SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.62 número1A philosophical discussion on death and the meaning of life índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.1 Pretoria Mar. 2022

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2022/v62n1a1 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Transendensie, toeval en geluk

 

Transcendence, chance and happiness

 

 

Anné H Verhoef

Skool vir Filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Anné.Verhoef@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die vraag wat in hierdie artikel ondersoek word, is hoe (lewens)geluk saamhang met transendensie en toeval. Hierdie vraag word in verband gebring met vrae oor die kern van ons bestaan as negering (iets negatiefs) en/of bevestiging (iets positiefs). Daar word aangevoer dat die spanning tussen negering en bevestiging behoue moet bly, soos wat Paul Ricoeur in sy dialektiese filosofie poog te doen. Dit is deurslaggewend, omdat hierdie dialektiek die vryheid bied om betekenis en geluk na te streef en 'n etiese lewe te lei binne die beperking van ons arbitrêre bestaan. Dan verdwyn geluk nie as 'n onmoontlike doel soos by die aanvaarding van negering nie. Dit is ook nie 'n lewe waarin ongeluk ("on-geluk") verdwyn, of moet verdwyn, as deel van die nastreef van geluk soos by bevestiging nie. 'n Erkenning is eerder nodig dat bevestiging sowel as negering, betekenisvolheid sowel as leegheid, geluk sowel as ongeluk, aan die kern van ons wese is. Hierdie soort dialektiese begrip van ons bestaan maak ons vry van die moontlike determinisme van transendensie en toeval. Dit bied die ruimte om geluk na te streef in die wete dat dit die volle omvang van ons menswees, ook die ongelukkige en pynlike kant daarvan, as deel van ons geluk behoue laat bly. Dit bied uiteindelik 'n nuwe verstaan van geluk as altyd gekoppel aan ongeluk en nie die vermyding, ignorering of oorkoming daarvan nie. Die artikel argumenteer dus dat, ondanks verskillende opvattings van transendensie en toeval, betekenis en geluk in hierdie immanente lewe en wêreld te vinde is en dat ons daartoe kan bydra.

Trefwoorde: transendensie, geluk, toeval, negering, bevestiging, ongeluk, Paul Ricoeur


ABSTRACT

The question posed in this article is how happiness in life relates to transcendence and chance. This question is linked to questions about the core of our being as negation (something negative) and/or affirmation (something positive). Negation refers to the idea that the core of our being is meaningless, empty and defective. In this view, happiness becomes a futile effort to overcome unhappiness. Negation is a central theme in philosophical and theological traditions and is supported by the ideas of transcendence and/or immanence (chance). Affirmation suggests that something meaningful and happy lies at the core of our being. Then happiness is simply accepting affirmation and dismissing unhappiness. However, choosing between affirmation and denial of unhappiness means that the concept of happiness is attenuated and overlooks the creative and productive potential of negation.
Instead, if, following Ricoeur, one argues that the negative can be strongly and creatively accommodated in our acceptance of our own complexity (Scott-Baumann, 2013:6), our understanding of happiness will be greatly affected. For instance, a combination of happiness and unhappiness as happiness - the dialectic of negation and affirmation - forms a direct challenge to the certainty of happiness and the despair of unhappiness. It implies, in addition, that one can face the world and its existence without fear (or the collapse of one's happiness) and live life to the full in the world. In other words, the option of escaping (to another world or in this one) the false security offered by happiness that negates negation crumbles. One now has the option of being at one with oneself - as happy and unhappy, as negation and affirmation - but also of being at one with others (all others, including those who suffer) and with the suffering physical world. Suffering or unhappiness need not be avoided or overcome for the sake of one's own happiness; it fundamentally forms part of one's happiness. Such happiness requires negation to be recognised as part of the core of one's being, because the negative (negation) is seen as an empowering, positive force that throws light upon the incompleteness and uncertainty of life, and at the same time shows us who we are and helps us to face the truths of suffering, famine and excess, despair and joy, in everyone of us and the world at large (Scott-Baumann, 2013:147). Our task - especially ifwe aim at being happy - is not to overlook or try to avoid these matters, but to see them, to allow ourselves to be affected by them, in order eventually to act compassionately and ethically.
In summary one can say the following about the relationship between transcendence, chance and happiness:
If happiness is understood as overcoming the fundamental defect or the negative of our existence (negation brought on by transcendence and chance), we remain caught up in an endless circle, trying to overcome unhappiness. One can try doing so in many ways, but in the final instance it remains impossible. One remains entangled by negation and finally in unhappiness. In this way unhappiness remains a problem for happiness.
When happiness is seen as the rejection of negation and an embrace of affirmation, unhappiness and suffering are stripped of their potential creative and valuable power. Therefore, when unhappiness as something life-denying is rejected and when only the positive forces, powers and energies of life and nature - of chance (as affirmation) - are embraced, the potential positive meaning and power of unhappiness and suffering are forfeited and denied. Then happiness is nothing more than the unhappy task of rejecting or avoiding unhappiness at all costs, which, in turn, attenuates the complexity of our humanness and turns happiness into a selective (and perhaps unsympathetic) involvement only with that which is "good" and provides energy in life. The problem is that such an outlook on life requires a measure of self-understanding in which one wants to and may appreciate and experience only the good in oneself (and in others). This leads to a self-concept that is constantly undermined by the fact that our lives in part involve suffering, if only passively in the process of growing old. Ultimately, happiness is attenuated by this and once again becomes an unattainable goal.
In a dialectic conception of negation and affirmation, the potentially positive in negation is appreciated. Unhappiness is recognised as fundamentally part of happiness. We lack nothing in the core of our being. There is no gap that results from chance, no fallenness determined by transcendence. Nothing fundamental needs to be overcome, not even unhappiness. This does not imply simply an acceptance of unhappiness; it implies living to the full the creative tension between negation and affirmation, a complex transaction between happiness and unhappiness in which we have the potential to live ethically responsibly - living with a sense of meaningfulness and a much fuller and happier sense of happiness. In practice, this means that we do not surrender who we are or what we can achieve. It means that, in spite of various ideas of transcendence and chance, meaning and happiness can be achieved in this immanent life and this world and can contribute to them.

Keywords: transcendence, happiness, chance, negation, affirmation, unhappiness, Paul Ricoeur


 

 

Filosofie en die vraag na geluk

Die bespreking van transendensie, toeval en geluk kan baie maklik in abstraksie verval, 'n abstraksie wat te ver van mens se persoonlike ervaringe verwyder is om enige relevansie vir ons konkrete lewe in te hou. My bespreking van hierdie konsepte en die verband daartussen word daarom van die begin af gekoppel aan my eie oorgelewerdheid daaraan. Is dit byvoorbeeld iets transendents, of toeval, of blote geluk wat die ontstaan van mens se lewe bepaal? Natuurlik kan mens later in jou lewe besluite neem wat die verloop daarvan bepaal, maar dit is juis jou geboorte (tyd, plek, ras, klas, era, ens.) waaroor jy geen beheer het nie.

Neem my eie geboorte as voorbeeld. Ek is in Komani, die voormalige Queenstown in die Oos-Kaap, gebore. My pa was destyds 'n sendeling in Cala in die voormalige Transkei, en die naaste hospitaal, slegs vir blankes, was in Queenstown. Ek het dus my lewe begin as 'n apartheidsbaba. Dit is 'n volledig arbitrêre feit van my lewe, maar een met soveel groot gevolge. Apartheid, wat as 'n idee ontstaan het, het my geboorte en grootword beïnvloed en bepaal, maar ook soveel van Suid-Afrika se hartseer geskiedenis.

Die idee van apartheid is gelukkig sedertdien grondliggend bevraagteken en uiteindelik is dit verwerp weens die vernietigende aard en gevolge daarvan. Die bevraagtekening van

hierdie idee van apartheid dien as 'n voorbeeld van die noodsaak en krag van kritiese en grondliggende bevraagtekening en denke. Dit daag ons uit om alle idees wat ons lewens struktureer en beïnvloed, ook op fundamentele vlak te bevraagteken, idees wat uiteindelik 'n vernietigende uitwerking op die samelewing, die omgewing en ons menswees kan hê. Dink maar aan idees soos kapitalisme, die patriargie en die neoliberalisme, wat dikwels vernietigende gevolge kan hê.

Die kritiese en grondliggende bevraagtekening van idees is een van die belangrikste doelwitte van die filosofie. Hierdie soort bevraagtekening is omvattend. Dit bevraagteken onverskrokke alle sekerhede, kennis en oortuigings wat ons lewens begrond en rig. In hierdie opsig kan die filosofie 'n pynlike en ontwrigtende ervaring wees. Deleuze maak die radikaliteit daarvan duidelik as hy sê dat die filosofie nie die Staat of die Kerk, wat oor ander dinge besorg is, dien nie. Dit dien geen gevestigde mag nie. Die nut van die filosofie is om mens ongelukkig te maak. 'n Filosofie, sê hy, wat niemand bedroef nie, wat niemand omkrap nie, is geen filosofie nie (1983:106).1 Die uitkomste hiervan kan egter uiters bevrydend wees - bevrydend in die sin dat die kragte en magte wat mens se lewe normaalweg bind en rig, hulle mag en gesag begin verloor en dat daar nuwe moontlikhede begin oopgaan.

Deleuze se stelling dat dit die filosofie se taak is om te bedroef, is gepas in die sin dat die filosofie mens se lewensekerhede kan ondermyn. Dit is egter nie die enigste taak van die filosofie nie, en in kontras met Deleuze moet genoem word dat die filosofie oor die eeue heen as een van sy hoogste doelstellings probeer bepaal het wat die "hoogste geluk" (summa félicitas) in die lewe is, soos Spinoza (TdIE 2) dit gestel het, of wat die "hoogste goed" (eudaimonia) in die lewe is waarna ons moet streef, soos Aristoteles (NE 1094a) dit gestel het. Dit is op hierdie laaste doelwit van die filosofie oor die soeke na lewensgeluk waarop ek in hierdie artikel fokus. My spesifieke vraag is hier hoe lewensgeluk saamhang met transendensie en toeval.

 

Die verband tussen transendensie, toeval en geluk

Die titel van hierdie artikel, "Transendensie, toeval en geluk", bring onmiddellik die vraag na die verband tussen hierdie drie filosofies swaar gelaaide konsepte na vore. Ten einde die verband tussen die drie konsepte te beskryf, is die hooffokus hier op geluk, en die vraag is dan hoe dit verband hou met opvattings oor toeval en transendensie. Voordat die verband tussen hierdie drie konsepte bespreek kan word, moet daar egter 'n (voorlopige) definisie van hierdie konsepte gegee word. Ek gebruik hierdie konsepte in die breedste sin:

Transendensie verwys na die feit dat sekere grense oorskry word (uit die Latyn transcendere "om oor te klim, te oorkom, te oorskry"). Die transendente is dit wat anderkant die immanente lê en daarteenoor staan (Verhoef, 2017:1). Transendensie dui op 'n "grenservaring" - ons ervaar dinge as eindig en beperk, maar soms as iets wat aan die ander kant van hierdie grens lê. Dinge aan hierdie kant van die grens noem ons immanent en dinge aan die ander kant transendent (Stoker, 1990:199). Transendensie in godsdienstige konteks verwys na die bosintuiglike, God, die goddelike of die absolute. In hierdie artikel word transendensie meestal eksistensieel en metafisies beskou: as die oorgang van die waarneembare (immanensie) na die supersensoriese (transendensie).2

Toeval verwys in hierdie artikel na mens se ervarings van gebeure en jou ervaring van die lewe as wispelturig, arbitrer en lukraak (toevallig). Dit is die ervaring van die gevolge wat skynbaar die oorsake daarvan oortref (Zizek, 2014:3), iets waaroor ons nie beheer het nie. In die argument van hierdie artikel verteenwoordig toeval die immanente pool van die ewekansigheid in ons werklike wêreld en lewens.

Geluk verwys na meer as net 'n gemoedstoestand soos vreugde, plesier of tevredenheid. Dit is nie net 'n psigologiese of hedonistiese geluk nie. Dit is ook meer as net menslike welstand of florering, wat dikwels beskryf word as "prudential happiness" (Verhoef, 2014b:4). Dit is meer as net die afwesigheid van pyn. Dit sluit in betekenis, vervulling, die etiese en die toevallige as deel van geluk in die omvattende sin van lewensgeluk. Dit behels dus meer as die Aristoteliaanse geluk as eudaimonia wat die klem plaas op die aktiewe uitleef van 'n deugdelike karakter ter wille van geluk as die "goeie lewe" (Verhoef, 2014a:773). Dit gaan oor geluk in die mees omvattende sin van die woord, wat juis die toevallige, onbegryplike en misterieuse aard daarvan insluit (Verhoef, 2014a:785).

Met hierdie definisies in gedagte kan daar nou op 'n verdere kompleksiteit gewys word. Die verband tussen transendensie, toeval en geluk kan nie bespreek word sonder om ook na te dink oor die verhouding tussen ongeluk en geluk nie. In my bespreking keer ek die volgorde om en stel eers vas hoe ongeluk verband hou met die konsepte van transendensie en toeval, en koppel dit dan weer aan geluk.

'n Belangrike vraag wat egter hier gevra kan word, is die vraag na die relevansie van hierdie bespreking van die verhouding tussen transendensie, toeval en geluk. Dit is 'n belangrike vraag, want die filosofie word dikwels van buite af gekritiseer as 'n gepraat sonder werklike doelwitte en geen werklike uitkomste nie. Dikwels word dit gekritiseer as verwyderd van die konkrete wêreld en van die wetenskappe wat met "harde feite" werk. Die voorlopige definisies van transendensie, toeval en geluk gee egter reeds - in teenstelling met die kritiek op die filosofie - 'n aanduiding van die andersoortige "betowering" en waarde van die filosofie. Sodra sommige konsepte geanaliseer en gedefinieer en die dikwels verborge idees daaragter ontbloot word, kan dit 'n hele nuwe wêreld ontsluit. Die filosofie funksioneer dan soos 'n deur wat oopgaan na 'n "onbekende heelal" - 'n wêreld wat nie net op sigwaarde aanvaar kan en moet word nie, maar wat grondliggend en krities ondersoek moet word. Dit beklemtoon en bepleit die noodsaak van 'n meer omvattende verstaan van ons leefwêreld. Dit is 'n wêreld wat allermins in 'n esoteriese sin beskryf moet word, veral nie as dit oor eksistensiële vrae soos transendensie, toeval en geluk gaan nie. Dit is juis hierdie vrae wat ons help om beter te verstaan wie en wat ons is, om beter te leef, en om moontlik so 'n skynbaar alledaagse en tog so 'n ontwykende ding soos geluk te kan vind.

 

Geluk en eksistensie

Uit bostaande blyk dit duidelik dat hierdie artikel oor baie meer as net geluk gaan. Dit gaan eintlik oor ons bestaan as geheel. Die fokus is op geluk én eksistensie: op ons lewens in die volheid daarvan, die werklikheid en konkrete daarvan, die beliggaamde aard daarvan. As ons in hierdie breë terme aan geluk dink, is ons genoodsaak om na te dink oor ons bestaan self. Die aanvanklike vraag oor die verhouding tussen geluk, toeval en transendensie word nou 'n vraag oor hoe ons bestaan verband hou met transendensie en toeval. Hierdie vraag dwing mens om oor bestaan in die mees fundamentele sin te dink. Dit gaan nie net oor die beskrywing van bestaan nie, maar eerder oor 'n poging om op die fundamentele aard van ons bestaan, op die kern van die menslike bestaan te fokus.

Dit is op hierdie punt - oor die kern van ons menslike bestaan - dat my vrae oor transendensie, toeval en geluk raakvlakke met eeueoue filosofiese tradisies en teorieë het. Om al hierdie standpunte in hierdie artikel te bespreek is onmoontlik en daarom beperk ek my bespreking tot die klassieke vrae wat uit hierdie filosofiese tradisies ontwikkel het, naamlik: Is daar iets positiefs of negatiefs aan die kern van die menslike gees, karakter en bestaan? Is ons bestaan as mense fundamenteel goed of sleg, positief of negatief? Is dit dalk 'n kombinasie van albei?

Hierdie vrae moet verder opgeklaar word: As mens vra wat die fundamentele kern van die menslike bestaan is - trouens, die ganse menslike bestaan - is daar twee oorheersende opsies in filosofiese en teologiese tradisies, naamlik negering (iets negatiefs) en bevestiging (iets positiefs): daar is iets sinloos en ongelukkig óf iets betekenisvol en gelukkig aan die kern van ons wese.

Voorstanders van negering sal die arbitrêrheid van ons bestaan beklemtoon as die rede vir die fundamentele leegheid of niksheid daarvan. Negering kan ook vanuit 'n transendente beweegrede gemotiveer word en dan word beklemtoon dat ons in ons wese tekort skiet; dat ons byvoorbeeld 'n sondige aard het (as deel van teologiese tradisies) wat as fundamenteel in ons bestaan beskou word. Hierdie negering, of fundamentele tekortkoming, word dikwels as iets slegs (as ongewens, of selfs boos) geïnterpreteer.

Voorstanders van bevestiging sal die kreatiewe krag van ons bestaan, ons vryheid en kreatiwiteit beklemtoon. Die arbitrêre (of toeval, om aan te sluit by die titel van die artikel) word hier in 'n positiewe lig beskou. Daar is lof vir ons geluk (vir die blote feit dat ons bestaan), 'n omhelsing van amor fati, en viering van lewensbevestigende natuurkragte waarvan ons bestaan deel is. Hierdie bevestiging word normaalweg as iets goeds geïnterpreteer.

Interessant genoeg was daar in die geskiedenis van die filosofie (en in die teologie, sou mens kon byvoeg) 'n oorweldigende aanvaarding van (en selfs 'n obsessie met) negering (die negatiewe) as die kern van ons bestaan. In hierdie tradisies het daar nog altyd iets in ons wese ontbreek. Vir Plato, byvoorbeeld, het die ware volheid van eksistensie in die metafisiese gelê, en volgens Aristoteles streef mense altyd na goedheid, eudaimonia, vir vervulling. In die Afrika-filosofie is dit die voltooiing van die gemeenskap wat fundamenteel by ons ontbreek, en ons kan nie mens of volkome wees sonder ander nie. Vir Hegel kom ons as individue die vervulling van vryheid, wat in verloop van die geskiedenis van die Weltgeist of wêreldgees na vore kom, kort. In die teologie staan die mens se onvermoë tot die goeie, die sondigheid van die menslike aard, soos veral deur Augustinus en die latere Protestante beklemtoon, weer voorop.

Indien negering - hierdie fundamenteel negatiewe, onvoltooide, gebrekkige of ongelukkige aard van ons bestaan - as die kern van die menslike bestaan aanvaar word, dan is ons van die begin tot die end van ons lewe gedoem. Dan het ons die onmoontlike uitdaging om hierdie negering of tekortkoming, hierdie fundamentele eksistensiële negatief (leegheid of sondigheid), te oorkom in ons poging om betekenis, vervulling, voltooiing en uiteindelik geluk te probeer vind. Geluk is dan niks meer nie as die onmoontlike doelwit waarna ons eindeloos en tevergeefs streef ten einde negering te negeer. Geluk word die somtotaal van ons sinlose pogings om van ons tekortkoming of gebrek ontslae te raak, waarin ons na voltooiing, tevredenheid en vervulling streef, maar met die wete dat die emmer van ons wese aanhoudend lek terwyl ons dit probeer volmaak met wat ook al ons lewens(geluk) bevredig. Hierdie lewensdors is egter fundamenteel en kan nie geles word nie. Geluk word dan 'n frustrerende en futiele droom en die eindelose en vergeefse taak van ons lewens.

In die lig hiervan is dit geen wonder dat soveel mense moed opgee om geluk te vind nie. Hulle besef (met reg, as negering aanvaar word) dat dit nie die moeite loon om gelukkig te probeer wees nie. Hulle word sinies, depressief, oud voor hulle tyd en geïrriteerd, en hulle verloor hul lewenslus en energie. Miskien kan 'n mens hulle dit nie verkwalik nie, maar jy moet ten minste probeer vasstel of daar alternatiewe maniere is om op 'n fundamentele vlak na te dink oor geluk, die aard van die mens se lewe of bestaan, en die samehang daarvan met toeval en transendensie.

 

Negering, toeval en transendensie

Waarom, behoort mens in die lig van bogenoemde te vra, moet ons gelukkig wees met negering as die fundamentele kern van ons bestaan? Moet ons negering aanvaar of selfs aanprys soos wat so baie filosowe en teoloë dit doen of gedoen het? Met die stel van hierdie vrae word die skakel na transendensie en toevalligheid deurslaggewend, want op grond van transendensie of toeval word daar byvoorbeeld oor negering en/of bevestiging geargumenteer: "dit is net soos die lewe is", of "dit is ons lot", of "dit is hoe God dit beskik het". In hierdie argumente (wat dikwels net as kort frases geuiter word) is die antwoord die aanvaarding van 'n hoër gesag of orde, soos God of die noodlot, wat die lewe bepaal. Transendensie (as die hoër gesag, soos God) of toeval (as die immanente oortuiging gebaseer op konkrete feite van die lewe) word aanvaar om mense wat dié standpunt huldig, se siening te staaf dat negering die fundamentele kern van ons bestaan is. Laat ek dit anders stel:

Negering - die negatiewe kern van ons bestaan - kan beskryf word as die feit dat ons nie in beheer van ons lewens is nie, dat ons so te sê (maar ook letterlik) die lewe ly. Dink maar aan die arbitrêre aard van 'n mens se lewe, jou geboorte, jou dood, die verwoesting van tyd in die vorm van veroudering, die ervaring van pyn, 'n oopgekrapte wond, 'n dolksteek, 'n amputasie ... Is dit alles 'n kwessie van toeval? Of is dit gekoppel aan 'n transendente wese?

Om die toeval as 'n antwoord te aanvaar, bied unieke probleme. Jean-Paul Sartre se filosofie is miskien die beste voorbeeld hiervan. Hy argumenteer dat ons bestaan, as toeval, fundamenteel leeg is. Daar is 'n niksheid aan die kern daarvan. By die kern van ons bestaan is die ewige afgrond van leegheid. Die negering van ons bestaan wat op toeval gebaseer is, lê uiteindelik in nihilisme. Vir Sartre is 'n mens dus vasgevang in die eindelose skepping van die essensie van jou bestaan te midde van die leegheid daarvan. Eksistensie gaan essensie vooraf (Sartre, 1992:438). Die enigste troos wat 'n mens het in hierdie poging om essensie te skep en hopelik singewing te vind, is dat jy ten minste die vryheid het om die lewe wat jy lei, voortdurend kreatief te skep.

Aan die ander kant is dit ook problematies om transendensie, of 'n transendente wese, te aanvaar as die verklaring van negering van ons bestaan. Die negatiewe kern van ons bestaan kan byvoorbeeld in Protestantse terme beskryf word as ons val in oneer, ons verlies aan reinheid, ons verlies aan eenheid met God, ons verlies aan die paradys en aan onskuld, kortom: ons sondeval en uiteindelike sondigheid. In hierdie geval kan negering (of die fundamentele tekortkoming van ons bestaan) opgesom word as ons verlies aan goedheid (sondeval) en ons eenheid met God (of die transendente). Om hierdie verknorsing nog erger te maak, is hierdie tekortkoming of verlies te wyte aan ons eie optrede. Dit is nie godgegewe nie, maar ons eie skuld (ten minste deur Adam en Eva) dat ons sondig is, dat ons met ander woorde ewig tekort skiet.

Met transendensie en toeval as só 'n dominerende begronding van negering volg die vraag hoe geluk dan in hierdie konteks verstaan en gevind kan word.

Oor toeval as die begronding of motivering van negering kan 'n mens die volgende afleiding maak oor geluk: Sartre se klem op en uiteindelike aanvaarding van nihilisme maak dit moeilik (of eintlik onmoontlik) om negering te oorkom en om hoegenaamd geluk te vind. Negering is die enigste opsie, want bevestiging word genegeer. Daar is uiteindelik geen geluk te vind nie, maar slegs 'n fundamentele tekortkoming in jou bestaan vanweë die leegheid of niksheid van jou bestaan. Die mens is per toeval vasgevang in negering en gevolglik in ongeluk. Die troos van 'n vrye kreatiewe lewe is niks meer as blote troos nie.

Oor transendensie as die begronding of motivering van negering geld die volgende: Ons gevallenheid en sondige aard is fundamenteel en die tekortkoming wat ons lewe begrond, is ons gebrek aan eenheid met God. Om die eenheid met God te herstel, of die breuk met God te oorkom, sal uiteindelik geluk kan bring deur die negering te negeer. Vir byvoorbeeld die teoloog Seren Kierkegaard (1983:48) lê geluk daarom in onderwerping aan God se wil. Die negatiewe (negering, sondige aard, tekortkoming) moet oorkom word (genegeer word) deur eenwording met God. Slegs God kan die volledigheid bied wat ons negering negeer en uiteindelik tot vervulling, voltooidheid en geluk kan lei. Met ander woorde, die (T)transendente is nodig om ons te help, of om ons te verlos, om negering te negeer, maar helaas sal dit nie in hierdie ongelukkige lewe gebeur nie. Dit gebeur eers in 'n lewe of wêreld ná hierdie een. Ons is en bly vasgevang in negering op hierdie aarde, met (volkome) geluk wat net in 'n hiernamaals ontvang kan word. Weer eens is daar net die troos van oomblikke van geluk in hierdie lewe, maar dit is - soos by toeval - blote troos, met geluk in hierdie wêreld wat 'n futiele droom word.

Die oorweldigende sterk argumente en begronding van negering vanuit die toevalligheid (immanensie) van die lewe en vanuit 'n transendente gesag kan uiteindelik daartoe lei dat ons moed opgee wat geluk betref. Dit kan lei daartoe dat ons hierdie wêreld, en selfs onsself, verstaan as boos, korrup en leeg. Hierdie wêreld en (sondige, leë) bestaan moet oorkom word om geluk te kan vind. 'n Negering van die negering is nodig, en dit word gevind in 'n uiteindelike ontvlugting aan hierdie wêreld. So 'n ontvlugting na 'n buite- of beter wêreld kom nie net in godsdienstige taal voor nie, maar ook by mense wat wil ontsnap aan die pyn van die lewe deur hulle totaal te laat absorbeer in werk, geld, sport, rekenaarspeletjies of watter ander vorme van ontsnapping ook al. Dit word 'n ontvlugting aan hierdie wêreld wat in hierdie wêreld plaasvind. Dit is egter steeds 'n manier om moed op te gee vir die wêreld in sy volheid, en vir geluk in sy kompleksiteit.

 

Wat van ander maniere waarop transendensie en toeval verstaan kan word?

Daar is natuurlik baie meer filosowe en teoloë as Sartre en Kierkegaard wat negering op verskillende maniere met toeval en transendensie in verband bring. Die probleem is egter - selfs by soveel ander denkers - dat negering steeds dominant bly en dit uiteindelik 'n onoorkomelike hindernis op weg na geluk word. Daar is inderdaad variasies van hierdie begronding van negering vanuit transendensie en toeval (soos hier onder bespreek), asook verskillende maniere waarop transendensie en toeval verstaan word, maar die vasgevangenheid in negering bly meestal binne hierdie variasies konstant.

Indien negering aan transendensie gekoppel is, ontstaan die probleem dat die moontlikheid van geluk na buite hierdie wêreld geskuif word: na God, na die hemel, na 'n hiernamaals, na vergoddeliking, en so meer. Geluk in hierdie immanente wêreld, in ons beliggaamde lewens, bly so 'n onmoontlikheid. In hierdie verskuiwing van geluk weg van of uit hierdie wêreld skuil die gevaar dat slegs veragting en misnoeë vir hierdie lewe en wêreld sal volg, met 'n verlange om na 'n ander wêreld buite hierdie een, of na die transendente, te ontsnap. 'n Afkeer van en onbetrokkenheid by hierdie wêreld kan volg. Dit is veral 'n gevaar as die transendente in 'n radikale sin verstaan word, naamlik as radikale transendensie, waar "die absolute die totaal andere is en skerp onderskei word van die alledaagse werklikheid" (Verhoef, 2014c:263).

Die onmiddellike vraag wat hierop volg, is: Sal 'n minder radikale transendente, of anderwêreldse konsep van God of die transendente, nie dalk kan help om hierdie probleem van geluk uiteindelik buite hierdie wêreld te plaas, te oorkom nie? Een wat ons nie aanspoor om aan hierdie wêreld te ontsnap nie? Op hierdie vraag kan mens antwoord deur te let op die sogenaamde "swak teologie" van die teoloog-filosoof John Caputo. Caputo ontwikkel sy swak teologie uit die dekonstruksie van Derrida. Dit is 'n teologie wat baie minder gefokus is op die transendente aard van God en wat eerder erkenning gee aan die onsekerhede oor God en aan die taal wat met betrekking tot God gebruik word. Hy beklemtoon dat al ons spreke oor God altyd uitgedruk word deur ons menslike, of immanente, taal. Caputo se voorstel, as deel van sy "swak teologie", van 'n teopoëtika impliseer dat spreke oor God (of die transendente) die beste uitgedruk kan word in immanente digterlike taal en nie in letterlike terminologie of dogmatiese teologie nie (Caputo, 2006:13). Caputo beweeg hiermee weg van 'n radikale transendensie, maar los nie die probleem op nie, want teopoëtika is steeds 'n teo-poëtika, waarin die teos of transendente maklik dominant kan word en die klem weer op die transendente aard van God val. Aan die ander kant kan teos verdwyn in die poëtika (as kuns), wat mens terugbring by die immanente, waarin toeval weer in spel gebring word. Teopoëtika bied dus uiteindelik net weer die twee opsies wat Kierkegaard en Sartre voorgestel het om negering te oorkom: óf in die transendente (teo-), óf in die kreatiewe (-poëtika) immanente. Negering moet nog steeds genegeer word. Geen alternatief vir die motivering en oorkoming daarvan word gebied nie. Die fundamentele kern van ons wese of bestaan bly negatief, 'n negering, en ongeluk bly 'n onoorkomelike probleem in die strewe na geluk. Boonop ondermyn 'n "swak teologie", of 'n "swak God", die hoop om geluk in die transendente te vind.

Die volgende logiese vraag in die soeke na 'n alternatiewe verstaan van transendensie en toeval is: Kan 'n meer immanente benadering nie hoop bied nie? Bied 'n immanente benadering wat erns met toeval maak maar genoegsaam verskil van Sartre se negering as niksheid, dalk ' n alternatief? Met ander woorde, is daar ' n kans dat toeval (in die volle immanente sin daarvan) 'n mate van bevestiging en (uiteindelik) geluk kan bied in plaas van negering en niksheid (en uiteindelik geen geluk nie)?

Om hierdie vraag te antwoord word op die filosofie van Gilles Deleuze as een van die mees immanente filosowe (Zizek, 2004:235) gefokus. Deleuze verwerp transendensie (en die transendente) ten volle en gee erkenning aan die rol van toeval in ons immanente lewe, maar verskil uiteindelik van Sartre deurdat hy nie 'n negering van ons bestaan voorstaan nie, maar 'n bevestiging. Hierdie bevestiging van ons bestaan hou verband met hoe ons aktualisering plaasvind. Deleuze sê dat om geaktualiseer te word, beteken om oor 'n reeks gewone punte uit te wei; om volgens 'n reël van konvergensie gekies te word; om in 'n liggaam geïnkarneer te word; om die toestand van 'n liggaam te word; en om plaaslik vernuwe te word ter wille van beperkte nuwe aktualiserings en uitweidings (Deleuze, 1990:110). Toeval speel hier 'n fundamentele rol. Dit is 'n fundamentele deel van ons bestaan, maar nie op 'n slegte of negatiewe manier nie. Toeval verteenwoordig nie negering nie, maar bevestiging. Die ervaring van te bestaan is die ervaring van die potensiaal van elke oomblik. Daar is reeds 'n positiewe gegewe wat ons bestaan begrond, en nie 'n blote leegheid of niksheid nie. Die lewe is om hierdie potensiaal te verwesenlik, 'n potensiaal wat deur die wêreld, die natuur en/of die toeval gegee word, maar wat die wêreld/natuur en/of toeval weer verander sodat ons altyd in wording is. Daar is niks negatiefs hieraan nie en daar is terselfdertyd geen sprake van transendensie nie.

Hierdie volledig immanente perspektief behels dat daar nie iets negatiefs of iets leegs aan die kern van ons bestaan is nie, maar eerder bevestiging in die volle sin van die woord. Toeval ondermyn nie ons bestaan nie, maar bevestig dit. Ons kan en moet ons geluk vier dat ons hier is, dat ons bestaan! Daar is vir Deleuze geen negering nie, maar slegs bevestiging, die positiewe omhelsing van die positiewe kragte van die lewe. Daar is niks wat ons moet oorkom, of 'n tekortkoming wat ons moet vul, of iets dergeliks nodig om voltooid - en gelukkig - te wees nie. Al wat ons "moet" doen, of eintlik geniet, is om by die positiewe lewenskragte in te skakel, volledig daarby betrokke te raak en dit nie te weerstaan nie. Ons kan dit ten volle geniet en vier as deel van die wonder en krag van die lewe en die natuur. Deleuze gebruik die beeld van 'n branderplankryer en sweeftuigvlieër om dit te beskryf. Hy sê ons moet toelaat dat die natuurkragte ons meevoer soos die golwe 'n branderplankryer meevoer, of soos die wind 'n sweeftuig meevoer. Om so meegevoer te word en deel te wees van die natuur en lewenskragte is die wonder van eksistensie, en dit moet ten volle beleef, geniet en geleef word. Dit sluit ook die natuurkragte in wat ons lewensloop uitdaag en teister.

Hierdie vorm van bevestiging staan lynreg teenoor negering. Dit kom in werklikheid daarop neer dat slegs bevestiging aanvaar word en negering ontken of verwerp word. Negering, of die negatiewe, word gesien as sleg en teenproduktief ... en vernietigend (Scott-Baumann, 2013:111), en daarom volg die volstrekte keuse vir bevestiging. Die implikasie hiervan is dat niks oorkom moet word in ons bestaan om voltooiing te bereik nie, dat daar nie tekort geskiet word nie, en dat ons nie 'n fundamentele ongeluk moet of hoef te oorkom om geluk te vind nie. Ongeluk word opsy geskuif met hierdie fundamentele keuse van bevestiging (en die totale negering van negering) sodat geluk bloot omhels en geleef moet word as deel van die aktualisering van ons bestaan, as deel van die lewenskragte wat ons ervaar. Hierdie radikaal immanente posisie van Deleuze (en die gevolglike positiewe beskouing van toeval) bied dus 'n uiters hoopvolle perspektief op die vind en belewing van geluk. Tog is alles nie so eenvoudig soos wat dit op die oog af lyk nie.

In die eksklusiewe bevestiging van bevestiging as die kern van ons bestaan word negering nie net negeer nie of oorkom nie, maar totaal verwerp. Negering, wat die "ongelukkige" kant van ons lewe verteenwoordig, word verwerp en daarmee saam gaan die moontlike kreatiewe en produktiewe potensiaal van negering verlore. Die implikasie daarvan is dat die erkenning van die kompleksiteit van ons bestaan uiteindelik ontken word. Anders gestel: Daar kan iets waardevols, betekenisvols en kreatiefs wees in ongeluk (in pyn en lyding), wat verlore kan gaan as dit ontken word as fundamenteel deel van die kern van ons bestaan.3 Dit kan ook op 'n ander manier gesê word: In hartseer, in ongeluk en selfs in lyding word iets van die volheid van die lewe ervaar. Selfs al is dit ervarings wat ons nie wil hê nie, wys dit vir ons iets van die onverklaarbare wonder, die kompleksiteit van die lewe. Negering kan daarom nie net as sleg en vernietigend verstaan word nie, want dit is so dikwels die bron van ongelooflike kreatiwiteit en selfs skoonheid, waarvan byvoorbeeld soveel kunswerke en musiek getuig. Hierdie intense emosies en ervarings van lyding, hartseer en pyn kan en moet nie ontken of verwerp word net omdat daar 'n melankolie aan verbonde is nie. Dit is deel van ons lewens, en om byvoorbeeld depressief te wees, om hartseer te wees, kan nie net as sleg en vernietigend afgemaak word ter wille van bevestiging nie. Dit beteken egter nie pyn en hartseer moet naïef verheerlik word nie. Dit gaan daaroor dat die potensiële waarde daarvan vir die volheid en kompleksiteit van ons bestaan (en geluk) erken moet word.

Geluk wat in die totale ontkenning van ongeluk en die viering van die bevestiging en toeval van ons bestaan gevind word, is 'n soort geluk wat nie veel meer bied as die ewige poging om negering te oorkom nie. Die verskil is bloot dat met negering geluk 'n onmoontlike ideaal bly, en met bevestiging word geluk per definisie die onbevredigende ontkenning van ongeluk. Om 'n alternatiewe uitkoms vir hierdie dilemma te soek, word vervolgens op die denke van Paul Ricoeur gefokus.

 

Paul Ricoeur se dialektiese benadering tot negering en bevestiging

Ricoeur huldig die idee dat negering potensieel produktief en waarskynlik 'n kernkomponent van ons identiteit as funksionerende mense is (Scott-Baumann, 2013:111).4 Hy verwerp nie negering ter wille van bevestiging nie, maar plaas die twee in 'n dialektiese spanning teenoor mekaar. Negering en bevestiging is deel, en moet deel bly, van hoe die kompleksiteit van ons bestaan verstaan word.

Om dit te bewerkstellig soek Ricoeur binne die begrip van negering 'n bevestiging, maar die negering moet behoue bly in die dialektiese verhouding tot bevestiging. Dit is met ander woorde nie 'n negering wat verswelg word in die dialektiek (Scott-Baumann, 2013:32) soos wat byvoorbeeld in die Hegeliaanse dialektiek plaasvind nie. Ricoeur se kritiek op die Hegeliaanse dialektiek is dat dit uiteindelik lei tot 'n begrip van my bestaan wat uiteindelik verdwyn omdat dit opgeneem word in die deterministiese verloop van die wêreldgeskiedenis. Dan word my bestaan bloot 'n ongeluk, toevallig, en uiteindelik is my vryheid niks: geen-iets. Dit is die uiteindelike "triomf' van die Hegeliaanse ongelukkige bewussyn (Scott-Baumann, 2013:39). Binne so 'n ongelukkige bewussyn meet ek myself aan wat ek nie het nie, die persoon wat ek nie is nie en die verliese wat ek gely het (Scott-Baumann, 2013:79). In 'n verbruikerskultuur het hierdie ongelukkige bewussyn 'n groot invloed op my vermoë om geluk te koop, dwelmmiddels te koop vir geluk en om normaliteit te probeer koop (Scott-Baumann, 2013:79). Dit is die ongelukkige uitkoms as daar gepoog word om negering te oorkom, soos wat ek reeds bespreek het. 'n Dialektiek tussen negering en bevestiging kan dus nie net beteken dat negering verswelg word nie.

Teenoor die Hegeliaanse dialektiek poog Ricoeur om negering en bevestiging in kreatiewe spanning met mekaar behoue te laat bly. Ricoeur voer aan dat die negatiewe (negering) deurslaggewend is vir die positiewe (bevestiging) en dat daar 'n bevestigende kern in die hart van negering is (Scott-Baumann, 2013:28). 'n Blote polarisering van negatief (negering) en positief (bevestiging) as goed en kwaad word daarmee afgewys. Die implikasie hiervan is dat geluk nie die oorwinning oor of oorkoming van ongeluk is nie, maar dat geluk altyd in verhouding tot ongeluk - wat potensieel iets goeds kan inhou - staan.

Ricoeur ontken of verwerp dus nie negering nie, maar bring dit op 'n niebinêre, nieteenstrydige manier in verhouding tot bevestiging. Hy doen dit deur Aristoteles se sin van negering, as óf gewillig óf gely, te kombineer in 'n verstaan van negering as gewillig sowel as gely. Dit word moontlik, soos hy aanvoer, omdat die bevestiging van die wil aan die kern van die negatiewe is (Scott-Baumann, 2013:11). Ons ly nie net die lewe nie, maar kan dit ook wil, want binne die toeval, die pyn en vreugde van ons bestaan lê vir hom ten diepste die vryheid van die wil - die bevestigende kern in die hart van negering. Die implikasie hiervan is dat die negatiewe (negering) behoue bly in 'n positiewe sin. Dit is byvoorbeeld belangrik vir ons selfverwesenliking, omdat dit ons beperkings en ons potensiaal toon. Negering word so binne bevestiging erken (en andersom) as deel van die beperkings, maar ook moontlikhede, van ons bestaan. Hierdie wedersydse erkenning, die verstaan van ons bestaan as gewil sowel as gely, is van kardinale belang vir die etiese en praktiese benadering tot die lewe, want dit beklemtoon beide ons vryheid en ons beperkinge.

Om dit terug te bring by geluk: Negering moenie negeer, ontken of uitgewis word nie, maar eerder erken word in die hoop dat die potensiaal daarvan - om ons beperkings en potensiaal te skep en te wys - in verband gebring word met bevestiging. Negering is iets wat ons wil sowel as ly, en hierin lê 'n andersoortige potensiaal om geluk te vind. Negering kan egter nie die enigste of oorweldigende begrip van ons bestaan (soos nihilisme vir Sartre en/of gevallenheid vir Kierkegaard) wees nie, en ook nie iets wat oorkom kan of moet word wanneer dit individueel gely word vir 'n groter doel (soos Geist vir Hegel) nie. Ricoeur se dialektiese begrip van negering en bevestiging bied hierteenoor die moontlikheid vir selfverwesenliking in die volle sin van die woord. Anders gestel: Die moontlikheid, die potensiaal om 'n mens se lewe binne die blywende spanning tussen negering en bevestiging te lei, is deurslaggewend, omdat hierdie dialektiek die vryheid bied om betekenis en geluk na te streef, en 'n etiese lewe te lei, binne die beperking van ons arbitrêre bestaan.

Hiermee skets Ricoeur 'n hoopvoller prentjie as dit wat die ander tot dusver gebied het, 'n prentjie waarin geluk nie sal verdwyn as 'n onmoontlike doel soos deur die aanvaarding van negering nie. Dit is ook nie een waarin ongeluk verdwyn, of moet verdwyn, as deel van die nastreef van geluk soos met bevestiging nie. Ons bestaan is baie meer ingewikkeld, en by implikasie geluk ook. 'n Erkenning is nodig dat negering sowel as bevestiging, betekenisvolheid sowel as leegheid, geluk sowel as ongeluk, aan die kern van ons wese is. Hierdie soort dialektiese begrip van ons bestaan maak ons vry van die moontlike determinisme van transendensie en toeval. Dit bied die ruimte om geluk na te streef met die wete dat dit die volle omvang van ons menswees, ook die ongelukkige en pynlike kant daarvan, as deel van ons geluk behoue laat bly. Dit bied uiteindelik 'n nuwe verstaan van geluk as altyd gekoppel aan ongeluk en nie die vermyding, ignorering of oorkoming daarvan nie.

 

Slot

Die vraag wat in hierdie artikel ondersoek is, is hoe (lewens)geluk saamhang met transendensie en toeval. Hierdie vraag is in verband gebring met die vrae oor die kern van ons bestaan as negering (iets negatiefs) en/of bevestiging (iets positiefs). Met negering word bedoel dat die kern van ons bestaan sinloos, leeg en gebrekkig is. In dié konteks word geluk 'n onmoontlike poging om ongeluk te oorkom. Negering staan sentraal in die filosofiese en teologiese tradisies en dit word vanuit transendensie en/of immanensie (toeval) gemotiveer. Met bevestiging word bedoel dat daar iets betekenisvols en gelukkigs aan die kern van ons wese lê. Geluk word dan bloot die aanvaarding van bevestiging en die afwysing van ongeluk. Die keuse tussen bevestiging en ontkenning van ongeluk behels egter 'n verskraling van die konsep geluk en dit misken die kreatiewe en produktiewe potensiaal van negering.

Indien mens egter, in navolging van Ricoeur, argumenteer dat die negatiewe op 'n sterk en kreatiewe manier geakkommodeer kan word in die aanvaarding van ons eie kompleksiteit (Scott-Baumann, 2013:6), het dit belangrike gevolge vir die verstaan van geluk. 'n Kombinasie van geluk en ongeluk as geluk - die dialektiek van negering en bevestiging - lei byvoorbeeld tot 'n direkte uitdaging van die sekerheid van geluk en die wanhoop van ongeluk. Dit impliseer verder dat mens die wêreld en sy bestaan - deur die negering en bevestiging daarvan - in die oë kan kyk sonder vrees (of die afbreek van jou geluk) en voluit daarin kan leef. Met ander woorde, die opsie om te ontsnap aan die valse sekuriteit wat gebied word deur geluk wat negering negeer (na 'n ander-wêreldse of in hierdie wêreld), verbrokkel. Die opsie is nou daar om een met jouself te wees - as gelukkig en ongelukkig, as negering en bevestiging - maar ook om een te wees met ander (alle ander - ook diegene wat ly) en met die lydende fisiese wêreld. Lyding of ongeluk hoef nie vermy of oorkom te word ter wille van jou eie geluk nie, maar maak fundamenteel deel daarvan uit. Hierdie geluk vereis dat negering erken word as deel van die kern van jou bestaan, omdat die negatiewe (negering) verstaan kan word as 'n bemagtigende, positiewe krag wat die onvoltooidheid en onsekerheid van die lewe uitwys, maar wat ons tog terselfdertyd wys wie ons is en ons help om die waarhede van lyding, hongersnood, oordaad, wanhoop en vreugde, in elkeen van ons en ook in die breër wêreld in die oë te kyk (Scott-Baumann, 2013:147). Ons taak - juis as ons ten doel het om gelukkig te wees - is om hierdie dinge nie mis te kyk of te probeer vermy nie, maar om dit raak te sien, onsself toe te laat om geaffekteer te word daardeur, om sodoende ook uiteindelik medemenslik en eties op te tree.

Samevattend kan die volgende dan oor die verhouding tussen transendensie, toeval en geluk gesê word:

Indien geluk verstaan word as die oorkoming van die fundamentele tekortkoming of negatiewe van ons bestaan (negering gemotiveer deur transendensie of toeval), bly ons vasgevang in die eindelose kringloop en poging om ongeluk te probeer oorkom. Ons kan dit op talle maniere probeer doen, maar dit bly fundamenteel onmoontlik. Ons bly vasgevang in negering en uiteindelik in ongeluk. Ongeluk bly dan 'n probleem vir geluk.

Wanneer geluk gesien word as die verwerping van negering en die omhelsing van bevestiging word ongeluk en lyding van hul potensiële kreatiewe en betekenisvolle krag gestroop. Met ander woorde, as ongeluk as iets lewensverloënend (as negering) verwerp word en as slegs die positiewe kragte, magte en energieë van die lewe en die natuur - van toeval (as bevestiging) - omhels word, word die potensiële positiewe betekenis en krag van ongeluk en lyding verbeur en ontken. Geluk word dan die ongelukkige taak om ongeluk tot elke prys te verwerp of te vermy. Hierdeur vind daar 'n verskraling van die kompleksiteit van ons menswees plaas en geluk word dan 'n selektiewe (en moontlik onsimpatieke) betrokkenheid by net dit wat "goed" is en energie bied in die lewe. Die probleem is dat hierdie uitkyk op die lewe ook 'n soort selfverstaan vereis waarin 'n mens net die goeie in jouself (en ander) wil en mag waardeer en beleef. Dit lei tot 'n selfbegrip wat voortdurend ondermyn word deur die feit dat ons lewe deels lyding behels - al is dit net deur die passiewe aard van oudword. Geluk word uiteindelik hierdeur verskraal en weer eens 'n hopelose doelwit.

Binne 'n dialektiese begrip van negering en bevestiging word die potensieel positiewe in negering waardeer. Daar is 'n erkenning dat ongeluk fundamenteel deel is van geluk. Ons kom niks kort in die kern van ons bestaan nie. Daar is nie 'n leemte wat per toeval bepaal word nie, of 'n gevallenheid wat deur transendensie bepaal word nie. Daar is niks om fundamenteel te oorkom nie, nie eens ongeluk nie. Dit is egter nie 'n blote aanvaarding van ongeluk nie, maar 'n uitleef van die kreatiewe spanning tussen negering en bevestiging, 'n komplekse onderhandeling tussen geluk en ongeluk waarin ons die potensiaal het om met etiese verant-woordelikheid te leef - met 'n gevoel van betekenisvolheid en 'n baie voller en gelukkiger begrip van geluk. Prakties beteken dit dat ons nie boedel oorgee wat betref wie ons is of wat ons kan bereik nie. Dit beteken dat, ondanks verskillende opvattings van transendensie en toeval, betekenis en geluk in hierdie immanente lewe en wêreld gevind kan word en daartoe kan bydra.

 

BIBLIOGRAFIE

Crisp, R. (ed. & transl.). 2000. Aristotle: Nicomachean ethics (NE). Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Caputo, J. 2006. The weakness of God. Bloomington, Indiana: Indiana University Press.         [ Links ]

Deleuze, G. 1983. Nietzsche and philosophy (transl. H Tomlinson). New York: Columbia University Press.         [ Links ]

Deleuze, G. 1990. The logic of sense (transl. C Boundas). London: The Athlone Press.         [ Links ]

Kierkegaard, S. 1983. Fear and trembling; Repetition (ed. & transl. EH Hong & HV). Hong. Princeton, NJ: Princeton University Press.         [ Links ]

Sartre, J-P. 1992. Being and nothingness (transl. H Barnes). New York: Washington Square Press.         [ Links ]

Scott-Baumann, A. 2013. Ricoeur and the negation of happiness. London: Bloomsbury.         [ Links ]

Spinoza, B. Treatise on the Emendation of the Intellect (TdIE). In Curley, E (ed.). 1985. The Collected Works of Spinoza, Vol 1 (transl. E Curley). Princeton: Princeton University Press. (Aanhalings verwys na die paragraafnommers.         [ Links ])

Stoker, W. 1990. 'Transcendentie' in de post-metafysica van OD Duintjer. IJBFOnline. Berlin, Boston: K.G. Saur. Pp. 198-211. https://www.degruyter.com/database/IIBF/entry/ijbf.ID597002559/html. [22 Julie 2021]        [ Links ]

Verhoef, AH. 2014a. Paul Ricoeur and the importance of a transcendent nature of happiness (Paul Ricoeur en die belang van 'n transendente aard van geluk). Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 54(4):771 -786.         [ Links ]

Verhoef, AH 2014b. Sisyphus, happiness and transcendence. South African Journal ofPhilosophy, 1-10. http://dx.doi.org/10.1080/02580136.2014.976757.         [ Links ]

Verhoef, AH. 2014c. The relation between evil and transcendence: new possibilities? South African Journal ofPhilosophy, 33(3):259-269; http://dx.doi.org/10.1080/02580136.2014.914321. [22 Julie 2021]        [ Links ]

Verhoef, AH. 2017. Encountering transcendence: Zizek, liberation theology and African thought in dialogue. Religions 8(12):271; doi:10.3390/rel8120271. [22 Julie 2021]        [ Links ]

Zizek, S. 2004. The descent of transcendence into immanence, or Deleuze as a Hegelian. In Schwartz, R (ed.). Transcendence, philosophy, literature, and theology: Approach the beyond. New York: Routledge.         [ Links ]

Zizek, S. 2014. Event: Philosophy in transit. London: Penguin Books.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-09-07
Goedgekeur: 2022-02-04
Gepubliseer: Maart 2022

 

 

 

Anné Hendrik Verhoef is professor in filosofie, en direkteur van die skool vir filosofie aan die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Geesteswetenskappe. Hy het studeer aan die Universiteit Stellenbosch en aan die Katolieke Universiteit van Leuven in België. Sy belangstelling is in metafisika, teologie, etiek, lewens-geluk en die filosofie van Paul Ricoeur. Sy navorsing fokus hoofsaaklik op transendensie en die transendente in die kontemporêre kultuur, en hoe dit verband hou met etiek, lewensin en geluk. Hy is 'n NRF gegradeerde navorser en die outeur van verskeie artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte.
Anné Hendrik Verhoef is a professor in philosophy, and director of the school of philosophy at the Faculty of Humanities at the North-West University. He studied at the University of Stellenbosch and at the Catholic University of Leuven in Belgium. His interests are in metaphysics, theology, ethics, the philosophy of happiness, and the philosophy of Paul Ricoeur. His research focuses mainly on transcendence and the transcendent in contemporary culture, and its relation to ethics, politics, meaning of life and happiness. He is a NRF rated researcher and the author of various articles in national and international scientific journals.
1 Ek het in hierdie artikel sulke regstreekse verwysings na teksgedeeltes in Afrikaans vertaal op grond van die Engelse vertalings van die oorspronklike bronne in die bibliografie vermeld.
2 Vir 'n meer volledige bespreking van transendensie soos verstaan in verskillende tradisies (byvoorbeeld: Teologie en Afrika Filosofie), sien my artikel "Encountering Transcendence: Zizek, Liberation Theology and African Thought in Dialogue" (Verhoef, 2017).
3 Sonder om te veel in detail op hierdie punt in te gaan, kan daarop gelet word dat hierdie soort posisie van Ricoeur baie nou verband hou met die uitgangspunt van die pankalisme wat aanvoer dat daar iets goed uit die bose of kwade kan kom. Pankalisme is egter 'n uitvloeisel van die Neoplatoniese filosofie wat die idee voorstaan dat alles op een of ander manier "skoon" (mooi) is, want alles neem deel aan "skoonheid" (die mooie) self. Hierdie metafisiese verstaan van die skone of mooie, vind mens egter nie in Ricoeur se betoog nie.
4 Ricoeur se werk oor negering het nooit as publikasie onder sy naam verskyn nie. Ricoeur se ongepubliseerde studente notas en handboeke (polycopié) van hoofsaaklik 1962 is egter nagevors deur Alison Scott-Bauman en toe in haar boek, Ricoeur and the negation of Happiness (2013), weergegee, In hierdie artikel word dan hoofsaaklik na Scott-Baumann verwys om Ricoeur se verstaan van negering te verduidelik. Die argivale dokumente wat Scott-Bauman van Ricoeur nagevors het word volledig deur haar bespreek in die inleiding van haar boek (2013:ix-xvi).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons