SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número4-1Translators cross swords! Translation problems relating to the sword as a weapon in 1 and 2 MaccabeesLiterary aspects of the 2020 translation of the Bible in Afrikaans and the contribution of the literary advisors in the process of translation índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.4-1 Pretoria Dez. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-1a10 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Op pad na 'n omvattende aanlyn woordeboek -met spesifieke verwysing na die Woordeboek van die Afrikaanse taal

 

Towards a comprehensive online dictionary - with specific reference to the Woordeboek van die Afrikaanse taal

 

 

Rufus Gouws

Departement Afrikaans en Nederlands, Universteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: rhg@sun.ac.za

 

 


OPSOMMING

Soos verskeie ander tale se omvattende woordeboeke is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal as gedrukte woordeboek beplan en saamgestel. Die hele woordeboek is intussen in elektroniese formaat beskikbaar en die laaste dele sal glad nie in gedrukte formaat verskyn nie. Na voltooiing van die werk in 2028 het die Redaksie die geleentheid om die hele woordeboek te herbewerk en ook om dit as 'n volwaardige aanlyn woordeboek beskikbaar te stel. So 'n herbewerking vereis die formulering van 'n nuwe woordeboekkonseptualiseringsplan wat erkenning gee aan werk wat in die leksikografiepraktyk asook in die metaleksikografie gedoen is.
Hierdie bydrae wys op 'n aantal aspekte waaraan die Redaksie kan aandag gee in hulle benutting van die moontlikhede van die aanlyn omgewing. Die fokus is op die aard van 'n omvattende woordeboek, die nuwe dataverspreidingstruktuur, 'n nuwe artikeluitleg, 'n veranderde mikrostruktuur wat ook aanpassings in die aard en omvang van die aanduiders insluit, asook 'n besinning oor die tersaaklike leksikografiese funksies.

Trefwoorde: buitekenmerke, data-identifiseerders, dataverspreidingstruktuur, kognitiewe funksie, koteks, leksikografiese funksies, raamstruktuur, semi-geïntegreerde mikrostruktuur, soekdomein, soekgebied, soek-universum, soeksone, soekveld, struktuurmerkers


ABSTRACT

Similar to other comprehensive dictionaries, the Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Dictionary of the Afrikaans Language) has been planned and compiled in a print format. Although some completed comprehensive dictionaries have been adapted to some kind of electronic dictionary they can often only be regarded as print dictionaries in digital format because there is not an optimal utilisation of the possibilities offered by the online environment. Changing such a dictionary to a fully fledged online dictionary demands critical thinking, the formulation of a new dictionary conceptualisation plan and a meticulous awareness of insights from both the lexicographic practice and metalexicography.
Work on the comprehensive Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) was commenced in 1926 and the last volume of this dictionary should be completed in 2028. During the last decades the editors adapted the dictionary to the digital format to complement the printed version. The final volumes of this dictionary will only be produced in electronic format. After 2028 the editors will have the opportunity to embark on a complete revision of the dictionary - also to ensure that work done in the previous century is on par with the latest version of the lexicographic process of this dictionary and that presentation and treatment are executed in a consistent way. It will also be an opportunity for the editors to make a transition to a true online dictionary in which the possibilities of this medium are optimally used.
This paper focuses on this transition to a complete online version. In this regard attention is given to the typological nature of a comprehensive dictionary and some of the possible adjustments the editors might consider when revising this dictionary are discussed. It is shown how important it is to introduce a data distribution structure that can ensure that lexicographic data are accommodated in the best possible venues. The use of outer features to complement the central list is briefly discussed. The online environment allows a transition from a static to a dynamic and multi-layered article structure. Suggestions are made to use such a multi-layered article structure in which non-typographical indicators are replaced by data-identifiers to assist the user in a rapid access to the required data.
Using a new type of article structure can also be supported by new ventures with regard to the microstructure. Instead of the integrated microstructure currently prevailing in the WAT a new version of a semi-integrated microstructure is suggested. This structure will accommodate a limited number of co-text items in integrated text blocks in the various sub-comments on semantics to ensure that the text production function can be achieved. In addition, non-integrated text blocks will be introduced to accommodate the majority of co-text items. Seeing the dictionary as a component of a search universe, lexicographers could give their users access not only to the curated co-text items in the dictionary but also to non-curated data in the corpus of the dictionary. This approach will strengthen the WAT as reference source and will be an added value for researchers in linguistics.
Although the default articles in the WAT do not contain items giving the etymology of words, the editors of this dictionary have already compiled an etymological dictionary. The WAT and the etymological dictionary can both feature in a dictionary portal and from the articles of the WAT users can be referred to an item in the etymological dictionary. Such a search domain will also be able to accommodate other lexicographic products to which dictionary users can be referred.
Lexicographic functions need to be negotiated in the planning of the online WAT. Currently this multifunctional dictionary responds to the diverse needs of users by achieving both communicative and cognitive functions. Due to the original planning of this dictionary, users often are not aware of its functions. In this contribution it is shown how various procedures could be followed to enhance the multifunctional value of an online version of this comprehensive dictionary. Besides the use of outer texts, it is shown how a semi-integrated microstructure could be used in an innovative way to separate semantic and encyclopaedic data in dictionary articles. A text block that focuses on encyclopaedic data can enhance the response of the WAT to the cognitive needs of its users.

Keywords: cognitive function, co-text, data distribution structure, data-identifiers, frame structure, lexicographical functions, outer features, search area, search domain, search field, search universe, search zone, semi-integrated microstructure, structural indicators


 

 

1. Inleiding

Vir gedrukte woordeboeke bestaan daar uitvoerige tipologiese klassifikasies, vergelyk byvoorbeeld Zgusta (1971:198-222). Alhoewel daar oorvleueling tussen sommige woordeboeksoorte bestaan, maak die tradisionele klassifikasiemetodes dit moontlik om 'n woordeboek in 'n tipologiese klas te plaas op grond van bepaalde klaskenmerke waaraan die betrokke woordeboek voldoen. Tradisionele klassifikasie werk grootliks met kenmerke soos omvang, inhoud en, in 'n mindere mate, die aangewese gebruiker. Ontwikkeling in die teoretiese leksikografie en 'n veel sterker gebruikersgerigtheid as vroeër, met die leksikografiese funksies van 'n woordeboek wat baie meer bepalend geraak het, het gelei tot voorstelle vir 'n soepeler klassifikasie wat eerder op die leksikografiese funksies van 'n bepaalde woordeboek, as net sy tradisionele tipologiese kenmerke moet berus (Gouws, 2007).

Die oorgang vanaf gedrukte na aanlyn woordeboeke kan met reg beskou word as een van die ingrypendste veranderings in die historiese ontwikkeling van die leksikografie. Vergelyk in hierdie verband Rundell (2012:72). Die invloed van hierdie oorgang op woordeboektipologie is nog nie genoegsaam ondersoek nie, maar die omvang daarvan mag nie onderskat word nie. Leksikograwe moet bewus wees van moontlike veranderinge wat in die leksikografiese praktyk haalbaar is, en vanuit die metaleksikografie moet leiding gegee word oor nuwe tipologiese moontlikhede en aanpassings wat in hierdie verband gemaak kan word. Leksikograwe moet in die beplanning en opstel van aanlyn woordeboeke, asook in die omskakeling van gedrukte na aanlyn woordeboeke, sekere kennis afleer, (vergelyk Gouws, 2011), ook ten opsigte van sommige tipologiese kenmerke wat vir 'n gedrukte woordeboek geld.

Nog geen omvattende woordeboek is van meet af beplan en saamgestel as 'n aanlyn produk nie. Omvattende woordeboeke soos die Oxford English Dictionary (die OED) en die Woordenboek der Nederlandsche Taal (die WNT) is in die pre-aanlyn era voltooi. Die koms van die digitale tydperk het wel daartoe gelei dat hierdie woordeboeke in elektroniese formaat beskikbaar gestel is en selfs ook aanlyn toeganklik is. Die inhoud en leksikografiese bewerking van hierdie woordeboeke weerspieël steeds die werk wat ten gunste van die gedrukte weergawes gedoen is en hierdie woordeboeke benut die moontlikhede van aanlyn leksikografie in 'n beperkte mate.

Die Woordeboek van die Afrikaanse taal (die WAT) is as gedrukte woordeboek beplan en vir 'n lang tyd slegs in dié formaat saamgestel. Aangesien die oorgang na die digitale era, sowel die elektroniese as die aanlyn, tydens die voortgaande werk aan die WAT plaasgevind het, het die onvoltooide weergawe van hierdie woordeboek as 'n elektroniese weergawe (in CD-ROM-formaat) sowel as 'n aanlyn weergawe verskyn. Om verstaanbare en voor die hand liggende redes, soos wat die geval ook met onder meer die OED en die WNT is, benut hierdie aanlyn weergawe van die WAT nie naastenby alle moontlikhede van die betrokke medium nie.

Volgens die WAT se tienjaarplan behoort die woordeboek teen 2028 voltooi te wees. Dan kan die Redaksie begin om die hele WAT te herbewerk, want in die eeu wat daar aan die voltooiing van dié woordeboek gewerk is, het die ontwikkeling van Afrikaans daartoe gelei dat talle byvoegings en aanpassings in die bestaande woordeboek nodig is. Hierdie herbewerking bied nie net die geleentheid om inhoudelike vernuwing te verseker nie, maar dit behoort die Redaksie te dwing om 'n nuwe woordeboekplan te formuleer en in werking te stel. So 'n woordeboekplan sluit 'n woordeboekkonseptualisering in, vergelyk Wiegand (1998:137), en moet ook voorsiening maak vir die gepaste medium waarin die woordeboek aangebied moet word.

Die impak van die leksikografieteorie op die leksikografiepraktyk, en meer spesifiek op die werk aan die WAT, het reeds herhaaldelik aandag gekry. Vergelyk in hierdie verband onder meer Feinauer (1996) en Botha (2003). Vanuit sowel die metaleksikografie as die bestaande woordeboekpraktyk bestaan daar nog nie uitvoerige leiding oor wat die impak van die leksikografieteorie op die herbewerking en volledige oorgang van 'n gedrukte na 'n volwaardige aanlyn weergawe van 'n omvattende woordeboek is en hoe hierdie proses aangepak en deurgevoer moet word nie. In hierdie bydrae word enkele moontlike aanpassings bespreek wat in die herbewerking van die WAT in die oorgang na die aanlyn omgewing gemaak sou kon word. Dit word gedoen teen die agtergrond van die inhoud van die gedrukte weergawe maar met inagneming van die ontwikkeling in die metaleksikografie en woordeboektipologie.

 

2. Enkele tipologiese kenmerke van 'n omvattende woordeboek met verwysing na die WAT

Dit is veral die omvang van 'n omvattende woordeboek wat hierdie woordeboeksoort op verskillende vlakke van ander eentalige verklarende woordeboeke onderskei. Die omvattend-heid van 'n omvattende woordeboek is onder meer merkbaar in die keuse van items om as lemmas opgeneem te word, in die aantal datatipes wat in die bewerking gebruik word en ook in die omvang van die bewerking per datatipe (Gouws, 2017:442).

2.1 Keuse van lemmas

Per tipologiese opdrag moet 'n omvattende woordeboek so wyd as moontlik verslag doen van die leksikon van die betrokke taal wat in die woordeboek behandel word. Daarom het 'n omvattende woordeboek meestal 'n historiese aanslag deurdat lemmakandidate sowel 'n sinchroniese as 'n diachroniese benadering weerspieël. Die WAT se benoeming as 'n omvattende woordeboek "wat oorwegend sinchronies van aard is" (WAT XV:ix) dui eintlik op 'n inherente teëspraak - "omvattend" behoort nie deur "sinchronies" beperk te word nie. Dit is egter 'n beperking wat die redaksie van die WAT self ingebou het en wat hulle in hulle opnamebeleid toegepas het. Hulle dui aan dat die sinchroniese aard veral neerslag vind in die ordening van betekenisonderskeidinge wat nie chronologies gerangskik word nie, maar volgens 'n empiriese ordeningsmetode.

Ook in die keuse van lemmas speel dit 'n rol. Die WAT se keuse van lemmas weerspieël in 'n hoë mate die hedendaagse taalgebruik in sy spektrum van variëteite en registers, maar, getrou aan sy omvattende tipologie, is daar wel ook talle woorde opgeneem wat ouer taalgebruik verteenwoordig. Dit is die gevolg van die diachroniese perspektief van hierdie woordeboek. Dit spruit ook daaruit voort dat in 'n meerdelige woordeboek wat oor so 'n lang tyd as die WAT voltooi word, dit onvermydelik is dat sommige woorde wat in die vroeë dele vir opname gekwalifiseer het nie noodwendig meer in latere fases van die werk vir opname sou kwalifiseer nie, aangesien hulle nie byvoorbeeld in 2015 die verlangde gebruiksfrekwensie het wat hulle byvoorbeeld in 1950 gehad het nie.

Die "sinchroniese" karakter van die WAT mag dus nie as absoluut verstaan word nie en die Redaksie noem dit dan ook (WAT XV:ix) dat die samestellers van die WAT hulle nie net toelê op die taal van die hede en die onlangse verlede nie maar ook op die Afrikaans van vroeëre jare. Dit bring dan mee dat hierdie woordeboek in sy keuse van lemmas ook sekere diachroniese kenmerke het - en dit bevorder sy omvattende aard en sy weerspieëling van 'n groot deel van die leksikon van Afrikaans.

2.2 Datatipes

Die datadigtheid, dit wil sê die kwantitatiewe verhouding tussen makro- en mikro-struktuurelemente, van 'n omvattende woordeboek moet hoog wees, dit wil sê daar moet 'n groot aantal datatipes in die mikrostrukturele bewerking van elke makrostruktuurelement gebied word. Die artikelstruktuur van 'n omvattende woordeboek moet so beplan word dat dit ruimte bied vir 'n verskeidenheid soeksones wat deur die toepassing van die dataverspreidingsproses beset kan word. Die leksikografiese bewerking wat in 'n omvattende woordeboek aangebied word, behoort daardie spektrum van datatipes te bevat waaraan die tipiese teikengebruiker 'n behoefte het. Die WAT spesifiseer byvoorbeeld hierdie teikenge-bruiker as "... alle sprekers van Afrikaans ... maar veral die spektrum gebruikers wat strek vanaf senior hoërskoolleerders tot Afrikaansakademici." (WAT XV:ix) Juis hierdie spektrum van teikengebruikers noop die leksikograaf om data aan te bied wat nie eerstens vir die behoefte van die toevallige gebruiker daar is nie, maar vir gebruikers wat 'n behoefte het aan 'n betroubare taalkundige bron. Daarom word 'n omvattende woordeboek ook 'n naslaanwoordeboek genoem (vergelyk Garvin, 1947). Dit bevat data waaraan die teiken-gebruikers meer inligting moet kan onttrek as aan die aanbod in kleiner woordeboeke soos standaard- en aanleerderwoordeboeke.

'n Omvattende versameling datatipes sluit regstreeks aan by die omvattendheid van so 'n woordeboek as naslaanbron - kleiner woordeboeke kan nie alle datatipes bevat nie en gebruikers beroep hulle dus op omvattende woordeboeke vir, onder meer, daardie data wat nie in ander woordeboeke te vind is nie. Die verpligte mikrostruktuur se aanduiders van onder meer ortografie, woordsoort, betekenisverklaring en koteks, soos te vinde in kleiner woordeboeke, moet in 'n omvattende woordeboek byvoorbeeld aangevul word met aanduiders wat uitspraak gee. Uitspraak is 'n tipe taalkundige leiding wat meestal op 'n baie beperkte manier in ander eentalige verklarende woordeboeke verstrek word. Daarom behoort 'n om-vattende woordeboek uitvoerige leiding in hierdie verband te gee.

Die uitgebreide mikrostrukuur van 'n omvattende woordeboek behoort ook voorsiening te maak vir aanduiders wat die herkoms van leksikale items verstrek. Selfs al het 'n omvattende woordeboek, dalk ten onregte, 'n sinchroniese benadering is etimologie 'n datatipe waaraan nie net taalkundiges nie maar ook talle ander woordeboekgebruikers 'n behoefte het. Hier behoort 'n omvattende woordeboek nie sy gebruikers teleur te stel nie.

2.3 Bewerkingsomvang

Omvangrykheid en volledigheid in die bewerking van elke datatipe is 'n kenmerk van omvattende woordeboeke. Vanuit sy tipologiese opdrag moet 'n omvattende woordeboek aan sy gebruikers 'n bepaalde toegevoegde waarde bied vergeleke met die data-aanbod wat in ander woordeboeke gevind word. Waar 'n standaardwoordeboek in sy ortografíese leiding miskien net een vorm van 'n woord aandui, behoort 'n omvattende woordeboek ook die ortografíese variante te verstrek. Wat uitspraakleiding betref, sal 'n kleiner woordeboek volstaan met die aanbieding van byvoorbeeld hoofklem en sillabeverdeling. Die omvattende woordeboek behoort daarnaas ook die fonetiese transkripsie te bied van die woorde wat deur die lemmas verteenwoordig word. Ook in die verklaring van betekenis moet die betekenisparafrase (vergelyk Wiegand, 1989:546 e.v.) so geformuleer word dat dit meer as 'n kernagtige verklaring is en reg laat geskied aan die kognitiewe funksie wat in 'n omvattende woordeboek bevredig moet word, vergelyk Feinauer (2007:270).

 

3. Van gedrukte woordeboek na aanlyn woordeboek

Vir enige woordeboek moet die oorgang vanaf die gedrukte na die aanlyn formaat veel meer wees as net die gedrukte woordeboek wat in digitale formaat geplaas en aanlyn beskikbaar gestel word. Dit vereis 'n ingrypende en kritiese beplanning en die formulering van 'n nuwe komponent in die bestaande, oorhoofse woordeboekplan se woordeboekkonseptuali-seringsafdeling. Volgens Wiegand (1998:138) bestaan 'n oorhoofse woordeboekplan uit twee hoofafdelings, te wete 'n organisasieplan en 'n woordeboekkonseptualiseringsplan. Die laasgenoemde afdeling bestaan uit 'n algemene deel en 'n deel wat die sogenaamde instruk-sieboek bevat. Hierin kom onder meer aspekte soos die woordeboekbasis, die artikelformulering en die uitleg- en drukvoorbereiding voor. In hierdie afdeling kan 'n nuwe komponent gevoeg word, te wete die omskakeling vanaf die gedrukte na 'n aanlyn weergawe. Dit word dan 'n formele deel van die woordeboekplan.

Die afgelope dekades se ontwikkeling in die metaleksikografie het die fokus op veral drie kernaspekte van enige leksikografiese projek geplaas, te wete die inhoud, die strukture en die funksies (Gouws, 2005). In die beplanning van 'n nuwe woordeboek moet die leksikograaf bepaal wie die teikengebruiker van daardie woordeboek is, asook wat die leksikografiese behoeftes en naslaanvaardighede van daardie teikengebruiker is. Dit lei tot 'n vasstelling van die leksikografiese funksies wat deur die woordeboek bevredig moet word, tot die keuse van lemmakandidate en datatipes wat daardie funksie kan help bevredig en tot die vasstelling van strukture vir die aanbieding van die gekose aanduiders.

Met sy voltooiing in 2028 sal die WAT as omvattende woordeboek 'n hibridiese aard hê deurdat dit as 'n gedrukte woordeboek beplan is, en dat die grootste aantal dele dien-ooreenkomstig saamgestel en gepubliseer is, maar dat die bestaande woordeboekdele later ook in 'n digitale formaat verskyn het, en die laaste dele uitsluitlik digitaal - na 'n uitvoerige herbeplanning van die e-bewerking.

Indien 'n mens die voltooide WAT as 'n afgehandelde produk sou beskou, hoef daar niks verder daaraan gedoen te word nie. Indien dit egter beskou word as 'n voortgaande projek wat deurentyd verslag wil doen van die ontwikkelinge in die leksikon van Afrikaans, moet daar besin word oor hoe die voortgaande werk moet geskied. Eerstens sou die bestaande artikels waar nodig geredigeer kon word en sou nuwe artikels bygevoeg kon word. 'n Alternatief tot so 'n benadering sou wees om 'n volledig nuwe beplanning te hê wat ten opsigte van sowel die redigering en instandhouding van die bestaande woordeboek as die toevoeging van nuwe materiaal geld en ook gerig is op die inwerkingstelling van nuwe leksikografiese metodes en 'n aanpassing by die aanlyn omgewing. Dit is die benadering wat in hierdie bydrae bepleit word en ten opsigte waarvan enkele voorstelle gemaak word.

 

4. Uitbreiding in die omvattendheid van 'n omvattende woordeboek

In die omskakeling van die WAT na 'n volwaardige aanlyn woordeboek wat die moontlikhede van die medium optimaal benut, moet talle aspekte van die bestaande woordeboek behou word. Dit raak uiteraard ook die tipologiese klassifikasie. Wat al die belangrikste tipologiese kriteria betref, moet hierdie woordeboek aan sy tipologiese opdrag getrou bly, maar die behoud daarvan impliseer nie die afwesigheid van verandering nie. In 'n aanlyn weergawe van 'n omvattende woordeboek kan daar juis 'n veel beter aanbieding van alle vlakke van die verlangde omvattendheid gebied word.

4.1 Aanpassings in die dataverspreidingstruktuur

Woordeboeke is draers van tekssoorte (Wiegand, 1995:465). In die beplanning van woorde-boeke, en dit geld ook die beplanning van die herbewerking van woordeboeke, speel besluite oor die dataverspreidingstruktuur 'n wesenlike rol. Die dataverspreidingstruktuur bepaal hoe die data wat in 'n woordeboek as 'n draer van tekssoorte opgeneem word in die verskillende leksikografiese soekposisies van daardie woordeboek geplaas moet word. Vergelyk in hierdie verband Bergenholtz, Tarp en Wiegand (1999) asook Gouws (2018, 2018a).

Elkeen van die gedrukte dele van die WAT vertoon 'n raamstruktuur, vergelyk Kammerer en Wiegand (1998). Die buitetekste sluit telkens voor- en agtertekste in met die voortekste wat die spesifieke deel se titelblad en inhoudsopgawe bevat, asook bepaalde redaksionele tekste, skematiese voorstelling van artikels, toeligtingstekste, ensovoorts. Die agtertekste weerspieël 'n baie beperkte verskeidenheid met die fokus op regstellings, voorlopige byvoegings asook bronnelyste ten opsigte van die spesifieke deel. Wat die WAT as 'n geheel betref, moet al hierdie voor- en agtertekste as sekondêre buitetekste beskou word wat telkens aan die bepaalde deel 'n primêre raamstruktuur verleen, maar wat as sekondêre raamstruktuur van die woordeboek as geheel optree, vergelyk Gouws (2004).

In 'n nuwe aanlyn weergawe kan die buitetekste van die indiwiduele dele verdwyn en die woordeboek kan 'n primêre raamstruktuur hê met buitetekste wat onmiddellike stukke van die woordeboek as geheel is. In 'n aanlyn weergawe verval die onderskeid tussen voor- en agtertekste omdat daar nie 'n vasgestelde opeenvolging van tekste bestaan nie. Die inhoud van die bestaande voortekste, byvoorbeeld die skematiese voorstelling van artikels, die toeligtingstekste, redaksionele opmerkings, ensovoorts kan steeds as buitetekste aangebied word. Vanuit die bestaande agtertekste kan een geamalgameerde bronnelys as buiteteks aangebied word wat al die bronne bevat waarna daar in die sentrale teks verwys word.

Die dataverspreidingstruktuur van 'n aanlyn weergawe kan die buitetekste met vrug gebruik om én bestaande én nuwe data te akkommodeer. Tematiese sketsreekse soos die vlae in Deel II, die wildsbokke in Deel IV en die klipwerktuie in Deel VI kan as buitetekste aangebied word. Vergelykbare temareekse kan bygevoeg word - met 'n ingeboude skakel daarheen in die relevante artikels in die sentrale teks. Die bevrediging van die kognitiewe funksie van die woordeboek kan sodoende uitgebrei word deur ook ander datatipes buite die sentrale teks aan te bied.

Klosa en Gouws (2015) verwys eerder na buitekenmerke as buitetekste omdat dit in veral aanlyn woordeboeke nie net tekste is wat buite die sentrale teks, maar steeds binne die woordeboek, as datadraers optree nie. Oudio- en videomateriaal kan ook in sulke soekposisies verstrek word. Ook hier kan die WAT vernuwe word deur 'n verskeidenheid video- en klankopnames wat binne bestek van die woordeboek se kognitiewe funksie, die teikenge-bruikers aansienlik kan help. Om taalkundige hulp te bied, kan daar byvoorbeeld klankopnames van verskillende Afrikaanse dialekte verstrek word. As deel van die ensiklopediese data wat die kognitiewe funksie help bevredig, kan opnames van voëlgeluide naas video-opnames van Suid-Afrikaanse voëls verstrek word. Die buitekenmerke bied posisies aan die leksikograaf wat deur die dataverspreiding beset kan word en die leksikografiese bewerking van 'n omvattende woordeboek nog omvattender maak. Vir die WAT-redaksie kan die benutting van buitekenmerke 'n uitdagende maar leksikografies bevredigende taak word.

Die dataverspreidingstruktuur van die aanlyn WAT kan ondersteun word deur 'n inligtingsonttrekkingstruktuur (vergelyk Gouws, 2021) wat die gebruiker lei om nie net data in die woordeboek self te vind nie, maar ook toegang bied tot woordeboek-eksterne bronne, veral die woordeboekkorpus, asook die internet. Die soekuniversum kan benut word as die woordeboek 'n datatrekkingstruktuur het (vergelyk Müller-Spitzer, 2013; Gouws, 2018, 2021) wat dit vir die gebruiker moontlik maak om inligting aan data te onttrek wat nie noodwendig leksikografies bewerk is nie. (Vergelyk ook paragraaf 4.3.2 in hierdie bydrae.) Daardeur word die moontlikhede van die omvattende woordeboek as 'n inligtingsbron ingrypend vermeerder.

Verskeie aanpassings in die dataverspreiding binne die sentrale teks is moontlik en selfs gewens. Een tipe aanpassing geld ten opsigte van die artikelstruktuur en -uitleg. Dit word in die volgende afdeling bespreek.

4.2 Artikelstruktuur en -uitleg

Met inagneming daarvan dat die omvattende kenmerk van die WAT gehandhaaf word ten opsigte van onder meer lemmakeuse, die aantal datatipes wat telkens verskyn, asook die uitgebreidheid van die leksikografiese bewerking, moet daar aandag gegee word aan die artikelstruktuur en artikeluitleg. Volgens Wiegand, Feinauer en Gouws (2013:317) is 'n woordeboekartikel 'n toeganklike woordeboekinskrywing met die volgende drie kenmerke: dit het minstens een eksterne toegangselement; dit is 'n konstituent van 'n woordelys en dit bevat toeganklike leksikografiese data. Gouws (2014) toon aan hoe hierdie kenmerke ook in die woordeboekartikels van aanlyn woordeboeke geld.

In sommige aanlyn woordeboeke, onder andere die huidige weergawe van die WAT, word 'n soortgelyke artikelstruktuur gehandhaaf as wat in die gedrukte weergawe voorkom. Dit is 'n onderbenutting van die moontlikhede wat die aanlyn omgewing bied. Gouws (2014) wys gevolglik daarop dat aanlyn woordeboeke 'n volledig nuwe artikelstruktuur, die sogenaamde veelvlakkige artikelstruktuur, kan gebruik. 'n Veelvlakkige artikelstruktuur is byvoorbeeld te vind in die Duitse aanlyn woordeboek elexico, 'n produk van die Institut für deutsche Sprache in Mannheim, Duitsland se projek OWID ("Online-Wortschatz-Informationssystem Deutsch"). In hierdie woordeboek sien die gebruiker nooit die artikel as 'n geheel nie. Die opening-skermskoot bied 'n oorsig oor die twee hoofkomponente van die artikel en daarna word die gebruiker via die interne toegangstruktuur na skermskote gelei waar die gewenste data aangebied word en waaraan die gebruiker die tersaaklike inligting kan onttrek. Figuur 1-3 wys verskillende sulke artikelvlakke in die artikel van die lemma Buch.

Figuur 1 bied 'n deel van die openingskermskoot van die artikel van die lemma Buch. Hierdie skermskoot bevat twee hoofgedeeltes wat vergelykbaar is met die vormkommentaar en die semantiese kommentaar in die artikel van 'n gedrukte woordeboek. Die eerste deel is die "Lesartenübergreifende Angabe", dit is die aanduiders wat vir alle betekenisonderskeidinge geld, en die tweede afdeling is die "Lesartenbezogene Angaben", dit is die aanduiders ten opsigte van spesifieke betekenisonderskeidinge van die woord wat deur die lemma verteenwoordig word. Hierdie afdeling bied in vetdruk 'n semantiese identifisering van die betrokke betekenisonderskeiding. Daarna volg die kort betekenisparafrase.

 

 

Deur op die skakel "weiter" (verder) te klik, word die gebruiker na 'n volgende skermskoot geneem, byvoorbeeld die skermskoot in figuur 2. Hierdie skermskoot bied aan die gebruiker die vertrekpunt vir die bewerking van die eerste betekenisonderskeiding van Buch. Sentraal in hierdie skermskoot staan die data-identifiseerder wat die aanduider van die betekenisparafrase merk. Onder die betekenisparafrase is twee verdere data-identifiseerders, te wete "Belege" (voorbeelde) en "Illustrationen" (illustrasies). Langs elk van hierdie twee identifiseerders is die skakel "anzeigen" (wys) en 'n klik daarop lei die gebruiker na voorbeeldaanduiders of illustrasie-aanduiders. Bokant die betekenisparafrase is 'n balk met verskeie ander data-identifiseerders wat elk 'n bepaalde datatipe aandui. Dit bied aan die gebruiker 'n kitstoegang tot hierdie soeksones - en vervang die gebruik van die tradisionele nietipografiese struk-tuurmerkers.

 

 

'n Klik op so 'n data-identifiseerder lei die gebruiker na die soeksone wat die aanduiders bevat wat draers van die betrokke datatipe is. So sal 'n klik op "Grammatik" die gebruiker lei na die skermskoot wat in figuur 3 aangedui word en die soeksone bevat met grammatiese data oor Buch met betrekking tot sy eerste betekenisonderskeiding.

 

 

In 'n aanlyn weergawe van die WAT sou 'n veelvlakkige artikelstruktuur met so 'n vergestalting van die interne toegangstruktuur 'n groot verbetering wees.

Volgens Wiegand (1989a:428) is 'n gestandaardiseerde woordeboekartikel as deelteks van die sentrale teks 'n geordende versameling van funksionele leksikografiese tekssegmente. Die funksionele tekssegmente val in twee tipes uiteen (Wiegand, 1989a:427), te wete aanduiders en struktuurmerkers. Aanduiders is tekssegmente wat datadraers is en waaraan die gebruiker inligting kan onttrek wat aangebied is as deel van die bewerking van die lemma. Dit sluit byvoorbeeld betekenisaanduiders, morfologieaanduiders, uitspraakaanduiders, koteksaan-duiders, ensovoorts in. Struktuurmerkers is nie datadraers nie, maar funksionele tekssegmente wat die gebruiker help om aanduiders te identifiseer en van mekaar te onderskei. Struktuurmerkers word verdeel in tipografiese (byvoorbeeld kursiefdruk, vetdruk, romein) en nietipografiese struktuurmerkers (byvoorbeeld tekens soos 'n driehoek of vierkant om 'n bepaalde soeksone te merk).

Die gedrukte WAT het uiteraard talle aanduiders - wat in die aanlyn weergawe behou moet word, maar daar is ook 'n verskeidenheid tipografiese en nietipografiese struktuurmerkers. In 'n aanlyn woordeboek kan tipografiese struktuurmerkers in 'n beperkter mate gebruik word, maar in plaas van nietipografiese struktuurmerkers kan eksplisiete data-identifiseerders gebruik word om die gebruiker 'n kitstoegang tot bepaalde soeksones en aanduiders te gee. Vergelyk weer die aanbieding in figuur 1-3 uit elexiko waar sulke data-identifiseerders gebruik word in plaas van nietipografiese struktuurmerkers. Alhoewel dieselfde data wat in die gedrukte weergawe van die WAT voorkom ook in die aanlyn weergawe aangebied kan word, kan die vindbaarheid van aanduiders en die soeksones waarin hulle verskyn, asook die onttrekking van inligting veel vinniger geskied deur die artikelstruktuur se nietipografiese struktuurmerkers met data-identifiseerders te vervang. In 'n veelvlakkige artikelstruktuur bied dit aan gebruikers die moontlikheid om vinnig by die datatipes waaraan hulle 'n behoefte het, uit te kom sonder om deur die hele woordeboekartikel te hoef te beweeg.

In die herbewerking van die WAT om 'n volwaardige aanlyn woordeboek daar te stel wat veel meer moontlikhede benut wat die aanlyn omgewing bied, sal dit goed wees om die artikelstruktuur aan te pas. Die data in die bestaande artikels kan grootliks behou word met aanpassings en wysigings waar nodig (vergelyk paragraaf 4.3. van hierdie bydrae) maar die aanlyn weergawe bied nuwe verpakkings- en aanbiedingsmoontlikhede. Die vasstelling van die dataverspreidingstruktuur van die woordeboek kan veel meer gebruikersukses bring, veral vir 'n nuwe generasie woordeboekgebruikers, deur 'n veelvlakkige artikelstruktuur waarin data-identifiseerders gebruik word, in te voer.

4.3 Die mikrostruktuur

4.3.1 Mikrostruktuurtipe en datatipes

In die beplanning van 'n aanlyn WAT sal aandag gegee moet word aan die tipe mikrostruktuur wat benut word, asook aan die datatipes wat as aanduiders in die verskillende soeksones van die woordeboekartikels verskyn, maar aandag moet ook gegee word aan data wat elders as deel van die leksikografiese aanbod verstrek word. In die volgende paragrawe word enkele aspekte hiervan bespreek, met 'n fokus op die tipes mikrostruktuur, die benutting van 'n soekuniversum, koteksaanduiders, etimologiese data en uitspraakleiding.

4.3.2 Koteksaanduiders in 'n veranderde mikrostruktuur

In die artikels van die gedrukte weergawe van die WAT word 'n geïntegreerde mikrostruktuur gehandhaaf, vergelyk Wiegand (1989b:482). As deel van die WAT se opdrag as omvattende woordeboek, bevat baie artikels 'n beduidende aantal koteksaanduiders - sowel voorbeeldsinne as kollokasies. In die geval van artikels waar die lemma 'n polisemiese leksikale item verteenwoordig en die geïntegreerde mikrostruktuur dus duidelik blyk, is die verskillende semantiese subkommentare dikwels verswaar. Alhoewel die groot aantal koteksaanduiders die leksikografiese waarde van die WAT verhoog, kan 'n aangepaste verspreiding van hierdie data deur middel van 'n veranderde tipe mikrostruktuur die gebruiker in 'n hoër mate ter wille wees.

Ook hier kan 'n veelvlakkige artikelstruktuur help. Vir die aanlyn weergawe kan 'n aangepaste toepassing van 'n geïntegreerde mikrostruktuur gebruik word. In die geval van artikels met meerdere semantiese subkommentare kan die openingskermskoot van die artikel 'n verdeling vergelykbaar met dié van elexiko hê met 'n afsonderlike segment wat kort betekenisparafrases van elke semantiese subkommentaar bevat. 'n Klik op een van hierdie inskrywings lei die gebruiker dan na 'n sekondêre openingskermskoot, te wete dié van die betrokke semantiese subkommentaar. In hierdie skermskoot kom 'n nuwe weergawe van 'n geïntegreerde mikrostruktuur aan die orde - nie net koteksaanduiders nie maar ook ander aanduiders soos verwante woorde is per klik op 'n data-identifiseerder bereikbaar as inskrywings in dieselfde integraat. Vir die gebruiker van die aanlyn WAT wat op soek is na enkele koteksaanduiders ter bevrediging van 'n teksproduksiebehoefte, kan die groot aantal voorbeeldsinne oorweldigend wees. Vergelyk in hierdie verband figuur 4 met die talle koteksaanduiders in die eerste semantiese subkommentaar van die WAT-lemma kerk se artikel.

 

 

Vir 'n omvattende aanlyn woordeboek sou 'n herinterpretasie van Wiegand (1996) se semigeïntegreerde mikrostruktuur tot 'n verbeterde toepassingsmoontlikheid kon lei. In die geïntegreerde komponent wat via die data-identifiseringsaanduider op die sekondêre openingskermskoot bereikbaar is, kan 'n beperkte aantal koteksaanduiders verstrek word -genoeg om teksbegrip- en beperkte teksproduksiehulp te verleen.

Soos in figuur 1 aangedui, bevat die openingskermskoot van 'n artikel in elexiko twee hoofgedeeltes wat vergelykbaar is met die vormkommentaar en die semantiese kommentaar in die artikel van 'n gedrukte woordeboek. 'n Vergelykbare benadering in die aanlyn WAT sou die geïntegreerde optredes van koteksaanduiders in elk van die onderskeie semantiese subkommentare van hierdie semantiese kommentaar kon laat optree.

Vóór die lysting van die verskillende semantiese subkommentare in hierdie oorsigskerm-skoot sou die leksikograwe van die WAT vir die artikel 'n semigeïntegreerde mikrostruktuur kon verseker deur 'n bykomende teksblok aan te bring waarin die data van die niegeïntegreerde komponent (vergelyk Wiegand, 1989b:482) van die semigeïntegreerde mikrostuktuur aangebied word. In hierdie niegeïntegreerde teksblok kan al daardie koteksaanduiders uit al die semantiese subkommentare van die betrokke artikel van die gedrukte weergawe van die WAT verstrek word wat nie in die geïntegreerde komponente van die aanlyn weergawe verskyn nie. So 'n teksblok vertoon geen arbitrêre rangskikking van koteksaanduiders nie, maar handhaaf die nommering wat elders vir die verskillende semantiese subkommentare gebruik word sodat gebruikers probleemloos 'n bepaalde koteksaanduider in die niegeïntegreerde teksblok met 'n betekenisonderskeiding in 'n bepaalde semantiese subkommentaar kan verbind en die koteksaanduiders laat aansluit by dié wat in die geïntegreerde teksblokke optree. Soos daar in die geïntegreerde teksblokke voorsiening gemaak kan word vir 'n onderskeid tussen voorbeeldsinne en kollokasies, kan dieselfde onderskeid ook in die niegeïntegreerde teksblok gemaak word.

'n Vernuwing wat in die niegeïntegreerde teksblok ingevoer kan word en wat reg sal laat geskied aan die omvattende benadering wat ook vir 'n historiese perspektief op taal voorsiening maak, is die chronologiese ordening van voorbeeldmateriaal. In die gedrukte WAT is daar tans voorbeeldmateriaal wat verteenwoordigend is van 'n wye tydsomvang. Daar is egter geen chronologiese ordening nie. Byvoorbeeld, vir die eerste betekenisonderskeiding van rammel is daar sitate uit 1996, 1932, 1931 en 1956 en vir reun kom die sitate uit 2005, 1950, 1969 en 1961. Vanuit 'n taalontwikkelingsperspektief sou dit waarde kon hê indien die herbewerking van 'n nuwe aanlyn WAT die voorbeeldmateriaal in chronologiese orde kan aanbied. Dit sou ook, veral in die niegeïntegreerde teksblok, 'n beter insig gee in die ontwikkeling in die gebruik van die betrokke woord. Hier kan die WAT in sy oorgang van gedrukte na aanlyn weergawe presies dieselfde data behou, maar die aanbieding kan die leksikografiese en taalkundige waarde daarvan verhoog.

Die toegang tot voorbeeldmateriaal wat 'n aanlyn omvattende woordeboek aan gebruikers bied, hoef nie beperk te word tot daardie voorbeeldsinne en kollokasies wat die leksikograaf kies om as koteksaanduiders opgeneem te word nie. Die aanlyn omgewing bied aan leksikograwe die moontlikheid om met behulp van 'n omvattende dataverspreidingstruktuur en 'n inligtingsherwinningstruktuur (vergelyk Gouws, 2021) aan hulle gebruikers toegang tot data te bied wat buite die woordeboek as soekstreek val (vergelyk Gouws, 2018a:228). Die benutting van 'n soekuniversum (vergelyk Gouws, 2021) maak dit moontlik om inligting aan woordeboekeksterne bronne te onttrek. Dit kan 'n wesenlike rol daarin speel om die toegang tot koteksdata meer op die spesifieke behoeftes van verskillende gebruikers te rig.

In die herbeplanning van die WAT kan toegang bewerkstellig word tot bykomende voorbeeldmateriaal wat nie in die woordeboekartikels verskyn nie. In elke woordeboekartikel kan skakels ingebou word na bepaalde woordeboekeksterne bronne wat in die betrokke woordeboek se soekuniversum verskyn. Figuur 5, 'n skermskoot uit dict.cc, wys die data-identifiseerder "i" (Inligting) wat langs verskillende aanduiders verskyn. 'n Klik op daardie aanduider, hier langs die Engelse woord wordbook, lei die gebruiker na die skermskoot in figuur 6, met onder andere 'n lysie woordeboekeksterne bronne - ander woordeboeke, asook google - waar bykomende tersaaklike inligting verkry kan word.

 

 

 

 

In 'n nuwe aanlyn WAT sou die woordeboekkorpus ook as 'n bron in die soekuniversum gelys kan word. Vanuit 'n woordeboekartikel sal 'n gebruiker dan na die lysie woordeboekek-sterne bronne en vandaar na die korpus, of selfs regstreeks vanuit die artikel na die korpus, kon beweeg. Vir die kundige woordeboekgebruiker en vir die navorser kan hierdie soort toegang 'n onbetwiste toegevoegde waarde hê. Woordeboekgebruikers moet wel daarop bedag gemaak word dat die koteksaanduiders in die woordeboekartikels geredigeerde data is, terwyl die korpus ongeredigeerde data bevat. Vergelyk ook Botma en Gouws (2020:31).

4.3.3 Etimologiese data

Dit is reeds vroeër in hierdie artikel vermeld dat die gebruiker op grond van die opdrag aan 'n omvattende woordeboek etimologiese data in so 'n woordeboek kan verwag. Die gedrukte WAT bevat nie etimologiese data as aanduiders in die verpligte mikrostruktuur van sy artikels nie. Die behoefte aan etimologiese data in die aanlyn WAT impliseer nie noodwendig dat die mikrostrukturele aanbieding en ordening in die woordeboekartikels vir etimologie-aanduiders voorsiening moet maak nie; alhoewel dit 'n voorkeuropsie sou wees vanweë die regstreekse adressering tussen die etimologie-aanduider en die lemma van die betrokke artikel. Aanlyn woordeboeke werk met meer soekposisies as wat die geval met gedrukte woordeboeke is.

Wiegand, Beer en Gouws (2013:63) verwys na drie soekposisies in 'n gedrukte woorde-boek, te wete die soekveld, dit is die sentrale teks; die soekgebied, dit is elke individuele artikel; en die soeksone, dit is die mikrostrukturele gleuwe in die artikelstruktuur wat akkom-modasie bied aan aanduiders wat die onderskeie datatipes van die woordeboekartikel moet weergee. Verglyk in hierdie verband ook Wiegand (2000). Volgens Gouws (2018:225) kan 'n woordeboek as geheel, dit wil sê, die sentrale teks saam met alle buitetekste, as 'n soekstreek beskou word. Waar 'n woordeboek, tipies 'n aanlyn woordeboek, deel is van 'n woordeboek-portaal vorm die portaal as soekplek 'n soekdomein.

Die Buro van die WAT het reeds as deel van sy leksikografiese aanbod die Etimologie-woordeboek van Afrikaans (die EWA) gepubliseer. Dit is ook 'n voortgaande projek waarvan daar reeds 'n supplement verskyn het. In die bewerking van die aanlyn WAT kan die skep van 'n woordeboekportaal wat onder meer toegang tot die aanlyn WAT asook die EWA bied, 'n soekdomein daarstel wat dit vir gebruikers moontlik maak om vanuit 'n WAT-artikel na die artikel van die ooreenstemmende lemma in die EWA gelei te word. Etimologiese inligting kan dus vanuit die aanlyn WAT onttrek word vir alle woorde wat as lemmas in die EWA verskyn.

4.3.4 Uitspraakleiding

As omvattende woordeboek kan die WAT nie ontsnap aan sy opdrag om ook uitvoerige uitspraakleiding te bied nie. Nadat uitspraakaanduiders in die vroeë dele van die WAT beperk is tot die gee van hoofklem en sillabeskeiding, het WAT IX-XIV volledige fonetiese transkripsies van die behandelde leksikale items gegee. Al het hierdie aanbieding soms sterk op die moontlike eerder as die werklike uitspraak gefokus, het dit 'n wesenlike rol gespeel in die bereiking van nog 'n mikpunt van 'n omvattende woordeboek. Vanaf deel XV is hierdie goeie leksikografiese leiding gestaak en is daar teruggeval op die beperkte manier van leidingverskaffing soos in die ouer WAT-dele voorgekom het.

In die herbewerking van die WAT sou die leksikograwe die tipe leiding wat in dele IX-XIV gebied is, kon uitbrei tot die res van die artikeltrajekte. In hierdie verband hoef die omvattendheid nie te impliseer dat elke moontlike uitspraakvariant aangedui hoef te word nie. In dele IX-XIV is daar soms 'n oormaat van uitspraakvorme aangedui wat nie altyd die werklike taal weerspieël het nie. In die herbewerking kan die Redaksie hulle beperk tot die algemeenste uitspraakvorm en indien daar meerdere variante is wat 'n redelike gebruiksfrekwensie het, sou die tweede en verdere voorbeelde in afnemende gebruiksfrekwensie georden kon word.

In 'n aanlyn WAT wat die moontlikhede van die medium optimaal benut, kan die gebruiker verder gehelp word deur 'n oudiofunksie waarvolgens die uitspraak aangedui word. Soos in talle ander woordeboeke kan 'n data-identifiseerder, byvoorbeeld 'n klein luidspreker, gebruik word om die gebruiker na die oudio-aanduider te lei. Dit sou nie net 'n toegevoegde waarde vir die gebruiker bied nie, maar sou ook leksikografiese regstellende aksie ten opsigte van die WAT as omvattende woordeboek wees.

 

5. Leksikografiese funksies

In die ontwikkeling van die metaleksikografie word daar heelwat aandag gegee aan leksikografiese funksies en die belangrikheid daarvan in die beplanning en samestelling van enige woordeboek. Vergelyk in hierdie verband onder meer Bergenholtz en Tarp (2002) en Tarp (2000; 2008). Tydens die vroeë jare van die werk aan die WAT was daar min ondersteuning van metaleksikografiese aard en die belang van leksikografiese funksies het nog geen prominente rol gespeel nie. In die beplanning van die gedrukte WAT het leksikografiese funksies dus nie die keuse en aanbieding van data bepaal nie. In die herbewerking van die WAT en gepaardgaande oorgang na 'n volwaardige aanlyn woordeboek mag die belang van leksikografiese funksies nie onderskat word nie. Leksikografiese funksies moet 'n invloed op én die keuse van data én die aanbieding daarvan hê.

Wat die bevrediging van leksikografiese funksies betref, het 'n omvattende woordeboek ook 'n omvattende opdrag. So 'n woordeboek behoort 'n multifunksionele benadering te hê. Alhoewel leksikografiese funksies geen eksplisiete vermelding in die beplanning van die WAT gehad het nie, is die keuse en aanbieding van data wel van sodanige aard dat 'n multifunksionele gerigtheid duidelik merkbaar is. Die kommunikatiewe funksies van teksbegrip en teksproduksie word veral deur onderskeidelik die betekenisparafrase- en die koteksaanduiders vervul. 'n Omvattende woordeboek moet ook data bied ter bevrediging van 'n kognitiewe funksie. Soos reeds vroeër in hierdie artikel genoem, kan die aanbieding en bewerking van data wat op die kognitiewe funksie van die aanlyn WAT gerig is, grootliks uitgebrei word deur bykomende tekste in die buiteteksteafdeling. So 'n benutting van datahuisvesting elders in die soekstreek as net in die sentrale teks, benadruk nogmaals die omvattende karakter van die betrokke woordeboek.

In die betekenisparafrases van 'n omvattende woordeboek is dit onvermydelik dat nie net betekenisdata nie, maar ook 'n beperkte hoeveelheid ensiklopediese data ingesluit word. Hierdie ensiklopediese data word verstrek as deel van die uitvoering van die woordeboek se kognitiewe funksie.

In die verlede is die WAT dikwels gekritiseer vanweë 'n oordrewe ensiklopedisiteit in die leksikografiese definisies. Vergelyk in hierdie verband onder meer Combrink (1979) en Odendal (1979). In gedrukte woordeboeke is dit nie altyd maklik om betekenisdata van ensiklopediese data te skei nie. Die enkelveldvakwoordeboek vir leksikografie Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung /Dictionary of Lexicography and Dictionary Research (die WLWF) skep wel in sy artikels ruimte vir verskillende kategorieë van aanduiders, onder meer een vir die leksikografiese definisie en een vir "verdere verklarings." Die data in hierdie tweede gleuf is van 'n meer ensiklopediese aard en is ter vervulling van die woordeboek se kognitiewe opdrag. Vergelyk in hierdie verband figuur 7, 'n skermskoot van 'n deel van die artikel van die lemma Findefunktion. Die soeksone net ná die lemmateken en die vormkommentaar bevat die kort leksikografiese definisie in Duits. Daarna is daar 'n soeksone met die definisie in Engels. Die nietipografiese struktuurmerker "" identifiseer die soeksone waarin die verdere verklarings volg. Hierdie soeksone strek tot by die nietipografiese struktuurmerker wat die soeksone met verwysings na verwante terme identifiseer.

 

 

Naas die rol van buitetekste ten opsigte van die kognitiewe funksie kan die artikels in die sentrale teks van die WAT ook bydra tot 'n hoër mate van bevrediging van die kognitiewe funksie. Die skermskoot van elke semantiese subkommentaar moet 'n soeksone bevat waarin die aanduider van die betekenisparafrase verstrek word. In die herbewerking van die WAT het die leksikograwe die verantwoordelikheid om die bestaande betekenisparafrases van die gedrukte WAT krities te beoordeel en waar nodig aanpassings te maak met die oog op die nuwe aanlyn weergawe. Dit is ook 'n geleentheid om die bestaande betekenisparafrases van 'n groot deel van die ensiklopediese inhoud te suiwer. Daardie ensiklopediese data moenie sonder meer uit die woordeboek geskrap word nie, maar sou 'n optrede kon kry in 'n nuwe artikelgleuf, te wete een wat vergelykbaar is met die WLWF se gleuf vir "verdere verklarings" wat ook ensiklopediese data kan huisves.

Die WAT-weergawe van die elexiko-skermskoot wat in figuur 2 verstrek is, sou 'n bykomende data-identifiseerder kon hê met behulp waarvan gebruikers by die artikelgleuf vir ensiklopediese en verdere verklarings sou kon uitkom. Hierdeur kan die gebruiker wat 'n groter teksbegrip as kognitiewe behoefte het, sy/haar verlangde inligting aan die verstekbetekenisparafrase-aanduider onttrek. Die gebruiker met 'n sterker kognitiewe behoefte sou baat kon vind by die data in die nuwe gleuf vir ensiklopediese en verdere verklarings.

 

6. Ter afsluiting

Die voltooiing van die WAT in 2028 bied aan die Redaksie die geleentheid om daarna die volle woordeboek te herbewerk en 'n volwaardige aanlyn produk te skep wat die moontlikhede van die digitale omgewing optimaal benut. Dit vereis 'n ingrypende herbeplanning, die formulering van 'n nuwe woordeboekplan en die aktiewe benutting van insigte uit sowel die bestaande aanlyn praktyk as die metaleksikografie.

Hierdie bydrae wys op enkele aspekte waaraan die redaksie van 'n omvattende woordeboek kan aandag gee om steeds getrou te kan bly aan so 'n woordeboek se tipologiese opdrag, maar ook om die omvattende benadering te kan versterk in die oorgang vanaf 'n gedrukte na 'n aanlyn weergawe.

 

BIBLIOGRAFIE

Woordeboeke

EWA = Etimologiewoordeboek van Afrikaans

OED = Oxford English Dictionary.

WAT = Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

WNT = Woordenboek der Nederlandsche Taal.

WLWF = Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of lexicography and dictionary research.

dict.cc = https://www.dict.cc [19 Februarie 2021]

elexiko = http://www.owid.de/wb/elexiko/start.html [19 Februarie 2021]

Ander bronne

Bergenholtz, H & Tarp, S. 2002. Die moderne lexikographische Funktionslehre. Diskussionsbeitrag zu neuen und alten Paradigmen, die Wörterbücher als Gebrauchsgegenstände verstehen. Lexicogra-phica. 18, 253-263.         [ Links ]

Bergenholtz, H, Tarp, S & Wiegand, HE. 1999. Datendistributionsstrukturen, Makro- und Mikrostrukturen in neueren Fachwörterbüchern. In Hoffmann, L et al. (Hrsg.) Fachsprachen. Languages for Special Purposes. An International Handbook of Special-Language and Terminology Research. Berlin: De Gruyter, pp.1762-1832.         [ Links ]

Botha, WF. 2003. Die impak van die leksikografieteorie op die samestelling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Onuitgegewe proefskrif. Universiteit Stellenbosch.         [ Links ]

Bothma, TJD & Gouws, RH. 2020. e-Dictionaries in a Network ofInformation Tools in the e-Environment Lexikos 30, 29-56.         [ Links ]

Combrink, JGH. 1979. Die sesde deel van die WAT. Standpunte 140, 32(2), 49-64.         [ Links ]

Feinauer, AE. 1996. Die negende deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Lexikos 6, 233-271.         [ Links ]

Feinauer, AE. 2007. Doen die Woordeboek van die Afrikaanse Taal DeelXII dit vir die Afrikaanse taal en die Suid-Afrikaanse leksikografie? Lexikos 17, 259-277.         [ Links ]

Garvin, PL. 1947. "Opyt obscej teorii leksikografi". Word 3, 128-130.         [ Links ]

Gouws, RH. 2004. Outer texts in bilingual dictionaries. Lexikos 14, 67-88.         [ Links ]

Gouws, RH. 2005. Meilensteine auf dem historischen Weg der Metalexikographie. Lexicographica 21, 158-178.         [ Links ]

Gouws, RH. 2007. Op pad na 'n nuwe woordeboektipologie. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 25 (3):319-331.         [ Links ]

Gouws, RH. 2011. Learning, unlearning and innovation in the planning of electronic dictionaries. In Fuertes-Oliviera, PA & Bergenholtz, H. (eds). 2011. e-lexicography. London: Continuum, pp. 1729.         [ Links ]

Gouws, RH. 2014. Article Structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos, 24:155-177.         [ Links ]

Gouws, RH. 2017. Leksikografie. In Carstens, WAM & Bosman, N (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik, pp. 429-463.         [ Links ]

Gouws, RH. 2018. 'n Leksikografiese datatrekkingstruktuur vir aanlyn woordeboeke Lexikos 28, 177195.         [ Links ]

Gouws, RH. 2018a. Expanding the data distribution structure. Lexicographica, 34:225-237.         [ Links ]

Gouws, RH. 2021. Expanding the use of corpora in the lexicographic process of online dictionaries. In Taborek, J (ed.). 10. Kolloquium zur Lexikographie und Wörterbuchforschung. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

Gouws, RH et al. (eds). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlin/New York: De Gruyter.         [ Links ]

Hausmann, FJ et al. (eds). 1989-1991. Wörterbücher. Ein internationales Handbuch zur Lexikographie/Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography/Dictionnaires. Encyclopédie internationale de lexicographie. Berlin: De Gruyter.         [ Links ]

Kammerer, M & Wiegand, HE. 1998. Über die textuelle Rahmenstruktur von Printwörterbüchern. Präzisierungen und weiterführende Überlegungen. Lexicographica, 14:224-238.         [ Links ]

Klosa, A & Gouws, RH. 2015. Outer features in e-dictionaries. Lexicographica. 31:142-172.         [ Links ]

Müller-Spitzer, C. 2013. Textual structures in electronic dictionaries. In: Gouws, R.H. et al. (eds) (2013:367-381).         [ Links ]

Odendal, FF. 1979. Plus positief en plus negatief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 19(1):24-41,         [ Links ]

Rundell, Mi. 2012. It Works in Practice but Will it Work in Theory? The Uneasy Relationship between Lexicography and Matters Theoretical. In Vatvedt F, Matilde, R & Torjusen, J (eds). 2012. Proceedings of the 15th EURALEX International Congress, 7-11 August 2012, Oslo: Oslo: Department of Linguistics and Scandinavian Studies, University of Oslo, pp. 47-92.         [ Links ]

Tarp, S. 2000. Theoretical challenges to LSP lexicography. Lexikos, 10:189-208.         [ Links ]

Tarp, S. 2008. Lexicography in the borderland between knowledge and non-knowledge. General lexicographical theory with particular focus on learner's lexicography. Tübingen: Niemeyer.         [ Links ]

Wiegand, HE. 1989. Die lexikographische Definition im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. In Hausmann, FJ et al. (eds) 1989-1991:530-588.         [ Links ]

Wiegand, HE. 1989a. Der Begriff der Mikrostruktur: Geschichte, Probleme, Perspektiven. In Hausmann, FJ et al. (eds). 1989-1991:409-462.         [ Links ]

Wiegand, HE. 1989b. Formen von Mikrostrukturen im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. In Hausmann, FJ et al. (eds). 1989-1991:462-501.         [ Links ]

Wiegand, HE. 1995. Lexikographische Texte in einsprachigen Lernerwörterbüchern. Kritische Überlegungen anläßlich des Erscheinens von Langenscheidts Großwörterbuch Deutsch als Fremdsprache. In Popp, H (Hrsg.). Deutsch als Fremdsprache. An den Quellen eines Faches. München: Iudicium, pp. 463-499.         [ Links ]

Wiegand, HE. 1996. Das Konzept der semiintegrierten Mikrostrukturen. Ein Beitrag zur Theorie zweisprachiger Printwörterbücher. In Wiegand, HE (Hrsg.). Wörterbücher in der Diskussion II. Tübingen: Max Niemeyer Verlag, pp. 1-82.         [ Links ]

Wiegand, HE. 1998. Wörterbuchforschung. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

Wiegand, HE. 2000. Über Suchbereiche, Suchzonen und ihre textuellen Strukturen in Printwörterbüchern Ein Beitrag zur Theorie der Wörterbuchform. In Wiegand, HE (Hrsg.). Wörterbücher in der Diskussion 4. Tübingen: Max Niemeyer, pp. 233-301.         [ Links ]

Wiegand, HE, Beer, S & Gouws, RH. 2013.Textual structures in printed dictionaries. An overview. In Gouws, RH et al. (eds), pp. 31-73.         [ Links ]

Wiegand, HE, Feinauer, I & Gouws, RH. 2013. Types of dictionary articles in printed dictionaries. In Gouws, RH et al. (eds). 2013: 314-366.         [ Links ]

Zgusta, L. 1971. Manual of Lexicography. Den Haag: Mouton.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-02-19
Goedgekeur: 2021-05-20
Gepubliseer: Desember 2021

 

 

 

Rufus Gouws is Professor in Afrikaanse Taal-kunde in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Sy navorsing, onderrig en nagraadse studieleiding is primêr gerig op die metaleksikografie - 'n navorsingsveld waarbinne hy wye nasionale en internasionale erkenning geniet. Sy publikasies sluit talle artikels, hoofstukke in boeke en boeke in. Hy is medesamesteller van die gesaghebbende Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography asook van die Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/ Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. Hy is medesamesteller van verskeie woordeboeke waaronder die toonaangewende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Frequency Dictionary Afrikaans/ Frekwensiewoordeboek van Afrikaans. Gouws is een van die redakteurs van die Duitse uitgewer De Gruyter se tydskrif Lexicographica asook die boekreeks Lexicographica Series Maior.
Hy is 'n NNS-geëvalueerde navorser en die ontvanger van verskeie pryse en toekennings, onder meer die CJ Langenhovenprys vir Taal-wetenskap en die NP van Wyk Louw-medalje, albei toegeken deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Toekenning vir Taalwetenskap van die SA Linguistevereniging, die Deense Vilhelm Kann Rasmussen Stigting se toekenning vir besoekende professore en die Kanse-lierstoekenning vir navorsing aan sy tuisuni-versiteit.
Rufus Gouws is Professor of Afrikaans linguistics in the Department of Afrikaans and Dutch at Stellenbosch University. His research, teaching and postgraduate supervision primarily focus on metalexicography - a research field in which he enjoys significant national and international recognition. His publications include many papers, chapters in books and books. He is co-author of the authoritative Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography and the Wörterbuch zur Lexikographie und Wörter-buchforschung/Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. He is co-editor of a number of dictionaries, including the leading Hand-woordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) and the Frequency Dictionary Afrikaans/Frekwen-siewoordeboek van Afrikaans. Gouws is one of the editors of the German publisher De Gruyter's journal Lexicographica as well as the book series Lexicographica Series Maior.
He is an NRF-rated researcher and the recipient of a number of prizes and awards inter alia the CJ Langenhoven prize for Linguistics and the NP van Wyk Louw medal, both awarded by the South African Academy for Science and Arts, the Award for Linguistics, awarded by the SA Linguistics Association, the Danish Vilhelm Kann Rasmussen Foundation's award for visiting professors and the Chancellor's Award for Research from his home university.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons