SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número2The link between parental practices and the aggressive behaviour of learners with moderate intellectual dysfunctionIdiomatiese Afrikaans en skryfwyses índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.2 Pretoria jun. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n2a11 

NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

'n Diachroniese benadering tot die ontwikkeling van die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans en Nederlands: 'n Korpusondersoek*

 

A diachronic approach to the development of the progressive periphrastic constructions in Afrikaans and Dutch: A corpus study

 

 

Roné WierengaI; Adri BreedII

IVirtuele Instituut vir Afrikaans en Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika ORCID: 0000-0002-7172-7165 E-pos: rone@viva-afrikaans.org
IINoordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika ORCID: 0000-0003-0302-0368 E-pos: adri.breed@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans en Nederlands is 'n tema wat heelwat aandag in resente taalkundeliteratuur geniet het. 'n Verskeidenheid sinchroniese studies het die drie ewekniekonstruksies van Afrikaans en Nederlands, naamlik die PREP-, besig-, en CPV-konstruksies al afsonderlik en vergelykend bestudeer, waaronder die vernaamste vergelykende studie dié van Breed, Brisard en Verhoeven (2017). Vanuit die literatuur is dit duidelik dat, alhoewel hierdie drie progressiewe perifrastiese konstruksies vormlike ewekniekonstruksies is, daar bepaalde verskille in die gebruike van hierdie konstruksies tussen Afrikaans en Nederlands voorkom.
Hierdie artikel poog om die leemte in die huidige literatuur te vul, deur middel van 'n diachroniese studie wat gebruik maak van die Tracing History Trust-korpus (2011) en die Historiese korpus van Standaardafrikaans (2016). Die doel is om vas te stel óf en tot watter máte die verskille wat tans tussen die progressiewe konstruksies van Afrikaans en Nederlands bestaan, sigbaar was tydens die 17de, 18de en 20ste eeu.

Trefwoorde: korpuslinguistiek, progressiewe perifrastiese konstruksies, Afrikaans, Nederlands, diachroniese benadering, diachroniese korpora, grammatikalisering, imperfektiewe aspek, Tracing History Trust-korpus, Historiese korpus van Standaardafrikaans


ABSTRACT

The progressive periphrastic constructions are a well published topic in Afrikaans and Dutch. Various publications outlining the individual forms and functions of the three dominant periphrastic progressives in Afrikaans and Dutch, namely the PREP-, besig- (or busy-construction), and CPV-constructions, as well as many publications comparing these constructions, among which the most prevalent is that of Breed, Brisard and Verhoeven (2017), and Breed and Brisard (2015), have taken a synchronic approach. The results of these publications indicated that whilst Afrikaans and Dutch share these three periphrastic constructions as markers of progressive aspect, there are numerous differences in the forms, functions and usage parameters of these constructions.
Many of these differences are ascribed to divergent developmental circumstances due to the geographical placement of these language groups in the Netherlands and South-Africa. Since Afrikaans has its roots in 17th century Dutch it is assumed that these progressive periphrastic constructions in both languages originated from the same 17th century Dutch constructions. Therefore, the Afrikaans progressive periphrastic constructions are expected to be more similar to their Dutch counterparts in historical corpus data and that the differences that are currently visible have since developed due to grammaticalisation and language contact in South Africa.
This article addresses the gap within the literature on this topic by following a diachronic approach to establish if these constructions were in fact more similar in late 17th century linguistic data from the Cape colonies than they currently are. A diachronic corpus study is undertaken in order to identify when these differences between the Afrikaans and Dutch progressive constructions became visible in the corpora over a period of nearly 300 years. The Tracing History Trust corpus (2011) consisting of handwritten dairy entries by the early Dutch settlers at the Cape, dating from the late 17th century to the late 18th century, is used as the primary corpus. The secondary corpus is the Historical corpus of Standard Afrikaans (2017) which is a stratified corpus containing Afrikaans texts from the 20th and early 21st centuries.
Results show that, contrary to the expectation set forth by the synchronic publications, the progressive periphrastic constructions in Afrikaans and Dutch were not more similar in the 17th and 18th century than they currently are. Although many of the differences noted in synchronic studies were clearly visible in the corpora, it was found that some of these constructions had alternative forms in the past and some even had other functions and usage parameters than they currently have in either Afrikaans or Dutch.
The dominant findings of each progressive periphrastic construction are: a) The aan het PREP-constructions were still primarily locative constructions and had yet to grammaticalise to aspectual markers denoting progressiveness, whilst the aan't-progressive was already becoming more specialised in the 17th and 18th century Cape-Dutch (or early Afrikaans); b) The besig met-construction was the most common progressive periphrastic construction in the 17th and 18th century and is most commonly spelled without the "z" characteristic of Dutch, whilst the popularity that the besig om te-progressive construction currently enjoys in Afrikaans is found to be a much more recent development than expressed in synchronic studies; c) Contrary to expectation, the CPV-progressive constructions do not commonly occur in the 17th and 18th century corpus data and take on a much more Afrikaans form than expected, especially considering that these are the most popular progressive periphrastic constructions in 21st century Dutch. This raises the possibility that the CPV-progressive constructions were incorporated into Dutch post 1652 via language contact in the Cape colony. This hypothesis provides interesting possibilities for future research.

Keywords: corpus linguistics, progressive periphrastic constructions, Afrikaans, Dutch, diachronic study, diachronic corpora, grammaticalisation, imperfect aspect, Tracing History Trust corpus, Historical Corpus of Standard Afrikaans


 

 

1. KONTEKSTUALISERING EN PROBLEEMSTELLING

Aspektuele konstruksies kan omskryf word as konstruksies wat die verskillende wyses waarop die interne temporele samestelling van 'n situasie beskou kan word, uitdruk (Comrie 1976:3). Veral die drie perifrastiese aspektuele konstruksies wat progressiewe betekenis in Afrikaans uitdruk, het in die afgelope dekade heelwat aandag in die literatuur geniet (sien onder meer Breed 2012, 2016; Breed & Van Aard 2016; Breed & Van Huyssteen 2014, 2015; Kirsten 2019, Zwart 2017). Die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans kan as ewekniekonstruksies van die drie Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies beskou word. Hierdie drie ooreenstemmende Nederlandse en Afrikaanse progressiewe perifrastiese konstruksies is onderskeidelik i) die aan het- / aan die-; ii) die CPV te- / CPV en- ; en iii) die bezig- / besig-progressiewe konstruksies (Breed 2012). Die volgende voorbeeldsinne illustreer die gebruik van hierdie drie konstruksies in die twee tale om progressiewe betekenis uit te druk:

(1) Afr. a. Melt Myburgh het aan die praat geraak met haar. (TK-korpus)1

Ndl. b. Melt Myburgh raakte met haar aan de praat / aan het praten.

(2) Afr. a. Hulle persoonlikhede is nog besig om te ontwikkel. (TK-korpus)

Ndl. b. Hun persoonlijkheden zijn bezig te veranderen.

(3) Afr. a. Ek wil nie heeldag loop en dink aan alles nie. (TK-korpus)

Ndl. b. Ik wil niet de hele dag lopen te denken.

Die gebruik van hierdie drie perifrastiese konstruksies in Afrikaans (vergelyk Breed 2012, 2016; Breed & Van Huyssteen 2014, 2015; Zwart 2017) en in Nederlands (vergelyk Lemmens 2005, 2008, 2015; Booij 2004, 2008) is tot op hede hoofsaaklik vanuit 'n sinchroniese perspektief bespreek.

Breed, Brisard en Verhoeven (2017), sowel as Geleyn en Colleman (2014), dui aan dat - ten spyte van die twee tale se gedeelde herkoms (vergelyk Raidt 1991:89) en die vormlike ooreenstemming tussen die twee tale se drie progressiewe konstruksies - die ooreenstemmende konstruksies in sommige opsigte heel verskillend in die twee tale aangewend word.

Hoewel sommige van hierdie genoemde publikasies die gedeelde herkoms van die ooreenstemmende progressiewe konstruksies in Afrikaans en Nederlands betrek, ontbreek 'n diachroniese perspektief van die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans en Nederlands steeds. Die gevolg is dat daar nog nie bestudeer is hoe hiérdie konstruksies mettertyd ontwikkel het om vormlik of in hul gebruike oor die twee tale heen ooreen te stem of te verskil nie.

Hierdie artikel beoog dus om hierdie leemte te begin vul. Dié studie behels 'n korpusondersoek wat strek oor 'n verskeidenheid historiese tydperke. Eerstens word die Tracing History Trust-korpus2 (2011) aangewend om die gebruik van die drie progressiewe konstruksies in Vroeë Afrikaans te ondersoek, dit wil sê die taalvariasie wat in die 17de en 18de eeu aan die Kaapkolonie gebruik is. Tweedens word gebruik gemaak van die Historiese korpus van Standaardafrikaans (2018)3 wat hoofsaaklik taalgebruik van die 19de en 20ste eeu insluit. Hierdie korpora sal gebruik word om te bepaal tot watter mate die huidige verskille en ooreenkomste tussen die Afrikaanse en Nederlandse progressiewe konstruksies begin sigbaar raak het oor 'n meer onlangse tydperk van ongeveer 300 jaar.4

Hierdie artikel bestaan uit vier verdere afdelings: In die eerste afdeling word die teoretiese aspekte, naamlik progressiewe aspek, perifrastiese konstruksies en grammatikalisering kortliks bespreek. Die tweede afdeling bied 'n literatuuroorsig van bestaande literatuur wat op sinchroniese wyse die belangrikste verskille tussen die Afrikaanse en Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies uitlig. Die bespreking in hierdie afdeling sal gebruik word om die basis te vorm vir die diachroniese ondersoek na die ontwikkeling van die progressiewe konstruksie in Afrikaans. Die derde afdeling bevat'n uiteensetting van die metode van ondersoek. In hierdie afdeling word die relevante korpora, die resultate van die korpusondersoek en 'n interpretasie van hierdie resultate aangebied. In die laaste afdeling word gevolgtrekkings gemaak rakende die diachroniese ontwikkeling van die progressiewe konstruksies in Afrikaans.

 

2. TEORETIESE RAAMWERK

In hierdie afdeling word drie teoretiese kwessies wat vir hierdie studie relevant is kortliks bespreek, naamlik progressiewe betekenis, perifrastiese konstruksies en grammatikalisering.

2.1 Progressiewe betekenis

Progressiwiteit is 'n tipe imperfektiewe grammatikaal-aspektuele betekenis (Bybee et al. 1994:126). Grammatikale aspek kan beskryf word as die oogpunt waaruit 'n situasie beskou en beskryf word (Comrie 1976:5). Daar kan tussen twee aspektuele betekenisse onderskei word, naamlik perfektiewe en imperfektiewe aspek.

Perfektiewe aspek beskou die situasie as 'n begrensde geheel, terwyl imperfektiewe aspek die interne temporele struktuur van die situasie uitlig (Comrie 1976:7). Dit wil sê dat imperfektiewe aspek 'n fase van 'n gebeurtenis beklemtoon. Progressiewe aspek is 'n tipe imperfektiewe aspek wat daarop dui dat 'n proses of prosesse steeds aan die gang is of voortgesit word (vergelyk Bybee et al. 1994).

Anders as Afrikaans se nabyverwante tale soos Engels, Nederlands en Duits, merk eersgenoemde taal nie aspektuele betekenis op 'n verpligte wyse as deel van die werkwoordvorm nie, wat lei tot meerduidige werkwoordbetekenis. Breed (2012:46) bied die volgende sinne en hul vertalings aan om die aspektuele meerduidigheid van die Afrikaanse werkwoordvorm te illustreer.

(4) Eng. a. He was kicking me.

Afr. b. Hy was besig om my te skop.

(5) Eng. a. He kicked me.

Afr. b. Hy het my geskop.

(6) Eng. a. He has kicked me.

Afr. b. Hy het my geskop.

Die drie sinne hierbo is meerduidig, want hoewel dit telkens progressiewe, perfektiewe of anteriorbetekenis uitdruk, verskil die verledetydsvorm van die werkwoord nie van mekaar nie. Ook kan die ongemerkte hedetydskonstruksie as progressief of perfektief geïnterpreteer word. Weens hierdie meerduidigheid is daar vyf prototipiese alternatiewe strategieë in Afrikaans om aspektuele betekenis te spesifiseer, naamlik leksikale konstruksies soos bywoorde (7) of voegwoorde, geaffikseerde konstruksies (8), reduplikasiekonstruksies (9), die passifisering van konstruksies (10) en perifrastiese konstruksies (11).

(7) Toe Poppie tyding kry dat Oupa begin yl, begin sy regmaak.

(8) So bly, dat ek saam met die honde al blaffende straat toe gehardloop het om hulle te gaan verwelkom.

(9) Dit sal spring-spring moet gaan as jy hóm wil inhaal ...

(10) Die sade word gedroog en heel of fyngemaal in kerries gebruik.

(11) Die honde is alweer aan die blaf.

Vir die doel van hierdie artikel word slegs gefokus op die perifrastiese wyse om progressiwiteit uit te druk.

2.2 Die perifrastiese konstruksie

Trask (1993:205) definieer 'n perifrastiese konstruksie as 'n konstruksie wat nie betekenis uitdruk deur affiksering nie, maar eerder deur vry, losstaande morfeme. Hierdie definisie kan verder uitgebrei word deur te stel dat perifrase in hierdie opsig verwys na die teenpool vir sintetiese uitdrukking van betekenis (Blevins 2003:1). Dit wil sê dat perifrastiese konstruksies betekenis uitdruk deur middel van veelvuldige vrye vorme. Perifrastiese konstruksies kan dus beskryf word as grammatikale konstruksies wat saamgestel is uit losstaande woorde waarvan die gesamentlike interpretasie 'n eenheid vorm. Die drie progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans wat bestudeer word, is die aan die, besig om te en die lê/loop/sit/staan en-konstruksie wat elk as geheel die semantiese funksie, naamlik aspektuele betekenis, uitdruk. Hierdie drie perifrastiese konstruksies is dan ook ooreenstemmend met die konstruksies wat gebruik word om progressiewe betekenis in Nederlands uit te druk. Daar kan dus opsommend na hierdie progressiewe perifrastiese konstruksies in beide Afrikaans en Nederlands sowel as al hul onderskeidelike vormlike variasies verwys word as die besig-konstruksie, die PREP-konstruksie (al die konstruksies wat met die setsel aan begin), en die CPV-konstruksie (enige postulêre progressiewe konstruksie).5

2.3 Grammatikalisering

Grammatikalisering is die taalveranderingsproses waartydens 'n leksikale woord of konstruksie (soos naamwoorde of hoofwerkwoorde) oor tyd verander in grammatikale woorde of konstruksies (soos voorsetsels of hulpwerkwoorde) (Lehmann 1995:127). Deo (2012:156) stel dat perifrastiese konstruksies grammatikale konstruksies is wat tot stand kom in taal deur middel van 'n proses genaamd grammatikalisering. 'n Begrip vir die grammatikaliseringsproses word dus verlang wanneer die verandering van die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans oor 'n tydperk ondersoek word. Grammatikalisering is 'n veelfasettige teorie, wat deel uitmaak van die konstruksiegrammatika en wat in die literatuur wyd beskryf word vanuit 'n verskeidenheid benaderings (sien Booij 2003, 2004, 2008; Bybee et al. 1994). Dit is egter in hierdie geval sinvol om grammatikalisering self as 'n taalveranderingsproses te beskou.

Kortom kan die grammatikaliseringsproses beskou word as 'n veralgemeningsproses waarin 'n leksikale konstruksie geleidelik en oor tyd ontwikkel om grammatikale funksies te kan verrig en dus toeneem in frekwensie (Heine & Reh 1984:11-12), aangesien die konstruksie bruikbaar word in meerdere kontekste en meer betekenisse uitdruk in algemene taalgebruik. Hierdie semantiese verandering is multidimensioneel, wat beteken dat alle leksikale konstruksies nie altyd al die prosesse van grammatikalisering ondergaan nie. Soms kan dit gebeur dat beide die leksikale vorm sowel as die grammatikale vorm van 'n woord gelyktydig in die taal voorkom (Bybee et al. 1994:5).

Hierteenoor het sommige konstruksies tot so 'n mate gegrammatikaliseer dat die oorspronklike leksikale betekenis volledig verlore gegaan het en alleenlik die grammatikale funksie gebruiklik is. Een sodanige voorbeeld is die aan't progressiewe konstruksie in Afrikaans. Alhoewel die oorsprong van die aan't-konstruksie die Nederlandse lokatiewe konstruksie aan het is, het hierdie konstruksie in Afrikaans gegrammatikaliseer sodat die lokatiewe betekenis (vergelyk (12)) verdwyn het. Vervolgens word aan't in Afrikaans uitsluitlik gebruik as progressiewe konstruksie (vergelyk (13)) en ook in enkele idiomatiese uitdrukkings (vergelyk (14)).

(12) *Hy is aan't linkerkant van die huis.

(13) Ek is 'n brief aan't skrywe. (TK-korpus)

(14) Die opwinding van netnou is stadig aan't afkoel. (TK-korpus)

Die grammatikaliseringsproses is egter nie 'n willekeurige proses nie. Hopper en Traugott (2003:6) stel dat konstruksies grammatikaliseer volgens universele roetes wat unidireksioneel en multidimensioneel is. Die leksikale item wat besig is om te grammatikaliseer, bepaal die roete waarop hy grammatikaliseer en ook wat die eindresultaat van die grammatikalisasieproses is. Die aan't-konstruksie in Afrikaans kan weer as 'n voorbeeld geneem word. Dit is 'n algemene tendens in tale vir lokatiewe konstruksies om te grammatikaliseer tot progressiewe konstruksies, omdat "om op 'n bepaalde plek te wees" metafories vereenselwig kan word met "om met 'n bepaalde aktiwiteit besig te wees", of te wel PLACE IS PROCESS (sien onder meer Bybee et al. 1994 en Lemmens 2005 oor die grammatikalisering van lokatiewe konstruksies tot progressiewe konstruksies).

Die grammatikaliseringsproses vind geleidelik oor tyd plaas. In die grammatikaliseringsproses verkry 'n woord stelselmatig verdere betekenisse en funksies sonder dat die oorspronklike betekenis(se) of funksies noodwendig verlore gaan. Unidireksionaliteit veronderstel dat daar 'n bepaalde volgorde is waarin grammatikale verandering plaasvind. Dit wil sê dat 'n leksikale item grammatikaliseer na 'n grammatikale item. Vandaar weer na 'n enklitiese vorm en laastens tot 'n fleksieaffiks (Hopper & Traugott 2003:7). Ooreenstemmende unidireksionele universele roetes, of te wel grammatikaliseringsroetes, kan voorkom in verskillende tale en is dus eerder 'n tipologiese eienskap as net 'n spesifieke eienskap van 'n spesifieke taal of tale (vergelyk Heine & Kuteva 2007:34; Hopper & Traugott 2003:6).

Die hoë gebruiksfrekwensie wat waargeneem word by konstruksies wat gegrammatikaliseer het, word toegeskryf aan die veralgemening in betekenis, oftewel semantiese verbleking, wat daartoe aanleiding gee dat die konstruksie in meer kontekste bruikbaar is. Namate grammatikalisering plaasvind kom beide die leksikale en grammatikale vorme van 'n konstruksie voor in die taal. Hierdie toename duur voort selfs nadat die konstruksie grammatikale status bereik het of die leksikale vorm glad nie meer voorkom in die taal nie. Die rede hiervoor is dat veralgemeende konstruksies gebruik kan word in kontekste waar die bydrae van die konstruksie onnodig of selfs oortollig is, namate die spreker se behoeftes of intensies dit verlang (Bybee et al. 1994:9). Frekwensie is dus 'n sterk aanduiding van grammatikalisering en sal in hierdie artikel as kriterium dien waarvolgens die verskille tussen die Afrikaanse en Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies in elke tydperk gemeet kan word.

 

3. 'N SINCHRONIESE BESKOUING VAN DIE PROGRESSIEWE PERIFRASTIESE KONSTRUKSIES IN AFRIKAANS

Soos reeds genoem, het die Afrikaanse en Nederlandse progressiewe konstruksies vanuit 'n sinchroniese beskouing reeds heelwat aandag gekry in die literatuur. Veertien artikels is veral relevant vir hierdie studie. Agt publikasies beskryf die Afrikaanse konstruksies en hul progressiewe betekenisse, naamlik Breed (2012), (2016), (2017a) en (2017b) sowel as twee artikels saam met Van Huyssteen (2014) en (2015), en 'n artikel saam met Van Aardt (2016). Hierdie artikels steun dikwels sterk op die Nederlandse navorsingspublikasies van Booij (2003), (2004), (2008), Lemmens (2005) en Van Pottelberghe (2002). 'n Verdere vier publikasies tref vergelykings tussen die Afrikaanse en Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies wat hier ter sprake is, naamlik Breed en Brisard (2015), Breed, Brisard en Verhoeven (2017), Geleyn (2010), Geleyn en Colleman (2014). Hierdie sinchroniese studies vorm die basis vir die diachroniese beskouing wat in hierdie artikel voorgestaan word en die resultate van hierdie studies dien as riglyne vir die parameters van die korpusondersoek wat in hierdie artikel onderneem word. Veral drie aspekte word hier betrek, naamlik die frekwensies, eienskappe en vormlike variasies van die progressiewe konstruksies.

Die volgende uiteensetting van die drie ewekniekonstruksies is 'n konsolidasie en opsomming van die beskrywings en bevindinge wat in die voorafgaande literatuur weergegee word.

3.1. Die PREP-progressiewe

3.1.1 Frekwensie

Oorkoepelend behels die PREP-progressiewe konstruksies 'n genominaliseerde infinitief wat voorafgegaan word deur 'n bepaalde lidwoord en die preposisie aan (sien voorbeelde (15) tot (17)).

(15) Afr. Nogtans bly ek aan die werk. (TK-korpus)

(16) Afr. Hulle het gister teen die wind aan't loop gegaan...6(HKS-korpus)

(17) Ndl. Wat is er eigenlijk aan het gebeuren?(LGSUB-korpus)

Soos reeds in afdeling 2 genoem is, het die aan't-konstruksie in Afrikaans ontstaan vanuit die Nederlandse lokatiewe konstruksie aan het. Hierdie progressiewe konstruksie het in Afrikaans gespesialiseer en het in Hedendaagsafrikaans 'n lae gebruiksfrekwensie en word hoofsaaklik beperk tot kontekste waar die gebruiker 'n hoogdrawende of ouderwetse atmosfeer wil skep - dikwels op humoristiese wyse.

In beide tale is die PREP-progressiewe die konstruksies met die tweede meeste relatiewe frekwensie in die onderskeie korpora. Die relatiewe frekwensies vir die progressiewe konstruksies kan soos volg voorgestel word:

Nederlands CPV te > aan het > bezig

Afrikaans besig > aan die / aan 't > CPV en

Breed et al. (2017:324) toon egter aan dat, ten spyte daarvan dat die CPV te-progressief die mees produktiewe progressiewe konstruksie in Nederlands is, die PREP-progressief steeds aansienlik meer gebruiklik in Afrikaans is as in Nederlands.

3.1.2 Eienskappe en gebruike

In sowel Nederlands as Afrikaans kan die PREP-progressief nie in die passiewe vorm uitgedruk word nie.

Die opmerklikste verskille tussen die Nederlandse en Afrikaanse PREP-progressiewe is hul onderskeie werkwoordkollokasies.7 Die Afrikaanse aan die-konstruksie kollokeer meer dikwels met onoorganklike werkwoorde. Daarteenoor kollokeer die aan het-progressief in Nederlands mees algemeen met oorganklike werkwoorde.

Die Nederlandse aan het-progressief kollokeer met werkwoorde van (stadige) verandering of werkwoorde wat 'n verandering in toestand uitdruk, soos bouwen en groeien, en bewegingswerkwoorde soos stijgen en dalen. Ooreenkomstig kollokeer werkwoorde wat 'n verandering in toestand uitdruk (byvoorbeeld toeneem, afneem, opbou en verander) ook dikwels met die aan die-progressief in Afrikaans. Dit is wel opvallend dat 'n menigte werkwoorde wat met die aan die-progressief in Afrikaans kollokeer, werkwoorde is wat woordsoortlik meerfunksioneel is en dus as naamwoorde óf werkwoorde geïnterpreteer kan word (byvoorbeeld brand, slaap, stuur, lewe en werk). Hierdie meerduidige kollokasies kom besonder frekwent voor saam met die aan die-progressief.

Hierdie meerduidigheid het ook betrekking op gevalle waar die aan die-progressief kollokeer met prosesnaamwoorde wat progressiewe betekenis uitdruk, soos in die geval van aan die gang, aan die woord en aan die bewind. Alhoewel hierdie meerduidige kollokasies dikwels in die literatuur by die resultate van korpusstudies uitgesluit is, is dit wel sinvol om hierdie kollokasies in te sluit by 'n diachroniese studie, om sodoende te bepaal tot watter mate hierdie kollokasies sigbaar is in die verskillende tydperke wat deur die korpora gedek word.

Vanuit die literatuur blyk dit dat die Nederlandse aan het-progressief verder gegrammatikaliseer het as die Afrikaanse aan die-progressief. Hoewel die algemene frekwensie van die Nederlandse aan het-progressief laer is as die ooreenstemmende Afrikaanse konstruksie, toon die Nederlandse konstruksie 'n groter semantiese veralgemening (oftewel verbleking) met minder gebruiksbeperkinge.

3.1.3 Vormlike variasie

Daar is aangetoon dat daar in Hedendaagsnederlands slegs een variasie van die PREP-progressief is (te wete die aan het + VINF), terwyl daar in Hedendaagsafrikaans twee variasies van die PREP-progressief voorkom (te wete aan die + VINF en aan 't + VINF). Die feit dat daar vormlike verskille tussen die twee tale se hedendaagse PREP-progressiewe konstruksies voorkom, is 'n aanduiding daarvan dat daar oor 'n diachroniese tydperk vormlike verandering ingetree het. Die vraag kan derhalwe gestel word watter vorm of vorme die PREP-konstruksie in Afrikaans oor verskillende tydperke aangeneem het.

3.2 Die besig-/bezig-progressief

3.2.1 Frekwensie

Die tweede progressiewe konstruksie wat bespreek word, is die besig-progressief. Die bezig-progressief is, soos reeds geïllustreer, die Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksie met die laagste relatiewe frekwensie (naamlik 181 resultate in Breed et al. 2017 se ondersoek) in die Nederlandse korpus. Teenstellend hiermee is die besig-progressief die konstruksie met die hoogste relatiewe frekwensie (naamlik 7 992 resultate in Breed et al. 2017 se ondersoek) in die Afrikaanse korpus:

Nederlands CPV te > aan het > bezig

Afrikaans besig > aan die / aan 't > CPV en

Hierdie hoë gebruiksfrekwensie van die besig-progressief dui daarop dat hierdie konstruksie populariteit in Afrikaans geniet wat dit nie in Hedendaagsnederlands het nie. Die verwagting is dus dat die Afrikaanse besig-progressiewe meer semanties verbleek is en dus gebruiklik is in 'n groter aantal kontekste en konstruksies as die Nederlandse eweknie. 'n Diachroniese studie kan 'n aanduiding gee oor die tydperk waarin die besig-konstruksies begin populêr raak het in Afrikaans.

3.2.2 Eienskappe en gebruike

Die Nederlandse bezig-adjektief kom meer dikwels voor in gevalle waar dit leksikale betekenis uitdruk as in gevalle waar dit aspektueel gebruik word. Wanneer dit wel aspektuele betekenis uitdruk, kollokeer dit met gebeurtenisnaamwoorde soos huiszoeking (sien voorbeeld (18)). Soms kan die bezig-konstruksie progressief gebruik word en dien dit as subjekkomplement, met die kopula-werkwoord was. In hierdie gevalle word dit nie deur 'n infinitiefwerkwoord gevolg nie (sien voorbeeld (19)).

(18) Terwijl de huiszoeking bezig was, boden zich nog enkele andere gebruikers aan.

(19) "While the house was being searched, some other users volunteered/appeared."

Kontrasterend hiermee word die besig-konstruksie in Afrikaans oorheersend aspektueel gebruik. In Breed et al. (2017) kollokeer die besig-progressief in Afrikaans byvoorbeeld met 2 615 werkwoorde in die TK-koerantsubkorpus terwyl die Nederlandse eweknie met slegs 50 werkwoorde kollokeer in die LGSUB-nuussubkorpus. Hieruit kan afgelei word dat die Nederlandse bezig-progressief meer gebruiksbeperkinge het en dus minder gegrammatikaliseerd is as sy Afrikaanse eweknie.

Dit blyk vanuit die korpusdata dat die bezig-progressief uitsluitlik met oorganklike werkwoorde kollokeer en daarom ook gepaard gaan met 'n direkte objek. Die werkwoorde wat in Afrikaans met besig-progressiewe konstruksies kollokeer is meer gevarieerd as met die ander twee Afrikaanse progressiewe konstruksies of die Nederlandse eweknie. Die meerderheid werkwoordkollokasies met besig-progressiewe is aktiwiteitswerkwoorde, uitvoerings en verwesenlikings.

Buiten vir die opmerklike verskil in die frekwensies van hierdie konstruksies in die korpora, is een van die opvallendste verskille tussen die twee tale se bezig/besig-konstruksies die passifisering daarvan. Die Nederlandse bezig-progressief kan glad nie voorkom in passiewe sinstrukture nie, terwyl die Afrikaanse besig-progressief wel gemaklik in die passief gebruik kan word (soos in die onderstaande voorbeeld geïllustreer word).

(20) Die Nederlande is besig om deur die Spanjaarde herower te word. (TK-korpus)

3.2.3 Vormlike variasie

Die besig-progressief kan in ouer Nederlands twee vorme aanneem, naamlik bezig te of bezig met. Die Nederlandse bezig-progressief kan 'n aantal verskeie sintaktiese variasies aanneem: a) met te infinitiewe, b) om te infinitiewe, en c) die voorsetsel met wat 'n genominaliseerde infinitief voorafgaan. Die teenwoordigheid van die om voorsetsel in bezig-progressiewe kom nie algemeen voor in Nederlands nie en Kirsner (1985:254) stel dat eerstetaalsprekers van Nederlands die aanwesigheid van om dikwels interpreteer as 'n aanduiding dat 'n aksie verder weg is van die eindpunt.

Teenstellend kom die besig-progressief in Afrikaans byna uitsonderlik voor saam met om te infinitiewe. Breed en Van Huyssteen (2015) meld dat die besig-adjektief tesame met die komplementeerder en infinitiefsmerker om te gefusilleer en gegrammatikaliseer het tot aspektuele hulpwerkwoordstuk. 'n Diachroniese korpusondersoek kan 'n aanduiding gee van wanneer en watter vormlike variasies van die besig-progressief in die tydperke van die korpora sigbaar raak.

3.3 Die CPV-progressie

3.3.1 Frekwensie

Die postulêre werkwoord staan blyk die mees frekwente postulêre werkwoord in beide Afrikaans en Nederlands te wees vir nie-aspektuele gebruike. So ook is sit se aspektuele gebruike veel hoër as die nie-aspektuele gebruike in beide tale. Een belangrike verskil is egter dat sit in Afrikaans die mees frekwente postulêre werkwoord is vir aspektuele gebruike teenoor staan in Nederlands, terwyl , op sy beurt, weer ooreenstemmend die laagste frekwensie vir aspektuele gebruik het in beide tale. Nog 'n interessante verskil is dat die Nederlandse postulêre werkwoorde hoofsaaklik met wachten kollokeer, terwyl die staan in Afrikaans hiervan afwyk deur mees algemeen met kyk te kollokeer.

Die Nederlandse CPV te-progressiewe is meer frekwent as die aan het-progressief terwyl die bezig-progressief relatief skaars is in Nederlands. Daarteenoor is die CPV-progressief die minste frekwente progressief in Afrikaans terwyl die besig-progressief die mees frekwente Afrikaanse progressiewe konstruksie is:

Nederlands CPV te > aan het > bezig

Afrikaans besig > aan die / aan 't > CPV en

3.3.2 Eienskappe en gebruike

Die Nederlandse CPV te-progressiewe kom meestal voor in kontekste waar die subjek van die sin menslik of lewend is. Die werkwoordkollokasies van die Afrikaanse CPV en-progressiewe stem grotendeels ooreen met dié van die Nederlandse ewekniekonstruksies. In beide Nederlands en Afrikaans kollokeer die CPV-progressiewe meestal met werkwoorde wat 'n liggaamshouding veronderstel wat ooreenstem met die postulêre houding van die progressief. Daarom kollokeer werkwoorde wat kreatiewe aktiwiteite uitdruk, soos brei of hekel, met die sit en-progressief. Tog kan skynbare teenstellende werkwoord-CPV-kollokasies ook voorkom in beide tale, soos in die geval van die onderstaande voorbeeld.

(21) Wim heeft de hele les zitten te slapen. (LGSUB-korpus)

In beide tale kom werkwoordkollokasies met wilskragtige persepsiewerkwoorde relatief meer frekwent voor as kollokasies met niewilskragtige persepsiewerkwoorde.

(22) Hy staan en kyk hoe sy pa met sy duim oor die skerp kant voel. (TK-korpus)

(23) Sekere dinge kan jy ook maar net staan en sien gebeur. (TK-korpus)

Vier groepe werkwoorde wat kollokeer met die CPV te-progressief word in Nederlands onderskei, naamlik werkwoorde van sosiale interaksie, kreatiewe aktiwiteite, visuele of ouditiewe persepsie en kognitiewe aktiwiteite. Hierteenoor word ses werkwoordgroepe in Afrikaans onderskei: a) werkwoorde van sosiale interaksie (praat, bid, ontmoet); b) werkwoorde van kreatiewe aktiwiteit (skryf, brei); c) werkwoorde van visuele of ouditiewe persepsie (kyk, staar, luister); d) werkwoorde van biologiese of menslike noodwendigheid (eet, drink, huil); e) werkwoorde van kognitiewe aktiwiteit (lees, dink); en f) werkwoorde wat aandui dat die subjek onaktief is (wag, uitkyk).

Die Nederlandse CPV-progressiewe kollokeer hoofsaaklik met oorganklike werkwoorde en kan nie in passiewe konstruksies voorkom nie. In teenstelling hiermee kollokeer die Afrikaanse CPV-progressiewe hoofsaaklik met onoorganklike werkwoorde, alhoewel kollokasies met oorganklike werkwoorde ook moontlik is. Soos die besig-progressief in Afrikaans, kan die Afrikaanse CPV-progressiewe ook in passiewe konstruksies gebruik word, wat skynbaar nie moontlik is vir die Nederlandse konstruksie nie.

In beide Afrikaans en Nederlands kan die werkwoord loop/lopen ook gebruik word as die postulêre in 'n CPV-progressief. In Nederlands is daar egter gebruiksbeperkings op die lopen-progressief, naamlik dat hierdie konstruksie 'n lewende of menslike agens-subjek ("agentive subject") vereis. Daar is ook 'n sterk neiging dat die infinitiewe werkwoord dinamiese gebeurtenisse of implikasies van beweging moet uitdruk.

In Afrikaans is die loop-progressief nie so beperk nie en kollokasies met werkwoorde van sosiale interaksie (loop en praat) en persepsie (loop en kyk) kom meer algemeen voor as kollokasies met bewegingswerkwoorde. Die Afrikaanse loop en-progressief kombineer ook algemeen met werkwoorde van negatiewe kommunikasie, soos skinder, slegmaak, mompel en mor.

In Nederlands kollokeer die CPV te-progressief uitsluitlik met werkwoorde wat in liggaamshouding ooreenstem met die persoonlike betekenis van die gegrammatikaliseerde postulêre werkwoord.

3.3.3 Vormlike variasies

Die Nederlandse CPV-progressief kan in hedendaagse Nederlands slegs gebruik word saam met die te-partikel, alhoewel die en(de)-voegwoord in Middelnederlands ook gebruik kon word om die CPV met die aksiewerkwoord te koppel.

(24) MidNdl. Hi zit end gruyt als een beer.

Hierdie end(e) het egter uit Nederlands verdwyn teen die sewentiende eeu, maar bly steeds behoue in die vereenvoudigde voegwoord vorm en in die Afrikaanse CPV en-progressiewe (vergelyk Breed & Brisard 2015; Booij 2004; Mortier 2008; Van Pottelberge 2002).

In afdeling 4 sal die volgende aspekte van die CPV-progressief bestudeer word in elke tydperk om vas te stel of die sinchroniese verskille tussen die Afrikaanse en Nederlandse vorme reeds sigbaar is: Eerstens die frekwensie van CPV-progressiewe konstruksies in die THT-korpus teenoor die HKS-korpus; tweedens die teenwoordigheid, al dan nie, van end(e) voegwoord; en derdens die teenwoordigheid van agens-subjekte.

3.4 Samevatting

Die verskille en ooreenskomste tussen die verskillende progressiewe konstruksies, die eienskappe waaroor elkeen van die konstruksies beskik, sowel as die vormlike variasies van elkeen en die funksies wat elke progressiewe konstruksie in hedendaagse Afrikaans en Nederlands onderskeidelik verrig, word in tabel 1 saamgevat.

 

4. NAVORSINGSMETODE TERREINAFBAKENING

In die voorafgaande gedeelte is aangetoon watter eienskappe die ewekniekonstruksies in hedendaagse Afrikaans en Nederlands vertoon. Die vergelyking is veral op basis van drie aspekte gemaak, naamlik i) hoe frekwent die konstruksie gebruik word in vergelyking met die ander progressiewe konstruksies; ii) die verskillende eienskappe van die progressiewe konstruksies - spesifiek met watter hoofwerkwoorde die progressiewe konstruksies kollokeer; en iii) watter verskillende vorme die progressiewe konstruksies aanneem. In hierdie afdeling word 'n beskrywing aangebied van die diachroniese korpusondersoek om te bepaal tot watter mate die drie genoemde aspekte in historiese korpora van Afrikaans vergestalt word.

4.1 Die korpora en die korpusondersoek

'n Korpus is 'n saamgestelde versameling van outentieke, natuurlike tekste wat elektronies- of masjienleesbaar is, wat saamgestel is met die doel om 'n bepaalde taal, variëteit of spraakgemeenskap gebalanseerd en omvattend voor te stel, en dit word gebruik vir linguistiese navorsing (De Schryver & Prinsloo 2000:96).

Daar kan egter onder bepaalde omstandighede afgewyk word van hierdie prototipiese definisie, na aanleiding van die doel waarmee die korpus saamgestel is. Dit is dan ook die geval by die Tracing History Trust-korpus (THT-korpus) wat as primêre korpus vir hierdie artikel dien. Teenoor die bogenoemde definisie poog die THT-korpus nie om 'n omvattende of gebalanseerde voorstelling van die spraakgemeenskap of variëteit wat daarin vervat word, weer te gee nie. Alhoewel die THT-korpus saamgestel is met die oog op moontlike taalnavorsing, is hierdie korpus primêr gefokus op die bewaring van die tekste wat hierin vervat word (Liebenberg 2017:8).

Die THT-korpus bestaan uit 'n versameling handgeskrewe dagboekinskrywings uit die 17de en 18de eeu, wat in 2015 tot 2017 getranskribeer is en tot 'n korpus verwerk is (Liebenberg 2017:8), en dit bestaan uit 16 988 611 woorde. Hierdie dagboekinskrywings is die penprodukte van Nederlanders, veral lede van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), wat hulle gevestig het in die Nederlandse kolonie aan die Suid-Afrikaanse kus. Die inskrywings handel hoofsaaklik oor alledaagse gebeure en bevat goedereopnames, sterftelyste en beskrywings van dagtake. Die verloop van sake op die skepe, sowel as in die vestings aan Stellenbosch in die Wes-Kaap, word eerstehands weergegee. Die inskrywings was hoofsaaklik vir privaat gebruik en is derhalwe nie aan die oppergesag van die VOC gestuur nie (Liebenberg 2017:8). Hierom kan die taalinhoud van hierdie tekste as ongekunsteld beskou word en dien as realistiese voorstelling van die taalgebruik wat in hierdie tydperk in hierdie taalgemeenskap voorgekom het (THT 2011). So ook is die metadata van die dagboekinskrywings, so ver moontlik, by die korpus ingesluit. Die metadata is in die meeste gevalle wel genoegsaam om 'n indruksbeeld te skets van die sosiale, kulturele en ekonomiese stand van hierdie taalgebruikers.

Wanneer met die THT-korpus gewerk word as 'n bron vir taalkundenavorsing, is daar wel 'n paar tekortkominge en uitdagings wat in ag geneem moet word. Eerstens is die korpus relatief klein en dit bied nie 'n omvattende prentjie van taalgebruik in die 17de en 18de eeu nie. Frekwensies van sommige konstruksies (spesifiek ook die progressiewe konstruksies) in die korpus gaan waarskynlik te laag wees om statistiese gevolgtrekkings te kan maak. Tweedens is die taalgebruik in hierdie korpus nie verteenwoordigend van al die inwoners aan die Kaap tydens die 17de en 18de eeu nie. Die taalgebruik van byvoorbeeld Maleiers, Khoi-Khoin of ander gemeenskappe wat aan die Kaap gevestig was tydens hierdie tydperk en wat ook verskillende vorme van die veranderende Nederlands gepraat het, is nie by die korpus ingesluit nie. Derdens is die oorspronklike tekste met die hand geskryf - heel dikwels met veerpenne. Daar is dus verskeie faktore, soos inksmeersels en onduidelike handskrif of lettertipes, wat die leesbaarheid van die oorspronklike tekste bemoeilik. Vierdens is die tekste geproduseer voor die standaardisering van spelling of taalkonvensies, wat aanleiding gee tot uiteenlopende variasies in spelling. Hierdie variasies in spelling is ook nie altyd voorspelbaar nie en dit is dus moontlik dat bepaalde gebruike en konstruksies nie ingesluit word in die soekstringe wat gebruik word nie. Daar moet ook gelet word op moontlike variasies in sinskonstruksies en selfs semantiese waarde wanneer met die gegewens van hierdie korpus omgegaan word. Laastens bemoeilik die afwesigheid van verwysingsbronne wat genoegsame taalkundige beskrywings van die taalgebruik van hierdie tydperk weergee, die navorsingsproses.

Ten spyte van hierdie uitdagings, is die THT-korpus van onskatbare waarde vir hierdie studie, omdat dit 'n vertrekpunt bied vir diachroniese studies oor die ontwikkeling van Afrikaans as taal. Hierdie korpus kan insiggewende data lewer oor die deurgaanse ontwikkeling van die verskille in die gebruike van die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans en Nederlands. Die THT-korpus maak dit moontlik om te bevestig of die verskille wat tans tussen Afrikaans en Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies bestaan, reeds sigbaar was in die veranderende Nederlands (oftewel die ontwikkelende Afrikaans) van die 17de en 18de eeu.

Die korpussagteware, naamlik WordSmith 7.0, sowel as VivA Korpusportaal: Eksklusief (2020), is gebruik om geskikte resultate van die progressiewe konstruksies in die THT-korpus8 te vind. Vanweë die moontlike variasies in spelling en skryfwyses van die drie progressiewe konstruksies, is daar van die volgende soekstringe gebruik gemaak:9

PREP-progressief:10 an het / an 't / an't / ant / an die / an di

aan het / aan 't / aan't / aant / aan die / aan di

aen het / aen 't / aen't / aent / aen die / aen di

oan het / oan 't / oan't / oant / oan die / oan di

Besig-progressief:11 besig met / besig en / besig te / besig om te / besig t' /

besig om t'

bezig met / bezig en / bezig te /bezig om te / bezig t' /

bezig om t'

besigh met / besigh en / besigh te / besigh om te / besigh t' / besigh om t'

bezigh met / bezigh en / bezigh te / bezigh om te / bezigh t' /

bezigh om t'

beuzich met / beuzich en / beuzich te / beuzich om te /

beuzich t' / beuzich om t'

CPV-progressief:12 loop te / loop en / lop te / lop en / looped te / looped en / geloop

te / geloop en / lopen te / lopen en / loopen te / loopen en

sit te / sit en / zit te / zit en / zett te / zett en / zitten te /

zitten en / zetten te / zetten en / zat te / zat en / zaten te /

zaten13 en / zitte te / zitte en /

gesit te / gesit en / gezeten te / gezeten en

le te / le en / lê te / lê en / liggen te / liggen en / licghen te /

licghen en / lichen te / lichen en / lizze te / lizze en (niks)

stan te / stan en / staan te / staan en / staen te / staen en /

stean te / stean en

Die Historiese Korpus van Standaardafrikaans (HKS-korpus) dien as aanvullende korpus vir hierdie studie. Hierdie korpus is saamgestel deur Kirsten (2019) met behulp van die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) en bestaan uit tekste wat verkry is vanaf Ana Deumert se "Corpus of Cape Dutch Correspondence", en briewe wat strek vanaf 1911 tot en met 1980 wat deur die Nasionale Argief Pretoria, die Noordwes-Universiteit Argief en die Epog Argief verskaf is (Kirsten 2019:66).

Die HKS-korpus is dus 'n gestratifiseerde korpus wat uit 'n totaal van 1 032 180 woorde bestaan. Hierdie korpus strek oor vier tydsintervalle, naamlik 1911-1920, 1941-1950, 1971-1980 en 2001-2010. Hierdie tydsintervalle bevat onderskeidelik, 242 686, 263 838, 262 386 en 263 270 woorde. Die genres wat verteenwoordig word in die korpus, is: fiksie; populêre fiksie - waaronder biografiese tekste, verslaggewing, informatiewe tekste en religieuse tekste ingesluit word; akademiese tekste vanuit die geesteswetenskappe en natuurwetenskappe; en manuskripte waaronder briewe en dagboekinskrywings ingedeel is. Ten minste tien verskillende tekste van verskillende outeurs wat, sover moontlik, oor uiteenlopende temas handel, is by elk van die bogenoemde genres ingesluit (Kirsten 2019:66).

Gesamentlik bied hierdie twee korpora toegang tot taalgebruik wat oor 'n tydperk van 243 jaar strek. Daar is wel 'n leemte in die seleksie korpora, aangesien geen tekste uit die 19de eeu by een van die korpora ingesluit word nie. Ten spyte van hierdie tydsgaping in die data, kan bepaalde afleidings aangaande die ontwikkeling van die verskille tussen die Afrikaanse en Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies steeds gemaak word, aangesien dit steeds 'n diachroniese beeld skep van hoe die konstruksies oor tyd ontwikkel het.

4.2 Data-analise

Die THT-korpus en HKS-korpus dien as taalbron. Met hierdie studie word beoog om vas te stel tot watter mate of op watter wyse die progressiewe perifrastiese konstruksies wel voorkom in die taaldata van hierdie korpora, om sodoende te kan vasstel wanneer die verskille wat tans tussen hierdie ewekniekonstruksies in Afrikaans en Nederlands waargeneem word, begin sigbaar raak het in Afrikaans (vergelyk weer tabel 2).

In hierdie afdeling word die frekwensies, gebruike en vorme van die verskillende progressiewe konstruksies in die diachroniese tydperk bekyk. Sodoende kan 'n idee gevorm word van die wyse waarop die verskillende konstruksies oor tyd deur taalgebruikers aangewend is en verandering ondergaan het. In afdeling 3 is bepaalde semantiese eienskappe en gebruike van elke progressiewe konstruksie in Afrikaans vanuit 'n sinchroniese beskouing opgesom, asook die verskille tussen die progressiewe konstruksies in Afrikaans en Hedendaagsnederlands. In hierdie gedeelte van die artikel sal na hierdie eienskappe en gebruike vanuit 'n diachroniese hoek gekyk word om te bepaal op watter stadium hierdie kenmerke in die huidige vorm van Afrikaanse progressiewe konstruksies sigbaar begin raak het.

4.2.1 Die PREP-progressief

Soos aangetoon, is verskeie soekstringe gebruik om moontlike resultate vir die PREP-progressief in die twee korpora te vind. Tabel 2 bied 'n opsomming van die totale frekwensies van die soekstringe, en dui die verhouding aan tussen die resultate wat as progressiewe konstruksies gereken kan word, en resultate wat ander betekenisse (hoofsaaklik lokatiewe betekenisse) aanbied. Alle totale frekwensies word as rou frekwensies in die tabel aangebied. Die relatiewe frekwensies van die progressiewe konstruksies (dit is die persentasie van alle resultate wat as progressiewe konstruksies gereken kan word) word ook aangebied, aangesien dit 'n aanduiding kan gee van hoe gereeld die progressiewe konstruksie, sowel as verskillende vorme van die konstruksie, voorkom oor die verskillende tydperke.

Vanweë die lae frekwensies van die konstruksies en die korpora, word daar nie gepoog om die resultate te normaliseer of selfs statistiese vergelykings te tref tussen die relatiewe frekwensies van die progressiewe konstruksies nie. Die korpora is te klein vir die taalgebruik wat daarin opgeneem is om as verteenwoordigend beskou te word en dus om werklik afleidings te kan maak, onder meer, oor die mate van gegrammatikaliseerdheid van die verskillende konstruksies. Hierdie frekwensies is eerder 'n aanduiding van die verskillende vormlike variasies van die konstruksies wat oor die verskillende tydperke bestaan of ontwikkel het.

Tabel 314 dui aan watter verskillende vorme van die PREP-progressief in die verskillende tydperke van die twee korpora aangetref is.

Die aant en aen het-progressiewe kom geredelik voor in die THT-korpus. Nie een van hierdie vorme is egter in die HKS-korpus aangetref nie. Die teenoorgestelde tendens kom voor by die aan die-progressief wat redelik voorkom in die HKS-korpus, maar nie in die THT-korpus aangetref is nie. Dit is noemenswaardig dat die aan't-progressiewe vorm asook 'n verskeidenheid van die spelvariasies daarvan (ant, an't en aant) teëgekom is in die THT-korpus. Hierdie konstruksie is die enigste PREP-progressief wat volop in 'n verskeidenheid van vorme voorkom in die 17de en 18de-eeuse korpusinskrywings. Agt trefslae van die aan't-variant is opgemerk in die 20ste en 21ste-eeuse taaldata terwyl geen trefslae van die alternatiewe spelvariante in hierdie tydperk opgemerk is nie. Hierdie tendens kan dui op die standaardisering van Afrikaanse spelling tydens die 20ste eeu asook op die spesialisering van die aan't-konstruksie.

Die aan het-konstruksie blyk tydens die 17de en 18de eeu steeds hoofsaaklik lokatiewe betekenis uit te druk (sien voorbeeld (25) en (26)). Soveel as 99.90% (2 van 2106, soos aangetoon in Tabel 2) van die aan/aen het-trefslae druk nie-progressiewe leksikale betekenis uit. So ook toon die resultate dat die aen het vormlike variasie eerder progressiewe betekenis uitdruk.

(25) Lok: Charles Marais woonende aan het breede rivier. (THT-korpus)

(26) Prog: ...Indien als oock van alle andere over haer gestelde overheeden ende bevelhebberen te arbeijden, aen het maken ende repareren, van forten, batereijen

ende loopschanssen... (THT-korpus)

Die afwesigheid van aan die-trefslae in die THT-korpus kan 'n aanduiding wees dat die bepaalde lidwoord het tydens die 17de en 18de eeu nog nie in die volksmond van die spraakgroep wat by die korpus ingesluit is, vervang is met die as bepaalde lidwoord nie. Alhoewel nie een van die korpora data uit die 19de eeu insluit nie, blyk die relatiewe teenwoordigheid van voorbeelde van die aan die-progressiewe in die taaldata uit die 20ste eeu 'n aanduiding te wees van die vervanging van die het met die as bepaalde lidwoord, wat moontlik tydens die 19de eeu geskied het. Hierdie bevinding stem ooreen met die tydlyn wat Raidt (1991:208) aanbied vir die verlies van die klassestelsel in vroeë Afrikaans.

Dit is verder opvallend dat bykans al die aan't-progressiewe uitsluitlik in formele tekste, hetsy formele briewe, biografiese tekste of verslaggewing voorkom in die HKS-korpus en dat die laaste trefslag van die aan't-progressief in die korpusdata voor 1950 gepubliseer is.

Aangesien die resultate in die korpora so beperk is, kan geen statistiese afleidings gemaak word oor die frekwensietoenames of -afnames nie. Dit is wel opvallend dat sinchroniese studies soos dié van Breed en Brisard (2015) en Breed, Brisard en Verhoeven (2017) meld dat die algemene gebruik van progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans hoër is as in Nederlands. Hierdie sinchroniese studies skep die verwagting dat vroeë vorme van Afrikaans, soos dié wat in die THT-korpus vervat word, meer sal ooreenstem met Nederlands en dat progressiewe perifrastiese konstruksies dus algeheel minder moet voorkom in hierdie data. Die resultate van die diachroniese studie toon dat meer Nederlandse vormlike variasies soos aen het en ant wel algemeen voorkom in die THT-korpus, en dat die PREP-progressiewe algemeen voorkom in die 17de en 18de-eeuse taaldata.

4.2.2 Die besig-progressief

Tabel 4 dui aan watter verskillende vorme van die besig-progressief vir die verskillende tydperke in die twee korpora aangetref is. Alle totale frekwensies word as rou frekwensies in die tabel aangebied. Net soos in Tabel 2, word die relatiewe frekwensies van die progressiewe konstruksies ook aangedui.

Tabel 5 dui die frekwensie van die verskillende vorme van die besig-progressief oor die verskillende tydperke aan.

Vormlike variasies van die besig-progressief kom deurgaans in die korpusdata voor.

Al die vormlike variasies behalwe die om te-variasie van hierdie progressiewe konstruksie kom voor in al die tydperke. Alhoewel twee trefslae met omme teëgekom is, word daar nie in hierdie konstruksies gebruik gemaak van die partikel te of voegwoord en nie. Die besig om te-konstruksie is dus 'n nuwer ontwikkeling in Afrikaans, omdat die eerste trefslae van hierdie vormlike variasie eers ná 1910 voorkom in die korpusdata.

Aanvanklik kom beide die besig/besigh met- en bezig/bezigh met-variasies dikwels voor in die 17de en 18de-eeuse data, maar slegs trefslae van die besig met spelwyse word aangetref in die korpusdata ná 1910. Dit is dus moontlik dat die z-spelwyse teen die 20ste eeu reeds in Afrikaans vervang is met die s-spelwyse.

Dit is opvallend dat, ten spyte daarvan dat die tekste wat in die THT-korpus vervat word die standaardisering van spelling voorafgaan, die trefslae wat gebruik maak van die besig te-vorm almal gepubliseer is in die tweede helfte van die 18de eeu en die sinskonstruksies is dus steeds oorheersend Nederlands van aard (sien voorbeeld (27)).

(27) toekomende weeck met 'et aanvoeren van zoden (als sijnde wel 't

nootsakelijcxste) ons noch besig te houden. (THT-korpus)

Alhoewel die resultate wat verkry is in die korpus te min is om toeval uit te skakel en werklik beduidende afleidings te maak oor hierdie tendens, kan daar wel hipotetiese afleidings gemaak word oor die moontlikheid van 'n fonologiese verskuiwing. 'n Verlies aan die z in bezig word waargeneem in die navorsingstydperk, met slegs drie uit agt gevalle van die bezig te-konstruksie wat gebruik maak van die z. Daar kan egter nie gestel word dat hierdie vervanging van die z met die s 'n doelbewuste afwyking van die Nederlandse spelwyse is nie, maar slegs dat beide vorme teenwoordig is. Dit is wel moontlik dat hierdie afwyking in spelling aanleiding gegee het tot ander konstruksies wat eie is aan Afrikaans. Een sodanige voorbeeld is die voorsetsel om wat, vanuit die korpusinligting, lyk of sy oorsprong in die Nederlandse argaïese omme lê en grammatikaliseer tot Afrikaanse infinitiefmerker. Tog is daar nie genoegsame data verkry in die korpus om 'n definitiewe beslissing hieroor te maak nie.

Dit is wel opmerklik dat alhoewel beide die besig/bezig-variasies gelyktydig voorgekom het in die taaldata van 1680-1708, die besig/besigh met-konstruksie aansienlik meer voorkom in hierdie tydperk as enige ander besig/bezig-konstruksie of spelwyse.

Dit is verder opvallend dat die hoë frekwensie van die besig om te-progressief wat deur Breed, Brisard en Verhoeven (2017) gemerk word ('n relatiewe frekwensie van 7 992 in Afrikaans teenoor 181 in Nederlands in statisties vergelykbare korpora), nie die bevindinge van hierdie studie weerspieël nie. Dit is dus moontlik dat hierdie verskynsel in hedendaagse Afrikaans eers ná 2010 in Afrikaans werklik begin posvat het.

4.2.3 Die CPV-progressief

Tabelle 6 tot 9 dui aan watter verskillende vorme van die CPV-konstruksies vir die verskillende tydperke in die korpora aangetref is. Alle totale frekwensies word as rou frekwensies in die tabel aangebied. Net soos in Tabelle 2 en 4, word die relatiewe frekwensies van die progressiewe en nie-progressiewe konstruksies aangedui.

Tabelle 10-13 dui die frekwensies van die verskillende vorme van die CPV-progressiewe oor die verskillende tydperke aan.

Die CPV-progressief is die progressiewe konstruksie wat mees frekwent voorkom in die 17de en 18de eeu. 'n Hele aantal CPV-progressiewe konstruksies met verskillende spelwyses en verbuigings vir tyd en persoon van die staan en/te-progressief is in die 17de en 18de-eeuse taaldata aangetref. Dit is opvallend dat die staan-progressiewe konstruksies in die laat 17de eeu hoofsaaklik gebruik maak van die te partikel, so ook is dit interessant dat beide enkelvoud- (staan te) en meervoudsvorme, asook verledetydsvorme (gestaan en, gestonden te) in hierdie tydperk van die korpusdata voorkom. Daarenteen is geen trefslae vir die staen te spelvariasie óf die verledetydsvorme van hierdie postulêre konstruksie in die taaldata ná 1780 teëgekom nie. In die vroeë 20ste eeu word drie gevalle van die gestaan en-verledetydsprogressief aangetref, dit is wel opvallend dat geen voorbeelde van die stonden of staen-variasies teëgekom is nie.

Dieselfde tendens kan by die ander CPV-konstruksies gemerk word. Dit wil sê dat variasies in spelling (zit, zitten, zat, loopen, leggen, en gelegen) wat in 17de en 18de-eeuse taaldata voorgekom het, nie aangetref is in laat 20ste en vroeë 21ste-eeuse taaldata nie. Hierdie neiging kan verband hou met die standaardisering van Afrikaans in die vroeë 20ste eeu.

Die staan-progressief is dan ook die vroegste progressiewe perifrastiese konstruksie wat aangetref is in die THT-korpus en kom voor in 'n dagboekinskrywing uit 1668 (sien voorbeeld (28) en (29)). Dit is egter opvallend dat hierdie konstruksies mees frekwent voorkom in skeepsverwante en militaristiese kontekste.

(28) ... en dat vee uijt des ondergets troepen stonden te soeken en weg te jaagen...

(THT-korpus)

(29) Waerop de twee laest genoemde gevangens stil sijn gebleeven staan en haer aen

de Duijtschen gevangen gegeeven te hebben.

(THT-korpus)

Hierteenoor toon die CPV-progressiewe in die ander voorbeelde uit die THT-korpus nog etlike ooreenkomste met hul leksikale betekenisse en hierdie gevalle word as meerduidig beskou, eerder as werklike voorbeelde van die CPV-progressief (sien voorbeeld (30) uit 'n dagboekinskrywing van 1786).

(30) ... sulcx binnen weijnich dagen staat te vertrecken. (THT-korpus)

Die sit-progressiewe variasies kom die minste algemeen voor in die korpus, met die -variasies wat die tweede meeste voorkom. Hiernaas kom die loop-konstruksie die tweede minste algemeen voor.

Tog strek die gebruik van hierdie progressiewe oor formele en informele genres sowel as oor die hele spektrum tydperke wat by die korpus ingesluit is. Hierdie gevalle kom dan ook voor saam met die volgende werkwoorde: lag, soek, adverteer, sing, vreet en lees. Sommige van hierdie werkwoorde word nie algemeen verwag saam met die progressiewe konstruksie nie. Die gevalle met veral lees en vreet, soos weergegee in voorbeeld (31) en (32), is meerduidig en die leksikale betekenis van loop is steeds prominent hier.

(31) Ja, die man kon loop en lees! (THT-korpus)

(32) terwijl die andere in die sand die sweet afrol, en partij reeds rustig

loop en vreet. (THT-korpus)

In voorbeeld (33) kom die direkte objek in die sinsposisie tussen die CPV-progressief en die werkwoord waarmee hy kollokeer voor. Hierdie sinskonstruksie is nie ongrammatikaal in Afrikaans nie, maar word wel as 'n meer Nederlandse sinstruktuur beskou. Voorbeeld (34) toon die meer gebruiklike en dus die verwagte Afrikaanse sinstruktuur. Tog moet in ag geneem word dat hierdie sin uit 'n persoonlike brief kom wat in 2004 geskryf is, en die outeur kon dus doelbewus kreatief met sy taalgebruik omgaan.

(33) Ek en my oupa loop en pad soek terwyl my broer bestuur. (HKS-korpus)

(34) Ek en my oupa loop en soek die pad terwyl my broer bestuur.

Die staan/staat te-progressief is heelwat meer aangetref in die 17de-eeuse taaldata as die ander CPV-konstruksies. Hierteenoor kom die sit-konstruksies mees algemeen voor in die laat 20ste-eeuse taaldata. 'n Groot meerderheid van hierdie konstruksies kom dan ook voor in fiksietekste wat in die laat 20ste eeu en vroeë 21ste eeu gepubliseer is. Hierdie tendens kan moontlik daaraan toegeskryf word dat hierdie konstruksies die algemeenste postulêre posisies uitdruk waarin aksies uitgevoer kan word. Te meer bevat al die voorbeelde van CPV-progressiewe uit die 20ste eeu agens-subjekte. Hierdie bevinding stem ooreen met die bevindinge van Breed (2012).

4.2.4 Samevattende vergelyking

Tabel 14 en Figuur 1 bied 'n opsomming van die relatiewe frekwensies van die drie progressiewe konstruksies. Die relatiewe frekwensie is bereken deur die totale frekwensie van die progressiewe konstruksies in elke korpus te deel deur die totale korpusgroottes. Hierdie vergelyking maak dit moontlik om te bepaal watter progressiewe konstruksie telkens in elke tydperk (naamlik die tydperk van die 17de en 18de eeu soos gevind in die THT-korpus, en die tydperk van die 20ste en vroeë 21ste eeu soos gevind in die HKS-korpus) mees algemeen gebruik is.

Hoewel die frekwensies van die relatiewe frekwensies van progressiewe konstruksies baie laag is in die twee korpora, wil dit wel voorkom (veral as na Figuur 1 gekyk word) of daar stelselmatige veranderinge te bespeur is in die wyse waarop taalgebruikers die progressiewe konstruksie oor die tydperk begin gebruik het.

Dit lyk asof die progressiewe perifrastiese konstruksies meer frekwent raak na die laat 18de eeu. Hierdie resultate ondersteun die bevindinge van Breed en Brisard (2015), Brisard en Verhoeven (2017), naamlik dat Afrikaanse sprekers 'n toenemende behoefte toon om progressiewe betekenis uit te druk.

In teenstelling met die bevindinge van die sinchroniese studies, blyk die besig-progressiewe konstruksies nie die mees gebruiklike progressiewe konstruksie in Afrikaans te wees nie. Die hoë frekwensies van die besig-progressiewe wat in die sinchroniese studies gemerk word, is nie sigbaar in die 20ste en vroeë 21ste-eeuse taaldata nie. Een moontlike rede vir die verskil in die bevindinge van hierdie ondersoek en dié van Breed, Brisard en Verhoeven (2017) is die korpusgrootte. Die TK-korpus waarvan hulle gebruik maak, is aansienlik groter as die HKS-korpus en sluit nie net 'n groter versameling tekste in nie, maar ook meer resente taaldata. Die tweede moontlike rede vir hierdie verskil is die periode-afbakening van die HKS-korpus se taaldata. Dit is dus moontlik dat hierdie ontwikkeling 'n meer resente ontwikkeling in Afrikaans is as wat verwag word en dat die besig-progressief eers ná 2010 begin voorkeur geniet het.

So ook blyk dit dat die PREP-progressiewe en CPV-progressiewe meer voorkom in die taaldata van die HKS-korpus as wat aanvanklik verwag is. Tog, stem die vormlike variasies van die drie progressiewe konstruksies (soos getoon in tabelle 2, 4, 6, 7 en 8) in die HKS-korpus wel ooreen met die vormlike variasies wat in die sinchroniese studies gemerk is.

 

5. SLOT

Vanuit die bostaande resultate is dit duidelik dat al die progressiewe perifrastiese konstruksies nie ewe vinnig gegrammatikaliseer het nie. Die eerste progressiewe perifrastiese konstruksie wat aangetref is in die korpora, was 'n CPV-konstruksie wat bewys dat hierdie konstruksies wel gebruik is om progressiwiteit uit te druk in die laat 17de eeu. So ook is bevind dat progressiewe gebruike van loop so laat soos 2004 steeds in Afrikaans gebruik kon word saam met 'n direkte objek, alhoewel hierdie funksie in die taalkundeliteratuur slegs aan Nederlandse CPV-konstruksies toegeken is. Laastens is bevind dat die CPV-konstruksie algemeen voorkom in die 20ste en vroeë 21ste-eeuse taaldata, ten spyte daarvan dat daar verwag is dat die besig-progressief meer dikwels aangetref sou word in die HKS-korpus. Dit blyk dus dat die voorkeur wat die CPV-konstruksies in Hedendaagsnederlands geniet, ook tot onlangs nog sigbaar is in die Afrikaanse diachroniese korpora.

In teenstelling met die CPV-konstruksies is die besig-konstruksie minder dikwels aangetref in die Afrikaanse diachroniese korpora. Alhoewel die sinchroniese studies die verwagting skep dat die besig-progressiewe konstruksies volop behoort voor te kom in die HKS-korpus, lyk dit asof die besig-progressiewe nie so gewild is in die 20ste en vroeë 21ste-eeuse taaldata as wat dit in die sinchroniese taaldata voorkom nie. Dit is dus moontlik dat hierdie konstruksie toegeneem het in gewildheid ná 2010.

Verskeie vormlike variasies van die besig met-konstruksie is aangetref in die 17de en 18de-eeuse taaldata, terwyl die om te-variant nie so geredelik voorgekom het in hierdie tydperk nie. Die besig-konstruksie is ook die progressiewe perifrastiese konstruksie wat die grootste verspreiding het in beide korpora. Dit wil sê dat hierdie konstruksie deurgaans in al die tydperke in die grootste verskeidenheid genres gebruik word. So ook is dit die konstruksie wat die minste trefslae van nie-progressiewe gebruike gelewer het.

Laastens is die aan 't-konstruksie bykans uitsluitlik as 'n progressiewe konstruksie gebruik in die trefslae wat uit die 17de en 18de eeu dateer. Hierteenoor word die aan het-konstruksie steeds dikwels as lokatief gebruik in tekste vanuit dieselfde tydperk. In teenstelling hiermee kom aan het slegs een keer in tekste vanuit die 20ste en 21ste eeu voor in 'n progressiewe konstruksie, terwyl aan die die mees frekwente PREP-konstruksie in hierdie korpus is.

Hierdie gegewens toon dat die meerderheid van die verskille tussen die huidige Afrikaanse en Nederlandse progressiewe perifrastiese konstruksies reeds sigbaar was teen die begin van die 19de eeu. 'n Diachroniese benadering tot hierdie konstruksies het nie slegs die teenwoordigheid van hierdie konstruksies in bepaalde tydperke bevestig nie, maar ook die verstaan van hierdie konstruksies, soos dit in die sinchroniese literatuur uiteengesit word, uitgebrei deur nuwe vormlike variasies en tendense in die gebruik van hierdie progressiewe perifrastiese konstruksies aan die lig te bring.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

BIBLIOGRAFIE

Booij, G. 2003. Constructional idioms as products of linguistic change: the aan het + INFINITIEF construction in Dutch. In Ackerman, Blevins, & Stump (eds). Paradigms and periphrases. Chicago: University of Chicago Press. pp. 79-104.         [ Links ]

Booij, G. 2004. De aan het infinitief-constructie in het Nederlands. In De Schutter, Devos & Van Keymeulen (eds). Taeldeman man van de taal, schatbewaarder van de taal. Gent: Academia Press, pp. 97-106.         [ Links ]

Booij, G. 2008. Constructional idioms as products of linguistic change: the aan het construction in Dutch. In Bergs & Diewald (eds). Constructions and language change. Berlin: Mouton de Gruyter, pp. 81-106.         [ Links ]

Breed, A. 2012. Die grammatikalisering van aspek in Afrikaans: 'n Semantiese studie van perifrastiese progressiewe konstruksies. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Breed, A. 2016. Aspek in Afrikaans: 'n teoretiese beskrywing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):62-80.         [ Links ]

Breed, A & Brisard, F. 2015. Postulêre werkwoorde as progressiewe merkers in Afrikaans en Nederlands. Internationale Neerlandistiek, 53(1):3-28.         [ Links ]

Breed, A, Brisard, F & Verhoeven, B. 2017. Periphrastic progressive constructions in Dutch and Afrikaans: A contrastive analysis. Journal of Germanic Linguistics, 29(4):305-378.         [ Links ]

Breed, A & Van Huyssteen, G. 2014. Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: die ontstaan en ontwikkeling (1). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):708-725.         [ Links ]

Breed, A & Van Huyssteen, G. 2015. Aan die en besig in Afrikaanse progressiwiteitskonstruksies: 'n korpusondersoek (2). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(2):251-269.         [ Links ]

Bybee, JL, Perkins, RD & Pagliuca, W. 1994. The evolution of grammar: tense, aspect and modality in the languages of the world. Chicago: University of Chicago.         [ Links ]

Comrie, B. 1976. Aspect: an introduction to the study of verbal aspect and related problems. Cambridge: Cambridge.         [ Links ]

Deo, A. 2012. Morphology. In Binnick (ed.). The Oxford Handbook of Tense and Aspect. Oxford: Oxford, pp. 155-183.         [ Links ]

De Schryver, G & Prinsloo, DJ. 2000. The compilation of electronic corpora, with special references to the African languages. South African Linguistics and Applied Language Studies, 18:89-106.         [ Links ]

Geleyn, T. 2010. De progressieve constructies bezig zijn en besig wees: een contrastief corpusondersoek Nederlands - Afrikaans. Gent: Universiteit Gent.         [ Links ]

Geleyn, T & Colleman, T. 2014. De progressieve constructies bezig zijn en besig wees: Een contrastief corpusonderzoek Nederlands-Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(1):56-74.         [ Links ]

Heine, B & Reh, M. 1984. Grammaticalization and reanalysis in African languages. Hamburg: Helmut Buske Verlag.         [ Links ]

Hopper, PJ & Traugott, EC. 2003. Grammaticalization. 2nd ed. Cambridge: Cambridge.         [ Links ]

Instituut voor de Nederlandse taal. 2021. Historische woordenboeken Nederlands en Fries. http://gtb.inl.nl/search/ [20 Maart 2021].         [ Links ]

Kirsten, J. 2018, Historiese korpus van Standaardafrikaans [Historical corpus of written Afrikaans] 1.1 (HKSA), Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark.         [ Links ]

Kirsten, J. 2019. Written Afrikaans since Standardization. A Century of Change. Lanham: Lexington.         [ Links ]

Langacker, R. 1990. Concept, image, and symbol: The cognitive basis of grammar. Berlin: Walter de Gruyter.         [ Links ]

Lemmens, M. 2005. Aspectual posture verb constructions in Dutch. Journal of Germanic Linguistics, 17(3):183-217.         [ Links ]

Lemmens, Maarten. 2008. Een contrastieve analyse van progressiefconstructies in het Nederlands, het Engels en het Zweeds. Paper presented at the IVN colloquium held in Antwerp, August 27.         [ Links ]

Lemmens, Maarten. 2015. Zit je te denken of ben je aan het piekeren? Persistentie in het synchrone gebruik van de PREP- en POS-progressiefconstructies in het Nederlands. Nederlandse Taalkunde, 20:5-36.         [ Links ]

Liebenberg, H. 2017. Tracing History Trust korpus.         [ Links ]

Raidt, EH. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou.         [ Links ]

Tracing History Trust. 2011. Paper past to plastic present. http://tracinghistorytrust.co.za/products.htm [16 Augustus 2019].         [ Links ]

Trask, RL. ed. 1993. A Dictionary of Grammatical Terms in Linguistics. London: Routledge.         [ Links ]

Van Aardt, CA & Breed, CA. 2016. Postulêre werkwoorde in Griekwa-Afrikaans: 'n Ondersoek vanuit 'n grammatikaliseringsperspektief. Stellenbosch Papers in Linguistics, 46:1-24.         [ Links ]

Van Pottelberge, J. 2007. Defining grammatical constructions as a linguistic sign: The case of periphrastic progressives in the Germanic languages. Folia Linguistica, 41(1):99-134.         [ Links ]

VivA. 2020. Korpusportaal. http://korpus.viva-afrikaans.org/whitelab/search/simple [13 April 2021].         [ Links ]

Zwart, J. 2017. A note on the periphrastic past in Afrikaans. Stellenbosch Papers in Linguistics, 48:1-8.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-08-25
Goedgekeur: 2021-03-31
Gepubliseer: Junie 2021

 

 

 

RONÉ WIERENGA is tans 'n taalkundeskrywer en -navorser vir die Virtuele instituut vir Afrikaans (VivA). Hierbenewens is sy ook werksaam by die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) en die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Letterkunde (DBAL), en sy is ook navorsingsassistent in Sosiofonologie by die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT). Sy is vanjaar 'n Meestersgraadstudent in Linguistiekteorie aan die Noordwes-Universiteit. Haar navorsing fokus op diachroniese, beskrywende taalkunde, sintaksis en korpuslinguistiek. In 2019 verwerf sy 'n BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands, met Klassieke Latyn en Engels as addisionele modules, aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
RONÉ WIERENGA is an author and researcher in linguistics for the Virtual institute for Afrikaans (VivA). She also works for the Digital Bibliography for Afrikaans Linguistics and the Digital Bibliography for Afrikaans Literature, and as research assistant for the Centre for Text Technology (CTexT). She is currently completing a Master's degree in Linguistic Theory at the North-West University. Her research focus is diachronic, descriptive linguistics, syntax and corpus linguistics. In 2019 she completed her BA honours in Afrikaans and Dutch, with English and Classical Latin as additional modules, at the North-West University's Potchefstroom Campus.

 

 

ADRI BREED is 'n NNS-gegradeerde medeprofessor in Afrikaanse beskrywende taalkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy spesialiseer in Afrikaanse sintaksis en semantiek, met 'n spesiale fokus op die grammatikalisering van tempus- en aspekkonstruksies in Afrikaans en ander Wes-Germaanse tale. Sy het vyf grade aan die NWU voltooi, naamlik Bedryfskommunikasie (B.BK, 2005), Teologie met Tale (B.Th. Tale, 2005), 'n Honneurs in Afrikaanse Taalkunde (B.A. Hons, 2007), 'n Meestersgraad in Afrikaanse letterkunde (M.A., 2007), en 'n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde (Ph.D, 2012). Tydens haar doktorale studie spandeer sy ongeveer tien maande aan die Antwerpen Universiteit in België as medewerker aan die Center for Grammar, Cognition and Typology. Sy is voorsitter van die Potchefstroomkampus se Vakgroep Afrikaans en Nederlands. Sy is een van die outeurs en moderators van Taalportaal (www.Taalportaal.org), en ook eindredakteur van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se Taalonderrigportaal.
ADRI BREED, an NRF-rated scholar, is an associate professor of Afrikaans descriptive linguistics at the North-West University's Potchefstroom Campus. She specialises in syntax and semantics, with a particular focus on the grammaticalisation of tense and aspect constructions in Afrikaans and Dutch. She completed five degrees at the NWU, namely a degree in Business Communication (B.Bk. - 2005), a degree in Theology with languages (B.Th. Languages - 2005), an Honours degree in Afrikaans Linguistics (B.A. Hons. - 2007), a Master's degree Afrikaans Literature (M.A. - 2007) and her PhD in Afrikaans Linguistics in 2012. During the course of her doctoral studies, she spent roughly ten months at the University of Antwerp, Belgium. She is subject head of the Subject Group: Afrikaans and Dutch Studies at the Potchefstroom Campus. She is one of the authors and moderators of Taalportaal (www.taalportaal.org), and also the editor of the Virtual Institute for Afrikaans' Language Education Portal
* Hierdie artikel is gebaseer op 'n skripsie getiteld 'n Diachroniese benadering tot die ontwikkeling van die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans en Nederlands wat in 2019 deur die eerste outeur voltooi is as navorsingskomponent van die Noordwes-Universiteit se B.A. Honneurs in Afrikaans-Nederlands (1FA L01 L601P). Die tweede outeur het as studieleier van die skripsie opgetree.1 Die Taalkommissiekorpus (voortaan TK-korpus) is 'n gestratifiseerde Afrikaanse korpus vir gestandaardiseerde Afrikaans. Die TK-korpus word nie by hierdie studie betrek nie, maar dien slegs as bron vir voorbeelde uit Hedendaagsafrikaans.
2 Voorts die THT-korpus
3 Voorts die HKS-korpus.
4 Die twee korpora word in afdeling 4 verder bespreek.
5 Die term CPV-konstruksie verwys na "cardinal postural verbs", of te wel werkwoorde wat die agent se postulêre liggaamsposisie uitdruk wanneer 'n aktiwiteitswerkwoord uitgevoer word (Lemmens 2005:1). Onder hierdie term word daar hoofsaaklik na die werkwoorde sit, staan en verwys, maar loop word ook hierby ingesluit, omdat loop in Afrikaans dieselfde grammatikale funksies kan verrig as die ander CPV-progressiewe (sien Breed 2012). Vervolgens word loop deurgaans in hierdie studie as progressiewe CPV-konstruksie ingesluit.
6 Die onbepaalde lidwoord het wat in die Nederlandse PREP-konstruksies voorkom, is nie meer in Afrikaans in gebruik nie. Die het in aan het is in Afrikaans deur die bepaalde lidwoord die vervang (Raidt 1991:208). Die aan die-konstruksie word dus deurgaans as eweknie vir die Nederlandse aan het-konstruksie beskou.
7 Die terme kollokasies en werkwoordkollokasies word in hierdie studie gebruik om te verwys na werkwoorde wat beskik oor sterk aantrekkingskragte met die progressiewe konstruksies en daarom meer geneig is om saam met hierdie konstruksies voor te kom.
8 'n Vroeë .txt-weergawe van die THT-korpus is gebruik vir die Wordsmith-analises, terwyl die weergawe van die THT-korpus wat op VivA se korpusportaal beskikbaar is, gereeld bygewerk en aangepas word. Dit is dus moontlik dat daar enkele verskille (onder meer frekwensie- en voorbeeldverskille) tussen die twee weergawes van die THT-korpus kan wees.
9 Die moontlike spelwyses is bepaal deur gebruik te maak van die aanlyn weergawe van die Historische Woordenboeken Nederlands en Fries (2021).
10 Die alternatiewe spelling hit = het is deurgaans ook nagegaan.
11 Die volgende spelvariasies vir die infinitiefpartikel en preposisies word deurgaans in elkeen van die onderstaande kombinasies getoets: met = mit; om = omme/umme; en = inde/ende.
12 Elkeen van die vervoegde vorme, persoonsverbuigings en tempusverbuigings, van die Nederlandse en Afrikaanse postulêre werkwoorde word nagegaan vir elkeen van die moontlike CPV-konstruksies.
13 Dit is moontlik dat daar nog ander moontlike relevante resultate van progressiewe konstruksies in die korpora te vinde kan wees wat nie deur die huidige soekstringe opgelewer is nie. Ter wille van uitvoerbaarheid is die soekstringe beperk tot hierdie gelyste variasies. Hoewel dit dus moontlik is dat die resultate nie 'n volledige opsomming van die progressiewe konstruksies in die korpus oplewer nie, kan aanvaar word dat die resultate wél voldoende is om die diachroniese ontwikkeling van die drie progressiewe konstruksies in Afrikaans te ondersoek.
14 Slegs vorme waarvoor resultate gevind is, word in tabelle 3, 5 en 10-13 gelys. Daar is nie resultate vir elkeen van die soekstringe gevind nie.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons