SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1The displacement of retail spending by students in host cities owing to Covid-19: A case studyO, laat er een mis zijn índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a21 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Die opstuwende geesteswetenskappe-inskrywings aan Hoëronderwysinstellings wêreldwyd

 

The surging humanities enrolments at Higher Education Institutions worldwide

 

 

Charl Wolhuter

Vergelykende en Internasionale Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Charl.Wolhuter@nwu.ac.za

 

 


OPSOMMING

Hierdie artikel bied 'n bestekopname en kritiese, sinsoekende bevraging van die geesteswetenskappe as 'n kollektief aan universiteite en binne die samelewing van die een-en-twintigste eeu. Nadat universiteite vir baie lank op die rand van die samelewing was, het die universiteit as instelling na die middelpunt beweeg sedert die middel van die twintigste eeu, en meer so sedert die aanbreek van die wêreldwye hoëronderwysrevolusie vanaf ongeveer 1990. Deel van die massifikasie wat die hoofkenmerk van hierdie revolusie is, is die toename in geesteswetenskappe-inskrywings. In die lig van die eise wat die huidige eeu se ontvouende samelewing aan hoër onderwys stel, is hierdie tendens te verwelkom. Die grootste leemte is dat daar geen dienooreenkomstige navorsingsaktiwiteit is om hierdie studentekorps of hul dosente te begelei tot die beste onderwys en onderwysstelselpraktyk nie. In die slotgedeelte van hierdie artikel word enkele aanbevelings vir die agenda van so 'n navorsingsprojek gemaak.

Trefwoorde: demokratisering, geesteswetenskappe, hoër onderwys as navorsings-veld, hoëronderwysinskrywingsgetalle, individuele opbrengskoerse, internasionale hoëronderwysrevolusie, maatskaplike opbrengskoerse, samelewingskritiek, sosiale wetenskappe, universiteit


ABSTRACT

This article offers a stocktaking and critical, meaning-searching interrogation of the humanities as collective at universities and in the twenty-first-century society. As a working definition of "humanities", the lexical definition of "any of the fields of scholarship taking the mental life and resultant cultural products of humans as its object ofstudy " is accepted. To the humanities belong not only history and linguistics but also the group of fields sometimes named the social sciences, such as sociology, anthropology and political science. "An autonomous institution devoted to the advancement of various branches of higher learning" is taken as a working definition of a university. During its long history, this institution has acquired an unexchangeable, irreplaceable number of interrelated roles in society, namely teaching and research, community service of a particular kind, innovation, cultural preservation, transmittance and development, and societal critique.
A set of powerful societal forces characterising the twenty-first-century society is gathering momentum today, including the ecological crisis, demographic dynamics (population explosion in the Global South, changing age profiles, migration patterns and an increasingly mobile population) and growing affluence as well as inequalities. Also part of these forces are a nascent knowledge economy, the fourth industrial revolution, the neo-liberal economic revolution, changing roles in the family and the workplace and the rise of tertiary social groupings, technological developments (the information, communications and transportation revolution in particular), the rise of multicultural societies, democratisation and individualisation, the rise of global political structures, the persistent but changed presence of religion in society and the rise of the creed of human rights as the new global moral code. These trends underscore even more the role and value of the university in society, including that of the humanities in universities.
After having been on the periphery of society for centuries, the university as institution has, since the mid-twentieth century and especially since the global higher education revolution has commenced around 1990, moved to the frontstage of society. In view of the imperatives that the nascent, unfolding twenty-first century directs to higher education, this is a wholesome development, as is the swelling rise of enrolments in the humanities as part of the massification that is the hallmark of the global higher education revolution. In countries such as the United States of America, Turkey and Egypt, at any given point, the number of students of humanities at universities runs into the millions, while in the case of India, the figure tops the 12 million mark. The case for the humanities and enrolling in the humanities can be strongly argued from many points of view, not only in terms of the need of a schooled citizenry (or elite vanguard of the citizenry schooled in the humanities) but also from stark empirical evidence of individual and social rates of return (although the numbers of publications with these calculations are not at all sufficient). The biggest lacuna is the absence of research on the teaching and research of humanities at universities on the research agenda of the meteoric rise of higher education as field of scholarship in recent decades. Without denigrating or negating the importance of academic freedom and academic autonomy of faculty, such research is needed in order to construct a pedagogy of humanities and to guide faculty in advancing humanities at universities. In conclusion, some suggestions as to the research agenda for such a research project on the pedagogy of humanities at universities are made. These include teaching methods, learning methods, curricula, the need for a normative superstructure in the humanities, tracer studies (surveying both students and employers), individual as well as social rates of return analyses, student surveys and surveying students' sources of inspiration and motivation for enrolling in the humanities.

Keywords: democratisation, global higher education revolution, higher education as field of scholarship, higher education enrolments, humanities, individual rates of return, social rates of return, social sciences, societal critique, university


 

 

INLEIDING

Hierdie artikel bied 'n bestekopname en kritiese, sinsoekende bevraging van die geestes-wetenskappe as 'n kollektief aan universiteite en binne die samelewing van die een-en-twintigste eeu. Eerstens poog die artikel om twee wanopvattings oor hierdie wetenskapsvelde uit die weg te ruim, naamlik die oortuiging dat hulle kwynende studentegetalle verteenwoordig en dat hulle nie bestaansregverdiging kan bied binne die hedendaagse eis van tersaaklikheid nie. Daar bestaan 'n lang geskiedenis van kontrastering van die geesteswetenskappe met die natuurwetenskappe en om eersgenoemde as minderwaardig te beskou (vgl. Miri 2017). Die artikel poog tweedens om die situasie van hierdie velde binne die huidige wêreldwye hoëronderwysrevolusie uit te klaar en derdens om die situasie en uitsig van hierdie velde binne die veranderende een-en-twintigste-eeuse samelewing te belig. Vierdens en vyfdens word die implikasies van al hierdie faktore vir die geesteswetenskappe in Suid-Afrika en vir die navorsingsagenda van hierdie velde (buite sowel as, en veral, binne Suid-Afrika) uitgespel. Ter regverdiging van die titel van die artikel word die groeiende getal studente van geesteswetenskappe wêreldwyd beskou as die spilpunt wat hierdie wetenskapsvelde en hul potensiële waarde in die nuwe samelewing wat in die een-en-twintigste eeu besig is om vorm aan te neem, moet uitleef.

Die artikel begin met 'n uitklaring van die begrip "geesteswetenskappe". Daarna volg 'n historiese perspektief: die ontwikkeling van universiteite, hul unieke funksies in die samelewing en die plek wat geesteswetenskappe gedurende hierdie geskiedenis aan universiteite verwerf het. Daarna word agtereenvolgens die veranderende samelewing van die vroeë een-en-twintigste eeu en die hoëronderwysrevolusie wat hom tans wêreldwyd afspeel, bespreek. Die immer groeiende getal inskrywings in geesteswetenskappe as deel van hierdie revolusie word dan aan die orde gestel en die potensiële waarde daarvan bepaal. Ten slotte word 'n sintese vanuit die Suid-Afrikaanse perspektief aangebied en word enkele aanbevelings vir die navorsingsagenda van die geesteswetenskappe gemaak.

 

BEGRIPSVERKLARING

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (Odendal & Gouws 2005:269-270) verstrek die volgende beskrywing van die lemma "geesteswetenskap": "Enigeen van die wetenskappe wat die geestelike lewe van die mens en die daaruit voortspruitende kultuurprodukte met hul ontwikkeling as onderwerp het." Tot die geesteswetenskappe behoort onder meer die "geskiedenis, sosiologie en taalwetenskap" (Odendal & Gouws 2005:269-270). Hierdie definisie word as werkende definisie van "geesteswetenskappe" in hierdie artikel gebruik. Terwyl 'n uitvoerige en kritiese ontleding van die begrip "geesteswetenskappe" buite die bestek van hierdie artikel val, is dit paslik dat drie opmerkings oor dié definisie gemaak word. Eerstens klop die breë definisie met hoe die Engelse ekwivalente van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal die term "humanities" definieer. Tweedens sluit hierdie definisie (soos die definisies van die begrip "humanities" in Engelstalige literatuur) 'n groep wetenskappe wat soms afsonderlik as die "sosiale wetenskappe" gekategoriseer word, in. Derdens het Unesco (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation) in sy databasisse (wat 'n belangrike bron van statistiek van hierdie artikel is) nie een kategorie geestesweten-skappe nie, maar twee kategorieë, wat boonop met verloop van tyd gewissel het - in vroeër databasisse 'n kategorie "Menswetenskappe en Teologie" ("Humanities and Theology") en 'n tweede kategorie "Sosiale en Gedragswetenskappe" ("Social and Behavioural Sciences") (Unesco 1999), en in 'n latere hergroepering die twee kategorieë genaamd "Kunste en Menswetenskappe" ("Arts and Humanities") en "Sosiale Wetenskappe, Joernalistiek en Inligtingskunde" ("Social Sciences, Journalism and Information Science") (Unesco 2020).

 

HISTORIESE PERSPEKTIEF: DIE ONTWIKKELING VAN UNIVERSITEITE, HUL UNIEKE FUNKSIES IN DIE SAMELEWING EN DIE PLEK WAT GEESTESWETENSKAPPE GEDURENDE HIERDIE GESKIEDENIS AAN UNIVERSITEITE VERWERF HET

Waar en wanneer die eerste universiteit ontstaan het, is 'n punt van wetenskaplike en politieke omstredenheid (vgl. Van der Walt & Wolhuter 2016:1022). Maar met die definisie van 'n universiteit as 'n outonome instelling vir die bevordering van verskillende vertakkinge van kennis (deur middel van onderrig en navorsing) op die gevorderdste vlak, in 'n atmosfeer van vrye ondersoek, wat in hierdie artikel as 'n werkende definisie geneem word, kan die historiese wortels van die hedendaagse universiteit na die Middeleeuse Europese universiteit teruggespoor word.

Die akademiese leer van die student aan die Middeleeuse Europese universiteit het soos volg verloop. Die heel eerste taak van die student was om terme te leer en te definieer; dit beteken hy moes Latyn bemeester en die suksesvolle afhandeling van hierdie taak het aan hom die kwalifikasie van 'n Baccalaureus gegee. Dan het hy die Sewe Vrye Kunste van die Antieke Wêreld bestudeer, te wete die drie vakke van die trivium (dialektiek, retoriek en Latynse taalkunde) en die vier vakke van die quadrivium (meetkunde, sterrekunde, rekenkunde en musiek). Suksesvolle afhandeling hiervan het aan hom die kwalifikasie van 'n Magister in die Kunste verleen en dan kon hy voortbeweeg na studies in een van die drie hoër fakulteite, naamlik teologie, geneeskunde en regte (Duggan 1916). Hier is reeds 'n reeks eienskappe sigbaar wat vir die latere ontwikkeling en waardebepaling van die universiteit en vir die geesteswetenskappe bepalend sou wees. Eerstens blyk die waarde van algemeen vormende onderwys uit die basis van meer beroepspesifieke hoër onderwys. Tweedens val die kurrikulum van die algemeen vormende onderwys op sy beurt in twee kategorieë uiteen, naamlik 'n natuurgerigte en 'n mens- of kultuurgerigte komponent. Teen die laat Middeleeue het die gebruik ontstaan dat studente eers die trivium en daarna die quadrivium bestudeer. Gevorderde studente wat die quadrivium bestudeer het, het neergesien op die studente in die trivium-studiefase en neerhalend na hul antwoorde op vrae as "trivium-antwoorde", menende beuselagtige antwoorde, verwys (dit is die oorsprong van die Engelse word "trivial") (Fallon 2019:4).

Mettertyd het die trivium saamgesmelt tot een vak, naamlik filosofie (vgl. Rée 1978). 'n Tweede opvallende - en jammerlike - verskynsel in die eeue ná die Middeleeue was dat die universiteit, wat betref sy bydrae tot die ekonomie, die openbare diskoers en politiek, en selfs die ontwikkeling van die wetenskap en tegnologie, na die rand van die Europese samelewing beweeg het. Hoër onderwys het afgesonder gestaan van grondverskuiwende ontwikkelings in die agtiende eeu wat die grondslag van die moderne politieke orde gelê het, soos die Glorious Revolution en die aanvaarding van 'n Handves van (Mense-)regte in Engeland in 1689, die Amerikaanse onafhanklikheid in 1776 en die Franse Revolusie van 1789. Nóg die opstellers van die Handves van (Mense-)regte nóg die intellektuele stigtingsvaders van die Amerikaanse Grondwet (Thomas Jefferson, Thomas Paine) nóg die intellektuele wegbereiders van die Franse Revolusie (Montesquie, Jean-Jacques Rousseau, Voltaire) was aan enige universiteit verbonde of het self enige hoër onderwys deurloop. James Watt en Thomas Newcomen, wat die stoomenjin uitgevind het - wat die grondslag van die nywerheidsrevolusie gelê het - was eweneens nie aan enige universiteit verbonde nie en het self geen universiteitsopleiding deurloop nie. Dieselfde geld vir Robert Boyle, wat die grondslag vir die vakwetenskap chemie gelê het, en dieselfde kan ook verklaar word van die negentiende-eeuse Jean Prescott Joule en James Dalton, wat die grondslag van onderskeidelik die wetenskapsvelde van termodinamika en atoomteorie gelê het.

'n Deurslaggewende gebeurtenis was die stigting van die Humboldt Universiteit in Berlyn in 1810. Dié universiteit het eerstens die beginsel van onderrig- en leervryheid - wat weliswaar 'n onderskeidende kenmerk was vanaf die stigting van die Universiteit van Parys in 1080, toe die pous dié universiteit 'n oktrooi gegee het wat sy outonomie van inmenging van kerklike en staatlike owerhede gewaarborg het - weereens bevestig. Tweedens het die universiteit nou die funksie van navorsing en die eienskap van onderrig-navorsing-simbiose bygekry. Derdens het die universiteit weer die intellektuele bastion van die samelewing geword; dié universiteit is immers deur die Pruisiese koning gestig, net na die vernederende nederlaag wat Pruise teen Napoleon se Frankryk moes ly met die Slag van Jena in 1806, as deel van die opbou van die Pruisiese staat. Vierdens is aan hierdie universiteit spesifieke wetenskappe as strukturele organisatoriese bou en kurrikulêre bou-eenhede, in plaas van 'n globaal diffuse vak soos filosofie, aangetref (Fallon 2019). Vanaf Duitsland het die Humboldt-model na die Verenigde State van Amerika (VSA) versprei (die stigting van Johns Hopkins Universiteit as private universiteit in 1876 word uitgesonder as die belangrikste gebeurtenis in die verplanting van die Humboldtmodel na Noord-Amerika), asook na die res van Europa en verder as deel van die Europese hegemonie wat regoor die wêreld versprei het. Hierdie (die negentiende eeu) was juis die tyd toe die meeste van die huidige basiese vakgebiede in die natuurwetenskappe begin uitkristalliseer het as onafhanklike en volwaardige wetenskappe, en kort op die hakke daarvan (gedurende die vroeë dekades van die twintigste eeu) die geesteswetenskappe, veral die sosiale wetenskappe.

Vanuit bostaande historiese ontwikkeling het die universiteit sy funksies in die hedendaagse samelewing verwerf. Hierdie funksies is eerstens onderrig en leer, en tweedens, in 'n simbiotiese verhouding met onderrig en leer, navorsing. 'n Derde funksie is dié van dienslewering. As die stigting van die Humboldt Universiteit die een enkele gebeurtenis is wat die navorsingsfunksie gevestig het, dan is die Land-Grant-wet (Morrill-wet) van 1862 in die VSA, wat die befondsing van die Land-Grant Colleges daargestel het, die een enkele gebeurtenis wat die diens-leweringsfunksie gevestig het. Drie ander funksies van die universiteit is vernuwing (wat sigbaar is in byvoorbeeld die hoeveelheid patente wat universiteite jaarliks registreer), kulturele bewaring, oordrag en uitbouing, en samelewingskritiek (Wolhuter 2012:291).

Die vraag is nou hoe hierdie sodanig histories-geworde instelling, met sy besondere nis en onuitruilbare rol in die samelewing, tans, in die hedendaagse samelewing, daar uitsien en hoe dit met die geesteswetenskappe daarbinne staan. Om hierdie vraag te beantwoord, sal die definiërende kenmerke van die een-en-twintigste eeu se samelewing eerstens aangestip en bespreek word, gevolg deur 'n bespreking van die huidige situasie met betrekking tot hoër onderwys in die wêreld. Binne hierdie raamwerk sal dan gefokus word op die situasie van die geesteswetenskappe daarbinne.

 

VORMGEWENDE SAMELEWINGSTENDENSE VAN DIE VROEË EEN-EN-TWINTIGSTE EEU

Die eerste markante samelewingsbrandpunt is die ekologiese krisis. 'n Samespel van 'n snelle bevolkingsaanwas in die jongste verlede, tegnologiese vooruitgang en stygende welvaartsvlakke (wat almal in eersvolgende paragrawe bespreek word) plaas die omgewingshulpbronne onder druk tot op die punt waar die voortbestaan van nie slegs die mens nie, maar selfs die planeet, op die spel kom. Om hierdie krisis die hoof te bied, is die konsep "volhoubare ontwikkeling" gekonseptualiseer en het die mensdom, in sy internasionale kollektief, sy visie vir 2030 as sewentien Volhoubare Doelwitte ("Sustainable Development Goals") geformuleer (United Nations 2020).

Ten minste twee opvallende demografiese tendense is aanwesig. Ten eerste is daar die bevolkingsontploffing. Terwyl die groeikoers wêreldwyd aan die afneem is, word 81 miljoen mense steeds jaarliks aan die totale wêreldbevolking toegevoeg. (Hierdie getal het in 1988 sy piek bereik, met 93 miljoen, en is sedertdien op 'n afwaartse trajek.) Die oorgrote deel van hierdie aanwas vind plaas in die Globale Suide, wat die bespreking bring by die tweede demografiese tendens, naamlik die toenemend mobiele bevolking en grootskaalse migrasie-patrone. Differensiële groeipatrone, saam met politieke en ekonomiese faktore, gefasiliteer deur die inligtings-, kommunikasie- en vervoertegnologierevolusie, het tot gevolg dat een hoofvektor in die wêreldwye migrasiepatroon die beweging van mense van die lande in die Globale Suide na die lande in die Globale Noorde is.

'n Volgende kenmerk is die voortsnellende tegnologiese ontwikkeling. Terwyl hierdie ontwikkeling sekerlik elke denkbare terrein van die wêreld en die lewe beslaan, kan as besonderse gebiede landbouontwikkeling, biotegnologie, die robotrevolusie en veral die ingligtings-, kommunikasie- en vervoertegnologierevolusies uitgesonder word. As voorbeelde van laasgenoemde kan genoem word dat daar tans meer mobiele telefone as mense in die wêreld is en dat daar daagliks meer as 200 biljoen e-posse uitgestuur word (Dijkstra 2017:62).

Ekonomiese kenmerke is die volgehoue ekonomiese groei en aggregaat welvaartsvlakke sedert 1990 (ten minste tot voor die uitbraak van die koronaviruspandemie), maar terselfdertyd groter ekonomiese ongelykhede in die samelewing en, ofskoon dit al hoe kleiner getalle mense tref, steeds wydverspreide armoede. Twee verdere ekonomiese tendense is die neoliberale ekonomiese revolusie en, in die lande van die Globale Suide in die besonder, die opkoms van die informele ekonomiese sektor. Dan is daar laastens die verrysing van kennisekonomieë en die vierde nywerheidsrevolusie. Ter verduideliking van 'n kennisekonomie: in die ekonomiese geskiedenis van samelewings of van die mensdom word die volgende fases onderskei, gebaseer op die ekonomiese basis gedurende daardie fases: 'n fase van jag en versamel, 'n fase van 'n landbouekonomie, 'n fase van 'n industriële ekonomie en 'n fase van 'n dienstegedomineerde ekonomie. Tans lyk dit of die gevorderdste nasionale ekonomieë 'n nuwe fase betree, naamlik 'n ekonomie waar die produksie en verbruik van nuwe kennis die dryfas van die ekonomie geword het. Dít is 'n kennisekonomie. Die vierde nywerheidsrevolusie word gekenmerk deur 'n versmelting van die fisiese, biologiese en digitale wêrelde.

Verskuiwings in die sosiale sfeer sluit in die verminderende prominensie van die primêre en sekondêre sosiale groeperinge (onderskeidelik die gesin en die werksplek) in die samelewing. Aan die ander kant, gesteun deur tendense soos demokratisering, individualisering en die opkoms van die Leer van Menseregte (wat in die volgende twee paragrawe bespreek word) en die bemagtiging wat die inligtings- en kommunikasietegnologierevolusie (hierbo bespreek) gebring het, is daar die verrysing van tersiêre sosiale groeperinge (dit is funksionele belangegroepe soos sportklubs en stokperdjiegroepe). Nog 'n prominente tendens, wat deur ander genoemde tendense (soos 'n meer mobiele bevolking) gesteun word, is die opkoms van multikulturele samelewings.

Polities word die hedendaagse wêreld gekenmerk deur 'n afname in die mag, omvang van aktiwiteite en outonomie van die eens magtige nasiestaat. Die lokus van politieke mag verskuif na twee teenoorgestelde rigtings, naamlik eerstens na internasionale strukture (soos die Verenigde Nasies, die Wereldbank of die Internasionale Hooggeregshof) en supranasionale strukture (waarvan die Europese Unie die mees markante voorbeeld is) en andersyds na subnasionale en plaaslike strukture (in 'n proses van desentralisasie). 'n Tweede politieke proses is dié van demokratisering, wat vanaf 1990 na groot dele van die wêreld versprei het, ofskoon dit weer die laaste anderhalf dekade in baie lande sigbaar momentum begin verloor het, en selfs in enkele lande omgekeer is (Lührmann & Lindberg 2019).

Wat religieuse en lewens- en wêreldbeskoulike tendense betref, is daar wat eersgenoemde betref die volgehoue teenwoordigheid en rol van religie in die lewens van individue sowel as in openbare sake (Wolhuter & Van der Walt 2018). Verder is daar die verskynsel dat mense hulle al hoe minder aan georganiseerde godsdiensgroeperinge onderwerp en eerder op hul eie individuele stel geloofsoortuigings besluit. Wat die lewens- en wêreldbeskoulike betref, is (wat dikwels as die Westerse bestempel word) materiële, selfgerigte en verbruikersingesteldhede besig om 'n globale verskynsel te word. Die Leer van Menseregte begin die status van 'n globale morele kode aanneem. Laastens het die leer van multikulturalisme (dit is die verlening van positiewe erkenning aan diversiteit) en interkulturalisme (die geloof in en soeke na 'n gemeenskaplike morele kode oorkoepelend oor die positiewe erkenning van diversiteit) die laaste sestig jaar verskyn en merkbaar opgang gemaak, ofskoon dit veral in die jongste tyd plek-plek teen populisme te staan kom.

 

DIE INTERNASIONALE HOËRONDERWYSREVOLUSIE

Daar is verduidelik hoe hoër onderwys, en die universiteit in die besonder, die afgelope twee eeue, en veral na die Tweede Wêreldoorlog, vanaf die rand na die sentrum van die samelewing beweeg het. Sedert 1990 het hierdie onderwyssektor 'n verdere kwantumsprong getoon, bekend as die internasionale hoëronderwysrevolusie (vgl. Altbach, Reisberg & Rumbley 2009). Terwyl die mees uitstaande kenmerk van hierdie revolusie massifikasie was, het die stel samelewings-kragte wat in die vorige afdeling uitgesonder is, enersyds hierdie revolusie moontlik gemaak en andersyds 'n imperatief vir die revolusie gestel. Vervolgens word die maatskaplike ante-sedente van die internasionale hoëronderwysrevolusie eers betrag, gevolg deur 'n bespreking van die hoofdimensies van hierdie revolusie.

Die maatskaplike kragte wat aanleiding gegee het tot die internasionale hoëronderwys-revolusie die afgelope drie dekades was die ekonomiese opswaai, wat hoër onderwys vir ál meer mense bekostigbaar gemaak het, demokratisering, wat ál meer mense laat glo het hulle is geregtig op toegang tot hoër onderwys, en die ontluikende kennisekonomieë, wat die waarde van onderwys en spesialiskennis nog meer verhoog het as in vorige tye. Terselfdertyd het die neoliberale ekonomiese revolusie homself as vormgewende krag van die aard van hierdie revolusie bewys.

As die internasionale hoëronderwysrevolusie in een woord opgesom moet word, sal dit sekerlik "massifikasie" wees -die een uitstaande kenmerk van die revolusie. In tabel 1 word die groeiende getal hoëronderwysinskrywings en hoëronderwysinskrywingsvlakke wêreldwyd sedert 1990 weergegee.

 

 

Uit die syfers in tabel 1 blyk dit dat die getal hoëronderwysinskrywings sowel as die hoëronderwysinskrywingsvlak wêreldwyd sedert 1990 met sowat 50% toeneem per dekade. Dié massifikasie is die summatiewe effek van bevolkingsgroei, ekonomiese groei, ekonomiese transformasie, die inligtings- en kommunikasietegnologierevolusie en demokratiseringstendese in die samelewing. Maar massifikasie is nie al gevolg wat hierdie samelewingstendense in hoër onderwys bewerkstellig het nie. Ander sleuteleienskappe van die wêreldwye hoëronder-wysrevolusie sluit in 'n sterker aandrang op tersaaklikheid en aan die een kant 'n bestuurskultuur waarkragtens die beginsels van die neoliberale ekonomiese revolusie in hoëronderwy sbestuur en administrasie ingedra word en aan die ander kant 'n demokratisering van die hoëronderwys-omgewing waarvolgens studente meer inspraak en mag verkry. Die hoëronderwysomgewing is ook een terrein waar die nuwe modus twee-kennis (waarvolgens kennis rondom samelewingsvraagstukke geproduseer en georden word) die tradisionele modus een-kennis (verpakking van kennis binne die histories-geworde vakgebiede) verdring.

Die vraag is nou hoe dit binne die hierbogesketste vinnig veranderende samelewing en meteories groeiende, snel veranderende hoëronderwysstelsel met geesteswetenskappe staan. Dié vraag word in drie dele beantwoord. Eerstens word die fokus op studenteinskrywingsgetalle in geesteswetenskappe geplaas. Dit word gevolg deur 'n bespreking oor die plek van geestes-wetenskappe in graadprogramme en die waarde van geesteswetenskappe in die hedendaagse wêreld. Laastens word die navorsingsagenda van geesteswetenskappe aan universiteite ondersoek.

 

TENDENSE IN GEESTESWETENSKAPPE-INSKRYWINGS AAN UNIVERSITEITE WÊRELDWYD

Die omvattendste bron van statistiek oor getalle geesteswetenskappe-inskrywings aan universiteite in die wêreld is Unesco. Behalwe die liggaam se ietwat lomp omskrywing van hierdie studievelde, soos hierbo verduidelik, is 'n ander probleem dat statistiek daaroor van slegs 'n beperkte aantal lande, en ook nie vir elke jaar nie, beskikbaar is. Ná 'n ondersoek van die data wat wel beskikbaar is, is 25 lande wat die spektrum van lande wêreldwyd (geografies, op die ontwikkelingskontinuum en wat die kultuurblokke betref) die beste dek, geselekteer. Die persentasies en absolute getalle van universiteitstudente wat vir geesteswetenskappe ingeskryf het vir die tydperk 1980 tot 2018 is bereken uit Unesco-statistiek en word in tabelle 2 en 3 hieronder weergegee.

 

 

 

 

Wat betref die persentasies van universiteitstudente wat vir geesteswetenskappe ingeskryf is (tabel 2), wissel die persentasies baie oor tyd en van land tot land. Dus is die identifisering van tendense binne die bestek van hierdie artikel en met hierdie beskikbare data onmoontlik. Wat egter onteenseglik verklaar kan word, is eerstens dat daar in geen land 'n afwesigheid van geesteswetenskapstudente voorkom nie en selfs nie dat daar een land is waar hierdie studente 'n onbeduidende deel van die studentekorps uitmaak nie. Tweedens is daar geen land waar hierdie persentasie besig is om af te beweeg na 'n nulpunt toe nie. Wat die absolute getalle geesteswetenskapstudente betref (tabel 3), is hier onweerlegbare getuienis van 'n indrukwekkende groei wat duidelik nog nie momentum begin verloor het nie.

 

DIE PLEK EN WAARDE VAN GEESTESWETENSKAPPE AAN DIE UNIVERSITEIT VAN DIE EEN-EN-TWINTIGSTE EEU

Een faktor wat die plek van geesteswetenskappe geraak het, is die wêreldwye tendens dat kwalifikasieprogramme vir die professies verander het. Die historiese tweelagige struktuur van die eers propedeuse onderwys in 'n junior graadprogram (in die geval van Suid-Afrika 'n BA-, BSc- of BComm-graad), gevolg deur 'n hoër professionele voorbereidingsprogram, is vervang deur een geïntegreerde graadprogram. Aan die ander kant staan die geesteswetenskappe besonder sterk in 'n hoëronderwysstelsel soos dié van die VSA, waar daar tans meer as vyf miljoen geesteswetenskapstudente is (vgl. Tabel 3). Een rede daarvoor is die bestaan van die Liberal Arts Colleges, 'n instelling wat stewig staan binne die hoëronderwyslandskap van die VSA (tans is daar meer as 1 500 Liberal Arts Colleges in die VSA). Dat dié instellings so 'n nis gevind het binne 'n land en hoëronderwysstelsel bekend vir sy pragmatisme as filosofiese bo-bou van die onderwysstelsel en ongenaakbare kompetisie binne 'n vryemarkekonomie, is op sigself bewys van die waarde van die geesteswetenskappe. Dit is verder insiggewend dat in Indië, die Institute van Tegnologie en Bestuur (Indian Institutes of Technology and Management), wat ná onafhanklikheid as vlagskip van die na-onafhanklikheidse hoëronderwysstelsel gestig is om die land op die pad van tegnies-beroepsgerigte onderwys te plaas, later in dié land die leiding geneem het met die instelling van geesteswetenskappe as deel van die kurrikulum (Nussbaum 2010:93).

Die saak ten gunste van die waarde van die geesteswetenskappe word gewoonlik gebaseer op een van die volgende drie punte: die feit dat dié wetenskappe een deel van die werklikheid ontsluit; die waarde van die geesteswetenskappe vir die instandhouding en verheffing van die samelewing; en die rol van dié wetenskappe ter versterking van nasionale mag in 'n tydvak van globalisering en meedoënlose internasionale mededinging tussen die state of nasies van die wêreld. Wat eersgenoemde betref, stel Bantock (1970:11) dit byvoorbeeld dat die huidige stel vakgebiede in die wêreld hul staanplek en statuur oor 'n lang geskiedenis verwerf het eenvoudig omdat hulle hulself bewys het as die mees sinvolle en logiese manier om die werk-likheid te ontsluit en om 'n kognitiewe of intellektuele greep op die wêreld te kry.

Oor die waarde van die geesteswetenskappe vir die instandhouding en verheffing van die samelewing, betoog Nussbaum (2013) byvoorbeeld dat die sinvolle funksionering van die demokrasie in 'n een-en-twintigste-eeuse multikulturele, globaliseringsverstrengelde samelewing 'n ingeligte burgery veronderstel. Dit beteken ingelig oor sake soos die binnelandse sowel as die wêreldwye kulturele verskeidenheid, taalverskeidenheid en religieuse verskeiden-heid, die basiese behoeftes van mense, groepsvorming, identiteitsvorming en die grondwaardes van die demokrasie. In dié verband is ten minste 'n substratum van 'n aktiewe geestesweten-skapsbedryf, gekenmerk deur 'n kritiese besinning oor en sinsoekende bevraging van die wêreldwye maatskaplike landskap, onontbeerlik. Ten aansien van ontwikkelinge en vooruitsigte aan die voorpunt van tegnologiese vooruitgang word aangevoer dat ontwikkelinge soos kunsmatige intelligensie en genetiese wysiging en programmering opnuut waarde en tersaak-likheid aan die geesteswetenskappe verleen, vir die skep en versekering van 'n menswaardige wêreld. Op die Wêreld Ekonomiese Forum van 2018 is hierdie saak soos volg gestel (vry vertaal):

... belangrik om 'n burgerlike en etiese begrip daar te stel wat die mensdom in staat sal stel om die kragte van hierdie magtige tegnologieë met wysheid, perspektief en met inagneming van die welsyn van ander aan te wend. (Vestberg 2018)

Verder word 'n argument aangevoer vir die geesteswetenskaplike geletterdheid onder die bevolking vanuit die oorweging van die versterking van nasionale mag. In die VSA, byvoorbeeld, kan gewys word op die Spellings-verslag ('n verslag oor 'n ondersoek oor die stand van hoër onderwys in die VSA, wat geloods is deur Margaret Spellings, minister van Onderwys van die VSA in die regering van president George W Bush) en die Liberal Arts and America's Promise-verslag ('n verslag van 'n studie oor hoër onderwys in die VSA geloods deur die Vereniging van Amerikaanse Kolleges en Universiteite). Hierdie verslae maak 'n saak uit vir die versterking van die geesteswetenskappe op grond daarvan dat vir die handhawing van die VSA se ekonomies-polities leidende posisie in die wêreld, kennisbegrip en kritiese bevraging van en selfstandige, verantwoordbare standpuntinname teenoor die historiese, kulturele, sosiale, politieke en eties globale omgewing 'n voorvereiste is (Association of American Colleges & Universities 2007; United States Department of Education 2006).

Terwyl al bostaande oorwegings geldig is, wil dié artikel die saak van die geestesweten-skappe ook beargumenteer vanuit die hoek van die doelstellings van onderwys. Volgens Biesta (2013:4) wentel antwoorde op die vraag "om watter rede wil ons 'n onderwysstelsel hê?" gewoonlik om drie punte, te wete om vaardighede aan te leer (die student moet nuttige vaardighede leer, soos 'n ambag om 'n werk te kry of 'n inkomste te genereer), om te sosialiseer (by die samelewing in te pas en te kan funksioneer) en om te individualiseer (onderwys moet vir die student geleenthede vir selfverwesenliking en maksimum keusemoontlikhede skep). Vir die meeste mense en in die meeste onderwysstelsels is die doel van die onderwys of skole 'n kombinasie van dié drie ideaaltipes, met wisselende klem op die relatiewe belangrikheid van elkeen. 'n Gebalanseerde antwoord sal dan ook plek vir al drie inruim. Verder kan sekerlik by hierdie drie tipes 'n vierde gevoeg word, naamlik samelewingsverandering - om die samelewing te verander of nader aan 'n bepaalde ideaal te vorm.

As geesteswetenskappe nou beoordeel word aan die hand van hierdie doelstellings van onderwys, kan dit betreffende die doelstelling van nuttige vaardighede gestel word dat terwyl gepubliseerde navorsing oor hoe afgestudeerde geesteswetenskapstudente hulself in die arbeidswêreld handhaaf ('n leemte waarna in die volgende afdeling teruggekeer sal word), die berekening van private sowel as maatskaplike opbrengskoerse ("individual and social rates of return") altyd op positiewe resultate dui, ofskoon hierdie waardes nie so hoog is soos in die geval van studente wat in rigtings soos natuurwetenskappe, gesondheidswetenskappe of ingenieurswese studeer het nie. Bourne en Dass (2003:7-9) het byvoorbeeld bereken dat in Trinidad en Tobago, die maatskaplike opbrengskoerse vir graduandi in geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe, gesondheidswetenskappe en ingenieurswese onderskeidelik 7,2%, 10,1%, 17,4% en 13,3% is. In die geval van private opbrengskoerse is die waardes vir graduandi in geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe, gesondheidswetenskappe en ingenieurswese onderskeidelik 12,4%, 15,5%, 19,6% en 21,4% (Bourne & Dass 2003:7-9). 'n Omvattende onlangse studie deur die Burning Glass Institute in die VSA het bevind dat 'n assosiaat-gegradueerde (in die VSA is 'n assosiaatgraad 'n tweejarige universiteitsgraad, tipies in die geesteswetenskappe) gemiddeld meer as dubbel verdien wat 'n werker met net 'n hoërskoolsertifikaat verdien (dit is nou oor 'n hele werkende leeftyd gemeet; dus nie net in die eerste jaar na afstudering nie) (Schneider & Sigelman 2018:4).

Oor sosialisering kan sekerlik sonder teenspraak vermeld word dat die toerusting vir die verstaan van die veranderende, al meer kompleks wordende wêreld (soos hierbo in die artikel omlyn) in die geesteswetenskappe geleë is. Nie net in die verstaan van hierdie wêreld nie, maar ook in 'n sinsoekende bevraging van en 'n eie standpuntinname, ook ten opsigte van die eie rol in die omgaan met hierdie wêreld en wat die wêreld bied in al hoe meer moontlikhede, ter verbetering van die wêreld - en hier kom die opvoedings- of onderwysdoelstelling van die verandering van die samelewing ter sprake - kom die waarde van skoling in die geestes-wetenskappe na vore. Die kreatiewe omgaan met die ál groter wordende potensiaal (gemeet aan wat ál verder gevorderde tegnologie en ál meer diversiteit en keusemoontlikhede bring) van hierdie ontvouende wêreld veronderstel weer dat die vermoëns van die educandus die grootste moontlike ruimte vir ontplooiing gebied word. Hier kom dan na vore die opvoedings-of onderwysdoelstelling ten opsigte van individualisering, en die geesteswetenskappe se ontsluiting van die totale kulturele panorama van die wêreld, vir die educandus om ná kennis-en begripsverwerwing en sinsoekende bevraging dié wêreld te betree op 'n plek en wyse dat volle selfverwesenliking sal realiseer.

 

'N ONTBREKENDE NAVORSINGSPROGRAM TER ONDERSTEUNING VAN GEESTESWETENSKAPPE AAN UNIVERSITEITE

Terwyl daar 'n meteoriese opgang is in die getal geesteswetenskapstudente wêreldwyd - en soos wat hierbo in die artikel betoog is, is dit 'n heilsame tendens - is daar geen dienooreenkomstige navorsingsaktiwiteit om hierdie studentekorps of hul dosente te begelei tot die beste onderwys en onderwysstelselpraktyk nie. Die afgelope aantal dekades het hoër onderwys vanuit nêrens verrys as 'n viriele studieveld in eie reg. Die navorsingsagenda van hierdie studieveld, internasionaal en binnelands, is al gekarteer, en terwyl die hiërargie van prioriteite wat op hierdie navorsingsprogram verskyn almal sekerlik geregverdig kan word, is een opvallende leemte sedert die begin van die navorsingsveld tot vandag toe nog die gebrek aan aandag aan geesteswetenskappe (vgl. Tight 2018; Wolhuter 1997, 2014).

Hierdie laaste deel van die artikel wil 'n pleidooi rig vir die in fokus bring van die pedagogie van die geesteswetenskappe (pedagogie hier gebruik in die breedste moontlike betekenis van die woord, dus nie net onderrigmetodes nie, maar ook leer en leermetodes van studente, die studente- en dosentekorps en navorsingskader van die geesteswetenskappe aan universiteite, kurrikula, assessering en verhoudinge of interaksie met die samelewing) in die navorsingsprogram van hoër onderwys. Dit is noodsaaklik ter begeleiding van die geesteswetenskapprojek aan hoëronderwysinrigtings (sonder om enigsins aan te beveel dat die beginsel van individuele outonomie van dosente, ook in kurrikulering, opgeoffer moet word). Die volgende kan aangestip word as desiderata op so 'n navorsingsagenda:

Meer navorsing, as die huidige baie yl verspreide, oor sowel individuele as maat-skaplike opbrengskoerse van geesteswetenskappe-graduandi is nodig, as deel van omvattende naspeurstudies ("tracer studies") van die loopbane van sulke studente, en dan sodanige naspeurstudies met afgestudeerde studente sowel as werkgewers as navorsingsubjekte, as deel van 'n bysturingsiklus ten einde geesteswetenskapmodules aan universiteite altyd meer sinvol te maak. Dié aanbeveling word gemaak sonder om te bedoel dat die inhoud van geesteswetenskapmodules volledig en alleenlik deur die markbehoefte van die oomblik gedikteer moet word. Die universiteit, soos hierbo gedefinieer, met sy unieke funksies, soos ook hierbo omlyn, kan homself nie heeltemal aan markkragte sedeer sonder om op te hou om 'n universiteit te wees nie.

Dan ook word navorsing oor geesteswetenskapstudente se belewenis van geesteswetenskapmodules aanbeveel. So kan verseker word dat sodanige modules ingestem is op die demokratisering- en diversiteitstendense van die samelewing wat die universiteit ook raak - en as heilsame krag aangewend kan word, weereens solank die kernaard en unieke funksies van die universiteit (soos hierbo in die artikel uitgelig is) nie met so 'n oefening ondergeploeg word nie.

Die kurrikula van geesteswetenskapmodules behoort voortdurend die fokus van navorsing te wees. Wanneer dit by kurrikulering kom, bevind geesteswetenskap-dosente hulle in die moeilike situasie van eise wat van verskillende kante kom: dié van 'n snel veranderende samelewing, soos hierbo in die artikel verduidelik (in Suid-Afrika byvoorbeeld loop die tendense van demokratisering en 'n nuwe diverse samelewing en hoëronderwysomgewing uit op 'n luide eis vir die dekolonialisering van kurrikula) en dié van 'n kanon wat sy waarde oor 'n lang geskiedenis bewys het (vgl. hier die funksie van die universiteit met betrekking tot kulturele preservering en oordrag en bevordering, soos hierbo gestel).

Die onderrigmetodes van die geesteswetenskappe behoort eweneens in die navorsingsfokus gebring te word ten einde te verseker dat sodanige metodes tred hou met die nuutste ontwikkelinge op die gebied van onderrigmetodes, dat dit ingestem is op tendense in die hoëronderwysomgewing sowel as in die samelewing (soos hierbo uitgewys) en dat dit die geleenthede wat onderrigtegnologie bied maksimaal benut.

Die inspirasiebronne en motivering vir studente om in die geesteswetenskappe te studeer moet aan die lig gebring word. Sodanige navorsing moet in verband gebring word met navorsing oor hul belewing van geesteswetenskapmodules en -graad-programme, asook met naspeurstudies.

Aan die begin van dié artikel is dit gestel dat een van die doelstellings van die artikel 'n sinsoekende bevraging van die geesteswetenskappe is. Daar is ook in die artikel betoog dat huidige samelewingstendense vir die geesteswetenskappe 'n bestaansreg gee, onder meer omdat dié wetenskappe die student moet toerus vir navigasie in hierdie samelewing en ook sy of haar kennis moet aanwend ter daarstelling van 'n beter, meer menslike samelewing. Ook is verwys na die universiteit se unieke funksie van samelewingskritiek of om op te tree as die gewete van die samelewing. So 'n élan veronderstel 'n morele vorming van die student, en op sy beurt plaas dit 'n vraagteken voor die hedendaagse neiging in die geesteswetenskappe om waardevry, in die sin van net empiries verkreë feite daar te stel, of "objektief" te wees, om in 'n gees van postmodernisme 'n "laat-maar-gaan"-houding in te neem of in 'n tydperk van multikulturalisme 'n standpunt van ekstreme kulturele relativisme te onderskryf. Die skrywer wil hier 'n pleidooi lewer vir die daarstelling van 'n normatiewe bo-bou in die geesteswetenskappe. In die geesteswetenskappe kan die volgende implisiete narratiewe onderskei word: dié van vermoënsteorie, dié van neoliberale ekonomiese revolusie, dié van menseregte en dié van sosiale geregtigheid (vgl. McGinn, Espinoza & Wolhuter 2020). Elkeen van hierdie narratiewe het 'n besliste (al is dit nou ook onuitgesproke) normatiewe bo-bou. Terwyl opvoeding teenoor onderwys nie mag verval in indoktrinasie nie, en die doel is om die onafhanklike en selfstandige denke en meningsvorming te kultiveer, bied hierdie narratiewe elk die voor die hand liggende materiaal vir die bou van so 'n normatiewe bo-bou in die onderrig-leer van en navorsing binne die geesteswetenskappe.

Die leermetodes van geesteswetenskapstudente behoort ook onder die navorsingsloep gebring te word om ondersoek in te stel of sodanige metodes in die verwagtingslyn lê van opvoedings- teenoor onderwysdoelstellings wat die samelewing van die een-en-twintigste eeu van geesteswetenskapstudente vra. Dus is behavioristiese leer sekerlik uitgedien (insoverre dit ooit 'n plek op veral hoëronderwysvlak gehad het) en leermetodes soos konstruktivistiese leer en intersubjektiwistiese leer moet bevorder word.

 

GEVOLGTREKKING

Gedurende die jongste dekades het die inskrywingsgetalle van geesteswetenskapstudente wêreldwyd soos 'n vloedgolf aangegroei, en die toename het volgens alle aanduidings nog geensins momentum begin verloor nie. Vanuit 'n verskeidenheid invalshoeke is hierdie groei te verwelkom en verteenwoordig dit 'n heilsame ontwikkeling in die hoëronderwyssektor en in die samelewing. Dit sluit meer as net individuele en maatskaplike opbrengskoerse van afgestudeerde geesteswetenskapstudente in. Geesteswetenskapskoling voeg waarde toe tot die ontplooiende samelewing van die een-en-twintigste eeu en help om te verseker dat die moontlikhede wat die tegnologie van dié eeu bied, aangewend word om 'n meer menslike samelewing te skep. Die grootste skotoom of blinde kol in hierdie wêreldwye geestesweten-skapprojek aan universiteite is die gebrek aan navorsing daaroor. 'n Laat-maar-gaan- en vind-self-koers-benadering tot die geesteswetenskappe aan universiteite sou 'n gevaarlike houding wees, en sonder om die beginsel van die outonomie van die akademiese professie aan te tas, behoort die pedagogie van die geesteswetenskappe uitgebou te word tot 'n navorsingsveld binne die huidige groeiende wetenskapsveld van hoër onderwys ten einde die geestes-wetenskapprojek aan universiteite op 'n stewige en verantwoordbare basis te plaas.

 

BIBLIOGRAFIE

Altbach, PG, Reisberg, L & Rumbley, LE. 2009. Trends in global higher education: Tracking an academic revolution. Parys: Unesco.         [ Links ]

Association of American Colleges & Universities. 2007. College learning for the new century: A report from the National Leadership Council for Liberal Arts & America's Promise. https://www.aacu.org/sites/default/files/files/LEAP/GlobalCentury_final.pdf [24 June 2020].         [ Links ]

Bantock, GH. 1970. In Cox & Dyson (eds). Black Paper in Education 1970. London: Davis Poynter.         [ Links ]

Biesta, GJJ. 2013. The beautiful risk of education. Boulder: Paradigm.         [ Links ]

Bourne, C & Dass, A. 2003. Private and social rates of return to higher education in science and technology in a Caribbean economy. Education Economics, 11(1):1-10.         [ Links ]

Dijkstra, A. 2017. Wie (niet) reist is gek. Amsterdam: Prometheus.         [ Links ]

Duggan, SP. 1916. A student's textbook in the history of education. New York: Appleton Century.         [ Links ]

Fallon, D. 2019. The origins and continued centrality of the liberal arts. Berkeley Center for Studies in Higher Education, Research and Occasional Papers Series, 5/19. https://files.eric.ed.gov/fulltext/ED602850.pdf [26 May 2020].         [ Links ]

Lührmann, A & Lindberg, SI. 2019. A third wave of autocratization is here: What is new about it? Journal of Democratization, 26(7):1095-1113.         [ Links ]

McGinn, N, Espinoza, O & Wolhuter, CC. 2020. Narratives in the public and scholarly education discourse and the value thereof as a heuristic device for Comparative and International Education. Onvoltooide navorsing.         [ Links ]

Miri, M (ed.). 2017. The place of the humanities in our universities. Oxford: Routledge.         [ Links ]

Nussbaum, MC. 2010. Not for profit: Why democracy needs the humanities. Princeton: Princeton University Press.         [ Links ]

Odendal, FF & Gouws, RH. (reds). 2005. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 5de uitg. Kaapstad: Pearson.         [ Links ]

Rée, J. 1978. Philosophy as an academic discipline: The changing place of philosophy in an arts education. Studies in Higher Education, 3(1):5-23.         [ Links ]

Schneider, M & Sigelman, M. 2018. Saving the associate ofarts degree: How an A.A. degree can become a better path to labor market success. American Enterprise Institute. https://www.burning-glass.com/wp-content/uploads/RPT_Saving_the_Associates_of_Arts_Degree.pdf [26 June 2020].         [ Links ]

Tight, M. 2018. Higher education research: The developing field. London: Bloomsbury.         [ Links ]

Unesco. 1999. Unesco statistical yearbook 1999. Parys: Unesco.         [ Links ]

Unesco. 2020. Unesco statistics. http://data.uis.unesco.org/ [19 May 2020].         [ Links ]

United Nations. 2020. Sustainable development goals. https://www.undp.org/content/dam/undp/library/corporate/brochure/SDGs_Booklet_Web_En.pdf [30 May 2020].         [ Links ]

United States Department of Education. 2006. A test of leadership: Charting the future of U.S. higher education. A Report of the Commission Appointed by Secretary of Education Margaret Spellings (SpellingsReport). https://www2.ed.gov/about/bdscomm/list/hiedfuture/reports/pre-pub-report.pdf [23 June 2020].         [ Links ]

Van der Walt, JL & Wolhuter, CC. 2016. Eerste taal as onderrigmedium in hoër onderwys: 'n Internasionale perspektief. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(4-1):1016-1033.         [ Links ]

Vestberg, S. 2018. Why we need both science and humanities for a Fourth Industrial Revolution education. https://www.weforum.org/agenda/2018/09/why-we-need-both-science-and-humanities-for-a-fourth-industrial-revolution-education/ [22 June 2020].         [ Links ]

Wolhuter, CC. 1997. Desiderata in South African higher education studies' window on the outside world. South African Journal of Higher Education, 11(1):35-40.         [ Links ]

Wolhuter, CC. 2012. 'n Wêreldklasuniversiteit in Suid-Afrika: Ideaal, wenslik, haalbaar, werklikheid, hersenskim? LitNetAkademies, 9(2):284-308.         [ Links ]

Wolhuter, CC. 2014. Research on higher education in South Africa: Stocktaking and assessment from international comparative perspectives. South African Journal of Higher Education, 28(1):275-291.         [ Links ]

Wolhuter, C & Van der Walt, H. 2018. Huidige demografiese, politieke en religieuse tendense in die wêreld en onderwys ter bevordering van interreligieuse toleransie. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 58(1):56-76.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-06-30
Goedgekeur: 2021-02-04
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Charl Wolhuter het aan die Universiteite van Johannesburg, Pretoria, Unisa, en Stellenbosch studeer. Hy het sy doktorsgraad in Verge-lykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy is 'n voormalige junior lektor in Historiese Opvoedkunde en Verge-lykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria en 'n voormalige senior lektor in Histo-riese Opvoedkunde en Vergelykende Opvoedkunde aan die Universiteit van Zoeloeland. Tans is hy professor in Vergelykende en Internasionale Opvoedkunde aan Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, Suid-Afrika. Hy is die outeur van verskeie artikels oor Geskiedenis van die Opvoedkunde, asook Vergelykende en Internasionale Opvoedkunde. Hy was besoeken-de professor aan onder meer Brock Universiteit, Kanada; Mount Union Universiteit, Ohio, Verenigde State van Amerika; die Universiteit van Kreta, Griekeland; die Universiteit van Queensland, Australië; die Universiteit van Modena en Reggio Emilia, Italië; die Opvoedkunde Universiteit van Hong Kong; en Eberhardt Karls Universiteit, Duitsland.
Charl Wolhuter was educated at the Universities of Johannesburg, Pretoria, Unisa and Stellenbosch. His doctorate in Comparative Education was awarded to him by the University of Stellenbosch. He is a former junior lecturer in the Department History of Education and Comparative Education at the University of Pretoria, and a former senior lecturer in the Department of History of Education and Comparative Education at the University of Zululand. Currently he is professor of Comparative and International Education at North-West University, Potchef-stroom Campus, South Africa. He is the author of several articles in the fields of History of Education and Comparative and International Education. He has been visiting professor at, inter alia, Brock University, Ontario, Canada; Mount Union University, Ohio, United States of America; University of Crete, Greece; University of Queensland, Australia; the University of Modena and Reggio Emilia, Italy; the Education University of Hong Kong; and Eberhardt Karls University, Germany.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons