SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue2Plume seed blown further: Reimagining Van Wyk Louw in a Catholic contextNP van Wyk Louw: To walk in the shoes of the great ... author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 n.2 Pretoria Jun. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n2a15 

BOEKBESPREKING BOOK REVIEW

 

The Opportunist. The political life of Oswald Pirow, 1915-1959

 

 

Anton Ehlers

Departement Geskiedenis Universiteit Stellenbosch April 2021 E-pos: aehl@sun.ac.za

 

 

Outeur: FA Mouton
Uitgewer: Protea Boekhuis, Pretoria, 2020.

Mouton is 'n deurwinterde akademikus wat as professor in Geskiedenis by die Universiteit van Suid-Afrika fokus op die doseer van moderne Suid-Afrikaanse geskiedenis met 'n spesifieke liefde vir politieke geskiedenis. As gesoute biograaf het hy reeds studies oor Margaret en William Ballanger, Schalk Pienaar, FS Malan en die leiers van die amptelike parlementêre opposisie in die vorige bedeling die lig laat sien. In sy nuutste projek laat hy sy biografiese lig skyn op Oswald Pirow, 'n figuur wat as 'n historiografiese stiefkind beskou kan word en in die populêre geheue meesal slegs met beelde van die Nuwe Orde (NO) van die veertigerjare van die vorige eeu geassosieer word. Hoewel Pirow 'n staanplek gegun is in volume vyf van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek bestaan daar benewens hierdie kort biografiese skets deur JJJ Scholtz asook Piet Meiring se biografiese skets in Tien politieke leiers en Noel Garson se essay in die Oxford dictionary of national biography geen volledige biografie van Pirow nie. Sy betrokkenheid in die Suid-Afrikaanse politiek word dus meesal gevind in biografieë oor ander politieke leiers, soos onder andere sy eie poging tot 'n biografie oor JBM Hertzog of in werke oor die nasionaal-sosialisme. Mouton erken dat hy aanvanklik na sy eerste akademiese kennismaking met Pirow as die Minister van Justisie tydens sy navorsing oor die Durbanse Biersaalonluste van 1929, asook Pirow se latere verbintenis met die Nuwe Orde, van mening was dat laasgenoemde die historiografiese stilte oor hom verdien. 'n Onlangse navraag deur een van sy kollegas vir biografiese besonderhede oor Pirow het daartoe gelei dat hy hom toenemend as 'n fassinerende en prikkelende persoonlikheid beleef het. Hierdie Damaskus-ervaring oor Pirow het uiteindelik aanleiding gegee tot 'n biografiese studie oor sy politieke lewe. Uit Mouton se waarnemings is dit duidelik dat 'n moontlike verklaring vir die gaping in die historiografie oor Pirow die afwesigheid van 'n argief ryk aan korrespondensie en ander kerndokumentasie vir 'n biografie was. Pirow se doelbewuste pogings om nie 'n papierspoor te laat of sy gedagtes op skrif te stel nie, was grootliks hiervoor verantwoordelik. Die feit dat Mouton ten spyte hiervan deurgedruk het met 'n biografie is miskien 'n aanduiding van die Pirow-charisma en die mate waartoe dit Mouton vir 'n biografiese studie kon "kaap".

Mouton ontsluit Pirow se politieke loopbaan in 16 kort kronologiese hoofstukke met kernagtige titels wat die essensie van die hoofstukke verwoord. Hoofstuk een, wat die periode 1890-1924 dek, belig sy Duitse herkoms en wortels en hoe hy hom as buitestander as regsgeleerde in sy beroep vestig en respek afdwing met sy talent sonder om juis geliefd te wees onder sy kollegas. Sy vroeë tree in die politieke wêreld word belig en hoe sy groeiende assosiasie en vriendskap met Tielman Roos 'n belangrike gebeurtenis in beide sy sukses in sy beroep en sy politieke lewe word. Sy verkiesing as parlementslid vir die Nasionale Party (NP) in 1924 laat reeds die eerste opdrifsels van sy politieke styl in sy vaarwater agter - gebelgde, verbitterde opponente met 'n Pirow-appeltjie te skil.

Hoofstuk twee fokus op Pirow se periode as agterbanker in die parlement vanaf 1924 tot sy aanstelling as Minister van Justisie na die 1929-verkiesing. Hoewel Pirow sy periode as agterbanker aanvanklik met 'n knal begin wat tot voorspellings van 'n rooskleurige politieke loopbaan vir hom gelei het, het Pirow met sy rustelose aard die rol van agterbanker spoedig vervelig gevind met die gevolg dat hy meer aandag aan sy regspraktyk as sy kiesafdeling geskenk het. Sy assosiasie met Roos as sy mentor het hom in sake soos die Vlagkwessie in botsing gebring met DF Malan en sy ondersteuningsbasis in die Burger, wat hom vorentoe suur sou bekom. Pirow se opportunisme kom onder die loep met sy glyjakkals-standpunt oor republikanisme en sy versaking van Roos en omarming van Hertzog as nuwe dinamo vir sy politieke ambisies.

In die derde hoofstuk vorm die depressie, koalisie en samesmelting en Pirow se hantering van sy ministeriële verantwoordelikhede die agtergrond van pogings om sy groeiende reputasie uit te bou en te bevorder. In die proses is hy by geleentheid as die grootste Suid-Afrikaner van sy generasie bestempel. Sy kragdadige toepassing van wet en orde veral teen swart weerstand, sy pogings tot liberalisering van drankverkope en sy benadering tot die depressie en die politieke herskikking in die vorm van koalisie het hom by geleentheid die argwaan van beide liberale en konserwatiewe rolspelers op die hals gehaal. In die geledere van sy eie party sou sy vervreemding van persone soos JG Strijdom, NJ van der Merwe en selfs sy suster Sylvia Moerdyk (voorsitter van die NP in Transvaal) die grootste invloed op sy toekomstige politieke ambisies hê. Sy rol as teenvoeter vir Roos, sy voormalige mentor, se politieke ambisies in hierdie periode sou veral argwaan wek. Vir Pirow self sou die periode egter op 'n hoogtepunt eindig met sy aanstelling as Minister van Spoorweë en Hawens asook Verdediging in Hertzog se koalisiekabinet.

In die periode van koalisie tot samesmelting het Hertzog toenemend op Pirow gesteun om sy beleid te implementeer veral met die deurvoer van die Statuswette om Suid-Afrika se konstitusionele onafhanklikheid van Brittanje te bevestig. Te midde hiervan het Pirow aan die werk gespring om as Minister van Spoorweë en Hawens Suid-Afrika se vervoerstelsels te moderniseer en as Minister van Verdediging die Unieverdedigingsmag te vernuwe en uit te bou. Hoewel dit nie sonder kritiek geskied het nie, het die sukses wat hy behaal het saam met sy eie pogings om sy beeld onder veral voormalige LV's van die Suid-Afrikaanse Party te poets, hom sterk na vore laat tree as 'n potensiële opvolger vir Hertzog as eerste minister. In die proses het hy sy veelkantige persoonlikheid geplooi om sy gehoor te pas en sy politieke ambisies te verwerklik.

In die vaarwater van samesmelting het die kwessie van die Unie se posisie in 'n moontlike Europese stryd waarby Brittanje betrokke kon raak debatte oorheers te midde van Pirow se pogings om die Unieverdedigingsmag se wapentuig te vernuwe met aankope vanuit Brittanje. Sy pogings het onder andere 'n besoek aan Brittanje in 1936 ingesluit. Sy kroonprinsstatus as Hertzog se opvolger is hierdeur versterk in veral Britse kringe. In NP-geledere het Pirow se optrede binne en buite die parlement hom egter toenemend die gramskap van die party en sy leiers op die hals gehaal.

In hoofstuk ses word Pirow as 'n "gladiator" getipeer. Terwyl hy byna obsessief poog om die Unieverdedigingsmag te moderniseer, veg hy ook in die 1938-verkiesing. Hoewel op die toppunt van sy gewildheid in die Verenigde Party (VP) moet hy hom aan verskeie kante verdedig: teen beskuldigings van die Dominium Party dat hy te veel simpatie sou hê vir die republikeinsgesindes en te pro-Duits is en vanuit NP-geledere dat hy 'n Britse imperialis is, die vyand van Afrikaners in die SA Spoorweë en Hawens is, nie gemengde huwelike wil veroordeel nie en die ou refrein dat hy nie 'n ware Afrikaner is nie. Die genadeloosheid waarmee hy onder sy opponente inklim en hulle deur sy welsprekendheid en uitsonderlike vermoë as debatteerder tot oorgawe dwing, verhoog sy gewildheid in sy eie party, maar vermeerder ook sy geswore vyande.

In die laaste maande van 1938 onderneem Pirow 'n Europese toer onder die voorwendsel om wapenaankope met Brittanje en handel met Duitsland en Italië te bespreek. Die diplomatieke reis neem egter die vorm van `n vredesending aan waarin Pirow probeer bemiddel tussen hoofsaaklik Brittanje en Duitsland om die toenemende spanning in Europa te ontlont. Tydens die sending ontmoet hy onder andere vir Franco, Salazar, Leopold III, Chamberlain, Hitler en Mussolini en vorm moontlike oplossings vir die Joodse kwessie en die terughandiging van vroeëre koloniale gebiede aan Duitsland deel van sy pogings om Anglo-Duitse spanning te ontlont. Hoewel hy nie oral ewe welkom was nie en sy besoek in terme van diplomasie weinig bereik het, het die feit dat hy deurgaans soos 'n staatshoof ontvang is, sy beeld in Suid-Afrika as 'n moontlike toekomstige eerste minister versterk. Hierdie hoofstuk bied interessante perspektiewe op hoe Pirow deur sy gashere ervaar is en Mouton dui behendig aan hoe Pirow weergawes van sy reis aangepas het in veral latere weergawes daarvan om homself in 'n positiewe lig te stel of andersins om byltjies te slyp met sy vyande.

Hoofstuk agt wat die maande in 1939 voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog dek, fokus hoofsaaklik op Pirow se terugvoering oor sy oorsese besoek en sy pogings om die Unieverdedigingsmag se gevegsgereedheid verder uit te bou beide in terme van wapentuig en mannekrag. Hoewel die opposisie die inisiatiewe vir politieke munt probeer uitbuit het, was die algemene persepsie dat Pirow as Minister van Verdediging vir `n renaissance van die Verdedigingsmag verantwoordelik was in die periode 1933-1939. Sy ingebruikneming van die sogenaamde "bush carts" wat deur osse getrek word en vir die Afrika-terrein ontwikkel is, sou egter later deur sy opponente gebruik word om hom te kasty en hoon. Pirow se verwagting was egter steeds dat Suid-Afrika se neutraliteit in 'n moontlike Europese oorlog aanvanklik gehandhaaf sou word en dat dit ten minste ses maande sou duur nadat vyandelikhede begin het voordat Suid-Afrika 'n besluit sou neem om tot 'n oorlog teen Duitsland toe te tree.

Die fokus van hoofstuk nege is die bekende gebeure oor die breuk in die VP-kabinet oor Hertzog se neutraliteitstandpunt en die parlementêre debat wat dit tot gevolg gehad het, sowel as die daaropvolgende vorming van 'n regering deur Smuts. Pirow is platgeslaan gelaat deur die verwikkelinge wat hom oornag van 'n potensiële toekomstige eerste minster tot 'n parlementêre agterbanker gereduseer het en hom gedwing het om na die Balie in Pretoria terug te keer om sy inkomste aan te vul. Die gebeure het ook Pirow se vermoë om sy seile na die wind te span, gedemonstreer toe hy oornag ontpop het in 'n vurige republikein in sy pogings om sy verbrande brûe met sy voormalige NP-kollegas te herstel. Strijdom, Verwoerd, Sauer en Van der Merwe sou egter vyande bly. Pirow as die toenemende leiersfiguur van die Hertzogvolgelinge se rol in die stigting van die Volksparty en die daaropvolgende Herenigde Nasionale Party of Volksparty word ook belig.

Hoofstuk tien handel oor Pirow se terugkeer na 'n parlement met 'n geheel en al herskikte partypolitieke voorkoms. Van sy belangrikste voormalige bondgenote en vriende was nou in Smuts se kabinet, terwyl hy homself in 'n party bevind het met sy belangrikste voormalige politieke vyande. Dit het hom kwesbaar gemaak vir aanvalle uit die regerende party, met min beskerming uit die geledere van sy partygenote. Mouton verhaal in detail hoe Pirow veral deur Smuts se aanvalle op sy tekortkominge as Minister van Verdediging omskep word van 'n gerespekteerde en gevreesde politikus tot 'n voorwerp van bespotting. Pirow se ondersteuning van neutraliteit is as 'n vertrouensbreuk en voorbeeld van sy politieke opportunisme getipeer en hy is ook geblameer vir die onbevoegde toestand waarin die Unieverdedigingsmag verkeer het met die uitbreek van die oorlog in 1939. In die proses is Pirow se parlementêre status vernietig, is hy van sy selfvertroue gestroop en gereduseer tot 'n randfiguur in die parlement en sy eie HNP-koukus - sy pogings om homself te verdedig ten spyt. Met die lees van dié hoofstuk kon ek myself nie keer om by tye Pirow werklik jammer te kry en te dink aan die uitdrukking dat politiek 'n bloedsport is nie.

Hoofstuk elf handel oor Pirow se stigting van die Nuwe Orde (NO) as 'n fascistiese en antisemitiese studiegroep binne die HNP, wat 'n oplossing moes bied vir die oënskynlik verbrokkelende liberaal-demokratiese kapitalistiese bedeling onder die aanslag van 'n onstuitbare Nazi Duitsland. Mouton dui oortuigend aan hoe die stigting van die NO 'n verdere voorbeeld was van Pirow se gevestigde taktiek van politieke opportunisme en die span van sy seile na heersende politieke winde. In 'n poging om vir hom 'n magsbasis binne die HNP te vestig, omarm hy die nasionaal-sosialisme en antisemitisme en verwed sy politieke toekoms op 'n militêre oorwinning deur Nazi Duitsland in Europa - 'n scenario wat in 1940 baie waarskynlik voorgekom het. Hierdie hoofstuk dui aan dat terwyl die HNP-leierskap Pirow se nuwe rigting afgekeur het en as gevaar vir die HNP beskou het sy denkrigtings onrusbarend baie ondersteuning van die breër publiek ontvang het.

Die momentum van Pirow en sy NO en die steun wat dit van die Ossewabrandwag (OB) gekry het ná Hans van Rensburg tot OB-leier verkies is, het toenemend deur die loop van 1941 die wind van voor gekry. Hoofstuk twaalf beskryf die proses waardeur eers die Afrikaanse kerke hul afkeur in nasionaal-sosialisme as heidense en volksvreemde ideologie verklaar het, gevolg deur pogings van die HNP om Pirow en sy NO-volgelinge uit leiersposisies in die party te weer. Malan se verwerping van die NO en sy beginsels in Augustus 1941 het Pirow se marginalisering binne die party voltrek.

Hoofstuk dertien behandel die totale inploffing van Pirow se politieke invloed, wêreld en sy NO. Pirow se mislukte pogings om uit die HNP geskors te word, lei tot sy onttrekking van die HNP-koukus. Die OB se distansiëring van enige affiliasie met die NO verswak verder sy posisie. In Januarie 1941 bedank die NO-parlementslede uit die HNP en word hulle parlementslede sonder enige noemenswaardige grondvlakondersteuning. Pirow se politieke isolasie word verder voltrek met die dood van Hertzog in November 1942. In Europa draai die gety teen begin 1943 teen Duitsland en kondig die NO aan dat hulle nie aan die 1943-verkiesing gaan deelneem nie en bestaan die NO vir alle praktiese doeleindes net in naam.

In die periode 1944-1948 wat in hoofstuk veertien aan die bod kom, skets Mouton Pirow se pogings om sy regspraktyk weer op die been te bring, maar konsentreer veral op sy desperate pogings om verlore politieke aansien te herwin en homself vir 'n politieke terugkeer te posisioneer. Sy toenadering tot die HNP word egter deurlopend deur Malan geïgnoreer. Pirow neem 'n sterk antikommunistiese standpunt in en handhaaf sy anti-Joodse standpunte. Malan se ooreenkoms met Havenga en sy Afrikanerparty om in die 1948-verkiesing saam te span, vernietig egter enige hoop wat Pirow gekoester het op 'n politieke terugkeer. Sy pogings om 'n politieke terugkeer te bewerkstellig, sluit onder andere 'n inisiatief in om met Sir Oswald Mosley van Brittanje gemeenskaplike gronde te vind vir 'n kruistog teen kommunisme. Sy besoek aan Mosley in Brittanje lewer nie die resultate op waarvoor hy gehoop het nie, terwyl dit plaaslik in Suid-Afrika sy teenstanders verdere skietgoed gee om van hom 'n figuur van bespotting te maak. Die HNP se oorwinning in Mei 1948 pluk finaal die politieke mat onder sy voete uit en vernietig enige hoop om onder sy antikommunistiese vaandel 'n terugkeer tot die politiek in 'n VP-beheerde Suid-Afrika te maak.

In hoofstuk vyftien behandel Mouton die periode 1948-1956, wat aangebied word as 'n tydperk waarin Pirow se reputasie ten minste ten dele gerehabiliteer word. Hoewel hy in die openbaar aangedui het dat hy nie belangstel in 'n terugkeer na die politiek nie, het hy heimlik steeds die verwagting gekoester dat hy 'n terugkeer sou kon maak - aanvanklik binne die HNP, maar later as die leier van die konserwatiewe deel van die Suid-Afrikaanse wit Engelssprekende bevolking. Ten spyte van positiewe blootstelling in die Engelse pers, veral na aanleiding van sy voorgestelde Pan-Afrika apartheid-oplossings vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika, het die verwagtinge nie gerealiseer nie. Teen einde 1956 was dit vir Pirow duidelik dat sy drome om na die openbare lewe terug te keer nie sou realiseer nie. Gedurende hierdie tydperk sonder hy hom toenemend op sy plaas in die Graskop-omgewing af en ontpop in 'n skrywer met die publikasie van verskeie boeke met onder andere die opvattings en gebruike van swartmense, veral Shangaans, as tema.

Volgens Mouton was al uitweg vir Pirow om steeds voort te gaan om sy reputasie te verdedig en sy plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te verseker. Hoofstuk sestien wat die jare 1957-1959 bestryk, verhaal hierdie pogings. Eerstens sy besluit om 'n biografie oor Hertzog te skryf. Sy pogings om deur die boek sy politieke optredes te regverdig en ook Hertzog in ere te herstel, lewer 'n hagiografie op wat gemengde en meesal negatiewe resensies ontlok en nie juis daartoe bydra om sy reputasie te herstel nie. Dit val ook saam met 'n mediese terugslag in die vorm van 'n beroerte. Hoewel hy ten volle herstel, laat vaar hy sy regspraktyk. Die regering se pogings om die aktiwiteite van die swart bevrydingsbewegings aan bande te lê deur die sogenaamde Hoogverraadsaak bied hom uiteindelik die geleentheid om tot die openbare verhoog terug te keer toe hy aangestel word om die Staat se vervolging van die aangeklaagdes te lei. Dit is terwyl hy met hierdie taak besig was dat hy op 1 Oktober 1959 aan 'n hartaanval sterf. Ten spyte van hierdie laaste pogings om hom as 'n goeie en ware Afrikaner te bewys, bly die Afrikaner establishment afsydig en onvergewensgesind teenoor Pirow. Sy begrafnis is deur geen Afrikaner kulturele of politieke leier bygewoon nie.

Die teks lees maklik en Mouton het daarin geslaag om 'n ingewikkelde en gekompliseerde persoonlikheid genuanseerd aan te bied sonder om self ingewikkeld te skryf. Die goue draad deur die teks is Pirow se gebrek aan beginsels wat manifesteer in 'n opportunisme waarin persone, instellings en sake ("causes") slegs figureer as pionne om sy eie politieke ambisies te verwesenlik. Die tragiek van Pirow se lewe was dat onder hierdie opportunisme 'n uitsonderlik begaafde en veelsydige mens versluier gelê het. Ten spyte van sy persoonlike voorkeur vir 'n liberale lewensuitkyk het Mouton daarin geslaag om hom van sy eie voorkeure te ontkoppel en Pirow met sy by tye ekstreme politieke opvattings genuanseerd en met empatie aan die leser voor te hou.

Mouton se biografie van Pirow is geanker in grondige argivale navorsing, gerugsteun deur koerant- en sekondêre bronne soos weerspieël word in sy volledige bibliografie. Weens die gebrek aan uitgebreide persoonlike korrespondensie deur Pirow, die brood en botter van die biograaf, het Mouton wyd nagevors en deur die opdiep van ander argivale bronne die gaping grootliks gevul. Die teks is keurig versorg met 'n volledige indeks en geen ooglopende tekortkominge nie.

Voor die lees van die biografie was Pirow vir my 'n "onbekende" skadufiguur in die 20ste-eeuse blanke politiek wat ek slegs met die sogenaamde Nuwe Orde geassosieer het. Mouton se biografie het dié wanopvatting reggestel waardeur hy hom weereens bewys het as een van Suid-Afrika se voorste biograwe. Leek of akademikus - die publikasie verdien om gelees te word en is 'n waardevolle en welkome toevoeging tot die Suid-Afrikaanse historiografie.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License