SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número3Entrepreneurial leadership style in schools: Good versus poor socio-economic circumstancesTaboo language use as a key element in the construction of a zef identity índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.3 Pretoria Set. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n3a14 

BOEKBESPREKING / BOOK REVIEW

 

Die fondament en hoeksteen wat Patrick Petersen gelê het en die monument wat Hein Willemse bou

The foundation and corner stone that Patrick Petersen laid and the monument that Hein Willemse is building

 

Titel: Ons het [...] ver versit. Gedigte, toesprake en onderhoude van Patrick J. Petersen met 'n essay deur Hein Willemse
Outeur: Hein Willemse
Plek & Uitgewer: Wildernis: Abrile Doman (2021)

Ons het [...] ver versit verskyn aan die einde van 2021 - die jaar waarin die digter Patrick J Petersen sewentig sou word. Dit staan in die teken van huldiging1 en herwaardering terwyl die digter se stem opklink in sy eie woorde, sy versamelde werk soos wat dit neerslag gevind het in toesprake, onderhoude en gedigte. Die versamelde poesie sluit al die gedigte uit sy drie digbundels in (amandla ngawethu, ca. 1985), Advent (1988) en Vergenoeg (1993) en ook die lang gedig "ons kom van ver af' - wat in 'n gelyknamige bloemlesing2 verskyn het en waaruit ook hierdie boek se titel geneem is. Die gedig het 'n narratiewe trant, en die herhaling van en variasies op die titelreel, is net een saak wat meewerk daartoe dat dit baie goed op 'n podium sal werk in voorlees of voordrag. Dit is 'n gedig uit die tradisie van versetpoesie in die tagtigerjare en waarin geskiedenis, herkoms, stellinginname, oproep en identiteit soos 'n manifes aangebied word en sodoende 'n illustrasie word van Petersen se vaardighede as orator, wat ook uit die toesprake duidelik blyk. Op die agterblad van amandla ngawethu word die vooropstel van voordraagbaarheid en bruikbaarheid van Petersen (ca. 1985) se versetgedigte reeds aangedui: "(D)ie gedigte in hierdie bundel kan nuttig gebruik word deur die swart leser by protesoptogte, begrafnisse en vergaderings in die stryd teen apartheid." In hierdie verband dui Willemse (p. 8) aan dat Petersen 'n "uitgesproke voorstander (was) van demotiese taalgebruik in die poesie en die aanwending van dialekskryf sodat die stemme van gewone mense gehoor kon word".

... gister en vandag het ons 'n lang pad gekom

ons is nie halfnaatjies nie

ons is Kaaps

in die hitte van die stryd

wanneer die nag sy aantog begin

op ons melk- en koffiewee

in die gang van ons vrees

ons lees mekaar se gesigte skoon

ons lees elkeen se historie ...

in Godsnaam asseblief

spaar ons wipplankvoete,

om 'n lang storie kort te maak

julle ken ons soeke om mens te wees -

die halfslag, mestiço, castiço, mulatto

masbieker, gamsbloed die Korannas: Towenaars, Taaibosse, Linkse

Ghaap, Skerpioene, Seekoeie,

Hoogstaanders, Kokerbome,

Spinnekoppe, Karosdraers,

Smalwange, Papiervolk

ons wou ons self help -

in die lang, lang winter

aa

d-dag nader vinnig: alles is so vreemd

die nag is skoon daarbuite

en die koue mos aan ons voete

ons dra dit aan ons sole saam

ons het 'n ver pad gekom

ons dra die dood tussen ons tone

deur die Koup, oor die Nuweveld al

langs die loop van die Grootbrakrivier

een dag op 'n slag

ons hoor hoe roep die Amasivoel ...

wie het vir wie in die bovertrek gesê

om klippe op ons pad te lê

ons, ons het 'n lang pad gekom

in die flanke was ons besig

met toneel voorberei

vir die jongste dag

arbeiders in teaters agter die skerms

regisseurs en draaiboekskrywers

dit was die dae in die Caabsche district

ons het blêrrie ver versit

...

en tog

het ons almal geweet

die land is ons woning wel ...

houvas

sien en hoor

luister luister

ons is die stem van die Kaap

ons is die stem van die brandende fynbos

in die reservate van die staat

ons land is vredevreemd

een keer 'n skitterende somerdag

ander kere gatstampdae plooidae

teendae en sukkeldae

maar die hemel bly van koper

toegesluit en hard

en klaend stryk die aandwind

oor die dooies

in Lavendar Hill

in Bonteheuwel

in Kraaifontein

in New Town

in Klein Nederburg

in Belhar

aan die Weskus

in die Boland

in die Overberg

in die Hantam

in die veld

die wereld moet weet

ons het 'n lang pad gekom [...]

Soos Willemse (p. 8) aandui, is dit noodwendig so dat wanneer werk versamel word, ook die minder kragtige, of blywende, gedigte ("van mindere allooi") opgeneem word. Die voordeel wat die leser egter kry uit hierdie onbemiddelde versameling, is om te sien dat die digter, hoe daadwerklik ook al betrokke by verset en die stryd teen politieke onderdrukking en sosiale verguising en miskenning deur taalgenote, nie uitsluitlik protesgedigte skryf nie. Willemse (p. 8) verwys na "intens persoonlike gedigte oor wroeginge rondom die liefde of worstelinge oor die aard van die verpligtinge van 'n godsdienaar". Dit is onskatbaar dat ook gedigte soos "My kind" (p. 125), wat nie deel is van die Petersen-gedigte wat in literer-historiese bloemlesings opgeneem is nie, die een gedig in SA in Poesie / SA in Poetry (1988), die sewe gedigte wat Foster en Viljoen (1997) vir Poskaarte gekies het, die agt in Komrij (1999) of die sewentien wat Brink (2000, 2008) opgeneem het in Groot Verseboek, nou weer vir 'n groter gehoor beskikbaar is.

die pastorie het beroerte gekry dingetjie

uhmmm die matte huil nie meer

die gang slaak ook nie meer 'n sug van verligting nie

en jou portrette teen die muur hang eenkant verlam

en die raampie klap nie hande nie

en die foto groet nie meer, goeiemore deddie nie

Vrydagaande bak ek nie meer pizzas nie

en die stilte is leweloos sonder verwagting

o, die tyd le stukkend, stukkend stukkend

'n kwaai wind teister die teddiebeer en pop

in die huis sonder my kind

wat ek soek in vergulde skoentjies

vir altyd en altyd en altyd

en nie vind by die speelgoedtafel

met vier stoeletjies nie nie nie

"In al sy bundels", skryf Willemse (p. 294),

stel [Petersen] die omgang met taal as instrument voorop. Dit is waarneembaar in die diversiteit van sprekers, hul segswyses en die uiteenlopendheid van hul taalregisters. Hy was besig om 'n omvattende poetika te skep toe sy lewe voortydig kortgeknip is.

Hierdie poetika, en sy betrokkenheid by die stryd om erkenning as 'n skrywer, 'n mens, 'n spreker van Afrikaans, 'n skrywer in Afrikaans, is nou in een volume versamel en beskikbaar vir die leser soos wat hy daaroor besin en redeneer het, soos wat hy kampvegter daarvoor was, in kongresbydraes en onderhoude. Die toegang wat die leser kry in Ons het [...] ver versit tot Patrick Petersen se denke en insigte, tot strydvrae, besinnings, uitdagings en voorstelle, bied meesleurende leesmateriaal, afgesien van die literer-historiese waarde daarvan. Dit tref mens wel, met die lees daarvan, met hernude ontnugterend skrynende en embarasserende impak, maar die insigte en betoe voed onteenseglik die kontekstualisering en waardering van sy poesie-oeuvre.

Die keuse om ook vier toesprake en twee onderhoude met Petersen in te sluit, is hierom 'n weldeurdagte wins vir die boek. Dit bring die leser uit die een-en-twintigste eeu sonder filters en tussengangers in kontak met hoe direk en onomwonde Petersen kon kommunikeer - leesbaar, beredeneerd helder en aangrypend. Die groter waarde is die beskikbaarheid, in een volume, van Petersen se sienings, pleidooie en voorstelle. Willemse (p. 9) motiveer die insluiting so: "(O)mdat dit dien as tersaaklike agtergrond vir sy digterskap en die literere en maatskaplike omgewing waarin hy hom aan die einde van die vorige eeu bevind het." Dit is ook so. Maar die feit is dat hierdie stukke oorspronklik opgeneem is in kongrespublikasies van 1990, 1992 en 1995 en dat die inhoud daarvan besonder waardevol en relevant is drie dekades later en in 'n tyd waar die gebruik van dialekte in gepubliseerde poesie weer op die voorgrond tree, mens kan se hoogty beleef, maar ook in die illustrasie en begronding van Willemse se waarneming van Petersen as spilfiguur. Willemse plaas die genererende krag van Petersen as spilfiguur as "(o)mstreek die einde van die jare tagtig en vroeg-negentig" en "vir aspirerende Afrikaanse skrywers". Dit word ondersteun deur Van Wyk se stelling dat Petersen "die sleutelfiguur van die struggle-digters van die tagtigerjare" is en "van die mees ikoniese gedigte van daardie era geskryf het" (Pietersen, 2021) en uit die aard van die saak ook deur die feit dat Petersen sy eie onafhanklike uitgewery gestig en voorts 'n hele aantal bloemlesings gepubliseer het.

Wanneer die toesprake en onderhoude gelees word, blyk dit dat die web veel langer en later in die poesiesisteem bly roer en voortweef in reaksie op en oor soortgelyke sake as wat Petersen aan die bod stel en waarvoor hy kampvegter was. Dit is duidelik wat digters en digterskappe betref, maar ook temas en stellinginnames, verdere en ander inisiatiewe rondom selfpublikasie en/of onafhanklike uitgewerye, en ook die hernude opbloei van poesie in taalvariante van Afrikaans en spesifiek Kaaps. Vyf-en-twintig jaar na sy bydrae tot die Tweede Swart Afrikaanse skrywersimposium, is dit ontnugterend om weer te lees wat Petersen reeds in 1995 gese het, en te moet besef en erken dat dit netsowel gister of vandag gese kon gewees het:

Ek dink 'n mens sou onmiddellik die vraag wou vra: is dit nou werklik nodig om in 'n tyd soos hierdie waarin ons leef en waarin ons tuisgekom het, oor so 'n ongemaklike onderwerp te praat soos swart Afrikaanse skryfwerk of swart Afrikaanse skrywers? Moet ons ... nou nog kom worstel oor so 'n ongemaklike begrip soos die "swart Afrikaanse" skrywer. ... Afrikaans is haas op pad na 'n situasie waar die tipiese eerstetaalspreker waarskynlik nie meer blank is nie. ... Dit is tog heeltemal opvallend dat die Afrikaanse letterkunde in hoofsaak die letterkundige verwoording van blank Afrikaanssprekendes is. ... Dit is 'n letterkunde wat deur wit Afrikaanse letterkundiges beheer word. Dit het tot gevolg dat die magsverhoudinge van Afrikaanse skrywers wat betref die omvattende literêre sisteem baie dikwels onderbeklemtoon word.

Willemse (pp. 270-271) haal ook in hierdie verband Petersen aan uit 'n berig wat geskryf is met die stigting van sy uitgewery in 1987 met die doel om swart Afrikaanse skryfwerk te bevorder (p. 270) waar hy oor die afwys van manuskripte deur swart Afrikaanse skrywers, aan Van de Rheede sê:

Wat ek sou wou gesien het, is dat toe hulle afgewys is dat hulle ook begelei (moes) geword het om die manuskripte te verbeter. ... Ek vra nie vir 'n sagter kritiek nie; ek vra dat [...] (hulle) daai jonger ouens by die hand moes geneem het. ... Hulle wou nie hul geld waag op jong swart Afrikaanse skrywers nie.

Hierna sou dit eers 2008 en 2013 moes word voordat Nasinale Boekhandel (NB) Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal se poêsie publiseer. Willemse dui Petersen nie aan as profeet of as miskende nie. Ons het [...] ver versit bring hierdie geskiedenis wel weer, en tydig, onder die aandag - in Petersen se eie woorde en deur sy aktiewe daadwerklikheid, met selfpublikasie en sy uitgewery. In sy essay, aangedui as bedoel vir "studente van die letterkunde en navorsers" (p. 9) stel Willemse (p. 271) wel:

Dit is onteenseglik waar dat die eerste vlaag van swart Afrikaanse skryfwerk ná die publikasiestilte van die 1960's hoofsaaklik staat moes maak op selfpublikasie met die gevolg dat die voortgesette ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde erg aan bande gelê is.

As boek meld Ons het [...] ver versit homself onmiddellik aan in die geledere van boeke, reekse, spesiale nommers van vaktydskrifte en Festschriften waarin die fokus op skrywers en deelnemers aan die literêre gesprek val. Met die laaste deel en uitgawe van Perspektief en profiel wat reeds in 2016 verskyn het, terwyl die oorsig oor die prosa hierin slegs tot 2010 strek3 en die poêsie-oorsig tot 20124 is daar reeds meer as 'n dekade se literatuurhistoriese perspektiewe wat nie binne die band van een literatuurgeskiedenis ondervang is nie. By die herwaarderings, ander en meerdere perspektiewe en ook meer gefokusde en uitgebreide navorsing oor die oeuvres van digters wat sedertdien die literatuurteoretiese toneel betree het, sluit Ons het [...] ver versit aan. Dit sluit aan by die SAAWK se huldigingsreeks vir Hertzogpryswenners (wat in 2017 begin het met Adam Small: denker, digter, dramaturg [Van der Elst, 2017] en ook die inisiatief van Stilet om ook skrywers aan wie hierdie prys nie toegeken is nie, se digterskappe en oeuvres te huldig met temanommers - waarvan die eerste aflewering in 2020 verskyn het, naamlik Joan Hambidge Ikonoklas(ties).5 Daar was ook ander temanommers van vaktydskrifte uit die laaste dekade wat op enkeldigters gefokus het, soos die oor Olga Kirsch6 en NP van Wyk Louw.7 Verder het Van Niekerk (2016) se monografie oor Krog verskyn en die biografiee oor Olga Kirsch (Roth, 2018) en Ingrid Jonker (Metellerkamp, 2018). Maar dit is, in 'n neutedop, die stand van die poesiekritiek in boekvorm die afgelope dekade en sedert die laaste omvattende literatuurgeskiedenis verskyn het. Mens sou hierdie korpus navorsing kan beskou as 'n soort alternatiewe literatuurgeskiedenis, maar is dit nie wesenlik 'n, die, nuwe literatuurgeskiedenis nie? Versprei in volumes as deel van reekse, as spesiale tydskrifnommers, en ja, ook ondersteun deur die publikasie van versamelde werk, of bloemlesings met 'n keuse uit digters se werk. Soos NB se jongste reeks bloemlesings uit die werk van Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Elisabeth Eybers en Adam Small (almal nä 2019) en versamelings van DJ Opperman (2015) en Ingrid Jonker (2016).8 Hierdie bloemlesings en versamelings beinvloed onteenseglik die kanon as gevolg van die herhaalde beskikbaarheid van belangrike oeuvres wat nuut en/of herverpak word, maar die geleentheid om 'n waardeskatting of ten minste plasing van die digterskappe en oeuvres wat so aangebied word in te sluit binne die konteks van die bloemlesing of versameling, is nie opgeneem nie. Dit mag jammer wees in terme van die algemene verwagting van bloemlesings dat dit die keuse en digterskap motiveer, kontekstualiseer en toelig, maar miskien nie so vreemd nie, aangesien daar reeds in Perspektief en profiel alleenstaande inskrywings, "profiele", vir al hierdie digters opgeneem is. Dit is nie die geval met Patrick Petersen nie. Trouens, buiten die aandag wat aan Petersen gegee word in die "perspektief van Hein Willemse (1999 en 2016) se "'n Inleiding tot buitekanonieke Afrikaanse kulturele praktyke", is daar in al die dele van beide uitgawes van die Van Coller Perspektief en profiel, slegs drie inskrywings vir Petersen in die register. 'n Totaal van sowat 13 reels waarvan die helfte bestee word aan sy uitgewery Prog. Ons het [... ] ver versit spreek hierdie hiaat tydig aan. Die boek staan in die teken van wat gedoen en bereik kan word en waarskynlik ook gedoen behoort te word in die poesiekritiek om die oeuvres van digters, selfs groepe digters, deur versameling, wat ook toegelig en ondersteun word deur die insig van 'n opstel met literer-historiese konteks en (her)waardering, beskikbaar te stel. In werklikheid: van die vergetelheid te ontruk, onder die aandag te hou. Die feit dat die boek by die onafhanklike uitgewery, Abrile Doman9 verskyn het, gesien dat ook Petersen en sy mede-skrywers hulle beywer het om hulle gedigte te publiseer deur onafhanklike uitgewers wat hulle self gestig het, herinner mens nogeens aan marginalisering en ook die onmisbare rol wat deur die geskiedenis van die Afrikaanse poesie gespeel is deur onafhanklike uitgewerye. Ook in hierdie opsig is Willemse se boek 'n rigtingwyser nog meer as 'n vingerwysing.

By die lees van die boek word mens ook herinner hoe lank en met hoeveel literatuurteoreties begronde bydraes Hein Willemse hom sedert die sewentigerjare daarvoor bly beywer om inligting oor, en 'n historiese en literére perspektief op die rol en bydrae van die Swart Afrikaanse Skrywersimposium en ook die skrywers wat hierby betrokke was, beskikbaar te stel. Hoe krities waardevol en literatuurteoreties onderlé Willemse se analises van die uitdagings rondom historiese groeperings en stereotiperings en anti-hegemoniese formulerings is, blyk duidelik Meruit.10

Ons het [...] ver versit maak Patrick Petersen se gedigte weer beskikbaar, vestig opnuut die aandag daarop. En terselfdertyd begin die boek ook om die hiaat aan te spreek wat rondom hierdie digter in die literére sisteem bestaan, deur 'n konteks te bied waarin die historiese en literére impak verreken word van die literére voorganger Patrick J Petersen - die "spilfiguur vir aspirerende Afrikaanse skrywers omstreeks die einde van die jare tagtig en vroeg-negentig van die vorige eeu" (p. 7). Hiervoor moet mens Hein Willemse bedank, en gelukwens, vir die objektiewe, teoreties onderlegde en onemosionele perspektief wat sy interpretasie en kontekstualisering van Petersen se oeuvre en bydrae bied. En ook vir die suggestie dat aan die hand van Petersen se werk, 'n uitkringende impak ondersoek kan word wat hom inderdaad as spilfiguur in die sisteem van die Afrikaanse poesie identifiseer en bevestig. In hierdie verband moet Willemse (p. 276) ook vermeld word vir sy byhaal van Margo N Crawford (in What is African American literature) se beskrywing van "is-ness" ter sprake in die literére tradisie wanneer hy na tematiese strominge in Petersen se oeuvre verwys:

Die tematiese strominge ... sluit aan by die "is-ness," die aard en wese van ander soortgelyke Swart Afrikaanse tekste, terwyl ook op sonderlinge aspekte gewys is. Dit geld sy bewuste gebruik van Afrikaans wat maatskaplike uitgeslotenheid blootlé, en 'n bewustheid van sowel minder-bekende kollektiewe as individuele ervarings en geskiedenisse.

In pas met die korpus navorsing uit Willemse se pen, is sy navorsing, interpretasie en veral situering van Petersen in die opstel "Die skrywerskap van Patrick J. Petersen" (pp. 263 - 302) helder en onderhoudend geskryf en goed nagevors en gedokumenteer - soos wat ook uit die toeligting van 105 voetnote blyk. Dit is gewis dié gesaghebbende bron oor hierdie digter.

Alhoewel die navorsing wat die boek onderlé goed gedokumenteer is en volledige bron-verwysings terug te vind is in voetnote, sou 'n selfstandige bibliografie die lees en gebruikers-vriendelikheid van die boek vir hierdie leser vergemaklik het, en die toevoeging van 'n skrywersbibliografie, wat heel haalbaar lyk, 'n verdere wins vir die boek kon wees. Daar is ook nie volledige bibliografiese inskrywings vir Petersen se drie digbundels, of enige van die bloemlesings waarna verwys word (byvoorbeeld dié waarby Petersen direk betrokke was, gelys op p. 270) opgeneem nie. Die redakteur het na alle waarskynlikheid sekerlik die moontlikheid oorweeg om ook huldeblyke en 'n stuk met biografiese inligting op te neem, maar ook dit het, ongelukkig genoeg (na hierdie leser se sin en smaak, en ter wille van groter omvattendheid en navorsingsimpak) ook nie gebeur nie. Die enigste gekonsolideerde bron waarin ook verdere biografiese inligting en verwysings na die resepsie van sy werk opgespoor kan word, is die Wikipedia-inskrywing vir Petersen.11 Die melding hierin dat Petersen in 1995 'n MTh-graad aan die UWK behaal het, "Etiek van Luister: 'n analise van swart Afrikaanse poêsie in die jare sewentig en daarna" dui op 'n verdere pennevrug van Petersen wat ook as deel van sy omvattende oeuvre beskou word en die titel lyk relevant vir die onderwerp en fokus in Ons het [...] ver versit. Vir hierdie leser sou ook huldigings oor Petersen en die commendatio oor hom met die postume toekenning van die Afrikaans Onbeperk-prys vir Lewensbydrae,12 goed kon aansluit by die biografiese inligting en perspektiewe wat uit die onderhoude met Petersen blyk, soos die In Memoriam deur Hans Ester (2003) en ook die enkele bydraes wat in 2011 verskyn het in die jaar wat die digter sestig sou word: Fransman (2011) se huldiging en huldigingsgedigte deur Joan Hambidge, Selwyn Milborrow, Robert Pearce, Leonard Koza, Vernie Plaatjies, Diana Ferrus wat op LitNet13 verskyn. Soos ook inligting oor die Patrick Petersen-gedenkprys, in 2000 ingestel deur die Afrikaanse Skrywersvereniging (waarvan Petersen ook stigterslid was14), ter nagedagtenis van Petersen.15En verwysing na die huldigingsprogram16 twintig jaar ná Petersen se afsterwe wat tydens die Suidoosterfees van 2017 aangebied is. Willemse het gekies om by die versamelde oeuvre en 'n essay te hou, "sodat Petersen se skrywerskap behoorlik ingeskat kan word" (p. 9). In hierdie doel slaag die boek en dra dit by tot die literêre profiel van Patrick Petersen en die moontlikhede om sy rol en impak as spilfiguur te ondersoek.

Met hierdie versameling en die raam wat die essay daarvoor bied, karteer Willemse die literêre profiel en literatuurhistoriese impak van 'n wesenlik belangrike digter en menings-vormer oor die poêsie, publikasie, die politiek rondom Afrikaans en die funksie en aanwend van poêsie en taal.

In 'n tyd waarin ons reeds weg beweeg het van die idee van een titel as die uiterste of selfs voorkeur vir 'n verteenwoordigende blik, hetsy Groot Verseboek of Perspektiefen profiel, in 'n tyd waarin sowel die jongste as die mees onlangse digters opnuut die gebruik van Kaaps en taalvariante in hul werk aanwend en ondersoek, opnuut fokus op herkoms en aanspraak maak op identiteit, is die vyfde titel wat by Abrile Doman verskyn,17 die ingeleide versamelde werk van Patrick J Petersen, sowel onontbeerlik as rigtingduidend.

Karen de Wet

Universiteit van Johannesburg

E-pos: KdeWet@uj.ac.za

 

BIBLIOGRAFIE

Abrahams, WP, E Beukes, A Boezak, P Petersen, en I Theunissen. 2021. Ons kom van ver af. St. Helenabaai: Prog.         [ Links ]

Adams, W. 2016. Toe die reênboog nog die reênboog was. Wildernis: Abrile Doman.         [ Links ]

Brink, AP. (samest.). 2000. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Brink, AP. (samest.). 2008. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Ester, H. 2003. Patrick Petersen: Wolseley 6 juli 1951 - Paternoster nabij Sint Helenabaai 6 juni 1997.         [ Links ]

Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, 2003. https://www.dbnl.org/tekst7_jaa004200301_01/_jaa004200301_01_0010.php [08 Augustus 2022].         [ Links ]

Foster, R & L Viljoen. (samest.) 1997. Poskaarte: beeide van die Afrikaanse poêsie sedert I960. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.         [ Links ]

Fransman, W. 2011. Patrick Petersen: "Sy poesie het die spektrum van menslike ervaring bestryk." LitNet, 1 Augustus. https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=107901 [8 Aug 2022].         [ Links ]

Fransman, W. 2011. Patrick Petersen-gedenkdiens: Stryder vir die digkuns. LitNet, 29 Julie. https://argief.litnet.co.za/article.php [8 Aug 2022].         [ Links ]

Fransman, W & J Hambidge. 2011. Poesie oor Patrick Petersen. LitNet, 22 Augustus. https://www.litnet.co.za/oor-patrick-petersen/ [08 Augustus 2022].         [ Links ]

Komrij, G. (samest.) 1999. Die Afrikaanse poesie in 'n duisend en enkele gedigte. Amsterdam: Bert Bakker.         [ Links ]

Metelerkamp, P. 2018. Ingrid Jonker: 'n biografie. Johannesburg: Penguin Random House.         [ Links ]

Odendaal, B. 2016. Die Afrikaanse poesie 1960 - 2012. In: Van Coller, HP. 2016. Perspektief en profiel, Deel 3, 2e uitgawe.         [ Links ]

Patrick Petersen. 2021. Wikipedia, 17 Augustus. https://af.wikipedia.org/wiki/Patrick_Petersen. [08 Augustus 2022].         [ Links ]

Petersen, PJ. s.j. (ca. 1985.) amandla ngawehtu. Genadendal: Genadendalse Drukkery.         [ Links ]

Petersen, PJ. 1988. Advent. St. Helenabaai: Prog.         [ Links ]

Petersen, PJ. 1993. Vergenoeg. Vredenburg: Prog.         [ Links ]

Pietersen, J. 2021. ATM herdenk unieke Petersen. Die Afrikaanse Taalmuseum Nuusbrief, Desember. http://www.taalmuseum.co.za/wp-content/uploads/2021/12/nuusbrief-des-2021-finaal.pdf [8 Augustus 2022].         [ Links ]

Pople, L. 2021. Ontslape digter se 70ste gevier met bundel en gedenkprogram. Netwerk24. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/ontslape-digter-se-70ste-gevier-met-bundel-en-gedenkprogram-20211208 [8 Augustus 2022].         [ Links ]

Roos, H. 2015. 'n Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu tot 2010. In: Van Coller, HP. (red.). 2015. Perspektief en profiel, Deel 2, 2e uitgawe.         [ Links ]

Roth, E. 2018. Olga Kirsch: 'n Lewe in gedigte. s.l.: Naledi.         [ Links ]

Van Niekerk, J. 2016. "Baie worde": identiteit en transformasie byAntjie Krog. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Van Wyk, J, P Conradie en N Constandaras. (samest.) 1988. SA in poesie /SA in poetry Pinetown: Owen Burgess Uitgewers.         [ Links ]

Willemse, H. 2008. Commendatio: Afrikaans Onbeperk - die lewensbydrae van Patrick J. Petersen. Tydskrif vir letterkunde, 45(20):177-183.         [ Links ]

Willemse, H & S van Wyk (reds.). 2015. 'n Vlag aan die tong. [Gedenkbundel van die derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium.] Pretoria: Hond BK; Wildernis: Abrile Doman.         [ Links ]

Willemse, H. (red.). 2018. Hostel: Autobiographical Narratives of the 1975-1980. University of the Western Cape Student Generation. Wildernis: Abrile Doman.         [ Links ]

Willemse, H. (samest.). 2021. Geskryfde Krokkie: 'n versameling lyktekste vir Enrico G. Wildernis: Abrile Doman.         [ Links ]

Willemse, H. 1999, 2016. 'n Inleiding tot buitekanonieke Afrikaanse kulturele praktyke. In: Van Coller, HP. (red.). Perspektief en profiel.         [ Links ]

Willemse, H. 2019. Black Afrikaans Writers : continuities and discontinuities into the early 21st century - a commentary. Stilet, 31:260-275.         [ Links ]

Willemse, H. 2022. Persoonlike kommunikasie. Whatsapp-boodskap. 5 Augustus.         [ Links ]

 

 

1 Tydens die huldigingsgeleentheid vir Petersen en die herdenking van sy sewentigste verjaarsdag, was dit ook die bekendstelling van Ons het [...] ver versit. Kyk Petersen (2021).
2 Kyk Abrahams et al. (1995).
3 Kyk Roos (2015).
4 Kyk Odendaal (2016).
5 Stilet 32(1&2), https://journals.co.za/toc/stilet/32/1-2 (5 Mei 2022).
6 Werkwinkel 9(2) uit 2014 oor Olga Kirsch (https://www.ingentaconnect.com/content/doaj/18963307/2014/00000009/00000002).
7 Tydskrif vir geesteswetenskappe 60(2) (https://journals.co.za/toc/akgees/60/2) is in 2020 gewy aan NP van Wyk Louw - 50 jaar ná sy afsterwe.
8 In 'n vorige reeks (geidentifiseer aan die eenvormige bandontwerp) het o.a. keuses uit die werk van Johann de Lange, Wilma Stockenström, Lina Spies, Adam Small en Antjie Krog ingesluit en het die Versamelde gedigte van Sheila Cussons verskyn. Profielinskrywings vir al hierdie digters is opgeneem in Perspektief en profiel.
9 "Die naam is 'n samestelling. Abrile en Doman; "abrile" is een van die eerste woorde vir 'n insek wat deur die reisiger De Flacourt in 1655 opgeskryf is. Dit is sy verdraaiing, of liewer sy verwronge weergawe van die inheemse woord vir bidsprinkaan, "//gauna-b". Doman verwys na een van die eerste tolke tydens Europese vestiging, Nommoa. Hy word, afhangende van geskiedskrywers se invalshoeke, beskou as die eerste versetsleier teen Europese besetting, óf as 'n verraaier óf 'n knoeier" (Willemse, 2022).
10 Kyk veral die jongste stuk in 'n Suid-Afrikaanse publikasie: Willemse, H. 2019. Black Afrikaans Writers: continuities and discontinuities into the early 21st century - a commentary. Stilet, 31(1&2):260-275.
11 https://af.wikipedia.org/wiki/Patrick_Petersen [8 Aug 2022] met laaste datum bygewerk aangedui as 17 Augustus 2021.
12 Kyk Willemse (2008).
13 https://www.litnet.co.za/oor-patrick-petersen/ [8 Aug 2022].
14 Kyk byvoorbeeld Pople (2021).
15 Kyk Fransman (2011).
16 https://www.litnet.co.za/digter-petersen-en-ander-gehuldig-suidoosterfees-2017/ [8 Aug 2022].
17 Na wat ek kon opspoor is Ons het [...] ver versit die vyfde titel in sewe jaar wat by hierdie uitgewery verskyn, met die eerste titel 'n Vlag aan die tong in 2015. Die ander titels is dié deur Willemse en Van Wyk (2015), Adams (2016), Willemse (2018) en Willemse (2021).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons