SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 issue2Motion verbs in Van Wyk Louw's poetryNP van Wyk Louw's animals and figures: An ecocritical reading author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 n.2 Pretoria Jun. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a10 

TAALRUBRIEK

 

Die een en ander uit die media, en 'n spelling of twee

 

 

Ek is geen taalkundige nie; ek is 'n taalpraktisyn, en taalpraktisyns kyk dikwels ietwat anders as (akademiese) taalkundiges na die taal waarin hulle werk. Die taak van 'n taalpraktisyn behels veel meer as om kommas en punte in te sit en hier en daar 'n spelfout reg te maak. Dit behels onder meer dat 'n skrywer se teks so versorg en geskaaf moet word dat dit nie die teikengehoor aanstoot gee nie (byvoorbeeld omdat daar allerlei taal- en ander foute in is) en dat dit betekenis - die skrywer se bedoeling - verhelder.

Om dit te vermag, moet die taalpraktisyn deeglik bewus wees van die norme en standaarde wat die breë, darem seker basies opgevoede taalgemeenskap vir die betrokke taal stel. Dat die taalgemeenskap sulke norme en standaarde stel, is nie altemit nie. Deur my hele loopbaan moes ek tallose navrae beantwoord oor wat die regte dit of die regte dat is. Mense wil weet wat in hulle taal "reg" of "verkeerd" is.

Daarom bly dit vir my verbasend dat afwykings van die norm maar te dikwels soos 'n veldbrand versprei, terwyl alle pogings om die verspreiding te stuit tevergeefs is.

Toe ek in die tagtiger- of neëntigerjare vir die eerste maal iemand op die radio hoor sê het dat 'n probleem "aangespreek" gaan word, wou ek hardop lag. Prof. Johan Combrink, destyds Taalkommissie-voorsitter, het na aanleiding van 'n koerantopskrif wat "DG spreek leemte aan" gelui het, gesê dit beteken die DG praat met 'n gat.

Vandag is daar nie meer keer aan nie. Of dit nou die probleme by Eskom, die korrupsie in die staatsdiens, die swak toestand van paaie of die swak vertoning van die Springbokke is, dit word aangespreek. As taalpraktisyn vermy ek dit egter steeds, want ek glo nog aan onaanvaarbare anglisismes, en in nege uit die tien gevalle is dit boonop onduidelik wat die skrywer regtig bedoel.

'n Skamele twintig of wat jaar gelede was die bevestigende "ek/hulle/dit doen", wat met huid en haar uit Engels oorgeneem is, onbekend. Vandag gebruik selfs mense van my generasie dit. Dis om van te ween.

Die volgende twee voorbeelde is hopelik nie kooltjies wat 'n veldbrand van misbruik sal laat ontstaan nie.

nouliks: "In daardie jare het hulle [twee organisasies] nouliks saamgewerk." Uit die konteks ('n TV-gesprek) was dit duidelik dat die bedoeling closely was. Hier moes dit natuurlik eenvoudig nou gewees het. Dit is so dat nou dikwels dubbelsinnig is, want dit kan óf 'tans, op die oomblik, sonder uitstel', óf 'wat 'n hegte verband vertoon' beteken. In die betrokke sin laat die bepaling In daardie jare eersgenoemde betekenis van nou nie toe nie, maar 'n mens aanvaar dat die spreker nie die tyd gehad het om na te dink soos ek hier nie. Wat egter interessant is, is dat die kenmerk van Engels om die agtervoegsel -ly by baie bywoorde te gebruik, hier kop uitsteek: die -liks moes duidelik maak wat bedoel word, maar ongelukkig het nouliks amper die teenoorge-stelde betekenis van wat die spreker bedoel het, naamlik 'amper glad nie'.

verkeerdelik: "X het die hof genader om 'n beslissing deur 'n appèlkomitee tersyde te laat stel op grond daarvan dat die komitee die reg verkeerdelik toegepas het." Wat hier in die koerant gestaan het, is dat die komitee ten onregte die reg toegepas het, dit wil sê die komitee het gefouteer omdat hy die reg toegepas het. Wat eintlik bedoel is, is dat die komitee gefouteer het deur die reg verkeerd toe te pas. Die skrywer hier het hom/haar laat mislei deur agter Engels aan 'n agtervoegsel aan die bywoord toe te voeg.

Oplettende lesers sou miskien gemerk het dat daar 'n spellingverskil tussen die landnaam Oekraïne en die afgeleide byvoeglike naamwoord Oekraïens(e) is: In die landnaam is daar slegs 'n -ï-, terwyl die byvoeglike naamwoord -ïe- het. Die rede hiervoor is dat die lettergreepverdeling van die woorde verskil. In die landnaam staan die ie-klank (foneties aangedui as [i]) in 'n oop lettergreep: Oe-kra-ï-ne, terwyl dit in die afleiding in 'n geslote lettergreep staan, dit wil sê die lettergreep word met 'n konsonant afgesluit: Oe-kra-ïens en Oe-kra-ïen-se.

Dieselfde verskynsel kry ons ook in party wisselvorme in Afrikaans, soos vitamine x vitamien en proteïne x proteïen.

In die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS, 2017) word die spelling van die klank [i] in besonderhede in reëls 18.5 tot 18.10 behandel.

Nog 'n spelreël is ter sprake in die koerantsin "Die sitplekke is herstoffeer en die chroom van die motor is oorgedoen." Ek vermoed die betrokke joernalis of subredakteur onthou iets uit sy/haar skooldae oor werkwoorde wat op -eer uitgaan wat nie ge- in die verlede tyd kry nie.

Reël 19.3 van die AWS bepaal dat die verlede tyd van tweelettergrepige woorde wat op -eer uitgaan, met of sonder ge- gevorm kan word. Dit sou dus het stoffeer of het gestoffeer kon wees. Reël 19.4 bepaal egter dat by 'n werkwoord wat op -eer uitgaan en drie of meer lettergrepe het, die verledetydsvorm wel mét ge- gevorm word. Omdat herstoffeer drie lettergrepe het, moes daar in bogenoemde sin gestaan het "Die sitplekke is geherstoffeef.

'n Laaste koerantblapsie is die opskrif "Ons moet nóú keer dat SA nie agterbly nie". Hoesê? Hier staan mos nou presies die teenoorgestelde van wat die skrywer vermoedelik wou sê. Dié opskrif moes gelui het "Ons moet nóú toesien/sorg dat SA nie agterbly nie" of "Ons moet nóú keer dat SA agterbly", want hier beteken keer immers iets soos 'voorkom, verhoed'.

Vir sulke glipse moet die taalpraktisyn ook sy/haar oë oophou!

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License