SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1De Zuid-Afrikaan and the contradictions of 19th century Cape liberalismSpiritual preferences and the experience of worship services in the Dutch Reformed Church índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a6 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Uitdagings en geleenthede in die bedryf van diplo-masie - Voor, tydens en ná Covid-19

 

Challenges and opportunities in practising diplomacy - Before, during and after Covid-19

 

 

Riaan Eksteen

Senior Navorsingsgenoot, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: reksteen@swakop.com

 

 


OPSOMMING

Die wêreld beleef onstuimige tye en nie eens diplomasie kon veranderinge ontsnap toe Covid-19 die wêreld in Januarie 2020 getref het nie. Hedendaagse diplomasie verander teen 'n ongekende tempo en word gekenmerk deur nuwe rolspelers, nuwe vraagstukke en verantwoordelikhede en ook om diplomasie op digitale wyse te bedryf. Ou benaderings wat vir dekades, selfs eeue gegeld het, het drasties verander. Diplomasie kon nie verwag om steeds op sy eie voort te gaan asof niks gebeur het nie. Benadering tot en toepassing en bedryf van diplomasie is in die afgelope twee jaar tot in sy wese geraak. Die velerlei onderwerpe waaraan diplomate hul aandag moet skenk, neem steeds toe in omvang en intensiteit. Gevolglik kan alles nie in die bestek van 'n enkele artikel beskryf en uiteengesit word nie. Daarom is parameters gestel waarbinne bepaalde onderwerpe sinvol aangespreek word. Bykomend hiertoe word gepoog om die wesentlike probleme wat diplomate oor 'n wye veld in die gesig staar aan te spreek in die lig van die buitengewone omstandighede wat hulle moet hanteer.
Die vraag is nou hoe diplomate vir hierdie nuwe wêreld in hul beroep voorberei en geskool word. Deesdae word van hulle verwag om internasionale adviseurs te wees en om nou meer as ooit tevore betrokke en instrumenteel in besluitnemingsprosesse van vrede en nasionale veiligheid te wees. Hierdie interdissiplinêre rol is 'n uitdagende een wat baie dinamika vereis. Met Covid-19 is die belangrikheid van multilaterale diplomasie herbevestig. Die digitale rewolusie stel nie net 'n magdom meer inligting beskikbaar nie, maar vereis spoedeisende besluitneming. Kennisbestuur is die doeltreffende hantering van inligting en hulpbronne binne 'n bepaalde organisasie. Kennisdiplomasie en die toepassing van 'n kennisbestuurstelsel is belangrik omdat dit die doeltreffendheid van 'n instelling se besluitnemingsvermoë verhoog. State is nie meer die enigste internasionale rolspelers in die steeds groeiende diplomatieke toneel nie. Die aantal rolspelers wat by buitelandse aangeleenthede betrokke is en diplomasie op een of ander wyse bedryf, het die afgelope dekades geweldig toegeneem. Hoe langer die pandemie aanhou, hoe meer verander die wêreld. Gepaardgaande met die snelontwikkelende metodes om data te verwerk en te versprei, het die kwessie van kuberveiligheid eksponensieel toegeneem. So is wetenskapdiplomasie, insluitende ruimtediplomasie, ook belangrik om van kennis te neem. Die uitdaging waarvoor diplomate te staan kom, is om hierdie veranderinge oordeelkundig en met nuwe vaardighede te bestuur.

Trefwoorde: binnelandse beleid; buitelandse aangeleenthede; Covid-19; digitale diplomasie; digitale tegnologie; geopolitieke verhoudings; kennisbe-stuur; kennisdiplomasie; korporatiewe diplomasie; multilaterale diplo-masie, wetenskapdiplomasie


ABSTRACT

There is no doubt that the world is currently experiencing turbulent times. Not even diplomacy could escape change when Covid-19 hit the world in January 2020. Old approaches that have been in place for decades, even centuries, changed drastically, and diplomacy could not expect to continue as if nothing had happened. Approach to and application and operation of diplomacy has essentially been affected. In the era after Covid-19, countries and diplomats will still have to pay attention to these variables and will hardly be able to return to a previous era. Furthermore, domestic politics play an important role when considering strategic foreign policy decisions due to the threats that are expected or are already being carried out in connection with national security issues. Decisions on foreign affairs must therefore be evaluated in a certain domestic context because they develop mainly within national borders. In recent decades, the link between the two has become closer. The concepts of national interest, national security, domestic politics, and foreign policy have now become even more intertwined. Consequently, the question arises involuntarily: how are diplomats prepared and trained for this new world. Nowadays, diplomats are expected to be international advisers. Geopolitical views and applications have become more and more important, and the world is more interconnected than ever before. Understanding the global system is an inevitable requirement. The era requires people who can make difficult decisions and who will not worry about fine protocol rules being strictly enforced and adhered to anymore. These international advisers are now more than ever involved and instrumental in decision-making processes of peace and national security. This interdisciplinary role that these advisers must play is a challenging one that requires skilful dynamics. Contemporary diplomacy is changing at an unprecedented pace and is characterised by new role players, new issues, and new responsibilities. Multilateralism, which was the key to diplomacy since World War II has only gained momentum in the last 30 years, and with Covid-19, the importance of multilateral diplomacy was reaffirmed. In the span of two years, Covid-19 has revealed itself as a great equaliser, proving how interdependent the whole world really is. Covid-19 has unequivocally proved that the future of diplomacy is multilaterally driven. In addition, Covid-19 prevents personal contact and meetings, but foreign policymakers have been forced to adapt to a new digital norm. That digital revolution not only makes a wealth of information available, but also increases the speed at which decisions must be made. Diplomats similarly benefit from gathering and sharing knowledge, and this knowledge is made available at an unprecedented rate and needs to be managed. Knowledge management is the efficient handling of information and resources within a particular organisation. Knowledge diplomacy and a knowledge management system are both important because they increase the effectiveness of an institution's decision-making ability and ensure that all employees have access to overall expertise within the organisation. Knowledge management is consequently the conscious process of defining, structuring, retaining, and sharing knowledge and experience of employees within an organisation. The term knowledge diplomacy is becoming more and more popular and is used in different ways. Knowledge diplomacy, therefore, understands the role that international higher education, research, and innovation can play in strengthening relations between states. The impact of technology on the practice of diplomacy in the time of Covid-19 also inevitably emphasised the growing importance of conducting diplomacy digitally. Diplomats need to take a proactive approach to digitisation and acquire the skills needed to further promote domestic diplomacy through digital platforms as an important new component of future public diplomacy. The fight against the emergence of digital disinformation must, due to the nature of the decidedly negative implications of fake news, also receive pertinent attention. The subject of cyber security is most important and may not be ignored. Science diplomacy has become increasingly important.
Another important aspect that diplomats should actively consider is how corporations continue to grow in their ability to practise public diplomacy. States are no longer the only international role players in the ever-growing diplomatic scene. Therefore, in order not to run the risk of becoming an endangered activity - which may become increasingly irrelevant because of increasing technological advances - diplomatic representation in the digital age must be intensified in order to increase diplomatic engagement and become a critical tool in an era of complex interdependence and globalisation. The number of role players involved in foreign affairs and diplomacy in one way or another has increased tremendously in recent decades. The longer the pandemic lasts, the more the world changes, and the challenge for diplomats is to manage these changes. The role of China and Russia in following their own world vision is an aspect of growing importance and demands constant vigilance.

Keywords: corporate diplomacy; Covid-19; digital diplomacy; digital technology; domestic policies; foreign affairs; geopolitical relations; knowledge diplomacy; knowledge management; multilateral diplomacy, science diplomacy


 

 

Inleiding

Daar bestaan geen twyfel dat die wêreld tans onstuimige tye beleef nie. Selfs nie eens diplomasie kon veranderinge ontsnap toe Covid-19 (Corona Virus Disease 2019) die wêreld in Januarie 2020 getref het nie. Elke denkbare menslike lewensaktiwiteit - sosiaal, privaat, sake en burgerlik - en ook elke staatsbetrokkenheid in elke land in die wêreld is in hul wese geskud. Geen land het sy wraak vrygespring nie, alhoewel sommige die geluk gehad het om slegs geringe gevolge te ondervind. Ander is gehamer deur die erns van die pandemie en in die nasleep daarvan het dit die eensbestaande normaal aan flarde gelaat. Soos wat dit stelselmatig in feitlik elke land in die wêreld toegeneem het, is enorme hoeveelheid inligting in die bestek van 'n relatief kort periode oor die virus versamel. Weens die paradigmaskuiwe wat nuwe en uitdagende werklikhede op almal en alles afgeforseer het, het ou benaderings wat vir dekades, selfs eeue gegeld het by die vensters uitgevlieg. Die rol van China en Rusland in die navolging van hul eie wereldvisie is 'n aspek van toenemende belang en vereis konstante waaksaamheid.

Op dieselfde manier kon diplomasie nie verwag om steeds op sy eie voort te stoom asof niks gebeur het nie. Om diplomasie te beoefen, is om die betrekkinge tussen state te bestuur en te versterk. Diplomasie is in sy wese geraak en moes noodgedwonge plek maak vir 'n nuwe era. Satow se Diplomatic Practice1 wat vir die eerste keer in 1917 gepubliseer is en daarna as die klassieke en gesaghebbende stel voorskrifte voorgehou is, was voorheen onontbeerlik vir enige voornemende diplomaat. Selfs in die tydperk voor Covid-19 was dit nie meer die alfa en die omega van diplomatieke voorbereiding en toepassing nie, en is diplomasie reeds gekonfronteer deur veranderlikes waarvoor daar nie handboeke en leidings op boekrakke is nie. Met die pandemie is diplomate tot die onaangename besef geruk dat hulle deesdae nog meer en beter op hul voete moet dink - en vinnig ook. In die era ná Covid-19 sal state steeds aandag moet skenk aan hierdie veranderlikes en sal nouliks na 'n vorige era teruggekeer kan word.

 

Beskouings oor buitelandse en binnelandse beleid

Alvorens op die nuwe uitdagings gelet word en hoe hulle aangespeek behoort te word, is dit tog belangrik om op bepaalde kernpunte te wys wat reeds vroeër in diplomasie gegeld het en met betrekking tot buitelandse aangeleenthede steeds van deurslaggewende belang is. Buitelandse beleid word nie in 'n vakuum geformuleer en uitgevoer nie en kan as die refleksie van binnelandse beleid beskou word.2 Dit ontstaan uit, groei en word gevoed deur binnelandse beleid wat impliseer dat buitelandse beleid eintlik 'n byproduk van binnelandse beleid is. In wese is dit binnelandse maatreëls en nasionale belang - en in die afgelope paar dekades ook dan nasionale veiligheid - wat die grenslyne van buitelandse beleid bepaal. In die hedendaagse geglobaliseerde wêreld kan binnelandse beleid nog minder van 'n staat se buitelandse beleid geskei word.

 

Nuutste uitdagings aan diplomate

Gevolglik ontstaan die onwillekeurige vraag: hoe word diplomate vir hierdie nuwe wêreld in hul beroep voorberei en geskool? Lindstrom het reeds met sy studie in 2002 die belangrikheid van vernuwing in die diplomasie beklemtoon:

For the diplomat of the 21st century, success hinges on being proficient in a multitude of areas and familiar with a variety of tools. Besides knowledge of local language and culture, they need updated expertise in areas such as health, the environment, demographics, and terrorism. They have to know the intricacies surrounding intellectual property rights, dumping, and non-tariff barriers. In addition, today's diplomats must be comfortable with a variety of technologies, ranging from the typewriter to the satellite phone. They require strong teamwork/partnering skills to collaborate with other groups, such as humanitarian organizations operating in the same host country.3

Aanpasbaarheid is 'n noodsaaklike eienskap wat ontwikkel moet word soos nog nooit vantevore nie; die uitdagings wat voorlê, vereis dit. Wanneer veerkragtigheid die standaard word, kan die onvoorspelbare bedreigings of veranderinge weerstaan word. Katastrofiese gebeure mag meer dikwels voorkom en mag minder voorspelbaar wees omdat hulle vinniger in 'n groter verskeidenheid wyses kan ontvou. In die studie wat Stanzel en andere in 2018 gedoen het oor die nuwe realiteite in buitelandse aangeleenthede en wat dit vir die diplomasie in die 21ste eeu inhou, kom hulle tot die volgende gevolgtrekking:

Modern diplomacy is currently experiencing fundamental changes at an unprecedented rate, which affect the very character of diplomacy as we know it. These changes also affect aspects of domestic and international politics that were once of no great concern to diplomacy. Technical developments, mainly digitization, affect how the work of the diplomat is understood; the number of domestic and international actors whose activity implicates (or is a form of) diplomacy is increasing; the public is more sensitive to foreign policy issues and seeks to influence diplomacy through social media and other platforms; the way exchange between states, as well as the interchange between government and other domestic actors, progresses is influencing diplomacy's ability to act legitimately and effectively; and finally, diplomats themselves do not necessarily need the same attributes as they previously did. These trends, reflecting general societal developments, need to be absorbed by diplomacy as part of state governance.4

 

Nuwe verwagtinge van diplomate

Al hierdie ingewikkelde uitdagings staar die moderne diplomasie in die gesig met die beoefening van hierdie beroep. Van diplomate word deesdae verwag om internasionale adviseurs te wees en om hul beroep te beoefen terwyl hulle onder meer die volgende waarop geen afdoenbare antwoord altyd geredelik beskikbaar is nie, in ag moet neem:

Wat is die rol en aard van diplomasie in die 21ste eeu?

Wat is die belangrikste kenmerke van diplomasie wat konstant gebly het? Wat het verander, waarom en met watter gevolge en die implikasies daarvan vir die teorie, praktyk en organisasie van diplomasie?

Watter impak het die toename in die aantal rolspelers wat by diplomasie betrokke is op die wyse waarmee diplomasie deesdae beoefen word?

Wat hou die dinamika van die interaksies tussen bilaterale, streeks- en multilaterale diplomasie en van die verbintenisse met buitelandse aangeleenthede vir diplomasie in?

Hoe raak die groeiende diversiteit van internasionale akteurs die diplomatieke kultuur in die 21ste eeu en wat doen die nuwe elemente aan die hedendaagse diplomatieke kultuur?

In watter opsigte pas diplomatieke metodes en praktyke aan by die veranderende wêreldrealiteite gedurende die afgelope paar dekades met die verskeidenheid innovasies?

Hoe raak die verhoogde tempo van die digitale era gevestigde diplomatieke praktyke en watter aanpassings moet noodgedwonge en deurentyd ter "oorlewing" gemaak word?

Is die eise van hedendaagse diplomasie met die meer gekoesterde waardes van tradisionele diplomasie versoenbaar?

Hoe word diplomasie herstruktureer om te kan "oorleef" en by nuwe visies aan te pas wanneer dit transformasie ondergaan?

Hoe wend diplomate instrumente en tegnologie die beste aan om nasionale belange en waardes te bevorder?

Tot watter mate pas diplomasie aan om nasionale belange te bevorder of te beskerm? Wanneer hierdie vrae beantwoord word, word 'n goeie aanduiding verkry van wat die rol van diplomasie eintlik is, dat dit hoegenaamd nie uitgedien is nie en dat te midde van al hierdie prosesse en klemverskuiwings die essensie van diplomasie nie sal verdwyn nie. Die 15 eienskappe wat Ambassadeur Robert Blackwill bespreek synde die ideale kwaliteite waaroor diplomate moet beskik, skets die kernkenmerke wat fundamenteel is vir die suksesvolle beoefening van diplomasie.5 Hedendaagse omstandighede toets diplomate nie meer net aan hierdie vereistes nie. Bykomend tot die gelyste eienskappe kom deesdae uitdagings wat hierdie geykte kwalifikasies waaraan geen afbreuk gedoen moet word nie, tot 'n groter mate beproef. Die denkprosesse waaraan diplomate tans al hoe meer blootgestel word, word dramaties meer en ingewikkelder namate die onderwerpe waarmee hulle gekonfronteer word in omvang, intensiteit en spoed toeneem. Van diplomate word steeds verwag om treffende verslae op te stel, maar die tyd waarin dit gedoen moet word, het drasties verminder en ook die gehore aan wie die standpunte uiteengesit en wat daarvan oortuig moet word, is nou groter en meer wydverspreid soos wat die tegnologie geleenthede aan vele belangstellendes bied om hierna te luister en oordeel daaroor uit te spreek.

 

Die era van die onbekende onbekendes

Voorkomende diplomasie behels nuwe diplomatieke vaardighede en heeltemal nuwe benaderingsmetodes, sowel as die aanvaarding van innoverende strategies om die uiteindelike doel van vrede te bereik. Geopolitiese beskouings en toepassings het al hoe belangriker geword. Die wêreld is meer interverbind as ooit te vore. Begrip van die globale stelsel is 'n onvermyde-like vereiste. Namate die onsekerhede wêreldwyd toeneem, moet langtermynbeplanning groter en meer doelgerigte aandag kry. Korttermynaksies en gesonde besluitneming moet hierby inskakel om die impak van enige onvoorspelbare bedreigings of veranderinge te kan weerstaan. Enkele jare gelede is Donald Rumsfeld, President George W Bush se Minister van Verdediging, uitgelag toe hy in Februarie 2002 opgemerk het:

There are known knowns; there are things we know that we know. There are known unknowns; that is to say, there are things that we now know we don't know. But there are also unknown unknowns - there are things we do not know we don't know.6

Vir hom was laasgenoemde groep dié wat die moeilikste is wanneer hy die geskiedenis van die VSA beskou het. Hierdie era van die onbekende onbekendes het gouer opgedaag as wat enigiemand gedink of verwag het. Die wêreld is nou in daardie era en onbuigbaarheid en onnadenkende optredes het nie meer plek in die nuwe era nie. Tyd om verkeerde of ongegronde besluite reg te stel of om te keer, is nie meer 'n gegewe nie, maar eerder 'n luuksheid wat min voorkom. Korrekte fokus moet dus op langtermynsuksesse geplaas word. Hierdie era vereis persone wat kopskuiwe kan maak en nie slegs om te sorg dat fyn protokolreëls nougeset neergelê en nagekom word nie.

 

Internasionale adviseurs

Hierdie internasionale adviseurs is nou meer as ooit tevore betrokke en instrumenteel in besluitnemingsprosesse van vrede en nasionale veiligheid. Hul effektiwiteit is van fundamentele belang beide op grond- en internasionale vlak. Hulle moet inligting spoedig saamvoeg, om 'n allesomvattende begrip van die konteks en sleutelpunte te ontwikkel en uiteindelik daardie verstandhouding en analise te kommunikeer aan hul instellings op verskeie vlakke, terwyl hulle terselfdertyd betekenisvolle verhoudings uitbou en handhaaf. Hierdie interdissiplinêre rol wat hierdie adviseurs moet speel, is 'n uitdagende een wat baie dinamika vereis, maar wat hulle in staat stel om hul professionele verantwoordelikhede deurlopend te evalueer sodat persoonlike sterkpunte en areas van groei verder ontwikkel kan word. Sodoende word die vaardighede ontwikkel en verhoog om effektiewe advies te kan lewer. Interaksies met kollegas bring nuwe en besondere perspektiewe na vore wat onontbeerlik is om advies van hoë kwaliteit te lewer. 'n Belangrike aspek van die hele proses is dat 'n kontakbasis uitgebrei word wat groter voordele inhou namate die uitdagings wat aangespreek moet word en wat as klankborde van standpunte nuttig betrek kan word, toeneem.

Hedendaagse diplomasie verander teen 'n ongekende tempo en word gekenmerk deur nuwe rolspelers, nuwe vraagstukke en nuwe verantwoordelikhede. Die klemverskuiwing van die rol van ministeries van buitelandse sake en professionele diplomate na multilaterale benadering is 'n hoofkenmerk van die huidige veranderinge. Diplomasie wat as 'n praktyk terugdateer tot antieke beskawings wat wissel van die Chinese ryk tot antieke Griekeland en die vroeë Middeleeuse Europa in die 13 de eeu was nog altyd geag as die kommunikasie en bemiddeling tussen mense en dus al lank deel van die wereldorde. Ná die totstandkoming van formele permanente missies met die opkoms van die Wesfaalse staatsorde tussen die 15de en 18de eeu, was die praktyk van diplomasie grotendeels bilateraal tot en met die Eerste Wêreldoorlog. Multilateralisme, oftewel die kollektiewe oorweging van wêreldaangeleenthede deur die nasies van die wêreld, het in 1919 met die stigting van die Volkerebond en in 1945 met die koms van die Verenigde Nasies (VN) 'n relatief nuwe konsep geword. Ná 1945 is die diplomasie op beide bilaterale en multilaterale vlak met vraagstukke gekonfronteer wat voorheen hoegenaamd nie bestaan het nie. Die afgelope 77 jaar moes aandag geskenk word aan onder andere: die Koue Oorlog, militêre konflikte (Korea, Vietnam, Irak, Afghanistan), die opkoms van nuwe state, die toenemende eksplorasie van die buitenste ruimte, die opstapeling van kernwapens en die verskynsels wat in terreur, staatsverval, skurkstate, staats-grepe en rewolusies gemanifesteer het. Terwyl baie state steeds met van hierdie probleme worstel en die uitdagings daaraan verbonde selfs meer veeleisend word, het Covid-19 as nóg 'n ingrypende veranderlike bygekom. Toe lande reisbeperkinge ingestel het en internasionale vlugte dramaties ingekort is, was dit diplomasie wat na vore moes tree om die nadelige impak van hierdie rampspoedige besluite aan te spreek.

 

Multilaterale diplomasie

Aldus is die belangrikheid van multilaterale diplomasie met Covid-19 herbevestig. Aandag is opnuut weer gevestig op wêreldwye samewerking om die uitkoms van pandemies en ander rampe te beperk en selfs dalk te voorkom, netsoos daar ná twee wêreldoorloë in 1919 en in 1945 bewys is dat wêreldwye aangeleenthede die beste deur diplomasie aangespreek kan word. Gevestigde sosiale en ekonomiese ordes is deur die langdurige gevolge van Covid-19 geskok en reaksies op hierdie noodgeval vir openbare gesondheid was onlosmaaklik verbind aan diplomasie, en spesifiek multilaterale diplomasie. Covid-19 het 'n verskuiwing in wêreldwye prioriteite in 2020 tot gevolg gehad. Tot Maart 2020 is die omgewing en klimaatverandering as die grootste prioriteite vir die toekoms bestempel. Toe word wêreldwye gesondheid die hoogste prioriteit. Van internasionale diplomasie is verwag om antwoorde te verskaf oor uitdagings, geleenthede en toekomsvooruitsigte ten opsigte van wêreldgesondheid. In die tydsbestek van Maart tot Oktober 2020 het 'n kritieke tydperk gevolg waarin sleutelareas van diplomasie oorweeg moes word. Hierdie pandemie en die ingrypende gevolge daarvan is sekerlik een van die grootste uitdagings in die geskiedenis van diplomasie, indien nie die grootste nie. Met die VN en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) tesame met state, die burgerlike samelewing en die private sektor wat steeds belangrike ondersteuning en dienste lewer in die stryd om die pandemie te verslaan, word die onontbeerlikheid van multilaterale alliansies, wat vanaf die begin van hierdie wêreldwye uitdaging die globale reaksie gekoördineer het, feitlik daagliks onderstreep. Die mylpale wat die 21ste eeu reeds op die gebied van multilaterale diplomasie opgelewer het, ondersteun die erkenning dat kollektiewe optrede nodig is om 'n eksistensiële bedreiging soos Covid-19 te bestry. Uiteindelik het hierdie pandemie meer as ooit tevore getoon hoe belangrik multilateralisme en internasionale samewerking is. In die bestek van twee jaar het Covid-19 sigself geopenbaar as 'n groot gelykmaker en daarmee bewys hoe interafhanklik die hele wêreld inderdaad is. Covid-19 het onteenseglik bewys: Die toekoms van diplomasie is multilateraal gedrewe.

 

Verband tussen Covid-19 en geopolitieke verhoudings

Davies en Wenham maak twee belangrike stellings in hul gesaghebbende artikel.7 Eerstens, raak hierdie pandemie alle lande, maar die wyse waarop regerings reageer, word polities bepaal. Dit beteken dat wêreldwye gesondheidstrukture ernstig aandag moet skenk aan die mededingende diplomatieke prioriteite van state. Diegene wat in internasionale verhoudings geskool is, is by uitstek goed onderleg om die WGO by te staan met die orkestrering van state se geopolitieke en diplomatieke verhoudings in al hul menigvuldige fasette, wat beteken dat die WGO politiek moet omhels en van buitelandse beleid- en diplomatieke kundigheid gebruik moet maak. Tweedens, is dit belangrik om raak te sien dat Covid-19 net soveel 'n politieke probleem is as 'n tragedie vir openbare gesondheid. Politiek was die kern waarop regerings vir hierdie krisis voorberei en daarop reageer het en dit is politieke besluite wat soms die bestuur van hierdie virusuitbreking in die wiele gery of bevorder het ongeag die sterkte van 'n gesondheidstelsel wat duidelik die politieke bepalings van openbare gesondheid onderstreep het. Politiek word egter dikwels as 'n hinderlike irritasie voorgehou wanneer professionele gesondheidspersoneel probeer doen wat nodig is om die pandemie te stuit en nie politieke voorskrifte van staatshoofde uitvoer nie. Ook word dit in sommige lande in Afrika waargeneem waar gesondheidsprogramme geloods moet word. Kulturele verskille speel dikwels 'n groot rol wanneer gesondheidswerkers gesien word as vanuit die bose.

Die gebruik van kennismakelaars wat in die laaste twee dekades in alle sektore toegeneem het, het met die koms van Covid-19 net verder vermeerder. Hulle is persone wie se werk dit is om kennis rond te skuif en verbindings tussen navorsers en verskillende gehore te skep. Baie VN-byeenkomste word as leë gesprekswinkels afgemaak maar idees is voorlopers vir aksie en om VN-beleidmakers saam te stel rondom 'n gedeelde analise is van kritieke belang om navorsing en eksterne idees toeganklik te maak. Dat kennis en mag gekoppel is, is nie nuut nie en die krag van idees is 'n onderwaardeerde VN-nalatenskap. Dit verander die manier waarop aangeleenthede beskou en debatteer word en so word belange van nuuts af gedefinieer - dit wil sê wát saak maak en wátter aksies geprioritiseer moet word. Die gevolg is die vorming van nuwe koalisies en netwerke. 'n Dodelike pandemie het hedendaagse denke oor wêreldwye bestuur fundamenteel uitgedaag. Met betrekking tot diplomasie behoort Covid-19 as 'n tydige wekroep beskou te word, want die volgende paar dekades sal waarskynlik ongekend wees te midde van ekonomiese, politieke, sosiale, gesondheids- en ekologiese omwentelinge. Netsoos met Covid-19 sal hierdie omwenteling ook geleenthede bied. Die opmerking wat aan John Maynard Keynes toegedig word toe hy oor teenstrydighede in sy denke gevra is, is ter sake:

When my information changes, I alter my conclusions. What do you do, sir?8

Covid-19 verhinder persoonlike kontak en vergaderings, maar dwing buitelandse beleidsmakers om aan te pas by 'n nuwe digitale normaal. Daar is reeds die sekerhede wat die digitale en tegnologiese rewolusie meebring terwyl klimaatsverandering en geopolitiese onsekerhede groter impak mag hê. Die digitale rewolusie stel nie net 'n magdom meer inligting beskikbaar nie, maar die spoed waarteen besluite geneem moet word, neem eenvoudig nie af nie. Die uitdagings is: wát van al die inligting word, wíe dit verwerk, hóé dit verwerk word, wíe dit daarna vertolk en wát gebeur nadat besluite op grond daarvan geneem is. Dan is daar ook die ooglopende gevaar van al die samesweringsteorieë wat wyd en syd op sosiale media rondgestuur word, soos byvoorbeeld die verskeidenheid groepe wat teen inenting gekant is.

In Maart 2020 het die G-7-beraad vir die eerste keer via videokonferensie plaasgevind. Die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds het weldra gevolg en sedertdien bied 'n stortvloed organisasies en ander dinkskrums, sowel as akademiese en navorsingsinstellings, wye reekse besprekings oor buitelandse beleidsgebeurtenisse aanlyn aan. Menigvuldige geleenthede vir interaksies word geskep en namate die aantal geleenthede toeneem en onderwerpe diversifiseer, raak hindernisse tot deelname wat gewoonlik aan geografiese nabyheid, finansies, en logistieke en tydsbeperkings toegeskryf word al hoe meer verouderd. Die virtuele formaat verwyder die meeste uitdagings vir toeganklikheid en veel meer uiteenlopende gehore en kundiges word betrek. Individue uit verskillende agtergronde en vaardighede word geleenthede gegee om kennis te deel en sodoende deel van die dialoog te word. Op dié manier word die basis van deelnemers verbreed en word meer geleenthede geskep om deel te neem. Meer kennis word versamel en meer idees kom na vore.

 

Kennisbestuur en kennisdiplomasie

Kennis word al hoe meer teen 'n ongekende koers beskikbaar gestel. Diplomate vind insgelyks hierby baat om kennis te versamel en te deel en so word stukrag verleen aan wat vir diplomate van oneindige belang is: kennisbestuur en kennisdiplomasie. Beide is begrippe wat 'n impak op diplomasie laat en dit sal onverantwoordelik en op eie risiko wees om dit sonder meer te ignoreer.

Kennisbestuur is die doeltreffende hantering van inligting en hulpbronne binne 'n bepaalde organisasie. Kennisdiplomasie is 'n tweerigtingproses. Enersyds dui dit op die rol wat internasionale hoër onderwys, navorsing en innovasie (IHONI) in die opbou en versterking van betrekkinge tussen lande speel. Dit bied 'n nuwe benadering tot die ondersoek na die verhouding tussen IHONI en internasionale betrekkinge. Verder beklemtoon dit ook die rol wat internasionale betrekkinge in die fasilitering en verbetering van IHONI speel.

'n Stelsel van kennisbestuur ("knowledge management system") is belangrik om die doeltreffendheid van 'n instelling se besluitnemingsvermoë te verhoog en om te verseker dat alle werknemers toegang tot algehele kundigheid binne die organisasie verkry. Op hierdie manier word 'n goed ingeligte werkerskorps opgebou wat dan beter in staat is om vinniger ingeligte en weldeurdagte besluite te neem wat die organisasie bevoordeel. Die doel van die kennisbestuursproses is dus om perspektiewe, idees, ervaring en inligting te deel; om te verseker dat dit op die regte tyd op die regte plek beskikbaar is om die vereiste besluite moontlik te maak; en om doeltreffendheid te verbeter. Daarom is dit belangrik dat die organisasie dit absoluut moontlik moet maak vir werknemers om hierdie kennis op te doen en nie te onderdruk om partypolitieke munt of eie voordeel daaruit te probeer slaan nie.

Kennisbestuur is gevolglik die bewustelike proses om kennis en ervaring van werknemers binne 'n organisasie te definieer, te struktureer, te behou en te deel. Die hoofdoel van kennisbestuur is om die doeltreffendheid van 'n organisasie te verbeter en kennis binne die onderneming te bewaar, iets wat dikwels na opleiding en onderrig in 'n organisasie verwys. Dit bestaan uit 'n siklus van die skep, deel, strukturering en ouditering van kennis, ten einde die effektiwiteit van 'n organisasie se kollektiewe kennis te maksimeer. Die doel is om organisatoriese onderrig moontlik te maak en 'n leerkultuur te skep waar die deel van kennis aangemoedig word.

Suksesvolle kennisbestuur sal 'n organisasie op verskillende maniere verbeter. Dit sal verseker dat die gespesialiseerde kennis van werknemers nie by hulle bly of onbenut word deur ander werknemers wat daarby baat vind nie Dit is belangrik omdat dit die doeltreffendheid van 'n instelling se besluitnemingsvermoë verhoog. Om te verseker dat alle werknemers toegang het tot algehele kundigheid binne die organisasie, word 'n slimmer werksmag opgebou wat in staat is om vinnige, meer ingeligte besluite te neem wat die onderneming bevoordeel. Dit lei dan daartoe dat innovasie makliker is om binne die organisasie te bevorder, wat dan weer lei tot die voordeel van verhoogde toegang tot beste praktyke, en gevolglik werknemersomset verminder. Die belang van kennisbestuur neem elke jaar toe soos wat die wêreld steeds mededingender word en daarom is dit noodsaaklik dat diplomatieke kundigheid op 'n intelligente en buigsame manier opgebou word om sodoende aan die voorpunt van ontwikkelings en gebeure te kan bly. Sodra organisatoriese kennis en innovasies in plek is, kan probleme vooruit gesien word, en is dit moontlik om vinnig daarop te reageer.

'n Doelgerigte kultuur moet geskep en beleid neergelê word sodat kritieke kennis vasgelê word en behoue bly. Dit is fataal om nie 'n bestaande kennisbestuurstelsel in plek te hê wat kennis bestuur nie en sonder gereedskap wat kennis versamel, behou en versprei, ontstaan 'n vakuum wat nadelige gevolge sal inhou. Gelyktydig hiermee moet 'n stelsel van mentorskap bestaan wat daarop gemik is om kritieke kennis van kennishouers met bepaalde ondervinding aan opkomende internasionale adviseurs oor te dra. Kennis is 'n waardevolle hulpmiddel vir enige moderne organisasie, insluitende 'n diplomatieke diens en gevolglik is dit noodsaaklik dat meganismes in plek moet wees om alle beskikbare kennisbronne van beide interne en eksterne oorsprong te deel, sodat waarde toegevoeg kan word tot die nastreef van doelstellings en strategieë. Sonder duidelike strategieë vir die behoud van kennis sal daar 'n hoë mate van verlies van waardevolle kennis wees na mate ouer diplomate bedank of aftree. Daarom moet hierdie verlies besef en erken word sodat 'n kennisbestuurstelsel geskep kan word wat sal sorg dat die jaarlikse verlies van ongedokumenteerde kennis versag kan word soos die mees ervare en kundige besitters van daardie kennis om welke rede ook al verdwyn.

Kennisdiplomasie word al hoe gewilder en word op verskillende maniere gebruik. Nie net word 'n breë spektrum van regeringsorganisasies - insluitende agentskappe vir hoër onderwys, wetenskap en tegnologie - belangrike rolspelers in diplomatieke betrekkinge nie, maar word burgerlike samelewingsorganisasies, multinasionale ondernemings en kundige netwerke betrek. Die landskap van internasionale hoër onderwys en navorsing is ewe dinamies met die ontwikkeling van innoverende wêreldwye navorsingsnetwerke, onderwys- of kennisname, internasionale gesamentlike universiteite, multisektorale vennootskappe, streeksentrums vir uitnemendheid en nuwe wyses van akademiese mobiliteit. Kennisdiplomasie bestaan om te dien as skakel en die veranderende wêrelde van hedendaagse diplomasie en internasionale hoër onderwys en navorsing te verbind. Die eerste stap om kennisdiplomasie te verstaan, is om die inhoud van diplomasie te verstaan. Kennisdiplomasie verduidelik die rol wat internasionale hoër onderwys, navorsing en innovasie kan speel in die versterking van daardie betrekkinge tussen state, maar kan ook gesien word as 'n tweerigtingproses wat fokus op hoe internasionale betrekkinge internasionale hoër onderwys en navorsing kan verbeter. Kennisdiplomasie erken dat baie binnelandse aangeleenthede nou wêreldwye vraagstukke is, maar terselfdertyd is die teenoorgestelde eweneens korrek. Baie wêreldwye uitdagings is nou huishoudelike uitdagings en daar is dus geen twyfel dat 'n toenemend geglobaliseerde, onderling gekoppelde en interafhanklike wêreld nuwe vraagstukke, bedreigings en geleenthede bied wat nie deur een staat alleen aangespreek kan word nie. Internasionale samewerking is nodig, en dis hier waar kennisdiplomasie die kundigheid en navorsing van die hoër onderwyssektor in vennootskap met ander sektore, dissiplines of rolspelers meebring om die dringende wêreldwye vraagstukke aan te spreek wat buite die vermoë van een staat is om op te los.

Namate belangstelling in en die gebruik van kennisdiplomasie ontwikkel, sal daar verskeie interpretasies wees van wat dit is, waarom dit belangrik is en watter strategieë in die toepassing daarvan gebruik kan word. Alhoewel kennisdiplomasie nie as sinoniem met internasionalisering van hoër onderwys beskou kan word nie, skyn dit wel 'n helder lig op die breër rol en bydrae van internasionale hoër onderwys en navorsing tot internasionale betrekkinge en omgekeerd. Kennisdiplomasie is daar om as hulpmiddel gebruik te word om wêreldwye uitdagings en geleenthede aan te spreek deur verbeterde internasionale betrekkinge en om die moontlikheid te verminder dat internasionale hoër onderwys en navorsing 'n instrument word vir die verdeling van kennis tussen state.

Veiligheid en ekonomiese ontwikkeling is 'n geruime tyd alreeds fundamentele aange-leenthede in internasionale betrekkinge, maar onlangs is nuwe kwelvraagstukke, soos migrasie, klimaatsverandering en nou veral gesondheid bygevoeg. Vandag vul kennis en diplomasie mekaar wedersyds aan om hierdie vraagstukke meer doelgerig te benader en meer effektief te bespreek. In die internasionale poging om gesondheid, welsyn en ontwikkeling te bevorder, terwyl die omgewing en natuurlike hulpbronne beter bestuur en bewaar word, is daar 'n duidelike en groeiende erkenning van die rol van wetenskaplike en tegniese kennis in wêreldwye bestuur. Dermate dat dit die VN genoop het om 'n dringende behoefte te erken. Sodoende is die organisasie toegerus met die vermoë om wetenskaplike kennis aan te wend om internasio-nale besluitneming te verbeter.

Knight wat 'n deskundige oor kennisdiplomasie is, het twee dokumente opgestel wat die British Council in 2018 en 2019 onderskeidelik gepubliseer het.9 Hierdie dokumente help om 'n dieper begrip van kennisdiplomasie te bekom en sommige misverstande wat oor die konsep mag bestaan, uit die weg te ruim. Teen hierdie agtergrond is dit derhalwe noodsaaklik dat internasionale adviseurs waaksaam sal wees oor die volgende:

Verstaan die benaderings tot die opstel van buitelandse en nasionale veiligheidsbeleid.

Dra kennis van die belangrikste instellings en beleidsprosesse wat betrokke is by die formulering van beleid ten opsigte van buitelandse en nasionale veiligheid.

Verstaan teorieë, paradigmas en debatte oor die verband tussen die dinamiek binne 'n staat en die staat se buitelandse beleid en veiligheidsimperatiewe.

Wend teorieë en konsepte uit die globale veiligheid, binnelandse politiek en beleidsanalise aan om staatsgedrag te verstaan, te beïnvloed en te voorspel.

Begryp die historiese konteks van die buitelandse beleid en hoe verskillende belange buitelandse beleid gevorm het.

Wees bewus van die formulering en implementering van buitelandse beleid en hoe verdediging, intelligensie en nasionale veiligheid saam met die ekonomiese, historiese, politieke, sosiale en strategiese belange die onderbou van buitelandse beleid vorm.

Niks is belangriker as die verantwoordelikheid wat 'n land se leiers het om die nasionale veiligheid van die land en sy inwoners te beskerm nie. Dit is noodsaaklik dat 'n sterk nasionale verdediging sowel as 'n robuuste diplomatieke korps gehandhaaf word om kritieke verhoudings met enersdenkende lande te bevorder sodat 'n geordende internasionale wêreldorde beskerm word.

 

Digitale diplomasie

Digitale diplomasie is nou verbind met openbare diplomasie en selfs met kulturele diplomasie, maar dit het ook die gereedskap om hierdie twee pilare van tradisionele diplomasie te beïnvloed.

Die manier waarop diplomate netwerke bedien, kommunikeer, en inligting op sosiale media versamel en verwerk, het 'n bepaalde impak op openbare mening. Die doel van digitale diplomasie is eerstens om 'n globale gehoor op datum te hou en daarna om die nuutste internasionale verwikkelinge te volg. Digitale hulpmiddels sluit ook die wyse in waarop sommige leiers en diplomate met ander lande of nieregeringsorganisasies kommunikeer. In hul verslag oor digitale diplomasie vir die Nederlandse Instituut van Internasionale Verhoudinge meld Hockin en Melissen:

There is an explosion of commentary on the implications of the digital age for diplomacy. Digitalization has a major impact on diplomacy, both in terms of the forms in which it is conducted and its structures at all levels.10

Baie lande het nou kundiges in digitale diplomasie wat saam met hul ambassadeurs werk. Die Verenigde Koninkryk is een van die voorste lande wat digitale diplomasie betref. Dit is die eerste land wat 'n strategie vir digitale publieke diplomasie ontwikkel het. Swede het ook aandag getrek met sy digitale diplomasie. Israel is een van die aktiefste lande in digitale diplomasie. Aangesien die land sy beeld moes herstel weens baie voorvalle, is besluit om diplomatieke betrekkinge met behulp van aanlyn platforms te bevorder.11 Cook se stelling bly van toepassing:

The need to secure the digital future is, without doubt, the most pressing issue facing businesses and societies around the world.12

Die impak van tegnologie op die uitoefening van diplomasie in die tyd van Covid-19 het ook onvermydelik klem geplaas op die toenemende belangrikheid om diplomasie op digitale wyse te bedryf. Met die massiewe aanwending van al die moontlikhede wat hedendaagse digitale tegnologie bied, maak onder andere omgewingsaktiviste wêreldwyd hul stemme dik om besluite op internasionale vlak te beïnvloed en verandering te weeg te bring. Baie van hierdie aktiviste se slagspreuke en ander protesteerders se wekroepe het nou ook al deel geword van die terminologie van internasionale verhoudings. Digitalisering vervaag verder die onderskeid tussen binnelandse en buitelandse aangeleenthede, aangesien burgers se migrasie na digitale platforms nuwe geleenthede skep vir diplomate om die plaaslike publiek se steun vir buitelandse beleidsprestasies of die openbare mening ten gunste van 'n gekose beleid te bewerkstellig.

Weens die enorme impak wat digitaliteit op elke lewensaktiwiteit reeds meegebring het en hoe dit openbare kommunikasie getransformeer het, is dit wenslik om ook te let op die belangrikheid daarvan in diplomatieke verband. Kommunikasie is so 'n wesentlike aspek van diplomasie dat geen kommunikasie geen diplomasie beteken.

Digitale tegnologie het die omvang waardeur diplomasie in die ope bedryf word, hervorm. Meer en meer nuwe rolspelers is bemagtig om by diplomatieke aktiwiteite betrokke te raak en hulle maak vrylik van hierdie tegnologieë gebruik. Kundige aanwending van hierdie nuwe kommunikasiefunksie kan nuttige bydraes lewer tot die verbetering van doeltreffende diplomasie en die bevordering van buitelandse beleidsdoelstellings en openbare diplomatieke gebruike gaan toenemend gesofistikeerd raak met die toepassing van hierdie verskeidenheid tegnologieë. Daarom handel diplomatieke kommunikasie in die digitale konteks nie meer oor bloot verslagdoening of inligtingverskaffing nie, maar om aksies uit te voer met diplomatieke betekenis en implikasies, veral in tye van internasionale krisisse.

Tradisioneel was dit die taak van die Ministerie van Buitelandse Sake om vriendskapsbe-trekkinge en vyandskap met ander state te bestuur, terwyl diplomatieke kommunikasie gefokus het op interaksies tussen diplomate en buitelandse gehore. Diplomate het selde met hul eie landsburgers gekommunikeer, maar noudat digitalisering die onderskeid tussen binnelandse en buitelandse aangeleenthede en vraagstukke verder laat vervaag het, het die begrip van binnelandse digitale diplomasie (BDD) begin posvat. Die migrasie van digitale burgers na digitale platforms skep nuwe geleenthede vir diplomate om tuis openbare steun vir buitelandse beleidsprestasies bymekaar te kry of om openbare mening ten gunste van 'n gekose beleid te beywer of voor te berei. Regerings se gebruik van digitale platforms ter ondersteuning van hul buitelandse beleid sal net toeneem en meer prominent word. Dit kan alreeds gesien word op nasionale vlak waar belangegroepe en kiesers, maar ook vakbonde en aktivistegroepe, tegnologie gebruik om hul belange bekend te stel en te bevorder deur druk op die regering te plaas om gunstige beleidsaannames te maak. Hier moet diplomate 'n proaktiewe benadering tot digitalisering volg en die vaardighede verwerf wat nodig is om deur middel van digitale platforms binnelandse diplomasie as 'n belangrike nuwe komponent van openbare diplomasie van die toekoms nog verder te bevorder. So het die Obama-Withuis Twitter gebruik om met die Amerikaanse publiek te kommunikeer en steun te versamel vir die ongewilde kernooreenkoms met Iran, wat uiteindelik daartoe gelei het dat die ooreenkoms deur die Kongres onderskryf is. Diplomate moet dus digitale instrumente ten volle gebruik. Digitale platforms bied aan hulle die vermoë om boodskappe te versprei, maar, veel meer, om betrekkinge te bevorder en te koester deur middel van sinvolle inhoud met die oog op saakmakende dialoog. Die bestryding van die opkoms van digitale disinformasie moet uit die aard van die besliste negatiewe implikasies wat fopnuus inhou, ook pertinente aandag geniet. Dit is netso belangrik dat 'n betroubare digitale omgewing geskep word. Oordrewe aanwending van byvoorbeeld Twitter, soos waaraan President Trump hom tydens sy ampstermyn skuldig gemaak het, moet vermy word. Indien dit nie gebeur nie, is teenproduktiwiteit die gevolg.

 

Wetenskapsdiplomasie

Wetenskapsdiplomasie, en dan veral ruimtediplomasie, het mettertyd in belangrikheid toegeneem. Nie net as gevolg van verskeie lande se toenemende ruimtebedrywighede nie, maar veral met privaat instansies en individue se ruimtevlugte, soos dié van Richard Branson en Elon Musk, het hierdie groeiende aktiwiteit samewerking tussen lande en hul wetenskaplikes, beamptes en privaat korporasies genoodsaak ten einde te verseker dat konsensus bereik word om veilige, effektiewe en onderhoubare ruimtevlugte te verseker. Diplomate staan nie op die kantlyn wanneer oorwegings en optredes geformuleer moet word oor omgewingsbesoedeling in die ruimte of die daarstel van internasionale reëls en verordeninge nie, soos die verdrag oor die buitenste ruimte, maar ruimtediplomasie strek verder. Dit betrek ook die toenemende belangrikheid van die rol van teleskoop- en aardstasies, soos met die SKA-projek ("Square Kilometre Array") om die wêreld se grootste radioteleskoop te bou. In hierdie projek werk 14 state saam terwyl meer as 'n honderd organisasies vanuit 20 verskillende lande help om die projek te ontwerp en te ontwikkel. Hierin werk lande saam om die verste dele van die heelal te verken. Vir die beoefenaars van wetenskapsdiplomasie is die kwartaallikse publikasie, Science & Diplomacy, van onskatbare waarde. Dit word deur die "Center for Science Diplomacy" van die American Association for the Advancement of Science uitgegee. Hierdie sentrum is reeds vanaf 2008 aktief besig om brûe tussen gemeenskappe, verenigings en lande te bou waardeur interaksie tussen wetenskaplikes en diplomate bevorder word. Sodoende word verseker dat die rol van wetenskap in buitelandse beleid meer en meer gevestig word sodat nasionale en internasionale uitdagings genoegsame aandag geniet. Omdat wetenskap polities neutraal is, was dit dan ook al in die verlede 'n baie goeie vertrekpunt vir multi- en bilaterale gespreksvoering, veral waar sensitiewe diplomatieke verhoudinge ter sprake was. So brei Suid-Korea se Ambassadeur Lee Soo-hyuck insiggewend uit in 'n onderhoud oor skakeling in hierdie verband tussen Noord- en Suid-Korea.13 'n Verdere sprekende voorbeeld van hoe wetenskapsdiplomasie op die hoogste vlak gevoer is, en tans weer gevoer word, is die tergende onderhandelinge tussen bepaalde Westerse lande en die Europese Unie met Iran oor laasgenoemde se kernprogram.

 

Waterdiplomasie

Waterdiplomasie word van toenemende belang. Dit moet egter nie met klimaatsverandering verwar word nie. Beskerming van waterbronne en toegang tot watervoorrade stel nuwe eise aan diplomate om toe te sien dat water nie die onderwerp van groot konflik word nie. 'n Sprekende voorbeeld hiervan is die botsing tussen Egipte en Ethiopië oor die Grand Ethiopian Renaissance Dam, wat laasgenoemde by die bron van die wêreld se langste rivier gebou het. Egipte beskuldig Ethiopië daarvan dat internasionale reg oortree word met die invloei van water uit die Nylrivier wat op sy beurt die watervoorraad na Egipte verminder. Hierdie hidroëlektriese dam is lank reeds 'n bron van spanning in daardie streek.14

 

Kuberdiplomasie

Gepaardgaande met die snelontwikkelende metodes om data te verwerk en te versprei, het die kwessie van kuberveiligheid eksponensieel toegeneem.

Covid-19 has transformed the cybersecurity landscape like never before.15

Kuberveiligheid is 'n aspek van kuberdiplomasie wat nie geringgeskat kan word nie. Diplomate se tyd en aandag word al hoe meer hierdeur in beslag geneem. Samewerking op die gebied van kuberveiligheid is nie net alleen wenslik nie - dit is uiters noodsaaklik. So is dit onlangs onomwonde gestel dat "Africa must get up to speed on cyber diplomacy" met die bykomende imperatief dat hierdie vasteland "cannot afford a back seat in upcoming global decisions on digital security and future tech."16 In 'n verslag wat afgewag word, beoog die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), wat in Pretoria gesetel is, om hierdie noodsaaklikheid pertinent aan te spreek.

Foreign Policy Analytics,17 in vennootskap met Microsoft, vestig in 'n baanbrekende verslag spesiaal aandag op ekonomiese, sosiale en geopolitieke implikasies van toenemende bedreigings op die gebied van kuberveiligheid en die dringende behoefte aan internasionale samewerking om dit te bekamp. Die spesiale verslag, "Securing Our Digital Future", ondersoek die gevare vir staats- sowel as nie-staatsfaktore van toenemende kuberbedreigings en ook die koste daaraan verbonde om nie betyds aan gevare aandag te skenk nie. Teen hierdie agtergrond is indringende aandag tydens die 76ste sitting van die Algemene Vergadering van die VN in 2021 geskenk aan die verspreiding van kuberaanvalle wêreldwyd. Hierdie tydige besprekings sal poog om proaktiewe oplossings vir die uitdaging te bied en die belangrikheid om 'n multinasionale konsensus vir norms en reëls aangaande kuberveiligheid daar te stel. Soos onlangse hoë profielaanvalle getoon het, soek kwaadwillige akteurs meedoënloos na swakhede in die kuberverdediging van lande en maatskappye. Hierdie verslag is daarop gemik om 'n verenigde front te ontwikkel vir ekonomiese groei, nasionale veiligheid en die privaatheid van burgers en om 'n stabiele en veilige kuberruimte te bevorder.

Vir diplomate is hierdie 'n ontsagwekkende uitdaging wanneer diplomasie by kuber- en digitale aangeleenthede betrek word, maar dit kan ook kennis en begrip van die insette, aanwysings en inisiatiewe wat verband hou met internasionale digitale onderwerpe in buitelandse aangeleenthede verbreed. Tegniese en die politieke perspektief en wyse waarop digitalisering internasionale beleidsaspekte, diplomatieke dienste, interregeringsverhoudings en geopolitiek beïnvloed, word gedek. Die rol van digitale tegnologie in globalisering is 'n gegewe en kan nie verander nie, maar wat wel kan verander, is die ingesteldheid om kuberveiligheid deel te maak van die nuwe diplomasie.

Byeenkomste tussen diplomate en tegnologiese gemeenskappe om idees en beste praktyke te deel om digitale en kuberdiplomasie te bevorder, vind al 'n geruime tyd plaas. Om die konsep wêreldwyd uit te brei, is die Washington-gebaseerde "Digital Diplomacy Coalition"18(DDC) geskep as 'n gemeenskap en om as hulpbron vir diplomatieke en internasionale besluitnemers te dien. Reekse ontmoetings in Washington, Ottawa en New York het reeds meer as 4 000 diplomate, tegnoloë en innoveerders, saam met die algemene publiek betrek. In Europa ondersoek CYDIPLO (European Cyber Diplomacy),19 'n Jean Monnet-netwerk wat mede-befonds word deur die Erasmus-program van die Europese Unie (EU), saam met belangrike strategiese vennote die opkomende veld van kuberdiplomasie in die EU. Die doelwitte van hierdie groep is om 'n konsortium van universiteite vanuit Europa, Asië en die Stille Oseaan-gebied te versterk om verder navorsing te doen oor kuberdiplomasie, om studente te onderrig, bestaande kuberveiligheidsonderrig- en navorsingsprogramme aan hierdie universiteite te ver-internasionaliseer, innoverende navorsing oor kuberdiplomasie te bevorder en kundigheid oor kuberveiligheid binne die EU en sy strategiese vennote uit te brei. 'n Belangrike oogmerk is om kuberdiplomasie te professionaliseer deur die aanbieding van gegradueerde en professionele opleidingsprogramme binne die EU waardeur onderrig- en studiemateriaal en modules vir opkomende kuberdiplomate ontwikkel kan word. CYDIPLO se "Handbook on Cyber Diplomacy" bevat die nuutste bevindinge oor kuberdiplomasie. Die handboek is bedoel om 'n onderrig- en leerhulpmiddel te wees saam met die opleiding wat deur die CYDIPLO-netwerk aangebied word. In CYDIPLO se joernale word die algemene onderwerp verduidelik oor hoe verskillende dissiplines verwikkelinge in kuberdiplomasie verstaan en vertolk. Diplomacy36020 is 'n internasionale program en samewerkingplatform wat daarop gemik is om die bande tussen diplomasie en ander domeine en wêreldwye onderwerpe wat beter aangespreek kan word deur alle lande se samewerking te belig. Op dié wyse word nie net op kuberdiplomasie gefokus nie, maar ook op klimaats-, besigheids-, sport-, digitale en joernalistieke diplomasie.

Op akademiese vlak kry kuberveiligheid en die verwantskap met diplomasie ook reeds toenemend aandag. 'n Voorbeeld hiervan is die nagraadse kursus "Cyber Security, Strategy, and Diplomacy" wat die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis se Canberra-kampus aanbied.21Die kursus is 'n gevorderde interdissiplinêre studie wat op die politieke, militêre, diplomatieke en hoër vlak bestuursaspekte van aangeleenthede fokus waar kuberveiligheid, strategieë en diplomasie interaksie het. Dit is by uitstek gepas vir studente in diplomasie. Regerings, ondernemings, gemeenskappe en die burgerlike samelewing regoor die wêreld worstel met strategieë om die nuwe domein van die kuberruim te reguleer, terwyl hul veiligheid en ander belange geraak word deur die vinnige tempo van inligtingstegnologie, wat uitgebuit word vir beide voordelige en kwaadwillige doeleindes. 'n Goeie voorbeeld is die Israeli maatskappy, Pegasus, se vermoë om selfooninligting te onderskep. Reeds vanaf 2016 is hierdie groep in staat om teksboodskappe te lees, oproepe na te spoor, wagwoorde in te samel, liggingopsporing akkuraat te doen, toegang tot die teikentoestel se mikrofoon en kamera te verkry en inligting van toepassings af te laai. Vir diegene wat nog dink hul selfone is veilig, wag daar onaangename ontnugterings.

Gevolglik word algemeen aanvaar dat die bedreigings in die kuberruim steeds toeneem, terwyl reaksies om dit te versag nie daarmee kan tred hou nie. Die "Cyber Security, Strategy, and Diplomacy"-program bied sodoende aan studente die geleentheid om die belangrikste beleids-, operasionele, etiese en inligtingsuitdagings ten opsigte van veiligheid wat deur die integrasie of penetrasie van gevorderde inligtingstegnologieë op alle terreine van menslike aktiwiteite veroorsaak word, te begryp. Verder rus die kursus professionele persone toe met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om effektief op te tree in kuberdiplomasie. Die kursus ontleed ook die wyse waarop die misbruik van tegnologie die geopolitieke veiligheid, sosiale en ekonomiese ontwikkeling en kuberprosesse en onderhandelings beïnvloed. Die kursus word aangebied deur akademici, tegnologie-kundiges en ervare diplomate.

Dit is insiggewend om te let op hoe nuus oor kuberveiligheid op televisie van die segmente "leefstyl" en "tegnologie" na dié van "politiek" en selfs na die hoofberigte van 'n nuusuitsending verskuif het. Die toenemende frekwensie en hoë impak van kuberoortredings en kuberkrakers wat wêreldwye politieke en ekonomiese betrekkinge beïnvloed, veroorsaak dat ander hoogsaakmakende items van die onderhandelingstafel gestoot word. Van die VN se Algemene Vergadering en Veiligheidsraad, tot die G-7, G-20, die WGO, en verskeie streeksorganisasies word state gedwing om maniere te vind om die kuberruim te beveilig. Kubermisdaad is egter nie net tot state beperk wat dit ter wille van strategiese of selfs ekonomiese voordeel pleeg nie. Internasionale terreurnetwerke en sekerlik ook georganiseerde misdaadgroepe is weldeeglik hierby betrokke. Dit alles bemoeilik die bestryding van kubermisdaad aansienlik. Diplomate sal hierdie veld met 'n hele aantal ander rolspelers buite die staatsopset moet deel om enigsins die gewenste resultate te verseker wanneer nuwe globale reëls bepaal word om kubermisdaad hok te slaan.

Kubersekuriteit beïnvloed onteenseglik internasionale vrede, volhoubare ontwikkeling, digitale samewerking, menseregte en privaatheid. Twee vrae wat dan gevra moet word, is hoe al hierdie belangrike uitdagings op die gebied van kuberveiligheid gekonfronteer word, en of diplomasie hierdie tegnologies verweefde bedreigings in 'n geopolitieke konteks kan aanspreek. Nog twee verdere belangrike vrae is hoe diplomate, besigheidsleiers en ander belanghebbendes samewerking kan bevorder ten einde hierdie bedreiging te minimaliseer en selfs te verwyder en hoe moondhede kan verseker dat ooreenkomste oor veilige gedrag in die kuberruimte die internet se potensiaal vir universele toegang, ekonomiese en sosiale ontwikkeling en vooruitgang, en individuele veiligheid, regte en vryhede kan waarborg. Met die beantwoording van elkeen van hierdie vrae rus daar 'n groot taak op hedendaagse diplomate om hulle te skool in die uitdagings wat hier gebied word.

Diplomasie in hierdie tydsgewrig moet noodwendig ook kennis neem van die toenemende besorgdheid dat die kuberruimte die volgende oorlogsteater mag word, indien dit nie in sekere wêrelddele alreeds so is nie. Clayton het al in 2011 hieroor opgemerk:

In the future, wars will not just be fought by soldiers with guns or with planes that drop bombs. They will also be fought with the click of a mouse a half a world away that unleashes carefully weaponized computer programs that disrupt or destroy critical industries like utilities, transportation, communications, and energy. Such attacks could also disable military networks that control the movement of troops, the path of jet fighters, the command and control of warships.22

Kuberoorlogsvoering is 'n internetgebaseerde konflik wat polities gemotiveerde aanvalle onder meer op inligtingstelsels fokus. Sulke aanvalle lei tot nuwe terme soos kuberoorlog en kuberterrorisme en kan byvoorbeeld amptelike webwerwe en netwerke uitskakel, noodsaaklike dienste ontwrig of uitskakel, geklassifiseerde data steel of verander en finansiële stelsels lamlê. Kuberveiligheid, strategie en diplomasie bied gevorderde interdissiplinêre studie aan die politieke, militêre, diplomatieke en hoër vlak bestuursaspekte van kwessies waar eersgenoemde drie aspekte interaksie met mekaar het. Die kuberruimte het 'n belangrike fokuspunt geword in internasionale betrekkinge. Baie wêreldmoondhede het reeds kuberaangeleenthede in hul buitelandse beleid opgeneem en namate kuberbedreigings toeneem, moet regerings en organisasies saamwerk om kuberstrategieë te ontwikkel en afgevaardigdes aan te stel om toesig te hou oor hierdie strategiese doelwitte.

 

Korporatiewe diplomasie

Korporatiewe diplomasie, waar korporasies aanhou om in hul vermoë te groei om openbare diplomasie te beoefen, is 'n belangrike aspek wat diplomate daadwerklik in ag moet neem. Wat eens 'n gebied was wat amper uitsluitlik die domein van soewereine state was, is nie meer so nie. So byvoorbeeld het die uitvoerende hoof van General Electric (GE) Europe homself al beskryf as GE se minister van buitelandse sake vanweë die aard van sy werk. Inderdaad het GE en ander soortgelyke rolspelers meer hulpbronne as sommige soewereine state wat elk 'n diplomatieke diens in stand hou. Indien diplomate nie hierdie aspek behoorlik in ag neem nie kan 'n staat se diplomatieke burokrasie omseil en die historiese strukturele orde van diplomatieke instellings ontwrig word. Die verhoogde invloed en trefwydte waarmee hierdie nuwe en besonderse rolspelers nou in die openbare oog verkeer, kan diplomate nie net gelate aanvaar nie.

Nog so 'n voorbeeld is Philips, een van Nederland se voorste multinasionale maatskappye en 'n sterk voorstander van internasionale samewerking in die gesondheidsorgbedryf. As 'n wêreldleier op die gebied van gesondheidstegnologie, is hierdie maatskappy daartoe verbind om deel te neem aan die debat oor hoe die uitdagings aangespreek kan word. Gevolglik is die bestuur en handhawing van volhoubare gesondheidsorg nie net regdeur die EU vir Philips 'n hoë prioriteit nie, maar ook in al 130 lande waar die maatskappy betrokke is. Soos elders het die Covid-19-wêreldkrisis die politieke toneel van die EU sedert Maart 2020 oorheers. In die eerste maande van die pandemie het Philips sy pogings daarop gefokus om die funksionering van die wêreldwye voorsieningsketting vir lewensreddende mediese toerusting te verseker. Met tydige, gereelde en gestruktureerde gesprekke met EU-beleidmakers kon Philips lesse uit die krisis deel. Philips gaan steeds voort om leiding met sy denkprosesse te verskaf. Daarmee versterk die maatskappy sy reputasie as 'n leier op die gebied van gesondheidstegnologie by die belangrikste belanghebbendes en beleidmakers in die EU. Met sy aanwending van virtuele hoëvlak-paneelbesprekings en die aanbieding van werksgroepe met beleidmakers van die EU slaag Philips by uitstek daarin om substansie te verleen aan die standpunt dat dit noodsaaklik vir 'n maatskappy is om oor grense heen betrokke te wees en daarmee 'n besliste verskil te maak. Philips se optredes verleen geloofwaardigheid aan die bedryf van gesondheidsorgdiplomasie.

Enige maatskappy wat oor sy eie landsgrense heen werk, behoort 'n buitelandse beleid te hê en iemand moet daarvoor verantwoordelik wees en geloofwaardigheid daaraan verleen. Dit is noodsaaklik dat so 'n maatskappy dit om presies dieselfde redes doen as wat 'n land 'n buitelandse beleid het. Kommersiële belange word steeds 'n belangriker komponent van buitelandse beleid. Besighede moet buitelandse sake en hoe om gemaklik en gesaghebbend in daardie omgewing op te tree, verstaan. Die meeste maatskappye beskou buitelandse beleid as iets wat die regering alleen voer, maar 'n buitelandse beleid vir 'n sakeonderneming sal egter nie net daarop gemik wees om die werking van 'n eie regering te verstaan en te beïnvloed nie; dit sal nog meer tyd en middele bestee om vas te stel hoe buitelandse regerings waarskynlik sal optree. Dit is dus uiters belangrik dat maatskappye - en nie net multinasionale ondernemings nie - buitelandse politiek en die manier waarop dit besigheidsvooruitsigte en -besluite kan beïnvloed, verstaan. Die onderliggende rede vir enige land se buitelandse beleid is om die land se belange in die buiteland te bevorder en te beskerm. Om hierdie rede moet topbestuurders en hul bestuurspanne deeglik kennis dra van kwessies oor buitelandse beleid en die eise wat 'n impak op hul maatskappye, hul besluite en bedrywighede in die buiteland het. Hulle moet ook dus konstruktiewe betrekkinge met die regering van die gasheerland en saakmakende instellings volhou. Gevolglik is dit noodsaaklik dat diplomate noue kontak met hierdie ondernemings moet hou.

Wanneer dit by korporatiewe diplomasie kom, staar diplomate van die VSA ongekende uitdagings in die gesig. Hoe word maatskappye oortuig om bepaalde rigtings in te slaan om diplomatieke oogmerke te bereik wanneer ses van hierdie maatskappye die volgende in hul arsenaal het. Twee daarvan (Black Rock en Vanguard) hanteer bates van US$ 17 triljoen, terwyl die vier grootste banke se bates meer as US$ 8 triljoen is. Saam verteenwoordig hierdie ses bates wat meer as die Bruto Binnelandse Produk (BBP) van die VSA is. Ook anders gestel: byna tweemaal die BBP van die EU se lidstate of bykans 'n derde van die wêreld se BBP! Hulle het nouliks die regering se toestemming nodig om hul eie doelwitte te bereik, binne sowel as buite die VSA. Diplomate, en selfs die president, kan hierdie feite net tot hul eie nadeel ignoreer.

 

Rol van verskaffers van digitale tegnologie

'n Addisionele aspek wat net soveel aandag moet geniet, is die nuwe internasionale benadering wat state teenoor verskaffers van digitale tegnologie volg. Denemarke het hierin die voortou geneem toe hulle besef het dat hulle vinnig moes reageer op die veranderende landskap van diplomatieke verteenwoordiging. Erkenning is gegee aan die feit dat die intensiteit van die toename in internasionale rolspelers byna uitsluitlik ontstaan het uit tegnologiese rolspelers wat in Silikonvallei, Kalifornië, gebaseer is. Denemarke het nie geaarsel om baanbrekerswerk te doen toe 'n veteraan-diplomaat aangestel is as die wêreld se eerste Tegniese Ambassadeur in Silikonvallei nie. Die katalisator vir hierdie aanstelling was toe die Dene opgemerk het dat hul nasionale BBP vir 2016 kleiner was as Facebook se hele markkapitalisasie. By die bekendstelling van hierdie besluit het die Deense Minister van Buitelandse Sake beklemtoon dat maatskappye, soos Google, IBM, Apple en Microsoft, nou so groot is dat hulle ekonomiese sterkte en impak in die alledaagse lewe groter is as dié van baie lande waarmee Denemarke meer tradisionele ambassades in stand hou.23

Die formele skepping van die eerste ambassadeurspos in Silikonvallei het ongetwyfeld aandag regoor die wêreld getrek en 'n sterk boodskap aan die internasionale gemeenskap in die algemeen uitgestuur, naamlik dat baie aspekte van die historiese rolle en verantwoorde-likhede van ambassadeurs en ambassades vinnig besig is om te verander. Daarom was dit nie 'n verrassing toe Frankryk in November 2017 'n ambassadeur vir Digitale Aangeleenthede aangestel het om uitsluitlik op die vorming, instandhouding en bevordering van verhoudings tussen Frankryk en Silikonvallei te fokus nie. Hierdie spesifieke ambassadeursaanstellings onderstreep nie net die belangrike sosio-ekonomiese en politieke rolle van tegnologie nie, maar ook hoe diplomasie ontwikkel en moet aanpas by ontwrigtende veranderinge in die samelewing. 'n Verdere voorbeeld wat genoem moet word, is dié van Taiwan wat op daad-werklike wyses sy reeks tegnologieë bevorder en wêreldwyd bemark ten spyte van China se kragtige diplomatieke offensiewe om Taiwan te marginaliseer.

 

Die uitdagings wat China en Rusland bied

China is ekonomies nou so groot dat dit nie anders kan as om 'n groeiende faktor in wêreldbeskouing te wees en waarvan diplomate weldeeglik kennis moet neem nie. Tussen 2000 en 2020 het daardie land se BBP in grootte verdubbel. Sy industriële ekonomie is nou twee maal groter as dié van die VSA, hoewel sy dienste-ekonomie steeds baie kleiner is. Verder beskik China oor die wêreld se grootste verbruikersmark en is ook die grootste invoerder van koolwaterstowwe. Dit is 'n snel opkomende tegnologiese supermoondheid op 'n toenemende aantal gebiede. Gevolglik is daar 'n vinnig groeiende vraag na Chinese maatskappye se ingenieursdienste, konstruksievermoëns, motor- en telekommunikasietoerusting, wapentuig en verbruikersprodukte. Teen hierdie agtergrond is die groeiende vrees dat China sy al hoe groter wordende ekonomiese mag kan gebruik om toegewings af te dwing wat ekonomies en polities nadelig vir ander state kan wees, veral dié in Afrika. So het China se Direkte Buitelandse Investering (DBI) in Afrika teen 'n gemiddelde saamgestelde koers van 18% perjaar van 2004 tot 2016 gegroei. Finansiering van gekontrakteerde Chinese projekte in Afrika het ook toegeneem. In 2015 het dit reeds 'n hoogtepunt van US$55 miljard bereik wat bykans twintig keer die vlak van DBI is.

In 2018, The Trump administration's "A New Africa Strategy: Expanding Economic and Security Ties on the Basis of Mutual Respect," mentions China 25 times yet fails to mention Nigeria or South Africa - the largest economies in Sub-Saharan Africa. This strategy was more for countering China than engaging with Africa. Africa just happened to be the battlefield. This strategy has largely been maintained by the Biden administration.24

Op hierdie wyse word China se verhoogde internasionale aktivisme weerspieël in baie buite-landse beleidsareas, soos globale klimaatgesprekke, wêreldwye ekonomiese en finansiële stelselhervorming. China fokus gevolglik in sy buitelandse beleid op samewerking met ander lande om 'n multipolêre internasionale stelsel te bou wat sy belange in globale politiek beskerm. Dit word gesien in gekoördineerde beleidsposisies en gesamentlike diplomasie in, byvoorbeeld BRICS (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika), BASIC (Brasilië, Suid-Afrika, Indië en China), en Sjanghai Samewerkingsorganisasie (SCO).

Aangesien Afrikalande meer afhanklik is van ekonomiese betrokkenheid word hul bereidwilligheid om te voldoen aan China se wense en vereistes, veral met betrekking tot internasionale aangeleenthede, versterk as gevolg van hul onvermoë om sonder ekonomiese betrokkenheid veel vordering te maak. Die gevolg hiervan is dat die verwantskap tussen Afrika en die VSA aanhou taan. Teen die agtergrond van China se optredes moet diplomate deurentyd daarop bedag wees dat China saam met Rusland volgens Rachman planne beraam om die VSA se mag te verminder en die wêreld vir outokrate veiliger te maak. Hy maak die stelling op grond van hierdie argumente:

The Russian and Chinese leaders are united by a belief that the US is plotting to undermine and overthrow their governments. ... They believe that the current arrangements give America too much power - and they are determined to change that. ... For Russia and China, the making of a new world order is not simply a matter of raw power. It is also a battle of ideas. ... Beijing and Moscow argue that the current world order is characterised by an American attempt to impose western ideas about democracy and human rights on other countries, if necessary through military intervention. The new world order that Russia and China are demanding would instead be based on distinct spheres of influence.25

Dit is juis hierdie stryd om idees waarop diplomate bedag moet wees om argumente daarop te kan aanbied. Ontleders sien gevolglik Rusland se dreigende standpunte met betrekking tot Oekraïne en China se onrusbarende optredes in die Suid-Chinese See en teenoor Taiwan as wegbereiders om hierdie doelwit van h nuwe wereldorde te bewerkstellig. Nog h vooraanstaande kenner van die magspel waarmee China en Rusland besig is, is Hal Brands.26 Sy boek (The Twilight Struggle: What the Cold War Teaches Us About Great-Power Rivalry) het pas verskyn en handel breedvoerig hieroor.27 In h artikel wat sy gevolgtrekkinge kernagtig saamvat, noem hy die volgende:

It is undeniable that the United States is now involved in a new era of great-power competition. The U.S.-led international system is threatened by authoritarian powers seeking to redraw the world's geopolitical map and make the 21st century an age of autocratic ascendancy. ... In fact, Russian and Chinese leaders saw U.S. policy not as a source of stability but as a threat to their security and power. ... [They] resented a hegemonic United States imposing its will in their backyards and thwarting their geopolitical designs. ... The Chinese challenge is the graver of the two because Chinese power and potential are so great. ... Yet both are seeking a dramatically altered international environment - one where spheres of economic and geopolitical influence have returned, U.S. power is constrained, and authoritarianism advances as democracy retreats. ... Winners of great-power rivalries receive vast influence and the opportunity to shape the world. Losers can fall into decline, even disaster. All of which means the United States will need every bit of intellectual preparation it can get for the tests it now confronts.28

Die waarskuwing wat Brands met betrekking tot intellektuele voorbereiding rig, geld vir elke diplomaat. Die noodsaaklikheid van sodanige voorbereiding kan nie genoeg beklemtoon word nie en is nie net op hulle van toepassing wat met groot internasionale vraagstukke worstel nie. China se "Belt and Road Initiative" (BRI) is 'n ambisieuse plan om nuwe handelsroetes te ontwikkel wat China met die res van die wêreld verbind. Maar, die inisiatief gaan oor veel meer as net infrastruktuur. Dit is 'n doelbewuste poging om 'n uitgebreide, interafhanklike mark vir China te ontwikkel sodat sy ekonomiese en politieke greep verder kan toeneem. Dan skep China daarmee ook die regte toestande om 'n hoëtegnologie-ekonomie te bou.

Terselfdertyd is daar ook nog die bedreigings wat sogenaamde afwykende state inhou. Soms word ook na hulle verwys as "rogue states" of die "Axis of Evil." Diplomate kan nie net kennis van hulle neem nie. Die gevaar van hierdie state is wesentlik. Die aktiwiteite van state soos Iran, Noord-Korea en Sirië kan in h ommesientjie groot konflik veroorsaak.

 

Addisionele diplomatieke rolspelers

State is nie meer die enigste internasionale rolspelers in die steeds groeiende diplomatieke toneel nie. Om nie die gevaar te loop om 'n bedreigde aktiwiteit te word nie - wat toenemend irrelevant mag word as gevolg van voortsnellende tegnologiese vooruitgang - moet diplomatieke verteenwoordiging in die digitale era intensief ingespan word om diplomatieke betrokkenheid te verhoog en 'n kritiese instrument te word in 'n era van ingewikkelde inter-afhanklikheid en globalisering. Dis nog 'n belangrike aspek waarvan diplomate kennis moet neem omdat dit heel dikwels hul werksverrigtinge kan vertroebel indien dit nie van meet af neergelegde reëls en gedragslyne volg waarop wedersyds ooreengekom is nie. State praat lank nie meer met net een stem met die buitewêreld nie. Hulle is nie meer die enigste internasionale rolspelers nie. Die staat as unitêre rolspeler het plek gemaak vir 'n hele reeks sub-staatsrolspelers wat internasionale aksies begin opneem het, soos deelstate in die Verenigde State, provinsies in Suid-Afrika en in Europese lande, en stede, ook genoem tweelingstede, om hul eie paradiplomasie te bedryf. Baie van hulle het selfs kantore en permanente verteenwoording in die buiteland. Die uitdaging vir tradisionele diplomasie is om hierdie veelvoud van stemme te hanteer en hopelik te kan koördineer.

Die aantal rolspelers wat by buitelandse aangeleenthede betrokke is en diplomasie op een of ander wyse bedryf, het die afgelope dekades geweldig toegeneem. Die verskeidenheid soorte diplomasie wat beoefen word, vermeerder ook dienooreenkomstig, soos blyk uit entstofdiplomasie wat die afgelope jaar geformuleer is. Die aantal en verskeidenheid rolspelers en deelnemers wat by onderhandelinge ingesluit word, neem steeds toe. Die hoeveelheid onderwerpe vermeerder wat aandag van internasionale onderhandelaars opeis, so ook die kompleksiteit van die onderwerpe waaroor onderhandel word. Terselfdertyd vermeerder interaksies tussen al hierdie rolspelers, soos wat veranderende omstandighede die agenda van buitelandse beleid bepaal en dryf. Die fokus wat deurentyd verskuif, raak nie net individuele state nie, maar ook multilaterale groeperings, soos onder andere die VN en die EU. Die groeiende aantal en diversiteit van rolspelers wat hulle met diplomasie bemoei, die toenemende aantal en verskeidenheid aangeleenthede wat diplomasie moet dek, die uitgebreide funksies wat onder die dekmantel van diplomasie val en die toenemende gespesialiseerde en tegniese aard van die besprekings en onderhandelinge, bring onvermydelike gevolge vir diplomate en dus internasionale adviseurs mee. Addisionele personeel moet in buitelandse ministeries en ambassades aangestel word en diplomate moet baie meer veelsydig wees. Selfs die bekwaamste en veelsydigste beskik nie altyd oor genoegsame kundigheid om al die aangeleenthede te hanteer nie, met die gevolg dat kundiges van buite die staatsopstel as tegniese adviseurs en konsultante ingebring word. Diplomasie word so toenemend 'n uitgebreide regeringsonderneming.

Ten spyte van hierdie onvermydelike uitdagings bly die toekoms van openbare diplomasie in die digitale era blink solank as wat Ministeries van Buitelandse Sake en Ambassades volhou om digitale tegnologie op kreatiewe en positiewe wyses te betrek en met behulp daarvan steeds toegewyd bly aan die opdrag om brûe te bou tussen aanlyn gemeenskappe en diegene wat nie toegang daartoe het nie. Digitale tegnologieë kan 'n invloedryke rol speel in die wyse waarop individue, gemeenskappe en samelewings in die geheel nie net met mekaar skakel nie, maar ook hoe hulle hulself herdefinieer as sosiale en politieke rolspelers in die digitale era.

 

Slot

Die aangeleenthede en kwellinge wat die wêreld in die huidige tydsgewrig oorheers, stel nuwe en verskillende soorte uitdagings as dié wat die wêreld in 1919 en weer in 1945 gekonfronteer het. Hierdie hedendaagse realiteite en uitdagings stel ander verwagtinge vir aksie en nuwe standaarde vir optrede deur diplomate en nasionale grense verhoed nie meer die vloei van mense, idees, inligting, goedere, dienste, kapitaal, arbeid en tegnologie nie. Moderne kommunikasiemoontlikhede dra verder daartoe by om landsgrense toenemend irrelevant te maak en stel presidente, premiers en ministers van buitelandse sake in staat om direk met hul eweknieë in ander lande kontak op te neem sonder die noodwendige tussenkoms van diplomate. Sakelui, vakbondleiers en hoofde van nieregeringsorganisasies volg dieselfde voorbeeld.

Nog nooit het 'n enkele gebeurtenis soos Covid-19 almal se lewens gelyktydig en so skielik ontwrig nie. Wat Ryan tereg oor die Verenigde Koninkryk se swak hantering van die pandemie met al sy wyduiteenlopende komponente opmerk, is feitlik op meeste lande van toepassing:

The inefficient and muddled way in which the UK government has handled the Covid-19 crisis has been shocking. ... When Covid-19 struck in early 2020, Britain's self-image as a strong, successful, resilient country was mercilessly uncovered as an illusion through systemic failures of governance. ... The British government made poor decisions, based on poor advice, founded on poor evidence supplied by poorer testing, with the inevitable consequence that it achieved poorer results than almost any of its peers. It failed in its preparation, its diagnosis and its treatment.29

Dit bly steeds 'n uitdaging wat diplomate moet bemeester teen die agtergrond van regerings se wankelrige optredes om kreatief en beslissend op te tree. Verder bring die steeds groeiende invloed van China op velerlei terreine verskeie uitdagings aan veral state in Afrika. Hoe word China se toenemende betrokkenheid bestuur? Of is die stadium alreeds bereik waar China nouliks meer teengegaan kan word?

In teenstelling met vorige finansiële krisisse, het die Covid-pandemie reeds ernstige politieke, ekonomiese en sielkundige letsels gelaat. Hoe langer die pandemie aangehou het, hoe meer het die wêreld verander. En nog is die einde nie in sig nie. Met elke bykomende variant, soos met Omicron, word die wêreld van een krisis in die volgende gedompel. Die uitdaging waarvoor diplomate te staan kom, is om hulleself te verseker van hul akademiese bekwaamhede en opleiding om sodoende hierdie veranderinge te bestuur en die nuwe werklikhede wel te kan bemeester. Oplossings om die geïdentifiseerde probleem aan te spreek, is moeilik om te spesifiseer. Diplomasie is deur die eeue heen daardeur gekenmerk om gereed te wees vir onveranderlikes. Weinig of niks in diplomasie bly staties nie. Wat wel toenemend verander en vir nuwe insigte sorg, is navorsing. Genoegsame literatuur bestaan reeds wat diplomate kan lei en aanspoor om die ongekende uitdagings van hul beroep met nuwe ywer die hoof te bied.

 

BIBLIOGRAFIE

Artikels

Allen, Karen. 2022. Africa Must Get Up to Speed On Cyber Diplomacy, 3 Januarie 2022. (<https://issafrica.org/iss-today/africa-must-get-up-to-speed-on-cyber-diplomacy>         [ Links ]).

Blackwill, Robert. 2013. Ideal Qualities of a Successful Diplomat. Paper prepared for the Belfer Center for Science and International Affairs, Harvard Kennedy School, 17 October 2013. (<https://www.belfercenter.org/publication/ideal-qualities-successful-diplomat>         [ Links ]).

Brands, Hal. 2022. America's War for Global Order With Russia and China Is a Marathon. Foreign Policy, 25 Januarie 2022.         [ Links ]

Clayton, Mark. 2011. The New Cyber Arms Race. The Christian Science Monitor, 7 March 2011.         [ Links ] Cook, Michael. 2018. Securing the Digital Future. Cognizant, February 2018. (<https://www.cognizant.com/whitepapers/securing-the-digital-future-codex3141.pdf>         [ Links ]).

Davies, Sara & Clare Wenham. 2020. Why the COVID-19 response needs International Relations. International Affairs, 96(5):1227-1251, 1 September 2020. (<https://doi.org/10.1093/ia/iiaa135>         [ Links ]).

Eksteen, Riaan. 2019. Die uitwerking van binnelandse aangeleenthede op buitelandse beleid, met spesifieke verwysing na hedendaagse gebeure in die Verenigde State van Amerika. Tydskrif vir Geesteswtenskappe, 59(3):398-412.         [ Links ]

Hocking, Brian & Jan Melissen. 2015. Diplomacy in the Digital Age, Clingendael Report, Netherlands Institute of International Affairs, Julie 2015.         [ Links ]

Jones, Carla et al. Chinese Economic Engagement in Africa: Implications for U.S. Policy, Foreign Policy Research Institute, 24 Januarie 2022. (<https://www.fpri.org/article/2022/01/chinese-economic-engagement-in-africa>         [ Links ]).

Knight, Jane. 2018. Knowledge Diplomacy: A bridge linking international higher education and research with international relations. British Council, 2018. (<https://www.britishcouncil.org/sites/default/files/kno.pdf>) en "Knowledge Diplomacy in Action", British Council, 2019 (<https://www.britishcouncil.org/research-policy-insight/research-reports/knowledge-diplomacy-action>         [ Links ]).

Lindstrom, Gustav. 2002. Diplomats and Diplomacy for the 21st Century. RAND Graduate School, 2002, p. xi.         [ Links ]

Polakovic, Gary. 2021. Water dispute on the Nile River could destabilize the region. University of Southern California News, 13 Julie 2021 (<https://news.usc.edu/188414/nile-river-water-dispute-filling-dam-egypt-ethiopia-usc-study>         [ Links ]).

Rachman, Gideon. 2022. Russia and China's plans for a new world order. Financial Times, 23 January 2022.         [ Links ]

Roberts, Ivor (ed.). 2016. Satow's Diplomatic Practice. Oxford Univeristy Press, 7th edition.         [ Links ]

Ryan, John. 2021. Brexit and Covid-19 Combined Undermine Britain's Global Influence. Irish Studies in International Affairs, 32(1): 1-19.         [ Links ]

Soo-hyuck, Lee. 2021. South Korea and the Nexus between Science and Diplomacy. Science & Diplomacy, 2021.         [ Links ]

Stanzel, Volker (ed.). 2018. New Realities in Foreign Affairs: Diplomacy in the 21st Century. 12 November 2018. (<https://www.swp-berlin.org/publications/products/research_papers/2018RP11_sze.pdf>         [ Links ]).

Webtuistes

<https://accelerate-marketing.com/insights/knowns-and-unknowns-planningfactors>

<https://cphpost.dk>

< https://cyberdiplomacy.net>

<http://digidiplomats.org>

<https://diplomacy360.com/what-is-digital-diplomacy>

<https://diplomacy360.com>

<https://financialexpress.com/industry/technology/securing-our-digital-future-is-no-longer-an-option-its-a-must-anil-valluri-regional-vp-palo-alto-networks/2308898>

<https://quoteinvestigator.com/2011/07/22/keynes-change-mind>

<https://unsw.adfa.edu.au/study/postgraduate-coursework/master-cyber-security-strategy-and-diplomacy>

 

 

Ontvang: 2021-09-15
Goedgekeur: 2022-01-24
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Riaan Eksteen was vir 27 jaar lid van Suid-Afrika se Buitelandse Diens. Hy beklee verskillende poste in die Buitelandse Ministerie. Gedurende 1964-67 is hy in die Namibiese afdeling gemoeid met SA se betrokkenheid in die hofsaak by die Internasionale Geregshof in Den Haag; hy is ook agtereenvolgens hoof van die VN- en Namibiese afdeling (1973-76) en van Beplanning (1981-1983). Hy dien vanaf 19681973 by die SA Ambassade in Washington, DC. Voorts is hy vir 12 jaar ambassadeur by die VN in New York (1976-1981); Namibië (19901991); VN in Geneve (1992-1995) en Turkye, insluitende Azerbeidjan, Kirgistan, Oesbekistan en Turkmenistan. Laasgenoemde aanstelling is deur pres. Mandela gedoen. Hy was ook Direkteur-generaal van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) van 1983 tot 1988 en 'n politieke ontleder op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) van 1988 tot 1990. Hy behaal sy doktorsgraad in Oktober 2018 en is die outeur van The Role of the Highest Courts of the United States of America and South Africa, and the European Court of Justice in Foreign Affairs. Talle artikels is reeds in internasionale en nasionale vaktydskrifte gepubliseer. Hy was besoe-kende professor aan die Tashkent State University of Law, Uzbekistan.
Riaan Eksteen was a member of the South African Foreign Service for 27 years, during which time he held several posts within the Foreign Ministry. From 1964-67 he served in the Namibian division, participating in South Africa's court case in the International Court of Justice in The Hague; he also successively held the positions of Head of the UN and Namibian divisions (1973-1976) and Head of Planning (1981-1983). In addition, from 1968-1973, he was stationed at the South African Embassy in Washington, DC. Subsequently, he was Ambassador for 12 years at the U.N. New York (1976-1981); Namibia (1990-1991); U.N. Geneva (1992-1995); and Turkey, including Azerbaijan, Kyrgyzstan, Turkmenistan and Uzbekistan (1995-1997). The assignment to Turkey was done by Pres. Mandela. He is also a former Director-General of the South African Broadcasting Corporation (1983-1988) and a political analyst on the Johannesburg Stock Exchange (JSE). He obtained his doctorate in October 2018 and is the author of The Role of the Highest Courts of the United States of America and South Africa, and the European Court of Justice in Foreign Affairs. He has already published numerous articles in international and national scientific journals. He was also a visiting professor at the Tashkent State University of Law, Uzbekistan.
1 Roberts (2016).
2 Eksteen (2019).
3 Lindstrom (2002:xi).
4 Stanzel (2018:2). Stanzel is 'n voormalige Duitse ambassadeur in China en Japan en sedert sy aftrede is hy verbonde aan die Duitse Instituut vir Internasionale en Sekerheidsaangeleenthede (Stiftung Wissenschaft Politik - SWP) en dien ook as visepresident van die Duitse Raad oor Buitelandse Verhoudinge.
6 <https://accelerate-marketing.com>
7 Davies en Wenham (2020).
8 <https://quoteinvestigator.com>
9 Knight (2018 & 2019).
10 Hocking & Melissen (2015:5).
11 <https://diplomacy360.com>
12 Cook (2018).
13 Soo-hyuck (2021).
14 Polakovic (2021).
15 < https://www.financialexpress.com>
16 Allen (2022).
17 "Foreign Policy Analytics" is die navorsingsafdeling van die Washington-gebaseerde publikasie "Foreign Policy."
18 <http://www.digidiplomats.org>
19 < https://www.cyberdiplomacy.net>
20 <https://diplomacy360.com>
21 <https://unsw.adfa.edu.au>
22 Clayton (2011).
23 <https://cphpost.dk>
24 Jones (2022).
25 Rachman (2022).
26 Henry Kissinger distinguished professor of global affairs at Johns Hopkins University's School of Advanced International Studies.
27 Brands, Hal, The Twilight Struggle: What the Cold War Teaches Us About Great-Power Rivalry Today Yale University Press, 2022.
28 Brands (2022).
29 Ryan (2021).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons