SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1Social resilience, structural vulnerability and capabilities in Genadendal, South AfricaThe Pandour Corps, 1793-1795 : Soldiers in defence of the Cape Colony towards the end of Dutch rule índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a12 

AKTUEEL

 

Editor's Note

 

 

In hierdie afdeling val die soeklig op die aard en funksie van die Universiteit Stellenbosch (US) se kunsmuseum.

In 'n meningsartikel ondersoek prof. Jan Giliomee, voorheen lid van die advieskomitee van die Sasol Kunsmuseum, die "ontstaan, opbou en aftakeling" (p.220) van hierdie, syns insiens, eens trotse, instelling van die universiteit, waar kunswerke doeltreffend "uitgestal", "museologies bewaar" en "kunswetenskaplik benut" kon word (p. 222). Op uitnodiging van die redakteur skets mnr. Bongani Mgijima, huidige direkteur van die US Museum, in sy respons op die meningsartikel die manier waarop die museum "vooruit boer" (p. 227).

Vanuit Giliomee se gesigspunt het die fokus verskuif "van kunswaardering, -bevordering en -navorsing na 'n polities gemotiveerde transformasie" - soos blyk uit die posbeskrywing van 'n nuwe aanstelling, naamlik "Navorsing, Dialoog en Sosiale Geregtigheid" (p. 221). Sy opsommende standpunt lui:

Hierdie instelling behoort sy akademiese roeping ten opsigte van die uitstalling, uitbreiding, bewaring en ontsluiting van sy belangrike en eersterangse estetiese bronnemateriaal vir die hedendaagse kunsgeskiedskrywing in Suid-Afrika sonder twyfel te bly navolg. (p. 221)

Mgijima se teenargument is dat 'n dergelike doelstelling steeds geld, aangesien die permanente versameling van bykans 3 000 kunswerke "professioneel bewaar en op 'n rotasiegrondslag in die museum uitgestal" word (p. 227). Daarbenewens kan die "openbare opvoedkundige program oor visuele kuns" (p 227), danksy die benutting van tegnologie, wêreldwyd inslag vind. Eweneens het die digitalisering van die US se ganse kunsversameling daartoe gelei dat byvoorbeeld die werke van Maggie Laubser en Solomon Caesar Malan (waaroor Giliomee dit onder meer het) groter toeganklikheid op die aanlyn digitale platform kan geniet (p. 228). Op hierdie manier word kunsbevordering by die US museum uitgebrei, "en strek dit nou ver buite die geografiese grense van Stellenbosch" (p. 229).

Wat Mgijima "transformerende museumkunde" (p. 228) noem, is syns insiens geregverdig, aangesien "kuns en sosiale geregtigheid nie onderling uitsluitend is nie" (p. 228) en trouens in ooreenstemming is met internasionale aksentverskuiwings in hierdie verband, "omdat museums wêreldwyd toenemend as ruimtes vir gesprekvoering en inklusiewe kritiese burgerskap dien" (p. 229).

Hierdie twee uiteenlopende standpunte oor die aard en funksie van kunsmuseums is aanduidend van hedendaagse diskoerse wat deel uitmaak van die nodige besinning oor hoe om die skatte van die verlede sodanig aan te bied dat dit steeds relevant bly in 'n vertegnologiseerde en ook meer inklusiewe samelewing. Nietemin merk 'n museumkundige in hierdie verband op dat die meeste van die konvensionele funksies van museums steeds 'n uiters belangrike rol het om te speel ten opsigte van bewaring en opvoeding, maar dat hierdie aspek oënskynlik "toenemend geïgnoreer word in sommige museums, veral in Suid-Afrika".

'n Ope uitnodiging word hiermee gerig aan enigiemand wat belang stel in die bogenoemde onderwerp. Navorsingsartikels sal onderhewig wees aan die gebruiklike eweknie-evaluering, maar meningsartikels en korter reaksies kan ook in die rubriek AKTUEEL teregkom.

Ina Wolfaardt-Gräbe

Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe

E-posadres: publikasies@akademie.co.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons