SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1Challenges and opportunities in practising diplomacy - Before, during and after Covid-19Challenges and implications for the implementation of self-directed learning during Covid-19 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a7 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Spirituele voorkeure en die ervaring van ere-dienste in die Nederduitse Gereformeerde Kerk1

 

Spiritual preferences and the experience of worship services in the Dutch Reformed Church

 

 

Adri la GrangeI; Yolanda DreyerII

INavorsingsgenoot, Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: adri@la-grange.co.za
IIDepartement Praktiese Teologie en Missiologie Fakulteit Teologie en Religie Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika E-pos: Yolanda.Dreyer@up.ac.za

 

 


OPSOMMING

Daar is 'n wêreldwye tendens van afname in lidmaatgetalle van hoofstroomkerke. Hierdie artikel fokus op die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in Suid-Afrika. Dit ondersoek of die hoofsaaklik rasionele verstaan van God eerder as 'n persoonlike spirituele ervaring 'n rede vir die afname in die spesifieke Gereformeerde kerklike tradisie kan wees. Die gewildheid van charismatiese en pinksterkerke in die konteks kan toegeskryf word aan hulle klem op subjektiewe ervaring, wat ook kenmerkend is van die postmoderne kultuur. Mense woon eredienste by met die verwagting dat hulle spirituele behoeftes bevredig sal word. Mense se spirituele en emosionele behoeftes verander saam met hulle leefwereld. In die moderne era was die klem op rasionele kennis terwyl die klem in 'n postmoderne era meer op subjektiewe ervaring is. Hierdie paradigmaskuif beïnvloed die wyse waarop mense godsdiens ervaar en beoefen. Die ondersoek maak gebruik van Corinne Ware se spirituele tipologie om insig te verkry in mense se ervaring van eredienste in die NG Kerk. Die resultate dra by tot 'n beter verstaan van lidmate se spirituele behoeftes met betrekking tot eredienste om by te dra tot hulle geestelike groei. Die vraag is hoe die NG Kerk getrou kan bly aan die gereformeerde tradisie terwyl 'n meer holistiese en inklusiewe benadering gevolg word, spesifiek wat eredienste betref.

Trefwoorde: gereformeerd, spiritualiteit, spiritualiteitstipes, erediens, eredienservaring, liturgie, katafaties, apofaties, modern, postmodern


ABSTRACT

Membership of mainstream churches is declining all over the world. This article focuses on the Dutch Reformed Church (DRC) in South Africa. It investigates whether a reason for the decline in this specific Reformed ecclesial tradition could be the predominantly rational understanding of God rather than that of a personal spiritual experience. The popularity of charismatic and Pentecostal churches in the context could be attributed to their emphasis on subjective experience, which is also characteristic of postmodern culture. People attend worship services with the expectation of having their spiritual needs met. People's spiritual and emotional needs evolve as their lifeworld changes. In the modern era, the emphasis was on rational knowledge. In this era people resonated with the rational approach of the mainstream churches. The influence of the postmodern era is visible in the emphasis on subjective experience. This paradigm shift influences how people experience and practice religion. They tend to search for congregations that address their needfor a fulfilling spiritual experience. Many prefer worship services where they have a personal, emotional experience of God. Every person has unique spiritual needs and experiences God in unique ways. Therefore people exercise their faith in different ways. Spirituality plays an important role in people's lives.
A qualitative approach was used to gain insight into people's experiences. The empirical part of the study was based on responses from volunteers who participated by completing spirituality questionnaires and took part in semi-structured interviews. The aim was to ascertain whether the DRC is experienced to be exclusive regarding spiritual preferences and, if so, whether this could be a contributing factor when it comes to the decline in membership of the Church.
In 1980 Urban T Holmes wrote a handbook on spirituality, titled A history of Christian spirituality. Holmes' valuable contribution is a typology of spiritual preferences, specifically focused on prayer. In 1995 Corinne Ware used this typology and expanded it. She specifically focused on the way people responded to worship patterns. She explained differences in spirituality and spiritual preferences by distinguishing between four groups. She called the spirituality preferences "spirituality types" and named them "head", "heart", "mystic" and "hand". Ware developed a questionnaire to determine a person's "spirituality type". This investigation utilised Corinne Ware's spiritual typology to gain insight into people's experiences of worship services in the DRC. The results contribute to a better understanding of members' spiritual needs with regard to worship services in order for these experiences to contribute to their spiritual growth. The question is how the Dutch Reformed Church can remain true to its Reformed tradition while taking a more holistic and inclusive approach to spirituality, specifically with regard to worship.

Keywords: reformed, spirituality, spirituality-types, worship service, worship experience, liturgy, cataphatic, apophatic, modern, postmodern


 

 

Inleiding en probleemstelling

In die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is daar 'n drastiese afname in lidmaatgetalle. Die Jaarboek van die NG Kerk dui 'n verlies van net minder as 50 000 lidmate tussen 2011 en 2013 aan (Schoeman, 2013:5). Ondersoeke dui aan dat dit veral die aantal dooplidmate is wat afneem in hoofstroomkerke (kyk Schoeman, 2011, 2013). Die NG Kerk het in 2010 ongeveer 68% minder dooplidmate gehad as wat in 1972 die geval was (Schoeman, 2013:5). Die jongste amptelike statistieke verkry uit Kerkspieël-navorsing in 2018 dui aan dat die aantal belydende lidmate in een jaar met 20 812 afgeneem het. Ook dooplidmate het gedaal met 1 966 in een jaar (Schoeman, 2019).

In die Gereformeerde tradisie word klem gelê op 'n rasionele verstaan van God en Gereformeerde spiritualiteit het 'n groter fokus op geloofskennis as op ervaring. Die hoof-stroomkerke se hoofsaaklik rasionele benadering is nie vir alle lidmate bevredigend nie. Dit is 'n moontlike rede waarom baie mense eerder 'n ander geestelike tuiste gaan soek buite die Gereformeerde tradisie. Schoeman (2015:103) se studie, "Identity and community in South African congregations", toon aan dat daar 'n groot behoefte by gelowiges in die NG Kerk is dat aan hulle persoonlike spirituele behoeftes voldoen word. Dit is vir hedendaagse mense belangriker as om aan 'n gemeente te behoort. Hierdie artikel bou op die resultate van die bestaande navorsing en het ten doel om verdere insig te verkry in wat die spirituele behoeftes is en hoe daaraan voldoen kan word.

Dit is 'n uitdaging om verskeidenheid en verskille ten opsigte van mense en hulle behoeftes in 'n erediens te akkommodeer, spesifiek ten opsigte van verskille wat betref spiritualiteit. Met 'n dieper insig in die verskeidenheid van die individue wat eredienste bywoon, kan voorgangers 'n meer inklusiewe benadering volg wanneer eredienste beplan word. Hierdie artikel ondersoek hoe mense verskillende spirituele voorkeure in die NG Kerk se tradisionele eredienste beleef. Die doel van die ondersoek is om vas te stel of hulle en hulle spiritualiteit in- of uitgesluit voel. Die vraag is of die resultate van die ondersoek sou kon lig werp op die afname in lidmaatgetalle.

 

Navorsingsmetode

Hierdie ondersoek is binne die vakgebied van die Praktiese Teologie. Die paradigma is postmodern. "Postmoderniteit" erken dat mense se lewens- en wêreldbeskouings verskil. Dit is 'n kwalitatiewe ondersoek wat ten doel het om insig te verkry in mense se ervaring van tradisionele eredienste van die NG Kerk. Die respondente was vrywilligers uit die NG Gemeentes van Klerksdorp-Noord. Hulle is deur afkondigings in die erediens bewus gemaak van die ondersoek en uitgenooi om deel te neem. 'n Kriterium vir seleksie was dat respondente oor genoegsame kennis en ervaring van tradisionele eredienste van die NG Kerk beskik.

Die respondente wat aangemeld het vir deelname, is gevra om Corinne Ware se spiri-tualiteitstoets af te lê. Ware (1995:48) se werk, Discover your spiritual type, gee algemene toestemming vir gebruik van die toets. Nadat die bevindinge van die spiritualiteitsvraelyste verwerk is, is deelnemers geïdentifiseer vir semi-gestruktureerde onderhoude met die doel om dieper insig te verkry ten opsigte van hulle belewenis van NG Kerke se tradisionele eredienste. Etiese klaring is verkry van die Universiteit van Pretoria en toestemming is skriftelik gegee deur die respondente voordat die onderhoude gevoer is.

 

Gereformeerde eredienste

Die erediens word beskou as die hart van die Gereformeerde tradisie. Die wyse waarop 'n erediens ingerig word, verraai 'n gemeente se identiteit en karakter (Smit, 2009:106). Hoe eredienste in NG gemeentes ingerig word, kan nie losgemaak word van die Gereformeerde geloofstradisie nie. Die betekenis wat erediensgangers heg aan die gebeure tydens die erediens, en hulle gepaardgaande ervaring van die erediens, sal direk beïnvloed word deur hulle Gereformeerde agtergrond. Die kern van die Gereformeerde tradisie kan saamgevat word in die belydenis dat die lewe coram Deo geleef word. Smit (2002:134) verduidelik dit as "'n lewe voor Gods aangesig, 'n wandel met die lewende God, 'n lewe in die wêreld, in die geskiedenis, in Gods aanwesigheid." Vir Gereformeerde gelowiges is hierdie God voor wie se aangesig hulle leef die Drie-enige God van die geskiedenis en van die ganse werklikheid (Smit, 2002:129).

Die Skrif is een van die pilare van die Gereformeerde tradisie. Die beginsel van sola Scriptura staan sentraal in die Gereformeerde teologie. Die NG Kerk beskou die Skrif as getuienis van God se handelinge in die geskiedenis. Hierdie getuienis uit 'n vroeër era moet geïnterpreteer word vir elke nuwe konteks. Die wyse waarop die Skrif geïnterpreteer word, is van groot belang. In Gereformeerde Skrifgebruik is daar 'n sterk fokus op die intellektuele uitleg van die Bybel (Smit, 2002:130,136). Die Kerkorde van die NG Kerk (2015:128) beklemtoon dat die mens se denkvermoë, as 'n gawe van God, gebruik moet word om die Skrif te interpreteer. Die Gereformeerde tradisie is verder ook 'n beliggaamde geloof. Wat deur die Woord geleer word, moet gestalte kry in woord en daad. Dit is om op 'n bewuste wyse te lewe in hierdie wêreld, om te lewe volgens God se wil. Die Gereformeerde tradisie beklemtoon dat gelowiges alles wat hulle doen, sal beskou as deel van hulle roeping en om in dankbare gehoorsaamheid aan God te lewe. Só word die ganse lewe 'n erediens (Nicol, 1996:41).

Een van die kenmerke van eredienste van NG gemeentes is 'n bepaalde liturgiese orde. Die liturgiese orde is funksioneel. Die liturgie is meer as 'n raamwerk vir die Woordverkondiging. Die liturgie is self uitdrukking van geloof en 'n vormgewing van die gemeente se ontmoeting met God. God is handelend teenwoordig in die erediens en lei die gemeente daartoe om in die erediens eer te bring aan God. Die werksaamhede van God en mens kan nie op 'n eenvoudige wyse van mekaar onderskei of geskei word nie (Barnard, 2009:118). Liturgiese handelinge is nie net die taak van die leraar of ampsdraers terwyl gemeentelede die rol van toeskouers inneem nie. Die hele gemeente neem saam deel aan die liturgie.

In die Gereformeerde tradisie beklemtoon die liturgie die ontmoetingskarakter van die erediens. Die kansel met die Bybel staan sentraal as 'n simbool wat hierdie ontmoetingskarakter uitbeeld. Dit beklemtoon dat die erediens plaasvind in die vorm van 'n gesprek tussen God en die gemeente. Die mens se ontmoeting met God vind plaas deur bemiddeling van die Woord en die werking van die Heilige Gees.

 

Gereformeerde spiritualiteit

Die uitgangspunt van hierdie artikel is dat "Christelike spiritualiteit" 'n manier is waarop individue met hulle unieke persoonlikheid en agtergrond God beleef. Christelike spiritualiteit as "'n lewe coram Deo" behels dat die totale lewe met al die fasette daarvan elke dag voor die aangesig van God geleef word (Dreyer, 1998:294).

Spiritualiteit is egter veranderlik en vloeibaar. Dit word deur die konteks, kultuur, tradisie en teologiese denke beïnvloed. Derhalwe moet die konteks krities ondersoek word om die invloed daarvan op spiritualiteit vas te stel.

Gereformeerde spiritualiteit is nie volkome eiesoortig of eksklusief nie, maar deel verskeie elemente met ander Christelike tradisies (Smit, 1989:83). Dit beskik egter wel oor "tipiese trekke" wat vervolgens bespreek word.

Die vertrekpunt van Gereformeerde spiritualiteit is dat God teenwoordig is in die alledaagse lewe. Die klem is op die grootheid van God, die mens se bestaan voor God se aangesig, in God se teenwoordigheid. Aanbidding en lofprysing van God in die totale lewe kry sterk klem. Tradisioneel fokus Gereformeerde spiritualiteit egter meer op geloofskennis as op ervaring (Nicol, 1996:40-41). Egte Gereformeerde spiritualiteit is nie eensydig op die gelowige individu gerig nie, maar fokus ook op ander (Burger, 1995:95). In dié sin kan spiritualiteit en etiek nie los van mekaar gesien word nie. Daar is 'n verband tussen die verhouding met God en die alledaagse lewenspraktyke van die gelowige (Jonker, 1989:291).

Gereformeerde denke is gevorm binne 'n moderne paradigma. Lering neem 'n belangrike plek in. Gereformeerde spiritualiteit plaas klem op die rede. Daar word gesteun op belydenisskrifte en dogma (Dreyer, 1999:375-376). Die Gereformeerde tradisie beklemtoon die gelykwaardigheid van die drie persone van die Drie-eenheid. Christus is die Middelaar, nie in 'n mistieke sin nie, maar in 'n etiese sin. Dit behels vir gelowiges 'n lewenslange afsterwe van die ou mens en die opstaan van die nuwe mens. Genade en geloof is verder belangrike elemente van Gereformeerde spiritualiteit. Die hooffokus is op God en God se genade en nie op die mens nie. In Reformatoriese spiritualiteit gaan dit primêr om God en die wyse waarop God by mense betrokke is (Dreyer, 1999:375). Die mens kan niks bydra nie. Daar is geen sprake van verdienstelikheid nie. Daarom kan die mens met vrymoedigheid voor God leef (Dreyer, 1998:297).

In hierdie tradisie is die fokus op Christus as die handelende party buite die mens, eerder as op menslike ervaring. Die klem is minder op die subjektiewe geloof van mense as op die objektiewe heilsgeskiedenis. God se verbond met en genade vir mense word beklemtoon (Dreyer, 1998:299). Die gevolg van verlossing uit genade is 'n dankbare lewe van gehoor-saamheid aan God, deur die werking van die Heilige Gees. So 'n lewe van gehoorsaamheid behels voortdurende toewyding aan God. Die Wet verwoord 'n heilige lewenswyse wat met selfverloëning gepaard gaan (Jonker, 1989:293-299). Gereformeerde spiritualiteit word nie gekenmerk deur euforiese vreugde nie en normaalweg getuig mense in hierdie tradisie nie met groot entoesiasme oor hulle eie geestelike belewenisse nie (Dreyer, 1998:299).

 

Spirituele voorkeure

Die spiritualiteitswiel

Binne die Gereformeerde wêreld, soos in elke Christelike geloofstradisie, is daar mense met verskillende spirituele voorkeure. Die vraag is of daar in die algemeen voldoende ruimte gemaak word vir die verskeidenheid van menslike spiritualiteit en spiritualiteitsvoorkeure in die eredienste van NG gemeentes. Die studie het 'n aantal NG lidmate en oud-lidmate se spirituele voorkeure en belewenisse ondersoek om insig te verkry in die spirituele verskille en voorkeure en te reflekteer op hoe eredienste beplan kan word om vir die verskeidenheid voorsiening te maak (kyk Ware, 1995:xii).

'n Eerste stap tot 'n breër en meer inklusiewe praktyk sou wees dat spirituele voorkeure benoem sal word en mense hulle eie plek en voorkeure binne die breër Christelike tradisie sal kan identifiseer en verstaan. In 1980 ontwikkel Urban T Holmes 'n tipologie van spirituele voorkeure met 'n fokus op die praktyk van gebed. Hy noem dit die Circle of sensibility. Corinne Ware (1995:2) bou voort op Holmes se werk en ondersoek onder andere hoe mense op verskillende aanbiddingspatrone reageer. Ware het Holmes se sirkel aangepas tot vier kwadrante wat vier spirituele voorkeurgroepe aandui. Sy noem die spiritualiteitsvoorkeure "spiritualiteitstipes". Die tipes is 'n "kop-", "hart-", "mistieke-" en "handspiritualiteit". Die "spiritualiteits-wiel" van Ware (1995:30) lyk soos volg:

 

 

Die vertikale as verteenwoordig die manier waarop mense tot kennis van God kom. Dit staan bekend as die spekulatief-affektiewe as. Mense kan tot kennis kom deur die rede (kop) of deur gevoelens (hart) (Ware, 1995:31-32). Die horisontale as stel die wyse voor waarop goddelikheid verstaan word. Dit staan bekend as die apofaties-katafatiese as (kyk Perrin, 2007:111). Nicol (2002:50) verduidelik die verskil tussen die katafatiese en apofatiese verstaanswyse as: "ligmistiek (katafaties), waarin gedagtes 'n bepalende rol gespeel het en donkermistiek (apofaties), die innerlike pad om verby alle gedagtes te beweeg".

Die horisontale en vertikale asse van die spiritualiteitswiel kruis mekaar om vier kwadrante te vorm. Die kwadrante verteenwoordig vier spiritualiteitstipes. Die eerste kwadrant is die kopspiritualiteit met 'n kombinasie van katafatiese en spekulatiewe eienskappe. Die tweede kwadrant is die hartspiritualiteit met 'n kombinasie van katafatiese en affektiewe eienskappe. Die derde kwadrant is die mistieke spiritualiteit met 'n kombinasie van affektiewe en apofatiese eienskappe. Die vierde kwadrant is die handspiritualiteit, 'n kombinasie van spekulatiewe en apofatiese eienskappe.

Elke kwadrant verteenwoordig dus 'n kombinasie van denkwyses oor God en maniere om tot godskennis te kom. Die spiritualiteitswiel bied 'n raamwerk om spirituele voorkeure te beskryf en spirituele ervaring te verstaan (kyk Ware, 1995:6-7).

Die vier spiritualiteitstipes

Kwadrant 1: spekulatief/katafaties - 'n kopspiritualiteit

Vir hierdie tipe is rasionele denke en die konkrete belangrik. Die Bybel word ondersoek om te verneem wat die gedeelte oor God sê en wat dit presies beteken. Die betekenisse word in terme van konkrete beelde verklaar. Woorde en die betekenis van die woord is sentraal vir mense met 'n kopspiritualiteit en daarom lees en skryf hulle graag. Dit is byvoorbeeld mense wat oor teologiese en leerstellige kwessies publiseer. Orde en struktuur is vir hulle belangrik. Die tradisie moet oorgedra word aan die volgende geslagte. Gebede het 'n ryk inhoud, is ordelik en woordgebruik is deurdag. Besprekingsgroepe en Bybelstudies bevredig die behoefte aan rasionele en intellektuele stimulasie. Kritiese denke is kenmerkend van hierdie groep. Hulle glo nie alles wat hulle vertel word nie (Ware, 1995:86).

Kwadrant 2: affektief/katafaties - 'n hartspiritualiteit

Hierdie kwadrant kombineer die hart (emosie) en die konkrete. Kenmerkend is die uitdrukking van gevoel, spontaneïteit en entoesiasme. Hoewel hierdie groep ook "God ken" op katafatiese wyse, is die manier van ken van die "kop-" en die "hartspiritualiteit" verskillend. Ware (1995:39) beskryf dit soos volg: "While kataphatics of the mind may charge, 'My doctrine is purer than yours', kataphatics of the heart counter with 'My walk with the Lord is closer than yours'." Vir persone met 'n hartvoorkeur is 'n lewe van heiligheid en persoonlike vernuwing die vernaamste doel. 'n Persoonlike verhouding met God is sentraal. Gemoedelikheid en interpersoonlike warmte is 'n verdere kenmerk. Die Bybel is sentraal en dit word gekombineer met 'n affektiewe spiritualiteit. Die Bybel word gelees om te verneem wat God vir hulle persoonlik sê. Gebede is minder formeel as by mense met 'n kopspiritualiteit (Ware, 1995:104). Ervaring word gedeel en getuienis word beklemtoon. Musiek speel ook 'n groot rol want dit ontlok emosie. God word as immanent ervaar. Die daaglikse spirituele dissipline is nie te streng nie. Negatiewe emosies soos woede, teleurstelling of twyfel kan skuldgevoelens veroorsaak. Omdat hulle sterk emosiegedrewe is, kan hulle hoogte- en laagtepunte in hulle godsdienstige lewe ervaar. Die hoogtepunte word dikwels deur ander gelowiges beny. Die voordeel van hierdie oriëntasie is dat mense God in die hede as teenwoordig beleef, ook wanneer hulle laagtepunte ervaar op hulle spirituele reis (Ware, 1995:87-88).

Kwadrant 3: affektief/apofaties - 'n mistieke spiritualiteit

Mistieke spiritualiteit is die bewussyn van 'n transendente teenwoordigheid buite die mens. Vir mense met hierdie spiritualiteitsvoorkeur is geloof 'n reis met God. God is die skeppende mag wat nie beskryf kan word nie, want God is te hoog, verhewe, groot en anders. God is so totaal anders dat God nie geken kan word nie. Taal is te beperk om God te beskryf. Mense kan net indirek oor God praat. Ware (1995:41) stel dit soos volg: "Instead of a God who possesses characteristics similar to human ones, God is ineffable, unnamable, and more vast than any known category." Perrin (2007:97) verduidelik dat God vanuit hierdie perspektief beskryf kan word as "niksheid" of "sonder wese", maar ook op positiewe maniere as "egte lig", "absolute vreugde", "rots" of "vriend".

God se liefde is beliggaam in Jesus. Augustinus se beskrywing dat mense kan weet dat God is, maar nie wat God is nie, verwoord hierdie soort spiritualiteit (kyk Ware, 1995:109). Vir mense met 'n oorwegend mistieke spiritualiteit is die onsigbare innerlike wêreld net so werklik as die sigbare uiterlike wêreld. Hulle is kontemplatief en introspektief. Hulle lewe is 'n reis, 'n voortdurende soeke na méér, 'n soeke na die Gees van God. Die doel is eenheid met God deur die vernuwing van hulle innerlike lewe en meditasie. Die doel word nooit bereik nie, want 'n mens kan nooit so naby aan God wees en bly nie, daarom is die klem op die reis na God toe. Waarna hierdie mense streef, is om te leef in die mysterium wat "God" genoem word (Perrin, 2007:241). Dit is 'n lewe saam met God se Gees binne die wêreld wat God en die mensheid met mekaar deel (Perrin, 2007:243).

Die Bybel word gelees met die doel om God te ervaar. Ter wille van hulle geloofsgroei sal die mense baat vind daarby om in voeling te wees met die emosies wat hulle ervaar wanneer hulle 'n teksgedeelte lees sodat hulle daardie emosies in woorde kan omsit en met God daaroor kan praat (kyk Ware, 1995:104-105). Gebedstyd word in stilte deurgebring, want die fokus val op God se ontsagwekkende teenwoordigheid eerder as op menslike woorde. Gebed is 'n soeke na kontak met God en om te luister na God.

Kwadrant 4: spekulatief/apofaties - 'n handspiritualiteit

Hierdie groep is die kleinste en moeilikste om te beskryf. Dit kom eerder voor by individue as by godsdiensgroepe. Die hooffokus is om aktief te werk vir God en oor die koms van God se koninkryk te getuig. In geloofsgemeenskappe is dit gewoonlik hierdie mense wat aksies inisieer en deurvoer. Hulle het 'n passie vir die transformasie van die gemeenskap en dit word dikwels vir hulle 'n persoonlike missie om die samelewing te verander en onreg reg te stel. Hulle entoesiasme vir betrokkenheid in die wêreld om God se koninkryk op aarde te vestig, kan soms aggressief oorkom; hulle beskik oor waagmoed en ywer. Dit is dikwels hulle wat martelare word en hulle lewens opoffer in die hoop dat met hulle pogings en opoffering iets van God se koninkryk op aarde sal realiseer. Martin Luther, Johannes Calvyn en bevrydings-teoloë pas in hierdie kategorie.

Kenmerkend van hierdie groep is 'n breë verwysingsraamwerk en kritiese denke. Mense met 'n handspiritualiteit beskou hulleself as 'n instrument in God se hand. Hulle roeping is om persoonlik betrokke te wees in prosesse van verandering (kyk Waaijman, 2002:217-219). Die Bybel word gelees om vas te stel wat hulle moet gaan dóén, wat dit is wat God van hulle verwag. Gebed en teologie gaan gepaard met aksie en konkrete dade. Gebede fokus op voorbidding en is gerig op die wêreld. Hulle neem dikwels deel aan aksies wat die wêreld moet beweeg na 'n meer ideale stand van sake.

 

Empiriese ondersoek

'n Groep individue binne die Gereformeerde tradisie in die spesifieke konteks van die NG Kerk se ervaring is ondersoek met die doel om insig te verkry in hulle belewenis van tradisionele NG eredienste. Die respondente was volwasse lidmate van ses NG gemeentes in die Ring van Klerksdorp-Noord. In hierdie gemeentes word eredienste ingerig volgens 'n vaste liturgiese orde wat kenmerkend is van die NG Kerk. Die doel van die ondersoek is verduidelik en lidmate is genooi om deel te neem. Die respondente was lidmate wat gereeld eredienste bywoon en in hulle gemeentes betrokke is. 'n Tweede groep is geïdentifiseer, naamlik lidmate wat selde of ooit eredienste bywoon en nie in gemeentes betrokke is nie.

Toets vir spirituele voorkeure

Corinne Ware (1995) se spirituele model en spiritualiteitstoets is gebruik om respondente se spirituele voorkeur te identifiseer. Die toets is weer gebruik om respondente se ervaring van eredienste in die NG Kerk te ondersoek. Hulle moes aandui wat kenmerkend is van hulle ervaring van die eredienste van die gemeente waar hulle lidmate is. Die doel was om verskille of ooreenkomste tussen deelnemers se persoonlike spirituele voorkeure en die spirituele inrigting van eredienste te identifiseer.

Die spiritualiteitstoets bestaan uit twaalf temas. Onder elke tema kan keuses gemaak word. Elke keuse het 'n nommer. Elke stelling wat die persoon kies, word deur 'n radiale lyn op die spiritualiteitsirkel aangebring in die kwadrant wat ooreenstem met die nommer van die keuse. So word 'n wiel met speke gevorm. Dit dui die verspreiding van 'n individu se spirituele voorkeure oor die vier spirituele kwadrante aan.

'n Voorbeeld van 'n voltooide "spiritualiteitswiel" is die volgende:

 

 

Die resultate in die studie word weergegee in persentasies eerder as "speke" sodat vergelykings getref kan word.

Twee groepe, naamlik persone wat eredienste van die NG Kerk gereeld bywoon en persone wat maar selde eredienste bywoon, het deelgeneem aan die ondersoek: 21 gereelde kerkgangers en 13 persone wat nie gereeld eredienste bywoon nie. Nadat die deelnemers se afsonderlike spirituele voorkeure met behulp van Ware se spiritualiteitsvraelys geïdentifiseer is, is die resultate verwerk en op een spiritualiteitswiel weergegee. Die spiritualiteitswiel gee 'n aanduiding van die oorhoofse verspreiding van spiritualiteitsvoorkeure onder die deelnemers. Die deelnemers se ervaring van die spirituele inrigting van eredienste is ook verwerk en op een spiritualiteitswiel weergegee. Die bevindings van die twee toetse is vergelyk om insig te verkry in watter mate eredienste aan mense se spirituele behoeftes voldoen, gegewe hulle spirituele voorkeure.

Die resultate toon dat die deelnemers wat gereeld eredienste bywoon se spirituele voorkeure hoofsaaklik in die "hart"-kwadrant geplaas kan word. Die "kop" en "mistieke"-kwadrante word die tweede meeste verteenwoordig, terwyl die "hand"-kwadrant skraal verteenwoordig is. Die wyse waarop hulle die spirituele inrigting van eredienste beleef, word egter hoofsaaklik in die "kop"-kwadrant geplaas, minder in die "hart"-kwadrant en die minste in die "mistieke"-en "hand"-kwadrant.

 

 

Die persone wat selde eredienste bywoon se persoonlike spirituele voorkeure pas hoofsaaklik in die "mistieke"- en "hart"-kwadrante en min in die "kop"- en "hand"-kwadrante. Hulle beleef dat eredienste hoofsaaklik ingerig word volgens die "kop"-kwadrant en dat vir die ander spirituele kwadrante min ruimte is in die erediens.

Dit is te verstane dat hierdie persone nie gereeld eredienste bywoon nie, aangesien mense met 'n "mistieke" spiritualiteit die ongemaklikste voel met die teenoorstaande "kop"-kwadrant. Hulle ag woorde minder belangrik en heg meer waarde aan stilte. Hulle heg nie baie waarde aan aktiwiteite nie, want aktiwiteite is van verbygaande aard. Hulle sien dikwels nie die waarde van gesamentlike geloofsbeoefening in nie. 'n Gevaar van hierdie tipe spiritualiteit is 'n passiewe houding en dat mense hulle onttrek aan interaksie met medegelowiges (Ware, 1995:109). Hoewel stilte en alleentyd saam met God van groot waarde is, behoort daar 'n balans te wees tussen afsonderlike geloofsbeoefening en geloofsbeoefening saam met ander gelowiges. Alleenheid en gemeenskap is twee bene wat beide noodsaaklik is vir gelowiges se geestelike groei. Hoewel geloof 'n persoonlike verhouding met God is, is dit belangrik om ook die "gemeenskap van die heiliges" 'n plek te gee in geloofshandelinge (Nicol, 2008:171).

Onderhoude

Nadat die resultate van die spiritualiteitsvraelyste verwerk is, is persone op grond van hulle spiritualiteitsvoorkeure geïdentifiseer om deel te neem aan semi-gestruktureerde onderhoude. Aanvanklik is beplan om persone uit elke spirituele voorkeurgroep te kies. Met die verwerking van die vraelyste is egter bevind dat geen van die deelnemers se spirituele voorkeure in die "hand"-voorkeurgroep pas nie. Daar was dus geen respondente uit hierdie groep vir die onderhoude nie. Dit is ook die kwadrant wat volgens die erediensgangers die minste aandag geniet met die inrigting van eredienste. Ware (1995:44) verduidelik dat georganiseerde godsdiens gewoonlik nie belangrik is vir persone wie se spirituele voorkeur in die "hand"-kwadrant val nie. Hulle affilieer dan ook selde met 'n spesifieke geloofsgroep.

Uit die onderhoude blyk duidelik dat mense die eredienste van die NG Kerk hoofsaaklik in die "kop"-kwadrant ervaar. Gereformeerde spiritualiteit is dus grootliks 'n "rasionele" spiritualiteit. Tradisioneel word in eredienste van die gemeentes van die NG Kerk klem geplaas op intellektuele stimulasie en 'n rasionele verstaan van God. In die moderne era het hierdie rasionele benadering met die sterk fokus op die interpretasie van die Woord en lering aan baie mense se spirituele behoeftes voldoen. Die erediens wentel om die bediening van die Woord. Prediking het grootliks lering ten doel (Jonker, 1995:348).

Hierdie fokus op die rasionele en die wyse waarop eredienste met hierdie fokus ingerig word, kan daartoe lei dat eredienste 'n "uninspiring rational system of thought" word (Jonker, 1995:350). Kritiek teen eredienste van die NG Kerk is dikwels dat die prediking "lesingagtig" is. Pieterse (1995:46) wys daarop dat waar mense "op soek is na 'n sekere styl kan byvoorbeeld die prediking van hoogstaande korrektheid wees, maar dit vind geen inslag binne sekere persone se spiritualiteitsbehoeftes nie." Dit is waarom lidmate kla dat hulle min ervaar in eredienste.

Die gewildheid van pinksterkerke in die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing is die gevolg van mense se behoefte aan ervaring (kyk Jonker, 1999:112; Jonker, 1985:417). Die resultate van die ondersoek toon aan dat persone in die ondersoeksgroep se spirituele behoeftes hoofsaaklik kenmerkend is van 'n "hart"-spiritualiteit. Postmoderne mense lê dikwels nie klem op die teologiese verskille tussen kerke nie, maar kies om eredienste by te woon waar die spirituele aanslag ooreenstem met hulle eie. Rasioneel en deurdag sal mense byvoorbeeld die Gereformeerde belydenis verkies, maar wanneer dit by die uitlewing van hulle geloof kom, bied die charismatiese spiritualiteit meer moontlikhede (kyk Jonker, 1989:291). Ook al stem mense dus nie noodwendig saam met die tipe teologie van 'n meer charismatiese aanslag nie, is die ervaring vir hulle belangriker. Hoewel mense dus aanklank vind by die grondslag van die Gereformeerde tradisie, het hulle nie 'n voldoende ervaring van God in Gereformeerde eredienste nie met hulle kultuur van rasionaliteit nie. Die NG teoloog, Willie Jonker (1999:112), het dit reeds twee dekades gelede verduidelik: "In ons tyd het die charismatiese spiritualiteit vir baie 'n groot aantrekkingskrag. Die invloed daarvan strek oor alle konfessionele grense heen. Dit hang daarmee saam dat dit 'n eenheid van belewing veronderstel, eerder as 'n eenheid van belydenis."

In die pinkstertradisie is ervaring 'n sentrale geloofsaak. Subjektiewe ervaring word bo intellektuele kennis gewaardeer. In eredienste word die taal van die hart gepraat. Dit laat mense goed voel. Hierdie tradisie skep ruimte vir mense met 'n "hart"-spiritualiteit. Dit skep die ervaring dat mense weggevoer word uit die dinge van die alledaagse lewe. Jonker (1995:350) verduidelik: "The life of faith often withdrew itself into the inner sphere of personal religiosity and concentrated on personal feeling and subjective experience." Daarenteen is die fokus van die Gereformeerde tradisie om mense vanuit die erediens die normale lewe in te stuur (Nicol, 1996:43).

 

Behoefte aan ervaring

Sowel uit die geskiedenis en tradisie van die NG Kerk, as vanuit die empiriese ondersoek onder 'n aantal lidmate, blyk dat eredienste in hierdie konteks hoofsaaklik volgens die spiritualiteitstipe van die "kop"-kwadrant ingerig word. In die hedendaagse wêreld het gelowiges egter dikwels 'n groter behoefte aan ervaring. Die voorganger se eie spirituele voorkeure het 'n wesenlike invloed op die wyse waarop eredienste ingerig word. 'n Voorganger sou nie realisties sy of haar eie spirituele voorkeure kon verander ter wille van 'n gemeente nie. Dit is egter nodig om 'n goeie balans in te bou in die wyse waarop eredienste ingerig word sodat die verskeidenheid van spiritualiteitstipes almal op 'n manier aanklank kan vind by die gebeure. 'n Kultuur van inklusiwiteit behoort gekweek te word in gemeentes. Dit sal vra dat eredienste in die NG Kerk beplan word met spirituele sensitiwiteit en vanuit 'n holistiese benadering tot spiritualiteit sodat almal ingesluit kan word in die erediensgebeure. Die verskillende spirituele komponente hoef nie met mekaar te kompeteer nie, maar behoort mekaar aan te vul. Eredienste behoort die totaliteit van die mens te kan betrek en alle mense in staat te stel om God te aanbid met hart, siel, krag en verstand.

'n Wesenkenmerk van die Reformatoriese tradisie waaruit die NG Kerk stam, is dat voortdurende reformasie nodig is omdat geen mensewerk volmaak is of ooit sal wees nie. Die bereidwilligheid om te bly hervorm, om sinvol en relevant te wees in 'n voortdurend veranderende konteks, is die strewe in die Gereformeerde tradisie. Die NG Kerk kan dus hedendaagse gelowiges se wye spektrum van spirituele behoeftes bevredig sonder om die kern van die Gereformeerde identiteit prys te gee.

 

BIBLIOGRAFIE

Barnard, M. 2009. In Wepener, C & Van der Merwe, J. (reds.). Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi, pp. 109-127.         [ Links ]

Burger, CW. 1995. Gemeentes in transito: Vernuwingsgeleenthede in 'n oorgangsyd. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Dreyer, TFJ. 1998. Spiritualiteit, identiteit en die etos van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Hervormde Teologiese Studies, 54(1/2):289-314.         [ Links ]

Dreyer, Y. 1999. Vroue-ervaring en spiritualiteit. Hervormde Teologiese Studies, 55(2/3):360-379.         [ Links ]

Holmes, UT. 1980. A history of Christian spirituality: An analytical introduction. New York: Seabury.         [ Links ]

Jonker, WD. 1989. Die eie-aard van die gereformeerde spiritualiteit. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 30:288-299.         [ Links ]

Jonker, WD. 1995. Reformed theology and the identity of the Christian congregation. In die Skriflig, 29(3):345-369.         [ Links ]

Nicol, W. 1996. In Du Toit, CW. (ed.). Spirituality in religions. Pretoria: Daan Roux, pp. 40-44.         [ Links ]

Nicol, W. 2002. Gebed van die hart. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

Nicol, W. 2008. In die hande van die pottebakker. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk. 2007. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.         [ Links ]

Perrin, DB. 2007. Studying Christian spirituality. New York: Routledge.         [ Links ]

Pieterse, HJC. 1995. Praktiese Teologie as kommunikatiewe handelingsteorie. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Schoeman, WJ. 2011. Kerkspieël - 'n kritiese bestekopname. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 52(3/4):472-488.         [ Links ]

Schoeman, WJ. 2015. Identity and community in SouthAfrican congregations. Acta Theologica, 22:103123.         [ Links ]

Schoeman, L & le Roux, C. 23 Januarie 2019. Lidmaatskapdaling: Nou moet tendense verstaan word. Die Kerkbode. https://kerkbode.christians.co.za [21 Januarie 2022].         [ Links ]

Smit, DJ. 1989. Kan spiritualiteit beskryf word? Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 2(1):83-94.         [ Links ]

Smit, DJ. 2002. Christ transforming culture? Nagedink oor die aard van die Gereformeerde geloof. Acta Theologica, 3:125-149.         [ Links ]

Smit, DJ. 2009. In Wepener, C & Van der Merwe, J. (reds.). Ontdekkings in die erediens. Wellington: Lux Verbi, pp. 87-107.         [ Links ]

Waaijman, K. 2002. Spirituality: Forms, foundations, methods. Paris: Peeters.         [ Links ]

Ware, C. 1995. Discover your spiritual type: A guide to individual and congregational growth. New York: The Alban Institute.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-09-30
Goedgekeur: 2022-01-14
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Adri la Grange het die grade BTh, MDiv en MTh voltooi aan die Universiteit van Pretoria. Sy is in 2010 as leraar georden van die Nederduitse Gereformeerde Moedergemeente in Christiana. Na ses jaar in Christiana het sy haar bediening voortgesit in die NG Gemeente Klerksdorp-Oos. Sy is tans predikant van The Church of Scotland en is werksaam by Pollokshields gemeente in Glasgow.
Adri la Grange completed the degrees BTh, MDiv, and MTh at the University of Pretoria. She was ordained in 2010 as minister of the Dutch Reformed Church in Christiana. After six years in Christiana, she continued ministry in the Dutch Reformed Church Klerksdorp-East. Currently, she is a minister of The Church of Scotland and works at Pollokshields Church in Glasgow.

 

 

Yolanda Dreyer is sedert Oktober 2000 professor in die Departement Praktiese Teologie en Missiologie in die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria. Haar vakgebied is Praktiese Teologie met spesialisasie in die Pastoraat. Sy het haar voorgraadse studie aan die Universiteit van Pretoria voltooi en die grade BA en BD verwerf. Nagraadse studie is voltooi aan die Princeton Theological Seminary (ThM Pastoral Theology) en die Universiteit van Pretoria (DD Praktiese Teologie en PhD Nuwe-Testamentiese Wetenskap). Haar navorsings-projekte sluit in: Teorievorming in die Praktiese Teologie; Holistiese Pastoraat; Gender, Seksualiteit en Pastoraat. Sy was die eerste vrouepredikant wat in 'n Afrikaanse kerk georden is en die eerste vrou wat as professor in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria aan-gestel is.
Yolanda Dreyer is professor in die Department of Practical Theology and Mission Studies, Faculty of Theology and Religion at the University of Pretoria. She is a practical theologian with pastoral care and counselling as her fields of speciality. She completed her undergraduate studies at the University of Pretoria and obtained the degrees Bachelor of Arts (Ancient Languages) and Bachelor of Divinity. Her postgraduate qualifications are from Princeton Theological Seminary (ThMin Pastoral Theology) and the University of Pretoria (Doctor of Divinity in Practical Theology and PhD New Testament Studies). Her research projects include:Theory Formation in Practical Theology; Holistic Pastoral Care; Gender, Sexuality and Pastoral Care. She was the first ordained female minister in the Afrikaans churches and the first female professor in the Faculty of Theology, University of Pretoria.
1 Hierdie artikel is 'n verwerking van die MTh-verhandeling van Adri la Grange met die titel, Spirituele voorkeure en die ervaring van eredienste in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, voltooi onder leiding van Prof. Yolanda Dreyer in die Departement Praktiese Teologie en Missiologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria. Adri la Grange is 'n beurshouer van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons