SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número4-2Explorations in a post-normal landscape: South Africa this side of and beyond Covid-19(The) Utopia(n) and becoming (other) in Neill Blomkamp's science-fiction trilogy: District 9 (2009), Elysium (2013) and Chappie (2015) índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.4-2 Pretoria dic. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-2a4 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)

 

Die ontwikkeling en komplekse samehange van die huidige vier bande van Foucault se Histoire de la sexualité

 

The development and complex intersections of the current four volumes of Foucault's Histoire de la sexualité

 

 

Johann Beükes

Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, CHPS, Faculteit Filosofie, Theologie en Religiewetenschappen, Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland. E-pos: johann.beukes@ru.nl

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel bied 'n toeganklike oorsig van die ontwikkeling en komplekse samehange van die huidige vier bande van Michel Foucault (1926-1984) se seksualiteitsgeskiedenis in die reeks Histoire de la sexualité, gepubliseer by Gallimard in Parys. Die eerste band is in 1976 en die tweede en derde in 1984 met Foucault as alleenskrywer gepubliseer, en die vierde band (Les aveux de la chair) het in Februarie 2018 onder redakteurskap van Frédéric Gros gevolg. Les aveux de la chair se huidige status (met inbegrip van die skrywer van hierdie artikel se voorbehoude daaroor) in die reeks en Foucault se groter oeuvre word inleidend aangedui, waarna 'n gedetailleerde oorsig volg van die tematies-chronologiese ontwikkeling van die drie vroeër gepubliseerde bande (La volonté de savoir [gelees met die manuskrip van La chair et le corps, wat waarskynlik geredigeer sal word om as vyfde band in die reeks te dien], L 'usage des plaisirs en Le souci de soi) en die koppeling van hierdie tekste met Les aveux de la chair. 'n Tabel waarin die tematiese en chronologiese samehange tussen die huidige vier en minstens nog twee beoogde bande in die reeks uiteengesit word, word as deel van die gevolgtrekking aangebied.

Trefwoorde: Daniel Defert; Michel Foucault (1926-1984); die geskiedenis van seksualiteit; Frédéric Gros; Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair); La chair et le corps; La croisade des enfants; La volonte de savoir; L'usage des plaisirs; Le souci de soi


ABSTRACT

This article provides an accessible overview of the delicate development and complex intersections of the current four volumes of Michel Foucault's (1926-1984) history of sexuality in the series Histoire de la sexualité. The fourth volume in the series (Les aveux de la chair) was published in February 2018 by Gallimard in Paris under the editorship of Frédéric Gros. The current status in the series of Les aveux de la chair is explored, while this author's reservations about referring to Les aveux de la chair as the fourth volume in the series are discussed. Although these reservations are reviewed here in the light of the most recent developments in the Foucault scholarship, the reasons for those reservations remain unchanged: without a proper account of its idiosyncratic development, the text cannot be regarded as the fourth volume of the series, since it is an edited version of a manuscript that was based primarily on several public lectures presented at the College de France from 1977 to 1981, and not on a manuscript Foucault himself finished and signed off at the publisher.
Furthermore, only days before his death Foucault explicitly prohibited any posthumous publications of his unfinished manuscripts, unpublished lectures and related personal material. Foucault's insistence on "no posthumous publications" was respected for close to 30 years until, in 2013, those manuscripts and related material (comprising around 100 boxes and 40 000pages of manuscript) were transferredfrom a bank vault to the existing Foucault archives at the Bibliothèque Nationale in Paris. Without denying the problem relating to the eventual publication of the unfinished manuscript of Les aveux de la chair, the prevailing consensus in the international Foucault scholarship, after three years of intensive debate, seems to be that the edited text can, for all practical purposes, now be used as the fourth volume in the series. The editing and publication of a fifth and a sixth volume are already considered feasible, probably because of the substantially drafted manuscripts of La chair et le corps and La croisade des enfants, which currently are also held in the expanded Foucault archives [NAF 28730].
Finally, an overview is presented of the thematic and chronological development of the three volumes of Histoire de la sexualité published earlier, namely La volonté de savoir (read with currently available excerpts ofthe manuscript of La chair et le corps), L'usage des plaisirs and Le souci de soi, and the intersections of these three volumes with Les aveux de la chair. The textual development and publication history of the current four volumes are shown to be intricate: each of their origins, objectives and place in Foucault's larger oeuvre should be acknowledged to appreciate the current series as a coherent body of knowledge.
However, thematically and in terms of the time of its conclusion around 1980/1 the edited and now published fourth volume in the series should rather be regarded as the second volume, and the current second (L'usage des plaisirs) and third (Le souci de soi) volumes, which were only completed and published in 1984, as the third and fourth volumes. When this is done, Foucault's development of the series (beginning with early modernity and working his way back to antiquity) becomes clearer. Also, if a fifth (probably La chair et le corps) and a sixth (probably La croisade des enfants) volume from the expanded Foucault archives were to be added to the current series of four volumes, they would, in turn, have to be placed before Les aveux de la chair. The numbering of the second and third volumes in the series would, in this sense, always lead to confusion. The most straightforward solution would be always to keep in mind the "backward development" in the series and not the numbers of the separate published volumes: what will not change is that La volonté de savoir will always be the first, L'usage des plaisirs always the last and Le souci de soi always the penultimate volume. A table setting out this view of the "actual" structure of the series Histoire de la sexualité is given as part of the conclusion of the article in order to summarise in an accessible way a series of complicated considerations proposed in the body of the article (by "actual" volume number is meant the "backward", period-oriented place of the particular volume in the current series):
If, however, La chair et le corps is indeed eventually published as the fifth and La croisade des enfants as the sixth edited volumes in the series, the table would be as follows:

Keywords: Daniel Defert; Michel Foucault (1926-1984); Frédéric Gros; Histoire de la sexualité 4 (Les aveux de la chair); the history of sexuality; La chair et le corps; La croisade des enfants; La volonte de savoir; L 'usage des plaisirs; Le souci de soi


 

 

1. Inleiding: die huidige status van Les aveux de la chair binne die reeks Histoire de la sexualité

Die oogmerk van hierdie artikel1 is om die delikate "terugwaartse" ontwikkeling en die komplekse samehange van die huidige vier bande van Michel Foucault (1926-1984) se seksualiteitsgeskiedenis in die reeks Histoire de la sexualité te ondersoek. Die eerste band in die reeks is in 1976 gepubliseer en die tweede en derde in 1984 by (Editions) Gallimard in Parys (Foucault, 1976, 1984a, 1984b). Op 8 Februarie 2018 verskyn die "vierde" band van Foucault se projek (Les aveux de la chair, wat vertaal kan word as Bekentenisse2 van die vlees) onder redakteurskap van Frédéric Gros, nogeens by (Editions) Gallimard in Parys: "vierde" tussen aanhalingstekens, omdat die gevorderde manuskrip nie deur Foucault self gefinaliseer en formeel by die uitgewer afgeteken kon word voor sy afsterwe op 25 Junie 1984 nie. Daarby gaan die publikasie van hierdie "vierde" volume teen die direkte wens (of liewer uitdruklike opdrag) van die skrywer daarvan in: Foucault het dit naamlik duidelik gemaak (so "on-Foucaultiaans" as wat enige sodanige poging tot soewereiniteit oor die eie oeuvre miskien voorkom), selfs enkele dae voor sy dood nog, dat hy enige vrystellings, verspreidings en publikasies van sy onvoltooide manuskripte verbied, met die saaklike stelling: "Geen postume publikasies nie"3 (Leezenberg, 2018:4; Elden, 2018:293-295; 2016:101-102). Hierdie opdrag is bykans drie dekades lank deur sowel Foucault se lewensmaat Daniel Defert as sy broer en suster geëerbiedig. Defert het trouens so ver gegaan as om al Foucault se persoonlike dokumentasie, waaronder derduisende bladsye ongeredigeerde tekste, uit hulle woonstel in Parys te verwyder en vir die volgende bykans 30 jaar in 'n temperatuurgereguleerde bankkluis te laat wegsluit.

In 2013 het Defert4 egter al Foucault se gebergde manuskripte en aantekeninge aan die Bibliothèque Nationale in Parys verkoop, wat die dokumente binne slegs 'n jaar vir gespesialiseerde navorsing beskikbaar gestel het. Toegang tot die dramaties uitgebreide argief (NAF 28730) is daarna spoedig en aansienlik vergemaklik, sodat die meer as 100 kaste dokumente met bykans 40 000 bladsye ongepubliseerde teks - insluitende opsommings en aantekeninge in Foucault se buitengewoon moeilike snelskrif, kursusmateriaal, handgeskrewe lesings en 'n groot aantal onvolledige manuskripte - aan spesialisnavorsers beskikbaar gestel kon word. Dit sluit die manuskripte (van lesings) in wat uiteindelik in 2018 in die geredigeerde teks Les aveux de la chair neerslag gevind het. Sedertdien is die sluise skynbaar algeheel oopgetrek en word Foucault se uitdruklike opdrag direk veronagsaam (ten spyte van 'n stille verset daarteen by 'n groepie Foucault-navorsers, heeltemal in die minderheid, insluitende die skrywer van hierdie artikel). Die omvangryke toevoegings tot die Foucault-argief sedert 2013 het selfs die projek Foucault Fiches de Lecture (sien Massot, Sforzini en Ventresque, 2018:2) moontlik gemaak, wat gerig is op die digitalisering en die plasing aanlyn van die "nuwe" argiefmateriaal as ooptoegangbronne. Hierdie massiewe herwinningsprojek sluit die transkribering van Foucault se handgeskrewe aantekeninge en aantekeninge uit die verruimde argief met behulp van sagteware soos Transkribus in. Soos met die redigering en publikasie van Les aveux de la chair, ontstaan die vraag na wat die status sou wees van tekste wat so deur middel van sagteware-ontleding beskikbaar gestel is en waarvan Foucault bowendien die verspreiding en publikasie ná sy dood uitdruklik verbied het. Sou Foucault dit aanvaarbaar gevind het dat persoonlike aantekeninge, oorwegend in sy unieke handskrif, op hierdie wyse openbaar gemaak word sonder dat hy dit self kon redigeer of selfs direk voor publikasie net "weer daarna kon kyk", iets waarop hy altyd aangedring het?

Teen die agtergrond van die konflikbelaaide kwessie van herwaarderings van Foucault se berugte betrokkenheid by die Irannese Revolusie van 1978-79 (sien Beukes, 2020b:1-15) is daar met die publikasie van Les aveux de la chair nóg 'n verdelende tema in die eietydse Foucault-navorsing ingebring. Ek aanvaar, ietwat teensinnig, Raffnsee (2018:397-398) se aanduiding dat die beleidsverandering met betrekking tot hierdie nadoodse publikasies langsamerhand minder kategories geword en in goeder trou verloop het - en daarom op die lang duur onvermydelik was. Ek aanvaar ook dat die publikasie van Les aveux de la chair heeltemal sonder presedent in Foucault-navorsing is (met inagneming van Foucault se vergunning betreffende die nadoodse publikasie van bepaalde tekste in Dits et écrits; sien voetnoot 3). Dit is egter belangrik om reeds inleidend aan te dui dat Les aveux de la chair as 'n sogenaamde vierde band tematies-chronologies in die oeuvre uit plek val en eerder as die tweede band van die reeks Histoire de la sexualité tereg behoort te kom (vgl. Chevallier, 2021:1). Die redes vir my standpunt5 oor die huidige status van Les aveux de la chair bly daarom wesenlik onveranderd (soos ingeneem in Beukes, 2020a:7): Les aveux de la chair behoort nié sonder kritiese verantwoording te dien as die vierde band in die reeks Histoire de la sexualité nie, aangesien dit 'n redakteurskapswerk6 is wat gebaseer is op 'n onvoltooide manuskrip wat Foucault nie persoonlik afgeteken het nie.7

Geen Engelse vertaling van Foucault se vroeë klaslesings8 (gedurende die 1960s) oor seksualiteit9 is tot op datum onderneem nie. 'n Engelse vertaling van Les aveux de la chair het op 16 Februarie 2021 by Pantheon in New York verskyn - bekwaam uitgevoer deur Robert Hurley, wat ook meer as drie dekades gelede die Engelse vertalings van die drie bande van Histoire de la sexualité (La volonté de savoir, L 'usage des plaisirs en Le souci de soi) onderneem het. 'n Puik Nederlandse vertaling deur die bekroonde akademiese vertaler Jeanne Holierhoek (2020) is egter reeds in Januarie 2020 by Boom Uitgeverij in Amsterdam gepubliseer. Holierhoek het ook die drie bande van Histoire de la sexualité in Nederlands vertaal10 en in 2017 toeganklik in 'n enkele bundel aangebied (ook by Boom in Amsterdam; sien Holierhoek [2017]). Holierhoek het in 2018 die gesogte Nederlandse Marthinus Nijhoff-vertaalprys ontvang vir haar ryke en geskakeerde vertaaloeuvre, gestempel deur juis hierdie vertaling van die eerste drie bande van Histoire de la sexualité. Ook haar vertaling van Les aveux de la chair kan as indrukwekkend bestempel word - nie net skep Holierhoek 'n diskursiewe kontinuïteit tussen die drie vroeëre bande van Histoire de la sexualité en Les aveux de la chair nie, maar ook 'n estetiese en stilistiese gelyksoortigheid op grond waarvan Les aveux de la chair as 'n vierde band in die reeks soepeler aandoen as wat in die oorspronklike Franse tekste self die geval is.

By hierdie Nederlandse vertaling binne slegs twee jaar ná die publikasie van Les aveux de la chair in Frans en by intensiewe Nederlandse ontledings daarvan reeds voor en kort ná Februarie 2018 (die uitstekende ontleding van Radboud-emeritus Machiel Karskens [2019:559581], 'n verruiming van sy Foucault-monografie [Karskens, 2012], is 'n hoogtepunt; vgl. Beukes, 2020a:3, voetnoot 6)) moet ook die betekenisvolle ontleding van Les aveux de la chair deur Karskens se kollega Herman Westerink (Die lichamen en hun lusten, 2019) gereken word. Terwyl Holierhoek die eerste vertaling van Les aveux de la chair in enige taal aangebied het, tel Karskens en Westerink onder die nie-Engelstalige navorsers wat die eerste grondige ontledings van die werk gedoen het.11

 

2. Die ontwikkeling van La volonte de savoir en La chair et le corps na Les aveux de la chair

Die volgende titels moet van hierdie punt af nougeset van mekaar onderskei word om die doolhof van ontwikkeling in die reeks Histoire de la sexualité effektief te navigeer (die oorspronklike Franse titels word gehandhaaf):

Histoire de la sexualité dui op die gepubliseerde reeks van drie bande (Foucault 1976, 1984a, 1984b; in Engels The history of sexuality, Nederlands Geschiedenis van de seksualiteit, skrywersvoorstel vir 'n Afrikaanse vertaling, ook infra, Die geskiedenis van seksualiteit).

Les aveux de la chair (Foucault in Gros, 2018) is die vierde (geredigeerde) band in hierdie reeks (in Engels Confessions of the flesh, Nederlands Bekentenissen van het vlees, voorgestelde Afrikaans Bekentenisse van die vlees).

La chair et le corps was die aanvanklik beoogde tweede band van Histoire de la sexualité, maar om redes wat hier onder verduidelik word, het dit nie so gerealiseer nie; tans kan dit as 'n steeds gedeeltelik geredigeerde manuskrip en stel aantekeninge in die Foucault-argief bestudeer word (Engels The flesh and the body, Nederlands Het vlees en het lichaam, voorgestelde Afrikaans Die vlees en die liggaam).

Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir is die gepubliseerde eerste band in die reeks Histoire de la sexualité (Foucault, 1976; in Engels The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge, Nederlands De wil tot weten, voorgestelde Afrikaans Die wil tot kennis).

Histoire de la sexualité 2: L 'usage des plaisirs is die gepubliseerde tweede band in die reeks (in Engels The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure, Nederlands Het gebruik van de lusten, voorgestelde Afrikaans Die gebruik van die drifte).

Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi is die gepubliseerde derde band in die reeks (in Engels The history of sexuality, Volume 3: The care of the Self, Nederlands De zorg voor zichzelf, voorgestelde Afrikaans Die sorg van die self);

Die College de France Leçons is lesings wat Foucault aan die College de France gegee het, plus die jaartal (College de France Leçons 1977-1978 behels byvoorbeeld lesings wat in die Europese akademiese jaar 1977-78 gegee is; so 'n akademiese jaar begin normaalweg op 1 September en eindig omstreeks einde Junie die daaropvolgende jaar).

Foucault ontleed12 in Les aveux de la chair die wyse waarop daar in die vroeë Christendom oor seks (of die "toegewing aan die drifte") gedink, gepreek en pastoraal gehandel is. Die kerk- en woestynvaders van die patristiek (van die tweede tot die vroeë vyfde eeu) en Vroeë Middeleeue13 (vanaf die vroeë vyfde eeu) se beskouinge oor seks word gewoonlik met 'n puriteinse sin vir sedelikheid in verband gebring, benadruk deur 'n kuisheidsideaal en 'n hoë premie op die selibaat (oftewel 'n permanente toestand van maagdelikheid).14 Foucault interpreteer en nuanseer hierdie vorm van vroeg-Christelike sedelikheid op 'n unieke wyse. Bewus van die verskille tussen die apostoliese (in die besonder by Paulus van Tarsus, wat die "liggaam" en die [sondige]15 "vlees" uitdruklik van mekaar onderskei het) en patristiese (onder meer by Aurelius Ambrosius, ca. 340-397) interpretasies van die verhouding tussen enersyds die selibaat en ander wilsmatige onthoudinge van seks op morele gronde, en andersyds die verwekking van kinders (vir die kerkvaders uitdruklik binne die huwelik), betoog Foucault dat die "liggaam" in hierdie tydperk (dus die tweede tot vroeë vyfde eeu) algaande verander in 'n "nuwe innerlike ervaring" van die "vlees". In die "vlees", anders as die "liggaam", word daar gedurende die patristiek naamlik allerlei geheime, reëls, voorskrifte en tegnieke vir selftegnisering of "'n hermeneutiek van die self" ingebed onder die vaandel van "selfoffer" of "selfprysgawe" (vgl. Karskens, 2021). Soos in die drie vroeër gepubliseerde bande van Histoire de la sexualité maak Foucault dit in Les aveux de la chair duidelik dat seksualiteit geen konstante, seker en voorspelbare gegewe is nie, maar die uitkoms van 'n telkens nienoodsaaklike historiese ontwikkeling (oftewel "kontingensie") waarvan die toekoms onbepaald is en slegs betreklik bepaal (en telkens heropen) kan word deur kritiese ontledings van kontingensie. Dié soort ontleding is kenmerkend van Foucault se oeuvre.

In skerper filosofiese en teologiese vaktaal geformuleer: In Les aveux de la chair behandel Foucault, steeds binne die konteks van sy aweregs historiografiese ontleding van seksualiteit in die Westerse ideëgeskiedenis, die oorgang (hoewel, soos aangedui infra, eerder 'n voortsetting van die heidense oudheid na die vroeë Christendom. Hy bespreek die benaderings van kerkvaders soos Klemens van Aleksandrië (ca. 150-ca. 215), Methodius van Olimpus (oorl. ca. 311; sien Vandermeersch, 2021; vgl. Beukes, 2021c:4-8), Johannes Chrusostomus (ca. 349-407; sien De Wet, 2020:114-151; vgl. Beukes, 2021a:1-4), Johannes Cassianus (ca. 360-435; sien Westerink, 2021; vgl. Beukes, 2021b:5-6) en Augustinus (sien Praet, 2020:213236; vgl. Beukes, 2021a:1-4) met betrekking tot seksuele begeerte, die huwelik, vrugverwek-king en maagdelikheid; dit bed hy in in teologiese kontekste wat handel oor die skepping (en voortgaande skepping via menslike voortplanting), die sondeleer (veral met betrekking tot die unieke Augustynse erfsondeleer) en Christosentriese verlossingsleer. Foucault rig hom egter in die besonder op die implikasies van hierdie dogmatiese kwessies vir die lewenspraktyk deur te fokus op temas soos bekentenisrituele, pastorale leiding en selfondersoek, soos wat dit aanvanklik in die vroegste (Noord-Afrikaanse, Bisantynse en die vroeë Latyns-Westerse) kloosterwese en later in die algemene kerk tot uitdrukking gebring is. Foucault dui aan hoe daar gevolglik 'n "nuwe ervaring" van die "innerlike mens" ontstaan het, hoe dit in Augustinus se opvattinge van die vrye wil (epistemologies geprioritiseer bo die intellek) neerslag gevind het en hoe die ideaal om die daarbinne sluimerende seksuele begeerte te onderwerp ontwikkel het.

Die jukstaposisie van liggaam en vlees gaan egter reeds terug na die eerste band in die reeks, Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir. In hierdie werk, gepubliseer in Desember 1976, maak Foucault hoogs oorspronklike aansprake ten opsigte van "die konstituerende subjekte van seksualiteit", met verwysing na "die afwykende seksueel" (le déviant sexuel), "die histeriese vrou" (l'hystérique), "die masturberende kind" (l'enfant masturbateur) en "die getroude ('Malthusiaanse') egpaar"; laasgenoemde verwys na die diepgaande sosialisering van voortplantingsgedrag in die Victoriaanse tyd, met kinders as 'n statusaanduiding binne die betrokke konteks (Foucault, 1976:3, 100, 105). Daar is egter aanduidings dat Foucault se belangstelling direk ná die verskyning van La volonté de savoir - 'n teks wat grootliks met die vroegmoderne (17de tot die 19de eeu) as ideëhistoriese bron gewerk het (met inbegrip van niesistematiese verwysings na en besprekings van die Middeleeue) - na veel vroeër en selfs antieke bronne begin beweeg het. Foucault was trouens teen Augustus 1977 oorwegend met patristiese literatuur besig (vgl. Elden, 2018:298-300). Sy groeiende belangstelling in die patristiek is duidelik sigbaar in sy daaropvolgende Collège de France Leçons 1977-1978, vertaal onder die titel Security, Territory, Population, waarin hy hom verdiep het in die vroeg-Christelike pastoraat (vgl. Paras, 2006:57-90) en hierdie belangstelling word toenemend duideliker in die lesings van die jaar daarna (College de France Leçons 1979-1980)16Foucault het dele van hierdie twee kursusse ook gebruik vir sy Tanner-lesings (Omnes et singulatim) by die Stanford-Universiteit in die VSA in Oktober 1979. Tydens sy besoek aan Japan in die eerste helfte van 1978 (slegs enkele maande voor hy vanaf September 1978 by die Irannese Revolusie betrokke geraak het), het Foucault 'n soortgelyke lesing aangebied (vertaal onder die titel Sexuality and Power) waarin hy temas uit die patristiek selfs meer eksplisiet met 'n seksualiteitsontleding verbind het (vgl. Beukes, 2020b:3).

Die mees uitstaande kenmerk van La volonté de savoir was sonder twyfel Foucault (1976:1-16) se aanval op die sogenaamde repressie-hipotese, wat in die 1960s buitengewoon gewild in psigoanalitiese en Marxistiese kringe was (vgl. Beukes, 2020d:2-3). Volgens hierdie hipotese is die Victoriaanse samelewing gekenmerk deur die onderdrukking van die drifte, wat tot allerlei neuroses aanleiding gegee het en eers gedurende die kultuurrevolusie van die 1960s onder leiding van psigoanalitiese praktisyns soos Wilhelm Reich terapeuties aangepak sou word, om daarmee 'n selfverwesenliking ten aansien van "seksuele bevryding" te bewerkstellig. Foucault betoog dat hier geen sprake van "bevryding" is nie, maar juis 'n nuwe vorm van magsuitoefening waarin mense opnuut gedwing is om "die waarheid te beken" en wat geensins verskil het van die soort patologisering van seksualiteit (byvoorbeeld "homo" teenoor "hetero") wat so dominant in die laaste helfte van die 19de eeu was nie (op grond waarvan homoseksualiteit byvoorbeeld sedert 1891 as 'n diagnoseerbare en geneesbare "patologie" verstaan is). Foucault betoog gevolglik dat die drifte nie "natuurlike" werklikhede is nie, maar vormprodukte van die verhouding tussen kennis en mag; in daardie sin is die drifte dus "kulturele" gegewenhede. In hierdie opsig sit psigoanalise volgens Foucault op diskursiewe wyse die minstens jaarlikse Christelike aflegging van die sakrament van die bieg voort, wat sedert die Vierde Lateraanse Konsilie van die 13de eeu (1215) gekanoniseer is. Moderne psigoterapeute, net soos die kerkvaders en die latere Middeleeuse biegvaders, oefen daarmee "pastorale mag" oor kwesbare individue uit, ter wille van hulle gewaande liggaamlike en geestelike welsyn. Die opvolgende betoog in La volonté de savoir lui dat die Westerse samelewing reeds sedert die 13de eeu (en nie eers sedert die Victoriaanse tyd nie) sistematies dog repressief op seks gefikseer het: Die sosiale konvensies uit daardie Hoogmiddeleeuse tydperk wat seksuele kontak streng gereguleer het, het deur middel van die biegpraktyk 'n progressiewe openbaarmaking of "diskoers" geproduseer, wat daartoe gelei het dat hierdie diskoers sedertdien 'n maatskaplike alomteenwoordigheid geword het. Die begrip seksualiteit is uiteraard self 'n gevolg van die 19de-eeuse diskoers oor seksualiteit en dit is die rede waarom seksualiteit volgens Foucault 'n betreklik onlangse "uitvinding" is. Die streng regulering van seks in die Middeleeue was, afgesien daarvan dat dit 'n selfperpetuerende diskoers tot stand gebring het wat andersins nooit 'n selfstandigheid sou word nie, ironies uitermate produktief: seksuele identiteite is daardeur geskep en 'n meervoudigheid van seksualiteite is juis op hierdie wyse bevorder (vgl. Beukes, 2020d:2).

Reeds in La volonté de savoir betoog Foucault (1976:19-20) dat die "waarheid van die vlees beken" moes word ten einde deur die waarheidsbekentenis getransformeer te word. Die waarheidsbekentenis is selftransformerend in die sin dat dit gerig is op 'n driedelige bevestiging van die subjek of self deur die belydenis van geloof, die openbare skuldbekentenis en uitdruklike blyke van persoonlike skuld, byeengebring onder die begrippe bekentenis, selfondersoek en geestelike worsteling, onder begeleiding van 'n pastorale figuur. Aan die hart van hierdie selfbevestiging deur bekentenis lê, dialekties, selfaflegging of selfopoffering. Hierdie bekentenisse, selfondersoeke en geestelike worstelings kan geag word 'n voortsetting te wees van parresia, die antieke kuns van selftransformasie deur die waarheid openlik te praat, ongeag die gevolge. Foucault (1976:32-33) dui op hierdie parresiaanse spoor aan dat seksuele praktyke deur sulke bekentenisse "gesubjektiveer" is, waarmee hy bedoel dat seks, per definisie 'n relasionele aangeleentheid, gewysig is tot 'n selfgerigte ondersoek na die eie of subjektiewe seksuele begeertes. Die selfeksaminering ten opsigte van die eie drifte subjektiveer die selfondersoekende subjek ineens as 'n regsubjek, onderworpe aan die een of ander wet. Hierdie temas word grondig uitgewerk in die latere Les aveux de la chair.

In die College de France Leçons 1975 (gelewer op 19 Februarie 1975, dus kort voor die publikasie van La volonté de savoir; sien Karskens, 2019:577 [voetnoot 70]) ondersoek Foucault die Pauliniese en latere Christelike onderskeid tussen enersyds die liggaam (corps) en liggaamlike genietinge (plaisirs) en andersyds die (sondige) vlees (chair) en vleeslike begeertes of wellus (désirs), maar dáár aan die hand van 17de-eeuse biegtekste. Foucault betoog, uitgaande van die vertrekpunt waarmee La volonté de savoir 'n jaar later in 1976 sou begin (en Les aveux de la chair in 2018 per Augustinus sou eindig) dat dit nie soseer gaan om die bekentenis van 'n sondige wellustigheid in die seksuele gemeenskap met ander subjekte nie, maar om die verwoording (en voortgaande openbaarmaking) van die eie seksuele begeertes en intieme gedagtes, altyd en steeds in diens van 'n "wil tot kennis". La volonté de savoir stel liggaam en vlees op hierdie wyse genuanseerd teenoor mekaar. Hierdie teenoorstelling word voortgesit in die tipering van die onderskeid tussen ars erotica en scientia sexualis as "kultureel", naamlik tussen vergange nie-Westerse kulture (Rome opvallend daarby ingesluit, sien infra) en die moderne, Westerse, post-Christelike kultuur. Hierdie laaste teenoorstelling word deur Foucault in La volonté de savoir sistematies uitgewerk, met die onderneming (Foucault, 1976:208) dat 'n reeks "opvolgwerke" 'n "teenaanval" op hierdie "moderne seksualiteitsverklaring" sal behels wat nie sal "steun op vlees en begeerte" (chair en désirs) nie, maar "op die liggaam en die liggaamlike genietinge" (corps en plaisirs).

Op die agterblad van die eerste uitgawe van La volonté de savoir verskyn gevolglik 'n vyfdelige skema wat die beplande titels van sodanige seksualiteitskritiese opvolgwerke in die vooruitsig stel, maar wat uiteindelik nooit (of nog nie) verskyn het nie en ook nie in die wel gepubliseerde twee opvolgbande Histoire de la sexualité 2: L 'usage des plaisirs en Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi verwesenlik is soos Foucault dit aanvanklik wou hê nie: 1) La chair et le corps, 2) La femme, la mère et l'hystérique,17 La croisade des enfants,18 4) Population et races,19 en 5) Les pervers.20Hierdie titels - die manuskripte van 1 en 3 is in 2013 ook tot die uitgebreide Foucault-argief toegevoeg en sal hoogs waarskynlik die basis vir verdere geredigeerde opvolgbande21 in die reeks Histoire de la sexualité uitmaak - maak dit duidelik dat Foucault steeds op La volonté de savoir se spoor die verhouding tussen die "wil tot kennis" en moderne instellings (soos hospitale, klinieke, tronke, skole en fabrieke) wou ontleed. Die eerste van hierdie aanvanklik beplande opvolgwerke, La chair et le corps, fokus reeds in die titel eksplisiet op die onderskeid en wisselwerking tussen vlees (chair) en liggaam (corps).

Die gevorderde, gedeeltelik geredigeerde manuskrip en verwante aantekeninge vir hierdie eerste aanvanklik beoogde opvolgwerk - La chair et le corps - beslaan drie uit die ongeveer 100 kaste dokumente wat tot die verruimde Foucault-argief toegevoeg is (Gros, 2018:I [voetnoot 3]). Dit is ook duidelik dat Foucault reeds in La chair et le corps22die alternatiewe titel Les aveux de la chair oorweeg het (Gros, 2018:I [voetnoot 4]). La chair et le corps se wesenlike oogmerk was om die voortgaande institusionalisering van die biegpraktyk in die Laat Middeleeue (15de en selfs nog die 16de eeu) te ondersoek - reeds vanaf die Vierde Lateraanse Konsilie (1215), waarop die verpligte jaarlikse bieg gesakramentaliseer23 is, maar in die besonder vanaf die Konsilie van Trent (1545-1563; Concillium Tridentinum), wat gevolg het op die Vyfde Lateraanse Konsilie (1512-1517, die laaste konsilie direk voor die Hervorming van 1517). Foucault volg in La chair et le corps die spoor wat hy reeds in La volonté de savoir uitgelê het na die openbare ruimte waarin seksualiteit diskoers sou word, naamlik die bieg as 'n vorm van waarheidsbekentenis: eenmaal in die ope gebring, selfs in die veronderstelde begrensde en sakramenteel vertroulike sfeer van die bieghokkie, sou seksuele voorkeure, begeertes en oriëntasies nooit weer privaat kon wees nie.

Foucault bevestig ook in La chair et le corps sy vroeëre onderskeid in La volonté de savoir (Foucault 1976:51-74) tussen twee Westerse perspektiewe op seksualiteit: Die eerste, ars erotica, verskuif die blik geografies vanaf Wes na Oos, na China, Japan en Indië, en kultuurhistories na Athene en Rome, waar ars erotica geassosieer is met 'n geheimenisvolle en erotiese kuns, opgeneem in mundaan-oorstygende seksuele ervarings wat nie op skande of skuld gedui het nie en dus geen verbod behoef het nie, mits dit in radikale privaatheid beoefen is (met die uitgangspunt dat enige vorm van openbaarmaking die veronderstelde plesier wat in hierdie verskuilde erotiese ondernemings opgesluit kon wees, sou vernietig; Foucault 1976:57-59). Die tweede perspektief, scientia sexualis, dui op die geleidelike verwetenskap-liking van seksualiteit reeds sedert die Hoogmiddeleeue, dit wil sê 'n "kennis van seks" en juis daarom "seksualiteit" waarvan die institusionele oorsprong inderdaad die Middeleeuse bieg was: As presies die teenoorgestelde van ars erotica is dit nie net die dinamiek van die bekentenishandeling - om te praat oor seks, om ondervra te word oor seks - wat ter sprake is nie, maar die voortgaande behoefte in die samelewing sélf om aanhoudend daaroor te bly praat, aangesien die "waarheid aangaande seks" nou immers in die ope gebring is. Die bieg, synde 'n vorm van bekentenis, speel so volgens Foucault se lesing 'n sentrale rol as 'n "individualiseringsprosedure deur mag" (Foucault, 1976:47).

Foucault wou in La chair et le corps dus naspeur hoe die diepgaande seksuele stemming van die bieg sedert bogenoemde Vyfde Lateraanse Konsilie en die Konsilie van Trent in die 15de en 16de eeu stelselmatig tot die selfs dringender seksueel georiënteerde perspektiewe van moderne psigoanalise aanleiding gegee het - en hoe die bieg diskursief as't ware in psigoanalise opgeneem is. Met ander woorde, Foucault se basisvraag is hoe die "bekentenis van waarhede" aangaande die seksuele self institusioneel tydens die moderne tydperk omvorm is. Die Middeleeuse biegvader en die moderne psigoanalis het immers een en dieselfde oogmerk: die naspeur van die bekennende subjek se beweegredes vir elke handeling, bewustelik en onbewustelik, hetsy geleef of gedroom, gerealiseer of gewens. Die Christendom se histories oordrewe belangstelling in die seksuele moraal sedert die patristiek vind dus duidelik neerslag in die alomteenwoordigheid van seks en die voyeuristiese aard van (veral Freudiaanse) psigoanalise op grond waarvan seksualiteit as 'n hermeneutiese sleutel funksioneer en die voorwaarde vir elke identiteitsontleding of "diagnose" is. Inderdaad: gestel teenoor ars erotica is die seks van scientia sexualis "saai seks" (Huijer, 2021), juis omdat hierdie moderne aanbod van seks nou 'n alomteenwoordigheid geword het. In hierdie opsig is daar geen verskil tussen die aard van die waarheidsbekentenis in die Middeleeuse bieghokkie en dié van die divan in die spreekkamer van 'n psigoanalis nie. Die biegsubjek, hetsy as 'n "sondaar" of 'n "pasiënt", is onderworpe aan ononderbroke selfontledings waarin selfs die mees verbygaande gedagte of herinnering gelaai kan wees met seksuele inhoude waarvan die waarheid ten volle beken moet word ten einde tot "verlossing" (of, in psigoanalitiese taal, tot "terapeutiese selfaanvaarding") te kom. Hierdie ononderbroke selfontledings het 'n "hermeneutiek van die self' (sien Gros, 2001) of "selftegnisering" tot gevolg.

Nietemin was die vroeg-Christelike pastoraat nie die sentrale fokuspunt in La chair et le corps soos wat dit wel in Les aveux de la chair is nie. Foucault wou ooreenkomstig sy interpretasie van die vroeë Christendom in Les aveux de la chair nie meer doen as om met bogenoemde as uitgangspunt aan te dui dat die Christelike bieg die morele inhoude van seksuele gedrag benadruk het nie, wat die ontwikkeling van strafkodes vir "oortreders" en die institusionalisering van pastorale magstrukture as gevolg gehad het en uiteindelik in bogenoemde 13de-eeuse sakramentalisering van die bieg 'n hoogtepunt bereik het. Foucault nuanseer in La chair et le corps (en dít is wel in die gepubliseerde tweede band van Histoire de la sexualité [L 'usage des plaisirs] verder ontwikkel) ook sy kontingente beskouing van seksualiteit soos wat dit meer kursories reeds in La volonté de savoir aangebied is - naamlik dat seksualiteit die scientia sexualis of "wetenskaplike" resultaat van 'n nienoodsaaklike historiese ontwikkeling is, kultureel arbitrêr byeenbring in en bemiddel deur 'n veelheid verwetenskaplikte (dit is inderdaad volonté de savoir, wil tot kennis), psigologiese, fisiologiese en maatskaplike (plaaslik partikuliere) oorwegings.24 Hierdie kulturele bemiddeling is algeheel onbeskeie: scientia sexualis maak nie slegs aanspraak op 'n legitieme waarheidsoeke deur bekentenis nie, maar impliseer dat daar inderdaad iets soos 'n oorspronklike, outentieke en "normale" seksualiteit is. Enige variasie op sodanige outentieke seksualiteit dui op 'n afwyking en selfs 'n perversie van seksualiteit - en daarom op 'n "perverse mens" of 'n afwykende individu. Die norm vir afwyking in scientia sexualis is volgens Foucault inderdaad steeds seksuele begeerte, wat omgekeerd dus ook gebruik kan word om "normaliteit" (en gevolglik "gesondheid", "toerekeningsvatbaarheid", "sanitasie", "higiëne" en so meer) te definieer. Die moderne subjek word deur scientia sexualis dus opgestel volgens seksuele begeerte en enige en alle afwykings25 daarvan (sien Foucault 1976:67-74).26

La chair et le corps was dus veronderstel om die tweede band in die reeks Histoire de la sexualité te wees - maar dit het nie so gerealiseer nie. Die belangrikste funksie van hierdie (tans nog net 'n) gedeeltelik geredigeerde manuskrip en stel notas is dat dit gedien het as 'n inleier tot die tekste wat Les aveux de la chair uitmaak. Dit ondersoek die voortgaande institusionalisering van die biegpraktyk in die Laat Middeleeue van selfs naderby as in La volonté de savoir, dit verken die ontwikkeling van die seksuele stemming van die bieg van die Konsilie van Trent en die Vyfde Lateraanse Konsilie af tot in die moderne psigoanalise verder en dit verskaf verhelderende kommentaar op sentrale begrippe in sowel La volonté de savoir (veral ten opsigte van ars erotica en scientia sexualis) as in Les aveux de la chair (veral ten opsigte van die vlees) (vgl. Chevallier, 2021:1). Die drie kaste materiaal wat die manuskrip en toepaslike aantekeninge van La chair et le corps in die Foucault-argief bewaar, kan dan binne die afsienbare toekoms lei tot die publikasie van 'n vyfde band (dan vanselfsprekend weer geredigeer en tematies-chronologies buite plek) in die reeks (vgl. Gros, 2018:VIII-X). Die vraag is egter hoe die twee bande wat wél as Histoire de la sexualité 2 en 3 in die reeks gepubliseer is, L'usage des plaisirs en Le souci de soi, terugkoppelend met Les aveux de la chair saamhang.

 

3. Die terugkoppeling van L'usage desplaisirs en Le souci de soi na Les aveux de la chair

Van 1977 tot 1981 was Foucault, soos vermeld, op die een of ander wyse konstant gemoeid met patristiese literatuur, wat hy na bogenoemde sesdelige skema in opvolgbande van La volonté de savoir neerslag wou laat vind, met Les chair et le corps as die beoogde eerste daarvan. Foucault was nie seker hoe en waar hy dit wou doen nie: hy het in daardie stadium so 'n magdom oorspronklike materiaal tot sy beskikking gehad dat die bandverdeling van hierdie beoogde opvolgwerke 'n daadwerklike probleem geword het. Die manuskrip van Les aveux de la chair was egter in Junie 1984 amper voltooi; Foucault het trouens steeds daaraan gewerk gedurende sy laaste verblyf in die Pitie-Salpetrie-hospitaal in Parys, letterlik nog dae voor sy dood. Die werksdokument het toe reeds hierdie unieke titel gedra. Hoewel Foucault die manuskrip reeds in Oktober 1982 voorlopig by Gallimard ingedien het, was sy versoek (op grond van 'n aanbeveling van sy vriend die historikus van die oudheid Paul Veyne [vgl. Veyne, 1978]; Gros, 2018:VII) dat die uitgewer eers met die voorbereiding vir die publikasie van die manuskrip moes wag. Die inleidingshoofstuk in die werk het wel oor Hellenistiese en Romeinse seksuele praktyke gehandel, maar Foucault wou sy lesing van sommige van die primêre tekste hersien. Hy het hierdie hersiening breedweg reeds ingevoer in die Collège de France Leçons 1980-1981, op grond waarvan hy besluit het dat die opvolgband vir Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir hierdie Grieks-Romeinse praktyke sou byeenbring as L'usage des plaisirs en nié as Les chair et le corps nie. Die beoogde derde band van Histoire de la sexualité (dit sou dan Les aveux de la chair moes wees, wat ook die manuskrip van Les chair et le corps sou ingesluit het) sou dan die patristiese materiaal in hierdie derde band met die heidense materiaal in die tweede band vergelyk en integreer. Die College de France Leçons 1981-1982 (in Gros, 2001, L 'herméneutique du sujet) het hierop gevolg en het die wesenlike materiaal via vyf manuskripte verskaf vir wat in 2018 sou uitloop op die publikasie van die geredigeerde werk Les aveux de la chair.

Omdat die omvang van die materiaal vir die "nuut oorweegde" tweede band egter so enorm was, het Foucault dit wéér in twee verdeel, die eerste ("Hellenistiese") deel van 285 bladsye (in vertaling 293 bladsye met indeks) met die titel L 'usage des plaisirs en die tweede ("Romeinse") deel van 284 bladsye (in vertaling 279 bladsye met indeks) as Le souci de soi (soos hy dit self in die inleiding van L'usage des plaisirs [1984a:3-13] verduidelik). Le souci de soi sou nou as die derde band van Histoire de la sexualité dien. Eers nadat hierdie proses van die skeiding in 'n meer hanteerbare tweede en derde band afgehandel is, het Foucault die manuskrip van Les aveux de la chair wat hy in Oktober 1982 by Gallimard ingedien het, teruggetrek om dit tot die vierde band van Histoire de la sexualité by te werk. Daar was inderdaad, met inbegrip van die aanvanklike voorbehoude wat Foucault oor hierdie manuskrip as vierde band gehad het en die feit dat die gefinaliseerde tweede (L 'usage des plaisirs) en die derde (Le souci de soi) band nou daardie voorbehoude grondig behandel het, nie meer soveel afrondingswerk aan die manuskrip vir Les aveux de la chair oor nie. Daar was ongelukkig nie meer tyd vir Foucault oor om die laaste hoeke af te skuur en die tikkopié vir Gallimard af te teken nie.

Dit is dan hoe die drie gepubliseerde bande van Histoire de la sexualité van 1976 tot 1984 beslag gekry het, hoewel die materiaal vir Les aveux de la chair, wat sowel die manuskrip (saamgestel uit die College de France Leçons 1981-1982) en sommige aantekeninge van Les chair et le corps ingesluit het, reeds in 1980 afgehandel was. Dit is ook die rede waarom Les aveux de la chair oeuvre-chronologies meer korrek as die tweede band in die reeks sou moes dien, en nie as die vierde nie, en waarom hier van 'n "terugkoppeling" uit L'usage des plaisirs en Le souci de soi na Les aveux de la chair gepraat word.

In hierdie tweede en derde band van Histoire de la sexualité fokus Foucault op onder meer die probleem van seksuele beheerverlies, wanneer die seksuele handeling (veral ten opsigte van die verlies aan selfbeheer tydens orgasme) in 'n bepaalde ekonomie van plesier ingebed behoort te word ten einde die subjek steeds in staat te stel om aan die Hellenistiese ideaal van selfbemeestering te voldoen. In Les aveux de la chair word seksuele aktiwiteit egter geproblematiseer deur meer uitdruklik te fokus op seksuele begeerte of Augustynse libido, waarin die seksuele handeling nie in 'n ekonomie van plesier ingebed word nie, maar in 'n ekonomie van waarheid. Aangesien die opheffing van die kwaad of "verlossing van die bose" in die vroeg-Christelike ervaring gekoppel is aan ware selfkennis (wat die openbaarmaking of veruitwendiging van daardie kennis veronderstel, aangesien die subjek se eie oordeel nie vertrou kon word nie), moet die subjek sigself aan "tegnieke van die self' onderwerp (waaronder die bieg onder pastorale begeleiding) ten einde die self te "ken", sodat die waarheid dat hierdie self inderdaad deur seksuele begeerte besete is, gemanifesteer kan word. Beken ter wille van ken: ten einde kennende subjek te kon wees, moes die vroeg-Christelike subjek eers en eerstens bekennende subjek wees.

In die inleiding tot L 'usage des plaisirs (Foucault, 1984a:1-32) dui Foucault die oogmerk van die tweede en die derde band van Histoire de la sexualité aan. Hy betoog dat hy geen behae in 'n konvensionele historiese oorsig van die ontwikkeling van beskouinge oor seks het nie, maar geïnteresseerd is in juis die wyse waarop hierdie beskouinge gekonseptualiseer is. Foucault wou uitdruklik ontsnap aan die impasse geskep deur die heersende (moderne) konseptuele raamwerk van seks en seksualiteit: Hierdie twee bande het volgens hom nie die oogmerk om 'n geskiedenis van seksuele gedragsvorme aan te bied nie, ook nie 'n geskiedenis van voorstellinge daaromtrent nie, maar 'n geskiedenis van "seksualiteit", en hy het beklemtoon dat die aanhalingstekens belangrik is (Foucault, 1984a:3). Foucault verduidelik dan dat seksualiteit 'n moderne (synde scientia sexualis, 'n spesifiek 19de-eeuse verskynsel) is wat geen semantiese presedent in die Hellenistiese en Romeinse kontekste het nie. Die Grieke en Romeine het toegewing aan die seksuele drifte as natuurlik beskou en eenvoudig daarna verwys as ta aphrodisia (τά Ἀφροδίσια, of erga Aphrodites, "die werke van Ἀφροδίτη", Foucault se voorkeurbegrip), wat nie soos scientia sexualis die verhouding tussen seksuele begeerte en identiteit probeer naspeur en gevolglik fokus op die objekte van begeerte nie (Foucault, 1984a:38-52). Die werke van Afrodite het in die Hellenisties-Romeinse konteks 'n diep maatskaplike karakter: Die fokus val trouens algeheel weg van objekte van begeerte en die seksuele identiteit van een of beide seksgenote en vra eerder na die posisie van die genote in die samelewing en juis hoe die betrokke ontmoeting bydra tot Afrodite se werke, dit wil sê die "gebruik" en ontwikkeling van die drifte.

Die Grieke vra gevolglik na die gebruik of chresis (xpfjoiç) van die drifte vanuit die invalshoek van die morele karakter van die betrokke seksgenote (Foucault, 1984a:53-62): Nie seksuele begeerte of seksuele identiteit (oriëntasie) nie, maar die maatskaplike posisie of mag van die genote is deurslaggewend vir die verantwoording van die morele kwaliteit van die ontmoeting. Op grond van hierdie magsonderskeid tussen die genote is dit nie ter sake of 'n vry man 'n vrou of 'n manlike slaaf penetreer nie - mits die vry man nie 'n passiewe, ondergeskikte ("vroulike") rol in die ontmoeting inneem nie. Die Hellenistiese vry burgers het hiermee 'n morele stelsel ontwikkel waarin enige seksuele ontmoeting as opbouend in die gebruik van die drifte verantwoord kon word, mits aan hierdie norm van aktiewe selfhand-hawing, oftewel die Hellenistiese sin vir selfbemeestering, voldoen kon word. Die Hellenistiese seksstelsel word dus voltrek aan die hand van maatskaplike oorwegings en nie biologiese gegewenhede nie (byvoorbeeld geslag of ouderdom in die geval van pederastie).27

Dit beteken nié die sanksionering van oordaad nie. Binne die raamwerk van Hellenistiese (veral Aristoteliese) etiek en estetika was phronesis (φρόνησῐς) 'n riglyn vir matigheid binne praktiese wysheidskontekste, wat seksuele aangeleenthede ingesluit het. "Natuurlik," soos wat hulle die drifte geag het, het die Grieke rekening gehou met die dionisiese potensiaal vir oorrompeling en gevolglike selfvernietiging deur 'n reslose toegewing aan die drifte. Die Hellenistiese ideaal van die verantwoorde gebruik van die drifte sou dus met die matigheid van die middeweg rekening wou hou sonder om voorskriftelik daaroor te wees. Die vry burger moes die gebruik van die drifte binne die raamwerk van sy eie individualiteit (wat die regte oomblik of kairos [Koapóç] vir een is, kan dit vir 'n anderjuis nié wees nie; Foucault, 1984a:57-59) verantwoord en ontwikkel. Hierdie vry, eksistensiële en kairos-gedrewe benadering tot die gebruik van die drifte transformeer seksuele etiek tot 'n seksuele estetika, wat volgens Foucault (1984a:78-94) op 'n ewewigtige ars erotica dui waarin die verhouding tussen waarheid en vryheid tot estetiese uitdrukking gebring word en verhef word bo wat andersins die banaliteit van seks ter wille van seks is. Boonop bring Foucault (1984a:76-8; 80-1) hierdie Hellenistiese aanbod van matigheid in ars erotica in verband met askesis (ἄσκησις), wat volgens hom nie (soos in die latere Bisantynse en Latyns-Westerse kloosterwese) op die sarkofobiese afwysing van alle seksuele aktiwiteite en verbintenisse dui nie, maar op 'n estetiese ontwikkeling, ordening of tegnisering (τέχνη) van die self deur dissipline, inoefening en bemeestering (Foucault, 1984a:90, 138-139). Sodanige asketiese "selfpraktyke" het die oogmerk om die (ook seksuele) lewe tot 'n kunswerk te transformeer (Foucault, 1984a:89-92). L'usage des plaisirs berei hiermee die diskursiewe bedding voor vir die wyer strekkende ontwikkeling van die verhouding tussen seks en die ontwikkeling of "versorging" van die self in Le souci de soi.

Hierdie derde band van Histoire de la sexualité verfyn die erotiese aanbod van die Hellenistiese ars in die tweede band uitdruklik binne Romeinse konteks. Die gedissiplineerde, selfontwikkelende toegewing aan die werke van Afrodite geld vir beide die Hellenistiese (ta aphrodisia) en die Romeinse (deur hulle die venera genoem, na die Romeinse naam vir Afrodite: Venus) konteks. Foucault (1984b:67-8) betoog egter dat die ontwikkeling vanaf ἄσκησις en τέχνη by die Grieke in die Romeinse seksuele etos van die venera rééds begin dui op begeerte - wat natuurlik die tiperende oorsaak van die toegewing aan die drifte binne die vroeg-Christelike moraal sou word. Die vrye en eksistensiële estetisering van seks by die Grieke begin so plek maak vir 'n Romeinse prioritisering van deïndividualiserende Stoïsynse opvattinge van 'n algemeen menslike natuur en die inperkende noodsaak van 'n onderwerping of onderdanigheid aan normatiewe raamwerke vir toegewings aan die drifte (wat in die vroeg-Christelike era kollektief-pastoraal afgedwing, streng beheer en obsessief gekontroleer sou word, juis in die bekentenisse van die vlees).

Die selftegniese estetisering van seks by die Grieke begin dus algaande plek maak vir 'n selfafleggende etisering daarvan by die Romeine, wat in verhewigde gedaante uiteindelik die Christelike seksuele moraal van beheer deur bekentenis sou begrond.

Nogeens anders gestel: die privatistiese ars erotica van die Grieke word reeds by die Romeine in 'n openbare proses van waarneming, beheer, normalisering en ondersoek geplaas; by die Grieke funksioneer die toegewing aan die drifte as 'n robuuste vorm van individuele maatskaplike (en politieke) selfbevestiging, terwyl die Romeine toenemend klem begin plaas op 'n kollektiewe normering van die gebruik van die drifte ter wille van maatskaplike (en politieke) orde en beheer. Laasgenoemde sou in die patristiek van die vroeë Christendom se puriteinse ordening van die drifte en beheer oor seksuele begeerte tot uitdrukking gebring word. Die patristiese beheer oor seksuele begeerte sou in Les aveux de la chair (sien Beukes, 2020a:3-7) juis as die primêre domein van ondersoek aangebied word.

 

4. Samevatting en gevolgtrekking

Die tekstuele ontwikkeling en publikasiegeskiedenis van die huidige vier bande in die reeks Histoire de la sexualité in Foucault se oeuvre is duidelik kompleks en elkeen van hierdie vier tekste se ontstaan, oogmerke en plek binne die bestaande reeks en Foucault se groter oeuvre moet in ag geneem word as 'n mens die bestaande reeks as 'n samehangende aanbod wil waardeer. Wanneer egter in ag geneem word dat die vierde band in die reeks (Les aveux de la chair) tematies en ten opsigte van die tyd van afhandeling daarvan omstreeks 1980 eerder as die huidige tweede band verstaan moet word, terwyl die gepubliseerde tweede (L'usage des plaisirs) en derde band (Le souci de soi), wat eers in 1984 afgehandel en gepubliseer is, eerder as die huidige derde en vierde band in die reeks beskou moet word, val Foucault se terugwaartse ontwikkeling van die reeks vanaf die eerste band (La volonté de savoir) na Les aveux de la chair en van daar af na Le souci de soi en uiteindelik na L 'usage des plaisirs meer deursigtig en koherent op. Daarby moet in ag geneem word dat indien 'n vyfde (dit sou dan La chair et le corps moes wees) en sesde band (waarskynlik dan La croisade des enfants) uiteindelik ná die redigering daarvan uit die uitgebreide Foucault-argief gepubliseer word, dié twee tekste sou moes inskuif vóór Les aveux de la chair. Die nommering van die tweede en derde gepubliseerde band in die reeks Histoire de la sexualité sal in hierdie sin altyd verwarrend wees. Die eenvoudigste oplossing is om eerder met die "terugwaartse" ontwikkeling in die reeks rekening te hou as met die nommers wat aan die reeds gepubliseerde bande toegeken is: wat nié sal verander nie, is dat La volonté de savoir altyd die eerste band sal wees, L 'usage des plaisirs altyd die laaste band en Le souci de soi altyd die voorlaaste band. 'n Tabel van die samehang van die huidige vier bande sou samevattend só daar kon uitsien (met "korrekte" bandnommer word dus die "terugwaartse", tydperkgebaseerde plek van die betrokke band in die reeks bedoel):

 

 

Indien La chair et le corps dus as die vyfde en La croisade des enfants as die sesde geredigeerde band in die reeks gepubliseer word, sal die tabel egter soos volg moes lyk:

 

 

BIBLIOGRAFIE

Adams, JN. 1982. The Latin sexual vocabulary. London: Duckworth.         [ Links ]

Bernauer, J. 2021. Fascinating flesh: Revealing the spiritual Foucault. Voordrag gehou by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 4 Mei 2021, georganiseer en befonds deur die Departement Godsdienswetenskap, Rice-Universiteit, Houston. https://foucaultsconfessions.org/ [31 Mei 2021].         [ Links ]

Beukes, J. 2019. "Foucault se sodomiet": Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 75(4):1-13. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216 [30 Maart 2021].         [ Links ]

Beukes, J. 2020a. Histoire de la sexualité "4" (Les aveux de la chair): Aantekeninge vanuit die Nederlandse Foucault-navorsing. Verbum et Ecclesia 41(1):1-14. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2078 [30 Mei 2021].         [ Links ]

Beukes, J. 2020b. Foucault in Iran, 1978-1979. Cape Town: AOSIS. https://doi.org/10.4102/aosis.2020.BK203 [31 Augustus 2021].         [ Links ]

Beukes, J. 2020c. Middeleeuse Filosofie, Volume I & II. Pretoria: Akademia.         [ Links ]

Beukes, J. 2020d. Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: 'n Ideëhistoriese oorsig. Verbum et Ecclesia 41(1):1-13. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074 [30 Mei 2021].         [ Links ]

Beukes, J. 2021a. Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: 'n Foucaultiaanse ideë-historiese interpretasie. HTS Theological Studies 77(4): 1-12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880 [31 Oktober 2021].         [ Links ]

Beukes, J. 2021b. Raptus en die "vorm van die wil": 'n transgressiewe lesing van Foucault se Augustinus-interpretasie in Les aveux de la chair. Verbum et Ecclesia 42(1). (Ter perse).         [ Links ]

Beukes, J. 2021c. Michel Foucault on Methodius of Olympus (d.ca.311) in Les aveux de la chair: Patrick Vandermeersch's analysis contextualised. HTS Theological Studies 77(4):1-12. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6912 [31 Oktober 2021].         [ Links ]

Brion, F & Harcourt, BE (eds). 2012. Michel Foucault. Mal faire, dire vrai: Fonction de l'aveu en justice: Cours de Louvain, 1981. Louvain-la-Neuve: Presses universitaires de Louvain.         [ Links ]

Chevallier, P. 2011a. Foucault et le christianisme. Lyon: ENS Editions.         [ Links ]

Chevallier, P. 2011b. Foucault et les sources patristiques. In Artieres, P, Bert, JF, Gros, F & Revel, J (eds). Foucault. Cahiers de L'Herne 95. Paris: L'Herne, pp. 137-142.         [ Links ]

Chevallier, P. 2021. The birth of Confessions ofthe flesh. Voordrag gehou by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 11 Mei 2021, georganiseer en befonds deur die Departement Godsdienswetenskap, Rice-Universiteit, Houston. https://foucaultsconfessions.org/ [30 Mei 2021].         [ Links ]

Clements, NK. 2021a. Foucault's Christianities. Journal of the American Academy of Religion 89(1):1-40. https://doi.org/10.1093/jaarel/lfab024 [27 April 2021].         [ Links ]

Clements, NK. 2021b. Foucault's Christianities. Voordrag gehou by die internasionale konferensie Foucault's Confessions op 19 Mei 2021, georganiseer en befonds deur die Departement Godsdienswetenskap, Rice-Universiteit, Houston. https://foucaultsconfessions.org/ [30 Mei 2021].         [ Links ]

De Wet, CL. 2020. "Le devoir des époux": Michel Foucault's reading of John Chrysostom's marital ethic in Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair ([1982-1984] 2018). Religion and Theology, 27(1-2):114-151.         [ Links ]

Elden, S. 2016. Foucault's last decade. Cambridge: Polity Press.         [ Links ]

Elden, S. 2018. Review: Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Theory, Culture and Society, 35(7-8):293-311.         [ Links ]

Ewald, F, Fontana, A & Senellart, M (eds). 2004. Michel Foucault. Sécurité, Territoire, Population. Cours au College de France, 1977-1978. Paris: Seuil/Gallimard.         [ Links ]

Ewald, F, Fontana, A & Senellart, M (eds). 2012. Michel Foucault. Du gouvernement des Vivants. Cours au College de France, 1979-1980. Paris: Seuil/Gallimard.         [ Links ]

Foucault, M. 1976 (Engelse vertaling 1978). Histoire de la sexualité 1: La volonté de savoir. Collection Bibliothèque des Histoires. Paris: (Editions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge. Hurley, R [transl.]. New York: Pantheon).         [ Links ]

Foucault, M. 1984a (Engelse vertaling 1985). Histoire de la sexualité 2: L 'usage des plaisirs. Collection Bibliothèque des Histoires. Paris: (Editions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure. Hurley, R [transl.]. New York: Random House).         [ Links ]

Foucault, M. 1984b (Engelse vertaling 1986). Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi. Collection Bibliothèque des Histoires. Paris: (Editions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 3: The care of the Self. Hurley, R [transl.]. New York: Pantheon).         [ Links ]

Foucault, M. 2018 (Engelse vertaling 2021). Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Bibliothèque des Histoires. Paris: (Editions) Gallimard. (The history of sexuality, Volume 4: Confessions of the flesh. Hurley, R [transl.]. New York: Pantheon).         [ Links ]

Goodich, M. 1979. The Unmentionable Vice. Homosexuality in the later Medieval period. Santa Barbara: Ross-Erikson.         [ Links ]

Gros, F (ed.). 2001. Michel Foucault, L'herméneutique du sujet: Cours au College de France, 1981-1982. Paris: Seuil/Gallimard.         [ Links ]

Gros, F (ed.). 2015. Michel Foucault. Qiuuvres I, II. Collection Bibliothèque de la Pléiade 607-608. Paris: (Editions) Gallimard.         [ Links ]

Gros, F (ed.). 2018. Michel Foucault, Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Collection Bibliothèque des Histoires. Paris: (Editions) Gallimard.         [ Links ]

Holierhoek, J (vert.). 2017. Geschiedenis van de seksualiteit I-III. Amsterdam: Boom Uitgeverij.         [ Links ]

Holierhoek, J (vert.). 2020. Bekentenissen van het vlees. Geschiedenis van de seksualiteit IV. Amsterdam: Boom Uitgeverij.         [ Links ]

Huijer, M. 2021. Seks is saai: Vroegchristelijke versus moderne seksuele bekentenissen by Foucault. Voordrag gehou by die aanlyn colloquium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 24 September 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Instituut, Radboud-Universiteit, Nijmegen, Nederland.         [ Links ]

Karskens, M. 2012. Michel Foucault. Amsterdam: Boom Uitgeverij.         [ Links ]

Karskens, M. 2019. Kritische studie. Het regime van de bekentenissen. Foucaults Histoire de la sexualité 4: Les aveux de la chair. Tijdschrift voor Filosofie, 81(3):559-581.         [ Links ]

Karskens, M. 2021. De religieuze codering van spiritualiteit: Martelaarschap en zelf-offer. Voordrag gehou by die aanlyn colloquium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Maart 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Instituut, Radboud-Universiteit, Nijmegen, Nederland.         [ Links ]

Klinkenberg, P, Hoeks, H, Boekraad, HC & Van Dorsselaer, K (vert.). 1984-1985. Michel Foucault. Geschiedenis van de seksualiteit. Nijmegen: SUN.         [ Links ]

Leezenberg, M. 2018. Foucaults Les aveux de la chair: Een eerste bespreking, 1-5. https://www.academia.edu/35977814/Foucaults_Les_aveux_de_la_chair_Een_eerste_bespreking. [30 Mei 2021]. Sien gelyklopend "Foucault, seks en Augustinus". De Nederlandse Boekengids, April-Mei 2018:6-7.         [ Links ]

Leezenberg, M. 2019. Foucault's 1960s lectures on sexuality: Deux cours inédits de Michel Foucault sur la sexualité (2018). Voordrag gehou by die colloquium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Desember 2019, Departement Filosofie, Universiteit Amsterdam, Nederland.         [ Links ]

Leezenberg, M. 2021. Van Geert Grote tot Ignatius van Loyola: Seks, spiritualiteit en gouvernmentaliteit in de Late Middeleeuwen. Voordrag gehou by die aanlyn colloquium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 21 Mei 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Instituut, Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland.         [ Links ]

Massot, M-L, Sforzini, A & Ventresque, V. 2018. Transcribing Foucault's handwriting with Transkribus. Foucault Fiches de Lecture 6 November 2018:1-12. Ook by https://hal.archives-ouvertes.fr/hal-01913435v1/document [30 Julie 2021].         [ Links ]

Nestle, E & Aland, K (eds). 2012. Nestle-Aland Novum Testamentum Graece. 28 ed. Stuttgart: German Bible Society.         [ Links ]

Paras, E. 2006. Foucault 2.0: Beyond power and knowledge. New York: Other Press.         [ Links ]

Praet, D. 2020. Augustine of Hippo and Michel Foucault's history of sexuality. In Dupont, A, Francois, W & Leemans, J (eds). Nos sumus tempora: Studies on Augustine and his reception offered to Mathijs Lamberigts. Louvain: Peeters, pp. 213-236. http://hdl.handle.net/1854/LU-8685052 [30 Julie 2021].         [ Links ]

RaffnsOe, S. 2018. Michel Foucault's Confessions of the flesh. The fourth volume of the History of sexuality. Foucault Studies, 25(1):393-421.         [ Links ]

Vandermeersch, P. 2021. Michel Foucault en Methodius van Olympus. Voordrag gehou by die aanlyn colloquium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Maart 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Instituut, Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland.         [ Links ]

Veyne, P. 1978. La famille et l' amour sous le haut Empire romain. Annales ESC, 33(1):35-63.         [ Links ]

Westerink, H. 2019. De lichamen en hun lusten. In het spoor van Foucaults 'Geschiedenis van de seksualiteit'. Nijmegen: Uitgeverij Vantilt.         [ Links ]

Westerink, H. 2021. Augustinus, Cassianus en het probleem van de libido. Voordrag gehou by die aanlyn colloquium van die vakvereniging Foucault Cirkel Nederland/België op 12 Maart 2021, georganiseer deur die Titus Brandsma Instituut, Radboud Universiteit Nijmegen, Nederland.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-07-12
Goedgekeur: 2021-10-26
Gepubliseer: Desember 2021

 

 

 

Johann Beukes (DLitt et Phil [Filosofie, RAU, 1995], PhD [Teologie, UP, 2000]) is ereprofessor in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat en verbonde aan die Sentrum vir die Geskiedenis van Filosofie en Wetenskap (CHPS) van Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland. Hy spesia-liseer die afgelope twee dekades in Middeleeuse filosofie en Foucault-studies en is lid van verskeie uitgelese vakverenigings, waaronder SIEPM (Société Internationale pour l'Étude de la Philosophie Médiévale), OZSW (Nederlandse Onderzoeksschool Wijsbegeerte) en Foucault Cirkel Nederland/België. Hy het, naas 'n groot aantal geakkrediteerde artikels en hoofstukke in redakteurskapswerke, ook twee onlangse werke geskryf: 'n tweevolume-inleiding tot Middeleeuse filosofie (Akademia, Pretoria, 2020), en 'n Foucault-monografie, Foucault in Iran, 19781979 (AOSIS, Kaapstad, 2020). Hy woon in Nijmegen, Nederland.
Hierdie artikel is befonds deur die Departement Filosofie & Klassieke, Fakulteit Geestes-wetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika.
Johann Beukes, DLitt et Phil (Philosophy, Rand Afrikaans University, 1995) and PhD (Theology, University of Pretoria, 2000) is an honorary professor in the Department of Philosophy & Classics at the University of the Free State, Bloemfontein, South Africa, and an associate at the Center for the History of Philosophy and Science (CHPS) at Radboud University in Nijmegen in the Netherlands. He is the author of numerous research articles in accredited journals and chapters in editorial works, as well as two recent publications, namely a comprehensive two-volume introduction to Medieval philosophy in Afrikaans, Middeleeuse Filosofie (Pretoria: Akademia, 2020), and Foucault in Iran, 1978-1979 (Cape Town: AOSIS, 2020). Beukes is an active member of the esteemed societies SIEPM (Société Internationale pour l 'Etude de la Philosophie Médiévale), OZSW (Nederlandse Onder-zoeksschool Wijsbegeerte) and Foucault Cirkel Nederland/België. He lives in Nijmegen in the Netherlands.
This article was funded by the Department of Philosophy & Classics, Faculty of the Humanities, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa.
1 Afdeling 1 en enkele dele van voetnote 4, 5, 6 en 7 in hierdie artikel is 'n bywerking van Beukes (2020a:2-7).
2 Alhoewel Afrikaanse begrippe soos belydenis en bieg in die patristiese kontekste van Les aveux de la chair moontlik beter vertalings van aveu sou wees, word ter wille van korrespondensie met die Dietse vakregister by die Nederlandse vertaling bekentenis gehou.
3 Foucault het wel een betekenisvolle en gevolgryke toegewing ten opsigte van nadoodse publikasies gemaak. Die publikasie van Dits et écrits 'n dekade ná sy dood bevat 'n aantal tekste wat hy uitdruklik vir publikasie gemagtig het, juis omdat hy dit nog self kon redigeer en afrond. Hierdie versameling tekste bestryk vier bande en meer as 3 000 bladsye in gepubliseerde formaat. Dits et écrits is in hierdie opsig uniek binne die oeuvre: feitlik al Foucault se korter tekste en gepubliseerde onderhoude in Frans is deur Gallimard in hierdie versameling byeengebring, oorspronklik in vier en later in slegs twee bande (in die Quarto-uitgawe). Dits et écrits het sedertdien 'n onmisbare verwysingsbron in die Foucault-navorsing geword.
4 Allerlei bespiegelinge oor 'n finansiële motief vir die beskikbaarstelling van hierdie dokumente, aanvanklik aan die Bibliothèque Nationale en spoedig daarna aan die navorsingsgemeenskap, moet versigtig hanteer word. Die gehalte van die inhoud van hierdie manuskripte en notas, wat ook minstens gedeeltelik die publikasie van Les aveux de la chair moontlik gemaak het, kan egter wel as regverdiging dien vir Defert se oënskynlik aanvegbare besluit om dit ná bykans drie dekades uit 'n sekuriteitsruimte na die Bibliothèque Nationale te laat oorplaas en dit uiteindelik onder die redaksionele leiding van Gros, een van die bekwaamste eietydse Foucault-navorsers in Frankryk, by die prestige-uitgewer Gallimard vir publikasie aan te bied. Gallimard was ook verantwoordelik vir die publikasie van die drie bestaande bande van Histoire de la sexualité - naamlik Histoire de la sexualité 1: La volonte de savoir (in Engelse vertaling bekend as The history of sexuality, Volume 1: The will to knowledge), Histoire de la sexualité 2: L 'usage desplaisirs (The history of sexuality, Volume 2: The use of pleasure), en Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi (The history of sexuality, Volume 3: The care of the Self) - in die uitgewer se gerespekteerde ideëhistoriese reeks, Bibliothèque des Histoires, waartoe Les aveux de la chair dus in 2018 gevoeg is. Dit is waar dat Defert die dokumente verkoop het en nie kosteloos aan die Bibliothèque Nationale beskikbaar gestel het nie. Hy het dit egter nie op veiling geplaas nie: indien Defert 'n kommersiële oogmerk gehad het, kon hy eerder die hoogste bod op 'n veiling aanvaar het; tog het hy dit nie gedoen nie. Defert het ongetwyfeld aansienlike uitgawes gehad om die dokumente bykans drie dekades lank veilig te laat berg onder temperatuur- en vogbeheerde omstandighede om dit teen verweer te beskerm. Uiteindelik kon dit dus as 'n eenheidsversameling aan die Foucault-argief beskikbaar gestel word, wat die biblioteek in staat gestel het om die omvangryke versameling binne net 'n jaar oop te stel vir die navorsingsgeselskap. Dit is natuurlik net so waar dat Defert hiermee 'n uitdruklike ooreenkoms verbreek het, naamlik dat hy sy lewensmaat se laaste wense sou eerbiedig en na sy boedel sou omsien, insluitende sy onvoltooide manuskripte, wat uitdruklik nie vir nadoodse publikasie aangebied moes word nie. Defert het daardie ooreenkoms vir bykans drie dekades geëerbiedig en moes 'n uitermate goeie rede gehad het om dit uiteindelik te verbreek. Indien materiële gewin dan nie die beslissende faktor was nie, wat was? Dit was, om Defert die voordeel van die twyfel te gee, die tekste self, wat inderdaad indrukwekkend is. Nietemin is ek ongemaklik oor hoe gou na 2013 van Foucault se opdrag wegbeweeg is en hoe daar sonder enige verdere verantwoording, ook in die twee bestaande vertalings van Les aveux de la chair (aanvanklik in Nederlands [2020] en eers daarna in Engels [2021]), na Histoire de la sexualité 4 verwys word asof Foucault so 'n boek volledig en selfstandig geskryf, afgehandel en by 'n uitgewer afgeteken het.
5 Vir 'n breër verantwoording van my huiwering tot onlangs om onproblematies na Les aveux de la chair as die "vierde" band van Foucault se seksualiteitsgeskiedenis te verwys en my gebruik om die redakteur van hierdie band, Frédéric Gros (in Gros ed. 2018), uitdruklik in verwysings na die teks aan te dui (en dus nie om Foucault as "skrywer" aan te dui nie), sien Beukes (2020a:2-7). Ná drie jaar van intensiewe debat daaroor en ná 'n internasionale konferensie wat uitsluitlik oor Les aveux de la chair gehandel het (vgl. Clements, 2021a:1-40, 2021b:1; Chevallier, 2021:1), blyk die konsensus in die eietydse (2021) Foucault-navorsingskringe egter te wees dat Les aveux de la chair as die vierde band in die reeks erken en hanteer kan word - maar dat Gros se enorme bydrae tot die publikasie van die teks benadruk behoort te word, minstens met 'n afsonderlike inskrywing in die bibliografie. Ek aanvaar hierdie bonafide-konsensus en hanteer Les aveux de la chair voortaan dus as die vierde band in die reeks - hierna sonder aanhalingstekens in verwysings en met Foucault (2018) as skrywer aangedui.
6 Gros verdien as 'n buitengewoon bekwame redakteur van Foucault se tekste agting vir sy keurige byeenbring van Foucault se finale College de France Leçons (1981 en 1982; Gros, 2001) en ken hierdie voorlaaste tydperk in Foucault se loopbaan (voor sy studieverblyf aan die Universiteit van Berkeley in Kalifornië in die vroeë 1980s) buitengewoon goed: Daarby moet ook gevoeg word Gros (2015) se manjifieke redigering van die tweeband-CEuvres. Dit was ongetwyfeld op sterkte van hierdie redigerings dat Gros aangewys is om Les aveux de la chair te redigeer. Hoewel Gros ongetwyfeld die leeueaandeel van die veeleisende opgaaf van die redigering van Les aveux de la chair hanteer het, bedank hy in die voorwoord van die werk Defert en Foucault se neef Henri-Paul Fruchaud vir hulle "geduldige en betrokke herlesings van die teks". Gros was ook gedurende die redigeringsproses deurentyd in kontak en gesprek met twee befaamde Foucault-navorsers in Frankryk, Michel Senellart (sien Ewald, Fontana en Senellart 2004, 2012) en Philippe Chevallier (sien onder meer Chevallier, 2011a; 2011b:137-142). As bronne het Gros sowel Foucault se handgeskrewe manuskrip as die getikte perskopié van Gallimard gebruik om die teks saam te stel, terwyl hy Histoire de la sexualité 2: L 'usage des plaisirs en Histoire de la sexualité 3: Le souci de soi as 'n bloudruk gebruik het om die teks redigeer. Dit het 'n stilistiese soortgelykheid tussen die vier bande meegebring, hoewel die eerste band vanweë die diskursiewe en stilistiese eieaardigheid daarvan tog steeds wel van bande 2 tot 4 onderskei behoort te word. Gros het ook nie aan die versoeking toegegee om - anders as wat hy wel vryelik in sy redigerings van Foucault se College de France Leçons gedoen het - enige iets by te voeg wat nie uitdruklik in Foucault se manuskrip voorgekom het nie. Hy het wel die nommering en titels van hoofafdelings, hoofstukke en paragrawe bygevoeg.
7 Vir 'n oorsig van die indrukwekkende resepsie en intensiewe ontledings van Les aveux de la chair in Nederland en België binne slegs maande ná die vrystelling daarvan in Februarie 2018, sien Beukes (2020a:7-11).
8 Ter wille van nuanse: Die redigering en publikasie van die College de France Leçons van 1977 tot 1982, juis onder Gros se bekwame redakteursleiding, word selfs deur 'n sensitiewe eksegeet soos Karskens (2019:559-565; vir sy breër ontleding van Foucault se oeuvre, sien Karskens, 2012) nie as problematies beskou wat Foucault se verbod op nadoodse publikasies betref nie, aangesien Foucault die manuskripte van daardie lesings (volgens Karskens se chronologiese uiteensetting) effektief afgeteken het deur die lesings van 1977 tot 1981 in die openbaar te lewer en dit daarmee reeds "gepubliseer" (of minstens "bekendgestel") het. Die latere redigering en publikasie van hierdie lesings van 1977 tot 1981 word dus deur Karskens geag buite die raamwerk van nadoodse publikasies te val. In soverre Les aveux de la chair in beduidende mate die produk is van juis die volgende jaar se College de France Leçons, 1981-1982, kan dit volgens Karskens se lesing as 'n bykomende oorweging gebruik word om die nadoodse publikasie van die werk te regverdig. Die belangrike redaksiekritiese vraag is egter of Les aveux de la chair dan nie eerder uitgegee moes word as 'n verlengstuk of selfs as 'n formele deel van die College de France Leçons van 1977 tot 1981 nie - en dat Les aveux de la chair soos daardie lesingtekste dan eerder in die reeks Travaux van Seuil/Gallimard (waarin die ander lesingtekste gepubliseer is) sou moes verskyn, eerder as 'n selfstandige toevoeging tot die drie bestaande bande van Histoire de la sexualité in Gallimard se reeks Bibliothèque des Histoires.
9 Foucault se klaslesings oor seksualiteit in die 1960s het aanleiding gegee tot die publikasie van Deux cours inédits de Michel Foucault sur la sexualité (ook in 2018 gepubliseer by Gallimard; sien Leezenberg 2019). Ook hierdie onlangse publikasie, gebaseer op manuskripte wat Foucault self nie finaal geredigeer en afgeteken het nie, moet nog deeglik deur die navorsing ontleed en binne die groter oeuvre verreken word.
10 'n Eerste Nederlandse vertaling van die eerste drie bande van Histoire de la sexualité is reeds in 1984 en 1985 deur Peter Klinkenberg, Henk Hoeks, Hugues Boekraad en Karin van Dorsselaer by SUN in Nijmegen uitgee, in drie afsonderlike bande.
11 Hierby moet ook die bydraes van die gerekende Foucault-spesialis van die Universiteit van Amsterdam, Michiel Leezenberg, ingereken word (sien Leezenberg 2018:6-7; 2019; 2021). Leezenberg tel trouens onder die voorlopers in die wyer Europese ontleding van Les aveux de la chair onmiddellik ná die verskyning daarvan in Februarie 2018.
12 Let daarop dat verwysings na Foucault se tekste die jaar van oorspronklike publikasie (in Frans) aandui, maar dat die bladsynommers ter wille van toeganklikheid vir diegene wat nie Frans magtig is nie, verwys na die Engelse vertalings, direk ná die Franse tekste gelys in die Bibliografie.
13 Ek bied Augustinus as die wesenlike skarnierfiguur tussen die patristiek en die Middeleeue (byvoorbeeld in Beukes 2020a:I:11-14) en gevolglik as die "eerste Middeleeuse filosoof" aan (Beukes 2020a:I:1.1). Augustinus hoort na my interne periodisering van Middeleeuse filosofie (410-1464, met die eerste [die post-Romeinse] tydperk wat strek van 410 tot 742) uitdruklik binne die Middeleeuse korpus en is nie te beperk tot slegs die patristiek nie. Daarom is dit nie korrek om aan te neem dat die Middeleeue geheel en al in Les aveux de la chair ontbreek nie - alhoewel die teks sigself inderdaad beperk tot slegs die heel vroeë Middeleeue, waar en wanneer die Middeleeue ook al ter sprake kom. Dit wil voorkom of Foucault sélf Augustinus as so 'n oorgangsfiguur tussen die patristiek en Middeleeue verstaan het. Praet (2020:213-217) dui naamlik aan dat Foucault in sy bespreking van die Spreuke van die Woestynvadere (die Apophthegmata Patrum Aegyptiorum) in sy Leuvense kursus van 1981 (sien Foucault in Brion & Harcourt 2012:91) wel breedvoerig na vadere soos Johannes Cassianus (ca. 360-435) maar selde na Augustinus verwys, behalwe om Augustinus te tipeer as "die skrywer wat die veronderstelde einde van die antieke era sowel as die begin van die Middeleeue beliggaam".
14 Vir 'n bespreking van die kuisheidsideaal en die opvatting van vroulike maagdelikheid, spesifiek binne vroulike homoërotiese kontekste in die Laat Middeleeue, sien Beukes (2020d:2 [voetnoot 4], 3, 4). Vir 'n oorsig van die patristiese en Vroeg-Middeleeuse interpretasies van vroulike homoërotiek, met besondere verwysing na die verskille tussen Johannes Chrusostomus (ca.349-407) en Augustinus se interpretasies daarvan, sien Beukes (2021b:1-6).
15 Paulus staan in die Middel-Platoniese tradisie waarin siel en vlees dualisties uitdruklik teenoor mekaar gestel word (vgl. Bernauer, 2021:1). Vir Paulus hang vlees (sarx) uitdruklik met sonde (hamartia) saam: Afsonderlik en gesamentlik staan al die dele van die liggaam onder die heerskappy van die sonde. Waar die vlees is, verskyn sonde dus. "Vlees" dui in die hermeneutiese teologiese tradisie, waarin ek self staan (van Luther en Schleiermacher na Brunner), egter nie bloot op onsedelikheid nie, maar eerder op 'n wydstrekkende afvalligheid van en verset teen God. Hiervolgens dui "vlees" die hele mens aan - liggaam, siel, verstand en alle vermoëns - omdat alles in die mens streef na die dinge van vlees met 'n gevolglik spontane aanvoeling en voorkeur vir vleeslikheid. Die sondigheid van die vlees geld dus nie alleen vir seksuele aangeleenthede nie, maar vir elke aspek van die menslike bestaan. By Paulus self is hierdie verstaan van afvalligheid duidelik aanwesig (byvoorbeeld in Romeine 7:14-24, waar die worsteling met die eie vleeslikheid verwoord word ["die doring in die vlees"]), maar ook uitdruklik ten opsigte van seksuele begeerte. Vergelyk byvoorbeeld Galasiërs 5:19-21, waar seksuele begeerte (en toegewing daaraan) geprioritiseer word: "Dit is tog welbekend wat die werke van die vlees behels, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, losbandigheid [...]", en eers daarná word verskeie ander duistere werke genoem: "[...] afgodery, towery, vyandskappe, rusie, afguns, woede, selfsug, onenigheid, dwaling, jaloesie, moord, dronkenskap, swelgpartye en so meer [...] wie hulle hieraan vergryp, sal die koninkryk van God nie beërwe nie" (semantiese vertaling uit Nestle Aland Novum Testamentum Graece).
16 Die lesinginhoud van College de France Leçons 1977-1978 sluit besprekings in van die vroeg-Christelike pastoraat (van, in die besonder, [Thaschus Caecillius] Siprianus [ca. 200-258] tot die Teenhervorming van die 16de en 17de eeu), sowel as 'n vroeë vorm van "goewermentaliteit" (uit Engels governmentality en Nederlands gouvernmentaliteit - die begrip dui op die vroegmoderne ontwikkeling van staatsbeheer oor totale bevolkings [te onderskei van die begrip dissiplinering, wat op spesifieke belangegroepe in byvoorbeeld tronke, klinieke en hospitale fokus]), wat later tot uitdrukking gebring sou word in die moderne staat se ingrepe op seksuele gedrag in soverre dit voortplantings- en bevolkingsaanwasbeheer aangaan. Die Leçons 1979-1980 doseer die vroeg-Christelike pastoraat as 'n vorm van "waarheidsregime" (régime de vérité) van (Quintus Septimus Florens) Tertullianus (ca. 155-ca. 220) tot by Cassianus - sien Foucault in Ewald, Fontana en Senellart (2004:167). Dit is opvallend dat die Leçons 1977-1978 nog met 16de- en 17de-eeuse ontwikkelinge gewerk het, terwyl die Leçons 1979-1980 uitsluitlik binne die patristiek vertoef. Vir 'n toeganklike en onlangs bygewerkte tabel van al Foucault se College de France Leçons met die datums van aanbieding, die uiteindelike publikasie daarvan in Frans en die latere vertalings daarvan in Engels, sien Clements (2021a:6-7).
17 La femme, la mère et l'hystérique sou die oogmerk hê om die konseptualisering van histerie te ondersoek, juis omdat dit een van die vernaamste vertrekpunte van Freudiaanse psigoanalise was. Foucault wou vasstel presies waarom Freud so geïnteresseerd was in die psigiatriese sambreelbegrip histerie (wat etimologies teruggaan op die Griekse woord vir die baarmoeder/uterus, hustera) en veral hoe die "baarmoeder" en "histerie" sou saamhang om vroulike seksualiteite te produseer (wat vir Foucault in elk geval geen biologiese, mediese en veral psigiatriese gegewens is nie, maar ten diepste kultuurbemiddelde en daarom kontingente werklikhede).
18 La croisade des enfants sou die moderne fiksasie (sowel geneeskundig as opvoedkundig) op seksualiteitsontwikkeling by jonger kinders ondersoek, met spesifieke verwysing na die rol van masturbasie in prepuberteit. Hierdie inderdaad eienaardige fiksasie is vir Foucault een van die helderste voorbeelde van die moderne verwetenskapliking en meer dikwels pseudoverwetenskap-liking van seksualiteit, oftewel dít wat hy kenmerkend scientia sexualis noem.
19 Population et races was veronderstel om Foucault se latere belangstelling in "bio-mag" en "bio-politiek" in te lei deur die moderne staat se goewermentalistiese (sien weer eindnoot 16) ingrepe op seksualiteit te ondersoek, met verwysing na byvoorbeeld geboorte- en bevolkingsbeperking. Aangesien die manuskrip van Population et races grootliks in die uitgebreide Foucault-argief van ná 2013 ontbreek, kan met redelike sekerheid aanvaar word dat die inhoud daarvan wel in die College de France Leçons 1981-1982 neerslag gevind het, soos geredigeer en gepubliseer deur Gros (2001).
20 Foucault is as aktiewe homoseksueel dikwels daarvoor verkwalik dat hy nie aktivisties genoeg was om 20ste-eeuse gay-minderheidsbelange te bevorder nie (vgl. Beukes, 2020b:115-116, 143). Sy voorbehoude in hierdie verband leun terug na sy opvatting van die "moderne uitvinding van die homoseksueel", waarvolgens die identiteit van 'n bepaalde moderne subjek gereduseer sou kon word tot 'n bepaalde seksuele oriëntasie. Trouens, volgens die scientia sexualis-verstaan van homoseksualiteit verteenwoordig die homoseksueel 'n "tipe", 'n "spesie" en 'n "pasiënt". Foucault se berugte uitspraak "Voorheen was die sodomiet 'n sondaar, nou is die homoseksueel 'n spesie" (in Engelse vertalings dikwels weergegee as "The sodomite had been a temporary aberration, the homosexual was now a species"; Foucault, 1976:43; vgl. Beukes, 2019:1-2) dui die ontwikkeling van die 11de eeu na die 19de eeu aan wat die interpretasie van (moderne) "homoseksualiteit" betref: Foucault se "19de-eeuse scientia sexualis-homoseksueel" is 'n geheel ander verskynsel as die "sodomiet" van die 11de eeu, soos beskryf in onder meer die kloosterhervormer Petrus Damianus (1007-1072) se sensuurteks Liber gomorrhianus (1049; sien Beukes, 2019:1-2). Foucault betoog dat die 19de-eeuse homoseksueel nooit as 'n "scientia sexualis-gediagnoseerde pasiënt" sou gemanifesteer het sonder die eerste openbaarstelling van die "sodomiet" in vroeg-Middeleeuse konfessionele praktyke en die kanons van die tersaaklike konsilies (by Reims 1049 en daarna) nie, waarvan Damianus se teks (na my betoog in Beukes, 2019:1-8) die pouslik gesanksioneerde bron was. Die plan vir die beoogde vyfde opvolgwerk ná La volonté de savoir, aangedui met die werkstitel Les pervers ("Die afwykendes" of "Die abnormales"), moet teen hierdie agtergrond verstaan word. Foucault wou in Les pervers juis die ontwikkeling van die Middeleeuse "sodomiet" na die moderne "homoseksueel" met groter presisie naspeur as wat die geval in La volonté de savoir self was. Sy voorbehoud oor allerlei vorme van verset vanuit (vir my uitermate geldige) eietydse gay-protesbewegings was dat hierdie bewegings nie ontkom aan die histories kontingente aard van juis dít waarteen hulle dit het nie en dat hulle scientia sexualis-kategoriserings onbedoeld met hulle verset bevestig. Daarby bevorder hierdie bewegings die openbaarmaking van dit wat vir Foucault ten opsigte van ars erotica juis algeheel privaat behoort te wees, naamlik seksuele begeerte (in scientia sexualis-terme tot uitdrukking gebring in "seksuele oriëntasie"). Foucault wou heeltemal van die moderne bolwerk van "seksualiteit" wegbeweeg: dit sluit in die moderne tipering van "homoseksualiteit" maar ook die "moderne scientia sexualis-homoseksueel" se verset teen daardie tipering. Sonder om Foucault op hierdie punt uitdruklik teen te gaan, is ek van oortuiging dat sodanige gay-protesbewegings juis 'n voorbeeld van die soort "plaaslike verset" is waarop Foucault in ander kontekste wel aangedring het. As gays (ek tref geen geslagtelike onderskeid in hierdie verband nie en vind die term lesbiër algeheel pejoratief [sien Beukes, 2020d:1;5]) nie self 'n verset teen die psigiatriese vooroordeel ten opsigte van seksuele andersheid en die algemene poging tot die waarneming, beheer, normalisering en ondersoek van vorme van kulturele andersheid van stapel stuur nie, soos sedert die vroeë 1890s deur Freud en andere deur diagnose gestigmatiseer, wie anders sal?
21 Gegewe die ideëhistoriese gapings wat steeds deur die drie gepubliseerde bande van Histoire de la sexualité en Les aveux de la chair as geredigeerde vierde band gelaat word, spesifiek ten opsigte van die 6de tot die 12de eeu en die 13de tot die 16de eeu, met minstens twee tersaaklike en gedeeltelik geredigeerde manuskripte (1 en 3 in hierdie lys: La chair et le corps en La croisade des enfants) wat sedert 2013 in die Foucault-argief by die Bibliothèque Nationale beskikbaar is, is Les aveux de la chair hoogs waarskynlik nié die laaste redigeringswerk in die reeks Histoire de la sexualité nie: Daar bestaan reeds 'n realistiese verwagting dat 'n vyfde (waarskynlik dan La chair et le corps) en 'n sesde (waarskynlik dan La croisade des enfants) band die lig sal sien om hierdie gapings tussen die kerkvaders en die vroeg-moderne tydperk - dit wil sê die Middeleeue - as sodanig te vul (sien Gros, 2018:VIII-X en Raffnsee, 2018:415).]
22 Onderstaande oorsig van La chair et le corps, waarvoor geen volledig geredigeerde teks tans nog bestaan nie, is grootliks gebaseer op Bernauer (2021:1) se hipotese dat La chair et le corps die outentieke tweede band in die reeks moes wees, gelees met Gros (2018:I-IX) se inleidende opmerkings by sy redigering van Les aveux de la chair en Chevallier (2011:137-42) se uitstekende oorsig van en inleiding tot Foucault se lesing van die patristiek, wat reeds in hierdie gedeeltelik geredigeerde manuskrip 'n aanvang neem.
23 Reeds teen die negende eeu was die private bieg tussen die biegvader (of "konfessor", normaalweg 'n kerklike ampsdraer [priester, biskop, aartsbiskop of kanselier]) en biegsubjek egter 'n verpligte jaarlikse onderneming, wat deur die biegsubjek sélf aangevra moes word (sien Goodich, 1979:12). Teen die middel van die 11de eeu was die biegpraktyk volledig geformaliseer, sodat die biegvader die bieg in absolute stilte moes afneem en op geen wyse die inhoud van die bieg kon lei of ondergrawe nie. In daardie stadium, ook in die Oosterse Kerk, is die bieg in die oop ruimte van die kerkgebou afgeneem en nie in private bieghokkies of agter afskortings in liturgiese ruimtes nie. Vanaf 1215 is die jaarlikse bieg dus as sakrament ingestel op grond van die besluite van die Vierde Lateraanse Konsilie. Die bieg sou daarna slegs met fisiese skeiding tussen die biegvader en biegsubjek in 'n bieghokkie kon plaasvind (Foucault, 1976:18, 58, 116).
24 In L'usage des plaisirs dui Foucault (1984a) aan dat seksualiteit in die Hellenistiese epog geheel ánders as in vroeë moderniteit verstaan is, terwyl die gepubliseerde derde band, Le souci de soi (Foucault, 1984b), die vroeg-Romeinse interpretasie ondersoek. Westers-moderne scientia sexualis word dus sistematies in hierdie tweede en derde band van Histoire de la sexualité teen die Hellenistiese en Romeinse (synde ars erotica) interpretasies afgespeel.
25 "Afwykings" word in scientia sexualis gedefinieer aan die hand van die objekte van seksuele begeerte, byvoorbeeld liggaamlike fragmente van welke aard ook al, in liggaamsfetisjisme, instrumente wat pyn veroorsaak in sadisme en masochisme, en die (veronderstelde fokus op) liggaamsdele van persone van dieselfde geslag in selfdegeslag seksuele kontektse. Die afwykende identiteit van die begerende subjek word bepaal deur die koppeling van die afwykende begeerte met sodanige objekte van begeerte.
26 Ten einde die grense tussen die "normale" en die "afwykende" te definieer en te bestendig is "kennis van seksualiteit" of scientia sexualis vir die moderne paradigma dus absoluut noodsaaklik. Daar moet gevolglik soveel as moontlik oor seks gepraat word, verkieslik in die gemaklike "wetenskaplike" register van scientia sexualis. Hierdie register maak voorsiening vir (eufemistiese, transtalige en transkulturele) Latynse aanwysers soos penis, vagina, clitoris, coitus en so meer, wat dit maklik maak om onverstoord oor sake te praat wat baie meer robuust in die woordeskat van enige taal figureer - en, soos Foucault (1976:6;17) oortuigend aandui, is daar geen taal sónder sodanige seksuele woordeskat nie; hierdie woordeskat of seksuele vernakulêr is trouens die outentieke taal wat grotendeels, hoewel nie uitsluitlik nie, in private en ars erotica-kontekste van elke taal gebruik is (en word). Natuurlik was daar in die oorspronklike Latyn self (dus voor die moderne, Latynse scientia sexualis-hertoewysing) 'n seksuele woordeskat en dit is wat biegsubjekte in die Vroeë Middeleeue onafwendbaar in hulle bekentenisse moes gebruik: vir byvoorbeeld orale seks was dit irrumo,fello, lingo mentula, lingo cunnus en lingo culus (Adams, 1982:125;130;134). Die scientia sexualis-weergawe is opgebou uit die mees eufemistiese en oorwegend metaforiese begrippe uit hierdie oorspronklike Latynse register. Trouens, Adams (1982; vergelyk selfs net die begripperegister op bladsye 257-265) lys met grondige etimologiese verklarings die hele oorspronklike Latynse seksuele vernakulêr, wat letterlik honderde inskrywings bevat.
27 Pederastie, ter wille van duidelikheid, dui op die antieke, oorwegend Hellenistiese gebruik om postpuberale minderjariges seksueel deur volwassenes van dieselfde geslag op te voed. 'n Postpuberale jong man se eerste seksuele ervaring was binne daardie konteks met 'n ouer man en 'n postpuberale jong vrou se eerste seksuele ervaring met 'n ouer vrou (sien Beukes, 2019:7). Binne die Hellenistiese konteks van Afrodite se werke spreek dit vanself dat die jonger persoon die passiewe rol sou moes inneem.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons