SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1There is no Supreme Constitution - a Critique of Statist-individualist Constitutionalism (2019)'n Huldiging: NP van Wyk Louw - silwer herberg in die sneeu (2020) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a19 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Titel: Vuur in sy vingers - die verreikende invloed van NP van Wyk Louw (2020)

Outeurs: Ampie Muller en Beverley Roos-Muller, bydraende redakteurs

NP van Wyk Louw was 'n buitengewoon begaafde en veelsydige mens. Hy is inderdaad iemand wat lank ná die einde van sy lewe nog 'n beduidende invloed uitoefen op sy familie, mense wat hy geken het en mense wat sy studente en kollegas was, maar ook op generasies van nuwe lesers van sy essays en veral sy poësie. Hierdie bundel, saamgestel deur Ampie Muller (wat met Louw se vroeggestorwe dogter Ria getroud was) en sy vrou Beverley Roos-Muller, bevat 'n reeks bydraes waarin Louw gehuldig word, korter en langer stukke wat gesamentlik 'n aanduiding gee van hoe Louw gesien is tydens sy lewe en ook nou vanuit 'n agterna perspektief. Hoewel die beeld van so 'n komplekse figuur soos NP van Wyk Louw nooit voldoende omskryf kan word nie, dien die verskillende bydraes afsonderlik en die bundel as geheel wel daartoe om, in Karel Schoeman se woorde, by te dra "tot die mosaïek van 'n geheelbeeld" (Muller & Roos-Muller, 2020:192).

Die aanleiding tot die boek is die vyftigste herdenking in 2020 van Louw se sterfjaar, 1970, maar dit is wel ook 'n tydige bestekopname vanuit 'n nie-akademiese hoek oor Louw se nalatenskap. Ampie Muller is op 5 September 2019 oorlede toe die boek al in beplanning was en die finale uitvoering en afronding is behartig deur Beverley Roos-Muller wat ook die voorwoord geskryf het. In die voorwoord word genoem dat, al was die noue verbintenis tussen Louw en Ampie die vertrekpunt van die boek, die oogmerk uiteindelik nie net was om 'n aantal herinneringe op te teken nie, maar om te probeer vasstel hoe wyd Louw se invloed strek. Vandaar die wye verskeidenheid van bydraers.

Die bundel is goed beplan en georden. Ná die voorwoord en erkennings word daar 'n lys van belangrike datums en gebeurtenisse in Louw se lewe gegee wat baie handig is, aangesien die leserspubliek van die boek waarskynlik gewone lesers is wat net weer die geheue sal wil verfris ten opsigte van die tydsverloop. Sulke datums vorm onontbeerlike merkers in die rekonstruksie van 'n lewe.

Die afdeling met die titel "Familievertellings" is boeiend met anekdotes van humoristiese maar ook ontroerende oomblikke in die familiekring. Ampie Muller se bydrae bevat naby inligting oor die Louws se Amsterdamse verblyf, onder meer oor die huwelikspanning tussen Van Wyk Louw en sy vrou Truida, Muller en Ria se huweliksbevestiging daar en sy weergawe van sy besoek by die Louw-familie op die aand voor Van Wyk Louw se afsterwe. Die afsterwe van Ria was vir Muller self en vir Van Wyk Louw traumaties en dan besef 'n mens opnuut weer hoeveel persoonlike belewenisse op 'n skrywer se oeuvre inwerk. Die stuk oor Louw se kinderdae, wat Roos-Muller in Engels skryf met die oog op Engelstalige belangstellendes, is eweneens baie insiggewend oor Louw se familie-agtergrond maar veral die inligting oor Sutherland se mense en breë gemeenskap, die skoollewe, Louw se eerste verliefdheid, die plaaslewe en klimaat van die omgewing skep 'n agtergrond waarteen Louw se gedigte gelees kan word. Hierdie stuk sowel as dié oor Louw se voorouers wat berus op navorsing deur Louw se kleindogter Anneke, is onderhoudend en meevoerend deur Beverley Roos-Muller geskryf. In elke stuk in hierdie afdeling kom daar ander eienskappe van Louw na vore: die stil gekuier van Louw en sy broer WEG Louw (in George Louw se stuk); sy onpretensieuse gedrag by sy deftige familie (in Koos Human se stuk); hoe sy persoonlikheid sy seun Peter lewenslank geboei het, hoe Peter insidente uit sy kleintyd onthou wat die harde kant van sy pa se andersins veelkantige persoonlikheid openbaar het, hoe hy onteenseglik weet dat sekere "idees", beginsels en opvattings van sy pa riglyne vir sy lewe geword het. Piet Muller skryf onder meer oor die debakel rondom Diepluimsaadwaai ver en die gevolge daarvan vir Louw in Afrikanerkringe, terwyl sy dogter Reinet haar pa se Wyse Woorde aanhaal en verduidelik, byvoorbeeld "Elkeen kry drie beurte om te sê hoe warm dit is" of "Gruwelstories is lekker stories". Hierdie afdeling gee insig in die binnekringe van Louw se lewe, hoe hy op persoonlike vlak openbare sake beleef het en dit met sy allernaastes gedeel het, die liefde tussen hom en sy kinders, sy brooshede en krapperige kante. Dít alleen maak hierdie boek al die moeite werd om te lees.

Die grootste afdeling in die boek is getitel "Ontmoetings met Van Wyk Louw" wat baie gepas is, want 'n hele aantal van hierdie stukke gee 'n enkele indruk van 'n ontmoeting met Louw of sy werk. Buiten dat dit waarskynlik gaan om die reikwydte van Louw se invloed, sou mens kon vra waarom bepaalde "ontmoetings" ingesluit is aangesien die mense werklik rakelings met Louw of sy werk te make gekry het, byvoorbeeld die baie kort stukkies van bekendes soos JM Coetzee (met twee Bookerpryse en 'n Nobelprys) of Marlene Dumas (wereldberoemd vir haar merkwaardige skilderye) en Mimi Coertse. Die eindproduk is egter wel interessant omdat selfs uit die rakelingse kennismakings 'n mens indirek heelwat te wete kom oor Louw se status en statuur in die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap, maar ook oor sy raakpunte met mense buite die literêre kring waarin hy hoofsaaklik beweeg het. Ek dink hier aan die stukke van Darryl David (oor literêre toerisme), Eduard Greyling (oor die dansdrama Raka), Hendrik Hofmeyr en Peter Klatzow (oor komposisies van Van Wyk Louw se verse), Robin Carlyle (vanuit 'n gans ander politieke hoek) en Wium van Zyl (oor die literêre reise wat hy en John Kannemeyer na Sutherland onderneem het). Sommige bydraers het hulle waardering in die vorm van 'n gedig of kunswerk self aangebied, Antjie Krog deur onder meer fragmente van Engelse vertalings saam met al die ander aanhalings uit Louw se werk aan te bied, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Diana Ferrus elkeen met 'n gedig en Piet Grobler met 'n tekening. Daar is bydraes van kollegas soos John Miles en 'n baie mooi en diepgevoelde stuk deur Ian Raper; daar is geskryf deur oudstudente soos Ingrid Winterbach, die Nederlander Hans Ester, Virginia van der Vliet en Leendert Dekker wat 'n wonderlike verhaal te vertel het oor 'n lesing van die beroemde Victor Erlich in Amsterdam waartydens Louw 'n vraag aan Erlich gestel het waarop Erlich geantwoord het dat dit iets is waaroor hy nie gedink het nie. Hy wou eers daaroor gaan besin voordat hy kan antwoord. Dan is daar ook interessante bydraes deur Persephone van der Ross wat tans die skoolhoof op Sutherland is, van Marius Weyers en Katinka Heyns wat met Louw se werk in die wêreld van die teater en TV te make gekry het, Karel Schoeman wat Louw as "die grootste figuur"beskryf en Koos Kombuis wat essayisties oor die betekenis van Raka bespiegel.

Twee bydraes wat in besonder uitstaan is dié van Jaap Steyn, skrywer van die omvattende biografie van Louw, en PG du Plessis wat as student en kollega en vriend 'n besondere band gehad het met Louw. Sowel Steyn as Du Plessis is intussen oorlede. Jaap Steyn skryf oor sy werk aan die biografie, hoe onwillig hy aanvanklik was omdat hy homself nie as opgewasse beskou het vir die taak nie (waarvan hy hom wel uitstekend gekwyt het), hoe hy met verskillende mense saamgewerk het, hoe openhartig Truida Louw met hom gepraat het, hoe Sheila Cussons geweier het om saam te werk. Onder meer noem hy ook kontroversiële sake soos Louw se gesindheid teenoor die Duitsers aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, maar ook sy ommekeer later, en Louw se steun vir Afrikaner-Nasionalisme. Eersgenoemde standpunt bring hy (op grond van latere dokumentasie wat hy onder oë gekry het) in verband met die aanvanklike steun vir die Duitsers in die besette lande in Europa op grond van bewondering vir die vitaliteit wat uit die Duitse kultuur gestraal het. Maar die ontnugtering was onvermydelik. Oor Louw en die Afrikaner-Nasionalisme betreur Steyn dit dat hy nie 'n meer omvattende selfstandige stuk daaroor geskryf het nie, omdat Louw se opvattings in soveel opsigte van die konvensionele sienings afgewyk het. Hy toon dan kortliks aan in watter opsigte Louw anders en meer selfstandig gedink het. Dit is wel boeiend om weer te sien hoe Louw vanuit verskillende perspektiewe gekritiseer is en beskuldig is dat hy sowel te regs sou wees as dat hy te links sou wees. Dat mense egter sy standpunte ernstig opgeneem het, dat sy diep nadenke oor sake noodwendig by mense reaksie ontlok het, is onontkenbaar.

Die bydrae van PG du Plessis was die laaste stuk wat hy geskryf voordat hy oorlede is en dit was vir hom 'n taak van die hart om eerlik te skryf en die taak goed af te handel omdat hy geweet het dit sal die laaste wees. Du Plessis skryf oor Louw se unieke manier van klasgee, oor sy lidmaatskap van die Afrikaner Broederbond en sy kritiese vrae aan die organisasie, oor die "herrie" rondom Die pluimsaad waai ver. Maar hy vertel ook van die laatnaggesprekke met Louw, sy, PG, se waagmoed om met Louw te redeneer oor gemoedelike lokale realisme en selfs oor die metriese en ritmiese patrone in Raka. Hy vertel ook hoe hy en Louw saam poësie gelees het, Eliot en ook Louw se eie werk, veral Tristia, momente wat Du Plessis sy lewelank sou koester en as 'n kleinood sou bewaar. Hy skryf oor Louw se geloofsbelewenis op 'n insiggewende en gebalanseerde manier, iets waarvan baie mense wegskram. Aan die einde van die stuk beskryf hy die vreemde ervaring wat hy gehad het tydens 'n besoek aan Antwerpen. Hy was in 'n rolprentteater en het skielik baie sleg begin voel, tot so 'n mate dat hy buitetoe moes gaan. Die volgende dag is hy in kennis gestel van Louw se afsterwe. Hy het besef dat hy so benoud gevoel het op dieselfde tyd wat Louw oorlede is. Die band tussen Louw en Du Plessis was iets uitsonderliks en daarom het Truida Louw ná Van Wyk Louw se dood vir Du Plessis die velletjies papier waarop Louw "Vier gebede by jaargetye in die Boland" met die hand vir Truida neergeskryf het, vir hom gegee met die woorde: "Ek gee dit vir jou, want jy was sy aangenome seun". Hierdie handgeskrewe dokumente was Du Plessis se kosbaarste besitting.

Die boek sluit af met 'n bydrae van Van Zyl Slabbert en 'n uittreksel uit sy NP van Wyk Louw gedenklesing in sy handskrif.

Ten slotte, ek het die lees van hierdie boek waardevol en geweldig insigryk gevind. Self 'n groot bewonderaar en liefhebber van Louw se werk, het ek oral rigtingwysers raakgelees wat ek glo 'n volgende lees van Louw se werk sal verhelder. 'n Bykomende saak is dat mens in die lees van die bydraes baie agterkom van die skrywers van die stukke, wat via hulle blik op Louw ook veel van hulleself te kenne gee. Sommige vermy kontensieuse aspekte van Louw se opvattings en dan besef 'n mens dat die verlede nooit ver is nie, dat mense die goeie herinneringe en voorbehoude met hulle saamdra. Maar dit het meer met die waarnemers en lesers van Louw te make as met Louw self, want NP van Wyk Louw staan na die lees van hierdie boek weer in sy stil krag as 'n indrukwekkende figuur voor mens.

Die boek is mooi uitgegee en netjies versorg deur Hemel & See en die redakteurs en uitgewers kan met vertroue hierdie boek aanbied vir liefhebbers van Louw se werk. Ek glo ook dat mense wat net sydelings geïnteresseerd is in Louw se werk as digter, essayis en dramaturg die historiese en kulturele agtergrond en die ontleding van die komplekse en begaafde persoonlikheid wat Louw was, sal geniet en boeiend sal vind.

Heilna du Plooy

Buitengewone professor, Eenheid vir Tale en Literatuur Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: Heilna.DuPlooy@nwu.ac.za

Februarie, 2022

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons