SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número3Parenting approaches of hearing mothers and fathers to children with hearing lossEmpowering secondary-school principals in Ethiopia to perform their instructional leadership roles more effectively índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.3 Pretoria Set. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n3a11 

TAALRUBRIEK

 

Die skyn van waarheid en 'n blyk van waardering

 

 

Die woorde skyn en blyk, en veral die afleidings daarvan en verbindings daarmee, is skelm woorde, want hulle mislei 'n gebruiker maklik.

Die eerste ding wat 'n mens moet onthou, is dat hulle elkeen as 'n selfstandige naamwoord of as 'n werkwoord gebruik kan word. In die opskrif hier bo is hulle selfstandige naamwoorde, soos gesien kan word uit onder meer die lidwoorde die en 'n wat saam met hulle gebruik word, en, in die geval van blyk, dat hy die meervoud kan neem: "blyke van waardering".

Die skyn van waarheid beteken dat iets lyk soos, of die voorkoms het van, die waarheid, maar dit is nie regtig die waarheid nie. 'n Blyk van waardering is weer iets wat 'n waarneembare bewys is van die waardering wat daar vir 'n bepaalde persoon is.

In sinne soos "dit blyk dat daar bedrog gepleeg is" en "dit skyn die geval te wees" is hulle weer werkwoorde. In die eerste geval is die betekenis min of meer 'dit is duidelik [of: het duidelik geword] dat bedrog gepleeg is'; daar is dus bewyse van bedrog. In die tweede geval is die betekenis 'dit wil voorkom [of: dit lyk] of dit die geval is'; daar is dus nie bewyse dat dit so is nie, hoogstens 'n vermoede.

Uit hierdie eenvoudige verduidelikings is dit duidelik dat blyk op 'n feit, 'n werklikheid, 'n bewys slaan, en skyn op iets wat die voorkoms het van, of wat lyk soos, dit wat genoem word. Kru gestel, is dit dus juis iets wat nié 'n feit, werklikheid of bewys is nie, maar net so lyk.

Een van die foutiewe gebruike wat 'n mens nogal dikwels in die werkwoordelike gebruik teëkom, is *blyk asof, soos in die volgende sin: "Hy het verduidelik dat die kragnetwerk begin herstel en dat dit dus blyk asofkykers die naweek ononderbroke die rugby op TV sal kan sien." Dit behoort duidelik te wees dat blyk en asof hier teen mekaar stry, want blyk suggereer 'n feit of die werklikheid, en asof juis nié. Hier moes die skrywer eenvoudig gesê het: "... en dat dit dus lyk asof kykers ..."

Bogenoemde basiese betekenisse word ook aangetref in afleidings en verbindings waarin dié twee woorde die grondwoorde is: klaarblyklik, blykens, skynbaar, oënskynliken blykbaar. Dit is veral met hierdie woorde waar skrywers die meeste kleitrap.

klaarblyklik: Hier word sekerheid as 't ware dubbeld gestel, want -blyk- het natuurlik die betekenis wat hier bo genoem is en boonop word klaar- bygevoeg. Hierdie klaar word nie in hedendaagse Standaardafrikaans eintlik meer op sy eie gebruik nie, behalwe in verouderde of in digterlike taal, soos in Berymde Psalm 42: "Wanneer sal 'k, nâ swerftog en benouing, God weer sien in klare aanskouing?" Ons ken dit egter nog in woorde soos klaarblyklik, klinkklaar, klokklaar en selfs sonneklaar en klaroenklaar.

Sowel die WAT as die WNT (Woordenboek der Nederlandsche Taal) gee 'n menigte betekenisonderskeidings vir klaar aan, maar wat vir ons hier van belang is, is die WAT se "nie vaag, duister, onduidelik, dubbelsinnig nie" en die WNT se "zonder duisterheid; zonder dubbelzinnigheid; voor ieder duidelijk; voor ieder blijkbaar; kennelijk".

Iets wat klaarblyklik die geval is, is dus sonder twyfel helder en duidelik die geval.

blykens: Dit is nie 'n baie algemeen gebruikte woord nie en lewer gewoonlik nie gebruiksprobleme op nie. Dit beteken eenvoudig 'soos blyk uit (wat genoem word)', byvoorbeeld "Blykens die berig het sy (dit of dat) gedoen" of soos in die WNT "Een jonge juffer ..., die, blijkens het boek dat zij in de hand hield, met lezen bezig was."

skynbaar en oenskynlik: Teenoor klaarblyklik staan die twee skyn-woorde, want hulle gee onsekerheid te kenne: Eersgenoemde beteken duidelik 'volgens die skyn, op die oog af', en laasgenoemde beteken 'te oordeel na die uiterlike, te oordeel na wat die oog kan sien, na soos dit lyk'. Die WNT voeg hierby dat dit 'n opvatting is waarby dit "in die midde gelaat word in hoeverre die oordeel juis is".

In beide gevalle is die waarheid, die korrektheid, die feitelikheid van dit wat ter sprake is, nie seker en vasstaande nie. Met 'n sin soos "Hy het skynbaar/oenskynlik die geld gesteel" gee die spreker dus te kenne dat dit wel lyk asof hy die geld gesteel het, maar daar is nog geen sekerheid of bewys dat dit wel so is nie.

Maar soos dit maar alte dikwels met taal gaan, pas alles nie altyd netjies in vakkies en hokkies nie. Die woorde wat in hierdie aflewering bespreek word, suggereer dit ook, want dit lyk maklik genoeg om die blyke en die skyne volgens betekenis en gebruik uitmekaar te hou, maar dan kom 'n mens by blykbaar.

Die WNT se by blijkbaar: "Duidelijk, geen twijfel overlatende; ook attributief om aan te duiden dat eene zaak zonder twijfel moet worden erkend; ter aanduiding dat men aan de juistheid van het gezegde niet kan twijfelen". Fyn - dit klop met wat vroeer oor die blyk-woorde gese is. Maar dan voeg Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandse Taal 'n tweede betekenisonderskeiding by: "naar men mag of moet aannemen", wat die strak feitelikheid versag.

Koenen en Endepols se Verklarend Woordenboek der Nederlandse Taal gaan 'n stappie verder en voeg die betekenis 'waarschijnlijk' by. Ook die WAT gee by skynbaar aan "sinoniem blykbaar'", en by blykbaar word 'n tweede betekenis gegee as 'skynbaar'.

Dit is dus duidelik dat daar in sowel Afrikaans as Nederlands 'n betekenisuitbreiding plaasgevind het van 'wat geen twyfel laat nie' tot ook 'waarskynlik'. Dis moeilik om te raai waarom dit gebeur het - dalk langdurige verkeerde gebruik? Hoe dit ook al sy, as ek moet skat, is die tweede betekenis van 'waarskynlik, moontlik' vandag in Afrikaans die oorwegende.

En waarskynlik? Dit beteken 'met 'n vry groot kans op denkbaarheid, met 'n redelike mate van sekerheid'. Die -skyn- is maar dieselfde as hier bo - dus 'wat 'n sekere indruk maak' - en die waar- beteken, volgens die Etymologisch Woordenboek van het Nederlands, 'overeenstemmend met de werkelijkheid'.

Die versigtige spreker/skrywer sal hierdie woorde wel met die nodige oordeel gebruik.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons