SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1Challenges and implications for the implementation of self-directed learning during Covid-19Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories: Patterning in the structure and general content índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a9 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Hegemonie en mag: 'n Normatiewe besinning in die lig van 'n gevallestudie

 

Hegemony and power: A normative reflection as elucidated by a case study

 

 

Johan Zaaiman

Skool vir Sosiale Studies, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: johan.zaaiman@nwu.ac.za; Orcid: https://orcid.org/0000-0003-2009-9573

 

 


OPSOMMING

Die artikel benut 'n gevallestudie met die oog daarop om te illustreer dat die gebruikmaking van die konseptuele verband tussen hegemonie en mag nuttig sal wees met betrekking tot normatiewe gevolgtrekkings rondom die werking van die demokrasie. Die bestudering van die verhouding tussen twee oorvleuelende konsepte, naamlik hegemonie en mag, is gebrekkig. Die artikel spreek hierdie leemte aan deur 'n bydrae te bied wat fokus op die verband tussen dié twee konsepte. Met verwysing na die Simdlangentsha tradisionele owerheid word aangedui dat hegemonie en mag georden kan word met betrekking tot sistemiese, reaktiewe en struk-turerende magsuitoefeninge. Hierdie teoretisering word in 'n toepassingsraamwerk saamgevat. In die slotgedeelte word normatief nagedink oor die gevallestudie en die plek daarvan in 'n demokratiese opset. Die artikel bevestig dat daar ruimte is vir tradisionele opsette in demokrasie met die voorbehoud dat dit nie voorkeur kan geniet nie.

Trefwoorde: hegemonie, mag, demokrasie, tradisionele gesag, plaaslik, negatiewe hegemonie, positiewe hegemonie, waarheid, stryd, Simdlangentshagebied


ABSTRACT

Hegemony and power are overlapping concepts. Hegemony can be understood as a way of exercising power and as the consequences of exercising power. Limited studies attempted to use the relationship between the concepts to interpret local settings. This article contributes to this endeavour by applying the concepts with a view to explaining power relationships in the Simdlangentsha traditional authority area in northern Kwa-Zulu Natal. The establishment of democracy in South Africa was perceived by traditional leaders as an attempt to undermine their power, while civil society experienced it as a liberation from social, political and economic oppression. Traditional leaders remained responsible for local community issues such as land allocation and usage and conflict resolution. However, the authority was exposed to global, national and provincial influences that affected their position of power. The traditional leaders would prefer traditional ideas to dominate local discourses and be accepted as authoritative, while other discourses nonetheless influenced and impacted the local ones. To explain this theoretically in terms of the relationship between hegemony and power, the article distinguishes among systemic, reactive and structuring exercises of power. In the case of hegemony as the systemic exercising of power, the traditional leaders attempted to present their authority as the true cultural products and authority, especially with reference to culture. The article examines this in terms of extant literature that indicates that they attempted to make their cultural authority a hegemony. Around the topic of the hegemony of a reactive exercise of power, the article moves to normative discourse in a greater degree. The systemic exercise of power is not normatively desirable. The article here employs theories that explain that a more suitable hegemony will be one in which citizens participate in its creation. They will react to hegemonies which do notfit their lived experience. This recognition prompts a transformation of traditional authorities in that they should adhere to these external influences. In the case of hegemony as the structuring exercise of power, the normative ideal is that the hegemony will result from an active project among traditional leaders and citizens. In such a project, both parties must be co-players and there should be a positive outcome for all. The article subsequently synthesises these insights to formulate an application framework for the conceptual relationship between hegemony and power. A scale is presented where, on the one end, negative hegemony and, on the other, positive hegemony are located, whereas in between the struggle occurs for these hegemony products. Negative hegemony is the manipulation of truth to ensure dependency and suppress civil autonomy. Positive hegemony is the establishment of a truth system that supports the realisation of shared goals and civil autonomy. The struggles for hegemony occur either towards negative or positive hegemony. Hegemony as the systemic exercise of power will be found towards the negative side, where it is a reactive exercise of power relating to the struggles that centre on it; hegemony as the structuring exercise of power in contrast tends towards the positive side of the scale. To explain the positive ideal of hegemony and what it may mean in the context of the Simdlangentsha traditional authority, the article consults democracy theories. It is concluded that positive hegemony stems from a discourse built on trust that stems from equal, protected and mutually binding consultations. In this case, each citizen is an end in itself as opposed to traditional settings where the whole is more important. This means that, in the case of positive hegemony, receptivity to differences is found along with inclusion, equality, consultation, trust, recognition, dispute resolution, self-control and autonomy. Opponents respect each other and conflict is resolved in legitimate ways with a view to a win-win outcome. This means that the hegemonic ideals of traditional authorities in South Africa should be heard. However, it may not be institutionalised as the only or preferred discourse in a democratic South Africa - also not at the local level. The article provides guidance for further research on this topic. Such research seems necessary. For the consolidation of democracy in South Africa, in-depth reflection and serious debate on positive hegemony is a necessity, certainly also when it comes to the challenges it faces locally.

Key words: hegemony, power, democracy, traditional authority, local, negative hegemony, positive hegemony, truth, struggle, Simdlangentsha area


 

 

1. Inleiding

Hegemonie en mag is twee verwante en oorvleuelende konsepte waarvan die verband nog tot 'n beperkte mate ontgin is. Daarby word die teoretiese ontledingsvermoë van hierdie verband nie betekenisvol in die literatuur getoets nie (Haugaard, 2009:239). Hierdie artikel se bydrae is om teoreties te besin hieroor deur die toepassing daarvan te demonstreer aan die hand van 'n plaaslike voorbeeld en normatiewe gevolgtrekkings daaroor te maak. Die plaaslike voorbeeld wat gebruik word, is die Simdlangentsha tradisionele owerheid in noordelike Kwa-Zulu Natal.

Ná die demokratiese verkiesing in 1994 het vrae oor die relevansie van tradisionele owerheidsgesag in Suid-Afrika verdiep. Dit is verder op die spits gedryf met die instelling van muur-tot-muur plaaslike strukture wat dus daarmee oorvleuel het. Motiverings vir tradisionele owerheidsgesag hou verband met argumente wat die voordele van kulturele pluralisme voorhou (Maseko, 2015:33), asook met betrekking tot die wyse waarop Westerse en Afrika politieke modelle geïntegreer kan word tot samewerkende en inklusiewe regering in landelike gebiede (Brynard & Musitha, 2011:113). Teenstrydige standpunte oor tradisionele owerheidsgesag word al lank gehuldig in die Suid-Afrikaanse politieke diskoers (Keulder, 1998:3). In hierdie artikel word rondom hierdie debat 'n verdere bydrae gelewer deur dit in verband te bring met die konsepte van hegemonie en mag.

Hegemonie en mag is verwante begrippe. In breë trekke kan hegemonie beskou word as 'n ideëstelsel wat diskoerse domineer en wat algemeen aanvaar of as gesaghebbend ervaar word deur 'n groepering of 'n samelewing. Mag kan gedefinieer word as die vermoë om dit wat ander mense dink of doen, te beïnvloed of te beheer. Die oorvleueling tussen die definisies van hegemonie en mag is duidelik, maar hegemonie is veral nuttig wanneer dit nodig is om 'n verskuilde vorm van dominasie te beskryf. Deur dit saam te lees met die konsep mag kan die stryd om hegemonie en vryheid verhelder word. Normatief maak so 'n bespreking sin as dit met demokratiese ideale van vryheid vir die burgery in verband gebring word. In die geval van sodanige vryheid behoort die ideaal te wees dat mense hulle volle menswees sal kan ontwikkel.

Hierdie artikel het dus ten doel om vanuit 'n politiek-sosiologiese oogpunt hieroor te besin. Die verband tussen die konsepte hegemonie en mag word hier op 'n unieke wyse gebruik ten opsigte van die besinning oor die gevallestudie en die uitkoms hiervan is 'n toepassingsraamwerk wat deur normatiewe demokratiese standpunte toegelig word. Hiermee word die toepassingsmoontlikheid van die konseptuele verband tussen hegemonie en mag geïllustreer en 'n bydrae gelewer tot besinning oor owerheidsgesag in 'n demokratiese Suid-Afrika.

 

2. Hegemonie en mag

As 'n vertrekpunt is dit nodig om kortliks aan te dui hoe die konsepte hegemonie en mag in verhouding met mekaar kan staan. Han (2019) se teorie oor mag is hier bruikbaar. Hy verduidelik dat mag voorkom waar die "self' (maghebber) in die "ander" (ondergeskiktes) teenwoordig is. In so 'n geval word dit wat die "self' wens, vergestalt deur die "ander." Dit wat maghebbers as belangrik beskou, word op so 'n wyse gemanipuleer dat die ondergeskikte groep dit as aanvaarbaar internaliseer. Mag is dus op sy sterkste wanneer die kontinuïteit van die "self' (maghebber) in die "ander" (ondergeskiktes) onbevraagteken voorkom (Han, 2019:5).

Die feit dat die "ander" inskiklik is met betrekking tot magsuitoefening moet verstaan word in die lig van die bestaansprobleem waardeur die mens gekonfronteer word. Menswees is nie 'n gegewe nie, maar moet verwerklik word te midde van 'n magdom keuses met ingewikkelde gevolge. 'n Mens ervaar lewensverligting wanneer die onbeperkte kompleksiteit van menslike handelingsmoontlikhede beperk word (Han, 2019:6). 'n Belangrike uitkoms van magsuitoefening is dat dit oriëntasie bied met betrekking tot besluite en handelinge, en dit verlig lewensdruk (Han, 2019:7, 37). Die ervaring dat die lewe nie alleen genavigeer hoef te word nie maar dat daar leiding in hierdie verband is, veroorsaak dat mens magsuitoefening as positief kan ervaar. Mag hoef dus nie net as negatief geëtiketteer te word met die oog op uitsluiting, onderdrukking, sensuur of misleiding nie. Magsuitoefening kan 'n vereenvoudiging van keuses inhou met betrekking tot die verwerkliking van die lewe (Han, 2019:27). Hierdie beskrywing van mag sluit aan by hegemonie as 'n algemeen-aanvaarde ideëstelsel wat menslike handelinge en interpretasies lei of mislei. Hegemonie kan dus verstaan word as 'n wyse van magsuitoefening en die aktiewe gevolge van magsuitoefening.

Om hierdie sake verder toe te lig, word 'n gevallestudie vervolgens beskryf en dan aan die hand van die verband tussen die konsepte hegemonie en mag bespreek. Nadenke oor hegemonie en mag op plaaslike vlak kom nie algemeen voor nie. Daar is in die literatuur toepassings van die begrip hegemonie op plaaslike vlak, soos dié van Adebanwi (2004), Clarke en Jepson (2011) en Davies (2014). Hierdie studies interpreteer empiriese navorsing deur middel van hierdie konsepte, maar besin nie teoreties daaroor nie. Ten opsigte van hierdie leemte lewer hierdie artikel vervolgens 'n betekenisvolle bydrae.

 

3. 'n Tradisionele owerheidsgesag met nadenke oor hegemonie en mag

Die plaaslike geval wat in hierdie studie te berde gebring word, is een waarby ek en 'n doktorale student betrokke was. Dit is die Simdlangentsha tradisionele owerheid in noordelike KwaZulu-Natal. Die verhouding van hierdie owerheid met die plaaslike owerheid word beskryf in Maseko (2015) en Maseko en Zaaiman (2018). Hierdie tradisionele owerheid, wat 'n bepaalde hegemoniese magsuitoefening behels, leen hom tot die toepassing van die begrippe hegemonie en mag en verdere normatiewe besinning daaroor. Davies (2014:3229) beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan dat plaaslike hegemonie ontbloot moet word, sodat 'n oordeel uitgespreek kan word oor die potensiaal daarvan met betrekking tot positiewe verandering. Hierdie artikel speel op hierdie behoefte in.

Die Simdlangentsha tradisionele owerheid is gesetel in 'n demokratiese Suid-Afrika waar parlementêre soewereiniteit ondergeskik is aan die Grondwet en die gepaardgaande geregtelike oorsig. Die Grondwet sluit aan by die liberaal-demokratiese ideale van individualisme, gelykheid en redelikheid (Morriss, 2009:54). In hoofstuk 2 van die Grondwet word hierdie sake verwoord in 'n Handves van Menseregte (Suid-Afrika, 1996). Die doel van die staat moet dienooreenkomstig met hierdie dokumente wees om aan die burgery geleenthede te bied om in so 'n grondwetlike konteks te gedy. Om dit te realiseer, moet die staat vir die burgery geleenthede daartoe bied. Ideaal gesproke moet aan die burgery dus 'n bemagtigende vryheid gebied word om hulle lewens te verwerklik sonder onredelike beperkinge. Hoofstuk 12 van die Grondwet erken tradisionele leiers en gewoontereg, maar dan behoudens die Grondwet en toepaslike wetgewing.

Suid-Afrika is 'n komplekse samelewing met verskillende bevolkingsgroeperinge en oorvleuelende politieke sisteme soos demokrasie, monargieë en tradisionele leierskappe. Volgens Tar en Shettima (2010:135) bied hierdie komplekse stelsel aan die elites, wat in hierdie sisteme gesetel is, die geleentheid om hulle eie belange en gewin voorop te stel en nie nasiebou nie. Dit behels dus hegemoniese magsprosesse wat voortgesette dominasie verseker (Tar & Shettima, 2010:139).

Die instelling van demokrasie in die Simdlangentsha tradisionele owerheidsgebied is deur tradisionele leiers ervaar as 'n poging om hulle mag te ondermyn, terwyl die burgerlike samelewing dit ervaar het as 'n bevryding van sosio-, politieke en ekonomiese onderdrukking (Maseko, 2015, 212). Tog is die tradisionele hegemonie ná 1994 grondwetlik en wetlik beskerm en die Ingonyama Trust het tradisionele grondsekerheid gewaarborg. Die Ingonyama Trust administreer die tradisionele grond in KwaZulu-Natal.

Die tradisionele leiers kan dus beslis oor gemeenskapsgeoriënteerde sake soos die handhawing van orde, dispuutoplossing, toewysing van grond en hantering van grondgeskille (Maseko & Zaaiman, 2018:185). Grond word toegewys vir behuising, bewerking en weiding. Maseko (2015:215) rapporteer dat gemeenskapslede oordeel dat die leiers hulle eie voordeel voorop stel. Tog is ook gemeld dat tradisionele leiers veeboerdery benut om huishoudings te ondersteun wat nie vir hulleself kan sorg nie (Maseko, 2015:228). Die kritiek is dus in 'n groter mate gemik op die sentralisering van besluitneming en dat hulle dienslewering nie as 'n verantwoordelikheid beskou nie (Maseko, 2015:220).

Die totstandkoming van die demokraties-verkose muur-tot-muur plaaslike regering in 2000 het verandering vir tradisionele leiers meegebring. Ou tradisionele leiers blyk die meeste weerstand te bied teen samewerking met die plaaslike regering (Maseko, 2015:257). Samewerkingsprobleme is deur respondente veral in verband gebring met kommunikasieprobleme (Maseko, 2015:220-221).

Hierdie verandering het die weg gebaan vir ander owerhede om diensleweringsprojekte in die tradisionele gebiede te implementeer. Plaaslike regering was betrekke by die identifisering van grond vir die bou van infrastruktuur (Maseko, 2015:233). Plaaslike projekte wat die nasionale en provinsiale regerings onderneem het, was hoenderboerdery en tuinboukoöperasies (Maseko, 2015:243). Padwerke is ook deur die regering se Expanded Public Works Programme (EPWP) voorsien (Maseko, 2015:243). Dit blyk dat die demokraties-verkose plaaslike regering ná hulle instelling in 2000 nie 'n groot rol in die gebied gespeel het nie (Maseko, 2015:213). Dienslewering soos watervoorsiening, instandhouding en ontwikkeling van paaie, bied van sanitasiegeriewe en beskikbaarstelling van mobiele klinieke is deur die provinsiale regering, en tot mindere mate munisipaliteite, voorsien en griewe en frustrasies is aan hierdie instellings gerig wanneer mense daaroor ongelukkig was (Maseko, 2015:219).

Dit blyk dat wesentlike verandering voorgekom het ten opsigte van die rolle van vroue en die jeug. Voorheen is vroue van besluitneming uitgesluit, maar dien tans in tradisionele howe en rade (Maseko & Zaaiman, 2018:186; Maseko, 2015:244). Die jeug is ook meer betrokke by gemeenskapsake deur die bemiddeling van die gemeenskapsontwikkelingswerkers (community development workers - CDWs) en -versorgers (community care givers - CCGs), 'n inisiatief van die nasionale en provinsiale regerings (Maseko, 2015:215). Die jeug het ook meer inspraak in besluitneming gekry en die skoolkurrikulum het daartoe bygedra deur regte te beklemtoon (Maseko, 2015:246). Gesinslewe het nuwe Westerse inhoude gekry met die viering van verjaarsdae, Vadersdag, Moedersdag en Vrouedag (Maseko, 2015:250). Al word die regte van vroue en kinders tans in 'n groter mate deur tradisionele leiers erken, is daar van hulle wat ongelukkig daaroor voel omdat hulle meen die gesag van mans is daardeur ondermyn (Maseko, 2015:246).

Hierdie beskrywing toon dat tradisionele plaaslike opsette hegemoniese aspekte vertoon, maar dat eksterne invloede daarvan 'n strydveld maak. Die tradisionele leiers wil graag hê dat die tradisionele ideëstelsel die plaaslike diskoerse sal domineer en as gesaghebbend aanvaar word. Hulle sal graag die bevraagtekening daarvan en alternatiewe diskoerse wil onderdruk (Adebanwi, 2004:38). Daarteenoor is dit duidelik dat ander owerhede, ander beskouings en ander leiersfigure oor die vermoë beskik om die plaaslike diskoerse te beïnvloed. Hegemonie en mag is dus nuttige begrippe om oor hierdie dinamika in die tradisionele gebied te besin. In die volgende onderafdelings word verduidelik hoe drie benaderings tot die verhouding tussen hegemonie en mag in hierdie besinning gebruik kan word.

3.1 Hegemonie as sistemiese magsuitoefening

Tradisionaliste meen dat die tradisionele instellings die mees paslike politieke model vir landelike gebiede is. Hulle oordeel dat hulle fokus op grond en kulturele praktyke betekenisvolle en paslike leiding bied in hierdie gebiede en dat politieke stabiliteit so verseker word (Keulder, 1998: 3). Die tradisionaliste sou verkies dat hulle die enigste politieke gesag in die landelike gebiede sou wees wat leiding gee rondom grondadministrasie en landelike ontwikkeling (Ntsebenza, 2004:16). Hegemonie as sistemiese magsuitoefening beteken dat die tradisionele leiers in staat sou wees om so 'n magsisteem te handhaaf waaraan die burgery hulle gewilliglik onderwerp, omdat dit as gesaghebbend aanvaar sou word. Die tradisionele leiers in die Simdlangentsha tradisionele owerheidsgebied poog om dit te bewerkstellig deur hulle gesag te grond op geskiedenisdiskoerse, afstammingslinies en kulturele argumente (Maseko, 2015:162-194). Dit kan vertolk word as hegemonie wat as sistemiese magsuitoefening inhou dat prosesse en sisteme bestaan buite-om die mense wat in beheer is en hulle ondergeskiktes. 'n Aantal teoretici kan met hierdie beskouing geassosieer word.

Bourdieu (1989:19) se beskrywing van habitus as die gebruike, vaardighede en ingesteldhede van mense wat dieselfde agtergrond deel, is nuttig wanneer dit gaan oor nadenke rondom hierdie sistemiese magsuitoefening. Mense se beskouing van die wêreld en hulle optrede word grootliks deur hulle habitus bepaal. Die dominante habitus in 'n samelewing bestaan uit gereproduseerde kennis (Ritzer & Stepnisky, 2014:521). Hierdie dominante status van 'n habitus is die gevolg van 'n stryd waar maniere van doen as korrek en beter as dié van ander voorgehou word. Wanneer 'n habitus se dominante posisie gevestig is, word so 'n habitus genaturaliseer en word dit die standaard vir paslike sosialisering. Op hierdie manier word dit kulturele kapitaal wat benut sou kon word as 'n verdere bron, naas ekonomie en dwingende kapitaal (Haugaard, 2009:247). Dit is duidelik dat hierdie kulturele kapitaal vanuit die habitus 'n baie belangrike middel vir die Simdlangentsha tradisionele leiers is met die oog daarop om mag sistemies uit te oefen (Maseko). Dit sluit aan by Lukes (1974, 2005) se derde dimensie van mag, wat aandui hoe 'n stelsel wat eensydig funksioneer, voortspruit uit sosiaal-gestruktureerde en kulturele patrone en die praktyke van instellings (Lukes, 1974:21-22).

Foucault (2003) se tweede soort mag sluit ook hierby aan. Sy eerste soort is die strydlustige botsing van magte. Die tweede is egter misleiding van mense deur middel van sosiale sisteme (Wróbel, 2010:276). Mense sien nie die subtiele onderdrukkende aard daarvan raak nie, want hulle dink mag is opsigtelik konflikterend van aard. Hulle besef nie dat dit wat as waarheid voorgehou word die resultaat is van magsuitoefening en dat hulle daaraan uitgelewer is nie. Mense se aanvaarding dat 'n beskouing geldig is, is die resultaat van 'n proses met politieke, strategiese, empiriese en kontekstuele dimensies (Gordon, 2009:269). Foucault toon aan dat daar dwang gebruik is in die voor-moderne samelewing om sodoende beheer uit te oefen oor ander, maar dat beheer in die moderne samelewing plaasvind deur middel van die kombinasie van mag en kennis. Tradisionele owerheid sou met Foucault se voor-moderne samelewing geassosieer kon word, maar in die Simdlangentsha tradisionele owerheid word daar nie direk met oortredende subjekte afgereken nie. Die tradisionele owerhede het dus aangepas by moderne gebruike.

Hierdie noodgedwonge proses van aanpassing word deur kultuurteoretici belig. Kultuur is die resultaat van mense se emosionele behoefte aan identifikasie met groepe en die gepaardgaande handelingsbehoefte, dit wil sê, om soos ander mense op te tree en kognitiewe dissonansie te vermy; en dus verkieslik algemene denkpatrone aan te hang (Engelstad, 2009:212). Op grond hiervan kan kultuur gesien word as geïnstitusionaliseerde patrone van dink en doen asook die gebruiksmiddele wat mense met mekaar deel (Engelstad, 2009:215). Anders as in die verlede, waar 'n kultuur redelik homogeen was ten opsigte van sy inhoud, wys Engelstad (2009:227) daarop dat daar tans 'n meervoud van kulture is wat vloeibaar en meervlakkig is. Bauman neem hierdie saak verder deur daarop te wys dat daar ook nie meer 'n kulturele hiërargie bestaan nie (sien Bauman & Haugaard, 2008:124). Die elite het kulturele omnivore geword. Dit is omdat kultuur nou soos 'n afdelingswinkel is waar kulturele produkte na eie voorkeur toegeëien kan word (Bauman & Haugaard, 2008:125). Kultuur word nou voortgedryf deur die massamedia waarin die verbruikersekonomie 'n oorheersende rol speel. Die hegemoniese projek is dus nie meer 'n kulturele sosialiseringsprojek nie, maar primêr 'n materialisties-georiënteerde verbruikersamelewingsprojek. Dit is in hierdie vloeiende kultuur waar die tradisionele gesag net nog 'n kulturele produk lewer wat etnies-kultureel aantreklik is. Dit is dus nie om 'n hegemonie nie, maar poog om 'n kernkomponent van die etniese kultuur uit te maak en so 'n bindende invloed uit te oefen.

Clegg (1989) se argument dat mense hulle tans teoreties gesproke in 'n post-Foucaultiaanse era bevind, het dus hier ook betrekking. Waar Foucault nog 'n plekgebonde verband tussen heersers en ondergeskiktes veronderstel, is Clegg die mening toegedaan dat die sentra van mag nie meer só voorkom nie, hoewel ondergeskiktes steeds plekgebonde mag wees. Die globale elite skuif beheer en bronne dwarsoor die wêreld rond in 'n vloeiende en verskuilde stelsel van dominasie waarin die sosiale media en plaaslike identiteitspolitiek die subjekte se bewustheid van hierdie dominasie onderdruk (Haugaard, 2009:253). Hoewel die Simdlangentsha tradisionele owerheidsgebied uitgesluit is van globale mededinging, kan dit in hierdie prosesse se hand speel deur plaaslike identiteitspolitiek sentraal te stel en so die aandag van die globale dominerende rolspelers af te lei.

'n Verdere argument van Clegg (1989) verklaar moontlik waarom die tradisionele leiers grootliks die plaaslike regerings se magte kan ondergrawe. Hy identifiseer organisatoriese kullery as 'n diepere vorm van mag. Die bestaande sisteem bly stabiel as die dominante elite daarin kan slaag om die pogings om dit te verander organisatories kan uitoorlê (Haugaard, 2009:252). Hy oordeel gevolglik dat die voortbestaan van hegemonie nie in die aard van hegemonie opgesluit is nie, maar eerder in die mate waartoe dit organisatories onderhou kan word. Dit is duidelik, ook met betrekking tot die gevallestudie, dat die tradisionele owerheid in staat is om hierdie rol te kan speel veral, soos hier bo gemeld, omdat dit grondwetlik en wetlik beskerm word en grondsekuriteit gewaarborg is in die Ingonyama Trust.

Die nadenke oor hegemonie as sistemiese magsuitoefening bevat verskillende beskouings en dit verryk nadenke oor die gevallestudie. Die volgende onderafdeling kyk na 'n verdere vergestalting van hegemonie en mag en die teoretiese lig wat dit daarop kan werp.

3.2 Hegemonie as reaktiewe magsuitoefening

Tradisionele gebiede is blootgestel aan eksterne invloede. Gesagspatrone, genderrolle en beskouings oor gesin en huwelike word byvoorbeeld van buite beïnvloed (Schaefer & Lamm, 1992: 382-387). Feministiese en liberalistiese ideologieë speel hier 'n rol (Keulder, 1998:9). Hegemonie as reaktiewe magsuitoefening baan die weg vir 'n normatiewe besinning oor hegemonie. Die vraag word gevra of tradisionele gesag ongevraagd aanvaar moet word deur die burgery. Teenoor hegemonie as sistemiese magsuitoefening, wys teoretici daarop dat reaksie op hegemonie moontlik is. Voorbeelde hiervan in die Simdlangentsha tradisionele owerheidsgebied is beperk, maar dit het tog voorgekom in die politieke en kulturele sfere (Maseko, 2015:251-252).

Die sistemiese hegemoniese posisie is nie vir Gramsci (1971:123) normatief wenslik nie. Die ideaal is vir hom eerder 'n kontra-hegemonie of 'n proletariaat-hegemonie. Hy wys dekadente hegemonie af, dit wil sê, hegemonie wat normatief ongewens is en wat die teenoorgestelde inhou van integrale hegemonie, terwyl laasgenoemde verwys na die ideaal dat 'n gemeenskaplike wil uit die proletariaat sou kon voortspruit (Daldal, 2015:151).

Sistemies internaliseer die proletariaat 'n verwronge denkraamwerk wat nie strook met hulle daaglikse praktiese aktiwiteite nie (Gramsci, 1971:134-147). Bewuswording hiervan ontbloot die ideologiese dominasie en misplaastheid daarvan. Dit gee aanleiding tot die moontlikheid van alternatiewe interpretasies wat in 'n groter mate ooreenstem met werklike praktyke. Organiese intellektuele is belangrik in hierdie opsig. Dit is intellektuele wat 'n band met die proletariaat behou en die proletariaat help om gepaste interpretasies van mag te verwoord (Gramsci, 1971:6). Hulle artikuleer die rasionele outonomie van die proletariaat teenoor die kapitalistiese hegemonie waar instemming onbewustelik geskied. Dit versterk weerstand en die moontlikheid van 'n nuwe, egte hegemoniese denkraamwerk (Daldal, 2015:154). So 'n kontra-hegemoniese strategie vervang dan die bindende ideologie van die bourgeoisie en ontsluit 'n alternatiewe sosiale orde (Haugaard, 2009:251).

Die toepaslikheid van hierdie denkraamwerk rondom die Simdlangentsha tradisionele owerheidsgesag kan bevraagteken word, want dit is nie kapitalisties van aard nie. Arendt (1970) se beskouing van mag kan hier nuttig wees. Vir haar is mag die vermoë om gesamentlik te handel (Haugaard, 2009:242). In teenstelling met Gramsci, beskou sy mense as van nature polities vaardig en dat hulle mag verwerklik deur samewerking met ander en dan op hierdie manier hulle outonomie bevestig (Han, 2019:71). Sy beskou mag wat téén mense se belange uitgeoefen word as 'n vorm van geweld.

Parsons (1963) handhaaf ook die beskouing dat mag gemeenskaplik geskep word. Hy vergelyk dit met die skep van welvaart in die ekonomie. Die gemeenskaplike strewe in 'n sosiale sisteem veronderstel die vermoë om gedeelde doelwitte te verwerklik (Parsons, 1963:233). Hierdie proses stel 'n geïnstitusionaliseerde gesagsomgewing daar wat gekoördineerde sosiale handeling moontlik maak (Parsons, 1963:237). Sistemies kan hegemonie negatief wees as dit 'n uitbuiting of onderdrukking van kwesbare groeperinge institusionaliseer. Parsons se beskrywing is egter anders, en wys daarop dat hegemonie tegelykertyd positief en negatief kan wees - gesagstrukture kan terselfdertyd vryheid bied én inperk. Laclau en Mouffe (1985) lig hierdie ambivalensie uit deur te wys daarop dat sosiale fenomene en objekte net betekenis dra op grond van diskoerse (Carpentier & Cammaerts, 2006:965). Hegemonie word gevorm waar diskoerse daarin slaag om elemente met mekaar in verband te bring om sodoende 'n stabiele interpretasieraamwerk te vestig. Volkome stabiliteit is moeilik bereikbaar, omdat diskoerselemente nie altyd logies passend is nie. Hierdie verskille hou in dat hegemonie vloeibaar is. Die ideale openbare ruimte kom voor waar daar ontvanklikheid bestaan vir verskille rakende diskoerselemente (Carpentier & Cammaerts, 2006:968).

Hoewel die tradisionele owerhede poog om mag sistematies uit te oefen, is daar provinsiale en nasionale owerheidsprosesse wat vryhede lewer aan die burgery en 'n veranderende invloed op die tradisionele owerheidsbestel uitoefen. Hierdie prosesse beperk tradisionele leiers se gesag en maak dit vloeiend. In die landelike gebiede blyk dit egter dat die burgerregte-ondersteuners wat die tradisionele leierskap as feodaal kritiseer, en op grond hiervan agiteer dat dit afgeskaf moet word, nie eintlik 'n invloed uitoefen nie (Keulder, 1998:3). Wat die agenda van 'n reaktiewe magsuitoefening op 'n sistemiese tradisionele magsuitoefening behoort te wees, is 'n oop vraagstuk. Die kulturele etniese hegemonie bied so 'n grondige ondersteuning aan die tradisionele owerheidsgesag dat 'n uitdaging van hierdie gesag as 'n kritiek op etniese afkoms voorgehou kan word. Tog is daar reaktiewe druk op elemente van die tradisionele owerheidsgesag. Hierdie druk spruit uit plaaslike, provinsiale, nasionale en globale diskoerse. Die gevolge van hierdie reaktiewe magsuitoefening mag mettertyd 'n transformasie van die tradisionele gesag behels. Dit mag 'n vervlegting van tradisionele leierskap en burgerlike reaksie tot gevolg hê en 'n nuwe soort hegemonie tot gevolg hê wat dinamies sal wees. Die volgende afdeling behandel dié moontlikheid.

3.3 Hegemonie as strukturerende magsuitoefening

Organiese demokrasie is gebonde aan 'n perspektief wat argumenteer dat tradisionele leierskap 'n bestuurstelsel is wat 'n positiewe politieke rol in gemeenskappe speel. Hulle kan dit goed doen omdat hulle naby leef aan die mense wat hulle dien en gemeenskapslede hulle leierskap maklik kan verstaan en volg (Sithole & Mbele, 2008: 10). Organiese demokrasie meen Westerse demokrasie fokus te veel op hoe demokratiese instellings tot stand moet kom en funksioneer en te min op regverdigheid gebaseer op kultureer-morele beginsels en menslike gevoelens (Sithole & Mbele, 2008:10).

Hegemonie as strukturerende magsuitoefening hou verband met die moontlikheid dat tradisionele leiers en die burgery in 'n noue verbintenis met mekaar kan staan. In so 'n geval is hierdie hegemonie 'n aktiewe projek waarin beide maghebbers en ondergeskiktes medespelers is en dit positiewe uitkomste vir albei tot gevolg behoort te hê.

Giddens (1984) argumenteer dat die werklikheid van sosiale strukture nie ekstern tot sosiale handeling bestaan nie. Dit tree daarenteen na vore in die oomblik van sosiale optrede (Ritzer & Stepnisky, 2014:511). In hierdie opsig is struktuur tegelykertyd 'n beperking asook die ruimte waarin vrye handeling kan plaasvind. 'n Analogie hiervoor is taal.

Hoewel die struktuur van taal onderskei kan word, bestaan taal in die mate waarin dit deur mense gebruik word. Giddens (1984:14) se definisie van mag sluit hierby aan. Mag is die vermoë tot handeling wat deur agente verkry word met betrekking tot die sosiale strukture wat die handeling moontlik maak. Aan die een kant gee struktuur die ruimte vir handeling en aan die ander kant word dit vergestalt deur optrede (Ritzer & Stepnisky, 2014:513). Die gevolg is dat mag nie 'n wen-verloor verskynsel is nie, maar algemeen beskikbaar is vir sosiale praktyke soos wat die strukture mense daartoe toelaat en daartoe in staat stel. Barnes (1988) se argument sluit hierby aan, naamlik dat die bron van konsensus wat lede van 'n sosiale sisteem die vermoë bied om gesamentlik te handel, gedeelde sosiale kennis is (Haugaard, 2009:244). Dit stem verder ooreen met Gramsci se gedagte dat hegemonie gebaseer is op gedeelde kennis waaruit daar nie ontsnap kan word nie. Die samelewing is dus 'n groot selfverwysende raamwerk waarin akteurs die sosiale vermoë gebied word om dinge te doen wat hulle nie sou kon doen as hulle alleen was nie (Haugaard, 2009:244). Binne hierdie raamwerk word unieke handelinge deur individue moontlik gemaak. Dit word egter beperk omdat in 'n kennissisteem veronderstel word dat 'n verskynsel onder sekere omstandighede 'n vasgestelde betekenis sal hê (Haugaard, 2020:87). Dit is die konvensies waarvolgens mense lewe. Hierdie konvensies kan potensieel bevraagteken word en dit kan dan wanorde tot gevolg hê. Samelewings poog om laasgenoemde te verhoed deur die elemente van kennissisteme te objektiveer as onbetwyfelbare waarhede (Haugaard, 2020:98).

Die uitdaging vir Simdlangentsha tradisionele owerheidsleiers is dat kennissisteme en ontologie nie primêr deur hulle bepaal word nie. Daarom fokus hulle op plaaslike sake maar begryp dat groter provinsiale, nasionale en globale prosesse ander opvattings by ondergeskiktes kan laat ontstaan en ontwikkel. Hulle gesag berus dus op onstabiele grond. Tradisionele gesag is dus nooit voldonge of afgehandel nie maar word onderwerp aan voortdurende herstrukturering. Die uitleef daarvan is die resultaat van vertolking en interpretasie. Die hegemonie is dus nie solied nie, maar word deurspoel met invloede. Ons sien elemente hiervan in die rol van vroue en die jeug wat sedert 1994 verander het, maar ook in verbruikerspatrone wat klemverskuiwings meebring, soos in die geval van formele herinneringsdae. Dit demonstreer die krag van die verbruikerskultuur as 'n mededingende hegemoniese invloed.

 

4. Hegemonie en mag: 'n Toepassingsraamwerk

Hier bo is aangetoon dat hegemonie 'n sistemiese magsuitoefening kan wees, maar ook normatief geïnterpreteer kan word deur te fokus op reaktiewe en strukturerende magsuitoefening. Hoe is dit betekenisvol ten opsigte van 'n besinning oor 'n plaaslike magsopset, soos gesien in die lig van hegemonie en mag? Hierdie artikel bied 'n unieke antwoord hierop deur hegemonie en mag op 'n skaal te plaas van negatiewe tot positiewe hegemonie waar magstryde daarrondom tussen die twee uiterstes rondskuif. Tabel 1 sit hierdie interpretasie van hegemonie en mag uiteen.

 

 

Tabel 1 toon aan dat hegemonie afgestem is op geïnternaliseerde sosiale kennis, patrone en beskouings. Dit is negatief wanneer die burgery hulle outonomie verloor as gevolg daarvan en positief wanneer dit outonomie ondersteun. Die uitkoms word bepaal deur 'n magstryd oor presies wat hierdie outonomie behels. Hegemonie en mag is dus nie van mekaar te skei nie. Omdat soveel op die spel is binne 'n gemeenskap met betrekking tot die rol van hegemonie, is die magstryd fel en ernstig op idee-vlak, onder andere omdat maghebbers poog om hierdie stryd te onderdruk. Die verhouding tussen hegemonie en mag kan in hierdie verband, soos aangedui in Tabel 1, as sistemies, gesamentlik of strukturerend beskryf word. Sistemiese magsuitoefening vertoon die neiging om negatiewe hegemonie tot gevolg te hê. Reaktiewe magsuitoefening vind veral plaas in die veld van die stryd om hegemonie. Strukturerende magsuitoefening kan bydra tot positiewe hegemonie. Die gevallestudie demonstreer egter dat hegemonie 'n bewegende teiken is in 'n veranderende wêreld en dat 'n magstryd daaroor die vorm aanneem van 'n voortdurende proses.

 

5. Normatiewe nadenke

Die magstryd om hegemonie is afgestem op die outonomie of vryheid van die burgery. In die lig hiervan ontstaan die vraag dus of die tipe hegemonie wat die Simdlangentsha tradisionele owerheid onderhou, normatief wenslik is. Om die vraag te beantwoord, moet nagedink word oor juis dit wat positiewe hegemonie behoort te behels, al dan nie. Ideaal gesproke, sou dit vertrouensverhoudinge moes inhou wat voortspruit uit gelyke, beskermde en onderling-bindende konsultasies. In hierdie diskoers is elke individuele burger 'n doel op sigself teenoor tradisionele opsette waar die geheel belangriker is. Dit beteken dat daar met betrekking tot 'n positiewe hegemonie 'n ontvanklikheid moet wees vir verskille, insluiting, gelykheid, konsultasie, vertroue, erkenning, beslegting, selfbeheer en outonomie. Teenstanders sou mekaar in so 'n geval respekteer en konflik sou op legitieme wyses besleg word met die oog op 'n wen-wen uitkoms.

Ten opsigte van 'n meer omvattende konteks kan dus gevra word wat so 'n sosiale kontrak onder die deursnee Suid-Afrikaanse bevolking sou behels. Die aanvaarding van die Freedom Charter (1955) het 'n positiewe hegemonie verwoord en dit het 'n grondslag gelê vir die idealisering van 'n gemeenskaplike postapartheid Suid-Afrika in 1994. Dit het die moontlikheid van solidariteit en kohesie verwoord. Dit het ook dit wat as waar, normaal en redelik beskou sou kon word, geïdealiseer. Tans is die Freedom Charter egter 'n uitgediende sosiale kontrak.

Teenswoordig is daar uiteenlopende menings oor dit wat as waar, normaal en redelik in die Suid-Afrikaanse konteks beskou moet word. Die stryd is afgestem op dit wat die waarheid is: dit gaan oor vraagstukke soos die bepaling van gepaste simbole, hoe die verlede en hede verstaan en geëtiketteer moet word, wat die oorsake van onvryheid is en wie verantwoordelik is daarvoor (Scott, 1985:xvii). Daar is nie eenvoudige antwoorde hierop nie. Hierdie artikel toon dat betekenisgewing 'n magstryd behels wat hegemoniese gevolge in die oog het. Dit kan lei tot 'n hegemonie wat individuele outonomie óf beperk óf versterk. Hier moet oop diskoers die doel wees waarbinne eie oortuigings in toom gehou word sodat geluister kan word na wat die ander sê. In so 'n oop proses, soos dit ook bewoord word aan die positiewe kant van Tabel 1 hier bo, word aan die ander ruimte gebied sodat gesamentlik solidariteit en kohesie bevorder kan word en 'n burgerlike outonomie ontwikkel wat begrond is in die burgery se lewenservaring. Die tradisionele geval wat hier bestudeer is, ontbloot uitdagings wat Suid-Afrikaners hierin op plaaslike vlak ervaar.

Riglyne vir die normatiewe denke oor hierdie uitdagings is te vinde in die bestaande teoretisering oor demokrasie. Vanuit 'n prosesgeoriënteerde benadering beskryf Tilly (2009:8081) 'n regime byvoorbeeld as demokraties tot die mate waarin politieke verhoudinge tussen die staat en die burgery deur gelyke, beskermde en onderling-bindende konsultasie gekenmerk word (Tilly, 2009:78). Ideaal gesproke, is demokrasie afhanklik van die vestiging van vertrouensnetwerke en die beskerming van openbare politiek teen die kategorieë van ongelykheid, deur 'n staat wat die nodige kapasiteit het hiervoor; dit wil sê, die politiek word nie beïnvloed deur ongelyke kategorieë soos ras, geslag, etnisiteit, nasionaliteit en godsdiens nie (Tilly, 2009:81, 85).

Pettit (in Haugaard & Pettit, 2017:27) neem dit verder en beskou elke burger as 'n doel in eie reg. Soos hier bo gemeld, is in tradisionele samelewings die sosiale geheel belangriker as die individu. In 'n vrye samelewing is die individu die belangrikste. Geen individu mag dus leed aangedoen of gedomineer word nie. Dit beteken dat almal 'n gelyke beskermde posisie ten opsigte van ander en die regering het. Die toets hiervoor is of mense mekaar in die oë kan kyk sonder enige rede vir vrees of onderwerping (Haugaard & Pettit, 2017:27).

Dit sluit aan by Laclau en Mouffe (1985) se radikale demokratiese standpunt dat elke identiteit se geldigheid aanvaar word en 'n hiërargie van identiteite afgewys word (Carpentier & Cammaerts, 2006:965). Pluralisme beteken dat die mensdom as 'n pluraliteit en as verdeeld aanvaar moet word (Carpentier & Cammaerts, 2006:972). Om dit aan te spreek moet politieke teenstanders mekaar in 'n strydende demokratiese raamwerk respekteer en konflik op 'n legitieme wyse besleg (Carpentier & Cammaerts, 2006:963, 965).

Op grond van sy pragmatiese perspektief meen Haugaard (2020:190) dat magstrukture moet verseker dat die kwesbaarste sosiale akteur oor genoegsame bronne beskik dat hy of sy nie deur die heersers vir eie doeleindes misbruik kan word nie. Diskoerse verskil egter oor dit wat as genoegsame bronne beskou moet word en welke regte sosiale akteurs genoegsaam beskerm en magsewewig verseker. Veral in permanent verdeelde samelewings is die meerderheid in die versoeking om besluite te neem waardeur die mag van die minderheid stelselmatig ondermyn word. Dit ondermyn die demokratiese ideaal van burgerlike outonomie (Haugaard, 2020:195). Daarteenoor word demokrasie gekonsolideer waar die kwesbares in die samelewing met verloop van tyd groter erkenning geniet en magsuitoefening teen hulle beperk word (Haugaard, 2020:198). Demokrasie moet dus 'n wen-wen uitkoms hê waar wenners én verloorders bevoordeel word, anders kan laasgenoemdes hulle vertroue in die demokrasie verloor en 'n teen-demokratiese-diskoers begin navolg (Haugaard, 2020:202). In die lig hiervan moet politieke korrektheid nie te ernstig opgeneem word in 'n demokrasie nie, want daar moet verstaan word dat die sosiale wêreld verskillend vertolk kan word en daar nie slegs een korrekte diskoers bestaan nie. Dit beteken dat gespreksomgewings vurige emosie en verskille moet kan akkommodeer (Haugaard, 2020:210). So 'n demokrasie vereis egter geïnternaliseerde selfbeheersing onder sy mense (Haugaard, 2020:213).

Hieruit kan afgelei word dat normatiewe demokratiese direktiewe vir 'n wen-wen hegemonie 'n beslegting van verskille behels wat gekenmerk behoort te word deur die aanvaarding van individuele outonomie, terwyl dit dan behoort te lei na 'n ervaring van insluiting, kon-sultasie, gelykheid, vertroue, erkenning en respek. Hierdie direktiewe kan geïdentifiseer word, maar hulle geniet nie objektiewe geldigheid nie. Die gevolg is dat daar verskillende morele filosofiese beskouings bestaan oor hoe legitieme direktiewe geïdentifiseer kan word (Morriss, 2009:64). Verder dra die konteks waarin mense hulle bevind ook by tot die mate waarin beperkinge van hulle outonomie as ongeoorloof, vernederend of beledigend ervaar sal word. Op sy beurt hang laasgenoemde af van wie die beperkinge instel of afdwing (Morriss, 2009:65). Tog sou die beperkinge getemper kon word as die normatiewe demokratiese direktiewe getrou sou bly aan die agenda van 'n oop sosiale diskoers en die fokus sou wees daarop om hieraan inhoud te gee op 'n positiewe wyse. Die hegemoniese ideale van tradisionele owerhede in Suid-Afrika behoort dus aangehoor te word. Dit mag egter nie as 'n enigste- of voorkeurdiskoers geïnstitusionaliseer word in 'n demokratiese Suid-Afrika nie - ook nie op plaaslike vlak nie.

 

6. Slotopmerkings

Die artikel het met die gevallestudie die nut geïllustreer daarvan om die konseptuele verband tussen hegemonie en mag te gebruik om normatiewe gevolgtrekkings oor die werking van demokrasie te maak. Daar is aangedui hoe die verband tussen hegemonie en mag interpreteer kan word as sistemiese, reaktiewe en strukturerende magsuitoefeninge. Hierdie teoretisering is saamgevat in 'n tabel wat 'n toepassingsraamwerk voorstel rondom die nadenke oor die verhouding tussen hegemonie en mag. Dit kan gebruik word vir die beoordeling van gesagsnetwerke. Rondom die Simdlangentsha tradisionele owerheid is bevind dat, hoewel die tradisionele leiers ideale het van 'n tradisionele hegemonie, verskeie invloede dit beperk en verander. Met 'n demokratiese fokus hierop, wat veral burgerlike outonomie beklemtoon, is dit duidelik dat daar aan tradisionele ruimte voorsien kan word. Dit is egter onderhewig aan die ideaal van 'n waardestelsel wat spreek tot die lewenservaring van die burgery waarin gedeelde doelwitte verwesenlik word en burgerlike outonomie verseker word.

Die artikel bied sodoende rigtingwysers vir verdere navorsing oor hierdie tema. Navorsing hieroor blyk nodig te wees. Die artikel toon dat nadenke oor die saak van hegemonie en mag in Suid-Afrika sinvol kan wees waar die beswil van die burgery ter sprake kom. Vir die konsolidering van demokrasie in Suid-Afrika is diepgaande besinning en ernstige debatvoering oor positiewe hegemonie 'n noodsaaklikheid, sekerlik ook gesien in die lig van die uitdagings wat dit ook plaaslik in die gesig staar.

 

ERKENNING

Die PUK-Kanselierstrust se finansiële ondersteuning vir hierdie navorsing word met waardering erken. Die menings en gevolgtrekkings in die artikel is egter uitsluitlik dié van die skrywer.

 

BIBLIOGRAFIE

Adebanwi, W. 2004. The city, hegemony and ethno spatial politics: The press and the struggle for Lagos in Colonial Nigeria, nationalism and ethnic politics. Nationalism and Ethnic Politics, 9(4):24-51.         [ Links ]

Arendt, H. 1970. On violence. New York: Harcourt.         [ Links ]

Barnes, B. 1988. The nature of power. Cambridge: Polity.         [ Links ]

Bauman, Z & Haugaard, M. 2008. Liquid modernity and power: A dialogue with Zygmunt Bauman. Journal of Political Power, 1(2):111-130.         [ Links ]

Bourdieu, P. 1989. Social space and symbolic Power. Sociological Theory, 7(1):14-25.         [ Links ]

Brynard, PA & Musitha, ME. 2011. The role of traditional authorities in the implementation of the Integrated Development Planning Policy (IDP) in Vhembe District Municipality, Limpopo. Pretoria: University of Pretoria.         [ Links ]

Clarke, A & Jepson, A. 2011. Power and hegemony within a community festival. International Journal of Event and Festival Management, 2(1):7-19.         [ Links ]

Clegg, SR. 1989. Frameworks of power. London: Sage Publications.         [ Links ]

Clegg, SR. & Haugaard, M. eds. 2009. The Sage handbook of power. London: Sage Publications.         [ Links ]

Carpentier, N & Cammaerts, B. 2006. Hegemony, democracy, agonism and journalism: An interview with Chantal Mouffe. Journalism Studies, 7(6):964-975.         [ Links ]

Daldal, A. 2015. Power and ideology in Michel Foucault and Antonio Gramsci: A comparative analysis. Review of History and Political Science, 2(2):149-167.         [ Links ]

Davies, J. 2014. Rethinking urban power and the local state: Hegemony, domination and resistance in neoliberal cities. Urban Studies, 51(15):3215-3232.         [ Links ]

Engelstad, F. 2009. Culture and power. In Clegg, SR. & Haugaard, M. eds. The Sage handbook of power. London: Sage Publications, pp. 210-238.         [ Links ]

Foucault, M. 2003. Society must be defended: Lectures at the Collège de France, 1975-76. New York: Picador.         [ Links ]

Giddens, A. 1984. The constitution of society: Outline of the theory of structuration. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Gordon, R. 2009. Power and legitimacy: From Weber to contemporary theory. In Clegg, SR & Haugaard, M. eds. The Sage handbook of power. London: Sage Publications, pp. 256-273.         [ Links ]

Gramsci, A. 1971. Selections from the prison notebooks. London: Lawrence & Wishart.         [ Links ]

Han, B. 2019. What is power? Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Haugaard, M. 2009. Power and hegemony. In Clegg, SR & Haugaard, M. eds. The Sage handbook of power. London: Sage Publications, pp. 239-255.         [ Links ]

Haugaard, M. 2020. The four dimensions of power: Understanding domination, empowerment and democracy. Manchester: Manchester University Press.         [ Links ]

Haugaard, M & Pettit, P. 2017. A conversation on power and republicanism: An exchange between Mark Haugaard and Philip Pettit. Journal of Political Power, 10(1):25-39.         [ Links ]

Keulder, C. 1998. Traditional leaders and local government in Africa. Pretoria: HSRC.         [ Links ]

Laclau, E & Mouffe, C. 1985. Hegemony and socialist strategy: Towards a radical democratic politics. London: Verso.         [ Links ]

Lukes, S. 1974. Power: A radical view. London: MacMillan.         [ Links ]

Lukes, S. 2005. Power. A radical view. Second edition. New York: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

Maseko, MJ. 2015. The transformation of traditional leadership: A case study of the Simdlangentsha traditional council and its relationship with local government. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Potchefstroom: Noord-Wes Universiteit.         [ Links ]

Maseko, M & Zaaiman, J. 2018. The Simdlangentsha traditional council and local government: towards a better relationship. Administratio Publica, 24(2):175-197.         [ Links ]

Morriss, P. 2009. Power and liberalism. In Clegg, SR & Haugaard, M. eds. The Sage Handbook of Power. London: Sage Publications Ltd., pp. 54-69.         [ Links ]

Ntsebenza, L. 2004. Reconciliation, reparation and reconstruction in post-1994 South Africa: What role for land? In Doxtader, E & Villa-Vicencio, C. eds. To repair the irreparable: Reparation and reconstruction in South Africa. Claremont: David Philip Publishers, pp. 197-210.         [ Links ]

Parsons, T. 1963. On the concept of political power. Proceedings of the American Philosophical Society, 107:232-262.         [ Links ]

Ritzer, G & Stepnisky, J. 2014. Sociological Theory. International, Ninth edition. New York: McGrawHill Education.         [ Links ]

Schaefer, RT & Lamm, RP. 1992. Sociology. New York, NY: McGraw-Hill        [ Links ]

Scott, JC. 1985. Weapons ofthe weak: Everyday forms ofpeasant resistance. New Haven: Yale University Press.         [ Links ]

Sithole, MP & Mbele. 2008. Fiteen year review on traditional leadership. A research paper. Pretoria: HSRC.         [ Links ]

Suid-Afrika. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996.         [ Links ]

Tar, UA & Shettima, AG. 2010. Hegemony and subordination: Governing class, power politics and electoral democracy in Nigeria. Information, Society and Justice, 3(2):135-149.         [ Links ]

The Freedom Charter, 1955. Aanlyn weergawe: https://www.sahistory.org.za/article/freedom-charter [20 March 2020].         [ Links ]

Tilly, C. 2009. Power and Democracy. In Clegg, SR. & Haugaard, M. eds. The Sage Handbook of Power. London: Sage Publications, pp. 70-88.         [ Links ]

Wróbel, S. 2010. Foucault reads Freud: The dialogue with unreason and enlightenment. Polish Sociological Review, 171(3):271-288.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-03-28
Goedgekeur: 2022-01-15
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Johan Zaaiman is medeprofessor in Sosiologie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, Suid-Afrika. Sy spesialiteit is politieke sosiologie waar hy in sy navorsing op die ontleding van plaaslike magsopsette fokus. Meesters- en doktorsgraadstudente het onder sy leiding studies in hierdie verband voltooi. Sy publikasies en referate by internasionale en nasionale kongresse hou met hierdie navorsing verband. Hy is 'n voormalige president van die South African Sociological Association en raadslid van internasionale navorsingsgroepe wat politieke mag, veral in plaaslike opsette, ontleed.
Johan Zaaiman is Associate Professor of Sociology at the North-West University in Potchefstroom, South Africa. His specialty is political sociology. His research focuses on the analysis of local power configurations. Master's and doctoral students have completed studies in this field under his supervision. His publications and papers at international and national congresses relate to this rubric. He is a former president of the South African Sociological Association and a board member of international research groups that analyse political power, especially in local settings.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons