SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 issue2A diachronic approach to the development of the progressive periphrastic constructions in Afrikaans and Dutch: A corpus studyPOEMS author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 n.2 Pretoria Jun. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n2a12 

TAALRUBRIEK

 

Idiomatiese Afrikaans en skryfwyses

 

 

Baie jare gelede het prof. SPE Boshoff die unieke aard, die unieke "klank", die idioom van verskillende tale geïllustreer deur dit te vergelyk met verskillende radio-omroepers se stemme: Sonder dat 'n mens die omroeper kan sien en sonder dat die omroeper se naam genoem word, kan jy meestal die omroeper identifiseer bloot op grond van hoe sy of haar stem klink. Dit geld dikwels ook sangers of akteurs wat bloot op grond van die unieke kwaliteit van hulle stemme geëien kan word.

Sulke unieke eienskappe onderskei tale ook van mekaar. 'n Engelssprekende bruid of bruidegom kan byvoorbeeld, op die vraag van die huweliksbevestiger, bevestigend antwoord "I do", maar as 'n Afrikaanssprekende bruid(egom) dan sou antwoord "Ek doen", sal dit beslis 'n vals noot wees. Net so kan 'n mens vir 'n werktuigkundige in verband met jou motor sê "Hy wil nie vat nie", maar as jy in Engels sou sê "He doesn't want to take", gaan die verwarring groot wees. Jy sou iets moet sê soos "It won't start".

Hierdie unieke stem van Afrikaans, die idioom van Afrikaans, het oor baie dekades ontwikkel en enige verandering daarin sal ook net met verloop van tyd intree. Dit lê nie op die weg van 'n individu of selfs 'n organisasie om so 'n idiomatiese saak eensydig of doelbewus te probeer verander nie.

Met bostaande in gedagte maak ek hier onder enkele opmerkings oor taalsake op grond van twee tekste wat ek onlangs onder oë gehad het.

1. Woordgeslag?

Sommige tale, ook van ons Europese stamtale soos Nederlands en Duits, het 'n stelsel van woorde met sogenaamde woordgeslag, wat onder meer beteken dat verskillende bepaalde lidwoorde en voornaamwoorde saam met die selfstandige naamwoorde van die betrokke "geslag" gebruik moet word. Enigiemand wat al met byvoorbeeld Duits te doen gehad het, sal weet van der, die en das. Ook Nederlands het sulke manlike, vroulike en onsydige woorde, maar Afrikaans het genadiglik die komplikasie van woordgeslag afgeskud.

In die volgende twee Nederlandse sinne is academie en regering vroulik en daarom word 'n vroulike voornaamwoord daarmee saam gebruik:

Na de herleving der letteren had bijna elke stad in Italië hare academie.

De regering heeft haar besluit herzien, nadat zij hernieuwd advies had ingewonnen.

In Die Burger lees ek onlangs die opskrif "Herrie nadat leraar ... na God as 'n vrou verwys" - die betrokke leraar het die voornaamwoord haar ten opsigte van God gebruik. Ek is geensins bevoeg om my oor so 'n teologiese saak uit te spreek nie; ek kan bloot sê dat God in die Judeo-Christelike tradisie as 'n persoon voorgestel word en dat 'n persoon, hier op die ondermaanse in elk geval, manlik of vroulik kan wees. Indien iemand God dus as vroulik wil beskou, sal die voornaamwoordreeks sy, haar, hare natuurlik idiomaties korrek wees.

Wat nielewende dinge betref, staan sake egter anders. Engels gebruik meestal it vir 'n enkelvoudsvoorwerp en vir sekere vervoermiddels dikwels she (en die gepaardgaande ander vorme). In idiomatiese Standaardafrikaans word meestal hy (en die gepaardgaande ander vorme) gebruik; dit ook soms, maar heel dikwels word dit onidiomaties volgens die patroon van die Engelse it gebruik, byvoorbeeld in die koerantsin: "Die ondersoek het ook gewys dat die skip ... laas op 4 Maart 2019 aangedui het dat dit by 'n hawe aangedoen het." Idiomaties sou "... dat hy 'n hawe aangedoen het" die natuurlike wees (let, terloops, op dat dit nie "by 'n hawe aandoen" is nie, maar slegs "'n hawe aandoen").

Om egter tale en organisasies in Afrikaans skielik vroulik te maak, druis in teen die idioom van Afrikaans. Geslagsgelykheid geld tog seker net mense, want as 'n mens dit op niemenslike sake wil begin toepas, bring jy in werklikheid woordgeslag in Afrikaans terug.

In een van die hier bo bedoelde tekste lees ek van die betrokke organisasie wat "haar ernstige kommer" uitspreek en van "haar lede". Dit is hoogs onidiomaties. Daarenteen word 'n universiteit in dieselfde teks, in Afrikaans tereg, manlik gehou, al sou dit volgens die Nederlandse stelsel ook vroulik moes wees.

Daarenteen skryf iemand anders elders: "Om te sien hoe historiese geboue op die kampus van die Universiteit van Kaapstad (UK) brand, is 'n skokkende ervaring. Kan die beelde van 'n brandende universiteit op 'n simboliese wyse gelees word? Is dit simbolies van die feit dat die universiteitswese en die idee wat sy oor eeue heen verteenwoordig het, besig is om af te brand?" In hierdie laaste sin kan sy slegs op universiteitswese slaan, en by so ʼn abstrakte begrip is sy en hy ewe vreemd. Ek sou hier sonder twyfel die onpersoonlike dit gebruik het.

Dalk is die oogmerk van sulke uitinge 'n ewewigtige gebruik van manlike en vroulike voornaamwoorde, maar so 'n doel kan nie bereik word deur die taal se idioom te verwring nie.

Artikel 6 van die Interpretasiewet 33 van 1957 bepaal dat woorde (in wetgewing) wat die manlike geslag aandui, die vroulike geslag insluit, tensy die teendeel uit die konteks blyk. Daarom is daar voorheen generies slegs die manlike vorme van voornaamwoorde gebruik, argumentshalwe "'n amptenaar mag hom nie skuldig maak aan ...". By die uitleg van 'n wet of wetsvoorskrif sluit dit dus ook vroulike amptenare in.

In die huidige politieke bedeling word daar egter in wetgewing deurgaans voornaamwoorde van albei geslagte gebruik: "hy of sy", "sy of haar", "hom of haar". Geslagsgelykheid word so suksesvoller bereik as om op onidiomatiese wyse as 't ware weer woordgeslag in Afrikaans in te voer deur tale, organisasies en dergelike met vroulike voornaamwoorde te benoem. Ek waag dit om te sê dat as moedertaalsprekers van byvoorbeeld Nederlands soms sukkel met woordgeslag, pogings om dit in Afrikaans in te voer eenvoudig gedoem is; as verskillende skrywers boonop verskillende voornaamwoorde by dieselfde woord gebruik, byvoorbeeld die een maak "Afrikaans" haar, die ander hy en nog een dit, dan is chaos onvermydelik.

Die gebruik van die idiomatiese manlike voornaamwoorde (hy, sy, hom) in Afrikaans vir nielewende dinge moet myns insiens werklik as "ongemerk t.o.v. geslagsverskil" beskou word, soos prof. Meyer de Villiers dit gestel het.1

2. Desondanks: In 'n vorige rubriek het ek daarop gewys dat dié woord 'in weerwil daarvan, ondanks dit' beteken en dat die daarvan of dit wesenlik belangrik vir die korrekte gebruik van die woord is. Een van die betrokke tekste bevat juis weer so 'n foutiewe gebruik van desondanks: "En dít desondanks die taalgebruiksprofiel van die universiteit se primêre voedingsgebied ..." Overgeset synde staan hier nou "En dit ondanks daarvan (of: ondanks dit) die taalgebruiksprofiel van die universiteit ...", wat klaarblyklik nie deug nie. Hier moes dit eenvoudig "ondanks" gewees het: "En dit ondanks die taalgebruiksprofiel van ..."

3. Skryfwyse: 'n Saak wat ook al meermale in hierdie rubriek bespreek is, is die feit dat samestellings in Afrikaans vas geskryf word. Soms is dit skynbaar vir Afrikaansskrywendes moeilik om te bepaal of die eerste deel van die samestelling wel vas geskryf moet word. Tipiese gevalle is standaard-, reus(e)- en top-, wat almal selfstandige naamwoorde is wat die volgende selfstandige naamwoord bepaal. In een van die tekste wat ek gelees het, is "top universiteite" geskryf, terwyl dit "topuniversiteite" moet wees.

'n Verbandhoudende problematiese skryfwyse in die betrokke teks was "in 'n postpandemie, ontwikkelende land". Omdat postpandemie nie 'n byvoeglike naamwoord is nie, kan hy nie los van land staan nie en kan daar ook nie 'n komma daarna wees nie. Al is postpandemie 'n sonderlinge woord wat waarskynlik nie as sodanig selfstandig gebruik kan word nie, moet hy in 'n samestelling vas aan land geskryf word: postpandemieland (wat nie juis 'n deursigtige samestelling is nie). Maar nou kom ontwikkelende tussenin, wat beteken 'n sogenaamde afstandskoppelteken (AWS, reël 12.24) moet gebruik word: postpandemie- ontwikkelende land (let op die spasie ná die koppelteken).

Pandemie kan wel afgelei word tot pandemiese, en dus is postpandemiese seker ook moontlik, maar presies wat sou postpandemiese land beteken? Die kombinasie maak egter deel van 'n langer sin uit - "... om hulle plek vol te staan in 'n postpandemie, ontwikkelende land met 'n wankelende ekonomie en gewelddadige samelewing, ..." - wat beteken dat 'n mens by herformulering versigtig moet wees. 'n Mens sou dit dalk soos volg kon stel: "... om ná die pandemie hulle plek vol te staan in 'n ontwikkelende land met 'n wankelende ekonomie en 'n gewelddadige samelewing ...".

4. Afkappingsteken: Laastens net weer 'n herinnering dat 'n afkappingsteken óf 'n 9-vormige verhewe komma is, indien 'n mens krulaanhalingstekens (in MS Word "curly quotes") gebruik, óf 'n regaf strepie (in MS Word "straight quotes"). Kyk in die jongste AWS op bladsy 7 net bo reël 2.1. Dit geld beslis ook die onbepaalde lidwoord 'n.

Dit is maklik genoeg om 'n rekenaar te stel om die foutiewe 6-vormige verhewe komma (by krulaanhalingstekens die openingsvorm) in die kombinasie (afkappingsteken + n) outomaties te korrigeer tot 'n, of om regaf aanhalingstekens te gebruik, want " 'n " bly 'n skryffout, soos drie keer in die postpandemie-sinne hier bo.

JD (TOM) MCLACHLAN

E-pos: tommcl@whalemail.co.za

 

 

1 De Villiers, M. 1983. Afrikaanse grammatika vir volwassenes. Goodwood: Nasou, p. 78.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License