SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número2Plume seed blown further: Reimagining Van Wyk Louw in a Catholic contextNP van Wyk Louw: To walk in the shoes of the great ... índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.2 Pretoria Jun. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a13 

BOEKBESPREKINGS

 

CD met Hendrik Hofmeyr se musiek word in Frankryk bekroon

 

 

In Junie 2021 het die Franse tydskrif Classica Hendrik Hofmeyr se CD getitel Partita Africana as sy Choc de Classica (CD van die maand) aangewys. Onder die opskrif Impressions d'Afrique skryf Romaric Gergorin die volgende: "Une musique contemporaine d'inspiration joyeuse qui associe finesse mélodique et imaginaire folklorique. Régénérant!" (Kontemporêre musiek wat met vreugdevolle inspirasie melodiese finesse met folkloristiese verbeelding integreer. Vernuwend! [my vertaling]). Reeds vroeër in dieselfde jaar (in Februarie) beskryf Jean Salmona hierdie CD met kamermusiek as 'n ware ontdekking ("une veritable découverte") in die tydskrif La Jaune et la Rouge. Remy Franck, hoofredakteur van die aanlyn tydskrif vir klassieke musiek Pizzicato, het egter reeds in Januarie positiewe kommentaar op hierdie CD gelewer (Franck is die jurievoorsitter van die International Classical Music Awards (ICMA)). Dit is jammer dat, algemeen gesproke, nuwe Suid-Afrikaanse komposisies nie die blootstelling in Suid-Afrika kry wat hulle verdien nie en soos in hierdie geval eerder in ander lande erkenning kry.

Hofmeyr se komposisies het reeds vroeër pryse gewen by internasionale kompetisies, soos by die Koningin Elisabeth Musiekkompetisie in België (met sy Raptus vir viool en orkes) en die Dimitri Mitropoulos Kompetisie in Athene (met sy Byzantium vir hoë stem en orkes), albei in 1997. In 1988 het Hofmeyr met sy The Fall of the House of Usher die Suid-Afrikaanse Operakompetisie asook die Nederburg Operaprys gewen. Sy Incantesimo (vir fluit) is gekies om Suid-Afrika by die Congress of the International Society of Contemporary Music in Kroasië te verteenwoordig (2005).

Die uitvoerende kunstenaars wat met insig die musikale boodskap van hierdie moeilike werke verstaan en dit met outoriteit en tegniese vaardigheid voordra, het natuurlik 'n groot bydrae tot die sukses van die CD gelewer. Hulle is fluitis Philippe Bernold (wenner van die Jean-Pierre Rampal Internasionale Kompetisie te Parys), violis Berthilde Dufour (wenner van twee internasionale kompetisies), vibrafoonspeler Philippe Voituron (pryswenner en direkteur van die konservatorium in Grasse, Frankryk) en pianis Marika Hofmeyr (pryswenner en alumnus van die Universiteit van Kaapstad, wat in Frankryk woon).

Die ses werke wat op die CD uitgevoer word, is die volgende:

Ballata Africana (2014, vir klavier)

Sonata per flauto e pianoforte (2006)

Endymion and the Moon (2011, verwerk vir viool en klavier)

Partita Africana per pianoforte (2006)

Philomela 's Night Song (2014, verwerk vir viool en klavier)

Sonata for Vibraphone and Piano (2019)1

Hofmeyr beskou hierdie CD as 'n viering van Afrika en van multikulturaliteit.2 Die evokatiewe aard van die musiek roep beelde op wat buite die grense van die tradisionele verstaan van musiek staan. Ons is so geneig om musiek in terme van tonale strukture waar te neem dat die wonderwereld van die musikale verbeelding nie tot sy reg kom nie. Om hierdie musiek te verstaan, hoef die luisteraar nie net statiese, strukturele konsepte soos makro- en mikrostrukture (akkoordkonstruksies) te betrek nie. Vir my is dit belangrik om ook op sintuiglike wyse te volg hoe die musiek ontvou soos dit deur tyd en ruimte beweeg, hoe dit gefatsoeneer is om 'n musikale narratief te skep deur die artistieke maniere waarop onder andere die verskeidenheid van musiekteksture, register, artikulasie, tempo, dinamiek en digtheid gemanipuleer word.3Dit is juis die soniese temporaliteit van musiek wat dit van die ander kunste onderskei. Natuurlik maak dit verskillende maniere van verstaan moontlik, maar die artistieke narratief is juis nie eenduidig nie.

Ballata Africana vir klavier is 'n voorbeeld van so 'n Afrika-fantasiewêreld - die misterieuse inleiding word gevolg deur 'n energieke, ritmiese seksie wat deur die alternering van die twee hande en met hoekige melodiese figure die eerste protagonis uitbeeld. Die tweede protagonis word deur 'n ekspressiewe melodie voorgestel. Ten slotte word die twee musikale voorstellings in vervoering verenig, "Appasionato ff" en later "Estasiato mf" gemerk. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=KxPZx0kSyQ8.)

Die Sonata per flauto e pianoforte is 'n opdragwerk van die South African Music Rights Organization (SAMRO) Endowment for the National Arts. Dit bestaan uit drie bewegings, naamlik Liberamente - Vivo, Sognante en Energico - Diafano. Hierdie werk beeld die uiteenlopende beleweniswêreld van die San uit, wisselend van melancholiese gebare deur vinnig bewegende, opwindende figure tot poëtiese en humoristiese musikale voorstellings. Volgens die komponis is al die hooftemas gebaseer op 'n dalende vyfnoot-figuur wat as 'n soort motto dien.4 Dit is byna asof die vinnig stygende klavierfiguur op forte-vlak in die heel eerste maat hierdie sagte weeklag (D--C#-G-G-G) uit die San se geheue ruk. In die eerste beweging kan die oop kwarte en kwinte, of hulle nou horisontaal of vertikaal klink, en of hulle vinnig of stadig gespeel word, die oop ruimtes van die San se leefwêreld uitbeeld. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=z4nkbiAavFc.)

In die dromerige middelste beweging is vertikale en horisontale tertse reeds in maat 1 en 2 prominent en begin fluittremolo's in tertse stelselmatig die oop ruimtes in die begeleiding opvul sodat die kwarte en kwinte in die begeleiding teen die einde deur tertse en sekste vervang word. 'n Digte, warm klank ontstaan wanneer fluittremolo's en klavierbegeleiding hier resoneer. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=eCA8q9vZuv4.) In die energieke laaste beweging met sy komplekse dansritmes word die motto se gedrae karakter verander deur vertikale staccato-formasies wat daarop gebaseer is; ook die twee- en drienoot-artikulasies, spieëlpatrone en konstellasies van intervalle kom uit die motto. Die musiek ontwikkel in geartikuleerde digte akkoorde waarin tertse al hoe meer prominent word, gevolg deur golwende melodiese figure wat mekaar in die twee partye afwissel. Kort verwysings na die eerste twee bewegings word finaal opgevolg deur die klimaks bestaande uit geartikuleerde akkoorde, gemerk piu forte en later ff. Die laaste golf wat deur die klavier gespeel word, is gebaseer op herhalings van die openingsmotto. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=BFv63FttQsM.)

Twee korter werke vir viool en klavier is gebaseer op verhale uit die Griekse mitologie. In die eerste een, Endymion and the Moon, word Semele, die maangodin, so bekoor deur die slapende Endymion dat sy vir Zeus, haar vader, vra om hom nie wakker te maak nie sodat sy hom elke nag kan sien. Die statiese golwe waarmee die violis ppp begin, skep die effek van verwondering. Die golwe neem toe in intensiteit terwyl die pianis 'n ekspressiewe melodie met begeleiding speel, alles in die hoë register. Die viool se ekspressiewe melodie word later aangevul deur 'n bykomende melodie wat die pianis steeds in die hoë register speel. Die dansagtige tweede seksie wat meer basregister betrek, eindig die komposisie op 'n virtuose wyse. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=tRNBzN3Nc|yL)

Philomena 's Night Song se hartseer melodielyne wat afwissel of saamklink met ekspressiewe en hartstogtelike melodieë spreek direk tot die luisteraar. Hierdie tragiese verhaal uit die Griekse mitologie handel oor 'n prinses wat in 'n nagtegaal verander nadat haar tong uitgesny is deur haar suster se man. (Hy wou voorkom dat sy vir die wêreld vertel wat hy aan haar gedoen het.) Aan die einde van die werk smelt die twee temas wat die melancholiese en ekspressiewe kante van haar geaardheid uitbeeld, saam. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=j7pxRonE5uA.)

Die Partita Africana per pianoforte bestaan uit vier bewegings, naamlik Preludio, Umdanso, Hartbreekrivier en Kalunga; laasgenoemde stuk geskryf in opdrag van SAMRO vir die Unisa-Transnet Internasionale Klavierkompetisie. Die vyfnoot-motto van die fluitsonate wat nou getransponeer is na C--B-F-F-F in maat 4 omraam die prelude. In maat 1 druk die regterhand die drie toonhoogtes van die motto met 'n raam, E-C-B-F-E geluidloos na onder en hou dit vir die eerste nege mate terwyl die linkerhand dik gerolde akkoorde speel, gemerk f marcare il canto, wat met die motto afwissel.5 Die boonste note van die eerste drie gerolde akkoorde, B-A-E... is van die motto afgelei. Die fugale middelseksie neem stelselmatig toe in digtheid totdat lyne van enkelnote vervang word deur lyne van blokakkoorde voordat die motto die prelude afsluit. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=rF6OG5-T_Us.)

Hoewel Umdanso nie op 'n volksmelodie gebaseer is nie, spreek die Afrika-invloed in hierdie ritmiese dans deur die gebruik van herhalende melodiese figure en onreëlmatige ritmiese patrone (in 7/8). Die openingsnote, A-A-B-E... van die hoofseksie (wat in maat 17 begin) is 'n herrangskikking van die openingsnote van die prelude. Dit beweeg in onreëlmatige ritmiese patrone teen die staccato ostinato-baslyn. Die parallelle kwarte in die regterhand vervloei na vier mate van vertikale intervalle tot melodiese agstenootbeweging. Die inleidingsmateriaal word met die hooftema gekombineer; die tekstuur verdig stelselmatig deurdat leë kwarte en kwinte oorvleuel om so ook heeltone te betrek, en die dinamiese vlak verhoog ook stelselmatig tot die opwindende slotakkoord gemerk sffz (D-A-D-D-E-A in die basregister) bereik word. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=xCdMQJ0iXzg.)

Hartbreekrivier, wat gebaseer is op 'n volksmelodie uit Afrika handel oor 'n moeder wat by die rivier treur oor haar kind wat daarin verdrink het. Gemerk ppp mormorando klink die moeder se weeklaag teen 'n murmelende waterstroom wat uitgebeeld word deur die regterhand wat sestiendenote in 12/16 tyd teen die linkerhand se sestiendenote in 2/4 tyd speel. Vanaf maat 27 begin 'n cresc. poco a poco wat geleidelik tot 'n klimaks opbou. Hier word die ekspressiewe melodie in oktawe deur die regterhand gespeel, emosioneel ondersteun deur die linkerhand se golwende figure wat oor 'n wye omvang beweeg. Die rustig murmelende vloei van die waterstroom word weer aan die einde gehoor, maar die oorspronklike hartseer melodie is nie dieselfde nie. Kan dit dalk vertroosting of berusting voorstel? (Luister hierna by https://youtu.be/rU645KXehKk.)

Soos te verwagte van 'n stuk wat vir 'n kompetisie aangevra is, is Kalunga tegnies uitdagend, gemerk Energico e percussivo, II piü veloce possibile. Die vinnige alternering van die twee hande in 'n toccata-styl verbeeld die makabere dans van Kalunga, die Nguni se God van die dood en heerser van die onderwereld. Binne 'n meesleurende energieke klankband en onreëlmatige kruisritmes word alternerende konstruksies, waarin die vertikale heeltoon prominent is, afgewissel met alternerende melodiese halftoonbogies na bo of na onder of asinchronies gekombineer, soos byvoorbeeld in maat 32 (Dït-Dït-E-E-Dït-Dït teen Gjt-Gït-Fx-Fx-Gjt-Gït, met herhaalde note op oktaafafstand). Op 'n asembenemende wyse sluit die partita op f-vlak af wanneer die alternerende akkoorde uitloop op 'n slotakkoord waarin 'n heeltoon die basis vorm (C-D-G-C in die lae basregister en 'n oktaaf C-C deur die regterhand in die hoë register gespeel). (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=L5rR19K7WlA.)

Die atmosferiese effekte wat deur die kleurvolle vibrafoonklank geskep word, het Hendrik Hofmeyr dadelik gefassineer toe hy met die instrument kennis gemaak het (sien programnotas). In sy Sonata for Vibraphone and Piano kontrasteer en kombineer hy dit met die verskillende moontlikhede van die eiesoortige klank van die klavier. Die eerste beweging, Misterioso -Danzante, is gebaseer op 'n aangepaste Indiese toonleer wat twee melodiese idees genereer wat soortgelyk is aan die Afrika-motto in die fluitsonate. Die vibrafoon se openingsnote At>-D-G (in maat 1 en 3) en B t>-Et>-A (in maat 2 en 4) bevat 'n vergrote kwart en sy enharmoniese ekwivalent: 'n verminderde kwint. Albei hierdie motiewe het 'n weggesteekte halftoon as die twee laagste note maar dit kristalliseer uit in die eerste vyf note waarmee die vibrafoon sy liriese tema bekendstel (D--Et>-D-B-Bt>--...). In die Danzante-seksie word die klavier se toonkleur verander deur 'n objek oor voorgeskrewe snare van die klavier te plaas (D3-E4). In hierdie seksie is die halftoon steeds prominent (E-EFE-Dít-E-B-Aít-B-Gït-E-Dít-E...) maar die wyse waarop die halftone gerangskik is en die feit dat dit op die gedempte snare gespeel word, skep die karakter van 'n ritmiese dans. 'n Derde tema wat weer liries van aard is (vir klavier), word gevolg deur die ontwikkelingseksie met sy sterk danskarakter en 'n herhaling van die twee liriese temas. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=6cGLCZ2OyeI.)

Die tweede beweging, Palindroma: Sognante, met sy palindroomfigure op mikro- tot makrovlak, tower 'n fantasiewêreld op wat die luisteraar deur 'n opwindende klimaks in die middel terugneem na die droomwereld van die begin. (Luister hierna by https://www.youtube.com/watch?v=20PvaulYpBY.) Die derde beweging, gemerk Vivace, lig die luisteraar vinnig maar versigtig uit hierdie droomstaat - die pianis speel stygende en dalende halftoonbotsings op klawers wat weereens gedemp is, terwyl melodiese halftoonfigure prominent figureer in die vibrafoon se openingstema (C#-C#-D-A#-B...) wat mp gespeel word. Die stygende halftoon herinner aan die stygende halftoon waarmee die eerste beweging se hooftema begin, maar die effek is nou totaal anders, naamlik "lewendig" (vivace) teenoor misterioso in die eerste beweging. Die stygende halftoon is ook die eerste interval van die vibrafoon se cantabile melodie (D--Eb-Gb-Eb-Eb-D-C#--D-D...) in maat 28 en 29. Die twee instrumente wissel tematiese materiaal af in wat die programnotas beskryf word as 'n soort sonate-rondo-vorm waarin materiaal uit die eerste twee bewegings voorkom. (Luister hierna by https://www.youtube.corn/watch?v=JJC5e1em1c.)

Dit was 'n genotvolle ondervinding om Hendrik Hofmeyr se werke te kon leer ken en waardeer - om musiek esteties te beleef is waaroor dit vir my in die eerste plek gaan. Die probleem met estetiese belewing is egter dat die term "estetika" myns insiens gewoonlik gekoppel word met skoonheid ("beauty'" en dat hierdie konsep relatief is - wat vir een mens mooi is, is nie noodwendig vir 'n ander mens mooi nie.) Verder is 'n opinie nie 'n feit nie en my siening val dus in die kategorie van spekulasie. Dit is waarskynlik die rede waarom die idee van estetiese belewing die afgelope paar dekades nie dieselfde status in betekenisgewing getoon het as byvoorbeeld die rol van die subjek in 'n maatskaplike konteks nie omdat akkurate feite die norm geword het (vergelyk byvoorbeeld die opkoms van die musiekwetenskap, ook bekend as musikologie).

In my bespreking van Hendrik Hofmeyr se Partita Africana het ek probeer aantoon hoe die luisteraar by sy of haar verwagtingshorison, naamlik dit wat bekend is en wat persepsie bepaal, kan verbykom deur bekende patrone as uitgangspunt te neem om 'n nuwe musiekwêreld te ontsluit. In die proses het dit duidelik geword dat die agente in binêre verhoudings nie apart kan funksioneer nie - perseptuele belewing teenoor logies-beredeneerde ("discursive") kennis, of die sintuiglik-motoriese verstaan van musiek teenoor rasionaliteit, of intuïsie teenoor wete. Wanneer die subjektiewe met die objektiewe versmelt, verteenwoordig dit vir my die afgerondheid van menswees. Hier gaan estetiese belewing dus vir my oor meer as "skoonheid". dit gaan oor 'n fassinasie met die artistieke wyse waarop Hendrik Hofmeyr musiekklanke oor tyd en ruimte gefatsoeneer het en 'n agting vir die insig en vaardigheid waarmee hy as komponis boeiende musiek geskep het.

Bertha Spies

E-pos: spies.bertha@gmail.com

 

 

1 Daar is ook 'n bonuswerk beskikbaar wanneer hierdie musiek van die internet afgelaai word -Variazioni sopra una ninnananna Africana vir onbegeleide viool.
2 Komponis se programnotas.
3 Die komponis Linda Dusman bevraagteken "our cultural assumption that knowledge ... is a necessity for successful engagement with music" (Dusman, L. 1994. Unheard-of: Music as performance and the reception of the new. Perspectives of New Music, 32(2):130-146, p. 137, http://www.jstor.org/stable/833601).
4 Die motto is afgelei van 'n negentiende-eeuse Sanlied opgeneem in die Bleek-en-Lloyd-versameling by die Iziko Museum, Kaapstad.
5 "The starkness of the harmonic language and the use of piano harmonics evoke the open plains of Africa" (Programnotas).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons