SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número3General CF Beyers: His world view as reflected in his public statementsSubstantive policy implementation and the erosion of voter trust as factors in the consolidation of the South African democracy índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.3 Pretoria sep. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n3a2 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)

 

Die Ou Testament as verhoudingsboek: Nagedink oor die waarde van die Ou Testament

 

The Old Testament as a book of relationships: A reflection on the value of the Old Testament

 

 

SD (Fanie) Snyman

Ou en Nuwe Testament, Fakulteit Teologie en Godsdienswetenskap, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: snymansd@ufs.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die publikasie van twee verskillende uitgawes van die Bybel in Afrikaans is 'n resente aanduiding van die kontroversiële posisie van die Ou Testament in die Bybel. Onderliggend aan die aandrang op 'n afsonderlike uitgawe van die Bybel in Afrikaans is die oortuiging dat die waarde van die Ou Testament eintlik lê in die heenwysings, voorspellings, sinspelings en profesieë wat dit bevat ten opsigte van Jesus Christus. Vervolgens die probleemstelling wat in hierdie bydrae ondersoek gaan word: Wat is die waarde van die Ou Testament as deel van die kanon van die Christelike kerk? Die binêre teenoorstelling van begrippe (wet: evangelie; belofte: vervulling; kontinuïteit: diskontinuïteit) om die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament te beskryf, deug nie meer om die verhouding effektief te beskryf nie. 'n Alternatiewe moontlikheid vir die waardering van die Ou Testament word voorgestel wat kortliks daarop neerkom dat die Ou Testament gelees moet word as 'n verhoudingsboek wat primêr handel oor God en mens wat in 'n verhouding met mekaar, ander en die skepping staan.

Trefwoorde: hermeneutiek; verhouding tussen Ou en Nuwe Testament; kanon; Afrikaanse vertaling; wet; evangelie; belofte; vervulling kontinuïteit; diskontinuïteit; profesie; voorspelling; verhoudingsmatig


ABSTRACT

On 29 November 2020, a new translation of the Bible in Afrikaans was launched. What makes this translation special in a certain way is the fact that two editions of this Bible were released - something that had never been done in the past. In the one edition, institutions and/or characters that are regarded by some theologians as direct prophecies or predictions of Jesus Christ as the Messiah are printed without using higher case letters. In the other edition, higher case letters are used to indicate that certain institutions and/or characters are indeed direct references to Jesus Christ in the New Testament. This extraordinary step by the Bible Society of South Africa to publish two editions of the Bible once again raised the thorny issue of the controversial place the Old Testament occupies in the canon of scriptures of the church. The main problem addressed is the value the Old Testament has for the church. To put the issue in a nutshell: Why does the church need an Old Testament if there is a New Testament? A brief overview of the reception of the Old Testament as part of the canon of scriptures in the church is given. At first, the Old Testament was simply accepted as the Bible in the early church, since the early Christians (being Jews) accepted the Jewish scriptures as authoritative. This can be seen by the many references to what is known today as the Old Testament in the New Testament by all authors of the New Testament writings. In a second movement, there were attempts to eliminate the Old Testament from the Christian church's canon of scriptures. Attention is briefly paid to Marcion, Von Harnack and Bultmann in this regard. In a third movement, the Old Testament was retained as part of the Bible of the church. However, the uneasiness regarding the Old Testament within the church remained, resulting in different hermeneutic formulae to capture the proper relationship between the Old and New Testament. It is argued that the current binary opposition of terms such as law: gospel; promise: fulfilment; continuity: discontinuity to describe the relationship between the Old and New Testament can no longer be upheld. How well intended all of these attempts may have been, it resulted in downgrading the Old Testament as a kind of second-class canon to the "superior" New Testament. An alternative view is suggested where the Old Testament has to be read through the lens of a relational God who enters into a relationship with human beings and, vice versa, human beings who enter into a relationship with God and other human beings. The value the Old Testament has for the church and the believing community is endlessly more than to view it as a collection of predictions concerning the coming Messiah. The result of this proposed fresh approach will allow a new understanding of the Old Testament to be heard on its own terms to the enrichment of the church and believers.

Keywords: hermeneutics; relationship between Old and New Testament; canon; Afrikaans translation; law; gospel; promise; fulfilment; continuity; discontinuity; prophecy; prediction; relational


 

 

1. INLEIDING

Op 29 November 2020 is die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans by 'n geleentheid in Bloemfontein amptelik bekendgestel en in gebruik geneem. In 'n buitengewone stap het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) besluit om twee weergawes van die 2020-vertaling te publiseer. In een uitgawe word instellings en/of persone/karakters wat deur sommige uitleggers as direkte verwysings na Jesus Christus as die Messias gesien word, sonder hoofletters weergegee. In die ander uitgawe word instellings en/of persone/karakters in die Ou Testament wat Christologies geïnterpreteer word, as verwysende na Jesus Christus deur middel van hoofletters aangedui. Die begrip "interpretasie" is belangrik in hierdie verband. Van Rooy (2020:942) se standpunt is duidelik dat die kwessie of tekste uit die Ou Testament direk-Messiaans is, 'n saak van interpretasie is. Die verskil in interpretasie word bepaal deur die perspektief waarvolgens die Ou Testament gelees word.

Die verskyning van 'n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans in twee verskillende uitgawes is dus 'n geleentheid om (weer) te besin oor die waarde van die Ou Testament as deel van die kanon van die Christelike kerk. Die publikasie van twee verskillende uitgawes van die Bybel is 'n resente aanduiding van die kontroversiële posisie van die Ou Testament in die Bybel. Onderliggend aan die aandrang op die afsonderlike uitgawe van die Bybel in Afrikaans lê die oortuiging dat die waarde van die Ou Testament eintlik lê in die heenwysings, voorspellings, sinspelings en profesieë wat dit bevat ten opsigte van Jesus Christus. Die vraag wat hierdie uitgangspunt onmiddellik oproep is: hoe gemaak met die oorgrote deel van die Ou Testament wat nie geïnterpreteer kan word as heenwysings na of voorspellings van Jesus Christus nie? Kortom, waarin lê die waarde van die Ou Testament vir die kerk? Lê die waarde van die Ou Testament vir die Christelike kerk hoofsaaklik of selfs eksklusief in die heenwysings na Christus, óf het die Ou Testament meer waarde anders as om net 'n voorspellingsboek ten opsigte van Jesus Christus te wees?

 

2. PROBLEEMSTELLING EN METODOLOGIESE OORWEGINGS

Dít is dan die probleemstelling wat in hierdie bydrae ondersoek gaan word: Wat is die waarde van die Ou Testament?1 Anders gestel: Waarom 'n Ou Testament as daar 'n Nuwe Testament is?

Metodologies word 'n vlugtige oorsig gebied van hoe die Ou Testament in die loop van die geskiedenis deur die kerk aanvaar en geïnterpreteer is. Daar word voorts geargumenteer dat huidige verklaringsmodelle om die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament te beskryf nie meer bevredigend is nie. Die binêre teenoorstelling van begrippe (wet: evangelie; belofte: vervulling; kontinuïteit: diskontinuïteit) om die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament te beskryf, deug nie meer om die verhouding weer te gee nie. 'n Alternatiewe moontlikheid vir die waardering van die Ou Testament word dan voorgestel wat kortliks daarop neerkom dat die Ou Testament gelees moet word as verhoudingsboek waarin dit primêr handel oor God en mens wat in verhouding met mekaar, ander, en die skepping staan.

Die Ou Testament is 'n versameling van geskrifte wat 'n diversiteit van literatuur bevat wat moeilik in 'n koherente en strukturele eenheid ingedwing kan word (Anderson 1999:31). In 'n boek so divers en omvangryk soos die Ou Testament is dit onvermydelik dat selektief gewerk sal word. Die omvattende en diverse manier waarop God handel en in verhouding tree met mense en met die skepping word hier oorsigtelik, oppervlakkig en opsommend aangedui binne die bestek van 'n paar duisend woorde. Fischer (2012:13) noem hierdie taak eigentlich unmöglich ("eintlik onmoontlik").2 Dieselfde geld vir die verskillende verhoudings waarin mense tree. Mense tree op 'n verskeidenheid van maniere in verhouding met ander. Die rubrisering wat hier aangebied word, poog om enigsins 'n greep te bied op die veelkantigheid en diversiteit van God en mens se optrede en handelinge waarin daar in verhouding met ander getree word. Die onderskeid wat gemaak word tussen God en die verhoudings waarin Hy tree en die verhoudings waarin mense tree is in 'n sekere sin ook kunsmatig omdat die verhoudings tussen God en mens en dié tussen mens en mens so vervleg is dat die een nie sonder die ander bedink kan word nie. God in verhouding met mense en mense in verhouding met God en met ander word in die Ou Testament geïntegreerd beskryf sodat 'n skerp skeiding tussen die verskillende verhoudings nie altyd helder getrek kan word nie.

 

3. HISTORIESE OORSIG

Daar kan oorsigtelik drie groot bewegings aangetoon word in die manier waarop die Ou Testament in die kerk geapproprieer is.3

3.1 Die Ou Testament as die Bybel van die kerk

Om die term "Ou Testament" te gebruik as aanduiding van die Joodse geskrifte wat die Christene gedurende die eerste eeu na Christus gebruik het, is ietwat van 'n anachronisme. Die kanon van wat vandag bekend is as die Ou Testament was nog nie finaal omlyn of vasgestel nie. Die gebruik van gedeeltes uit dit wat vandag bekend is as die Ou Testament toon onteenseglik aan dat dié geskrifte as gesaghebbend aanvaar is. Die apostel Petrus gebruik 'n teks uit die boek Joël (2:28-32) om sy preek op Pinksterdag te preek (Handelinge 2:14-36). Vir Paulus is die sentrale gedagte van die verlossing as genade op grond van Jesus Christus se kruis en opstanding sonder verdienste van die mens se kant alreeds in die Ou Testament te vind met 'n beroep op Habakuk 2:4 (Romeine 1:16-17).

In die evangelies is daar talle verwysings na en sinspelings op tekste uit die Ou Testament waarmee Jesus as die verwagte Messias aangedui word. Tot en met die tweede eeu na Christus was die Ou Testament die Bybel vir die kerk waar tekste uit die Ou Testament as God se Woord voorgelees, uitgelê en toegepas is. Die Ou Testament-tekste is as normatief en formatief gesien vir die Christelike lewe in navolging van Jesus (Zenger 2008:12). Waar ook al die begrip "skrif" of "skrifte" in die Nuwe Testament voorkom, verwys dit na die Joodse Bybel wat vir Christene die Ou Testament is (Anderson 1999:8). Dit is te begrype, want daar was nog nie 'n Nuwe Testament wat deur die kerk as gesaghebbende openbaringsbron erken en aanvaar is nie.

Die waarde van die Ou Testament het gelê in die mate waarin die Ou Testament in verband gebring is en kon word met Christus. Dat dit gebeur het, is te begrype. Israel se Bybel (dit is: die Ou Testament) was van die begin af die Heilige Skrif vir die Christelike gemeenskap (Anderson 1999:7-8; Rendtorff 2005:749,752). Die Christus-gebeure (die koms, woorde, dade, kruisiging, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus) is geïnterpreteer in terme van die Ou Testament. Die Ou Testament se taal en begrippe - kortom, die teologiese woordeskat van die Ou Testament - is gebruik om die ingrypende en omvattende betekenis van die Christus-gebeure mee te beskryf en ook te interpreteer. Niemand minder nie as Jesus haal volgens die evangelies die Ou Testament gesaghebbend en instemmend aan. Volgens Ausloos en Lemmelijn (2005:89) haal die Nuwe Testament die Ou Testament meer as 350 keer direk aan. Bo en behalwe die direkte aanhalings, bevat die Nuwe Testament talle toespelings op die Ou Testament. Volgens Greidanus (1999:185) bevat 229 van die 260 hoofstukke waaruit die Nuwe Testament bestaan ten minste twee aanhalings of verwysings na die Ou Testament. In die (sogenaamde egte) briewe van Paulus aan die Romeine, Korintiërs, Galasiërs, Filippense, I Tessalonisense en Filemon is daar 90 aanhalings uit die Ou Testament (Schreiner 1999:80). Daar word bereken dat 32% van die Nuwe Testament bestaan uit aanhalings van en toespelings op die Ou Testament (Greidanus 1999:185). Die God wat Hom in die Ou Testament openbaar het, is dieselfde God wat Hom in Jesus Christus openbaar. As sodanig is die Ou Testament dan die noodsaaklike voorwaarde vir die verstaan van die Nuwe Testament se boodskap aangaande Jesus van Nasaret. Die Ou Testament kan dus met reg die onopgeebare fondament van die Christendom genoem word (Zenger 2008:13).

3.2 Die Ou Testament onder beleg in die kerk

Die probleemlose manier waarop die Ou Testament die Bybel van die vroeë kerk was, het ná die eerste eeu na Christus verander. Dit het waarskynlik saamgehang met die feit dat daar 'n Nuwe Testament aan die ontstaan was.

3.2.1 Marcion

Die eerste en fel aanslag op die Ou Testament in die kerk kom van Marcion (circa 150). Marcion tref 'n skerp onderskeid tussen die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament. Die skepper-God van die Ou Testament is 'n regverdige en wraaksugtige God in teenstelling tot die genadige God van die Nuwe Testament wat Hom in Jesus Christus openbaar. So oortuig was Marcion van sy standpunt dat selfs die omvang van die Nuwe Testament aangepas moes word om sy oortuiging te staaf. So aanvaar Marcion net die Evangelie van Lukas en die briewe van Paulus as kanoniese geskrifte. Selfs die briewe van Paulus moes dus gesuiwer word van Joodse valshede. Nodeloos om te sê, die aanslag van Marcion het misluk en die kerk het die Ou Testament saam met die Nuwe Testament behou as kanon (Gunneweg 1978:39).

3.2.2 Von Harnack

Die Duitse dogma-historikus, Adolf von Harnack, het 'n boek gepubliseer oor Marcion waarin hy simpatiek teenoor Marcion se beskouings staan. Von Harnack erken dat die wortels van die Christendom in die Ou Testament lê maar is uiteindelik, in navolging van Marcion, negatief in sy beoordeling van die waarde van die Ou Testament (Bright 1977:64-65). Uit die boek word die volgende sin gewoonlik aangehaal as die finale gevolgtrekking waartoe Von Harnack kom: "Das Alte Testament im 2. Jahrhundert zu verwerfen, war ein Fehler, den die grosse Kirche mit recht abgelehnt hat; es im 16. Jahrhundert beizubehalten, war ein Schicksal, dem sich die Reformation noch nicht zu entziehen vermochte; es aber seit dem 19. Jahrhundert als kanonische Urkunde im Protestantismus noch zu konservieren, ist die Folge einer religiösen und kirchlichen Lähmung" (Gunneweg 1978:119; Preuss 1984:70). In Afrikaans vertaal, lui die aanhaling soos volg: "Om die Ou Testament in die tweede eeu te verwerp, was 'n fout wat die kerk ten regte afgewys het; om dit in die sestiende eeu te behou, was 'n lot waarvan die Hervorming hom nog nie kon losmaak nie; maar om sedert die negentiende eeu dit steeds te behou as 'n kanoniese dokument, is die gevolg van 'n godsdienstige en kerklike verlamming." Die kerk het - volgens Von Harnack - die behoefte aan die Ou Testament ontgroei.

3.2.3 Bultmann

Rudolf Bultmann, die bekende Nuwe-Testamentikus van die twintigste eeu, het sy beskouing van die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament in veral twee artikels uiteengesit (Bultmann 1963:8-35, 1979:50-75). Vir Bultmann kan die betekenis van die Ou Testament vir die gelowige van vandag weergegee word aan die hand van die dialektiek van wet en evangelie. Die Ou Testament is die voorveronderstelling van die Nuwe Testament in die sin dat die evangelie eers verkondig kan word wanneer die mens onder die wet staan. Om vir Christus, wat die einde van die wet is, te verstaan, moet die mens eers van die wet gehoor het, anders sal hy/sy Christus nie verstaan nie. Selfs al is die gelowige vir eens en vir altyd vry van die wet en nou onder die Gees, moet die ou bestaan onder die wet altyd weer oorkom word deur die geloof (Bultmann 1963:14-15). Die Nuwe-Testamentiese evangelie kan dus slegs verstaan word vanuit die wet van die Ou Testament (Frör 1968:121). Die Christelike kerk gebruik die Ou Testament om pedagogiese redes om die mens bewus te maak daarvan dat hy onder die wet van God staan (Bultmann 1963:17).

Die geskiedenis van Israel is vir die lidmaat van die kerk 'n hoofstuk wat afgesluit is. Gebeure wat vir Israel van betekenis was, wat vir hulle God se Woord was, beteken vir ons niks meer nie. Vir die Christelike geloof is die Ou Testament nie langer meer openbaring nie (Bultmann 1963:31). "So far as the Church proclaims the Old Testament as God's Word, it just finds in it again what is already known from the revelation in Jesus Christ" (Bultmann 1963:32).

Bultmann kom tot die gevolgtrekking, nadat hy die begrippe verbond, koninkryk van God en volk van God in die Ou Testament ondersoek het, dat die Ou Testamentiese Joodse geskiedenis slegs vervul word in wat beskryf word as 'n "miscarriage," "Scheitern," mislukking (Bultmann 1979:72-73). Die mislukking van die geskiedenis toon aan dat die verbond, die koninkryk van God en die volk van God nie gerealiseer kon word in die gemeenskap van Israel nie. Hierdie mislukking van die geskiedenis word egter 'n belofte op die basis van die vervulling wat God gebring het in die nuwe begin in Christus (Bultmann 1979:73).

Vir Bultmann is die Ou Testament die nie-christelike voorveronderstelling van die Nuwe Testament. Teologies is die Ou Testament van sekondêre belang, met die Nuwe Testament as die eintlike Bybel. Baker (1992:186-187) beskryf Bultmann se beskouing van die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament as 'n verhouding van kontras. Bultmann se denke oor die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament lei dus tot 'n ernstige devaluasie van die Ou Testament as deel van die kanon van die Christelike kerk.

3.3 Die Ou Testament behou as deel van die kanon van die kerk

Die aanslag teen die Ou Testament het nie geslaag nie. Die Ou Testament bly steeds deel van die kanon van die kerk. Die probleem van 'n toepaslike interpretasie van die Ou Testament in die bedeling na Christus het egter op die teologiese en kerklike agenda gebly. In die loop van die geskiedenis het daar verskillende modelle ontstaan om die verhouding tussen die twee testamente mee te beskryf. Dit is opvallend dat ten spyte van die algemene konsensus dat die Ou Testament deel van die kanon van die kerk is maar in terme van Christus verstaan en verklaar moet word, daar nooit net een model van interpretasie was nie. Modelle soos allegorie, tipologie, wet: evangelie, belofte: vervulling en kontinuïteit: diskontinuïteit is en was in die loop van die geskiedenis van die interpretasie van die Ou Testament prominent om die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament mee te verduidelik (Bright 1977; Gunneweg 1978; Preuss 1984; Greidanus 1999; Snyman 2002:126-146).

Elkeen van die modelle het winspunte gehad maar nie een was volledig bevredigend nie. Allegorie is net te lukraak uitgelewer aan die willekeur van die uitlegger wat allerlei allegoriese verbande tussen Ou en Nuwe Testament ontdek. Tipologie word in te veel gevalle kunsmatig afforseer op die Ou Testament waar tipes en anti-tipes deur uitleggers geponeer word. Die Ou Testament is meer as wet en in die Nuwe Testament is daar ook wet en nie net evangelie nie. "Wet" in die Ou Testament funksioneer nie as voorwaarde vir verlossing nie, maar - soos in die Nuwe Testament - as die gevolg van verlossing. Omdat JHWH sy volk uit Egipte verlos het (evangelie), moet hulle volgens sy Tora lewe (wet) soos wat gesien kan word in Eksodus 20:1-17 (wat by Sinai na die uittog uit Egipte aan die volk gegee word). JHWH se Tora word nie aan Israel in Egipte gegee sodat elkeen wat voldoen aan die vereistes wat in die Tora gegee is, gered kan word nie. JHWH se "Tien Woorde" (nie "wet" nie) word gegee nadat die volk uit Egipte verlos is. "Wet" gaan dus nie die "evangelie" vooraf nie, maar volg op die evangelie in beide die Ou en Nuwe Testament. In plaas van 'n wet: evangelie-teenstelling is dit meer gepas om te praat van 'n evangelie: wetverband in beide die Ou en die Nuwe Testament. Wie die Ou Testament eensydig as wet verstaan met die evangelie as teenpool in die Nuwe Testament, laat nie reg geskied aan die Ou Testament nie. Die Ou Testament word vereng wanneer dit 'n boek van belofte gemaak word en die Nuwe Testament word eweneens vereng wanneer dit 'n boek van vervulling gemaak word. Die Ou Testament bevat veel meer as net beloftes en die Nuwe Testament is ook meer as net die vervulling van Ou Testamentiese beloftes. Die groot aantal modelle weerspieël egter ook iets van die ongemak en problematiese aard waarmee die verhouding tussen die testamente beleef is. Geen model kon werklik reg laat geskied aan die probleem van die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament nie. Dus, alhoewel daar geen twyfel is dat die Ou Testament saam met die Nuwe Testament die kanon van die kerk vorm nie, is nie een van die modelle om die verhouding tussen die twee testamente te verduidelik, geskik of bevredigend nie.

 

4. DIE OU TESTAMENT AS VERHOUDINGSBOEK WAT GOD BEKENDSTEL

Le Roux (1999:107) is dus reg as hy opmerk: "Terme soos belofte-vervulling, wet-evangelie, voorlopig-volledig, tydelik-permanent, ensovoorts pas óf nie meer nie óf dit moet afgeskaal word. Sulke begrippe is 'n enorme verskraling van die Ou Testamentiese werklikheid. Sulke terme het die Ou Testament oor die eeue tot 'n antieke boek verding." Brueggemann (1997:730) maak 'n soortgelyke opmerking: " none of these rubrics [belofte: vervulling, wet: evangelie, heilsgeskiedenis, tipologie - SDS] nor all of them together catch what is decisive in the Old Testament for the New Testament and for Christian faith." Die inhoud en boodskap van die Ou Testament mag nie opgelos word in die Nuwe Testament nie. Die Ou Testament mag nie gedegradeer word tot 'n tweedeklas kanon waardeur die stem van die Ou Testament tot stilte gesnoer word nie. Dit is 'n verskraling van die Ou Testament wanneer die Nuwe Testament die "kontrolepunt" vir die Ou Testament word.

'n Ander benadering is nodig. Die voorstel wat hier gemaak word, is om die Ou Testament as verhoudingsboek te lees waarin God Hom aan mense bekendstel. Dat die Ou Testament God bekendstel as die God wat in verhouding tree met mense is al voorheen raakgesien deur Ou Testamentici (Brueggemann 1997:413-490; Anderson 1999:3-4; Boda 2017:6). Wat nuut is in hierdie bydrae, is dat geargumenteer word dat die lens waardeur die Ou Testament as deel van die kanon van die kerk gelees word, die lens van verhoudings is. Die Ou Testament kan ook gelees word as 'n boek van verhoudings - die verskillende verhoudings waarin God tree en die verskillende verhoudings waarin mense tree.

Verhoudings is belangrik en het selfs belangriker geword die afgelope veertig jaar. In 'n toenemend sekulêre wêreld waarin God wat in verhouding tree met mense 'n vreemde gedagte is, is dit deurgaans die taal van die Ou (en Nuwe) Testament dat God 'n God is wat kies om in verhouding met mense te tree. Die mensdom beleef tans 'n pandemie waarin die aangewese weg om die pandemie te bekamp, is om sosiale afstand tussen mense te handhaaf - verkieslik minstens 'n meter en 'n half van mekaar. Die grendeltyd het die afstand tussen mense verder verskerp met vergaderings en byeenkomste soos eredienste wat via die internet gehou word. Mense het in 'n toenemende mate van die huis af gewerk. Die grendeltyd het die afstand tussen mense fisies en simbolies groter en groter gemaak. Daar het 'n afstand gekom tussen 'n mens en sy/haar naaste. Juis die noodgedwonge afstand wat mense moes handhaaf, het mense se behoefte aan verhoudings beklemtoon. Verhoudings tussen mense bly belangrik. Mense is sosiale of verhoudingswesens. Die belangrikheid van verhoudings word beklemtoon in 'n invloedryke boek van Jordan Peterson. Hy skryf in hierdie verband: "We cannot live without food, water, clean air, shelter. Less self-evidently, we require companionship, play, touch and intimacy" (Peterson 2021:33).

4.1 Die Ou Testament: God in verhouding met

God is sentraal in die Ou Testament. Brueggemann (1997:117) stel onomwonde aan die begin van sy aanbieding van sy teologie van die Ou Testament: "The primal subject of an Old Testament theology is of course God." Volgens Rendtorff (2005:1) in die eerste sin van sy aanbieding van die teologie van die Ou Testament sê dit duidelik dat die Ou Testament 'n teologiese boek is. Fischer (2012:13) verwoord die uitgangspunt ook in die eerste sin van sy teologie van die Ou Testament: "In der ganzen Bibel gibt es kein umfassenderes und bedeutenderes Thema als ihr Reden von Gott." Vir Boda (2017:6) is die kerndoel van teologie nadenke oor God.

In sy aanbieding van 'n teologie van die Ou Testament, onderskei Boda (2017) drie fundamentele belydenisse (creeds) in die Ou Testament waarvan die relasionele of verhoudingsmatige belydenis die derde belydenis is, naas die narratiewe en karaktermatige belydenisse (Eksodus 6:7; Levitikus 26:12; Deuteronomium 26:16-19; Jeremia 31:33). So belangrik is die aspek van God wat in verhouding tree dat Boda (2017:55) praat van God se "relasionele identiteit." Dat God die verhoudingsmatige God is, is deel van wie God is - dit is deel van sy identiteit.

4.1.1 God in verhouding met Israel as sy volk

Die verhouding van God met sy volk, Israel, is die mees fundamentele verhouding waarin God tree. Rendtorff (2005:442) praat in hierdie verband van God se spesiale verhouding met Israel. God se verhouding met sy volk word primêr beskryf in die Eksodus-gebeure (Eksodus 1-15) en die intog in die beloofde land (Josua 1-24).

Die uittog uit Egipte en die intog in die beloofde land vorm die raam vir Israel se omswerwinge in die woestyn (Eksodus 16-18; Numeri 10:11-Deuteronomium 3) en die sluiting van die verbond by Sinai (Eksodus 19:1-Numeri 10:10). Die aartsvaderverhale (Genesis 12-50) beantwoord die vraag hoe dit gebeur het dat die volk in Egipte beland het en nou die verdrukking van die Egiptiese farao moet verduur.

Dat God in verhouding tree met sy volk word uitgedruk met die term verbond, berit (תירב) in Hebreeus, 'n term wat 'n ooreenkoms of kontrak tussen twee partye uitdruk. So belangrik is die term verbond as uitdrukking van 'n verhouding tussen God en sy volk dat Eichrodt die term gebruik het as die een tema wat die sentrum van die Ou Testament vorm en wat die hele Ou Testament saambind in 'n eenheid. Negentig jaar na Eichrodt se teologie van die Ou Testament bly die tema van die verbond 'n belangrike tema in die wetenskaplike diskussie (Bautch & Knoppers 2015). Die term verbond is by uitstek 'n term wat 'n verhouding tussen partye uitdruk. Verbond as term verwys na 'n ooreenkoms tussen partye met wedersydse verpligtings (Boda 2017:59). Met 'n verbond word 'n reeds bestaande verhouding geformaliseer. Dit word duidelik geïllustreer in God se verhouding met Abraham as indiwidu waar God in Genesis 12 in 'n verhouding tree met Abraham maar die verhouding word eers later in Genesis 15 geformaliseer in 'n verbond. In terme van die volk Israel is God in verhouding met sy volk en word hulle uit Egipte verlos (Eksodus 1-15) terwyl die verbond met hulle geformaliseer word tydens die Sinaigebeure (Eksodus 19-24).

God se verhouding met sy volk word verder uitgedruk met die sogenaamde verbondsformule: "Ek sal vir julle 'n God wees en julle sal vir my 'n volk wees." Die eerste spore van die uitdrukking word alreeds in die Abrahamsverhale gevind waar 'n verbond met Abraham gesluit word en waar God onderneem om vir Abraham en sy nageslag 'n God te wees (Genesis 17). In Eksodus 6:6 word die tweekantigheid van die verbondsformule duideliker geformuleer: "Ek gaan julle as volk vir my neem en Ek sal vir julle 'n God wees." In Levitikus 26:12 word die verbondsformule weer gevind: "Ek sal vir julle 'n God wees en julle sal vir my 'n volk wees." Rendtorff (2005:443) wys daarop dat die Eksodus 6-teks en die Levitikus 26-teks in verband met mekaar staan en die twee groot heilsgebeure, naamlik die uittog en die Sinai-gebeure, saambind. Met die verbondsformule word die inhoud van die verbond saamgevat en opgesom. Later, in Jeremia 31, word die verbondsformule nogeens gevind - hierdie keer as uitdrukking van 'n nuwe verbond wat in die toekoms verwag word.

JHWH, die God van Israel, is 'n verhoudingsmatige God wat in verhouding tree met Israel sy volk. Telkens is dit God wat die inisiatief neem vir die verhouding en daarom is dit 'n verhouding wat tot stand kom tussen twee ongelyke partye. Dit is nooit Israel wat vra om in 'n verhouding met JHWH te tree nie; dit is Hy wat die inisiatief neem en in verhouding tree met Israel, 'n verhouding wat via 'n verbondsluiting vas en seker gemaak word.

4.1.2 God in verhouding met indiwidue

In 'n omgewing waar die korporatiewe identiteit van groepe en volke belangrik was, is God se verhouding met indiwidue merkwaardig. Daar is geen twyfel dat JHWH in verhouding tree met mense nie (Brueggemann 1997:491). Dit is byvoorbeeld opvallend dat soveel boeke in die Ou Testament die name van indiwidue dra. Dit is ook opvallend dat God telkens in verhouding tree met indiwidue soos Abraham, Isak, Jakob, Moses, Josua, verskillende rigters, die konings van Israel en Juda en die verskillende profete. Die Psalms is dikwels indiwiduele klaagpsalms waarin 'n indiwiduele gelowige sy/haar nood uitkreet teenoor God.

Juis in 'n tyd waarin die indiwidu in die gemeenskap beklemtoon word, is die aspek van God se verhouding met indiwidue ook belangrik. Tegelykertyd word die belangrikheid van die indiwidu gerelativeer deur die ander verhoudings waarin God met mense tree.

In die heel eerste hoofstuk van die Ou Testament word die verhaal van die skepping van die mens - ha-adam (םדאה) - vertel. Die mens word geskep as beeld van God (Genesis 1:27) wat onder andere inhou dat die mens God se verteenwoordiger op aarde sal wees. Om as beeld van God sy verteenwoordiger op aarde te wees, beteken onafwendbaar dat God en mens in verhouding met mekaar staan. Uit die tweede skeppingsverhaal (Genesis 2-3) is dit eweneens duidelik dat God in verhouding tree met die mens en sy helper, die vrou. God het immers die mens 'n lewende wese laat word deur die asem van lewe in sy neus in te blaas (Genesis 2:7). Brueggemann (1997:453) merk in hierdie verband op: "The human person has vitality as a living, empowered agent and creature only in relation to the God who faithfully gives breath. Thus the human person is to be understood in relational and not essentialist ways The human person is a person in relation to Yahweh, who lives in an intense mutuality with Yahweh."

Net soos wat God met sy volk in 'n verbondsverhouding tree, tree God met Abraham ook in 'n verbondsverhouding, soos gesien in Genesis 15 en 17, waarin die term berit (תירב) in beide hoofstukke prominent voorkom om die verhouding te beskryf. Soos wat die geval is met God se verbond met sy volk is Hy die inisieerder van die verbond. Dit is nie Israel of Abraham wat vra om in 'n verbondsverhouding met JHWH te tree nie; dit is JHWH wat die inisiatief neem om die verbond te sluit. Rendtorff (2005:438) maak die belangrike opmerking dat die begrip "verbond" (תירב) in die Ou Testament nooit in die meervoud voorkom nie. Die verbond met Abraham (as indiwidu) en die verbond met Israel (as volk) is dus een verbond soos wat inderdaad in Deuteronomium 7:12 gesuggereer word.

4.1.3 God in verhouding met ander volke

Dit is merkwaardig dat die Ou Testament nie begin met die geskiedenis van die verhouding tussen God en Israel nie. Die Ou Testament begin met 'n universele perspektief in Genesis 1-11 wat veel wyer strek as net die lotgevalle van 'n enkele volk. JHWH, die God van Israel, is dus universeel God. Die universele perspektief word in die res van die Ou Testament voortgesit. Die opkoms, regering en ondergang van die groot wêreldmagte van die Ou Testamentiese tyd (Egipte, Assirië, Babilonië, die Persiese Ryk) kom telkens ter sprake. Die vreemde volke is nie bestand teen God se mag nie en niks anders as instrumente in God se hand nie. Ten spyte van die mag van die Egiptiese farao word die volk tog verlos uit Egipte. Die profete voorsien die ondergang van die magtige Assiriese Ryk en uiteindelik gebeur dit. Die Babiloniese Ryk is in JHWH se diens om sy volk in ballingskap te laat gaan terwyl die Persiese heerskappy eweneens in God se hand is om die volk te laat terugkeer uit die ballingskap.

God se verhouding met ander volke is kompleks en selfs kontrasterend. God se verhouding met die vreemde nasies is nie eenvormig nie (Rendtorff 2005:675). Die vreemde volke word in die sterkste terme denkbaar veroordeel in profetiese uitsprake (Jesaja 13-23; Jeremia 46-51; Esegiël 25-32; Joël 3:1-17; Amos 1-2; Obadja 1:2-15; Nahum 2-3; Habakuk 2:5-20; Sefanja 2:4-15). Dit is die volke se vergrype teen mense wat in die visier is. Tegelykertyd en kontrasterend is daar die moontlikheid van verlossing en herstel wat vir die volke gestel word in so 'n mate dat die vreemde volke deel van die lof en gehoorsaamheid aan JHWH sal wees (Jesaja 2:2-5; Jona 1-4; Miga 4:1-5; Sefanja 3:9-10; Sagaria 2:15; Psalm 86:9-10, 102:22). Die tempel van Salomo word ingewy met die gebed dat ook vreemdelinge daar sal aanbid (I Konings 8:41-43). Israel is die instrument van JHWH in die wêreld om 'n seën vir die wêreld te wees (Brueggemann 1997:498). Dat die vreemde nasies sal deel in Israel se spesiale verhouding met God is 'n saak wat duidelik uitgedruk word in die Ou Testament (Rendtorff 2005:673). In 'n enigmatiese teks word die verlossing uit Egipte gerelativeer deur dit te vergelyk met ander migrasies van vreemde volke wat onder die beskikkende hand van JHWH gebeur het (Amos 9:7).

4.1.4 God in verhouding met die skepping

In elkeen van die drie dele van die Ou Testament word uitsprake oor God as Skepper gemaak. Volgens Rendtorff (2005:418) word daar in al die dele van die Ou Testament 'n byna ontelbare hoeveelheid verwysings na en toespelings op die skepping gemaak. In die eerste deel van die Ou Testament (die Tora) is Genesis 1-11 die voor die hand liggende deel. God skep die skepping en is as sodanig betrokke by sy skepping. Selfs wanneer die mens as die skepping van God hom teleurstel, bly die verhouding tussen God en mens ongeskonde. God gee sy verhouding met die skepping ook nie prys nie. Die sondvloed vernietig nie die skepping nie en na die sondvloed is daar 'n nuwe begin. In die tweede deel van die Ou Testament (die Profete) kom die skepping eweneens gereeld ter sprake. In die boek Amos is die skeppingsdoksologieë (Amos 4:13; 5:8-9; 9:5-6) bekend en in Jesaja 40-66 word God as Skepper opnuut beklemtoon. In die derde deel van die Ou Testament (die Geskrifte) is die skepping ook ter sprake. In Psalms is daar 'n hele aantal Psalms wat as Skeppingspsalms bekend is (Psalms 8, 19, 104, 148). In Spreuke 8 word Wysheid verpersoonlik as die een wat aktief betrokke was by die skepping.

4.2 Die Ou Testament: Mens(e) in verhouding met

Die term verbond het nie net betrekking op God in verhouding met sy volk nie. Verbond het ook te doen met die mens in sy/haar verhouding met God. Die term verbond is dus 'n bilaterale ooreenkoms waarin ondernemings van God teenoor die volk en ondernemings van die volk teenoor God vasgestel word. Dit is insiggewend dat God 'n verbondsverhouding sluit met sy volk by Sinai (Eksodus 19), maar dat Hy ook 'n verbond sluit met 'n indiwidu in die persoon van Abraham (Genesis 15 en 17). Die verbond wat met Noag en sy seuns gesluit word, is 'n verbond wat met indiwidue en nie 'n volk gesluit word nie (Genesis 9:8-17).

4.2.1 Die mens in verhouding met God

Dit is God wat die mens geskep het en as sodanig met die mens in verhouding tree. Van die mens word gehoorsaamheid aan God verwag. Gehoorsaamheid aan die voorwaardes wat God stel in die verhouding tussen God en mens hou die verhouding in stand. Indiwiduele Israeliete leef in 'n verhouding met God. Die talle offers wat in die Pentateug beskryf word wat maatreëls bevat vir indiwidue om hulle verhouding met God te herstel, is 'n prominente aanduiding van hoe belangrik die indiwidu is.

Dit is veral die koning as indiwidu wat in 'n besondere verhouding van vader: seun met God staan (II Samuel 7:14; Psalm 2:7). Die metafoor van vader: seun om die noue verhouding tussen God en koning mee te beskryf, is belangrik. Die vader: seunmetafoor is 'n familiemetafoor wat die verhouding tussen vader en seun gebruik om die hegte verhouding tussen God as vader en die koning as seun mee uit te druk.

Telkens in verskillende dele van die Ou Testament is dit duidelik dat die mens se verhouding met God nie probleemloos verloop nie. Ongehoorsaamheid aan God en 'n onvermoë om Hom te vertrou deur eerder vertroue in ander gode te plaas, het die verhouding tussen God en mens voortdurend vertroebel. Die Deuteronomistiese Geskiedswerk (Josua, Rigters, I, II Samuel en I, II Konings) vertel die verhaal van die volk se voortdurende ontrou en JHWH, die Verbondsgod, se voortdurende getrouheid om telkens die verhouding tussen Hom en sy volk te herstel. Die profete stel ook telkens die ontrouheid van die volk bloot met die moontlikheid van herstel wat aangebied word. Die verhouding word herstel deur skuldbelydenis waarop vergiffenis van God se kant af volg (Psalm 32).

Die gelowige mens het God egter ook soms beleef as ver, stil, selfs afwesig (Psalm 22), onbetrokke en hierop word gereageer met klag en 'n uitroep na God om tog te hoor. Wanneer die verhouding herstel is deur vergiffenis of God se verhoring van die klag en uitroep na Hom, is danksegging en lof aan God die antwoord van die mens. Die boek Job is 'n uitdrukking van hoe uiters problematies die verhouding tussen mens en God kan wees. Vir Job is God se behandeling van hom as vroom en toegewyde gelowige volledig onaanvaarbaar en Job 3 tot Job 42:6 kan beskryf word as 'n gelowige se protes teen God.

Mense se verhouding met God word dus geteken tussen die pole van liefde en vertroue, aan die een kant, en uiterste verwydering en afstand, aan die ander kant. Hierdie twee pole word verpersoonlik in Abraham, die gehoorsame gelowige, en Job, die protesterende gelowige. Abraham is die twyfelende gelowige wie se geloof telkens versterk moet word, maar wat uiteindelik die toets van gehoorsaamheid teen elke prys slaag (Genesis 22). Job is die vroom gelowige wat dit tog waag om fel teen God te protesteer en uiteindelik word hy in die gelyk gestel (Job 42).

4.2.2 Die mens in verhouding met mense

Vroeg reeds in die Ou Testament word gesê dat dit nie goed is vir die mens om alleen te wees nie. Om mens te wees is om in verhouding met ander mense te leef. Menseverhoudinge is egter kompleks en 'n versteuring in menseverhoudings word ewe gou vroeg in die Ou Testament vermeld. Die man gee die vrou die skuld vir die eet van die verbode vrug (Genesis 3:12) en die moord van 'n broer op 'n broer is tekenend van menseverhoudings wat drasties skeef kan loop (Genesis 4:1-16).

Dit is opvallend dat ses van die Tien Gebooie oor menseverhoudinge handel. Die tweedepersoon manlike enkelvoudsvorme wat telkens gebruik word, maak dit duidelik dat die sogenaamde tweede tafel van die Tien Gebooie daarop gemik is om menseverhoudings op indiwiduele vlak te reël. Talle praktyke wat in die res van die Tora voorgeskryf word, is gerig op die herstel en in stand hou van goeie menseverhoudings op indiwiduele vlak. In Levitikus 19:11-18 kulmineer die riglyne vir goeie menseverhoudings in die sin: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself" (Levitikus 19:18).

Wat God van mense in verhouding met mense verwag is dat reg en geregtigheid sal geskied. Ongeregtigheid wat deur mense aan mense gedoen word, is 'n deurlopende tema in die profetiese literatuur van die Ou Testament. Miga 6:8 is hier belangrik: "Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die HERE van jou as net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop" (2020-Afrikaanse vertaling).

Die wysheidsliteratuur in die Ou Testament wat riglyne gee aan mense om suksesvol in te skakel by die orde van die skepping handel in belangrike opsigte oor die verhouding tussen mense. Spanning in menseverhoudings versteur die orde en daarom is wysheid nodig om met insig goeie menseverhoudings te handhaaf.

4.2.3 Die mens in verhouding met vreemde mense

Die indiwidu se verhouding met die ander mense buite die familie en volksverband kry ook prominente aandag in die Tora. Israel word telkens vermaan dat hulle in gedagte moet hou dat hulle op 'n stadium vreemdelinge was woonagtig in 'n vreemde land en dat hulle in hierdie verband 'n verpligting het teenoor die vreemdelinge met wie hulle in aanraking kom in die beloofde land (Levitikus 25:33; I Kronieke 29:15). Onishi (2017:12) merk op dat die Hebreeuse term vir vreemdeling (רג) in die boek Deuteronomium altyd gebruik word in die konteks van 'n menslike benadering wat gevolg moet word in die behandeling van die vreemdeling. Horner (1960:52) kom tot die gevolgtrekking dat die vreemdeling (רג) hoe langer hoe meer in die gemeenskap van die volk opgeneem word totdat daar uiteindelik geen onderskeid gemaak word tussen die vreemdeling en die Israeliet in terme van regte en voorregte nie. In die boek Rut word die verhaal vertel van 'n Moabitiese weduwee wat probleemloos opgeneem word in die volk Israel en wat 'n voormoeder word van die groot koning Dawid. Die boek Jona is die verhaal van 'n profeet wat na die hoofstad van die gevreesde Assiriese Ryk gestuur word en teen die oortuiging en verwagting van die profeet in, bekeer die inwoners van die stad hulle tot JHWH.

4.2.4 Die mens in verhouding met die skepping

Die Ou Testament begin met die verhaal van die mens in sy verhouding tot die skepping. Die mens in die Ou Testament is maar te bewus daarvan dat bestaan nie moontlik is sonder dat die aarde sy opbrengs gee nie (Joël 1:2-14; Amos 4:6-11). Die mens is dus afhanklik van die skepping vir sy eie voortbestaan. Om 'n oes van die land af te haal, was belangrik en daarom is oesfeeste gevier. Daar is ook vooruitgekyk na 'n tyd waarin die bedreiging wat die skepping vir die mens inhou, verby sal wees en daar vrede tussen mens en skepping sal wees (Jesaja 11:6-9).

4.3 Die Ou Testament in verhouding met die Nuwe Testament

Jesus se koms het as doel gehad die herstel van mense se verhouding met God. Jesus self is die toonbeeld in woord en daad van God se versoenende handeling met die mens. Die sentrale gebod van die liefde uit die mond van Jesus is 'n aanhaling uit die boek Levitikus. Jesus bevestig dus die belangrikheid van menseverhoudings wat alreeds in die Ou Testament prominent beklemtoon word. Daar is dus 'n bepaalde kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Testament wat betref die aksent op verhoudings.

 

5. DIE POSISIE VAN DIE OU TESTAMENT IN DIE KANON

Die posisie van die Ou Testament in die kanon is belangrik. Die Ou Testament word nie agter die Nuwe Testament geplaas as 'n addendum wat vir naslaandoeleindes gebruik kan word nie. Die Ou Testament gaan die Nuwe Testament vooraf.

Dit is ook opmerklik dat die vroeë Christene die teks van die Ou Testament gerespekteer het as Ou-Testamentiese teks en nie byvoorbeeld tekste wat Messiaans geïnterpreteer kan word, verander het om dit onteenseglik en eksklusief op Jesus te laat dui nie. Anders gesê, die Ou Testament is nie verchristelik nie (Zenger 2008:13).

Dit is ook opmerklik dat die vroeë kerk die Ou Testament volledig as Ou Testament behou het. Daar is nie 'n verkleinde kanon van die Ou Testament opnuut saamgestel nie. Die volledige kanon van Ou Testamentiese geskrifte het deel van die kanon van die Christelike kerk geword. Daar is ook geen Christelike kommentaar bygevoeg by Ou Testamentiese tekste nie, wat vir Childs (1992:75-78) die bevestiging is van die voortdurende integriteit van die Ou Testament wat "op sy eie terme" gehoor moet word.

 

6. GEVOLGTREKKING

Van Rooy (2020) is korrek in sy gevolgtrekking dat 'n alternatiewe uitgawe van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans waar figure en karakters in die Ou Testament met hoofletters aangedui word om Jesus as die beloofde Messias as 't ware terug te lees in die Ou Testament, onnodig is. Om die Ou Testament so te interpreteer beteken om die teologiese boodskap van die Ou Testament te vereng. Die Ou Testament is ryk aan teologiese insigte en bied veel meer as om slegs 'n voorspellingsboek van Jesus Christus te wees.

Om die Ou Testament te lees as verhoudingsboek open 'n ruimer visie om die Ou Testament ernstig op te neem as deel van God se openbaring aan mense met fundamentele riglyne vir gelowiges van hoe om hulle lewens sinvol in te rig.

 

BIBLIOGRAFIE

Anderson, BW. 1999. Contours of Old Testament theology. Minneapolis: Fortress.         [ Links ]

Ausloos, H & Lemmelijn, B. 2005. De bijbel: een (g)oude(n) gids: Bijbelse antwoorden op menslike vragen. Leuven: Acco.         [ Links ]

Baker, DL. 1992. Two testaments, one Bible: A study of the theological relationship between the Old & New Testaments (Revised edition). Downers Grove: InterVarsity Press.         [ Links ]

Bautch, RJ & Knoppers, GN (eds). 2015. Covenant in the Persian Period: From Genesis to Chronicles. Winona LakeEisenbrauns.         [ Links ]

Boda, MJ. 2017. The heartbeat of Old Testament theology: Three creedal expressions. Grand Rapids Baker Academic.         [ Links ]

Bright, J. 1977. The authority of the Old Testament. Grand Rapids: Baker Book House.         [ Links ]

Brueggemann, W. 1997. Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy. MinneapolisFortress.         [ Links ]

Bultmann, R. 1963. The significance of the Old Testament for the Christian faith. In Anderson (ed.). The Old Testament and Christian faith: A theological discussion. New York: Harper & Row, pp. 8-35.         [ Links ]

Bultmann, R. 1979. Prophecy and fulfillment. In Westermann (ed.). Essays on Old Testament hermeneutics. Atlanta John Knox, pp. 50-75.         [ Links ]

Childs, BS. 1992. Biblical theology of the Old and New Testaments: Theological reflection on the Christian Bible. London: SCM.         [ Links ]

Fischer, G. 2012. Theologien des Alten Testaments. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk.         [ Links ]

Frör, K. 1968. Wege zur Schriftauslegung: Biblische Hermeneutik für Unterricht und Predigt (Dritte überarbeitete Auflage). Düsseldorf: Patmos.         [ Links ]

Greidanus, S. 1999. Preaching Christ from the Old Testament: A contemporary hermeneutical method. Grand: Eerdmans.         [ Links ]

Gunneweg, AHJ. 1978. Understanding the Old Testament. London: SCM.         [ Links ]

Horner, TM. 1960. Changing concepts of the stranger in the Old Testament. Anglican Theological Review, 42:49-53.         [ Links ]

Le Roux, J. 1999. Hoe eindig die Ou Testament? (of: Het die Ou Testament die Nuwe Testament nodig?) Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 40(1&2):100-109.         [ Links ]

Onishi, Y. 2017. Embrace the foreigner: The רג in the Pentateuchal Law. Ongepubliseerde MTh-verhandeling: Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Peterson, JB. 2021. Beyond order: 12 more rules for life. New York: Portfolio Penquin.         [ Links ]

Preuss, HD. 1984. Das Alte Testament in Christlicher Predigt. Stuttgart: Kohlhammer.         [ Links ]

Rendtorff, R. 2005. The canonical Hebrew Bible: A Theology of the Old Testament. Leiden: Deo Publishing.         [ Links ]

Schreiner, J. 1999. Das Alte Testament verstehen (Neue Echter Bibel 4). Würzburg: Echter Verlag.         [ Links ]

Snyman, SD. 2002. Die verstaan en funksie van die Ou Testament in die kerk (of: Het die kerk die Ou Testament nodig?) Deel I. Acta Theologica, 22(2):126-146.         [ Links ]

Van Rooy, H. 2020. Die Ou Testament in die 2020-vertaling: Enkele netelige kwessies. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1):929-945.         [ Links ]

Westermann, C (ed.). 1979. Essays on Old Testament hermeneutics. Atlanta: John Knox.         [ Links ]

Zenger, E (red.). 2008. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: Kohlhammer.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2021-04-29
Goedgekeur: 2021-07-20
Gepubliseer: September 2021

 

 

 

FANIE (SD) SNYMAN studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria. Ná die voltooiing van sy studies word hy 'n predikant in die NG Kerk Nelspruit-Suid in 1981. Hy word aangestel as senior lektor in Ou Testament aan die Universiteit van die Vrystaat aan die begin van 1984. In 1985 behaal hy die DD-graad aan die Universiteit van Pretoria. Hy word eventueel bevorder tot professor en dien as dekaan van die fakulteit Teologie & Religie aan die Universiteit van die Vrystaat van 2013-2019. Hy is outeur van talle artikels wat in akademiese joernale plaaslik sowel as internasionaal gepubliseer word. Hy is bekend vir sy navorsing op veral die Boek van die Twaalf en wat inter alia uitgeloop het op die publikasie van 'n kommentaar op Maleagi (2015) en die boeke Nahum, Habakuk en Sefanja (2020).
FANIE (SD) SNYMAN studied theology at the University of Pretoria and after completing his theological studies entered the ministry to become a minister in the Dutch Reformed Church Nelspruit-South in 1981. He was appointed as senior lecturer in Old Testament at the University of the Free State at the beginning of 1984. He obtained the DD-degree from the University of Pretoria in 1985. He was eventually promoted to professor and served from 2013-2019 as dean of the faculty of Theology & Religion at the University of the Free State. He authored numerous articles in academic journals both locally and abroad. He is known for his research on especially the Book of the Twelve that resulted inter alia in a commentary of the book of Malachi (2015) and on the books of Nahum, Habakkuk and Zephaniah (2020).
Fanie Snyman
1 Die probleem van die Ou Testament gaan verder as net die naspeur van veronderstelde heenwysings na en voorspellings van Christus. Hedendaagse lesers van die Bybel is ongemaklik met die tonele, beskrywings en selfs die goddelike goedkeuring van geweld in die Ou Testament. In 'n tyd waarin anders gedink word oor vroue is die ondergeskikte rol wat vroue speel in die Ou Testament gewoon net onaanvaarbaar vir baie hedendaagse lesers van die Ou Testament.
2 Om hierdie "eintlik onmoontlike" taak te verrig, kies ek hoofsaaklik as gespreksgenote vir Brueggemann (1997) as Amerikaanse Ou Testamentikus, Rendtorff (2005) as Duitse Ou Testamentikus en Boda (2017) as Kanadese Ou Testamentikus.
3 Vir 'n meer gedetailleerde oorsig, vergelyk die werk van Baker (1992).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons