SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue4New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslationThe Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in Afrikaans author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.4 Pretoria Dec. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n4a3 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die tradisioneel-konserwatiewe vryheidsbe-skouing van Edmund Burke teenoor dié van moderne konserwatisme

 

Edmund Burke's traditonal conservative conception of freedom as opposed to that of modern conservatism

 

 

Ernst Roets

Hoof: Beleid en Aksie, Afriforum, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: ernst.roets@afriforum.co.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word daar aangevoer dat die Britse tradisioneel-konserwatiewe denker Edmund Burke (1729-1797) se vryheidsbeskouing fundamenteel verskil van die vryheids-beskouings wat moderne konserwatisme onderlê. Moderne konserwatisme word aan verskillende strome gekenmerk wat hoofsaaklik deur liberale vertrekpunte onderlê word. Dit sluit in: die libertariese stroom, wat ekonomiese vryheid beklemtoon; die neokonserwatiewe stroom, wat die universalisering van Westerse sosiale orde beklemtoon; en die klassiek-liberale stroom, wat individuele vryheid beklemtoon. Die tradisioneel-konserwatiewe vryheidsbe-skouing van Edmund Burke wyk in drie belangrike opsigte van al hierdie strome af: Eerstens beskou Burke vryheid as iets wat nie van die bevordering van die goeie losgemaak kan word nie; tweedens beskou Burke individue as wesens wat slegs werklik vry kan wees indien hulle hul verantwoordelikhede met betrekking tot hul gemeenskap nakom en sodoende daartoe bydra om hul gemeenskap vry te maak; derdens verwerp Burke politieke teorieë uitdruklik en beroep hom daarteenoor op ervaring as die enigste weg waardeur mense vrygemaak kan word. Gevolglik word vryheid, volgens Burke se ontleding, gekenmerk deur die nakoming van verantwoordelikhede, die bevordering van die goeie - nie net vir die individu nie, maar vir die breër gemeenskap - asook wedersydse respek en verdraagsaamheid tussen gemeen-skappe.

Trefwoorde: Edmund Burke; vryheid; konserwatisme; liberalisme; tradisie; die goeie; ervaring; rasionalisme; politieke teorie; individualisme, gemeenskap; Franse rewolusie


ABSTRACT

Even though Edmund Burke (1729-1797) is regularly described as the "founder of conservatism", it is argued in this article that Burke would not recognise his thinking in what is today regarded as modern conservatism. This is because modern conservatism - and the different strands that constitute it - can more aptly be described as particular strands within the broad framework of liberalism. The reason is that modern conservatism is in many ways built on liberal cornerstones, such as the pursuit of individual freedom, free markets, an appeal to political theory and a quest to universalise its way of thinking.
Modern conservatism can be divided into a number of strands. It is argued that the most influential of these strands include: 1) libertarianism, which emphasises economic freedom as the primary determining factor for freedom; 2) individualist conservatism, which emphasises the individualist theories of among others John Locke and Thomas Paine; and 3) neo-conservatism, which emphasises its quest to universalise the Western conception of social order.
The traditional conservatism of Edmund Burke - and his conception of freedom in particular - differs from the mainstream strands of modern conservatism in three fundamental ways. These can be summarised as: first, the pursuit of the good as the cornerstone to promote freedom; second, a view of the citizen as someone who finds meaning and fulfilment not by turning inward towards their individual selves, but by participating in the community towards the pursuit of the communal good; and third, by rejecting political theory as an approach to solving societal questions and resorting to experience instead. Burke linked experience to tradition, which he also described as the "wisdom of the ancients".
Nonetheless, Burke has been described as a liberal and even as the first post-modern thinker. This can be ascribed to his criticism of the prevailing political forces of his time, his support for the Glorious Revolution of 1688 (according to which monarchical power was limited in favour of parliamentary authority) and his support for American autonomy from British rule. It is argued that Burke does notfit these ideological labels, as Burke's conception of identity and offreedom was fundamentally conservative and hardly reconcilable with the tenets of liberalism and post-modernism.
Burkean thought is not characterised by an aversion to change, but rather by a pragmatic approach to political change, which favours gradual change and reform over sudden change and revolution. Therefore, he argued for change in favour of American autonomy from the British Empire. Burke argued that the Americans had developed a different culture than that of the British and that they could therefore not be governed by the British as if they had in fact been British. This, according to Burke's analysis, constituted not freedom, but rather imperialism and oppression, which could be described as the opposite of freedom.
Burke clearly distinguished between his own conception of freedom (which places the emphasis on the fulfilment of responsibilities in the context of community) and individual licence (according to which freedom is regarded as a circumstance under which individuals can do whatever they please). In Burke's analysis, freedom can only be achieved by preserving what is good from the past and building upon it towards the good, which is grounded in Christianity. This, he argued, can only be done by valuing experience over theory. For this reason, he rejected the French Revolution's conception of freedom, describing it as unnatural and savage.
For Burke, freedom naturally implied that citizens of the community should suppress their immoral appetites. Failing to achieve this or giving in to one's sinful desires was, in Burke's analysis, a state of slavery - not freedom. This is because the pursuit of the good naturally implies that freedom must be connected to the pursuit of virtue rather than licence. Therefore, Burke described freedom as "not solitary, unconnected, individual selfish liberty, " but as liberty "secured by the equality of restraint."
It is thus concluded that in Burke's conception of freedom, he did not place the individual at the centre; nor did he define freedom along the lines of unlimited market participation; nor did he attempt to convert other cultures to his way of thinking.

Keywords: Edmund Burke; freedom; conservatism; liberalism; tradition; the good; experience; rationalism; political theory; individualism, community; French revolution


 

 

1. Inleiding

Edmund Burke (1729-1797) word vandag dikwels as die "stigter van konserwatisme" beskryf (Norman, 2013:282; Mansfield, 1987:688). Tog sou Burke nie homself of sy idees in die uitsprake van 21ste-eeuse hoofstroomkonserwatiewes herken nie. Dit is omdat die denk-raamwerk wat vandag algemeen as "konserwatisme" beskryf word meer gepas beskryf kan word as 'n aantal konserwatiewe strome in die liberale ideeraamwerk; of, om dit korter te stel: konserwatiewe liberalisme. Daarom het dit nodig geword om Burke se idees as klassieke of tradisionele konserwatisme te beskryf, ten einde dit van moderne konserwatisme te onderskei (Henrie, 2004). Die begrip "liberale konserwatisme" (dus, 'n liberale stroom in die konser-watiewe denkraamwerk) is ook al gebruik om Burke se idees te beskryf, omdat Burke se benadering in die konteks van sy tyd soms inderdaad as liberaal beskryf kan word (Andreasson, 2014:12). Sy ondersteuning van die Glorieryke Rewolusie van 1688, ingevolge waarvan die mag van die koningshuis ten gunste van die parlement beperk is, sy pleidooi teen die Britse oorheersing van Amerika en sy sterk standpunt teen slawerny is voorbeelde hiervan. Daar word ook dikwels gesê dat Burke 'n liberale benadering tot die ekonomie gehad het. Sy aansluiting by die idees van Adam Smith word gewoonlik ter stawing hiervan aangevoer.

Hoewel daar 'n klemverskil tussen die begrippe "klassieke konserwatisme", "tradisionele konserwatisme" en "liberale konserwatisme" bestaan, word dit dikwels afwisselend gebruik om breedweg na dieselfde ideeraamwerk te verwys. Dit is die ideeraamwerk waarvan Burke gereeld as die voorste denker voorgehou word (Andreasson, 2014:13; Wills, 2017).

Ek verkies die begrip "tradisionele konserwatisme", eerstens omdat Burke soveel klem op tradisie geplaas het, tweedens omdat die begrip "klassieke konserwatisme" moontlik die leser onder die wanindruk kan bring dat daar van die idees van klassieke denkers soos Plato en Aristoteles gepraat word, en derdens omdat die ingeboude teenstrydigheid in die begrip "liberale konserwatisme" moontlik die leser kan verwar.

Om Burke as die stigter van konserwatisme te beskryf, kan ook verwarrend wees, juis omdat Burke voortgebou het op die antieke denkers van Athene, Jerusalem en Rome. Hierdie beskrywing van Burke beklemtoon egter dat hy gewoonlik beskou word as die eerste toonaangewende denker wat repliek gelewer het op die idees van die Verligting, wat in belangrike opsigte die Westerse tradisie waarop Burke hom beroep, verwerp. Daarom beskryf Christopher Hitchens die debat tussen die konserwatiewe Burke en die liberale Thomas Paine as die voorloper van alle moderne argumente tussen dié wat in tradisie, eiendom en die oorerflikheidsbeginsel glo, en dié wat daardie dinge wantrou of verafsku (Hitchens, 2021:69).

In hierdie artikel gee ek eerstens 'n kort oorsig oor die liberale vertrekpunte van moderne konserwatisme ten einde die tafel te dek vir die gevolgtrekking dat moderne konserwatisme dikwels met Burke se tradisioneel-konserwatiewe vryheidsbeskouing onversoenbaar is. Daarna maak ek enkele opmerkings oor die konteks waarin Burke geleef het om vir die leser 'n beter begrip van Burke se vryheidsbeskouing te gee. Daarna behandel ek drie van Burke se hoofargumente, naamlik Burke se begrip vir die goeie, Burke se beskouing van die mens en die gemeenskap, en Burke se beroep op ervaring. Teen hierdie agtergrond verduidelik ek dan Burke se vryheidsbeskouing, voordat enkele slotopmerkings gemaak word.

 

2. Die liberale vertrekpunte van moderne konserwatisme

In Burke se beskouing is die konserwatiewe ideeraamwerk nie 'n ideologie nie, maar eerder 'n soort "anti-ideologie", juis omdat Burke so sterk teen die indruis van politieke teorie in die werklikheid beswaar maak. Dit is waarom Roger Scruton sê dat konserwatisme nie beoog om die aard van die mens reg te stel of aan die hand van die voorkeur van een of ander rasionele denker te vorm nie (Scruton, 2019a:119). Dit is veral in hierdie opsig waar moderne konser-watisme dikwels van die tradisioneel-konserwatiewe idees van Burke afwyk, omdat die moderne konserwatiewe idees wat ek hier beskryf, dikwels gekenmerk word deur bepaalde teorieë op grond waarvan aansprake ten opsigte van die werklikheid gemaak word. In hierdie verband sluit moderne konserwatisme in belangrike opsigte eerder by liberalisme as by die tradisioneel-konserwatiewe ideeraamwerk van Burke aan. Dit is omdat liberalisme aanvoer dat die mensdom en die samelewing deur menslike vermoë en rede verbeter kan word wanneer universeel-geldige beginsels en regte - waarin die mens as individu sentraal staan - vasgestel en toegepas word (Andreasson, 2014).

Konserwatisme - en veral die moderne verskynsel daarvan - is allermins homogeen. In sy handboek oor politieke ideologie identifiseer Andrew Heywood ten minste tien strome wat op een of ander manier as "konserwatief" beskryf kan word (Heywood, 2007). Harvey Mansfield sê op sy beurt dat die konserwatiewe beweging breedweg uit twee strome bestaan: die tradisioneel-konserwatiewe stroom en die (meer moderne) libertariese stroom (Mansfield, 1987: 668). Daar is egter bykomende strome wat sedert die val van die Berlynse muur vorm aangeneem het, wat ook as hoofstrome in die moderne konserwatiewe beweging beskryf kan word.

Wanneer ek gevolglik in hierdie artikel van "moderne konserwatisme" praat, verwys ek nie na een samehangende stel idees nie, maar na die mees invloedryke strome wat deel vorm van dit wat in die 21ste eeu algemeen as die konserwatiewe beweging beskou word.

Hierdie strome is eerstens die libertariese stroom, wat ook na hulleself as klassiek-liberaal verwys, maar wat oor die algemeen as konserwatief vertolk word. Die libertariërs plaas veral klem op die vrye mark, minimale (of selfs geen) staatsregulering en individuele vryheid. Hoewel hierdie stroom dit met Burke eens is dat die vrye mark belangrik is, wyk hulle van Burke af wanneer hulle die vryheid en gesag van die mens as individu sentraal plaas.

'n Verdere belangrike stroom is die neokonserwatiewes, wat minder individualisties as die libertariërs is. Waar Burke die klem op kultuur en tradisie geplaas het, is die neokon-serwatiewes meer staatlik-nasionalisties. Die onderskeidende kenmerk van die neokonser-watiewes is hulle oortuiging dat die Westerse sosiale orde die beste soort sosiale orde is, en dat die wêreld meer vry en vreedsaam sal wees indien hierdie idees algemeen aanvaar word (Vaïsse, 2010:3). In hierdie opsig breek die neokonserwatiewes radikaal met die idees van Burke, wat vanuit sy sterk pro-kultuurbenadering aanvoer dat een kultuurgemeenskap nie aan 'n ander moet voorskryf nie. Burke het paternalisme as onderdrukkend, vernietigend en onvolhoubaar beskou.

'n Derde stroom, wat veral in die 2010's op die voorgrond getree het, is 'n groep konser-watiewe denkers wat moeite doen om hulleself van die libertariërs en klassiek-liberales te onderskei, maar wat beduidende raakpunte met die libertariese konserwatiewes het. Dit is konserwatiewes wat dikwels veel groter waarde aan liberale denkers soos John Locke en Thomas Paine as aan konserwatiewe denkers soos Edmund Burke en Alexis de Tocqueville heg. 'n Kenmerkende eienskap van hierdie konserwatiewes is dat hulle die gebrek aan individualisme dikwels diagnoseer as die oorsaak van baie van die wêreld se probleme en gevolglik ook dat hulle individualisme en individuele vryheid dikwels as die oplossing voorhou. Daarom kan hulle vir die doel van die argument as "individualistiese konserwatiewes" beskryf word. Die term "identiteitspolitiek" as 'n versamelnaam om na die veldtogte van linkse bewegings te verwys, is veral deur die individualistiese konserwatiewes gepopulariseer. Die woordkeuse is veelseggend, omdat dit die idee dat politiek op die basis van identiteit beoefen kan word in beginsel verwerp.

Hierdie vertrekpunt is onversoenbaar met die tradisioneel-konserwatiewe benadering van Burke, wat sterk teen individualisme gewaarsku het. Burke se kritiek op linkse bewegings was nie dat hulle "identiteitspolitiek" beoefen nie, maar eerder dat dit natuurlike identiteit verwerp wanneer dit poog om die werklikheid aan die hand van abstrakte teorieë in te rig - iets waaraan die individualistiese konserwatiewes hulleself ook soms skuldig maak.

 

3. Edmund Burke in konteks

Edmund Burke was 'n enigma. Sy kritici beskuldig hom daarvan dat hy nie konsekwent was nie. Hy word ook soms 'n lopende paradoks genoem. Waar Burke byvoorbeeld radikale denke in beginsel veroordeel, voer sy kritici aan dat hy self ook die aanvoerder van radikale idees is (Norman, 2013:183). Hoewel Burke skerp kritiek gelewer het op die idees wat die Verligting onderlê, word daar ook daarop gewys dat hy in vele opsigte 'n tipiese denker van die Verligting was - hy was byvoorbeeld goed opgevoed, goed opgelei en voortdurend in die middelpunt van Londense intellektuele gesprekke (Norman, 2013:186-187).

Terwyl Burke 'n beroep op dinge van die verlede, soos kultuur, tradisie en erfenis geplaas het, word hy vandag soms as 'n postmoderne denker voorgehou (Norman, 2013:236). Hoewel Burke se Reflections on the Revolutions in France hoofsaaklik 'n kritiek op rasionalisme is, word die boek deur Roger Scruton as 'n "tour de force in rational thought" beskryf (Scruton, 2019b:vii). En laastens, terwyl Burke self kritiek op die monargie gelewer het en homself as't ware vir die beperking van koninklike inmenging beywer het, het hy die Franse Rewolusie, wat ten doel gehad het om die koningshuis omver te werp, ook verwerp (Burke, 2009).

Hierdie "paradokse" blyk egter slegs teenstrydighede te wees indien die samehang in Burke se benadering nie ingesien word nie. Met die skryf van Reflections het Burke voorsien dat sy kritici hom van inkonsekwentheid sal beskuldig. Hy het sy antwoord daarop in die slotparagrawe neergepen deur sy oorhoofse doelwit te vergelyk met 'n skip wat op pad is na sy bestemming, en sy argumente wat betref die kanonne en bagasie op daardie skip:

(My opinions come) from one who wishes to preserve consistency; but who would preserve consistency by varying his means to secure the unity of his end; and, when the equipose of the vessel in which he sails, may be endangered by overloading it upon one side, is desirous of carrying the small weight of his reasons to that which may preserve its equipoise. (Burke, 2009:249-250)

Die einddoel waarvoor Burke hom beywer, is 'n volhoubare beskouing van vryheid. Vir Burke is vryheid nie 'n abstrakte konsep wat aan elke individu behoort nie, maar iets wat veel meer tasbaar is, in die natuur geanker is en in die gemeenskap vervul word.

Burke is in 1729 in Dublin, Ierland gebore. Sy pa was 'n prominente prokureur en 'n Protestant, en sy ma was 'n Katoliek (Levin, 2014:3). Burke het egter in die Anglikaanse geloof groot geword en het van jongs af 'n belangstelling in politiek, filosofie, taal en kultuur getoon (Levin, 2014:4). Ná voltooiing van sy studies by Trinity College in Dublin het hy na Londen verhuis om verder in die regsgeleerdheid te studeer (Norman, 2013:16). Hy het egter sy studies in hierdie verband gestaak om sy tyd eerder daaraan te wy om oor groot politieke vraagstukke te skryf (Levin, 2014:4).

Sy eerste publikasie in 1756, A Vindication of Natural Society (Burke, 2004), is 'n satire wat daarop gerig is om die absurde gevolge van Lord Bolingbroke (1678-1751) se politieke teorie in die praktyk uit te wys (Mansfield, 1987:690). Daarin onderskei hy tussen natuurlike en kunsmatige oortuigings. Natuurlike oortuigings spruit uit die natuurwet en die aard van die mens, terwyl kunsmatige oortuigings deur abstraksies gekonstrueer word. Hy skaar hom dan by 'n beroep op die natuurlike samelewing, wat hy as rasioneel en wetenskaplik beskryf, en verwerp gevolglik die beroep op 'n kunsmatige samelewing as ontwortelde dogma (Levin, 2014:5).

In sy daaropvolgende werk in 1759, A Philosophical Enquiry into the Origins of Our Ideas of the Sublime and the Beautiful (Burke, 2004), voer Burke aan dat die verskil tussen die verhewe en die skone ("the sublime and the beautiful") in die verskil tussen liefde en vrees geanker is. Daarin argumenteer Burke dat die mens van nature meer op die emosionele as op die rasionele staatmaak, en dat politiek rekening moet hou met die feit dat mense deur meer as blote logika aangevuur word. Hy som dit op in die stelling: "The influence of reason in producing our passions is nothing near so extensive as it is commonly believed" (Burke, 2004:91; Levin, 2014:6).

In 1765 is Burke verkies as lid van die House of Commons, wat vir die volgende drie dekades Burke se arena sou wees (Levin, 2014:7). Gedurende sy loopbaan het Burke vyf groot politieke gevegte aangepak: eerstens vir meer gelyke behandeling van die Katolieke in Ierland; tweedens teen Britse onderdrukking van die dertien Amerikaanse kolonies; derdens vir grondwetlike beperkings op die uitvoerende gesag en koninklike beskerming ("royal patronage"); vierdens teen die korporatiewe mag van die Oos-Indiese Maatskappy in Indië; en vyfdens teen die invloed van die dogma ten grondslag van die Franse Rewolusie. Dit is veral vir sy kritiek op die Franse Rewolusie waarvoor Burke vandag steeds bekend is (Norman, 2013:2).

In sy 1770-pamflet, Thoughts on the Causes of the Present Discontents (Burke, 2004), sê hy dat politieke partye nie bloot verskillende faksies is wat met mekaar meeding vir bepaalde voordele nie, maar dat dit eerder liggame is wat ingerig word deur mense wat rondom 'n gemeenskaplike visie oor die gemeenskaplike goeie ("common good") met mekaar assosieer (Levin, 2014:8). 'n Belangrike komponent van Burke se denke tree ook in hierdie werk na vore, naamlik sy beklemtoning van verstandige ("prudent") staatsmanskap, die sentimente van die mense en die verhewe status van sosiale en politieke instellings (Levin, 2014:8).

In 1775 het Burke aangevoer dat die Amerikaners se kultuur en vryheidsbeskouing anders as dié van die Britte verwerk is en dat die Amerikaners dus nie regeer kan word asof hulle Britte is nie (Burke, 2004). Ofskoon Burke daarvan oortuig was dat politieke regte belangrik is, het hy bygevoeg dat regte nie van verantwoordelikhede ontkoppel kon word nie (Levin, 2014:10). Sy klem was dus deurgaans op die bydrae wat die mens as burger met betrekking tot sy gemeenskap lewer, eerder as die regte waarop die mens as individu kan aanspraak maak.

Burke is sterk beïnvloed deur die Franse filosoof Charles-Louis de Secondat Montesquieu (1689-1755), wat hy as "the greatest genius, which has enlightened this age" beskryf het (Mansfield, 1987:695). Montesquieu het aangevoer dat die geskiedenis deur algemene oorsake ("general causes") gerig is, beperk deur die aard van dinge ("the nature of things"), wat fisiese geografie insluit, sowel as menslike gebruike en die reg (Burke, 2009:186; Mansfield, 1987:695; Norman, 2013:32).

Met sy magnum opus in 1790, Reflections on the Revolution in France, lewer Burke skerp kritiek op die idees wat die Franse Rewolusie onderlê. Hy maak in die besonder beswaar teen wat hy as "experimental government" beskryf (Burke, 2009:165) en voer aan dat die "philosophical fanatics" van die rewolusie verwyder is van die werklikheid (Burke, 2009:149).

As gevolg van die geweldige impak van sy Reflections word Burke vandag as die hoofbron van kritiek teen die ideologie van die Franse Rewolusie beskou (De Blois, 2008:213). Samuel Huntington het dit in 1957 as die hoeksteen van die Engelse tradisie oor konserwatisme beskryf (Huntington, 1957:470). Hy het op daardie stadium bygevoeg dat Engelse konserwatiewes verenig is in die identifisering van Edmund Burke as die konserwatiewe argetipe, asook in die aanname dat die basiese elemente van Burke se gedagtes ook die basiese elemente van konserwatisme geword het (Huntington, 1957:470).

Die Burkeaanse tradisie word aan die hand hiervan gekenmerk deur 'n pragmatiese benadering tot politieke en sosiale hervorming (O'Sullivan, 1976) en nie, soos wat soms beweer word, 'n verwerping van sosiale, politieke en ekonomiese verandering in beginsel nie (O'Hara, 2011). Stefan Andreasson merk egter op dat moderne Engelse konserwatisme so vervleg geraak het met Torisme en liberalisme dat dit vandag - in teenstelling met Burke se beskouing - hoofsaaklik gekenmerk word deur die verknogtheid aan individualisme en 'n (negatiewe) vryheidsbeskouing wat die klem op ongebondenheid plaas (Andreasson, 2014:11).

Burke het die 1789-rewolusie in Frankryk van die Glorieryke Rewolusie van 1688 onderskei deur te beklemtoon dat laasgenoemde 'n versigtige, beperkte, dinastiese en konstitusionele verandering was (Parkin, 1986:121). Die Glorieryke Rewolusie was 'n relatief bloedlose staatsgreep wat Willem en Mary van die Huis van Oranje op die troon geplaas het en Protestantisme tot die amptelike godsdiens van die staat verklaar het (Hitchens, 2021:72). In teenstelling met die Franse Rewolusie het die burgers van Engeland deur die Glorieryke Rewolusie drie fundamentele regte verseker, wat die sosiale orde en samehang van die Britse grondwet versterk het. Hierdie regte is die reg van die burgers om self te kies wie hulle moet regeer; om regeerders vir wangedrag af te sit; en om self te besluit hoe die regering saamgestel moet word (Burke, 2009:16).

Burke se uitnemendheid as politieke denker word nie net deur die skerpsinnigheid van sy kommentaar gestaaf nie, maar in die besonder deur sy aangrypende vermoë om voorspellings oor die toekoms te maak. Burke het Karl Marx se kommunisme in die vooruitsig gestel toe hy die totalitêre gevolge van 'n bourgeoisrewolusie skets. Dit is geen verrassing dat Marx later vir Burke as "an out-and-out vulgar bourgeois" beskryf het nie (Hitchens, 2021:81).

Met die moontlike uitsondering van Rosa Luxemburg se voorspelling aan Vladimir Lenin oor wat die gevolge van die Bolsjevistiese rewolusie sou wees, skryf Christopher Hitchens ('n kritikus van Burke), dat hy nie bewus is van "any more chillingly accurate forecast" as dié van Burke oor wat die gevolge van die Franse Rewolusie sou wees nie (Hitchens, 2021:83). Burke het onder meer voorspel dat die koning en die koningin doodgemaak sal word (Burke, 2009:266) en dat die politieke strukture wat die rewolusie gelei het in duie sou stort (Burke, 2009:88). Sy merkwaardigste voorspelling is die vooruitsig dat 'n populêre generaal na vore sou tree om die politieke lugleegte te vul, wat natuurlik in 1799 gebeur het toe Napoleon die mag oorgeneem het om homself in 1804 as keiser te kroon. Burke se voorspelling in hierdie verband verdien om aangehaal te word:

In the weakness of one kind of authority, and in the fluctuation of all, the officers of an army will remain for some time mutinous and full of faction, until some popular general, who understands the art of conciliating the soldiery, and who possesses the true spirit of command, shall draw the eyes of all men upon himself. Armies will obey him on his personal account. There is no other way of securing military obedience in this state of things. But the moment in which that event shall happen, the person who really commands the army is your master; the master (that is little) of your king, the master of your assembly, the master of your whole republic. (Burke, 2009:221)

'n Oorhoofse tema by Burke is sy afkeer van onreg en magsmisbruik (Norman, 2013:2). Onderliggend aan sy basiese uitgangspunte is die idee van vryheid. Hy het die selfgesentreerde vryheidsbeskouing van die Verligting as vernietigend beskou en hom beroep op 'n meer natuurlike vryheidsbeskouing waarin individue nie teenoor die gemeenskap opgestel word nie, maar waarin vryheid slegs werklik vervul word indien mense op grond van hulle unieke talente hulle plek in die gemeenskap vind, en daarmee saam indien die gemeenskap nie aan die hand van politieke filosofie of teorie ingerig word nie, maar op grond van ervaring van die werklikheid.

 

4. Burke se begrip vir die goeie

Burke is vandag veral bekend vir 'n aanhaling wat verkeerdelik aan hom toegeskryf word. Daar word gereeld gesê dat Burke gesê het dat "The only thing necessary for the triumph of evil, is for good men to do nothing" (Brainyquote, ongedateerd). Dit is egter te betwyfel of Burke regtig daardie woorde gebruik het. Trouens, hy sou dit waarskynlik nie gesê het nie, en sou daarteenoor waarskynlik redeneer dat die passiwiteit van goeie mense nie die enigste ding is wat nodig is vir die bose om te seëvier nie. Wat Burke in werklikheid in 1770 in sy politieke pamflet, Thoughts on the Cause of the Present Discontents, geskryf het, is:

When bad men combine, the good must associate; else they will fall, one by one, an unpitied sacrifice in a contemptible struggle. (Burke, 2004:268)

Hierdie aanhaling sê baie meer oor Burke se werklike lewensuitkyk. In sy pleidooi vir goeie mense om saam te staan, maak hy ook die punt dat sodra mense ontkoppel geraak het van hulle gemeenskap en van dit wat objektief as "goed" beskryf kan word, word hulle bloot vryswewende individue, wat uiteindelik sal val, een vir een. Dit vorm die kern van Burke se kritiek op die Verligting en die Franse Rewolusie: As geen idee bo kritiek verhewe is nie en as geen tradisie of instelling te belangrik is om potensieel vernietig te word nie, dan, voer Burke aan, sal ons uiteindelik daardie punt bereik waar alles waarop die samelewing gebou is, verwerp of vernietig is.

In Burke se ontleding is hierdie toestand veel nader aan slawerny as aan vryheid. Daarom beskryf Burke dit as 'n "misfortune" dat alles in die gees van verligting vir potensiële verwerping vatbaar is (Burke, 2009:91). Hoewel Burke self sê dat verdraagsaamheid belangrik is (Burke, 2009:163), voeg hy by dat nie alles verdra hoef te word nie, juis omdat sekere dinge goed en ander sleg is. Om daarop aanspraak te maak dat alle dinge verdra moet word en dat daar nie tussen goed en kwaad onderskei hoef te word nie, skryf Burke, is 'n kwessie van geringe verdienste (Burke, 2009:151).

Die goeie waarna Burke verwys, kom van God en spruit veral uit die Christendom, wat hy beskryf as "our boast and comfort, and the one great source of civilization among us, and among many nations" (Burke, 2009:91; De Blois, 2008:220). Vanuit die Christelike tradisie spruit diepgaande en omvangryke ("profound and extensive") wysheid (Burke, 2009:91). Vanuit hierdie wysheid organiseer mense hulleself in gemeenskapsverband, omdat mense slegs in gemeenskap met ander werklik die goeie kan bevorder (Baldacchino, 2012), maar ook omdat mense as individue aan 'n "lust for selfish will" ly (Burke, 2009:270), wat slegs in die konteks van gemeenskap getemper kan word. Die nederigheid wat deur die Christelike tradisie geleer word, skryf Burke, staan teenoor die "selfish, flattering, seductive, ostentatious vice, in the place of plain duty" wat deur die sekulêre wêreld aangemoedig word (Burke, 2009:270).

Hy voer aan dat ware nederigheid die basis van die Christendom en die grondslag van alle deugde is - in teenstelling met die selfgesentreerde ingesteldheid van die Verligting (Burke, 2009:268). In aansluiting by Christus se opmerking dat dié wat nie vir hom is nie, teen hom is (Lukas 11:23), sê Burke dat daar nie so iets soos 'n neutrale ateïs is nie, omdat dié wat geloof nie lief het nie, dit by implikasie verafsku (De Blois, 2008:3).

Burke sê dat mense van nature sondig is, maar dat mense ook oor die vermoë beskik om goeie dinge te doen, veral wanneer hulle in gemeenskapsverband met mekaar assosieer. Dit is omdat mense se bose instinkte nie deur hulleself in toom gehou kan word nie, maar slegs deur 'n krag wat nie vanuit die individu afkomstig is nie (De Blois, 2008:221). Hy voeg by dat party mense van nature meer goed en ander van nature meer boos is (Burke, 2004:229).

Gemeenskappe en politieke instellings moet dus ingerig word op 'n wyse wat die goeie mense daarvan weerhou om bose dinge te doen en bose mense daarvan weerhou om deel van die regering te word (Burke, 2004:230). Bose dinge spruit veral daaruit wanneer mense van hulle gemeenskap en tradisie losgemaak word (Baldacchino, 2012). Dit gebeur omdat gemeenskappe - wanneer dit die goeie bevorder - bepaalde struikelblokke daarstel wat dit vir die burgers van daardie gemeenskap moeiliker maak om onder hulle sondige natuur en selfgesentreerde drange te swig. Hierdie struikelblokke spruit uit dinge soos kultuur, instellings en sosiale druk. Daarom maak Burke die omstrede stelling wat teen die sentrale gees van die Verligting indruis:

Society requires not only that the passions of individuals should be subjected, but that even in the mass and body as well as in the individuals, the inclinations of men should frequently be thwarted, their will controlled, and their passions brought into subjection. (Burke, 2009:60)

Uit die grondwet van die tradisionele gemeenskap (dit is die daadwerklike grondwet, wat nie noodwendig 'n geskrewe dokument is nie) spruit die goeie, en dinge wat in weerspreking van die grondwet saamgestel word, is die grootste van alle booshede (Burke, 2004:410).

Burke waarsku daarom in die besonder teen die bose dinge wat daaruit voortspruit wanneer mense aan die genade van abstrakte filosofie oorgelaat word. Hy sê:

Those who have made the exhibition of the 14th of July ['n verwysing na die bestorming van die Bastille in 1789, wat algemeen as die begin van die Franse Rewolusie beskou word], are capable of every evil. They do not commit crimes for their designs; but they form designs that they may commit crimes. It is not their necessity, but their nature, that impels them. They are modern philosophers, which when you say of them, you express everything that is ignoble, savage and hard-hearted. (Burke, 2009:268)

 

5. Burke se beskouing van die mens en die gemeenskap

Waar Aristoteles in 350 v.C. die mens as 'n politieke dier beskryf (Aristoteles, 1992:59), voeg Burke in 1790 by dat die mens van nature 'n sosiale en godsdienstige dier is (Burke, 2009:9091; Mansfield, 1987:701). Hy sluit verder by die Atheense tradisie aan wanneer hy sê dat die menslike siel uit verskillende komponente bestaan en dat menslike gedrag sinvol is wanneer daar harmonie in die siel is (Aristoteles, 2020:24-27; Parkin, 1986:126; Plato, 1973:61-66). In Plato se beskrywing bestaan die menslike siel uit drie komponente. Dit is die menslike rede (die nous), die menslike begeertes en drange (die epithumia) en die menslike geestelikheid (die thumos), waarby inbegrepe is die mens se behoefte aan betekenis en om by te dra tot die dinge wat groter as die individu is (Plato, 1973:61-66). Omdat mense van nature beide goeie en bose dinge doen, is menslike instellings van nature ook geneig om goeie sowel as bose dinge te doen (Burke, 2009:126).

Burke se beskrywing van die mens in die konteks van die gemeenskap word gewoonlik verwoord as 'n teenargument vir die idees wat die Verligting onderlê. In hierdie verband het hy veral vir Jean-Jacques Rousseau uitgesonder, wat hy beskryf het as "a lover of his kind, but a hater of his kindred" (Burke, 2009:272). Burke is egter vanweë die debat wat op sy Reflections on the Revolution in France gevolg het veral bekend vir sy meningsverskil met Thomas Paine (1737-1809). Hierdie meningsverskil het veral verband gehou met Burke en Paine se begrip vir die natuurtoestand en, wat daarop volg, die aard van die mens.

Paine, wie se benadering meer individualisties was, het hom daarop beroep dat die mens in die natuurtoestand in die eerste plek 'n individu is. Uit die natuurtoestand spruit die natuurreg, wat deur Paine in individualistiese terme vertolk is (Hitchens, 2021:36). Daarteenoor het Burke aangevoer dat die natuurtoestand tot die ontwikkeling van natuurlike gemeenskap tussen mense lei. Waar Paine dus vir Burke gekritiseer het dat hy in sy mensbeskouing nie heel by die begin begin nie, het Burke vir Paine gekritiseer dat hy nie ag slaan op die mens se natuurlike instink om met ander te assosieer nie (Levin, 2014:43-68). Burke het vertroudheid met die aard van die mens as 'n voorvereiste beskou om die mensdom te kan dien (Baldacchino, 2012; Burke, 2009:137).

In A Vindication of Natural Society gee Burke toe dat mense in die natuurtoestand aan groot ongerief onderwerp is. Dit sluit die tekort in aan eenheid (union), wedersydse hulp en 'n gemeenskaplike arbiter om geskille te besleg. Burke beroep hom dan op die natuurlike samelewing wat uit die natuurtoestand voortspruit. Hy beskryf die natuurlike samelewing soos volg:

The original Children of the Earth lived with their Brethren of the other Kinds in much Equality. Their Diet must have been confined almost wholly to the vegetable Kind; and the same Tree, which in its flourishing State produced them Berries, in its Decay gave them Habitation. The mutual Desires of the Sexes uniting their Bodies and Affections, and the Children, which were the Results of these Intercourses, introduced first the Notion of Society, and taught its Conveniences. This Society, founded in natural Appetites and Instincts, and not in any positive Institution, I shall call Natural Society. (Burke, 2004:8)

Burke spreek dan sy kommer uit oor die feit dat die mens klaarblyklik van nature nie kan insien wanneer om tevrede te wees met dit wat hy het nie en dat die voortdurende strewe na meer daartoe kan lei dat die mens alles verloor wat hy oor die jare versamel het (Burke, 2004:8-9). Hy sê dat die mens in die natuurtoestand aansienlike voordeel gevind het in die samevoeging van 'n aantal mense om een familie te vorm. Gevolglik het die mens besluit om die voordele van die familie uit te brei deur 'n aantal families saam te voeg en so 'n gesamentlike politieke bestel ("body politic") te vorm.

Omdat die politieke bestel nie 'n natuurlike verskynsel is nie, skryf Burke, is dit ook nie 'n volhoubare reëling wat van nature bymekaar gehou word nie. Daarom het die mens besluit om dié gebrekkige reëling wat van nature dreig om ineen te stort met wette aanmekaar te hou (Burke, 2004:9). Burke beskryf die samelewing wat onder hierdie reeling in die lewe geroep word as die (onnatuurlike, of kunsmatige) politieke samelewing (Burke, 2004:9). Hy voer dan aan dat die grootste deel van die vernietiging van die (menslike) spesie aan die gevolge van die politieke samelewing toegeskryf kan word (Burke, 2004:19). Hy plaas die skuld vir hierdie vernietiging vierkantig voor die deur van dié wat die mensdom deur middel van wetgewing en abstrakte teorieë van die natuurtoestand wil bevry. Hy beklemtoon sy argument deur aan te voer dat daar iets in die aard van die mens is wat so teensinnig is met betrekking tot "artificial political Distinctions, that we need no other Trumpet to kindle us to War, and Destruction" (Burke, 2004:21). Burke sê dat hierdie vernietiging voorkom wanneer die mens met onnatuurlike mag toegerus word, omdat die menslike hart en verstand deur onnatuurlike mag gekorrumpeer word (Burke, 2004:23).

Burke verwerp in die besonder die teorie wat veral deur Thomas Hobbes, John Locke en Rousseau verwoord is, waarmee aangevoer word dat die staat deur 'n onderlinge verbond of "sosiale kontrak" tussen individue in die lewe geroep word (Hobbes, 2017:109; Locke, 2011:168; Rousseau, 2004:7). Hierdie kontrak behels dat mense instem om hulle vryheid in te perk deur van hulle natuurlike magte aan die staat oor te dra, wat opgerig word om individue veilig te hou en hulle vryheid te verseker deur sosiale interaksie tussen hulle te reguleer.

In Burke se beskouing is hierdie teorie abstrak en van die werklikheid verwyder. Sy antwoord daarop is dat daar inderdaad 'n soort "sosiale kontrak" in die konteks van die gemeenskap bestaan, maar dat dit nie die soort is wat Hobbes, Locke en Rousseau in gedagte het nie. Die belangriker sosiale kontrak is die ongeskrewe vennootskap tussen dié wat lewe, dié wat reeds gesterf het, en dié wat nog nie gebore is nie. Burke verduidelik dit so:

Society is indeed a contract ... It is a partnership in all science; a partnership in all art; a partnership in every virtue, and in all perfection. As the ends of such a partnership cannot be obtained in many generations, it becomes a partnership not only between those who are living, but between those who are living, those who are dead, and those who are to be born. (Burke, 2009:96)

Dié wat reeds gesterf het, skryf Burke, is nie bloot stigters van die samelewing nie, maar is eerder "'silent partners' who have had their say and now make their point by unspoken reproach" (Mansfield, 1987:697). Burke was natuurlik nie die eerste denker wat hom op 'n verhouding tussen die verskillende geslagte beroep het nie. Daarmee sluit hy as't ware aan by die klassieke Westerse tradisie, soos onder meer verwoord deur Homeros (gebore ongeveer 900 v.C.) en Cicero (106 v.C.-43 v.C.). In Homeros se Ilias verklaar die Trojaanse prins, Hektor, dat hy tot die dood sal veg om die groot roem van sy vader te handhaaf, want deur dit te doen, handhaaf hy ook sy eie roem. Daarna bid hy dat sy eie prestasies eendag deur dié van sy seun oorskadu sal word (Homeros, 1952:98-99). Cicero het dié tradisie voortgesit deur te sê dat dit 'n "mees heerlike ding" is om iets vir jou nageslag na te laat, terwyl dit 'n "afskuwelike ding" is wanneer 'n gemeenskap dit wat hulle van hulle voorouers geërf het, nie vir die nageslag bewaar nie (Cicero, 2018:174).

In die natuurlike gemeenskap - wat vir Burke ook die maatstaf vir 'n gesonde gemeenskap is - is daar orde (Burke, 2009:275). Ten einde hierdie orde te handhaaf, is 'n mate van mag (gesag) van nature in die gemeenskap gesetel (Burke, 2009:142). In aansluiting by Plato sê Burke ook dat hierdie gemeenskap van nature uit hiërargieë bestaan, waar elke burger daarvoor verantwoordelik is om sy plek in die groter geheel te vind (Burke, 2009:49; Plato 2015). Tog beskou Burke die natuurlike samelewing as die toepaslike maatstaf vir gelykheid. Trouens, hy beskryf gelykheid as die kern van gemeenskap (Burke, 2004:408). Hier verwys hy egter nie na materiële gelykheid nie omdat eiendom, die mark en die oorerflikheidsbeginsel noodwendig daartoe lei dat mense (as individue) materieel ongelyk is (Burke, 2009:51). Vir Burke het gelykheid beteken dat mense as mekaar se gelykes aan die dinge van die gemeenskap deelneem.

Burke sien die individu as iemand wat altyd in 'n verhouding met sy gemeenskap staan. Hy sê dat mense in hierdie verband deur verskillende hartstogte aangedryf word: Die hartstogte wat met die behoud van die individu verband hou, is selfgesentreerd en dit wentel rondom pyn en vrees (Burke, 2004:87; Burke 2009:94), terwyl die hartstogte wat op die instandhouding van die breër gemeenskap (in Burke se taal, die "generation") gerig is, om bevrediging en plesier ("gratifications and pleasures") wentel (Burke, 2004:87).

Ter aansluiting by Adam Smith voer Burke aan dat wanneer mense aan die dinge van die gemeenskap deelneem, hulle nie net die goeie met betrekking tot hulle eie lewens bevorder nie, maar dat hulle by implikasie ook die goeie vir die gemeenskap bevorder (Burke, 2009:107). Daarom voer Burke aan dat die sekuriteit van die individu in die algemene belang is (Burke, 2004:408).

Smith het opgemerk dat Burke die enigste mens is wat hy ken wat presies soos hy oor die ekonomie dink sonder dat hulle vooraf met mekaar beraadslaag het (Norman, 2013:99). Die politieke ekonomie van Burke en Smith is al op uiteenlopende wyses vertolk. Daar word dikwels aangevoer dat Smith die weg gebaan het vir 'n liberaal-individualistiese ekonomie en dat Burke, vanweë sy aansluiting by Smith, ook 'n liberale denker was. Dit is egter 'n oorvereenvoudiging van Smith se ekonomiese vertrekpunt, en by implikasie ook dié van Burke.

In sy bekende The Wealth of Nations verduidelik Smith dat burgers in 'n beskaafde samelewing van hulle gemeenskap afhanklik is en dat hierdie soort gemeenskapslewe een van die belangrike kenmerke is wat mense van diere onderskei (Smith, 2003:23). Hy voeg dan by dat burgers nie bloot van ander se goedgunstigheid afhanklik kan wees nie, en dat elkeen self ook sy deel moet doen, nie net vir sy gemeenskap en medeburgers nie, maar ook vir sy eie welsyn. Dit is in hierdie konteks wat Smith dan sy bekende stelling maak:

It is not from the benevolence of the butcher, the brewer, or the baker, that we expect our dinner, but from their regard to their own interest. We address ourselves, not to their humanity but to their self-love, and never talk to them of our own necessities but of their advantages. Nobody but the beggar chuses to depend chiefly upon the benevolence of his fellow-citizens. (Smith, 2003:23-24)

Teen hierdie agtergrond waarsku Andreasson dat die liberale vertolking van Burke en Smith se ekonomiese vertrekpunte 'n selektiewe en dus foutiewe vertolking is, ook omdat nie net Burke nie, maar ook Smith belangrike voorbehoude oor die abstrahering van die mens as individu uitgespreek het (Andreasson, 2014:11).

'n Mens se deelname aan die dinge van die gemeenskap bepaal ook sy waardigheid. Waardigheid is, in Burke se beskouing, nie die moderne reg op menswaardigheid nie, maar eerder die gevolg van 'n mens se besluite en die waarde wat hy tot die gemeenskap toevoeg (Burke, 2004:289). Omdat waardigheid vir Burke aan opoffering en die nakoming van verantwoordelikhede teenoor die gemeenskap verbind is, beklemtoon hy dat waardigheid van 'n mens vereis om soms dinge te doen wat nie noodwendig in die mens as individu se selfgesentreerde belang is nie (Burke, 2004:290).

Teen hierdie agtergrond sê Burke dat iets soos vooroordeel ("prejudice") nie op sigself verwerp moet word nie. Inteendeel, hy voer aan dat vooroordeel in sekere gevalle waardevol is, omdat dit bloot gevolgtrekkings is wat op ervaring gebaseer is. Vooroordeel, skryf Burke, stel mense in staat om in noodgevalle vinnige besluite te neem (Burke, 2009:87).

Burke se beklemtoning van die belang van gemeenskappe behels nie dat hy by verstek 'n groepsdenker is nie. In hierdie verband tref hy 'n onderskeid tussen die natuurlike (kultuur-) gemeenskap en die kunsmatige (politieke of territoriaal-staatlike) gemeenskap. Trouens, Burke waarsku sterk teen die destruktiewe gevolge wanneer mense in groepsverband van hulle natuurlike gemeenskappe ontwortel word. Daarom waarsku hy dat mense wat in groepsverband van hulle tradisie en gemeenskap ontwortel word - soos die rewolusionêre in Frankryk - die ekwivalent van 'n "varkagtige menigte" ("swinish multitude") word (Burke, 2009:79). In sy Thoughts on the Cause of the Present Discontents kritiseer Burke die bestaande politieke orde en sê dat hy hom veel eerder by die gemeenskap as by die regering skaar:

I am not one of those who think that the people are never in the wrong. They have been so, frequently and outrageously, both in other countries and in this. But I do say, that in all disputes between them and their rulers, the presumption is at least upon a par in favour of the people. (Burke, 2004:207)

Vanweë sy beklemtoning van die natuurlike gemeenskap maak Burke ook sterk beswaar teen die oorheersing van een gemeenskap oor 'n ander. Hy beskryf hierdie soort oorheersing as 'n verduistering van vryheid en 'n skending van die basiese beginsels van gelykheid (Burke, 2004:408, 440). Dit is omdat 'n regering by die karakter en omstandighede van die betrokke gemeenskap aangepas moet word (Burke, 2004:428). Hy waarsku dat vryheid met 'n denkbeeldige krag meeding, wat onder die gees van oorheersing na vore tree. Daarom sê hy:

When any community is subordinately connected with another, the great danger of the connexion is the extreme pride and self-complacency of the superior, which in all matters of controversy will probably decide in its own favour. (Burke, 2004:420)

In Burke se ontleding word 'n goeie staatsman nie geken aan die behoefte om ander te oorheers nie, maar om die goeie in die bestaande orde te bewaar en daarop te verbeter (Baldacchino, 2012). Dit word slegs gedoen deur aan die dinge van die gemeenskap deel te neem, wat noodwendig insluit dat tradisie gerespekteer word. Want, het Burke gesê, iemand wat sy voorouers respekteer, respekteer ook homself (Burke, 2009:36).

 

6. Burke se beroep op ervaring

Burke se kritiek op abstrakte filosofie kan sekerlik as 'n hooftema in sy werke uitgelig word. Tog word hy vandag dikwels as 'n filosoof beskryf. In soverre as wat Burke bereid was om tot daardie beskrywing toe te gee, het hy die term "filosoof-in-aksie" verkies (Norman, 2013:195). Die rede hiervoor is dat Burke in die eerste plek hoë agting vir die werke van antieke denkers soos Aristoteles en Cicero gehad het, maar in die tweede plek dat hy ernstig deur die abstrakte aard van moderne filosofie verontrus was.

Burke het geleef en geskryf in die tyd van die Verligting, toe dit gewild was om politieke teorieë op te stel aan die hand waarvan die samelewing ingerig kan word. Dit is waarom Burke in die eerste plek dikwels as die stigter van konserwatisme beskryf word (omdat hy die liberale vertrekpunte verwerp het), maar ook waarom hy soms as 'n postmoderne denker beskou word (omdat hy die gebreke van die moderne orde uitwys).

Burke word soms gekritiseer dat hy nie juis 'n stelsel of teorie in politieke filosofie ontwikkel het nie. Hoewel hy van die toonaangewende denkers van die Verligting verskil het, was hy as't ware nie regtig daarop ingestel om filosowe se werke te kritiseer nie (Mansfield, 1987:687). Daarom word hy dikwels in liberale kringe uitgesluit wanneer die groot filosowe van die geskiedenis bespreek word. Sy naam word byvoorbeeld nêrens in Bertrand Russell (1872-1970) se bekende History of Western Philosophy genoem nie (Russell, 2004). In AC Grayling se The History of Philosophy word Burke se naam slegs in die verbygaan genoem waar die outeur verduidelik dat konserwatiewe denkers die Verligting as 'n aanval op die tradisie vertolk (Grayling, 2020:274). In Hendrik Willem van Loon (1882-1944) se The Liberation of Mankindverwys die outeur snedig in die verbygaan na Burke wanneer hy Burke se Reflections as 'n "paniekbevange" reaksie op die Franse Rewolusie beskryf, wat volgens Van Loon se ontleding vinnig deur die liberale Thomas Paine aan die kaak gestel is (Van Loon, 1926:300).

Om Burke egter te kritiseer dat hy nie, soos René Descartes (1596-1650) of Benedict Spinoza (1632-1677), 'n teorie ontwikkel het nie, sou in Burke se oë 'n kompliment wees. Dit is 'n bevestiging daarvan dat hy homself nie skuldig gemaak het aan dit waaroor hy sy opponente gekritiseer het nie (Mansfield, 1987:687).

Denkers soos Hobbes en Rousseau was dit eens dat die soort samelewing wat hulle in gedagte het 'n "kunsmatige" samelewing is (Hobbes, 2017:7; Locke, 2011:168; Rousseau, 2004:32). Hoewel Hobbes en Locke van mekaar verskil het oor die aard van die natuurtoestand, was beide - saam met Rousseau - dit eens dat die natuurtoestand iets van die verlede is en dat nuwe antwoorde vir die moderne samelewing gevind moet word. Burke se belangrikste kritiek op al hierdie denkers is dat hulle gepoog het om die samelewing aan die hand van abstrakte stelsels en teorieë in te rig, eerder as om die klem op ervaring te plaas. Vir Burke is ervaring veral in dinge soos kultuur en tradisie opgesluit.

Burke se aanslag was om antwoorde op die politieke vraagstukke van sy tyd te bied. Hy het dit gedoen deur hom deurlopend op die werklikheid - meer spesifiek, ervaring - te beroep. Daarom merk Mansfield op:

If there is one recurrent theme in Burke's letters, speeches, and writings, it is his emphasis on the moral and political evils that follow upon the intrusion of theory into political practice. (Mansfield, 1987:689)

Hy verduidelik verder:

It is theory as such that he rejects; his emphasis on the evils of intrusive theory is not balanced by a compensating reliance on sound theory that men would need as a guide to their politics. Sound theory to him, would seem to be self-denying. (Mansfield, 1987:689)

Burke se pleidooi aan sy leser is om hom nie na teorie te wend om oplossings vir hedendaagse probleme te vind nie, maar om volgens die natuur te regeer deur sy ervaring te raadpleeg en na te volg (Burke, 2004:282, 328). Hy voer aan dat die abstrakte benadering van die denkers van die verligting niks anders as 'n oorlog teen die natuur is nie (Burke, 2009:49).

Hoewel Burke dit met Hobbes en Locke eens is dat 'n samelewing meer stabiel sal wees indien die lede daarvan meer dink as voel, het hy aangevoer dat die mens se vermoë om rasioneel te dink hom nie veel gaan baat nie, juis omdat die mens van nature so sterk deur emosionele dinge soos identiteit, kultuur, tradisie en 'n sin vir gemeenskap aangevuur word. Daarom het Burke aangevoer dat politieke onstabiliteit hoofsaaklik die gevolg van abstrakte, rasionele denke was. Hy het bygevoeg dat die rustige toestand ("conditions of tranquility") waarvoor Hobbes en Locke hulle beywer het veel eerder bereik word wanneer mense deur hulle voorliefdes ("affections") aangedryf word, eerder as deur rede (Womersley, 2004:xx). Daarom skryf Burke: "There are people who have split and anatomised the doctrine of free government as if it were an abstract question" (Womersley, 2004:xx).

Hy verskil dus wesenlik van die rasionalistiese uitgangspunt van Hobbes, Locke en Rousseau en voer as't ware aan dat die ideologiese vertrekpunt wat as "rasionalisme" beskryf word, hoegenaamd nie rasioneel is nie. Want, sê Burke, dit is 'n skending van rede om ervaring te verwerp (Burke, 2004:282). Burke het deurlopend 'n verband tussen die bedreigings van die hede ("the perilous present") en die verwerping van kultuur en tradisie getrek (Womersley, 2004:xvi).

Teorie is eenvoudig, maar die werklikheid is ingewikkeld. Dit is waarom Burke sê dat mense wat hulle na teorie eerder as ervaring wend, verwyderd is van die werklikheid (Mansfield, 1987:691). Die toepaslike beeld waarop Burke hom beroep, is dus dié van 'n tuinier eerder as 'n ingenieur (Parkin, 1986:124).

Dit is belangrik om by te voeg dat Burke nie in beginsel teen rasionele denke was nie, maar teen die ideologie van rasionalisme. Trouens, Burke het hom deurlopend op wysheid en nadenke beroep.

Dit is in hierdie konteks wat Burke sê dat dit selde gebeur dat mense verkeerd is in hulle gevoelens oor publieke wangedrag, maar dat dit net so selde gebeur dat mense reg is in hulle bespiegeling oor die oorsaak daarvan (Burke, 2004:208).

 

7. Burke se vryheidsbeskouing

Teen hierdie agtergrond kan bepaalde gevolgtrekkings oor die tradisioneel-konserwatiewe vryheidsbeskouing van Edmund Burke gemaak word. Hier bo is reeds daarop gewys dat moderne konserwatisme veral gekenmerk word deur 'n vryheidsbeskouing wat die hoofklem op individuele en ekonomiese vryheid plaas en deur 'n poging om die wêreld op Westerse idees te laat standaardiseer. In die moderne begrip word vryheid dus dikwels as 'n soort negatiewe vryheid beskou, wat in die praktyk op individuele ongebondenheid neerkom.

Hierdie beskouing druis teen die kern van Burke se vryheidsbeskouing in. Burke het aangevoer dat "lisensie" (om enige iets te doen) die teenoorgestelde van vryheid is. Vir Burke was vryheid nie werklik vryheid as dit van dinge soos geregtigheid, orde en rede losgemaak word nie (Parkin, 1986:125). Sy skerp kritiek teen die Franse rewolusie spruit ook uit die feit dat hierdie rewolusie, volgens Burke se ontleding, die teenoorgestelde van vryheid bevorder het. Daarom beskryf hy die soort "vryheid" van die rewolusionêre as "this unnatural, insolent, and savage despotism called liberty" (Burke, 2009:280). Die "rasionele vryheid" van die rewolusie is vir Burke 'n fiksie wat van die werklikheid verwyder is (Burke, 2009:52). Hy voeg by:

Civil freedom, gentlemen, is not, as many have endeavoured to persuade you, a thing that lies hid in the depths of abstruse science. It is a blessing and a benefit, not an abstract speculation; and all the just reasoning that can be upon it, is of so coarse a texture, as perfectly to suit the ordinary capacities of those who are to enjoy, and of those who are to defend it. (Burke, 2004:429)

Teenoor die rasionele vryheidsbeskouing van die rewolusionêre sê Burke dat hy 'n "manly, moral, regulated liberty" verkies (Burke, 2009:7, 35). Vryheid kan nooit werklik vryheid wees as dit nie met reëls gepaard gaan en as dit nie met die bevordering van die goeie verbind word nie. Dit is omdat vryheid noodwendig behels dat mense hulle immorele begeertes moet onderdruk en dat mense wat nie in staat is om dit te doen nie se toestand nader aan slawerny as aan vryheid is. Burke beskryf dit so:

Men are qualified for civil liberty, in exact proportion to their disposition to put moral chains upon their own appetites; in proportion as their love to justice is above their rapacity; in proportion as their soundness and sobriety of understanding is above their vanity and presumption; in proportion as they are more disposed to listen to the counsels of the wise and good, in preference to the flattery of knaves. Society cannot exist unless a controlling power upon will and within, the more there must be without. It is ordained in the eternal constitution of things, that men of intemperate minds cannot be free. Their passions forge their fetters. (Burke, 2009:289)

Die gevolg van individuele vryheid is dat individue doen wat hulle ook al bevredig. As mense doen wat hulle ook al bevredig, moet eers vasgestel word wat dit is wat hulle bevredig, voordat hulle met hulle vryheid gelukgewens word (Burke, 2009:8-9). Vryheid moet bewaar en beskerm word, nie bloot teen verowering van buite nie, maar in die besonder teen interne verval en korrumpering (Burke, 2009:54). Vryheid moet dus beperk word ten einde besit te word (Burke, 2004:430). Dit is 'n goeie waarop verbeter moet word, nie 'n boosheid wat afgebreek moet word nie (Burke, 2004:430). Daarom sê Burke dat die wêreld sal baat vind by 'n vryheids-beskouing waarsonder deugde nie kan bestaan nie (Burke, 2009:104).

Omdat vryheid aan die bevordering van die goeie verbind is, kan Burke se vryheidsbe-skouing van dié van moderne konserwatisme onderskei word in die sin dat vryheid vir hom nie bloot ekonomiese vryheid was nie. Daarom sê Burke:

A brave people will certainly prefer liberty, accompanied with a virtuous poverty, to a depraved and wealthy servitude. But before the prive of comfort and opulence is paid, one ought to be pretty sure it is real liberty which is purchased, and that she is to be purchased at no other price. (Burke, 2009:134)

Vir Burke is vryheid nie 'n gegewe nie. Dit is nie iets wat bloot verklaar kan word of by wyse van regte toegeken kan word nie. Dit is iets waarvoor gewerk moet word en wat in gemeenskap met ander tot vervulling gebring word. Die regering en die regstelsel moet vervolgens ingerig word op 'n wyse wat as "sekuriteit vir vryheid" sal dien (Burke, 2009:26, 30-32). Die regstelsel neem die vryheid van die gemeenskap in beskerming, eerder as die vryheid van elke mens as individu, eerstens omdat individuele vryheid onrealisties is en tweedens omdat dit destruktief vir die sosiale orde sou wees, juis omdat die mens as individu deur selfsugtige belange aangedryf word (Burke, 2009:33). Om 'n vrye regering in die lewe te roep, is om die teenstrydige konsepte van vryheid en selfbeheersing in een samehangende werk te temper. Dit vereis "much thought, deep reflection, a sagacious, powerful, and combining mind" (Burke, 2009:247).

Nie net moet die regering saamgestel word op 'n wyse wat vryheid volhoubaar in beskerming sal neem nie. Regerings moet volgens die omstandighede van elke gemeenskap gevorm en getemper word (Burke, 2004:430).

Vryheid is 'n algemene beginsel, en 'n duidelike reg van alle burgers. Gedeeltelike vryheid is die mees verraderlike vorm van slawerny. Ongelukkig is dit die soort vryheid wat in tye van burgerlike onenigheid gewoonlik toegelaat word. Want, sê Burke, partye is te geneig om van hulle eie toekomstige veiligheid te vergeet in hulle begeerte om hulle vyande op te offer. "People without much difficulty admit the entrance of that injustice of which they are not to be the immediate victims" (Burke, 2004:407).

Teen hierdie agtergrond word Burke se vryheidsbeskouing gepas opgesom in 'n brief wat hy vier maande ná die begin van die Franse Rewolusie en voor die publikasie van Reflections aan 'njong Fransman genaamd Francois Depont geskryf het. Die tersaaklike paragraaf verdien om volledig aangehaal te word:

Permit me then to continue our conversation, and to tell you what the freedom is that I love, and that to which I think all men entitled. This is the more necessary, because, of all the loose terms in the world, liberty is the most indefinite. It is not solitary, unconnected, individual, selfish liberty, as if every man was to regulate the whole of his conduct by his own will. The liberty I mean is social freedom. It is that state of things in which liberty is secured by the equality of restraint. A constitution of things in which the liberty of no one man, and no body of men, and no number of men, can find means to trespass on the liberty of any person, or any description of persons, in the society. This kind of liberty is, indeed, but another name for justice; ascertained by wise laws, and secured by well-constructed institutions. (Burke, [1789])

 

BIBLIOGRAFIE

Andreasson, S. 2014. Conservatism. In Geoghegan, V & Wilford R. (Eds). Political Ideologies: An Introduction (4th ed.). London: Taylor & Francis, pp. 47-70.         [ Links ]

Aristoteles. 1992 [335-323 v.C.]. The Politics. London: Penguin Books.         [ Links ]

Aristoteles. [340 v.C.] 2020. The Nichomachean Ethics. London: Penguin Books.         [ Links ]

Baldacchino, J. 2012. The Value-CenteredHistoricism ofEdmundBurke. National Humanities Institute. http://www.nhinet.org/burke.htm. [27 Maart].         [ Links ]

Brainyquote. (ongedateerd). Edmund Burke. https://www.brainyquote.com/quotes/edmund_burke_377528. [ongedateerd].         [ Links ]

Burke, E. 2004 [1757-1777]. A Philosophical Enquiry into the Sublime and the Beautiful. London: Penguin Books, pp. 1-398.         [ Links ]

Burke, E. 1789. Letter to Francois Depont. November. https://www.degruyter.com/document/doi/10.12987/9780300194517-017/pdf.         [ Links ]

Burke, E. 2009. [1790]. Reflections on the Revolution in France. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 1983. Die Bybel. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

Cicero, MT. 2018. Speech in Defence of the Proposed Manilian Law. In Cicero, M.T. Cicero's Orations. New York: Dover Publications, pp. 171-197.         [ Links ]

De Blois, M. 2008. Edmund Burke on Establishment and Tolerance. R&R. 3:212-229.         [ Links ]

Deneen, PJ. 2018. Why Liberalism Failed. New Haven & London: Yale University Press.         [ Links ]

Grayling, AC. 2020. The History of Philosophy: Three Millennia of Thought from the West and Beyond. London: Penguin Books.         [ Links ]

Hazony, Y. 2018. The Virtue of Nationalism. New York: Basic Books.         [ Links ]

Henrie, MC. 2004. Understanding Traditionalist Conservatism. In Berkowitz (ed.). Varieties of Conservatism in America. Stanford: Hoover Institution, pp. 3-30. https://www.hoover.org/sites/default/files/uploads/documents/0817945725_3.pdf.         [ Links ]

Hitchens, C. 2010. Hitch 22. New York: Twelve.         [ Links ]

Hitchens, C. 2021. Thomas Paine's Rights of Man. London: Atlantic Books.         [ Links ]

Hobbes, T. 2017 [1651]. Leviathan. London: Penguin Classics.         [ Links ]

Homeros, 1952. Die Ilias. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery. Vertaal in Afrikaans deur Van Rensburg, JPJ.         [ Links ]

Huntington, SP. 1957. Conservatism as an Ideology. American Political Science Review, 51 (2):452-473.         [ Links ]

Levin, J. 2014. The Great Debate. New York: Basic Books.         [ Links ]

Locke, J. 2011 [1689]. Two Treatises of Government. Merchant Books: (plek van publikasie nie beskikbaar).         [ Links ]

Mansfield, HC. 1987. Edmund Burke. In Strauss, L & Cropsey, J. (eds). History of Political Philosophy. Chicago & London: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Norman, J. 2013. Edmund Burke. New York: Basic Books.         [ Links ]

O'Hara, K. 2011. Conservatism. London: Reaktion Books.         [ Links ]

O'Sullivan, D. 1976. Conservatism. London: JM Dent & Sons.         [ Links ]

Parkin, CW. 1986. Burke and the Conservative Tradition. In Thomson, D. Political Ideas. Harmondsworth: Penguin Books, pp. 118-129.         [ Links ]

Plato. 1973 [370 v.C.]. Phaedrus. London: Penguin Books.         [ Links ]

Plato. 2015 [375 v.C.]. The Republic. In Rouse, WHD. (ed.). Great Dialogues of Plato. New York: Signet Classics, pp. 130-501.         [ Links ]

Rousseau, JJ. 2004 [1762]. The Social Contract. London: Penguin Books. Vertaal deur Cranston, M.         [ Links ]

Scruton, R. 2019a. How to Be a Conservative. London: Bloomsbury Continuum.         [ Links ]

Scruton, R. 2019b. A Political Philosophy. London: Bloomsbury Continuum.         [ Links ]

Smith, A. 2003 [1776]. The Wealth of Nations. New York: Bantam Dell.         [ Links ]

Vaïsse, J. 2010. Why Neoconservatism Still Matters. Foreign Policy at Brookings. Number 20. May.         [ Links ]

Van Loon, HW. 1926. The Liberation of Mankind: The Story of Man's Struggle for the Right to Think. London, Toronto, Bombay & Sydney: George G. Harrap & Company Ltd.         [ Links ]

Wills, M. 2017. Edmund Burke and the Birth of Traditional Conservatism. JSTOR Daily. https://daily.jstor.org/edmund-burke-and-the-birth-of-traditional-conservatism/. [13 Januarie].         [ Links ]

Womersley, D. 2004. Introduction. In Burke, E. 2004 [1757-1777]. A Philosophical Enquiry into the Sublime and the Beautiful. London: Penguin Books, pp. x-xxxviii.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2022-07-12
Goedgekeur: 2022-11-01
Gepubliseer: Desember 2022

 

 

 

Ernst Roets is 'n gemeenskapsaktivis, outeur en filmmaker wat by die burgerregteorganisasie AfriForum werksaam is as hoof van Beleid en Aksie. Roets het in 2022 'n LLD in regsfilosofie onder leiding van prof. Koos Malan aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Die titel van sy proefskrif is 'n Regsfilosofiese ontleding van die selfgesentreerde teenoor die vervullende beskouing van vryheid. Daarin voer Roets aan dat die Westerse wêreld in beduidende mate op 'n selfgesentreerde beskouing van vryheid gestandaardiseer het, in teenstelling met die vervullende vryheidsbeskouing wat onder meer deur die klassieke denkers in Athene, Jerusalem en Rome gehuldig is, en meer onlangs deur denkers soos Edmund Burke en Alexis de Tocqueville. Roets se werksaamhede by Afri-Forum sluit in die bestuur van dié organisasie se kommunikasie, veldtogte, navorsing en buite-landse inisiatiewe.
Ernst Roets is a community activist, author and film producer, and works at the civil rights organisation AfriForum as Head of Policy and Action. Roets obtained an LLD in Legal Philosophy from the University of Pretoria in 2022 under the supervision of Prof. Koos Malan. The title of his thesis is 'n Regsfilosofiese ontleding van die selfgesentreerde teenoor die vervullende beskouing van vryheid. (Eng: A jurisprudential analysis of the self-centred versus the fulfilling notions of freedom). In his thesis, Roets argues that the Western world has to a significant extent standardised on the self-centred notion of freedom, as opposed to the fulfilling notion of freedom as envisaged by among others the classic philosophers of Athens, Jerusalem and Rome, and more recently philosophers like Edmund Burke and Alexis de Tocqueville. Roets's duties at AfriForum include managing the organisation's communication, campaigns, research and international initiatives.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License