SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories: Patterning in the structure and general contentEditor's Note índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a11 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Gender-performance in Alba Bouwer se vertaling van die etiketboek Sybille: Sjarmante vriendin

 

Gender performance in Alba Bouwer 's Afrikaans translation of the etiquette book Sybille: Sjarmante vriendin (Sybille: Charming friend)

 

 

Lizelle SmitI; Dame StanderII

INadoktorale navorsingsgenoot Departement Engels Universiteit van Stellenbosch Suid-Afrika. E-pos: lkattekatte@gmail.com
IINadoktorale navorsingsgenoot Departement Afrikaans en Nederlands Universiteit van Stellenbosch Suid-Afrika. E-pos: dani-est@hotmail.com

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel ondersoek ons Alba Bouwer se Afrikaanse vertaling van die Duitse etiketboek Charmante Freundin: Sybille (1959), waarin die outeur nie vermeld word nie, as Sybille: Sjarmante vriendin (1968). Die Afrikaanse vertaling van Sybille word nêrens vermeld in die Afrikaanse naslaanliteratuur nie en daar bestaan 'n lakune in die ontleding van die Afrikaanse etiketboekgenre. Hierdie artikel trag om 'n gesprek aan te voor oor hierdie geïgnoreerde genre en hierdie vergete teks. Internasionale teoretici van etiketboeke beklemtoon die genre se gemoeidheid met voorskriftelike gedrag vir vroue en daarom vertolk ons Sybille as 'n handleiding vir hegemoniese gender-performance. Ons gebruik Judith Butler se teorieë van genderperformatiwiteit en gender-performance om die advies wat Sybille aanbied vir haar vroulike teikenlesers te ontleed, en redeneer dan dat die spreker se voorgeskrewe vroulike ideaal ooreenstem met normatiewe hegemoniese verwagtings van vroue. Deur die lens van die deskriptiewe vertaalteorie kaats ons die teks teen die agtergrond van Afrikanernasionalistiese genderkonstruksies van die 1960's en 1970's soos geuiter deur Bouwer en ander invloedryke politieke figure. Ons identifiseer dan 'n interne teenstrydigheid in beide Bouwer en Sybille se retoriek en advies aangaande aanvaarbare vroulike gedrag en bevind dat hul albei patriargale konstruksies van vroulikheid terselfdertyd beaam en kritiseer. Ons skryf hierdie paradoksale konstruksie van vroulikheid toe aan die subtiele invloed wat die tweede feministiese beweging begin uitoefen het op genderideologie in Suid-Afrika.

Trefwoorde: Alba Bouwer, Sybille: Sjarmante vriendin, etiketliteratuur, sedelitera-tuur, deskriptiewe vertaalteorie, gender-performance, genderperforma-tiwiteit, rolverdelings van Afrikanervroue in die 1960's en 1970's


ABSTRACT

In this article we investigate the Afrikaans journalist and children's book author Alba Bouwer 's Afrikaans translation of the anonymously published German etiquette book, Charmante Freundin: Sybille (1959), as Sybille: Sjarmante vriendin (1968). Mention of Bouwer's translation of Sybille has thus far been omitted in Afrikaans literature reference sources, a remarkable oversight given Bouwer 's magisterial canon position in Afrikaans literature and the general thoroughness that characterises sources on her writing. Furthermore, notable lacunae exist of analyses or discussions of the Afrikaans etiquette book genre. To date, Afrikaans texts in this genre have not been examined or analysed and neither has the genre as such been defined in relation to the cultural milieu of its Afrikaans readers. This article seeks to initiate a discussion of not only this unexamined genre, but also this particular neglected text and its significance regarding Bouwer 's oeuvre.
International theorists of etiquette books stress the status thereof as a typically female-targeted genre preoccupied with the establishment of normative feminine values, and we thus read Sybille as a script advocating a standard (Western) hegemonic gender performance. We employ Judith Butler's theories of gender performativity and gender performance to analyse Sybille's advice offered to her female readers, arguing that the speaker'sprescribed suggested female ideal concurs with normative hegemonic expectations of women in the sociohistorical context in which it was translated. Similarly, her advice hinges, semantically and in general, on women never performing their gender in an excessive or demonstrative way that she describes as "too" much. We conduct a close reading of the text itself, scanning it for the rhetorical techniques employed, specifically with regard to the narrator's seductive self-presentation and the manner in which she addresses and engages the model reader to generate a process of gendered subject formation. In this section we identify and discuss both Sybille's performed and performative dimensions as well as how these two distinct but interrelated concepts interact in the text and in its desired social outcome.
By adopting a descriptive (as opposed to a prescriptive) translation theory lens, we focus on the translated text's position and function in the culture of the target language community in the late 1960s rather than on that of its original 1950s German production context. To this end we employ André Lefevre's concept of rewriting, Itamar Even-Zohar's notion of compatibility and Sandra Bermann's application of Butler's definition ofperformativity with reference to Translation Studies. With the aid of these notions, we interpret Bouwer 's translation as contributing to the inauguration of a boom of etiquette books in Afrikaans since the 1960s.
Subsequently, we contextualise this translated text against the background of Afrikaner nationalist gender constructions of the 1960s and 1970s, as expressed by Bouwer and certain influential political figures. Three prescribed gendered social roles for Afrikaner women in the 1960s and 1970s are identified. Afrikaner women were expected to be: (a) mothers and wives, (b) the keepers or custodians of Afrikaner morality (c) and by implication, they were expected to act as guardians against perceived enemies of the nation (identified as Communism and the equality of different races). Our analysis illustrates that most of the Afrikaner nationalist norms and values regarding gender and its associated prescribed expected behaviours we identify were also espoused by the speaker in Sybille and therefore the source text, in terms of its propagated value assumptions and truth claims, translates seamlessly and effectively into the mainstream reading context of the target culture.
Lastly, we identify throughout the paper a comparable self-contradiction in Bouwer 's own rhetoric (found in paratextual sources, such as speeches) and in that of the speaker in Sybille: both simultaneously endorse and criticise patriarchal constructions of womanhood. We ascribe this paradoxical construction offemininity to the subtle influence of Second Wave Feminism on discourses concerning gender in South Africa.

Keywords: Alba Bouwer, Sybille: Sjarmante vriendin, etiquette literature; morality literature; Descriptive Translation Theory, gender performance, gender performativity, Afrikaner women's roles in the 1960s and 1970s


 

 

1. Inleiding

Hierdie artikel ondersoek Alba Bouwer se vertaling in Afrikaans van die anoniem gepubliseerde1Duitse etiketboek getiteld Charmante Freundin: Sybille (1959), onder die titel Sybille: Sjarmante vriendin (1968),2 en maak die bewering dat hierdie etiketboek 'n letterlike handleiding is vir 'n voorgeskrewe gender-performance3wat strook met hegemoniese patriargale vasstellings van vroulikheid. Verder redeneer ons dat die norme en waardestelsels wat geartikuleer word in die Duitse bronteks moeiteloos oordraagbaar was na die doeltaal, want die genderkonstruksies van die Afrikanergemeenskap in die 1960's en 1970's het alreeds ooreengestem met die norme wat voorgeskryf word in die Duitse bronteks. Geen enkele gekanoniseerde literatuurgeskiedenis of enige outeursprofiel oor Bouwer en/of die Afrikaanse letterkunde meld hierdie vertaling van Bouwer as een van haar amptelike uitsette nie.4 Trouens, nie eers die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, wat 'n uitgebreide Bouwer-versameling huisves, of Tafelberg, die uitgewer van die boek, besit dokumente, knipsels of ander argiefmateriaal wat melding maak van hierdie vertaalde teks nie. Hierdie teks het dus tot dusver geen akademiese aandag geniet nie. Dit is wel moontlik om hierdie gaping toe te skryf aan enersyds 'n gebrek aan navorsing oor die etiketboekgenre as geheel in Afrikaans en andersyds aan 'n gepaardgaande gebrek aan ondersoeke na vertalings en verwerkings in Afrikaanse literatuurstudies. Gedeeltelik is ons doel met die huidige ondersoek na hierdie vertaalde etiketboek om 'n onbekende deel van Bouwer se oeuvre te belig, asook om die etiketboekgenre in die geheel te plaas teen die agtergrond van Afrikaner-vroue se genderkonstruksies in die sestiger- en sewentigerjare.

Die naam Alba Bouwer is in vele opsigte sinoniem met die volgende kategorieë in die Afrikaanse lettere vanaf die vyftiger- tot die negentigerjare: die kinderboek, vrouegerigte

joernalistiek, sedeliteratuur5 en ook die vertaling van boeke uit veral hierdie genoemde genres. In die lekebewussyn word sy veral onthou vir die kritieke en kommersiële sukses van haar kinderboeke (veral Stories van Rivierplaas) en haar werk as joernalis vir die gewilde vrouetydskrif Sarie. Haar betrokkenheid by 'n kombinasie van die bogenoemde maak Bouwer dus 'n leidende figuur in die vertolking van 'n hegemoniese Afrikaanse vroulike identiteit tiperend van die (meestal wit) middelklas in die middel tot laat twintigste eeu, veral in haar hoedanigheid as opvoeder.

Benewens die ooglopende pedagogiese assosiasie met haar kinderrubriek oor die radio en haar produktiwiteit as kinderboekskrywer, het Bouwer ook haar beroep as joernalis vir die vrouetydskrif Sarie as 'n opvoedingstaak vir haar volwasse lesers beskou (Blignault, 2008:282). Bouwer beklemtoon onder meer die soms omstrede baanbrekerswerk wat Sarie in die vyftiger-en sestigerjare met seksvoorligting vir volwasse vroue gedoen het (Truter, 1993:19) en die voorbeeld wat sy en haar vroulike kollegas aan die lesers gestel het as beroepsvroue tydens 'n era toe die vroulike middelklas-teikenleser se hegemonies bepaalde sosiale rol nog grootliks tot die huishouding beperk was (Van Niekerk, 1986:67).

Uit hoofde van haar status as skrywer, maar ook vanweë haar betrokkenheid by die ACVV (die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging) - waar sy ook gedien het op die hoofbestuur vanaf 1963 tot in die laat 1980's - het Bouwer gereeld opgetree as spreker by damesbyeen-komste, waar sy toesprake gelewer het oor die sosiokulturele rol van die vrou in Suid-Afrika. ' n Keur uit hierdie toesprake is deur Rykie van Reenen byeengebring en in 1995 deur Tafelberg uitgegee as Die lang reis van hart tot hart. Hierdie bundel bevat onder meer die volgende essays: "Die huwelik is kernkrag", "Die vrou en die gesin", "Die verhouding tussen moeder en dogter", en "Om 'n weduwee te wees". Die titels spreek boekdele oor Bouwer se uitgesprokenheid en kulturele gesag oor die bevestiging en verfyning van 'n heteronormatiewe en huishoudelike vergestalting van vroulikheid binne die milieu van haar leserskorps. Vanuit hierdie oogpunt beskou, is dit dus nie verbasend dat Bouwer die aangewese persoon sou wees om 'n etiketboek te vertaal of te skryf nie, 'n genre wat vanaf die sestiger- tot die tagtigerjare in Afrikaans 'n bloeityd beleef het.6

Hoewel Emsie Schoeman se Goeie maniere en etiket (1981) die bekendste voorbeeld van Afrikaanse etiketboeke is, word dit wel voorafgegaan deur ander soortgelyke werke, onder meer deur Susann Naudé se Skoonheid en sjarme binne almal se bereik (1958), Hettie Naudé se Etiket vir elke geleentheid (1967) en Cecily Louw se Vir jou, juffrou (1973). Alhoewel Schoeman en Hettie Naudé se teikenleser nie gender- of ouderdomspesifiek is nie, is dit opmerklik dat Sybille, Skoonheid en sjarme en Vir jou, juffrou eksplisiet en uitsluitlik gerig is op jong vroue. Die vrou as teikenleser van die etiketboekgenre is eintlik te verwagte as daar in ag geneem word dat die skrywers van hierdie genre, internasionaal gesien, oorwegend vroulik is (Wouters, 1995:325-326).7 Dit is dus te verstane dat die inhoud daarvan hoofsaaklik gerig is op vroue, en dat hierdie boeke merendeels riglyne bevat oor hoe om keurig te onthaal, hoe om die postuur te verbeter en met grasie te beweeg, of 'n aantal skoonheidswenke asook voorskrifte vir korrekte gedrag teenoor mans en vroue tydens uiteenlopende sosiale geleenthede verskaf.

Bouwer se vertaling van Sybille neem 'n middelposisie in ten opsigte van die ontwikkeling van etiketboeke in Afrikaans: dit is nie die eerste of die laaste Afrikaanse etiketboek nie. Dit is ook nie oorspronklik geskryf nie, maar 'n vertaling. Tog word daar in hierdie artikel geredeneer dat die boek aktief deel vorm van die ontwikkeling en daarstelling van 'n bepaalde wit Afrikaanse vroulike identiteit in die sestiger- en sewentigerjare binne die diskoers van voorgeskrewe gedragsvorme, en dat dit hierdie funksie juis as 'n vertaling vervul in die hande van 'n vertaler met 'n baie spesifieke kulturele status en ideologiese instelling. Patrick Bethanne (2011:7) beweer dat ten spyte van die uiteenlopendheid van etiketpraktyke in verskeie wêreldkulture, bykans al hierdie reëls onderskryf word deur basiese idees rakende "goeie maniere". Etiket, volgens Bethanne, vervul drie verskillende funksies in alle kulture:

[As] a paralegal system, more flexible (not to mention cheaper) than the law for regulating ordinary behavior in the interests of maintaining communal peace; as a symbolic system, using gesture and dress to provide useful information about the status and friendliness or hostility of strangers; and as a system of ritual that expresses cultural cohesiveness and gives supportive community guidance for momentously emotional occasions.

Dit is dus van kardinale belang om 'n etiketboek te ondersoek binne die konteks van sy tyd, taal, kultuur en teikenmark om rekenskap te gee van die regulerende wetlike, simboliese en rituele funksies van etiketboeke in die ontleding daarvan. Met verwysing na Judith Butler (1990; 1993) se teoretiese werk oor gender, bespreek ons eerstens Sybille, die teks, kortliks as 'n werktuig van hegemoniese genderperformatiwiteit en bepaal dan die spesifieke tipe

gender-performance wat voorgeskryf word. In ons ontleding van die vertaalde etiketboek toon ons dan in die volgende afdeling aan (1) hoe vertalings nie slegs waardestelsels (in ooreenstemming met die deskriptiewe vertaalteorie) in die teikenleser van die doeltaalgemeen-skap bevestig en versterk nie, maar ook (2) hoe die agentskap van die individuele vertaler, veral ten opsigte van die individuele vertaler se lewensbeskouings, weerklink in die vertaalde teks en hoe hierdie agentskap moontik verskil van die oorspronklike.

 

2. "Sjarme" as voorskrif van gender-performance in Sybille

Dit het sedert 1990 bykans ondenkbaar geword om krities-teoreties oor genderkonstruksies te besin sonder om na Butler te verwys. In die lig daarvan dat performatiwiteit as 'n terminologiese rigsnoer in hierdie artikel dien, is Butler se vermelding en verwerking van hierdie term in genderteorie onvermydelik. Soos Sandra Bermann (2014:290) dit stel: "The term 'performativity' entered - and irrevocably altered - the literary and cultural scene in the 1990s, largely through the work of Butler's Gender trouble (1990)". Bermann (2014:290) haal die volgende stelling van Butler aan:

[G]ender is an act which has been rehearsed, much as a script survives the particular actors who make use of it, but which requires individual actors in order to be actualized and reproduced as reality once again.

Natuurlik gebruik Butler nie die woord "script" in die letterlike sin van die woord nie. Etiketboeke funksioneer egter terselfdertyd as manifesto's en inisieerders van tydgenootlike hegemoniese draers van die hoofstroom-genderopvattings. Daarom kan Sybille benader word as 'n heel letterlike manifestasie van só 'n "script". Volgens Butler (1993:95) is performatiwiteit die proses waardeur 'n subjek deur middel van spraakhandelende kontrakte opgewek, opgeroep, omskryf en onderskryf word, deur middel van die norme van 'n spesifieke samelewing wat aanhoudend woordeliks herhaal word (dus, die "script", of teks waarna daar hier bo verwys word); gender performance is dan die handelinge wat deur die subjek uitgeoefen word om sy of haar gender te beoefen en só te aktualiseer (dus, die akteurs wat die teks repeteer). Butler (1993:95) verduidelik dit soos volg:

Performativity cannot be understood outside of a process of iterability, a regularized and constrained repetition of norms [...] [T]his repetition is not performed by a subject: this repetition is what enables a subject and constitutes the temporal condition for subjects.

In die lig daarvan dat Sybille anoniem gepubliseer is, word die spreker voorts beskou as die boek se titelkarakter: die "sjarmante vriendin" wat haar wysheid aangaande die sjarmekuns oordra aan haar jong vriendin, die teikenleser. In hierdie artikel word beweer dat die spreker, Sybille, 'n konteks-spesifieke genderperformatiwiteit verpersoonlik, en dit dan aan die leser (subjek) oordra in 'n voortdurend herhalende proses ("process of iterability") as voorskriftelike norme wat hulle kan beoefen ("repeat") om 'n sjarmante vroulike identiteit te realiseer (in hierdie geval, 'n voorgestelde sosiaal aanvaarbare vorm van vroulikheid). Om die konsep verder uit te brei, definieer Richard Schechner (2013:28)performance en Performance Studies as volg:

"Being" is existence itself. "Doing" is the activity of all that exists, from quarks to sentient beings to supergalactic strings. "Showing doing" is performing: pointing to, underlining, and displaying doing. "Explaining 'showing doing'" is performance studies.

Dit is hierdie "showing doing" waaroor Sybille se ganse betoog handel. Sybille is 'n handleiding ("how-to guide") vir die performance van 'n bepaalde uitdrukking van vroulikheid, en lei haar leser deur haar te vertel hoe om haar vroulikheid te beoefen. Soms word die metafoor van rolle- en toneelspel selfs blatant ingespan om hierdie retoriese doel te bereik (1970:66; 67; 70; 73).

Ons verskaf 'n oorsig van Sybille en bespreek ook deurgaans en daarvolgens die primêre teks as 'n tipe gedragshandleiding. Getrou aan die titel is "sjarme" Sybille se hooftema. Sybille maak slim gebruik van haar modelleser se behoefte aan begeerlikheid (veral ten opsigte van mans). Sy identifiseer daarom twee eienskappe in 'n vrou wat (volgens haar) aantreklik is: skoonheid en sjarme, en sy weeg hulle op teen mekaar. Sybille betoog dat die premie wat die samelewing op skoonheid plaas te hoog is, dit "word sommer net vasgestel" (1970:10). Omdat hoofstroom-skoonheidsideale ouderdomspesifiek is, is dit verganklik en sy wys daarop dat dit buitendien relatief is met betrekking tot era en geografiese ligging.

Sjarme, daarenteen, kan volgens Sybille die illusie van skoonheid skep en is nie ouderdomspesifiek nie. Sjarme is egter moeilik om te definieer - 'n stelling wat sy telkens herhaal - en sy raadpleeg selfs 'n woordeboek om dit te demonstreer:

[...] sjarme beteken bevalligheid, bekoorlikheid. Maar bevalligheid kan aangeleer word en bekoorlikheid kan verwerf word. Bevalligheid hang nie af van die geronde heupe en bekoorlikheid van 'n klassieke profiel nie. Bekoorlikheid kan lê in die manier van loop, in die bewegings van die hande, in die houding van die skouers. (1970:9; kursivering bygevoeg)8

Sy waag dit dus tog om die basiese bestanddele van haar beskouing van sjarme uiteen te sit en bespreek hierdie aspekte uitvoeriger deur die loop van die boek: grasie van houding en postuur, behendigheid met gesprekvoering, hoflikheid, en die kleding en versorging van die liggaam.9 Sy verskaf selfs oefenwenke vir vroue om hulle liggame viets te hou want, sê sy grappenderwys, "[d]aar is nie so iets soos vet vroue nie. Daar is net vroue wat te veel eet en te weinig beweeg" (1970:33). Sybille se beskouing van sjarme word nie net deur aanmoediging onderstreep nie, maar ook ondersteun deur die aanmaning dat sjarme nie net aanleerbaar is nie, maar met moeite ingeoefen moet word. Dit verg selfdissipline, selfkritiek en voortdurende selfbewustheid (1970:17, 20). Sybille gebruik herhaaldelik werkwoorde soos "beoefen", "verwerf', "aanleer" en "inoefen" met verwysing na haar raad oor hóé om sjarme te bekom.

Sybille maak die doel en suksesmaatstaf van sjarme eksplisiet: sosialisering in 'n heteropatriargale huweliksmark. Nie net lê sy dit in soveel woorde uit nie; sy illustreer haar opmerkings aan die hand van scenario's wat haar leser voorstel in 'n potensiële verhouding teenoor 'n vryer (1970:26), 'n kêrel, 'n gade en/of haar voorgenome gesin (1970:17, 26, 43, 46). Hierdie fiktiewe situasies wentel dikwels om geld en die gevolglike noodsaak van sjarme om die beursiehouers - mans - se hart te versag en hulle selfs te manipuleer (1970:24-25). 'n Hele hoofstuk word gewy aan die instruksie dat die leser manlike gespreksgenote van hul status en aansien moet verseker, tesame met allerlei raad aangaande hierdie imperatief (1970:2126). Om dieselfde rede word die leser ook aangeraai om haar intellektuele talente te onderbeklemtoon, en bevestig die spreker dat haar modelleser immers nooit sal "doseer nie - sy wil tog nie as universiteitsprofessor geag word nie" (1970:18).

Daar is ook 'n bewussyn van eiewaarde wat deurskemer in die teks wat die bestudering daarvan as performatief prikkelend maak. Sybille onderbreek haarself kort-kort deur (a) aandag op haarself te vestig (en die leser daaraan te herinner dat dit 'n persoon is wat praat - haar wêreldwyse vriendin) en (b) die lesers terselfdertyd van hulself bewus te maak deur hulle te probeer betrek deur middel van sowel letterlike as fisieke performatiewe instruksies. Daar word dus deur verleidelike metatekstuele werktuie die illusie van 'n persoonlike band tussen Sybille en die leser geskep, en die sluit van spraakhandelende kontrakte word meermale gesimuleer, soos duidelik word uit die volgende voorbeelde: Sybille vra gereeld retoriese vrae (1970:21; 46; 63); sy vra die leser om hardop in die spieël met haarself te praat en "eerlik" oor haar voorkoms te wees (1970:34); Sybille maak ook koöpterende veralgemenings van wat vroue begeer (geen vrou wil alle vroue wil alle mans sal met my saamstem ... (1970:14; 18)). Sybille skep dus performatief 'n illusie wat deur die transformasie van die leser na Sybille se ideale sjarmante vrou verwesenlik moet word.

In ooreenstemming met die performatiewe "stem" van ander etiketskrywers (Foster, 2000:2-4) bemark Sybille haar gesag deur die volgende kwaliteite voor te hou: dat sy 'n ingeligte en ervare vriendin is; dat sy tydlose wyshede op die proef gestel het; dat sy kennis dra van mans se behoeftes (en dat hulle dit sal bevestig), en dat sy self parmantig en wederstrewig is - kwaliteite wat dalk nie strook met die soort sjarme wat sy propageer nie, maar haar daarom fassinerend maak en die leser se nuuskierigheid aanwakker. Deur hierdie retoriese tegnieke skep sy die illusie van 'n universele ontologiese werklikheid waarop die genderkonstrukies wat sy propageer kwansuis berus. Dit is hierdie soort redenasies waarin die performatiwiteit (soos Butler dit omskryf) gesetel is.

Sybille se slinksheid en die bouwerk van haar performance as spreker (waarmee sy trag om performatiewe oftewel transformatiewe resultate te bereik) skemer deur in gevalle waar sy haarself weerspreek. Sy maak aan die begin van die boek twee valse beloftes: dat sjarme goedkoop en bykans gratis is (1970:10; 12), en dat liggaamlike skoonheid relatief is en van min of geen belang nie (1970:7-8). Namate haar relaas egter ontvou, beklemtoon sy toenemend die noodsaaklikheid van finansiële beleggings in hulpmiddels en wenke om die liggaam te herfatsoeneer en só onaantreklike eienskappe weg te steek (1970:45-56). Sybille dring dus gretig aan op sigbare transformatiewe uitkomste ten einde, in ooreenstemming met Butler se definisie van performatiwiteit, dit wat sy op 'n diskursiewe vlak tot lewe wek, ontologies te laat manifesteer.

Die woord en konsep "sjarme " word nie net herhaaldelik in Afrikaanse etiketboeke gebruik nie, maar ook in die internasionale etiketboekgenre (Post, 1934; Foster, 2000; Boruch, 2016).

Die tipe vroulikheid wat Sybille vir haar lesers aanbeveel, is egter in die geheel geanker in die idee van sjarme. Sjarme, volgens Sybille, is verkrygbaar deur die inoefening van genderspesifieke norme, rituele en maatreëls. In teenstelling hiermee beweer Sybille egter ook dat "sjarme nie te meet" is nie, "maar daardie onbepaalde iets" is wat mense "verower" (1970:10). Selfs Sybille se woordeboekdefinisie in die inleiding van die boek versuim om te bepaal wat sjarme behels. Sjarme bly dus meestal in hierdie handleiding daardie onbepaalde voorskriftelike "iets" waarna vroue moet streef om "vroulik" geag te word. In die slothoofstuk van Sybille beweer sy die sjarmante vrou is "lief, maar nie onnosel nie, sy is verdraagsaam, maar nie ruggraatloos nie en sy kan die grootste ou lamsak tot groot dade aanspoor. Sy is 'n ware mannetemmer" (1970:78). Sjarme, of voorskriftelike vroulikheid, die aangewese vroulike gender-performance, is dus semanties vergelykbaar met Gouelokkies se soeke na die regte temperatuur vir pap: nie te warm nie, nie te koud nie, nét reg! 'n Vrou (of sjarmante vrou) kan volgens Sybille nie in enige opsig "té" (oormatig of gebrekkig) wees nie: sy is nie 'n "lomperd" (1970:) nie, maar beweeg met "grasie" (1970:28); sy moet ingelig wees maar nie "haar kennis soos room om ander mense se mond smeer nie" (1970:18); sy praat met 'n "goed gemoduleerde toonaard", sy "sis", "kekkel" of "kwetter" (1970:24) nie; sy gebruik net "'n bietjie mooi-maakgoedjies" (1970:46) om die "natuur" (1970:7) aan te help; sy "versterk" 'n man se "selfvertroue" (1970:58) deur onselfsugtigheid; sy is nie "te beskeie, te voorbarig, te skugter of te dom [...] nie" (1970:58); sy is nie "te kop in die lug of te onderdanig [...] nie" (1970:58); sy "giggel" nie te veel of "lag" te selde nie (1970:58); sy is nie "te deugsaam of te loskopperig" (1970:58) nie. Opsommenderwys: sjarme, die voorgeskrewe norme wat vroue deur Sybille aangesê word om na te streef, die "net reg", ís die norm - 'n soort middelmatigheid, 'n aanvaarbare standaardweergawe, sonder enige afwykings wat gedefinieer kan word as "te". So 'n voorstelling is dus in pas met 'n Westerse hegemonies bepaalde ideaal van vroulikheid wat in 'n mate bepaal word deur afwykings: hoe 'n vrou nié mag optree nie.

Sybille se onvermoë om "sjarme" sinvol in te span as 'n definiërende term vir genderperformance (vroulikheid) is 'n voorbeeld van Butler (1993; 1999) se stelling dat gender as konstruktief en nie-essensieel gesien moet word (met ander woorde, dat dit nie 'n natuurlike manifestasie van biologie is nie). Omdat gender kultureel en nie biologies bepaal word nie, is die uitoefening daarvan vloeibaar, wisselvallig en veranderlik en gevolglik moeilik om vas te stel of voor te skryf. Dit is dan ook hoe Sybille sjarme beskryf, selfs nadat sy uitgebreide en baie spesifieke raad en wenke aan die leser verskaf het. Sy gee immers in die slothoofstuk toe (in teenstelling met haar belofte in die eerste hoofstuk) dat sjarme 'n "kuns" is "wat 'n mens ook maar net ten dele kan aanleer" en moedig selfs haar lesers aan om af te wyk "van die patroontjie wat hier so netjies vir haar uitgeknip is" (1970:79). Dit is dus nóg 'n voorbeeld van Sybille se geneigdheid om haarself te weerspreek. As spreker bied sy 'n begrip van genderidentiteit en die bekombaarheid daarvan aan wat egter nooit klinkklaar omlyn word nie, want klaarblyklik begryp sy nie dat daar 'n verskil is tussen die begrippe "vrou" en "vroulikheid" nie.

Sybille se inspanning om sjarme (voorgeskrewe en aanvaarbare vroulikheid) en vroulike gedrag (die uitoefening van die genderrol) in hierdie etiketboek uiteen te sit, dien as 'n nuttige bron vir die bestudering van Afrikaanstalige genderperformatiwiteit gedurende die 1960's en 1970's. Foster (2000:2) maak die stelling dat die "performance of etiquette allows for the signification of gendered roles that are 'engendered before being fixed in the world'". Ten einde Sybille te vertolk as só 'n voorbeeld van kulturele "signification", moet die boek bestudeer word binne die konteks van 'n breër netwerk van tekste waarbinne dit funksioneer. Dit word dus verder ondersoek aan die hand van Bouwer, die vertaler, se invloedryke uitsprake aangaande wit Afrikanervroue se kulturele rol en word ook met Afrikanernasionalistiese propaganda gejukstaponeer. Ten dienste hiervan word 'n deskriptiewe vertaalteoretiese benadering ingespan; deur só 'n lens word die faktore wat die vertaling van 'n teks beïnvloed, en wat die sukses daarvan bepaal, immers beklemtoon.

 

3. Sybille as vertaling: Deskriptiewe vertaalteorie en die rol van die Afrikanervrou in die Suid-Afrika van die 1960'S en 1970'S

Die uitgangspunt van deskriptiewe vertaalteorie is diagnosties van aard; dit het ten doel om die impak van vertalings op die leeskultuur van die doeltaalgemeenskap te peil (teenoor preskriptiewe vertaalteorie se gemoeidheid met die standaardisering van vertaalmetodes). Dit lei byvoorbeeld daartoe dat André Lefevre (1992) na vertalings verwys as herskrywings. Hierdie benaming het twee implikasies: eerstens beklemtoon dit sy voorkeur om vertalings te beskou as afwykings van die brontekste (hoe minimaal ook al), en tweedens dui dit op die wyse waarop tekste nie net in die vertaling daarvan getem of omskep word tot die norme en waardestelsels van die taalgemeenskap waarin dit ontvang word nie, maar ook, hetsy bedoeld of onbedoeld, meewerk om die kultuur waarin die vertaalde teks geabsorbeer word, te transformeer.

Sonder dat Lefevere dit onder woorde bring, berus sy filosofie op 'n benadering tot vertaling en vertalings as performatief in die opsig waarin JL Austin (1962) die term in die sestigerjare bedink het. Die deskriptiewe vertaalteorie berus merendeels op 'n beskouing dat vertaling eerder performatief as representerend is, dit wil sê, soos Christina Marinetti (2013:309) dit verwoord, 'n praktyk wat nie bloot representeer ("signify") nie, maar ook die transformasie van "existing regimes of signification" behels.

Austin se teorieë oor spraakhandelinge en performatiewe het inderdaad, soos Bermann (2014:288) uitwys, 'n belangrike rigtingverskuiwing in vertaalstudies teweeg gebring. Die ontleding van vertalings as individuele handelinge met kulturele en politieke effekte het gelei tot 'n grootskaalse klemverskuiwing in die bestudering van vertaling: vanaf 'n instelling op die vertaling se sogenaamde getrouheid aan die bronteks na 'n groter belangstelling in die vertaling se "own productive and transformative potential, both in literary art and in what we call 'real life'" (2014:288).

Die ondersoek na Bouwer se vertaling van Sybille geskied binne hierdie diskursiewe aksent. Bouwer se vertaling word nie woord vir woord teen die bronteks gemeet nie. In die eerste plek moet ons ons ongeletterdheid in Duits en ons gebrek aan toegang tot die Duitse bronteks ruiterlik vermeld. In só 'n benadering word sekere verliese natuurlik gely en in ag geneem: die ideologiese en kulturele omvorming in Sybille deur die toedoen van Bouwer en haar uitgewer (wat in alle vertaling tot 'n meerdere of mindere mate geskied) kan nie met sekerheid gepeil en bespreek word nie. Daarom hanteer ons die Afrikaanse Sybille as 'n teks in eie reg met die gesublimeerde inagneming dat dit 'n samesmelting is van die onvermelde skrywer se doelstellings én Bouwer s'n.

Ons spits ons dus toe op die ideologiese inhoud wat Bouwer se Sybille (as vertaling) bevat en die retoriese tegnieke wat daarin aan die dag gelê word om 'n bepaalde uitdrukking van vroulikheid te propageer. Ons stiplees van Sybille in Afrikaans word gestuur deur 'n aantal kontekstuele faktore tot ons beskikking. Eerstens plaas ons Bouwer se Sybille teen die agtergrond van die reeds uiteengesette trajek van sede- en etiketliteratuur. In Itamar Even-Zohar (2000:193) se invloedryke essay oor die posisie van vertaling in Westerse letterkundige polisisteme merk hy op dat tekste in vertaalinfrastrukture "are chosen according to their compatibility with the new approaches and the supposedly innovatory role they may assume within the target literature". Dit, redeneer hy, gebeur veral "when there are turning points, crises, or literary vacuums in a literature" (2000:194). Die sogenaamde vakuum of keerpunt in hierdie geval is natuurlik die gebrek aan 'n Afrikaanse etiketboekdiskoers, waarvan Sybille een van die min voorlopers is. Om beide die "innovatory role" en "compatibility" waarna Even-Zohar verwys, te bespreek ten opsigte van Sybille, neem ons dan die sosiale geskiedenis van wit Afrikanernasionalistiese vroulike rolverdeling onder die loep, veral met betrekking tot die eienskappe wat weerklink (of juis daarvan afwyk) in Bouwer se vertaling van Sybille10

In Loraine Maritz (2004) se proefskrif oor die geskiedkundige rol van die Afrikanervrou in die politiek identifiseer sy deur die loop van haar ondersoek die drie uiteengesette en verwagte rolvervullings van vroue in die 1960's en 1970's. Haar gevolgtrekkings word hoofsaaklik gestaaf met verwysing na toesprake gelewer in 1974 by die simposium van die Nasionale Vroueklub van die Parlement, "Die vrou in die politiek". Bouwer was een van die sprekers by hierdie geleentheid en Maritz (2004:46-47) haal gereeld aan uit haar toespraak "Waarom so min vroue in die politiek?"

Maritz (2004:47) identifiseer eerstens dat, volgens hegemoniese Afrikaner-volksideale, die Afrikanervrou moes dien as die morele grondslag van die volk. Sy is aangesê dat haar "spesiale kwaliteite" soos 'n "filtreerbuis" moes wees waardeur die volkslewe moes vloei en "behou wat goed en reg en blywend en ewig en skoon en edel is, wat eie aan daardie volk is". Sy is dus beskou as die "bewaker van die volk" se sedes en dus ook die "bewaker teen die vyand van die volk" (2004:52; kursivering bygevoeg). Op hierdie stadium van die Suid-Afrikaanse geskiedenis was die sogenaamde Swart Gevaar en Rooi Gevaar (2004:54) die vyand teen wie die vrou aangehits is om die Afrikanervolk te beskerm, merendeels deur haar verwagte morele rol as sedebewaarder van die "volk" se kultureel-geestelike kernideale en bakermat.

Laastens beweer Maritz dat die toenemende ekonomiese welvarendheid van Afrikaners vanaf die 1960's tot gevolg gehad het dat die meeste Afrikanervroue nie om finansiële redes nodig gehad het om buitenshuis te werk nie en om hierdie rede weer eens oorwegend beperk was tot hulle rol as vrou en moeder (2004:57-64). Bouwer (aangehaal in Maritz, 2004:57) was dit eens met hierdie gevolgtrekking, maar het verder beweer dat welstand tot "onheilspellende gemaksug" lei en verduidelik dat "[s]oveel van 'n getroude vrou se tyd, aandag en geestes-energie gaan in die voortbring en grootbring van kinders, veral vandag omdat daar hoër eise aan die man in sy beroepslewe gestel word en hy langer ure buitenshuis moet werk". Bouwer waarsku die vroue by die konferensie dat té veel Afrikanervroue oormatige aandag aan hul voorkoms begin bestee en dat hulle veel eerder hul status as huisvrou moet benut deur hul tyd te gebruik vir "naastediens" (aangehaal in Maritz, 2004:58).

Naastediens, oftewel welsynswerk en liefdadigheid, was funksies wat tradisioneel alreeds sedert die vroeë twintigste eeu grotendeels deur Afrikanervroue in hul gemeenskappe verrig is (Maritz, 2014). Hierdie historiese funksies word in die 1960's as't ware by hernuwing opgeroep om deel te vorm van die diensbare aspekte van die vrou as morele nukleus van die Afrikanervolk. Hierdie kontrasterende sentimente waarin Bouwer vroue enersyds berispe oor hul eiewaan en gebrek aan politieke betrokkenheid, maar andersyds tog aanraai om hulself te koppel aan onbaatsugtige diens aan liefdadigheids- of welsynsorganisasies, is te verwagte as Bouwer se betrokkenheid by die ACVV in ag geneem word. Wat wel van belang is, is dat die welsynsorganisasies van die twintigste eeu vir Afrikanervroue die verskeie funksies (soos hier bo uiteengesit) van vroue duidelik uitspel in hul onderskeie missiestellings. Byvoorbeeld, die ACVV (s.j.:1) se leuse was "Ons Taal - Ons Volk - Ons Kerk", en hul doelstelling "[o]m alles wat suiwer en gesond Afrikaans is te bewaar en te ontwikkel; om alles wat tot opbou van die volk kan strek te bevorder". Vroue se welsynswerk was inherent verweef met die breër konseptualisering en daarstelling van Afrikanernasionalisme en die byna bekrompe rol van die vrou. In 'n pamflet getiteld Waar vroue voorvat: Oor vier vroueverenigings 1904-1975 (1975), geskryf deur Bouwer, beweer sy dat "'n [v]rou veel meer as 'n man, ten nouste gemoeid [is] met die liggaamlike en geestelike groei van mensekinders. En 'n vrou weet wat die beste kweekgrond vir gesonde groei is" (1975:5). Bouwer was dus ten gunste van vroue wat hul beywer vir welsynswerk (die morele grondslag) en hulle toespits op die versorging van kinders (die vrou in haar rol as moeder en eggenoot).

Bouwer se uitlatings op hierdie konferensie, as ons haar werk as opvoeder in aanmerking neem, tesame met haar geskrewe oeuvre en haar rol as vertaler van die etiketboek, dui op 'n tipe dualisme of innerlike polemiek. Sy is byvoorbeeld van mening dat "[o]ns Boermense ... gelukkig nog aan die huwelik as instelling [glo] en aanvaar dat die man die hoof van die gesin moet wees, omdat dit fisiologies, sielkundig, ekonomies en prakties natuurlik is"; 'n stelling wat Maritz (2004:47) interpreteer as goedkeuring van die patriargale stelsel. Daarteenoor verduidelik Maritz (2004:47) dat Bouwer ook gesê het "dat in die politiek en die sakewêreld die man nog nie die vrou se volle potensiaal erken het nie". Sy het bygevoeg dat daar "min mans in die staatsdiens en in die sakewêreld was wat bereid was om as ondergeskikte van 'n vrou te werk of van 'n vrou bevele te neem". In hierdie toespraak, deur Bouwer in 1974 gelewer, 'n paar jaar ná haar vertaling van Sybille wat letterlik 'n handleiding is vir hoe 'n vrou haarself moet versorg, aantrek en met sjarme optree, beweer sy: "As ek van ons koerante en tydskrifte moet oordeel, bly die vroutjies teenswoordig baie besig om hulle voorkoms te versorg en om in 'n terrasrok op 'n patio te onthaal" en dat hulle "'n nuwe bewustheid [het] van die streling van die kalklig" en "'n drukker sosiale lewe" voer (aangehaal in Maritz, 2004:57). Sy stel voor dat dit die redes is waarom Afrikanervroue nie betrokke raak by die politiek nie. Bouwer keur dus die hegemoniese patriargale organisasie en rolverdeling van die Afrikanersamelewing goed terwyl sy dit terselfdertyd ook as seksisties aan die kaak stel. Sy betig enersyds Afrikanervroue wat nie die politieke terrein in eie reg wil betree nie en te veel aandag en tyd aan hul voorkoms en rol as gasvroue wil bestee, maar dra andersyds direk en inherent by tot die verheffing van die rol van die vrou as moeder, eggenoot en gasvrou deur haar vertaling van Sybille, soos hier bespreek. Hierdie kontrasterende opinies, uitinge of handelinge dui op 'n gelyktydige internalisering én verwerping van die hegemoniese patriargale geslagsverdeling onder Afrikaners ten opsigte van die rol van die vrou en die man. Ons poneer dat hierdie dualisme van die vertaler Bouwer ook opmerklik is betreffende die inhoud en kontrasterende raad van die spreker in Sybille.

Soos voorheen gemeld, is 'n beduidende komponent van Sybille se maatstaf vir die suksesvolle uitoefening van sjarme die teikenleser se vermoë om sodoende 'n huweliksmaat te lok. Dit blyk duidelik uit haar raad aan vroue oor hoe hulle teenoor mans moet optree om hulle te "oortuig dat [hulle] die enigste vrou op aarde is" (1970:14). Sybille beveel aan dat die "sjarmante jong meisie" moet "weet hoe om mans te aanvaar" (1970:57), hulle "sterk en dapper en slim" (1970:58) moet laat voel en dat hul "altyd en in die eerste plaas" na mans moet "luister" (1970:58) om hul belangstelling duidelik te maak. In die hoofstuk "Help gerus die natuur 'n bietjie" (1970:45-50) raai Sybille (1970:46) haar lesers aan om hulself te verfraai en op te smuk met die gebruikmaking van skoonheidsmiddele, en verseker die leser soos volg:

Sy sal nie 'n minder betroubare sekretaresse of eggenote wees nie. Die hennetjie met die vaal veertjies is deesdae regtig iets uit die goeie ou tyd - was dit altyd beter? - en die goeie huisvroutjie kan haar sop nog net so goed en beter voorsit, haar tuiste nog net so 'n veilige hawe vir man en kinders maak, as sy haarself effens regtrek met die behulp van 'n skoonheidsmiddeltjie hier en daar. Soos die yskas en die wasmasjien het mooimaakgoed 'n deel van die moderne vrou se lewe geword, en die gebruik hiervan wil glad nie bewys dat sy 'n minder knap huisvrou en 'n minder voorbeeldige eggenote en moeder is as haar ouma wat hierdie dinge nie gehad en nie gebruik het nie.

Die herhaaldelike verwysings na "eggenote", "huisvroutjies" en die aanname dat die teikenleser moontlik alreeds 'n moeder is, dui daarop dat die verwagte sosiale rol wat vroue as eggenoot en moeder in die Afrikanergemeenskap van die 1960's vervul het, ooreenstem met Sybille se voorskrifte en verwagtinge. Dit dui op 'n versoenbaarheid ("compatibility", aldus Even-Zohar, 2000:193) met die aannames en ideologieë van die doeltaalgemeenskap van die vertaalde teks. Tog kan afwykings van hierdie vasgestelde rol ook geïdentifiseer word.

Sybille verwys twee keer na vroue se aanvaarde omgang met hulle werkgewers en noem ook vroue se potensiële posisie as werknemers ten opsigte van vele ander geleenthede (1970:2526). Sy beweer dat smaakvol "gelakte naels [...] [h]uweliksmaats, goeie hoofde en klante" (1970:43) lok, dat haar teikenleser dalk agter "haar tikmasjien" sit of dalk in die "gesellige voorkamer van haar bestuurder en sy vrou" (1970:14), of dat sy haarself dalk bevind by "die inkomstebelastingman" (1970:24). By twee geleenthede verwys Sybille na vroue wat vir verhogings vra by hul onderskeie base (1970:24; 26). Alhoewel die neergelegde en verwagte rol van vroue in Afrikanergemeenskappe van die 1960's en 1970's as eggenote en moeders nie werkende vroue noodwendig uitsluit nie, het die meeste vroue hulself inderdaad bepaal by huis en haard. Bouwer, as vertaler, met haar weersin in gemaksugtige huisvroue enersyds, maar haar ondersteuning van vroue se rol as vrou en moeder andersyds, het heel waarskynlik Sybille se posisie oor werkende vroue en moeders heelhartig beaam.

Sowel die opmerklike dualisme van die raad wat in Sybille aan vroue verskaf word as Bouwer se kontrasterende opinies wat sy deur die gang van haar loopbaan gelug het, kan heel waarskynlik toegeskryf word aan die invloed wat die tweede feministiese beweging selfs op essensialistiese en tradisionele gemeenskappe soos wit Afrikaners uitgeoefen het. Sybille en Bouwer se onderskeidelike raad en opinies word onderskryf deur die gelyktydige aanvaarding en internalisering van patriargie aan die een kant, teenoor lighartige kritiek daarop aan die ander. Sybille se teikenleser word byvoorbeeld gereeld uitgebeeld as 'n beroepsvrou, nie net as moeder en eggenote nie, en sy gee herhaaldelik raad oor hóé vroue groter sukses in hulle loopbane kan behaal. Tog is hierdie raad steeds deurspek met 'n patriargale etos, waarin daar slegs soms afwykings waarneembaar is. Dit herinner aan Bouwer se kritiek dat mans nie vroue se potensiaal erken nie en onbereidwillig is om in hulle beroepslewens aan hulle ondergeskik gestel te word, wat eintlik daarop dui dat Bouwer vroue graag in leiersposisies in die professionele en ekonomiese domein wil sien - 'n kerndoelwit van die tweede feministiese beweging. Bouwer se opmerklike irritasie met die feit dat Afrikanervroue hulself reduseer tot bloot ydele sosiale vlinders gee te kenne dat die tweede feministiese beweging wel 'n invloed gehad het op selfs taamlik tradisionele denkers in Suid-Afrika.

Die feit dat hierdie feministiese impuls in Sybille maar skraps is en nooit tot 'n logiese konsekwensie deurgevoer word nie, kan moontlik verklaar word aan die hand van drie aaneenskakelende faktore: (1) die eksplisiete doel van die etiketgenre van daardie tydperk om vroue se patriargaal voorskriftelike rol te bevestig; (2) die heersende ideologie van die vrou as die morele bewaker van die volk en die omskrywing van daardie betrokke moraliteit in Suid-Afrika; (3) die vrees vir politieke ideologieë wat die emansipasie van vroue sou saamknoop met ander omwentelinge wat uiteindelik die politieke status quo sou bedreig en die patriargale stelsel sou omverwerp.

Sybille spreek gereeld op 'n indirekte wyse die rol van die vrou as behouer van moraliteit aan deur aanduidings en voorskrifte vir die korrekte optrede en voorkoms van die vrou in verskeie situasies, maar in twee gevalle spreek sy sedelike gedrag direk aan. Sy uiter die opinie: "'n Vrou met sjarme is op stuk van sake geen losbol nie en hoort ook nie in die klas van vroue wat 'n aand verlore noem as sy dit nie met sagte musiek by gedempte ligte in 'n nagklub kon deurbring nie" (1970:63; kursivering bygevoeg). Verder beweer sy: "Selfs sjarmante vroue, of sal ek sê veral sjarmante vroue, kan gerus suinig wees met hul soene. Dit kan hulle maar opspaar vir iemand wat lewenslank hul sjarme gaan besit en bewonder" (1970:68). Hierdie sedelike voorskriftelikheid wat vroue aanmoedig om rein te bly en preuts op te tree is nie ongewoon vir etiketboeke van daardie tydperk nie.

Dit is dus voor die hand liggend dat dié tipe siening van morele vroulikheid soos uiteengesit in die bronmateriaal maklik oordraagbaar was in die doeltaal en inderdaad moeiteloos absorbeerbaar was in die Afrikanerkultuur van die 1960's. 'n Verwysing na ' n ander voorbeeld van sedeliteratuur (en Afrikaner-nasionalistiese propaganda), gepubliseer twee jaar voor Sybille se verskyning, ondersteun ons argument dat Sybille se morele voorskrifte byna naatloos vertaalbaar was in Afrikanergemeenskappe se konvensionele waardestelsels. Die Dirkie Uys Stigting het in 1966 'n brosjure laat publiseer wat die Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap, J de Klerk, se toespraak ter viering van die vyfjarige Republiekwording bevat, getiteld: Die Republiek praat met sy dogters. De Klerk (1966:3) waarsku met 'n gewigtige, onheilspellende toon:

'n Volk is moreel so gesond as die moraliteit van sy vroue. En, laat ek jou waarsku ... As jy die morele wette op geslagtelike gebied oortree, sal jy hiervoor jou siel - jou ware self - as prys betaal. Leegheid, bitterheid en onvergenoegdheid is die samegestelde rente wat onverbiddelik gevorder word op die rekening vir immoraliteit - wat neerkom op 'n skending van die tempel van God.

As jy luister na die verleier, kan jy, as 'n onterfde van jou vroulike reg, 'n groter vernietiger van die samelewing word as die ergste onder die mans.

Jou hoogste deug lê onder andere in jou voorbeeld ten opsigte van moraliteit wat jy aan ander stel.

Dit word duidelik uit die bogenoemde aanhaling dat vroue, en nie mans nie, geag is as die morele bewakers van Afrikaners se waardes en norme en dat dit hul "hoogste deug" was om ook so op te tree. Hierdie voorgeskrewe morele gedrag het dan ten doel gehad dat die vrou nie net as die bewaker van die volk se sedes moes dien nie, maar ook as teenvoeter teen die "vyand"; dit wil sê: teen ideologieë en norme wat nie ooreengestem het met dié gepropageer deur Afrikanernasionalisme nie. Hierdie "vyand", soos voorheen genoem (Maritz, 2004:54), was kommunisme en die wetlike gelykstelling van swart met wit in Suid-Afrika. Volgens De Klerk (1966:2-3) word die "Emansipasie van die Vrou" hierby ingesluit en bring hy dit ook op 'n latere stadium in direkte verband met kommunisme (1966:2):

Net soos daar vyande is wat probeer om die manlikheid van ons seuns te vernietig, so is daar vyande wat poog om jou vroulikheid te vernietig. Daarom probeer hulle die "emansipasie" van die vrou so stuur dat die vrou skoon weg van haar vroulikheid begin beweeg. Nog nooit was die vrou so vry om te kies wat sy met haar lewe wil maak soos vandag nie. [... ]

Maar hulle doel is nie daarmee om aan die man en die vrou elk 'n eie plek in die lewe toe te ken nie - hulle wil van jou 'n slaaf maak van die leuen wat "gelykheid" genoem word. [... ]

Soos 'n slang in die gras kom die mees geslepe lis vandag tot jou op die universiteits-en kollege-gronde, in die kantoor en op die straat, sluip dit in vermomde vorm rond en lok jou uit en hits jou aan om vryhede te neem en dinge te doen wat ontrou aanjou diepste wese is en in stryd is met al ons eeue-oue sedewette.

In aansluiting hierby spreek Sybille ook die emansipasie van die vrou aan:

Sy hoort ook nie by dié vroue wat met trommel en basuin hul regte verkondig en verdedig nie. Sy het dit nie nodig nie, sy verkry haar reg sonder wet. Sy verdedig nie haar plek met luide protes, gloeiende slagspreuke en hartstogtelike betoë nie. Sy is in alles sag en sy kan wag. [...] Ten spyte van al die nuutverworwe vryhede van die vroulikheid, bly die vermoë om toe te gee, een van die mooiste vroulike eienskappe. Dit weet die sjarmante vrou goed en dit is waarom mans van haar hou. (1970:61)

Volgens die spreker van Sybille verkry vroue hulle regte "sonder wet", 'n aanduiding dat die spreker van mening is dat vroueregte en die "luide protes" wat dit meebring, sowel onnodig as onvroulik is. Die spreker stel prontuit en sonder skroom voor dat vroue van manipulasie gebruik moet maak om hulle doel te bereik. Hierdie voorstel weerspreek Sybille se voorskrifte dat vroue met morele inbors moet optree. Met verwysing na die bogenoemde aanhaling blyk dit dat Sybille onselfsugtigheid, ondergeskiktheid en doelbewuste stilswye ten opsigte van vroueregte voorhou as vroulike ideale sodat vroue "mans" se goedkeuring kan wegdra.

Sybille en De Klerk beweer dus beide dat "gloeiende slagspreuke en hartstogtelike betoë" vir vroueregte vroulikheid "vernietig". Ironies genoeg verwys beide na die "vryhede" en sosiaal-ekonomiese geleenthede wat vroue bekom het deur protes aan te teken, en hulle raai vroue nie juis af om gebruik te maak van hierdie geleenthede nie, maar eerder om nie betrokke te raak by politiek en protesaksies nie, aangesien dit nie strook met voorskriftelike vroulikheid nie. Inderdaad kom dit voor asof De Klerk hom daarvan weerhou om vroue te vermaan het om nié die arbeidsmark te betree nie - 'n aanduiding van die neerslag wat die tweede feministiese beweging gevind het, nie net op Sybille en Bouwer se kontrasterende raad en opinies nie, maar selfs op propageerders van Afrikanernasionalisme. Dit is dus duidelik dat die tweede feministiese beweging inderdaad in ruimer sin "soos 'n slang in die gras" - om 'n frase by De Klerk te leen - begin inseil het onder dominante diskoerse, selfs by diegene gekant teen die beweging se gemoeidheid met gelyke regte en gelyke ekonomiese geleenthede. Dit is dus moontlik om Bouwer se botsende uitsprake en Sybille se teenstrydige raad gedeeltelik toe te skryf aan die subtiele invloed wat die tweede feministiese beweging in die 1960's en 1970's in Suid-Afrika en dele van die Westerse wêreld begin uitoefen het. Vanuit die bogenoemde bespreking is ons gevolgtrekking dat die norme van die doeltaalgemeenskap waarin Sybille as vertaling ontvang is, in die laat sestigerjare ooreenstem met die milieu waarin die bronteks geskep is en dat hierdie vertaling, met al sy vreemde teenstrydighede, 'n weerspieëling is van die paradoksale houdings van die vertaler se doeltaalgemeenskap teenoor vroue se agentskap binne die Afrikanernasionalistiese patriargie.

 

4. Slot

Sover ons kennis strek, is daar nog nooit vantevore 'n oorsig van sedeliteratuur, en meer spesifiek 'n omskrywing van die konvensies, ontstaansgeskiedenis en ontwikkelling van die etiketboekgenre, in Afrikaans gepubliseer nie. Hierdie artikel het hierdie lakune deels aangespreek deur 'n definisie van sedeliteratuur te verskaf asook 'n beskrywing van een van die subgenres, naamlik etiketliteratuur. Ons ontleding van Sybille: Sjarmante vriendin toon dat hierdie Afrikaanse vertaling in ooreenstemming is en getrou bly aan die oorsprong van die genre in die negentiende eeu wat onselfsugtigheid en selfloosheid van vroue vereis het. Hierdie voorgeskrewe onselfsugtige diensbaarheid het staatgemaak op en was afhanklik van "patriarchal domination" (Curtin, 1985:422). Die ontleding van Sybille se vroulike voorskriftelike gender-performance het, in aansluiting by die bogenoemde punt, getoon dat die verkose vroulike ideaal normatief van aard was (sonder eienskappe wat as "té" beskou word) en dat hierdie optrede juis voorgeskryf word om mans te paai, te vereer, en hulle lewens te vergemaklik. Ons het verder die waardestelsels en geslagsordening wat geheers het onder Afrikaners in die 1960's en 1970's in aanmerking geneem in ons bespreking van hierdie vertaling, in lyn met die deskriptiewe vertaalteorie se aandrang op die beskouing van 'n teks as deel van diskoersontwikkeling in die doeltaal, en vasgestel dat die patriargale Afrikaner se geslagsrolverdelings gestrook het met die genderbeskouings van die bronteks Sybille. Die byna naatlose vertaalbaarheid (figuurlik) van die voorskrifte, waardes, norme en ideologieë soos omskryf in die bronteks Sybille na die heersende diskoers van die doeltaalgemeenskap dui op die versoenbaarheid ("compatibility") van die bronmateriaal met die samelewing waarin dit ontvang is.

Dit is moontlik om te beweer dat Bouwer, wat haar niefiksie-skryfwerk beskou het as pedagogies van aard, die vertaling van Sybille gesien het as deel van haar opvoedingstaak vir volwassenes. Wat egter na vore tree in ons bespreking van Bouwer se opinies en lewensbeskouings, is dat die voorskriftelike vroulike gendergestuurde gedrag, onderskeidelik omskryf deur Sybille en die Afrikanergemeenskap in breë sin, terselfdertyd ondersteun en verwerp is deur Bouwer. In hierdie artikel word geargumenteer dat die dualisme wat opmerklik is in Bouwer se soms botsende uitsprake, net soos die weersprekings in Sybille se raad, toegeskryf kan word aan die subtiele invloed wat die tweede feministiese beweging begin uitoefen het in Suid-Afrika en in dele van die Westerse wêreld. Die tweede feministiese beweging het, soos ons aandui, stelselmatig begin insluip selfs in Afrikanerpropaganda. Ten spyte van hierdie byna terloopse invloed van die tweede feministiese beweging is Sybille egter steeds 'n handleiding geskryf vir vroue oor hoe om hul gedrag aan te pas sodat "mans van [hulle sal] hou" (1970:61).

 

BEDANKINGS EN ERKENNINGS

Ons bedank graag vir Prof. Ilse Feinauer en Dr. Mathilda Slabbert vir hul insette in verband met die inhoud van hierdie artikel. Ons spreek ons innige dankbaarheid uit teenoor Dineke Ehlers, Marelise van der Merwe en Hesti van der Mescht wat op verskillende stadiums die taalversorging van hierdie artikel behartig het. Die finansiële bydraes van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel (wat Danie Stander beklee) word met dank erken.

 

BIBLIOGRAFIE

Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging. s.j. Konstitusie van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging. Stellenbosch: NG Kerkargief, ACVV versameling, K-DIV 741.         [ Links ]

Ajomand, M. 2014. Editor's preface. In Fischer-Lichte, E. The Routledge introduction to theatre and performance studies. London: Routledge, pp. x-xi.         [ Links ]

Althof, W, Marvin, W & Berkowitz, MW. 2006. Moral education and character education: their relationship and roles in citizenship education. Journal of Moral Education, 35(4):495-518.         [ Links ]

Anoniem. 1959. Sybille: Sjarmante vriendin. Vert. A. Bouwer. 2de druk 1970. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Austin, JL. 1962. How to do things with words. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Bérenguier, N. 2011. Conduct booksfor girls in Enlightenment France. Surrey: Ashgate.         [ Links ]

Bermann, S. 2014. Performing translation. In Bermann, S & Porter, C (eds). A companion to Translation Studies. Hoboken, NJ: John Wiley, pp. 285-297.         [ Links ]

Bethanne, P. 2011. An uncommon history of common courtesy: How manners shaped the world. Washington: National Geographic.         [ Links ]

Boruch, M. 2016. Charm. The Massachusetts Review, 57(1):128-140.         [ Links ]

Blignault, A. 2008. 'n Blywende vreugde: Briewe van Audrey Blignault. Fourie, M, Brink, L & Metelerkamp, P. (reds.). Hermanus: Hemel & See.         [ Links ]

Bouwer, A. 1995. Die lang reis van hart tot hart: 'n Keur uit haar toesprake deur Rykie van Reenen. Van Reenen, R. (samest.). Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Bouwer, A. 1975. Waar vroue voorvat: Oor vier vroueverenigings 1904-1975. Stellenbosch: NG Kerkargief, pamflet-versameling.         [ Links ]

Bouwer, A. 1955. Stories van Rivierplaas. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Butler, J. 1993. Bodies that matter: On the discursive limits of "sex". New York: Routledge.         [ Links ]

Butler, J. 1999. Gender trouble: Feminism and the subversion of identity. New York: Routledge.         [ Links ]

Carré, J. 1994. Introduction. In Carré, J. (ed.). The crisis of courtesy: Studies in the conduct-book in Britain, 1600-1900. Leiden: E.J. Brill, pp. 1-8.         [ Links ]

De Klerk, J. 1966. Die Republiek praat met sy dogters. Pretoria: Dirkie Uys Stigting.         [ Links ]

Du Preez, P. 2007. Ikoon en medium: Die toneelpop, masker en akteur-manipuleerder in Afrika-performances. PhD-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Dept. Drama.         [ Links ]

Even-Zohar, I. 2000. The position of translated literature within the literary polysystem. In Venutti, L (ed.). The Translation Studies reader. London: Routledge, pp. 192-198.         [ Links ]

Foster, GA. 2000. Troping the body: Gender, etiquette, and performance. Carbondale, IL: Southern Illinois University Press.         [ Links ]

Fourie, P. 2015. Herinnering op die verhoog: Performatiwiteit in David Kramer en Taliep Petersen se Kat and the Kings. LitNet Akademies, 12(2):75-112.         [ Links ]

Jones, V. 1996. The seductions of conduct: Pleasure and conduct literature. In Porter, R & Roberts, MM. (eds). Pleasure in the eighteenth century. New York: New York University Press, pp. 108-132.         [ Links ]

Kannemeyer, JC. 2005. Die Afrikaanse literatuur, 1652-2004. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Lefevere, A. 1992. Translation, rewriting, and the manipulation of literary fame. London: Routledge.         [ Links ]

Louw, C. 1973. Vir jou, juffrou. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Marinetti, C. 2013. Translation and theatre: From performance to performativity. Target, 25(3):307-320.         [ Links ]

Maritz, L. 2004. Afrikanervroue se politieke betrokkenheid in historiese perspektief met spesiale verwysing na die Women's National Coalition van 1991 tot 1994. PhD-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Dept. Geskiedenis.         [ Links ]

Naudé, H. 1967. Etiket vir elke geleentheid. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.         [ Links ]

Naudé, S. 1958. Skoonheid en sjarme. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.         [ Links ]

Post, E. 1934. The blue book of social usage. New York: Funk & Wagnalls.         [ Links ]

Rothmann, ME. 1928. Ons skrapse rokke. Die Boerevrou, Julie, pp. 6-8.         [ Links ]

Schoeman, E. 1981. Goeie maniere en etiket. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Stander, D. 2021. "Darling, ek is onrondneukbaar": Intertalige en intersemiotiese vertaling in TRUK se 1983-produksie van Nerina Ferreira se Afrikaanse vertaling van William Shakespeare se The taming of the shrew as Die vasvat van 'n feeks. LitNet Akademies, 18(3):24-58.         [ Links ]

Terblanche, E. 2020. Alba Bouwer (1920-2010). LitNet. https://www.litnet.co.za/alba-bouwer-1920-2010/ [17 Maart 2021].         [ Links ]

Truter, S. 1993. 'n Lewe vol stories. Sarie, 23 Junie, p. 19.         [ Links ]

Van Coller, HP (red.). 2015. Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel I. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Van Coller, HP (red.). 2016. Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Van Coller, HP (red.). 2016. Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Deel 3. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Van Niekerk, A. 1986. 'n Kuier by Alba van Bergplaas. Sarie, 16 Junie, pp. 66-67.         [ Links ]

V.D.M. 1972. Rokkies wil sy dra. Kerkblad vir die Gereformeerde Kerk onder die Kleurlinge, No. 1. Maart, p. 1.         [ Links ]

Wikipedia. 2020. Alba Bouwer. https://af.wikipedia.org/wiki/Alba_Bouwer [17 Maart 2021].         [ Links ]

Wikipedia. 2021. Anneliese Friedmann. https://de.wikipedia.org/wiki/Anneliese_Friedmann [2 Februarie 2022].         [ Links ]

Wikipedia. 2020. Character education. https://en.wikipedia.org/wiki/Character_education [13 March 2021].         [ Links ]

Wouters, C. 1995. Etiquette books and emotion management in the 20th century. Part 2: the integration of the sexes. Journal of Social History, 29(2):325-339.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-04-14
Goedgekeur: 2021-12-15
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Lizelle Smit is 'n nadoktorale navorsingsgenoot van die Universiteit van Stellenbosch se Departement Engelse Studies. Sy het haar PhD, getiteld "South African Female Subjectivity (1868-1977): Life Writing, the Agentive 'I' and Recovering Stories" in 2019 aan die US verwerf. In haar navorsing ondersoek sy merendeels ongepubliseerde ego-tekste of lewensbeskry-winge van Suid-Afrikaanse vroue wat sy opspoor in verskeie argiewe. Sy het al artikels oor die ego-tekste van Petronella van Heerden, Joyce Waring, Melina Rorke, Pauline Murray en Jane Elizabeth Waterston gepubliseer.
Lizelle Smit is a postdoctoral fellow at the English Department of Stellenbosch University. She obtained her PhD in 2019 at Stellenbosch University, with a thesis titled "South African Female Subjectivity (1868-1977): Life Writing, the Agentive 'I' and Recovering Stories". Her research examines forgotten or neglected South African women's life writing which she locates in various archives. She has published research papers on the life writing of Petronella van Heerden, Joyce Waring, Melina Rorke, Pauline Murray and Jane Elizabeth Waterston.

 

 

Daniël Botha Stander is tans 'n nadoktorale navorsingsgenoot by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands. Hy voltooi die grade BA(Drama), BAHons(Engels), MA(cum laude), en verwerf sy doktorsgraad in Engelse Studies in 2019 aan die Universiteit van Stellenbosch. In 2014 ontvang hy 'n nagraadse onderwysdiploma in opvoedkunde waarna hy hoërskoolleerlinge in Engels en Drama onderrig in 2015 en 2016. Stander het voorheen gewerk as a seminaarlektor by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Engelse Studies en hy het opgetree as tutor vir voorgraadse studente in dieselfde vak by US en die Universiteit van die Wes-Kaap. Sy navorsingsfokusse sluit in: outo/biografie, literêre biografie, biofiksie, outofiksie, teater- en performance studies, historiografie, kanonstudies, vertaalstudies, die geskiedenis van die sonnet en Suid-Afrikaanse letterkunde en -geskiedenis.
Daniël Botha Stander is presently a postdoctoral fellow at the Department of Afrikaans and Dutch (Stellenbosch University). He completed the degrees BA(Drama), BAHons(English Studies), MA(cum laude) and obtained his DPhil(English Studies) in 2019 at the University of Stellenbosch (SU). In 2014 he completed a postgraduate diploma in education after which he taught English and Drama at secondary school in 2015 and 2016. Stander was a seminar lecturer at SU's English Department and tutored undergraduate students in English Studies both at SU and the University of Western Cape. His research interests include: auto/ biography, literary biography, biofiction, auto-fiction, theatre and performance studies, historiography, canonicity, translation studies, the history of the sonnet and South African literature and history.
1 Die Duitse etiketboek is inderdaad anoniem gepubliseer, maar ons het (te danke aan ons taalversorger, Dineke Ehlers, wat Duits magtig is, en die inisiatief geneem het om haar eie navorsing te doen) vasgestel dat Anneliese Friedmann die outeur was. Die Wikipedia-blad (2021) oor Anneliese Friedmann, waarvoor ons die vertaalfunksie kon gebruik om die inhoud te lees, meld dat Friedmann (1927-2020) 'n joernalis by die koerant Süddeutsche Zeitung was en later op die redaksie gedien het. Sy was in beheer van die skoonheidsblad en het in hierdie kapasiteit 'n weeklikse kolom geskryf onder die skuilnaam "Sibylle" (2021). Alhoewel Charmante Freundin: Sybille anoniem gepubliseer is, sou meeste Duitse lesers wel bewus wees van die feit dat die boek van die rubriek afkomstig is.
2 Ons kort die Afrikaanse titel voorts af as Sybille. Al die aanhalings word geneem uit die tweede druk van Sybille uit 1970.
3 Ons gebruik van die leenwoord-as-vakterm performance word deur die volgende oorwegings gemotiveer. Die term performance word reeds in Afrikaanse akademiese navorsing toegepas (Du Preez, 2007; Fourie, 2015) en so ook die spesifieker term gender performance (Stander, 2021). In Duitse teater- en performance-wetenskap behels die woord performance die samesmelting van die begrippe aufführen ("opvoer") en ausführen ("uitvoer");performance dui dus op 'n handeling wat 'n kombinasie van hierdie twee betekenisse behels (Ajomand, 2014:x). In hierdie artikel toon ons aan dat gender, spesifieker nog, hegemonies-bepaalde vertolkings van Afrikanervroulikheid in die sestigerjare, inderdaad aspekte van uitvoering en opvoering behels. Dit is 'n uitvoering in die sin dat dit iets is wat gedoen word, 'n (sosiokulturele) plig wat volvoer word, maar dit is ook 'n opvoering omdat dit begrond is in 'n mate van selfbewustheid wat baie soorte uitvoerings nie kenmerk nie.
4 LitNet (2020) se skrywersprofiel oor Bouwer, Perspektief en profiel Deel 1-3 (2015-2016), Die Afrikaanse Literatuur, 1652-2004 (2005) en die uitstekende Afrikaanse Wikipedia-profiel (2020) oor Bouwer bevat geen verwysing na hierdie vertaling nie. Daarby kon ook geen verwysing na hierdie vertaling in ander bronne opgespoor word nie.
5 Sedeliteratuur is die sambreelterm wat ons gebruik om te verwys na die vele Afrikaanse subgenres van niefiksiewerke gemoeid met die oordrag van opvoeding, goeie maniere en moraliteit, soos byvoorbeeld etiketliteratuur, voorligtingsliteratuur, afrondingsliteratuur en tekste oor gedragskodes en goeie maniere. Dit sluit ook godsdienstige pamflette en sekere tipes propaganda in. Die Engelse ekwivalent vir die term "sedeliteratuur" is die geskrewe tekste binne die raamwerk van die sogenaamde conduct books of conduct literature (Bérenguier, 2011:2-3; Jones, 1996:108-109; Carré, 1994:1-8) aangaande "moral education" (Althof & Berkowitz, 2006:497) of "character education" (Althof & Berkowitz, 2006:496), soms ook in die geheel aangedui as moral and character education (Althof & Berkowitz, 2006:495). Die wyer doel van hierdie tipe literatuur is morele, etiese, en gedragsopvoeding om 'n teikengroep of spesifieke samelewing te onderrig in aanvaarbare gedragskodes en mense aan te maan tot "moral, civic, good, mannered, behaved, non-bullying, healthy, critical, successful, traditional, compliant or socially acceptable beings" (Character Education, 2021). Die kernbestanddeel van hierdie genres is die verskaffing van handleidings vir aanvaarbare gedrag onderskryf deur morele kodes wat ons dus kondenseer tot die begrip sedes en verwerk tot die koepelterm sedeliteratuur.
6 Die meerderheid etiketboeke in Afrikaans wat ons opgespoor het, is in hierdie tydperk uitgegee.
7 Die voorganger van die etiketgenre in Europa is courtesy literature (hoflikheidsliteratuur). Hoflikheidsboeke se teikenlesers was manlik en deel van die adelstand (Curtin, 1985:396). Die genre was meestal gemoeid met hoe mans van die adelstand hulleself moes handhaaf in die koninklike howe van Europa (Curtin, 1985:398). Hoflikheidsliteratuur was gewild vanaf die Renaissance tot en met die negentiende eeu, toe etiketliteratuur die genre vervang het. Die kerndoel van hoflikheidsliteratuur was om die teikenlesers (aristokratiese mans) bewus te maak van die morele grondslag van gedragskodes en die "moral virtues of an ideal individual - grace, fortitude, self-control" (Curtin, 1985:409). Daarenteen het die etiketgenre, ten minste tydens die ontstaansjare van die genre in die negentiende eeu, gefokus op voorskrifte vir goeie maniere en die korrekte gedrag by uiteenlopende sosiale geleenthede soos "dinners, balls, receptions, presentations at court, calls, promenades, introductions, salutation" (Curtin, 1985:409). Sowel die teikenleser as die skrywers van die etiketgenre tydens die negentiende eeu was grotendeels middelklasvroue wat óf wou leer óf self handleidings wou skryf oor die "specific details of the aristocratic lifestyle" (Curtin, 1985:412). Curtin (1985:422) verduidelik dat die voorskriftelike vroulike taktvolheid en welwillendheid geanker was in selfopoffering, en beweer: "Since this moral beauty consisted largely of various forms of self-sacrifice, it could flourish only when self-sacrifice was saved from being self-destructive. All this was nicely compatible with, and indeed dependent upon, patriarchal domination" (kursivering bygevoeg).
8 Met verwysing na Gwendolyn Foster se bespreking van die etiketboekgenre in Troping the body: Gender, etiquette, and performance (2000) is dit moontlik om vas te stel dat die menings van die spreker in Sybille ooreenkom met dié in internasionale etiketliteratuur en byna 'n bloudruk is van die verskeie trope, retoriese tegnieke en onderskeie onderwerpe wat geïdentifiseer word in hierdie genre.
9 Verwysings na en besprekings oor vroue se kleredrag word gereeld gevind in Afrikaanse sedeliteratuur. M.E.R. (1928:6) het byvoorbeeld reeds in 1928 'n rubriek geskryf in Die Boerevrou, getiteld "Ons skrapse rokke", en beweer: "Alle modes verwek verset; ons oumas se hoepels het seker oneindige aanmerkings uitgelok; ek onthou hoe ons ingerygde middels van veertig jaar gelede verset en teenstand verwek het; maar nog nooit was daar sulke aanvalle op die modes nie, as op die kort rokke en blootgestelde bene en arms wat die vroue van vandag vertoon nie." In 1972, ongeveer ten tye van Sybille se publikasie, vind ons 'n rubriek getiteld "Rokkies wil sy dra ..." wat streng waarsku: "Vreemde en gevaarlike neiginge ten opsigte van die kleredrag van die vrou in ons Republiek het die afgelope tyd só ontstellend toegeneem, dat dit dringend noodsaaklik geword het dat elke christenmoeder en christendogter grondig sal besin oor die beginsels van God se Woord met betrekking tot ons kleredrag" (V.D.M., 1972:1). Aanvaarbare kleredrag was 'n kernbestanddeel van 'n vrou se vertolking van haar vroulikheid.
10 In ons bespreking van die versoenbaarheid van die waardes en norme gepropageer deur die vertaalde teks met dié van die doeltaalgemeenskap, verwys ons na die verwagte rolvervullings van Afrikanervroue in die 1960's en 1970's. Die bespreking van die sosiale rol van Afrikanervroue word beperk tot hierdie uiteengesette periode. Ons verwys nie na die eerste helfte van die twintigste eeu nie om twee redes: (1) die sosiale en ekonomiese geskiedenis van Afrikanervroue in die eerste helfte van die twintigste eeu is deeglik geboekstaaf en algemeen bekend; (2) daarenteen het ons ten tye van die aanvang van ons ondersoek na die sosiale rol van die Afrikanervrou in die 1960's en 1970's besef dat daar byna geen inligting (in verskeie velde, insluitende sosiologie, antropologie, geskiedskrywing en literatuur) oor hierdie onderwerp beskikbaar is nie. Na 'n uitgebreide soektog is die proefskrif (Maritz, 2004) wat hier gebruik word die nuttigste en mees relevante bron wat ons kon opspoor. Ons het dus besluit dat dit belangriker was om die rol van die Afrikanervrou in die periode 1960-1970 deeglik te bespreek (omdat daar so min inligting daaroor beskikbaar is) eerder as om die ontwikkeling van die rol van die Afrikanervrou in die geheel in ag te neem. Ons bespreking handel oor die teks as 'n vertaling en die versoenbaarheid van die vertaalde teks tot die doeltaalgemeenskap en daarom bespreek ons nie die ekonomiese en maatskaplike oorsake wat bygedra het tot die vorming van vroue se sosiale rolle in die uiteengesette tydperk nie. Soos reeds genoem, is daar baie bronne wat oor hierdie onderwerp handel.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons