SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue3Environmental identity in the Age of Man: New perspectives on Toorbos. Part 1Person-oriented citizenship education in public secondary education author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.3 Pretoria Sep. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n3a10 

AKTUEEL

 

Aanvullende kommentaar oor die taaldebat op Stellenbosch

 

 

Inleidende tersaaklike agtergrond:

Vanaf 1998 tot vroeg 2008 het ek as 'n verteenwoordiger van die Konvokasie op die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) gedien. Vir die laaste 4 jaar was ek voorsitter van die Raad en vir die voorafgaande 4 jaar ondervoorsitter. Ek was dus ten nouste betrokke by die hele termyn van 6 jaar van prof. Chris Brink se rektorskap asook die taaldebat waarna hy in sy artikel verwys.

Persoonlike loopbaanagtergrond is dat ek as narkotiseur opgelei is en gepraktiseer het voordat ek in 1983 die privaat hospitaalmaatskappy Mediclinic Internasionaal begin het waar ek in 2020 as voorsitter afgetree het. (Dit kan dalk ook gemeld word dat ek gedurende 1972 voorsitter van die US se Studenteraad was en vir die grootste gedeelte van my lewe op Stellenbosch gewoon het en steeds woon.)

Kommentaar

Eerstens wil ek net bevestig dat prof. Brink se meningsartikel in alle opsigte korrek is sover dit van toepassing is op my ervaring van en herinneringe aan daardie tydperk. So is daar wel byvoorbeeld heelwat druk deur die taalstryders op my uitgeoefen om te verhoed dat die boek Chris Brink: Anatomie van 'n Omvormer (Botha, 2007) gepubliseer kon word.

Verder sou ek in baie detail kon verval, maar gaan eerder net enkele hoofpunte uitlig soos ek die taaldebat retrospektief beskou:

Die drie hooftaalstryders van daardie tyd was al drie redelik pas afgetredenes wat al drie polities geinteresseerde en georienteerde persone was. My vermoede was dat hulle die taalstryd by die US en al die publisiteit wat dit ontvang het tot 'n mate geniet het. Ongelukkig het hulle in die proses egter die oorkoepelende, eerste vereiste van 'n raadslid, naamlik om op die lang termyn in die beste belang van die Universiteit te handel, eenvoudig net geignoreer. Hulle het die belang van 'n onderafdeling van die Universiteit (die taal van onderrig) bo die belang van die Universiteit in sy geheel gestel. Verder het hulle daardeur ook baie kosbare tyd en energie van ander raadslede en veral die US-bestuur, verspil.

Goedkeuring rakende die taalbeleid vir spesifieke vakke het daardie tyd opgewentel vanaf een vlak na verskeie ander: vanaf die dosente na die departemente na die fakulteite na die taalkomitee na die Senaat en dan uiteindelik na die Raad. Op al hierdie vlakke was daar altyd oorweldigende steun om 'n meer buigsame benadering teenoor 'n groter Engelse aanbod op die kampus te implementeer. Die taalstryders wou egter gehad het dat Afrikaans van bo af deur die Raad in lesingsale afgedwing moes word en het selfs ook 'n slag voorgestel dat beamptes in lesingsale hieroor toesig moes hou.

Nadat die taalstryders besef het dat hulle benadering duidelik nie deur die oorgrote meerderheid van die besluitnemende liggame ondersteun word nie, het hulle ongelukkig wel begin met persoonlike aanvalle en swartsmeerdery van spesifiek prof. Brink en tot 'n mindere mate myself. Hulle het meermale ook die bestuur van doeltreffende raadsvergaderings bemoeilik.

Wanneer ek vandag na die sukses en gewildheid van die US kyk, het ek volkome gemoedsrus dat die aanpassings wat aan die taalbeleid gedurende prof. Brink se termyn gemaak is, nodig en in die beste belang van die universiteit was. Dit is jammer dat die akademiese onderbou van Afrikaans in die proses onder druk gekom het, maar in Suid-Afrika behoort hierdie beskerming van 'n taal nie net as die plig van een universiteit gesien te word nie. As ek persoonlik meer aktief by sodanige beskerming betrokke sou geraak het, sou ek my eerder daarvoor beywer het dat die Afrikaanse taaldepartemente by soveel as moontlik universiteite lewenskragtig bly ... pleks daarvan dat van hulle, soos byvoorbeeld by Wits en Rhodes, moes sluit.

Ten slotte vra ek dieselfde vraag as prof. Brink, naamlik: "Is Afrikaans nou een jota beter af as wat dit sou gewees het sonder al die bakleiery oor die taalbeleid van die US"?

Dr. Edwin Hertzog

Stellenbosch
E-pos: edwin.hertzog@37dorp.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License