SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número2NP van Wyk Louw: Opstelle vir 'n oorgangstyd ('n voorwoord)Creolisation and healing in van Wyk Louw's Nuwe verse (New poems) and Tristia índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.2 Pretoria jun. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n2a2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Apartheid: 'n Verkiesingsvaandel in Suid-Afrika in 1948. DF Malan en die Nasionale Party in histories-etiese perspektief

 

Apartheid: A slogan in the elections of 1948 in South Africa. DF Malan and the National Party in a historical-ethical perspective

 

 

PJ Strauss

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die idee van "apartheid" ontstaan moontlik reeds kort na die landing van Jan van Riebeeck en 90 Nederlanders op 6 April 1652 aan die Kaap. As werknemers van die Hollands-Oos-Indiese-Kompanjie met sy Politieke Raad distansieer hierdie Europeërs hulself van die mense van Afrika weens verskillende leefstyle en waardes.
In die verkiesing van slegs blankes in 1948, soos gebruiklik in die Unie van Suid-Afrika sedert 1910, aanvaar die Nasionale Party van DF Malan "apartheid" as 'n slagspreuk vir sy rassebeleid. Blanke kiesers word verseker van die ywer van die Party vir die bestaansveiligheid en politieke beheer van die witman omdat dit die situasie in Suid-Afrika sou stabiliseer. 'n Situasie waarin die sogenaamde nie-blankes of swart en gekleurdes opgevoed moes word tot die aanvaarding van Westerse waardes en waarin die ontwikkeling van eie, afsonderlike intstellings vir hulle moes volg.
Reeds met die formulering van die apartheidsbeleid in 1948 skemer twee probleme deur. Probleme wat uiteindelik sou lei tot die erkenning van die Nasionale Party in 1985 dat oorhoofse apartheid misluk het en wat voorts uitloop op die vestiging van 'n algemeen aanvaarde demokratiese Suid-Afrika in 1994. Die eerste probleem was dat "apartheid" 'n onderskeid tussen die blankes en ander mense op rassegronde gemaak en die begrip ras as 'n natuurlike verskynsel normatief vir die geestelik georiënteerde verhoudinge tussen mense aangewend is. Daarmee sou "apartheid" in die wêreldwye ná-koloniale tyd - veral ná 1945 en die Tweede Wereldoorlog - die etiket van rassisme op die lyf loop. Die tweede probleem was dat die beleid in 1948 nie duidelik was oor waartoe die ontwikkeling van die nie-blanke moes lei en of blanke beheer op 'n stadium opgehef sou moes word nie. Hulle rasherkoms was die oorsaak dat die gekleurdes in Suid-Afrika sekere basiese regte ontsê is: vir talle binne en buite Suid-Afrika 'n toonbeeld van skreiende diskriminasie.
Die uitvoering van sosiale én 'n oorhoofse geografiese apartheid het in 1994 wetlik in die slag gebly omdat dit algaande geblyk het om, gesien vanuit 'n twyfelagtige fundering téén ekonomiese dryfkragte in, onuitvoerbaar te wees. Strydig met hulle ekonomies-bepaalde bevolkingsvestigingspatrone, was 'n gedwonge, afsonderlike vestiging van mense nie haalbaar nie.

Trefwoorde: apartheid 'n wêreldwye bekende term; leefwyse vanaf 1652; kontak-ervaring tussen mense van verskillende waardes bring afstand; konsekwente apartheid in 1948; wit beheer vir stabiliteit; afsonderlike ontwikkeling nie uitvoerbaar; ekonomiese kragte verhoed afsonderlike ontwikkeling; apartheid geïsoleer; swart weerstand; rassisme


ABSTRACT

Although the slogan of apartheid which was widely used in the 1948 elections in South Africa can undoubtedly be ascribed to the Nationalist Party, apartheid as a way of life, had perhaps already been introduced with the arrival of Jan van Riebeeck and his 90 fellowmen, as representatives of the Dutch East Indian Company, at the Cape of Good Hope on the 6th of April 1652. As a result of a perceived difference in lifestyle and values in their encounters with people from the African continent at the Cape, distancing themselves from such non-European people soon became a way of life among the Europeans who had taken up permanent residence at the Cape.
In the elections for whites only in 1948 in South Africa, as had been customary since the establishment of the Union of South Africa in 1910, DF Malan and the National Party embraced the term apartheid as a convenient slogan with which to advocate their racial policy. They promised secure continuance of whites and white political domination in South Africa, which they regarded as critical to the political and economic stability of the country as a whole. A stability which would, in their view, provide a framework for the development of the so-called non-whites to accept and maintain as their way of life the standards of a Western society. In so doing the purpose of creating a society functioning according to Western principles would ensure the peaceful, yet separated, co-existence of people from different origins, i.e. European versus non-European. Naturally, in such a society steeped in Western principles, the civil rights of the Western orientated white population would be guaranteed as a matter of course. However, in the Nationalists 'perspective of justice based on Christian norms, the apartheid policy of1948, in its relegation of people into separate groups categorised as either European or non-European, would simultaneously be beneficial for the so-called non-whites in that they could thus be educated to a Westernised way of life from within their own culture, thereby still maintaining a different identity.
In the formulation of the National Party's apartheid policy of1948 two big problems may be discerned - problems which would ultimately result in the failure and official termination of this policy in the democratic elections held in South Africa in 1994. In the first place, apartheid differentiated between white and non-white, thereby discriminating against the non-white population. White people entertained full civil rights but non-whites were limited in this regard. Race, however, is not an accepted Christian norm for determining relationships between people and, if used in this way, it is widely called racism. Increasingly, the international resistance against and rejection of an immorally based apartheid policy intensified, eventually to be terminated with the introduction of a democratic South Africa in 1994. In the second place, the policy of apartheid in 1948 was vague about the aim of the so-called development envisagedfor non-white people. There was no clear goal for their political, social and economic development. The policy also gave no indication as to when the control by whites should or would be lifted. In the view of outsiders in 1948 it seemed as if white domination would never end.
It gradually became clear that it was impossible to use the outlines or big framework of apartheid as it had been conceptualised in 1948 as a means towards justice and societal development. Economic trends in South Africa undermined the overarching idea of apartheid, namely "separate but equal". Moreover, constructive critique on the practical implementation of total geographic apartheid offered by a congress of friendly reformed churches organised by the Dutch Reformed Church in 1950, as well as the report of the Tomlinson Commission with the same message in 1954, were rejected and ignored by the National Party. However, after repeated and widely publicised revolt against apartheid measures among the South African black population in the 1960's, 1970's and 1980's, occasions which prompted the apartheid government to resort to a state of emergency, the policy was rejected worldwide. This led to South Africa's increasing economic and political international isolation coercing the then South African government to abandon the idea ofapartheid as a means towards peaceful coexistence in 1985. Whilst it already became clear in the 1980's that apartheid was unsustainable, the policy was only officially terminated after the democratic elections held in 1994.

Keywords: Apartheid as a worldwide familiar term; way of life since 1652; distancing of peoples with different values; strict apartheid in 1948; white control and survival for stability; apartheid as a policy of "separate but equal" not feasible, economic trends prevented separate development; apartheid isolated; black resistance; racism


 

 

Inleiding

Meer as 'n kwarteeu (1994-2021) ná die afskaffing van hierdie politieke en sosiale beleid in Suid-Afrika is die woord "apartheid" wêreldwyd steeds 'n bekende Afrikaanse begrip. Die apartheidsbedeling in Suid-Afrika is van staatsweë amptelik en formeel beëindig met die eerste algemene verkiesing op 27 April 1994. Op hierdie dag kon stemgeregtigdes uit die totale burgerlike bevolking vir die eerste keer stem (Kleyn & Viljoen, 1999:242-243).

Strydig met die doel van die inisieerders van "apartheid" as die amptelike beleid in Suid-Afrika, het kritici die woord vertaal as "aparthate". Daarmee sou hulle uitdrukking gee aan 'n houding wat van apartheid-Suid-Afrika die muishond van die wêreld gemaak het. "Apartheid" was vir kritici sinoniem met blanke rassisme teen swart en gekleurd, gewettigde diskriminasie en 'n sonde teen die mensdom. In ekumeniese kringe het van die voorste gereformeerde kerke in die wêreld die ideologie van apartheid of, meer kerklik, die teologiese en morele regverdiging van apartheid, veroordeel as afgodery en dwaalleer. Die Algemene Vergadering van die Wereldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) het in Augustus 1982 in Ottawa 'n status confessionis teen apartheid afgekondig. Daarmee wou hulle sê dat hulle verset teen die teologies-morele regverdiging van apartheid op die sterkste vlak van kerklike weerstand lê: dié van belydenis.1 Hulle wou daarmee sê dat hulle woorde van verset teen hierdie regverdiging die status van 'n belydenis het omdat kerklike steun aan apartheid die gereformeerde belydenis in gedrang bring. Op 1 Oktober 1982 voer die NG Sendingkerk (NGSK) hierdie kerklike anti-apartheidslyn verder met 'n konsepbelydenis: die Belydenis van Belhar (vir nader inligting hieroor, sien Strauss, 2004:101,103-106).

Dirkie Smit, 'n dogmatikus in die NGSK en mede-opsteller van die Belhar-belydenis, verduidelik 'n status confessionis soos volg:

Streng gesproke beteken die uitdrukking status confessionis dat 'n groep Christene, 'n kerk of 'n groep kerke oordeel dat 'n situasie ontstaan het, 'n oomblik van waarheid aangebreek het, waarin niks minder nie as die evangelie self, hul mees basiese belydenis aangaande die Christelike evangelie, op die spel staan, sodat hulle verplig voel om daarteenoor te getuig en te handel. (Smit, 1984:22)

Hierdie wêreldwye politiek-sosiale én kerklike reaksie op die teologies-morele of, soos die Nasionale Party van 1948 wou, Christelike of Bybelsetiese fundering van apartheid, ontlok die vraag: Wat het DF Malan en sy Nasionale Party met die beleid van apartheid vir Suid-Afrika in die blanke verkiesing in die vooruitsig gestel? Hoe het hulle dit - tipies van die Nasionale Party van dié tyd - Christelik-eties probeer regverdig? 'n Proses waaraan die Ned. Geref. Kerk as die geloofstuiste van talle Afrikaners, sy morele steun sou gee. Hoe moet hierdie geskiedenis vanuit 'n teologies-etiese én kerkhistoriese hoek beoordeel word?2 Daar word vervolgens in hierdie artikel gekonsentreer op die betekenis van apartheid as 'n verkiesings-vaandel vir 1948 in Suid-Afrika, die konteks daarvan en 'n etiese vertolking van hierdie verstaan van apartheid.

 

Apartheid: Die vroeë aanloop ná 1652

Die landing van Jan van Riebeeck en sy 90 Nederlanders op 6 April 1652 aan die Kaap onder die wakende Tafelberg (De Villiers, 2012:41),3 bring hulle in kontak met die mense (rondtrekkende nomade sonder vaste gebiedsgrense) van die omgewing: die Khoi-Khoi of Khoekhoen.4 Van meet af is daar tussen die twee groepe handelsbetrekkinge, maar sosiaal-kulturele gemeenskaplikhede en gedeelde lewenswaardes ontbreek. In die eerste vergadering van Van Riebeeck se Politieke Raad op 8 April 1652 - 2 dae ná hulle landing - word reeds praktiese besluite oor die fisiese beveiliging van hulle klein nedersetting én hulle verhouding met die Khoekhoen geneem. 'n Gebrek aan gedeelde waardes en leefpatrone lei tot wrywing en misverstand. Daarom besluit Van Riebeeck en sy Westerlinge, wat met hulle groter ervaring in hierdie opsig die opset kon bepaal, op geografiese grense tussen die twee gemeenskappe: eers 'n heining van pale en later die Sout- en Liesbeekriviere (Lombard, 1981:20). Van Riebeeck se Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie (NOIK) reël met die Khoekoen om vars vleis aan die verversingspos te lewer wat dit aan verbygaande skepe - daar kom ongeveer 30 per jaar verby - voorsien, terwyl die Kompanjiesamptenare 'n effektiewe verversingspos moet bedryf (Lombard, 1981:20; De Villiers, 2012:41).

Die koms van hierdie Nederlanders na die Kaap in 1652 baan die weg vir die permanente vestiging van Wes-Europeërs aan die suidpunt van Afrika. Uit hierdie vestiging word 'n nuwe inheemse groep in Afrika, die Afrikaners, gebore. Afrikaners wat deur dié naam onderskei word van die Duitsers, Nederlanders, Engelse en ander Europeërs wat - in teenstelling met die permanente Afrikaners - tydelik aan die Kaap vertoef. Dat die groepsnaam "Afrikaner" reeds in 1707 gebruik is, blyk uit die verset van Hendrik Biebouw teen sy inhegtenisname deur die landdros van Stellenbosch op die Braak op 'n dag in Maart: "...ïk wil niet loopen, ik ben een Afrikaander..." (Giliomee, 2003:22-23). 'n Sensus toon dat daar teen 1806 reeds 26,720 blankes, 29,256 slawe en 17,657 Khoekhoen aan die Kaap was. Van die Afrikaners was 37% van Nederlandse, 36-37% van Duitse en 12% van Franse afkoms (Giliomee, 2003:51).5 Die Afrikaners van Nederlandse en Franse afkoms was merendeels gereformeerdes of Calviniste. Hulle is gesteun deur die Duitse Lutherane (Strauss, 2015:5). Uit hierdie integrasie sou die Afrikaners met 'n Christelike lewensbeskouing kom waardeur hulle hulle hele lewe wou rig: ook hulle verhoudinge met ander groepe op die subkontinent, insluitende, op 'n later stadium, hulle vertolking van die begrip "apartheid". Die Nasionale Party wat grootliks bestaan het uit Afrikaners, het "apartheid" as verkiesingsvaandel in die algemene verkiesing van 1948 ingespan (Malan, 1964:222).

Verdere uitbreidings en die invoer van slawe ná 1658, bring die Europeërs in die Wes-Kaap in kontak met meer gekleurdes waaronder swart stamme en volke uit Oos-Afrika. Die beweging van blanke Westerlinge uit die weste en swart Afrikane uit die noordooste maak hulle mettertyd bure met kontakpunte in Suider-Afrika: bure wat mekaar vanweë ekonomiese en handelsredes opsoek. 'n Ekonomiese afhanklikheid wat voortdurend tot nuwe vestigingspatrone lei én gekonsolideerde, vaste staatsgrense vir elke deel van die bevolking in 'n onontwikkelde gebied uitskakel: die Europeërs, die vrygestelde nageslag van slawe, die Khoekhoen, die Khoisan en ander gekleurdes wat hulle in hierdie ontwikkelende gemengde gemeenskap bevind. In die -sedert 1806 - Britse Kaapkolonie vind die vrystelling van slawe op 1 Desember 1834 plaas (gedokumenteerde opsomming van die vestiging te vinde in De Villiers, 2012:41-62).

Hierdie migrasie en die nomadiese aard van mense lei tot wat Smith die kontakervaring van Westerlinge met Afrikane in Suider-Afrika noem (Smith, 1980:41vv). 'n Herhalende ervaring wat spruit uit 'n treklus en handelsbehoeftes wedersyds en tot geykte indrukke van mekaar lei. Omdat dit nie om insidentele kontak van mense van uiteenlopende kulture gaan nie, maar 'n periodieke saamleef in arbeidsituasies vanuit verskillende lewenswaardes noodsaak, skep dit ook negatiewe persepsies van mekaar. Meer nog, dit skep by Westerlinge die persepsie dat die gang van hierdie ontmoeting in Afrika tussen mense uit die eerste en derde wêreld, vir die gladde en ordelike verloop daarvan, beheer moet word. Die noodsaak vir beheer spruit uit kommer dat hulle Westerse leefwyse en waardes deur 'n ongekontroleerde gelyke behandeling van almal in 'n gemengde gemeenskap in Afrika, in gedrang kom. Met verwysing na die andersheid van die Khoekhoen haal Smith uit Van Riebeeck se Daghregister van 1653 aan as sou die kommandeur hulle 'n "botte, plompe ende luije stinckende natie" genoem het. Kras is ook Willem Wylant, sieketrooster, geestelike leier en onderwyser vir die Khoekoen, se evaluasie van sy teikengroep. In 1655 rapporteer hy aan die klassis van Amsterdam (Gereformeerde Kerk in Nederland) onder wie die Nederlanders aan die Kaap kerklik ressorteer, dat "deze natie... dat lopen in het wilde zo gewend zijn... berooft van alle kennisse Gods leven ze als vee". As Westersgeoriënteerde inwoners van Afrika sou die permanente Afrikaners voortspruitend uit hierdie kontak 'n groter afstand teenoor gekleurdes handhaaf in hulle hoedanigheid as Europeërs wat tydelik aan die Kaap vertoef (Smith, 1981:41vv; Strauss, 1983:485-486). 'n Afstand en kontakervaring wat in die 20ste eeu ontwikkel tot "apartheid" as 'n vaandel in die 1948-verkiesing. Daarop word teruggekom.

Natuurlik kon hierdie kontakervaring en afstand om die redes wat genoem is, nie van 'n permanente aard wees nie. Alle mense - en alle Afrikane - is na die beeld van God geskape en moet deur Christengelowiges so behandel word dat hulle hierdie beeld eventueel verwesenlik én uitleef. Die respektering van hierdie beeld - of potensiële beeld - in mense vorm die kern van 'n Bybelse menswaardige hantering van die mens (Heyns, 1989:73).

 

Apartheid: Ontwikkeling tot 1948

Deur die jare sou Afrikaners hierdie afstand of apartwees van gekleurdes teen ekonomiese trekkragte in, bly handhaaf: ekonomiese dryfkragte wat tot gemengde bevolkingsvestigings-patrone sou lei. Hierdie tendens word weerspieël in geïntegreerde gebiede binne die Suid-Afrikaanse staatsgrense van 1910 met aparte huisvesting op plase en in dorpe, eie woonplekke of woongebiede en ander regeerstelsels of maniere van politieke beheer of verteenwoordiging vir swart en gekleurd as dié van blankes. Blanke beheer word in Westers erkende gebiede soos die Britse kolonies en Boerepublieke gehandhaaf. Soos vroeër aan die Kaap as 'n verversingspos, loop die onderskeid in kontak langs rasselyne: die blankes of Europeërs as een téénoor die "nie-blankes" as 'n "ander groep". Gedeeltelike afsonderlikheid te midde van ekonomiese integrasie word die leefwyse. Eienskappe geneem uit die kontakervaring vorm die geykte onderlinge indrukke van die betrokke rassegroepe.

Hierdie patroon word deur die regering van die Unie van Suid-Afrika ná 1910 voortgesit. Gekleurdes word deur wetgewing anders as blankes behandel. In 1913 poog die Unieregering om deur Wet 27, die Landwet, meer rigting aan segregasie tussen spesifiek wit en swart te gee. In 1936 loods premier JBM Hertzog vier wette deur die parlement. Hierin maak hy voorsiening vir die aparte politieke verteenwoordiging van swartes, 'n grondkwota vir swartes, 'n Naturelleraad en Raad vir Kleurlingregte. Die verkiesingsleuse van apartheid lei ná 1948 tot bepaalde veranderinge. Die Verteenwoordigende Raad vir Naturelle wat net adviserend kon optree, ontbind om hierdie rede op eie versoek reeds in 1946 én word deur die Nasionale Party van DF Malan deur die Wet op Bantoe-owerhede van 1951 geskrap (Strauss, 1983:1924). Die Nasionale Party met HF Verwoerd as Minister van Naturellesake sedert 1950, wou die klem lê op afsonderlike ontwikkeling in swart gebiede met swart regerings.

Teen hierdie historiese agtergrond kom die Nasionale Party van DF Malan in 1948 met hulle verkiesingskreet van "apartheid". Wat reeds uit ons relaas duidelik is, is dat die begrippe "afstand" en "apartwees", as part en deel van die patroon van die beheer van 'n ontmoeting van mense uit die eerste en derde wêreld deur Westerlinge, teen 1948 praktiese gestalte gee aan die verhoudingstandpunte van die deursnee Afrikaner.

Dit beteken nie dat DF Malan en sy geesgenote nie sou poog om 'n eties-morele begronding aan hierdie apartwees te gee nie. Die verloop van sake word 'n proses waarin die Ned. Geref. Kerk as die geloofstuiste van talle Afrikaners en Nasionaliste, deur middel van vergaderings sedert 1921 sy teologiese en morele steun aan hierdie praktyk gee. Behalwe dat die Sendingbeleid van sy Raad van Kerke in 1935 vra dat die "naturel" en "kleurling" gehelp moet word om tot selfversorgende, selfrespekterende Christenvolke met 'n kultuur apart van die blanke te ontwikkel, noem hy laasgenoemde die voog van die gekleurdes wat agter is in "kristelike beskawing" (NGK, 1935:95-99). Die Raad handhaaf die apartwees van eie volkskulture met blanke voogdyskap in 'n - volgens sy visie - ontwikkelende Christelike gemeenskap of beskawing. Vir die Ned. Geref. Kerk beteken kerstening nie net salige siele nie, maar ontwikkelde samelewings van 'n Christelik-Westerse aard. Christelik gestempelde samelewingstrukture waarvan die betrokke gemeenskappe die geestelike draers moet wees. Hiermee sluit die Sendingbeleid in beginsel aan by 'n stuk van die Ned. Geref. Sinodale Sendingkommissies van 1921. 'n Dokument wat beweer dat apartwees en die verset teen gelykstelling in Suid-Afrika nie op ras of velkleur berus nie, maar wel op verskille in kultuurontwikkeling en eie gemeenskapstrukture (NGK, 1921:11,13). Verskille wat deur ontwikkeling uitgeskakel kan word omdat apartheid 'n metode vir ontwikkeling en nie 'n beginsel is nie. Soos Boer en Brit wat as demokrate en gelykes in 1910 verenig in die Westerse Unie van Suid-Afrika (Strauss, 1989:428). In teenstelling met die houding van apartheid as net 'n metode, spreek die Sendingbeleid hom egter ook teen rasvermenging uit (NGK, 1935:98). Sy motivering vir apartwees is prinsipieel nie weldeurdag nie. Rasseverskille wat vanweë die onveranderlike aard daarvan permanent is, word hiermee 'n rede vir permanente apartheid en ras word aanvaar as 'n norm vir die klassifisering van mense. Iets wat ras as 'n natuurgegewe en nie 'n menslike kultuurding nie, nie kan wees nie. Netso bepaal die ras van iemand nie sy gehoorsaamheid aan God of vlak van Westerse ontwikkeling nie.

Die 1940's kondig 'n nuwe tendens op meerdere vergaderings van die Ned. Geref. Kerk aan: 'n Bybelse fundering van "apartheid" - soos hierdie leefwyse nou deur Afrikaners genoem word. Voor die verkiesing op 26 Mei 1948 aanvaar die Raad van Kerke in 1947 die Groenewald-verslag. Hierdie verslag sê dat die Bybel ryk is aan rigtinggewende uitsprake vir die "naas-bestaan" van volke soos in Genesis 11 (die Toring van Babel) en Handelinge 17:26. Volgens die Raad blyk dit dat die beginsel van "apartheid" tussen rasse en volke in die Bybel "voorhande" of 'n vaste beginsel is. God seën apartheid en 'n volk wat sy identiteit behou. Die Raad spreek die goedkeuring van die Here en die Ned. Geref. Kerk oor apartheid uit en regverdig daarmee die politieke beleid van Afrikaners en die Nasionale Party. In Westerse terme is die blanke vir die Raad van Kerke die meer ontwikkelde met 'n verantwoordelikheid teenoor die swarte as die minder ontwikkelde. Daarmee staan die wittes volgens die Raad aan God se kant (NGK, 1947:8,55; Lombard, 1981:79-80)!

Sterker én gunstiger kan 'n gereformeerde kerk hom kwalik uitspreek oor 'n saak...

Hiermee betree DF Malan en sy Nasionale Party wat die term "apartheid" in 1948 hul verkiesingsvaandel maak (Malan, 1964:230-231), 'n gunstige klimaat. Vrae wat ontstaan is: Wat is die historiese oorsprong van die term "apartheid" in hierdie verkiesing? Het die Nasionale Party hierdie beleid Christelik begrond, én: Watter politieke program sou hieruit voortvloei?

 

"Apartheid" aangegryp as 'n beleidsterm

In 1920-1935 word "apart" en "blanke voogdyskap" gebruiksterme in Afrikaanse politieke gesprekke (Koorts, 2014:385). Teen 1935 kom hierin 'n meer formele benadering.

In 1935 ontstaan die Suid-Afrikaanse Bond vir Rassestudie as 'n teenvoeter vir die liberale, volgens die destydse heersende terminologie onder Afrikaners, Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge van 1928. Die oorsprong van die Bond lê in die noorde van Suid-Afrika en die bestaan daarvan is kortstondig. Die voorsitter van die Bond wat diep spore in die uitvoering van die apartheidsbeleid sou trap, MC de Wet Nel, beweer dat sy Bond die term "apartheid" sedert 1935 gebruik om die politieke beleid van sy mense aan te dui. Hierdie term sou die tradisionele benadering van Afrikaners ten opsigte van die verhoudingsvraagstuk in Suid-Afrika tipeer. De Wet Nel word 'n Volksraadslid in 1943 en onder die Nasionale Regering van HF Verwoerd (1958-1966) Minister van Bantoe-administrasie en Ontwikkeling (Giliomee, 2003:483,519). Tussen 1943-1948 propageer hy "apartheid" as beleidsterm vir die Nasionale Party as die amptelike opposisie (Strauss, 1983:22-23; Koorts, 2014:385).

Dit wil voorkom asof "apartheid" as beleidsterm in die loop van 1943 in die binnekring van DF Malan en sy Nasionale Party gevestig raak. Op 26 Maart 1943 gebruik sy spreekbuis en koerant, Die Burger, die woord "apartheid" die eerste keer in 'n hoofartikel; en dit word herhaal op 9 September 1943. Hierin volg Die Burger vir DF Malan 'n paar dae nadat hy dit in 'n verklaring oor die provinsiale verkiesings gebruik het (Koorts, 2014: 386). Op 25 Januarie 1944 gebruik Malan die woord die eerste keer in die parlement (Adonis, 1982:144; Koorts, 2014: 387). Volgens hom moet Suid-Afrika 'n anti-kapitalistiese anti-kommunistiese republiek word en die wit ras met sy Christelike beskawing beveilig deur apartheid [klem bygevoeg], voogdyskap en die ontwikkeling van die gekleurdes volgens hulle eie aard en vermoë. Hy kies "apartheid" as term om weg te beweeg van die, syns insiens, negatiewe assosiasies wat aan die begrip "segregasie" kleef (Thom, 1980:275). Ná die "gehaspel" of getjommel oor die term "segregasie" - dit het naamlik die konnotasie van afhokking verkry - is die voorkeur vir die gekose term "natuurlik en vanselfsprekend". Apartheid is nié verdrukking nie. Die Nasionale Party verleen erkenning, aanvaarding en beskerming aan alle bevolkingsgroepe van betekenis.

Die woord "apartheid" het, sonder dat iemand dit spesiaal gemaak het, spontaan onder Nasionaliste ontstaan (Thom, 1980:348).

Begrippe soos wit ras, Christelike beskawing, apartheid, voogdyskap en ontwikkeling soos gebruik deur die Ned. Geref. Sendingbeleid van 1935, kom ook by DF Malan voor. Sy sorge oor die toekoms van die wit ras, oor blanke beheer met hulle groter beskawing en voogdyskap én oor ontwikkeling as 'n wasige, nie-omskrewe teiken vir swartes, val op. Swart ontwikkeling is nie 'n bedreiging vir die Nasionale Party nie, maar Malan motiveer die beleid op 'n twyfelagtige manier deur die veiligheid wat dit vir die witman sou inhou, as 'n groot oorweging te gebruik. Die verwyt wat later teen die voorstanders van apartheid gehoor is,6naamlik hulle selfgesentreerde vrese vir ondergang met die uitskakeling van apartheid, word openlik deur Malan verwoord. Die oorlewing van die witman word in dié perspektief verseker deur sy weerstand teen rasgemengde huwelike én sy reg om te regeer, te besluit en die koers te bepaal. 'n Posisie wat staande gehou word deur 'n allesoorheersende en lewensomvattende apartheid. Malan sê uitdruklik: apartheid is gemik op die veilige oorlewing van die witman en die handhawing van sy eie. Hierdie motief word ook die motivering vir die wit-geïnisieerde ontwikkeling van die gekleurde. Ná afloop van die Tweede Wereldoorlog in 1945, ten tyde van die vlaag van morele skuld by die voormalige koloniale Weste teenoor die Derde Wêreld, word 'n dergelike houding nie goed ontvang nie. Inteendeel, die Suid-Afrika van 1948 met Malan, die Nasionale Party en blanke voogdyskap en ywer vir 'n Westerse blanke ras wat ander regeer, staan lynreg teenoor die na-oorlogse Weste. Westerlinge probeer ontslae raak van die oorblyfsels van hulle koloniale verlede, maar die Westersgeoriënteerde Malaniete in Suid-Afrika propageer aparte ontwikkeling sonder enige verwysing na 'n ontvoogding van die gekleurde. DF Malan en sy Nasionale Party kies apartheid as 'n - vir hulle - populêre term, maar internasionaal waai winde van verandering teen hulle... (Strauss, 1983:62-63).

Vroeër, op 16 Desember 1938, praat DF Malan by die eeufees op Bloedrivier in Natal waar die emigrante Boere van Andries Pretorius en die Zoeloes van Dingane mekaar 'n eeu gelede die stryd aangesê het. Vir hom is die Voortrekkeroorwinning 'n beslissing "oor Suid-Afrika se toekoms". Die Christelike beskawing en die "voortbestaan en die verantwoordelike magsposisie van die blanke ras" is beveilig. Dus, 'n dekade voor 1948 kom woorde soos Christelike beskawing, die handhawing van die blanke ras en sy beherende posisie in Suid-Afrika nogeens uit die mond van die leier van die Nasionale Party (Pienaar, 1964:121).7 In die algemene verkiesing van 1943 verkies Malan die term "apartheid" bo "segregasie", wat hy as 'n agterhaalde, omstrede term beskou. Hy praat van die apartheid van woonbuurte. Met die provinsiale verkiesings in September van daardie jaar verwys hy na die regverdige en billike behandeling van blank en nie-blank, elk op sy eie terrein op "grondslag van apartheid" (aangehaal deur Koorts, 2014:385). Hierdie regverdigheid wat deur apartheid vir albei groepe moontlik gemaak word, is nie die mensgesentreerde gelykheid van alle indiwidue wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996, ten koste van Christelike lewenswaardes, verabsoluteer word nie (Kleyn & Viljoen, 1999:263). Die Grondwet van 1996 bevat 'n ideologiese vertekening en verabsolutering van die indiwidu wat die opweeg van verskillende Christelik-legitieme lewenswaardes teenoor mekaar in hofuitsprake verhoed (Strauss, 2010:3). DF Malan hét geglo dat alle mense gelyk is in God se oë, maar dat gelykheid voor God nie noodwendig gelykheid by die stembus beteken nie. Die betrokke stemgeregtigdes moet hulle eie demokrasie stabiliseer met 'n ontwikkelde, bestendige geestelike drakrag (Koorts, 2014:400).

In die verkiesing van 1943 lei die Nasionale Party se apartheidsklanke tot negatiewe reaksies by Kleurlinge. Daarop stel Malan 'n kommissie onder voorsitterskap van voorbanker Paul Sauer aan om die posisie van Kleurlinge in die Suid-Afrikaanse politiek te ondersoek. Die ondersoek duur van Mei 1944 tot Maart 1945 en lei tot voorstelle vir die toepassing van "apartheid" vir die bruin gemeenskap: 'n aparte kiesersrol met drie blanke verteenwoordigers in die Parlement en eie woonbuurte met 'n groot mate van selfbestuur (Koorts, 2014:388).

Vir DF Malan is blank en gekleurd nie gelyksoortig nie, maar andersoortig. Die Voortrekkers se Christelike geloof het hulle vermenging met gekleurdes verbied. Vanuit 'n Christelike sin vir regverdigheid het hulle as voogde egter die swartmense beskerm en aan hulle die geleentheid gegee om in hulle eie reservate te ontwikkel. Dat "apartheid" uitgebeeld word as sosiaal verdrukkend, wys Malan verontwaardig af. In hulle reservate kan hierdie mense hulle eie instellings ontwikkel. 'n Saak wat politieke instellings insluit. Soiets sou hulle verteenwoordiging in die Parlement onnodig maak (Koorts, 2014:390-391).

 

Apartheid as beleid kry momentum

Die formulering en nadere uitwerking van die Nasionale Party se apartheidsbeleid vir die verkiesing van 1948 sou teen die einde van 1946 momentum kry. Sauer word die voorsitter van 'n tweede kommissie, 'n kommissie wat vir die Party 'n "rassebeleid" moet opstel. Hierdie kommissie moet op die "grondslag van apartheid" 'n beleid uitwerk wat die verhouding tussen die wittes en ander groepe reël: die swart, bruin en Indiërgemeenskappe. Die kommissie moet konsentreer op politieke, nywerheids- en residensiële apartheid. Die beleid moet prakties wees: "positief en opbouend, sowel as negatief en onderskeidend". Koorts voer aan dat MC de Wet Nel uit die Noorde en professor GBA Gerdener uit die Suide beide op die kommissie betrek is om die strenger apartheidsgesinde Transvaalse partyleier JG Strydom uit die Noorde en die meer soepele partyleier, DF Malan uit die Suide, te verteenwoordig (Koorts, 2014:392). De Wet Nel is die voorsitter van die Bond vir Rassestudie wat daarop aanspraak maak dat hulle met "apartheid" as beleidsterm gekom het (Giliomee, 2003:483), terwyl Gerdener as 'n Stellenbosse teologiese professor in die 1940's 'n groot rol in die Ned. Geref. Kerk se besinning oor die verhoudingskwessie speel. In 1950 word hy voorsitter van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede of SABRA en inisieer hy die Kerklike Kongres oor die Naturelle-vraagstuk. 'n Kongres waarop die Afrikaanse gereformeerde kerke naamlik die Ned. Geref. Kerk en sy jonger kerke, sowel as die Gereformeerde en Hervormde Kerke verteenwoordig word en wat kies vir totale gebiedsapartheid met geen beperking op die ontwikkeling van wit en swart nie. 'n Kongres wat stem vir 'n beleid van afsonderlik, maar gelyk en deur Hanekom uitgesonder word vir sy klem op geregtigheid (Jonker, 1998:5; Hanekom, 1953:84). Gerdener voel destyds dat die term "apartheid" ' n statiese saak verwoord, terwyl 'n dinamiese totale apartheid nodig is (Giliomee, 2003: 484).8

Ten einde die besluite van die kongres aan die tweejaar oue Nasionale Regering oor te dra, benoem die Ned. Geref. Kerk se Federale Sendingraad 'n kommissie wat hierdie besluite aan DF Malan as eerste minister en EG Jansen as Minister van Naturellesake moet kommuni-keer. Op die kongres se opsie vir groot of totale territoriale apartheid antwoord Malan en Jansen dat dit nie prakties uitvoerbaar is nie (Giliomee, 2003:514). Vir die premier is totale gebiedskeiding met onafhanklike swart lande onbereikbaar vanweë die teenwerkende ekonomiese dryfkragte in die land, dryfkragte wat lynreg teen so 'n vestiging van die bevolking inwerk.9 Hierop swyg die Ned. Geref. Kerk en stap af van die saak. So verpas hy 'n moontlikheid of geleentheid vir 'n meer regverdigbare, kerklik verantwoorde "apartheid" (Strauss, 1983:57; Koorts, 2014: 413).

Die wiele van 'n oorhoofse afsonderlike ontwikkeling as 'n uitvloeisel van "apartheid" (soos geformuleer in 1948) met sy oogmerk van geregtigheid - ons kom by groter detail - sou hierna geleidelik, ná onder meer die onrus rondom Sharpville in 1960-1961, Soweto in 1976 en die noodtoestand van die 1980's, vasdraai. Daarby het HF Verwoerd se visie vir 1978 wat die omkeer van swartmense na hulle eie gebiede voorsien het, stil-stil verdwyn (Van Jaarsveld, 1982:587). Met die swanesang of einde van apartheid sou PW Botha (premier en staatspresident in 1978-1989) met die hervorming van apartheid te voorskyn kom sonder 'n oorhoofse plan. 'n Hervorming wat teen die einde van sy bewind in 1985-1989, vasgeloop het. In 1994 is apartheid formeel te ruste gelê (Grobler, 2007:176-177; Welsh, 2009:268). Vir PW Botha was DF Malan 'n mentor (Scholtz, 1988:6) by wie hy die idee van blanke beheer vir 'n stabiele en suksesvolle regering in Suid-Afrika geërf het (NP, 1982:21). 'n Regering onder wie beskaafde standaarde vir 'n Christelik verantwoorde hervorming én vir die ontwikkeling van gekleurdes, die geleentheid sou kry om op 'n ewolusionêre manier vorm aan te neem.10 'n Stabiele regering waarmee hy tyd kon koop vir die vestiging van hierdie standaarde en 'n laaste poging om die aangewese gebiede vir swartes te probeer ontwikkel (Giliomee, 2003:601,608). 'n Beheer wat hy nie wou prysgee nie, maar wat teen die einde van sy regering selfs by 'n groot deel van die blanke kiesers as agterhaal beskou is (De Villiers, 1984:23,86-89; Scholtz, 1988: 65; Welsh, 2009:257).

Ons keer terug na die Sauerkommissie van 1946. In die loop van 1947 was sy verslag gereed. Dit is aan DF Malan oorhandig wat dit in sy verkiesingsmanifes opgeneem het (Koorts, 2014:397).

 

"Apartheid" soos geformuleer in 1948

MPA Malan noem die Sauerverslag in 1964 steeds 'n deeglike stuk werk. 'n Stuk wat met 'n visie opgestel is (Malan, 1964:222). DF Malan as die leier en vernaamste woordvoerder van die Nasionale Party wat die verkiesing van 26 Mei 1948 in koalisie met die kleiner Afrikanerparty van NC Havenga aanpak (Giliomee, 2003:487), beweer vooraf dat rasse- en volkereverhoudinge alle ander vrae in hierdie verkiesing oorskadu. In sy verkiesingsmanifes waarin hy die Sauerverslag opgeneem het en wat hy 'n maand voor die verkiesing uitstuur, vra hy: Waarheen Suid-Afrika? Sal die blanke in die toekoms sy heersersposisie, suiwerheid en beskawing kan én wil handhaaf? Sal hy so maak sonder onderdrukking en met inagneming van die "nie-blankes se natuurlike reg op 'n behoorlike bestaan en... ontwikkeling ooreen-komstig hulle eie behoeftes en vatbaarheid?" (geneem uit 'n breër aanhaling in Koorts, 2014:397). Die opposisieleier wys dus op watter vlak hy en sy party die kwessie wil hanteer en dat hulle ernstig is met die Sauerverslag. Boonop bevestig hy die kern van sy beskouing van apartheid met punte waarvan hy reeds rekenskap gegee het: blanke beheer, blanke rassuiwerheid en die - Malan praat ook as 'n geesteskind van die Ned. Geref. Kerk - Christelike beskawing waarvan veral blanke Afrikaners in Suid-Afrika die draers is.11 Daarby glo hy in die reg op 'n onbelemmerde volkseie ontwikkeling vir swart en gekleurd sonder dat hy aandui waarop dit afstuur. Sonder dat hy sê of alle plafonne op ontwikkeling van gekleurdes deur die Nasionale Party weggeneem sal word. Immers, 'n ongekwalifiseerde ontwikkeling van almal kan blanke beheer in gedrang bring én blanke kiesers van die partyleier vervreem. Die partyleier vertolk partybeleid dus met argumente waarin sy eie oortuigings ook deurkom. Die party se standpunt weerspieël ook sy eie posisie in die saak: blanke beheer, 'n handhawing van sy eie en 'n aparte bestaan met 'n ontwikkeling van swart en gekleurd sonder om detail daaroor te gee. Die partystandpunt, en daarmee die Sauerverslag, bevat sleutelterme van die party se apartheidsbeleid sonder om vleis aan die raamwerk te gee.

Met die aankoms van Malan by die Uniegebou op 4 Junie 1948 om die pos van eerste minister te aanvaar, wys hy op drie persoonlike mikpunte in die Suid-Afrikaanse politiek. In 'n tydsvolgorde soos dit in sy eie lewe voorgekom het, is die derde een dat "Suid-Afrika vir die blanke ras. beveilig moet word". Volgens hom bevestig die verkiesingsuitslag van 26 Mei met 'n oorwinning vir die Nasionale Party sy oplossing: apartheid (Pienaar, 1964: 239240). In 'n radiorede daardie dag noem hy sy regeringsbeleid Nasionaal [klem in albei gevalle bygevoeg]. Dit is 'n inklusiewe woord wat "alle seksies van die Suid-Afrikaanse bevolking" se welvaart, geluk, onderlinge vriendskap en samewerking wil bevorder (Pienaar, 1964:241). Malan harmonieer nasionaal en apartheid.

Die Sauerverslag is 'n formulering van heersende gedagtes in die Nasionale Party oor apartheid. 'n Verslag wat die gedagtes van leiers soos DF Malan, JG Strydom, HF Verwoerd, MC de Wet Nel en ander in een dokument opneem (Koorts, 2014:392-393).

Artikel 1 van die Sauerverslag (vgl. Malan, 1964:222vv vir 'n woordelikse weergawe) probeer om in 'n lang openingsin (6 gedrukte reëls) die kern van die beleid te verwoord. "Die Party aanvaar as hoogste taak en roeping van die Staat" om die "blanke ras" met sy kultuurgoedere ter wille van die "welvaart van Suid-Afrika en die geluk en heil van sy bevolking, blank en nie-blank", te handhaaf, te beskerm en te bestendig. So 'n aksie bevoordeel die Christelike beskawing en vorm "die fundamenele grondslag" van die beleid. Die Nasionale Party onderneem om die "blanke ras behoorlik en doeltreffend te beskerm" teen enige beleid, lering of praktiese aanslag wat sy voortbestaan ondermyn of in gevaar stel. Hiermee poog die verslag om apartheid te laat voldoen aan die algemeengeldende eise van reg en geregtigheid. Geregtigheid vir almal soos hier verduidelik, is die uitvloeisel van 'n Christelik beskaafde aanpak in 'n veelrassige Suid-Afrika. Die party wil nie net die blanke beskerm en handhaaf nie, maar alle ander aparte nasionale gemeenskappe. As nasionale entiteite kan laasgenoemde in hulle eie gebiede tot hulle volle potensiaal ontwikkel. Elke groep kan 'n nuwe selfrespek, trots en agting vir mekaar ontwikkel. Hulle kan ook hulle eie maatskaplike dienste skep waar die krag van ontwikkelde "nie-blankes" vir volksopbou ingespan word (Malan, 1964: 222-223; Strauss, 1983:24-25).

Die getal ontstamde swartes in blanke gebiede sal gestabiliseer word deur instromings-beheer. Hulle moet in aparte gebiede woon en is nie permanente inwoners van blank Suid-Afrika nie. Hulle moet die band met hulle tuislande wat op "natuurlike" gronde berus, behou.12Hulle sal nie deel in die politieke en sosiale regte van die witman nie, sodat die "wit" gebiede hulle "wit" karakter kan handhaaf. Christelik-nasionale en moedertaalonderwys sal aan swart kinders gebied word. Plaaslike regerings en adviserende rade sal in swart gebiede ingestel word. Aan die sewe blanke senatore wat die swartes in die senaat verteenwoordig, sal beperkte stemreg gegee word. Die Kleurlinge kry 'n verteenwoordigende raad met drie blanke verteenwoordigers in die Kaapse Provinsiale Raad en Volksraad. Die Indiërs sal in oorleg met die Indiese Regering gerepatrieer word. In 1948 verloor die Indiërs hul stemreg en in 1956 word die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys verwyder. Beide groepe ontvang in 1960 verteenwoordigende adviesrade (Malan, 1964:223; Strauss, 1983:25).13

Daarmee is die "apartheid" van 1948 omskryf. Kort gesê kom dit neer op blanke beheer van gedeeltelik vermengde aparte gemeenskappe wat om ekonomiese redes fisies deel van die sogenaamde blank Suid-Afrika is, maar by wie gemeenskaplike waardes vir 'n verenigde staatsgemeenskap vanweë 'n gebrek aan Westerse ervaring, op sekere punte nog ontbreek het (vgl. die stelling van Heyns in voetnoot 9). Gemeenskappe wat weens 'n gebrek aan ekonomiese dryfVere en bevolkingsvestigingspatrone wat apartheid fisies moes stut, een staatsgemeenskap as die direk teenoorgestelde gevorm het. In die situasie rondom 1948 het die Sauerkommissie met 'n "apartheid" gekom wat nie in detail uitgewerk is nie, nie uitwys hoe eventuele gelykheid as 'n aanvaarbare interstaatlike model van geregtigheid met totale apartheid sal lyk én hoe apartheid sonder 'n rasgedrewe blanke masjien kan werk nie. Omdat die blankes voor en ná 1948 nie aan gekleurdes gelyke kanse gegee het nie én hierdie saak langs rasselyne verloop het, het kritici apartheid bestempel as blanke rassisme en onderdukking (Giliomee, 2003: 496).14 Oor dit wat as redes vir die Afrikaner se beleid van apartheid aangevoer is, kom historici soos Giliomee en Schutte egter tot die slotsom dat dit by Afrikaners nie gegaan het om die oorwinning van 'n hoër oor 'n laer ras, wat sou neerkom op rassisme nie, maar die koppeling van beskaafd, blank en Christen teenoor onbeskaafd, anderskleurig en heiden. 'n Koppeling wat reeds in die 18e eeu aan die Kaap voorgekom het (Strauss, 1983:27; Van der Watt, 1987:84). Giliomee gebruik 'n argument van DF Malan as hy uitwys dat Afrikanerintellektuele oortuig was dat die beveiliging van die Afrikaner en sy leefwyse en nie rasseverskille as sodanig nie, die groot dryfveer agter apartheid was. Die Afrikaner wou apartheid gebruik om sy eie behoud te verseker. Hy sou gewillig wees om dit te laat vaar as apartheid nie meer aan hierdie tipe versekering kon voldoen nie (Giliomee, 2003:497-498,500; vgl. opmerkings van De Klerk, 1975:114,116,199,206). 'n Argument wat in die jare 1990-1994 stilweg bevestig sou word.

"Apartheid-1948" as totale gebiedsapartheid was in 1948 in sy fisiese kern reeds moeilik uitvoerbaar en bestem tot mislukking (Giliomee, 2003:518). Tog sou die Nasionale Party tot in die 1980's met sy pogings volhard om sodanige beleid uit te voer. Nadat die hervorming van PW Botha misluk het, kon (wou) die Party die koms van 'n nuwe Suid-Afrika met 'n sogenaamde godsdiens-neutrale grondwet en die verabsolutering van die regte van die indiwidu, nie vermy nie (Kleyn & Viljoen, 1999:267-276; Giliomee, 2003:608, 614-615, 637-639, 656).

Nadat amptelike apartheid ná 1948 meer as veertig jaar geneem het om in 1994 'n staatsbepaalde dood te sterf, is hierdie geesteskind van geslagte Afrikaners sonder enige dramatiese slag of stoot - ook van staatsweë - gekis en begrawe. Sy vaandel het gesak en sy vaandeldraers stil geword.

 

Slot

Die uitstippeling van die beleid van apartheid deur die Nasionale Party van DF Malan in 1948, het in die formulering daarvan leemtes gelaat wat ná dekades tot sy ondergang gelei het. Die klem op die beveiliging van die blanke ras deur middel van 'n rasgedrewe apartheid en die leemte ten opsigte van die einddoel daarvan - die ekonomiese onmoontlikheid van totale gebiedsapartheid - sou onoorkomelike struikelblokke word. Totale apartheid het reeds met Malan en Jansen se verwerping van die besluit van die Kerklike Kongres oor die Naturelle-vraagstuk in 1950 en die Tomlinsonverslag in 1954 geblyk 'n hersenskim te wees. Daarna sou historiese gebeure en ekonomiese werklikhede hierdie proses verder striem en sou dit uiteindelik dan ook tot die dood van apartheid lei. Die laaste pogings om totale afsonderlike ontwikkeling deur te voer, is in 1985 onder PW Botha geloods. In 1994 word 'n nuwe Suid-Afrika gevorm met 'n indiwiduele menseregte-georiënteerde grondwet (finaal aanvaar in 1996 volgens Kleyn & Viljoen, 1999:244) as die teenoorgestelde van totale apartheid

DF Malan was oortuig daarvan dat sy apartheidsvaandel by die blanke verkiesing van 26 Mei 1948 'nja-stempel gekry het. Verwikkelinge tydens hierdie verkiesing en daarna bevestig hierdie waarneming. Wat in hierdie verkiesing in apartheid se guns getel het, was dat die kern daarvan om die leefwyse en toekomsvisie van die meerderheid Afrikaners gedraai het.15 'n Leefwyse wat sy wortels kort ná 1652 in die tyd van Jan van Riebeeck vind en wat daarna voortgesit is.

'n Argument is daarvoor uit te maak dat talle Afrikaners apartheid nie op rassisme gebaseer het nie, maar deur die handhawing van apartheid hulle eie veiligheid en leefwyse wou verseker. Hulle het en kon hulle egter nie van die rassekonnotasie daarvan losmaak nie. Apartheid het in 1994 'n staatsbegrafnis gekry sonder grootskaalse onrus en dramatiese veiligheidsprobleme. Apartheid-Suid-Afrika het in 1994 grootliks vreedsaam getransformeer tot 'n demokratiese Suid-Afrika.

 

BIBLIOGRAFIE

Adonis, JC. 1982. Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

Boesak, A. 1979. Die vinger van God. Johannesburg: Ravan.         [ Links ]

De Gruchy, JW. 1979. The church struggle in South Africa. Cape Town: David Philip.         [ Links ]

De Klerk, WA. 1975. The Puritans in Africa, a story of Afrikanerdom. London: Collings.         [ Links ]

De Villiers, J. 2012. Die Nederlandse era aan die Kaap. In F. Pretorius (redakteur), Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, pp. 39-62.         [ Links ]

De Villiers, D & J. 1984. P.W. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Biography of a people. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Heyns, JA. 1989. Teologiese etiek 2/2, Sosiale etiek. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel.         [ Links ]

Koorts, L. 2014. D.F. Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Kleyn, E & Viljoen, F. 1999. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta (tweede uitgawe, tweede druk).         [ Links ]

Lombard, RTJ. 1981. Die Nederduitse Gereformeerde Kerke en rassepolitiek. Met spesiale verwysing na die jare 1948-1961. Pretoria: N.G. Boekhandel Transvaal.         [ Links ]

Malan, DF. 1959. Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Malan, MPA. 1964. Die Nasionale Party van Suid-Afrika 1914-1964. Sy stryd en sy prestasies. Elsiesrivier: Nasionale Handelsdrukkery.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1921. The Dutch Reformed Church and the native problem. Sl, sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1935. Handelinge Raad van Kerke. Sl,sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1947. Handelinge Raad van Kerke. Sl,sn.         [ Links ]

Pienaar, SW. 1964. Glo in u volk. Dr. D.F. Malan as redenaar. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Scholtz, JJJ. 1988. Vegter en hervormer - grepe uit die toesprake van P.W. Botha. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Smith, NJ. 1980. Elkeen in sy eie taal. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal .         [ Links ]

Strauss, PJ. 1983. Die Ned Geref Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk. Universiteit Pretoria, ongepubliseerde D.D.-verhandeling.         [ Links ]

Strauss, PJ. 1989. 'Nie oor velkleur nie' - die Ned Geref Kerk se dokument van 1921. Ned Geref Teologiese Tydskrif, xxx/4:418-429.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2002. Die NG Kerk en sy ekumeniese bande. In Flip du Toit, Hoffie Hofmeyr, Piet Strauss & Johan van der Merwe, Moeisame pad na vernuwing, Bloemfontein: Barnabas, pp. 181-241.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2004, Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en 'n status confessionis. 'n Vegelyking tussen die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se hantering van die saak. Acta Theologica Supplementum 6:96-121.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

Strauss, PJ. 2016. Die naam 'Nederduitse Gereformeerde Kerk'. Acta Theologica, 36(1):213-228.         [ Links ]

Thom, HB. 1980. D.F. Malan. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Van Jaarsveld, FA. 1982. Van Van Riebeeck tot P.W. Botha. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Van der Watt, PB. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal .         [ Links ]

Welsh, D. 2009. The rise and fall of apartheid. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Williams, HH. 2006. J.A. Heyns en die Ned Geref Kerk en apartheid, Universiteit van die Vrystaat, ongepubliseerde D.Th-verhandeling.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-09-14
Goedgekeur: 2022-03-22
Gepubliseer: Junie 2022

 

 

 

Pieter Johannes Strauss word in 1988 'n dosent in Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat. Hy tree op 30 Junie 2015 af. Bene-wens ongeveer 150 artikels in geakkrediteerde akademiese tydskrifte, skryf Strauss ook akade-miese boeke. Hy spits hom toe op die gereformeerde kerkreg en kontemporêre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis. Dit blyk uit sy tydskrifartikels en boeke. Onder laasgenoemde is daar Kerk en Orde vandag (2010) waarin hy die bekende Solas van die Reformasie van die sestiende eeu deurwerk na vandag. Kerkwees in die branding - die Ned Geref Kerk in algemene sinodale verband 1994-2011 (2013) verteenwoordig 'n kontemporêre werk vanuit 'n reformatoriese benadering.
Strauss was vir twee termyne, van 1999-2003 en 2005-2008, voorsitter of moderator van die Vrystaatse Sinode van die Ned. Geref. Kerk. Hy beklee dieselfde posisie by die Algemene Sinode van 2007-2011. Hy is ook aktief op kultuurter-rein. Van 2001 tot 2013 was hy die hoofleier van die Afrikaanse jeugbeweging, die Voortrekkers en sedert 1910 is hy die voorsitter van die Kommissie van die Nasionale Vrouemonument.
Pieter Johannes Strauss was appointed as lecturer in Church History and Church Polity or Ecclesiology at his alma mater, the University of the Free State, in 1988. He retired the 30th of June 2015. Apart from some 150 articles in accredited academic journals, Strauss also authored a number of books. He focuses mainly on topics in the fields of Church Polity and modern or contemporary Church History, as can be seen in recently published works. In Church and order today (2010) he argues that the 3 Solas of the Reformation of the sixteenth century should also be implemented today. In Being church in troubled times - the Dutch Reformed Church in the bond of its general synod (1994-2011) he uses a reformational approach in contemporary church history.
Strauss was the chairman or moderator of the Free State Synod of the Dutch Reformed Church in 1999-2003 and 2005-2008. He served in the same capacity at the General Synod ofthis church in 2007-2011. In addition, he acted as the leader of the Afrikaans youth movement, the Voortrekkers, in 2001-2013, and became the chairman of the Commission of the Women's Memorial in 2010.
1 Vir die WBGK het sy status confessionis teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid ook beteken dat jy nie met hom daaroor kan verskil sonder om die integriteit van "our common confession of Reformed Churches" in gedrang te bring nie (Strauss, 2002:211).
2 Vir aspekte van 'n kerkhistoriese en, daaruit voortvloeiend, teologies-etiese aanpak van apartheid in Suid-Afrika is daar - soos aangedui in die bibliografie van hierdie artikel - die werke van Adonis (1982), De Gruchy (1979), De Klerk (1975), Heyns (1989), Lombard (1981), Smith (1980), Strauss (1983), (1989), (2004) en Williams (2006). Vir kennisname van relevante stof uit die algemene geskiedenis is daar byvoorbeeld Giliomee (2003), Van Jaarsveld (1982) en Welsh (2009).
3 Die Nederlandse stadjie Urk is aan die Ijsselmeer geleë en was, voor die ontwikkeling van dyke en die drooglê van land, 'n eiland wat met die see verbind was. Hier was 'n ou Hollandse herbergie wat oor die water uitkyk. Sy tipies Hollandse naam is steeds "Het wakend oog". Tafelberg staan nie hiervoor terug nie.
4 Van die Khoekhoenstamme was die Strandlopers, Kaapmans, Tabakdiewe, Cochoquas en, verder noord, Namaquas (De Villiers, 2012:42).
5 Giliomee toon aan dat verskillende outeurs verskillende metodes vir hierdie telling gebruik. Dit lei tot verskillende gevolgtrekkings. JA Heese praat van 36% Nederlands, 35% Duits, 5% Frans en 7% nie-Europees. In 1807 stel nog 'n berekening, volgens GFC de Bruyn, die syfers op 34% Nederlands, 29% Duits, 25% Frans en nie-Europees 5%. Dit neem nie weg dat die Afrikaners tot 'n groot mate van Nederlanders, Duitsers en Franse afstam nie en dat die Ned. Geref. Kerk met "Nederduitse" ("de lage landen van Duitsland") in sy naam 'n wye veld vir die herkoms van sy lidmate dek (Giliomee, 2003:51; Strauss, 2016:224-225).
6 Vgl. Boesak (1979:62) wat aanvoer dat Christus in sy versoening die "demoniese werklikhede" oopbreek wat die lewe van die "nie-Blankes" gevange hou naamlik blanke angs, vooroordeel, hoogmoed, magswellus en vergeldingsdrang.
7 Koorts (2014:385) kom tot die gevolgtrekking dat Malan die verhouding wit-swart deur die lense van paternalisme en voogdyskap beskou het. Vir Malan was dit positiewe begrippe wat hy met familiebande geassosieer het.
8 Albert Geyer, 'n redakteur van Die Burger en 'n voorsitter van SABRA in die 1950's, kies vir afsonderlike ontwikkeling omdat apartheid op 'n statiese selfbeskerming neerkom sonder versekering vir hierdie selfbeskerming (Koorts, 2014:108).
9 Verwoerd se verwerping van die Tomlinsonverslag van 3,755 bladsye in 1954 het hierdie voorstelle om aan die uitvoering van afsonderlike ontwikkeling gestalte te gee, na die vergetelheid verban (Van der Watt, 1987:95; Giliomee, 2003:516-517). In 1970 noem Tomlinson hierdie verwikkeling 'n verspeelde geleentheid. 'n Kans wat kon gelei het tot 'n geregverdigde praktiese apartheid (Giliomee, 2003:561). Giliomee bestempel die parlementêre ontvangs van die verslag van die Tomlinsonkommissie as die oomblik van waarheid vir die voorstanders van totale gebiedskeiding of die "apartheid's theorists". Teoretici wat hulle agter die besluite van die Ned. Geref. Kerk van 1950 kon skaar. Ten spyte van dit alles sou Tomlinson egter ook nie die skerp toename in swart geboortes as 'n faktor vir beleidsbeplanning antisipeer nie (Giliomee, 2003: 515). Die ontwikkeling van regverdige apartheid in afsonderlike, struktureel gelyke state het 'n akademiese hersenskim gebly wat Afrikanerakademici getroef gelaat het.
10 JA Heyns maak as teoloog van die Ned. Geref. Kerk aan die begin van die 1980's die opmerking dat daar 'n sekere ongelykheid onder die inwoners van Suid-Afrika voorkom. Nie in hulle menswees nie, maar in "Westerskulturele prestasie en geleenthede". Dit is 'n mite dat alle probleme in die land sal verdwyn as apartheid verdwyn (Williams, 2006:327).
11 In 'n kort slothoofstuk in sy outobiografie uit 1959 bespreek DF Malan sy slagspreuk wat hy die eerste keer in 1937 geopper het by Winburg waar Piet Retief as goewerneur van die Emigrante-Boere, later Voortrekkers genoem, in 1837 aangewys is: Glo in God! Glo in jou volk! Glo in jouself! Volgens Malan dui die aanvaarding van die Gelofte van 1838 deur die Voortrekkers voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 en daarna deur hulle nageslag, daarop dat die Afrikaner as "'n Christelike volk geken wil wees" (Malan, 1959:239).
12 Giliomee toon aan dat die Ned. Geref. hoogleraar in die Teologie, BB Keet, reeds in die 1950's daarop gewys het dat die proses van verwestering waaraan swartmense in Afrika blootgestel is, nie omkeerbaar is nie (Giliomee, 2003:485).
13 Vgl. Lombard (1981:122-135) vir 'n uitvoerige bespreking van apartheidswetgewing in Suid-Afrika ná 1948.
14 Giliomee (2003:496) voer aan dat die onafhanklikheid van Indië in 1947 'n draaipunt in die wêreldgeskiedenis was wat ná die Tweede Wêreldoorlog in 1945 van die Algemene Vergadering van die Verenigde Volke 'n platform gemaak het waarop nuwe onafhanklike lande uit die derde wêreld hulle argwaan oor eeue van Westerse dominasie kon lug.
15 Giliomee wys daarop dat daar in 1948 135,000 meer potensiële Afrikaners as potensiële Engelssprekendes aan die blanke verkiesing deelgeneem het (Giliomee, 2003:487).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons