SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número4-1The Hebrew base text and the 2020 translation of the Bible in AfrikaansThe source text for the 2020 Afrikaans translation of the New Testament índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.4-1 Pretoria Dez. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-1a5 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Is dekolonialisasie 'n mite?1

 

Is decolonialisation a myth?

 

 

Willem J Botha

Departement Afrikaans, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: wjb03@telkomsa.net

 

 


OPSOMMING

Suid-Afrika is 'n voormalige Britse kolonie. Die Britse koloniale invloed het oor die hele spektrum van die samelewing beslag gekry, veral gedra deur die koloniale taal Engels. Lord Alfred Milner, Britse Hoë kommissaris in Suid-Afrika was ná die Tweede Anglo-Boereoorlog terdeë bewus van die krag van taal ter uitbreiding en bevordering van kolonialisme toe hy aan die Natalse goewerneur skryf hulle doelwit was "to make English indispensable in the future, and to prepare the rising generation for that state of affairs by practically compelling them to learn it, but to admit Dutch until the Anglicizing process is consummated" (vergelyk Steyn, 2014:52).
In 1961 is die Unie van Suid-Afrika gedekoloniseer en het die status van die land verander na die Republiek van Suid-Afrika. Sekere aspekte van dekolonialisasie daarna het as 'n natuurlike proses gevolg om by die omstandighede en aard van die nuwe Republiek te pas.
In 1994 het die ANC die regering oorgeneem.
Veranderinge het noodwendig gevolg, maar later (so onlangs as 2016) het dramatiese eise (gepaard met geweldpleging) gevolg. Die onderbou van die slagspreuke wat daarmee gepaard gegaan het, was gerig op versnelde en dramatiese dekolonialisasie van die land. Die werkwoorde dekoloniseer en dekolonialiseer is afwisselend gebruik sonder dat daar enige onderskeid tussen die betekenisse van die twee woorde getref is.
In hierdie artikel word die verskil in betekenisse van die tersaaklike werkwoorde eers ontleed. Dit word gedoen vanuit taalkundige oorwegings. Daar word uitgegaan van die beskouing dat die ontleding van woordbetekenis vanuit drie verskillende benaderings gedoen kan word, naamlik 'n woord-wêreld-benadering, 'n taal-interne benadering en 'n konseptuele benadering. Omdat die genoemde werkwoorde na abstrakte prosesse en handelinge verwys, is die woord-wêreld-benadering nie geskik vir die ontleding nie. 'n Taal-interne benadering veronderstel dat daar ook kennis geneem moet word van woordeboekdefinisies. 'n Vergelyking tussen verskillende woordeboeke (Afrikaans, Nederlands, Duits en Engels) se leksikale defi-nisies met betrekking tot die betekenisse van koloniseer en kolonialiseer (en hulle afgeleide vorme) bring geen duidelikheid nie.
Twee taalkundige verskynsels, naamlik "aspek" en "konseptuele versmelting" (dus aan-sluitend by die konseptuele benadering) bring meer helderheid op grond waarvan die gevolgtrekking gemaak kan word dat daar 'n besliste betekenisverskil bestaan ten opsigte van die twee werkwoorde. Die werkwoord koloniseer het perfektiewe aspek, wat beteken dat die handelinge en prosesse waarna dit verwys, 'n eindpunt het - dat dit termineer. Aansluitend by koloniseer - en afhanklik van die prosesse en handelinge waarna koloniseer verwys - versmelt (of integreer) die betekenis van kolonialiseer met die betekenis van koloniseer, maar met die inherente aspektiese waarde imperfektief of duratief.
Vervolgens word die verhouding tussen taal en denke ondersoek. Tale se denkstrukture verskil van mekaar. Dit word duidelik wanneer verskillende tale se taalmanifestasies van bepaalde konsepte vergelyk word.
Die uitwerking wat kolonialisasie op Afrikaans gehad het, word kortliks onder die loep geneem.
Teen die agtergrond van die hele betoog word tot die gevolgtrekking gekom dat indien aanvaar word dat dekolonialisasie "gedra" word deur die koloniale taal Engels, ware dekolonialisasie nie moontlik is nie - dat ware dekolonialisasie 'n mite is.

Trefwoorde: aspek, betekenis, denkstrukture, koloniseer, dekoloniseer, kolonialiseer, dekolonialiseer, versmelting, tyd, kleur


ABSTRACT

South Africa is a former British colony. The British colonial influence expanded over a multitude of facets of a diverse South African community. Initially the English language as a vehicle of education was one of the major contributors to the idealised assimilation of the colonised people. After the Second Anglo-Boer war Lord Alfred Milner, British High Commissioner in South Africa, proclaimed in a letter to the Natal governor that it had been his policy "to make English indispensable in the future, and to prepare the rising generation for that state of affairs by practically compelling them to learn it, but to admit Dutch until the Anglicising process is consummated" (cf. Steyn, 2014:52).
In 1961 the Union of South Africa was decolonised and became the Republic of South Africa. Decolonialisation of certain aspects of the South African society took place as a natural outcome.
In 1994 an ANC government took over the rule of the country.
For the first few years after 1994 changes concerning the South African society, according to the new constitution, took a natural cause. Round about 2016 emotions within specific sections of the community erupted because expectations for a new South Africa (that they imagined) had not been achieved. These beliefs related to the fact that the new South Africa was not as Afrocentric as they wished it to be. Skirmishes took place and slogans like #ScienceMustFall, #FeesMustFall, and#AfrikaansMustFall were often heard. All these slogans accumulated in the slogan #WhitenessMustFall. And the #WhitenessMustFall slogan linked intimately with the demand that South Africa had to be decolonialised because whiteness was associated with former colonists and colonialisation.
In almost all the instances of the demands for decolonialisation the verb used was decolonise - as if there were no difference between the meanings of the verbs decolonise and decolonialise.
The point of view taken in this article is that there exists a definite difference between the meanings of the two verbs. The difference in the meanings of the two verbs is investigated against the background of theoretical linguistic findings.
Firstly, lexical definitions from different dictionaries (Afrikaans, Dutch, German and English) of the relevant verbs and their derivates are scrutinised. It reveals that most of the dictionaries do not make a clear distinction between the different meanings. In some instances, a difference in meanings is only implicitly defined. It results in some confusion.
To look for further clarification, a linguistic theoretical approach comes to the fore.
Taylor (2002) distinguishes three general approaches to the study of meaning, namely the language-world approach, in which meaning is studied as the relationship between linguistic expressions and states of affairs in the world. Secondly, the language-internal approach, in which meaning is studied in terms of relations between expressions within a language, and thirdly, a conceptualist approach, in which the meaning of an expression is equated with a conceptualisation in the mind of a language user.
The language-world approach is not applicable for the examination of the meaning of the relevant verbs; consequently, the scrutinisation is done from the perspective of the language-internal approach and the conceptualist approach. Two linguistic phenomena, namely the grammatical category "aspect" and "conceptual blending" (or integration) are taken into consideration.
According to Handke (2014) the "term aspect refers to a grammatical category which reflects the way in which the action denoted by the verb is regarded or experienced with respect to time." Lyons (1968:313) postulates that aspect refers to the distinction of "perfective" and "imperfective", within the meaning ofthe relevant verb, not with regard to the time ofutterance. The analysis of the relevant verbs reveals that colonise and decolonise should be regarded to have perfect aspect, while colonialise and decolonialise exhibit imperfect (durative) aspect.
Intricately linked to aspect, the conceptualist approach reveals that the meanings of the verbs colonise and colonialise blend with each other, the former referring to a process that comes to an end and the latter to the continuation of the instigated process referred to by using the verb colonise.
In the remainder of the article conceptual differences in different languages are outlined. If one takes the claims of Lakoff and Johnson (1980) seriously, namely that "our concepts structure what we perceive, how we get around in the world, and how we relate to other people" and "our conceptual system ...plays a central role in defining our everyday realities", then the question arises whether it is possible to decolonialise a country with eleven official languages (implicating different conceptual structures) if one of the languages (the colonial language English) is forced upon the peoples of the country - in an effort to decolonialise. Therefore, the question arises whether genuine decolonialisation is only a myth?

Keywords: aspect, meaning, thought structures, colonise, decolonise, colonialise, decolonialise, blending, time, colour


 

 

1. Inleiding

Betogings, opstand en (dikwels) voortspruitende geweld gaan gewoonlik gepaard met slagkrete en slagspreuke. Slagkrete en slagspreuke is self ook dade (taaldade), alhoewel daar waarskynlik 'n intensiteitsverskil tussen 'n slagkreet en 'n slagspreuk bestaan. Na die postuumverskyning van die Oxford-taalfilosoof (JL Austin) se How to do things with words in 1962 het daar talle navorsingsartikels verskyn wat die aard van die taaldaad ondersoek het; ook het daar sedertdien navorsingsresultate oor die gespreksveranderlikes wat bepaalde taaldade (taalhandelinge) instigeer en onderhou, verskyn. Hieruit het geblyk dat die taaldaad nie net die fisiese (en psigiese) dade voorafgaan nie, maar dat dit ook heg geïntegreer is met die gepaardgaande fisiese/psigiese dade.

Die woorde slagkreet en slagspreuk het die fisiese daad "om (letterlik) te slaan" in hulle betekenisse ingebou, as selfstandige naamwoorde van die werkwoord slaan. In dieAfrikaanse woordeboek. Verklarend met woordafleidings word slagkreet byvoorbeeld gedefinieer as "geroep nadat 'n slag gelewer is, oorlogskreet, uitroep om aandag te trek". In die geval van die woord slagspreuk word die betekenis verruim om weens "... frekwensie van gebruik verbind (te) word aan 'n groep, party, vereniging", aldus dieselfde wooordeboek. Vergelyk ook woorde soos slagveld, slagoffer en ander in hierdie verband.

Die betekenisinhoud van 'n besondere slagkreet instigeer meestal die rigting en/of die aard en intensiteit van die gepaardgaande fisiese handelinge, maar verbleek (semanties) dikwels later tot slegs slagspreuk, die semantiese vangnet vir die vergestalting van verskillende fisiese/ psigiese opwellings as gemene deler. In hierdie opsig kan verwys word na hoedat die #FeesMustFall-slagkreet (veral gedurende September/Oktober 2016 gebruik) op grond van die geweld wat daarmee gepaard gegaan het, gemene deler geword het van #ScienceMustFall-, #WhitenessMustFall-, #AfrikaansMustFall- en ander tersaaklike slagkrete. Dit is veral gebruik teen die agtergrond van die eis dat Westerse universiteitsonderwys gedekolonialiseer en Afrosentries2 gemaak moet word. Daar sou 'n saak daarvoor uitgemaak kon word dat binne die betrokke geweldskontekste die #WhitenessMustFall-slagkreet die onderbou van die onderliggende #X-MustFall-slagkrete konstitueer.

Die geskiedenis verhaal talle slagkrete en slagspreuke wat gepaard gegaan het met fisiese geweld. Gedurende die Franse rewolusie was "liberté, égalité, fraternite" ("vryheid, gelykheid, broederskap") byvoorbeeld een van die prominentste slagkrete van die tyd. Dit sal insiggewend wees om die aard van verskillende slagkrete en slagspreuke binne verskillende historiese geweldskontekste te ondersoek, maar dit is nie die doel met hierdie betoog nie.

Teen die voorgaande agtergrond word hierdie artikel gewy aan 'n ontleding van die begrippe dekülünisasie3en dekülünialisasie4en tot welke mate dekolonialisasie binne verskillende Suid-Afrikaanse kontekste werklik sinvol gestalte kan kry.

Dit sal eerstens nodig wees om 'n onderskeid te tref tussen die verskillende benaderings waaruit betekenis (in taal) beoordeel kan word. Sodanige onderskeid tussen die verskillende benaderings sal noodwendig meebring dat die verhouding tussen taal en denke aan bod sal moet kom.

Die prosesse en handelinge wat met kolonialisasie/dekolonialisasie verband hou, is omvattend en divers. Dit is daarom onmoontlik om al die terreine wat met dekolonialisasie verband hou binne die bestek van hierdie uiteensetting aan te raak. In hierdie artikel word taal in die kollig geplaas - ook omdat taal so 'n wesenlike (en veral dominante) veranderlike in die hele proses van kolonialisasie is. Verder aan word verwys na hoedat koloniale tale steeds amptelike status geniet ná dekolonisering van verskeie Afrikastate, 'n aanduiding van die kardinale rol wat die taal van die koloniseerder ná kolonisering (en gevolglike kolonialisering) gespeel het.

Die effek wat kolonialisering op Afrikaans gehad het, word ook onder die loep geneem.

 

2. Betekenisbenaderings

In 'n hoofstuk getitel "Meaning, profile, base, and domain" onderskei Taylor (2002) drie benaderings met betrekking tot die ontleding van betekenis in taal.

'n Taal-wêreld-betekenisbenadering veronderstel dat 'n taalgebruiker deur 'n bepaalde taaluitdrukking - dit wat Lyons (1977:177) die "referring expression" noem - 'n betrokke referent binne 'n bepaalde tyd-ruimtelike (werklike of fiktiewe) situasie identifiseer. Sodanige identifikasie hang nou saam met die ooreenkoms wat die onderhawige referent het met die prototipe van die kategorie waartoe die referent behoort. Op 'n universiteitskampus sou die woord student byvoorbeeld na 'n bepaalde individu binne 'n bepaalde kontekstuele kategorie verwys. Subkategorieë, soos byvoorbeeld betogende studente, is maklik onderskeibaar op grond van optrede. Hierdie benadering werk goed indien die moontlike referente konkreet is; vir abstrakte en fiktiewe referente is hierdie benadering onhoudbaar, soos in die geval van woorde soos koloniseer, kolonialiseer, dekoloniseer, dekolonialiseer - en alle afgeleide vorme van die betrokke woorde.5

'n Abstrakter benadering (ten opsigte van die ontleding van betekenis) hou in dat die betekenis van 'n woord beoordeel word op grond van die bepaalde woord se betekenisrelasies met ander woorde in die betrokke leksikon (teoretiese woordeboek van 'n taal) - 'n taalinterne benadering. Sodanige relasies vind gestalte in woordeboeke en tesourusse van die betrokke taal, maar ook in vertalings van die betrokke woorde in ander tale omdat daar nie noodwendig 'n een-tot-een-betekenisverhouding tussen die woorde van verskillende tale bestaan nie en die betekenisverskille verhelderend kan wees. Die abstrakte aard van hierdie benadering berus op die feit dat onder andere rekening gehou moet word met betekenisimplikasies, die verskynsel dat een woord meerdere betekenisonderskeidings mag hê (polisemie), maar ook met bete-kenisrelasies soos betekenisoorvleueling (sinonimie), betekenisteenoorgesteldheid (antonimie), betekenisinsluiting (hiponimie) en woordafleidings en woordsamestellings (morfologiese verskynsels).

As vertrekpunt vir 'n ontleding van die betekenisontwikkeling van die woord dekoloniali-sasie word die werkwoord koloniseer as uitgangspunt geneem, juis omdat die primêre handeling "koloniseer" in die sentrum staan van die afgeleide betekenisse en vorme van die woord. Die werkwoord koloniseer benoem die prosesse/handelinge (polities ook genoem imperialisme) wat aan die begin van die 15de eeu6 'n aanvang geneem het met die ontdekkingsreise van die Portugese en Spanjaarde, later gevolg deur die Engelse, Nederlanders, Franse en Duitsers.7

Dit sal dus nodig wees om 'n paar leksikale definisies van die woord koloniseer eers onder die loep te neem. Uit 'n ontleding van verskillende leksikografiese definisies sal dit blyk dat die betrokke woord (en afgeleide vorme van die woord) geensins eenduidig verstaan word nie. Dit kan daaraan toegeskryf word dat die werkwoord koloniseer 'n soort superordinaat-geaardheid openbaar; dus 'n sambreelterm wat 'n verskeidenheid geïnstigeerde handelinge (= die afdwing van ...) omvat.

Du Toit (2020:338) onderskei ook nog 'n woord coloniality (wat eintlik die begrip cülüniality verteenwoordig), 'n begrip wat "verwys na 'n mentaliteit, 'n kennisteorie en 'n denkstruktuur wat langdurig die 'koloniale bewussyn' reflekteer". Sy noem verder dat coloniality wyd verstaan word om "kennissisteme, wêreldhandel, talige oorheersing, kulturele verdringing, rassisme en baie ander verskynsels in te sluit". Hierdie betekeniswydlopigheid van die begrip cülüniality illustreer eintlik die superordinaat-hiponiem-verhouding (maar ook meer as dit) wat daar tussen die werkwoord kolonialiseer (superordinaat) en die afdwing van kennissisteme (hiponiem1), talige oorheersing (hiponiem2), ensovoorts bestaan.

Ko-hiponieme (dus hiponieme onder dieselfde superordinaat) impliseer hulle superor-dinaat. Omgekeerd impliseer die superordinaat óf hiponiem1, óf hiponiem2, ensovoorts. Dit is egter nie hier die geval nie, want die superordinaat (kolonialiseer) impliseer eintlik al die genoemde hiponieme. Daarom die formulering superordinaatgeaardheid, omdat hier ook sprake is van sinonimiteit. Ons het dus hier te doen met 'n betekenisversmelting van implikasierelasies: hiponimie veronderstel 'n eensydige betekenisimplikasie terwyl sinonimie berus op 'n wedersydse betekenisimplikasie.

Die kompleksiteit en wydlopigheid van die betekenisse van die woorde koloniseer en kolonialiseer blyk ook uit die wyse waarop dit leksikografies hanteer word.

Die woord koloniseer word onder andere beskryf as

"to send colonists to or establish a colony in (an area); to settle in (an area) as colonists; (tr) to transform (a community, etc.) into a colony" (Collins English Dictionary);

"send settlers to (a place) and establish political control over it; settle among and establish control over (the indigenous people of an area); appropriate (a place or domain) for one's own use" (OxfordDictionary of English).

"tot koloniën maken; betekenisverwante termen: hyperoniem: inlijv en synoniem(en): kolonialiseren (figuurlijk) in beslag nemen, inpikken" (Gratis Van Dale);

"mbt. gebieden koloniën vormen nederzettingen vestigen in ...; mbt. personen in een kolonie onderbrengen, tot een kolonie verenigen" (Dikke Van Dale).

"stig (in, op); ook, tot kolonie maak" teenoor kolonialiseer wat beskryf word as "koloniaal maak deur kolonialistiese onderwerping" (WAT);

"'n volksplanting vestig in; jou in 'n kolonie vestig; kolonialiseer" (HAT).

"(ein Gebiet) zu einer Kolonie machen" (Duden).

Ander sinonieme vir koloniseer (uit verskillende woordeboeke) dui op die wye spektrum betekenisonderskeidings wat binne verskillende kontekste geaktiveer kan word, onder andere "people", "populate", "pioneer", "open up", "found"; "overrun", "occupy", "take over", "seize", "capture", "take possession of", "annex", "subjugate", "hegemonize".

Van die voorgaande leksikale definisies, wat baie algemeen geformuleer word om so omvattend as moontlik die betrokke woord se betekenis te omskryf, hou 'n paar betekenisimpli-kasies in.

Die definisies dui eerstens op verskillende versweë agente van die handeling: diegene wat mense stuur, diegene wat gestuur word, diegene wat uit eie wil vestig.

'n Tweede betekenisimplikasie (vergestalt in die betekenisbeskrywings "to transform", ook die gebruik van die komplementwerkwoordkonstruksie "tot koloniën maken" en gebruik van die superordinaat "inlijv" om koloniseer as hiponiem te impliseer) dui op 'n sekere politieke of ideologiese opset met betrekking tot 'n te stigte kolonie.

Die betrokke definisies is egter moreel neutraal geformuleer ten opsigte van die aard van die koloniseringsdaad. Van Dale en HAT beskou kolonialiseren/kolonialiseer as sinonieme van koloniseer sonder dat daar 'n noemenswaardige aanduiding van betekenisverskil is, alhoewel Van Dale tog kolonialiseren as figuurlike gebruik aandui.

Daarteenoor word die betekenis van kolonialiseer (kolonialisieren) in Duits vaag beskryf as 'n handeling uitgevoer om 'n bepaalde objek se politieke of sosiale status te verander.

Uit die betrokke leksikale definisies blyk dit dat alhoewel 'n betekenisverskil tussen koloniseer en kolonialiseer nie geëkspliseer word nie, daar tog 'n suggestie van 'n betekenisverskil is. Sommige woordeboeke erken selfs ook nie die leksikale item kolonialiseer nie (vergelyk Duden en Oxford Dictionary of English), waaruit die afleiding gemaak kan word dat hulle die woorde koloniseer en kolonialiseer se betekenisse as identies beskou.

'n Belangrike aanduider van die feit dat die werkwoord koloniseer op 'n afgeslote handeling dui, lê in die gebruik van die volgende (komplement)werkwoorde saam met hulle onderstreepte (werkwoord)komplemente in die leksikale definisies van die betrokke woord: transform ("into a colony") - Collins English Dictionary; maken "tot koloniën" - Gratis Van Dale; vereniging ("tot een kolonie") - Dikke Van Dale; maak ("tot kolonie") - (WAT) en machen "zu einer Kolonie" (Duden).

Ponelis (1979:216) noem komplementwerkwoorde bewerkingswerkwoorde en voer aan dat die komplemente by bewerkingswerkwoorde die resultaat van die bewerking uitdruk, "sodat dié konstruksie(s) korreleer met kopulakonstruksies met veranderingswerkwoorde (soos word, raak, kom)." Vergelyk die volgende uiteensetting vanuit 'n TG-perspektief:

Ontvangsin: X transforms Y

Inlyfsin: Y becomes a colony

Resultaat: X transforms Y (to) a colony.

Bewerkings:

Die komplementwerkwoord is altyd 'n oorganklike werkwoord.

Die ontvangsin se voorwerp is identies aan die inlyfsin se onderwerp, met die gevolg dat die bewerking genaamd identiese NS-skrapping die onderwerp van die inlyfsin skrap.

Die koppelwerkwoord (to become - 'n veranderingswerkwoord) word semanties geamalgameer met die hoofwerkwoord van die ontvangsin - en val dus weg.

Al restant van die inlyfsin is die kopulapredikaat (a colony) wat die werkwoordkom-plement genoem word. Die werkwoordkomplement dui die aard van die verandering aan wat die voorwerp-NS (van die ontvangsin) ondergaan het.

Die toevoeging van die voorsetsel to dui aan dat die verandering op 'n bepaalde plek of omstandighede getermineer is - dus voltrek is.

Uit die leksikografiese inligting in die voorgaande leksikale definisies kan 'n kolonialiserings-kontinuum afgelei word wat diagrammaties soos volg voorgestel kan word:

Die stippellynraam in kolom 1 dui aan dat die konsep kolonialisme (as denkrigting/ beleid van potensiële koloniseerders) handelinge en prosesse voorafgaan voordat kolonisering plaasvind.

In kolom 2 dui die werkwoord koloniseer daarop dat prosesse/handelinge plaasvind wat die beoogde landstreek se status tot kolonie voltrek. Die pyl vanuit kolom 2 tot by kolom 4 dui die resultaat van die koloniseringshandelin(e) aan. Daarom word die werkwoord koloniseer grammatikaal gemerk as perfektief (wat verder aan verklaar word) - dus afgehandel of voltrek, ook aangedui deur die boonste pyl in kolom 2, wat voor 'n grens te staan kom: die vertikale stippellyn. Na die voltrekking van die koloniseringshandelinge volg noodwendige kolonialiseringshandelinge8 (aangedui deur 'n stippellynpyl). Die stippellynpyl dui aan dat die handelinge benoem deur die werkwoord kolonialiseer nie 'n afsluitingsgrens het nie. Die gearseerde kolom 4 het geen raam nie, wat daarop dui dat die kolonialiseringshandelinge nie op 'n bepaalde stadium as voltrek beskou kan word nie. Daarom word kolonialiseer in kolom 3 grammatikaal as duratief gemerk.

Die pyl-eindpunte is sodanig gekies dat dit dui op óf 'n proses wat voltrek is, óf 'n proses wat durend is.

Die betekenisverskil tussen koloniseer en kolonialiseer word duideliker wanneer die omge-keerde handelinge, vergestalt in die werkwoorde dekoloniseer en dekolonialiseer, onder oë geneem word.

Allereers is dit nodig om daarop te let dat die voorvoegsel (prefiks) de- die volgende betekeniswaarde kan hê in ooreenstemming met die betekenis van die daaropvolgende werkwoord: "omkeer"; dus die proses van kolonisering omkeer, óf die proses van koloniali-sering omkeer.

Dekolonisering vind meestal plaas op grond van toegewings deur die koloniseerder en sy gevolglike bestuur van die proses. In die geval van dekolonialisering vind die inisiatief daarvoor - en die gepaardgaande handelinge - gewoonlik plaas vanuit die beheersende punt van die gekolonialiseerdes.

In ooreenstemming met die kolonialiseringskontinuum in Figuur 1 kan dekolonialisering in die onderstaande diagram (Figuur 2) voorgestel word. Die diagram is in 'n groot mate selfverklarend. Wat egter benadruk moet word (soos in die diagram aangedui), is die feit dat die werkwoord dekoloniseer dui op 'n handeling wat voltrek is (afgehandel is), terwyl dekolonialiseer dui op handelinge wat voortgaan.

 

 

 

 

Uit die voorgaande twee kontinume is daar twee taalkundige verskynsels wat verdere verduideliking verg, naamlik die grammatikale kategorie aspek en die kognitiewe proses konseptuele versmelting.

Aspek9

In 'n internetlesing verduidelik prof. Jürgen Handke van die Universiteit Marburg in Duitsland die begrip aspek as 'n fimksie van die werkwoord: "The term aspect refers to a grammatical category which reflects the way in which the action denoted by the verb is regarded or experienced with respect to time" (vergelyk Handke, 2014).

Tyd moet egter nie hier verstaan word as tempus nie, met ander woorde die tyd van die taaluitdrukking relatieftot die tyd waarna die taaluitdrukking verwys nie.10 Ponelis (1979:244) praat van die aspektiese waarde van die werkwoord. Hy gebruik die werkwoorde begin (aanvang), aanhou en bly (voortgang/herhaling), en ophou (afloop) ter illustrasie. Dit dui, volgens Ponelis, op die werkwoord se "betekenisprofiel".

Twee van die genoemde aspektiese waardes is dus relevant vir 'n ontleding van die werk-woorde dekoloniseer en dekolonialiseer. Handke illustreer hierdie tersaaklike aspektiese waardes van die werkwoord met die volgende diagram:

 

 

Voortspruitende uit die vorige analises kan die ontwikkeling van die werkwoorde dekoloniseer en dekolonialiseer, wat betekenisontwikkeling en struktuurontwikkeling betref, onderskeidelik soos volg voorgestel word:

Gebruiksvoorbeelde toon aan dat daar by bepaalde (Afrikaanse) taalgebruikers - ook wat bepaalde woordeboeke betref - weinig onderskeid getref word en dat die twee woorde afwisselend sinonimies gebruik word. Vergelyk byvoorbeeld hoedat dekolonisering en dekolonialiseer (werkwoordvorm van dekolonialisasie) in die volgende voorbeelde sinonimies gebruik word ten opsigte van dieselfde konteks sonder aanduiding van noemenswaardige betekenisverskil:

"Maar dit is presies ook die rede waarom ons moet omgee oor dekolonisering van die wetenskap." (Rapport Weekliks, 23 Oktober 2016, p. 4)

"Dit is die rede waarom 'n doelbewuste poging om wetenskap te dekolonialiseer waardevol is en Suid-Afrikaanse universiteite het die geleentheid om die proses te lei." (Rapport Weekliks, 23 Oktober 2016, p. 4)

'n Volgende benadering op grond waarvan die betekenis van woorde (eintlik begrippe of konsepte) ondersoek kan word, staan bekend as die begripsbenadering (ook genoem konseptuele benadering). In kort beteken hierdie benadering dat die betekenis van 'n woord gelykgestel word aan die begrip of begrippe wat dit by die taalgebruiker oproep tydens die gebruik van die woord. Die woord dekolonialisasie se betekenis staan dus in noue verband met die begrip dekülünialisasie. Die afwisselende gebruik van die woorde dekoloniseer en dekolonialiseer (met inbegrip van hulle afgeleide vorme) - asof hulle betekenisse identies is, soos in die voorbeelde hier bo - dui daarop dat rekenskap gegee moet word van die konseptuele prosesse wat in sodanige gevalle werksaam is.

Konseptuele versmelting

Konseptuele versmelting is 'n fundamentele kognitiewe proses ten opsigte van nie net die daarstelling van die metafoor en analogie nie, maar ook vir die totstandkoming van kontrasterende denke, grammatikale strukture, neurologiese prosesse en literêre en musikale skeppinge (vergelyk Oakley, 1998:322).

Fauconnier & Turner (1996:113) beskryf konseptuele versmelting as "a general cognitive process ... that operates over mental spaces as inputs".11. Oakley (1998:323/324) wys daarop dat konseptuele versmelting sodanig werk dat dit agtergrondaannames in ooreenstemmende taalvorme neerslag laat vind. In hierdie artikel verwys agtergrondaannames na konseptuele ervarings/aannames met betrekking tot die tersaaklike werkwoorde.

Daar is reeds gepostuleer dat koloniseer en kolonialiseer, en hulle omgekeerdes, nie na dieselfde prosesse verwys nie. Die betekenis van die een [(de)kolonialiseer] is meestal ingesluit by die betekenis van die ander [(de)koloniseer]. Hier is dus sprake van 'n implikasieverhouding12- maar op 'n ander vlak as wat vroeër oor betoog is toe daar na hiponimie en sinonimie verwys is.

Die implikasieverhouding kan soos volg geformuleer word:

Die handelinge benoem deur die werkwoord koloniseer impliseer dat handelinge (benoem deur die werkwoord kolonialiseer) 'n noodwendige gevolg is. Dit is onwaarskynlik dat daar ná kolonisering nie kolonialisering sal plaasvind nie, sy dit formeel of informeel, subtiel of dramaties.

Die handelinge benoem deur die werkwoord kolonialiseer impliseer dat dit voorafgegaan word deur kolonisering - behalwe in sekere gevalle van neokolonia-lisering.

Die handelinge benoem deur die werkwoord dekolonialiseer impliseer dat dit verwys na handelinge wat volg ná dekolonisering - nie noodwenig in sekere gevalle van neokolonialisering nie, omdat daar nie noodwendig 'n voorafgaande formele proses van dekolonisering plaasgevind het nie.

Die konseptuele integrasie (van implikasies) is van so 'n aard dat die betekenisse waarna die werkwoorde koloniseer/kolonialiseer en dekoloniseer/dekolonialiseer onderskeidelik verwys, as betekenisgestalts (as resultaat van konseptuele versmelting/integrasie) beskou kan word. Dit word in die volgende figure diagrammaties voorgestel.

Figuur 4 stel die (konseptuele) versmeltingskonfigurasie voor (dus twee denkruimtes wat geïntegreer is). Die gearseerde pyl stel die konsepte voor wat opgeroep word deur die gebruik van die werkwoord(e) koloniseer/dekoloniseer. In die betrokke konfigurasie stel dit die fokale denkruimte(s)13 voor. Die stippellynpyl dui op 'n sekondêre denkruimte wat in die agtergrond figureer.

 

 

 

 

Verknoop aan die begrip dekülünialisasie - en vir die verstaan daarvan - is dit nodig om verskeie veranderlikes ter oorweging te neem. Dit sluit onder andere die volgende in: historiese, kulturele, politieke, sosiale, kontekstuele, talige (alhoewel talige by implikasie die meeste hiervan ondervang omdat taal denke struktureer) en ander faktore.

Dit sal dus nodig wees om die rol van taal (in verhouding tot denke) in hierdie verband onder die soeklig te plaas.

 

3. Taal en denke

Die kognitiewe (taal)wetenskap het die afgelope dertig tot veertig jaar talle nuwe en insiggewende bevindinge oor die verhouding tussen taal en denke die lig laat sien. Enkele van hierdie insigte word kortliks aangestip om 'n opvatting te ondersteun dat kolonialisasie deur taal ook gekoloniseerders se denke "kolonialiseer" (by wyse van spreke).

Daar word beraam dat daar tussen drieduisend en tienduisend tale op aarde bestaan (vergelyk Crystal, 1987:284). 'n Presiese syfer is nie moontlik nie omdat daar tale is wat uitsterf, en omdat daar ook nie altyd konsensus is oor die dialektiese status van bepaalde taalvariëteite nie, synde selfstandige taal of dialek.

Elke taal beskik oor sy eie unieke kognitiewe apparatuur. Sommiges se apparatuur sal meer ooreenstemmend wees, terwyl ander geheel van mekaar sal verskil op grond van hulle taalfamiliale verbintenisse. Die feit dat 'n pasgeborene in enige taalomgewing die betrokke taal as moedertaal kan aanleer, laat vermoed dat daar sekere universalia moet bestaan wat die aanleer moontlik maak. Sodanige universalia bestaan wel, maar nie as taaluniversalia nie - wel as ervaringsuniversalia. Die begrips- en taalaanlerende individu berg vanuit die staanspoor ervarings (bekend as beeldskemas) in die kognitiewe onbewuste, "the vast system of concepts and cognitive mechanisms that operates beneath the level of consciousness, structuring both our experience and our mode of conceptualizing the world", volgens Lakoff & Johnson (1997). Die kognitiewe onbewuste bevat onder andere prekonseptuele ervarings van ruimte, ruimtelike oriëntasie, deel-geheel-relasies, proksimitieit (nabyheid/verwydering) en nog 'n aantal ander.

Die begrips-/taalaanlerende individu se liggaamlike (ruimtelike) ervaring van die werklikheid kry in hierdie proses kognitief beslag. Die werklikheid waarin hy/sy geplaas is, kom aanvanklik as 'n diffuse (verspreide/onsamehangende) kontinuum voor. Deur taal kry hy/sy 'n kognitiewe greep op die werklikheid, want deur taal word die "elemente van die werklikheid" benoem. Die werklikheid word dus gekategoriseer. In hierdie verband voer Taylor (1995:2) aan dat "categories we perceive in the world are not objectively there ... they have been forced upon us by the categories encoded in the language that we happen to have been brought up with. ... (D)ifferent languages will encode different categorizations." Dienoor-eenkomstig vind daar 'n bewuswording van sy/haar onmiddellike werklikheid plaas, die eie identiteit en diegene wat na aan die eie identiteit funksioneer, die onmiddellike ruimtelike omgewing - en later die tydsdimensie. Later word hierdie bestaanskoördinate (identiteit, ruimtelike plasing en tydsplasing) na abstrakter dimensies getransponeer, juis ook omdat hierdie koördinate as sodanig baie abstrakte elemente bevat.

Die proses van konseptualisering (en dus ook benoeming deur taal) vind egter divers plaas in ooreenstemming met die betrokke taal se kognitiewe apparatuur. Hieroor sê Evans & Green (2006:101) "(T)he ways in which different languages 'cut up' and 'label' the world can differentially influence non-linguistic thought and action." Op grond van die betrokke taal-omgewing word die besondere taal se begripstrukture dus eintlik inherent deel van die taalaan-lerende individu se kognitiewe apparatuur.

Vervolgens word slegs enkele voorbeelde oorsigtelik genoem om aan te dui hoedat deur taal verskillende tale se taalgebruikers se ervaring van die werklikheid verskil. 'n Volledige bespreking van die voorbeelde val nie binne die bestek van hierdie betoog nie.

Ruimtelike ervaring

Op grond van kulturele en ander faktore, bestaan daar tale wat nie die behoefte aan ruimtelike verwysing in die onmiddellike omgewing van die spreker het nie. Windrigtingaanduidings is vir hulle voldoende.

Dan is daar ook tale (soos Hausa en Djerma wat in Nigerië gepraat word) wat 'n teenoorgestelde verwysingsisteem het - in vergelyking met Westerse tale - wanneer daar na die lokaliteit van 'n objek in verhouding tot 'n ander objek verwys word. Die uitdrukking "voor die boom" sal byvoorbeeld na 'n teenoorgestelde lokaliteit verwys as wat dit die geval in Afrikaans of Engels sou wees. Vergelyk Schwerdtfeger (1982:52-63) en Lakoff (1987:310).

Tydervaring

Tyd is 'n baie abstrakte konsep en die ervaring van tyd berus op kognitiewe tydmodelle14 wat op konseptuele tydmetafore gebaseer is, aldus Evans & Green (2006:84). 'n Verdere kompli-serende aspek van tyd is die feit dat dit saamhang met ruimte en dat ons ervaring daarvan berus op twee basiese domeine binne die kognitiewe onbewuste (en dan natuurlik binne tersaaklike generiese ruimtes) - ruimte en tyd as konseptuele domeine. Die primêre onderskeid tussen die betrokke twee domeine berus op die feit dat tyd die eienskap progressie (dus beweging) het terwyl ruimte staties is.

Op grond van die progressie-eienskap van tyd, word daar drie kognitiewe modelle vir tyd onderskei, diagrammaties soos volg voorgestel:

 

 

Die ego se oriëntasie ten opsigte van tyd en die integrasie van tydmodelle sal nie hier bespreek word nie (vergelyk Evans & Green (2006:84-87) vir 'n vollediger bespreking). Wat in hierdie betoog van belang is, is die feit dat tydverwysing in verskillende tale op verskillende modelle berus.

Op grond van liggaamlike oriëntasie word in sommige tale na die verlede verwys as "agter" en na die toekoms as "voor". In ander tale is die proses omgekeerd. In sommige tale word die beweging van tyd begripsmatig van links na regs ervaar, terwyl ander dit weer andersom (regs na links ervaar) in ooreenstemming met die rigting waarin geskryf word. Verskillende tale het ook verskillende tydmodelle op grond waarvan die beweging van tyd in verhouding tot die ego ervaar word.

Kleurwaarneming

Daar kom baie voorbeelde in die literatuur voor van tale wat verskil ten opsigte van die aantal kleure wat hulle benoem. Hierdie verskynsel illustreer baie duidelik dat die kategorieë wat ons waarneem, nie as sodanig in die objektiewe werklikheid bestaan nie. Die talige onder-skeiding van die betrokke kategorieë is 'n kultuurverskynsel wat ons deur die aanleer van die betrokke moedertaal verwerf het. Taylor (1995:1-20) wy 'n hele hoofstuk aan kleurkategori-sering, waarin hy onder andere aandui dat verskillende tale - soos onder andere Russies, Frans, Tsonga en andere - nie ooreenstemmende kleure talig onderskei nie.

Ons sou kon voortgaan om verskille te lys wat deur die ontleding van taal aandui dat sprekers van verskillende moedertale verskillende begripservarings van die werklikheid het. Wat egter vir hierdie betoog van belang is, is die feit dat wanneer kolonisering (en gevolglike kolonialisering) van 'n bepaalde grondgebied en hulle inwoners plaasvind, die koloniseerder (in sy/haar rol as kolonialiseerder) se moedertaal een van die eerste elemente is wat op die gekoloniseerders (gevolglik uiteindelik gekolonialiseerdes) afgedwing word. Dit beteken dat die kolonialiseerder se kognitiewe taalapparatuur deel word van die gekolonialiseerde se begripsweefsel, dikwels radikaal teenstrydig met byvoorbeeld die begripsmetafore wat binne die onderskeie tale bestaan. Wanneer dit eers deel geword het van die gekolonialiseerde se denkwêreld (gewoonlik omdat hy/sy onder dwang is om die hoër funksies van die koloniali-seerder se moedertaal te bemeester om binne die nuwe sosiale, maatskaplike, regs- en ander terreine te funksioneer), word die bewindhebber se moedertaal geredelik aanvaar en van geslag tot geslag oorgedra, selfs lank ná dekolonisering. Vergelyk byvoorbeeld die amptelike tale van verskeie Afrikastate wat lank reeds gedekoloniseer is (in bepaalde gevalle naas die inheemse taal van die streek), onder andere Burkina Faso (Frans), Burundi (Frans), Kameroen (Engels en Frans), Republiek van die Kongo (Frans), Gaboen (Frans), Gambië (Engels), Ghana (Engels), Kenia (Engels), Mosambiek (Portugees), Namibië (Engels), Suid-Afrika (Engels dominant) - en nog andere ook.

Bogenoemde indringing van koloniale tale binne die Afrikakonteks is in 'n sekere sin verklaarbaar as in ag geneem word dat die onderskeie koloniale tale onder meer onderlinge kommunikasie moes moontlik maak in 'n vasteland waarin daar ongeveer 2 000 tale gepraat word (vergelyk https://en.wikipedia.org/wiki/Languages_of_Africa#cite_note-0). Dieselfde bron skryf ook die ontwikkeling van kreooltale aan onder andere koloniale invloed toe: "Due partly to its multilingualism and its colonial past, a substantial proportion of the world's creole languages are to be found in Africa." Daar bestaan by bepaalde taalkundiges die opvatting dat Afrikaans ook 'n kreooltaal is. Tasch (1995:28) beweer byvoorbeeld: "Afrikaans ist gemäss neueren Untersuchenen eine 'kreolisierte' germanische Sprache, die hauptsächlich in der Republik Südafrika, Namibia, Zimbabwe und vereinzelt auch in Botswana und Swaziland gesprochen wird." Inheemse tale is in bepaalde gevalle nie net verdring nie, maar ook grammatikaal, leksikaal en andersins deur die koloniale tale beïnvloed.

Vervolgens enkele gedagtes oor die wyse waarop Afrikaans (en by implikasie Afrikaanssprekendes) deur kolonialisasie beïnvloed is.

 

4. Afrikaans en kolonialisasie

Ten opsigte van Afrikaans kan twee vlakke van "kolonialisering" onderskei word: ekstern en intern.

Die eksterne kolonialisering van Afrikaans het eintlik ná die Anglo-Boereoorlog (ook die Suid-Afrikaanse Oorlog genoem) sy beslag gekry in 'n brief wat die destydse superintendent van onderwys in Transvaal en die Oranjerivierkolonie, EB Sargant, aan lord Alfred Milner, Britse hoë kommissaris vir Suid-Afrika, geskryf het:

"We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish. Our military police had gathered the greater part of the child population into these camps and ... I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English is golden." (vergelyk Steyn, 2014:52)

Hierdie oproep is 'n duidelike illustrasie van die leksikale definisie wat die Advanced English Dictionary onder andere vir die betekenis van colonialism gee: "exploitation by a stronger country of weaker one".

Die ontwikkeling van Afrikaans se posisie tot amptelike status en daarna val nie binne die bestek van hierdie artikel nie. Wat wel ter sake is, is die feit dat Afrikaans ná 1994 sy 50%-aandeel as amptelike taal kwyt was, met die onpraktiese veronderstelling dat hy gelyke amptelike status met tien ander tale sou hê. Die gevolge was nie moeilik voorspelbaar nie: Afrikaans se verlies aan hoë funksies, ook die ander amptelike Afrikatale se verswakkende posisie ten opsigte van die defacto- amptelike taal, Engels. Baie redes kan hiervoor aangevoer word, maar dit is nie nou ter sake nie. Dit kan nagelees word in Steyn (2014), wat indringend skryf oor die ontwikkeling en "lotgevalle" van Afrikaans.

Word die kragte wat tans teen Afrikaans werksaam is - en teen die agtergrond van die voorgaande ontleding van die betekeniskonfigurasies van koloniseer/dekoloniseer en kolonialiseer/dekolonialiseer - krities oorweeg, sal die volgende afleiding waarskynlik nie te vergesog wees nie:

Die blatante (en soms subtiele) afdwinging van die koloniale taal Engels (dus ook die denkstrukture van Engels) op die bestuur, administrasie - en veral die onderwys - van die land is geen dekolonialisering nie. Dit is herkolonialisering, nou nie deur 'n voormalige koloniale moondheid nie, maar deur gekolonialiseerde maghebbers (op verskillende vlakke). Dit kan nie nagelaat word nie om ook te noem dat die invloed van kolonialisasie - nou nie meer deur bewindhebbers nie, maar as gevolg van die intrinsieke krag van Engels as wêreldtaal - neerslag gevind het in Afrikaans se interne grammatikale en leksikale strukture. Voorbeelde daarvan is talryk en kan nageslaan word in The influence of English on Afrikaans deur BC Donaldson. In 'n insiggewende en deeglike resensie van die betrokke publikasie postuleer Conradie (1988) "Die bydrae wat die boek tot die taalpraktyk lewer, is veral geleë in die magdom goed waargenome gegewens met betrekking tot Engelse invloed in die breedste sin wat dit bevat. Al skep enkele van hulle die indruk van eendagvlieë, sal dit baie kortsigtig wees om op grond hiervan die diepgaande invloed van Engels op die hele struktuur van Afrikaans te probeer ontken, te meer omdat Donaldson ook aantoon dat die faktore wat vir hierdie invloed verantwoordelik is, nog steeds aanwesig is en in die toekoms waarskynlik net sterker sal word." Dat Afrikaans wel ook 'n invloed op Suid-Afrikaanse Engels gehad het, is waar.

 

5. Ten slotte

Talle reste van kolonialisme is steeds in Suid-Afrika aanwesig, en sal waarskynlik steeds bly voortbestaan, nieteenstaande die feit dat op die sigbare vlak werklike of gewaande koloniale standbeelde vervang of vernietig word, plekname verander word - en nog baie meer.

Die onsigbare vlak (die konseptuele vlak), waar, volgens Lakoff en Johnson (1980), "our concepts structure what we perceive, how we get around in the world, and how we relate to other people", die vlak waarop "our conceptual system ... plays a central role in defining our everyday realities", verskil van moedertaalspreker tot moedertaalspreker - en word verskillend talig gemanifesteer in verskillende tale. Dit is dus ook die vlak waarop gekolonialiseerde denkstrukture van 'n gedwonge koloniale taal ontwikkel is en word.

Is werklike dekolonialisasie dus 'n onbereikbare ideaal, vir diegene wat dit begeer onmoontlik, omdat kolonialisme in taal gedrenk is - dus 'n mite, omdat in die strewe daarna die wese van kolonialisme eintlik bevorder word indien dit deur 'n koloniale taal gedra moet word?

 

BIBLIOGRAFIE

Advanced English Dictionary. (Aanlyn woordeboek) https://play.google.com/store/apps/details?id=com.orangeannoe.englishdictionary&hl=en&gl=US.         [ Links ]

Austin, JL. 1962. How to do things with words. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Beolingus (Aanlyn woordeboek) http://dict.tu-chemnitz.de/dings.cgi?service=deen&opterrors=0&optpro=0&query=kolonialisieren&iservice.         [ Links ]

Botha, Willem J. 2009. "Breyten Breytenbach as konseptuele versmelter". Die tand van die tyd. Opstelle opgedra aan Jac Conradie. Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

Conradie, CJ. 1988. "Anglisismes soms 'n bate, meen taalkenner." Beeld, 14 Desember 1988.         [ Links ]

Crystal, David. 1987. The Cambridge encyclopedia of language. Cambridge: Cambridge University Press. Dictionary.com (Aanlyn woordeboek), http://www.dictionary.com/browse/colonialize        [ Links ]

Donaldson, Bruce C. 1988. The Influence of English on Afrikaans: A Case Study of Linguistic Change in a Language Contact Situation. Pretoria: Serva Publishers.         [ Links ]

Dikke Van Dale. (aanlyn). https://www.vandale.nl/zoeken/zoeken.do. Februarie 2021 geraadpleeg.         [ Links ]

Duden. (Aanlyn woordeboek). https://www.duden.de/suchen/dudenonline/kolonialisieren. Februarie 2021 geraadpleeg.         [ Links ]

Du Toit, Louise. 2020. "'Die pot kook oral': NP van Wyk Louw, Johannes Degenaar en Afrikaanse dekolonisering". Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 60(2):336-350, Junie 2020 doi.10.17159/2224-7912/2020/v60n2a6.         [ Links ]

Encyclopedia Britannica (aanlyn). https://www.britannica.com/topic/neocolonialism. Februarie 2021 geraadpleeg.         [ Links ]

Evans, V & Green, M. 2006. Cognitive linguistics. An introduction. Edinburgh: Edinburgh University Press.         [ Links ]

Fauconnier, Gilles & Mark Turner. 1996. Blending as a central process of grammar. In: Goldberg, Adele (ed.). Conceptual structure, discourse and language. Stanford, CA: CSLI Publications, pp. 113-187.         [ Links ]

Fauconnier, Gilles & Mark Turner. 2003. "Polysemy and Conceptual Blending." In Polysemy: Flexible Patterns of Meaning in Mind and Language. Edited by Brigitte Nerlich, Vimala Herman, Zazie Todd, and David Clarke. Berlin & New York: Mouton de Gruyter, pp. 79-94. A volume in the series Trends in Linguistics.         [ Links ]

Gratis Van Dale. Gratis woordenboek (Aanlyn woordeboek). https://www.vandale.nl/gratis-woordenboek/nederlands/betekenis/koloniseren#.YCtvGGhLguE. Februarie 2021 geraadpleeg.         [ Links ]

Handke, Jürgen. 2014. The function ofthe verb. Part II - Aspect and voice. The virtual linguistics campus. www.linguistics-online.com. Februarie 2021 geraadpleeg.         [ Links ]

Hanks, Patrick (ed.). 1979. Collins Dictionary of the English Language. London & Glasgow: Collins.         [ Links ]

Lakoff, George & Mark Johnson. 1980. Metaphors we live by. Chicago & London: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Lakoff, George. 1987. Women, fire, and dangerous things. What categories reveal about the mind. Chicago & London: The University of Chicago Press.         [ Links ]

Lakoff, George & Mark Johnson. 1997. Philosophy in the flesh. Elektroniese kopie.         [ Links ]

Lyons, John. 1968. Introduction to theoretical linguistics. London & New York: Cambridge University Press.         [ Links ]

Lyons, John. 1977. Semantics I. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Oakley, Todd V. 1998. Conceptual blending, narrative discourse, and rhetoric. Cognitive linguistics, 9(4):321-360.         [ Links ]

Oxford Dictionary of English. 2012. Oxford University Press. Elektroniese kopie.         [ Links ]

Online Etymology Dictionary. https://www.etymonline.com/word/colonization?ref=etymonline_crossreference. Januarie 2016 geraadpleeg.         [ Links ]

Ponelis, FA. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Schwerdtfeger, AM. 1982. "Deiksis: oriëntasie en konfrontasie in die ruimte". Klasgids, 17(2). Pretoria: Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie.         [ Links ]

Slatter, Landi. 2018. 'n Nuwe geskiedenis vir SA. (https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/n-nuwe-geskiedenis-vir-sa-20181223). Januarie 2021 geraadpleeg.         [ Links ]

Steyn, JC. 2014. 'Ons gaan 'n taal maak'. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal Uitgewers.         [ Links ]

Tasch, Meike. 1995. Empirische Untersuchung zu Sprechereinstellungen in Südafrika. Duisburg: Gerhard-Mercator - Gesamthochschule - Duisburg.         [ Links ]

Taylor, John R. 1995. Linguistic categorization. Prototypes in linguistic theory. Oxford: Clarendon Press.         [ Links ]

Taylor, JR. 2002. Cognitive grammar. Elektroniese kopie.         [ Links ]

Terblanche, HJ & JJ. Odendal. 1966. Afrikaanse woordeboek. Verklarend met woordafleidings. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.         [ Links ]

Van Melle, J. 1960. Bart Nel. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Wikipedia. Oktober 2016. Languages of Africa. (https://en.wikipedia.org/wiki/Languages_of_Africa#cite_note-0).         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-05-04
Goedgekeur: 2021-06-14
Gepubliseer: Desember 2021

 

 

 

Willem Botha se fokusgebiede binne die taal-kunde is semantiek en sintaksis. Sy semantiekna-vorsing bedryf hy veral vanuit die raamwerk van die kognitiewe linguistiek. Hy was sedert die stigting van die International Cognitive Linguistics Association (ICLA) 'n lid daarvan, het baie jare lank aktief aan die bedrywighede van die vereniging deelgeneem en het by talle kongresse referate gelewer. Van sy navorsing is ook onder die vaandel van die betrokke vereniging internasionaal gepubliseer.
Willem Botha focusses his linguistic activities on semantics and syntax. His research in semantics is done mainly within the framework of cognitive linguistics. He has been a member of the International Cognitive Linguistics Association (ICLA) since its establishment, has for many years actively taken part in its activities and has read papers at numerous conferences. Many of his articles have been published internationally under the auspices of this association.
1 Daar bestaan 'n subtiele betekenisverskil tussen die woorde dekolonialisering en dekolonialisasie. Eersgenoemde benoem die proses terwyl laasgenoemde die verskynsel benoem. In die betoog wat volg, is hierdie onderskeid nie ter sake nie.
2 In 'n artikel getitel "'n Nuwe geskiedenis vir SA" berig Landi Slatter (2018) dat 'n ministeriële taakspan destyds aangestel is om (in opdrag van die minister van basiese onderwys) skoolgeskiedeniskurrikula te ondersoek om die sogenaamde "leuens, onwaarhede en halwe waarhede" oor die verlede reg te stel - met die oog daarop om dit meer Afrosentries te maak (https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/n-nuwe-geskiedenis-vir-sa-20181223).
3 Begripstatus word met klein hoofletters aangedui. Woordstatus word kursief aangedui.
4 Binne die bestek van hierdie betoog word geredeneer dat daar 'n besliste betekenisverskil bestaan tussen die woorde dekolonisasie en dekolonialisasie. Du Toit (2020:239) erken ook sodanige betekenisverskil maar vind "die term 'dekolonialisasie' ... lomp" en daarom verkies sy om "die korter vorm, 'dekolonisasie'", in haar betoog te gebruik, verwysend na die betekenis van dekolonialisasie.
5 Hierby word ook ingesluit die woord se afgeleide adjektiwiese vorme, soos gedekolonialiseerde, gedekoloniseerde en koloniale - en ook afgeleide substantiewe soos Kolonianer, kolonialis, kolonialisme, kolonie, kolonis, kolonisasie.
6 Vergelyk https://nl.wikipedia.org/wiki/Kolonisatie vir 'n uiteensetting van kolonialisasie in antieke tye.
7 Die behoefte aan die benoeming van dekolonisering/dekolonialisasie sou eers ontstaan toe die proses die eerste keer sy verskyning gemaak het. Op grond daarvan postuleer die Online Etymology Dictionary dat die woord decolonization die eerste keer in 1853 vanuit 'n politieke konteks in Amerikaanse Engels gebruik is alhoewel die VSA sy onafhanklikheid van Brittanje reeds in 1776 verklaar het. Vroeër was die woord slegs 'n mediese term.
8 Kolonialiseringshandelinge hoef nie in alle gevalle die gevolg van koloniseringshandelinge te wees nie, soos in die geval van neokolonialisme, deur Oxford English Dictionary gedefinieer as "the use of economic, political, cultural, or other pressures to control or influence other countries, especially former dependencies". Die woordkeuse especially dui daarop dat neokolonialisme nie net betrekking het op gekoloniseerders nie. Volgens Encyclopedia Brittanica (aanlyn) "its meaning soon broadened to apply, more generally, to places where the power of developed countries was used to produce a colonial-like exploitation", soos byvoorbeeld neokolonialisme as 'n uitvloeisel van kapitalisme.
9 Lyons (1968:313) noem dat die term aspek (wat 'n vertaling van die Russiese woord vid is) aanvanklik gebruik is "to refer to the distinction of 'perfective' and 'imperfective'." Vergelyk ook Evans & Green (2006:387 e.v.).
10 Lyons (1968:315) beklemtoon die feit dat "(a)spect, unlike tense, is not a deictic category; it is not relative to the time of utterance."
11 In 'n artikel getitel "Breyten Breytenbach as konseptuele versmelter" ontleed Botha (2009) byvoorbeeld die kompleksiteit van konseptuele versmelting in enkele Breytenbach-gedigte.
12 'n Artikel deur Fauconnier & Turner (2003), "Polysemy and conceptual blending", onderskryf die relevansie van konseptuele versmelting ook op leksikale vlak.
13 Vergelyk Botha (2009) vir 'n ontleding van fokale en ander denkruimtes in 'n ontleding van Bart Nel se woorde wanneer hy sê: "Ek is Bart Nel van toe af. En ek is nog hy".
14 Evans & Green (2006:84) definieer 'n kognitiewe model as 'n "level of organisation in which various lexical concepts are integrated, together with their patterns of conventional imagery." Op grond daarvan is kognitiewe modelle dus "larger-scale knowledge structures than individual lexical concepts".

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons