SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue3Critical ecological art and Hegel's cryptic statement that art must dieMax Weber (1864-1920): denker over godsdienst en kapitalisme author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 n.3 Pretoria Sep. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n3a16 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die toekoms van Hegel (gebore 1770)

 

 

Outeur: Catherine Malabou

Vertaler: Lisabeth During

Titel: The future of Hegel: plasticity, temporality and dialectic, met 'n voorwoord deur Jacques Derrida.

London & New York: Routledge (2005)

(Oorspronklike titel: L'Avenir de Hegel. Librairie philosophique J. Vrin, Paris (1995)).

Het komponiste soos Beethoven en denkers soos Hegel vandag nog enige betekenis ná 250 jaar sedert hulle geboorte? Soos Beethoven se musiek, byvoorbeeld die "Ode aan Vreugde", die gees en gemoed van diegene wat daarvoor gevoelig is en waardering het, nog steeds hemelhoog voer, so bring die denke van Hegel diegene wat nog in ernstige denke belangstel, byvoorbeeld deur sy Fenomenologie van die Gees, in ware vervoering in ons gedagtelose tye. Indien Blaise Pascal reg is met sy stelling "dat heel onze waardigheid in het denken gelegen is", dan sal dit ook goed wees om op sy oproep ag te gee wanneer hy skryf: "Laten we dus ons best doen goed te denken; dat is het beginsel der moraal." In die lig hiervan kan dit waardevol wees om oor die toekoms van Hegel, dus oor die toekoms van sy denke, te vra. Dit doen Catherine Malabou in haar boek oor Hegel, The future of Hegel: plasticity, temporality and dialectic, dan ook inderdaad.

Om by die einde te begin: "Die filosofie van Hegel nooi ons uit om die kalmte en gevaar van 'die Sondag van lewe'" binne te gaan, skryf Catherine Malabou in die laaste sin van haar heel besondere studie van Hegel se filosofie wat sy onder leiding van Jacques Derrida gedoen het. Oor hierdie studie skryf Derrida dat hy by almal wil aandring om hierdie boek "die buitengewone trajek, naamlik Die toekoms van Hegel" te lees. Robert Bernasconi van Memphis skryf dat elkeen met 'n belangstelling in die toekoms van filosofie met 'n kontinentale perspektief hierdie boek sal wil bestudeer. Hegel, so wil dit voorkom, het dus vandag nog steeds 'n toekoms, minstens vir elke ernstig-denkende mens wat minstens nog die mens se hoogste kapasiteit respekteer.

Nadat ek gelees het wat Gadamer oor "Hegel se filosofie en die nawerking daarvan tot vandag" geskryf het, staan dit onwrikbaar vas dat die saamdink met Hegel ons help om te beweeg in die rigting van denke in die oortreffende trap. Hy skryf oor "die onontbeerlikheid van Hegel vir hedendaagse filosofering" veral in sy stryd teen moralismes, en oor "die oorweldigende geestelike krag" van hierdie denker wanneer dit gaan oor sy gedagtes oor die objektiewe gees. Sy beklemtoning van Hegel se Christologiese gedagtes met verwysing na die oorwinning oor die dood en die opstanding en versoening laat 'n mens verstaan waarom Malabou afsluit met "die uitnodiging tot die Sondag van lewe", as die dag van triomf, opstanding, oorwinning oor die dood, versoening, en die opening na en vorming tot nuwe lewe wat binne hierdie konteks belowe word. Hierbenewens het Jean Hippolyte, die Franse kenner van Hegel se denke, onomwonde verklaar: Die belangrikheid van Hegel se filosofie vir die geskiedenis van die Europese kultuur en die geskiedenis van menslike denke kan nie oordryf word nie en die invloed van hierdie filosofie strek tot in die huidige epog. Hy beskryf die voorwoord, wat 'n meesterstuk in eie reg is, tot Hegel se groot werk, naamlik die Fenomenologie van die Gees, as ʼn "wêreldwye historiese feestelikheid" (festival historiko-mondiale).

Om bogenoemde redes voel ek die vrymoedigheid om kortliks hierdie voortreflike boek van Malabou onder die aandag van denkende mense te bring. Haar boek inspireer ʼn mens nie net om Hegel te lees en met Hegel te dink nie, maar veral ook hoe belangrik dit is om te lees, goed te lees, en veral ook om filosofie te lees, en goed te lees, en die leser kry selfs wenke van Hegel oor hoe die leeshandeling kan en behoort te gebeur. Haar boek het drie hoofafdelings oor temas waaroor niemand ooit, en ook nie vandag nie, uitgepraat en uitgeskryf kan raak nie. Die temas bly vir alle mense hoogs relevant: Hegel se denke oor die mens, Hegel se denke oor God, Hegel se denke oor die filosoof (die denker). In hierdie temas kom ons ook uit by ander ewe relevante sake soos die denke oor gees, oor kennis, oor taal, oor geskiedenis en oor dinge.

Die kernbegrip wat Malabou uitlig, eintlik as begrip ontwikkel, en as sleutel tot Hegel se denke beskou, is die begrip plastisiteit (wat eintlik met vorm en vorming te doen het) met klem op drie betekenisse van die begrip: die ondergaan van vorm en vorming, die verwesenliking en bewerking van vorm en vorming, en die vernietiging van vorm en vorming (die ontologie van die ongeluk). Elk van die genoemde temas in Hegel se denke kan met die drie dimensies van vorming en vorm in verband gebring word: mens, God, denke, gees, kennis, taal, geskiedenis, dinge. Elk hiervan kan lei tot elk van die drie moontlikhede. Die belangrike gedagte is dat die denke oor al hierdie sake steeds die denke en aktiwiteite van mense vandag in al hul omstandighede behels en waarvan almal moet rekenskap gee en ook behoort rekenskap te gee.

Terme soos plastiese gees, goddelike plastisiteit, plastiese leeshandeling, plastiese diskoers, plastiese individualiteit, plastiese singewing word duidelik, omsigtig en intelligent en besonder insiggewend ondersoek en ontleed. Om haar bespreking van hierdie temas te lees, vind ek besonder inspirerend en prikkelend vir eie gedagtevorming oor al hierdie temas.

Op ʼn heel oorspronklike wyse ontwikkel sy haar filosofie van plastisiteit na aanleiding van Hegel se denke oor plastisiteit wat verstaan kan word as die direkte nalatenskap van Hegel. Sy pas haar teorie veral toe op wat sy noem "die nuwe verwondes" verwysende na die impak van demensie, die teistering van oorlog en geweld, en politieke mishandeling op die identiteit van subjekte en die omkering van die affektiewe ekonomie van diesulkes. In hierdie verband is haar boeke oor "die ontologie van die ongeluk" en "die nuut verwondes" uiters relevant en bring die filosofie van Hegel kragtig tuis in die milieu van hedendaagse denke oor mens en identiteit en die trauma van die verwoesting van identiteit.

Hoe relevant die denke van Hegel vir vandag is, blyk verder uit die feit dat die hedendaagse denke en diskoerse onder andere baie spesifiek handel oor die filosofie van die gees (Bernard Stiegler en kie.), kennis en absolute kennis (Jacques Derrida se Glas as "doodsklok van absolute kennis"), maar hierbenewens ook die hele gedagte van kennis- en inligtingsamelewings, die krisisse en uiteenlopende menings in die denke oor God, religie, Christologie en verwante sake (Girard), selfs die tergende vraag oor hoe lees ons en hoe daar gelees behoort te word, om nie te praat van hoe ons dink en hoe ons behoort te dink nie (Edgar Morin) en dan ook nog ons omgang met die dinge, ons verbintenis met dinge en die besinning daaroor, die impak van dinge op menswees en mensvorming (Michel Serres), en dan taal en die belangrikheid van taal, die verwisseling van tale, die misbruik en die wanbegrip oor taal en die wese daarvan en die onmoontlikheid van ware wetenskap en die vorming van die wetenskaplike gees in en deur ʼn 2de of selfs 3de taal, en die onreg wat gepleeg word deur dit van studente te verwag (Hans-Georg Gadamer).

Om saam met Hegel, teen Hegel in en verder as Hegel (vir diegene wat hulle verbeel dat hulle sover gevorder het) oor al hierdie sake te dink is die uitdaging wat Malabou se besondere deeglike lees van, denke saam met en oor Hegel se denke ons wil leer. Soos Derrida en Bernasconi beklemtoon het: wie goed wil dink kan gerus Malabou se boek bestudeer en ook die boeke van Hegel waaroor sy dit het, veral die Fenomenologie van die Gees.

FANIE DE BEER

Emeritus professor: Universiteit van Suid-Afrika

E-pos: careldebeer17@gmail.com

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License