SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.62 issue3Constitutional propriety in the 21st century author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand



Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.3 Pretoria Sep. 2022 



Blote vertroue en die voorwaardes daarvoor


Mere trust and the preconditions for it



Michael Heyns

Viserektor, AROS en buitengewone professor in Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos:




Hoe belangrik is vertroue vir menswees? Sedert die Verligting is dit mode in sekere kringe om menswees tot rasionaliteit te reduseer. Rasionalisme word daarvan verdink dat dit vertroue óf ombou om rasionaliteit te reflekteer, óf dat dit 'n mindere plek in menslike bestaan aan vertroue toeken. Daar is egter tekens in ons tyd van 'n toenemende besef dat rasionaliteit grense het en dat menswees veel meer prominente kruissnydende aspekte en faktore veronderstel as wat 'n rasionalisme sal wil toegee. Te midde van hierdie meer akkommoderende konteks vir vertroue is die fokus van hierdie artikel die stel van 'n standpunt dat vertroue as menslike aspek van ander aspekte onderskei moet word, dat vertroue verdien om met prominensie in die moderne kultuur behandel te word en dat die interaksie tussen vertroue en ander aspekte 'n belangrike plek in menslike bestaan inneem.

Trefwoorde: Vertroue, Verligting, rasionalisme, rasionaliteit, weerloosheid, antesedente van vertroue, kognitiewe en niekognitiewe teoriee van vertroue, vertroue as abstraksie


There is a perception that our time shows a general and profound crisis of confidence in several essential areas. The seriousness of this trend can only be measured against the background of a view on how important trust is for being human.
During and after the Enlightenment, it became fashionable to reduce being human to rationality. Thus, rationalism requires that trust be constructed primarily to reflect rationality or take a lesser place in human existence.
We currently live in a time that increasingly realises that rationality has its limits and that being human presupposes far more aspects and factors than the dominant currents of thought the Enlightenment allows. This realisation will allow for a view that gives a more significant place to trust.
An overemphasis on human reason can be seen in Kant's core statements about what the Enlightenment entails. Scepticism about a significant role for trust can also be surmised when he suggests that trust relations based on the church's confessions are not something that should inhibit the rational progress of mankind. For many reasons, resistance to rationalism is becoming a prominent trend in the current view of trust. This trend can be seen, among other things, in the prominent place that vulnerability is accorded in definitions of trust. This vulnerability has a background in the anxiety of modern human beings. This anxiety is the result of the numerous horrors humankind has committed, primarily through reason, over the past century. Although vulnerability is a popular focus in trust research, it is also controversial. It is argued that people who truly trust do not feel vulnerable. Instead, as far as anxiety and vulnerability are concerned, we deal with a context factor that needs to be taken seriously. However, it is not necessary for trust in itself (mere trust) to be reduced to vulnerability.
Consequently, it is necessary to ask where trust should be positioned if we want to give it its rightful place? Nicholas Wolterstor ffpoints to another direction than rationalism (or an emphasis on vulnerability, for that matter). The search for the creator of the cosmos or what gave rise to the cosmos and its laws remains deeply shrouded in a rational twilight. The over-optimistic confidence in reason during and after the Enlightenment must make way for a worldview in which trust comes more into its own. Rationality does not have to disappear but must also reconcile itself with a strong link with trust. Therefore, current trust research that mentions antecedents of trust is on an enlightening path when it emphasises the reconsideration of a calculating trust and the consideration of other antecedents.
Current research on trust assumes that the following two sets of antecedents should receive the most attention: rationality/expertise/calculation and integrity/benevolence/morality. The two "schools" that coincide with this can be divided between non-cognitivists who think cognitivists are not able to recognise trust - trust merely becomes the application of calculations. In their negative reaction to this, the earlier non-cognitivists run the same reductionist danger - in this case, a reduction of confidence to emotion. Therefore, recent non-cognitivists suggest that trust should be defined by referring to its unconscious but ubiquitous state. Cognitivists accuse this view of not being in touch with people's everyday existence and experience. In reaction, one could argue that trust is an abstraction and therefore not summarily visible in people's everyday lives. Biological health, rationality, and emotion should also be embedded in people's everyday lives in a similarly seamless way.
Therefore, all these functions related to being human will mostly be invisible unless they are dysfunctional, under pressure or being investigated by scholars by means of abstraction from the totality of human existence. At the same time, however, it is clear that abstraction can only be understood if it is seen in interaction with other such abstractions.
Back to the very first comment of the article: Data that support the perception of a crisis of trust in public institutions are widely available. According to such data, trust in most public institutions is seriously deteriorating. An exploratory analysis of the breach of trust's causal patron indicates that antecedents of trust in public institutions are also sought in aspects that fall outside the trustees' rational expertise, affection, and integrity. Trusters are increasingly relying on the willingness of trusted people to align with their identities, economic needs, lifestyle, and ideological beliefs. This means that the antecedents of trust and those already popular in trust research should also include the economic, biotic, and historically shaped identities, as well as worldviews of trusters and trustees.
The critical point to note is that the list of antecedents for trust is broader than is generally accepted. Therefore, it is urgent to define trust not only in terms of some of the antecedents wherewith it is intertwined. Many of the recent breaches of trust result from a distortion caused by a reductionist view of trust.

Keywords: Trust, Enlightenment, rationalism, rationality, vulnerability, antecedents of trust, cognitive and non-cognitive theories of trust, trust as abstraction




Daar bestaan die persepsie dat ons tyd gekenmerk word deur 'n algemene vertrouenskrisis.1Die persepsie is omvattend; dit is in feitlik alle sfere waarneembaar, naamlik die kerk, die regering, die onderwys, besigheid, die media en gesondheidsorg. Daar is wel diegene wat die idee van 'n vertrouenskrisis bevraagteken en daarop wys dat daar steeds vertroue in kenners, instellings en "gewone" mense bestaan en dat die wereld aanwysbaar op grond van vertroue funksioneer.2 Die oenskynlike vraag wat beantwoord moet word, is dus of ons inderdaad 'n krisis beleef.

Selfs as "nee" geantwoord word, sal die erns van die saak gemeet moet word teen die agtergrond van 'n standpunt oor hoe belangrik vertroue vir menswees is. Laasgenoemde is die vraag wat veral in hierdie artikel aandag sal kry.

Die aanname waarvan vertrek sal word, is dat die negatiewe (en selfs positiewe) persepsies oor 'n vertrouenskrisis veronderstel dat vertroue 'n belangrike funksie van menslike bestaan is. Daarteenoor sal rasionalistiese sienings daarvan verdink word dat hulle 'n té klein ruimte vir menslike funksies soos vertroue laat. Die vermoede bestaan dat rasionaliteit in oordrewe formaat vereis dat vertroue óf omgebou moet word om primêr rasionaliteit te reflekteer, óf dat rasionaliteit net 'n klein rol aan vertroue in menslike lewe toeken. Hierteenoor is daar tans 'n toenemende besef dat menswees veel meer veronderstel as blote rasionaliteit en dat vertroue in die proses daarom ook meer aandag kry.

Die verdere argument sal wees dat 'n herkenning en erkenning van blote vertroue dit moontlik maak om aan vertroue 'n regmatige plek in menslike lewe toe te ken. Tegelyk sal geargumenteer word dat blote vertroue 'n abstraksie uit die volle werklike lewe van 'n mens is (netsoos bv. blote redelikheid). Abstraheringe van menslike aspekte veronderstel op hul beurt 'n interaksie en verweefdheid tussen menslike funksies soos vertroue en rasionaliteit. Hierdie verweefdheid van meerdere menslike aspekte het die potensiaal om 'n beter greep op die persepsie van 'n vertrouenskrisis moontlik te maak.


Verligting en vertroue

Nicholas Wolterstorff (1995:210), emeritus Yale-filosoof, verduidelik reeds amper drie dekades gelede dat die visie van die Verligting, wat 'n houvas op die moderne wêreld gekry het, sterwend is. Die visie was (en is) 'n mengsel van liberale politieke teorie en 'n rasionalistiese epistemologie. Die tekens van 'n sterwende visie is oral sigbaar. 'n Enkele teken kan genoem word, naamlik dat 'n gepragmatiseerde Kantianisme in die vorm van interpretiwisme deur die akademie swiep en 'n einde aan die Verligting se idee van fondamentalisme3 maak. Volgens die fondamentalisme sou die rede vir ons 'n eksakte prentjie kan gee van die werklikheid "daar buite". Dit gebeur nie. Hier onder sal gefokus word op spesifiek die gevolg wat die sterwende rasionalisme vir ons idee van vertroue inhou.4

Dit is ironies dat Wolterstorff die plaasvervanger van sterwende rasionalisme aan die naam van Immanuel Kant (22 April 1724-12 Februarie 1804) koppel; Kant was immers een van die Verligting se beste formuleerders van die idee van 'n triomferende rede. 'n Buitenge-wone klem op menslike rede en 'n onderbeklemtoning van vertroue tussen mense kan nagespeur word in Kant se opstel oor die Verligting.

Kant formuleer 'n rasionele vryheidsideaal soos volg: "Verligting ... [is] die uittrede van die mens uit sy self-opgelegde onmondigheid. Onmondigheid is die onvermoê om jou van jou eie verstand te bedien sonder die leiding van 'n ander." Dan word hierdie bevrydende rasionaliteit meer - dit word 'n behore: Onmondigheid is tekenend van "... 'n gebrek aan beslissing en moed", asook "luiheid en lafhartigheid". Nog meer, dit word 'n voorgeskrewe etos: Dit is noodsaaklik dat 'n "gesindheid" of "neiging en roeping tot vrye denke" die hele bevolking inspireer sodat hulle "al hoe vaardiger word in die vryheid om te handel" (Kant, 1783:17,22).

As gevolg van hierdie beklemtonings word 'n afskaling van ander menslike funksies moontlik: Dit is vir Kant byvoorbeeld nie belangrik dat belydenisse in kerke funksioneer nie omdat niks, behalwe die eie rede, 'n grens skep wat oortree kan word nie. Tradisie is in Kant se visier as hy afwysend oor belydenisse skryf. Hier ter sake is die indruk dat Kant in die proses ook vertrouensverhoudings nie sien as iets wat in die pad van die rasionele vooruitgang van die mensdom moet staan nie.

Kant (1783:19-20) wil weet of kerkmense geregtig is "om hulleself onder eed teenoor mekaar tot 'n bepaalde belydenis te verplig, om so 'n altyddurende oppervoogdyskap oor elk van hulle lede en, deur middel van hulle, oor die volk te voer en dit selfs te verewig". So 'n verpligte en geformaliseerde vertrouensverhouding is volgens Kant onmoontlik omdat een epog nie oor 'n volgende kan heers en so dit vir 'n nuwe geslag onmoontlik maak om "... kennis uit te brei, van dwalinge te reinig en in die algemeen in die verligting vooruit te gaan nie". Belydenisse (en dus tussenmenslike ooreenkomste oor wat geglo word en waarop vertrou word) kan dalk geld "in afwagting van iets beters". By die "beters" sal uitgekom word deur veral 'n geleerde(s) wat vry is om "oor die foutiewe in die heersende bedeling sy aanmerkings te maak". Daar kan dus nie in "godsdienstige gebiedinge" volhard word nie, want dit sal "die vooruitgang van die mensheid as't ware ... vernietig". 'n Rasionele verligting kan uitgestel word, maar daar mag nooit daarvan afstand gedoen word nie, want om so afstand te doen, sal "die heilige regte van die mensheid . skend en . vertrap".

Hierdie uitspraak oor 'n verminderde plek vir belydenisse en die verhoudinge wat dit veronderstel, asook die reddende rol van 'n intellektueel en die heilige regte tot rasionaliteit van die mensheid val goed op 'n moderne oor. Die ironie is egter dat die laasgenoemde uitspraak van Kant tog ook baie klink na 'n ewige waarheid wat ons almal moet bely en onderskryf en die mensdom van geslag tot geslag behoort te bind; dus 'n vryheid waaraan nie ontsnap kan word nie.5


'n Rasionele skemerte

'n Belangrike punt van kritiek oor Kant se uitspraak hier ter sake is die vermoede dat ander aspekte van menswees gaan sukkel om te gedy in die soort atmosfeer wat Kant voorstel - 'n atmosfeer waarin die rede die toppunt van die piramide vorm. Kant val in sy siening oor kerklike belydenisse nie oor sy voete om te onderstreep dat een mens 'n ander moet kan vertrou dat hy/sy glo wat hy/sy bely nie. Sou hierdie onderspeling van vertroue die toets van die tyd deurstaan?

Weerstand teen die rede van die Verligting kan tans gesien word in die idee van postmodernisme en die voorloper van die postmodernisme, naamlik 'n irrasionalistiese eksistensialisme veral ná die Tweede Wêreldoorlog.6 Meer spesifiek ten opsigte van vertroue as tema kan die volgende gesê word: 'n Skeptisisme spreek uit die term "weerloosheid", wat toenemend 'n belangriker plek in definisies van vertroue kry. Hierdie "weerloosheid" het 'n agtergrond in 'n angstigheid wat die Westerse mens beetgepak het - 'n angstigheid wat baie te make het met die talle katastrofes en verskrikkinge waarin menslike rasionaliteit die afgelope eeu betrokke was en nie altyd 'n té voortreflike rol gespeel het nie.

Gebeurtenisse wat uitstaan ten opsigte van die laat moderne gevoelens van angstigheid en weerloosheid is die volgende: die twee wêreldoorloê, die gevaar van totale uitwissing wat die Koue Oorlog immer ingehou het (en steeds inhou), asook die Balkan-oorloê - en seker ook die huidige oorlog in die Oekraine. In Afrika spesifiek hou tribalisme steeds 'n gevaar in - die volksmoord op Tutsis in Rwanda staan uit as voorbeeld. Daarby is daar nog nie vrede met die Europese kolonisering en stroping van Afrika deur Europese lande met motiverings dat dit gedoen is in die naam van modernisering nie. Paternalistiese praktyke soos Westerse slawerny (alhoewel nie die enigstes wat hul aan slawerny skuldig gemaak het nie) en apartheid is ook nog nie vergewe en vergete nie. In ons tyd leef ons met 'n globalisering wat ekonomies gedryf word (alhoewel allerlei mooi morele argumente gereeld daaraan gekoppel word) en die gaping tussen ryk en arm verder vergroot. Vir Afrika met sy vele armes, is dit steeds nie goeie nuus nie. Hierdie historiese gebeurtenisse het 'n gevoel laat posvat dat die mens se rede dit nie moontlik maak om moreel teen 'n opwaartse spiraal te beweeg soos die Verligtingsrede beloof het nie. Daarby het die rede self die mens 'n doodmaakvermoê gegee soos nog nooit tevore nie. Dit is wat Middleton en Walsh (1995:9-11,22-27) reeds drie dekades gelede van die sogenaamde postmodernisme van die betrokke tydsgewrig gemaak het. In ons tyd het die angstigheid oor of die rede ons kan red en 'n opwaartse beskawingspad ook verdere aanstigters: Die Twin Towers-aanval deur radikale Moslems maak dit aan ons duidelik dat die hele mensdom nie beindruk is deur 'n sekulariserende Westerse kultuur nie.

Daar is ook 'n toenemende besef dat daar nie op die VSA (of die Weste as sodanig) as afdwinger van 'n rasionele vrede en geregtigheid staatgemaak kan word nie - Viêtnam en Afghanistan (en toenemend ook die oorlog in die Oekraine) onderstreep hierdie besef. Die angstigheid kan ook gesien word in anti-intellektualistiese reaksies oor omgewingsdegradering en siektes wat ons gesondheid bedreig soos die Covid-19-pandemie. Hierdie bedreiginge het in gemeen dat die rede oênskynlik 'n pad van verlossing voorskryf, maar dan kies die mensdom nie so 'n rigting nie en vertrou ook nie die rigting nie. Die rede word selfs instrumenteel in die bedreiginge as sodanig.

Die gevoel van angstigheid is sekerlik nie onverwant aan die groeiende besef van weerloosheid in ons tyd nie. Weerloosheid is onder andere die persepsie dat mense maklik die slagoffer kan wees van magte en kragte wat nie volgens goeie bedoelings met hulle handel nie (Du Rand, 2016:154-171). Dit is daarom insiggewend dat navorsers wat oor vertroue navorsing doen weerloosheid toenemend die fokuspunt maak wanneer hulle definisies oor vertroue formuleer.7 Mayer, Davis en Schoorman (1995:712), drie invloedryke navorsers oor vertroue, maak daarop aanspraak dat hulle die eerstes was om weerloosheid 'n betekenisvolle deel van die definisie van vertroue te maak.8

Mújdricza (2019:121-122) wys tereg daarop dat die koppeling van weerloosheid aan vertroue gewild maar ook kontroversieel is. Iemand wat werklik vertrou, voel waarskynlik minder weerloos as iemand wat in 'n verhouding nie die ander party vertrou nie. 'n Mens sou kon byvoeg dat ons in weerloosheid eerder te make het met 'n konteksfaktor wat onderstreep dat vertroue 'n noodsaaklike deel van menslike lewe is. Iemand wat bewus word van 'n bedreigende konteks en dus sy weerloosheid in hierdie situasie, sal dus ook vertroue verloor. Weerloosheid kan egter nie die kern word van die wyse waarop ons vertroue verstaan nie. Hierdie punt van kritiek sluit aan by 'n standpunt wat 'n reduksionisme probeer vermy (soos ook die geval is met kritiek op die herleiding van vertroue tot rasionaliteit).

Waarheen dan anders as ons aan vertroue 'n meer regmatige plek wil gee? Vir 'n ander rigting as die Kantiaanse rasionalisme of 'n laat moderne angstigheid oor die rede kan Nicholas Wolterstorff beluister word. Wolterstorff maak uitsprake wat aan vertroue - bo en behalwe aan rasionaliteit - ook belangrikheid verleen.

Wolterstorff (2019:159-160) maak die uitspraak dat "at the bottom of our human existence there is, and must be trust, not proof. Dit is onduidelik of Wolterstorff ons bestaan primêr van vertroue afhanklik probeer maak9 - wat dieselfde oordrywingsfout sou wees as wat Kant met rasionaliteit begaan waarvolgens die rede die groot voorwaarde is. Dit is nietemin belangrik dat vertroue 'n prominente rol in menslike lewe speel. Wolterstorff (2019:54) verduidelik dat die vertrouedisposisie van die mens hom/haar in staat stel om te aanvaar wat ander sê. Juis hierom sal wetenskaplikes byvoorbeeld deel word van tradisies in die wetenskap en sal geleerdes oor dissiplines heen aanvaar wat ander geleerdes kwytraak oor en in 'n veld van ondersoek waarmee hulle nie vertroud is nie.

Met betrekking tot vertroue in die wetenskap maak Wolterstorff hierdie venster so 'n bietjie groter oop in sy waardering van die denke van Thomas Reid (7 Mei 1710-7 Oktober 1796), die Skotse Verligtingsfilosoof en tydgenoot van Immanuel Kant. Volgens Wolterstorff (2000:255-256) fokus Reid op die mens se sterk begeerte om die oorsake van dinge en veranderinge te verstaan. Reid kom tot die konklusie dat daar nie in die kosmos self 'n uitein-delike oorsaaklike agent deur die rede geidentifiseer kan word nie (die rede self is dus ingesluit). Dit is wel so, aldus Wolterstorff (2000:257-258), dat veral die natuurwetenskappe sekere oorsaaklike wette of veralgemenings kan oopdek (Wolterstorff noem dit "nomologiese ver-duidelikings"). Op grond van hierdie oopdekkinge kan verdere nomologiese verduidelikings gegee word. Aan die einde van hierdie kenaksiesketting bly die soeke na 'n agent want die oorsaak van al hierdie wette is steeds onbeantwoord. Dit kan byvoorbeeld gesien word in die onvermoê om te verklaar hoe die konneksie tussen die persepsie van eksterne objekte en die mens se intellektuele funksie gemaak word. Ons kan nie verduidelikings bied oor waarom waarnemings sekere soorte kennis en veronderstellings oor die eksterne objekte in ons denke wakker maak nie. Die rede verdwyn in 'n "skemerte" of "misterie". Wolterstorff noem dat hierdie verwysing na "skemerte" nie iets is wat gewoonlik op 'n positiewe wyse met 'n figuur van die Verligting geassosieer word nie.10 Die idee dat 'n rasionele verstaan van die uiteindelike oorsake vir wetmatighede vir ewig gefrustreer gaan word, gaan teen die grein in van die Verligting se beklemtoning van die rede (Wolterstorff, 2000:256-260).

Wolterstorff (2000:260-261) sien in 'n wêreldbeskouing - waarin ook ruimte gemaak word vir "skemerte" - iets méér dan as die oormatig optimistiese fokus op die rede wat by Kant se soort Verligting aangetref word. Dit gee Wolterstorff ruimte vir dankbaarheid en nederigheid: "Nederigheid" omdat mense nie in staat is om self die skemerte finaal te verlig nie. Hy voeg "dankbaarheid" toe vir vermoêns wat wel aan die mens gegee is om by sommige van die wette uit te kom. Hierdeur word die uitdaging gestel dat mense hierdie kennis van die wette toepaslik sal gebruik, maar dit dui ook op 'n belangrike reaksie wat van 'n mens se kant kan kom, naamlik vertroue. Die verandering van 'n persepsie, na 'n konsepsie, wat dan na 'n geloof of veronderstelling oor 'n eksterne objek verander, is nie iets wat slegs deur die rede vermag word nie. Sonder vertroue is ons gestrand in ons kenne.


Antesedente en blote vertroue

In die lig van laasgenoemde belangrikheid wat aan vertroue geheg kan word, is dit nie onvanpas om 'n blote vertroue te identifiseer wat nie te herlei is na rasionaliteit, na een van die a-rasionele aspekte van menswees of na kontekstuele faktore soos mense se angstigheid nie.

Hierdie aspekte of faktore en vertroue funksioneer wel nie apart ("ongekoppel") van mekaar nie. 'n Koppeling kan duidelik gesien word in die literatuur oor vertroue. In hierdie literatuur word verwys na die antesedente van vertroue. Antesedente verwys na aspekte of faktore van menslike lewe wat vertroue moontlik maak en wat dus ook gebruik kan word om vertroue te voorspel en bestuur. 'n (Rasionele) berekening van risiko's is 'n belangrike voorbeeld van so 'n antesedent. Mense se gevoel van weerloosheid as gevolg van 'n wêreld waarin bedreigings voorkom, is 'n ander voorbeeld.

Die tendens tans in vertroue-navorsing toon 'n verminderde klem op rasionele berekening as primêre antesedent of voorwaarde vir vertroue. Dit word al duideliker dat rasionaliteit net een tussen meerdere antesedente kan wees - en ook nie noodwendig die belangrikste een nie. Om die waarheid te sê, navorsers oor vertroue toon 'n betekenisvolle skuif na ander antesedente as bloot die berekening van risiko's deur vertrouers en die rasionele bekwaamheid van vertroudes om risiko's te neutraliseer. Mayer, Davis en Schoorman (1995:717-720)11 verduidelik dat die meeste navorsers minstens twee en waarskynlik 'n derde antesedent van 'n vertroude identifiseer. Vermoè (waaronder veral rasionele deskundigheid en 'n vermoê om berekeninge te maak) is inderdaad belangrik,12 maar dan moet 'n vertroude integriteit en toenemend ook welwillendheid13 as belangrike deugde toon. Laasgenoemde twee terme word soms in een asem en in terme van moraliteit of etiek genoem. Hierdie stelle antesedente (rasionaliteit/ kundigheid/berekening en moraliteit/integriteit/welwillendheid) val saam met Mújdricza se onderskeiding tussen 'n kognitiewe skool en 'n niekognitiewe (moralistiese) skool in navorsing oor vertroue. Mújdricza (2019:110-112) karteer die twee skole soos hulle gebou is en op mekaar gereageer het. Hiervolgens het vertrouenavorsing begin met 'n redelik radikale "rasionaliserende kognitiewe benadering", opgevolg deur 'n "sagte kognitiewe skool", met niekognitiewe teorieê wat die huidige begin oorheers.

Die kognitiwiste (laat 1980's tot vroeê 1990's) in vertrouenavorsing het vertroue voorgestel as primêr 'n rasionele berekening en rasionele keuse waarin risikohantering en -uitskakeling die hoofmotief is.14 Mújdricza (2019:112-114) sluit aan by die niekognitiewe skool se kritiek, naamlik dat hierdie rasionaliste eintlik geen ruimte laat vir vertroue as 'n verskynsel met 'n eie identiteit nie. Dit is bloot 'n toepassing van berekeninge. Vertroue moet volgens die niekognitiwiste eerder as 'n "geloofstree" ("leap of faith") gesien word. Werklike vertroue is 'n onderneming vol risiko's, sonder die berekening en selfbelang wat die kognitiwiste daarmee assosieer.

'n "Tussenstop" is die "sagte kognitiewe teorieê". Hierdie kompromie wil wegbeweeg van 'n simplisties-rasionele keuse en daarop klem lê dat vertroue 'n verwagting is bo en behalwe die blote berekening en selfbelang van die volbloed kognitiwisme. Die sagte kognitiwiste loop egter steeds die gevaar om daarvan beskuldig te word dat dit 'n manipulatiewe en/of verdagte ingesteldheid verraai, wat eintlik nie vertroue weerspieêl nie en hoogstens 'n staatmaak ("reliance") op berekening genoem kan word (Mújdricza, 2019:116,118). Die niekognitiewe teorieê toon nietemin 'n veel beter aanvoeling vir die eie identiteit van vertroue.

Die vroeê niekognitiwiste sien veral affektiwiteit (daar word selfs verwys na 'n "warm gevoel") as die belangrikste antesedent vir vertroue. Die latere niekognitiwiste probeer hierdie redusering van vertroue na emosie ontkom. (Vertroue primêr i.t.v. 'n "warm gevoel" is immers nie veel anders as die klem wat deur die kognitiwiste op die rede gelê word nie.) Huidige niekognitiwiste se oplossing is om vertroue as 'n onbewuste, maar alomteenwoordige staat te beskryf. Vertroue word eers sigbaar wanneer dit verdwyn. In dié opsig is vertroue baie soos biologiese gesondheid; dit word bewustelik sigbaar as dit nié teenwoordig is nie. As jy siek is, weet jy beter wat dit behels om gesond te wees. Die niekognitiwiste en sagte kognitiwiste lê 'n klem wat nie by die volbloed kognitiwiste teenwoordig is nie. Hierdie klem behels dat die vertrouer noodwendig die vertroude as iemand sien wat die deugde van "goeie wil", "welwillendheid" of "saggeaardheid" toon. Die nierasionaliste stem ook met mekaar saam dat vertroue nie iets is wat net "gewil" kan word nie. Vertroue is nie in die eerste plek 'n individuele of sosiale skepping nie.15 Die swak punte van die niekognitiewe skool (natuurlik vanuit 'n kognitiewe oogpunt) is dat hulle sukkel om vertroue in verband te bring met die alledaagse lewens van mense omdat hulle daarvan 'n onsigbaarheid maak. 'n Tweede moontlike tekortkoming is dat hulle van vertroue 'n na'ewe reaksie maak omdat berekening daaruit gehaal word (Mújdricza, 2019:119-120,123).

In reaksie op laasgenoemde punte van kritiek kan geargumenteer word dat blote vertroue in meer tegniese taal gestel 'n abstraksie is. Juis hierom is dit nie summier sigbaar in die alledaagse lewens van mense nie. Ook rasionaliteit, emosie en ander soortgelyke funksies van menswees behoort op 'n soomlose wyse in die alledaagse lewens van mense ingeweef te wees. Die genoemde funksies moet meestal ook onsigbaar wees tensy dit wanfunksioneer of onder druk is. Hierdie funksies kan ook sigbaar word in 'n doelbewuste abstraheringspoging in 'n wetenskaplike ondersoek.

Die tweede punt van kritiek naamlik dat vertroue sonder (rasionele) berekening nai'ef is, het 'n punt beet. Die hedendaagse mens wat bewus is van sy/haar weerloosheid sal ook nie met 'n naiewe siening van vertroue saamstem nie. 'n Toepasliker kritiek sou dan wees dat 'n na'ewe vertroue 'n blote vertroue is wat nie stewig genoeg in samewerking met ook die berekenende en emosionele aspekte van menslike bestaan funksioneer nie.

Samevattend kan gestel word dat beide die rasionaliste en nierasionaliste 'n gereduseerde idee van vertroue kan ontkom met 'n begrip van blote vertroue as 'n abstraksie uit die alledaagse lewe. Só 'n beskouing van die saak kan help om vertroue nie volledig in terme van óf redelike berekening, óf integriteit, óf welwillendheid óf emosie te definieer nie. Terselfdertyd is dit egter ook duidelik dat 'n abstraksie iets is wat net tot sy reg kom as dit in interaksie met ander antesedente wat 'n belangrike rol in die alledaagse menslike bestaan speel, geskied.



Terug na die eerste opmerking hier bo, naamlik dat sommige ons tyd as een van 'n vertrouenskrisis tipeer. Ons persepsies van 'n vertrouenskrisis kan 'n ander invalshoek kry indien daar raakgesien word dat antesedente van vertroue wat nie net op 'n rasionele berekening van risiko's gebaseer is nie, ook ter sprake kom. 'n Kort verduideliking kan help om te verklaar wat hiermee bedoel word.

Data wat die persepsie van 'n krisis ondersteun, is die 2020-Gallup-opname oor Amerikaners se vlakke van vertroue sedert die vroeê 1970's. Die situasie in Suid-Afrika word deur die Afrobarometer van 2021 weergegee. Beide databasisse suggereer dat vertroue in die meeste openbare instellings besig is om te daal.16

Die vertrouensbreuk met die kerk in Amerika het gestyg van 28% in 1973 tot 54% in 2020. In Suid-Afrika vertrou 52% nie religieuse leiers nie. Vertrouensverlies ten opsigte van die hoogste hof ("supreme court") in die VSA het van 40% tot 58% gestyg. In die Suid-Afrika van 2021 vertrou 53% respondente nie die howe nie. Interessante (en dalk onverwagse) metings is 'n relatief klein styging in vertrouensverlies ten opsigte van die polisie. Hierdie klein styging in vertrouensverlies in die VSA is sigbaar in die statistieke van 46% in 1993 tot 50% in 2020. In die Suid-Afrika van 2021 is verlies aan vertroue wel hoog: 73% vertrou nie die polisie nie. Verlies aan vertroue in die president van die VSA toon 'n styging van 43% in 1975 tot 55% in 2020. In Suid-Afrika van 2021 toon 59% respondente dat hulle nie die president vertrou nie. Hierby kan twee instellings genoem word waar die meting eers onlangs in Amerika begin het: Vertrouensverlies in die groot tegnologiemaatskappye staan op 64% in 2020 en nuus wat op die internet gelees kan word op 65% in 2020.

Belangrike instellings waar die vlak van vertrouensverlies op die oomblik bokant 70% staan: By politici (die Amerikaanse kongres, die president uitgesluit) het 'n allemintige groei vanaf 46% in 1973 tot 83% in 2020 getoon. In die Suid-Afrika van 2021 vertrou 69% respondente nie die parlement nie. Vertroue in die media in die VSA: In koerante styg dit van 53% in 1973 tot 71% in 2020 en in TV-nuus van 52% in 1993 tot 76% in 2020. Die Suid-Afrika van 2021 verskil wel grootliks van die VSA: 61%-63% vertrou die openbare media.

Die Amerikaanse mediese sektor toon 'n verlies van vertroue op 'n vlak net onder 50%: Dit het gegroei van 17% in 1975 tot 48% in 2020. Suid-Afrika: 42% respondente vertrou nie die mediese sektor nie. Die Amerikaanse weermag is die enigste instelling waar vertroue toegeneem het van 64% in 1975 tot 72% in 2020.17 In die Suid-Afrika van 2021 toon 46% respondente dat hulle nie die weermag vertrou nie.

Uitgebreide beskrywings en besprekings van die instellings wat in die Gallup- en Afrobaro-meter-opnames genoem word, val nie binne die bestek van hierdie artikel nie. Tog is enkele opmerkings gepas om aan te sluit by die voorafgaande konteks en argument van 'n niereduksionistiese siening van vertroue.

Singh en Luthra (2019: ii-iii,5-9,15)18 voer drie redes aan vir die lae vlak van vertroue in die Amerikaanse media, naamlik ideologiese polarisering in die algemeen, verhoogde politieke invloed op die media en die desperaatheid van nuusverskaffers om 'n inkomste te genereer. Die redes het dus veral te make met ideologie en die ekonomie. Mense vind die Amerikaanse media nie onbetroubaar omdat dit onbedrewe voorkom nie. Dit is eerder 'n geval dat hulle die rigting wat die media ideologies en ekonomies gesproke inslaan (en dalk selfs met bedrewenheid bewandel) nie vertrou nie. Vertroue in die media in Suid-Afrika lyk tans hoog (61%-63%), maar dit was ook tussen 2011 en 2015 op 'n heelwat laer vlak. Nievertroue was voorheen so hoog as 70% en selfs hoêr. Afrobarometer skryf die ongewone meting van 2021 toe aan goeie inligting wat oor die Covid-19-pandemie gegee word en die entoesiasme waarmee die regering verantwoordbaar gehou word vir korrupsie en swak dienslewering. In die Suid-Afrikaanse geval verduidelik 'n beproefde antesedent (integriteit) waarom vertroue 'n positiewe rigting inslaan. Dit is wel nodig om kennis te neem van die moontlike implikasies indien die tromme van ideologie en identiteit te hard geslaan sou word.

Hoêr onderwys as vertroude inleier van studente in die soeke na kennis gaan ook al meer mank aan vertroue. Volgens Stimpert (2017:78-86) is kolleges en universiteite (in die VSA) voorheen wyd gerespekteer. Tog word hierdie instellings nou (ironies genoeg deur die media) op 'n byna daaglikse basis in kritiese nuusstories en kommentaar verdag gemaak.

Instellings word daarvan verdink dat

hulle met opgeblase kostestrukture funksioneer;

hulle nierelevante kurrikulums aanbied;

hulle nie genoeg druk op die lewenstyl van studente plaas om ernstig te studeer nie; en

die deurvloei van studente te laag is.

Hierdie tendens spreek van ekonomiese bedenkinge en 'n lewenstylkeuse van ouers en studente wat met 'n lewensbeskoulike (ideologiese) invloed te make het.19

Hierby kan gevoeg word dat universiteite al meer aan die grille van ekonomiese markte uitgelewer word (Heyns, 2013) en deesdae ook aan ideologiese druk onder die vaandel van sosiale geregtigheid.20 Breedweg kan gestel word dat verlies aan vertroue in hoêr onderwys tot 'n groot mate toegeskryf kan word aan die ekonomiese lewenstyl en ideologiese omgewing waarin instellings moet funksioneer en nie noodwendig aan swak doseerwerk en navorsing nie.

'n Verlies aan vertroue is ook sigbaar in mense se belewenis van die kerk. Die huidige persepsie in Suid-Afrika is onder meer die volgende: Wat in die verlede deur die kerk as heilige evangelie verkondig is, word nou deur sinodes en kerklui tot middelmatige, weglaatbare waarheid of selfs tot valsheid en sonde verklaar. Dit veroorsaak dat kerklidmate nie noodwendig (dadelik) hul geloof in God verloor nie, maar wel die kerk al hoe meer as onbetroubaar sien. Du Rand (2016:226-276) noem die voorbeeld van die NG Kerk21 se onderskrywing van 'n diskriminerende apartheidsbeleid in 'n vorige era. Lidmate se vraag is eenvoudig: As die kerk voorheen so verkeerd was, hoe kan dit as instelling vertrou word met die ideologiese posisies wat die wêreld nou na die kerk aandra? Die sekularisme het die afgelope tyd 'n houvas op die wêreld gekry met die implikasie dat die kerk al meer irrelevant word. Die kerk probeer dus om veld terug te wen deur by 'n interpretasie van die Bybel aan te pas wat deur die tydsgees voorgeskryf word. In die proses word toegegee aan 'n relativisme wat besig is om die "matjie van geloofsvertroue onder ons getrouste lidmate uit te ruk". Ook hier is die indruk dat 'n verlies aan vertroue te make het met keuses en antesedente op 'n lewensbeskoulik-ideologiese vlak.

'n Opsigtelike voorbeeld van 'n vertroude wat al minder vertrou word, is die volgende: Die welsynstaat is reeds sedert die 1980's in die moeilikheid. Politici maak onbereikbare ekonomiese beloftes wat hulle nie nakom nie. Hulle poog om op 'n pragmatiese manier die onafwendbare verlies van hul mag (omdat hul kiesers nie noodwendig 'n verlaging in lewenstandaard sal wil aanvaar nie) met nog meer geleende geld en beloftes uit te stel. Die vermoede is dat dit gaan veroorsaak dat regerings en kapitaalmonopolieê via ondemokratiese metodes (wel onder die vaandel van verligte diktatorskappe) gaan probeer om aan die bewind te bly (Goudzwaard, 1984:55-56,59). Verlies aan vertroue het dus veral te make met 'n eko-nomies gemotiveerde magsug wat in stand gehou word en nie noodwendig met 'n rasionele onvermoê van die heersers nie.

'n Meer resente manifestering van vertrouensverlies in die politiek hang saam met die verskynsel van populisme. Volgens Masala (2020:188,190-193,195-196) het daar 'n verskui-wing plaasgevind weg van vertroue in onafhanklike instellings van die demokrasie (regstoepassing, burokrasie en respek vir minderhede). Hierdie instellings en die politieke elite wat dit in stand hou, is tradisioneel as 'n deurslaggewende deel van die demokratiese stelsel gesien. Tans word daar egter beweeg na 'n klem op charismatiese en demagogiese leierskap. Hierdie skuif vind plaas omdat die stemvolk se persepsie is dat laasgenoemde leierskap 'n direkte uitdrukking is van hul eie identiteit, begeertes en behoeftes. Kiesers behoort nie te stem vir 'n politieke leier omdat hy dieselfde as hulle is nie, maar juis omdat hulle méér bekwaam is ten opsigte van politieke sake. Populistiese leiers daarteenoor word vertrou, hoewel dit nie noodwendig te danke is aan hul politieke vermoêns nie, maar eerder omdat hulle goed kommunikeer en dieselfde smake, gewoontes, ensovoorts as die stemvolk toon. Masala wil dus die klem laat val op die ouer kognitiwistiese antesedent van bekwaamheid. Die huidige praktyk wys egter dat ideologiese antesedente 'n deurslaggewende rol speel en dat dit nie buite rekening gelaat kan word wanneer die algemene publiek se vertroue geinterpreteer word nie.

'n Patroon kan opgemerk word in die oorweging van die oênskynlike huidige vertrouensverlies in openbare instellings: Voorwaardes vir vertroue word op die oog af al meer gesoek in aspekte van menswees wat buite die sfeer van die bedrewenheid, vermoê of deskundigheid van die vertroude gesien word. Vertrouers verlaat hulle al meer op persepsies oor die gewilligheid van die vertroude om by hul identiteite, ekonomiese behoeftes, lewenstyl en ideologiese oortuigings aan te sluit.

Hierdie oordeel is nie te ver van Barbalet (2019:14, 17-21) se opmerking dat die vertroue in allerlei opnames oor vertroue in openbare instellings dalk oor iets anders of meer as die (blote)22 vertroue tussen twee partye handel nie. Volgens Barbalet gaan dit oor die goeie naam ("standing") van die instelling en nie noodwendig oor 'n direkte interaksie en vertrouens-verhouding met die instelling nie. So ook is vertroue in professionele persone iets anders as (blote) vertroue. In die verhouding met 'n professionele persoon is die kundigheid van laasgenoemde immers 'n kernelement. Die lojaliteit tussen gesins- en familielede is 'n verdere voorbeeld van vertroue wat nie net betrekking het op die verhouding tussen twee individue nie. Hier speel 'n derde persoon of instelling met 'n uitgebreide sosiale normstelsel 'n rol in die vertrouensverhouding.

Hierdie opmerkings van Barbalet word duideliker in die lig van die onderskeid tussen blote vertroue en die antesedente daarvan. Blote vertroue is in die "werklike lewens" van mense verweef met heelwat ander aspekte van menswees. Dit word bevestig deur persepsies van 'n vertrouenskrisis wat ontstaan omdat die ideologieê, ekonomiese uitkyke en leefstyle van vertrouers/des, onder andere, van mekaar verskil. Juis hierom word die verhoudinge tussen hierdie partye onder druk geplaas. Meer nog, dit word duidelik dat die antesedente van vertroue - benewens berekening, integriteit, welwillendheid en affeksie - ook die ekonomiese identiteit en rigtinggewende idees van vertrouers/des is.

Weereens is dit nie onvanpas om te waarsku dat vertroue nie gereduseer moet word tot die antesedente waarmee dit verweef is nie. Indien laasgenoemde gebeur, verloor vertroue nie alleen sy eie identiteit nie, maar manifesteer dit in skeeftrekkings soos die volgende: populistiese politiek, kerke wat sekulariseer ter wille van voortbestaan, asook onderwysinstellings en openbare media wat deur wins en ideologie eerder as goeie inligting en akademiese wysheid gerig word.



Die sentrale vraag wat hier bo behandel is, is die vraag na hoe belangrik vertroue vir menswees is.

'n Groot deel van die artikel was 'n argument ter ondersteuning van 'n beweging weg van reduksionismes na die huidige insluiting van meerdere funksies en faktore in die definiêring van en bronne vir vertroue. 'n Reduksionistiese siening van vertroue kan gesien word wanneer vertroue in terme van iets anders as vertroue self gedefinieer word. Gevolglik word vertroue dan op sigself as minder relevant uitgerangeer. Anders as by die reduksionistiese variante, impliseer 'n niereduksionistiese siening van vertroue dat 'n belangriker plek aan vertroue toegeken word.

Met blote vertroue word dus 'n niereduksionistiese begrip van vertroue bedoel - 'n wyse van menswees wat van ander sodanige verskynsels (bv. rasionaliteit, integriteit en emosie) onderskei kan word. Blote vertroue moet wel in samewerking en interaksie met ander bestaanswyses bestaan en ook verstaan word. Blote vertroue is daarom nie 'n funksie wat 'n mens netso in die alledaagse opmerk nie. Dit word opgemerk as dit onder druk is of as dit in 'n wetenskaplike analise aandag kry.



Baier, A. 1986. Trust and antitrust. Ethics, 96(2):231-260.         [ Links ]

Barbalet, J. 2019. The experience of trust: Its content and basis. In Sasaki, M. (ed.). Trust in contemporary society. Leiden: Brill Open, pp. 11-30.         [ Links ]

Covey, SMR. 2006. The speed of trust: The one thing that changes everything. New York: Simon & Schuster.         [ Links ]

Du Rand, J. 2016. Kan ons praat van 'n krisis in die kerk? In Du Rand, J. & Nel, M. (reds.). Homoseksualiteit en die Bybel [Kindle-weergawe]. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Gallup. 2020. Confidence in institutions. [1 Desember 2020}.         [ Links ]

Gillespie, N, Fulmer, CA & Lewicki, R. 2021. A multilevel perspective on organisational trust. In Gillespie, N, Fulmer, CA & Lewicki, R. (eds). Understanding trust in organisations: A multilevel perspective. New York: Routledge, pp. 3-13.         [ Links ]

Goudzwaard, B. 1984. Idols of our time. Iowa: Dordt College Press.         [ Links ]

Hawley, K. 2012. Trust: A very short introduction. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Heyns, MF. 2013. The economistic university: A brave new paradigm? Phronimon, 14(2):1-24.         [ Links ]

Institute for Justice and Reconciliation. 2021. Afrobarometer: Let the people have a say. [6 September 2021].         [ Links ]

Kant, I. 1783. Beantwoording van die vraag: "Wat is Verligting". In Samelewing en vooruitgang: Drie traktate. Redaksie en vertaling deur JJ. Venter. Potchefstroom: PU vir CHO, Dept. Sentrale Publikasies, pp. 16-22.         [ Links ]

Klapwijk, J. 1987. Oriêntatie in de nieuwe filosofie. Assen/Maastricht: Van Gorcum.         [ Links ]

Kramer, RM. 2006. Organisational trust: A reader. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Masala, A. 2020. Populism as the crisis of political trust. In Fabris, A. (ed.). Trust: A philosophical approach. Springer, pp. 187-197.         [ Links ]

Mayer, RC, Davis, JH & Schoorman, FD. 1995. An integrative model of organisational trust. Academy of Management Review, 20(3):709-734.         [ Links ]

Middleton, JR & Walsh, BJ. 1995. Truth is stranger than it used to be: Biblical faith in a postmodern age. Downers Grove, Illinois: InterVarsity Press.         [ Links ]

Mishra, AK. 2017. Higher education in crisis: The importance of rebuilding trust. In Mishra, AK. (ed.). Restoring trust in higher education: Making the investment worthwhile again [Kindle edition]. Santa Barbara, CA: Praeger.         [ Links ]

Mújdricza, F. 2019. The roots of trust. European Journal of Mental Health, 14:109-142.        [ Links ]

O'Neill, OA. 2002. A question of trust. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Schoorman, FD, Mayer, RC & Davis, JH. 2007. An integrative model of organisational trust: Past, present, and future. Academy of Management Review, 32(2):344-354.         [ Links ]

Rectenwald, M. 2019. Libertarianism(s) versus postmodernism and 'social justice' ideology. The Quarterly Journal of Austrian Economics, 22(2):122-138.         [ Links ]

Singh, SB & Luthra, R. 2019. Savvy: Navigating fake companies, fake leaders and fake news in the post-trust era. Ideapress Publishing.         [ Links ]

Stimpert, JL. 2017. Foreword. In Mishra, AK. (ed.). Restoring trust in higher education: Making the investment worthwhile again. Santa Barbara, CA: Praeger.         [ Links ]

Strauss, DFM. 2009. Philosophy: Discipline of the disciplines. Grand Rapids: Paideia Press.         [ Links ]

Van Niekerk, AA. 2021. Inent: Oorlewing vereis vertroue. [8 Junie 2021].         [ Links ]

Wolterstorff, N. 1995. From liberal to plural. In Griffioen S & Balk, BM. (eds). Christian philosophy at the close of the twentieth century: Assessment and perspective. Kampen: Uitgeverij Kok, pp. 201-214.         [ Links ]

Wolterstorff, N. 1999. Reason within the bounds of religion. (Second Edition). Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company.         [ Links ]

Wolterstorff, N. 2000. Thomas Reid and the story of epistemology. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Wolterstorff, N. 2019. Religion in the university. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]



Ontvang: 2022-03-28
Goedgekeur: 2022-07-26
Gepubliseer: September 2022




Michael Heyns is viserektor akademie van AROS (Akademie Reformatoriese Onderrig en Studie) asook buitengewone professor in die filosofie in die Skool vir Filosofie van die Noordwes-Universiteit (NWU). Sy navorsings-belangstelling is hoofsaaklik Kultuurkritiek vanuit 'n Christelike perspektief.
Hy was voorheen direkteur van die Skool vir Filosofie van die NWU en dosent in filosofie aan die Universiteit van Zululand, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoer Onderwys asook die NWU. Hy het 'n PhD in Filosofie aan die Vrije Universiteit Amsterdam verwerf, 'n MA in die Filosofie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en 'n Baccalaureus Divinitatis aan die Universiteit van Pretoria.
Michael Heyns is vice-rector academic affairs at AROS (Academy Reformational Teaching and Study) as well as extraordinary professor of philosophy at the School of Philosophy of the North-West University (NWU). His research interest is mainly Cultural criticism from a Christian perspective.
He was previously director of the School of Philosophy of the NWU and lecturer in philosophy at the University of Zululand, Potchefstroom University for Christian Higher Education as well as the NWU. He obtained a PhD in Philosophy from the Vrije Universiteit Amsterdam, a MA in Philosophy from the PU for CHE and a Bacca-laureus Divinitatis from the University of Pretoria.
1 'n Vertrouenskrisis word bevestig deur Mayer, Davis en Schoorman (1995:711) met die stelling "... a number of institutions that measure trust have witnessed diminishing trust among employees". Dieselfde toonaangewende navorsers oor vertroue (Schoorman, Mayer, & Davis, 2007:350-351) bevestig in 'n latere artikel dat hulle die Wereld- Ekonomiese Forum se monitering van vertroue sedert 2003 geanaliseer het. Hieruit het dit duidelik geblyk dat daar wereldwyd 'n betekenisvolle afname in vertroue sedert 2001 se aanvalle op die VSA plaasgevind het. Dit is ook die oordeel van Covey (2006:22) en Kramer (2006:10-11) wat byvoeg dat die verbreking van vertroue deur groot korporasies soos Enron, WorldCom, Tyco en Parmalat tot 'n groot mate hiertoe bygedra het. Binne die konteks van die Suid-Afrikaanse situasie sou die Steinhoff-debakel ook hier bygevoeg kon word.
2 O'Neill (2002:16-17), byvoorbeeld, onderstreep dat ons voortgaan om allerlei professies en instellings te vertrou: Ons drink die water wat aan ons verskaf word, die kos wat ons koop, ensovoorts. As ons werklik wantrou, sal ons gedrag dit aantoon - wat nie die geval is nie. Die stand van vertroue is tans eerder een van 'n gemengde oordeel. Volgens Hawley (2012:1-2) sal ons nie eintlik kan lewe as daar nie 'n minimum hoeveelheid vertroue bestaan nie. Van Niekerk (2021) betoog dat die huidige skeptisisme/wantroue in die inentingspoging teen die Covid-19-virus onnodig is en argumenteer dat ons nie in 'n moderne wêreld sonder vertroue kan leef nie.
3 'n Verwante en meer bekende term is sekerlik "fondamentalisme". Laasgenoemde is 'n term wat gewoonlik in 'n teologiese konteks gebruik word. Hier word egter verwys na wat Wolterstorff (1999:28) "foundationalism" noem en wat in die onlangse konteks van die wetenskapsfilosofie ingang gevind het. Fondamentalisme is hiervolgens "to form a body of theories from which all prejudice, bias, and unjustified conjecture have been eliminated. To attain this, we must begin with a firm foundation of certitude and build the house of theory on it by methods of whose reliability we are equally certain". 'n Entjie verder verduidelik Wolterstorff (1999:30) die konteks en omvang van fondamentalisme soos volg: "Foundationalism has been the reigning theory of theories in the West since the high Middle Ages. It can be traced back as far as Aristotle, and since the Middle Ages vast amounts of philosophical thought have been devoted to elaborating and defending it". Fondamentalisme is egter 'n siening van wetenskap (en die rede) waarmee Wolterstorff nie saamstem nie en volgens hom deur onlangse ontwikkelinge in ons siening van wetenskap verouderd geraak het.
4 Die idee van 'n sterwende individualisme en liberalisme - en die effek wat dit op vertroue kan hê - sal elders behandel moet word.
5 Hierdie soort spanning is nie vreemd aan Kant se denke nie. Klapwijk (1987:57, 59-60, 64-67) verduidelik dat die groter konteks van Kant se denke reeds hierdie spanning inbou. Kant het die gees van sy tyd baie goed aangevoel en verwoord. Daarom kon hy nie vermy om vas te val in "de botsing van een rationeel beheersingsideaal en een verlicht mondigheidsideaal" nie. Hy wou 'n versoening tussen natuur en vryheid bewerkstellig deur die teoretiese rede skerp af te grens van 'n praktiese rede in 'n selfkritiek van die rede. In hierdie selfkritiek word gesoek na die struktuur of transendentale voorwaardes vir beide soorte rasionaliteit. Hiervolgens is die teoretiese rede beperk tot empiries-kontroleerbare en aanwendbare kennis. Idees oor die menslike siel (o.a. die vryheid daarvan), die samehang in die kosmos en die bestaan van God gaan die empiriese te bowe, maar is nietemin steeds binne die domein van die rede omdat die "rede heeft de onstuitbare drang in zich om al haar voorstellingen uiteindelijk te verenigen onder alles-omvattende gezichtspunten": Dié drie idees is steeds "interne ordeningsfaktoren ... voor de rede". Dit maak die mens 'n dubbelwese wat in twee rasionele wêrelde leef, naamlik in die sintuiglike natuur, maar daarnaas is hy ook - en veral - tuis in 'n bosintuiglike wêreld waar die "zedelijk zichzelf bepalende persoonlikheid" (vryheid) septer swaai.
6 Kant se staatmaak op die rede is 'n voorloper van dit waarmee Husserl vorendag gekom het en wat vir hom uiteindelik op 'n persepsie van 'n hedendaagse krisis in Europa uitgeloop het. Strauss (2009:630-631) beskryf dit soos volg: Die krisis wat Husserl ten opsigte van Europa opmerk, noem hy 'n misleide rasionalisme ('n "verirrenden Rationalismus"). As die misleiding vermy kan word, so glo Husserl, sal daar wel weer by die onbeperkte moontlikhede van die intuïsionistiese, fenomenologiese rede uitgekom kan word. Husserl is van mening dat laasgenoemde soort rede fundamenteel bedreig word deur die toenemende invloed van naturalisme en objektivisme - sowel as die irrasionalisme van Heidegger, sy eie student - asook Sartre en Merleau-Ponty. Laasgenoemdes ontleen hul motiverende krag nie aan Husserl se intuïsionistiese wetenskapsideaal nie, maar aan die ideaal van 'n outonoom-vrye persoon. Husserl het hierdie omslag met 'n gevoel van hopeloosheid ervaar en dit as die krisis van Europa beskryf. Dit is 'n krisis wat net reggestel kan word as Europa weer op die doelstellings van die rede gerig word. Husserl hou vol dat die mislukking van 'n rasionele kultuur nie inherent aan rasionalisme is nie. Husserl se vertroue op die rede kom ook duidelik na vore in sy vergelyking daarvan met 'n godsdienstige bekering tot 'n taak vir die mensdom. 'n Fenomenologiese wetenskapsideaal is vir hom die enigste pad na die wedergeboorte van Europa.
7 Singh en Luthra (2019:8,27) stel dit duidelik dat weerloosheid die bril is waardeur hulle na vertroue kyk, terwyl Gillespie, Fulmer en Lewicki (2021:4) 'n definisie waarin weerloosheid sentraal staan "seminal" noem.
8 Hul (Mayer, Davis & Schoorman, 1995:712; Schoorman, Mayer, & Davis, 2007:347) definisie van vertroue lui soos volg: "... the willingness of a party to be vulnerable to the actions of another party based on the expectation that the other will perform a particular action important to the trustor, irrespective of the ability to monitor or control that other party". Mújdricza (2019:121) wys daarop dat Anette Baier (1986) die eerste was wat die "goeie wil" van die vertroude en "aanvaarding van weerloosheid" van die vertrouer in haar definisie van vertroue ingebou het.
9 Sommige kritici sou Wolterstorff van fideisme wil beskuldig of bloot aan die Romantiek koppel. Klapwijk (1987:68) wys daarop dat Kant 'n plek vir die Christelike geloof gee slegs as 'n "practicalistische moraaltheorie". Hierteen sou die filosowe van die Romantiek wel protesteer. Die Romantiese beswaar beteken natuurlik nie dat die protes nie wyer as die Romantiek strek nie. Wolterstorff protesteer, maar hy sal ook teen 'n koppeling met die Romantiek protesteer. (Sien bv. Wolterstorff, 1995:207.)
10 Hy noem dat dit verbasend genoeg ook in Locke gevind kan word.
11 Sien ook Schoorman, Mayer, & Davis (2007:345).
12 Mayer et al. word deur Mújdricza (2019:121) as deel van die "sagte kognitiewe skool" getipeer.
13 "Benevolence" - d.i. om die vertroude te sien as iemand wat goed wil doen aan die persoon wat hom/haar vertrou en nie noodwendig deur 'n egosentriese winsmotief gedryf word nie (Schoorman, Mayer, & Davis, 2007:345).
14 Barbalet (2019:12) verduidelik dat belangstelling in interpersoonlike vertroue in die 1950's-1960's onder sielkundiges en bestuurswetenskaplikes posgevat het. In die 1980's het sosioloê ook 'n belangstelling in interpersoonlike vertroue begin toon. Sedert die 1990's het die navorsing 'n "kwantumsprong" in terme van kwantiteit gemaak.
15 Hierdie stelling verdien 'n eie argument waarvoor daar nie plek in hierdie artikel is nie.
16 Volgens Gillespie, Fulmer en Lewicki (2021:4) is die bekendste opnames dié wat deur die Edelman Trust Barometer, die Gallup-organisasie en die Pew Research Centre gedoen word. Al hierdie opnames toon 'n kommerwekkende afname in vertroue in openbare instellings. Die Gallup-opname meet vertroue volgens vier kategorieê, naamlik "Baie vertroue", "Heelwat vertroue", "Bietjie vertroue" en "Min vertroue". Die Amerikaanse bewoording: "a great deal, quite a lot, some or very little". In hierdie weergawe word die laaste twee kategorieê bymekaargetel om die noemer genaamd "vertrouensverlies" te kwantifiseer. Volgens Schoorman, Mayer en Davis (2007:349350), is daar 'n debat oor of vertroue en wantroue nie dalk eerder twee verskillende konsepte/ kategorieê is wat nie met mekaar vergelyk kan word nie. In hul eie navorsing en teoretisering kom hulle tot die konklusie dat die twee terme, vertroue en wantroue, wel die teenoorgestelde pole van dieselfde kontinuum verteenwoordig. As gevolg van die kontroversie word in hierdie artikel gepoog om die konsep "wantroue" te vermy en eerder na 'n verlies aan vertroue, vertrouenskrisis of nievertroue te verwys.
17 Met dank aan een van die keurders kan die volgende spekulatiewe opmerking gemaak word: Die styging in vertroue in die Amerikaanse weermag is nogal teen die verloop van die mislukkings daarvan in Irak en Afghanistan. Is dit dalk 'n vertroue gebaseer eerder op Amerikaanse nasionalisme of 'n lojaliteit teenoor soldate wat die opoffering doen. Indien wel, sal dit die argument dat vertroue se antesedente wyer strek as net die redelike en die morele, nogal versterk.
18 Hulle haal die 2018-verslag van die Reuters Institute for the Study of Journalism aan waarvolgens slegs 44% van mense stel dat hulle hul nuusbronne vertrou.
19 Mishra (2017:280) brei uit op dieselfde soort bekommernisse: Die verkryging van 'n hoêronderwyskwalifikasie laat 'n betekenisvolle weerloosheid aan die kant van 'n student. Hy/ sy kan verkeerde keuses maak en dus 'n laer as te verwagte lewensbevrediging en inkomste vir die res van sy of haar lewe kry in ruil vir die kwalifikasie waarvoor daar hard gewerk is en heelwat betaal is. Ook in hierdie geval lyk dit of die rede vir vertrouensverlies in ekonomiese motiewe wortel. Die verminderde vertroue is iets waarvoor instellings wel nie alleen verantwoordelik is nie. Ook studente en hul ouers weerspieêl nie die verantwoordelikheid wat van hulle verwag word nie. Volgens Mishra (2017:288-296, 323-352) wil dit voorkom of studente al minder tyd aan hul studie spandeer as wat 'n gemiddelde student gedurende die sestigerjare van die vorige eeu gedoen het. Hulle hou hulself eerder besig met sosiale media, vermaaktegnologie en baie verval in 'n drink- en partytjiekultuur.
20 Rectenwald (2019:123) - voorheen universiteitsprofessor aan NYU en self 'n aanhanger van die denkstrominge wat die huidige idee van sosiale geregtigheid onderle (neo-Marxisme en postmodernisme) - som sy persepsie van sosiale geregtigheid se uitkoms soos volg op: "Whereas the campus free speech movement was a hallmark of social justice in the 1960's, violent skirmishes waged against free speech and academic freedom are now associated with the term."
21 Hier word wel, anders as in die ander voorbeelde, gebruik gemaak van 'n voorbeeld in die Suid-Afrikaanse situasie.
22 Barbalet se hantering van vertroue kom in die buurt van die idee van blote vertroue. Dit is wel onduidelik of hy so 'n blote vertroue kan losmaak van 'n oënskynlike simpatie met die moderne individualisme en nominalisme.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License