SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1Hegemony and power: A normative reflection as elucidated by a case studyGender performance in Alba Bouwer 's Afrikaans translation of the etiquette book Sybille: Sjarmante vriendin (Sybille: Charming friend) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/V62N1A10 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale: Strukturele en inhoudelike patroonmatighede

 

Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories: Patterning in the structure and general content

 

 

Corné van der vyver

Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Corne.VanDerVyver@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

In hierdie artikel word verslag gedoen van 'n deduktiewe ontleding van 'n versameling Jakkals-en-Wolfverhale met betrekking tot struktuurelemente, strukturele patrone, variasiepatrone en inhoud volgens die beginsels van strukturalistiese narratologie. Die struktuurmodelle wat reeds deur ander navorsers in volks- en trieksterverhale uitgewys is, is ook aan hierdie korpus getoets. Daar is bevind dat Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale ooreenstem met die universele patrone van trieksterverhale. Dit het ook geblyk dat die held in hierdie verhale bepaal word deur die oogpunt waaruit die gebeure beskou word. Jakkals is onder meer 'n metafoor van die triekster wat in 'n sosiaal beter posisie geplaas word deur die feit dat hy slim is en daarin kan slaag om die fisiek sterkere te uitoorlê. Daar is bevind dat die struktuur van die Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale in sekere opsigte uniek is - 'n universele verlede, unieke karakters, 'n beperkte ruimte, 'n verteller-fokalisator, gebeure waarvan die episodes op mekaar volg, episodes wat ingebed is in 'n handelingsreeks en vertellers wat ingestel is op die kindergehoor. Dit is duidelik dat die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale dinamies gebly het. 'n Wyer soektog behoort geloods te word om meer volksverhale, in veral die Suid-Afrikaanse konteks, wetenskaplik te versamel sodat meer verhale met mekaar vergelyk kan word ten einde tot 'n algemener gevolgtrekking te kan kom oor die struktuur en patroonmatig-hede in Suid-Afrikaanse volksverhale.

Trefwoorde: aktante, dieptestruktuur, narratief, ontleding, patroonmatighede, triekster, trieksterverhaal, struktuur, struktuurelemente, volksverhaal


ABSTRACT

This article explores characteristic or repetitive pattern formations in the structure and general content of selected Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories. By using a specific methodology, a corpus of stories was first selected, followed by a comparative analysis of the different stories. An analysis of repetitive patterns necessitates both syntagmatic and paradigmatic readings of the stories, as demonstrated in both Bremond's (1977) model, dealing with the action in stories and Greimas's (1966) actantial model focusing on different functions of characters. By utilising these analytic models, the methods of storytelling and foregrounding, as well as the meaning of these relationships and of the stories as a whole could be discerned. Pre-existing structural readings of the folk tale, the trickster tale and Jackal and Wolf stories also added value to the research. Some examples from the corpus of stories are provided to illustrate and substantiate findings. The corpus consisted of sound recordings by a project team led by Du Plessis (1987:814), recordings made by the researcher in the Murraysburg district in June 2010, Jackal and Wolf stories told by Dana Niehaus (2011), and stories from the volumes Die Kaskenades van Jakkals en Wolf (Rousseau, 2011), Die Mooiste Afrikaanse Sprokies (Grobbelaar & Verster, 2007), and Jakkals en Wolf (Grobbelaar & Verster, 2011).
Both Bremond's action logic and Greimas's actantial model proved valuable in describing the structure of the stories and the unique formations of patterns that emerged from the analysis. For example, the actantial roles (Greimas) in Jackal and Wolf stories represented indications of an underlying deep structure informing countless re-telling of the different stories. Regarding the structure of events (Bremond), it was noticeable that in some of the stories, the episodes followed one another successively, while in others the episodes were embedded in previous episodes. A comparative reading of the Jackal and Wolf trickster stories revealed significant relationships between the structural elements of the different stories. For example, the stories all take place in a universal past; there are usually three characters in these stories, but usually it is only Wolf that is defeated. The characters are mostly male, and the few female characters present in the stories remain in the background. The characters constantly find themselves in a space thatfluctuates between a domesticated and an undomesticated world. The stories are mainly told by an external narrator-focaliser who narrates and observes and who is not limited to a particular position. These stories are most often told by male storytellers. Many of the storytellers are highly attuned to the audience and they often adapt the stories to suit their target audience (South African children). Many of the storytellers engage the audience by making use of ingenious techniques; for example, by directly involving the audience in dialogue or offering moral lessons.
It clearly emerged that the identity of the hero in these stories depends on the perspective from which the events are considered. The investigated corpus shows that the stories can be described as trickster tales in more ways than one, and that they follow the general patterns of trickster tales. It is also clear that the identified structures remain dynamic.

Keywords: actants, analysis, deep structure, folktale, narrative, patterning, structure, structural elements, trickster, trickster story


 

 

1. Inleiding en agtergrond

Trieksterverhale word wydverspreid in Afrika vertel, en in hierdie Afrikaverhale neem die trieksterkarakter veral die vorm van 'n dier aan, soos Hasie, Skilpad en Spinnekop (Mwinlaaru & Nkansah, 2018:251; Willis, 1993:274). Die algemeenste trieksterfiguur in Afrikaanse trieksterverhale is Jakkals (Kannemeyer, 1978:212; Pretorius, 2020; Schmidt, 1985:60). Soos verduidelik in paragraaf 2.2.1 voldoen Jakkals, in Jakkals-en-Wolfvehale aan die eienskappe van die trieksterfiguur wat in trieksterverhale voorkom en daarom kan Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale geklassifiseer word as trieksterverhale.

Von Wielligh (1926) trek parallelle tussen hierdie verhale en die wêreldbeskouing van die tradisionele (Afrikaanse) gemeenskap (1700-2015). Jakkals-en-Wolfverhale is uniek in Afrikaans aangepas (kyk Bleek, 1864). Van Rensburg (1983) en Pretorius (2020) meen dat hierdie verhale onder meer hul oorsprong het by die Nederlanders wat aan die Kaap aangekom het en Reinaard die Vos as gewilde slaaptydstorie aan hul kinders vertel het. Ook in die ander gemeenskappe (veral onder die Khoi) is die stories herskep en verkontekstualiseer sodat dit deel van vandag se Jakkals-en-Wolfverhaleskat is (Van Niekerk, 2018). Daar is dus 'n sterk vermoede dat Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale hul ontstaan grootliks in die Nederlandse tydperk aan die Kaap het.

Aucamp (2009:16) en Ikomi (2018:277) is van mening dat daar in die storieverteltradisie soveel tekste is as wat daar vertellers is. Elke verteller se besondere styl en invalshoek beïnvloed dus die storieproduk. Voorts verduidelik Aucamp (2009:16) dat vertellings soos "nomades" is wat van een kultuurgroep na 'n ander "swerf" en mutasies ondergaan. Die Jakkals-en-Wolftrieksterverhaal is daarom vermoedelik getransponeer om by 'n nuwe ruimte en tyd aan te pas, en sodoende is nuwe Jakkals-en-Wolfverhale gebore.1

In die proses van mutasie en transponering moes hierdie verhale noodgedwonge ook verandering in struktuur en inhoud ondergaan het. Geen uitgebreide bronne oor die strukturele aard van Jakkals-en-Wolfverhale kon gevind word nie. Hierdie tekort kan moontlik toegeskryf word aan die skynbare eenvoud van die verhale en die feit dat dit blykbaar hoofsaaklik gerig is op kinders en dus nie wyd bestudeer is nie.

Nuttig en uitsonderlik in hierdie verband is die werk van Dundes (1971), wat 'n basiese patroonmatigheid in Afrikavolksverhale identifiseer, asook Paulme (1977:64-103), wat trieksterverhale uit Afrika morfologies ontleed het aan die hand van Propp (1979) se funksies en Dundes (1971) se modelle. Dundes (1971:176) identifiseer die volgende basiese strukturele patroon met betrekking tot bepaalde genres, die trieksterverhaal inkluis: vriendskap, kontrak, skending (bv. deur middel van misleiding), herstel (van skending) en die einde van vriendskap.

Hierdie patroonmatigheid sluit aan by Galin (1981:247) se identifisering van drie stadia in die trieksterverhaal, naamlik die beplanning van 'n poets, die uitvoering van die poets en die toe-eiening van die poets. Paulme se bevindinge oor die struktuur van Afrikaverhale sluit ook by die aard van trieksterverhale aan (kyk 2.3).

In die navorsing waaroor hier onder verslag gedoen word, is daar op die volgende probleem gefokus: Watter patroonmatighede kan in die struktuur en algemene inhoud van geselekteerde Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale geïdentifiseer word?

 

2. Konseptuele teoretiese raamwerk

Om die korpus verhale sinvol te kon ontleed, was dit nodig om relevante teoretiese perspektiewe te gebruik. Daarom word daar vervolgens 'n oorsig gegee van navorsing wat reeds oor narratiewe, folklore,2 volksverhale, trieksterverhale en Jakkals-en-Wolfverhale gedoen is. Die grondbeginsels van die strukturalisme word ook oorsigtelik verduidelik, omdat dit 'n belangrike instrument was om die patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale sinvol te kon vasstel.

2.1 Narratief

Die kleinste eenheid wat as 'n narratief beskou kan word, kan beskryf word as die talige weergawe van die temporele opeenvolging van twee gebeurtenisse wat 'n verandering teweegbring. Dutton (2009:118) sien groter algemene patrone in die narratief en meen dat die mees abstrakte karakterisering van stories uit menslike wil en die een of ander vorm van verset daarteen bestaan. Bremond (1977:186) beklemtoon andersyds 'n prototipiese logiese struktuur in verhale: "Elk verhaal bestaat uit een taalhandeling waarbij een opeenvolging van gebeurtenissen van menselijke belang geïntegreerd wordt binnen de eenheid van een en dezelfde handeling."3 Die narratief volg tipies 'n patroon van oorsaak en gevolg, soos Bremond (1977) uiteensit: a) die storie begin met 'n toestand van ekwilibrium; b) die ekwilibrium word ontwrig en 'n disekwilibrium ontstaan; c) en die disekwilibrium word opgelos en die storie eindig weer in 'n ekwilibrium (Todorov, 1977:118). Todorov se narratiewe teorie, in ooreenstemming met dié van Dundes, is op Bremond (1977) se patroon van oorsaak en gevolg gebaseer. Ook Groenewald (1990:133) en Paulme (soos aangehaal in Kam, 2007:138) onderskryf Todorov se teorie. Hierdie siening word in samehang met Bremond (1977:184) se drie logiese fases van 'n proses van narratiewe moontlikhede aanvaar, naamlik die moontlikheid van 'n proses, die verwerkliking of uitvoering daarvan en die afsluiting van die proses.4

2.2 Volksverhale

Jakkals-en-Wolfverhale is nie net narratiewe nie, maar kan meer spesifiek geklassifiseer word as volksverhale. Die term "volksverhaal" word breedvoerig deur Simpson en Roud in A Dictionary of English Folklore (2003) bespreek. Hulle beskou "volksverhaal" as 'n term wat in 'n breër of enger sin gebruik word. In die breër sin het volksverhale betrekking op alle prosa-narratiewe wat tradisionele patrone van stories, of ontwikkelingslyne in stories, volg. Die meeste van die verhale is gevorm deur tradisionele elemente (motiewe) saam te voeg of 'n gevestigde plot (verhaaltipe) oor te dra van een held, of een lokaliteit, na 'n ander. Die basiese katalogus vir volksverhale in die enger sin is die tipes volksverhale wat deur Thompson (1955) geklassifiseer is.

Neethling (1977:40) verklaar dat die narratiewe praktyke van 'n groep op 'n spesiale manier deur volksverhale gevorm word weens die geskiedkundige en kulturele belang van volksverhale. Hierdie stelling kom ooreen met Aucamp (2009) en Ikomi (2018) se siening dat daar verskeie variasies van 'n sekere verhaal binne 'n enkele geografiese gebied mag voorkom. Aucamp (2009) verklaar dat die kern van verhale in 'n bepaalde geografiese gebied weinig mag verskil, maar dat die besonderhede wat die verhale inkleur, meermale 'n veranderlike kwaliteit het. Die verhaal word aangepas om by die vertelsituasie en die ouderdom, kultuur, topografie, politiek en so meer van die gehoor te pas.

2.2.1 Trieksterverhale

Trieksterverhale is 'n tradisionele vorm van literatuur wat die avonture en mislukkings van welbekende volksfigure vertel en kan daarom gesien word as 'n onderafdeling van volksverhale. Wanneer daar na die eienskappe van die trieksterfiguur gekyk word, voldoen Jakkals in meer as een opsig daaraan. Daarom kan Jakkals-en-Wolfverhale ook as trieksterverhale geklassifiseer word. 'n Triekster is 'n figuur wat die beste illustreer hoe 'n mens nié in die samelewing behoort op te tree nie. Sy manewales verteenwoordig presies wat gesonde en volwasse mense nié doen nie (Abrahams, 1983:23-155; Maurone, 2002:229). Individue met slegs 'n bietjie emosionele intelligensie sal weet dat dit onaanvaarbare gedrag is en dat die optrede van trieksterkarakters wat menslike swakhede uitbuit, gestraf sal word omdat dit die samelewing onbeskerm laat voel (Haslam et al, 2021:48).

Die hoofkarakters in trieksterverhale wy dikwels hul energie aan konstruktiewe doelwitte, maar het meermale selfsugtige motiewe. Die verklaring hiervoor kan onder meer wees dat die triekster se onvolmaaktheid nie 'n openlike bedreiging vir die orde inhou nie. Die trieksters is dikwels suksesvol, maar moet soms hulself verdedig en word dan heel dikwels die slagoffers van hul eie dade (Williams, 2000:2). McDermott (2005:i) merk op dat trieksterverhale sagkens, maar humoristies die sterk- en swakpunte van die mensdom aan die gehoor demonstreer. Volgens Booker (2010:308) is die triekster op 'n slinkse manier meedoënloos in die gebruik van sy mag deur voor te gee dat hy optree in die held se beste belang terwyl hy eintlik probeer om die held te vernietig. Booker verduidelik dat die eintlike doel van die triekster is om die held te verblind en sy gewete in te perk sonder dat die held daarvan bewus is.

2.2.2 Struktuur en struktuurontleding

Struktuurontleding het ten doel om 'n basiese onderliggende patroon binne die letterkunde te ontbloot en verslag te lewer van al die elemente waaruit die geheel bestaan en hoe die elemente onderling met mekaar verband hou om die geheel te vorm. Hierdie struktuur staan voortaan in hierdie bespreking as die "dieptestruktuur" bekend. Dit is die stelsel onderliggend aan die manifestasies, oftewel die patroon onder die oppervlakte. Verskeie navorsers stel metodes voor waarop hierdie dieptestruktuur ontbloot kan word.

Dit is vervolgens belangrik om te let op wat navorsers as strukturalisme beskou. Volgens De Gramont (1970:4) is strukturalisme die soeke na onverwagte harmonie. Dit is die soeke na 'n stelsel van verhoudings verborge in 'n reeks verskynsels. De Gramont (1970:4) wys daarop dat daar in enige vertelling elemente is waarvan sommige toevallig is en ander struktureel. Strukturele elemente is die elemente wat onveranderlik bly ongeag hoeveel keer die storie vertel word.

Culler (1975:14) verduidelik dat struktuur veral aan die hand van binêre opposisies ontleed kan word: "Indeed, the relations that are most important in structural analysis are the simplest: binary oppositions." Binêre opposisies is stelle teenoorgestelde waardes wat die struktuur van die teks ontbloot. In die lig hiervan het Lévi-Strauss (1972) nie soseer belang gestel in die volgorde waarin gebeure gerangskik is om die plot te vorm nie, maar eerder op die dieper rangskikking van temas gelet.

Culler (1975:11) verduidelik dat die begrip van verbandhoudende entiteite uiters belangrik is vir die semiotiek of struktuurontleding van alle soorte sosiale en kulturele verskynsels, want in die formulering van die reels van 'n stelsel word die eenhede volgens die reëls georden en dus moet vasgestel word wanneer twee objekte of aksies as voorbeelde van dieselfde eenheid tel. Wanneer die strukturalis 'n element se integrasievermoë wil openbaar, is dit eers nodig om die verhouding van die element met ander entiteite op dieselfde vlak te definieer (Culler, 1975:13). Hierdie verhouding van entiteite kan sintagmaties of paradigmaties van aard wees. Wanneer 'n stelsel ontleed word, is dit nodig om die paradigmatiese verhoudings (funksionele kontraste) en die sintagmatiese verhoudings (die moontlikhede van kombinasies) te spesifiseer.

Barthes en Duisit (1975:242) voer aan dat strukturele ontleding slegs gedoen kan word as die organisasie van die inhoud van die narratief verstaan word. Dit wil sê, die verskillende vlakke van ooreenkomste moet binne die hiërargiese perspektiewe geplaas word voordat strukturele ontleding uitgevoer kan word. 'n Verhalende teks funksioneer op 'n horisontale en 'n vertikale vlak; die verhaallyn kan eers ten volle begryp word wanneer die horisontale verhaalverloop geprojekteer kan word op die vertikale as wat die lineêre betekenis aanvul en verdiep. Die leser kan met ander woorde nie net van een woord na 'n ander lees nie, maar moet ook van een vlak na 'n ander vlak beweeg om die ware betekenis van die verhaal raak te sien.

Barthes en Duisit (1975) onderskei drie vlakke in die verhalende teks wat beskryf en ontleed moet word, naamlik die vlak van die funksies, die vlak van handeling en die vlak van vertelling. Hierdie drie vlakke is progressief geïntegreer (Du Plooy, 1986:153). In hierdie verband omskryf Oosthuizen (1987:199) strukturalisme as 'n wetenskaplike metode wat gebaseer is op die veronderstelling dat 'n begrip van die verhouding tussen dinge belangriker is as 'n begrip van die dinge self; daarom probeer strukturalisme konsekwent om "dele" en die "gehele" wat hulle konstitueer, te verstaan aan die hand van die verhoudings waarin hulle tot mekaar staan.

Barthes (1977:101) beskou 'n groep funksies wat duidelik bymekaar hoort as 'n reeks. Volgens Barthes (soos aangehaal in Du Plooy, 1986:156) is dit die herkenning van reekse en die verhoudings tussen die reekse asook die begrip van die betekenis van die reekse en die betekenis van dié verhouding tussen reekse wat die struktuur van die verhaal blootlê.

Volgens Bremond (soos aangehaal in Brink, 1987:22) begin die narratiewe opset by funksies en hul aaneenskakeling in logiese reekse, waarvan die elementêrste model drie fases behels: 'n funksie wat die moontlikheid tot 'n handeling open; 'n tweede wat daardie moont-likheid verwerklik; en 'n derde wat die resultaat daarvan beliggaam. Vir Bremond ontstaan 'n verhaal wanneer gebeure in reekse gegroepeer word. Die elementêrste reeks is wanneer 'n moontlikheid ontstaan dat iets kan gebeur. 'n Handeling kan hierdie moontlikheid verder versterk of dit laat sneuwel. Indien dit sneuwel, hou die proses op. Wanneer 'n handeling die gebeure versterk, gaan die gebeure voort en sukses kan bereik word; of die handeling gaan wel voort, maar dit misluk. In figuur 2.1 word hierdie proses skematies voorgestel.

 

 

Greimas (1966) stel belang in die verhoudings tussen elemente en beskryf die verhouding van die akteurs tot die gebeurtenisse. Sy aktansiële model gee die verhouding van die akteurs tot die doel wat nagestreef word, weer. Hy stel nie net belang om die sintagmatiese, lineêre ontplooiing van die verhaal te volg nie, maar ondersoek ook die paradigmatiese moontlikhede van elke gegewe. Greimas bied dus 'n minder dinamiese model aan van die verhaalstruktuur as Bremond, wat sy aandag toespits op ontwikkeling, wording en verandering (Brink, 1987:23). Greimas identifiseer die hoofrolle in die handeling van 'n verhaal; alle akteurs wat in dieselfde baan beweeg of aan dieselfde afdeling behoort, noem hy "aktante" - karakters beoordeel volgens die funksie wat hulle vervul. "Vir elke 'strewe' wat geïdentifiseer word, onderskei Greimas dan 'n subjek en 'n objek, 'n bestemmer5 en 'n bestemde van die funksies; en subkategorieë van helpers en teenstanders. So 'n aktansiële model vorm vir Greimas die substraat van al wat verhaal is" (Brink, 1987:23). Greimas se aktansiële model kan dus gebruik word om alle verhale se dieptestruktuur te ontbloot.

Greimas se teorie van modaliteite (wyse van voorstelling aan die hand van subjek versus objek, begunstiger en begunstigde of helper en teenstander) is nuttig omdat dit die analis in staat stel om te differensieer tussen verskillende soorte plot binne narratiewe trajekte. Greimas (1966:202-206) stel voor dat narratiewe spanning geskep word deur die aanvanklike strewe van die subjek na die objek en deur die teenstander se bewuste poging om die subjek se soektog na die objek te belemmer.

Strukturaliste (onder andere Todorov, 1977:108-119) verklaar dat patrone die analis sal lei na die onderliggende konvensies van die ontwikkeling van narratiewe. Wanneer daar 'n vaste patroon of grammatika geïdentifiseer kan word, lê die waarde van die ontleding juis daarin dat dit afwykings kan blootlê. Fokkema en Kunne-Ibsch (1978:69) sluit hierby aan en verklaar soos volg: "Even if an author does not obey this logic we must be acquainted with it; his disobedience derives all its meaning precisely in relation to the norms which this logic imposes." Dit is daarom veral die afwyking van 'n gevestigde norm wat baie betekenisvol kan wees.

2.2.3 Basiese elemente en hul onderlinge verhoudings

Dit is nuttig om na algemene strukturele patrone in die volksverhaal, soos reeds geïdentifiseer deur ander navorsers, te kyk en die bruikbaarheid daarvan te ondersoek vir die bepaling van patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale. Culler (1975:5) verduidelik: "The object is itself structured and is defined by its place in the structure of the system, whence the tendency to speak of 'structuralism'."

Invloedryke beskouings van patroonmatigheid in die volksverhaal

Omdat die trieksterfiguur meestal in volksverhale voorkom, is dit belangrik om ondersoek in te stel na die begrip van patroonmatighede in volksverhale. Alan Dundes (1971:176) het 'n basiese tematiek in bepaalde volksverhale geïdentifiseer wat die volgende behels: vriendskap, kontrak, skending (bv. deur middel van misleiding), herstel (van skending) en die einde van vriendskap. Denise Paulme (1977:64-103) het trieksterverhale gebruik en hulle morfologies aan die hand van Propp (1979) se funksies en Dundes (1971) se modelle ontleed. Dit het haar in staat gestel om die volgende sewe tipes verhale te identifiseer volgens hul morfologiese en narratiewe struktuur: stygende, dalende, sikliese, spiraal-, spieël-, uurglas- en komplekse verhale.

Neethling (1977:41-43) eien die volgende basiese strukturele kenmerke in die volksverhaal wat nou aansluit by Paulme se morfologiese en narratiewe struktuur van die volksverhaal:

Taal, woordgebruik en gebeure is eenvoudig.

Episodes volg vinnig op mekaar.

Die tyd en ruimte asook die karakters word onmiddellik bekendgestel.

Die slot is kort en bondig.

Daar is herhaling.

Karaktertipes toon uiterlike en innerlike ooreenstemming.

Die karakters is meestal eendimensioneel, met geen karakterontwikkeling wat plaasvind nie.

Die vraag is nou hoe Suid-Afrikaanse volksverhale met die voorgaande algemene strukturele patrone in die volksverhaal vergelyk.

Die struktuur van die Suid-Afrikaanse volksverhaal

Navorsers het in die sewentigerjare opnuut bewus geraak van die Suid-Afrikaanse volksverhaal met die herontdekking van Bleek en Lloyd se boek Reynard the Fox in South Africa (1864). Intussen is ander navorsing oor patroonmatighede in die struktuur van die Suid-Afrikaanse volksverhaal opgeteken.

Lotz (1959:118-121) identifiseer die volgende strukturele eienskappe in Suid-Afrikaanse volksverhale, waarvan sommige mag ooreenstem met ander navorsers se bevindinge:

Die hoofmotief word deurgaans op standhoudende wyse gehandhaaf.

Daar is 'n kort inleiding met min besonderhede.

Onmiddellike aksie met gebeure wat vinnig op mekaar volg.

Die dialoog is minimaal.

'n Eenvoudige knoop.

Die klimaks word sonder onnodige omslagtigheid bereik.

Die ontknoping en slot volg mekaar ewe snel op.

Geen volledige karakterontwikkeling of karakteruitbeelding vind plaas nie.

Sekere handelinge word herhaal (gewoonlik drie keer) en in dieselfde woorde weergegee.

Drie karakters ondergaan om die beurt dieselfde lot.

Sommige verhale bevat gedeeltes wat gesing of geresiteer word.

Karakters kan in twee of drie groepe verdeel word: protagonis (held), antagonis (teenstander) en tritagonis (helper).

Steenberg (2013) verteenwoordig 'n meer onlangse perspektief op struktuur en wys daarop dat die struktuur van die volksverhaal wissel. Sy sê ook dat die ruimte in die volksverhaal vaag mag wees, maar dat daar tog verwysings na die geografiese gebied waar die verhaal afspeel, mag wees.

Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale is volksverhale en meer spesifiek trieksterverhale. Daarom kan daar verwag word dat die struktuur daarvan 'n kombinasie sal wees van die struktuur van volksverhale en trieksterverhale, soos reeds beskryf is. Finnegan (2012:321) pleit dat volksverhale gesien moet word as deel van 'n eie sosiale konteks en nie net as stories wat die tyd deurstaan het nie. In hierdie sosiale konteks van Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale word dit dan ook duidelik dat Jakkals as die triekster optree wat vir Wolf telkens mislei.

 

3. Metode

Uit die voorgaande het dit duidelik geword dat, om die strukturele en inhoudelike patroon-matighede van die volksverhaal in die algemeen, en die trieksterverhaal in die besonder, te identifiseer, die volgende gedoen moet word:

'n Ontledingsvlak moet gekies word.

Die elemente of eenhede op daardie gekose vlak moet geïdentifiseer word.

Die sintagmatiese en paradigmatiese verhoudings tussen die geïdentifiseerde elemente en die geheel moet beskryf word.

Die struktuur moet verbind word met die belangrikste funksies en verbindings tussen die teks en ander groter betekenisraamwerke.

In hierdie artikel is 'n kombinasie van die struktuur van volksverhale en trieksterverhale beskou as die beste manier om die verskillende verbandhoudende vlakke in die narratief te ontleed en te verduidelik. In die ondersoek is die ontledingsvlakke gebruik wat gelyk is in die narratologie, naamlik storie en verhaal. Die basiese elemente op die vlak van storie wat gebruik is, was aktante, tyd, plek en onderliggende handeling. Verder is die elemente van karakters, verhaalpatroon (plot), ruimte en temporele ordening, asook vertelwyse (verteller en fokalisator) op die verhaalvlak gebruik.

Die volgende bronne of vertellers is gebruik om die korpus van verhale vir ontleding saam te stel:

Fink, A. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale - (amateur) mondelinge verteller.

Fink, W. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale - (amateur) mondelinge verteller.

NALN - versameling mondelinge verhale wat deur 'n projekspan onder leiding van Du Plessis (1987:8-14) in Suid-Namibië onder die Griekwa-Afrikaners ingesamel is om tekorte in variasietaalkunde aan te vul - mondelinge vertellers.

Rousseau, L. 2011. Die kaskenades van Jakkals en Wolf - verteller.

Grobbelaar, PW & Verster, S. 2007. Die mooiste Afrikaanse sprokies - verteller.

Grobbelaar, PW & Verster, S. 2011. Jakkals en Wolf - verteller.

Niehaus, D. 2011. Oom Dana Niehaus vertel Jakkals & Wolfstories - (professionele) mondelinge verteller.

Onderwerpe waaroor deurgaans in mondelinge, sekondêr mondelinge en geskrewe vorme vertel word, is uit die verhaalkorpus gekies sodat verhale met dieselfde onderwerpe met mekaar vergelyk kon word. Die volgende onderwerpe is geïdentifiseer:

Die botter-, room- of wynvat

In die skaapkraal

Vang vis

Aan perd se stert vas

Die bye

Vervolgens word die bevindinge van die studie bespreek.

 

4. Bespreking van bevindinge

Patrone met betrekking tot die storie en verhaal wat ontbloot is, word vervolgens bespreek. Die volgende Jakkals-en-Wolfverhaal word as voorbeeld geplaas ter illustrasie vir die bespreking van bevindinge:

Jakkals en Wolf in Boer se skaapkraal

Jakkals vertel vir 'n honger Wolf dat daar lekker vet skape in Boer se kraal is. Jakkals gaan wys toe ook sommer vir Wolf waar die kraal met die vet skape is. Daar gekom begin die twee gulsig te vreet aan Boer se skape. Jakkals is egter baie slimmer as Wolf en gaan meet homself kort-kort by die skuiwergat wat die twee toegang tot die skaapkraal gegee het. Wanneer Jakkals dan sien dat hy nou moet ophou vreet, maak hy of hy verder vreet, maar hou intussen vir Wolf dop. Wanneer hy sien dat Wolf dik gevreet is en nie by die skuiwergat sal uitkom nie, hardloop hy na Boer toe en kondig luidkeels aan dat Wolf in Boer se skaapkraal is. Boer vat sy sambok en sy hond en hardloop skaapkraal toe om vir Wolf 'n les te leer. Daar gekom, looi Boer vir Wolf met die sambok en sy hond byt vir Wolf, want Wolf is vasgekeer in die skaapkraal. Wolf probeer so tussen die houe deur om by die skuiwergat uit te kom. Hy verstaan glad nie hoe die gat wat hom toegang tot Boer se skaapkraal gegee het, skielik te klein geword het vir hom en hom nie toelaat om te ontsnap nie.

4.1 Wat (storie)

Die reeks chronologiese gebeurtenisse wat oorwegend lineêr opeenvolgend in Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale weergegee word, lyk gewoonlik so:

Jakkals eien iets wat in Jakkals en Wolf se basiese behoeftes kan voorsien. Albei het 'n behoefte aan kos en Jakkals het ook 'n behoefte om Wolf 'n streep te trek. Jakkals maak sy plan met betrekking tot eersgenoemde aan Wolf bekend.

Soms moet Jakkals Wolf oortuig om by sy planne in te val.

Die plan word uitgevoer (meestal ten koste van Wolf).

Wolf word te na gekom (hy is dom en naïef) en as gevolg daarvan word Jakkals die meeste van die tyd bevoordeel.

4.1.1 Plek

Die omgewing waarin hierdie stories afspeel, word nie in besonderhede beskryf nie. Die ruimte is aangepas sodat die dierekarakters in die ruimte pas. Die ruimtes wissel egter oor die grens van getemde na ongetemde ruimte en terug. Die plek is dus dinamies.

4.1.2 Tyd

Die stories word meestal chronologies vertel. Die lees- of verteltyd wissel na gelang van hoe uitgebreid die gebeure oorvertel word. Die verhale word in 'n soort algemene verlede vertel. Wanneer die tydsaanduiding dan meer spesifiek weergegee word, veroorsaak dit 'n meer realistiese tydsraam.

Met betrekking tot aktante en die aktansiële verhoudings kan daar twee moontlike aktansiële modelle vir hierdie soort verhaal gekonstrueer word, afhangende uit wie se oogpunt die gebeure beskou word. Die aktante in hierdie korpus verhale word saamgevat in tabel 1.

 

 

Betreffende die uitgebreide storie ontbloot die vergelyking van die plotstruktuur in hierdie korpus 'n oorkoepelende patroon. Die storie in al die vertellers se verhale begin in 'n disekwilibrium vir Wolf en Jakkals, maar in 'n ekwilibrium vir Boer. Dan ontstaan daar vir Boer 'n disekwilibrium, maar vir Wolf en Jakkals word die disekwilibrium vergroot. Die disekwilibrium word opgelos vir Jakkals en Boer, en die storie eindig vir hulle in 'n ekwilibrium, maar Wolf se disekwilibrium word enduit gehandhaaf. Hierdie patroon kan as 'n unieke patroon beskou word vir Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale omdat dit afwyk van die patroon van ekwilibrium, disekwilibrium en herstel wat Todorov (1977), Paulme (1977) en Taljaard (1999) waargeneem het.

4.2 Hoe (verhaal)

4.2.1 Verhaalstruktuur

Baie elemente van die verhaalstruktuur stem ooreen met die bevindinge van Lotz (1959), Neethling (1977) en Taljaard (1999), soos hier bo aangedui in die konseptuele en teoretiese raamwerk. Jakkals-en-Wolfverhale se handelingslyn (gebeure) is duidelik en oënskynlik eenvoudig. Soos aangetoon, begin elke verhaal waar Jakkals en Wolf honger is en Jakkals dié behoefte gebruik om sy planne in werking te stel. Jakkals se planne om Wolf 'n streep te trek word nooit direk aan die gehoor gegee nie, maar die gehoor, wat vertroud is met Jakkals-en-Wolfverhale, is bedag op die feit dat Jakkals altyd daarop uit is om Wolf 'n streep te trek.

Die klimaks word sonder omslagtigheid bereik. Jakkals oortuig gewoonlik vir Wolf om in te val by sy planne. Die knoop is eenvoudig. Jakkals verduidelik gewoonlik kortliks aan Wolf wat hy beplan en hulle voer die plan dan uit.

Die meeste verhale word vertel sonder lang verduidelikings of beskrywings. Die episodes volg mekaar vinnig op; daar is dadelik aksie en daar is gewoonlik nie groot tydspronge nie. In etlike gevalle word groter tydspronge in die verhaal aangetref omdat die storie meer uitgebreid vertel word.

Dis juis deur binêre opposisies wat struktuur geopenbaar word. In hierdie verhale is dit die opposisie van dom Wolf teenoor slim Jakkals of gebrek by Wolf teenoor Jakkals en Boer se oorvloed wat in elke verhaal herhaal word.

In sommige van die skaapkraalverhale is 'n gedeelte wat gesing of geresiteer kan word, byvoorbeeld:

En toe hulle so stap, sing hierdie skelm Jakkals: "Die sieke dra die gesonde. Die sieke dra die gesonde. Die sieke dra die gesonde."

Die hoofmotief is die motief van die kleiner slimme wat die sterker domme oorwin. Hierdie motief word deurgaans op standhoudende wyse gehandhaaf.

4.2.2 Tydspatrone

Temporele verhoudings

Met betrekking tot volgorde, volg die episodes van die verhale chronologies op mekaar. Daar is min afwykings van die storievolgorde. Met betrekking tot frekwensie word die gebeure meestal singulatief vertel.

Duur

Die verhale word teen 'n vinnige tempo vertel. Die eiesoortige vertelpatrone lê juis daarin dat daar meer tyd afgestaan word aan sommige episodes as aan ander. Die episodes waarin die hoorder voorberei word op die slenter waarmee Jakkals vir Wolf gaan vang, asook die episodes waar Jakkals dalk uitgevang kan word en hy sy skelmstreek moet verdedig, kry meer verteltyd.

In die botter-, room- of wynvatverhaal en in die skaapkraalverhaal word daar soms opsommings aangetref. Met ander woorde, die verteltyd in die teks is hier minder as die storietyd. Die tyd wat dit byvoorbeeld vir Jakkals neem om drie vate se wyn uit te drink en alles wat daar rondom kan gebeur, word in een sin saamgevat.

4.2.3 Karakters en karakterisering

In hierdie verhale is daar ook telkens drie karakters ter sprake, soos in sprokies, naamlik Jakkals (die protagonis), Wolf (die antagonis) en Boer (die tritagonis). Alhoewel Jakkals en Wolf oor menslike eienskappe beskik, verteenwoordig hulle nie 'n duidelike beeld van die universele mens nie. Die karakters is meestal eendimensioneel, met geen karakterontwikkeling wat plaasvind nie. Karakteruitbeelding geskied hoofsaaklik deur middel van wat die karakters sê en doen en deur direkte karakterisering deur die verteller. Dialoog speel meestal 'n ondergeskikte rol. Daar word ook gebruik gemaak van indirekte karakterbeelding deur wat die karakters van mekaar sê en deur die karakters se dialoog. Die verteller se mededeling gee ook karaktereienskappe van die karakters weer.

Die drie hoofkarakters het geen kreatiewe benamings nie, maar word vernoem na hul aard: Jakkals, Wolf en Boer. Daar is etlike gevalle waar ingewikkelder verhoudings tussen die karakters subtiel deur aanspreekvorme aangedui word.

Die karakters in die verhale is meestal van die manlike geslag. Die vroulike karakters is almal byspelers in die betrokke verhale en word terloops genoem. Die bye is die enigste karakters wat as manlik (seur) en vroulik (miesies) voorgestel word, met 'n koningin as leier. Dit is die manlike hoofrolspelers met wie rekening gehou moet word omdat die verhale hoofsaaklik in 'n manlike wêreld afspeel.

Nie al die vertellers artikuleer die trieksterkaraktereienskap so duidelik nie. Hierdie tegniek veroorsaak heel waarskynlik dat die gehoor die triek meer waardeer omdat die simpatie uitgedoof is wat eintlik die verontregte (Wolf) toekom.

4.2.4 Ruimtelike patrone

Direkte ruimtelike aanduidings

In die meeste van die verhale steek Jakkals en Wolf die grens tussen die getemde en ongetemde wêreld dikwels oor - van veld na plaaswerf. Omdat die hoofkarakters diere is, lewer die ruimtelike plasing in die natuur 'n bydrae tot die geloofwaardigheid van die verhaal. Die plekke word selde in die verhale beskryf of benoem. Die ruimtelike aanduidings wat in die verhale voorkom, is doelbewus en daarom funksioneel omdat dit bydra tot die voltrekking van die skelmstreek wat Jakkals vir Wolf beplan, asook die meelewingsaspek, omdat dom Wolf dit nie besef nie.

4.2.5 Sintuiglike waarnemings

Visueel en taktiel

Visuele en taktiele waarnemings is nie volop in hierdie verhale nie.

Ouditief

Die gehoor hoor as't ware die gesprekke tussen Jakkals en Wolf, en ook Boer, wanneer Dana Niehaus (2011) gebruik maak van verskillende stemtone om onderskeid te tref tussen die verskillende karakters.

4.2.6 Fokalisasie en stem

Die verhale word vertel deur 'n eksterne verteller-fokalisator wat sowel kyk as vertel en wat nie beperk is tot 'n bepaalde posisie nie. Psigologiese faktore speel ook 'n rol in die fokalisasie in hierdie verhale en beklemtoon so ook die rol van die eksterne fokalisator. Die verteller-fokalisator rig hom soms direk tot die gehoor en verwys na die verteller en die gehoor se gedeelde kennis. Soms dring die fokalisator wel in Wolf se gedagtes in en bied 'n direkte weergawe van Wolf se gedagtes aan deur middel van Wolf se eie woorde (persoonsgebonde fokalisasie).

Met tye rig die verteller hom ook direk tot die gehoor om kennis wat hy oor die karakter het, te deel. As gevolg van die fokalisasie weet die gehoor soms meer as die karakter (meestal Wolf). So tree die verteller eksplisiet na vore en staan met ander woorde nie op die agtergrond nie. Die verteller artikuleer ook waardes en sienings en voed sodoende die gehoor op.

Hierdie verhale verteenwoordig ook die ewige stryd van Boer teen die natuurkragte, maar oorwegend van die natuur se kant af gefokaliseer. Dit vorm as't ware 'n subplot van die verhaal - dit staan nie in die kern nie, maar vorm 'n soort algemene raam vir die verhaal.

4.2.7 Gebeure (handelingsreekse, handelingslogika)

Daar bestaan verskeie handelingsreekse in Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale, wat op mekaar volg, parallel loop of in mekaar ingebed is. Die reekse volg oorwegend op mekaar, maar die verhale verskil in die mate waarin ander reekse in die groter reekse ingebed word. Die patroon van die twee parallelle reekse, naamlik die voorstelreeks en die triekreeks, bestaan ook deurgaans in al die verhale.

Die verhale in hierdie korpus bestaan nooit uit minder as twee episodes nie en nooit uit meer as agt episodes nie. Die verhale openbaar altyd oorkoepelend 'n verbetering vir Jakkals, maar 'n verslegtingsproses vir Wolf. Die verbetering- en verslegtingsprosesse loop dikwels parallel: wat vir Wolf na 'n verbetering lyk, bied vir Jakkals die moontlikheid om Wolf weer 'n streep te trek. Die verbetering- en verslegtingsprosesse word gelyktydig in die verhaal voltrek. Die kernverhaal bly primêr, maar ander verhalende gedeeltes kan ook in die kernverhaal ingebed word. Die aantal prosesse hang af van die mate waarin die verhaal uitgebrei word.

 

5. Slotsom

In hierdie ondersoek is gepoog om Jakkals-en-Wolfverhale te vergelyk deur die komponente waaruit die verhale bestaan deur middel van spesiale metodes te skei en die verhale op grond van hierdie komponente te vergelyk. Die ontleding by wyse van Greimas se aktansiële model het dit moontlik gemaak om die betekenis van hierdie komponente sowel as die betekenis van die verhaal in geheel duideliker na vore te bring. Vaste elemente van Jakkals-en-Wolfverhale is geïdentifiseer en omskryf. Aktante is geïdentifiseer in 'n poging om die onderliggende struktuur te vind wat voortbestaan ongeag hoeveel keer die storie vertel word. Dit het uit die ontleding na vore gekom dat die held in hierdie verhale bepaal word uit wie se oogpunt die gebeure beskou word. Daar is ook bevind dat die korpus wat ondersoek is in meer as een opsig as volksverhale beskryf kan word en met die algemene patrone van trieksterverhale ooreenstem.

Die struktuur van Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale is in sekere spesifieke opsigte uniek - 'n algemene verlede, unieke karakters, 'n meer beperkte ruimte, 'n verteller-fokalisator, vertellers wat ingestel is op die kindergehoor en gebeure waarvan die episodes op mekaar volg en soms episodes wat ingebed is. Dit het ook duidelik geword dat hierdie strukture dinamies gebly het. Verskille tussen die Europese Reinaard die Vos en die Suid-Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale is gevind in die inhoudelike patrone omdat aanpassings van die verhale uit Europese oorsprong noodwendig moes plaasvind ter wille van die Suid-Afrikaanse gehoor, die gehoor se kultuur asook die natuurlike en sosiale omgewing.

Hierdie uiteensetting van die patroonmatighede in die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale mag die wetenskaplike gehoor met meer insig en kennis laat wanneer daar na veral trieksterverhale uit die wyer Afrikakonteks geluister word.

 

BIBLIOGRAFIE

Abrahams, RD. 1983. Africanfolktales: Traditional stories ofthe black world. New York, NY: Pantheon Books.         [ Links ]

Aucamp, H. 2009. In Von Wielligh (red.). Versamelde boesmanstories, Deel 1 en 2. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Barthes, R & Duisit, L. 1975. An introduction to the structural analysis of narrative. New Literary History, 6(2):237-272.         [ Links ]

Barthes, R. 1977. In Barthes (ed.). Image music text. London: Fontana.         [ Links ]

Bleek, WHI. 1864. Reynard the fox in South Africa, or, Hottentot fables and tales. London: Trübner.         [ Links ]

Booker, C. 2010. The seven basic plots: Why we tell stories. London: MPG Books.         [ Links ]

Bremond, C. 1977. In Bronswaer, Fokkema & Ibsch (reds.). Tekstboek algemene literatuurwetenschap. 2de uitgawe. Baarn: Amboboeken.         [ Links ]

Brink, AP. 1987. Vertelkunde: 'n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.         [ Links ]

Bryla, M. 2018. Tracking the transnational trickster: Gary Shteyngart and his protagonists. Nordic Journal of English Studies, 17(2):1-28.         [ Links ]

Culler, J. 1975. Structuralist poetics. London: Routledge & Kegan Paul.         [ Links ]

De Gramont, S. 1970. In Hayes & Hayes (eds). Claude Lévi-Strauss, the anthropologist as hero. Cambridge, MA: MIT Press.         [ Links ]

Dictionary of English folklore. 2003. "Folktale". http://www.oxfordreference.com [19 June 2012].         [ Links ]

Du Plessis, HGW. 1987. Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesiale verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes, Deel 1. [Ongepubliseerde RGN-verslag].         [ Links ]

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworths.         [ Links ]

Dundes, A. 1971. In Maranda & Maranda (eds). Structural analysis of oral tradition. Philadelphia, PA: University of Pennsylvania Press.         [ Links ]

Dutton, D. 2009. The art instinct: Beauty, pleasure, & humane volution. New York, NY: Bloomsbury Press.         [ Links ]

Fink, A. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale. [Klankopname]. 7 Junie, Murraysburg.         [ Links ]

Fink, W. 2010. Mondelinge Jakkals-en-Wolfverhale. [Klankopname]. 7 Junie, Murraysburg.         [ Links ]

Finnegan, R. 2016. Oral literature in Africa. Vol. 1. Cambridge: Open Book.         [ Links ]

Fokkema, DW & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of literature in the twentieth century. London: Hurst & Company.         [ Links ]

Galin, A. 1981. Semantics and structure: An analysis of two trickster tales. Semantics and Structure, 1(3):241-268.         [ Links ]

Greimas, AJ. 1966. Structural semantics: An attempt at a method. Lincoln, NE: University of Nebraska Press.         [ Links ]

Grobbelaar, PW & Verster, S. 2007. Die mooiste Afrikaanse sprokies. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Grobbelaar, PW & Verster, S. 2011. Jakkals en Wolf. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

Groenewald, HC. (ed.). 1990. Oral studies in Southern Africa. Pretoria: Human Sciences Research Council.         [ Links ]

Haslam, SA, Steffens, NK, Reicher, SD & Bentley, SV. 2021. Identity leadership in a crisis: A 5R framework for learning for responses to Covid-19. Social Issues and Police Review, 15(1):35-83.         [ Links ]

Ikomi, EO. 2018. In Awhefeada & Omoko (eds). Scholarship and commitment. Lagos: Malthouse Press.         [ Links ]

Janse van Rensburg, FI. 1983. Van Vlaamse vos tot Afrikaanse jakkals: Verafrikaansing van die Reinaert. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Kam, SA. 2007. A new approach to the classification of African oral texts. Tydskrif vir Letterkunde, 44(1):136-154.         [ Links ]

Kannemeyer, JC. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Kaapstad: Academica.         [ Links ]

Lévi-Strauss, C. 1972. Structuralism and ecology. Spring: Barnard Allumnae.         [ Links ]

Lotz, JD. 1959. Die dierverhaal in Zoeloe. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Verhandeling - MA).         [ Links ]

Maurone, J. 2002. The trickster icon and objectivism. The Journal and Literature, 3(2):229-258.         [ Links ]

McDermott, G. 2005. Jabuti the tortoise: A trickster tale from the Amazon. Orlando, FL: Voyager Books.         [ Links ]

Mwinlaaru, IN. & Nkansah, SK. 2018. The trickster as a semiotic figure for construing postcolonial experience: Kwakye's "The clothes of nakedness". Journal of the African Literature Association, 12(3):250-268.         [ Links ]

Neethling, JS. 1977. Kinderletterkunde: Sy aard en onderrig. Kaapstad: Maskew Miller.         [ Links ]

Niehaus, D. 2011. Oom Dana Niehaus vertel jakkals & wolfstories. Vol 1. Pretoria: Leo Musiek [CD].         [ Links ]

Oosthuizen, JS. 1987. In Snyman & Du Plessis (reds.). Wetenskapbeelde in die geesteswetenskappe. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.         [ Links ]

Paulme, D. 1977. In Lindfors (ed.). Forms of folklore in Africa. Austin, TX: University of Texas Press.         [ Links ]

Pretorius, F. 2020. Jakkals en Wolf bly geliefde karakters. Beeld, 5 Februarie. https://www.netwerk24.com/ZA/Beeld/Metro-Gauteng/jakkals-en-wolf-bly-geliefde-karakters-20200204 [14 April 2021].         [ Links ]

Propp, V. 1979. Morphology of the folktale. Austin, TX: University of Texas Press.         [ Links ]

Rousseau, L. 2011. Die kaskenades van jakkals en wolf. Pretoria: LAPA Uitgewers.         [ Links ]

Schmidt, S. 1985. Ancient European fairytales in Southern Africa. Lantern, 34(1):60-65.         [ Links ]

Steenberg, E. 2013. In Cloete (red.). Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr. http://www.litterm.co.za./index.php/v/269-volksverhaal [12 April 2021].         [ Links ]

Thompson, S. 1955. Motif-index of folk literature: A classification of narrative elements in folktales, ballads, myths, fables, mediaeval romances, exempla, fabliaux, jestbooks and local legends. Indianapolis, IN: Indiana University Press.         [ Links ]

Todorov, T. 1977. The poetics of prose. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

Van Niekerk, J. 2018. Afrikaans stories of Jackal and Hyena: Oral and written traditions. Tydskrif vir Letterkunde, 55(3). https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvLv.55i3.5511 [14 Mei 2021].         [ Links ]

Von Wielligh, GR. 1922. Dierestories soos deur Hotnots vertel, Deel 1, 2 en 3. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Williams, A. 2000. Tricksters and pranksters. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

Willis, R. 1993. World mythology. New York, NY: Henry Holt & Company.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-06-15
Goedgekeur: 2021-11-22
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Corné van der Vyver is 'n lektor in die vakgroep Afrikaans vir Taalonderwys in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy doseer Afrikaans vir voorgraadse studente in onderwys. Sy behaal 'n BA(Ed)-graad aan die Universiteit van die Vrystaat (1990) en daarna, agtereenvolgens, aan die Noordwes-Universiteit, Honneurs in Taalpraktyk (2007), MA in Afrikaans en Nederlands (2014) en PhD (2018), met die titel van die tesis "Storievertelling as onderrigstrategie ter versterking van gemeenskaps-identiteit".
Corné van der Vyver is a lecturer in the subject group Afrikaans for Education in the Faculty of Education at the North-West University. She holds a BA(Ed) (1990) degree from the University of the Free State; thereafter, from the North-West University, she obtained a BA Honours degree in Language Practice (2007), an MA in Afrikaans and Dutch (2014) and a PhD (2018), the title of the doctoral thesis being "Storytelling as a teaching strategy to strengthen a community's identity".
1 Bryla (2018:6) merk in hierdie verband op dat trieksters as bewoners van die kruispaaie van die lewe gesien kan word. Hulle funksioneer ook as bedrieërs op die drumpel van kulturele stelsels, wat met behendigheid en gemak tussen hierdie kulturele stelsels beweeg.
2 Folklore is die versamelnaam vir tradisionele gelowe, gebruike en stories van 'n gemeenskap wat mondelings oorgedra word van generasie tot generasie. Folklore sluit onder meer in legendes, fabels, mites, volksverhale, "ouvroustories", volksliedere en tradisies (Steenberg, 2013).
3 Du Plooy (1986:165) sluit hierby aan deur die stelling dat waar opeenvolging ontbreek, daar geen verhaal is nie, maar wel beskrywing, gevolgtrekking of liriese ontboeseming.
4 Bremond se logika van narratiewe moontlikhede word breedvoeriger bespreek onder die opskrif "Struktuur en struktuurontleding".
5 Brink se term "bestemmer" word gewoonlik vertaal as "begunstiger" en die term "bestemde" as "begunstigde".

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons