SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1Vuur in sy vingers - die verreikende invloed van NP van Wyk Louw (2020) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a20 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

'n Huldiging: NP van Wyk Louw - silwer herberg in die sneeu (2020) - Ronél Johl (redakteur)

Uitgewer: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

ISBN: 978-0-949977-00-7

Teen die agtergrond van NP van Wyk Louw se skeppende en besinnende nalatenskap, vra Pieter Duvenhage by die aanskoue van Louw se eertydse huis in Kinrosweg, Johannesburg, die volgende:

Wat staan die jong Van Wyk Louws te doen wat nie reeds na Londen, Toronto, Melbourne en Auckland uitgewyk het nie? Hoe is die Afrikaanse lewe moontlik onder die dwingelandy van 'n magsentralistiese en rasgedrewe regime wat geen ruimte buite sy Engels-gedomineerde voorskrifte duld nie? Kan 'n jong Van Wyk Louw weer na vore tree in 'n land waar 'n openbare Afrikaanse universiteit toenemend ontsê word? (Duvenhage, 2020:352)

Duvenhage se kort opstel is die laaste van die 18 hoofstukke, opgeneem in 'n Huldiging: NP van Wyk Louw - silwer herberg in die sneeu (2020), en saamgestel deur Ronél Johl. Dié huldigingsbundel vorm deel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks oor Hertzogpryswenners, en is die sewende boek in die reeks. Ander publikasies wat voor dié publikasie verskyn het, sluit in huldigings oor Adam Small, PG du Plessis, Pieter Fourie, Breyten Breytenbach, Johann de Lange en Reza de Wet. Intussen het huldigings oor Elsa Joubert en Anna M Louw ná die NP van Wyk Louw-huldiging verskyn. Daar is tans (na my wete) twee huldigingsbundels in wording, naamlik dié van Antjie Krog en Marlene van Niekerk.

In hierdie resensie gebruik ek Duvenhage se gedagte ("wat die jong Van Wyk Louws vandag te doen staan?") as vertrekpunt. Alhoewel hierdie gedagte 'n hartsnaar roer, is dit egter die krake in sy formulering waaraan ek wil beitel. Die belangrikste teenhanger van Duvenhage se vraagstellings is te vind in Jeremy Vearey se Van Wyk Louw-gedenklesing, gelewer op 18 Junie 2020, getiteld "Kaantie wies NP van Wyk Louw?" (Vearey, 2020:343-349) (Vearey se essay is die enigste ander kort bydrae, wat naas Duvenhage s'n by die huldigingsbundel ingesluit is). Vearey lewer 'n pleidooi oor die marginalisering van Afrikaans, maar anders as Duvenhage, plaas hy die klem op die belang van Kaaps, wat oorskadu word deur Standaardafrikaans. Die aanhef van Vearey se lesing klink soos volg: "Ek is wys dat daa is dié van julle wat vedag hie sit wie se gatte nou kriewel oo hoekô ek by soe 'n laanie biesagheid in Kaaps skiet. En oek miskien wonne, kaantie wies djy, om hie te kô soek en vra, soese ou boer virre dompaslyn" (Vearey, 2020:342). Hierin is dit reeds voor die hand liggend dat Vearey op die sterk hiërargie van sentrumbelange van Standaardafrikaans teenoor die gemarginaliseerde Kaaps wys.

Vearey lewer sy relaas aan die hand van "gedagtes" ("[v]olgens Boeke NP is idees - of gedagtes soes ôs it in Kaaps noem - offit nou oo taal, ôs politiek, ôs veliede, ôs nou, of ôs toekoms gan, nie geboks in yste nie" (Vearey, 2020:344)) uit Louw se kritiese opstelle en is van mening dat Afrikaans vandag reeds ver gekom het sedert Louw se afsterwe in 1970: "Met skrywers soes Jolyn Phillips, Nathan Trantaal [sic], Ronelda Kamfer, Chase Rhys, Olivia Coetzee, Jitsvinger en annes soes hulle is daa daam nou oek spots virrie Kaapse tjend innie literatuurkraal" (Vearey, 2020:346). Vearey is krities rakende die bevoorregting van Standaardafrikaans ten koste van die ander landstale. Hy haal vir Louw aan rakende die gevaar van 'n ekstreme vorm van selfbelang en vooropstelling, 'n belangrike uitgangspunt, veral in jukstaposisie met Duvenhage se betoog:

Die chauvisnisme is die swart engel van die nasionalisme en bly bestendig naas hom 'n skaduwee. Wanneer 'n volk soos die Franse, die Duitsers, of jou eie mense, die Engelse, in die loop van eeue werklik 'n groot nasionale kultuur opgebou het - dan kom die bose engel na die domstes van so 'n volk en fluister vir hulle: "Julle kultuur is die hoogste, ja, die enigste werklike kultuur op aarde."

Issit ie daai selfde swat engel wat ôs nog vidag hoo deerie tanglippe vannie taaldjingo's as hulle praat van hulle tale se hoëordefunksies nie? Ampe asof ie res vannie land se tale agte hulle in daai lyn staan. Issit daai selfde swat engel wat kop uitstiek in kleinstamse kraalgedagtes oorie land en kultuur? Asof ôs ie een Syd-Afrika-nasie in ôs mixmasala kan wies ie. (Vearey, 2020:346-347)

Vearey maak ons attent daarop dat Standaardafrikaans daarvan moet kennis neem dat dit maar een taal tussen ander tale is, wat nie sigself blind moet hou vir wat tans in Afrikaans aan die gebeur is nie. Myns insiens kan Duvenhage se "jong Van Wyk Louws"-idee gekritiseer word as 'n Platonistiese Idee wat die spesifisiteit van wat tans in Afrikaans gebeur, ontken. Dié jong Van Wyk Louws het reeds opgestaan en is bruisend vitaal en sing Afrikaans soos dit nog nie vantevore gehoor is nie. 'n Jong Van Wyk Louw beywer sigself nie vir Standaardafrikaans nie, maar omhels die taalrevolusie (lees "Kaaps" én alle ander Afrikaans-variëteite) en verwerp 'n diskoers van uitsluiting en suiwerheid. In hierdie resensie wil ek dan veral fokus op drie bydraes, naamlik dié oor kreolisering en heling (Hein Viljoen), lojale verset (Benda Hofmeyr) en Afrikaanse dekolonisering (Louise du Toit), met die doel om die vraag te beantwoord hoe Afrikaans se "voortbestaan in geregtigheid" in teenstelling met "die blote voortbestaan" daar kan uitsien (vgl. Louw se opstel, "Krisis en kultuur", 1952).

Viljoen (2020:25-26) vra in sy bydrae, getiteld "Kreolisering en heling in Nuwe verse en Tristia van Van Wyk Louw" of mens Louw se werk "postkoloniaal" kan lees en of dit nie 'n "anachronisme" is nie en argumenteer dat die opvattings van die Karibiese skrywer, Édouard Glissant, moontlik so "'n alternatiewe, helende denkraamwerk" bied: "Kreolisering is die oneindige vermenging (métissage) van kulture, met onvoorsiene gevolge. Kreoolse tale is vir Glissant simbole van 'n nuwe soort relasionaliteit, omdat hulle altyd oop is en nooit vasgevang kan word nie" (Viljoen, 2020:27). Die eerste stap sal dan wees om te erken dat Afrikaans 'n kreoolse taal is, wat deur kulturele vermenging tot stand gekom het. Viljoen (2020:32) put onder andere uit Louw se essay "Laat ons nie roem nie" (1959) met die opmerking: "Al is die Weste allesbehalwe helder en mistifiseer hy Afrika, sien Louw wel die Afrika-karakter van Afrikaans raak en erken daardeur implisiet die vermengde aard daarvan (Brink, 2003 se 'sinkretisme')". Die gevolgtrekking wat hy maak is dat "Louw se praktyk [...] 'n beweging na 'n nuwe denkraamwerk ondersteun wat verby volk en nasie beweeg in 'n transnasionale ruimte waarbinne 'n veel sterkter wisselingwerking tussen kulture - veeltaligheid en 'n ontploffing van kulture in Glissant se taal - aan die orde van die dag is" (Viljoen, 2020: 49). Hierin kan weer eens beklemtoon word dat die soeke na 'n nuwe Van Wyk Louw 'n futiele oefening is, omdat die bruisende vitaliteit wat nóú daar is, blatant misgekyk word. Vearey (2020:348) wys hoe Van Wyk Louw tereg wys op die krag van die jeug:

Ôs hettie in 1976, 1980 en 1985 gelyste nie, toe brand hulle ôs oorhare soelat ôs bietere kan hoo. Ôs het uitie wakkeskrik na hulle innie #FeesMustFall-oolog gelyste, en is nou miskien halfpad wyser. En is oek bietere soe vi ôs-oueres in hulle toekoms. Wan soes Boeta NP sê: "Die jeug moet kans kry om meer lewe onder ons te bring ... Hy kan dit doen, want sy lewensvorm is dié van die lewe self." Hoe's daai virre toppie wat vyftag jaa geliede gesesvoet was? Soe, kaantie wies Boeta NP nou eintlik vi ôs vidag?

Insgelyks voer Hofmeyr (2020:52-53) in haar bydrae, getiteld "Lojale verset: Gedateerd of aktueel: NP van Wyk Louw in gesprek met Foucault" aan dat "Louw veel meer was as 'n denker wie se gedagtegoed gekluister is aan sy tyd". Sy maak gebruik van Louw se "lojale verset"-begrip as teenvoeter om Vice (2010) se stans ten opsigte van wit-wees in Suid-Afrika te wysig, naamlik "dat die enigste manier om wit te wees in hierdie sonderlinge land vandag is in nederigheid en verál in stilte" (Hofmeyr, 2020:53). Alhoewel ek groot waardering het vir Vice (2010) se gedagte, maak Hofmeyr gebruik van Louw se "lojale verset"-begrip dat dit die nodige parameters aandui om opnuut vanuit 'n introspektiewe blik hier te mag wees. Hofmeyr (2020:53-54) vra: "hoe word ons die mens wat die psige vereis ons moet wees, en hoe maak ons vrede met ons skadukant en onvolmaakthede?" Vervolgens plaas sy Louw se konsep van "lojale verset" in kritiese gesprek met Foucault se verstaan van die Batailleaanse "transgressie" (Hofmeyr, 2020:55), dit is "die illuminering van limiete, soos 'n weerligstraal in die nag sy heldere klaarheid te danke het aan die donker" (Hofmeyr, 2020:65). Dus nie die oorskryding van die limiete nie, maar die spanningsveld tussen die self en sy/haar begrensdhede (Hofmeyr, 2020:65). My verset byvoorbeeld teen die Idee van 'n jong Van Wyk Louw, kom vanuit 'n spesifieke lojaliteit rakende Afrikaans, wat gevoed word deur die jeug, maar misreken word deur blindheid van 'n soeke na 'n Afrikaans soos hy was tydens apartheid. Hofmeyr (2020:6667) haal Louw (1939) ten slotte in haar bydrae aan:

"Die gevaar vir die intellektueles vandag is nie dat hulle te ver van die volk af staan nie, maar dat hulle te veel binne in hom staan, deel van hom is, deurtrek van sy vooroordele, sy waardes, daarop ingestel is om sy guns te verwerwe". (1939:112)

Van dié drie bydraes (Viljoen, Hofmeyr en Du Toit), is dit Du Toit (2020:77) se vraag in haar artikel, "'Die pot kook oral': NP van Wyk Louw, Johannes Degenaar en Afrikaanse dekolonisering" oor die bestaansreg van Afrikaans wat nou weer "oper" staan as tydens die apartheidsjare, soortgelyk aan die tyd van en ná afloop van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902). Volgens Du Toit (2020:81) is dit Louw se pleidooi dat letterkunde in diens staan om die Afrikaner tot 'n volwaardige volk te omvorm, wat vergelyk kan word met Franz Fanon se argument "dat blote militêre bevryding nie genoeg is vir dekolonisasie nie - die voorheen gekoloniseerders moet 'n nuwe taal en 'n totaal nuwe mens(lik)heid tot stand bring". Haar voorstel is dat "wanneer Louw saam met die (ander) dekoloniale denkers gelees word, dit wat hy nasionalisme noem en wat Degenaar te benouend vind, ook in 'n ander lig kan verskyn, met die klem eerder op lokale selfstandige denke, op die ideaal om in die eie idioom en vanuit eie, plaaslike gesigspunt die ganse werklikheid te deurskou" (Du Toit, 2020:82). Dit is goed en wel dat Louw as 'n dekolonisasie-denker getipeer kan word, alhoewel dit vir die onthalwe van "wit-wees" vandag nie veel beteken nie; as witmens kan jy nie loskom van die onreg wat sistematiese apartheid aangerig het nie.

Die vraag waaroor gedebatteer kan word, is eerder wat Du Toit (2020:72) aanstip na aanleiding van Louw se essay "Kultuur en krisis" (1952). Hiervolgens dui Louw drie soorte "volks-krisisse" aan, naamlik: "(1) die enigste uiterlike bedreigings is dié van óf 'militêre oorrompeling' [...] óf 'toeploeg'-pogings om die 'volk' as onderskeibare groep te laat verdwyn; (2) die eerste interne bedreiging is wanneer 'n volk self as't ware besluit om te ontbind; (iii) die tweede interne bedreiging behels dat die volk blote voortbestaan sou verkies bó voortbestaan in geregtigheid" (Louw, 1986a:457; aangehaal in Du Toit, 2020:71). Beide Du Toit en Degenaar spreek hulle waardering ten opsigte van die tweede interne bedreiging uit, alhoewel Du Toit (2020:72) noem dat Louw nie uitspel of "'n volk sy bestaansreg kan verloor wanneer hy voor hierdie versoeking [...] swig nie, of andersins dat 'n volk kan besluit om 'vreedsaam te ontbind' in reaksie op presies só 'n etiese faling nie". Du Toit (2020:72) moedig gesprek hieroor ten seerste aan, want wit-wees in Afrika, gaan gepaard met historiese bevoordeling. Hofmeyr (2020:67) se voorstel "op die weg van voortdurende transgressie" gee 'n voorlopige antwoord daarop, waarin wit mense moontlik daarin kan slaag om "hoog te kan lewe" (vgl. Hofmeyr, 2020:67).

Buiten die uiteenlopende argumente wat hierdie drie hoofstukke bied oor die relevansie van Louw binne hedendaagse dekolonisasiedebatte, sluit die versameling ook menigte ander lesings in. Dit is wel nie my doel om al die hoofstukke van hierdie versameling een vir een te beskou nie. Ek lewer egter graag 'n voëlvlug van die uiteenlopende hoofstukke, wat op individuele vlak met mekaar in gesprek is. In Ronél Johl se inleiding, getiteld "Opstelle vir 'n oorgangstyd: NP van Wyk Louw vyftig jaar later" (i-xxii) poog sy om die bundel in die tyd van die Corona-virus te kontekstualiseer: "Watter bydrae 'n gesprek oor NP van Wyk Louw vyftig jaar ná sy dood in die konteks van die pandemie en die langtermynverhoudingsgevolge daarvan kan lewer"; sy vermeld dan ook dat meeste van die bydraes "voor die pandemie [geskryf is]" (Johl, 2020:i). Die pandemie het inderdaad vir 'n paradigmaskuif gesorg en dit sal die moeite loon om te vra tot watter mate Louw se besinnende en skeppende werk die toets van tyd deurstaan het.

Johl het dan ook bygedra tot die gesprek rondom Louw se belange vyftig jaar later deur enersyds te besin oor die nut van gedrukte skrywersbibliografieë in haar artikel, "Skrywersbibliografieë, grootdatanetwerke en die posisie van skrywers soos NP van Wyk Louw in die literêre kanon" (Johl, 2020:316-342), maar andersyds self die opstel van 'n geselekteerde bibliografie (Johl, 2020:353-426) aan te pak, wat nagenoeg vyf en sewentig bladsye beslaan. Die voorstel wat sy maak, dat dit prioriteit behoort te wees "om die bibliografieë as elektroniese datastelle beskikbaar te stel en om 'n digitaliseringsprojek van alle bronne te koppel" (Johl, 2020:xx) is voorwaar 'n wyse om Van Wyk Louw se nalatenskap en die diskoers rondom sy werk te bewaar vir die nageslag.

Die bydraes strek oor 'n wye aantal vakdissiplines heen, wat insluit biografiese geskiedskrywing (Jaap Steyn); 'n kritiese besinning van Steyn se Louw-biografie wat in 1998 verskyn het (HP van Coller); postkoloniale benaderings (Hein Viljoen) en dekoloniale lesings (Benda Hofmeyr en Louise du Toit) van Louw se werk; die regstudies, met 'n herwaardering van Louw se "geregtigheidsideaal" vir vandag (Derek van der Merwe); taalkundige lesings met 'n fokus op (onderskeidelik) die semantiek (Willem Botha), relativering in die poësie (Jac Conradie) en bewegingswerkwoorde in die poësie (Nerina Bosman); 'n ekokritiese lesing van Louw se diere en gestaltes (Johann Lodewyk Marais); getuienisgeskiedenis (Anastasia de Vries); teaterresepsiekunde (Marisa Keuris); klassieke genrestudies (Heilna du Plooy); die vergelykende literatuurwetenskap en die stipleestradisie (Helize van Vuuren); skrywersbibliografieë (Ronél Johl). Tesame met Johl se geselekteerde bibliografie (Johl, 2020:353-426), beklemtoon hierdie huldigingsbundel die magtige omvang en hoë statuur van Louw se werk, en relevansie daarvan, ook vir vandag. Ook is daar, soos by die ander huldigingsbundels in die reeks, 'n fotogalery van Louw se lewe en werk ingesluit. Die groot wins van die huldigingsbundel is die onthulling van die wyse waarop Louw se werk vandag in nuwe raamwerke gelees kan word (byvoorbeeld 'n ekologiese soeklens met 'n klem op dierestudies en dekolonisering met bewegings soos #FeesMustFall en #RhodesMustFall) en sodoende opnuut relevansie binne 'n veranderende wêreld verkry. Dit sluit ook aan by Johl se betoog oor die belang van die bundel, waarvan die hoofstukke meestal vóór die Covid-19-pandemie geproduseer is - vergelyk Johl (2020:ii):

Van die probleme wat [Hein] Viljoen1 noem, kan dalk deur die huidige krisis in 'n ander lig gestel word, maar die vrae wat dit binne die Afrikaanssprekende wêreld opwerp en die antwoorde wat daarop gegee sal word, hou ook gevolge vir die ná- of leef-met-virusse-soos-Covid-19-toekoms in: Hoe kan dié Afrikaanssprekendes wat kies om in dié land aan te bly en 'n bydrae te lewer, én hulle wat kies om hulle bydrae van 'n afstand te lewer, aan die heersende gevoel van kragteloosheid ontkom ; hoe praat ons as Afrikaanssprekendes vanuit 'n nie-magsbasis oor politieke rasse-, klas-, geslags- en gendergrense heen met mekaar en met dié wat oor die jare van Afrikaans vervreem is oor historiese probleme in ons soeke na antwoorde vir huidiges; en hoe verreken ons (of reken ons af met) die nalantenskap van die verlede in hierdie proses?

Hierdie vrae stel nie net belangrike uitdagings vir diegene wat hulle besig hou met die Afrikaanse kultuur- en geesteslewe nie, maar vir alle Afrikaanssprekendes in die stryd om oorlewing in die aangesig van Covid-19. Louw se werk bly vandag steeds relevant én rigtinggewend. Terselfdertyd is die huldigingsbundel 'n belangrike tydsdokument in die bestudering van Louw se lewe en werk, 50 jaar ná Louw se afsterwe.

Ek sluit af met 'n gedig van Joan Hambidge, waarvan 'n aantal terug- en naskrywings op Louw se digkuns in die huldigingsbundel opgeneem is (vgl. Hambidge, 2020:245-251). Hierdie spesifieke gedig suggereer die silwer herberg waarin die 18 gebundeldes voorlopig nog die meeue voer:

NP van Wyk Louw

06 Januarie 2014

Jy't weggegaan en jy bewoon

'n silwer herberg in die sneeu

jou vensters kyk nog elke nag

met drie blink oë na die plein

die plein is boom en wind en boom

en wind en wind

en wintermiddag voer daar iemand

die meeue krummels teen die wind

Alwyn Roux

Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, UNISA. E-pos: erouxap@unisa.ac.za

Februarie 2022

 

 

1 Johl verwys hier na Viljoen (2020:25-51) se bydrae, getiteld "Kreolisering en heling in Nuwe verse en Tristia van Van Wyk Louw".

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons