SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1This how the US Museum farms forwardThe poet and the kick of death índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a15 

TAALRUBRIEK

 

Wat is die WAT 'n wonderbare ding

What is the WHAT a wounderful thing

 

 

Ek is geen sosiolinguis of sosioloog nie, maar na my mening is taal een van die belangrikste draers van die kultuur van 'n sprekersgemeenskap. Terwyl ek in die Taalkommissie gedien het, het ons onder leiding van prof. Ernst Kotzé byvoorbeeld heelwat aandag gegee aan woorde uit die Afrikaanssprekende Moslemgemeenskap, en om nou in die sepie Suidooster te sien en te hoor hoe, waar en wanneer sulke woorde deur mense uit daardie gemeenskap gebruik word, gee vir my 'n besondere blik op hulle kultuur en leefwereld.

Ek sien dit ook in die tipies Britse humor, wat dikwels nie soseer situasioneel is nie, maar eerder op taal berus, byvoorbeeld op woordspelings en dubbelsinnighede.

As ek luister na die lirieke van wat deesdae as sogenaamde "Afrikaanse musiek" aan 'n mens opgedis word, dan blyk wat NP van Wyk Louw gemoedelike lokale realisme en die verheerliking van die platteland genoem het, alte duidelik. Wat 'n mens ook al van sulke dikwels sentimentele rymelary dink, is dit onteenseglik so dat dit iets van 'n verlange na 'n vergange landelikheid in die psige van 'n aansienlike gedeelte van die Afrikaanssprekende bevolking weerspieël.

Van hierdie rol van taal as kultuurdraer het ek opnuut bewus geword toe ek laat verlede jaar Deel XVI van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, die WAT, gekry het; dié deel behandel woorde wat met S begin, van SRP tot Szondi. S is 'n groot beginletter, en Deel XVI is die derde (en laaste) band van S. Dit bevat egter ook 'n addendum van meer as 60 driekolombladsye waarin allerlei woorde wat (om watter rede ook al) nie in vorige dele opgeneem is nie, aangebied word. Dit sluit talle woorde uit ons huidige tyd in - van AAHS ("aandagafleibaarheid-en-hiperaktiwiteitsindroom") deur hommeltuig, staatskaping, Covid-19 en grendeltyd tot by spien (= '"speen: Ook, i.d. geselstaal, spien. In 'n romantiese en (of) seksuele verhouding met iem. wees: Hoe lang speen julle twie dan?").

Hoewel Deel XVI sulke woorde in 'n addendum aanteken, is hulle almal in die aanlyn weergawe van die woordeboek, die e-WAT, op die korrekte alfabetiese plekke in die hoofteks opgeneem. Die WAT - hetsy in addenda of aanlyn - bevat nog tientalle ander woorde uit die huidige tydvak, soos meem of meme, lugbraaier, hidrobreking, kosblogger, hummus, geraasbesoedeling, geheuestokkie, gay, nurk ("kort snorkgeluide wat seekoeie maak"), fopnuus, e-tol, e-sigaret, bleeksiel, bokswyn, beeldpoetser en nog talle meer. Daar is ook woorde uit groeps- en streektale, wat bewys dat die WAT Afrikaans in sy wydste omvang opteken. Dit sluit woorde in soos gatta ("polisieman"), mang en mang, gemang (onderskeidelik "tronk" en "tronkstraf uitdien"), kwaailappies ("goed of onverbeterlik"), nool ('[geselstaal; neerhalend] iemand wat eenvoudig of simpel is"), bergie ("hawelose man of vrou wat op straat woon"), piemp ("klik, verklik") en so meer.

Daar is natuurlik ook talle woorde en uitdrukkings uit Afrikaans en Afrikaanssprekendes se verlede.

Uit die tyd van die Bosoorlog kom byvoorbeeld bosbef*k en bossies, min of meer wat in veral die Eerste Wereldoorlog "bomskok" genoem is, en enigeen wat in daardie tyd diensplig gedoen het, sal weet wat dié twee woorde beteken.

Daar is ook informele uitdrukkings, soos die Boeing is al oor, wat beteken dat die dag al ver genoeg gevorder het om 'n alkoholiese drankie te nuttig.

Uit die gryser verlede kom 'n uitdrukking soos sonder stang rondloop "ongetroud wees", wat duidelik kom uit 'n tyd toe rydiere algemeen gebruik is.

Heerlike outydse woorde, wat myns insiens weer gebruik kan word, dalk in nuwe toepassings, kom ook voor. Dink maar aan die Nederlandserige beunhaas en sy afleiding beunhasery. 'n Beunhaas is "iemand wat geen vakman is nie en hom tog daarvoor uitgee; knoeier". Dit lyk of die Zondo-kommissie heelparty beunhase en heelwat beunhasery blootlê, om nie te praat van 'n geboefte ("spul boewe, slegte, gemene mense, skurke, booswigte; lae gespuis, skorrie-morrie") nie.

Dalk onthou iemand nog uit die ou Vrystaatse volkslied die woorde "Rang in der Staten rij". Van statery sê die WAT dis 'n "groepering of gemeenskap van state of nasies wat mekaar se wette en gebruike erken en vriendskaplik is teenoor mekaar".

En wat kan meer beskrywend wees van een wat op 'n onbeskaamde wyse by iemand van die teenoorgestelde geslag aanlê, as om te sê dat hy/sy "sy/haar lyf aanbring"? My pa het graag so iemand "lyfaanbringerig" genoem. Die WAT noem so 'n lyfaanbringery so mooi ouderwets onder meer "liefdesport".

Terwyl lyfaanbringerig ter sprake is, is daar ook kallipigies. Die WAT definieer dit as "met mooi of welgeskape boude: Die kallipigiese Venus van Rome', maar hoekom kan ek nie sê die Porsche Cayman is 'n kallipigiese motor nie?

Dalk is daar lesers wat reken ek is ongegeneerd (uitspr. ongeveer "ongesjeneerd"): "Nie verfynd, hoflik, gesofistikeerd of goedgemanierd nie, en enigsins ongeïnhibeerd, of wat blyke daarvan, of van 'n gebrek aan goeie aanvoeling of opvoeding gee". Ek probeer egter nie aanstoot gee nie, maar enersyds aandui dat die WAT 'n kleinood is, 'n pêrel van groot waarde, wat Afrikaans en die Afrikaanse wêreld van toeka tot nou reflekteer; en andersyds wal gooi teen die verskynsel wat Elsa Joubert in Spertyd (Tafelberg 2017:19) beskryf het: "Omdat die jong kinders nie meer kan of wil spesifiseer as hulle praat of skryf nie; alles word gedek met een woord ...".

Die WAT wys Afrikaans het báie woorde; ons kán spesifiseer. Ons kan woorde uit die verlede laat herleef en ons kan na behoefte eietydse nuwe woorde skep, en die bewaarplek van dit alles is die WAT.

Sonder die WAT kan ek nie klaarkom nie.

JD (Tom) McLachlan

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons