SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1RedakteursnotaThis how the US Museum farms forward índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a13 

AKTUEEL

 

Die ontstaan, opbou en aftakeling van die Sasol Kunsmuseum van die Universiteit Stellenbosch

 

The inception, rise and fall of the Sasol Art Museum of the University of Stellenbosch

 

 

Jan Giliomee

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: jhg@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Sasol Kunsmuseum het in 1991 tot stand gekom om die kunsversameling van die Universiteit van Stellenbosch (US) te huisves en akademies te bevorder. Die werke reeds in besit van die US is aangevul met groot skenkings soos dié van Solomon Caesar Malan, J du P Scholtz en Maggie Laubser. Groot oorsigversamelings van oeuvres soos deur Christo Coetzee (150-stuks), Nel Erasmus (112), Johannes Meintjes (91), en Larry Scully (10) is bekom. Skenkings en erflatings is selfs ook van buitelandse versamelaars ontvang, soos van die Duitser. Peter Freund (uiteindelik ongeveer 100 drukgrafiese werke van belangrike Europese en ander kunstenaars van die vroeë twintigste eeu), en van 'n Nederlandse besoeker die nodige fondse vir die aankoop van 'n kopbeeld in brons deur Rodin.
Met die aanstelling van 'n nuwe Direkteur in 2013 het drastiese veranderings mettertyd begin plaasvind. Die name en beroepswerksaamhede van die instansies (Sasol Kunsmuseum en US Kunsgalery) as die belangrikste onderafdelings van die US Museum het letterlik verdwyn. Só ook die oorgrote meerderheid van bogenoemde kunswerke wat blykbaar meestal weggepak bly. Die fokus het verskuif van kunswaardering, -bevordering en -navorsing na 'n polities gemotiveerde transformasie, soos ook blyk uit die US Museum se aanstelling van 'n kurator vir sogenaamde Navorsing, Dialoog en Sosiale Geregtigheid.
Hierdie instelling behoort sy akademiese roeping ten opsigte van die uitstalling, uitbreiding, bewaring en ontsluiting van sy belangrike en eersterangse estetiese bronnemateriaal vir die hedendaagse kunsgeskiedskrywing in Suid-Afrika sonder twyfel te bly navolg.


ABSTRACT

The Sasol Art Museum of the University of Stellenbosch (US) was established in 1991 to house the art collection of the US. At the time the US was already in possession of art pieces from various sources through the years. This included art works donated by students, the Solomon Caesar Malan and Maggie Laubser collections, and the comprehensive collection of Prof. Jdu P Scholtz of South African, European and exotic works of art. During the time of Prof. Muller Ballot as the first Director of the Museum, the collection grew rapidly with outstanding works of art. A number of large collections were donated by prominent artists, e.g. Christo Coetzee (150 items), Nel Erasmus (112), Johannes Meintjes (91) and Larry Scully (10), while bequests of valuable paintings were received from a number of supporters of the museum. Funds were bequeathed by an overseas visitor to buy a sculpture in bronze by the French artist Auguste Rodin. A number of prominent collectors also made donations from their collections, including Peter Freund from Germany who donated about 100 graphic works of important European artists of the early 20th century.
With the appointment of a new Director in 2013, drastic changes started to take place. The name of the Sasol Art Museum as the prominent part of the US Museum disappeared and most of the acquired art works were moved to the storage room. The focus shifted from exhibiting artworks, art appreciation and art historical research to political transformation and social justice, as shown by the recent appointment of a Museum Curator: Research, Dialogue and Social Justice.
This institution should not forsake its academic calling and should continue to strive to promote the exhibition, expansion, conservation, and study of visual art works as an important and top-ranking source of aesthetic material for research in art history as a present day discipline.


 

 

Die Universiteit van Stellenbosch (US) was eens die trotse eienaar van 'n roemryke kunsmuseum, die Sasol Kunsmuseum, wat nie meer bestaan nie. Die doel van hierdie artikel is om die geskiedenis van die ontstaan, opbou en aftakeling van die instansie te dokumenteer en daarop kommentaar te lewer.

 

Ontstaan

Die Sasol Kunsmuseum van die US is in Oktober 1991 geopen. Dit moes as die vernaamste onderdeel funksioneer van 'n nuwe afdeling, die US Museum, wat die hele kultuurbesit van die US administreer en bevorder. Hierdie instansie het tot stand gekom deur die inisiatiewe van prof. Mike de Vries wat in 1979 rektor van die US geword het. Prof. De Vries was vroeër 'n dosent in Fisiese Chemie en alhoewel hy nie 'n besondere belangstelling in die visuele kunste gehad het nie was hy sekerlik bewus van die waardevolle kunswerke in die universiteit se besit.

Waarom dan 'n kunsmuseum by die US? Toe hy daaroor uitgevra is, het De Vries vertel dat toe hy as rektor aangestel is, hy 'n beurs ontvang het om van die mees vooraanstaande universiteite in die VSA te besoek. Daar het hy gesien dat die meeste van hulle 'n kunsmuseum gehad het en hy het besluit dat as die US in daardie kategorie wil wees, hy ook een moet hê. Toe die gebou van die ou Hoër Meisieskool Bloemhof beskikbaar geraak het, het hy die geleentheid aangegryp om aan die visuele kunste voorkeur te gee bo die ander aansprake wat daar op die gebou was.

Die volgende stap was om die fondse te vind om die skoolgebou as museum - maar in die besonder as kunsmuseum - in te rig. Die voorsitter van die Raad van die US op daardie stadium was mnr. DP (Dawid) de Villiers, voorheen besturende direkteur en later voorsitter van die direksie van Sasol. De Villiers het Sasol se direksie oorreed om die bedrag van R3.5 miljoen daarvoor beskikbaar te stel, en so is die naam toe amptelik gekoppel aan die nuwe kunsmuseum - sekerlik met die idee om vir altyd daar te bly as erkenning van hierdie maatskappy se groot en belangrike skenking aan die US.

 

Opbou

In daardie stadium was die werke van die klein maar waardevolle kunsversameling in die Universiteit se besit in talle van die geboue op die kampusse en elders gehuisves. So byvoorbeeld, het studente oor die jare kunswerke vir hul koshuise as afskeidsgeskenk aangekoop om in eetsale en gange te hang waar hulle nie veilig was en in die algemeen nie goed bekend gestel is nie. Met die daarstelling van 'n kunsmuseum is daar egter in dié en ander belangrike behoeftes voorsien, naamlik om van die waardevolste werke soos onder meer skilderye van Irma Stern en Maggie Laubser in 'n meer beskutte en doeltreffende ruimte uit te stal, museologies te bewaar en kunswetenskaplik te benut.

Solomon Caesar Malan

Een van die unieke en kosbaarste versamelings van skilderye wat toe reeds in die US se besit was maar nog nie voorheen doeltreffend as 'n eenheid vertoon is nie, is dié deur Solomon Caesar Malan. Malan was 'n jong Britse akademikus wat in die winter van 1839 vier maande aan die Kaap deurgebring het voordat hy na Calcutta, Indië, teruggekeer het as dosent in die Klassieke. Hy was ook 'n amateur kunstenaar en het in die tyd sowat 90 unieke waterverfskil-derye en sketse met pen en potlood van tonele in en om die Kaap gemaak, baie net soos 'n toeris vandag sou foto's neem van besienswaardighede in 'n vreemde land. Een besondere mooi werk toon die klein Kaapse nedersetting aan die voet van Tafelberg. Dr. Avril Malan, 'n oudstudent van die US, het sy naamgenoot se versameling van 175 Kaapse en Indiese tonele in die buiteland opgespoor, aangekoop en na Suid-Afrika gebring. In 1968 het hy dit aan die US geskenk vir bewaring en met die totstandkoming van die Sasol Kunsmuseum in 1991 is daar 'n afsonderlike lokaal net vir dié waardevolle versameling se wisselende uitstallings ingeruim. In Booyens (1971) verskyn Malan se lewensverhaal, 'n evaluasie van Malan as kunstenaar deur Otto Schröder, afbeeldings van 25 akwarelle asook enkele tekeninge.

Dan was daar ook die groot en waardevolle versameling van Maggie Laubser se werk wat reeds sedert 1973 in die US se besit was. Laubser, ongetwyfeld die grootste Afrikaanssprekende vroueskilder, was altyd 'n goeie vriend van die US. Sy het trouens haar eerste eenpersoonsuitstalling op uitnodiging in die Ou Hoofgebou van die US gehou. 'n Vorige rektor, prof. HB Thom, was goed bevriend met haar en toe hy agterkom dat sy finansieel swaarkry, het hy gereël dat die US haar maandelikse munisipale rekeninge betaal sodat sy rustig met haar werk kan voortgaan (Thom, 1975). Die gevolg was dat sy besluit het om haar huis en alle kunswerke wat nog daarin was, aan die US te bemaak. Ná haar dood in 1973 is ongeveer 'n honderd skilderye tussen strooi in haar garage ontdek. Die US het hulle almal deur twee spesialiste in kunsrestourasie (mnre. Henri Wirth en Edgar Bosman) laat herstel. Dit is tans steeds die grootste enkele versameling van Laubser se kunswerke onder een dak. Volgens Muller Ballot (2015), in sy omvattende boek oor Maggie Laubser, is daar 149 skilderye van hierdie kunstenaar in die US se versameling. Een daarvan is 'n vroeër weergawe van die ikoniese Skaapwagter by Langebaan wat onlangs sowat R1.6 miljoen by 'n veiling van Strauss & Co. behaal het. In 'n stadium was die plan om 'n spesiale gebou vir die vertoning van hierdie versameling in te rig, maar met die totstandkoming van die Sasol Kunsmuseum is hierdie gedagte laat vaar en is 'n groot deel daarvan deurentyd in die museum self uitgestal.

J du P (Canis) Scholtz

Pas nadat hy op 'n kunsmuseum vir die US besluit het, het prof. De Vries gehoor dat die bej aarde prof. J du P (Canis) Scholtz 'n tuiste soek vir sy omvattende private kunsversameling. Met "Ons het net die plek daarvoor!" het hy dit aan Scholtz gestel en hom oorreed om sy kunswerke aan die US te bemaak. Scholtz het ingestem, maar in sy testament bepaal dat die hele versameling te alle tye uitgestal moet word. De Vries het die skrywer gevra om Scholtz te help om die versameling te dokumenteer en hy moes laasgenoemde ook daarop wys dat dit eintlik onmoontlik sal wees om aan hierdie bepaling te voldoen. Scholtz is gevra om dit te skrap, maar hy het besluit om dit só te behou "omdat niemand tog sou kla as dit nie gebeur nie".

Toe prof. Scholtz in 1988 sterf, is die reusagtige versameling van Suid-Afrikaanse, Europese en sogenaamde "eksotiese kuns" (soos maskers van hout uit Noord- en Wes-Afrika en 'n bronsbeeldjie uit Iran wat dateer uit die sesde eeu) in die US se kunsbesit opgeneem. In 1996 is dit aangevul met werke wat toe nog in sy vrou se besit was.

Die Suid-Afrikaanse deel van sy versameling bestaan uit 58 olieverfskilderye, 13 akwarelle, 20 tekeninge, 13 litografieë, 22 etse, vyf linosneë, drie monotipes, drie sifdrukke, twee houtdrukke en 14 beeldhouwerke. Die Europese deel bestaan uit 119 kunswerke en die eksotiese gedeelte uit 28. Ten einde reg te laat geskied aan die versameling en prof. Scholtz se wense, het prof. Muller Ballot, die eerste Direkteur van die US Museum, altyd die grootste saal van die onderste vloer van die Kunsmuseum vir werke uit die Scholtz-versameling gereserveer. Dis deur sy opvolger, dr. Lydia de Waal (2001-2012), só behou.

Auguste Rodin - kop in brons

Tydens prof. Ballot se termyn (1991-2000) het daar ook eendag 'n Nederlandse besoeker opgedaag om die US se kunsversameling te besigtig. Hy was baie beïndruk daarmee maar was van mening dat die Kunsmuseum 'n uitstaande laat-negentiende-eeuse beeldhouwerk as fokuspunt nodig het om só ook 'n leemte in die kunshistoriese gehalte van die versameling te help vul. Wat meer is, hy het met sy oorlye 'n paar jaar later 'n groot som geld aan die US Museum nagelaat om juis só 'n werk aan te skaf. Dit het prof. Ballot in staat gestel om Europa te besoek waar hy afgekom het op 'n reusebeeld van 'n manlike kop in brons, deur die beroemde Franse beeldhouer, Auguste Rodin (1840-1917). Dit is vroeër as 'n voorstudie gebruik vir een van die figure van Rodin se beroemdste beeldhouwerke, Die Burgers van Calais. Die kop is vervolgens na Suid-Afrika verskeep en is van toe af in die Kunsmuseum op 'n prominente plek, byvoorbeeld regoor die hoofingang, geplaas.

Oorsigversamelings

Prof. Ballot het gedurende sy termyn van byna 10 jaar daarvoor gesorg dat die US se kunsversameling met 'n aansienlike aantal uitstekende werke gegroei het. Die meeste daarvan was skenkings deur die kunstenaars self. In hierdie opsig moet byvoorbeeld die belangrike oorsigversamelings van oeuvres deur Christo Coetzee (150-stuks), Nel Erasmus (112), Johannes Meintjes (91), en Larry Scully (10) genoem word. In baie gevalle is kunswerke ook as gevolg van onderhandelings met kunstenaars teen baie billike pryse bekom.

Heelwat van die belangrikste werke in hierdie kunsversameling is ook afkomstig van waardevolle.erflatings, soos dié van Dirk Johannes La Cock (o.a. 19 werke deur Cecil Higgs), FJ Olivier en TJ Marchand gesamentlik (10 werke deur Maggie Laubser), mev. J du P Scholtz (14 waarvan unieke werke deur o.a. Enslin du Plessis, Moses Kottler en Florence Zerffi), dr. PJ Jacobs (36, o.a. skilderye deur Maggie Laubser, Pierneef, Ruth Prowse, Erich Mayer, WH Coetzer, Terrance McCaw en Edward Roworth).

Daarnaas het bekende versamelaars van tyd tot tyd kunswerke uit hulle versamelings aan die US museum laat toekom, soos Louis Schachat, eienaar van Die Kunskamer te Kaapstad (26 werke waarvan 8 deur die Stellenbosser, Bill Davies) en die Duitser, Peter Freund (uiteindelik ongeveer 100 drukgrafiese werke van belangrike Europese kunstenaars van die vroeë twintigste eeu soos Hans Hartung, Antoni Tàpies en Jean Bazaine asook tydgenootlike Suid-Afrikaners soos Dirk Meerkotter, Bettie Cilliers-Barnard en Hannes Hars). Só ook het Coba Diedericks 'n aantal stukke uit haar keramiekversameling (o.a. deur Essias Bosch en Tim Morris) geskenk. By die eienaar van die bekende Galerie Stadler in Parys (Frankryk) kon prof. Ballot op sy en die kunstenaar se uitnodiging 8 belangrike en unieke vroeë werke deur Christo Coetzee as geskenk aan die Museum gaan uitkies met die doel om nog vollediger kunshistoriese betekenis aan die omvattende en verteenwoordigende Christo Coetzee-versameling in die Kunsmuseum te kan verskaf (Ballot - persoonlike mededelings).

Dit kan nie betwyfel word nie dat die US vandag oor 'n unieke en waardevolle kunsversameling beskik wat vir gewone kunswaardeerders, kunswetenskaplikes, kunsstudente en kunstenaars onmisbaar geword het as bron van verryking en studie.

Agterna beskou, was die jare 1991 tot 2012 die gloriejare van die Sasol Kunsmuseum, gekenmerk deur die byeenbring en deurentydse akademiese benutting van 'n versameling van uitstaande kunswerke wat vir almal toeganklik was. Prof. De Vries het tereg die erkenning gekry vir sy groot bydrae met die totstandkoming van die Universiteitsmuseum deurdat 'n lokaal in die Sasol Kunsmuseum na hom vernoem is. Hier is inderdaad ook waar 'n bronskopbeeld van hom, geskep deur dr. WDF (Fana) Malherbe, 'n geëerde staanplek gekry het.

Met die aanstelling van mnr. Bongani Mgjima in 2013 as nuwe Direkteur het 'n wind van verandering egter die Sasol Kunsmuseum getref en 'n proses van omskepping, of eerder aftakeling, het begin. Die naam van die groot donateur, Sasol, is verwyder en so ook die benaming "Kunsmuseum" sodat slegs "US Museum" oorgebly het (wat voorheen as die oorkoepelende benaming van die Sasol Kunsmuseum en die US Kunsgalery - wat ook nie meer bestaan nie - gebruik is). Die De Vries-saal se naam en die kopbeeld van prof. De Vries is verwyder. (Nadat die skrywer in 'n brief aan die rektor protes hieroor aangeteken het en met die voorsitter van die advieskomitee van die US Museum hieroor vergader het, is die naam teruggeplaas maar nie die kopbeeld nie).

Die Rodin-beeld is vinnig verwyder en tans nêrens te sien nie. Die Scholtz-versameling is meestal weggepak. Van Maggie Laubser se werk is daar min of niks te sien nie. Die Solomon Caesar Malan-versameling is afgehaal en na die stoor verskuif. Dit was die geval reeds voordat die grootste deel van die Kunsmuseum nou ingeruim is vir die gesamentlike (en wel verdienstelike) uitstalling met die Universiteit van Fort Hare wat vir meer as 'n jaar in feitlik die gehele Kunsmuseum voortgeduur het. Verder is die US Kunsgalery, waarheen talle gevestigde asook jong kunstenaars voorheen uitgenooi is om hul werk uit te stal en te verkoop, na die Departement Beeldende Kunste van die US oorgeplaas, wat dit selde gebruik met die doel om die visuele kunste ook in 'n breër verband te bevorder.

Die baie opmerklike afskaling van kunsbevordering by die US Museum - spesifiek die gebrek aan die permanente of deurentydse vertoning van een van die belangrikste versamelings in die land - loop blykbaar dieselfde paadjie as dié van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit.

Wat ook verdwyn het, is die belangrike en interessante oorsiguitstallings van kunswerke deur vooraanstaande en meestal nog lewende kunstenaars, die akademiese publikasies wat daarmee saamgegaan het en die reëlmatige rondleidings by hierdie en die permanente uitstallings.

Die huidige direkteur van die US Museum se fokus is kennelik nie op die bevordering van visuele kunste nie maar op 'n verskeidenheid van manifestasies wat sogenaamde transformasie en sosiale geregtigheid ten doel sou hê. Dit blyk ook daaruit dat in die Missie van die US Museum die woord "kuns" nie voorkom nie maar dat beoog word om, benewens die bewaring daarvan, die ryk erfenis van die US te "transformeer." Dit behels sekerlik dat die waarde van die kunswerke en alles wat daamee saamgaan, misken word.

Dis ook opvallend duidelik uit die onderwerpe van die openbare lesings wat die afgelope j are gereeld by die museumgebou aangebied word. Die meeste hiervan het 'n politieke aanslag en feitlik niks gaan oor kuns en die opbouende kulturele kwaliteite daarvan nie. Die jongste aanstelling by die US Museum wat met trots aangekondig is, was dan ook van 'n persoon wat 'n nuwe pos met die titel: Kurator vir Navorsing, Dialoog en Sosiale Geregtigheid sou beklee. Is dít nie 'n deurslaggewende bewys dat die US Museum sy eerste roeping as 'n unieke kunsinrigting vir blykbaar polities gemotiveerde doelwitte verkwansel het nie?

 

Slotgedagtes

Die buitengewone omvang en akademiese kwaliteite van die kunsversameling van die US Museum is uniek vir 'n universiteit in Suid-Afrika. Aldus behoort hierdie instelling sy universitêre roeping ten opsigte van die uitbreiding, bewaring en ontsluiting van hierdie belangrike bronnemateriaal vir die kunsgeskiedskrywing in Suid-Afrika te bly navolg. Dit kan en moet in die eerste plek gebeur deur die meeste kunswerke in die versameling deurentyd en afwisselend ten behoewe van die studente sowel as die geïnteresseerde publiek uit te stal en opvoedkundig toe te lig. Die unieke uitstal- en bewaringsfasiliteite in die gebou is immers duur gekoop, getrou in stand gehou, deurentyd verbeter en is dus reeds dáár - spesifiek vir hierdie doeleindes.

Hierdeur sal die US ook getrou bly aan professor De Vries se oorspronklike visie aangaande die rol wat 'n akademies gerigte kunsmuseum aan 'n vooraanstaande Suid-Afrikaanse universiteit blywend moet vervul.

 

VERWYSINGS

Ballot, M. 2015. Maggie Laubser 'n Venster op Altyd Lig. Sun Press.         [ Links ]

Booyens, B. 1971. Solomon Caesar Malan. Human & Rousseau.         [ Links ]

De Waal, LM & Giliomee, JH. 2011. Die kunsversameling van J. du P. (Canis) Scholtz. Stellenbosch: SUN MeDIA.         [ Links ]

Giliomee, JH. 1990. Die kunsversameling van Prof. J. du P. Scholtz. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 30:46-53.         [ Links ]

Thom, HB. 1975. Maggie Laubser se nalatenskap - 'n sluier gelig. Matieland, no. 2.         [ Links ]

 

 

 

Jan Giliomee is emeritus professor in Bewa-ringsekologie en Entomologie aan die Universiteit van Stellenbosch (US). Hy het by die US die grade BSc (Agric), MSc (Agric) en M (S & S) behaal, by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) 'n BA en by die Universiteit van Londen 'n PhD-graad. Hy was vir sy hele loopbaan as dosent in Entomologie aan die US verbonde (1957-2000) en het ongeveer 150 wetenskaplike artikels oor sy en sy studente se navorsing ge-publiseer. Hy stel besonder belang in kuns en het op die advieskomitee van die Sasol Kunsmuseum van die US gedien.
Jan Giliomee is emeritus professor in Conservation Ecology and Entomology at Stellenbosch University (SU). He obtained the degrees BSc (Agric), MSc (Agric.) and M (URP) at SU, a BA at the University of South Africa (Unisa) and a PhD at the University of London. He was attached to the SU as lecturer in Entomology for his entire career (1957-2000) and has published about 150 scientific articles on his research and that of his students. He has a lively interest in art and served on the advisory committee of the Sasol Art Museum of the SU.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons