taal vernuwe en groot skatte aan die mensdom nagelaat het. Maar die verkeerde aanwending van tegniek dra nadelige gevolge. Nêrens, volgens Augustinus, is die wantoepassing van retoriese tegniek meer sigbaar as in preke waartydens die hoorders spontaan begin hande klap nie. Daarmee skiet hy allermins die bemeestering van retorika af; trouens, hy beveel ten sterkste Cicero se indeling van die parva, modica en magna, die alledaagse, die intermediêre en die verhewe spraak vir die preek aan. Maar anders as by Cicero, het elkeen van die indelings nie binne die geestelike domein van die preek alleen betrekking op sekere onderwerpe nie (hoewel dit steeds in ander domeine soos die regspraak en die akademie die norm behoort te wees). Dit is omdat die openbaring van Christus nie volgens 'n Stoïsynse wereldbeeld geskied het nie, maar in eie terme: "A Christian orator recognizes no absolute levels of subject matter; only the immediate context and purpose (whether his aim is to teach, admonish, or to deliver an impassioned appeal) can tell him which level of style to employ" (Auerbach, 1993:35). Dienooreenkomstig met die misterie van die openbaring moet ons in die prediking volgens Augustinus ag slaan op die verduideliking van Lukas (self 'n meester in die beskrywing van die wyse waarop die allerheiligste in die alledaagse gestalte kry), soos dit in hoofstuk 16:10 van sy evangelie saamgevat word: "wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik". Hierdie eerlike aanslag en worsteling met die retorika vind by uitstek neerslag in Augustinus se Belydenisse, 'n werk wat bewustelik en onbewustelik byval gevind het by menige groot skrywer in die Westerse geskiedenis, en het ongetwyfeld bygedra tot die selfvertroue om die eie worsteling, en daarby inbegrepe die eie taal, vir die hoogste doel in te span. Vir Augustinus is die grootsheid van die Bybel wat in die alledaagse Grieks neergepen is, by uitstek die voorbeeld van die wyse waarop taal verpak kan word: "Die gang daarvan is nederig, maar die hoogtes wat dit bereik het, het jou gees verhef' (Augustinus, 2007:53). Geen wonder dan dat die vertaling van die Bybel die impuls vir soveel moderne tale gebied het waaruit dit ontwikkel het nie.

 

Die grootsheid in klein tale

Sprekers van die tale waarin die balanse tussen die tegniese en taaleie hier bo genoem in bewonderenswaardige letterkunde gestalte gekry het, ontwikkel egter dikwels 'n hubris wat tot gevolg het dat die taal as enigste toegangspoort tot die waarheid verklaar word en wisselwerking met ander tale in die kiem smoor. Derhalwe moet konstant gelet word op die volgende punt, veral in die konteks van 'n taal soos Afrikaans wat relatief geïsoleerd geografies is van tale wat 'n ryk letterkunde opgelewer het: "The narrower the circle is, the stronger the sensuality and the drive is, the more uniform the ability for art and the work in life is, then the less is even the slightest progress through experience observable, at least for us" (Herder, 2004:130). In hierdie opsig is dit goed dat werklike debat (wat nie net bly by oop gesprek nie) plaasvind sodat die presiese woord konstant gesoek word.

Die wyse waarop die groot tale afgedwing word ten koste van die kleiner tale, kan daarom ook in Aristoteles se terme as barbarisme beskryf word, wat Louw inderdaad nie skroom om te doen nie: "daarom is die taal-imperialisme van die 'groot groepe' een van die gevaarlikste vorms van die moderne barbaarsheid" (Louw, 1988:97). Die grootsheid van 'n taal lê tegelyk in sy vermoë om die tegniese te bemeester, dit wil sê na te doen en aan te pas, én insgelyks in sy beperking, in sy grens. Dit is in daardie grens waarin die waarheid kan wortel skiet, groei, vertak, blom en vrug dra. Daardie vrug wat deur die selfstandige letterkunde van 'n taal gedra word, is volgens Louw geen kleinigheid nie, maar 'n "onvervangbare verowering van die mens" (Louw, 1988: 97). Die kruisbestuiwing wat plaasvind, veroorsaak dat iets van die ou tale voortleef, iets meer as net woorde, naamlik idees en erfenis: "We all believe that we still now have paternal and household and human drives as the Oriental had them; that we can have faithfulness and diligence in art as the Egyptian possessed them; Phoenician activeness, Greek love of freedom, Roman strength of soul" (Herder, 2004:292). In die lig hiervan moet 'n taal die selfvertroue hê om 'n eie unieke stem te ontwikkel maar om in gesprek te wees met die kulture waaruit die moderne lewe ontwikkel het. Fichte het daarom 'n beroep gedoen op die Duitse kultuur om met ander kulture van die "sonverwante gees", wat vryheid, reg en ontwikkeling nastreef, in gesprek te tree, en nie vas te steek by diegene wat slegs in die "kluit, de rivier, de berg hun vaderland herkennen" (aangehaal in Safranksi, 2009:177). Oopheid om jou eie vooruitgang in gesprek met die ou tale te bring, bewerkstellig 'n koppeling wat die eie taal inbind in die geskiedenis: "If human nature is no independent divinity in goodness - it has to learn everything, be formed through progressions, step ever further in gradual struggle - then naturally it is formed most or only on those sides where it has such occasions for virtue, for struggle, for progression" (Herder, 2004:294).

Die werklike en heerlike vrug wat taal dra is waarheid self, ofskoon dit telkens in 'n nuwe gewaad te voorskyn kom. Hierdie vrug is nie gereserveer vir die sprekers van 'n taal nie, en kan deur vertaling oorgedra word. Vertaling is die sleutel wat 'n taal ontvanklik maak vir ervarings wat verwyderd is van die wêreld van die sprekers en tegelyk 'n nuwe wêreld oopmaak in die taal. Vertaling is meer as die blote oordrag van idees, dit rek 'n taal. Om 'n ander taal as jou moedertaal aan te leer soos van 'n vertaler verwag word, verplaas jou tegelyk na 'n ander verstaanswêreld terwyl dit jou nie ten volle verwyder uit jou oorspronklike wêreld nie; dit gee mens as 't ware 'n nuwe blik op jou eie taal. Sonder die grondige bestudering van die grammatika (inbegrepe die groot werke) van ander tale, sê Hegel in die Wissenschaft der Logik, kan die "Bildung eines Volks" nie tot volle ontplooiing gevoer word nie (Hegel, 2004:41). Hy gaan so ver om te beweer dat die geskiedenis van die grammatika iets blootlê van die ontvouing van die denke. Tereg kan gevra word hoeveel Afrikaanssprekende taalkundiges en letterkundiges vandag enige ander taal behalwe Engels kan besig (terwyl hulle dikwels Anglisisme voorhou as die hoofsonde), wat nog te sê ouer tale waarmee die Afrikaanse taal vergelyk kan word om dit sodoende binne die narratief van die ontvouing van die geskiedenis van die grammatika tekne te karteer.

Mens sou kon wys op die omvang van die Afrikaanse boekebedryf om daarmee die suksesvolle toepassing van al die aspekte hier bo vermeld te belig, maar ten spyte van die groot prestasies wat in die vorige eeu in tale bereik is, wys Louw daarop dat die "onpresiese woord en die slordige gedagte" vanweë hoofsaaklik die invloed van die nuusmedia se "haastige koerantmanne" die norm van die tyd, bedoelende die 20ste eeu, geword het. Met die toevoeging van sosiale media sou mens kwalik kon sê dat die haastigheid vandag alleen tot die koerantmanne beperk is. Die slordige en onpresiese woord kan maklik tot blote prikkelings vir aggressie en die ondermyning van beskaafde en genuanseerde gesprekvoering oorskakel (voeg hierby die advertensies wat die berigte vergesel om die instemming tot prikkeling verder te stimuleer).

Om hierdie probleem teen te werk, vind ek aansluiting by Wilhelm von Humboldt se mening dat "Geistvolle Schriftsteller" oftewel "begeesterde skrywers" en 'n ontvanklike gehoor vir 'n taal nodig is, twee dinge wat allermins as vanselfsprekend aanvaar kan word.

Meer bepaald sal 'n taal kwalik sonder 'n "poetischer und philosophischer Geist" tot "Vollendung in ihrem Fortgange" kan ontplooi (Von Humboldt, 1974:114). Die wisselwerking tussen denkers en gehoor veronderstel gesonde en dinamiese instellings. Gesonde instellings sal nie die media ondermyn of slaafs napraat ter wille van relevansie nie, maar tereg laat kom as medium, as dít wat tussen mense, natuur en instellings bemiddel en sodoende skarniere vorm wat belangrik is vir die vormgewing aan betekenis in die moderne lewe.

Die ou argument dat 'n lingua franca die taal van die instellings, en veral die wetenskap behoort te wees, dra histories nie water nie. Dijksterhuis wys daarop dat die Latyns van die vyftiende en sestiende eeue reeds nie oor die woordeskat beskik het vir die moderne wêreld nie: "the scholar who felt obliged to express himself exclusively in Latin, and who could only do so by mangling it, was a familiar figure in Italian comedy" (Dijksterhuis, 1961:245). Uitnemende wetenskap berus dikwels op die plaaslike tale se beskrywings. Tale wat as lingua franca dien het dus ook grense, geskiedenis en partikulariteit, en moet konstant die verhewen-heid van die alledaagse van ander, kleiner tale raadpleeg om met nuwe beskrywings vorendag te kom.

Die grens van 'n taal verteenwoordig daarom moontlikheid sowel as beperking, tegelyk is dit ook daar waar die brûe oorspan. Die perk gee konkrete gestalte aan die begrip terwyl die moontlikheid van die begrip nie oneindig is nie, maar voortdurend sy eie perk moet erken. Vertaling laat 'n taal egter toe om die grense oor te steek en te verskuif, en sonder die grense van beide tale sou vertaling nie moontlik gewees het nie. Om hierdie rede kan daar nooit opgehou word om die klassieke te verken nie, dit vertel 'n verhaal wat ook ons verhaal is, universeel en partikulier. Tot slot kan ons wys op die belangrikheid van die grammatikaal-tegniese sowel as die taaleie wat in voortdurende wisselwerking met mekaar moet verkeer, 'n wisselwerking waarsonder nie een van die dele en by implikasie die geheel tereg kan kom nie.

 

BIBLIOGRAFIE

Aligieri, D. De Vulgare Eloquentia. https://warwick.ac.uk/fac/arts/modernlanguages/academic/lines/community/kenilworth/term2-wk9-dante-reading_2.pdf [Toegang verkry op 23/02/2022].         [ Links ]

Aristoteles. 2016. Poëtica. Amsterdam: Athenaeum.         [ Links ]

Aristoteles. 1998. Politics. Indianapolis: Hackett Publishing Company.         [ Links ]

Auerbach, E. 1993. Literary Language and its public in late latin antiquity and in the Middle Ages. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Augustinus. 2007. Belydenisse. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

Bragg, M. 2004. The Adventure of English: the biography of a language. London: Hodder & Stoughton.         [ Links ]

Burger, P; De Vries, JW; Willemyns, R. 1994. Het verhaal van een taal. Amsterdam, Prometheus.         [ Links ]

Dijksterhuis, EJ. 1961. The Mechanization of the World-Picture. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Louw, NP van Wyk. 1988. Gedagtes vir ons Tyd. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Han, BC. 2022. Hyperculture. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Hegel, GWF. 2018. Hauptwerke in sechs Banden: Band 3. Wissenschaft der Logik. Hamburg: Felix Meiner Verlag.         [ Links ]

Safranski, R. 2007. Romantiek: Een Duitse Affaire. Amsterdam: Atlas.         [ Links ]

Schoeman, MJ. 1989. Bou, woon, dink, deur Martin Heidegger. Vertaling met inleiding en kommentaar. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 29(3):165-179.         [ Links ]

Van Selms, A. 1941. Het Afrikaansch als Volks- en Cultuurtaal, De Fakkel, 1e Jaargang No. 4, Februarie 1941, bl. 258-270.         [ Links ]

Von Herder, JG. Wichtige Schriften. Kindle uitgawe.         [ Links ]

Von Herder, JG. 2004. Herder 's Philosophy. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Von Humboldt, W. 1974. Über die Vershiedenheit des menschlichen Sprachbaues. Hildesheim: Georg Olms Verlag.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2022-10-31
Goedgekeur: 2022-10-31
Gepubliseer: Desember 2022

 

 

 

Hercules Boshoff is 'n dosent in filosofie by Akademia. Hy was tot 2021 'n postdoktorale navorser by die Noordwes-Universiteit. Hy het sy PhD getiteld Ekonomie en Subjektiwiteit (2019) by die Universiteit van die Vrystaat voltooi, en sy MA (2015), by die Universiteit van Pretoria. Met beide hierdie projekte het hy onder van Nederland se mees vooraanstaande filosowe gewerk. Sy publikasies dek die filosofie van ekonomie, tegniek, taal, Duitse Idealisme, en die geskiedenis van filosofie.
Hercules Boshoff is a lecturer in philosophy at Akademia. He was a postdoctoral researcher at North West University from 2019-2021. He completed his PHD entitled Economics and Subjectivity (2019) at the University of the Free State, and his MA (2015) at the University of Pretoria. During both these projects he worked under some of the most distinguished philosophers in the Netherlands. His publications cover philosophy of technics, language, German Idealism, and the history of philosophy.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License