SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1The problem of historical guilt in South AfricaChallenges and opportunities in practising diplomacy - Before, during and after Covid-19 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a5 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

De Zuid-Afrikaan en die teenstrydighede van 19de-eeuse Kaapse liberalisme

 

De Zuid-Afrikaan and the contradictions of 19th century Cape liberalism

 

 

Gawie Botma

Departement Joernalistiek, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: gbotma@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die Kaapse koloniale koerant De Zuid-Afrikaan, wat in 1830 die eerste maal verskyn het, word tradisioneel as die grondlegger van die Afrikaanse joernalistiek in Suid-Afrika gesien. Moet die koerant as reaksionêre voorloper van die Afrikaanse joernalistiek van Afrikaner-nasionalisme en apartheid gesien word, of het dit in die konteks van die 19de eeu 'n liberale stem verteenwoordig wat sedertdien onderbeklemtoon is?
Hierdie artikel belig De Zuid-Afrikaan se redaksionele dekking van twee sleutelkwessies. Aan die een kant was daar sy (liberale) ondersteuning van persvryheid en meer selfbeskikking vir die koloniste, en aan die ander sy (konserwatiewe) houding teenoor slawerny. Die historiese nalatenskap van die koerant word herbesoek aan die hand van 'n literatuuroorsig en geselekteerde aanhalings uit die oorspronklike inhoud.
Die slotsom is dat evaluering van De Zuid-Afrikaan in die 20ste-eeuse geskiedskrywing as eenduidig reaksionêr moontlik heroorweeg moet word. Van die nuanses en teenstrydighede van die spesifieke 19de-eeuse omgewing waarin die koerant ontstaan en ontwikkel het, het dalk verlore geraak.

Trefwoorde: Afrikanernasionalisme, De Zuid-Afrikaan, geskiedskrywing, joernalis-tiek, Kaapkolonie, koerante, konserwatief, liberaal, selfregering, slawerny, Suid-Afrika, 19de eeu, 20ste eeu


ABSTRACT

The Cape colonial newspaper De Zuid-Afrikaan, which was published in 1830 for the first time, is traditionally regarded as the founder of Afrikaans journalism in South Africa. But how should its legacy be remembered? Historians of different generations seem to differ. Was the newspaper the reactionary forerunner of Afrikaner nationalism and apartheid, or must it be viewed as a liberal voice within the context of the 19th century which has perhaps been underemphasised in 20th century historiography?
This article revisits the editorial coverage of De Zuid-Afrikaan on two key issues, the emancipation of slaves in 1834 and the introduction of a representative elective government system in 1854. The newspaper was conservative towards the former issue, but liberal towards the latter.
The portrayal of the newspaper is revisited by engaging in a literature review and quoting selected passages from the newspaper.
In conclusion it is argued that past evaluations of De Zuid-Afrikaan as one-sidedly reactionary should probably be revisited, because much of the contradictions and nuances of the specific 19th century surroundings in which it was founded might have been lost in most recent versions of its history.
This probably happened because the rise of Afrikaner nationalism in the 20th century was projected backwards onto De Zuid-Afrikaan. The result is a simple dualistic view of South African newspaper history in which De Zuid-Afrikaan represents a reactionary pole and its main competitor, The South African Commercial Advertiser, a liberal one. These two poles are then seen as representative of respectively Afrikaans and English journalism as it developed in the 20th century.
A closer look at the founding and development ofDe Zuid-Afrikaan reveals a much more nuanced picture. Although the owners and editors of the newspaper were Cape Dutch in the main, it also made available its copy in English for at least seven decades. Afrikaans language nationalism in the form in which it later developed was not its aim nor its legacy to Afrikaans journalism.
It is also a mistake to view the newspaper's defence of the interests of slave owners as a precursor to the support that Afrikaans newspapers provided to apartheid. De Zuid-Afrikaan did not try to justify and promote slavery as an ideology in the way in which Afrikaans journalists did with apartheid. In the 19th century slavery was regulated and based on accepted practice. The newspaper emerged as mouthpiece for slaveowners who had legitimate interests, claims, and fears when the system was no longer acceptable, and the law changed. The case of apartheid was different: first the Afrikaans journalists created visions, and then the laws followed.
This article does not try from the moral high ground of the 21st century to whitewash the history of De Zuid-Afrikaan or present it as liberal ahead of its time. The point is that the newspaper was exactly a product of its time, and part of a greater Western movement from patriarchy to a more liberal order. Its editors were learned men who were in touch with the changes in parts of the world like France, the Netherlands, Britain and the United States of America.
The support that De Zuid-Afrikaan provided to the liberal (in its time) constitution of 1854 shows an attitude towards other members of society, white and black, which seems to differ from later incarnations of Afrikaner nationalism in the press. De Zuid-Afrikaan was part of the development of Cape liberalism, which should be distinguished from the Afrikaner nationalism of the 20th century. Perhaps the question should be addressed whether it would have been more suited to the inclusive democracy of the 21st century or the fatherland of apartheid?

Keywords: Afrikaner nationalism, Cape colony, conservative, De Zuid-Afrikaan, historiography, journalism, liberal, newspapers, representative government, slavery, South Africa, 19th century, 20th century


 

 

1. Inleiding

Die Kaapse koloniale koerant De Zuid-Afrikaan, wat in 1830 die eerste maal verskyn het, word tradisioneel as die grondlegger van die Afrikaanse joernalistiek in Suid-Afrika gesien (Rabe, 2020:74; Du Plessis, 1943:23; Bosman, 1930:3). Maar wat is sy nalatenskap presies?

Sommige historici eer De Zuid-Afrikaan as die eerste koerant wat hom 'n kenmerkende inheemse (Suid-)Afrikaanse identiteit kon verbeel en voorbrand gemaak het vir selfregering deur die koloniste, maar vir ander is dit die reaksionêre spreekbuis van slawe-eienaars en voorloper van die joernalistiek van Afrikanernasionalisme gedurende apartheid. In hierdie artikel word die historiese nalatenskap van die koerant herbesoek aan die hand van 'n literatuuroorsig en geselekteerde aanhalings uit die oorspronklike inhoud. Die tydperk ter sprake, van 1830 tot 1854, is doelbewus gekies en word hier onder verduidelik.

Eerstens is dit nodig om die agtergrond waarteen die koerant in die Kaapse koloniale samelewing aan die begin van die 19de eeu gepubliseer is, kortliks te skets. Die stelsel was outoritêr en paternalisties, maar deur die invloed van onder meer koerante het 'n liberale stroming ontwikkel. Ná die toestaan van persvryheid in 1829 was koerante soos De ZuidAfrikaan en sy vernaamste mededinger, The South African Commercial Advertiser, op die voorpunt as meningsvormers.

Die liberale stroming het uitgeloop op die afskaffing van slawerny in 1834 en die instelling van selfregering in 1854. Volgens Trapido (1990:76-77) het populêre deelname, ook deur die Nederlands/Afrikaanssprekende bevolking deur middel van koerante soos De Zuid-Afrikaan, 'n belangrike aandeel in veral laasgenoemde gehad.

De Klerk (2016:106) skryf dat met die "'liberale tradisie' wat in later jare deur akademici en politici ten opsigte van die Kaapkolonie gebruik is, het hulle dikwels veral die stemreg in gedagte gehad, maar dit het ook ingehou dat amptelik nie op rassegronde gediskrimineer is in die regstelsel en in wetgewing nie. Hierdie tradisie is nie net van Britse oorsprong nie. Reeds in die laat agtiende eeu kom daar liberale beskouinge onder leidende Kaapse koloniste voor en dit was ook die geval in die negentiende eeu".

De Klerk se verwysing bo na die oorsprong van Kaapse liberalisme het waarskynlik te doen met die tradisionele identifisering daarvan met die Britse filantropiese sendeling-beweging aan die begin van die 19de eeu, veral aangewakker deur die koms van die Britse setlaars in die 1820's. Kaapse liberalisme, skryf Trapido (1990:77), was nie soseer die toepassing van 'n vaste doktrine nie, maar die uitvloeisel van 'n proses wat in konflik gesetel en vloeibaar was en deur die ontstaan van koerante bevorder is. Hy noem dan ook spesifiek The South African Commercial Advertiser, wat in 1824 die gesag van die koloniale regering uitgedaag het en instrumenteel daarin was dat persvryheid ná 'n intense stryd in 1829 toegestaan is. Die verkryging van persvryheid was deurslaggewend vir die ontwikkeling en verspreiding van Kaapse liberalisme (Dick, 2018:399). Die stigting van De Zuid-Afrikaan in 1830 was 'n direkte uitvloeisel van persvryheid en 'n goeie voorbeeld van die gevolge daarvan.

Die rol van Britte soos John Fairbairn, Thomas Pringle en George Greig van The South African Commercial Advertiser word tereg in die annale van die mediageskiedenis verewig as baanbrekers (sien Rabe, 2020:57). Maar dat Nederlandse/Afrikaanse stemme heeltemal stil was, is nie korrek nie, al verklaar Du Plessis (1943:18) ook dat die "Afrikaanssprekendes nie deelgeneem het aan die stryd vir die vryheid van die pers nie". Meer korrek moet daar genoem word dat in die tydperk van 1824 tot 1828 verskeie publikasie-pogings deur Nederlandse koloniste aan die gang was, wat hulle om verskeie redes nie die sensuur van die goewerneur op die hals gehaal het nie. So was daar byvoorbeeld Het Nederduitsch Zuid-Afrikaanse Tydschrift van Abraham Faure in 1824 en die koerant De Verzamelaar van Josephus Suasso de Lima in 1826 (wat albei moontlik meer aandag verdien in 'n herbesoek van die Nederlandse bydraes tot die persvryheidstryd).

Teen 1829 is die Kaapstadse bevolkings aangegee as 18,296, van wie "8,805 wit, 6,222 slawe en 3,269 vryswartes" was (Dick, 2018:391). Alhoewel die meerderheid steeds Neder-landssprekendes was, was Kaapstad besig om "Brits" te raak, volgens Dick (2018:391). Hy vervolg:

That date [1829] marks, among other events, the transition of the South African Public Library from a reference or "closed access" to a subscription library, the proclamation of the ordinance that guaranteed the freedom of the press, and the revival and official establishment of the South African Literary Society. The founding of other key cultural, educational and scientific institutions underscored the spirit of the Enlightenment. These included the South African College, the South African Institution, and a theatre company. (Dick, 2018:391)

Tog moet daar gewaak word teen die indruk dat die oorsprong van Kaapse liberalisme eksklusief Brits was, maan Dick (2018:399):

We are now able to trace some of the Enlightenment print culture origins from which Cape liberalism arose. This, however, takes us further back than the 1820s and the philanthropic missionary movement. It takes us back rather to late 18th-century Cape Town, to a reading culture that collected, circulated and read the works of authors of the Enlightenment in Dutch, English, German and French, and were cited in pamphlets by Redelinghuys and others. It also takes us to the progressive reading clubs, subscription libraries, books and newspapers in the early 19th century that debated political and economic liberalism. And it takes us to the Cape countryside and to non-elite readers who could discern some of the contradictions of Cape liberalism.

Dick (2018:399) wys dus daarop dat invloede van die Europese Verligting reeds voor die koms van die Britte aan die Kaap in die leeskultuur van sommige Nederlandssprekendes te bespeur was. Hy vervolg:

The material traces of the Cape's intellectual traditions reveal liberating features beyond the so-called conservative "Nederduitse Gereformeerde Boek" tradition and the Religious Tract Society publishing programme. The early reading culture that nurtured these intellectual traditions was robust and diverse and embraced Enlightenment and liberal ideas about natural rights, progress, freedom and the general diffusion of knowledge. This story of material traces is, however, absent in extant studies of how liberalism developed at the Cape. (Dick, 2018:399)

Hierdie artikel argumenteer dat De Zuid-Afrikaan ook as een van daardie "materiële spore" van 'n teenstrydige Kaapse liberalisme gesien kan word. Die uitbeelding van die koerant in die geskiedenis word gevolglik nagespeur.

 

2. De Zuid-Afrikaan se nalatenskap

Die geskiedskrywing van De Zuid-Afrikaan word dikwels oorheers deur sy aanvanklike botsing met veral The South African Commercial Advertiser oor die kwessie van slawerny. The South African Commercial Advertiser was vaandeldraer van die humanistiese liberale sendelinge wat slawerny onmiddellik wou afskaf, terwyl De Zuid-Afrikaan die belange van slawe-eienaars verteenwoordig het.

Hachten en Giffard (1984:29), wat gedurende apartheid skryf, verwys byvoorbeeld na De Zuid-Afrikaan en verklaar: "From an early stage, then, the English press was identified with the humanitarian views of white liberals in South Africa, while the Dutch (and later Afrikaans) press represented the more conservative views of that language group." Hulle verduidelik voorts: "To the Dutch, the terms 'free press' and 'independent press' came to mean organs hostile to their philosophy and way of life" (Hachten & Giffard, 1984:29). De Zuid-Afrikaan het volgens hierdie mening in reaksie op die liberale houding van die ontwikkelende Engelse pers teenoor kwessies soos persvryheid en filantropie ontstaan en dienooreenkomstig te velde getrek.

Hierdie stroming in die geskiedskrywing is waarskynlik aangemoedig deur historici wat uit 'n Afrikanerperspektief terugskouend uit die 20ste eeu in De Zuid-Afrikaan 'n baanbreker vir Afrikanernasionalisme gesien het.

Een van die vroegste bronne wat dikwels deur latere skrywers aangehaal word, is Bosman (1930:3), wat net mooi 'n eeu ná die ontstaan van De Zuid-Afrikaan skryf en as volg uitbrei:

De Zuid-Afrikaan was die eerste verteenwoordiger op joernalistieke gebied van die Afrikaanse sienswyse teenoor die Engelse, d.w.s. uitheemse onafrikaanse, sienswyse van die nuwe inkomelinge in Suid-Afrika van sy tyd. Sy grootste teenstander, om mee te begin, was die South African Commercial Advertiser van [John] Fairbairn en die groot punt van verskil die idealisties-negrofilistiese opvattinge van die "filantropiese" party van Dr [John] Philip...Kortom, as ek my 'n politieke slagspreuk mag veroorloof (sonder om my aan enige politieke party te verbind): Die Zuid-Afrikaan is sielkundig gebore uit die beginsel "Suid-Afrika Eerste". (Bosman, 1930:3)

De Zuid-Afrikaan verteenwoordig vir Bosman (1930) 'n Suid-Afrikaanse en Afrikaanse nasionalisme en sienswyse wat verskil van die humanistiese, liberale beskouing van Britse "inkomelinge" en hul koerante en sendelinge oor veral verhoudings met swart mense. Bosman se verwysing na die slagspreuk van die Afrikanerleier JBM Hertzog ("Suid-Afrika Eerste") versterk die indruk dat hy die politieke strominge van sy eie tyd in gedagte het, desondanks sy poging om sy interpretasie van partypolitiek los te maak.

Du Plessis (1943:25), wat vir Bosman uit 1930 aanhaal oor die rol en bydrae van De Zuid-Afrikaan, skryf in dieselfde trant, maar daar is klemverskille:

Dié blad sou die Suid-Afrikaanse sienswyse vertolk; hy wou as kampvegter optree vir die koloniste. Die sluimerende vryheidsdrang by die Hollandssprekendes was dan ook die sielkundige vaderskap van De Zuid-Afrikaan. Dit is hierdie vaderskap wat "hom die duursaamheid en krag van bestaan gegee het, wat hom gemaak het tot die belangrikste blad, nie alleen in die geskiedenis van die joernalistiek in ons land gedurende die laaste 100 jaar nie, maar ek sou wil sê tot die belangrikste blad in die geskiedenis van die hele joernalistiek van Suid-Afrika tot dusver".

Du Plessis beklemtoon die "Suid-Afrikaanse sienswyse" en "vryheidsdrang by die Hollands-sprekendes", maar verwys nie na die spanning met 'n "uitheemse" beskouing van swart mense nie.

De Kock (1982:8), wat gedurende die apartheidperiode skryf, verwys ook na die rol van die koerant in die bevordering van 'n groeiende nasionalisme in die 19de eeu. Hy noem die Zuid-Afrikaan "the first newspaper to represent an embryonic African nationalism". De Zuid-Afrikaan "voiced a growing nationalistic awareness among Afrikaners which would culminate in the Taalbeweging of 1875 ". De Zuid-Afrikaan was "one of the first concerted moves by Afrikaners to resist their anglicisation" (De Kock, 1982:89). Vir De Kock staan die kwessie van taalnasionalisme dus voorop.

Amper aan die einde van die apartheidsera, beklemtoon Muller (1990:10) op sy beurt 'n Afrikanerperspektief wanneer hy die geskiedenis van De Zuid-Afrikaan as "merkwaardig" beskryf en byvoeg: "[D]warsdeur die Groot Trek het dit sulke simpatieke inligting en kommentaar oor die emigrante-boere geplaas dat goewerneur sir George Napier dit 'n vyandige, anti-Britse orgaan genoem het". Hy vermeld voorts 'n hele reeks "vooraanstaande merkwaardige Afrikaners was by hom betrokke as eienaars, uitgewers, drukkers of redakteurs" (Muller, 1990:10).

Hierdie feitlik eenparige identifisering van De Zuid-Afrikaan met die Afrikaner-nasionalisme van die 20ste eeu, word moontlik betwis deur De Klerk (2014, 2016) se meer onlangse navorsing. Hy ondersoek De Zuid-Afrikaan se standpunt oor stemreg vir bruin mense voor die totstandkoming van die Kaapse koloniale parlement in 1854, en bevind dat die koerant se redakteurs "deel [was] van 'n reeks Nederlands- en Afrikaanstalige liberale politieke denkers wat van die agtiende eeu tot vandag toe strek" (De Klerk, 2014:16).

In daardie periode "was daar geen invloedryke persone of groepe in die Kaapkolonie en Groot-Brittanje wat hulle vir 'n stemregstelsel beywer het wat vandag oor die algemeen as demokraties beskou word nie, en om te verklaar dat De Zuid-Afrikaan en die Kaapse koloniste van 1850 nie werklik 'n demokratiese stelsel voorgestaan het nie, is om hulle vanuit 'n 21ste-eeuse perspektief te beoordeel" (De Klerk, 2014:16). Sy slotsom is dus:

Vir die volgende eeu was daar geen belangrike Nederlands- of Afrikaanstalige koerant in Suid-Afrika wat 'n meer liberale beskouing oor stemreg as De Zuid-Afrikaan gehuldig het nie. Dit is trouens feitlik ondenkbaar dat 'n Afrikaanse koerant met 'n groot blanke leserstal in die 1950's 'n soortgelyke standpunt sou kon inneem. Die Nasionale Party, wat toe in Suid-Afrika aan bewind was, het 'n feitlik teenoorgestelde standpunt oor ras en stemreg gehuldig. (De Klerk, 2014:15)

In 'n ander artikel skryf De Klerk (2016:105): "liberale beskouinge was slegs in beperkte mate aanwesig onder die koloniste, sowel Engels- as Afrikaanssprekend, maar blyk...tog in hoofartikels van De Zuid-Afrikaan". Hy beklemtoon ook dat in De Zuid-Afrikaan "word die begrippe konserwatief en liberaal ook nie baie konsekwent gebruik nie..." (De Klerk, 2016:115).

Giliomee en Mbenga (2007:139) wys voorts daarop dat die gebruik van woorde soos "konserwatief" en "liberaal" in geskiedskrywing dikwels eerder die posisionering van die skrywer reflekteer as die onderwerp waaroor geskryf word.

Maar selfs al word die persoonlike ideologieë van verskillende navorsers en moontlike verskuiwings in betekenis van dié sleutelterme oor tyd heen weggelaat, is daar steeds teenstrydigheid te bespeur in bogenoemde beskrywings van De Zuid-Afrikaan se plek in die Suid-Afrikaanse joernalistiekgeskiedenis.

Hoe moet De Zuid-Afrikaan se (liberale) ondersteuning van persvryheid en meer selfbeskikking aan die een kant, en die (konserwatiewe) houding teenoor slawerny aan die ander, verstaan word? Moet die koerant as reaksionêre voorloper van die Afrikaanse joernalistiek van Afrikanernasionalisme en apartheid gesien word, of het dit in die konteks van die 19de eeu 'n liberale stem verteenwoordig wat sedertdien onderbeklemtoon is? In watter mate kan die ontstaansgeskiedenis van De Zuid-Afrikaan lig werp op die ontwik-kelingsbaan van Afrikaanse joernalistiek sedertdien?

Bogenoemde vrae onderlê hierdie artikel. Die vertrekpunt is dat sleutelmomente in die geskiedenis, soos die koerant se dekking van die afskaffing van slawerny en die selfregering-kwessie, telkens opnuut deur opeenvolgende generasies van navorsers ondersoek en belig moet word. Heelwat is al oor De Zuid-Afrikaan geskryf, maar sy nalatenskap verdien om herbesoek te word in 'n nuwe tydvak. Soos die historikus Christopher Hill sê: "History has to be rewritten in every generation because although the past does not change, the present does."1

 

3. De Zuid-Afrikaan se reaksionêre ontstaan herbesoek

Die ontstaansgeskiedenis van De Zuid-Afrikaan beklemtoon dikwels die verdelingslyne in die koloniale samelewing, met die klem daarop dat die koerant in reaksie op verskeie kwessies ontstaan het.

Eerstens word die spanning tussen Nederlandse en Engelse koloniste dikwels beklemtoon, maar daardie verhouding was moontlik meer gekompliseerd vir die koerant as wat kommentators sedertdien wou toegee.

Die eerste onafhanklike koerant, The South African Commercial Advertiser, het aanvanklik strategies probeer om verhoudinge tussen Engelse en Nederlandse koloniste te verbeter, al was dit oorwegend Engels (Streak, 1974:85). Dus is inhoud in Nederlands ingesluit as voortsetting van 'n koloniale patroon van tweetaligheid in die pers wat toe reeds gevestig was (Muller, 1990:10).

Dit is veelseggend dat De Zuid-Afrikaan hierdie tweetalige patroon voortgesit het toe dit as mededinger vir The South African Commercial Advertiser ontstaan het. Met ander woorde, sy rol as spreekbuis vir Nederlandssprekendes het nie beteken dat Engels uitgesluit moes word nie, moontlik ook om kommersiële redes. De Zuid-Afrikaan het aanvanklik weekliks verskyn en eers van 1841 af twee maal per week. Tot in die 1870's was dit 'n tweetalige blad, met een helfte in Nederlands en die ander helfte in Engels. Byna al die artikels, briewe en selfs advertensies is vertaal, sodat die Nederlandse en die Engelse bladsye feitlik dieselfde inhoud gehad het (De Klerk, 2014:2). Volgens Du Plessis (1943:25) het die inhoud van die Hollandse en Engelse hoofartikels egter soms verskil.

Die tweetalige aard van De Zuid-Afrikaan vir die eerste sewe dekades van sy bestaan verdien dus meer klem en navorsing as wat dit tot dusver gekry het.

Die veelseggende leuse op die voorblad van De Zuid-Afrikaan was afkomstig van Virgilius en op die oog af versoenend en inklusief (teenoor die wit koloniste ten minste): "Tros Tyriusque mihi nullo discrimine agetur", wat direk vertaal word as "Wat ook al hul ras, Trojane dan wel Tyriërs, by my sal daar geen onderskeid wees nie" (Du Plessis, 1943:24-25). In De ZuidAfrikaan se eie vrye Engelse vertaling het dit gelui: "Each South African has equal claim to me, whether he be Cape-born, or nurs'd beyond the sea" (Du Plessis, 1943:25).

Die posisionering van die koerant in sy eerste uitgawe is ook insiggewend. In die eerste uitgawe op 9 April 1830 verklaar die koerant in die Engelse weergawe van die hoofartikel:

In assuming the title the "Zuid-Afrikaan" we hoist a banner which shall serve as a rallying point to all Colonists, both old and new. In fact, all who inhabit this land, and derive nourishment from her bosom, are Africans, and are bound, both by duty and interest, to further the well-being, and guard the reputation of their country, and whoever wantonly attacks these, should be visited with indignant vengeance of all Africans, whether Dutch or English. (De Zuid-Afrikaan, 9 April 1830)

Die Nederlandse weergawe van die hoofartikel doen 'n oproep tot gemeenskapsbetrokkenheid wat wel blyke gee van die spanning tussen Nederlandse en sommige Engelse koloniste, maar skeer almal nie oor dieselfde kam nie:

De Engelsche kolonisten, uwe vrienden, zeggen overluid, dat gij de gulhartigste, de vreedsaamste, de geduldigste soort volk zijt onder de zon. De menschen hebben gelijk; ik beken het met nationalen hoogmoed, het is in der daad zoo; en wat vooral het geduld betreft, het is selfs te waar. Maar daar zijn andere Engelschen, alweder, die heel anders, ja, zeer hoonend over u denken, spreken en schrijven. Deze zeggen niet alleen dat gij totaal onwaardig zijt om de voorrechten van Britsche onderdanen te genieten, dewijl gij te veel vet eet, te min poortwijn drinkt, en u gansch niet met politieke saken bemoeijen; maar zij verspreiden hier en daar allerlei gerughten, die u, als een volk, zeer veel tot nadeel strekken, en die uwe onverklaarbare stilswijgenheid schijnt te regtvaardigen. (De ZuidAfrikaan, 9 April 1830)

De Zuid-Afrikaan se teenkanting teen "assimilasie" met die Engelssprekende gemeenskap word ook deur Giliomee (2004:164) beklemtoon, maar hy voeg by: die koerant het "wel gehoop dat in 'n samesmelting van die twee gemeenskappe iets van 'n besondere nasionaliteit sou oorbly". Met verwysing na die druk om te verengels het die koerant voorts erken "dat daar 'n dag sal kom wanneer die Nederlandse nasionaliteit heeltemal verdwyn het" (Giliomee, 2004:164). Die koerant word dan voorts as volg aangehaal: "Dit is 'n dwaling, wat ons reeds baie kere bestry het, dat ons as Britse onderdane verplig is om die Britse nasionaliteit ons eie te maak. Die koloniste van Hollandse oorsprong kan nie Engelsmanne word nie en ook nie Nederlanders wil wees nie" (Giliomee, 2004:164).

Die tweede spanningslyn wat deur historici in die stigtingsgeskiedenis van De ZuidAfrikaan beklemtoon word, is tussen die Nederlandse gemeenskap en die inheemse bevolking van Suid-Afrika. Ook hier is daar klemverskille in die geskiedskrywing.

In die idioom van sy tyd, kort voor die aanbreek van die apartheidbedeling, skryf Du Plessis (1943:24) die ontstaan was as gevolg van "die verset wat daar by die Hollandssprekende koloniste ontstaan het teen die rigting van John Fairbairn wat die alleen-redakteur van The South African Commercial Advertiser geword het". Hy verduidelik: "Fairbairn het in die huwelik getree met 'n dogter van die groot negrofiel, dr. Philip, die Engelse sendeling, en sy beskouings ten opsigte van die kleurvraagstuk het die grootste gedeelte van die Hollands-sprekendes teen die bors gestuit" (Du Plessis, 1943:24).

Daarenteen is die stelwyse van De Klerk (2014:2), wat uit die 21ste-eeuse post-apartheid-, demokratiese Suid-Afrika terugkyk, veel meer genuanseerd: The South African Commercial Advertiser het John Philip, hoof van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, se "humanitêre beskouinge en sy negatiewe persepsies oor die koloniste en hul verhouding met die Khoikhoi onderskryf" (De Klerk, 2014:2), wat tot die stigting van De Zuid-Afrikaan bygedra het.

Volgens Streak (1974:208) was daar "altyd 'n sterk konserwatiewe element" in die pers van die Kaapkolonie, wat beteken dat die menings van koerante soos De Zuid-Afrikaan en die Engelse The Graham's Town Journal oor die verhouding tussen wit en swart voortdurend deur praktiese eerder as idealistiese oorwegings beïnvloed is. Hierdie stelling toon aan dat die "konserwatiewe" element in die Kaapse koloniale pers nie tot De Zuid-Afrikaan beperk was nie, 'n onderwerp wat moontlik nog meer navorsing verdien.

 

4. Die redakteurs in die geskiedenis

De Zuid-Afrikaan is vooruitgeloop deur 'n bankrotskap. Sy voorganger was die koerant De Verzamelaar (1826-1830), wat deur Josephus Suasso de Lima uitgegee is. Toe laasgenoemde se saak ten gronde gaan, het Pieter van Breda die drukpers oorgeneem, en met CN Neethling as uitgewer en CE Boniface as eerste redakteur het De Zuid-Afrikaan die lig gesien (Du Plessis, 1943:24). Gedurende die eerste jaar het De Zuid-Afrikaan finansieel gesukkel, maar in April 1831 het "tagtig vermoënde koloniste 'n maatskappy op die been gebring wat die voortbestaan van die blad verseker het" (De Klerk, 2014:2). Volgens Botha (1982:25) is dit onduidelik wie die aanvanklike beleggers was, maar "kontemporêre skrywers bied die volgende kortlys aan": CJ Brand, J de Wet, J Hofmeyr, CN Neethling, ML Neethling, PA Brand, A Faure en P van Breda.

Historici blyk onseker te wees hoeveel invloed van die betrokke individue aan die stuur van De Zuid-Afrikaan uitgegaan het. De Klerk (2014:3) se standpunt, wat aanvaar word, is as volg:

Dalk het meer as een skrywer tot sommige van die artikels bygedra. Dit is nie moontlik om vas te stel wie vir 'n bepaalde redaksionele artikel verantwoordelik was nie, en daar moet aanvaar word dat elke hoofartikel die standpunt van die blad en sy redakteur verteenwoordig.

Die redakteurskap van De Zuid-Afrikaan het veral aan die begin gereeld gewissel. Volgens De Klerk (2014:2) het dit soos volg verloop: Ná Boniface, van April tot Oktober 1830, was dit RJ Stapleton, van Oktober 1830 tot April 1831, en toe CN Neethling, van April tot Julie 1831. Daarna was daar langer termyne: PA Brand, van Julie 1831 tot Julie 1839, CJ Brand, van Julie 1839 tot September 1845, en JJH Smuts, van 1845 tot 1871. Hoewel daar tussen 1830 en 1854 dus ten minste ses redakteurs aan die stuur van De Zuid-Afrikaan was, het die meeste invloed waarskynlik uitgegaan van die langsdienende laaste drie. Maar in die geskiedskrywing het ten minste een kort termyn reg aan die begin baie aandag gekry en opeenvolgende generasies van skrywers beïnvloed.

Boniface, die eerste redakteur, was die onderwerp van 'n boek deur GS Nienaber (1939) genaamd Van roem tot selfmoord. Daarin word Boniface se invloed as volg uitgespel:

Met Boniface se aftrede verloor die hoofartikels ook duidelik hul direktheid van toon, die persoonlike kontak. Hulle word minder gesprekke van 'n hom die meerdere voelende leraar wat met sy kinders, die publiek, die "goede Zuid-Afrikanen" gesels en hulle meer prikkel deur kritiek as lei deur simpatie. Boniface se styl is bombasties, sy werk is deurspek met verwysings en toespelings op die klassieke, maar by dit alles skryf hy besonder dramaties en lewendig; hy personifieer graag die abstrakte en hou van die dialoogvorm. Wanneer hy dit het oor publieke sake en dit enigsins vertroebeld sien, kan hy besonder skerp wees oor tekortkominge. Hy blameer graag, is selde versoenend, en prys met voorbehoud. As hy oor persoonlike houding gesels, kan hy erg banaal wees, en stig dan alleen...die koesteraar van haat en laster. Hy is nooit humoristies nie, selde droogkomies, meestal sarkasties-pessimisties. Hy weet altyd beter, en het alleen geen Humbug, hoewel sy voorliefdes die onskuldigste nie is nie. Want hy wil altyd hervorm, terwyl hy in die reël vervorm. Waar hy loop en sy gedagtes saai, tier die onkruid van onverdraagsaamheid, laster, agterdog. Vir hom is niks heilig nie, uitgenome sy hoogdunkenheid. Sy vyande vergeet hy nooit en om hulle swart te smeer is alles geoorloof. (Nienaber, 1939:58)

Nienaber was duidelik geïnspireer deur Boniface, en sy samevatting suggereer dat 'n betrokke redakteur 'n groot invloed op 'n koerant kan uitoefen, maar aan die ander kant moet onthou word dat Boniface slegs vir die eerste ses maande die redakteur van De Zuid-Afrikaan was. Maar Boniface leef voort omdat hy in die eerste uitgawe van die koerant 'n stelling gemaak het wat onsterflike roem in die geskiedskrywing verwerf het. Die woord "Humbug" in die aanhaling bo verskaf 'n aanduiding, want Boniface het geskryf:

Alle Vrydagen [wanneer die koerant verskyn] zal ik 'n kleine Les geven, bestaande uit een Humbug of twee-drie - die gy uit hoofd zul leeren, en waarvan ik u de week daarna eene explicatie geven zal. Gy weet immers reeds wat humbug beteken: het is wat men op zyn plat-kaapsch-hollandsch noemt...[woord hier uitgelaat]. Maar wat heb ik nodig om u dit te vertellen; gy hebt zedert die jaar 1806 tyd genoeg gehad om u met dit woord en deszelfs beteken gemeenzaam te maken. Dierhalven aanstaande week zullen wy beginnen met FREE PRESS humbug - INDEPENDENT NEWSPAPER humbug - MISSIONARY humbug, en vooral (want dit is de paramount of non plus ultra van alle humbugs) de PHILIPISH humbug. (De Zuid-Afrikaan, 9 April 1830)

Hierdie aanhaling word deur eeue heen feitlik elke keer gebruik wanneer daar na die geskiedenis van De Zuid-Afrikaan verwys word. Mees onlangs is daar byvoorbeeld Rabe (2020:77) in verwysing na De Kock (1982:88):

It [De Zuid-Afrikaan] promised to expose various kinds of "humbugs" to which the colonists have been exposed since the British take-over in 1806. The first "humbugs" were "the FREE-PRESS humbug, INDEPENDENT NEWSPAPER humbug, MISSIONARY humbug", and especially (because this is the paramount or non plus ultra of all humbugs) the "PHILIPPINE humbug" (referring to [John] Philip).

As daar in ag geneem word dat Boniface duidelik 'n enigmatiese, eksentrieke karakter was, ontstaan die vraag of hierdie aanhaling alleen genoeg is om De Zuid-Afrikaan se reaksionêre status sedertdien te regverdig?

Die rede vir die deeglike historiese aandag aan Boniface is waarskynlik geïnspireer daardeur dat hy benewens eerste redakteur, ook 'n kleurryke en omstrede kunstenaar-skrywer in eie reg was. Sy kort termyn by De Zuid-Afrikaan was maar 'n onderdeel van sy invloed op die Kaapse literêre toneel. Boniface was 'n Fransman wat nie Engels of Nederlands kon praat toe hy in 1807 in die Kaap aangekom het nie, maar spoedig albei bemeester het (Du Plessis, 1943:26-27). Boniface het eers sy hand aan toneel gewaag en ook taalonderrig in Duits, Frans, Spaans, Portugees, Italiaans, Grieks en Latyn gegee voordat hy by De Zuid-Afrikaan betrokke geraak het. Du Plessis (1943:27) vervolg:

Die verafrikaanste Fransman was ongewoon buitengewoon knap en begaafd; hy was geleerd, het 'n kunstenaarsaanleg gehad en het oor 'n groot werkkrag beskik, maar hy was opvlieënd van aard en was te persoonlik om leiding te kon gee as redakteur van 'n nuusblad...Hy het links en regs aanstoot gegee en moes binne ses maande padgee.

De Klerk (2014:4) noem voorts dat De Zuid-Afrikaan onder die redakteurskap van Boniface hom "sterk uitgespreek [het] teen die beleid van Philip en ander sendelinge teenoor, veral, mense van Khoikhoi herkoms".

Oor Stapleton, Boniface se opvolger, is daar daarenteen min bekend. Daar word genoem dat hy voor sy betrokkenheid by die koerant leier van 'n Engelse toneelgeselskap was en ook 'n versameling met Engelse gedigte aan die Kaap uitgegee het (Du Plessis, 1943:27-28). Die "onafrikaanse" agtergrond van Stapleton as aanstelling val ietwat vreemd op as die posisio-nering van De Zuid-Afrikaan van die begin af so reaksionêr sou wees as wat historici gewoonlik aandui. Die redes vir Stapleton se vertrek ná net ses maande is ook nie duidelik nie, maar Du Plessis (1943:27-28) verwys na twee moontlikhede: Sy beskouings was te "negrofilisties" vir die eienaars en lesers; asook sy deelname aan 'n regsgeding wat teen hom beslis is. Veral eersgenoemde opsie word daarna gereeld deur skrywers aangevoer.

De Klerk (2014:4) verwys na 'n gematigde uitspraak in De Zuid-Afrikaan teenoor anderskleuriges gedurende Stapleton se termyn: "Er bestaat positief by ons een Christelyk en menschlievend gevoel, voor de gekleurde Ras die wy achten", maar daar bestaan tegelykertyd "eene nieuw modische zoogenoemde mensch lievendheid, die wonderen konden uitwerken, maar zyne krachten uitput met schuim bekkend te praten" (De Klerk, 2014:4).

Oor CN Neethling, die uitgewer, wat daarna kortstondig as redakteur waargeneem het, is min bekend. PA Brand se termyn as redakteur, wat op 29 Julie 1831 begin het, verteenwoordig 'n draaipunt. Van hierdie datum af word PA Brand benewens redakteur ook aangedui as uitgewer, eienaar en drukker van De Zuid-Afrikaan (Botha, 1982:25).

In 1832, tydens die redakteurskap van PA Brand, is De Zuid-Afrikaan ten gunste van 'n beleid om die "Naturellen", waarmee veral die Khoikhoi bedoel word, "uit hunnen ruwen en onbeschaafden toestand, in eene beschaafde zamenleving te brengen" en hulle in die geleentheid te stel om "vatbaar te worden voor eene maatschappelyke zamenleving, ten einde eenmaal en op zynen tyd met ons allen gezamenlyk Burgers eener Maatschappy uit te maken, die de pligten van elken Burger gevoelen niet alleen, maar ook zouden kunnen vervullen" (De Klerk, 2014:4).

Daar is minder bekend oor PA Brand as oor sy talentvolle broer, CJ Brand, maar albei word as "vurige patriotte" beskryf (Du Plessis, 1943:28). In 1839 neem CJ Brand die redakteurskap by sy jonger broer oor, terwyl laasgenoemde uitgewer bly.

Die invloedryke CJ Brand het 'n doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Leiden behaal en was een van die oprigters van die koerant (De Klerk, 2014:3). Hy was "waarskynlik reeds voor hy redakteur geword het betrokke by die bepaling van die blad se beleid en die skryf van hoofartikels, veral in die periode toe P.A. Brand, toe nog in sy twintigerjare, redakteur was" (De Klerk, 2014:3).

CJ Brand was die eerste speaker van die Kaapse parlement in 1854 en is later tot Britse ridder geslaan. Nietemin word hy dikwels as 'n soort prototipe Afrikanernasionalis voorgestel (sien Botha, 1982). Sy ondersteunende houding teenoor die emigrasie van boere uit die Kaapkolonie in die 19de eeu, later bekend as die Groot Trek, het waarskynlik baie daarmee te doen. Die volgende aanhaling uit 'n brief wat Brand op 13 Julie 1839 aan die Voortrekkerleier Andries Pretorius geskryf het, dien as getuienis vir sy houding:

Ik ben zedert enige maanden de vaste Editeur geworden van onze Vaderlandsche Courant "De Zuid-Afrikaan". Ik heb uw Journal, met allen stukke daarbij, welke ik ontvangen heb, in de Courant geplaatst, en ik zend u hiernevens twee couranten van den 7 en 14 Juny, opdat gij kunt zien hoedanig dezelve wordt opgenomen...Als Afrikaander, die belang in zijne uitgewekene bondgenoten stelt en deel neemt in hun lot, wensch ik uwe belangens in mijn blad te verdedigen, en daartoe verlang ik dat gij mij van tijd tot tijd met uwe omstandighede bekend maakt. (Uit "Boustowwe vir Kerkgeskiedenis", 1930 - aangehaal deur Du Plessis, 1943:31.)

Die lang termyn van JJH Smuts het in 1845 begin. Smuts is in Nederland gebore, hoewel "albei sy ouers Afrikaners was" (Du Plessis, 1943:29). Du Plessis skryf: "Hy [Smuts] het veral die stryd gevoer teen John Fairbairn en die Advertiser, maar het hom saam met Fairbairn, Godlonton en ander Engelse redakteurs ten kwaaiste verset teen die owerheid tydens die Anti-Bandiete-agitasie en het saam met hulle geveg vir verteenwoordigende bestuur" (Du Plessis, 1943:29-30).

Laasgenoemde opmerking dui aan dat die redaksionele posisionering van De Zuid-Afrikaan oor kwessies soos slawerny en selfregering ook nie heeltemal losgemaak kan word van die ander politieke konteks waarin die koerant standpunt ingeneem het nie. Gebeure en kwessies soos die Groot Trek en teenstand teen voorstelle om veroordeelde Britse gevangenes na die Kaap te stuur (soos na Australië), het tot wisselende standpunte in en veranderende verhoudings tussen die Kaapse koerante gelei. Die Nederlandse en Engelse koloniste en die koerante wat hulle verteenwoordig het, is gevolglik soms rondom gemeenskaplike kwessies saamgesnoer.

Vervolgens word die redaksionele dekking in De Zuid-Afrikaan van twee sleutelkwessies, die vrystelling van slawe in 1834 en die instel van selfregering in 1854, in meer besonderhede bespreek.

 

5. Die afskaffing van slawerny2

De Zuid-Afrikaan se posisionering teenoor slawerny moet in die konteks van 'n lang geskiedenis gesien word.

Slawerny was die hoof-arbeidsisteem in die Kaapkolonie sedert die 17de eeu en 'n belangrike bepalende faktor in die sosiale struktuur. Koloniste het dit oor die algemeen aanvaar en volgens hul beginsels verdedig. Maar teen die begin van die 19de eeu het veranderende ekonomiese realiteite en nuwe ideologiese strominge uit veral Brittanje tot oproepe om die vrystelling van alle slawe in sy kolonies gelei.

Gebeure in die Britse ryk as geheel het op die Kaap se slawe-ekonomie ingespeel. In 1808 is slawehandel in die Britse kolonies beëindig, wat momentum aan die vrystellingsbeweging gegee het. Die afskaffing van die slawehandel deur Brittanje het filantrope daar oortuig dat hulle slawerny as sodanig kon beëindig, ook in die Kaapkolonie (Streak, 1974:5). Intussen is wetgewing aangepas om die omstandighede van slawe te verbeter en hulle op vrystelling voor te berei deur onder meer opvoeding.

'n Amptelike slawebeskermer, met assistente in die buitedistrikte, is in 1826 aangestel om regulasies af te dwing. Die reg van slawe om hul vryheid te koop is deur 'n ordonnansie in dieselfde jaar toegestaan, waarna die Cape of Good Hope Philanthropic Society in 1828 gestig is om slawe en hul kinders daarin by te staan.

In 1826, nog voordat De Zuid-Afrikaan opgerig is, het die regsgeleerde CJ Brand, later mede-oprigter en redakteur, reeds 'n aandeel gehad aan "die beskerming van die belange van slawe-eienaars" deur op 'n komitee te dien wat vertoë tot die koloniale regering gerig het oor die afkondiging van Ordonnansie No. 19 (Botha, 1982:29). Dié ordonnansie wou die lot van slawe verbeter, maar slawe-eienaars het kapsie gemaak omdat hulle nie in die opstel daarvan geken is nie. Dit word nietemin van krag en verdere regulasies volg in 1830. Intussen word De Zuid-Afrikaan gestig en die koerant berig uitvoerig oor die slawekwessie, insluitende openbare uitsprake van Brand, wat betrokke bly by petisies en protesbyeenkomste.

Kort ná sy ontstaan was De Zuid-Afrikaan betrokke by wat al "die eerste perspolemiek" in Suid-Afrika genoem is (Giliomee & Mbenga, 2007:97). Die koerant het standpunt ingeneem teenoor die liberale The South African Commercial Advertiser, wat ten gunste was van die onmiddellike afskaffing van slawerny in die Kaapkolonie. De Zuid-Afrikaan het op sy beurt die belange van slawe-eienaars verteenwoordig, wat onder meer aangedring het op selfregering as voorwaarde vir die vrystelling van hul slawe (sien De Klerk, 2014; 2016).

Daarenteen het oproepe om onmiddellike vrystelling uitgegaan van John Fairbairn, redakteur van The South African Commercial Advertiser, wat sterk bande met die anti-slawerny-beweging in Brittanje behou het. Hy het die humanitêre en ekonomiese voordele van die afskaffing van slawerny in verskeie artikels bepleit, maar ook gevra dat slawe-eienaars billike kompensasie moes ontvang en dat die oorgang ordelik, wetlik en sonder ekonomiese ontwrigting moes geskied.

Die meerderheid koloniste, baie van hulle slawe-eienaars, het Fairbairn se argumente teengestaan, maar wetgewing uit Londen het die gesag van meesters oor slawe verder ingekort. In 1830 en 1832 is bepaal dat eienaars rekord moes hou van straf aan hul slawe. Dit het ook die magte van die slawebeskermer uitgebrei om koloniste wat oortree het, te vervolg.

Op 25 Februarie 1831 publiseer De Zuid-Afrikaan, "sonder enige kommentaar, 'n versoek van Christoffel [CJ] Brand en negentien ander slawe-eienaars vir die hou van 'n vergadering vir die stigting van 'n komitee om maatreëls te oorweeg vir die voorlegging aan die regering tot die verbetering van die lot van slawe en die uiteindelike afskaffing van slawerny" (Botha, 1982:30). Maar die versoek word geweier.

(1979:162-168), aangevul deur Giliomee & Mbenga (2007:89-93) en Cameron & Spies (1991:8184).

Slawe-eienaars was ontevrede omdat wetgewing sonder konsultasie met hulle deurgevoer is. Hul argument was dat as 'n vorm van verteenwoordigende plaaslike regering toegestaan word, sou hulle die omstandighede van slawe self verbeter en hulle uiteindelik vrystel. Die owerhede was egter skepties oor hierdie opsie.

In sy regshoedanigheid staan Brand in April 1831 'n groep Stellenbosse burgers by wat weens oproerigheid oor slaweregulasies voor die hof gedaag word. De Zuid-Afrikaan van 28 April 1831 en 6 Mei 1831 berig dat die saak wye belangstelling onder die koloniste ontlok en "tussen 400 en 500 belangstellende burgers uit omliggende streke" lok (Botha, 1982:30). Botha (1982:30) vervolg: "Die burgers se optrede by hierdie geleentheid, en De Zuid-Afrikaan se weergawe daarvan, bied aan The South African Commercial Advertiser die geleentheid om De Zuid-Afrikaan te kritiseer en daarvan te beskuldig dat hy die burgeroptrede probeer regverdig."

Die volgende stap in die protes teen slawewetgewing was 'n memorie aan die koning en Britse parlement waarin voorgestel word dat "die dag waarop 'n verteenwoordigende wet-gewende vergadering aan die Kaap toegeken word, die begin sal aandui van die vrystelling van alle slawemeisies en hul nasate ná die datum gebore" (Botha, 1982:30). The South African Commercial Advertiser ondersteun die plan om "slawerny trapsgewys uiteindelik af te skaf", maar "met sekere voorbehoude, veral ten opsigte van kompensasie", wat tot 'n meningsverskil met De Zuid-Afrikaan lei (Botha, 1982:31).

Volgens De Klerk (2014:4) is daar in 'n hoofartikel in De Zuid-Afrikaan van 2 Maart 1832 geskryf dat daar "geen Schepsel [is] met reden begaafd en die een menschelyk hart in zynen boezem draagt, indien hy ten minste den invloed eeuw van verlichting gevoelt, of hy zal erkennen, dat vrye arbeid veel wenschelyker...is dan slaven arbeid". De Zuid-Afrikaan wou "egter nie sien dat die beginsel van eiendomsreg aangetas word nie en gee in latere artikels heelwat aandag aan die probleme rondom slawevrystelling en kompensasie vir slawe-eienaars" (De Klerk, 2014:4).

'n Groep boere van 105 Koeberg verklaar op 25 Mei 1832 dat "hul natuurlike reg hulle sal dwing om hul mense en eiendom te beskerm indien slawewetgewing inbreuk maak op hul persoonlike vryheid, eiendomsreg en sekuriteit" (Botha, 1982:31). The South African Commercial Advertiser was veral ontsteld oor die "konserwatiewe menings" van De ZuidAfrikaan toe dit ondersteuning gegee het aan die Koeberg-boere wat sekere voorwaardes gestel het voordat hulle die vrystelling van slawe sou aanvaar (Streak, 1974:138). The South African Commercial Advertiser het gesê De Zuid-Afrikaan "mislei" die boere en het hulle daarvoor blameer dat die "vooruitsig op selfregering vernietig is" (Streak, 1974:139). As 216 Nieuwe-veldse boere ook nog verklaar dat hulle sekere aanmerkings oor die slawe-ordonnansies in De Zuid-Afrikaan gelees het, maar nie die oorspronklike ordonnansie nie, en gevolglik van voorneme is om sekere bepalings nie te gehoorsaam nie, is die beskuldiging deur The South African Commercial Advertiser seker te begrype as hy beweer dat De Zuid-Afrikaan die ingesetenes "mislei" (Botha, 1982:31).

In Augustus 1832 word 'n bevel-in-rade uitgereik waarvolgens slawebeskermers die reg verkry om landgoedere en slawewoonkwartiere te eniger tyd te besoek, terwyl die werkdag tot ses uur verminder word (Botha, 1982:31). Hierdie bevel lei tot 'n versoek van 72 slawe-eienaars om 'n vergadering te belê om die maatreëls te bespreek, wat op 24 Augustus 1832 in De Zuid-Afrikaan gepubliseer word (Botha, 1982:31-32).

Die uitvloeisel hiervan is "een van die grootste byeenkomste in Kaapstad, op 17 September 1832, wat deur bykans 2000 slawe-eienaars bygewoon word". Hier neem CJ Brand weer leiding en sy toespraak word in De Zuid-Afrikaan van 28 September 1832 opgeneem. Daarin argumenteer hy die slawe-maatreëls maak "inbreuk op die reg van iedere huiseienaar" en is 'n "inkwisisie" (Botha, 1982:32). Hy maak beswaar dat vorige vertoë geïgnoreer en deur verdere regulasies opgevolg is, en kritiseer "eensydige beskerming" van Britse kant, want volgens hom word slegs die slawe beskerm en nie die eienaars nie. Brand word as volg aangehaal: "Men beschuldigd ons Afrikanen dat wy kwaadaardigen beulen zyn, Neen Myneheeren die aanwrywing is valsch." Hy vra dat almal, ook die Britte, hulle kom vergewis "dat onze slaven het beter hebben als vele, ja zeer vele vrye Britsche Burgers" (Botha, 1982:32). Botha (1982:32) interpreteer Brand se standpunt as 'n uitdrukking van Afrikaneridentiteit:

Brand openbaar 'n sterk anti-regeringstandpunt en 'n patriotiese gevoel wat 'n Afrika-nergroepbewustheid duidelik laat blyk. In sy aanspraak vra hy om eerder sonder wette te wees as dat slawewette aan hul opgedwing word. Beraadslagings oor die belange van hul vaderland loop op niks uit nie.

Fairbairn van The South African Commercial Advertiser het mettertyd De Zuid-Afrikaan se "verbintenis tot die hervorming en afskaffing van slawerny openlik begin bevraagteken" (Giliomee & Mbenga, 2007:97). Hulle vervolg:

Dit word toe 'n kaalvuisgeveg. De Zuid-Afrikaan en die Commercial Advertiser se politieke verskille het in 'n etniese stryd tussen Afrikaner- en Engelse koloniste verander. Die Nederlandse koerant het "Engelse skynheiligheid" veroordeel en betoog dat afskaffers die onmenslikheid van slawe-eienaars gedurig beklemtoon, maar vergeet van die groot winste wat hul eie voorsate uit die slawehandel gemaak het. (Giliomee & Mbenga, 2007:97)

Nadat die Vrystellingswet in 1833 in die Britse Parlement goedgekeur is, was slawe-eienaars veral besorg oor die waarde van kompensasie en die manier waarop dit verdeel sou word. Ondanks die protes en teenstand deur slawe-eienaars, word in Januarie 1834 bekend gemaak dat slawerny op 1 Desember 1834 in die Kaapkolonie afgeskaf sou word. Botha (1982:33) skryf die "metode van afskaffing het nog eens reaksie ontketen by veral die Afrikaners en spoedig word die gebruiklike modus operandi gevolg naamlik 'n openbare byeenkoms en 'n memorie aan die regering".

Op 'n vergadering op 22 Maart 1834 word kompensasie bespreek, wat tot verdere onmin en ongelukkigheid lei "aangesien veral die Afrikaanssprekende deur die onvoldoende kompensasie groot kapitaalverliese gely het" (Botha, 1982:33). Die "uiteindelike afskaffing van slawerny aan die Kaap ontneem die boer sy arbeid, terwyl die aantal landlopers toeneem en boerderybedrywighede ernstig belemmer word" (Botha, 1982:33). Die boere dring aan op 'n "landloperwet", maar die Britse regering veto dit.

Oor die volgende openbare vergadering, op 8 Oktober 1834, berig De Zuid-Afrikaan op 10 Oktober 1834. Hierdie vergadering om oor 'n voorgestelde verteenwoordigende wetgewende raad te praat, "lewer 'n ernstige konfrontasie tussen Engelssprekende en Afrikaner op", want die "verwydering wat reeds ingetree het vanweë die onderskeie standpunte soos enersyds verteenwoordig deur De Zuid-Afrikaan en andersyds deur The South African Commercial Advertiser, kulmineer en vind uiting in beskuldigings van 'n anti-Britse gevoel by die Afrikaners" (Botha, 1982:34).

Die verskil tussen die groepe en koerante kry ook 'n persoonlike element by toe die vergadering luidkeels 'n voorstel verwerp dat Fairbairn tot die komitee moet toetree wat hierdie kwessie verder moet ondersoek, terwyl Brand, wat 'n leidende rol op die vergadering gespeel het, reeds lid daarvan was. Botha (1982:34) skryf:

Veral ná die vergadering van 8 Oktober is die beskuldigings van The South African Commercial Advertiser veel heftiger. Hierdie aantygings bly nie net by dié van misleiding deur die koloniste deur De Zuid-Afrikaan nie, maar word nou ook op persoonlike vlak geprojekteer sodat die manne agter De Zuid-Afrikaan [soos Brand] die skyf vir aanvalle word.

Op sy beurt weerlê De Zuid-Afrikaan in sy hoofartikels Fairbarin se "aantygings en pogings om verwydering te bring tussen Engels- en Afrikaanssprekendes, terwyl ook Brand se optrede verantwoord word" (Botha, 1982:35). Fairbairn se "dwaling" word voorts aan "persoonlike en private griewe" toegeskryf (Botha, 1982:35).

Slawerny is formeel op 1 Desember 1834 in die Kaapkolonie afgeskaf, maar slawe was nog vir die volgende vier jaar by eienaars ingeboek. Vryheid van beweging en die reg om op 'n loon aan te dring het eers in 1838 in werking getree.

De Zuid-Afrikaan verklaar in 1837 "dat die vrygestelde slawe wat na 1834 nog vir vier jaar as arbeiders by hul meesters ingeboek is oor die algemeen 'n vreedsame gesindheid aan die dag lê en dat diegene wat reeds hul 'volledige emancipatie' verkry het hul tans 'in het volle genot onzer burgerlyke regten en previlegien' bevind" (De Klerk, 2014:4).

Die Britse regering het die geskil tussen die koerante en hul ondersteuners "ernstig genoeg opgeneem om selfregering meer as twee dekades te vertraag", volgens Giliomee en Mbenga (2007:97). Giliomee en Mbenga (2007:97) voeg by: "Al dié weerlig en donderweer het oplaas gaan lê. Daar was meer dinge wat Engelse en Afrikaners saamgesnoer as uitmekaar gedryf het. Na alles was hulle maar 'n baie klein wit minderheid in 'n kolonie met 'n groot slawe-bevolking en 'n onveilige oosgrens."

 

6. Die toestaan van selfregering in 18543

Soos die bespreking bo aangetoon het, moet die posisionering van De Zuid-Afrikaan teenoor die afskaffing van slawerny in samehang met ander sleutelkwessies van die tyd gesien word. Een van die belangrikstes was selfregering.

Nadat die Kaap in 1806 'n Britse kolonie geword het, was die mag (steeds) oorwegend in die hande van 'n outokratiese goewerneur gesetel. Reeds voor die stigting van De ZuidAfrikaan in 1830 het koloniste hulle beywer vir 'n verteenwoordigende wetgewende regering, maar die Britse regering weier om verskeie redes, soos dat "die gekleurde bevolking nie in staat sou wees om hom te beskerm teen 'n blanke-gedomineerde wetgewende mag nie" en dat dit tot 'n direkte konfrontasie tussen Engels- en Afrikaanssprekendes kon lei (Botha, 1982:75). Soos bo aangedui, was daar ook twyfel of die koloniste werklik slawevrystelling sou deurvoer. Op hulle beurt het die koloniste selfregering as voorwaarde vir die vrystelling van slawe voorgestel.

Konstitusionele vordering was dus langsaam, en eerstens die gevolg van hervormings in die groter Britse ryk wat ook in die Kaap neerslag gevind het. In 1829 word persvryheid toegestaan. Die Britse Reform Bill van 1832 het aan die Kaap gelei tot die vrystelling van slawe in 1834, die instelling van 'n Wetgewende Raad bestaande uit vyf amptenare en vyf tot sewe benoemde koloniste in 1834, en ordonnansies oor plaaslike bestuur van 1836.

De Zuid-Afrikaan het hom "feitlik vanaf sy oprigting beywer vir die instelling van 'n wetgewende liggaam waarvan die lede deur die inwoners van die kolonie verkies word" (De Klerk, 2014:1). CJ Brand, wat 'n leidende rol in die protes teen die slawevrystellingsproses gespeel het, neem in 1839 die redakteurskap van De Zuid-Afrikaan by sy broer, PA Brand, oor. PA Brand bly die eienaar van die koerant, en JJH Smuts word die drukker en uitgewer (Botha, 1982:44). In sy nuwe pos laat CJ Brand geen geleentheid verbygaan om selfregering in De Zuid-Afrikaan te propageer nie (Botha, 1982:77).

Die slawevrystelling het weliswaar een van die vorige besware teen meer selfbestuur uit die weg geruim, maar kommer het steeds bestaan oor die lot van inheemse bevolkingsgroepe onder koloniale selfregering. Die inwoners van die kolonie was in verskillende groepe en klasse verdeel en 'n eie wetgewende liggaam kon daartoe lei dat die wit koloniste mag oor die bruin en swart groepe sou verkry.

Onder die teenstanders was Fairbairn van die South African Commercial Advertiser, wat aanvanklik ten gunste van selfbestuur was, maar hom teen 1832 teen selfbestuur uitgespreek het juis omdat hy die mening van sendelinge hieroor onderskryf het. Die humanitêre groepe het egter algaande invloed verloor en die Britse leiers het begin besef hulle het die koloniste nodig in die bestuur van die kolonie. In 1840 het Kaapstad munisipale bestuur gekry. Stemreg is beperk tot eiendomsbesitters en -huurders op 'n sekere vlak, maar nie volgens rassekriteria nie.

In teenstelling met "die vernaamste koloniale amptenare en leiersfigure onder die koloniste" wat 'n hoë eiendomskwalifikasie gevra het, het De Zuid-Afrikaan 'n lae eiendomskwalifikasie voorgestaan en as "vernaamste argument daarvoor aangevoer dat bruin mense anders feitlik heeltemal van stemreg uitgesluit sou wees" (De Klerk, 2014:16).

De Zuid-Afrikaan het "die standpunt gehuldig dat beskawingsverskille tussen die blanke en die bruin inwoners geleidelik sou verdwyn en dat die getalsverhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe dan nie meer van belang sou wees nie" (De Klerk, 2014:16). Die moontlikheid "dat die grense van die kolonie verskuif word om Bantusprekende groepe in te sluit, is wel voorsien, maar het nie veel aandag in die koerant se besprekingsartikels gekry nie" (De Klerk, 2014:16). Die blad was "van mening dat ook hierdie groepe geleidelik tot die beskawingsvlak van die inwoners van Europese oorsprong gebring sou kon word" (De Klerk, 2014:16). De Klerk vervolg:

Dit blyk tans, 160 jaar later, dat die beskawingsverskille beslis nog nie heeltemal verdwyn het nie. Die konsep van 'n verskil tussen beskaaf en onbeskaaf, wat deur De Zuid-Afrikaan duidelik in noue verband gesien is met die verskil tussen Westers en nie-Westers, word tans egter nie meer so geredelik aanvaar as wat in daardie tyd die geval was nie. (De Klerk, 2014:16)

Die besluit van die Britse regering in 1848 om 'n skip, die Neptune, met 300 Britse bandiete na die kolonie te stuur, het tot 'n massabeweging in Kaapstad gelei, waarin stemme uit die verskillende faksies in die kolonie, ook Engelse en Nederlandse koerante, saamgesnoer is. Die regering moes onder druk afsien van sy plan om bandiete hier te vestig, en die beweging na selfregering het 'n hupstoot gekry.

'n Konsepwet in 1848 het lae eiendomsvereistes vir stemreg aanbeveel, onder andere ondersteun deur CJ Brand en Fairbairn (wat intussen van plan verander het oor die wenslikheid van selfregering). Maar binne die kolonie was daar ook steun vir 'n hoë eiendomskwalifikasie, wat beheer aan 'n kleiner elite-groep onder die wit koloniste sou verseker. Twis onder die koloniste het uitgekring en tot talle insidente en vertragings gelei, voordat 'n nuwe Liberale Britse kabinet in 1853 die Grondwet vir die Kaapkolonie met die laer stemregkwalifikasies goedgekeur het.

Toe die Britse regering in 1853 'n Grondwet vir die kolonie goedkeur met insluiting van 'n lae eiendomsvereiste vir stemreg, "het die blad [De Zuid-Afrikaan] die Grondwet verwelkom as 'liberaal bo verwagting' en die hoop uitgespreek dat in die nuwe parlement oorwegings van klas of kleur geen rol sal speel nie" (De Klerk, 2014:16).

Die stemregvereistes wat vir die verkiesing in 1854 aanvaar is, was dat elke meerderjarige manlike Britse onderdaan wat nie aan sekere misdade skuldig bevind is nie, vir stemreg kwalifiseer as hy vir twaalf maande of langer 'n eiendom ter waarde van ten minste £25 bewoon het of anders 'n loon van ten minste £50 per jaar verdien.

Ras was dus nie 'n uitsluitende faktor nie, maar geslag wel: slegs mans wat aan die eiendomsvereiste voldoen het, kon stem. Diegene anderkant die Keiskamma-rivier, toe die oosgrens, kon nie stem nie, met ander woorde die meerderheid Xhosas is ook uitgesluit.

Die stemregstelsel waarvolgens die eerste parlementêre verkiesing in die Kaapkolonie in 1854 gehou is, kan "as die liberaalste in die Britse ryk van daardie tyd beskou...word", volgens De Klerk (2014:1). De Klerk (2014:16) verklaar: "[L]iberale politieke beskouinge aangaande die verhoudinge tussen die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika het tussen 1854 en 1994 waarskyn-lik nooit so 'n sterk invloed op Afrikaners gehad as in die jare wat die instelling van die Grondwet van 1853 voorafgegaan het nie."

Die geskiedenis van hierdie eerste nierassige parlement vir die kolonie word volgens Trapido (1990:76) onderbeklemtoon in Afrikanergeskiedskrywing omdat dit as 'n uitvloeisel van Britse imperialisme gesien word. Giliomee (2004:163) meen op sy beurt die "stelsel van verteenwoordigende regering van 1854 tot 1872 was 'n teleurstelling" want "die goewerneur, wat deur Brittanje aangestel is, het steeds die stelsel oorheers". Hy noem voorts dat Afrikaners se deelname aan die stelsel swak was, dat daar hoofsaaklik aan die belange van die Engelse gemeenskap aandag gegee is, en dat slegs 'n derde van die parlementslede Afrikaners was, "alhoewel Afrikaners driekwart van die kieserskorps verteenwoordig het" (Giliomee, 2004:163).

 

7. Slotsom

Hierdie artikel toon dat die evaluering van De Zuid-Afrikaan in die 20ste-eeuse geskiedskrywing as eenduidig reaksionêr moontlik heroorweeg moet word. Van die nuanses en teenstrydighede van die spesifieke 19de-eeuse omgewing waarin die koerant ontstaan en ontwikkel het, het dalk verlore geraak.

Dit het waarskynlik gebeur omdat die opbloei van Afrikanernasionalisme in die 20ste eeu op die geskiedenis van De Zuid-Afrikaan teruggekaats is. Dit het tot gevolg dat 'n eenvoudige dualistiese patroon op die koerantgeskiedenis afgedwing word. Daarin was De Zuid-Afrikaan reaksionêr en konserwatief en sy tydgenote, soos The South African Commercial Advertiser, liberaal. Hierdie twee pole word dan maklik verteenwoordigend van die ontstaansgeskiedenis van onderskeidelik die Afrikaanse en Engelse joernalistiek, en veral die strominge wat gedurende die 20ste eeu ontstaan het. Maar wat dan van die konserwatiewe stroming in die Engelse pers, verteenwoordig deur koerante soos The Graham's Town Journal?

Wanneer dieper gedelf word in De Zuid-Afrikaan se ontstaan en sy dekking van twee sleutelkwessies in die 19de eeu, ontwikkel 'n meer geskakeerde prentjie van sy rol ook. Al was die koerant se eienaars en joernaliste oorwegend Nederlands/Afrikaans, het dit tot in die tweede helfte van die eeu ook nog sy inhoud in Engels beskikbaar gestel. Uitsluitende taalnasionalisme is dus nie deel van die nalatenskap van De Zuid-Afrikaan aan Afrikaanse joernalistiek nie.

Dit is 'n mistasting om die koerant se verdediging van die belange van slawe-eienaars gelyk te stel met Afrikaanse koerante se ondersteuning van apartheid in die 20ste eeu. De Zuid-Afrikaan het nie probeer om slawerny as ideologie te regverdig of bevorder soos wat talle Afrikaanse joernaliste die apartheidsbeleid ondersteun het nie. In die 19de eeu was slawerny aan die Kaap 'n regsgegewe, gebaseer op lank aanvaarde praktyk, en die koerant het as spreekbuis van 'n gemeenskap van slawe-eienaars hul geldige belange, eise, en vrese verteenwoordig toe die druk opgebou het om 'n stelsel wat nie meer verdedig kon word nie, af te skaf. Met apartheid was die proses omgekeerd: die Afrikaanse joernaliste het eers hul intellektuele visioene geskep, en toe het die wette gevolg.

Daarmee word nie probeer om De Zuid-Afrikaan vanuit die morele hoë grond van die 21ste eeu te verskoon of as liberaal voor sy tyd aan te bied nie. Die punt is dat die koerant 'n produk van sy eie tydvak was, en deel was van 'n groter Westerse beweging van 'n patriargale na 'n meer liberale orde. Die redakteurs was oor die algemeen geleerde wêreldburgers in voeling met die revolusionêre tydsgees wat tot omwentelings in Frankryk, Nederland, Brittanje en die Verenigde State van Amerika gelei het.

Die steun wat De Zuid-Afrikaan aan 'n liberale (vir sy tyd) grondwet in 1854 gegee het, toon 'n ingesteldheid teenoor ander landgenote, wit en swart, wat ook van die latere inkarnasies van Afrikanernasionalisme in die pers verskil. De Zuid-Afrikaan was deel van die ontwikkeling van Kaapse liberalisme van die 19de eeu met al sy teenstrydighede, en moet onderskei word van Afrikanernasionalisme soos dit in die 20ste eeu beslag gekry het.

In 'n 21ste-eeuse herwaardering van die nalatenskap van De Zuid-Afrikaan moet die ondersteuning van Afrikaanse koerante vir Afrikanernasionalisme en apartheid in die 20ste eeu genoem word, maar dan moontlik ook die rol van die Afrikaanse joernalistiek in die vestiging van 'n nierassige inklusiewe demokrasie in 1994. Die vraag ontstaan: Waar sou De Zuid-Afrikaan hom meer tuis voel: in die inklusiewe demokrasie van die 21ste eeu of die vaderland van apartheid?

 

BIBLIOGRAFIE

Armstrong, JC & Worden, NA. 1979. The slaves, 1652-1834. In R. Elphick & H. Giliomee (eds). The shaping of South African Society, 1652-1840. Middleton, Connecticut: Wesleyan University Press, pp. 109-183.         [ Links ]

Bosman, FCL. 1930. Hollandse joernalistiekin Suid-Afrika gedurende die 19de eeu. Kaapstad (oorgedruk met ondergeskikte wysigings van artikels in Ons Land, 8 April 1930).         [ Links ]

Botha, HC. 1982. Die rol van Christoffel J. Brand in Suid-Afrika, 1820-1854. Pretoria: Die Staatsdrukker.         [ Links ]

Cameron, T & Spies, SB (reds.). 1991. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Hersiene uitgawe. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

De Klerk, P. 2014. De Zuid-Afrikaan se standpunt oor stemreg vir bruin mense voor die totstandkoming van die Kaapse koloniale parlement in 1854. Historia, 59(1):1-17.         [ Links ]

De Klerk, P. 2016. De Zuid-Afrikaan se kommentaar op vraagstukke rakende bruin en swart mense in die Kaapkolonie tydens die redakteurskap van J.H. Hofmeyr (1871-1883). Historia, 61(2):101-120. http://dx.doi.org/10.17159/2309-8392/2016/v61n2a5.         [ Links ]

De Kock, W. 1982. A Manner of Speaking: The Origins of the Press in South Africa. Kaapstad: Saayman & Weber.         [ Links ]

De Zuid-Afrikaan. 1830-1854. Universiteit Stellenbosch-biblioteek, SUN Digitale Versameling, http://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/1060.         [ Links ]

Dick, AL. 2018. Reading authors of the Enlightenment at the Cape of Good Hope from the late 1780s to the mid 1830s. Journal of Southern African Studies (2018), 44:3, 383-400, DOI: 10.1080/03057070.2018.1445361.         [ Links ]

Du Plessis, JHO. 1943. Die Afrikaanse pers. 'n Studie van die ontstaan, ontwikkeling en rol van die Hollands-Afrikaanse Pers as sosiale instelling [The Afrikaans Press: A study on the founding, development and role of the Dutch-Afrikaans press as social institution]. PhD dissertation. Stellenbosch University.         [ Links ]

Elphick, R & Giliomee, H. (eds).1979. The shaping of South African Society, 1652-1840. Middleton, Connecticut: Wesleyan University Press.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners, 'n biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H & Mbenga, B. (reds.). 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Hachten, WA & Giffard, CA. 1984. Total Onslaught: The South African Press Under Attack. Johannesburg: Macmillan.         [ Links ]

McKenzie, K. 1998. 'Franklins of the Cape': "The South African Commercial Advertiser" and the creation of a public sphere, 1824-1854. Kronos, 25:88-102.         [ Links ]

Meurant, LH. 1885. Sixty Years Ago, or Reminiscences of the Struggle for the Freedom of the Press in South Africa and the Establishment of the First Newspapers in the Eastern Provinces. Cape Town: Saul Solomon & Co.         [ Links ]

Muller, CFJ. 1990. Sonop in die suide: Geboorte en groei van die Nasionale Pers 1915-1948 [Sunrise in the south: The birth and growth ofNasionale Pers 1915-1948]. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Nienaber, GS. 1939. Van roem tot selfmoord. Johannesburg & Pretoria: Voortrekkerpers Beperk.         [ Links ]

Rabe, L. 2020. A Luta Continua: A History of Media Freedom in South Africa. Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

Streak, M. 1974. The Afrikaner as viewed by the English. Kaapstad: C. Struik.         [ Links ]

Trapido, S. 1990. From paternalism to liberalism: The Cape Colony, 1800-1834. The International History Review, 12(1):76-104. https://www.jstor.org/stable/40106134.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-09-08
Goedgekeur: 2022-02-28
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Gawie Botma is senior lektor in Mediastudies en Massakommunikasie-teorie in die departement Joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch (US). Hy is die skrywer van drie boeke, Brothers in armchairs: Cultural struggles at Die Burger (2014, Sun Press), Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans (2018, Zebra Press) en Race talk in the South African Media (2019, Sun Press). Hy het in 2011 die graad PhD aan die US verwerf met die proefskrif Manufacturing cultural capital: Arts journalism at Die Burger (19901999). Botma het die graad M.Phil (cum laude) in 2006 aan die US behaal met 'n studie wat op media-transformasie by Naspers en Die Burger sedert 1994 gefokus het. Hy het navorsingsartikels in vooraanstaande vaktydskrifte, soos Journalism and Mass Communication Educator, African Journalism Studies, Communicatio, Critical Arts en Litnet Akademies (Geestes-wetenskappe), gepubliseer. Tot en met sy aanstelling by die US was hy kunsredakteur en -skrywer/resensent van Die Burger in Kaapstad.
Gawie Botma teaches Media Studies and Mass Communication Theory in the Journalism Department of Stellenbosch University. In 2011 he obtained a PhD degree with the dissertation Manufacturing cultural capital: Arts journalism at Die Burger (1990-1999). The dissertation was subsequently published as the book Brothers in armchairs: Cultural struggles at Die Burger (2014, Sun Press). He has also published the book Polemieke: Bekgevegte in Afrikaans in 2018 at Zebra Press and Race talk in the South African media at Sun Press (2019). Research articles he authored were published in prominent journals such as African Journalism Studies, Critical Arts, Communicatio and Journalism and Mass Communication Educator in the field of political economy, cultural studies and journalism education. Until his appointment at Stellenbosch University he was arts editor and theatre critic of Die Burger in Cape Town.
1 Ontvang per e-pos van prof. Lizette Rabe op 4 Augustus 2021.
2 Behalwe waar anders vermeld word, is dié historiese oorsig gebaseer op Armstrong & Worden
3 Behalwe waar anders vermeld word, is die oorsig gebaseer op De Klerk (2014:7-9) en Cameron & Spies (1991:90-91), aangevul deur Giliomee & Mbenga (2007:140-143).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons