SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número4-1New and old treasures: The 2020 Afrikaans translation of the Bible as a retranslation índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.4-1 Pretoria Dez. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n4-1a1 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Forward

 

 

Professor Nerina Bosman vier op 1 Maart 2022 haar aftreeverjaarsdag. Alhoewel ons hoop dat sy vir nog baie jare aktief betrokke sal wees by die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria, is haar betrokkenheid ná hierdie verjaarsdag nie meer gewaarborg nie. Daarom word hierdie uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe aan haar opgedra as 'n baie klein blykie van waardering en ontsag vir die groot rol wat sy op vele terreine in die Afrikaanse taalgemeenskap in den brede, en binne die Afrikaanse taalkunde spesifiek, gespeel het ... en hopelik vir nog lank sal speel.

Bosman behaal in 1998 haar PhD, getiteld Die meerwoordige leksikale item in Afrikaans, met prof. Rufus Gouws as promotor. In haar proefskrif ondersoek sy Afrikaanse woordgroepe/ frases wat om verskillende redes as enkele leksikale items beskou behoort te word. Sy noem hierdie items meerwoordige leksikale items (voortaan MLI's) (vergelyk Bosman, 1998). Sy gebruik insigte uit die kognitiewe linguistiek (spesifiek die kognitiewe semantiek - vergelyk Bosman, 1998:118-161) om 'n aantal verskillende tipes Afrikaanse MLI's te identifiseer (Bosman, 1998:380-449). Ná die afhandeling van haar proefskrif publiseer sy 'n drietal artikels wat oor MLI's handel (Bosman 2000a; 2000b; 2000c).

Met hierdie navorsing oor Afrikaanse MLI's lewer sy 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse leksikologie, die morfologie en sintaksis, en die Afrikaanse semantiek. Sy neem ook 'n aantal Afrikaanse idiome onder die loep (Bosman, 1998: 222 en verder) en daarmee lê sy die fondasie vir haar latere navorsing en publikasies binne die konseptuelemetafoorteorie (vergelyk veral Lakoff & Johnson, 2008). Sy publiseer onder andere oor Afrikaanse idiome met HAND (Bosman, 2000d), die Afrikaanse en Nederlandse leksikale items wat gebruik word as die fonologiese pool van die konsep WOEDE (Bosman, 2002), oor verskillende aspekte van metaforiese taalgebruik rondom eet en drink (Bosman, 2007; Bosman, 2015; Taljard & Bosman, 2015; Bosman, 2019) en baie onlangs ook oor die konsep BLOED (Bosman & Taljard, 2021). Bosman en Taljard (2021) en Taljard en Bosman (2014) sluit, benewens die analise van Afrikaanse metafore, ook 'n ondersoek in na die kruislinguistiese variasie in die gebruik van hierdie metafore in Afrikaans en Setswana. In Bosman (2020) skryf sy oor die konseptuele metafore wat bewegingswerkwoorde in die poësie van NP van Wyk Louw onderlê.

Benewens haar werk op die terrein van die kognitiewe semantiek en spesifiek die konseptuelemetafoorteorie, lewer sy ook heelparty bydraes op die terrein van die leksikografie en die leksikologie. Bosman en Otto (2012) bekyk die "onverskillige" en "onbevredigende" manier waarop verskillende tipes konjunkte in prominente Afrikaanse woordeboeke (spesifiek die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Verklarende Afrikaanse woordeboek en Basiswoordeboek van Afrikaans) hanteer word. Daar word 'n aantal leksikografiese oplossings (byvoorbeeld 'n aanpassing/verbetering van die voorbeeldmateriaal wat aangebied word, en 'n duideliker skeidslyn tussen die funksies van 'n woord en die polisemiese betekenisonderskeidings daarvan) voorgestel waarmee die hantering van konjunkte in hierdie woordeboeke verbeter kan word.

In Bosman (2013a) vergelyk sy in 'n loodsstudie die leksikons van Afrikaans en Nederlands aan die hand van 'n (kleinskaalse) korpusondersoek. Sy het spesifiek ten doel om vas te stel of die woordvormingsprosesse in Afrikaans nog ooreenstem met dié van Nederlands. Sy vind veral 'n verskil in die hantering van leenwoorde - terwyl leenwoorde meestal goedsmoeds met 'n brontaalspelling en -skryfwyse in Nederlands geïnkorporeer word, word daar in Afrikaans meestal een of ander vorm van leenvertaling opgeneem.

Bosman het ook 'n voorliefde vir Nederland en Nederlands, wat blyk uit haar lidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek, waarvan sy ook tussen 2014 en 2021 die voorsitter was, en die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek, waar sy op die bestuur dien. Sy tree ook as gasdosent op by die Universiteit Leiden in Februarie en Maart 2020. Sy bied die laaste gedeelte van hierdie kursus virtueel uit Suid-Afrika aan nadat sy deur die covid-19-pandemie huis toe gedwing is in Maart 2020. Op navorsingsterrein vind haar liefde vir Nederlands neerslag in 'n aantal publikasies oor woordeskatverwerwing en die pedagogiek van Nederlands as vreemde taal (vergelyk Bosman, 2011; Bosman, 2012; 2013b - waar ook leksikografiese aspekte betrek word). Sy publiseer ook saam met mede-outeurs oor ander aspekte wat met taal en onderrig te make het, naamlik die belang van moedertaalonderrig (vergelyk Bosman & Van der Merwe, 2000) en taalonderrigstrategieë in Botswana (Mothudi & Bosman, 2015).

In 2014 begin Bosman 'n grootskaalse projek binne die sosiolinguistiek oor aanspreek-vorme in Afrikaans. Hierdie projek is befonds deur die Nasionale Navorsingstigting en het as einddoel 'n monograaf oor hierdie interessante onderwerp, wat tot op hede nog maar min aandag in die Afrikaanse taalkundeliteratuur gekry het. Bosman en Otto (2015) is 'n eerste publikasie wat uit hierdie projek voortspruit. Die sinchroniese gebruik van die persoonlike voornaamwoord u word in hierdie artikel beskryf aan die hand van data wat verkry is uit 'n elektroniese vraelys. Daar word bevind dat 46% van respondente nooit as u aangespreek word nie, maar dat 42% van respondente wel soms as u aangespreek word. Vervolgens blyk dit uit die vraelys dat die gebruik van u nie beperk is tot 'n spesifieke ouderdomsgroep nie - al die respondente dui aan dat hulle u selde, maar wel soms, gebruik. Dit blyk ook dat respondente wat jonger as 60 jaar oud is, meestal nie daarvan hou om as u aangespreek te word nie.

Bosman is ook in 2014 'n mederedakteur van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (voortaan KAT), 'n handboek vir universiteitstudente wat meer as 20 jaar ná die vorige, soortgelyke bron gepubliseer is. In KAT (Carstens & Bosman, 2014) word 'n verskeidenheid temas wat te make het met die Afrikaanse taalkunde, bespreek. KAT word beskou as "'n geregverdigde en welkome publikasie" (Beyer, 2014). Sy lewer ook in hierdie waardevolle bron 'n bydrae as mede-outeur van die semantiekhoofstuk (Bosman & Pienaar, 2014). KAT se tweede uitgawe (Carstens & Bosman, 2017) word in 2017 gepubliseer.

Bosman se publikasielys getuig van haar wye belangstelling in verskillende aspekte wat met taal te make het en enigeen wat al in haar geselskap was, sal kan getuig van haar wye algemene kennis en interesse in die taal- en letterkunde. Haar wye taalkundebelangstelling blyk uit 'n aantal publikasies oor taalkundige onderwerpe buite haar hoofbelangstellingsvelde wat hier bo beskryf is (vergelyk Bosman, 1999; Bosman et al., 2017; Taljard et al., 2017). Haar belangstelling in die letterkunde blyk ook duidelik uit 'n aantal akademiese publikasies oor letterkundige onderwerpe (vergelyk byvoorbeeld Bosman, 1992; Stander & Bosman, 2018 - waar aspekte van die Suid-Afrikaanse regstelsel ook betrek word; Bosman, 2009) en boekresensies (vergelyk byvoorbeeld Bosman, 2014).

Bosman se wye navorsingsbelangstelling word weerspieël in die heterogene aard van bydraes in hierdie bundel. Adelia Carstens rapporteer oor die gebruik van handgebare as deel van multimodale kommunikasie, op grond van data uit 'n korpus bestaande uit video-opnames van (mondelinge) oudiovisuele aanbiedings deur teologiestudente. Sy sluit haar bydrae af met advies vir die effektiewe gebruik van handgebare in studente se oudiovisuele aanbiedings. Hierdie advies is gebaseer op die teoretiese beginsels wat sy in haar bydrae bespreek, sowel as op die analise van die data uit die videokorpus. Multimodaliteit speel ook 'n belangrike rol in Linette van der Merwe se bydrae. Sy ondersoek die manier waarop multimodale metafore ingespan word in 'n geanimeerde poësiefilm van DJ Opperman se Stad in die mis.

Angelique van Niekerk gebruik Bosman se drieluik publikasies oor MLI's (Bosman, 2000a; 2000b; 2000c) as basis vir haar bydrae. Sy ondersoek verskillende maniere waarop MLI's in gedrukte advertensiekommunikasie gebruik, verdraai en aangepas word. Sy stel 'n analiseraamwerk op waarmee MLI's in advertensies geanaliseer kan word en vind dat MLI's veral gebruik word om inligting oor die teikenmark, eerder as oor die handelsmerk oor te dra.

Dekolonisering en dekolonialisering/dekolonialisasie is konsepte wat deesdae gereeld onder bespreking is. Willem Botha ondersoek in sy bydrae die betekenisse van hierdie werkwoorde om vas te stel of hulle as sinonieme beskou kan word. Om die betekenis van die vermelde woorde te ondersoek, fokus hy op aspek en konseptuele versmelting, en kom tot die gevolgtrekking dat die woorde nié uitruilbaar gebruik behoort te word nie, aangesien daar 'n besliste betekenisverskil tussen die woorde is. Hy verwys daarna na die verhouding tussen taal en denke, en postuleer op grond daarvan dat dekolonialisering wat gedra word deur 'n koloniale taal (Engels, in die geval van Suid-Afrika), 'n mite is.

'n Ander tema wat aan die orde van die dag is, is propaganda. Ansie Maritz skryf in haar bydrae oor die manier waarop kwantifiseerders en voornaamwoorde in propagandatekste aangewend word. Sy gebruik die Sistemies Funksionele Linguistiek om propagandatekste en niepropagandatekste wat tematies gesentreer is om oud-president Jacob Zuma se betrokkenheid by die Nkandla- en staatskapingskandale in Suid-Afrika, te analiseer. Sy bevind onder andere dat spesifiek kwantifiseerders gebruik word om propagandatekste meer soos wetenskapsdis-koers te laat lyk en dat voornaamwoorde gebruik word om eienaarskapskakels te maak wat die propagandis se saak pas.

Adri Breed, Daniël van Olmen en Jo-Ann Chan stel ondersoek in na die Afrikaanse onpersoonlike konstruksie, 'n konstruksie met 'n (soms implisiete) subjek wat geparafraseer kan word as "mense in die algemeen", "'n onbekende persoon" of "sommige mense". Hulle gebruik 'n visuele vraelys om vas te stel watter moontlike onverpersoonlikingstrategieë deur Afrikaanse taalgebruikers aangewend word, en of taalgebruikers 'n voorkeur het vir 'n spesifieke onverpersoonlikingstrategie in verskillende, onderskeibare kontekste. Hulle identifiseer, benewens bekende en reeds bestudeerde strategieë, verskeie ander onverper-soonlikingstrategieë wat nog min of geen aandag in die internasionale literatuur oor onverpersoonliking geniet het nie. Hulle merk ook op dat Afrikaanse taalgebruikers duidelike voorkeurstrategieë het wanneer hulle onverpersoonliking wil bewerkstellig.

'n Ander konstruksie wat in hierdie uitgawe aandag geniet, is dié van pragmatiese merkers. Hierdie merkers word in gesproke taal aangewend om gespreksgenote te rig in terme van die relevansie van 'n uiting. Dit is ook 'n konstruksie waarmee 'n spreker sy/haar eie houding teenoor die proposisie kan laat blyk. Alhoewel hierdie merkers 'n hoë voorkomsfrekwensie in gesproke taal het, is daar nog min navorsing oor Afrikaanse pragmatiese merkers gedoen. Elvis Saal en Annamarie Fourie se bydrae is 'n poging om hierdie leemte te begin vul.

Gerhard van Huyssteen en Roald Eiselen lewer ook 'n bydrae tot 'n navorsingsterrein wat nog min aandag geniet het, naamlik vloek in die Suid-Afrikaanse konteks en, meer spesifiek, vloek in Afrikaans. Hulle beskryf die konstruksionaliseringsnetwerk van twee Afrikaanse vloekwoorde, te wete feeks en helleveeg deur te fokus op die etimologiese ontwikkeling van die woorde. Hulle rapporteer ook oor die opinies wat Afrikaanse taalgebruikers oor hierdie twee woorde het en gebruik 'n tekentoets vir verbandhoudende steekproewe om verskillende dimensies van die twee woorde met mekaar te vergelyk.

Werk aan die oorblywende dele van die Woordeboek van die AJrikaanse Taal (WAT) sal, as alles volgens plan verloop, afgehandel word in 2028. Daarná moet bestaande dele bygewerk word en daar moet ook aanpassings aan die bestaande struktuur en uitleg gemaak word sodat die moontlikhede wat die aanlyn omgewing bied, beter benut kan word. Rufus Gouws wys in sy bydrae op 'n aantal aspekte waaraan die Redaksie van die WAT kan aandag gee in 'n herbewerkingsproses, te wete 'n nuwe dataverspreidingstruktuur, nuwe artikeluitleg, 'n nuwe mikrostruktuur en 'n besinning oor die leksikografiese funksies.

Heinrich Ohlhoff ondersoek 'n refrein ("Harba lori fa") wat in drie tekste voorkom. Die refrein word oorspronklik aangetref in "Eens Meienmorgens vroe" van die 13de-eeuse Nederlandse minstreel, hertog Jan I van Brabant, en daarna gebruik twee twintigste-eeuse digters - TT Cloete (Afrikaans) en Cees Nooteboom (Nederlands) - die refrein as gedigtitels. Hy ondersoek verskillende interpretasies van die refrein deur te verwys na enkele sieninge oor intertekstualiteit en daarna word die aard en struktuur van elke teks afsonderlik bespreek. Hy betrek ook insigte uit kognitiewe benaderings tot intertekstualiteit en vind dat hierdie (beperkte) intertekstuele benadering die besonderhede en eie aard van elke teks duideliker laat word en dat hulle ook aan mekaar volle relief gee.

Temple Hauptfleisch identifiseer in 1983 die beskikbaarheid van 'n saal of teater as een van die faktore wat die agteruitgang van plaaslike amateurteater kan help omkeer. Na aanleiding hiervan, skryf Hein Willemse oor die lotgevalle van die Cape Flats Players en die Eoan-groep, beide Kaapse amateurgeselskappe tydens die hoogbloei van apartheid. Hy doen dit deur te fokus op die beskikbaarheid van teatergeriewe en die toepassing van apartheidswetgewing. Hy gebruik Michel Foucault, David Harvey en Henri Lefebvre se insigte oor die aard van plek en ruimte. Hy bevind dat opvoerruimtes verbande oproep met ander ruimtes, geskiedenisse en simbole en dat die eenvoudige diskoers daar rondom verwikkelde vrae oor ruimtes, toegang en uitsluiting verdoesel.

Elkeen van die bydraes in hierdie spesiale uitgawe weerspieël die bydrae wat Nerina Bosman gelewer het tot navorsing oor verskeie aspekte van Afrikaans. Sy het egter nie net op navorsingsterrein diep spore in die Afrikaanse taalgemeenskap getrap nie. Sy is ook 'n geliefde en gewaardeerde dosent, studieleier en kollega. Sy is 'n aktiewe lid - en soms ook bestuurslid en voorsitter - van verskeie verenigings en organisasies (onder andere die Pretoria Werkge-meenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Linguistiekvereniging van Suid-Afrika, die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek en die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek). Sy dien ook op die redaksieraad van verskillende publikasies, onder andere Internationale Neerlandistiek en Language Matters.

Tot slot en op 'n persoonlike noot: Dankie, Nerina. Jou bydrae tot die taalgemeenskap spreek vanself. Maar jou spore lê ook diep in die harte en lewens van studente, kollegas en vriende. Mag daar in die toekoms nog baie geleentheid wees om saam te werk!

Suléne Pilón

Gasredakteur

November 2021

 

BIBLIOGRAFIE

Beyer, HL. 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, WAM Carstens en N. Bosman (Reds.): boekbespreking. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):870-873.         [ Links ]

Bosman, N. 1992. Ruimte as intertekstuele belewenis: Dalene Matthee en C.J. Langenhoven. Tydskrif vir Letterkunde, 30(4): November:117-120.         [ Links ]

Bosman, N. 1998. Die meerwoordige leksikale item in Afrikaans (Doctoral dissertation, Stellenbosch: Stellenbosch University).         [ Links ]

Bosman, N. 1999. Deeltjiewerkwoorde met om en die motiveringsteorie. South African Journal of Linguistics, 17(4):219-233.         [ Links ]

Bosman, N. 2000a. Die MLI in Afrikaans. Deel 1: Kenmerke en definiëring. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 40(1):27-38.         [ Links ]

Bosman, N. 2000b. Die MLI in Afrikaans. Deel 2: Verskillende soorte MLI's - die kerngroep. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 40(2):115-127.         [ Links ]

Bosman, N. 2000c. Die MLI in Afrikaans. Deel 3: Verskillende soorte MLI's: 'n randgroep en 'n paar spesiale soorte. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 40(3):213-224.         [ Links ]

Bosman, N. 2000d. Die motiveringsteorie en idiome met hand. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 18(1).         [ Links ]

Bosman, N. 2002. Die konsep WOEDE soos geleksikaliseer in Afrikaanse en Nederlandse idiome. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 42(2):145-152.         [ Links ]

Bosman, N. 2007. 'Brood'en'botter': figuurlike taalgebruik inAfrikaans en die motiveringsteorie. Southern African linguistics and applied language studies, 25(4):473-485.         [ Links ]

Bosman, N. 2009. Brongebruik in die populêre historiese roman, met spesiale verwysing na Engela van Rooyen en Oswald Pirow. South African Journal of cultural history, 23(1):1-17.         [ Links ]

Bosman, N. 2011. Die diagnostiese waarde van 'n Nederlandse woordeskattoets vir Afrikaanssprekende aanleerders. LitNetAkademies 8(3):137-166.         [ Links ]

Bosman, N. 2012. Ease of access in the new Afrikaans-Nederlands/Nederlands-Afrikaans dictionary (2011) in the Dutch L2 classroom - a case study. In 2012: Proceedings of the 15th EURALEX International Congress. Oslo: Institutt for lingvistiske og nordiske studier (pp. 947-954).         [ Links ]

Bosman, N. 2013a. Eenders en anders: die leksikons van Afrikaans en Nederlands in die een-en-twintigste eeu - 'n loodsstudie. TydskrifvirLetterkunde, 50(3):135-154.         [ Links ]

Bosman, N. 2013b. Die gebruik van ANNA in 'n Nederlandse taalverwerwingskursus - toegangsgemak en inligtingskoste.         [ Links ]

Botha, W, P Mavoungou & D Nkomo. 2013. FestschriftRUFUS H. GOUWS, pp. 39-54.         [ Links ]

Bosman, N. 2014. Louis Tregardt se dagboek 1836-1838 (Louis Tregardt, vertaal deur Jackie Grober). Tydskrifvir Letterkunde, 51(2):203-203.         [ Links ]

Bosman, N. 2015. EATING and DRINKING in Afrikaans - a lexical semantic study. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(1):23-146.         [ Links ]

Bosman, N. 2019. The cup as metaphor and symbol: A cognitive linguistics perspective. HTS: Theological Studies, 75(3):1-8.         [ Links ]

Bosman, N. 2020. Bewegingswerkwoorde in Van Wyk Louw se poësie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(2):395-412.         [ Links ]

Bosman, N, & Otto, AN. 2012. Die hantering van neweskikkers en onderskikkers in Afrikaanse woordeboeke. Lexikos, 22:69-85.         [ Links ]

Bosman, N, & Otto, A. 2015. Moenie my'jy'en'jou'nie - die gebruik van u in die 21ste eeu. Resultate van 'n loodsondersoek: geesteswetenskappe. Litnet Akademies, 12(3):358-393.         [ Links ]

Bosman, N & Pienaar, M. 2014. Afrikaanse Semantiek. In Carstens, WAM & N Bosman (eds), pp. 245-274.         [ Links ]

Bosman, N, Taljard, E, & Prinsloo, D. 2017. One hundred years of Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - An overview and evaluation. Part 1: The wordlist. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 57(2-1):285-301.         [ Links ]

Bosman, N, & Taljard, E. 2021. A Cross-Linguistic Study of BLOOD Metaphors in Afrikaans and Northern Sotho. Language Matters, 52(1):3-29.         [ Links ]

Bosman, N, & Van der Merwe, E. 2000. South Africa's culture of non-learning - a by-product of non-mother tongue education. Journal for language teaching, 34(3):221-228.         [ Links ]

Carstens, WAM & Bosman, N. 2014. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Van Schaik.         [ Links ]

Carstens, WAM & Bosman, N. 2017. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Van Schaik.         [ Links ]

Lakoff, G & Johnson, M. 2008. Metaphors we live by. University of Chicago press.         [ Links ]

Mothudi, TH & Bosman, N. 2015. Communicative Language Teaching (CLT) in Botswana: perceptions of implementation by some teachers in Botswana's Junior Secondary Schools. Journalfor Language Teaching= Ijenali Yekufundzisa Lulwimi= Tydskrif vir Taalonderrig, 49(1):105-139.         [ Links ]

Stander, J & Bosman, N. 2018. Letterkunde en die reg in die Middeleeuse epos Vanden vos Reynaerde met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse regstelsel. Litnet Akademies: 'n Joernaal vir die Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Regte en Godsdienswetenskappe, 15(1):119-152.         [ Links ]

Taljard, E & Bosman, N. 2014. The semantics of eating in Afrikaans and Northern Sotho: Cross-linguistic variation in metaphor. Metaphor and symbol, 29(3):224-245.         [ Links ]

Taljard, E, Prinsloo, D, & Bosman, N. 2017. One hundred years of Afrikaanse Woordelys en Spelreëls - An overview and evaluation. Part 2: The user in focus. TydskrifvirGeesteswetenskappe, 57(2-1): 302-322.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons