SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.61 número1The critical Scotism of Henry of Harclay (ca.1270-1317), as deduced from his Quaestiones Ordinaire (1312-1317)Globalism and language in higher education: Reasons for choosing English as language of learning índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versión On-line ISSN 2224-7912
versión impresa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.61 no.1 Pretoria mar. 2021

http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a17 

RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

 

Jesus se kruisiging en opwekking: 'n Akademies-historiese waardering van die bronne

 

Jesus' crucifixion and resurrection: An academic-historical evaluation of the sources

 

 

Leopold Scholtz

Buitengewone professor, Departement Geskiedenis, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos:leoscholtz@yahoo.com

 

 


OPSOMMING

Die kern van die Christelike geloof is die belydenis dat Jesus van Nasaret gekruisig is en op die derde dag uit die dood opgewek is. Daarsonder maak die geloof geen sin nie. Vir die moderne sekulêre wêreld is die vraag egter: Het dit werklik gebeur? Hoe weet ons dit? Die doel van dié artikel is dus om die bronne ágter die geloof aan 'n sekulêre en akademies-historiese ondersoek te onderwerp en te kyk hoe betroubaar hulle is. Agtereenvolgens word buite-Bybelse bronne, die vier evangelies en die Pauliniese sendbriewe ondersoek. Die akademiese toets vir betroubaarheid is die afstand tussen 'n (beweerde) gebeurtenis en die optekening daarvan. Dit geld sowel tydsafstand as die hoeveelheid skakels tussen gebeurtenis en getuienis. Die religieuse agenda van die opstellers van die getuienisse is eweneens relevant. Die buite-Bybelse bronne is almal 'n eeu of meer ná die tyd opgestel en bevestig slegs dat die verhale oor die opwekking van Jesus wyer bekend was. Die evangelies is nie objektiewe kronieke of geskiedskrywing soos ons dit vandag ken nie, maar geloofsgetuienisse. Tog blyk 'n ondersoek van die eerste drie, die sinoptiese evangelies, dat die skrywers hul verhale nie uit die lug gegryp het nie, maar van bronne gebruik gemaak het. Die drie evangelies is waarskynlik ook vroeër opgeteken as wat algemeen aanvaar word - omtrent 20 tot 40 jaar ná die gebeure waarvan daar verslag gedoen word. Die Evangelie van Johannes is minstens deels 'n ooggetuieverslag. In die eerste brief van Paulus aan die Korintiërs kom die heel oudste ooggetuieverslag voor, wat waarskynlik tot drie jaar ná Jesus se kruisiging teruggedateer kan word. Verder maak die evangelies in beduidende mate staat op die getuienis van vroue - iets wat in die destydse Joodse kultuur as uiters onbetroubaar geag is. Onderling verskil die geskrifte se besonderhede, wat daarop dui dat hier nie sprake van onderlinge afstemming kan wees nie. Dit alles maak die bronne akademies gesproke redelik geloofwaardig.

Trefwoorde: Jesus, Christus, kruis, opwekking, opstanding, evangelies, Markus, Matteus, Lukas, Johannes, Paulus


ABSTRACT

By far the majority of academic analyses of the events surrounding the alleged resurrection of Jesus Christ have been carried out by theologians. However, this analysis is written from the viewpoint of an academic historian.
The fact (or myth, if so preferred) of Jesus' resurrection is based on certain historical sources. The traditional Christian approach of Scripture is akin to how Muslims view their Quran, namely that it is perfect, true and complete; that it was (so to speak) dictated by God and that the biblical authors were merely transcribers of His words. A critical approach shows, however, that the biblical authors were fallible human beings, influenced by their time and environment, and that they based their accounts on identifiable sources. The purpose of this article is to identify those sources and to evaluate their trustworthiness, in the same way any other historical source would be evaluated.
However, in doing so, one should avoid going too far: Some disillusioned theologians seem to think that because not everything in the Bible is true, it follows that nothing in the Bible could be true. This article first examines the intellectual tools historians normally use, citing several well-known historians on the nature of historical writing, before identifying and evaluating the biblical authors'sources. It was established that the oldest source - a credo in Paul s first letter to the Corinthians - dates from only a few years after the crucifixion and resurrection itself. On the basis of indications in the Gospels themselves, a case is also put forward for the Gospels being older and closer to the events recorded than is often claimed; that they were, in fact, written about fifty or seventy years after the crucifixon and reported resurrection of Jesus. This signals one of the main arguments in this article, namely that the Gospels are in time considerably closer to the events they are communicating than is generally assumed.
Another aspect concerns the undeniable, often irreconcilable, differences in detail in the different versions of the Gospels'accunt of the events surrounding the resurrection. However, the mere fact that these differences do exist, is found to enhance the credibility of the accounts. In this regard, examples of my own work are cited, especially my description of two battles in South African history, namely the Battle of Sannah's Post (30 March 1900) and the Battle of the Lomba (3 October 1987). It is argued that the eyewitness accounts of these battles differ considerably insofar as the detail is concerned, but that they all have the same basic thrust - a Boer victory in 1900 and a South African victory in 1987 respectively. Likewise, biblical differences in detail notwithstanding, all accounts do agree that Jesus was crucified, that the grave was empty on the morning of the third day, and that Jesus appeared to several of his disciples. If all accounts had agreed in respect of all details, one would have surmised that they had to have been tampered with.
The nature of the witnesses themselves are also significant. The very first witnesses were women, a sex which was, at the time, generally considered to be very untrustworthy. In fact, women were just about the worst kind of witnesses one could imagine. If the resurrection was a piece of fiction originating in the mind of the biblical authors, more credible witnesses, like well-known and respected males, would have been quoted.
Nevertheless, in the end, the academic historian is still confronted with an insoluble problem: On the one hand, the physical impossibility of someone tortured and crucified and deceased miraculously coming to life again; on the other, sources which satisfy all academic conditions usually applied to historical sources claiming the opposite. A solution to this problem does not appear to be in sight, and in the end one is left with the choice of either believing - or not.

Keywords: Jesus, Christ, cross, resurrection, gospels, Mark, Matthew, Luke, John, Paul


 

 

1. DIE PROBLEEM

Wêreldwyd bely miljoene Christene van alle kerkgenootskappe dat Jesus van Nasaret 'n historiese figuur was, die Christus-Verlosser wat die sondes van die wereld op Hom geneem het. Die allerdiepste kern hiervan is die geloof dat Jesus gekruisig en begrawe is en op die derde dag uit die dood opgewek is. Daarsonder maak die geloof volgens ortodokse Christene geen sin nie.

Oor die sentrale betekenis van die kruisiging het die apostel Paulus in sy eerste brief aan die gemeente in Korinte (1:18) geskryf: "Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God." Deur die kruis, het hy aan die Galasiërs laat weet (6:14) "is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld".

Die probleem is dat die kruisiging op sigself niksseggend is. Duisende mense het in die Romeinse tyd aan die kruis gesterf. Méér as net die kruis is nodig. Dit is die opwekking uit die dood wat - volgens Christene - betekenis aan die kruisdood gee. Volgens die skrywer van die boek Handelinge (18:31) het Paulus in 'n toespraak in Athene verkondig dat God 'n dag bepaal het "waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy hom uit die dood laat opstaan." Die implikasie is duidelik: Die opwekking van Christus uit die dood lê aan die hart van die geloof. In sy eerste brief aan die gemeente in Korinte (15:17) is Paulus nog duideliker: "En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes."

Die vraag wat 'n moderne, sekulêre wêreld onmiddellik stel, is egter: Hoe is dit moontlik? Iemand wat dood is, kan onmoontlik weer lewend word; dit druis in teen alle verifieerbare natuurwette. Is daar 'n onversoenbare verskil tussen die historiese Jesus van Nasaret en die geopenbaarde Christus van die Bybel?1 Met alle respek, teoloë is moontlik nie die regte mense om hierdie kwessie onbetrokke te ondersoek nie. 'n Sirkelredenering (die kruisiging en opwekking is feite omdat die Bybel sê dit het gebeur, en omdat die Bybel daarvan getuig, hét dit gebeur) bring 'n mens niks verder nie. Miskien moet 'n sekulêr-akademiese historikus hom in dié mynveld begeef. Te lank het teoloë die bydrae van professionele historici as "naïewe historisisme" afgemaak.2

Die doel van hierdie ontleding is pertinent nie om die beweerde kruisiging en opwekking as sodanig korrek of verkeerd te bewys nie. Die doel is eerder om die brónne wat van die kruisiging en opwekking getuig, aan 'n rasionele ondersoek te onderwerp volgens die intel-lektuele apparaat wat akademiese historici tot hul beskikking het. Uiteindelik kan dit lig op die saak werp - wat nie noodwendig dieselfde is as die vind van 'n definitiewe antwoord nie.

Laat ek my kaarte op die tafel plaas. Ek is 'n Christen, lidmaat van en ouderling in die Protestantse Kerk in Nederland, die land waar ek woon. Voor my verhuising na Nederland uit Suid-Afrika was ek lidmaat van en ouderling in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Maar vir die doeleindes van dié artikel is ek primêr 'n akademiese historikus en pas daarna 'n Christen.

Teen dié agtergrond moet daar teen twee uiterstes gewaak word. Die een is die kritieklose aanvaarding van die Bybel as die letterlike woord van God, 'n benadering waar 'n mens al jou kritiese vermoëns opsy stoot en aanvaar dat elke woord in die Bybel korrek en volmaak is. Die ander, gegrond op die onbetwisbare vasstelling dat die Bybel uit feilbare menslike dokumente bestaan, is dat níks (of bitter min) in die Bybel waar is (nie). Dit is 'n houding waarvolgens die lat by die aanhoor van die begrippe "Bybel" of "God" onmiddellik drie, vier keer hoër as by die analise van ander, meer sekulêre onderwerpe opgestoot word. Álbei is verkeerd en onakademies.

 

2. DIE "SKEPTIESE" STANDPUNT

Dat Jesus uit die dood opgewek is, is reeds onmiddellik ná die kruisiging met skeptisisme begroet. Volgens die evangelis Matteus het die "priesterhoofde" die soldate omgekoop om aan mense te vertel dat "Sy dissipels ... in die nag gekom en sy liggaam gesteel [het] terwyl ons geslaap het" (Matt. 28:13). Die verhaal oor Tomas wat nie wou glo nie tensy hy "die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek" (Joh. 20:25) dui daarop dat selfs sommige in Jesus se onmiddellike kring die storie oor die opwekking, al was dit slegs tydelik, in twyfel getrek het.

'n Paar eeue later het die profeet Mohammed, glo op grond van 'n openbaring wat hy van die aartsengel Gabriël gehoor het, in die Koran laat inskryf dat Christene sê

'Ons het die Messias doodgemaak, Jesus, die seun van Maria, die Boodskapper van God.' Inderwaarheid het hulle hom nie doodgemaak nie, en hulle het hom ook nie gekruisig nie, maar dit het vir hulle gelyk of hulle dit gedoen het. [...] Hulle het geen kennis daarvan nie, behalwe om veronderstellings te volg. Hulle het hom beslis nie doodgemaak nie. God het hom eerder self opgewek. (Koran soera 4:157-8)

Nader aan ons eie tyd is daar heelparty akademici, teoloë en ander skrywers wat die Jesus-opwekking óf relativeer óf ontken. Om dit alles te behandel, sal 'n volle boek verg, en dus noem ons slegs enkele voorbeelde ter illustrasie.

In 1999 het die Britse outeurs Timothy Freke en Peter Gandy 'n boek met die veelseggende titel, The Jesus Mysteries: Was the "Original Jesus" a Pagan God?, gepubliseer. Daarin betoog hulle dat Jesus nooit bestaan het nie, maar dat hy in die antieke tyd "uitgedink" is deur 'n groep Jode in Alexandrië. Hulle wys op 'n aantal ooreenkomste tussen die opwekkingsverhaal van Jesus en 'n heidense god wat onder verskillende name in uiteenlopende kulture aanbid is - Osiris, Dionusos, Attis, Adonis, Bacchus, Mithras, ensovoorts. "The story of Jesus," skryf hulle, "is not the biography of a historical Messiah, but a myth based on perennial Pagan stories. Christianity was not a new and unique revelation but actually a Jewish adaptation of the ancient Pagan Mystery religion."3

Hulle het steun ontvang van mense van wie jy beter sou verwag. So het die predikant Edward van der Kaaij van die Protestantse Kerk in Nederland in 'n boekie, beïnvloed deur Freke en Gandy se geskrif, dieselfde standpunt ingeneem.4 Van der Kaaij is later deur sy eie kerkraad afgedank.5 En in Suid-Afrika het 'n akademikus met 'n graad in Nederlandse letterkunde wat homself as 'n wetenskapsjoernalis beskou, dr. George Claassen, op grond van dié en ander boeke in Die Burger geskryf dat "dit skets 'n beeld van die wetenskaplike werklikhede rondom die Christus-mite en -legendes wat in botsing is met die goddelikheid wat die Bybel oor Christus verkondig".6

Dié tese is deur verskeie kenners uitmekaar geskeur. Die Amerikaanse Nuwetestamentikus Bart Ehrman, wat homself beskryf as "an agnostic with atheist leanings"7 laat byvoorbeeld niks van Freke en Gandy se tese heel bly nie:

Real historians of antiquity are scandalized by such assertions - or they would be if they bothered to read Freke and Gandy's book. The authors provide no evidence for their claims ... They cite no sources from the ancient world that can be checked. It is not that they have provided an alternative interpretation of the available evidence. They have not even cited the available evidence. And for good reason. No such evidence exists.8

Bowendien het die Japans-Amerikaanse klassieke historikus Edwin Yamauchi (Universiteit van Miami) oortuigend aangedui dat die mites oor die opstanding van gode soos Adonis en Mithras uit die dood vir die eerste keer in die tweede tot derde eeu in die antieke literatuur voorkom. Wat beteken dat die Christendom dit waarskynlik nie uit die heidendom oorgeneem het nie; moontlik juis andersom.9 (Natuurlik was daar al voor Jesus se tyd verhale oor sterwende en herlewende gode, maar die konteks was nietemin radikaal anders.)

Maar ook teoloë is skepties. Die Australiese teoloog Francis J Moloney betoog dat "there are no documented instances of the Resurrection from the tomb of a person who was certainly dead" en dat "there are no scientifically controllable criteria to judge with absolute certainty what was said to the women" - verwysende na die vroue wat volgens al vier evangelies die leë graf op die derde dag ontdek het. Slegs die "fact" van "an empty tomb can be subjected to objective historical investigation".10

Die Duitse teoloog Rudolf Bultmann (1884-1976, Universiteit van Marburg) se een oorkoepelende doel was wat hy beskou het as die "ontmitologisering" van die Nuwe Testament. So het hy in 1941 geskryf Paulus wou in sy vertellings oor die ooggetuies wat van die opwekking van Jesus getuig het "nie die opstanding as historiese feit geloofwaardig maak nie, maar wou net sê dat hy Jesus op dieselfde wyse as die oergemeente as die opgestane verkondig; die getuies as getuies vir die Pauliniese evangelie, nie bedoel as feit van die opstanding nie" (uit die Duits vertaal).11 In die woorde van Gabriel van Wyk ontken Bultmann "dat die historiese feit van die opstanding [wat dus nie bewys kan word nie - LS] die grondslag kan vorm vir ons geloof in die opwekking van Jesus as heilsdaad van God"12- 'n esoteriese standpunt wat vir die meeste mense onverstaanbaar sal wees. Maar dit daar gelaat.

Ook die Duitse teoloog Gerd Lüdeman (geb. 1946, Universiteit van Göttingen) skryf:

Vir mense wat al vyf hul sintuie bymekaar hou, voer die insig in die oudste Christelike opstandingsgeloof onherroeplik tot kritiek op dié geloof. Want Jesus is glad nie uit die dood opgewek nie, al bely Christene dit en al is die kerk daarop gebou. Tweeduisend jaar het die geloof aan die liggaamlike opstanding van Jesus 'n geweldige uitwerking uitgeoefen. Dit bewys hom nou as selfbedrog van wêreldhistoriese formaat.13 (Uit die Duits vertaal)

Elders het hy geskryf "we can no longer take the statements about the resurrection of Jesus literally ... the tomb of Jesus was not empty, butfull, and his body did not disappear but rotted away" (Lüdeman se klem).14

Nog 'n voorbeeld is die Suid-Afrikaanse prof. Izak Spangenberg15 wat tot die gevolgtrekking kom dat die verskillende weergawes van die opwekkingsverhale in die Nuwe Testament "onsekerheid en twyfel" weerspieël. Hy skryf verder dat "die Jesus-karakter" van die evangelies nie die historiese Jesus ([is] nie". Dié gevolgtrekking word nie histories onderbou nie. En: "Ons weet verder dat Jesus se volgelinge ná sy kruisdood verhale oor herverskynings begin vertel het as 'n wyse om die hoop op die koms van die koninkryk lewendig te hou. Hierdie verhale is onder andere vertel ter ondermyning van die Romeine se aanspraak dat die Joodse rebel (Jesus van Nasaret) dood is en dat die Romeinse staatsmag triomfeer."

Geen akademiese analise, geen oorsig van die bronne nie, geen oefening in logika nie; slegs 'n kategoriese stelling. Geen wonder nie dat die teoloog Jaap Durand ná 'n analise van Spangenberg se werk tot die gevolgtrekking kom dat 'n mens hier met "'n alternatiewe geloof' - met ander woorde, nie meer die Christelike geloof nie - te make het.16 En die filosoof Anton van Niekerk meen dat Spangenberg se teologie "op weinig meer neerkom as 'n verdagmakery van die Christelike tradisie".17

 

3. HOE OM DIE BYBEL NIÉ TE LEES NIE

Andersyds glo baie Christene die Bybel is die volledige, volmaakte en perfekte Woord van God wat nie bevraagteken mag word nie. Elke woord daarin is letterlik waar. Die teoloog Christo Lombaard (Unisa) wys byvoorbeeld op teenstrydighede in Deuteronomium en die Evangelies, maar vervolg dan: "Wat maak 'n mens daarmee? Jy glo dit. Want só is dit, in die eeueoue geloofsverskeidenheid, geïnspireer en gekanoniseer as Gods Woord".18

Sulke mense besef dit dalk nie, maar dit is baie soos ortodokse Moslems die Koran bekyk.

Volgens oorlewering het die aartsengel Gabriël oor 'n periode van 23 jaar in verskeie visioene aan die profeet Mohammed verskyn en boodskappe van Allah aan hom oorgedra terwyl hy met sy vee in die veld was. Wanneer hy terug was by sy mense, het Mohammed die boodskappe dan gedikteer, en dit is vervolgens woord vir woord neergeskryf. Ná sy dood is die neergeskrewe openbarings versamel en in die Koran byeengebring.19

Dus is die Koran volledig, waar en perfek. Selfs die taal waarin dit geskryf is, die Mekkaanse dialek van Arabies, is die taal van Allah. Gevolglik is alle vertalings van minder waarde; slegs die oorspronklike Arabies het enige teologiese geldigheid. Die perfeksie van die Koran beteken ook dat dit nie aan onafhanklike akademiese ondersoek onderwerp mag word nie. Soos die kritiese Moslem-teoloog Emran el-Badawi (Universiteit van Houston) dit stel, "we must conclude that Muslim societies are required to impose a rigid interpretation of the text (which is supported by dogma), prosecuting whoever disagrees with it. This is precisely the tragic situation we face today".20

In die Weste het die Verligting egter 'n omwenteling in die benadering van die Bybel meegebring. Toenemend het navorsers die Bybelse geskrifte onafhanklik en krities ondersoek en talle problematiese aspekte blootgelê. Volgens die Vlaamse teoloog Etienne Vermeersch (Universiteit van Gent) is daar minstens 470 interne teenstrydighede in die Bybel.21 Dit beteken dat 'n moderne navorser die Bybelse geskrifte nie as die onfeilbare Woord van God kan hanteer nie, maar as 'n reeks menslike historiese bronne wat op dieselfde manier as ander bronne benader moet word. Die teoloog Ferdinand Deist beskryf die Bybel juis as 'n "historiese getuie",22 wat na my mening 'n beter - neutraler - benadering is. Soos ons nog sal sien, kan dit op verrassende konklusies uitloop.

 

4. WAT DIE HISTORIESE WETENSKAP VEREIS

Maar hoe kan ons enigiets oor die beweerde opwekking van Jesus weet? Hoe weet ons enigiets van die geskiedenis? Hoe weet ons byvoorbeeld dat 'n oorlog in die jare 1899-1902 gewoed het in die grootste deel van die gebied wat later Suid-Afrika geword het? Die antwoord is eenvoudig: Omdat 'n oorvloed aan historiese bronne daaroor bestaan. Dit sluit in dokumente uit die tyd self (dagboeke, amptelike verslae, korrespondensie, koerantberigte) en latere ooggetuieverslae van mense wat self in die konflik betrokke was. Dit is die historikus se taak om al die bronne te sif en te weeg en uiteindelik in 'n koherente betoog te rekonstrueer en te vertolk op 'n manier wat so akkuraat en objektief moontlik is. Dit beteken dat 'n kritiese ondersoek van die bronne noodsaaklik is. In die woorde van die vermaarde Franse historikus Marc Bloch: "Indeed, it is the prime necessity of well-conducted historical research."23

Dieselfde geld vir die lewe en tye van byvoorbeeld Alexander die Grote, Napoleon, Winston Churchill - en Jesus van Nasaret. In laasgenoemde geval het ons vier beskrywings van sy lewe (die evangelies volgens Mattheus, Markus, Lukas en Johannes), asook verwysings in die boek Handelinge van die Apostels en die sendbriewe van Paulus en ander skrywers. Ten slotte is daar ook buite-Bybelse bronne.

Dit is weliswaar nie dieselfde as die bronne oor die Anglo-Boereoorlog nie. Die Bybelse skrywers was nie blote kroniekskrywers nie; hulle wou getuig van wat hulle as 'n goddelike wonder ervaar het, te wete die wonder van Jesus se lewe en opwekking uit die dood. Bowendien is dié bronne eers later, in sommige gevalle dekades, ná die gebeure op skrif gestel. (Ofskoon, ook die dokumente oor die Anglo-Boereoorlog getuig van 'n bepaalde wereldbeeld.) Tog moet ons dié bronne sif en weeg en benader volgens die aanvaarde intellektuele apparaat wat elke historikus hanteer. Ons moet die Bybel vir ons doeleindes losmaak van sy heilige karakter en dit eenvoudig as 'n reeks historiese bronne benader. Onder Suid-Afrikaanse akademici is dit 'n nuwe benadering. Sover bekend, het geen sekulêre Suid-Afrikaanse historikus nog ooit die Bybel krities as 'n versameling menslike historiese dokumente behandel nie.

Soos die Nederlandse oudheidhistorikus Jona Lendering dit stel, jy kan die Bybel op verskillende maniere lees: "Een gelovige zoekt in de oude teksten steun voor zijn geloof en inspiratie voor zijn leven. Hij neemt daarbij aan dat de Bijbel door God is geïnspireerd. Een historicus stelt andere vragen. Die wil weten hoe het vroeger is geweest en heeft geen oordeel over goddelijke inspiratie. De gelovige en de historicus hebben geen ruzie. Ze stellen slechts verschillende vragen."24 En die antieke historikus Jürgen Spieß skryf oor die werkwyse van die historikus: "In elke wetenskap hang die metode waarmee 'n mens werk van die onderwerp af waaroor 'n mens die waarheid wil vind. Dus werk historici anders as fisici, maar soortgelyk as juriste. Historici voer 'n soort "indikasieproses". Vandag leef niemand meer wat die geskiedenis van Augustus en Caesar meegemaak het nie. Ons moet ons verlaat op die getuienisse wat bewaar gebly het. Op papirusse, op inskripsies op stene en munte, op wat antieke historici geskryf het, op briewe wat behoue gebly het. Dit is die moontlikhede wat ons in die geskiedwetenskap het. Indien 'n mens jou met die opwekking [van Jesus] besig hou, sal jy gevolglik vra: Welke aanduidings [Indizien] is daar? Waar is die aanduidings oor die eerste Christene en oor Jesus Christus te vind?"25

Wel, klinkklare bewýse - soos dié wat 'n mens in 'n laboratorium of 'n wiskundige formule sal vind - sal 'n mens vergeefs soek. Dit bestaan nie. Indien die brónne wat oor Jesus se opwekking berig, egter op akademiese gronde betroubaar lyk, sou dit 'n aanduiding wees van die aard van die werkwyse waaroor Spieß dit het.

Daar is verskeie vereistes waarvolgens die historiese wetenskap die betroubaarheid van historiese bronne bepaal. Kort gestel, die afstand tussen die bron en die gebeurtenis(se) waaroor dit handel, moet so klein moontlik wees. Dit geld vir sowel die tydsafstand as die vraag hoeveel skakels daar tussen die gebeurtenis en die bron is. 'n Ooggetuieverslag wat - sê maar - 'n dag ná die gebeurtenis opgeteken is, is aansienlik meer werd as een wat 20 jaar later neergeskryf is. Ook is 'n ooggetuie se weergawe, selfs al dateer dit van 20 jaar ná die tyd, normaalweg meer werd as een wat via vier of vyf mondelinge oorvertellings skriftelik neerslag gevind het, selfs al dateer laasgenoemde slegs 10 jaar ná die gebeurtenis.

Meestal word 'n onderskeid getref tussen primêre en sekondêre bronne. Die Amerikaanse historikus Louis Gottschalk verduidelik dit só:

A primary source is the testimony of an eyewitness ... that is, of one who ... was present at the events of which he ... tells ... A secondary source is the testimony of anyone who is not an eyewitness - that is, of one who was not present at the events of which he tells. A primary source must thus have been produced by a contemporary of the events it narrates.26

Die Nederlandse historikus Ger Harmsen gebruik ander woorde vir dieselfde onderskeid. Hy noem dit bronne en historiese literatuur:

Bronnen noemen wij alles waar op zo direct mogelijke wijze gegevens omtrent het verleden aan ontleend kunnen worden. Dit 'op zo direct mogelijke wijze' doet zich in allerlei gradaties voor ... Bronnen zijn dus resten of sporen van het verleden die zijn achtergebleven, gevormd of ontstaan tijdens of vlak na de achter ons liggende gebeurtenissen waar zij naar verwezen. De historische literatuur ontleent zijn gegevens aan de bronnen, direct of indirect, maar stamt dikwijls uit een latere tijd.27

Soos Harmsen egter self erken, is daar gevalle "waarin de grens tussen beide onduidelijk is".28As dit gaan oor die antieke tyd - soos in dié artikel die geval is - word die primêre bronne oorweldigend deur die argeologie verskaf. Vir die res maak moderne historici hoofsaaklik staat op die sekondêre bronne (of historiese literatuur) van antieke skrywers soos Herodotos, Theukudides, Cornelius Tacitus - of die evangeliste van die Nuwe Testament.

Die bronne kan ewenwel nie kritiekloos aanvaar word nie. Arthur Marwick ontleed die taamlik ingewikkelde proses waaraan 'n historikus sy bronne moet onderwerp voordat hy hulle as geloofwaardig kan aanvaar:

What type of source is it? ... More crucially, how did the document come into existence in the first place? What person, or group of persons, created the source? What basic attitudes, would he or they likely have? How and for what purpose did the document come into existence? Who was it written for or addressed to? ... How far is the author of the source really in a good position to provide first-hand information on the particular topic the historian is interested in? Is the writer dependent, perhaps, on hearsay?29

Volgens Gottschalk gaan alle geskiedskrywing vervolgens deur vier fases:

Die versameling van die bronne;

Die uitsluiting van bronne wat ongeloofwaardig is;

Die ontginning van materiaal wat wel geloofwaardig is; en

Die organisering van die geloofwaardige materiaal in 'n sinvolle narratief.30

Die vermaarde historiese teoretikus Geoffrey Barraclough definieer geskiedskrywing juis as "the attempt to discover on the basis of fragmentary evidence the significant things about the past".31 'n Belangrike element van dié artikel sal dus wees om te kyk in welke mate die skrywers wat van Jesus se opwekking getuig, dié werkwyse volg al dan nie.

 

5. DIE BUITE-BYBELSE BRONNE

Byna alles wat ons van Jesus weet, lees ons in die werk van die vier evangeliste en ander Nuwetestamentiese geskrifte. Maar daar is ook ander skrywers uit die antieke tyd wat blyke daarvan gee dat hulle van Jesus se bestaan bewus is. Die belangrikste is waarskynlik die Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus, wat twee keer na Jesus verwys. Een verwysing handel eintlik oor die teregstelling van Jakobus, Jesus se broer, en dáár is die verwysing na Jesus slegs terloops. Die ander een staan bekend as die Testimonium Flavianum. Soos dit tot ons gekom het, bevat dit 'n ongeloofwaardige verwysing na Jesus se opstanding uit die dood en na hom as die "Messias" - ondenkbaar vir 'n ortodokse Jood soos Josefus, wat nêrens elders blyke van 'n bekering tot die Christelike geloof gee nie. Daar kan min twyfel wees dat 'n Christelike kopiis dié verwysing daar ingeskryf het. As 'n mens dit verwyder, bly die volgende geloofwaardige stuk nietemin oor (soos dit deur die Nederlandse historikus Fik Meijer gerekonstrueer is - uit die Nederlands vertaal):

In dié tyd het Jesus geleef, 'n wyse man. Hy het naamlik dade verrig wat onmoontlik geag is, en hy was die leermeester van mense wat die waarheid met vreugde aanvaar het. En veel Jode, asook baie van die Grieke het hy oortuig. Ook nadat Pilatus hom op aandrang van die voorste manne by ons die straf van die kruis opgelê het, het diegene wat die eerste in liefde geleef het, nie opgegee nie. Tot vandag toe het die groep van die Christene wat na hom genoem is, nie verdwyn nie.32

Daar is ook in mindere of meerdere mate verwysings na Jesus se lewe en teregstelling in die werke van die Romeinse skrywers Cornelius Tacitus, Gaius Suetonius en Gaius Plinius, asook in die geskrifte van die vroegste kerkvaders Clemens van Rome en Ignatius van Antiochië.

Die drie Romeinse skrywers se geskrifte dateer van sowat 'n eeu ná Jesus se dood en is dus slegs van beperkte waarde; 'n mens sou hoogstens op grond daarvan kon stel dat die verhale oor sy lewe en teregstelling wyd in die Romeinse Ryk gesirkuleer het. Dit is ook nie bekend wat die bronne is waarop dié verwysings berus nie. Clemens (waarskynlik 35-99 n.C.) het egter nog ooggetuies van Jesus se lewe geken en haal in sy briewe enkele Jesus-uitsprake aan wat nie in die evangelies voorkom nie. Hy verwys na Jesus se kruisiging en opwekking uit die dood.33 Veral Clemens se getuienis is meer werd as dié van die Romeinse skrywers of van Ignatius, aangesien sy kennismaking met ooggetuies die afstand tussen hom en die kruisiging en opwekking korter maak as dit wat vir die ander geld.

'n Verdere vermeldingswaardige bron is Quadratus van Athene (sterf in ongeveer 129). Sy werk het verlore gegaan, maar is deur die kerkhistorikus Eusebius aangehaal. Daarvolgens het van die siekes wat deur Jesus genees is, nog tot in die regeringstyd van keiser Hadrianus (117-138) oorleef.34 Die kerkvader Irenaeus rapporteer voorts dat hy in sy jeug gehoor het hoe Polukarpos, biskop van Smirna, vertel het van gesprekke met die apostel Johannes "en ander wat die Heer gesien het. Hy het hul ware woorde onthou, wat hulle oor die Heer vertel het en sy wondere en onderrig ... ."35 In die jaar 110 het biskop Ignatius van Antiochië (waarskynlik 35-108 n.C.) in 'n brief geskryf wat hy van die vorige geslag kerkvaders verneem het: "En toe [Jesus] by dié saam met Petrus gekom het, het hy vir hulle gesê: 'Vat aan my, raak my aan en sien dat ek geen demoon sonder liggaam is nie'".36

 

6. DIE VIER EVANGELIES

Die stam van die woord "evangelie" is die Griekse euangelizein ("om aan te kondig") en die selfstandige naamwoord is euangelion ("aankondiging"). Die aankondiging waarom dit hier gaan, is die boodskap van Jesus as die Messias wat die dood oorwin het. Mettertyd het dit die betekenis van goeie nuus gekry.37

Anders as wat die ortodokse Moslems oor die totstandkoming van die Koran vertel, het die werke van die vier evangeliste - Markus, Matteus, Lukas en Johannes - nie wonderbaarlik uit die hemel geval nie. Johannes staan apart en sal later afsonderlik behandel word. Omdat die eerste drie min of meer dieselfde struktuur het en talle verhale deel, word hulle die sinoptiese evangelies genoem (Grieks: sunoptikós, oftewel "saam gesien").

Die Duitse teoloog Hans Küng (geb. 1928, Universiteit van Tübingen) skryf heel eerlik oor die Evangelies:

Die evangelies wil dus geen objektiewe dokumentêre beriggewing wees en seker geen neutrale geskiedskrywing nie ... Hulle sien Jesus met die oë van die geloof. Hulle is dus betrokke en betrekkende geloofsgetuienisse ["engagierte und engagierende Glaubenszeugnisse"]: geen dokumente van mense wat die saak van 'n afstand waarneem nie, maar tekste van oortuigde gelowiges wat oproep tot geloof in Jesus Christus en daarom 'n interpreterende, ja, selfs belydende vorm het.38

Dit sal nodig wees om die totstandkoming van die evangelies te rekonstrueer. Oudheid-kundiges en teoloë het dit al dikwels gedoen, maar hul insigte is nodig om die evangeliste se werk as historiese bronne te beoordeel - en geen historikus het dít nog in Suid-Afrika gedoen nie.39

Die oudste oorlewering oor die totstandkoming van die evangelies is afkomstig van biskop Papias van Hiërapolis (min of meer 70-163). Sy oorspronklike geskrif, wat uit ongeveer 110 dateer, het verlore gegaan, maar die kerkhistorikus Eusebius (263-339) haal hom aan. Daarvolgens het Papias dikwels met mense gepraat wat die apostels en ander ooggetuies geken het. Hy skryf dat Markus 'n volgeling van die apostel Petrus was. Markus het alles wat Petrus hom oor Jesus se lewe vertel het, akkuraat neergeskryf, maar nie in korrekte volgorde nie. "Want hy het maar één doel gehad: om niks weg te laat wat hy gehoor of enige onwaarheid daarby in te sluit nie." Wat Matteus se geskrif betref, het Papias geskryf: "En só het Matteus die woorde in die Hebreeuse taal neergeskryf, en elkeen het hulle na sy beste vermoë vertolk [of vertaal]".40 Volgens die kerkvader Irenaeus (ongeveer 139-202) se boek Adversus Haeresus ("Teen Kettery") het dit gebeur terwyl Petrus en Paulus in Rome was. Hy bevestig ook dat Markus se evangelie op die prediking van Petrus berus en skryf die outeurskap van die derde evangelie toe aan Lukas, die metgesel van Paulus. Die vierde evangelie is volgens hom deur die apostel Johannes geskryf.41

Dis onmoontlik om die akkuraatheid van Papias se weergawe met sekerheid te bepaal, al is dit moeilik om te sien waarom dié weergawe, so na aan die evangeliste se tyd, noodwendig verwerp moet word. Die Griekse teks van Matteus, wat volgens hom oorspronklik in Hebreeus (dalk eerder Aramees) neergeskryf is, verraai wel Hebreeus-Aramese invloed. Ook Markus se geskrif verraai plek-plek dat dit minstens deels op 'n vroeëre Aramese bron berus.42 Dat Markus sy inligting van Petrus gekry en in 'n lukrake volgorde neergeskryf het, is ook beslis nie onmoontlik nie. Die Duitse teoloog Martin Hengel van die Universiteit van Tübingen (1926-2009) word só deur Richard Bauckman aangehaal: "I do not know any other work in Greek which has so many Aramaic or Hebrew words and formulae in so narrow a space".43En Craig Evans noem Markus se evangelie "stylistically and grammatically flawed". Hy sê 'n studie van Markus "fully justifies Papias' description".44

Wat Markus betref, maak Martin Hengel 'n interessante punt. Hy noem Markus "a dramatic narrator" wat sy stof duidelik teologies orden. Sy evangelie het van die begin af gesag onder die vroegste Christene gehad en is as bron deur Matteus en Lukas gebruik. Die geskrif sou dié gesag nie as anonieme skrywe kon verkry het nie. Dit dui daarop dat Markus se naam van die vroegste tye aan dié evangelie gekoppel moes gewees het. Hy meen Papias se stelling "that Mark was based upon Petrine tradition has a genuine historical background".45 Dit klink logies en bring Markus se geskrif duidelik binne trefafstand van die gebeure.

Hoe ook al, 'n strukturele vergelyking van die drie sinoptiese evangelies bring interessante insigte na vore. Markus is die kortste en bevat die minste inligting. Altesame 95% van sy inligting kom ook voor in Matteus en Lukas, en dit is dus logies dat albei sy evangelie as bron benut het. Maar Matteus en Lukas bevat ook gemeenskaplike inligting wat nie by Markus voorkom nie, wat daarop dui dat hulle albei 'n verdere - waarskynlik geskrewe - bron onder oë gehad het. Dié bron, met verskeie uitsprake van Jesus, is deur die Duitse navorsers wat dit gerekonstrueer het, met die letter "Q" (vir Quelle, die Duits vir "bron") aangedui. Daarnaas bevat Matteus en Lukas elk ook unieke materiaal wat slegs by elkeen afsonderlik voorkom, en dit word gevolglik as "M" en "L" aangedui.46

Skematies lyk die struktuur van die drie sinoptiese Evangelies dan só:47

 

 

Dit is in elk geval duidelik dat die drie Evangelies self geen primêre bronne is nie, maar (in die woorde van Ger Harmsen) historiese literatuur wat op primêre bronne (mondelinge oorlewering en waarskynlik skriftelike bronne) gebaseer is. As Papias korrek is oor Petrus as bron vir Markus, beteken dit dat Markus geen eerstehandse ooggetuieverslag is nie, maar dat dit wel tweedehandse ooggetuiemateriaal bevat. Dikwels word die tollenaar Matteus, oftewel Levi (vgl. Matt. 9:9 en 10:3) as die outeur van die Evangelie volgens Matteus aangedui, in welke geval dié werk in beperkte mate 'n ooggetuieverslag bevat. 'n Tollenaar met die naam Matteus het die lewe van Jesus aan die rand meegemaak. Tog dui niks in die geskrif self daarop dat die skrywer daarop aanspraak maak nie.

Wat Lukas betref, die skrywer is baie eksplisiet daaroor dat hy geen ooggetuie is nie, maar dat hy verskeie bronne soos 'n historikus benut het:

Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is. (Luk 1:3-4)

David Moessner meen op grond hiervan dat "Luke demonstrates that he is thoroughly familiar with the standards of good Hellenistic narrative production". Alles dui op "Luke's intent to write proper Hellenistic narrative, inclusive of Hellenistic auditors' expectations".48

Die punt is dus dat die evangelieskrywers die verhale nie uit hul duim gesuig het nie; hulle het bronne benut. Die strukturele ooreenkoms tussen die drie wys dit duidelik. Dit wil nie sê dat hulle, soos uiters ortodokse Christene glo, alles perfek opgeteken het en dat elke woord daarin die volkome en perfekte waarheid bevat nie. Selfs al het hulle na eer en gewete te werk gegaan, bly hul geskrifte dié van feilbare mense en moet as sodanig beoordeel word. Dit beteken ook nie dat hul brónne perfek was nie; dit bevestig bloot dat hulle die feite in hul geskrifte nie uit die lug gegryp of uitgedink het nie.

Die Evangelie van Johannes staan apart. Dié geskrif is ongeveer negentig jaar na die gebeure voltooi en volgens Martin Hengel ná die skrywer se dood in die jare 100-105 deur sy volgelinge geredigeer.49 As 'n mens dit goed lees, val dit in twee duidelik onderskeibare dele uiteen.

Die eerste behandel die drie jaar van Jesus se Messiaanse loopbaan op aarde en bestaan in groot mate uit 'n reeks toesprake of preke wat nie in die ander Evangelies voorkom nie. 'n Mens kan dit op een van twee maniere verklaar.

Die een is dat die skrywer unieke bronne (hetsy geskrewe of mondelinge oorlewering van ooggetuies) tot sy beskikking gehad het. Die ontdekking van die evangelie van Tomas in die Egiptiese Nag Hammadi in 1945, wat 'n reeks bekende en onbekende uitsprake van Jesus bevat, dui daarop dat ander geskrewe bronne heel moontlik ook kon bestaan het. Johannes erken immers self (21:25): "Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie."

Die ander is dat hy moontlik 'n gewoonte gevolg het wat by verskeie ander antieke historici voorkom. Dit is dat 'n mens toesprake nie as die akkurate, letterlike woorde van die spreker moet sien nie, maar dat dit wel die géés en bedóéling van die figuur ter sprake akkuraat weergee. "Accuracy or literal truth was not crucial," skryf Gerald Press oor antieke geskiedskrywing.50As 'n mens die toesprake of preke in die eerste helfte van Johannes in dié lig moet sien, is Jesus se wóórde nie noodwendig akkuraat weergegee nie, maar waarskynlik wel sy bedóéling.

Die aard van die tweede helfte verskil drasties van die eerste. Nou is dit duidelik 'n ooggetuieverslag van die "dissipel wat Jesus liefgehad het", die apostel Johannes. Oor Jesus se sterwenstoneel aan die kruis gee die skrywer uitdruklik te kenne dat hy 'n ooggetuie was: "Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo" (Joh. 19:35). En in die voorlaaste vers van sy geskrif skryf Johannes voorts: "Dit is die dissipel wat oor al hierdie dinge getuienis aflê en dit beskrywe het, en ons weet dat sy getuienis waar is" (Joh. 21:24). Dit word in die eerste Johannesbrief herhaal: "Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak" (1 Joh. 1:1). Wat die historiese betroubaarheid van dié evangelie steun, is die feit dat die skrywer duidelik uitstekend op die hoogte van Jerusalem se geografie is.51

Craig Evans se genuanseerde oordeel lyk in die kol: "In my view, even though the Gospels are written from a perspective of faith in Jesus, they are reliable. Faith and faithful history are not necessarily at odds".52 Fik Meijer meen eweneens dat "de laatste uren van Jezus' leven door alle vier de evangelisten in een chronologische volgorde gepresenteerd, een opvallend verschil met hun uiteenlopende en minder gestructureerde weergaven van Jezus' leven in Galilea".53 Martin Hengel skryf: "While the Gospels may not be 'biographies' in the modern sense, they are comparable, despite their unique eschatological determination, to ancient 'life descriptions' and were also understood as such in antiquity." Hy staaf dit dan met verwysing na die werk van antieke skrywers soos Xenofon, Plutarchos, Suetonius, Lucianus, Porfurios, Iamblichos en Filostratos.54 En John Barton meen die Evangelies is nie "late fictions" nie: "... almost certainly they rest on memories passed down by word of mouth, and perhaps sometimes jotted down in informal documents, collections of sayings ..."55

 

7. DIE TYDSAFSTAND

Die normale reël in die geskiedeniswetenskap is: Hoe korter die tydsafstand tussen die bron en die gebeure waaroor dit handel, des te betroubaarder is die bron (ofskoon dit nie die enigste maatstaf is nie). Dus is dié vraag belangrik: Wanneer is die Evangelies geskryf?

Die oorwegende konsensus onder teoloë en Nuwetestamentici is dat Markus kort voor die jaar 70 en Matteus en Lukas in die dekade daarna voltooi is. Johannes volg dan heelwat later, in die jare 90, of selfs vroeg in die tweede eeu.56

In die Joodse geskiedenis is die jaar 70 van aardskuddende belang. In 66 het die Jode in Palestina teen die Romeinse oorheersing in opstand gekom, maar vierjaar later het die Romeinse legioene Jerusalem ingeneem. Die stad - en, nog belangriker die tempel - het in vlamme opgegaan.

Vir die Jode was dit 'n beslissende oomblik, minstens ewe traumaties as die verwoesting van die Salomoniese tempel deur die Chaldeërs in 587 v.C. en die sewe dekades durende ballingskap in Babilonië. Markus, so lui die konsensus, gee moontlik blyke van 'n bewussyn dat die tempel in 70 verwoes is, en dus kan aanvaar word dat hy sy werk omstreeks dié tyd geskryf het. Aangesien sowel Matteus as Lukas uitsprake aan Jesus toeskryf wat op die verwoesting van die tempel sinspeel (vgl. Matt. 24:1-2; Luk. 19:43-44; Luk 21:20-24), sou dit volgens die konsensus daarop kon dui dat dié twee geskrifte in die daaropvolgende dekade voltooi is.57 Volgens Ian Wilson was die grootste dryfkrag agter dié tese die Duitse teoloog Werner Kümmel (Universiteit van Marburg, 1905-1995), opvolger van Rudolf Bultmann.58

Dié konsensus is oorwegend (maar nie uitsluitend nie) van teoloë en Nuwetestamentici afkomstig. Maar ek is geen geleerde teoloog nie en nog minder 'n Nuwetestamentikus; ek is 'n eenvoudige historikus. Dus bekyk ek die saak vanuit 'n ander hoek, dié van logika en gesonde verstand.

In die boek Handelinge van die Apostels word 'n gebeurtenis genoem wat aan 'n spesifieke datum gekoppel kan word. Dit is die teregstelling van Jakobus, broer van Jesus (Hand. 12:2). Uit Flavius Josefus se geskrifte kan die datum gerekonstrueer word as die jaar 62.59 Handelinge is dus in elk geval ná dié jaar voltooi.

Terselfdertyd weet ons dat Petrus waarskynlik in 64 en Paulus in 67 gesterf het.60 Hiermee was die drie sentrale leiers van die vroeë kerk almal daarmee heen. Vir die eerste gemeentes was dit ongetwyfeld 'n swaar slag wat wyd deur die Christelike wêreld weerklink het. Maar al maak Handelinge wel gewag van Jakobus se teregstelling deur Herodes, swyg die geskrif soos die graf oor dié van Petrus en Paulus. Die boek sluit eenvoudig af met die mededeling dat Paulus twee jaar lank in Rome gebly en mense oor die geloof onderrig het - en basta (Hand. 28:30-31).

Waarom? Die mees voor die hand liggende rede is dat die skrywer van Handelinge - Lukas of wie ook al - nie van Petrus en Paulus se dood geweet het nie. En die rede dáárvoor, kan 'n mens billikerwys postuleer, is dat die twee nog in lewe was toe Handelinge voltooi is. 'n Mens kan aanneem dat die nuus in die antieke tyd nie so vinnig versprei het soos vandag nie. Dit kon dus etlike maande geduur het voordat die twee se dood tot die skrywer van Handelinge deurgedring het. Maar as 'n mens die logika van die breë dateringskonsensus moet aanvaar, moet jy ook aanvaar dat dit 'n dekade of selfs meer sou geduur het voordat Handelinge se outeur gehoor het dat die twee omgebring is. Dit is só onwaarskynlik dat dit sonder meer verwerp kan word.

Dit is ook in beginsel moontlik dat die skrywer 'n opvolgboek beplan het en dat hy Petrus en Paulus se dood daarin wou noem. Maar as 'n historikus só 'n stelling wil maak, moet hy dit staaf deur dit op 'n geloofwaardige bron te baseer, en daar is geen aanduiding hoegenaamd dat dit die geval is nie. Dit is voorts moontlik dat enkele verse met die vermelding van die twee se oorlye weggeraak het. Maar ook dáárvoor is daar eenvoudig geen bewyse nie, sodat ook dít 'n blote spekulasie bly. Die logika gebied 'n mens dus om te aanvaar dat Handelinge ná 62, maar waarskynlik vóór 64 - of in elk geval vóór 67 - voltooi is.

Ook die sekulêre historikus, Fik Meijer, wat weliswaar nie baie seker van sy saak lyk nie, skryf: "De eenvoudigste conclusie is dat Lucas zijn tekst twee jaar nadat Paulus in Rome was gekomen heeft afgerond." Hy meen dat dit al in die jaar 62 of 63 voltooi kon gewees het.61

Dit bring ons dan by die volgende stap: Daar is 'n algemene konsensus dat Markus die oudste van die Evangelies is. Dan volg Matteus, vervolgens Lukas (en Handelinge), en heel laaste kom Johannes. As dié volgorde korrek is (en daar is geen enkele rede om hieraan te twyfel nie), moet Lukas waarskynlik teen 58-60 voltooi gewees het, Matteus - sê maar - teen 55, en Markus aan die begin van dié dekade. (Wat trouens ook moontlik sou kon beteken dat die Sinoptiese evangelies aan Paulus bekend kon gewees het. En dít kan 'n verklaring wees vir waarom hy in sy sendbriewe feitlik geen aandag aan besonderhede van Jesus se lewe wy nie; hy het moontlik aanvaar dat die mense tot wie hy hom rig, reeds bekend daarmee was. Maar dit net terloops.)

Dié redenasie word moontlik gesteun deur 'n papirus-fragment, bekend as 7Q5, wat saam met ander papirusboeke van die Koemran-gemeenskap in 'n grot ontdek is. Sommige identifiseer dit as 'n fragment van die Markus Evangelie. Aangesien dié gemeenskap in die jaar 68 deur die Romeine vernietig is, sou dit beteken dat Markus voor 68 geskryf moes gewees het. Dit is interessant dat dié datering oorwegend deur teoloë verwerp word, maar dat talle papiroloë, almal lid van die International Association of Papyrologists, dit as juis aanvaar.62Eerlikheidshalwe moet vermeld word dat daar ook papiroloë is wat die mening nie deel nie.63Trouens, James Crossley maak 'n saak daarvoor uit dat Markus reeds teen die einde van die jare dertig of begin veertig geskryf kon gewees het, maar hy is 'n hoë uitsondering.64

As dié redenasie steek hou, moet die vroegste Evangelie, dié van Markus, moontlik tot sowat 20 jaar ná die kruisiging en opwekking gedateer word. Wat beteken dat dit, en waarskynlik die ander ook, ruimskoots binne menseheugenis versprei is. Dié vroeë datering wen veld, veral by geleerdes wat nié teoloë is nie. Die Britse historikus Tom Holland se versigtige oordeel is: "The four canonical gospels continue to defy precise dating. Estimates range from the 50s to the 90s. The evidence for a later date is no longer as solid as it was once thought to be".65 En die regsgeleerde Charles Foster bevestig: "The general trend over the last half-century has been to push the dates of composition backward. It would have been a hallmark of dangerous fundamentalism for a scholar in the first half of the twentieth century to assert that John was first century. Now it would be rather eccentric not to assert it."66

Dat talle teoloë aan die later datering vashou, skryf die Duitse papiroloog-historikus Carsten Peter Thiede (1952-2004) toe aan "angst om voor ouderwets en fundamentalistisch te worden versleten. Men weigert daarom een discussie aan te gaan met archeologen, papyrologen, klassieke filologen en natuurwetenschappers over de jongste technische ontwikkelingen en ontdekkingen op die gebieden".67

Die vroeër datering het ten slotte nog 'n verwante implikasie. Dikwels word aangeneem dat 'n dik laag teologiese vertolking die harde historiese kern daaronder bedek en vervorm. As die vroeër datering korrek is, is die teologiese laag bo-op minder substansieel as wat baie geleerdes dink en is die tekste van die evangelies (in elk geval die eerste drie en die tweede helfte van die vierde) juis nader aan die historiese kern.

 

8. PAULUS

Ofskoon Paulus geen ooggetuie van die gebeure rakende Jesus se kruisiging en opwekking was nie, het hy binne drie jaar ná sy bekering 'n twee weke durende besoek aan die apostel Petrus en Jakobus, broer van Jesus, in Jerusalem gebring (Gal. 1:18-20). Uit dié en ander kontakte met van die vroegste Christene het Paulus verneem wat gebeur het. Aan die gelowiges in Tessalonika skryf hy dan: "Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het" (Tess. 3:14). Dié brief word meestal in die jaar 50 gedateer,68 wat dit sy eerste getuigskrif oor die opwekking van Jesus uit die dood maak.

In sy eerste brief aan die Korintiërs skryf Paulus voorts iets wat as historiese bron baie belangrik is:

Die belangrikste wat ek aanjulle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas [Petrus] verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels (1 Kor. 15:3 7).

Dit sal nodig wees om dié aanhaling nader te ondersoek. Ehrman wys daarop dat die begrippe "oorgelewer" en "ontvang" "the kind of language [is] commonly used in Jewish circles to refer to traditions that are handed on from one teacher to the next".69 Dit lyk logies om te aanvaar dat Paulus die kennis wat hy nou aan die mense van Korinte deurgee, van Petrus en Paulus ontvang het toe hy drie jaar ná sy bekering 'n besoek van twee weke aan hulle in Jerusalem gebring het.

Die historikus-teoloog Kirk Macgregor (Universiteit van Miami) skryf oor die perikoop: "Form criticism has established that within 1 Cor. 15:3-7 Paul quotes a primitive creed originally formulated during the earliest years of the Jesus movement. Although scholars differ concerning its precise length, there has emerged a consensus that at least verses 3-5b belong to the ancient tradition ...". Ook hy meen die begrippe "oorgelewer" en "ontvang" "are technical terms used by Jewish rabbis for the transmission of sacred tradition. Therefore, Paul admits that the creed is not his own, but that he received it from an earlier source who handed it down to him. Second, several words in the creed are found almost nowhere else in Paul's writings, which indicates that Paul is quoting an earlier source".70 En Heinzpeter Hempelmann meen dié geloofsbelydenis dateer minstens tot die eerste dekade ná die kruisiging.71

Dit is dus inderwaarheid die heel oudste Christelike geloofsbelydenis in die geskiedenis, en as sodanig van enorme historiese betekenis. Dit wys dat die heel vroegste Christene, reg of verkeerd, gegló het dat Jesus gesterf het, begrawe is, en op die derde dag uit die dood opgewek is. Al die latere teologiese twiste was vir hulle onbelangrik.

Dalk die belangrikste vir ons doeleindes is die feit dat dié bron ons terugneem tot op die allermeeste vier tot vyf jaar ná die kruisiging en opwekking. Die Britse teoloog Tom Wright (St. Andrews-Universiteit) skryf tereg: "Here, if anywhere, we are as near bedrock as we are likely to get".72 Dit maak die bronne wat oor Jesus se opwekking getuig des te geloofwaardiger.

 

9. VERSKILLE

'n Mens sou 'n hele boek kon vul met al die verskillende weergawes van Jesus se kruisiging, begrafnis, opwekking en verskynings in die Nuwe Testament. As die Bybel soveel uiteenlopende weergawes bevat, weergawes wat nie met mekaar versoen kan word nie, wat sê dit dan oor die geloofwaardigheid daarvan? Dit is iets wat rasioneel ondersoek moet word. Kom ons kyk eers na enkele verskille rakende die aanloop tot die kruisiging:

In die Sinoptiese Evangelies word Simon van Sirene gedwing om die kruis te dra (Mark. 15:20-21; Matt. 27:31-32; Luk. 23:26). Johannes (19:17) laat Jesus self die kruis dra.

Die bewoording van Pilatus se teks op die kruis is anders in elk van die Evangelies (Mark. 15:26; Matt. 27:37; Luk. 23:28; Joh. 19:19).

Volgens Markus (15:23) het die Romeinse soldate wyn gemeng met mirre aan Jesus gegee om te drink, maar hy wou dit nie hê nie. Matteus (27:48) en Lukas (23:36) praat net van suur wyn, maar meld nie wat Jesus se reaksie was nie. Johannes (19:29) bevestig die suur wyn, maar impliseer dat Jesus dit wel gedrink het.

Volgens Markus (15:23) en Matteus (27:46) is Jesus se laaste woorde 'n aanhaling uit Psalm 22:2 - "My God, my God, waarom het u my verlaat?" (Terloops, later in Psalm 22 getuig die skrywer dat God hom gered het en dat die hele wêreld Hom sal dien. Dit is billik om te vermoed dat Markus en Matteus ook dít met dié woorde in gedagte gehad het.) Lukas (23:46) laat hom sê: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor." By Johannes (19:30) word dit 'n triomfantelike uitroep: "Dit is volbring!" Dit dui terloops op 'n teologiese ontwikkeling in die vroegste kerk.

Volgens Markus (16:1) word die leë graf op die oggend van die derde dag ontdek deur Maria Magdalena, Maria (Jakobus se moeder) en Salome. Matteus (28:1) laat dit gebeur deur Maria Magdalena "en die ander Maria", terwyl Lukas (24:1) net praat van "die vroue". Johannes (20:1-2) verwys slegs na Maria Magdalena.

Daar is ook duidelike verskille oor wat die vroue by die ontdekking van die leë graf meegemaak het. Luidens Markus (16:5) het hulle "'n jongman" gesien wat "aan die regterkant sit met lang wit klere aan". Die "jongman" word nie nader geïdentifiseer nie. Matteus (28:2-3) praat van "'n engel van die Here" wat die klip voor die graf weggerol het: "Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu." In Lukas (2:4) lees ons van "twee manne met blink klere aan". By Johannes (20:12) is dit eweneens twee "engele met wit klere aan".

Die eerste woorde van Jesus verskil ook in die weergawes. Markus en Lukas berig niks daaroor nie, maar Matteus (28:10) laat Jesus sê: "Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien." In Johannes (20:14) praat Jesus met Maria Magdalena: "Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?"

'n Laaste voorbeeld handel oor die uiteenlopende weergawes van die Jesus-verskynings ná die opstanding. Die vroegste handskrifte van Markus bevat geen verskynings nie. In 'n perikoop (16:9-19), wat waarskynlik 'n latere byvoeging is, word vertel dat Jesus eers aan Maria Magdalena verskyn het, en daarna agtereenvol-gens aan nog twee dissipels, asook "die elftal". Matteus (28:16-20) vermeld slegs 'n enkele verskyning aan die dissipels met die bekende opdrag om die evangelie aan "al die nasies" te versprei. Lukas (24:13-49) maak melding van die Emmausgangers en die dissipels. By Johannes (20:11-30 en 21:1-25) is dit Maria Magdalena en die dissipels (drie keer). Handelinge (1:3) hou dit "by verskeie geleenthede". Die volgorde by Paulus (1 Kor. 15:5-7) is heel anders: Eers Petrus, dan "die twaalf', vervolgens "meer as vyf honderd broers tegelyk", dan aan Jakobus en uiteindelik aan "al die apostels".

Wat moet 'n mens van dié (en ander) teenstrydighede maak? Die Britse historikus Ian Wilson praat, volkome tereg, van "an almost hopeless jumble of confusion".73 Jy sou dit op verskeie maniere kon hanteer.

In die eerste plek kan dit op 'n Christelik-fundamentalistiese wyse benader word. Met ander woorde, die verskille word eenvoudig genegeer of weggepraat. Vir sulke mense bly die Bybel die ewige waarheid waarvan elke woord letterlik waar is. Welke van die uiteenlopende weergawes dan die letterlike waarheid is, word in die midde gelaat. Op dieselfde vlak is die reaksie van sommige ontnugterde teoloë: Omdat dit onmoontlik is dat álles in die Bybel letterlik waar is, is níks in die Bybel waar nie. Of daar is soveel teenstrydighede dat niks in die Bybel verifieerbaar is nie.

Daar is egter ook 'n derde manier. Dit is die benadering van hierdie artikel, om die Bybel eenvoudig as 'n reeks historiese bronne te sien wat alle gebreke van menslike geskrifte vertoon, dog waar 'n harde historiese kern onder die teologiese laag begrawe lê. Dit is soms moeilik om daardie historiese kern bloot te lê, veral waar dit oor die Ou Testament gaan, maar dit beteken nie dat álles daarom verwerp of selfs betwyfel moet word nie. In die geskiedwetenskap is verskille tussen bronne vanselfsprekend; geen enkele akademiese historikus sal 'n wenkbrou daarby lig nie. Laat my dit aan die hand van twee voorbeelde uit my eie werk illustreer.

Ten eerste: In my doktorale proefskrif oor genl. Christiaan de Wet in die Anglo-Boereoorlog het ek die Slag van Sannaspos (31 Maart 1900) uitvoerig beskryf. Toe het De Wet 'n groot Britse oormag onder genl. RG Broadwood naby die Bloemfonteinse waterwerke in 'n hinderlaag gelei en verpletterend verslaan. In my voetnote tel ek 24 verskillende ooggetuieverslae waarop die beskrywing van die geveg berus.74 Sommige verslae is van De Wet en Broadwood afkomstig; ander kom van buitelandse militêre attaché's, joernaliste en deelnemers aan albei kante. Geeneen van die verslae bevat presies dieselfde besonderhede nie: Dié van die twee generaals bevat 'n oorkoepelende blik; die militêre attaché's en joernaliste het hul bes gedoen om die veldslag te rekonstrueer; dié van die deelnemende burgers is baie meer beperk. Die punt is dat hulle álmal in besonderhede van mekaar verskil. Oor die hoofsaak stem hulle egter ooreen: Geen enkele bron gee te kenne dat die Britte gewen en die Boere verloor het nie; inteendeel.

Tweede voorbeeld: In een van my ander boeke het ek 'n breedvoerige rekonstruksie gemaak van die beslissende Slag van die Lomba op 3 Oktober 1987, toe 'n eenheid van die SA Weermag (SAW) 'n Angolese brigade volkome oorrompel het.75 In die eindnote tel ek meer as 40 ooggetuieverslae, waarvan sommige onmiddellik ná die geveg opgeteken is en ander eers 30 jaar later. Die offisiere gee 'n oorkoepelende oorsig; die manskappe gee as 't ware 'n blik deur 'n sleutelgat; hulle het meestal net geweet wat hulle self kon sien en nie eens wat 100 meter links of regs van hulle gebeur het nie. Ook hier wyk die bronne wat besonderhede betref aansienlik van mekaar af. Hulle bied gesamentlik die stukkies van 'n legkaart wat die historikus moet saamvoeg om sin van die gebeure te maak. Ook hiér is almal wat die hoofsaak betref eensluidend - 'n groot Suid-Afrikaanse oorwinning.

Vir enige historikus wat sy sout werd is, geld: As ek 'n aantal bronne oor 'n gebeurtenis kry wat almal presies ooreenstem en wat almal presies dieselfde besonderhede bevat, moet al die - min - hare op my kop penregop gaan staan. Dan wéét ek hier is sprake van bedrog. Iemand het óf die bronne onder hande geneem om die verskille uit te stryk óf die bronne self geskryf. Hoe ook al, dan is die bronne waardeloos.

Dat die Bybelse bronne van mekaar verskil, is dus 'n teken dat hier geen sprake van bedrog is nie. Inteendeel, dit verhoog juis hul basiese geloofwaardigheid. Dit wys dat die bronne deels of heeltemal onafhanklik van mekaar is. Net soos in die twee gevalle wat hier bo behandel is, stem die Bybelse bronne wat die hoofsaak betref ooreen. Almal bevat vyf sentrale elemente: (a) Jesus het aan die kruis gesterf; (b) hy is begrawe; (c) op die derde dag was die graf leeg; (d) die eerste getuies van die leë graf was vroue (ofskoon dit nie by Paulus voorkom nie); en (e) daarna het (laat ons dit baie presies en versigtig formuleer) verskeie dissipels ervarings gehad wat hulle as verskynings van die opgestane Jesus vertolk het.

 

10. DIE GETUIENIS VAN VROUE

By punt (d) hier bo het ons gesien dat een van die vyf sake waaroor die vier evangelies saamstem, is dat vroue die heel eerste getuies van die leë graf was.

Markus (16:1-8) beskryf hoe die vroue by die graf aankom en sien hoe die klip voor die ingang reeds weggerol is. "'n Jongman met lang wit klere aan" vertel hulle dan dat Jesus "nie hier" is nie; "Hy is uit die dood opgewek". Markus skryf verder: "Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang."

Volgens Matteus (28:1-10) het die opgestane Jesus die vroue opdrag gegee om aan die dissipels te gaan vertel: "Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle hom sien." Uit vers 16 kan afgelei word dat die vroue die boodskap inderdaad oorgedra het.

Lukas (24:8-12) voeg by dat die vroue "al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel" het. Maar vir die apostels "het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie." Toe het Petrus na die graf gehardloop en hom van die leë graf vergewis.

Johannes (20:2-8) bevat waarskynlik die beste ooggetuieverslag. Daarvolgens het Maria Magdalena na Petrus en Johannes gehardloop en hulle vertel wat sy gesien het. Die twee het toe na die graf gehardloop en die leë graf met die doeke daarbinne gesien.

In Bybelse tye is vroue gesien as nie in staat om die waarheid te praat nie. As hy die Joodse reg behandel, skryf Flavius Josefus byvoorbeeld dat minstens twee, maar verkieslik drie getuies nodig is, mense wat goeie lewens lei. Dan kom dié woorde: "Maar laat die getuienis van vroue nie toegelaat word nie, op grond van die oppervlakkigheid en vermetelheid van hul geslag In dieselfde asem voeg hy by dat slawe se getuienis ook nie toelaatbaar is nie. Ook die Talmoed, wat weliswaar van 'n later datum is, sê iets soortgelyks. Daar word vroue se geloofwaardigheid selfs met dié van 'n rower gelykgestel.76

Met ander woorde, vroue was in die antieke tyd wel die swaks denkbare getuies om van die leë graf te vertel. Trouens, die Griekse filosoof Kelsos (meer dikwels geskryf as Celsus) het juis die geslag van die eerste vroulike ooggetuies aangegryp as argument waarom die Christelike geloof belaglik is.77 As die evangelieskrywers die verhale versin het, sou dit logies gewees het dat hulle meer geloofwaardige getuies geroep het - mánne, in elk geval verkieslik mense van aansien in die gemeenskap. Maar, net soos dit 'n - bowendien Samaritaanse - vrou was wat volgens Johannes (hoofstuk 4) die heel eerste mens is wat hom as die Messias erken, is dit juis vroue wat eerste van die leë graf en sy opwekking uit die dood getuig. Soos Ian Wilson dit stel: "Yet had someone wholly invented the resurrection story one might have expected them to do so more convincingly than, for instance, representing women as the prime witnesses, when women's testimony carried a particularly low weight in Jewish Law."78 En Habermas en Licona voeg by: "Why would they not list the male disciples Joseph of Arimathea and Nicodemus and avoid the female issue altogether?"79

Met ander woorde, juis deur hul óngeloofwaardigheid word die eerste getuies juis méér geloofwaardig.

 

11. BESLUIT

Dit alles laat ons steeds met 'n probleem, soortgelyk aan die gedagtespel wat die antieke Grieke graag gespeel het: Wat gebeur as 'n onstuitbare krag teen 'n onbeweeglike voorwerp bots? In dieselfde trant kan ons vra: Hoe versoen jy bronne wat volgens elke rasionele, akademiese vereiste geloofwaardig is met die fisieke onmoontlikheid van 'n opstanding uit die dood? In die opgetekende geskiedenis van die mensdom is daar immers slegs 'n enkele dergelike geval bekend, dié van Jesus van Nasaret. Die ervaring wat sy volgelinge met sy - kom ons voeg maar die woord "beweerde" argumentshalwe hier in - opwekking gehad het, het mettertyd aanleiding gegee tot 'n kragtige godsdiens wat groot dele van die wêreld ingeneem en die Westerse psige en kultuur ingrypend beïnvloed het, soos die historikus Tom Holland oortuigend aandui.80 Logika gebied om te sê dat daardie tsunami moeilik aan die gang sou gekom het as dit nie vir 'n skouspelagtige en opspraakwekkende gebeurtenis - die opwekking - was wat honderde miljoene mense geïnspireer het nie. Dit is uiteraard geen bewýs nie. Dit is slegs 'n aanduiding wat egter nie summier van die tafel gevee kan word nie.

Wat ook in gedagte gehou moet word, is dít: Daar is geen alternatiewe teorie wat reg kan laat geskied aan die feite wat ons weet nie. Die historici Ian Wilson, asook Gary Habermas saam met Michael Licona het alle moontlike alternatiewe teorieë nugter behandel en hulle een vir een oortuigend verwerp.81 En Heinzpeter Hempelmann kom in 'n uitvoerige analise tot dié gevolgtrekking: "Die Nuwetestamentiese Paasgeskiedenis besit beslis 'n 'historiese kant' wat geskiedwetenskaplik bewysbaar is. Dié historiese kant staan in beginsel vir alle benaderings oop, sowel ateïsties as Christelik. Beslissend is welke teorie die beskikbare bronne, die histories bevestigbare materiaal, die beste kan integreer."82

Indien die vroegste Christene die opwekkingsgeskiedenis op die een of ander manier uit hul duim gesuig het, was dit wel 'n baie swak manier om Jesus se boodskap aan die heidense wêreld te verkondig. Net misdadigers en ernstige oortreders is indertyd gekruisig. Hoe belaglik die heidene 'n gekruisigde gesien het, word bewys deur 'n tekening op 'n keldermuur in Rome van 'n man wat aan 'n kruis hang, maar met die kop van 'n esel. Die spottende teks daarby lui (in Grieks): "Alexamenos aanbid (sy) god."83

In die algemeen gesproke weet ons verbasend baie van die lewe van Jesus - veel meer as van ander mense uit die antieke tyd soos die Chinese filosowe Kung Futse (in die Weste bekend as Confucius) en Laotse, Gautama Boeddha, selfs van die profeet Mohammed. In al drie gevalle dateer die vroegste geskrewe bronne oor hul lewens van eeue ná hul dood.84 Tog word daar meestal aansienlik minder krities na húl lewens as na dié van Jesus gekyk.

In 1979 het die astronoom Carl Sagan 'n spreuk geskep wat lui: "Extraordinary claims require extraordinary evidence." Dit word graag deur ateïste aangewend wat meen die onus rus op Christene om die bestaan van God of Jesus se opwekking uit die dood te bewys. Dit klink na 'n intellektueel armoedige redenasie. Ongeag die korrektheid al dan nie van hul oortuiging dat God nie bestaan nie en dat Jesus dood gebly het, onthef die ateïste hulself daardeur van die plig om ook van húl oortuigings verantwoording te doen.

Dit geld ook vir die kwessie van die opstanding van Jesus. As buitengewone aansprake buitengewone getuienis vereis, het ons in dié artikel reeds die helfte van die stryd gewen. Ons het gesien dat die historiese bronne, met alle nodige voorbehoude en nuanses, basies geloofwaardig is. Wat nié hier bewys is nie - nie bewys kán word nie - is die fisiese of metafisiese aspekte.

In dié artikel het ons nie bo alle redelike twyfel bewys dat Jesus uit die dood opgewek is nie. Die natuurwetenskaplike twyfel is nie uit die weg geruim nie. Ek het dit nie eens probéér doen nie. Wat wel - hopelik - oortuigend aangedui is, is dat die historiese bronne wat van die opstanding getuig, aan alle vereistes van die sekulêre geskiedwetenskap voldoen. Op grond daarvan kan 'n historikus sonder vrees vir teenspraak tot die volgende gevolgtrekkings kom: Jesus van Nasaret was 'n historiese persoon wat meer as twee millennia gelede in Palestina geleef het. Hy is deur die Romeine in hegtenis geneem, gekruisig en begrawe. Op die derde dag het ooggetuies die graf leeg gevind. Daarna het verskeie mense (reg of verkeerd) erváár dat hy aan hulle verskyn het.

Dít is wat bewys kan word. Niks meer nie en niks minder nie. Die res is (onbewysbare) geloof.

 

BIBLIOGRAFIE

Anoniem. 2020. Gospel of John commentary: Who wrote the gospel of John and how historical is it?" Vible History Daily. https://www.biblicalarchaeology.org/daily/biblical-topics/new-testament/gospel-of-john-commentary-who-wrote-the-gospel-of-john-and-how-historical-is-it/?mqsc=E4122766&dk=ZE05N0ZF0&utm_source=WhatCountsEmail&utm_medium=BHDWeek%20in%20Review%20Newsletter&utm_campaign=11-9-2020_Second_Temple_Period_Jars_Found).         [ Links ]

Armstrong, Karen. 1993. A History of God. London: Mandarin.         [ Links ]

Barraclough, Geoffrey. 1955. History in a Changing World. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

Barton, John. 2020. A History of the Bible. The Book and its Faiths. London: Penguin.         [ Links ]

Bauckman, Richard. 2006. Jesus and the Eyewitnesses. The Gospels as Eyewitness Testimony. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Bloch, Marc. 1953. The Historian's Craft. New York: Alfred A Knopf.         [ Links ]

Botello, Jenell. 2007. Composition Date of the Synoptic Gospels. Ongepubliseerde MA-verhandeling: Florida International University.         [ Links ]

Bultmann, Rudolf. 1941. Neues Testament und Mythologie. Das Problem der Entmythologisierung der Neutestamentlichen Verkündigung. München: Kaiser Verlag.         [ Links ]

Casey, Maurice. 2010. Jesus of Nazareth: An independent historian's account of his life and teaching. London: T&T Clark International.         [ Links ]

Casey, Maurice. 2014. Jesus: evidence and argument or mythicist myths? London: Bloomsbury.         [ Links ]

Claassen, George. As die klippe 'n ander verhaal begin vertel (ongedateerde uitknipsel uit Die Burger, in my besit, omstreeks 2002-'03).         [ Links ]

Crijnen, Tom. 1996. Matteüs schreef kort na dood van Christus. Trouw, 28 November 1996.         [ Links ]

Crosby, Michael H. 2014. Reclaiming the mystical interpretation of the Resurrection. National Catholic Reporter.         [ Links ]

Crossley, James G. 2004. The Date of Mark's Gospel. Insight from the law in earliest Christianity. London: T & T Clark.         [ Links ]

Deist, Ferdinand. 1979. Historiese Heuristiek, Teologiese Hermeneutiek en Skrifgesag. Port Elizabeth: UPE.         [ Links ]

Dunn, James DG. 2005. Q as oral tradition. In Bockmuehl, M & Hagner, DA. The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Ehrman, Bart D. 2012. Did Jesus Exist? The Historical Argument for Jesus of Nazareth. New York: HarperCollins.         [ Links ]

El-Badawi, Emran. 2018. Intellectual Freedom and the study of the Qur'an. Oasis Magazine, 10 April 2018.         [ Links ]

Evans, Craig A. 2005. How Mark Writes. In Bockmuehl, M. & Hagner, DA. The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Evans, Craig A. 2006. Fabricating Jesus. How modern scholars distort the Gospels. Downers Grove: IVP.         [ Links ]

Freke, Timothy & Peter Gandy. 1990. The Jesus Mysteries. Was the "Original Jesus" a Pagan God? New York: HarperCollins.         [ Links ]

Gottschalk, Louis. 1950. Understanding History. A primer of historical method. New York: Alfred A Knopf.         [ Links ]

Fletemier, Curt. 2018. The Divine Pen Strokes. Our first-century manuscripts of the New Testament. Bloomington: WestBow Press.         [ Links ]

Foster, Charles. 2010. The Jesus Inquest. The case for and against the Resurrection of the Christ. Nashville: Thomas Nelson.         [ Links ]

Habermas, Gary R. & Michael R Licona. 2014. The Case for the Resurrection of Jesus. Grand Rapids: Kregel.         [ Links ]

Hagner, Donald A (ed.). 2005. The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Harmsen, Ger. 1968. Inleiding tot de Geschiedenis. Baarn: Ambo.         [ Links ]

Hempelmann, Heinzpeter. 1982. Die Auferstehung Jesu Christi - eine Historische Tatsache? Witten: Brockhaus.         [ Links ]

Hengel, Martin. 2005. In Bokmuehl, Markus & Hagner, Donald A (eds). The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Holland, Tom. 2010. Dominion. The Making of the Western Mind. London: Little, Brown.         [ Links ]

"Kerk en dominee die bestaan [van] Jezus ontkent uit elkaar". De Volkskrant, 11.3.2015.         [ Links ]

Küng, Hans. 1994. Christ Sein. München: DTV.         [ Links ]

Lendering, Jona. 2015. 3x Jezus: Vragen en antwoorden. Mainzer Beobachter (blog) [17 Februarie 2015].         [ Links ]

Le Roux, Jurie H. 2011. Andries van Aarde as historical Jesus scholar. HTS Teologiese Studies, 67(1).         [ Links ]

Lombaard, Christo 2020. Reaksie op ope brief aan NG Kerkleiers: Die 'Small' pad. Maroelamedia, https://maroelamedia.co.za/debat/briewe/reaksie-op-ope-brief-aan-ng-kerkleiers-die-small-pad/ [geraadpleeg 11 Maart 2020].         [ Links ]

Lüdeman, Gerd 1996. What Really Happened to Jesus? A Historical Approach to the Resurrection. Westminster: John Knox Press.         [ Links ]

Lüdeman, Gerd 2008. Das Grab des Gekreuzigten war nicht leer. Die Welt, 1 Junie 2008.         [ Links ]

MacGregor, Kirk. 2006. 1 Corinthians 15:3b-6a, and the bodily resurrection of Jesus. Journal of the Evangelical Theological Society, 49(2).         [ Links ]

Marwick, Arthur 1981. The Nature of History. London: Macmillan.         [ Links ]

Meijer, Fik. 2012. Paulus. Een leven tussen Jeruzalem en Rome. Amsterdam: Athenaeum.         [ Links ]

Meijer, Fik. 2015. Jezus & de Vijfde Evangelist. Amsterdam: Athenaeum.         [ Links ]

Orsini, Pasquale & Willy Clarisse. 2012. Early New Testament manuscripts and their dates: A critique of theological palaeography. Ephemerides Theologicae Lovaniensis, 88(4).         [ Links ]

Spangenberg, Izak. 2011. Opstandingsverhale en opstandingsdogma. HTS Teologiese Studies, 67(1).         [ Links ]

Moessner, David. 2005. How Luke Writes. In Bockmuehl, M & Hagner, DA. The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Press, Gerald A. 1982. The Development of the Idea of History in Antiquity. Montreal: McGill-Queen's University Press.         [ Links ]

Scholtz, Leopold. 2003. Generaal Christiaan de Wet as Veldheer. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Scholtz, Leopold. 2019. Die SAW en Cuito Cuanavale. Johannesburg: Jonathan Ball.         [ Links ]

Spieß, Jürgen. 1990. Jesus für Skeptiker. Wuppertal: Brockhaus.         [ Links ]

Van der Kaaij, Edward. 2015. De Ongemakkelijke Waarheid van het Christendom. De echte Jezus onthuld. Soest: Bookscout.         [ Links ]

Van Niekerk, Anton. 2007. Oor tradisie, hermeneutiek en wetenskap: Mistastings in Sakkie Spangenberg se lesing van Geloof sonder Sekerhede. NGTT, 48(3 & 4).         [ Links ]

Van Wyk, Gabriël. 2013. Geloof in die opstanding van Jesus: Barth en Bultmann. HTS Theological Studies, 69(1).         [ Links ]

Van Wyk, Jan Harm. 2012. Van Christologie tot Jesulogie? Teologiese gesprek met Sakkie Spangenberg na aanleiding van sy boek Jesus van Nasaret (2009). In die Skriflig/In Luce Verbi, 46(1).         [ Links ]

Vermeersch, Etienne. 2014: Inleiding. In Johan Leman. Van Totem tot Verrezen Heer. Een historisch-antropologisch verhaal. Kalmthout: Pelckmans.         [ Links ]

Wall, Robert. 2002. New Interpreter's Bible. Nashville: Abingdon Press.         [ Links ]

Wilson, Ian. 1996. Jesus: The Evidence. The latest research and discoveries investigated. London: Weidenfeld & Nicolson.         [ Links ]

Wright, NT. 1998. Early traditions and the origins of Christianity, in Sewanee Theological Review, 41(1).         [ Links ]

Yamauchi, Edwin. 1974. Easter: Myth, hallucination, or history? Christianity Today, 15.3.         [ Links ]

Young, Thomas R. 2015. The Alexamenos graffito and its rhetorical contribution to anti-Chistian polemic. SSRN, at http://dx.doi.org/10.2139/ssrn2546438.         [ Links ]

 

 

Ontvang: 2020-11-13
Goedgekeur: 2021-01-31
Gepubliseer: Maart 2021

 

 

 

Leopold Scholtz is 'n Suid-Afrikaanse historikus en politieke kommentator wat in Nederland woon. Hy het in Stellenbosch, aan die ou Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Leiden gestudeer. Hy het 'n doktorsgraad in geskiedenis in 1978 in Leiden behaal. Daarna is hy aangestel as die buitelandse en adjunkredakteur van Die Burger voordat hy in 2008 na Brussel verplaas is om Naspers se buro daar te beman. Hy het in 2013 afgetree en hom met sy Nederlandse vrou in Delft gevestig. Hy was buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, en is nou buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus). Hy is die skrywer van agt boeke en meer as 40 akademiese artikels en hoofstukke in boeke.
Leopold Scholtz is a South African historian and political commentator living in the Netherlands. He studied at Stellenbosch, the former Rand Afrikaans University and the University of Leiden. In 1978, he completed a doctor's degree in history in Leiden. Thereafter he was appointed as foreign editor and deputy editor of Die Burger, before being transferred to Brussels in 2008 to establish Naspers' bureau. He retired in 2013 and went to live in Delft with his Dutch wife. He was professor extraordinaire at the University of Stellenbosch, and is currently professor extraordinaire at the Northwest University (Potchefstroom campus). He is the author of eight books and more than 40 academic articles and chapters in books.
1 Vgl. Donald A Hagner (ed.). The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press (2005), passim.
2 Martin Hengel: Eye-witness memory and the writing of the gospels. In Markus Bokmuehl & Donald A Hagner (eds). The Written Gospel. Cambridge: Cambridge University Press (2005), p. 70.
3 Timothy Freke en Peter Gandy: The Jesus Mysteries. Was the "Original Jesus' a Pagan God? New York: HarperCollins (1990), p. 2.
4 Edward van der Kaaij: De Ongemakkelijke Waarheid van het Christendom. De echte Jezus onthuld. Soest: Bookscout (2015), passim.
5 "Kerk en dominee die bestaan [van] Jezus ontkent uit elkaar". De Volkskrant, 11.3.2015.
6 George Claassen: "As die klippe 'n ander verhaal begin vertel" (ongedateerde uitknipsel uit Die Burger, in my besit, omstreeks 2002-'03).
7 Bart D Ehrman: Did Jesus Exist? The Historical Argument for Jesus of Nazareth. New York: HarperCollins (2012), p. 5.
8 Ibid., p. 26. Vgl. ook Gary R Habermas en Michael R Licona: The Case for the Resurrection of Jesus. Grand Rapids: Kregel (2004), pp. 226-227; Maurice Casey: Jesus: evidence and argument or mythicist myths? London: Bloomsbury (2014), pp. 17-19.
9 Edwin Yamauchi: Easter: Myth, hallucination, or history? Christianity Today, 15.3(1974): 4-7; 12-16.
10 Michael H Crosby: Reclaiming the mystical interpretation of the Resurrection. National Catholic Reporter, 20.4.2014.
11 Rudolf Bultmann: Neues Testament und Mythologie. Das Problem der Entmythologisierung der Neutestamentlichen Verkündigung. München: Kaiser Verlag (1941), p. 45.
12 Gabriel van Wyk: "Geloof in die opstanding van Jesus: Barth en Bultmann". HTS Theological Studies, 69(1), (2013): 5.
13 Gerd Lüdeman: Das Grab des Gekreuzigten war nicht leer. Die Welt, 1 Junie 2008.
14 Gerd Lüdeman: What Really Happened to Jesus? A Historical Approach to the Resurrection. Louisville: Westminster: John Knox, pp. 134-135. Lüdeman het hom later tot ateïsme bekeer.
15 Vir 'n kritiese analise oor hom, vgl. Jan Harm van Wyk: "Van Christologie tot Jesulogie? Teologiese gesprek met Sakkie Spangenberg na aanleiding van sy boek Jesus van Nasaret (2009). In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1), (Art. #46, 2012): 1-11.
16 Van Wyk: Van Christologie tot Jesulogie? Teologiese gesprek met Sakkie Spangenberg na aanleiding van sy boek Jesus van Nasaret (2009). In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1)/( Art. #46 2012): 9.
17 Anton van Niekerk: Oor tradisie, hermeneutiek en wetenskap: Mistastings in Sakkie Spangenberg se lesing van Geloof sonder Sekerhede. NGTT, 48(3 & 4)(Des, 2007).
18 Christo Lombaard: Reaksie op ope brief aan NG Kerkleiers: Die 'Small' pad. Maroelamedia, https://maroelamedia.co.za/debat/briewe/reaksie-op-ope-brief-aan-ng-kerkleiers-die-small-pad/ geraadpleeg 11 Maart 2020.
19 Karen Armstrong: A History of God. London: Mandarin (1993), pp. 162-163.
20 Emran el-Badawi: Intellectual Freedom and the study of the Qur'an. Oasis Magazine, 10 April 2018.
21 Etienne Vermeersch: Inleiding. In Johan Leman: Van Totem tot Verrezen Heer. Een historisch-antropologisch verhaal. Kalmthout: Pelckmans (2014), pp. 12.
22 Ferdinand Deist: Historiese Heuristiek, teologiese hermeneutiek en Skrifgesag. Port Elizabeth: UPE (1979), p. 18.
23 Marc Bloch: The Historian's Craft. New York: Alfred A Knopf (1953), p. 64.
24 Lendering, Jona: 3x Jezus: Vragen en antwoorden. Mainzer Beobachter (blog), 17 Februarie 2015.
25 Jürgen Spieß: Jesus für Skeptiker. Wuppertal: Brockhaus (1990), p. 7.
26 Louis Gottschalk: Understanding History. A primer of historical method. New York: Alfred A Knopf, (1950), p. 53.
27 Ger Harmsen: Inleiding tot de Geschiedenis. Baarn: Ambo (1968), p. 15.
28 Ibid.
29 Arthur Marwick: The Nature of History. London: Macmillan (1981), p. 145.
30 Gottschalk: Understanding History, p. 28.
31 Geoffrey Barraclough: History in a Changing World. Oxford, Blackwell (1955), pp. 29-30.
32 Fik Meijer: Jezus & de Vijfde Evangelist. Amsterdam: Athenaeum (2015), p. 160.
33 Ibid., pp. 161-163; Bart Ehrman: Did Jesus Exist?, pp. 101-105.
34 Hengel: Eye-witness memory and the writing of the gospels. In Bokmuehl & Hagner (eds). The Written Gospel, p. 84.
35 Gary R Habermas & Michael R Licona: The Case for the Resurrection of Jesus. Grand Rapids: Kregel (2004), pp. 54-55.
36 Ibid., p. 57.
37 Horbury: Gospel in Herodian Juea. In Bockmuehl & Hagner. The Written Gospel, pp. 7 en 11-12.
38 Hans Küng: Christ Sein. München: DTV (1994), pp. 177-178.
39 Andries van Aarde het dit vanuit 'n teologiese perspektief gedoen, maar nie as sekulêre akademiese historikus nie. Kyk Jurie H le Roux: Andries van Aarde as historical Jesus scholar. HTS Teologiese Studies, 67(1): 1-14.
40 Ehrman: Did Jesus Exist?, pp. 99-100; Richard Bauckman: Jesus and the Eyewitnesses. The Gospels as Eyewitness Testimony. Grand Rapids: Eerdmans (2006), pp. 14-18.
41 Irenaeus 3.1, by http://www.newadvent.org/fathers/0103301.htm, afgelaai 15.3.2020.
42 Maurice Casey: Jesus of Nazareth: An independent historian's account of his life and teaching. London: T&T Clark International (2010), p. 65.
43 Bauckman: Jesus and the Eyewitnesses, p. 239.
44 Craig A Evans: How Mark Writes. In Bockmuehl & Hagner. The Written Gospel, pp. 135 en 139.
45 Hengel: Eye-witness memory and the writing of the gospels. In Bokmuehl & Hagner (eds). The Written Gospel, pp. 80 en 88.
46 Ehrman: Did Jesus Exist?, pp. 75-83; James DG Dunn: Q as oral tradition. In Bockmuehl & Hagner. The Written Gospel, pp. 45-69.
47 Dié skema is 'n vereenvoudigde weergawe van dié in Ian Wilson, Jesus: The Evidence. The latest research and discoveries investigated. London: Weidenfeld & Nicolson (1996), p. 32.
48 David Moessner: How Luke Writes. In Bockmuehl & Hagner: The Written Gospel, pp. 164-167.
49 Hengel: Eye-witness memory and the writing of the gospels. In Bokmuehl & Hagner (eds). The Written Gospel, p. 83n.
50 Gerald A Press: The Development of the Idea ofHistory in Antiquity. Montreal: McGill-Queen's University Press (1982), p. 122.
51 "Gospel of John commentary: Who wrote the gospel of John and how historical is it?" (Vible History Daily, 9.11.2020, by https://www.biblicalarchaeology.org/daily/biblical-topics/new-testament/gospel-of-john-commentary-who-wrote-the-gospel-of-john-and-how-historical-is-it/?mqsc=E4122766&dk=ZE05N0ZF0&utm_source=WhatCountsEmail&utm_medium=BHDWeek%20in%20Review%20Newsletter&utm_campaign=11-9-2020_Second_Temple_Period_Jars_Found).
52 Craig A Evans: Fabricating Jesus. How modern scholars distort the Gospels. Downers Grove: IVP (2006), pp. 233-234.
53 Meijer: De Vijfde Evangelist, p. 263.
54 Hengel: Eye-witness memory and the writing of the gospels. In Bokmuehl & Hagner (eds). The Written Gospel, p. 72.
55 John Barton: A History of the Bible. The Book and its Faiths. London: Penguin (2020), p. 161.
56 Jenell Botello: Composition Date of the Synoptic Gospels. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Florida International University (2007), passim; Barton: A History of the Bible, pp. 161, 163 en 199-206.
57 Ibid.
58 Wilson: Jesus: The Evidence, p. 38.
59 Meijer: De Vijfde Evangelist, p. 302.
60 Botello: Composition Date of the Synoptic Gospels. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Florida International University (2007), p. 20; Fik Meijer: Paulus. Een leven tussen Jeruzalem en Rome. Amsterdam: Athenaeum (2012), p. 330.
61 Meijer: Paulus, pp. 35 en 325-326.
62 Curt Fletemier: The Divine Pen Strokes. Our first-century manuscripts of the New Testament. Bloomington: WestBow Press, (2018), hoofstuk 2.
63 Kyk Pasquale Orsini en Willy Clarisse: Early New Testament manuscripts and their dates: A critique of theological palaeography. In Ephemerides Theologicae Lovaniensis, 88(4), (2012): 444 en 466.
64 James G Crossley: The Date of Mark's Gospel. Insight from the law in earliest Christianity. London: T & T Clark (2004), passim.
65 Tom Holland: Dominion. The Making of the Western Mind. (Londen, Little, Brown, 2019), p. 85.
66 Charles Foster: The Jesus Inquest. The case for and against the Resurrection of the Christ (Nashville, Thomas Nelson, 2010), p. 4.
67 Tom Crijnen: "Matteüs schreef kort na dood van Christus". Trouw, 28 November 1996.
68 Robert Wall: New Interpreter's Bible. Nashville: Abingdon Press (2002), p. 373.
69 Ehrman: Did Jesus Exist?, p. 122.
70 Kirk MacGregor: 1 Corinthians 15:3b-6a, and the bodily resurrection of Jesus. Journal of the Evangelical Theological Society, 49(2): Junie 2006.
71 Heinzpeter Hempelmann: Die Auferstehung Jesu Christi - eine Historische Tatsache? Witten: Brockhaus, (1982), p. 14.
72 NT Wright: Early traditions and the origins of Christianity. Sewanee Theological Review, 41(1), 1998.
73 Wilson: Jesus: The Evidence, p. 146.
74 Leopold Scholtz: Generaal Christiaan de Wet as Veldheer. Pretoria: Protea (2003), pp. 55-67.
75 Leopold Scholtz: Die SAW en Cuito Cuanavale. Johannesburg: Jonathan Ball (2017), pp. 109-150.
76 Habermas en Licona: The Case for the Resurrection of Jesus, pp. 72-73.
77 Ibid., p. 288.
78 Wilson: Jesus: The Evidence, p. 147.
79 Habermas en Licona: The Case for the Resurrection of Jesus, p. 73.
80 Holland: Dominion, passim.
81 Wilson: Jesus: The Evidence, pp. 147-153; Habermas en Licona: The Case for the Resurrection of Jesus, pp. 227-230.
82 Heinzpeter Hempelmann: Die Auferstehung Jesu Christi - eine Historische Tatsache?, p. 11.
83 Vgl. bv. die ontleding van Thomas R.Young: The Alexamenos graffito and its rhetorical contribution to anti-Chistian polemic. SSRN, Januarie 2015,passim.
84 Küng: Christ Sein, pp. 159-170; Tom Holland: In the Shadow of the Sword. The battle for global empire and the end of the ancient world.London: Abacus (2012), pp. 43-45.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons