SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número2Relativisation in the poetry of NP van Wyk LouwPresentation and positioning in Van Wyk Louw: 'n Lewensverhaal ("Van Wyk Louw: A life story") by JC Steyn índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.2 Pretoria Jun. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a9 

AKTUEEL

 

Nabetragting oor die taaldebat op Stellenbosch

 

Reflections on the taaldebat at Stellenbosch

 

 

Chris Brink

Emeritus Visekanselier, Newcastle-universiteit, Engeland. E-pos: chris.brink@newcastle.ac.uk

 

 


OPSOMMING

Hierdie meningsartikel is 'n persoonlike retrospektiewe blik op en nabetragting oor die twintig jaar van openbare taaldebat op Stellenbosch. Ek bied dit aan as 'n alternatiewe perspektief op die heersende narratief oor hierdie gebeure wat uit die geledere van die taalstryders kom.


ABSTRACT

For twenty years Stellenbosch University has been at the centre of a public controversy about the role of Afrikaans in tertiary education - in particular the manner and extent to which Afrikaans should be used as a medium of instruction. This became known as the "taaldebat" - the language debate (conducted almost entirely in Afrikaans). For the first five of those years I served as the Rector and Vice-Chancellor ofthat University. This opinion piece is a personal retrospective view of, and perspective on, the "taaldebat" at Stellenbosch. It is offered as an alternative to the current narrative emanating from language activists, sometimes called "taalstryders".


 

 

Inleiding

Vir bykans twintig jaar was die Universiteit Stellenbosch (US) die middelpunt van 'n geskil wat bekend geraak het as die "taaldebat". Vir vyf van daardie jare was ek die Rektor van die US.

Nadat ek Stellenbosch in 2007 vir 'n rektorspos in Engeland verlaat het, het ek geen verdere aktiewe verbintenis met die US gehad nie, en ook geen verdere rol in die sogenaamde taaldebat gespeel nie. Sedert my aftrede en terugkeer na Suid-Afrika in 2017 het ek egter onvermydelik van tyd tot tyd van nuusbrokkies oor verdere verwikkelinge op die taalfront in Stellenbosch bewus geword. Die enkele kere dat ek Die Burger of Rapport onder oë gehad het, was my indruk dat die sage nog steeds voortgeduur het, maar, meer nog, dat daar gaandeweg aan die kant van die taalstryders 'n narratief opgebou is oor wat gebeur het - veral in my tyd

- waarmee ek nie saamstem nie en wat ek glo 'n valse beeld bied. Stories het 'n manier om met verloop van tyd te groei. Voordat die taalstryders se weergawe van die taaldebat dus die enigste vertelling word en as die volle waarheid aan die nageslag aangebied word, skryf ek, ter wille van die geskiedenis, hierdie nabetragting as 'n alternatief.

Ek wil uit die staanspoor twee onderskeide maak. 'n Mens kan onderskei tussen enersyds 'n gesprek oor Afrikaans in die breë en andersyds 'n meningsverskil oor die taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch in die besonder; en 'n mens kan onderskei tussen akademiese besprekings (soos in hierdie tydskrif), aan die een kant, en openbare polemieke in aanlyn forums en die Afrikaanse pers, aan die ander kant. Daar is natuurlik oorvleuelings en samevloeiings tussen hierdie vier strome, maar in hierdie artikel bepaal ek my hoofsaaklik by die tweede deel van elk van hierdie twee onderskeide.

'n Paar verdere inleidende opmerkings is nodig. Eerstens is dit 'n persoonlike perspektief en is dit deels retrospektief. Ek het beleefdheidshalwe die manuskrip aan die huidige universiteitsowerhede beskikbaar gestel vir insae en kommentaar voor publikasie, maar alle opinies hierin is my eie, en alle verantwoordelikheid daarvoor is myne. Tweedens het ek hier bo verwys na die "sogenaamde" taaldebat om dit uit die staanspoor duidelik te maak dat die woord debat 'n beleefde manier is om die hele Stellenbosse geskil te beskryf. 'n Behoorlike debat vereis min of meer gelyke deelname van twee kante, wat hier nie die geval was nie. Verder was 'n groot deel van hierdie sogenaamde debat ook nie veel meer as persoonlike aanvalle nie. Omdat dit steurend is om by herhaling die woord sogenaamde te gebruik, en om daardie rede alleen, doen ek dit nie in die res van hierdie stuk nie. Derdens, wanneer ek van taalstryders praat, bedoel ek geen disrespek of etikettering nie.1 Ek gebruik die term waarby hulle dikwels benoem word en wat party moontlik self verkies - sien byvoorbeeld Maree (2022) - omdat dit pas by die metafore van stryd wat hulle self vrylik gebruik het gedurende my tyd op Stellenbosch (sien Botha (2007:11)).

 

Terugskouend

Ek is vroeg in 2001 deur Senaatslede van die US genader om aansoek te doen om die rektorspos, en ek het dadelik belang gestel. Die visie wat ek aangebied het, was dat die US 'n leidende rol in die opbou van 'n kennisekonomie vir Suid-Afrika kon speel. My visiestelling van twee bladsye het egter ook, aan die einde, iets gesê oor Afrikaans, naamlik dat ek die US sien as "die universiteit van eerste keuse vir alle Afrikaanssprekendes, maar met 'n breë demografiese profiel, bo-oor die grense van ouderdom, kleur, taal, geld en woonplek". Ek was toe nog in Australië woonagtig, maar my antennas het weldra seine begin opvang dat die rol van Afrikaans by die US 'n warm besprekingsonderwerp was. Ter aanvulling van my oorkoepelende visiestelling het ek daarna ook 'n kort taalvisie aangebied, getitel "Ons weg deur die nuwe wêreld". Daarin het ek 'n aantal punte genoem oor praktiese aangeleenthede rakende Afrikaans by die US. Onder andere het ek die standpunt ingeneem dat Afrikaans as "eerste onderrigtaal" aan die US sou kon geld.

"Universiteit van eerste keuse vir alle Afrikaanssprekendes", en "Afrikaans as eerste onderrigtaal": Dit was dus in my aansoek in 2001 die twee kernpunte van my siening oor Afrikaans aan die US. In daardie tyd was daar egter reeds 'n ander dinamiek en retoriek aan die ontwikkel: die idee van Stellenbosch as 'n Afrikaanse universiteit. Jakes Gerwel, die alomgerespekteerde oudrektor van UWK, is deur die destydse Minister van Hoër Onderwys gevra om 'n informele komitee saam te stel om hom te adviseer oor die rol en toekoms van Afrikaans in die hoër onderwysstelsel. Gedurende 2001 het die gerug in omloop gekom, en my ook bereik, dat die Gerwel-komitee gaan aanbeveel dat daar twee "Afrikaanse universiteite" behoort te wees. Dit was eers heelwat later dat ek besef het die woorde "Afrikaanse universiteit" het glad nie in die Gerwel-verslag voorgekom nie. Die term het egter gou standaardterminologie geword. Daarmee het die onderwerp van die taaldebat vaste vorm aangeneem: dat dit nie net gaan oor die taal Afrikaans nie, maar ook oor 'n sekere soort universiteit. Wat eers ná my aanstelling gaandeweg vir my duidelik geword het, was dat my begrip van 'n "Afrikaanse universiteit" fundamenteel verskil het van die taalstryders s'n, soos ek hier onder verduidelik.

In Januarie 2002 het ek my pos as Rektor van die Universiteit Stellenbosch opgeneem. Soos elke nuwe rektor het ek 'n paar persoonlike prioriteite gehad: navorsing en onderrig, natuurlik; die uitbouing van entrepreneurskap en die kennisekonomie, volgens my visiestelling; en ook gemeenskapsinteraksie. Behalwe hierdie prioriteite was ek in daardie stadium ook entoesiasties oor die moontlikheid om 'n bydrae tot die uitbouing van Afrikaans te lewer. Daarvoor was dit nodig dat ek eers my eie begrip van Stellenbosch - dorp en universiteit -moes vorm.

Vir baie Afrikaanse mense was Stellenbosch in daardie tyd nog hulle "Athene van die Suide", hulle idilliese paradys en hulle Oxbridge, alles in een. Vir party was dit selfs nog die wit Athene van die Suide - soos ek byvoorbeeld een keer gelees het in 'n koshuis se joolpamflet. Maar duidelik was daar ook 'n ander siening van Stellenbosch. Baie mense het dit ervaar en onthou as die meeloper en ondersteuner van apartheid - die "kraamsaal van apartheid", soos 'n gemeenskapsaktivis uit Idasvallei dit gereeld beskryf het.2 Agt jaar ná 1994 het ek gemeen dat dit tyd vir daadwerklike vernuwing was. My fundamentele vraag was: Hoe bring ons die US volledig in die hoofstroom van die nuwe Suid-Afrika in, met 'n legitimiteit wat geldig sou wees in die hele land en vir al sy inwoners?

Een van die eerste en belangrikste dinge wat ons gedoen het, was om 'n nuwe strategiese raamwerk te skep, en 'n nuwe toekomsvisie vir die US te skryf: Visie 2012. Wanneer ek sê "ons" bedoel ek dat daar vir hierdie doel 'n taakspan saamgestel is en dat die konsepdokument(e) wat hulle opgestel het, algaande binne die universiteitstrukture verfyn is totdat die finale weer-gawes deur die Senaat en die Raad goedgekeur is. Vir diegene wat nie onmiddellik vertroud is met hierdie liggame nie: Die Senaat is die akademiese oppergesag van die Universiteit en bestaan hoofsaaklik uit al die professore, met die Rektor as voorsitter, terwyl die Raad (met ongeveer 25 lede) die oorkoepelende beheerliggaam is en optree soos die nie-uitvoerende direkteure van 'n groot maatskappy, met 'n Raadsvoorsitter verkies deur die Raadslede. As 'n akademiese instelling is die Universiteit verdeel in 'n aantal fakulteite, elk met 'n dekaan aan die hoof, en elke fakulteit is dan weer verdeel in 'n aantal departemente, elk met 'n departementshoof.

'n Strategiese raamwerk word nie sommer net uit die lug gegryp nie: 'n mens moet 'n goeie idee hê van waar jy tans is voordat jy jou verbind tot 'n visiestelling van waar jy wil wees. Daar is dus gedurende my eerste jaar by die Universiteit heelwat introspeksie gedoen. Ek het onder meer ook 'n bestekopname spesifiek oor taal aan die US laat doen, wat getoon het dat die universiteit glad nie so sterk Afrikaans was as wat nostalgie of onkunde mense dalk sou laat glo het nie (soos byvoorbeeld bevestig word in Scholtz en Scholtz (2008:295-296)).

Die Raad en Senaat het gedurende 2002 die nuwe Visie 2012 vir die Universiteit goedgekeur. Die idee was dat die US oor die daaropvolgende tien jaar sou werk om sekere doelwitte te bereik, wat soos volg verwoord is:

Die Universiteit Stellenbosch -

is 'n uitnemende akademiese instelling en gerespekteerde kennisvennoot

bou aan die wetenskaplike, tegnologiese en intellektuele kapasiteit van Afrika

is 'n aktiewe rolspeler in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing

het 'n kampuskultuur wat 'n diversiteit van mense en idees verwelkom

bevorder Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal in 'n meertalige konteks

Elk van hierdie strategiese doelwitte is mettertyd gerugsteun deur verskillende beleidsdoku-mente, implementeringsplanne en bestuurstrukture. Die vyfde punt het ek met my eie hand in die visiestelling ingeskryf. Dit was nie deel van die oorspronklike konsepvoorstel nie, maar ek het gedink dit is nodig om dit pertinent te verwoord, deels vanweë my eie oorspronklike kernpunte oor Afrikaans en deels vanweë die resultate van die bestekopname oor taal. Dit was reeds in daardie stadium vir my duidelik dat eenvoudige oplossings vir die kwessie van Afrikaans aan die US nie moontlik was nie - spesifiek in die lig van die ander vier punte van Visie 2012.

Binne die universiteit was daar, glo ek, goeie begrip dat die doelwit rakende Afrikaans in die visiestelling een van 'n pakket van vyf doelwitte was. Die bevordering van Afrikaans was 'n strategiese doelwit, net soos die bevordering van navorsing of van diversiteit 'n strategiese doelwit was. Dit was toe reeds 'n fundamentele verskil in uitgangspunt tussen die US en die taalstryders. Vir hulle, soos ek dit mettertyd begin verstaan het, moes die bevordering van Afrikaans nie net een van vyf gelyke doelwitte wees nie; dit moes die eerste, belangrikste en allesoorheersende doelwit wees, met die res ondergeskik daaraan.

In opvolging van die vyfde punt van Visie 2012 het ons 'n taalbeleid opgestel, en daardie taalbeleid het onderskei tussen vier taalopsies met betrekking tot onderrig. In 'n kursus gemerk as die A-opsie is onderrig alleen in Afrikaans aangebied. Die E-opsie het op onderrig slegs in Engels gedui. Die A/E-opsie het op parallelle aanbiedinge in Afrikaans en Engels gedui, met ander woorde dieselfde inhoud word gedupliseer en in verskillende lesings in Afrikaans sowel as Engels aangebied. Die T-opsie (T vir "tweetaligheid") het gedui op die gebruik van beide Afrikaans en Engels in een lesing, na gelang die dosent dit in die lesinglokaal vir doeltreffende onderrig nodig geag het. Fakulteite moes vir elke kursus vooraf sê watter opsie hulle beplan om te gebruik, en hierdie opsies is dan in die jaarboek aangedui. Indien daar niks gesê is nie, was die A-opsie by verstek die eerste of outomatiese opsie. In daardie stadium is verreweg die meeste kursusse in Afrikaans aangebied. Die beginsel van "Afrikaans as eerste onderrigtaal", soos gestel in my taalvisie van 2001, is dus myns insiens eerbiedig.

Die aanvaarding van hierdie taalbeleid, en die vier opsies, het sonder voorval verloop, en ek glo almal was verlig dat daar toe meer duidelikheid en rigting was aangaande die taalsake van die Universiteit. Twee jaar later het 'n mediastorm egter in die Afrikaanse pers losgebars oor die T-opsie. Die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte het naamlik in die tweede helfte van 2005 besluit om die T-opsie uit te brei na die derde studiejaar vir die kohort van studente vir wie dit toe reeds in hulle eerste en tweede studiejaar gebruik is. So sou hulle daardie studente ten beste bedien. Die besluit het, soos gewoonlik, ook in die Senaat- en Raadstukke gedien, en is in beide liggame aanvaar. Tot my verbasing het ek egter kort daarna in Die Burger gelees dat dosente in die Fakulteit "beveel" is om voortaan die T-opsie te gebruik, dat die T-opsie dui op 'n stompsinnige herhaling van elke woord in twee tale, en dat onderrig in Afrikaans dus nou met 50% verminder is. Die idee dat 'n mens jou dosente kan vertrou om tweetaligheid na goeddunke in die klaskamer toe te pas het nie gefigureer nie.

Ek noem die geval van die T-opsie egter nie om weer hierdie saak van voor af te beredeneer nie, maar om 'n ander punt te stel. Die instelling van die T-opsie het binne die universiteit volkome normaal en selfs gewoon verloop. Niemand het vir een oomblik getwyfel dat dit die Fakulteitsdosente se goeie reg is om te sê hoe hulle wil klasgee nie, en mits daar behoorlike motivering, debattering en besluitneming was, was hulle kollegas tevrede om hulle hul gang te laat gaan. Die openbare storm was egter gegrond op 'n heeltemal ander denkwyse. Volgens die eksterne denkwyse is die tipiese besluitnemingsproses van 'n akademiese instelling in hierdie geval beskou as onvoldoende, selfs verdag, omdat dit - so is geargumenteer - nie die sanksie van die "Afrikaanse gemeenskap" buite die Universiteit gehad het nie. En van hierdie "gemeenskap" was die taalstryders dan ook die selfaangestelde segslui.

Die reaksie op die T-opsie illustreer die fundamentele verskil in denkwyse oor besluitneming aangaande taalsake by die US wat die hele taaldebat gekarakteriseer het. Uit die oogpunt van die universiteitsgemeenskap (en die Senaat, die Raad, ek en die bestuur) moes alle besluite oor Afrikaans inpas by die akademiese etos van die Universiteit, en binne die breë universiteitsdoelwitte soos verwoord in Visie 2012. Uit die oogpunt van die taalstryders was die Universiteit egter in die eerste plek 'n Afrikaanse instelling en moes alle akademiese besluite onderworpe wees aan die Afrikaansheid daarvan.

Agter dit alles, en agter die twee verskillende modelle, was daar verskillende sienings van die begrip van 'n universiteit se gemeenskapsinteraksie, en spesifiek dan Stellenbosch s'n. Ek het in laterjare, en tot op hede, heelwat aandag aan hierdie saak gegee as 'n voorstander van maatskaplike betrokkenheid ("the engaged university"; sien byvoorbeeld Brink, 2018; Brink, 2020). In die akademiese kringe waarin ek beweeg, was daar egter nog nooit by enigiemand enige gedagte dat daar enige eksterne "gemeenskap" is wat besluitnemingsbevoegdheid oor 'n spesifieke universiteit het nie, of 'n veto oor akademiese besluite kan uitoefen nie. Daarvoor is die begrippe van akademiese vryheid en institusionele outonomie by akademici te diep gewortel.

Die taalstryders se begrip van gemeenskapsinteraksie het myns insiens oorgehel na die idee van die Universiteit as gemeenskapsbesit. Meer nog, hulle eise het ongemaklik naby beweeg aan die idee van 'n volksuniversiteit, soos verwoord en voorgestaan deur een van my voorgangers, HB Thom. Daar is dikwels gesê: "Stellenbosch staan vir 'n idee". Weliswaar het die taalstryders die idee effens uitgebrei van wit Afrikaners na alle Afrikaanssprekendes, maar met dieselfde basiese uitgangspunte: die universiteit as gemeenskapsbesit en die besluitnemingsbevoegdheid van daardie gemeenskap oor universiteitsake. Soos 'n (wit, middeljarige) gasheer my vroeg-vroeg al by 'n sosiale geleentheid van een van die koshuise se Oud-studentebond geadviseer het: "Onthou net, Professor, dis ons plek hierdie."

Hierdie tipe besitlikheid het hom ook op ander maniere gemanifesteer. In 2004 het die universiteit byvoorbeeld - weereens deur die normale prosesse en weereens sonder fanfare - 'n eredoktorsgraad postuum aan Bram Fischer toegeken. Dit het sy eie woede-uitbarsting veroorsaak buite die universiteit, blykbaar grotendeels gegrond op die aanname dat "ons plek" nie "sulke mense" behoort te vereer nie. Die retoriek van die Fischer-storm het my laat besef in watter mate baie oudstudente die sake van die US deur politieke lense gesien het. Vir baie mense was die taaldebat nie in die eerste plek 'n akademiese of selfs 'n kulturele aangeleentheid nie, maar 'n politieke geveg, en vir party taalstryders selfs oorwegend so. Daar was seker 'n mate van waarheid in hierdie siening, in die sin dat alles in Suid-Afrika deur politieke lense gesien word, ook gegee die politieke geskiedenis van die Universiteit. Die gewig wat aan die politieke dimensie gegee is, het na my mening egter die taaldebat heeltemal skeefgetrek. Dit het ook twee belangrike praktiese gevolge gehad.

Eerstens het die politieke uitgangspunt die politieke wapens van verdagmakery en persoonlike aanvalle gelegitimiseer, en daarmee allerhande onsmaaklikhede in die taaldebat ingebring. Nie die minste hiervan nie was die toenemende gebruik van verwyte wat teruggaan na 'n ander en groter stryd van meer as honderd jaar tevore: woorde soos hanskakies, hensoppers, jingo's en so meer. Verdagmakery het ook 'n persoonlike aspek gehad, soos ek weldra self ervaar het. Vreemde stories oor die rektor het die rondte begin doen: "Die man is deur die ANC op Stellenbosch geplant" was een storie, en "Hy voer maar net die wil uit van sy politieke meesters". (Vir die rekord: Ek was nog nooit 'n lid van enige politieke party nie. En ook vir die rekord: Ek het nie in Suid-Afrika meer of minder druk van regeringskant ontvang as in Australië of Engeland nie.) 'n Variasie hiervan was: "Die man wil eintlik in die politiek ingaan." (Vir die rekord: ek het geen politieke ambisie nie, en het dit nog nooit gehad nie.) Die destydse redakteur van Die Burger, Arrie Rossouw, het my eendag gebel met die nuus dat ek pas 'n "hoë pos" in die regering aanvaar het. Hy was nogal uit die veld geslaan toe ek sê dis louter onsin, want sy inligting het dan gekom van "betroubare bronne". (Vir die rekord: Geen so 'n pos is ooit gevra, bespreek of aangebied nie.) Daar was ook nog meer kwetsende gerugte en persoonlike swartsmeerdery van die soort waaraan politici miskien gewoond word maar wat vir 'n wiskundige vreemd was.

Die tweede praktiese gevolg van die siening van taal op Stellenbosch as 'n politieke saak was dat dit 'n groot mate van eensydigheid in die debat ingebring het. Met uitsondering van enkele kollegas wat nog bereid was om oor taalsake by die US in openbare gesprek te tree, het die meeste professore geswyg. Maar mense sê nie noodwendig niks omdat hulle niks het om te sê nie. Hulle sê dalk niks omdat hulle nie lus het om iets te sê nie. Die meeste akademici is nie geesdriftige politieke polemici nie, en wy eerder hul tyd en aandag aan hul vakgebied. Die stilswye van die akademici het skynbaar by die taalstryders die idee gewek dat hulle al die argumente gewen het. Die feit dat hulle oënskynlike debatsoorwinning egter geen verskil aan die rigting van die Universiteit gemaak het nie, het dan weer tot allerhande verdere wanopvattings gelei, byvoorbeeld dat as 'n rektor en die bestuur nie dit wat die taalstryders as duidelike en maklike oplossings beskou het, wou toepas nie, dan moes hulle seker óf onnosel, óf lafhartig, óf kwaadwillig wees; of dat die akademici seker eintlik stilswyend aan die kant van die taalstryders was, maar te jammerlik ruggraatloos was om duidelik in die openbaar so te sê, en hulle eerder gedwee aan die neus laat lei het deur die rektor en die bestuur. En so het die spiraal steeds verder afgewentel.

Teen daardie tyd het 'n narratief van Chris Brink as die sondebok in die taaldebat reeds vorm aangeneem. (Terloops, dit was ook die begindae van wat ons nou sosiale media noem, en die eggokamereffek daarvan. Skielik kon elkeen, hoe ingelig of nie, op die een of ander aanlyn forum allerhande stellings maak oor Afrikaans aan die US.) Ek het niks gedoen om die sondeboknarratief te weerlê nie, om verskeie redes. Die beginselrede was dat as 'n mens die rektor wil wees, moet jy maar die gepaardgaande openbare verantwoordelikheid dra vir wat ook al in die instelling gebeur. Die strategiese rede was dat as ek wel moes veg, ek sou verkies om te veg op 'n terrein van my eie keuse. Die taktiese rede was dat ek gedien het as weerligafleier vir die akademici, en spesifiek vir die akademiese bestuurders. ("Die Rektor se skouers is breed", het een van die dekane destyds vir my gesê.) Dan was daar natuurlik ook die eenvoudige alledaagse rede dat universiteitsbestuur 'n voltydse werk is. Anders as baie van die taalstryders was ek toe nog nie afgetree nie.

Nietemin het ek gevoel daar kon redelikerwys van my verwag word om duidelik te sê waar ek staan. In die tweede semester van 2004 het ek 'n oorsese studietoer onderneem om te gaan uitvind hoe dinge by meertalige universiteite werk en daaroor aan die Raad verslag te doen (Van der Walt & Brink, 2005). Gedurende 2005 het ek - onder meer op grond van wat ek op die taaltoer te wete gekom het - begin om my oortuigings aangaande taalsake aan die Universiteit te sistematiseer en op skrif te stel. Daardie geskrif het vroeg in 2006 die lig gesien as 'n klein monografie, No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch (Brink, 2006). Die titel was 'n doelbewuste verwysing na een van die vertrekpunte van die taaldebat: Jan H Marais (oom Jannie Marais, "Ons Weldoener") se testament van 1915 waarin £100 000 aan die destydse Victoria-Kollege nagelaat is en waarvan die rente daarop verdien gebruik kon word om te verseker dat Afrikaans/Hollands "geen mindere plaats" as Engels aan die te stigte universiteit sal hê nie.

In taalstryderkringe is hierdie boekie begroet met woede en venyn. Die felle reaksie het egter minstens net soveel oor die outeur gegaan as oor die inhoud van die boek. "Chris Brink wys sy ware kleure" was omtrent die beleefdste kommentaar. Die mees onbeleefde kommentaar het gekom van die digter Breyten Breytenbach. In sy "ressensie" (sic) van No lesser place, wat woord vir woord (met verbeeldingryke spelling en al) in die studentekoerant Die Matie gepubliseer is, het hy oor die boek self net gesê hy "lesie strond nie", maar nietemin die geleentheid gebruik om my te bestempel as 'n "selftevrete fark".

By hierdie ontvangs van my standpunte het die laaste flikkerende vlammetjie van belangstelling om iets vir Afrikaans te doen in my doodgegaan. Die onophoudelike verdagmakery en kwaadstekery het uiteindelik duidelikheid in my gemoed gebring oor my eie posisie ten opsigte van die bevordering van Afrikaans in die algemeen en die Stellenbosse taalstryd in die besonder. Nie op hierdie manier nie, het ek besluit. Nie op hierdie veronderstellings nie. En nie in hierdie geselskap nie.

Daar is by geleentheid gedurende die taaldebat beweer dat Chris Brink 'n vyand van Afrikaans is. Ek was nog nooit 'n vyand van Afrikaans nie. Al wat gebeur het, is dat die aanvanklike entoesiasme vir die bevordering van Afrikaans waarmee ek op Stellenbosch aangekom het, uit my uitgemergel is deur die negatiwiteit van die taaldebat. As 'n direkte gevolg van die Stellenbosse taalstryd het ek net eenvoudig belangstelling in die hele aangeleentheid van Afrikaansheid aan die US verloor. Daarmee gepaardgaande was my geesdrif vir die vyfde punt van Visie 2012 ook daarmee heen.

Dit was dus weer tyd vir my om 'n loopbaanbesluit te neem. Aan die positiewe kant was dit duidelik dat die US baie goeie vordering maak met my oorspronklike visie van 'n leidende rol in die kennisekonomie. Ons het byvoorbeeld die tegnologieoordragafdeling InnovUS gestig, wat goeie werk begin doen het en, glo ek, nog steeds doen. In die algemeen was daar beduidende en bewysbare vordering met elk van die eerste vier punte van Visie 2012. Ek het begin dink dat vier uit vyf nie sleg is nie.

Ek is reeds aan die einde van 2005 deur die Universiteitsraad, op aanbeveling van die Senaat, heraangestel vir 'n tweede vyfjaartermyn - 'n mosie van vertroue waarvoor ek dankbaar was en steeds is. Teen 2006 het die taaldebat egter 'n stadium bereik waarin mense begin kant kies het vir of teen 'n persoon, eerder as om te stoei met idees. Dit is nie 'n gesonde toedrag van sake nie, en verdere beweging in daardie rigting sou die Universiteit geen goed doen nie. Ek het die narratief van "Dis alles Chris Brink se skuld" as 'n remskoen vir die Universiteit begin sien, met die gepaardgaande idee van "As Chris Brink maar net wil verdwyn, dan sal alles weer regkom" as 'n toets. Een van die belangrikste toetse van leierskap is naamlik om te kyk wat gebeur, nie net tydens die dienstermyn van die leier nie, maar nadat hy of sy reeds die instelling verlaat het. Sal die skip bly voortvaar in die rigting wat daardie persoon aangegee het wanneer hy of sy nie meer aan die stuur is nie? Dit was 'n toets waaraan ek bereid was om my te onderwerp. Goed dan, het ek by myself gedink, kom ons haal Chris Brink uit die vergelyking uit, en dan kyk ons hoe dinge uitwerk. Onvoorsiens het daar toe redelik vinnig 'n uitstekende geleentheid opgeduik, en op 4 Julie 2006 het ek 'n brief aan die Universiteitsgemeenskap uitgestuur om aan te kondig dat ek met ingang van 1 Julie 2007 die rektorspos aan die Universiteit van Newcastle in Engeland aanvaar het.

Voordat ek Stellenbosch verlaat het, is daar 'n afskeidsbundel, getiteld Chris Brink: Anatomie van 'n omvormer (Botha, 2007), saamgestel oor my rektorskap. Ek het gevra dat hierdie bundel, buiten baie mense se kommentaar op my termyn, ook as 'n rekord moes dien van my standpuntinnames gedurende my termyn, en dit is toe so gedoen. Miskien om hierdie rede is daar groot druk deur die taalstryders op die samesteller en die destydse Raadsvoorsitter uitgeoefen om die publikasie van die boek te probeer verhoed. Dit is egter nietemin gepubliseer en is volledig op die internet beskikbaar. Hierdie afskeidsbundel dien dus vandag nog as agtergrond en begronding van standpunte wat ek hier net ligweg aanraak.

Daarna het 'n periode van bykans 10 jaar verloop waarin ek in 'n ander land besig was met ander dinge, en geen kontak gehad het met wat ook al by die US aan die gebeur was nie, taalsake of andersins. Aan die einde van 2016 het ek afgetree by Newcastle, en sedert 2017 is ek weer in Suid-Afrika woonagtig.

By my terugkeer blyk dit toe dat die taaldebat steeds voortduur, skynbaar feller as ooit. Die US, deur sy prokureurs, het my in daardie tyd gepols oor die moontlikheid om as getuie op te tree in 'n hofsaak wat deur die taalstryders aanhangig gemaak is teen 'n nuwe weergawe van die Universiteit se taalbeleid. Dit het vir my nie na 'n goeie idee gelyk nie en ek het die uitnodiging van die hand gewys, wat daardie kort interaksie toe beëindig het. Dit het egter die hele aangeleentheid wel weer onder my aandag gebring. Ek kon nie enige vooruitgang sien aan die kant van die taalstryders nie - eerder die teenoorgestelde. Blykbaar was hulle toe hard besig om 'n bedeling by die US te bepleit wat hulle self in my tyd as "die dood in die pot" bejeën het: parallelmediumonderrig. 'n Hoofberig in Rapport het gedurende daardie tyd verwys na die "Lord Milners van Stellenbosch"; metafore uit die tyd van die Boereoorlog was klaarblyklik dus nog steeds in omloop. Daar was wel 'n oorgang van die enkelvoud ("Dis Chris Brink se skuld") na die meervoud ("Dis die Lord Milners se skuld"), maar dis maar skrale vordering om vir tien jaar te wys.

Die taalstryders het hulle hofsaak verloor, eers in die Wes-Kaapse Hooggeregshof en daarna in die Konstitusionele Hof, en die 2016-beleid het toe vir vyfjaar gegeld. Aan die einde van 2021 het die Raad van die US 'n verdere hersiening van die taalbeleid aanvaar, en sedert 2022 word daardie jongste taalbeleid toegepas. Daarmee is dit nou finaal duidelik dat die Universiteit besluit het om nie 'n "Afrikaanse universiteit" te wees nie, en dat die beginsel van "geen mindere plaats" nie meer geld vir onderrig in Afrikaans aan die US nie. Hierdie uitkomste lyk onomkeerbaar, en daarmee is die stryd om die US in die rigting van hierdie twee beginsels te beweeg dus nou verby. Dit gee geleentheid vir nabetragting.

Ek herhaal dat my fokus in hierdie meningsartikel die taaldebat met betrekking tot die Universiteit Stellenbosch is, en spesifiek hoe dit in die openbare domein uitgespeel het. Daar is genoeg materiaal om 'n meer akademiese artikel te skryf oor meer akademiese insette in die breëre debat oor Afrikaans, maar dit is nie my doelwit hier nie. Sodanige akademiese insette kan in onder meer die Tydskrifvir Geesteswetenskappe gevind word, soos byvoorbeeld in uitgawes 54(4) van Desember 2014, 55(1) van Maart 2015 en 56(4-1) van Maart 2016.

 

Perspektief

Na my mening was die taalstryd op Stellenbosch, soos dit gevoer is, altyd eerder 'n stryd teen iets (die taalbeleid van die Universiteit) as 'n stryd om iets (die bevordering van Afrikaans). Die taalstryd was dus inherent negatief. Nie een enkele keer gedurende my rektoraat het daar 'n afvaardiging van taalstryders na die Universiteit gekom met 'n voorstel oor iets wat hulle tot stand wou bring ter wille van die bevordering van Afrikaans nie. Niemand het ooit kom sê: "Ons wil 'n ondersteuningsnetwerk vir behoeftige Afrikaanse studente stig", of "Ons wil 'n prys vir Afrikaanse letterkunde uitloof' of "Ons wil 'n Instituut vir Afrikaans stig", en "Ons wil hê die Universiteit moet daarmee help ooreenkomstig die vyfde punt van Visie 2012" nie. Die teenoorgestelde het eerder gebeur. Ek herinner my byvoorbeeld dat een van die leidende taalstryders, Hermann Giliomee, in een van sy talle Burger-artikels gewaarsku het dat mense nou enige oomblik te wagte kan wees dat die US 'n groot prys vir Afrikaanse letterkunde gaan uitloof. Die boodskap was duidelik: Mense moet hulle nie laat verlei deur sulke troospryse nie. (Vir die rekord: daar was in daardie stadium geen sodanige plan by die US nie. As Hermann Giliomee en sy mense egter met so 'n voorstel gekom het, sou ons dit sekerlik ernstig oorweeg het.) Op hierdie manier is deure van buite af toegesluit nog voordat iemand daaraan gedink het om dit van binne af oop te maak, en moontlik positiewe bydraes tot Afrikaans het dus agterweë gebly.

In soverre die taalstryd wel 'n stryd om iets was, was dit hoofsaaklik 'n stryd om 'n sekere soort universiteit, eerder as 'n stryd ter wille van Afrikaans. Om te herhaal: Die soort universiteit waarom geveg is, sou een wees wat in die eerste plek Afrikaans was en waarin akademiese besluitneming dus onderworpe sou wees aan die Afrikaansheid daarvan. (Ek het hierdie punt reeds gemaak in die afskeidsbundel [Botha, 2007].) In so 'n universiteit sou die "Afrikaanse gemeenskap", eerder as die akademici, die uiteindelike besluitnemingsreg uitoefen oor die karakter van die universiteit. Hierdeur het die taalstryders vir hulself 'n aantal strategiese probleme geskep, wat op die ou end onoorkomelik geblyk te wees het.

Die eerste en grootste probleem was dat die doelwit van die taalstryders ingedruis het teen die beginsel dat, binne die raamwerk van die landswette, besluite oor die universiteit alleen binne die universiteit geneem moet word. Wat ook al die verskilpunte binne 'n universiteit mag wees, oor watter onderwerp ook al, is daar een punt waaroor alle akademici altyd sal saamstem: dat hulle hul eie besluite sal neem, op die maniere waarmee akademici vertroud is.

Die tweede probleem het ek reeds hier bo genoem: dat 'n universiteit waarby besluitneming in "die Afrikaanse gemeenskap" sou setel, konseptueel te naby aan die gediskrediteerde volksuniversiteit-idee was. ("Ek gaan nie in 'n taalghetto werk nie", het een van ons beste Afrikaanssprekende professore eenkeer teenoor my opgemerk. In hierdie gees het die Senaat dan ook in 2006 'n voorstel van die Konvokasie dat vaardigheid in Afrikaans vir alle US-dosente verpligtend moes wees, met 'n oorweldigende meerderheid verwerp.)

Die derde en mees praktiese probleem vir die taalstryders was dat die organisasie waardeur hulle hul stryd gevoer het - die Konvokasie - nie 'n besluitnemingsliggaam van die Universiteit is nie. Die lede van die Konvokasie is hoofsaaklik die oudstudente van die Universiteit, en ten beste dien dit as 'n ondersteuningsnetwerk vir die Universiteit. Die Konvokasie het egter geen akademiese funksie nie, geen bestuursfunksie nie, en geen beheerfunksie nie. Enige besluite wat hy neem, is, ten beste, advies aan die Universiteit, maar hy het geen bindende bevoegdhede nie. As 'n drukgroep - laat staan nog as 'n aktivistiese liggaam - het hy dus min bedingingsmag binne die Universiteit. (Vir die rekord: Die Konvokasie het wel die bevoegdheid om enkele lede van die Universiteitsraad te verkies, en so ook vir 'n derde statutêre liggaam naas die Raad en die Senaat, naamlik die Institusionele Forum.)

Om vir twintig jaar so 'n stryd vol te hou moes 'n mens onwrikbaar glo aan 'n aantal onwaarskynlikhede. Jy moes byvoorbeeld glo dat die Universiteitsraad drie keer agter-eenvolgens, by verskillende geleenthede jare uitmekaar, onder drie verskillende voorsitters en met verskillende lede, daarin geslaag het om 'n Afrikaanssprekende rektor aan te stel wat óf dom, óf papbroekig, óf vyandig teenoor Afrikaans was. Jy moes verder ook glo dat drie sulke rektore op 'n ry daarin kon slaag om hulle wil af te dwing op 'n senaat bestaande uit 'n paar honderd intelligente en eiesinnige professore, en 'n raad van meer as twintig diverse lede. (Vir die rekord: Beide die Senaat en die Raad het in my tyd alle belangrike besluite per geslote stembrief geneem. Die stembriewe is daar en dan getel, en die uitslag in die vergadering bekendgemaak.) Meer algemeen nog moes jy glo dat die Universiteit op 'n outoriteitsmodel bedryf word waarvolgens die akademici deur die Rektor en sy bestuur beveel word wat om te doen - en hulle dit dan wel doen. So 'n bestuursmodel geld nie by enige universiteit waar ek al gewerk het nie, en ook nie by enige universiteit waar ek sou wou werk nie.

En dit was nie die enigste dinge wat 'n mens moes glo om die stryd vol te hou nie. Jy moes ook glo, in volgorde van dalende waarskynlikheid, (a) dat Afrikaans bedreig word; (b) dat jou diagnose van hierdie bedreiging presies die korrekte een is; (c) dat jy 'n mandaat het om 'n voorskrif teen hierdie bedreiging uit te reik; (d) dat jou voorskrif presies die korrekte een is; en (e) dat dit die Universiteit Stellenbosch se taak is om jou voorskrif uit te voer. Dit was veral op laasgenoemde punt dat die taalstryd skipbreuk gely het.

Na my mening was die taalstryd deurentyd nie op koue feite en harde logika gegrond soos wat so graag beweer is nie, maar op 'n aantal geloofsartikels. Ek het reeds een voorbeeld genoem, naamlik die geloof dat besluitneming oor taalsake aan die US eintlik by 'n sogenaamde "Afrikaanse gemeenskap" behoort te lê. Dit het geen nut om nou weer van voor af al die geloofsartikels van die taalstryd op te rakel en te bespreek nie. Te veel ink is al daarop verspil. Ek noem nietemin nog een verdere voorbeeld by wyse van illustrasie. Die obsessiewe aandag van die taalstryders aan die sake van die Universiteit Stellenbosch is naamlik gemotiveer op grond van die behoud van die "hoër funksies" van Afrikaans. En waarom was dit belangrik? Nie uit eiebelang of besitlikheid of behoud van identiteit nie, maar - so is geargumenteer - om die onbaatsugtige rede dat as Afrikaans nie sy "hoër funksies" kan behou nie, nege ander Suid-Afrikaanse amptelike tale nie sulke "hoër funksies" sal kan behaal nie. Laat ek dadelik sê dat ek self geen geloof in hierdie artikel het nie. Die idee dat Afrikaans as 'n soort leidende lig en mentor vir ander Suid-Afrikaanse tale sou kon dien, lyk vir my, in die lig van ons apartheidsgeskiedenis en die gepaardgaande wantroue onder baie van ons medeburgers, onrealisties en arrogant. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak nie. Die punt is dat hierdie standpunt 'n saak van opinie is, omdat dit handel oor wat sou kon gebeur eerder as oor wat die geval is. Dit is nie 'n gevolgtrekking nie, maar 'n aanname. As 'n mens dit wil glo, staan dit jou vry, maar ander mense deel nie noodwendig jou geloof nie. (Duidelikheidshalwe, en vir diegene wat belangstel in filosofie: Ek verwys hier na wat bekend staan as die "is-ought fallacy": As 'n mens begin by jou siening van hoe die wêreld is, kan jy geen logies geldige afleiding maak oor hoe die wêreld behoort te wees nie. Jy kan alleen maar 'n opinie uitspreek.)

Gaandeweg, in die periode ná Chris Brink se vertrek, moes dit darem tog duidelik geword het dat die Universiteit, onder watter leierskap ook al, net eenvoudig nie geneë is om die taalstryders se voorskrifte uit te voer nie. Meer nog, dat die taalstryd geen ander resultate oplewer as hitte en argwaan nie, en dat die stryders steeds veld verloor. Sover ek kan sien, was daar egter in geen stadium 'n herbesinning oor die basiese aannames - die geloofsartikels - waarop die taalstryd gebaseer is nie.

Meer prakties nog: Dit lyk ook asof daar nooit 'n behoorlike herbesinning was oor die strategie van die taalstryd nie. Om weer die voorbeeld van die "hoër funksies" te gebruik: As die taalstryders maar net die helfte soveel aandag aan kindertuinonderwys as aan hoër onderwys gegee het, dan sou Afrikaans dalk nou beter daaraan toe gewees het. Dit help nie om net op die top van die piramide te fokus as die basis aan die verkrummel is nie. Dit help nie dat die stryders praat oor Afrikaanse universiteite as hulle kleinkinders nie Afrikaans praat nie.

Sonder enige verandering in strategie het die taalstryd dus steeds voortgegaan om te fokus op die Universiteit - die hele Universiteit, en niks anders as die Universiteit nie. In vandag se terminologie sou mens seker kon sê die taalstryd was 'n poging tot universiteitskaping. Ek weet nie in watter mate die stryders die risiko van sodanige strategie besef het nie. As 'n mens 'n alles-of-niks-strategie volg, dan is die waarskynlikheid groter dat jy met niks gaan eindig nie as dat jy met alles gaan eindig. En dit is hoe dinge toe op die ou end uitgewerk het.

Dit is nie moeilik om te dink aan moontlikhede vir Afrikaans wat deur 'n slimmer strategie gerealiseer sou kon gewees het nie. Laat ek een voorbeeld noem (nie die enigste een nie): 'n Instituut vir die Bevordering van Afrikaans. Die US het in my tyd 'n aantal bykans onafhanklike institute help stig, soos byvoorbeeld die African Institute for Mathematical Sciences (AIMS) en die Stellenbosch Institute for Advanced Studies (STIAS). Al twee hierdie institute het hulle eie grond, eie geboue en eie personeel; al twee het onafhanklike beheer- en bestuursliggame, en al twee het sterk onafhanklike finansiële ondersteuning. 'n Instituut vir Afrikaans sou baie goed binne dieselfde model kon inpas, as die taalstryders hulle vir so iets beywer het. Dit sou ook 'n goeie navolging gewees het van oom Jannie Marais se voorbeeld om sy oortuiging te rugsteun met sy geld. (En terloops, dit sou ook ingepas het by die bewoording van Jannie Marais se testament, as hy praat van Afrikaans aan 'n toekomstige universiteit op Stellenbosch - of deel daarvan (my kursivering).)

Meer in die breë: Dit lyk nie of enigiemand ooit die moontlikheid van 'n onderhandelde skikking oorweeg het nie. Inteendeel, dit lyk of die taalstryders elke opeenvolgende terugslag begroet het met steeds meer vasberadenheid om steeds harder te veg vir die groot prys van 'n universiteitswye taalbeleid wat na hulle sin sou wees. Maar harder veg het nooit oorgegaan in slimmer veg nie.

Nou dat alles verby is, lyk dit asof daar vir die geharde taalstryders nog net een laaste wapen oorbly, naamlik die terugskouende mitologisering van hulle stryd. Die voortgesette belydenis van dieselfde geloofsartikels, die Boereoorlogmetafore, die uitdeel van skuld, die eensydige geskiedskrywing - dit alles duur sporadies voort. Ek het byvoorbeeld hier bo (en ook reeds in die afskeidsbundel van 2007) verwys na die mite van mag en gesag. Hierdie mite word nou weer opgegrawe in die idee dat die bestuur van die US (dit wil sê verskillende besture oor 20 jaar) "op eie houtjie" die taalbeleid verander het - sien byvoorbeeld Giliomee (2018). Of meer spesifiek, die samesweringsteorie - soos in Maree (2022) - dat daar eintlik 'n bose driemanskap was wat doelbewus die ondergang van Afrikaans georkestreer het: ek, die destydse Raadsvoorsitter Edwin Hertzog en die destydse voorsitter van die taalkomitee, Anton van Niekerk. (Vir die rekord: Die US het hierdie teorie bestempel as 'n verbeeldingsvlug [Viljoen 2022].)

As ons vir 'n oomblik mekaar se bonafides kan aanvaar (selfs net hipoteties, indien nodig), dan sou ons miskien kon ooreenkom dat die taalstryders deurgaans gehandel het volgens hulle oortuiging oor wat die beste vir Afrikaans sou wees, terwyl die Universiteitsleiers deurgaans gehandel het volgens hulle oortuiging oor wat die beste vir die Universiteit sou wees. En die twee paaie het uitmekaar geloop. Op die ou end is die saak egter beslis deur die eenvoudige feit dat die besluitnemingsbevoegdheid by die universiteitsgemeenskap gelê het, en nie by 'n "Afrikaanse gemeenskap" daarbuite nie. 'n Mens kan dink dat die Universiteit verkeerd besluit het, maar dit bly steeds sy reg om self te besluit.

Wat my betref: By nabetragting dink ek dat ek en vele ander Afrikaanssprekende mense ons te gou en te maklik laat beïnvloed het deur die oënskynlike eenvoud van 'n "Afrikaanse universiteit". Dit was onnodig, omdat daardie frase nie in enige van die destydse kerndokumente verskyn het nie, en dit was skadelik omdat dit die gesprek geswaai het van Afrikaans as een van die doelwitte van die Universiteit na die idee van Afrikaans as een allesoorheersende prioriteit.

Wat die taalstryders betref, bly daar op die ou end een onvermydelike, harde, oorkoepelende vraag wat mens moet stel: Wat het hulle nou eintlik bereik?

Om hieroor uit te wei: Het die veldtog van 20 jaar bekend as die taaldebat op Stellenbosch enigiets positiefs opgelewer? Het die taalstryders daardeur enigiets tot stand gebring? Buite die Stellenbosse dampkring het ander voorstanders van Afrikaans oor dieselfde tydperk baie dinge tot stand gebring: kunstefeeste, musiekfeeste, webwerwe, gespreksforums, uitgewerye, radiostasies, privaat onderwys en dies meer. Het die Stellenbosse taalstryders ná 20 jaar enigiets vergelykbaars om te wys?

Meer pertinent nog moet mens vra: Is Afrikaans nou een jota beter daaraan toe as wat dit sou gewees het sonder al die bakleiery oor die taalbeleid van die US?

Ek twyfel. En vir diegene wat dink dat die Stellenbosse taaldebat geen voordele vir Afrikaans gebring het nie, is daar dan noodwendig 'n volgende vraag: Het die taaldebat nie dalk op die ou end Afrikaans tot nadeel gestrek nie? Ek dink daar is gronde vir hierdie gevolgtrekking. Dink aan al die potensiële vriende van Afrikaans wat vervreem is deur die negatiwiteit van die taaldebat. Dink aan al die moontlikhede wat nooit ondersoek is nie. Dink aan al die geleenthede wat nooit geskep is nie, of doelbewus in die kiem gesmoor is. Dink aan al die tyd wat gemors is. Dink aan die geweldige hoeveelhede institusionele energie wat die taalstryd die Universiteit gekos het. Dink aan al die onkoste - geld wat baie meer positief sou kon aangewend gewees het. En dink aan al die onmin.

Die moeilikste ding vir enige enkelkwessie-aktivis om te verstaan is dat die saak wat vir hom of haar van soveel brandende belang is, nie noodwendig dieselfde sentrale plek in ander mense se lewens inneem nie. As iemand ook in 'n mens se saak belangstel, dan stel hulle nie noodwendig net injou saak belang nie. En enige aandag wat hulle aan jou saak gee, sal verweef wees met die aandag wat hulle ook aan ander sake gee. Hoe meer intens jou aktivisme dan raak, en hoe meer opdringerig jou standpuntinname, hoe meer vervreem jy daardie mense. Totdat selfs potensiële vriende later hulle skouers ophaal en wegstap, en die hele kwessie wat vir jou so belangrik is, begin ignoreer. Dan het jy die stryd verloor, nie omdat jy soveel vyande gehad het nie, maar omdat jy so min vriende bygekry het.

 

Bedanking

Ek bedank graag die Hoofredakteur van die Tydskrifvir Geesteswetenskappe vir die publikasie van hierdie meningsartikel, en vir haar insiggewende insette in 'n vroeëre weergawe. Ek bedank ook graag die argivaris van die Universiteit Stellenbosch wat 'n kopie van die oorspronklike weergawe van JH Marais se testament aan my beskikbaar gestel het.

 

BIBLIOGRAFIE

Botha, A. (Red.) 2007. Chris Brink: Anatomie van 'n omvormer. (Chris Brink: Anatomy of a transformer.) Stellenbosch: SUN Press. Die Afrikaanse weergawe is beskikbaar as 'n pdf-dokument by https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/101774, en die Engelse weergawe by https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/101778.         [ Links ]

Brink, C. 2006. No lesser place: The taaldebat at Stellenbosch. Stellenbosch: SUN Press.         [ Links ]

Brink, C. 2018. The soul of a university: Why excellence is not enough. Bristol University Press.         [ Links ]

Brink, C. 2020. Three theses on the social dimensions of higher education [invited address]. In: Noorda, S, Scott, P & Vukasovic, M. (Eds). Bologna Process beyond 2020: Fundamental values of the EHEA (Proceedings of a conference in Bologna, Italy, 24-25 June 2019). Bononia University Press, pp.6773. [Vir 'n video van die oorspronklike voordrag, sien https://www.youtube.com/watch?v=L1Mneb0N-1s .         [ Links ]]

Carstens, W. 2012. Die lewe van 'n taalaktivis. Maroelamedia 31 Januarie 2012. https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-lewe-van-n-taalaktivis/        [ Links ]

Giliomee, H. 2018. Donker wolk oor Matie-eeufees. Die Burger, 17 Februarie 2018:13.         [ Links ]

Maree, J. 2022. Hier is die drie Afrikaanse mans wat Stellenbosch verengels het. Rapport Weekliks, 20 Maart 2022:15.         [ Links ]

Scholtz, L & Scholtz, I. 2008. Die debat oor die posisie van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch: 'n Ontleding. Tydskrifvir Geesteswetenskappe 48(3):292-313.         [ Links ]

Van der Walt, C & Brink, C. 2005. Multilingual universities: A national and international overview. South African Journal of Higher Education, 19(4):822-851.         [ Links ]

Viljoen, M. 2022. US is vir Afrikaans, en ook vir verander. Rapport, 27 Maart 2022:10.         [ Links ]

 

 

 

Chris Brink was die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch van 2002 tot 2007, en Visekanselier van die Newcastle-universiteit in Engeland van 2007 tot einde 2016. Vroeër was hy Pro-visekanselier: Navorsing aan die Universiteit van Wollongong in Australië, en nog vroeër Hoof van die Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy ook gedien het as die eerste Koördineerder van Strategiese Beplanning. Nog vroeër was hy 'n Senior Navorsingsgenoot by die Instituut vir Gevorderde Studies van die Australian National University. Hy het 'n PhD in algebraïese logika aan die Cambridge-universiteit, en 'n interdissiplinêre DPhil aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) verwerf. Voor sy toetrede tot universiteitsbestuur het hy 'n A-evaluering van die Nasionale Navorsingstigting behaal vir sy werk in logika, wiskunde, filosofie en rekenaarwetenskap. Tans dien hy in die University Grants Committee in Hongkong, waar hy voorheen die sameroeper was van die universiteitsektor se 2020-navorsingsevaluering, en nou die voorsitter is van die Navorsingskomitee.
Chris Brink was the Rector and Vice-Chancellor of Stellenbosch University from 2002 till 2007, and Vice-Chancellor of Newcastle University in England from 2007 till the end of 2016. Before that he served as Pro-Vice-Chancellor (Research) at the University of Wollongong in Australia, and before that as Head of the Department of Mathematics and Applied Mathematics at the University of Cape Town, where he also served as the first Coordinator of Strategic Planning. Earlier he was a Senior Research Fellow at the Institute for Advanced Studies of the Australian National University. He holds a PhD in algebraic logic from Cambridge University, and an interdisciplinary DPhil from the former Rand Afrikaans University (now the University of Johannesburg). Before moving into university management, he held an A-rating of the National Research Foundation for his work in logic, mathematics, philosophy and computer science. He currently serves on the University Grants Committee in Hong Kong, where he initially served as convenor of the sector-wide 2020 Research Assessment Exercise, and currently serves as chair of the Research Group.
1 'n Vinnige aanlyn soektog na die woord "taalstryders" wys byvoorbeeld dat Arnoldus Pannevis, Gustav Preller, FV Engelenburg en Eugène Marais almal as taalstryders bestempel word. Ek is bewus daarvan dat meer onlangse gesprekvoerders ook ander benamings gebruik - sien byvoorbeeld Scholtz en Scholtz (2008) se gebruik van "A-opsioniste"; ook Carstens (2012) se verwerping van "taalstryder" en selfidentifisering as "taalaktivis".
2 Ds. Simon Adams van die Volkskerk van Afrika. Sien byvoorbeeld sy bydrae in Botha (2007:242).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons