SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número2NP van Wyk Louw's animals and figures: An ecocritical readingNP van Wyk Louw's Die pluimsaad waai ver, of Bitter begin revisited índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.2 Pretoria Jun. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a12 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Titel: Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP, die Kommunisme en Geweld [1961-1990]
Outeur:
Leopold Scholtz
Uitgewer: Jonathan Ball

 

Die Naelstring wat die ANC nie wou of wou kon, en steeds nie kan, knip nie

Die teks beslaan 268 bladsye. Die bronnelys kom in elf bladsye voor, 'n verdere 30 bladsye bevat al die voetnote en 'n handige register van nege bladsye voltooi die boek. Dit is ook as 'n e-boek beskikbaar.

Scholtz is 'n befaamde historikus en skrywer van formaat. Uit sy pen het al verskeie boeke en 'n magdom artikels oor gebeure in Suider-Afrika asook oor internasionale aangeleenthede verskyn. Die perspektiewe wat hy deel, is lesenswaardig en hy voorsien sy lesers van ingeligte menings wat verantwoordbaar is. Hierdie boek getuig van substantiewe en deeglike navorsing. Dit prikkel gedagtes en is insiggewend en die produk van diepgaande studie. Dit is nie net vir studente in geskiedenis en politieke wetenskap bedoel nie, maar bepaald ook vir gewone landsburgers wat nog altyd gewonder het hoe die ANC-vurk in die SAKP-hef steek en vanwaar die besondere verbondenheid van die ANC kom aan die SAKP, en by verlenging aan die Sowjet-Unie self - deesdae dan ook Rusland - en hoe dit oor dekades vertroetel is. Die boek is myns insiens beslis die moeite werd om te lees vir die temas wat daarin ontwikkel en uitgebeeld word. Die outeur is duidelik in beheer van sy feite en sy bronne ondersteun deurentyd sy stellings. Hy bied elke stelling sorgsaam aan en plaas dit dan ook behoorlik in konteks.

Die tydstip waarop Scholtz se boek verskyn, is baie gepas. Die tragiese gebeure in Oekraïne en Suid-Afrika se lamsakkige houding teenoor Rusland kry met die uiteensettings wat hy gesaghebbend aanstip ook nuwe betekenis. Met al die nuanses wat Scholtz beklemtoon, word die verwantskap beter verstaan. Dis 'n verwantskap wat eintlik tussen die ANC en Rusland bestaan en wat gebore is uit die moederskoot van die Sowjet-Unie en aan wie se bors die ANC deur middel van die SAKP oor dekades gevoed was met die moedersmelk van die revolusie. Dan bly die vraag steeds smeul oor Suid-Afrika se standpunt ten opsigte van die huidige oorlogsituasie: waarom bly Suid-Afrika steeds so verknog aan Rusland? Is dit die gevolg van 'n berugte middelpad-filosofie of trek die SAKP steeds die toutjies in die top-hiërargie van die ANC?

Die goue draad wat deur die boek vleg, is die oorheersing van die ANC deur die SAKP. Wat duidelik blyk, is hoe eersgenoemde eintlik 'n gevangene van laasgenoemde se meer intellektuele benadering en kommunistiese doelstelling was. Hoe 'n Leninistiese/Marxistiese diktatuur deur middel van 'n sogenaamde demokratiese bestel sig in Suid-Afrika wou vestig. Hiervoor het die bevryding van die massa handig te pas gekom.

Volgens Scholtz was die leierskap van die ANC wat nie lede van die SAKP ingesluit het nie, swak en nie opgewasse teen dié in die SAKP nie. So het die probleem van die ANC om leierskapposisies met bekwame lede te vul die SAKP soos 'n handskoen gepas. Daarmee kon die SAKP die ideologie van die ANC na willekeur beïnvloed en die rigting bepaal vir die uiteindelike vervorming van die gemeenskap na 'n kommunistiese een. Die skrywer se uiteensetting dat die SAKP die spreekwoordelike kitaar agter die rookskerm geslaan het, terwyl die ANC as die groot menere voor gedans het, spreek boekdele. Op sy beurt het die SAKP slaafs agter die Sowjet-Unie aangeloop. Die skrywer noem ook die oorweldigende aanbidding van die Kremlin.

Die ANC/SAKP se verbondenheid aan die Sowjet-Unie was 'n gegewe en is deur 'n ongekende lojaliteit gekenmerk. Dermate dat dit waarin die Sowjet-Unie 'n afkeur gehad en verwerp het, netso afkeurenswaardig vir die alliansie was. Alles wat vanuit die Kremlin afkomstig was, is beskou as die wet van Mede en Perse. Vir die alliansie was die Sowjet-Unie 'n paradys en is dit met matelose bewondering aanbid. Wat die kommuniste se beskouing ook al was, is voetstoots deur die alliansie aanvaar en hul eie gemaak met geen ruimte vir afwyking nie. Toe ernstige meningsverskille tussen die Sowjet-Unie en China ontstaan het, het die ANC nie geskroom om eersgenoemde se kant te kies nie. Van kritiek op die Sowjet-Unie was daar geen sprake nie. Toe die Sowjet-Unie Afghanistan in Desember 1979 ingeval het, het die ANC daardie optrede klakkeloos gesteun en geen kritiek oor die Sowjet-Unie uitgespreek nie. (Vandag met Oekraïne is dit déja vu.)

Die front wat die ANC vir die SAKP was, is telkens deur leiers soos Tambo ontken. Scholtz wys daarop dat Tambo hierdie ontkenning gemaak het terwyl hy deeglik bewus was van die feit dat omtrent al die persone in sy kantoor lede van die SAKP was! Alhoewel Tambo nooit self 'n ingeskrewe lid van die SAKP was nie, was hy volgens die skrywer manipuleerbaar en sy dubbelpratery het sy optredes gekenmerk wanneer hy die inhoud van sy toesprake aangepas het om by 'n bepaalde gehoor inslag te vind. Scholtz herhaal op verskeie plekke dat Tambo geen sterk leier was nie.

Die skrywer wys ook daarop dat die SAKP deeglik gesong het dat sy ideologie stapelvoedsel was vir almal in die ANC se MK-kampe. (MK is die afkorting vir uMkhonto we Sizwe wat "Spies van die Nasie" beteken.) Sowjetinstrukteurs het lesings aangebied, terwyl duisende MK's verdere militêre opleiding in die Sowjet-Unie ontvang het. Die Kremlin het die SAKP/ ANC in alle opsigte gesteun en ruim befonds. Die wanordelike toestande, skrikwekkende wanpraktyke en onmenslike gedrag wat in al die verskillende ANC-kampe geheers het, en wat in verskeie Afrikalande gevestig was, sal die leser met afgryse vervul. Dissidente is doodeenvoudig nie geduld nie.

Dit het die SAKP met trots vervul dat dit die ANC so kon oorheers. Daarom verbaas dit die skrywer nie dat die ANC op elke moontlike gebied met kommunistiese ideologie en revolusionêre temas gebreinspoel was nie. Wat die SAKP voorgeskryf het, het die ANC heelhuids gesluk sonder om dit te bevraagteken. Hoe kon hulle? Dit blyk duidelik uit Scholtz se uiteensettings dat hulle net nie die vermoë gehad het om dit te kon doen nie. Hulle was doodeenvoudig nie opgewasse teen die SAKP nie. Laasgenoemde was gedissiplineerd en het 'n duidelike strategie gehad wat eenvormig toegepas is. Die ANC was bloot net nie in dieselfde liga as die SAKP nie en is male sonder tal deur die kommuniste uitoorlê omdat dit duidelik die ANC se meerdere en meester was met hul ideologiese oorheersing. Vir die ANC was daar min of geen beweegruimte om eie inisiatief aan die dag te lê nie.

Ook op militêre gebied het die ANC verloor en was die MK se gewapende stryd tot mislukking gedoem. Scholtz verwys na 'n bepaalde operasie wat die ANC baie lukraak en slordig beplan het met sommige senior offisiere wat "nie eens kaart" kon lees nie! MK was syns insiens inderwaarheid militêr uiters ondoeltreffend met weinige sukses. Die ANC se gewelddadige benadering om Suid-Afrika onregeerbaar te maak, was meer suksesvol, maar ook dít was nie sy eie breinkind nie, maar aksieplanne wat hoofsaaklik geskoei was op lesse wat die ANC/SAKP-besoekers in Viëtnam geleer is. Daar het die alliansie kennis met die toepassing van massa-aksie gemaak.

Scholtz hanteer 'n verskeidenheid temas van bepaalde betekenis wat elkeen aandag vereis. Hy stel ook 'n groot galery van persoonlikhede aan die leser bekend. Om dit alles te absorbeer, verg geweldige konsentrasie en soms moet stukke weer gelees word sodat al die nuanses kan insink om uiteindelik te verduidelik hoe die kommunistiese stroom die ANC verswelg het. Gevolglik is die boek 'n legkaart van heelwat stukke waarmee die skrywer goed in sy doel slaag.

Aan die einde van die boek kan die leser tereg vra watter soort organisasie die ANC sou gewees het as dit nie vir die SAKP was nie. Sou dit enigsins 'n noemenswaardige rol gespeel het? Sonder die SAKP as sy revolusionêre kompas, sou die ANC verlore gewees het en in sy eie moeras van onbekwaamhede rondgetrap en gesink het. Die organisasie se interne onverdraagsaamheid, selfverryking en korrupsie het volgens Scholtz verdere ondoeltreffendheid bevorder. Daar is nooit geaarsel om andersdenkendes in hul geledere te elimineer nie.

Wat die skrywer ook duidelik aantoon, is hoe ondubbelsinnig die SAKP in sy vasberadenheid was om die "national democratie revolution" nie net te lei nie, maar ook te laat slaag. Om dit te bewerkstellig, was die kortste roete na 'n sosialistiese staat om eers 'n sogenaamde demokratiese staat te skep. Scholtz bevestig dan ook met 'n belangwekkende aanhaling dat dit juis die resep is wat die SAKP-leier, Joe Slovo, verkondig het.

Hy deel ook met die leser die minagting waarmee die ANC, wat sy onvermoë by vele geleenthede ten toon gestel het, deur die SAKP en selfs Afrika-leiers bejeën is. 'n Insiggewende gesigspunt wat Scholtz toelig, is dat toe Gorbatsjof in 1985 met sy hervormingsprogram begin het, het die Kremlin druk op die ANC begin uitoefen om met Suid-Afrika te onderhandel. Vier jaar later toe die Berlynse muur val en Oosbloklande kommunisme verwerp, is die alliansie se steun oor 'n wye veld internasionaal geknou. Wat daarna gebeur het, is aan Suid-Afrikaners alombekend.

Die skrywer eindig sy eie skrywersnota aan die begin van die boek met die woorde: "Laat die gesprek begin!" Hy voorsien nou heelwat agendapunte daarvoor. Min gesprekke kan deesdae gevoer word oor wat tans in Suid-Afrika aan die gang is - selfs ten opsigte van sy buitelandse beleid - voordat die voorgeskiedenis wat die skrywer met vers en kapittel uiteensit, gelees en geabsorbeer is. Hiervoor verdien Scholtz krediet, erkenning en ondersteuning.

Riaan Eksteen

E-pos: reksteen@swakop.com

[Nota: Die resensent vestig interessantheidshalwe die leser se aandag op die volgende bykomende inligting - red.]

Wanneer Scholtz sy feite as historikus aanbied en in konteks plaas, is dit nie altyd belangrik om spesifieke diplomatieke verhoudinge en gebeure te verantwoord nie. Tog kan dergelike gebeure nie uit die oog verloor word nie. Die twee aspekte daaromtrent wat belangwekkend is, word nie hier by wyse van kritiek aangestip nie, maar veel eerder ter aanvulling van die sentrale tema oor die rol, invloed en betrokkenheid van die SAKP.

Eerstens, verbreek Suid-Afrika sy diplomatieke bande met Moskou op 1 Februarie 1956 en gelas die Sowjet-Unie om sy konsulate in die land te sluit en hul personeel uit Suid-Afrika te verwyder. Die hoofrede vir hierdie drastiese stap wat die regering van Hans Strijdom met Eric Louw as Minister van Buitelandse Sake aanvoer, is die Sowjet-Unie se steun aan die SAKP wat toe reeds al in 1950 onwettig verklaar is. Tweedens, begin die VSA al hoe meer aandag te skenk aan kommunistiese tendense in Afrika. Suid-Afrika word nie uitgesluit nie. So volg die VSA se ambassade in Suid-Afrika noodwendig ook gebeure daaromtrent noukeurig en doen gereeld daaroor verslag aan die Staatsdepartement in Washington D.C. In een so 'n verslag verwys die waarnemende hoof van missie, William Maddox, na punte wat voortgevloei het uit 'n reeks dinkskrums wat die ambassade oor maande intern gehou het en waaroor Ambassadeur Henry Byroade, wat toe self op daardie tydstip in Washington was, op 'n uiters geheime vergadering aldaar voortborduur het. Die twee punte wat relevant tot Scholz se boek is, word soos volg weergegee in Foreign Relations of the United States, 1955-1957, Africa, Volume XVIII, pp. 821-822, Document 314. Despatch from the Embassy in Pretoria to the Department of State, on 12 April 1957:

Let's talk more about what is happening in hard, cold terms as regards Black Nationalism and Communism. ... Militant Black Nationalism, independent but potentially an ally of Communism, is also a threat to our interests.

Daarom verbaas dit niemand dat die VSA meer en meer bedag was op die aktiwiteite van die ANC wat toe nog nie verban was nie. Dat die personeel van die CIA (Central Intelligence Agency) wat aan die ambassade verbonde was ook hierby betrek is, was ook te verwagte. Hierdie agentskap se betrokkenheid by hierdie onderwerp, het 'n paar jaar later 'n bepaalde nadraai gehad. Op 5 Augustus 1962 word Nelson Mandela naby Howick, Natal, in hegtenis geneem. Baie artikels en bespiegelinge het in later jare daarop gesinspeel dat die CIA die polisie oor sy bewegings ingelig het. Op 16 Mei 2016 word 'n onderhoud op NPR (National Public Radio in die VSA) uitgesaai met die strekking: "Retired CIA Agent Confirms U.S. Role In Nelson Mandela's 1962 Arrest." Die afgetrede agent van die CIA, Donald Rickard, het die nuus in sy onderhoud met 'n verslaggewer van The Telegrapgh gedeel.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons